Posts Tagged ‘Intieme afwesige’

Marlies Taljard. Verwerking of transponering?

Sunday, July 29th, 2012

Veral sedert Die Afdruk van ons Hande kom daar in Cas Vos se bundels dikwels verwerkings van antieke tekste voor. In bogenoemde bundel was dit byvoorbeeld die verwerking van die sogenaamde Uruk-fragmente, die verhaal van Gilgamesj en Enkidu wat in die elfde eeu voor Christus deur Sin-lege-unninni in die biblioteek van Ninivé neergeskryf is. Dié verhaal wat op twaalf kleitablette geskryf is, word allerweë beskou as die oudste oorgelewerde epos – ‘n literêre vorm wat later deur die skrywers van die Odussea, die Bhagavad Gita, die Aeneas en Beowulf nagevolg is. Destyds het ek in ‘n resensie oor die betrokke bundel daarop gewys hoe Vos in sy omdigting min of meer die verloop van die epos navolg soos dit op die Sumeriese kleitablette verskyn. Hoewel sy teks aansienlik korter as die oerteks is, slaag hy daarin om die essensie van die oorspronklike werk weer te gee. Die Gilgamesj-epos is primêr gerig op die beskrywing van die helde se merkwaardige avonture, maar kan ook op ‘n dieper vlak gelees word as lewensiklus vanaf die ongeskakeerde geveg om lewe en dood tot die uiteindelike soeke na onsterflikheid.

Dit is hierdie dimensie wat Vos in sy gedigsiklus ontgin. ‘n Spirituele reis word reeds in die openingsreëls van die siklus gesuggereer deur die mistieke handeling waartoe die leser opgeroep word: “Skep teen skemer suutjies asem / en doop julle voete in olie / voordat julle na Uruk vertrek”. Dat een van die belangrikste verhale, dié waarin Gilgamesj en Enkidu die monsteragtige Huwawa dood, nie in Vos se siklus opgeneem word nie, asook sy onderbeklemtoning van Gilgamesj se handelingspatroon, illustreer die digter se klemlegging op mitiese verhaalinhoude met ‘n argetipiese karakter.

In Intieme Afwesige verwerk die digter die Abélard en Héloïse-gegewe wat uit die elfde en twaalfde eeu stam deur ‘n selektiewe keuse uit die twee minnaars se briewe. Ook hier dien die weglatings die doel om fyn te fokus op ‘n bepaalde diskoers tussen Abélard en Héloïse.

Omslag

Omslag

In die bundel Weerloos Lewe is daar ‘n handvol gedigte wat gebaseer is op die Odusseia en die Ilias. Ek dink hier aan Eens toe jy nog myne was en Wat oorbly uit Afdeling VI, asook aan die drie gedigte in Afdeling V, Zeus swig, Skilla en Charibdis en Heimwee – gedigte waarin die digter eksplisiet na sy bronne verwys. Vergelyk ‘n mens egter Vos se gedigte met die bronne, blyk dit dat hy weer eens selektief te werk gaan. Die gedig Zeus swig is byvoorbeeld saamgestel uit enkele grepe uit Boek XIV van die Ilias. In die bronteks is dit die gedeelte waar Hera wraak neem op Zeus. Wanneer sy hom by die hoogste spits van Ida met die baie fonteine sien sit, staan daar: “maar hy was haatlik vir haar hart” (volgens J.P.J. van Rensburg se vertaling). In Zeus swig word egter geen melding gemaak van wraak en haatlikheid nie, maar bloot van die liefde. Van die vrou wat haarself mooi en verleidelik maak vir die man wie se liefde sy wil wen. Ook wat detail betref, het die moderne digter sy kreatiwiteit laat geld: in die bronteks staan byvoorbeeld niks van maskara en ligpers oogskadu nie. Ook wat die res van die gedig betref, is daar baie spesifiek geleen en verswyg in ‘n poging om ‘n bepaalde aspek van die oorspronklike gegewe te beklemtoon.

 

Lees ‘n mens die drie gedigte in Afdeling V as ‘n eenheid, bied die refreine ‘n soort sleutel:

In Zeus swig:

“Kom, laat ons ons in die liefde verlustig,

nog nooit het die liefde vir ‘n vrou

my hart só oorstroom en versadig nie.”

 

In Skilla en Charibdis:

Hou jou bewende hart vas en vlug,

eendag skenk roosvingerdaeraad lig.

Dan keer die donker na haar spelonk terug

en jy en jou manne asem Ithaka se lug.

 

En in Heimwee:

Bly trou aan jou heimwee

en weef drome in die nag.

 

Hierdie refreine – wat nié in een van die brontekste voorkom nie – dui op argetipiese aspekte van die menslike kondisie. Drie millennia gelede, toe die oertekste geskryf is, het liefde, vrees en verlange die emosies van die Ilias en die Odusseia se lesers ontroer en vandag word die mens steeds daardeur geraak. Op so ‘n wyse reik die moderne teks uit na die antieke teks en is dit moontlik om oor drie millennia steeds aansluitingspunte by die ou-ou tekste te vind.

Daarom lees ek met verbasing en ongeloof dat Henning Pieterse onlangs in ‘n resensie oor Weerloos Lewe skryf: “Die verwerkings van gedeeltes uit Die Odusseia en Die Ilias is ook noemenswaardige verbeterings op die strak, letterlike vertalings deur J.P.J. van Rensburg.” Die gedigte waarna Pieterse verwys, sou dalk nog as verwerkings beskou kon word, maar dan as transponerings van die oorspronklike gegewe na die moderne ruimte van die digbundel wat in 2012 verskyn het. Of dit “verbeteringe” van Van Rensburg se vertaling is, is hoegenaamd nie ter sake nie, aangesien die brontekste duidelik slegs as intertekste in Vos se gedigte funksioneer – intertekste wat die leser se aandag daarop vestig dat die mens deur alle millennia nie verander het nie, dat dit wat drieduisend jaar gelede mense ontroer het, steeds in staat is om ook die moderne mens te raak. Dat die moderne digter in die proses sekere dele van die oorspronklike Griekse teks bykans woordeliks vertaal, moet waarskynlik onder andere gelees word as ‘n suggestie dat niks sedert die skryf van dié verhale verander het nie – dat die menslike kondisie letterlik dieselfde gebly het. Die lesing van Vos se gedigte as verbeterde opsommings van die oorspronklike tekste verreken nie die subtiele aard van poësie én van intertekstualiteit nie en lees (moedswillig?) verby die intensie en gelaagdheid van die betrokke gedigte.

 

Vat vyf, Leon de Kock: Wenner van die SALA-toekenning vir vertaling

Wednesday, November 23rd, 2011

Leon, ten eerste: Veels geluk met die SALA-toekenning wat jy pas ontvang het vir Intimately Absent (2010: Protea Book House); gedigte van Cas Vos wat jy na Engels vertaal het. Hierdie prys is welverdiend en gee inderdaad ook erkenning aan die enorme bydrae wat jy as vertaler lewer om die Afrikaanse letterkunde aan ‘n groter publiek bekend te stel. Ook is dit nie die eerste prys wat jy met jou vertaalwerk inpalm nie. In welke mate verskil dié een vir jou van die vorige bekronings wat jy vir jou vertaalwerk ontvang het?

Hierdie prys is baie PC! Dit kom van die regering se kant af, en is polities baie inklusief, met ‘transparent’ prosesse van beoordeling ens. ens. Die geld kom ten minste deels van die departement Arts & Culture, and my, do they dish it out! R30,000! Goeie genugtig! Ek wou ‘n nuwe motorfiets koop, maar weereens – soos altyd – sal die geld gebruik word vir die opvoeding van my twee wonderbaarlik-slim en kreatiewe kinders, wat daarop aandring dat hulle op UK studeer!

