Posts Tagged ‘Jack Parow’

Pieter Odendaal. ’n Rap vir die ouer garde – repliek op Heilna du Plooy

Sunday, May 29th, 2011

Professor Du Plooy se gebruik van Mahler se vyfde simfonie as ’n paradigmatiese voorbeeld van die tipe denke wat sy voorstaan spreek boekdele oor haar verstaan van die teenswoordige oomblik. Sy beweer dat daar ’n gebrek is “aan die vermoë om ‘volgehoue’ en gedrae te dink, te wag vir die regte laaste noot, vir die uitgestelde maar absolute voltooiing”. Dit wil voorkom of sy meen dat regte-egte kennisverkryging ’n soort ontginningsproses is waardeur jy stelselmatig dieper delf om sodoende nader aan een of ander geborge diamant-waarheid te beweeg. Hierdie siening van denke as ’n soort skagmynekspedisie is ’n redelik Romantiese een en verraai ook ’n teleologiese verstaan van denke: Ons dink om ’n bestemming te bereik, om ’n absolute waarheid raak te boor.

Hierdie soort epistemologie is nie noodwendig uitgedien nie, maar ek dink tog dat dit broodnodig is om weer te gaan dink oor die bevoorregting van hierdie soort denke bo ’n soort epistemologie van hyperlinking wat danksy die inligtingsontploffing naby die einde van die vorige eeu ontstaan het.

Vir dié van ons wat nooit skooltake aangepak het sonder om die internet te raadpleeg nie, is kennisverkryging van kleins af eerder iets wat soos ’n oopgroefmyn as ’n skagmyn funksioneer: Ons dek ’n veel wyer oppervlak en glo dat jy hierdeur net so baie diamante kan opspoor. Ons sien onsself eerder as wêreldwye handelaars in kennis as outonomiese kontemplatiewe individue. Ons is losgemaak uit ons gelokaliseerde kennis en ons bevind ons in ’n netwerk van veelvoudige kennisse. Ons is ingebed in die wêreldwye eb en vloei van inligting.

Ek is dit eens met Du Plooy dat jongmense die vermoë verloor het om “soos Mahler te dink”, maar dit beteken nie dat ons glad nie meer kan dink nie. Ons omgang met idees verskil bloot radikaal van mense wat ouer is as die internet en hierdie verskil is duidelik sigbaar in kulturele verskynsels soos rap en culture jamming (alhoewel culture jamming, of sogenaamde “guerilla semiotics” reeds voor die kommersialisering van die internet ontstaan het) en internetgebruike soos hyperlinking en gerekenaariseerde kennisenjins soos WolframAlpha. Alhoewel sommige mense dalk dink dat hyperlinking niks meer as ’n blote tydverdryf is nie, dink ek dat dit veel eerder ’n vorm van verkennende denke is. Om te swerf van een webwerf na ’n ander is om ’n kopreis te onderneem. Toegegee, dit kan baie maklik in ’n soort virtuele kontikitoer ontaard, maar hierdie reise het ook dikwels verbysterende ontdekkings tot gevolg.

Ek stem ook nie saam met Du Plooy se siening dat mense deesdae nie toelaat “dat die lewe deur allerlei diepliggende betekenisse (soos dié wat in gedigte versteek word) verswaar of gekompliseer word nie.” Hierdie ingesteldheid teenoor “dieperliggende betekenisse” is glo simptomaties van ons globale verbruikerskultuur en die gepaardgaande gejaag na wind. Ek dink egter dat baie jongmense baie goed verstaan hoe die verbruikerskultuur besig is om met ons koppe te smokkel. Ons verstaan hoe die taal van bemarking werk. Ons is van kleins af al blootgestel aan die feit dat “tekens” ingespan word om hul referent(e) aantrekliker of anders te laat voorkom as wat dit regtig is.

Ek onthou hoe ek as tiener dikwels tydens middagete voor die televisie gesit en infomercials kyk het – nie omdat ek my kop met gemors wou volstop nie, maar omdat dit my gefassineer het hoe mense produkte bemark. Deur infomercials te kyk, leer jy ook hoe die retorika funksioneer; jy sien hoe taal gebruik word om onderliggende begeertes te beïnvloed, om die werklikheid in neon-kleure oor te verf. Ons is goed opgevoed in die kuns van oorreding en om hierdie rede is ons van kindsdag af hiperbewus van taal as ’n kragtige tekensisteem wat voortdurend besig is om ons sensoriese ervaring te beïnvloed.

