Posts Tagged ‘Jacobus van der Riet’

Jacobus van der Riet. Die H. Abba Josef (4de eeu n.C.)

Thursday, July 7th, 2016

Die H. Abba Josef (4de eeu n.C.)

 

Kompleet soos ‘n vaal en kopergeel kokerboom

tussen die kattekruid, kankerbos en kanniedood

hom kranig teen ‘n klipkop by Kamieskroon strek

en verruk met tak en blaar na die uitspansel reik,

 

tas jou sinne wyd na die kleed, die heilsame soom,

van Hóm wat wandel wanneer die aandwind stoot.

Wanneer die Diereriem statig deur die nagruim trek,

waak jy ademloos, totdat die drake weswaarts wyk.

 

Kyk, Hy is liefde en lig, ‘n onvoorsienbare Meteoriet

wat skielik silwerstralend deur die siel se sfere skiet.

Hy bring ‘n konflagrasie, ja ‘n allesverterende vlam.

Hy skroei die Skerpioen, die Leeu en Krap en Ram.

Waar jy onverskrokke bid, tot in die onmeetlike tuur,

word jy volkome, tot in jou verste vingerpunte, vuur.

 

(c) Jacobus van der Riet / Julie 2016

 

Jacobus van der Riet. Twee gedigte vir Palmsondag

Sunday, March 29th, 2015

Die Heilige Profeet Dawid,

die Psalmdigter (ong. 1040-970 v.C.)

 

Waar woon wysies wat niemand meer neurie nie,

en waar melodieë voor iemand hul speel op ‘n lier?

Waar skuil die woorde voor versugting of melankolie

hul met veer en ink laat blink op perkament of papier?

 

Op watter noot en snaar moet die musiekleier bid?

Hoe klink tog die “Die Duif van die ver Terebinte”?

– ek sien hom teen skemer hoog op sy takkie sit

omgeef van die laaste son se goud en rosige tinte.

 

O Dawid wat sillabes soos ronde rivierklippies tel

en alef, gimel en dalet soos troepe in slagorde skaar,

jou tong is mos sekerlik ‘n sing-singertjie, ‘n slingervel,

 

waarmee jy op maat van “Die Hert van die Dageraad”

trefseker profeteer hoe leeus en honde onder mekaar

‘n gesalfde se klere verdeel, die lot werp oor ‘n gewaad.

 

*

 

Palmsondag

 

Klaptong klop die donkie se hoewe op die kei

waar die Gesalfde stamp-stamp dwars op sy rug

in deur die goue sandsteenpoort van Jerusalem ry.

 

Die klippe basuin dit geluidloos in klippetaal uit,

al pruil die Fariseërs weer stroef afkerig en stug;

ook kinders en eenvoudiges sing oproerig en luid:

 

“Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Heer,

wat sy kleed in wyn, sy gewaad in druiwebloed was,

wat duiweverkopers en wisselaars uit die tempel weer.”

 

‘n Esel staan in die pad, en bepeins weer die dag:

hoe onverwags sag, hoe onbeskryflik lig tog die las,

hoe onvergeetlik daardie geseënde, Godsalige vrag.

 

Streel ek sy kakebeen en ore, gewaar ek wolkies stof

en onmiskenbaar, die droesemdonker kruis oor sy skof.

 

(c) Jacobus van der Riet / Februarie 2015

 

Resensie: Die onsienlike son (Jacobus van der Riet)

Monday, September 24th, 2012

Die ongeloof-like wonderwêreld van die geloof: “Die onsienlike son” – Jacobus van der Riet (Protea Boekhuis, 2012: ISBN: 9781869197513; Sagteband, R160.00, 104 pp.)