Volgens die onderhoud wat vroeër met Cas Vos gevoer was, bestaan daar ‘n besonder affiniteit tussen jou as vertaler en sy gedigte. Wat in hierdie spesifieke digkuns is dit wat tot jou as vertaler spreek?

Omslag

Omslag

Cas en ek is baie anders: hy is ‘n mooi, sagte ou, en ek is ‘n harde bliksem. Maar hy verstaan. En hy gee nie om nie wanneer ek sy gedigte ‘n rowwe tekstuur gee nie. Ek maak sy beelde meer wrang. As ek sy liefdesverse vertaal, gooi ek so klein bietjies asyn by … en hy hou daarvan! Die man is vriendelik en oop. Hy is ‘n uitstekende medewerker. Ons twee se aanslag is fundamenteel anders. Dis hoekom ons so goed saamwerk. Hy laat my onthou hoe dit voel om ‘n goeie mens te wees! Hy is religieus. Ek is ‘n volstrekte ateïs. Hy glo in die liefde … Ons trek mekaar se werk skeef, en ons doen dit aspris. Ek en Cas het nou begin met ‘n boek-projek getiteld ONTROU / FAITHLESS, waarin ons mekaar se gedigte doelbewus ‘ontrou’ omdig/vertaal. Dit gaan interessant wees! Ons het reeds begin, maar my huidige vertaalwerk aan Ingrid Winterbach se Benederyk het dit op die waglys laat beland, waar dit borrel en kook, in afwagting …

Vir ‘n vertaler is daar sekerlik altyd bepaalde woorde (of frases) wat aan hom of haar ‘n besonderse gevoel van dankbare tevredenheid bied. Is daar spesifieke “vondse” van hierdie aard wat jy bereid is om met ons te deel?

Die grootste uitdaging vir my was Cas se rymende gedigte. Ek het besluit die Engelse omdigtings móét ook rym. Ek is dankbaar vir die ‘vondse’ wat uit hierdie proses gekom het. Ek wil twee voorbeelde gee. Die eerste gedig kom uit Intimately Absent, en die rymende Engelse omdigting bly vir my ‘n besondere mooi gedig:

 

Visit to the grave of Abelard and Heloise

at Père Lachaise, 12 June 2009

 

Sombre clouds mass as I sink to my knees,

tongue-tied, in this holy place.

Here, the dead are held in darkest sleep,

folded in shadows like lace.

 

In a remote corner

a tree holds up its shaky throne.

There lie Abelard and Heloise

cast for centuries in stone.

 

Their hands clasp intimate prayers –

candle-smoke in shades of grey.

On a bed of rock,

cradled in song, the lovers sway.

 

***

 

Besoek aan Abélard en Héloïse se graf

Père La Chaise, 12 Junie 2009

 

Onder vlae grys wolke kniel

ek tongstom op ‘n heilige plek

waar skadu’s se voue dooies

in hulle diep slaap bedek.

 

In ‘n verlate uithoek

waar ‘n boom wortelskiet

lê Abélard en Héloïse

eeuelank in klip gegiet.

 

Hul hande vou intiem –

‘n melodie van kerslig.

Op ‘n bed van klip

wieg geliefdes innig.

 

Die tweede voorbeeld kom uit Duskant die Donker / Before it Darkens. Om ryme te vertaal, moet ‘n mens vryelik interpreter, om sodoende groter ruimte vir verskillende woordklanke te maak; maar dan moet jy seker voel dat jou ‘interpretasies’ in die kol is. Kyk hieronder, eers na die Afrikaanse gedig, en dan na die rymwoorde in die Engelse weergawe. Kyk hoe die Engelse omdigting soms verder gaan as die Afrikaans, en ‘n soort poëtiese ‘interpretasie’ skep van die oorspronklike gedig:

 

See

 

In Cannes se inham lê rykmansbote, ‘n vloot gedwee

soos ligkastele, snoete raak weg in oksels van die see.

 

Jong lywe het hier verbygegaan, mekaar gesoen

dobberende borste, voete soos perlemoen.

 

Sy verkyk haar in Portofino aan die son se seine

en die akrobatiese vernuf van waaghalsige dolfyne.

 

Saans sink die son sonder takelwerk

maak wind op haar lyf onsigbaar ‘n merk.

 

Sy moet my in die oog hou

en my styf teen haar vashou

 

voor ek – van alles gestroop –

op die rotse loop.

 

***

 

Sea

 

Rich men’s yachts bob in the cove of Cannes, a fleet set free,

castles of light, their snouts in the armpits of the sea.

 

Young bodies pass by here, kisses unfurl,

breasts like buoys, feet like mother of pearl.

 

In Portofino, the dolphins’ reckless, acrobatic pluck,

the play of light, fill her with a sense of luck.

 

In the evening, as the sun sinks free of yachts’ tackle,

the wind marks her body, an invisible shackle.

 

She must keep me reined in,

hold me tight against her skin

 

before I – stripped to the bone –

wash up on the rocks, alone.

 

Jy is natuurlik self ‘n uiters bedrewe digter van drie digbundels: Bloodsong (1997: SnailPress), Gone to the edges (2006: Protea Book House) en Bodyhood (2010: Umuzi). Vind jy dat jou vertaalprojekte die skryf van eie verse inhibeer of dalk juis stimuleer?

Dit is baie maklik om te vergeet dat jy ‘n ‘digter’ is. Selfs om te sê, ‘ek is ‘n digter’, voel vir my nog steeds uiters verwaand. Ek sukkel om daardie woorde te uiter. Maar as jy gedigte vertaal, dan onthou jy dat gedigte skryf eerder ‘n werkwoord as ‘n naamwoord is. Dis ‘n lekker, speelse proses. That’s the whole point! So ja, dit stimuleer eerder as inhibeer. As ek ‘n paar van Cas se verse lees, dan wil ek sommer onmiddellik ‘n swartgallige, bitter gedig skryf! Maar ten spyte daarvan, bewonder ek die gees waarin hy sy verse skryf. Hy inspireer my! Ek is besig om nagraadse studente by vertaalprojekte te betrek, en veral studente in die kreatiewe skryfkuns. Mense besef nie hoeveel ‘n mens oor kreatiwiteit leer as jy vertaal nie. Dit is vir my, op die keper beskou, die grootste leermeester. Ek het by Marlene van Niekerk en Etienne van Heerden (en nou, by Ingrid Winterbach) geleer hoe om fiksie te skryf, deur hulle werk te vertaal. Ek wil nagraadse studente op US (of waar ook al) oorreed om Van Wyk Louw en Eugene N. Marais en Mqhayi en Kunene en Delius en Butler en Breytenbach en Ruth Miller en Wopko Jensma en Adam Small en … en … en …  oor en weer, oor verskeie tale heen, te vertaal, om hulle dan so te laat leer hoe om te skryf. Om hulle so hulle talent te laat slyp in die tradisies van skryf in hierdie land – tradisies wat al hoe meer vergeet word ten gunste van post-dissiplinêre ‘diskoers’-tipe navorsing, wat besig is om die studie van letterkunde, die goed wat skrywers skryf, stelselmatig te ondermyn in ons akademiese ‘letterkunde’ departemente.

Robert Frost het by geleentheid gesê: “Poetry is what gets lost in translation.” Wat is jou mening omtrent hierdie ietwat uitdagende stelling? Hoe benader jy die vertaalproses?

 As dit waar is, dan is die dubbele verlies van vertaling ‘n groot fonds! Tradure, tradire! Lees Pieter Odendaal se knap artikel op LitNet Akademies oor ‘betekenaar vertaling’ (die klassieke tipe vertaling waarin jy die ‘signifiers’ self trou probeer vertaal), teenoor ‘betekende vertaling’ (die tipe wat Odendaal in Breyten se self-vertalings bespeur, waarin die losse ketting betekendes – signifieds – losgemaak word van die betekenaars, en die vertaling soos ‘n warrelwind nuwe, verrykte, wydlopend en ander ‘betekenis’ skep).