Ons verstaan baie goed hoe tekens gebruik word om versteekte intensies te insinueer sonder om dit te sê. Showing, not telling, soos die skryfskool-truïsme lui. Beteken dit dan dat advertensies en poësie dieselfde soort handelinge met tekens verrig? Sowel die een as die ander gebruik tog signifiers om sogenaamde “dieper betekenisse” oor te dra, betekenisse wat nie op die oppervlak teenwoordig is nie. Sowel billboards as gedigte probeer om die werklikheid te beskryf/oop te skryf/ toe te skryf. Vir maatskappye gaan dit egter oor winste, terwyl digters (so hoop ek) probeer om dit wat om hulle aangaan, verbysterend te vertaal. Omdat ons van kleins af bewus is van die tekenspel wat die media met ons speel, het ons ook ’n voorliefde vir taalverskynsels soos woordspelings, klankeffekte, herhaling en akrobatiese woordtoertjies.

Hierdie ingesteldheid teenoor taal verklaar deels waarom baie Afrikaanse jongmense mal is oor iemand soos Jack Parow. Parow is duidelik besig om met signifiers te juggle. Sy goëlery sluit nie net verbale verwysings na kultuurobjekte in nie, maar betrek ook visuele tekens soos klere en musiekvideo’s om die huidige kulturele klimaat te beskryf en te satiriseer:

Jy’s ou nuus, ek kom met rou beats
Jy lê en wag, ek gaan soek iets
Jy’s ice tea, ek’s witblits
Jy’s lite bier, ek’s spirits
Jy’s die ou met die new fresh look
Ek’s die ou met die Pep Stores broek
Ek watch jou, jy koekeloer oukes
jy forward nog Vernon Koekemoer jokes
Ek’s fantasties, jy’s spasties
Ek vat aan poppies, jy raak aan klein kids
Jy’s Tim Voster, ek’s Chris Edwards
Jy’s innie bosse, ek rol innie vet shit
Jy’s boring soos liedjies ommie kampvuur
my styl slick sneak suutjies soos ’n vampier
jou styl kak sag soos ’n pink marshmallow
meisies skree vir net “one night in parow”

© Jack Parow. Uittreksel uit “Cooler as ekke”.

Ek dink dat Henry Louis Gates Jr. se bespreking van die term “signifyin(g)” ons kan help om verder sin te maak van wat Jack Parow besig is om te doen. In “The Signifyin(g) Monkey” wys Gates hoe African American taalgebruik juis meer ingestel is op die akoestiese signifier en maniere om dit te manipuleer met behulp van die ritme en kadense van taal. Annel Pieterse skryf in ’n onlangse e-pos die volgende oor wat Gates met “signifyin(g)” bedoel:

Hy wys hoe slawe teenstrydige form gebruik het om content te verdoesel, hoe hulle kodes uit[ge]werk [het] om inligting aan mekaar oor te dra, baie soos wat Achille Mbembe wys dat dieselfde tipe ding in African cultural forms gebeur in sy ‘On the Postcolony’.

As voorbeeld van “signifyin(g)” bespreek Gates die woordspeletjie dozens: “Black people play dozens like white people bly scrabble”. Basies kom dozens daarop neer dat twee spelers kyk wie mekaar die lelikste kan slegsê, kan “uithaal”. Ek vermoed dat Jack Parow se “Cooler as ekke” ’n prototipe van ’n Afrikaanse dozens is en dat ons toenemend meer voorbeelde hiervan in Afrikaans gaan sien. Dozens is ’n manier waarop jou identiteit voortdurend gekontesteer word – jy word voortdurend uitgedaag om jouself te herkonseptualiseer. Hierom dink ek dat mense soos Jack Parow belangrike bydraes maak om ’n kultuur te satiriseer en te herverbeel wat ongemaklik probeer nesskop tussen ’n globale verbruikerskultuur en ’n uitgediende, problematiese Afrikanerkultuur. Die Antwoord, Bittereinder en Olinosterfant speel soortgelyke tekenspeletjies in hul musiek. Die punt wat ek probeer maak, is dat ons jongelinge nie onsensitief teenoor gesofistikeerde aanwendings van taal staan nie, maar dat ons met ’n heel ander ingesteldheid na taal kyk as die generasies voor ons. Hierdie kunstenaars is presies die tipe mense waarna Du Plooy op soek is: jongmense wat deur inligting kan “sif en [dit kan] uitsoek en herrangskik sodat daar ook iets nuuts kan kom, al is dit [“]net[”] ’n kreatiewe rekonfigurasie”.