Resensie deur Tom Gouws

Omslag

Omslag

In die Brief aan die Hebreërs word daar van Moses hierdie merkwaardige woorde gesê: “hy het volgehou soos een wat die Onsienlike sien”. Hierdie Onsienlike, Yahwe, word deurgaans in die Skrifte gemetaforiseer as Son, byvoorbeeld deur die profeet Maleági as die “Son van Geregtigheid”; die kinders van Korag sê oor Hom: “die HERE God is ‘n son en skild”; en later skryf die apostel Paulus oor Hom dat Hy “onsienlik” is, en “‘n ontoeganklike lig bewoon”. Van God se Seun, Yashua, skryf Paulus eweneens in die sendbrief aan die Kolossense: “Hy is die Beeld van die onsienlike God”. Op die berg van verheerliking was Jesus se aangesig blink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

Maar ook “die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son”, leer ons uit die krygsgedig van die profetes Debóra, en later verklaar Jesus:”die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader”  hier op aarde.

Binne hierdie geloofsraam bied die debuutdigter Jacobus van der Riet sy eerste worp gedigte getiteld: Die Onsienlike Son.

Vader Jacobus van der Rietis een van net twee Afrikaanssprekende priesters in die Oos-Ortodokse Kerk. In 1054 het die Ortodoksie van die Rooms-Katolisisme geskeur. Dis ‘n geloofsgroepering wat groot klem lê op die gemeenskap met die heiliges, die wat nog lewe, ook dié wat reeds gesterf het (maar dikwels op mistieke wyse steeds betrokke is by die ondermaanse). Verstaanbaar dan dat die digter se leef- en denkwêreld uiting gevind het in ‘n versameling hagiografiese gedigte. ‘n Mens sou gepas Psalm 16:3 as motto aan die bundel kon gee  – “Maar aangaande die heiliges wat op die aarde is, sê ek: Hulle is die heerlikes in wie al my behae is.”

Die digbundel is uitsonderlik mooi uitgegee deur Protea Boekhuis, op duursame glanspapier, en met pragtige volkleurafdrukke vandie ikonograaf Julia Bridget Hayes.(Sien haar werk by http://www.ikonographics.net/julias-blog.html.) Die aanwesigheid van die ikone skep ‘n serene atmosfeer wat, getrou aan die kuns van die hagiografie, ‘n bepaalde toonaard vir die gedigte dikteer.Die ingesteldheid van die hagiograaf is durende verwondering, ook hier, in gedig na gedig. (Dit word ikonies mooi vasgevang in twee titels, waar die duratief dit aandui: ‘Die Heilige Biskop en Martelaar Ignatius van Antiochië, die Goddraende’, en ‘Die Heilige Grootmartelaar Dimitrios die Mirrestromende van Thessalonika’. En let op hoe knap word dit ingeweef in die eerste twee versreëls op p. 75: “Ondervoets kraak nog die droë tak en die droë twyg. / Waar sy byl die hout kloof, ontsnap steeds ‘n sug.”)

Gekoppelmet die feit dat Van der Riet ál ses-en-sestig gedigte in sonnetvorm skryf, gee aan die bundel ‘n gepaste ikonisiteit, maar helaas ook dodelike eenselwigheid. Soos die Ortodokse geloof, skep die poësie ‘n geheelindruk van ritualistiese patroonmatigheid en godsdienstige formalisering.

Tog, gode sy dank, laat die poësie haar nooit inbind binne godsdienstige of ideologiese borstrokke nie, al waak Van der Riet getrou oor sy woordgemeente. Sienderoë glip daar ‘n speelsheid, ‘n onverwagte nattigheidjie, ‘n onbedoelde modderigheid wat getuig van gewone menswees. Hiertoe help die uitvoerige biografiese notas oor Bybelse profete, woestynvaders, en ander minderbekende heiliges agterin die digbundel ‘n bietjie. Dit help om die té soet wierookreuk van mensverheerliking te temper, enna egte karoobossie te laat ruik, om ‘n mooi beeld van Johannes de Villiers in ‘n artikel oor die digter te leen. Die aantekeninge agter, hoofsaaklik verkry uit die Synaxarion, ofte wel Die Lewe van die Heiliges, help ook telkens om die gedigkontekste meer verstaanbaar te maak. Daarsonder sou van die gedigte op die oog af lukrake jukstaposisies geword het vir lesers wat nie so vertroud is met die lewensgeskiedenisse van die heiliges nie.