Maar lees ook my kommentaar op Odendaal se artikel (ook op LitNet Akademies) – hierdie losse vertaling kan maar net gebeur in spesifieke gevalle van groot vertroue (of ‘n spesifieke ooreenkoms) tussen vertaler en skrywer, of wanneer skrywers hulle eie werk vertaal, soos in BB se geval.

***

Nota: Meer inligting oor Leon de Kock se werksaamhede as akademikus, skrywer en vertaler kan op sy persoonlike webblad gevind word.

 

Digstring: Cas Vos. kersrook

Thursday, July 8th, 2010

Digstring

 

 

 kersrook

 

smoke drawing – diane victor

 

 

kerse vlam op

en laat visioene lig

dans

 

soos die eerste goddelike

asem se uitblaas      lê

ek jou in rook

op papier uit

 

ek sien jou skaduvlek

weerloos teen vergaan stry

 

as ek bewend aan jou raak

verdwyn jy in ‘n wit

leegte

 

op my papier

is jou rookspore

nagelaat

 

 

(c) Cas Vos (Uit: Intieme afwesige, 2009: Protea Boekhuis)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Cas? Hoe het dit ontstaan?

Die gedig is een oggend in Maart 2009 geskryf. Dis een van daardie gedigte wat in die nag skielik en onverwags in my skoot geval het. Daardie aand was ek nog op soek na ‘n geskikte voorblad. Toe hoor ek van Diane Victor se “smoke drawings” en weet onmiddellik dat dit die voorblad is en hieruit moet ‘n gedig kom. Ek het die konsep ook die aand gekry toe ek hoor dat, indien die “smoke drawing” aan lig blootgestel word, verdwyn die tekening.

Die volgende dag het ek ‘n afspraak met Diane gemaak. Ek het by haar gehoor hoe sy die “smoke drawings” maak. Sy het die geheim aan my verklap. Met ‘n vlammende pen het ek gedagtes vir die gedig neergeskryf. Dit was ‘n oomblik van kerslig en kreatiwiteit tussen ons.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die gedig het net na die gesprek met Diane gebeur. Dit is aan my “gegee”. En wie sê “nee dankie” vir ‘n present? Nie ek nie.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Daar was min sweet, eintlik net gloed en verwondering.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Dit was die konsep wat my geboei het. As jy aan die “smoke drawing” raak, raak die seuntjie weg. Soms is dit presies dieselfde met ‘n verhouding: dit is so broos en breekbaar dat selfs ‘n aanraking ‘n persoon kan laat verdwyn. En al wat oorbly, is die rookspore (vingerspore) van herinnering. Die “smoke drawing” wat ek as voorblad gebruik, dui ook op die aard van die bundel. Dit gaan oor die intieme afwesige, die breekbaarheid, die kwesbaarheid van verhoudings, die verlange en die pyn. Die gedagte loop deur die bundel en word veral in die persone van Abélard, Hélïose en hulle liefdeskind, Astralabe vergestalt.

Diane se kuns is in ‘n groot mate sosiale kommentaar. Kommentaar op die breekbaarheid, pyn en vlietenheid van die mens in verskillende omstandighede. Die intensiteit van sosiale verval, val telkens in haar werk op.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek het ‘n letterkundige wat noukeurig na my verse kyk. Daarna is ek in die hande van die keurders van die bundel.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Dit was van my laaste verse vir die bundel Intieme afwesige wat in September 2009 verskyn het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die “feit” is dat dit op ‘n werklike kunswerk berus. Ek sien die “smoke drawing” elke dag, want ek het dit as verjaardagpresent gekry. Die weerloosheid, broosheid en verlange van die kunswerk praat elke dag met my. Die “feit” is dat dit verwys na Astralabe, die seun van Abélard en Héloïse. Die “fiksie” is dat dit nou nog na pyn, verlange, verlies, verdriet en vervlietenheid verwys. Enigeen kan hom/haar in die vers in verbeel.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Dit gaan oor Astralabe wat deur verdriet en verlange oordek is. Die spreker is die digter (of dan die leser) wat met Astralabe in gesprek tree. In die eerste strofe word die proses van “smoke drawing” verbeeld. Die voltooiing kom in strofe twee as Diane die kunswerk in rook uitlê. Maar dis ook die digter wat die seuntjie deur die gedig tot lewe bring. Deur die “smoke drawing” kry Astralabe na eeue van vergetelheid weer lewe.

Die “ek” in die derde strofe is die digter (leser) wat na die seuntjie kyk en sien hoe hy teen weerloosheid stry. Dit lei tot ontroering en ‘n bewende aanraking, maar dan verdwyn die kind. Al wat oorbly, is wit stilte. En natuurlik die herinnering: rookspore op papier. Hiermee kan elke leser maak wat hy/sy wil. Elkeen het tog die wit leegte en rookspore op papier.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Die gedig is deur Diane Victor geïnspireer. Sy is een van die voorste kunstenaars wat ek bewonder. Telkens is daat nuwe grensverskuiwings in haar werk. Dit blyk nou weer uit haar uitstalling, Trancend, by die Goodman-galery in Johannesburg. Daar het ek weer ‘n gedig gekry! As grafiese kunstenaar is Diane onverpoosd op soek na nuwe maniere van segging. Dis die mens in al sy gestaltes wat haar inspireer. Ek dink dis wat die digter ook behoort te doen: soek na en ondersoek voortdurend nuwe maniere van segging. Dit moet mense anders laat dink, kyk en leef.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

O hemel, dit wemel van persone. Werklikes, verbeeldes, dooies. Vir my is ‘n konsep belangrik. Dit vorm die draende grond van die gedig en stel my in staat om die gedig volgens ‘n patroon/patrone te rangskik. Maar ‘n gedig laat hom/haar nie maklik rangskik nie. Daarvoor is hy/sy te woelig en te vlugtig.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dit verskil, hoop ek, heelwat. Maar gedigte verskil weer van mekaar. Dit hang van elke gedig af. In hierdie geval het die “smoke drawing” die gang en ritme van die gedig bepaal en ‘n eie stempel daarop afgedruk.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die uniekheid van die kunsvorm wat Diane gebruik. Dat sy van kersrook tekeninge kan maak, is verbysterend. En dan die menslikheid van die gedig in ons gebroke konteks.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Die gedig het my nie gelos nie. Daarom was daar die verlossing deur woorde. Ek het ‘n vlam aangesteek en toe die kers doodgeblaas. Woorde het op papier verdig.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ek is baie dankbaar oor die reaksie. Veral die visuele kunstenaars ervaar dit intens en opwindend.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Louis, nou vra jy my ‘n ding. Ek moet deur die donker jare sluip. Dis ver ver terug. Lank lank gelde. Ek was so 10 jaar oud. Maar ‘n gedig? Miskien ‘n eerste vlagie rook.

 

Cas Vos

Cas Vos

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica. In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Intieme afwesige

Wednesday, November 4th, 2009

Intieme afwesige. Deur Cas Vos. 2009. Protea Boekhuis. 106 pp. ISBN 978-1-86919-294-5.

Intieme afwesige

Intieme afwesige

Sedert sy digterlike debuut in 1999 het die Pretoriaanse teoloog Cas Vos ‘n oeuvre met ‘n stygende kwaliteitskurwe opgebou. In Die afdruk van ons hande van twee jaar gelede – sy vierde bundel – is ‘n hoogtepunt van afgewerktheid deur hom bereik.

          Die titel van sy jongste werk, Intieme afwesige, stel een van die konstantes in Vos se digwerk op die voorgrond, naamlik die verwoording van die teenstrydighede in die mens (derhalwe ook die Christen-gelowige) se bestaan en belewing.