“Alles, ook mense, is wat jy sien, mense hanteer wat hulle sien,” meen Du Plooy. Baie van die jongmense wat ek ken, verstaan egter (ten minste implisiet) hoe rekenaarkode werk, naamlik dat daar een of ander onsigbare logika aan die werk is wat alle rekenaaraktiwiteit fundeer. Hoewel ons almal nie noodwendig die sintaksis van hierdie taal verstaan nie, weet ons steeds dat daar een of ander vorm van gekoördineerde kommunikasie agter die skerm aangaan: Ons is dus nie volslae onbewus van enigiets buiten die skerm nie. In ’n onlangse blog bespreek Daniel Roux rekenaartaal en die moontlike interaksie tussen die logika van rekenaartaal en die logika van sosialisering, ’n strukturalistiese benadering wat help om sin te maak van ’n sosiale fenomeen soos Facebook. Roux blameer ook die akademie vir die gebrek aan gesofistikeerde navorsing oor die manier waarop inligtingsnetwerke besig is om ons sosiale netwerke te beïnvloed en vice versa.

Ek is nie besig om te beweer dat alles goed en wel is nie. Ons lewe in ’n tyd met verskeie psigoses, iets waarvoor ons seker grootliks laat-kapitalisme kan blameer. My punt is net dat ons darem nie hande in die hare hoef te staan terwyl ons die verbrokkeling van kritiese engagement betreur nie. Ons het met die opkoms van die internet ’n tydruimtelike kopskuif betree en ons het pas begin om sin te maak van die maniere waarop hierdie kopskuif besig is om ons konsepsie van onsself en van die wêreld te verander. Wees ons tog genadig, ons probeer sin maak van ’n erg deurmekaar en komplekse wêreld.

#

My dank aan Annel Pieterse en Marius Swart wat gehelp het met die konseptualisering en redigering van my bloginskrywing.

Andries Bezuidenhout. Die storie van drie stede

Monday, December 6th, 2010

ʼn Video vol woorde. Geen beelde. Bittereinder, Tumi Molekane en Jack Parow; oor Pretoria, Johannesburg en Kaapstad. My ouer broer, wat in Brighton van die Europese koue bibber, het dit aangestuur. Dis natuurlik Bernoldus Niemand se “Snor City”, nie Johannes Kerkorrel s’n nie. Maar siende dat Kerkorrel dit gecover het, kan ʼn mens hulle seker die ou foutjie vergewe.

Tumi Molekane

 

Desmond Painter. Oor CD’s en P-woorde

Monday, June 21st, 2010

Ek het oor die naweek twee nuwe CD’s geluister en begin verken. Deur twee P’s: Krzysztof Penderecki en Jack Parow. Twee musikale wêrelde wat min met mekaar te make het, ja, maar dit is nou maar eenmaal hoe ek musiek luister. As die geluide vir my mooi, betekenisvol of uitdagend klink, is ek tevrede en gee ek nie regtig om oor goed soos genres nie.

Die Penderecki CD is ‘n opname van sy werk Utrenja, ‘n tweedelige werk vir koor, soliste en orkes uit 1970 en 1971, wat onlangs by Naxos verskyn het. Naxos bly darem maar ‘n bargain; R69 vir meer as ‘n uur se musiek, en dikwels (dalk toenemend) is dit uitstekende uitvoerings en opnames. Teen hierdie prys is dit vir my moontlik om musiek te koop bloot omdat ek nuuskierig is. As ek nie daarvan hou nie, is die skade darem nie te groot nie. Bietjie duurder as ‘n middagete of ‘n fliek.

