Posts Tagged ‘Jannie Malan’

Digstring: Jannie Malan. Watermerk

Wednesday, November 12th, 2014

Digstring

Enkele vrae oor die rugstring van ’n gedig

 *

Watermerk

 

ek trek jou na

in 4B-potlood en grafiet

met die wegpak van die sketsboek

vee my palm per ongeluk ‘n skaduvlek deur jou

 

in my New Yorkse hotelbadkamer trek ek jou na

met ‘n vingerpunt in ‘n toegestoomde spieël

los druppers konvegeer en loop

‘n traan deur jou

 

ek trek jou na

teen ‘n wasemvlek in ‘n grou Schiphol-terminaal

oor lae lande styg ‘n vliegtuig wolkwaart deur jou op

 

met oë op skrefies trek ek jou na

langs my kar op ‘n bult net buite Moorreesburg

wuiwende groen koring word jou hare

roomvuil varkore beset jou oë

 

ek trek jou na

om ‘n vrou met ‘n latte in ‘n kafeetjie in Milaan

wat opstaan, in my rigting frons

en deur jou buitelyn weggaan

 

ek trek jou na

in die kantlyn van ‘n bundel

in jou wange is die woorde

“dis altyd jy, net altyd jy”

getatoeëer

 

ek trek jou nader

want jy is slegs die wysiging van ‘n invalshoek

‘n geduldige watermerk wat wag

net

op die reglê van die lig

 

(c) Jannie Malan (Uit: In ligte laaie, 2014: Protea Boekhuis)

 

*

Jannie, wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

As ek reg onthou het ek die vers iewers in die eerste helfte van 2012 geskryf. In hierdie jaar moes ek heelwat oorsee reis vir my werk en was ek oppad na Italië. Ek moes op Schipol ‘n lang ruk op die lughawe deurbring terwyl ek op ‘n konnekterende vlug gewag het. Met die heen en weer stap om die tyd om te kry, het ek in een van die glastonnels wat die opstappunte verbind gaan staan en die aktiwiteite buite die terminaal dopgehou. Dit was toe dat ek die glas opgewasem het en onwillekeurig ‘n gesig met my vingerpunt in die wasem getrek het. ‘n Vliegtuig het op daardie presiese oomblik, bloot toevallig, van ‘n aanloopbaan opgestyg en deur die middel van die skets gevlieg. Dit was die vonk vir die skep van die gedig.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Toe die eerste, oorsprongstrofe (wat verwys na die Schipol-terminaal), eers op papier was, het dit onmiddelik die patroon bewerkstellig. Ek kon byna die hele gedig voltooi tydens die daaropvolgende vlug na my eindbestemming. Dit was egter eers ‘n losse versameling van oomblike, wat toe byeengebring moes word as ‘n volwaardige vers. Die ontknoping veral was problematies.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Soos vroeër vermeld het die vers na my toe gekom in een van daardie stadig-bewegende oomblikke, waarin jy besig is met ‘n doodgewone handeling om die tyd te verdryf – met ‘n vingerpunt ‘n patroon te trek in die wasem op die koue lughawe-venster terwyl jy staar na grondpersoneel wat bagasie karwy, betonstroke, ‘n aanloopbaan, ‘n vliegtuig wat tydsaam opstyg teen die grou streep van die Nederlandse lae landskap daaragter. En dan die skielike gewaarwording dat jy in hierdie oomblik iemand geweldig mis. Die gedagte of gewaarwording het hom dus so aan my geopenbaar, maar van daar was dit kopwerk om aan soortgelyke oomblikke te dink, en dit oplaas te omskryf tot volwaardige vers.

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

Die vers het sy eie vorm voorgehou: Die enumerasie van verskeie insidente en ‘n enkele strofe in konklusie, asook die deurlopende repetisie van die sleutel “ek trek jou na”. Daar is geen doelbewuste chronologie aan die insidente nie – om te eggo hoe hierdie oomblikke hulle op enige tydstip mag voordoen. Die strofes is dus geplaas soos dit vir my ‘reg’ gevoel het.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

Ek het, toe ek ‘n eerste voltooide weergawe van die vers gereed gehad het, dit met enkele mense gedeel vir insae en terugvoer. Waar moontlik deel ek my verse met my vrou en met ‘n paar geselekteerde vriende – die wat ek voel darem effe in voeling is met taal en poësie.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Hierdie betrokke vers het vir die eerste keer in my debuutbundel In Ligte Laaie verskyn. Dit was deel van ‘n manuskrip wat ek in 2013 aan enkele uitgewers voorgehou het.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

In hierdie spesifieke gedig is die oorgrote meerderheid van die gegewens op feite gebaseer – alhoewel dit nie noodwendig die geval in al my digwerk is nie. Ek kon ‘n gelyke oomblik van verlange, soos in elk van die strofes voorkom, uit my verlede gaan oproep; of in die gebeure in dae wat gevolg het op die moment in Schipol se terminaal – herken. Die strofe wat verwys na die bundel waarin die woorde “dis altyd jy, net altyd jy” in die wange van die geliefde getatoeëer is, is die enigste fiktiewe toevoeging – en dan ook net daarin dat ek spesifiek die frase gaan kies het omdat ek N.P. van Wyk Louw se Winterbome as interteks wou betrek, omdat ek gevoel het dit ‘n gelykmatige gevoel as my eie ge-eggo het.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Hierdie, eintlik eenvoudige vers, handel bloot daaroor dat ons, in ons alledaagse handel en wandel nie die gedagte aan, of verlange vir ‘n geliefde kan ontsnap nie. Wanneer jy iemand lief het, of veral ook verlief is, is dit asof die wêreld saamspan om konstant die beeld van die beminde aan jou voor te hou. Jy kan as’t ware nie van die gedagte aan die geliefde ontsnap nie, selfs al wil jy. Hulle watermerk skuil in alles, en word konstant belig. Herinnering sit in die mees alledaagse van handelinge en is onwillekeurig en konstant.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Alhoewel hierdie gedig uit ‘n persoonlike oomblik van gewaarwording gebore is, sou ek kon aanvoer dat my spesifieke ervaring van die afwesige geliefde – hoe uniek dit ookal op daardie stadium mag voel – ‘n volkome universele belewenis is. Ander digters dig hieroor, skrywers skryf daaroor, rolprente gebruik dit as stof tot inspirasie en musikante sing daaroor. Wanneer ek skryf beur daar onwillekeurig in my agterkop ‘n klankbaan na vore, sodat ek geredelik agter die gedig en die ervaring liedjies soos Your Ghost – Kirstin Hersh, The Blower’s Daughter – Damien Rice, en Vermiste Mense – Koos du Plessis kan hoor speel. Meer omdat dit, net die gedig, ‘n bepaalde stemming probeer emuleer.

Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

Nie bewustelik nie, maar as ek dit ontleed, skryf ek moontlik in sommige gevalle wel vir ‘n spesifieke leser. Ek het na die publikasie van my bundel vanuit die terugvoer van lesers ervaar dat elke leser sy of haar eie voorkeure en interpretasie het. Ek skryf dus primêr vir myself as potensiële leser – indien ek die gedig teruglees en dit raak my, voel ek dat ek op die regte spoor is. Ek is definitief ook my eie grootste kritikus. Die vrees om ‘n swak vers te skep is konstant teenwoordig. Tog, as ek meer na die romantiese kant toe buig, het ek seker ‘n verbeelde “ideale” leser van my gedigte in gedagte – sy staan vroegoggend teen haar deurkosyn in ‘n oorgroot trui, en loer deur haar lang donker hare oor ‘n koppie koffie na die branders wat op die rotse breek, voor sy my bundel opknak in haar hand, om nog ‘n vers te lees – en wonder watter tipe mens die digter is, en of hy werklik is soos sy hom vanuit die wit spasies tussen sy versreëls ervaar.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Nie veel nie. Nie in die vrye vorm of in inhoud nie. Soos baie van my ander verse put ek uit die alledaagse as voertuig vir dieper emosie. Nes baie van my ander verse is daar ‘n versugting, die herken van ‘n leemte, die gewaarwording van ‘n gemis. Die liefde.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Die vers is nie spesifiek Suid-Afrikaans nie. Heimwee of ‘suadade’ is ‘n universele ervaring. Die beeld wat besigtig word vanaf die bult net buite Moreesburg is natuurlik eg Suid-Afrikaans – asook die werk van Van Wyk Louw, waarna ek verwys.

Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Ek kan nie onthou wie dit gesê het nie, maar iemand het aangevoer dat gedigte nooit voltooi word nie, maar bloot op ‘n gegewe oomblik deur die skrywer “abandon” word. Ek voel so oor hierdie vers. Alhoewel ek uiteindelik gelukkig was met die insidente (en daar was veel meer wat ek tydens redigering verwyder het) is ek steeds nie oortuig dat die finale strofe so sterk is as wat dit kan wees nie. Ek het dit herhaaldelik herskryf, maar ek voel steeds dat die gewaarwording dat die herinnering aan die geliefde intiem in die alledaagse doen en late verweef is, nog beter verwoord kan word. Dis egter selde dat ek op ‘n punt kom waar ek voel “aan die gedig kan daar nie geskaaf word nie, hy is nou perfek”. As digter moet jy leer om weg te stap van ‘n gedig en dit aan iemand anders – meermale ‘n redakteur – oor te laat om met voorstelle te kom.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Ja. Verskeie lesers het dit aan my genoem dat dit vir hulle ‘n besonderse vers is. Dat dit hulle geraak het. Dit is ‘n groot kompliment vir ‘n digter.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Ek moes baie jonk gewees het, kort na ek leer skryf het want in my geestesoog kan ek nog die onhandige letters onthou waarin ek my eerste gedig geskryf het. Dit het iets met ‘n byeenkoms van voëls te make gehad en was getiteld: “raaf laaf”. As ek reg onthou het dit sterk van paarrym gebruik gemaak. Waarom die raaf gelaaf moes word kan ek egter nie herroep nie… en dit is dalk beter so.

Baie dankie vir jou deelname, Jannie. Ons wens jou alle voorspoed toe met hierdie stewige debuut; mag daar sommer nog vele verruklike verse uit jou belewenisse tot stand kom.

(c) Versindaba / November 2014

Resensie: In ligte laaie (Jannie Malan)

Monday, June 30th, 2014

In ligte laaie deur Jannie Malan. (Pretoria Boekhuis, 2014, ISBN: 978-1-4853-0078-6, Formaat: Sagteband, 127p.)

 

Resensent: Amanda Lourens

Omslag

In ligte laaie is Jannie Malan, ’n Nuwe stemme 4-digter, se eerste solobundel.  Die titel herinner die leser aan die uitdrukking “in ligtelaaie staan”, wat natuurlik verwys na ’n toestand van aan die brand wees.  Die meervoudige betekenisse van dié titel word egter reeds deur die voorblad gesuggereer – dit is naamlik ’n tekening van ’n laaikassie, maar met die boonste laai uit sy plek, tesame met ’n klompie los laaie wat in die lug sweef.  Die kleurgebruik (oranje vir die grond en rooi vir die lug) eggo die brand-gedagte, sodat die leser nog voor die lees van die bundel met ’n paar interpretasiemoontlikhede van die titel gelaat word.  Op die een vlak is ’n aktiewe ont- of verbrandingsproses ter sprake, wat ook deur Malan self in ’n Versindaba-onderhoud uitgelig word.  Hy verwys wel spesifiek na “die simboliese elemente van vuur – passie, vernietiging, reiniging”.  Op ’n tweede vlak kan dit ook hier gaan oor “laaie” as bewaarplek, veral van papier en geskrewe stukke teks.  Sou die laaie “lig” wees, kan dit wees dat die bewaarplek self nie gewigtig is nie, maar dit kan eweneens wees dat die laai “lig” is omdat hulle nie veel inhoud bevat nie.  Wat die simboliese vlak betref, wys Malan self daarop dat “ligte” na “’n verligting, ’n katarsis” verwys, maar dat dit ook die suggestie van ’n openbaarmaking bevat, oftewel, om as’t ware ’n lig oor die inhoud van die laaie te laat skyn.

Malan se mees geslaagde gedigte is dan dié wat – ten minste op die oppervlak – deur ’n ligte aanslag gekenmerk word, oftewel, dié gedigte waarin die sprekende subjek homself nooit te ernstig opneem nie, ten spyte van dikwels gewigtige boustof.  Terselfdertyd openbaar Malan in ’n hele paar gedigte die vermoë om ’n ophelderende lig oor ’n sekere gegewe te laat skyn en die afgesaagde of voorspelbare op hierdie manier heeltemal te fnuik.

Die bundel open met twee insetgedigte, naamlik “In ligte laaie” (p.7) en “Blurb” (p.8).  In eersgenoemde gedig bevestig Malan sy bedrewenheid wat betref gedigte met ’n ligter, dalk selfs ironiese tong-in-die-kies-benadering tot kwessies wat eintlik tot op die been van menswees sny.  “In ligte laaie” keer die cliché van om een kosbare item uit jou brandende huis te mag red, met ’n ligte nugterheid om:

Selde vra iemand:

“Wat is die een ding wat jy daar sal los?”

net te dankbaar

om dit in vlamme op te los.