Daar is byvoorbeeld reeds sowel iets magies en genadigs as iets gewelddadigs en gevaarvols in die menslike ontvangenis en geboorte te bespeur (afdeling I, “Geboortes”) – selfs, of júís, wanneer die goddelike betrokkenheid daarby verreken word. Die ganse bestaan staan in die teken van die paradoksale. Soos dit in gedig 3 uit hierdie afdeling lui:

                      Alles is kenbaar en onseker;

                      alles is digby maar buite bereik.

          Die lewe is derhalwe ‘n onvoorspelbare avontuur vir die mens. In gedig 5 uit hierdie selfde afdeling word die maagdelike bevrugting van die “meisie” Maria, latere moeder van Jesus, geteken. Tot twee maal toe – via ‘n half-erotiese beeld wat ook aan Michelangelo se beroemde Sikstynse kapel-voorstelling van God se verwekking van Adam herinner – word haar verhewigde belewenisstaat, haar lewensbegeerte ná die goddelike ingryping gesuggereer:

                      God se vinger raak haar aan,

                      haar wange gloei.

Die paradoks as stylfiguur duik herhaaldelik (en dikwels ironies getint) op in hierdie bundel. Blykens die bundelmotto (‘n aanhaling uit Breyten Breytenbach se werk) word dit trouens as ‘n digterlike probleemstelling aangedui: “hoe skryf ‘n mens ‘n afwesigheid vas in die vers?”

Brief-, gebeds-, gespreks- en ander belydenisvorme, ook kunsbeskoulike verse, word meermale in diens van hierdie vraagstuk aangewend in Intieme afwesige. Gevolglik is dat die apostroof ‘n volgende stylfiguur opval, synde ‘n aanspreking of oproeping van die afwesige. 

Begeerte bevat in wese sowel iets van die intimiteit as iets van die afwesigheid waarvan in die bundeltitel gewag maak word. Dit lê ten grondslag aan sowel die liefde(-sverlange) as die kunsskepping, soos uit die gedigte van afdeling II blyk – dit wil sê indien die begeerte nie net altyd in terme van die erotiese gesien word nie, maar ook as ‘n drang na selfekspressie (“Die wingerde van Arles”) of begrip (“Martha”), selfs na die dood (“lewe en dood”). Sowel in die liefde as in die maak en waardeer van kuns “hink” die mens “bedwelmd tussen paradokse” (“Twee digters”).

In enkele gevalle word vaster digvorme funksioneel benut in hierdie afdeling. Die tersinevorm met omarmende rym werk in “Die vyfde evangelis” treffend mee om Johann Sebatian Bach se fugale komposisies – “heen op togte melodie, en weer” – te help evokeer. Daarenteen gaan die herhalings in die villanelle “lewe en dood” mank aan noodwendigheid, terwyl ‘n rymdwang soos “jy graaf daagliks jou diep graf bloot” en die teenstrydigheid in “die skadu’s kom versigtig nader en lê bloot” ook hinder.

Afdeling III bevat enersyds gedigte oor ontheemdes, vervolgdes, gevallenes, benoudes en verdoemdes wat die onbegryplike, selfs wrede of kille goddelike bestiering moet ervaar – hoewel soms ook die glansende teenwóórdigheid van God. Dié tematiek vind neerslag in boeiende ironieë, soos die volgende (met ‘n toespeling op Van Wyk Louw) uit  “Ontheemde”:

          Al hou ek my hart van gode rein,

          vertroebel U s’n, dra ek die pyn.

“Il Gigante”, nóg ‘n gedig na aanleiding van ‘n werk deur Michelangelo Buonarotti, is een van die treffendstes uit hierdie reeks. Let op hoe Bybelse verwysings en geykte uitdrukkings nuwe lewe ingeblaas word in die openingsreëls daarvan.

          Die beeldhouer blaas asem

          in ‘n massiewe stollingsklip;

          sy beitel hap log marmervlees,

          tap bloed in die klip tot

          uit die koue rots ‘n jong wagter opstaan,

          oë groot en weerloos, lyf lammetjiesag.

Vanaf bladsy 38 volg dan ‘n klomp liefdesgedigte waarin sowel die intieme teenwoordigheid van as die gemis aan die geliefde onder woorde gebring word, soms op bykans hoogliedagtige trant (onder meer in “In die tuin van die nag”). In die twee kunstige Engelse sonnette wat die sluitstuk van hierdie afdeling vorm, word die aanwesigstelling van die afwesige geliefde deur middel van (vergeefse) artistieke skepping die onderwerp. “Vere in die wind”, die geslaagdste van die twee sonnette, eindig treffend:

Ek verlang ‘n brief – verlang jou brief, jou asem.

My woorde slaan teen jou omtrek aan soos wasem.

Op hierdie wyse word die bewerkings in afdeling IV van grepe uit die beroemde twaalfde-eeuse briefwisseling tussen Pierre Abélard en Héloïse voorberei.

Laasgenoemde afdeling skop af met ‘n alleenstaande gedig, “Troebadoer”. Daarin word die spanning tussen religieuse wyding en sensuele begeerte wat so sentraal is aan die Abélard-Héloïse-tweegesprek wat hierna volg, aan die bod gestel. Van Wyk Louw het tereg gewaarsku dat daar uit die “gevormde literatuur” moeilik nuwe heuning te maak is. Sommige bewerkings in “Abélard en Héloïse” ontkom myns insiens nie aan die gefragmenteerde grepe wat daaruit geneem is nie. En ten spyte van sekere beeldvondste (“terwyl marmerbeelde sonder ooglede / soos wit skemertes op my afkyk”; “riviere […] waarop wildeganse / haastig voor die skemer se spane dryf”), doen die meerderheid van die gedigte hier ietwat geyk aan, ietwat prosaïes konstaterend – waarskynlik as gevolg van die aard van die brontekste.

Tot slot van hierdie afdeling dien ‘n sewetal gedigte wat, luidens die ondertitel, verbeelde “[g]esprekke oor verlatenheid” tussen die digter en “Astralabe” bevat. Uit die “Aantekeninge” agterin die bundel blyk dat Astralabe die haas onbekende liefdeskind van Abélard en Héloïse was. Dié verse verteenwoordig ‘n strewe  om hom dan “in die skaduwees / van vergeet te onthou”. “[K]ersrook” is die beste onder hierdie gedigte. Dis ‘n gedig oor die onvaslêbaarheid op papier van die apostrofies aangesprokene. Korter, onreëlmatige en dikwels sterk enjamberende versreëls word ironies funksioneel ingespan om die onvergestaltbaarheidsgedagte vormlike beslag te help gee.

Ander gedigte hier veryl in abstraksies (“eeue tyd”) of gaan mank aan beeldtroebelhede. Veral die rookbeelde in “voor ek vergeet” verwar ‘n mens. Blykens die gedigopdrag is die beelde ingegee deur Diane Victor se “smoke drawing” (wat op die bundelomslag afgedruk is), maar dit wil nie oortuigend tuiskom in die werklikheid van die “jy” in die gedig nie (wat, gegewe die gedigreekskonteks, as Astralabe gesien moet word).

In afdeling V, die slotafdeling, word hartstog en dood, die sensueel genietlike en beelde van ondergang, in gespanne paradoks geplaas. Die dood is as ‘t ware die “intieme afwesige” in lewens (soos dié van Edith Piaf) wat so passievol geleef word. Vergelyk ook die treffende “Nag”, geskryf na aanleiding van ‘n gedig deur Jim Morrison:

          Die nag is nog jonk

                      & vol gloed en vonk.

          Sy dra ‘n gesplete rok

                      om índink uit te lok.

          Sy wag vir ‘n soete inval

                      & braak intussen gal.

          Sy’s daar vir jou pure plesier

                      om doodsnikke te vier.

          Die nag is afgeleef en oud

                      & jy kry bibberboud.