As jy die rolprent The Shining gesien het, sal sekere uittreksels uit Utrenja aan jou bekend wees… Penderecki is nogal gewild by regiseurs: Kubrick, Lynch en Scorcese tel onder diegene wat al van sy musiek in hulle rolprente gebruik het. Op die eerste luister af is Utrenja ‘n interessante, by tye aangrypende werk, maar ek is nie seker dit het heeltemal die slaankrag van ‘n tydgenootlike werk vir koor en orkes soos Ligeti se Requiem (ewe gewild by regiseurs) nie. Miskien is dit maar net die piëtisme en oordrewe godsdienstigheid by sommige van die hedendaagse Oos-Europese en Baltiese komponiste wat my soms ‘n bietjie afsit…

Jack Parow het natuurlik nie ‘n probleem met piëtisme nie… ten minste, dit is die een p-woord wat jy níé op sy CD hoor nie! Ironies genoeg is my gunstelingsnit, na so twee luisters, nie ‘n Afrikaans “nommertjie” nie, maar die Engelse I miss. Elke herinnering uit die 1980s en vroeg-1990s wat hy opnoem in hierdie gesofistikeerd-nostalgiese song kon net sowel uit my eie geheue gekom het! Wonderlik! Oor die algemeen klink die CD vir my na ‘n hoogs professionele, goed afgeronde hip-hop album. Jack Parow is beslis meer as net ‘n grapkas, baby.

Jack Parow

Jack Parow

 

 

Andries Bezuidenhout. Die spanning tussen blow en puff

Friday, May 21st, 2010

Vreemd dat Amy Winehouse my vanoggend by Gershwin uitbring. Ook Leonard Cohen en Jack Parow. Wat ʼn kombinasie!

Ek luister na “Back to black”, titelsnit van haar album met dieselfde naam. Dis ʼn hartseer, sordid, grafiese weergawe van die einde van ʼn verhouding:

He left no time to regret
Kept his dick wet
With his same old safe bet
Me and my head high
And my tears dry
Get on without my guy
You went back to what you knew
So far removed from all that we went through
And I tread a troubled track
My odds are stacked
I’ll go back to black

Dan is daar die deel van die liriek wat my die meeste intrigeer:

I love you much
It’s not enough
You love blow and I love puff
And life is like a pipe
And I’m a tiny penny rolling up the walls inside

“Blow” is natuurlik kokaïen en “puff” is dagga. Nogal ʼn goeie beskrywing vir die verskille tussen twee mense. Die een is vinnig en selfversekerd, die ander is stadig en paranoïes. Heel poëties. Hierdie latere deel van die liriek gee ook die lyn (no pun intended) “Me and my head high” ʼn ander betekenis.

Amy Winehouse se grinterige lirieke staan in teenstelling met die gesofistikeerde soul en Motown-klank van die verwerkings, asook die tegniese kwaliteit van haar sangstem. Maar ek begin dink daar is dalk meer aan haar lirieke as wat ʼn mens op die oppervlak raakluister. Blow en puff klink vir my na ʼn verwysing van ʼn klassieke liriek deur George en Ira Gershwin – gesing deur onder andere Louis Armstrong en Ella Fitzgerald, asook Fred Astaire en Ginger Rogers – genaamd “Let’s call the whole thing off”:

Things have come to a pretty pass
Our romance is growing flat,
For you like this and the other
While I go for this and that,
Goodness knows what the end will be
Oh I don’t know where I’m at
It looks as if we two will never be one
Something must be done

En dan die klassieke lyne wat almal ken:

You like potato and I like potahto,
You like tomato and I like tomahto
Potato, potahto, Tomato, tomahto,
Let’s call the whole thing off

Indien Amy Winehouse die verwysing na die Gershwin classic bedoel (en haar musikale kennis van die genre maak dat dit nie onwaarskynlik is nie), is haar liriek nogal ʼn siniese stukkie kommentaar op die oorspronklike, met Britse slang wat die opstuur van plaaslike Amerikaanse aksente in die oorspronklike vervang.

En nou kom my eie vrye assosiasie. Bogenoemde laat my weer aan Leonard Cohen se “Is this what you wanted” dink, van sy album New skin for the old ceremony:

You were the promise at dawn,
I was the morning after.
You were Jesus Christ my Lord,
I was the money lender.
You were the sensitive woman,
I was the very reverend Freud.
You were the manual orgasm,
I was the dirty little boy.

You were Marlon Brando,
I was Steve McQueen.
You were K.Y. Jelly,
I was Vaseline.
You were the father of modern medicine,
I was Mr. Clean.
You where the whore and the beast of Babylon,
I was Rin Tin Tin.

And is this what you wanted
to live in a house that is haunted
by the ghost of you and me?