Anders as vir die meeste ander lesers miskien pla die goedgelowigheid van die digterlike spreker my vreemd genoeg nie. Dis onteenseglik so dat hý glo in die wonderwerkinge van die geloof, selfs al neem van die legendes dalk mitiese proporsies aan. ‘n Mens stuit dikwels (veral in die aantekeninge) teen die ongeloof-like wonderwêreld van die geloof, van die wonderdoende relieke, die ekstreme, selfs bisarre gebeure, die rituele verskynings van heilige dwalendes en besoekende wandelendes, die levitasies, en vele meer.Maar duidelik het die digter – soos verskeie ander mense voor hom – “‘n ervaring van die ongeskape lig van God gehad”, soos wat dit op p. 97 genoem word. Hulle het bepaald die Onsienlike Son gesien, soos Saulus op die pad van Damaskus, waaroor hy getuig het voor die koning: “in die middel van die dag op die pad (het ek) ‘n lig uit die hemel gesien, sterker as die glans van die son” (Handelinge 26:13).Daarteen durf  mens nie veel sê nie, behalwe as jy miskien George Claassen is. Al wat ék durf prewel, is: Al was ek nie daar nie, ek weet dit is waar. (In die voorwoord tot Saints Preserve Us! sê Sean Kelly & Rosemary Rogers: “But we haven’t made anything up. So help us, Saint Christina the Astonishing.”)

In ‘n onderhoud op Versindaba wat die digter met Cas Vos gehad het, sê hy: “‘n Mens moet as’t ware eers in kommunie met die heilige tree voor jy oor hom of haar kan skryf.” Sjoe. Dit verklaar miskien in ‘n groot mate die vertederende verering, die ongekontamineerde piëteit wat die bundel kenmerk. In die gedig ‘Die Heilige Profeet Jeremia’ is dit dubbelsinnig goed dat dit nie duidelik is of dit Jeremia of die digterlike ek is wat praat nie: “lê Hy wat jou roep die reëls presies só in jou mond”, en “Dig jou tongof is dit bloot die griffel van die Digter-God?”.

Maar selfs as jy nie glo in, byvoorbeeld, die heilige Serafim van Sarof, en skepties is oor sy vriendskap met bere, wonder of hy werklik in twintig jaar nóóit ‘n enkelte woord gesê het nie, en jou uitspreek teen die praktisiteit dat hy voorwaar duisend dae en nagte op ‘n rots gekniel het, is dít bepaald die vermolmde boomstam waaruit orgideë beur! Weliswaar is dit die stof waaruit poësiegebore word.

Tot nou toe het ons hoofsaaklik na die vooropgestelde tematiek van die digbundel gekyk. Maar hoe vaardig is die digtershand met die versifikasie?

Om ses-en-sestig sonnette te skryf, in elke denkbare en ondenkbare styl onder die sienlike son, is op sigself ‘n prestasie. Van der Riet kry dit met gemengde welslae reg. Bykans al die moontlike vorme van die sonnet is daar, maar hy bied niks meer oorspronkliks en innoverend soos byvoorbeeld Ted Berrigan se The Sonnets nie, iets wat ‘n leser verwag as ‘n digter spesialiseer op ‘n digterlike vorm. Dikwels verloop die gedig na die einde toe – ek vind baie slotkoeplette swak, selfs al is die gedigliggaam goed, byvoorbeeld in ‘Die Heilige Lasarus van die Vierde Dag’, ‘Die Heilige Evangelis en Apostel Johannes die Teoloog’, ‘Die Heilige Dawid van Thessalonika’,’Die Heilige Elisabet, die Nuwe Martelaar’, en verskeie ander. ‘n Uitstekende gedig, soos ‘Die Heilige Eufrosynos die Kok’ word ten slotte deur die swak paarrymende koeplet in die wiele gery. Hierdie gedig stal die digter se vermoë tot metaforisering, beeldvorming en sy hantering van rym goed uit:

Nie vlug van gees, maar eenvoudig soos prei,

kom Eufrosynos tereg, ná seisoene van swerf,

in ‘n kloosterkombuis waar hy skil, opkap en kerf,

waar sy hart begin gloei soos sitroen en gedy.