Dit is duidelik dat die bundeltitel as motief (dikwels so te sê woordeliks) oral in die gedigte geëggo word om die bundelsamehang te beklemtoon. Trouens, ‘n mens kry naderhand ‘n indruk van effense oordaad en derhalwe van kunsmatigheid in hierdie verband.

Nóg beeldtroebelhede is aan te stip in Intieme afwesige, plek-plek ook seggingsgesogthede (“val my meetsnoere in ‘n klooster”), oortollighede (byvoorbeeld “die weemoed van verdriet”) en enkele ander styllomphede. Soos gesien, is daar egter ook heelparty beeldvondste, treffende verlewendigings van geykte segswyses en behendige hantering van klank en verstegniek aan te toon.

Word die optel- en aftreksomme gemaak, bly ‘n verstewigende bydrae tot Vos se oeuvre oor – en ‘n veelsins boeiende bundel. Tegnies en stilisties ewenaar Intieme afwesige egter nie heeltemal die hoë peil van Die afdruk van jou hande van twee jaar gelede nie. 

 

Prof Bernard Odendaal.

Onderhoud: Cas Vos

Sunday, August 30th, 2009

Wat oorbly is roet & ink

Cas Vos in geprek oor sy nuutste digbundel Intieme afwesige, met Johann de Lange  

Cas Vos

Cas Vos

 

Cas Vos is op 15 Mei 1945 in Rustenburg gebore. Hy is tans Dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria.  In 1999 ontvang hy die Andrew Murray-prys vir Die volheid daarvan I en II en in 2001 word die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken. Hy het ook ‘n aantal liedtekste geskep. Van 2004 tot 2006 was hy president van die internasionale organisasie Societas Homiletica.In 1999 debuteer hy met Vuurtong. Gode van Papier verskyn in 2001 en in 2003 maak Enkeldiep sy opwagting. Van sy gedigte is in bloemlesings opgeneem. Daar is ook ‘n televisieprogram oor sy poësie gemaak. Sy bundel, Die afdruk van ons hande, verskyn in 2007. Sy jongste bundel, Intieme afwesige, verskyn by Protea Boekhuis, 2009.

 

Wat my opgeval het met die lees van die bundel is hoe elke afdeling nuwe nuanses van die titel belig. Die intieme afwesiges wissel van ongeborenes tot gestorwenes, van herinnerings tot inspirasie, van mense van bloed & vlees tot mense van ink of verf. Op intertekstuele vlak kan dit verder verbind word met ander tekste, heel dikwels uit antieke tye, wat as’t ware soos op ‘n palimpses intiem aanwesig is. Brei bietjie uit oor wat die funksie van ‘n titel vir jou is.

 

‘n Titel is vir my soos ‘n hartklop. Jy hoor of die bundel leef. By Van Wyk Louw het ek geleer om ironies te leef en bo alles die liefde te behou (en dis nie altyd maklik nie!). Die titel suggereer ‘n teenstelling. Naby en ver. Verlange en liefde, leegte en vervulling, lewe en dood. Af- en aanwesigheid. Hierdie teenstellings loop dwarsdeur die bundel. Daarom is daar dikwels gesprekke tussen gedigte. Hiervan is die Abélard en Héloïse-reeks ‘n duidelike voorbeeld. Intimiteit is so menslik. En meestal staan afwesigheid in die weg daarvan. Hierdie kontraste  staan voortdurend op gespanne voet teenoor mekaar.

 

Jou bundels se omslae raak toenemend belangriker as sleutels. Verál Die afdruk van ons hande & nou Intieme afwesige. Hoe sien jy die rol van omslagontwerp in die semantiese spel, & hoe maak jy vrede met die kompromieë wat gemaak moet word wanneer sakebelange & artistieke visie bots?

 

Intieme afwesige

Intieme afwesige

 Vir my is ‘n bundel as geheel ‘n kunswerk, ‘n skeppingsdaad. Daarom is die voorblad vir my nie net maar ‘n oogvanger nie. Dit is deel van die bundel. Die voorblad gee die leser ‘n blik op wat hy/sy kan verwag. Dit dra by tot die verstaan van die gedigte. Dis ‘n hermeneutiese sleutel. Maar ook omgekeerd: dit gedigte kyk elke keer terug na die omslag.
In die geval van Intieme afwesige wou ek ten alle koste die smoke drawing van Diane Victor op die voorblad hê. En glo my dit het nie sonder slag of stoot gegaan nie. My uitgewer het begrip gehad vir ‘n waansinnige digter. Maar gode sy dank, nou kan die omslag ‘n inslag hê op die gedigte. Weerloosheid, afwesigheid, eensaamheid, broosheid en verdriet hink deur die bundel. En die voorblad wil die leser help om dit raak te sien.

Hoe gebeur ‘n gedig by jou? Watter soort prikkels vuur ‘n gedig af? Wat, bv. is die rol van reis?

 

Saam met T.T. Cloete wil ek sê dat gedigte uit die mees onverwagte oord kan kom. Ek dig met my oë. Daarom is ek altyd op die uitkyk na digmoontlikhede. Ek dig ook met my liggaam. ‘n Bepaalde ervaring kan tot ‘n gedig lei. Ek dink ook na en soek na konsepte wat gedigte kan word. ‘n Gedig is altyd in wording. Reis maak nuwe wêrelde oop en ervaringe los. In Parys het ek onlangs baie gedigte geskryf. Moenie vra waaroor nie! 

 

‘n Vers soos ‘Ode aan ‘n bloekomboom’ & talle ander verse waaruit jou sterk visuele ingesteldheid blyk soos ‘See’, ‘Is jy blind?’, ‘Parys se winter’, & ‘’n foto in woorde’ stel dit onomwonde dat kuns nie net ontspring uit die waarneming & interpretasie van ander kunsvorme nie, maar ook uit die veelsinnige wêreld om ons.

 

T.T. Cloete het oor God as die groot Digter gedig. Vir my is die skepping in sy rykheid en variasie ‘n bron van gedigte. ‘n Mens kan byvoorbeeld sterre pluk en ‘n ruiker maak. Ek is ook intens bewus van die wedersydse afhanklikheid van skepsel en skepping. Ons kan nie sonder die skepping asemhaal nie. Ek sidder as ek dink hoe ons die skepping afknou, kneus, ontstel en verwoes.

 

In al jou bundels, maar verál in Gode van papier is daar ‘n baie sterk bemoeienis met die skryfdaad. Ek kon nie help om byvoorbeeld met die lees van Gode telkens die woord ‘papier’ te registreer nie. 

 

Johann, jy het ‘n sleutel tot my gedigte opgetel. Papier is vir my die ruimte waar woorde asemhaal en sug. Dáár kan woorde ook dans en liefde maak. Dis ook die ruimte waar woorde gesluierd loop om pyn en weerloosheid te bedek. Verder is ‘n gedagte meestal so diep soos papier. Dis lig en vlugtig. Digby verdwyn. Ek vlug na papier om te skuil en te lag.

 

Sou dit korrek wees om te sê dat dit ‘n bundel is vol geboortes, weliswaar geboortes van allerlei soort. In die eerste afdeling is dit Perseus, Horus & Jesus (die ongeborenes is die intieme afwesiges waarvan die titel praat), in afdeling 2 figureer die skeppingsproses as geboorte (hier is die vers oor Kate Moss ‘n dubbeldoor), dan is daar die geboorte van Astralabe. Maar dis ook ‘n bundel oor afwesige vaders (bv. Zeus, maar ook Christus is in ‘n sin ‘n intieme afwesige vader).