Die teenstellings tog. Ek skat opposites attract, maar dalk net aan die begin. Laastens, dalk maar net om by die sordid dele van Amy Winehouse aan te sluit (en seker om iets Afrikaans in die mix te gooi), niemand anders as Jack Parow nie. En as iemand “rap” weer “kletsrym” noem, ry ek met ʼn gepimpde bling-bling blooming Hummer oor die mens.

Ek drink Klipdrif, jy drink Peroni
Jy’t vriende in Swede, ek het vriende in Benoni
Ek koop al my klere by die local Pep Stores save more
Jy koop al jou fokken klere by a store
Jy’s too cool for school, ek’s mos kief
Ek’s grasshopper, jy’s Lacoste sportief
Jy lat die koek flop, ek lat die huis rys…

Lees die hele liriek maar self hier – op eie risiko vir sensitiewe lesers. Ja wel, Parow se liriek gaan seker nie oor die einde van ʼn verhouding nie, maar die man weet hoe om te rym. Dis waar vanoggend se vrye assosiasie my uitgebring het. Van blow en puff, na tomato en tomahto, na KY Jelly en Vaseline, tot by Klipdrift en Peroni.

Jack Parow op watkykjy.co.za

Annie Klopper. Blum het iets anders bedoel, maar kom ons braai

Tuesday, February 23rd, 2010

Jack Parow (© Annie Klopper)

Die meeste van my vriende woon in Kaapstad. Hulle gaan kyk flieks by die Labia, eet die early bird special by Arnold’s in Kloofstraat, koop klere by beide YDE en muwwerige tweedehandse winkels, versamel ou langspeelplate met belaglike omslae, sit op balkonne, sing saam met Die Antwoord en Jack Parow, stage dive by music festivals, rook Marlboro Lights, suig aan die tuite van Jägermeister-bottels, gaan na Fokofpolisiekarkonserte, dans op die musiek van The Wedding DJ’s by Assembly, ry in bome vas, surf oor naweke, draf op die promenade, gee R2 vir car guards, kry verkeersboetes, benodig nuwe ruitveërs, kyk e-posse op BlackBerry’s, blog oor straatkuns, eet rocket in slaai, blaai soms verveeld deur die Vice-tydskrif, kyk oor en oor (en oor) The Big Lebowski, verloor gereeld hulle selfone en is bereid om te betaal vir geel-en-pers sneakers. Die meeste van my vriende lees nie gedigte nie.

Maar ék lees gedigte en dit het gelukkig nog nooit tussen my en my vriende gekom nie. 

Ek meen nie dat geel-en-pers sneakers en ‘n voorliefde vir Jack Parow jou outomaties in ‘n ander kamp as die deursnee-digliefhebber plaas nie. Allesbehalwe. Maar as dit so is dat die mens ’n oerbehoefte het aan vers en klank, vervul die meerderheid mense wat ek ken genoemde behoefte met musiek. En hoekom dan nou nie?

Daar is natuurlik tye wat ek wens meer van my vriende lees gedigte. Soos terwyl ek op ’n stoep by ’n deurnagpartytjie sit en ’n gedeelte van Peter Blum (1925 – 1990) se “Drosterhonde bo Oranjesig” in my agterkop resoneer:

Vannag klink hulle deurmekaar geblaf
wild-vreesaanjaend van die hoër hang
se digte dennebosse af

[…]

Wat kan hul tog makeer? Is hulle dol?

(© Peter Blum)

En selfs al weet ek Blum het iets heel anders bedoel, skryf ek tog:

 ’n deurnagbraai in Oranjezicht

met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig

ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode –
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode

of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig

(© Annie Klopper)

 

Andries Bezuidenhout. Maar is dit digkuns?

Thursday, May 28th, 2009

Ek hoor daar is storms in die Kaap. Dis nie Helen Zille of die MK Vets (ek het nie geweet MK het hulle mense Onderstepoort toe gestuur nie) wat die golwe veroorsaak nie, dis Max Normal se Afrikaanse projek – Die Antwoord. Nou het die vraag ontstaan of Jack Parow (ook bekend as Max Normal, ook bekend as Waddy Jones) en Yo-landi Visser se lirieke in die Groot Verseboek opgeneem moet word. In ʼn onderhoud met Jan Taljaard raak Jack Parow die volgende kwyt: “Digkuns schmugkins.”

Gaan luister gerus na die musiek – ʼn mens kan dit verniet aflaai. Maar doen dit asseblief op eie risiko en moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie.