Posts Tagged ‘Jacobus van der Riet gedigte’

Jacobus van der Riet. Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

Monday, May 8th, 2017

Gedigte oor Keltiese Heiliges, ter gedagtenis aan wyle Karel Schoeman

  • deur Jacobus van der Riet

 

Die boek Uit die Iers, dekades gelede aan my geskenk deur my vriend Faan Herholdt, waarin Karel Schoeman vir ons Afrikaanse vertalings van Oud-Ierse gedigte gee, het ‘n groot indruk op my gemaak en my op ‘n speurtog geplaas na die Keltiese Heiliges van weleer. Toe Schoeman toevallig na my verwys word vir ‘n biblioteeknavraag oor sy jongste boek, het ek ‘n gedig oor die Heilige Kevin aan hom gestuur en het ‘n klein korrespondensie ontstaan waarin hy my van nog vele ander bronne oor die Keltiese Christendom vertel het. Ek het toe inderdaad verder gelees, o.a. ook Esther de Waal se wonderbare The Celtic Way of Prayer. Daarom wil ek graag drie gedigte oor die vroeë Britse Heiliges voorlê, ter gedagtenis. Terloops, die Christen-sendelinge na Noord-Europa was meestal uit die Britse Eilande afkomstig.

 

 

 

Die Heilige Brandaen die Seevaarder (ong. 486-575 n.C.)

Feesdag 16 Mei

 

O Vader, altoos voor my uit in die wind en weer,

op die kruin van die golf en ook diep in die trog

op hierdie dolende Eden-soekende pelgrimstog

as my siel soos ‘n kormorant oor die water skeer.

 

O Seun wat lanterns hang aan die hemelgewelf,

wat Abraham uit Ur en my uit mistige Eire roep,

beide stuurman en roer van my haastige sloep,

die Poolster wat rig en ook die Salige Eiland self.

 

O Gees alheilig, Gees alom, wat waai waar U wil,

hetsy as rukwind of bries, hetsy tifoon of sefier,

God se vinger wat pluk aan ‘n snaar van die lier

wat die hart se storms, die gemoed se siklone stil.

 

O Heilige Drie, kom breek soos sproei oor my boeg,

oorspoel my dek waar my kiel deur die deining ploeg.

 

***

 

Die H. Dawid van Wallis (ong.500-589 n.C.)

Feesdag 1 Maart

 

Dank sy God vir die mollige uier en sluike speen,

vir die melkstraal wat skor in die houtemmer gor;

mag U wat immer die koei tot milddadigheid por,

Seun van Maria, die karring en botterskop seën.

 

Dank sy God vir ‘n weiveld waar lammers baljaar,

vir ‘n ram en ‘n trop swartkopooie, juis vir hul wol;

mag U, o Heiland, gee dat ons spinwiel egalig tol,

vir mantels en musse as ons om kaggels vergaar.

 

Dank sy God vir ‘n merrie en hings, ‘n teef en reun,

die sog met haar tepels en telge en ook vir die beer;

mag U ons omgeef, alle onheil en pes van ons weer,

o heilige, frisse Maagd se allerlieflike, minsame Seun.

 

In dier eenvoudige voege leer jy, Dawid, jou kudde bid,

jy wat die eerste sooie in hierdie druïdiese draakland spit.

 

***

 

Die Heilige Bonifatius van Mainz (671-754 n.C.)

Feesdag 5 Junie

 

Ek sou kon wens, Bonifaas, om ‘n boom te wees,

stram van regop stam en skurf van bas en knoes,

met kronkeltak en twyg wat wieg en kraak as hees

die wind weer naglank ween en ek vir weerlig koes.

 

Ek sou skuiling bied in holte of stokkiesnes of mik

aan al wat skarrel, hop, fladder, kruip of sedig sit,

al wat snater, koer, tok-tok pik, fluit of kweel of kik,

vredig in frisse groen, voor die koms van winterwit.

 

Dis dié dat ek deins voor jou byl wat in Thor se Eik

met elke kap al dieper keep terwyl die Hesse-volk

met vloek en skrik na die spattende spaanders kyk.

 

‘n Bliksemstraal splyt die hout om te val in ‘n kruis.

Weg die bloed van mens en dier, weg die offerdolk,

maar balke nou waar soos loof ‘n koor se note ruis.

 

 

© Jacobus van der Riet / 2017

Jacobus van der Riet. Op die vooraand van Corpus Christi, 16 Junie 1990

Monday, June 16th, 2014

Op die vooraand van Corpus Christi, 16 Junie 1990

Hector Pieterson word weer gedra deur die strate,
van lamppaal na lamppaal in die arms van Mbuyisa.