 

Op jou vraag is my antwoord: ja. Die eerste geboorte (Reynard, my kleinkind) is ‘n menslike geboorte. Uit die liefde van ‘n pa en ma maak hy sy opwagting. Weliswaar ‘oorlams’ en ‘geskik vir kwaad’. Dan volg die goddelike geboortes. Maar elke keer staan ‘n god pa vir die geboorte. Ek put ryklik uit die Griekse mitologieë. Wat veral opval (sonder om aardsgeheime te verklap), is die menslikheid van die gode. Hulle bekers loop oor van begeertes en drange. Ek moes Jesus se geboorte indig. Want, ook Hy, is vaderloos. Josef word opsy geskuif. Dit is dus die verhale van afwesige vaders en seuns sonder vaders. Kate Moss, ‘n erotiese vers, is uit en uit ‘n dubbeldoor. Intiem en afwesig.

 

Dit is trouens opvallend hoe jy in jou verse telkens die antieke uitbring by die aktuele & lig werp op die hede, of dit gaan oor Gilgamesj & Enkidu of oor Leonard Matlovich; of dit die geboorte van jou eie kleinkind is of die geboortes van historiese of mitologiese figure soos Perseus, Horus of Jesus sélf.

 

Al lê die eeue agter ons, haal dit ons keer op keer in. Hoe word die geskiedenis, al is dit in ‘n ander tyd, tog nie herhaal nie. Ons is almal erfgename van die geskiedenis. Soms is dit uiters donker, maar daar is ook lig. Geskiedenis is verstaansgeskiedenis. Dit laat ons die verlede en die hede beter verstaan. Dit laat ons tot verstaan kom, tot verhaal kom. Die antieke is vir my ‘n spieël waarin ons gesigte uit die verlede sien en ook ons eie gesigte. By Emmanuel Levinas het ek geleer dat die ander se kritiese blik op my my help om myself en my eie ‘algebra van nood’ beter te begryp.

 

Via die mitologiese onderbou verken jy die moderne manifestasies van gode in ‘n moderne, sekulêre samelewing.

 

Sedert die neukery met die appelboom, om Marthinus Versfeld aan te haal, is ons wêreld in mites gedoop. ‘n Mite is ‘n manier om die misterie, die onsêbare te probeer verstaan.

Gode duik op elke hoek op. Elke keer in ‘n ander gedaante. Hoe verklaar mens hulle? Ons dink te maklik dat ons in ‘n postmodernistiese samelewing met gode kan afreken. Maar hulle trek met ons saam. Hulle kruip in ons harte in. Mites en mitologiese taal, dink ek, help ons om onsself en die gode beter te verstaan. En om die gode op hulle plek te sit en te hou. 

 

Sien jy in verhale soos dié van Gilgamesj ‘n behoefte aan die ou gode, in ‘n tyd van te veel gode?

 

Ek is bang vir die ou gode, want ek ken hulle nie. En te veel gode maak my nog banger. Ek dink ons kan veel bý en ván die ou gode leer. Ons kan byvoorbeeld uit al hulle foute en vergrype leer. Dink net aan Marduk en Zeus! Gode maak mense verder nederig. Ons is tog so broos en verleibaar.

 

Sien jy jouself as deel van die religieuse ‘tradisie’ in die Afrikaanse poësie? Vir my sluit jy nóg by die mistieke Cussons & nóg by die meer sekulêre I.L. de Villiers aan. Jy voel jou eerder aangetrokke tot beide die Oosterse sowel as die Westerse tradisies (iets wat mens weliswaar ook by die vroeë Cussons aantref).

 

Ek is nogal ongemaklik om myself as deel van enige religieuse ‘tradisie’ te sien. Dis die etiket van teoloog-wees wat al dié misverstande wek. Natuurlik put ek uit die rykdom van die Antieke wêreld. Ek is dus geen apologeet nie, eerder ‘n saboteur. Hiermee bedoel ek dat ek eerder religieuse tekste, in soverre hulle in my bundel voorkom, dekonstrueer. Ek doen dit om saam met eietydse mense te worstel met die raaisels en misteries van die lewe. Voorbeelde hiervan is ‘Die Here is nie my herder nie’ in Die afdruk van ons hande, en ‘Ontheemde’ in Intieme afwesige.

Ek stem saam met jou. Ek voel aangetrokke tot die Westerse én Oosterse tradisies. Albei vind neerslag in van my gedigte. Só ‘n benadering maak my oop vir groter wêrelde. Ek dink ons weet so min van die rykdom van veral die Oosterse wêreld. 

 

Jou bundels dek telkens ‘n wye register temas & ‘n uitgebreide verwysingsraamwerk. Só gebruik jy in Die afdruk van ons hande byvoorbeeld die Gilgamesj-sage om op byna metafisiese wyse kommentaar te lewer op óns tyd. Vergewe my dus as ek (onmoedswillig) vra waarom jy nie meer gemaak het van die homoseksuele relasie tussen Gilgamesh & Enkidu nie (dit het tewens ‘n pendant in die verhaal van Dawid & Jonathan)?

 

Dis ‘n boeiende en geldige vraag. Daar is geen twyfel dat die epos ‘n homoseksuele relasie tussen Gilgamesj en Enkidu uitspel nie. Byvoorbeeld: nadat Gilgamesj en Enkidu baklei, word Gilgamesj se droom waar – hulle soen mekaar en smee ‘n vriendskap (Tablet 11:18). Wanneer Enkidu sterf, bedek Gilgamesj die gesig van sy vriend soos dié van ‘n bruid (Tablet V111:59). Hierop het ek wel in my weergawe van die epos gesinspeel.

 

Gilgamesj draal nog om sy vriend

en bedek

sy gesig met ‘n aswit sluier.

 

In die Ou Nabye Ooste was dit heeltemal normaal om die dinge wat jy nie met jou vrou kon deel nie, met jou vriend te deel. Van die dinge kon ook seksueel wees. Homoseksualiteit is dus nie só ‘n issue in die Gilgamesj-epos nie. Daarom het ek net subtiel daarna verwys en die beker by my laat verbygaan. In Intieme afwesige is daar wel twee gedigte wat meer eksplisiet en subtiel is: een oor homoseksualiteit en die ander oor ‘n lesbiese verhouding.

 

Wat my bring by ‘Verblind (of ‘n oog vir liefde)’: met Dumas se ‘Male beauty’ as vertrekpunt, betrek dit die geskiedenis van Vietnam veteraan Leonard Matlovich, een van die eerste slagoffers van die Amerikaanse Militêre Akademie se Don’t-ask-don’t-tell beleid, & later ook slagoffer van Vigs. Dis asof die ondraaglike blootstelling van Dumas se naakfiguur en die gay soldaat wat naak voor ander staan mekaar reflekteer. In verse wat skryf & sing & praat vier, is dit ironies genoeg swye wat Matlovich se loopbaan & uiteindelik sy lewe beëindig het. Ek kan nie help om te dink aan Koos Prinsloo se verhaal “Belowe jy sal niemand sê nie”, ‘n belofte waardeur die slagoffer ‘n medepligtige word by sy eie dood.

 

Die onreg van ‘gee jou lewe, maar nie jou liefde nie’, het my in die Dumas skildery aangegryp. Liefde het nie grense nie. As jy dit wil afgrens, oortree jy die wet van die liefde. Ek het die gedagtes ironies en eroties in die gedig probeer verdig. Staan ons nie almal min of meer naak voor ander se oordeel nie? Die swye wat die soldaat se lewe beeïndig, is ‘n klag teen ons samelewing. Maar die stem van die liefde sal ondanks alles altyd deur die eeue eggo.

 

Die gedig het my laat dink aan Socrates se woorde:

 

The time to depart has come,

and we go our separate ways – I to die,

and you to live. Which is better

the god only knows.

 

In die tweede afdeling met sy vertolking van skilderye is inspirasie sélf die intieme afwesige. Die grootste aantal van die verse word gewy aan Marlene Dumas (‘n figuur wat ook vir Antjie in Kleur kom nooit alleen nie fassineer het). Die hoogtepunt van hierdie procédé sal vir my altyd Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie bly. Die erotiese, intieme kwaliteit van Dumas se werk, maak van die doek as’t ware ‘n palimpses waardeur die onsegbare of verswygde historie skemer. Wat is dit wat tot jou spreek in Dumas se werk? 