Vlek hy ‘n vis, sing hy oor die patroon van ‘n graat:

“Eer aan U, o God, U het als met wysheid gemaak.”

Oor elke kleur sing hy, oor elke fatsoen en smaak,

die rooi en rye pitte van die waatlemoen en granaat.

 

Gestroop soos ‘n ui aanvaar hy die spot wat sny

deur die skil, dog in ‘n droom oor die tuin van geluk

sien die ab hoe die kok ‘n tak met die appels pluk,

wat hy by die klokkegeluid vind in die vou van sy py.

 

As siekes daaraan byt en gesond soos na ‘n heilige kyk,

daag by Eufrosynos die besef: Dis weer tyd om te wyk.

 

Alhoewel daar in sommige gedigte soms ‘n geyktheid insluip, en party ryme ruik na dwang of verveling, is daar genoeglike vondste en “kom woorde, glip soos oor ‘n leidam se lip / in ‘n verlossende vloed van homilie en gedig”. Bepaald is die digter nie in alle gevalle “‘n meester van die metafoor… / ‘n vaardige ambagsman van die onopgesmukte similee” nie, is daar bepaald  “deur die murg van genade, nog ingebed in die been” (p. 14) ‘n rasegte digterlike ambagtelikheid te bespeur.

Soms voel die leser die digter kon meer van gegewens gemaak het (p. 49), is ‘n uitgebreide vergelyking nét te dik vir ‘n daalder (p. 29), word die digter verlei deur ‘n té bewustelike alliterasie (p. 43), die uitdaginglose opgestapeling pla soms (“haar Heiland, haar Here en Herder, p. 51), ook die vertrekte toutologieë (bv.”warm trane geween”, p. 84) en ander poëtiese ondiere in versvoege. Die begin- en slotgedig van die bundel is vir my gevoel albei maar effentjies en hopeloos te lig in die py – in so ‘n bundeleenselwigheid behoort bundelkomposisie ‘n belangriker rol te speel. (Veral as daar spesifiek 66 gedigte is, en ‘n mens wil neig om dit te lees as heenwysing na die 66 boeke van die Bybel. Maar dis duidelik nié so gekanoniseer nie, al sou ek dit wou hê, veral om ‘n beter Génesis en Openbaring te verkry.)

In die lig van die religieuse tradisie in die Afrikaanse poësie maak Van der Riet ‘n belangrike, eiesoortige bydrae. Alhoewel daar verskeie digters is wat oor heiliges geskryf het, is dit die mees doelgerigte tematiese toevoeging tot ons literatuurskat nóg. Tog is dit glad nie te vergelyk met die beste van Sheila Cussons se soortgelyke gedigte oor heiliges nie; ook kom dit nie naby aan die ekstatiese hoogtepunt van byvoorbeeld D.J. Opperman se omdigting van Het Heilige Leven van Sinte Kerstine tot ‘Kroniek van Kristien’ nie. Maar dit is goue strate beter as die meeste debuutbundels van ons galery predikantedigters. ‘n Vers soos ‘Die Heilige Maagd Maria, die Moeder van God’ toon Van der Riet se vermoë om ‘n hele stuk evangelie in die klein bestek van die gedig te kan integreer en die kernaspekte van religieuse poësie,verlossing en vereenselwiging, poëties beslag te kan gee. Dit sê veel. Om dit met oorbekende gegewe nuut en aangrypend te kan doen, wys onteenseglik sy digterlike denke.

Die genoeglikheid wat hierdie debuutdigbundel bied, oorskadu by verre sy mankemente.Dit is ‘n geloofbare getuienis van Handelinge 26:13: “Die lig in Hom is sterker as die son.”