Hoor hoe roep die plakkate: Remember June 16.


Hector Pieterson lê kop agteroor, so swaar gewond,
sy oog gesluier, regterhand geknak oor sy maag

die bloed om sy mond gestol deur die foto.


Mbuyisa se mond is van inspanning oopgesper
en van afgryse; hy dra Hector op die hande,

dra hom ver, tot in derduisende harte.


Hector Pieterson is deur drie sarsies verf
gestensil teen ‘n muur, swart, groen en geel:

die skoolkind sterf in die arms van Mbuyisa.


Hector Pieterson word weer gedra deur die strate,
sy lyfie vir ewig in die arms van Mbuyisa Makhubu.



©
Jacobus van der Riet / 2014



Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Wednesday, March 12th, 2014

Die Heilige Berouvolle Rower (oorl. 33 n.C.)

 

Was dit die spykers wat deur pols en enkels dring

of jou makker se geworstel en wrewel en gevloek

wat skielik die skrander en skrynende insig bring,

of die bloedbevlekte blaaie van jou lewensboek?

 

Was dit die oplig vanaf die aarde wat perspektief

verleen, die gestrekte arms van ‘n swygsame man,

of die géselspore en doringkrans, ootmoedige dief,

wat die hardnekkige drang na selfgelding wan?

 

Wat noop jou om na die Een langs jou uit te reik

wanneer die dood steeds dower in jou ore druis,

sodat jy roep: “Dink aan my, Here, in u koninkryk”?

 

Heilige rower, wat ternouernood die saligheid steel,

bid dat ook ek wat hang aan ‘n hartstog se kruis

saam met die leeu en lam voor sy voete mag speel.

 

*

 

Die Heilige Paulus van Thebe (oorl. 341 n.C.)

– Feesdag 15 Januarie

 

Voor die vervolgers kom, laat Paulus alles vaar,

vlug dae lank al hoe dieper in die klipperwoestyn,

‘n stoffie wat oor die vlaktes dwarrel tot alles draai

en hy, Goddank, waar die rante purper, rosig skyn,

‘n toevlug vind by ‘n palm, grot en kabbelende aar.

 

Daar waar dit dadels drup en ‘n voorsienige kraai

elke dag sy rantsoen van ‘n halwe brood bring,

word sy hart ‘n ligtende spelonk, ‘n glinsterfontein,

en hy ‘n rysige, rankende stam wat dankliedere sing,

wanneer daar saans ‘n bries deur sy wit hare waai.

 

Maar as die sterre soos maagde dans in hul kring

en die sekelmaan ‘n swart hemel ploeg met sy skaar,

is dit hy wat kruis en dwars ‘n kleed van palmblaar

vleg tot die Daeraad alle duister gedagtes verdring.

 

© Jacobus van der Riet / 2014 



Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Wednesday, March 5th, 2014

Die Heilige Evangelis Lukas

– Feesdag 18 Oktober

 

Hooggeagte Lukas, oor jou besadigde, gedrae styl

kan ek kwalik sonder ‘n omhaal van woorde skryf.

Verdra my, verleen my verlof om sonder verwyl

my grenslose verwondering op die spits te dryf.

 

Nooit verraai jy enige verbasing, enige ontsteltenis,

nooit spreek jy ‘n oordeel of ‘n voor- of afkeur uit,

maar sin ná sin bly jy immer die selfbeheersde stilis

selfs as ‘n skare rumoer of matrose dreig om te muit.

 

Noukeurig, lakonies, klinies teken jy die gegewens aan,

oor ‘n tronkbewaarder, ‘n waarsegster of silwersmid,

oor die hoofman oor honderd, die towenaar se waan

of ‘n seun wat in slaap versonke op ‘n vensterbank sit.

 

O Lukas, hoe treffend die litotes, die onderbeklemtoning,

waardeur die gebeure des te meer uit die boekrolle spring.

 

 

*

 

Die Heilige Biskop en Martelaar Blaïsios (oorl. ong. 316 n.C.)

– Feesdag 11 Februarie

 

Die takbok se ore roer soos blare in ‘n bries

waar hy wei in die woud. Hy lig sy kop en luister,

hef ‘n poot tentatief op, skuif ‘n kousel in sy kies,

en stryk aan na waar ‘n ligkol wink in die duister.

 

In ‘n boomholte knip ‘n uil sy amber oë en kyk.

Hy klouter uit, sprei sy gevlekte vlerke en sweef

geruisloos na ‘n stomp voor die laaste sonlig wyk.

Ook die vos en beer se aantog kom stadig op dreef.