Die struktuur van die bundel as geheel word uiteengesit in “Blurb”, met ’n motto uit die 1996-film The Pillow Book van Peter Greenaway.  Die gegewe van die laai as bergplek vir tekste kom spesifiek hier na vore wanneer die spreker verwys na “vyf boeke op die lyf geskryf” wat vanuit sy “laaie” na die leser gestuur word.  Hierdie vyf boeke verteenwoordig die vyf afdelings waarin die bundel verdeel is, naamlik “Fotoalbum” (“’n fotoalbum se terugblik teen die agterkant van die ooglede”), “Notaboek” (“’n notaboek van die alledaagse, regs op die ribbes ingeëts”), “Dagboek” (“’n dagboek van stilte en geheime, kripties op die tong”), “Reisjoernaal” (“’n reisjoernaal, op die sole van die voete”) en “Register” (“’n register van die dooies, in die spore van die palms”).  Elk van hierdie afdelings word met ’n aspek van liggaamlikheid geassosieer, sodat daar inderdaad gestalte gegee word aan ’n poësie wat ten diepste met die lyflike verstrengel is, soos reeds deur die intertekstuele verband met The Pillow Book gesuggereer word. Die slot van “Blurb” maan die aangesprokene – en die leser – egter om naas die lyflike, ook na dít onder die oppervlak te soek:

Geliefde,

lê dit nou alles bloot

ons is in en deur die lyf geskryf

en al is in dié seisoen net die vel van belang

moet jy dieper vat

Die eerste afdeling (“Fotoalbum”) open met ’n titellose gedig (p.9) wat nie in die inhoudsopgawe gelys word nie, en ook deur ’n leë bladsy van die res van die afdeling geskei word. In hierdie gedig word die geliefde geïdentifiseer as die onontbeerlike agent in die singewingsproses (“Verstaan / ek het jou nodig om / in my sinne sin te lees”). Hierna volg die afdeling met sy elf gedigte wat gewis as een van die sterker afdelings in die bundel beskou kan word, en waarin veral jeugherinneringe die boustof vorm.  Soos in ’n album met fotobeelde uit die verlede, word daar by diverse momente en karakters vertoef.  Veral die pa-seun-verhouding word ontgin, en in “Roer” (p.13) belig die spreker die onbevredigende aard van verhoudings wat in die oppervlakkige bly vassteek:

hoe elke sonstraal wat deur ’n druppel van die spaanblad reflekteer

die troebel oppervlak

                                    alleen maar vlakweg penetreer

Die pa-figuur is hiernaas ook die sentrale figuur in die geslaagde “Ligspoorkoeël” (p.17) en “Dagsê” (p.22), en ook ander familielede word in verdere gedigte in herinnering geroep.  Sonder ’n omhaal van woorde lamenteer die spreker oor die oppervlakkige aard van die verhouding met die gestorwe ouma “[…] verwens myself oor ditjies en datjies” (vergelyk “Sondagmiddagbriewe”, p.16).  In die treffende “Bywoner” is daar ’n uitbeelding van die troostende fantoombeeld van die oom wat aan sy eie hand gesterf het, maar wat steeds in die spreker se binnewêreld tot lewe gewek word.  Hierdie gedagte van die transformerende krag van die eie binnewêreld is dan ook die boustof van “Gestalt” (p.15), waarin die volwasse lewe gesien word as gestroop van die fantasiebeelde wat die kind in die donker optower, soos die ironies bewoorde slotkoeplet aandui: “Volwasse drome ontknoop die skyn / vereis ’n lewe teen die grein”.

Benewens die temas van herinneringe aan familielede en die ontnugtering van volwassewording stel die eerste afdeling ’n ander belangrike tema aan die orde – naamlik dié van die keep of spleet (vergelyk “Keep” [p.20] met die motto van Sheila Cussons), wat uiteindelik een van die sentrale motiewe in die bundel word.  In hierdie gedig word die eienskap van gespletenheid tekenend van die eksistensiële angs waarvan die mens end-uit slagoffer is:

daar tussen hemel en aarde

met die inlê van die boogsaag in ’n mik

wat dygewys onderstebo ontmoet

skrikgit sit die kwasvlek daar

verloor hy sy balans en tuimel

                        grond toe

winduit

                        lewenslank.

Die tweede afdeling (“Notaboek”) maak oor die algemeen ’n minder sterk indruk as die eerste. Soos die leser reeds in “Blurb” verneem het, word die alledaagse as boustof gebruik.  Die vervlietendheid van die aardse staan sentraal in “Mono no aware (p.29), ’n geslaagde en redelik vormbewuste gedig waarin die Japannese digter Sei Shōnagon (c.966-1025) se teks met eweneens die titel The Pillow Book betrek word.  “Art Nouveau” (p.34) kan beskou word as ’n sleutelteks vir Malan se eie digkuns waarin die alledaagse (“’n verhouding, familie, kinders grootmaak, / kos kook, vriendskap”) gestel word as die elemente waaruit “die kuns se onverganklike” kan groei.  Kommentaar op die proses van kunsskepping word ook raakgelees in “Repelsteeltjie I” (p.42, wat Malan self in die genoemde Versindaba-onderhoud as ’n “metagedig” bestempel): die ontstaan van ’n gedig is ’n stapsgewyse proses wat die “strooi” van die alledaagse as beginpunt neem en waaruit aanvanklik die “onomdigte klein naamloosheid” gehaal word, wat algaande aan die hand van taal konkreet gestalte kry.  ’n Gedig soos “Sekwens” (p.43) steek ongelukkig ietwat vas in voorspelbaarheid, terwyl die intertekstuele spel met die onderskeidelik Fagan (“Kom nag”, p.41) en Totius (“Repos ailleurs [moontlik in Australië]”, p.40) nie heeltemal daarin slaag om die alledaagse diskoers tot verligtende gedagtes of taalvorme te omvorm nie.  Wel is “Stil aande” (p.45) ’n hoogtepunt in die afdeling en wys met slim beeldspraak op die mag wat in onpretensieuse taal opgesluit lê:

Op stil aande breek die prieel

die bleek bord van die maan

in ’n duisend splinters

oral teen die stoep

en ek en jy moet

met ons kaalvoetsinne

suutjies trap om nie die siel se sagte sole

teen skadu-skerwe oop te sny nie.

Die derde afdeling (“Dagboek”) word in drie onderafdelings verdeel, naamlik “Vuur”, “Vlam” en “As”, waarin veral die kompleksiteite van die liefdesverhouding verken word.  “Vuur” bevat goeie liefdesgedigte, met “Omphalos” (p.52) wat veral uitstaan op grond van die geslaagde aanwending van die praatstyl (sterk in die tradisie van Danie Marais, uit wie se werk daar ook ’n motto vir die groter afdeling gehaal word), maar ook op grond van die uiters konkrete verbeelding.  Die verband tussen vuur, woorde en die erotiese kom na vore in “Tonteldoos” (p.53) wat hierdie assosiasies ook op klankvlak probeer verreken: “verwonder ek my aan die binnerym / van kont en lont”.