 

Die reeks gedigte as vertolking van skilderye is ‘n voortsetting van die skeppings-proses uit afdeling 1. Hier is sowel die skilder as digter skeppers. Uit die oog van die digter is die skilder ‘n mede-skepper. Soms is die digter die oorsaak van ‘n skildery. Hierdie wisselwerking tussen skilder en dig boei my. Dumas skep en open vir my digwêrelde. Wat my van Dumas fassineer, is die alledaagse en die uitsonderlike. Dit gaan om weerlose en soekende mense. Verskillende gestaltes van menswees word in haar skilderwerk ontmoet. Haar 2008 uitstalling, Intimate relations, tipeer vir my haar werk. Sonder pretensie, maar grensverskuiwend. Dit laat die kyker anders dink en voel oor die lewe. Verder is daar, soos jy met reg aanwys, die erotiese, intieme kwaliteit van haar werk wat uitstaan. Die intieme en die afwesige, lewe en dood bind haar werk. In my gedigte resoneer al die trilings. Ek het ook ironie uitgebuit. Lees asb net die gedigte oor Sigmund Freud se vrou, Martha, en Kate Moss (geskilder deur Freud se kleinseun, Lucian). Ná die lees behou ‘n mens ook die humor oor. 

 

In ‘Martha’ gaan die vers oor Dumas se skildery oor Freud se vrou, Martha, & in ‘Kate Moss’ gaan dit weer oor Lucian Freud se kontroversiële 2002 skildery van die supermodel Kate Moss. Freud verkies normaalweg ‘gewone’ mense vir sy onderwerpe, & dit maak sy keuse van die swanger Moss nogal ongewoon. Wat fassineer van Freud se skilderye is die gekneusde vlesigheid van sy modelle, die rou realisme waarmee hy vlees weergee. Die normale plankdun Moss word in ‘Naked Portrait’ nogal heel voluptueus uitgebeeld. Soos heelparty ander in die bundel het hierdie vers ook geboorte as tema, op ‘n ander vlak die skepping van die kunswerk (vgl. ‘My hand ritsel’ waar die moeisame geboorte van die gedig beskryf word).

               

Ek wou die afwesigheid, die afstand tussen Sigmund Freud en sy kleinseun Lucian Freud laat deurskemer. In 2005 is die twaalfde druk van Freud se beroemde Die Traumdeutung gepubliseer (as digbundels maar soveel herdrukke kan beleef!). Sy psigoanalitiese teorië het geslagte kunskritici beïnvloed. Daar is na die betekenis agter die ‘beelde’ gesoek. Die kunstenaar is as ‘n pasiënt met ‘n siek psige beskou. In die gedig het ek probeer om hierdie wa(a)nsiening te ontmasker. Herr Sigmund, soek eers die splinter in jou eie oog. Daarom is Lucian Freud se skildery van Kate Moss so ironies. Die intieme afwesige is die verborge fetus en Kate is eroties-vleeslik aanwesig. “My hand ritsel’ is die digterlike geboorte van ‘n vers. Daar is selfs ‘n Bybelse intertekstualitieit in die vers. Maar ek sal nie sê waar dit lê nie! 

 

Met die Abélard en Héloïse-siklus pak jy nes in Die afdruk van ons hande met die Gilgamesj-sage ‘n bekende & tydlose liefdesgeskiedenis aan, ‘n verhaal wat kunstenaars deur alle tye geboei het & nog steeds boei. In ons letterkunde het Cussons & Louw hulle bv. pertinent met dié geskiedenis identifiseer. Vertel asseblief meer hieroor, & ook oor die daaropvolgende reeks oor Astralabe, die kind wat Abélard & Héloïse sou verwek het – ‘n gestalte wat eintlik tussen die vloerplanke van die geskiedenis deurgeval het. Dis verál deur hulle woorde, deur die briewe & gedigte dat hierdie “brewwe” momente bewaar gebly het.

 

Die Abélard en Héloïse-siklus het my ontroer omdat dit so tydloos is. Dit is net so aktueel en aangrypend as in die 12de eeu. Intieme afwesige eggo dwarsdeur die siklus. Daar is die pyn, verdriet, verlies, verlange en vreugde (erotiek) van die liefde. Eers op die grafbed lê Abélard stokstyf en doodstil langs Héloïse. Hoe ironies kan die liefde tog nie wees nie! Anders as by Van Wyk Louw, Sheila Cussons en Daniel Hugo het ek die siklus in dialoogvorm geskryf. Iets van ‘n teater. ‘n Poëtiese praatvers.

Astralabe is die liefdeskind van Abélard en Héloïse. Oor die stomme kind is byna niks bekend nie. Al is hy so onbekend, is hy nietemin die toonbeeld van verlatenheid, eensaamheid, verlorenheid, vader- en moederloosheid. Vir hom was sy pa én ma die intieme afwesiges. En hysélf die intieme verlatene. O hemel, dis so eietyds en menslik. 

 

Afdeling 3 bevat benewens liefdesgedigte soos ‘Ek pluk vir jou rose’, ‘Voor dit donker word’, ‘In die tuin van die nag’, & ‘As ek in die slaap’ waarin jy in die taal van Hooglied & met die konvensionele simboliek van rose/blomme die liefde besing ook versetverse soos ‘Ontheemde’ & ‘Cueca solo’. Verse waarin geworstel word met God. Hoe so?

 

By my sal jy altyd liefde kry, liefde en ironie om Van Wyk Louw te onthou. Tussen lewe en dood bloei die liefde. Vir my is God die onbegryplike, die ongrypbare. Hy is ook dikwels die intieme afwesige. Daarom is my vraag: waar is God in my pyn, verdriet, alleenheid, worsteling? Eerder as om God los te laat, wil ek met Hom stry en worstel. Miskien maak iets eendag sin.

 

Jou gedigte demonstreer hoe kunstenaars deur die eeue deur metafore, simbole & mites betekenis gee aan die moderne samelewing. Is dit die rol van die kunstenaar, sou jy sê?

 

Natuurlik is daar tydlose gedigte. Ek dink aan Van Wyk Louw se ‘Vier gebede by jaargetye in die Boland’ en D.J. Opperman se ‘Grondstowwe by die Siklus van Seisoene’. Maar ek dink omdat ‘n gedig in die tyd ontstaan, dra dit ook die merke en kwetsure van die tyd. Die digter is nie net met sy/haar klein wêreldjie besig nie, maar hy/sy kan ook die trillings van die aarde en die pyn en vreugde van ander mense voel en daaroor dig. Hierdie siening is myne, en nie voorskriftelik nie. To each his own. Metafore, simbole en mites is die grondstof om die moderne samelewing met al sy modder en afgronde te probeer, net te probeer, verstaan.

 

Aan die tegniese kant skryf jy ‘n meer konvensionele vers met ‘n sterk fokus op vorm (soos sonnette, of selfs ‘n meer esoteriese vorm soos die villanelle), sterk klankbinding & beelding. Maar dan het jy ook ‘n voorliefde vir die intertekstuele spel met ander digters, verse (ek dink hier bv. Aan jou pragtige variasie op Breyten, ‘Allerliefste’), verse oor ander kunstenaarsfigure, kunswerke uit ander genres bv. die skilderkuns & musiek, gekombineer met ‘n liefde vir reis. En soos ek reeds genoem het, jou uitgebreide verwysings na mitologieë, historiese figure, Bybelse verwysings. Dit alles sorg vir ‘n digte gedig wat die deeglike leser beloon.