 

© Tom Gouws

 

 

Onderhoud met Jacobus van der Riet

Monday, July 30th, 2012

 

 

Die Onsienlike Son en die sigbare heiliges

Onderhoud met Jacobus van der Riet (foto) deur Cas Vos

***

Kobus, van harte geluk met jou uitstekende debuut. Dit is ‘n bundel wat die Afrikaanse poësie verryk en verdiep. Dit is ook pragtig uitgegee deur Protea Boekhuis.

Dankie, Cas, ek is bly as jy van die gedigte hou. En soos jy sê, is baie dank aan Protea verskuldig vir die baie moeite wat hulle gedoen het.

Wat my onmiddellik opval, is die buiteblad. Ek dink nog steeds dat ‘n buiteblad ‘n sleutel tot ‘n bundel is. Waarom het jy juis Gregorius van Nazianzus se afbeelding as buiteblad gekies?

Ek het eers die titel gekies, en daarna die ikoon, omdat die titel uit die gedig oor die Heilige Gregorius kom, en omdat die ikoon vir my besonder mooi is, en ook miskien omdat die kleure daarin die kleure van Paul Roos Gimnasium en die Universiteit van Stellenbosch is, waar ek skoolgegaan en studeer het.

Die titel kom ook uit dié gedig aan Gregorius. Waarom het jy dié bundeltitel gekies? Is daar nie ‘n teenstelling in die titel nie? Die Son word tog gesien. Hoe kan die Son onsienlik wees? Natuurlik kan die ligbron ook verblind. Of het dit ‘n duidelik toespeling op God wat nie alleen die ligbron is nie, maar Self ook Lig genoem word? God is in sy heerlikheid onsienbaar.

Die Kerkvaders praat dikwels van die Drie-sonnige Son, met verwysing na die Drie-eenheid, en dan is daar mos ook die verwysing na die Son van Geregtigheid in die Heilige Skrif. In die Ortodokse teologie word ‘n onderskeid getref tussen die onbegryplike, ontoeganklike wese van God en die energieë van God waardeur Hy Hom betuig (sy genade) en Hy o.a. dan as ongeskape Lig of Heerlikheid ervaar kan word. Hierdie ongeskape Lig is normaalweg onsienlik, maar as ‘n mens se oë deur die einste energie van God aangeraak word, kan dit wel sigbaar raak, soos bv. tydens die Verheerliking op die Berg Tabor. Vir die askeet sou so ‘n ervaring die hoogtepunt der hoogtepunte wees, om begryplike redes.

Heiliges is o.a. in die Rooms-Katolieke en Grieks-Ortodokse tradisies bekend. Is die verklaring tot heilige ‘n kerklike besluit of speel ander faktore ook ‘n rol? Sou jy nie tog ‘n plek aan Augustinus, een van die grootste teoloë van alle tye, wou gee nie?

In die Ortodokse Christelike Tradisie word die proses van kanonisering verstaan as die blote erkenning dat iemand deur God verheerlik is(1 Kor. 12:26) en dat die Kerk hom daarom daarin kan verheug. Die aanduidinge dat iemand verheerlik is, kan verskil van persoon tot persoon, maar dikwels sal dit ook wonderwerke voor en ná die persoon se ontslaping behels.   

Ek kan eintlik net skryf as ek deur ‘n heilige se geskiedenis aangegryp is en ‘n sterk behoefte ervaar om oor hom of haar te skryf. Die Heilige Augustinus is effe omstrede in die Christelike Ooste vanweë sy teologie en teologiese metode, hoewel sy heilige lewe erken word. Tot dusver het ek nog nie die behoefte ervaar om oor hom te skryf nie, maar wie weet wat die toekoms sal oplewer?

Wat is die betekenis van heiliges? Is hulle prysenswaardig of net navolgingswaardig? Is daar onheilige heiliges?