In “Vlam” word die problematiese aspekte van ’n liefdesverhouding aan die orde gestel, waaronder vervreemding (“Stoom”, p.67) en verwonding (“Vandag”, p.70).  Die sentrale metafoor in laasgenoemde gedig is goed gekonsipieer en die knap ritmiese en vormlike ontwikkeling van die vers ondersteun die stelling wat gemaak word.  (Die beeld van die “canned fruit-blikke” kom dalk ietwat gedwonge voor, gegee die byderwetse agtergrond waarteen die res van die bundel opgestel word?) “Pandora” (p.66) is interessant in dié opsig dat die toetrede van die bose tot die liefdesverhouding in die vooruitsig gestel word, en dan wel as gekoppel aan die deksel van die bruidskis wat ook die spleet suggereer:

eenkant in die hoek

van onder die oopgeskarnierde deksel van jou

nou omgekeerde bruidskat het skadugeskenke

soos troetelgedrogte geseil

en onrustig aanhou aanhou

lêplek soek

Op hierdie punt kan ’n saamlees met “Versoek” (p.54, in “Vuur”) boeiende winste oplewer.  In hierdie gedig word die openinge van die vroulike liggaam (met die duidelike verband met die spleet-gegewe) eksplisiet aan die demoniese geskakel, teenoor die kurwes van die liggaam wat aan die goddelike gekoppel word.

Die gedigte in “As” is as groep nie van dieselfde gehalte as dié in “Vuur” en “Vlam” nie.  ’n Gedig soos “Lorelei” (p.73) oortuig die leser wel dat Malan ’n bedrewe digter is, maar tog is dit asof die gedig nie werklik daarin slaag om iets te sê nie.  ’n Beeld soos “blus ’n misbank die vuurtoring se vlam” sou herskryf kon word en die rymdwang in die laaste reël (“uit jou hare val ’n kam”) bewys die gedig geen guns nie.

“Reisjoernaal”, die vierde afdeling, bevat ongelukkig ook ’n paar gedigte waarvan nie die boodskap, beeld- of taalgebruik werklik beïndruk nie. ”Life vest under seat” (p.95) kom byvoorbeeld voor asof lukrake indrukke bloot tot ’n gedig saamgevoeg is sonder dat ’n samehangende boodskap deurgekomponeer word.  Die vormlike eksperimente in “Kuslyn” (p.104) en “Slot” (p.105) slaag wel deeglik (met laasgenoemde ’n treffende blik op ’n ritueel waardeur jong liefde konkreet uitgebeeld word).  Visuele indrukke is die grondslag vir “Leemte” (p.93), maar anders as in sommige ander verse word die onderskeie beelde van die spreker en “die ou man met ’n bril” deur onder meer die netjiese aanwending van enjambement aan mekaar verbind. Uiteindelik gee die beeld “[d]ie woonstelblok grinnik haasbek / soos ’n kind met ’n uittand” die deurslag vir die sukses van die gedig. Die praatverstegniek word weer gesien in “Pippo se toring” (p.100) met die liriese slot waarin slim woordspel die reismotief deurtrek na die wete van die sterflikheid:

Onder gesperde vingerpunte

ysig, aardsklam

deur my palms sug die handgekapte klip

geduldig onbetrokke

oor die voetnota

van ons kortstondige bloed.

Juis die sterflikheid is die boustof van die laaste afdeling, “Register”. Die gedagte van skryf as liggaamlikheid en sensualiteit in die eerste afdeling word hier deur middel van die Ondaatje-motto (uit die poëtiese einde van Almásy se verhaal in The English Patient) aan die tema van die dood geskakel: “I wish for all this to be marked / on my body when I am dead. / I believe in such cartography …”

Die digter se omgang met mitologiese gegewens (byvoorbeeld in “Likantropie”, p.110), maar terselfdertyd ook die meer eietydse alternatiewe kultuur (byvoorbeeld in “Goot”, p.114) sorg vir ’n slotafdeling met heelwat skakering en diepgang.  ’n Gedig soos “Skroei” (p.111) roep die bloeddorstige wraaksug van die berugte Graaf van Anjou op, waar hierdie gegewe nou gebruik word om die verwikkelde aard van die liefdesverhouding te verbeeld.  Hierdie gedig illustreer Malan se vaardige gebruik van ’n gemaklike verteltrant, wat op ’n baie funksionele wyse hortend raak sodra die spreker die komplekse onderstrominge in sy psige onthul.  Die digter se vermoë om uit die alledaagse kuns te haal, word uitstekend geïllustreer deur “Oggend in badkamer ná begrafnis” (p.112). In oënskynlik ligte trant word die toiletbenodigdhede van die gestorwe geliefde verken, en die slot met die fokus op hierdie voorwerpe se “belewenis” van hulle hieropvolgende nutteloosheid belig die sterwensproses op ’n verrassende wyse:

die morning after

herken hy skaars

vanuit versonke oë

die gesig in sy spieël

vryf oor sy ken

en trek die badkamerkassie oop

kry daar haar gesigroom, ’n buisie maskara,

die borsel met

lang swart hare nog gestrengel

en draai dit ongelowig om en om

asof in ’n droom

wonder hoe dié dinge gewoond gaan raak daaraan

om nutteloos te wees

In ’n gedig soos hierdie een is Malan op sy beste, en ’n mens hoop dat hy sy digterskap verder aan die hand van só ’n poëtika sal ontwikkel.

Daar is ongelukkig enkele redaksionele aspekte wat hinder.  In “Osteologie” (p.109) word “DNA” in plaas van “DNS” (vir deoksiribonukleïensuur) gebruik (wat terloops ’n fout is wat deesdae baie dikwels in Afrikaans voorkom), terwyl die woord “osteoporees” op dieselfde bladsy vreemd voorkom.  Hier wonder die leser of “osteoporeus” nie dalk die beter keuse is nie – gedagtig aan die WAT se beskrywing van osteoporose as ’n toestand waar “’n poreuse struktuur [ontstaan] sodat die bene bros is”?  Verder is daar “flooimarkte” op p.83 (in die gedig “Sint Agnes”), terwyl “vlooimark” die gedokumenteerde en aanvaarde vorm is.

Uiteindelik is In ligte laaie ’n debuut wat jou laat uitsien daarna om die verdere ontwikkeling van hierdie digterskap dop te hou.

Bronne

Versindaba. 2014. Onderhoud met Jannie Malan. Gisela Ullyatt gesels met Jannie Malan oor sy digdebuut. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2014/05/27/onderhoud-met-jannie-malan/ . [9 Junie 2014].

Elektroniese WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal). S.j. Beskikbaar: http://www.woordeboek.co.za.ez.sun.ac.za/. [26 Junie 2014].

Onderhoud met Jannie Malan (In ligte laaie)

Tuesday, May 27th, 2014

Gisela Ullyatt (GU) gesels met Jannie Malan (JM) oor sy digdebuut,

In ligte laaie (Protea Boekhuis).

