Posts Tagged ‘Insig’

Gisela Ullyatt. ‘Wintermuil’: Die gedig as gestig.

Tuesday, October 28th, 2014

 

Foto: Christopher Payne

’n Ruk terug delf ek diep in oer-uitgawes van De Kat en Insig (dié wat genadelose seleksie oorleef het deur die jare). Onthou die ou De Kat? Die De Kat van hope resensies, kortverhaalwedstryde (waarvan Koos Prinsloo byvoorbeeld die eerste prys aan toegeken is vir Die wond) en literêre onderhoude? Let wel: onderhoudende onderhoude. Waar sou ’n mens deesdae tog sulke onderhoude in die gedrukte media aantref? Met wonderbaarlike droë humor wat deursypel in vrae aan skrywers soos Ingrid Winterbach (toe nog Lettie Viljoen). Selfs haar lang stiltes op sommige vrae word tussendeur gedokumenteer. Ongelukkig sou meer as die helfte van so ’n onderhoud se spasie deesdae kortgeknip en aan ene Madame L’Oreal afgestaan moes word.

Onthou Insig? Die kortstondige Boeke-Insig? Albei ook lankal tot vergetelheid gekis deur ‘n populistiese mark wat eerder nuwe selfone en duur viertrekvoertuie verkies. Die enigste merkers van hulle bestaan is artikels soos “Vloek van die muse” deur Linette Retief waarin sy die verband tussen kunstenaarskap, skrywerskap (veral digterskap), gemoedsversteuring en selfdood ondersoek. Ter illustrasie verwys sy na Barrie Hough, Ingrid Jonker en Johannes Kerkorrel. Daar is ook foto’s van Sylvia Plath en Ernest Hemingway.

’n Aanhaling uit hierdie artikel wat steeds na al die jare by my bly spook is, lui as volg: “’n Jaar voor sy selfmoord het Johannes Kerkorrel vir sy hartsvriendin Amanda Strydom gesê: ‘Miss Mandy, die dokter sê ek kan vir ewig lewe, maar hoe lank moet ons nog so aankarring?’” (2004:37). Self het Amanda natuurlik ook die bitterste heuning van die lewe as bipolêr-lyer leer proe. Deesdae word daar natuurlik eerder van ‘vegters’ as ‘lyers’ gepraat. Die catch-22 van depressie is egter dat die individu daarteen wil ‘veg’ maar vir lang tye nie oor die broodnodige emosionele en fisiese krag besit nie, maar steeds ongenadiglik deur kennisse en familie gepols word om hulleself spoedig reg te ruk. Stapel die verlies aan kreatiwiteit op saam met werksdruk asook enorme druk tot ‘normale’ sosiale verkeer en dit word ’n resep vir selfdood vir die kreatiewe ‘lyer’ wat aanhoudend moet ‘veg’ maar nie meer kan nie. Word daar soveel onsimpatieke reaksies op ‘normale’ siekte (byvoorbeeld kanker) gegenereer? Word pasiënte aanhoudend gemaan om nie ‘lui’ te wees nie? Word hulle tot verantwoording geroep vir hul eie siekte? Dit sou tog verregaande wees.

In haar Insig-artikel som Retief ook navorsing op (helaas nou al tien jaar oud, maar steeds aangrypend) wat suggereer dat die kreatiewe groep wat die ergste onder selfdood en gemoedsversteuring gebuk gaan, digters is.

Bestaan daar dus ’n direkte verband tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood? Indringende navorsing word steeds benodig, maar dalk lê die ironie juis in die moontlikheid dat die vraag nooit opgelos behoort te word nie, omdat die digkuns juis armer sal wees aan briljante gedigte wat hieroor handel en ’n blik aan die oningeligte leser verskaf. Miskien is die titaniese Jakob-en-die-engel rofstoei met depressie juis wat gedigte laat ontknoop? Ek dink die vraag is uiters debatteerbaar, maar ongelukkig is die oplosbaarheid daarvan meer op die vlak van ’n Zen koan.

Ter illustrasie haal ek haal ’n paar Afrikaanse digters aan wat spesifiek oor ervarings in psigiatriese eenhede gedig het, veral in staatshospitale.

In die tagtigerjare het Koos Kombuis opgang as digter gemaak onder die naam André le Roux du Toit (hy beklemtoon dat hy die naam gekies het om die literêre establishment se pretensie uit te wys en dat die letters daarvan eintlik bedoel was om ‘toilet’ te spel.) In Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier (2000) beskryf Kombuis sy tyd in die ‘malhuis’ (Weskoppies) as skisofreen. Dit blyk dat hy aspris die vorms verkeerd ingevul het en dat hy nooit werklik stemme in sy kop gehoor het nie. Hy is wel opgeneem en het skokbehandeling (in die Astrid-kliniek) ontvang gedurende 1977 (104-105):

Skokbehandeling is ’n redelike uitgediende vorm van sielkundige behandeling. In die ou tyd is dit sonder narkose toegedien, en was dit volgens oorlewering nogal pynlik. Daar is ’n baie bekende scene in die fliek One Flew Over The Cuckoo’s Nest, waar skokbehandeling toegedien word op ’n pasiënt, gespeel deur Jack Nicolson, en waarná hy ’n zombie uitdraai. Ek moet erken dat daardie toneel is ietwat buite verband geruk. ’n Mens moet ’n geweldige oordosis skokbehandeling kry voor jy ’n zombie word […] In my geval is ek tien skokke toegedien, die een na die ander op agtereenvolgende dae. Ook weliswaar ’n oordosis, maar nie genoeg van ’n oordosis om my ’n zombie te maak nie.

Nota bene: Ongelukkig pleeg Koos hier ’n feite-fout: In One Flew Over The Cuckoo’s Nest, ontvang die protagonis Randle McMurphy skokbehandeling. Net daarna gee hy voor dat hy ’n zombie is (weliswaar vir ’n baie kort rukkie), tot die ontsteltenis van almal. Dit is egter nie die skokbehandeling wat hom katatonies gemaak het nie. Wat Kombuis eintlik na verwys is die eindtoneel: McMurphy word ‘gestraf’ deur die psigiatriese establishment omdat hy daarteen gerebelleer en dus homself as ‘moeilikheidmaker’ gevestig het (veral omdat hy Big Nurse se onleefbare roetines omverwerp). Sy ‘straf’ en ‘regstelling’ word in die vorm van ’n lobotomie uitgevoer: die konneksies tussen die pre-frontale korteks en die talamus word permanent afgesny en dus verbreek. Ken Kesey, die skrywer van die gelyknamige boek, lewer dus uitstekende sosiale kommentaar oor die lobotomie via die McMurphy-karakter, ’n uiters omstrede asook wreedaardige metode wat deur Dr. Walter Jackson Freeman ‘vervolmaak’ is: binne vier dekades het hy meer as drieduisend lobotomies uitgevoer, meeste van hulle met ’n yspik. Wat ek uiters ontstellend en skrikwekkend vind is dat hy (en ander) geglo het dat pasiënte se lewens daadwerklik daardeur verbeter is. Ongelukkig is meeste in afgestomptheid gedompel of selfs, soos McMurphy, in hulpelose katatone omskep.

Terug na Kombuis aka Le Roux du Toit: hy  debuteer in Brekfis met vier (1980) en sy gedig “Ek Dood” (7) verhaal sy ‘skisofreniese’ ervaring lank voor sy memoires:

ek dood

ek kom by die hemelse poorte

ek klop aan relings

ek sien petrus vroetel met bos sleutels

ek vra

meneer god tuis?

petrus mompel

ek geloofsoortuigings?

invul op pienk vorm drievoud […]

 

ek na weskoppies

ek skisofreen

ek roomskatoliek anglikaan […]

Kombuis se taal is weliswaar nie dié van ’n hebefreniese skisofreen nie (dit sou meestal net ’n onherkenbare gebrabbel wees; onleesbaar dus); maar die feit dat hy grammatikaal die gedig manipuleer deur sommige werkwoorde uit te haal en op ’n strukturele vlak daarmee  te speel, dra by tot die gevoel van skisofrenies taalgebruik. In Black Sun. Depression and Melancholia (1989), beskryf Julia Kristeva Marguerite Duras se werk as ‘An Aesthetic of Awkwardness’ (225): “[…] the distorted speech sounds strange, unexpected, and above all painful”. Miskien is hierdie ”awkwardness” ook op toepassing van hierdie gedig?