 

Een na die ander kom hulle te voorskyn uit die bos,

die muishond en die mol, die kewer, wolf en akkedis,

selfs die wildevark wat effens teësinnig sy truffels los

– bloot vaagweg begryp hulle wat hul beweegredes is.

 

Nou sit die diere grootogig voor die grot in ‘n kring

terwyl Blaïsios daarbinne innig die aandgebed sing.

 

© Jacobus van der Riet / 2014 



Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Friday, February 28th, 2014

Die Heilige Nuwemartelaar Johannes van Thasos,

die Kleremaker (oorl. 1652)

Feesdag 20 Desember

 

Jy ken die prys van linne, damas en bombasyn,

jou vingers voel die verskil tussen moeslien en sis,

jy kan fluweel na waarde skat en ook pels en satyn,

dog onervare in die kuns van kibbel, begin jy twis,

 

jaag ‘n Joodse handelaar behoorlik die harnas in

juis toe die bilal met lang sillabes uit die minaret

‘n klankkokon oor Konstantinopel se koepels spin,

die vromes roep om neer te val, te buig in gebed.

 

Nou staan jy voor die Visier, van laster aangekla,

as sou jy kwansuis als wat vir ‘n Turk heilig is, haat.

Wat sal jy doen as hy van jou die Kruisverloëning vra

in ruil vir juwele en kussings van kalmink en brokaat?  

 

Maar jy kan onderskei, Johannes, tussen katoen en sy,

voel hoe jou siel alreeds soos ‘n vlinder sy vlerke sprei. 

 

 

*

 

Die Heilige Aleksander van Svir (1488-1533)

– Feesdag 30 Augustus

 

‘n Kersiebloeisel, ‘n sneeuvlok in die vlees,

loop jou hart vol soos ‘n oorvloedige meer

met die genade van die inwonende Gees,

Hy tot Wie jy jou telkens ootmoedig bekeer.

 

Kyk, skitterend wit soos ‘n blink vlaag wind

oor die water, verskyn hulle in heerlike lig,

die Drie wat een in Wese is en eensgesind,

die God op Wie jy jou hart reeds sestig jaar rig.

 

Hul woorde waai aan teen jou oor se drom:

soos fyn kapok wat aanpak op ‘n dennebol:

hier moet ‘n kalkwit kerk en klipklooster kom.

 

Nou rus jy in jou kis, volmaak gepreserveer,

Heilige Aleksander, in die ewige lente gestol,

ingelê in die genade van die Drie-enige Heer.

 

© Jacobus van der Riet / 2014 



Jacobus van der Riet. Twee gedigte

Tuesday, February 25th, 2014

Die Heilige Lukas van Simferopol,

die geneesheer (1877-1961)

– Feesdag 11 Junie

 

Duisende duiwe vleg kranse van dons en veer

waar hulle sirkel bo en om ‘n vasberade stoet,

al langs die volgepakte strate van Simferopol

waar die somber note van die Trisagion rol

oor die hoof van ‘n komissaris wat wou verhoed

dat pasiënt en gelowige ‘n biskop vir oulaas eer.

 

Dan in ‘n chirurg se jurk, dan in ampsgewaad                                     

moes Vladika Lukas wonde laaf en sepsis keer

van lid- en ledemaat, nou met ‘n klamp of lanset,

nou met olie, bieg en homilie, selfs die toerniket

van die tug as priesters hulle met sonde besmeer,

of net die balsem van ‘n sagte oor en gryse raad.

 

Nog vlug skares siekes en beseerdes na sy graf,

oortuig dat God deur hom steeds genesing verskaf.

 

*

 

Die Heilige Nuwemartelaar Philoumenos

van Jakob se put (1913-1979)

 – Feesdag 29 November

 

O salige put waar God, eens moeg van die reis,

sit en om water vra, jy het nou ‘n kerker en kapel,

jou blikemmer klingel wanneer die monnik dit hys,

maar jy kan jou troue opsigters op een vinger tel.

 

Op straat word hy beledig, geskel en gespoeg,

maar hy was hom, kry lafenis, kwiksilwer koel,

sluk genoeg, sonder om te verwens of te wroeg

tot hy weer die blye fontein in sy binneste voel. 

 

Min weet die Sionis jy het vir die Heer alles feil,

jy het al lankal, Philoumenos, aan jouself gesterf,

wanneer hy kom om jou seënvingers met ‘n byl

af te kap, ‘n bloedige kruis in jou voorkop te kerf.

 

Laat sak my, gekraakte kruik, wanneer ek bedroë kom,

katrol my weer op, tot oorlopens toe vol, van Hóm. 

 

© Jacobus van der Riet / 2014