*****

GU: Jannie, baie geluk met ’n besonderse debuut. The Pillow Book dien as interteks vir gedigte soos “Blurb (8) en “Mono no aware” (29). Eersgenoemde gedig bied ’n netjiese uiteensetting van die vyf afdelings waaruit In ligte laaie bestaan:

1.     ’n fotoalbum se terugblik teen die agterkant van die ooglede

2.     ’n dagboek van die alledaagse, regs op die ribbes ingeëts

3.     ’n notaboek van stilte en geheime, kripties op die tong

4.     ’n reisjoernaal, op die sole van die voete

5.     ’n register van die dooies, in die spore van die palms

Watter rol het The Pillow Book gespeel met die samestelling van jou manuskrip en hoe lank terug het die wisselwerking met hierdie interteks begin?

JM: Baie dankie Gisela. En dankie vir jou deurdagte vrae oor die bundel. Greenaway se film is ’n stuk werk wat ek al vir ’n lang tyd by my spook… ek het eers later ontdek dat dit die werk van Shei Shonogan betrek. Toe ek op ’n punt kom waar ek patrone begin sien in my versameling gedigte het ek gesoek na ’n logiese afbakening of struktuur vir verdeling. Ek het eers gepoog om al dertien boeke wat die karakter Nagiko skryf te emuleer, maar dit het nie gewerk nie. Gevolglik het ek net op my eie vyf besluit, wat steeds – soos met hare – ’n sekere deel van die liggaam met die inhoud in verband bring – soos duidelik in die bogenoemde uiteensetting. Verdere intertekstualiteit met The Pillow Book lê in die gedagte dat – soos Nagiko die hoofstukke van haar boek op vrywilligers skryf wie sy dan na die uitgewer stuur – ons verhale op mekaar skryf, en dat hierdie skryfsels stories van sensualiteit, hartseer, blydskap ensovoorts kan vertel. Miskien ook die gedagte dat die wêreld van woorde – hoe abstrak ookal – nie selfstandig van die lyflike/fiksie volwaardig tot vervulling kan kom nie.

GU: Reeds in die titel word dit duidelik dat die bundel met die vuur-element omgaan en dat dit veral klem lê op die feit dat hierdie geen pieperige vuurtjie voorstel nie, maar wel woorde wat ten volle ontvlam het en steeds brand. Eers veel later in die bundel vind die leser die sub-titel “as”, maar voor dit word “vuur” en “vlam” ontgin. Hoekom “ligte laaie” in plaas van die oorspronklike “ligtelaaie”? Watter betekenismoontlikhede is verbonde aan die grammatikale klemverskuiwing van hierdie idioom?

JM: Vuur is uit die aard van die saak een van die kragtigste simboliese elemente – dink maar aan Cussons se Swart Kombuis en die rol van vuur in Alchemie, The Burning Man, die Phoenix se verhouding met vuur – die lys is lank. Die bundel betrek baie van die simboliese elemente van vuur – passie, vernietiging, reiniging, ens. Die grammatikale klemverskuiwing roep gevolglik die bekende idioom op maar suggereer ook die notaboek, joernale, ensovoorts wat oor die jare in laaie – werklik en simbolies –  versamel het. Die ‘ligte’ sinspeel daarop dat in die skryf van die gedigte daar ’n verligting, ’n katarsis was – ook die suggestie van die intrusie van lig – ’n openbaarmaking… om ’n kersvlam te hou oor dit wat in hierdie laaie lê.

GU: “Gestalt” (15) handel oor kinders se spontane vermoë tot meditasie en dagdroom asook om patrone te sien in voorwerpe wat meeste volwassenes hulleself jare terug al afgeleer het. Hier utiliseer jy die beelde uit die sprokieswêreld wat die vroulike kind in die “houtdeur” en “verniste voetenent” ontdek:

’n lang, maer boom met arms omhoog

en ’n wrede mond – een groot oop oog

ineengestrengel met ’n dunstertdraak

se vlammende vlerke

en ’n gebuigde swaard, bo

die kromrugkoningin met kroon,

haar arms na haar buik geboog

Is hierdie strofe op ’n spesifieke sprokie gebaseer en indien wel, kan jy ons meer daaroor vertel? Het jy met die titel beoog om sekere prinsipes van Gestalt (soos byvoorbeeld gevind in werke van Goethe) of Fritz Perls se Gestalt-terapie met die leser te deel of verkry Gestalt ’n ander betekenis in die konteks van hierdie gedig? Vind jy as digter dat die digproses  gelykstaande is aan ’n oopdink-proses – “ontknoop die skyn” – wat “’n lewe teen die grein” vergemaklik?

JM: Nee, hierdie beelde is op geen spesifieke sprokie gebaseer nie – eerder op sommige argetipiese sprokieselemente. Alhoewel my gedigte nie altyd op dieselfde manier ‘gebeur’ nie (ek het nie altyd ’n spesifieke proses nie). Soos in Gestalt is die gedig meer as die som van die elemente. Gestalt sielkunde ondersoek ons vermoë om vanuit ’n meesal chaotiese wêreld betekenisvolle waarnemings te maak. Een van die elemente hier is die geneigdheid tydens waarneming om heen en weer te spring tussen twee of meer alternatiewe interpretasies. Tydens die digproses is die digter konstant besig met hierdie proses van ‘anders’ kyk. Die gedig betreur deels hoe die grootwordproses ons die kinderlike vermoë om fantasie uit ons alledaagse te tower, ontleer en ontneem.

GU: “Kom nag” (41) tree in gesprek met F.A. Fagan se “Ek het ’n huisie by die see”:

Fagan had ene en Koos reken almal wil

een hê, maar ek en ander

het nie ’n huisie by die see nie; dit

is net die voorreg van ryk uitlanders

of afgetrede apartheidsgeneraals

 

my huisie sit binneland se kant toe

aan die rand, en slegs hittegolwe sal hier slaan

tog, in my skottelbraai brand ’n vuurtjie

teen buitensporige tariewe gee my kersie lig

 

koerantkoppe kom ruk aan my ruite en

oor die radio ruis ’n kreun, op die TV loei ’n klag

knap bo die nok bou wolke aan ’n storm

dig hier binne, is ons veilig vannag?

 

kom sterk skemer, kom die maan

dolomiet is waarop my huisie staan.

Hierdie gedig word gegroepeer onder die tweede afdeling, getiteld “Notaboek”. Daar is ’n kragtige realiteitsbegrip in jou bundel rondom die Suid-Afrika waarin ons onsself op die oomblik bevind. Die huisie is nie by die see nie, maar iewers in die binneland waar ’n bestaan gemaak moet word; Eskom vier hoogty en dié huisie is nie op ’n rots gebou nie maar op sagte dolomiet. Verder herinner veral die “is ons veilig vannag” en “huisie” aan Louis Esterhuizen se nuwe bundel, In die afwesigheid van berge, wat die afwesigheid van veiligheid in meeste Suid-Afrikaanse wonings asook in die psiges van die inwoners hiervan, beklemtoon. Is hierdie tema iets waaroor jy al vir jare besin in jou digkuns; is dit ’n tema wat voortdurend nuwe gedigte laat voorstu?

JM: Kortom, nee. Ek dink baie lesers sal my kritiseer vir die gebrek aan sosiale kommentaar in my werk asook my begeerte om hierdie temas aan te spreek. Ek het Louis se nuwe bundel nog nie deeglik deurgewerk nie, maar is nou gretig om te gaan kyk na die verbande wat jy hier noem. Hierdie spesifieke gedig was een wat ek geskryf het vir ’n kompetisie op Versindaba – waar jy in gesprek moes tree met ’n bestaande gedig. Dit was ’n uitdagende skryfoefening. Maar ek het my – tot op hede – nie pertinent besig gehou met gedigte wat spesifiek ten doel gestel het om die kontemporêre Suid- Afrikaanse psige ontleed nie. Waar daar wel sulke kommentaar is het dit eerder gespruit uit ’n treffende beeld of emosie wat – gegewe die milieu waarbinne dit waargeneem is – onbewustelik kommentaar lewer op die Suid-Afrika van vandag. Tog, soos ’n mens ouer word en jou kinders groter, voel ek dat hierdie tema meer na die voorgrond sal tree in toekomstige werk.

GU: Ook dui “Repelsteeltjie i” (42), “ii” (56) en “iii” (60) op die sprokieselement in jou gedigte. Hier verwerk jy dit tot liefdesgedigte wat handel oor die kompleksiteite en pyn van moderne liefdesverhoudings  “blink pand om jou vinger / waarvan alleen nog ’n bleek sirkel om die vel getuig” en “die belofte van ongebore eersgeborenes / waarvan onbewus jou baarmoeder stil / en liggies / en dofweg spin” (“Repelsteeltjie iii”). Vertel meer oor die ontstaan van hierdie gedigte en waarom hulle nie as ’n eenheid geplaas is nie, maar wel afgewissel word met ander gedigte?

JM: Ek het ’n groot liefde vir sprokies en is veral geïnteresseerd in hulle oorspronklike aanwending as didaktiese instrumente. Ek dink dat baie mense (al krimp die getal) steeds droom van ’n sprokies- of ‘fairy-tale’ verhouding. In hierdie gedigte poog ek bloot om hierdie beeld te dekonstrueer. Die Repelsteeltjie-sprokie betrek ook die geweldige krag van name en woorde of om ’n gelukkige of ongelukkige uitkoms te bewerkstellig. Baie maal moet die digter ‘raai’; soms raai hy of sy reg. “Repelsteeltjie I” is veral meer van ’n meta-gedig as ’n liefdesvers. Om die drie verse bymekaar te plaas sou te obvious wees… nou is hulle grepe goue draad deur die bundel… om só verder die tema te versterk.

GU: In die tweede afdeling, “Dagboek”, kom die volgende motto van Danie Marais voor: “en niks, / is so vlambaar / soos eensaamheid en stilte nie”. Vier van jou gedigte het in Nuwe Stemme 4 verskyn, waarvan Danie Marais een van die samestellers was. Het sy digkuns ’n groot invloed op jou gehad? Hoe voel jy oor die Nuwe Stemme platvorm?

JM: Ek het Danie Marais se eerste bundel baie geniet… ek keer weer en weer daarna terug. Die toeganklikheid van die verse en die duidelike biografiese gegewens het tot my gespreek. Vir my het Danie dit weer lekker gemaak om gedigte te lees. En, alhoewel jy as digter versigtig bly om nie ander digters te emuleer nie, dink ek daar is wel elemente van Danie se aanslag in van my werk teenwoordig (byvoorbeeld die verwysings na pop-culture, ’n meer verhalende versvorm.)

Wat die Nuwe Stemme platvorm betref, bly ek ontstettend dankbaar vir die geleentheid wat Danie en Ronel  de Goede, sy mederedakteur, my hiermee gebied het en ek glo (en hoop) dat dit sal voortgaan om ’n waardevolle forum vir ongepubliseerde digters te wees.

GU: Jou gedigte getuig van belesenheid uit verskeie tradisies soos onder meer gesien uit die volgende titels: “Kundalini” (50), “Omphalos”(52), “Leto” (55), “Xipetotec” (58), en “Khamsin”. Is daar spesifieke titels van boeke en skrywers/digters en skryftradisies wat die keuse van jou onderwerpe geïnspireer het?

JM: Ek probeer wyd lees. Ek het ’n groot voorliefde vir wêreld mitologie. Brewer’s Dictionary of Phrase and Fable is een van my gunstelinge. Ek geniet die werk van Joseph Campbell, veral sy The Hero with a Thousand Faces waarin hy die sogenaamde monomite, die held se archetipese reis, postuleer. Ek geniet ook die werk van TS Eliot, veral “The Wasteland” – met sy stapeling van intertekste. Uit die verwysings sal dit ook duidelik wees dat ek ’n besonderse voorliefde vir Sheila Cussons en haar mitologiese verwysings het. Hierby moet ek ook Carl Jung se Man and his symbols voeg.

GU: Die bodhi-boom is bekend vir die boom waaronder die Boeddha uiteindelike nirwana bereik het. In “Bodhi” (68) is daar ’n intertekstuele verhouding in die laaste strofe met die Christelike tradisie: Christus se vervloeking van die vyeboom. Vertel ’n bietjie meer oor hoe die titel en hierdie strofe verband hou.

JM: Die gedig betrek hierdie element om iets te probeer sê oor die klein gewaarwordings wat voortspruit uit natuurlike elemente. Onder die bodhi-boom bereik Siddharta verligting; deur die vye kom daar ’n oomblik van duidelikheid oor ’n spesifieke verhouding met die spreker in die gedig. Die natuur kan as ’n entiteit op haar eie gesien word en hier is dit een van haar bome waaronder die Boeddha verlig raak, maar ook een van haar bome wat Christus frustreer. Al die karakters in die gedig, ongeag van wie of wat hulle is, kom tot een of ander gewaarwording tydens hulle interaksie met ’n natuurlike element.

GU: Jou reisgedigte getuig van fyn waarneming oor jou bestemmings asook die reis self, soos ’n tipiese langafstandvlug wat redelik kloustrofobies kan raak soos byvoorbeeld gesien in “Life vest under seat” (95). Hoe beïnvloed jou reise na ver bestemmings jou gedigte teenoor dié wat jy skryf wanneer jy tuis is? Is daar ’n reisgedig uit In ligte laaie wat jy met Versindaba as ’n lusmaker wil deel?