Die heiliges is hulle wat, ten spyte van hul tekortkominge, God bo alle ander dinge liefgehad het en na Hom verlang het, waarop God, wat hulle eerste liefgehad het, Hom aan hulle gegee het as genade. Die heilige is hulle wat vol van hierdie genade (of energie)van die Drie-enige God is, en dus vol van God is, wat die genade as gawe ontvang het en dit behou het en daarin gegroei het. Dit veronderstel ‘n proses van medewerking (sinergie) met God, wat dan uitloop op hul verheerliking. Om met so‘n heilige in aanraking te kom is’n verkwiklike ervaring, omdat die heilige vol van die lig en vrede en blydskap en liefde en goedheid van God is en dit kan oordra aan ander wat daarvoor ontvanklik is. Dit gaan dus om veel meer as bloot navolgingswaardige etiese modelle. Party heiliges het God van kleins af lief en ander loop miskien eers ander onvrugbare paaie voordat hulle hul tot God bekeer, soos ons ook in die bundel sien.

In die Ou en Nuwe Testament het die woord heilige ‘n veelvoud van betekenisse. God is die Heilige, tempelvoorwerpe is heilig,  gelowiges word ook heiliges genoem. Daar is ook loodglas afbeeldings van heiliges in katedrale (vgl byvoorbeeld die vensters van ‘n  Kerk in Duitsland wat deur William Morris (1834-1896) ontwerp is). Hoe verbind jy die begrip heilige met die heiliges in jou bundel en in die kerklike tradisie?

Soos ek gesê het, verstaan ek die heiliges as hulle wat aan God wat hulle eerste liefgehad het toegewy is en daarom sy genade ontvang het en gevolglik vol van God se genade is. Die heiliges is ‘n bevestiging van die Evangelie, van die werklikheid van die verlossende en verheerlikende werk van die Heiland. As jy ‘n heilige in sy verheerlikte staat sien, kan jy daaruit aflei dat sy of haar Heiland steeds werksaam is soos in die Evangelies en Handelinge van die Apostels.

Wat my ook tref, is die afbeeldings van die ikone by elke gedig. Is die visuele en woord (gedig) voorkoms vir jou belangrik, en indien wel, waarom?

Die ikone beeld die heiliges in hul verheerlikte staat uit en is dus ‘n viering van die werk van God in hul lewens, en boonop herinner dit aan die gemeenskap van die gelowiges, aan die wolk van getuies rondom ons wat steeds by ons heil betrokke is, deur hul voorbidding by Christus. Op ‘n ligter noot, as iemand nie van die betrokke gedig hou nie, sal hy dalk darem van die ikoon hou. Die gedig en ikoon hoort saam want beide probeer om op verskillende maniere erkenning te gee aan die verheerlikte staat van die heilige. 

Die biografiese aantekeninge oor die heiliges is vir die leser ‘n onskatbare bron van inligting om jou gedigte te verstaan. Dit is duidelik dat jy ‘n kenner van die ikone is. Is jy dit hiermee eens?

Die aantekeninge kom uit die sg. Synaxarion oftewel die Lewe van die Heiliges wat ek elke dag lees en is ‘n bondige samevatting daarvan. Wanneer ek dit lees, ontwikkel ek miskien die behoefte om oor een van die heiliges te skryf, maar daarna volg daar meestal eers‘n proses om ‘n geskikte invalshoek te probeer kry of ‘n gepaste deurlopende beeld. ‘n Mens moet as’t ware eers in kommunie met die heilige tree voor jy oor hom of haar kan skryf en dieselfde geld vir die ikoonskilder, verseker Julia Bridget Hayes wat die ikone geskilder het my. Ek reken, volgens die getuienis van my geoefende oog, dat sy ‘n besonder knap ikonograaf is, wat haar werk met die juiste geestelike ingesteldheid benader. Haar werk is op die Internet te sien.

Kobus, jy staan in die ry van ‘n lang tradisie van digters wat oor heiliges dig. Ek dink hier o.a. aan N.P. van Wyk Louw, Sheila Cussons en I.L. de Villiers (aan wie jy jou bundel o.a. opgedra het). Sou jy jou met die digters oor dié aspek kon vereenselwig? Sou jy jou gedigte ook binne die mistieke verse van Sheilla Cussons en selfs sommige van I.L. de Villiers kon plaas?