 

Hierdie opmerkings van jou raak die hart van my siening van en omgaan met poësie. Jou tipering van die landskap en kleur van my verse is só akkuraat. Die steun op die meer konvensionele vers beteken nie dat dit ‘n keuse vir geyktheid of bleekheid is nie. Wel vir ‘n vorm, ‘n patroon. Hiervan is die skilderkuns ‘n uitnemende voorbeeld. Diane Victor se smoke drawings het steeds ‘n vorm (‘n gesig), kyk net wat doen sy met die vorm. Dis amazing. Dit is wat binne die vorm aangaan wat saak maak. Die vorm hou eintlik die perde (metafore, mites, simbole) in toom. Anders ruk alles handuit. Anders gesê: kreatiwiteit en varsheid kan net soos ‘n vis in water in ‘n vorm lê. In die vorm is daar ook asem, ‘n vertelling.

Die intertekstuele spel is ‘n noodwendigheid. ‘n Mens moet met jou voorvaders en tydgenote kan gesels. En soms ‘n hand uitreik. Want hulle verryk jou eie gedigte. Die Antieke tekste is vol van intertekstuele spel. Ek dink aan die Hebreeuse, Assiriese, Babiloniese, Persiese, Griekse en Latynse poësie, om net ‘n paar voorbeelde te noem. En hedentyds wemel dit daarvan. Intertekstualiteit is soos systrome wat invloei in die groot rivier van ‘n gedig. Hiervoor is ek nie skaam nie en vra ek nie om verskoning nie.

Ander kunsvorme boei my en het ‘n invloed op my gedigte. Ek kan my nie ‘n lewe sonder musiek en skilder voorstel nie. Dit roep by my klanke, ritme en beelde op. Historiese verwysings kom dikwels in my poësie voor. Die geskiedenis is ‘n tradisie. Bybelse verwysings is ook eie aan my gedigte. Net nie te veel tekste nie asseblief! Die vraag wat die leser moet vra is: wat maak ek daamee? 

 

Dit het deesdae mode geword om verby die moederspeen te skel (om Breyten te betrek), & daar is ‘n baie sterk klem op die sg. praatvers asof dit iets nuuts is, maar in die Amerikaanse letterkunde is dit ‘n báie goed gevestigde tradisie. Die digters het egter deurentyd ander bindingsmiddele gevind. Vir my gevoel lewer die strewe na ‘n ‘no fun skinny’ tipe vers (as ek Seattle coffee se terminologie mag besig) met die absoluut minimum aan poëtiese bindingsmiddele meer dikwels as nié ‘n uitgesponne, middelpuntvliedende soort gedig op wat trendy is, maar nie altyd as kunswerk oortuig nie. Wat is jou gevoelens hieroor?

 

Oor die mode en trends in die eietydse poësie en die moederspeen wil ek met sagte woorde praat. Ek wil eintlik net asem skep. Dis waarom dit in benaderinge oor poësie behoort te gaan: ruimte vir variasies. Nie ‘n teenoor nie, maar ‘n met. En tog wil ek bysê: die sg. praatvers moet ook aan die grondwaardes van poësie gemeet word. Ek bedoel nie ‘objektiewe’ maatstawwe (maatstrawwe) nie, maar dit wat tot die wese van poësie behoort. Gaan lees die briljante Job gedig in verhaalvorm en jy word oorrompel deur die poëtiese krag daarvan (die wyse van vertel, die metafore, die ryk en wye wêreld wat geskep word), die Ilias, die Odusseia, Vergilius se Aeneid en Georgics. Robert Pinsky en Anne Carson is byvoorbeeld uitnemende eksponente van die praatgedigte. Nog ‘n keer: Selfs die praatgedigte moet poëtiese bindmiddels hê, anders verbleik alles in (onder) die son.

Wie dans, moet dans, wie rock moet rock, maar ons álmal hoef dit nie te doen nie. Daar is na my mening in die Afrikaanse tradisie (en nie van gister af nie), en ook vandag, besonder suksesvolle praatverse. Maar soms is dit net te binnemonds, bekfluitjie sonder asem.

 

Hoe voed jou kontak met mense, deur berading etc. jou skryfwerk? Sal jy sê dat jou beroep jou in ‘n unieke posisie plaas om die menslike kondisie te verken? Jou bundels verken die hele register van pynlike & vreugdevolle ervarings waardeur ons gaan, die aanbidding van vals gode, verlies in sy duisend gedaantes. Maar ook die erotiese, iets waar jy nogal ‘n raakpunt het met Cussons vir wie die liggaam juis sintuig word vir geloof eerder as ‘n struikelblok.

 

Ek dink dat ek in ‘n unieke posisie geplaas is om die menslike kondisie te verken. Maar dis ook ‘n pynlike posisie. Ek word ook in die proses verwond, maar hoop om die ander se pyn te help verlig of draagbaar te maak. Dit doen ek o.a. deur te dig. Ek sien en ervaar naas verlies ook vreugde. Dis alles openinge vir gedigte. Die erotiese speel, dink ek, ‘n belangrike rol in my digwerk. Doodgewoon omdat dit deel van die menslike bestaan is. Dit kan ook pyn bring, maar meestal is dit borrelende geluk.

Ek voel gevly dat jy opmerk dat ek ‘n raakpunt met Cussons het. Ek sou dit nie wou ontken nie. Die liggaam is inderdaad ‘n sintuig vir geloof. Ons moet liggaamlik kan glo en leef.

 

‘n Vers soos ‘lewe en dood’ wat in gesprek tree met Dumas se ‘measuring your own grave’ – ‘n effe losser omgang met die villanelle – berei mens voor op die verse rondom afskeid & dood wat in die slotafdeling voorkom.

 

Marlene Dumas. Measuring your own grave

Marlene Dumas. Measuring your own grave

   

  

 

 

Die vers deursuur die hele bundel. Lewe en dood eggo intieme afwesige. Tussen die pole van ‘lewe en dood’ speel die menslike bestaan af. Met sy vreugdes en pyn, eensaamheid en volheid, verlange en nabyheid, erotiese vlugte en laaste stuiptrekkings. Alles stuur af op afskeid en dood. Uiteindelik haal die dood ons almal in.

 

Van ‘Die vyfde evangelis’, die vers oor Bach, waar musiek sélf goddelike inspirasie is, tot by meer kontemporêre inspirasie soos Jim Morrison, Sting, Katie Melua. Wat beteken musiek vir jou?

 

Ek kan nie sonder musiek leef nie. Dis my lewensasem. Die klanke, die ritme, die lirieke, die atmosfeer, die ontroering vind weerklank in my gedigte. En laat ek dit maar bely: Wolfgang Amadeus Mozart maak die nag vir my lig. Sonder hom kan ek my nie my lewe voorstel nie. 

 

Cas, as jy moet kies, watter gedig sal jy kies om jou bundel aan nuwe lesers bekend te stel?

 

as suster dood kom

 

sal ek nog in drome verdwaal

en nagmerries saans opsaal

sal ek sterre ryp

aan ‘n donker prieel sien tros

 

sal ek die odusseia op reis na die ver land

lees en wag vir amandelbome om te bloei

sal ek steeds kan kyk hoe digters metafore

skommel en in ‘n kuil vol ritme strooi

 

sal ek god in die aandwind hoor ritsel

en die afdruk van sy liefde sien

sal ek my nog verbly oor ‘n meisie

se jong borste wat trots soos pruime swel

 

sal ek jou steeds kan liefhê, liefhê

sal ek jou met my soene die nag in kan lei

en sal jy, my lief, nog my dieper dors kan les

as suster dood kom?

 

Johann, baie dankie vir die gesprek en jou dieptastende en uitdagende vrae wat my tot nadenke en weerwoorde kon lei. Ek voel ek is in die hande van ‘n meester. 

 

 

Ander Bundels deur Cas Vos

 

1999. Vuurtong. Clubview: Benedic Boeke.

2001. Gode van papier. Pretoria: Protea Boekhuis.

2003. Enkeldiep. Pretoria: Protea Boekhuis.

2007. Die afdruk van ons hande. Pretoria: Protea Boekhuis.