JM: Ek was bevoorreg om deur my werk te kon reis. Ek dink reis maak dit makliker om te dig. As ’n mens aanneem dat die digter met ’n ander invalshoek na die wêreld behoort te kyk, bied reis by uitstek hierdie invalshoekskuif. Jy word gebombardeer deur nuwe omgewings, kulture en gegewens. Die nuwe plekke en opinies vervreem ook die gegewens waarmee jy goed vertroud is; laat jou met ’n nuwe kop oor ou konsepte dink. Die ware toets vir ’n digter, glo ek, is om ook betekenisvolle verse te kan skep binne die – baie maal – saai roetine van die alledaagse gang van die lewe. Ek deel graag die gedig Leemte hier – bloot omdat ek baie van die finale beeld hou en omdat daar soveel sit in sulke klein, onverwagse, in-die-oomblik-wees momente:

Leemte

 

Vanuit die venster

van my hotelkamer in Lexington

kan ek die sneeuvlokkies volg soos hulle tydsaam val om

twintig verdiepings laer

in ’n warreling van wit te verdwyn.

Ondanks die gure weer kuier-kuier New Yorkers jolig

in jasse en musse, want

dit is Sondagaand en Superbowl-finaal.

 

Loer ek uit, kyk ek reg tot in die teenoorstaande gebou

met die verligte reghoeke van die metropolitaanse woonstelbewoners.

In die suite oorkant my eien ek

’n leunstoel, ’n staanlamp – ietwat outyds –

’n paar onherkenbare potrette teen ’n muur.

 

’n Ou man met ’n bril skuifel na die ruit

soos ’n akteur vanuit die vleuels

en kyk op.

 

Ons hou mekaar se blik

 

’n ewigheid

 

deur die drywende sneeu

tot hy sy kaak klem, frons

en die staanlamp

afskakel.

 

Die woonstelblok grinnik haasbek

soos ’n kind met ’n uittand.

 

 GU: “Ontvlees” (124) roep ’n makabere skoonheid op wat gevind word in die doodstradisies van die Zoroaster-geloof en Tibettaanse Boeddhisme, laasgenoemde wat gebaseer is op selfs ’n ouer, sjamanistiese tradisie genaamd Bön:

 

die Zoarasters het hul dooies

op torings van stilte bo die grond gelig

en aan die rawe oorgelaat

 

tot onlangs nog het ook die Tibettaanse Boeddhiste

met hul lugbegrafnisse

die dooies se verguisde, gekwartierde liggame

vir die roofvoëls

teen berghellings gelos

                     ’n taak aan die jong monnike opgedra

                      om die waarde van die liggaam te verteer

 

met my dood

laat sestig snawels my verskeur

om in ’n duisend kroppe te verteer

vanaf ’n krans wil ek die hiernamaals betrag

vanuit ’n stadig-verstenende wit skytstreep,

in ’n skeur

Is verganklikheid ’n tema wat jy as digter gereeld mee gekonfronteer word en watter rol speel dit in jou gedigte? Is daar spesifieke digters wat oor hierdie tema besin wat jou inspireer?

JM: Aangesien ’n hele afdeling in my bundel afgestaan is aan die verganklike sal ek hier skuldig moet pleit. Miskien is dit die “goth” van my tienerjare wat gevoed moet word. Ek is geïnteresseerd in die werk van die eksistensiële filosowe – veral Camus, Heidegger en Sartre. So miskien is dit nie soseer ’n belangstelling in die verganklikheid nie, maar hoe ons betekenis put uit die tyd wat ons het voor ons onafwendbare afsterwe. Ek kry die gevoel dat in ’n samelewing wat nou, meer as ooit, grotendeels op ’n beginsel van onmiddelike gratifikasie gebaseer is, hierdie vrae al hoe minder gevra word. Tog is hierdie besef van die ‘groot slaap’ iets waaroor ons almal, en soveel te meer die digter, op een of ander stadium moet besin – hopelik in ’n poging om meer sin aan ons besluite en optrede voor hierdie onafwendbare afspraak te gee. Daar is baie digters wat hieroor besin; ek vind veral byval by die pogings van Sylvia Plath en Czeslaw Milosz.

GU: Hoe het die voorblad van In ligte laaie tot stand gekom?

JM: Tydens die redigeringsproses het Daniel Hugo by Protea Boekhuis my gevra of ek enige insette oor die voorblad het. Ek het die illustrasie van die kabinet met die vlieënde laaie geskep en dit deurgestuur. Dit was bloot ’n speelse visualisering van die In ligte laaie titel, met die oranje wat die vuur simboliseer. Die uitlegkunstenaar by Protea, Hanli Deysel, het dit in haar ontwerp vir die omslag gebruik en met die toevoeging van treffende tipografie die omslag ontwerp. Ek is baie tevrede daarmee.

GU: Dankie vir ‘n heerlike gesprek, Jannie. En voorspoed met jou verdere digwerk.

Omslag

Jannie Malan. Suid-Afrika

Monday, October 4th, 2010

Suid-Afrika

 

Jy is ʼn taxi

wat jou lyf BMW wil hou.

 

ek sal

soos ʼn wafferse akrobaat

op jou kar se enjinkap wil spring

            jou styweskouer agter jou stuur laat versteen

en van voor af, reg van voor

teen jou vuil motorruit met ʼn vetpunt viltpen

in groot screechy letters skryf

 

jou insig in jou kortsig nóg verder beperk

en deur die ronding van my letters

eenogig vir jou loer

– is dié transparency nou deursigtig genoeg?

 

            voor ek met my MacBook Pro

reg deur die middel van my gedig

jou windskerm aan stukke slaan,

                                                            Suid-Afrika

beter jy in al elf jou tale bid

en hoop

            jou ruit is shatterproof.

 

 

© Jannie Malan 2010. Okt. 2010

 

Onderhoud. Nuwe Stemme 4

Monday, February 22nd, 2010

Twintig digters wat in Nuwe Stemme 4 opgeneem is, gee terugvoer op vrae deur Louis Esterhuizen

 

Deelnemende digters (in alfabetiese volgorde):

Fourie Botha, Lewies Botha, Corné Coetzee, Jan A.F. du Plessis, Sydda Essop, Francilié Hoek,

Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Jannie Malan, Hennie Meyer, Heidi Papadopoulus-Pienaar,

Bibi Slippers, Adél Steyn, Lou-Ann Stone, Marius Swart, André Trantraal, Karlien van der Merwe,

Niel van Deventer en Lize Viljoen.

 

Fourie Botha

 

Fourie Botha

Fourie Botha

Ek het op die Hoëveld en in die Marico-Bosveld grootgeword, en in Pretoria gaan studeer. Daar het ek vir ‘n opvoedkundige uitgewer begin werk. ‘n Paar jaar gelede het ek Kaap toe gekom. Op die oomblik is ek ‘n redakteur by ‘n uitgewershuis en werk ek meestal met Engelse fiksie. Ek bly in Woodstock.

Ek kan onthou dat ek in standerd twee ‘n gedig in paarrym oor ‘n rivier en die Anglo-Boereoorlog geskryf het waarvan my juffrou gehou het. Ek het nog altyd graag gedigte gelees en ek dink jy probeer jouself uitdruk in ‘n medium wat jy die beste ken. Waarom ek myself wil uitdruk, weet ek nie.