‘n Afrikaanse digter wat die institusionele ervaring uiters geslaagd satiriseer, maar ook op ‘n roerende wyse karteer, is Jeanne Goosen.  Skreiende ironie slaan deur in  ‘gedigte vir die mond’ (’n Uil vlieg weg:35) waarin Goosen die psigiatriese hospitaal voorstel soos die Suid-Afrika gedurende apartheidsjare:

i

in hierdie saal haal die mense asem soos groente

die verpleegster buig hulle lywe reguit lit vir lit

elke ras ruik anders

die malles na muwwe voëls, soos ’n nasie op hulle eie

ek ontrafel soos ’n ou wasrok

[…]

Ook konformering en onderwerping van die individu deur middel van institusionele regulasies word in haar verse geëggo; die self word as’t ware geoblitereer (‘Brief’:35):

In die gestig gaan die lewe sy gewone gang

en word elke malle toegelaat

om normaalweg voort te gaan

Dis buite waar die dae versplinter lê

en die son in sy eie strale verstrik.

Hier is die water koud

en daar is geen seep nie

ek het my onderklere verbrand …

(U weet tog self ek het nie ’n strik vir my hare nie.)

Die suster is wit en internasionaal

soos ’n teepot

Sy klee ons eenders

In hierdie jurk

is dit maklik om jou enigiets te verbeel

Die laaste versreël van hierdie gedig reïtereer die idee dat gesondwording siklies van aard is soos die ironiese teenoormekaarstelling van “afstomp” en “herstel”: “Geleidelik sal ek afstomp tot algehele herstel”. Afstomping en vervlakking is sekerlik die grootste vrees vir enige digter; hier is die vrees wesentlik as gevolg van die psigiatriese ervaring wat stimulasie uitsluit veral as medikasie ter sprake is.

In “Ontslag uit die gestig” (36) (Orrelpunte:1975) wys Goosen die leser op die ervaring van die ontslaande psigiatriese pasiënt. Meestal aanvaar die gemeenskap dat die persoon nou wonderbaarlik genees is, maar meestal is dit maar net die beginpunt van die herstel-en-regressie siklus:

[…]

Die bediende vryf die vloere

en ek ruik nie meer dat ek weg was nie

Sy was die skottelgoed

en ek hoor ek is terug

Sy was die reuk van die malhuis uit my trui.

[…]

In die derde deel van hierdie gedig (36) word die verraderlikheid van so ’n  herstelproses selfs verder beklemtoon deur die skryfproses in te sluit. Let op na  ongewone metafore soos ‘my tikmasjien is ’n wintermuil’:

iii

die vetplante verdof, winter is hier

die kaktus se dagsêkwas slaap in skubbe

alles is ingekeer onder wol, sonder sap

ek leer die droefheid ken soos vreugde

oplaas is daar versoening

tussen die mond en die breinspons, maar tydelik

tydelik en verradelik

my tikmasjien is ’n wintermuil

dit trek my deur die triestigheid van leë planete

ek word neergeskryf – passief en sonder mond

atonaal: hierdie is nie ’n gedig nie

hierdie is ’n vlugtige dood

Deel twee van hierdie blog stel die leser aan verdere Afrikaanse digters bekend wat die verband tussen gemoedsversteuring, kreatiwiteit, selfdood en die institusionele ervaring oopskryf. Hou dus Versindaba dop.

 

Bibliografie

 

Brekfis met vier. 2005. Kaapstad: Human & Rousseau.

Goosen, J. 1971. ’n Uil vlieg weg. Kaapstad: Tafelberg.

Goosen, J. 1975. Orrelpunte. Johannesburg: Perskor.

Kombuis, A.K. 2000. Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier. Kaapstad: Human & Rousseau.