Ek het dikwels aan Van Wyk Louw se “Rondloper” gedink, toe ek die gedigte geskryf het, want die “Rondloper” is vir my gevoel ‘n heilige figuur wat ‘n mens maklik in Rusland van ouds sou kon aantref, en ek het ook aan die H. Petrus-gedig van hom gedink, maar ek sal myself uiteraard nou nie in sulke uitgelese geselskap tel nie, om van Cussons nie te praat nie. My gedigte is heelwat eenvoudiger.

Ek het vir I.L die Villiers ná ek so ses of sewe van die sonnette geskryf het, gevra of hy dink daar kan iets van kom en hy het my toe sterk aangemoedig om 40 sonnette oor die heiliges te skryf en dit was natuurlik ‘n groot aansporing, selfs al het ek destyds getwyfel of dit moontlik sou wees. 

Wat jou bundel so anders, so uniek maak, is dat jy die mantel van die sonnet, in afwisselende vorm, as digvorm moeiteloos oor jou gedigte se skouers hang. Plaas dit die heiliges op gelyke voet of is daar ander literêre oorwegings?

Die eerste gedigte, t.w. die oor die H. Serafim van Sarof, was sonnette en ek het toe bloot daarmee aangehou, sonder enige literêre oorwegings. I.L. de Villiers het gedink ek behoort ook rymlose sonnette te probeer, maar tot dusver het ek nog nie sy advies gevolg nie. 

Die sonnet as digvorm kom die eerste keer by Guiitonne d’Arezzo (1230-1294) voor (vg ook Giacomo da Lentino). Die poëtiese tradisie is ryk aan sonnet digters in wisselende vorme. Daar is die bekende Beatrice sonnette van Dante (1265-1321) en Petrarca se 317 sonnette aan Laura  (1304-1374). Verder is daar ‘n lang ry van sonnetdigters. Om net enkeles te noem: William Shakespeare, Rimbaud, Baudelaire, Verlaine, Milton, Wordsworth, Shelley, Keats, W.H. Auden, García Lorca, John Berryman, Remco Campert, Gerrit Achterberg, Rainer Maria Rilke, Walt Whitman en Christopher Reid. Die Afrkaanse poëtiese tradisie is ook ryk aan sonnette. Ek dink aan C. Louis Leipoldt, N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Peter Blum, Elisabeth Eybers, Charl-Pierre Naudé en I.L. de Villiers. En nou het jy, Kobus, die tradisie verder verryk. Was die konsekwente rym nie vir jou ‘n struikelblok (skandalon) nie? Dit het vir my nie so voorgekom nie.  

Ek het voorheen vrye verse geskryf, daarom was beslis ‘n aanpassing, veral omdat party woorde oënskynlik geen rymwoorde het nie of altans nie rymwoorde wat in die bepaalde gedig pas nie. Ek probeer natuurlik om rymdwang te vermy. Ek hou die meeste van Keats se rympatroon in Ode to a Nightingale waar elke reël met die derde reël ná hom  rym, en dus ‘n sekere spanning skep wat uiteindelik op ‘n salige wyse deur die rym opgehef word.

Vir my is, as ek een sonnet moet uitsonder, Die heilige Maagd Maria, die moeder van God ‘n juweel. Veral die twee slotreëls is treffend:

 

Wees bly, braambos wat brand sonder om uit te brand,

ligkolom wat ons lei na u Seun: God en Beloofde land.

 

Daardie sonnet is gebaseer op die sg. Akathistoslied van Romanos die Melodis, waar hy elke reël met “Wees bly” /”Verheug u”/ “Wees gegroet” begin (afhangende van hoe ‘n mens dit wil vertaal) en dan die Maagd dan so in soortgelyke terme as in my gedig in 12 lang en 12 korter strofes aanroep. Daardie gedig is vol woordspelinge, en interne en slotryme, en word na 1500 jaar steeds daagliks in kloosters in Griekeland en elders gesing.

Kobus, watter sonnet sou jy as jou gunsteling uitsonder?

Sjoe, dis moeilik, want elkeen het sy eie ontstaansgeskiedenis en ‘n mens kan ook jou liefde vir die heilige met jou liefde vir die gedig verwar. Dit gaan om liefde vir Christus in sy heiliges en die poging om daardie liefde uit te druk. Die gedig word vir ‘n mens waardevol omdat dit ‘n mens in staat stel om soos in ‘n liefdeslied aan iets uiting  te gee, en des te meer as dit dalk ‘n geslaagde gedig is.  Dalk  die een oor die H. Evangelis Johannes die Teoloog, die H. Polikarpus, en die H. Isak die Siriër, maar daar is ander ook wat eweneens my besonder na aan die hart lê, as ‘n mens so iets van jou eie gedigte of liefdesliedere mag sê.  

Kobus, nogmaals dankie vir die gesprek. Ek hoop die lesers vind dit ook verrykend.

Dankie, Cas. Die ideaal is mos om ‘n gedig te skryf wat jyself of jou leser by herhaling sal wil lees, so ek hoop elkeen kry ‘n paar daarvan in die bundel. 

Kobus ‘n slotwoord van jou asb.

‘n Mens kan gedigte uit meer as een motief of beweegrede skryf, bv. verontwaardiging of verdriet of vertwyfeling of ontsteltenis, of uit liefde of verwondering of wat ook al, en al daardie beweegredes kan geldig wees. In hierdie bundel het ek veral uit die beweegrede van liefde geskryf, met hier en daar ‘n bietjie verontwaardiging, en probeer om die fokus grootliks op die geliefdes te laat val. So die lesers sal nie veel oor die skrywer, soos in meer persoonlike gedigte,   wys word nie. Ek wou nie die heilige as kapstok gebruik om oor my eie innerlike lewe te skryf nie. Ek hoop die lesers sal daarvoor begrip hê.

 

Jacobus W. van der Riet is in 1959 in Stellenbosch gebore waar hy ook skoolgegaan en studeer het. Hy het grade in die Teologie en Klassieke Tale, en het ‘n Ph.D. by Wits verwerf oor die digkuns van Horatius, Catullus en Tibullus, ook met verwysing na klassieke Griekse digters. Hy het as hospitaalkapelaan by Groote Schuur gewerk, as dosent in Klassieke Tale by Wits en Unisa, as, boekwinkelassistent, en aflosonderwyser, en kombineer tans die Ortodokse priesteramp in die bisdom van Johannesburg en Pretoria, in gemeentes in Eldorado Park en Rustenburg, met biblioteekwerk in Johannesburg. Hy het in die V.S.A. by ‘n Ortodokse seminarie studeer en ‘n jaar lank in Griekeland in ‘n klooster deurgebring, o.a. om die moderne Griekse taal sover moontlik te bemeester. Naas die letterkunde is hy geinteresseerd in die teken- en skilderkuns, inluitende ikonografie en die karikatuur- en spotprentkuns.

 

Digstring

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

Inhoud

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Andries  BezuidenhoutVeelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle” . Nov. 2014

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Emma Bekker. Nagvangs. Mei 2016

Nini Bennett. Da Capo. April 2016

René Bohnen. Brief aan Ebba. Mei 2012

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

Hendrik J. Botha. Breindood. April 2016

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Hans   du Plessis .Josef

Heilna du Plooy du Plooy. “Ouhoutfluit”

Marius Crous. Die ander man

Anne-Ghrett ErasmusSkilder

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Willem Krog.  “Vir pa”  Nov. 2014

Karen Kuhn. Taalles. Mei 2012

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Jannie   Malan. Watermerk” Nov. 2014

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

Charl-Pierre Naudé : “Eergister en môre, met visse”  Nov. 2014

Fransi Nieuwoudt. ” ‘n ontstaan “. Febr. 2017

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Alfred Schaffer. “Droomstart”  Nov. 2014

Susan Smith. “By die soetdoring” . Febr. 2017

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Ilse van Staden. Dertien kraaie. Febr. 2017

Jacobus van der Riet. Die Heilige Nikolai van Japan. April 2016

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com