‘n Paar vroeë gedigte is op universiteit in Vlieg opgeneem, maar Nuwe Stemme is die eerste boek waarin my verse opgeneem is. Om in Nuwe Stemme te wees, is goeie aanmoediging.

Die Afrikaanse digkuns tans is ‘n ding met baie koppe en daar gaan eintlik verbasend baie aan vir ‘n genré wat so min rakruimte in die gewone boekwinkel opneem. Met Nuwe Stemme was dit ook vir my interessant om te sien hoe baie jonger mense so ‘n ou kunsvorm beoefen.

Persoonlik voel ek dat daar baie gedigte is wat volmaak of ‘reg’ is, al is hulle “klein” gedigte. Nie alle gedigte kan of hoef groots te wees nie. Maar dan is daar die grotes, soos William Blake se “The Tyger”, wat so perfek is dat jy dit op jou wil laat tatoëer.

 

The Tyger

 

Tyger! Tyger! burning bright

In the forests of the night,

What immortal hand or eye

Could frame thy fearful symmetry?

 

In what distant deeps or skies

Burnt the fire of thine eyes?

On what wings dare he aspire?

What the hand dare sieze the fire?

 

And what shoulder, & what art.

Could twist the sinews of thy heart?

And when thy heart began to beat,

What dread hand? & what dread feet?

 

What the hammer? what the chain?

In what furnace was thy brain?

What the anvil? what dread grasp

Dare its deadly terrors clasp?

 

When the stars threw down their spears,

And watered heaven with their tears,

Did he smile his work to see?

Did he who made the Lamb make thee?

 

Tyger! Tyger! burning bright

In the forests of the night,

What immortal hand or eye

Dare frame thy fearful symmetry?

 

© William Blake (uit: Songs Of Experience, 1794)

 

***

 

Lewies Botha

 

Lewies Botha

Lewies Botha

Ek het in die Vaaldriehoek, Sasolburg, groot geword en daar gematrikuleer in 1983. Ek het ‘n B.Com-graad by Universiteit van Pretoria verwerf en kon later registreer as Owerheidsouditeur. Ek is in die ouditeursberoep en is ook deeltyds betrokke by my vrou se besigheid. Ek het in Pretoria, Durban en Umthatha gewoon en gewerk voordat ek nou Oos London my tuiste gemaak het. Ek en my vrou, Karen is nou sewe jaar saam, ons is lief vir die lewe by die see en stap gereeld op die strand. My wortels lê egter diep in die familieplaas in die Oos-Vrystaat waarheen ek so dikwels moontlik gaan. Ek dig nie net nie, maar is ook besig met vele onklaar verhale en stories.

Die skeppingsdrang was maar so lank as wat ek kan onthou daar, ek het met boeke groot geword en vroeg as kind al baie gevorderd gelees. Hoe het die passie vir poësie ontstaan? Ek kan eintlik nie my vinger daarop sit nie, dit was maar altyd deel van my aard. Ek was nog altyd binne in my siel oortuig en het dit vanselfsprekend aanvaar dat ek eendag poësie sou publiseer. As tiener was ek ‘n groot Breyten Breytenbach-aanhanger, aanvanklik het sy lewenstorie my aangetrek. Breyten se Ysterkoei-bundel het gedigte skryf vir my “cool” gemaak. As ek moet sê (waar het dit ontstaan) dan was dit hierdie ontmoeting. Ek het net van toe af geweet. DJ Opperman se Bamboesstok-bundel was nog so ‘n oomblik, so ook die lees van Wally Serote se gedig wat Brink aanhaal in sy roman; “‘n Droë wit seisoen“. ‘n Verdere invloed was pop en rock-musiek; The Police, Queen, Pink Floyd selfs Anton Goosen. Toe Annesu de Vos debuteer wou ek opsluit self ook publiseer. Ek het nagte deur op ‘n ou klein tikmasjientjie gesit en tik, toetse geslaan tik tik tik, met tiklinte en sulke dun tikpapier en deurslag papier gesukkel. Ek was seker so 17 jaar oud toe ek my eerste manuskrip na Human en Rousseau toe gepos het, genadiglik het hulle dit afgekeur. Na my universiteits- en dienspligjare (1988-89) het ek half my rug gekeer op die hele Afrikaanse letterkunde en Afrikanerding , ek was half ontnugter ( dalk half met myself ook) In elk geval, ek het baie bewustelik ‘n belofte gemaak dat ek eers sal probeer publiseer as ek die dag veertig word. Jy moet verstaan dat die skeppingsdrang ‘n ontsettende intense energie, tyd en harde werk vereis en jou tot waansin kan dryf. Ek was besig om mal te word en kon net nie tevredenheid met my skryfwerk kry nie. Ek het ook besef dat ek nie met ‘n ryp eerlikheid en geloofwaardigheid kan dig voordat ek nie eers self bietjie die lewe ervaar het nie … Hierdeur het ek ook (die belofte) myself soort van onthef van die verpligting om skeppend te wees en ek kon met volle aandag aangaan met my ouditeursloopbaan. Ek het weer so in 2004 rond begin skryf, aanvanklik aan idees vir romans en kortverhale. Ek het blogs op die internet geskryf en gedigte begin plaas wat ek maar vingeroefeninge genoem het. Die terugvoer was nogal positief. Van my stories het soms, nadat ek dit tot die been geredigeer het, net enkele reëls oorgebly wat die struktuur van gedigte begin aanneem het. Ek het gevind dat poësie die genré is wat my omstandighede die beste pas (naweekskrywer). Intussen het ek ‘n intense liefde vir die poësie ontwikkel. Ek beskou myself as ‘n relatiewe jong digter en elke dag slyp ek nog aan my tegniese vaardigheid.

Ek is baie opgewonde om in NS4 opgeneem te wees; ek voel baie geëerd en natuurlik dankbaar. Dit is beslis die aansporing en die klop op die skouer wat my daardie selfvertroue gee wat nodig is om voort te gaan en nie op te gee nie. Ek hoop die blootstelling is die voet in die deur en baan die weg vir ‘n eie selfstandige debuutbundel. Ek dink al die Stemme-digters word dopgehou om te sien wat verder met hulle gebeur. Die vorige Stemme het bewys dat die projek van Tafelberg ‘n baie waardevolle rol speel om digters aan te spoor en bekend te stel. Loftus Marais is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n digter uit Stemme 3 wat ‘n baie suksesvolle debuutbundel gelewer het. Van my gedigte was voorheen opgeneem in Poort, ‘n publikasie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ‘n keur van hoërskoolleerlinge se werk was. Die een gedig dink ek het die tyd deurstaan, maar die ander is dalk ‘n goeie voorbeeld hoekom ‘n digter (in my geval in elk geval ) nie vroeg moet publiseer nie.

Hoe voel ek oor die Afrikaanse digkuns tans? Ek voel soms dit sal lekker wees as die Afrikaanse digkuns ‘n lekker oplewing kan beleef. Die voorgrond te kan betree met ‘n paar opwindende nuwe bundels of digters wat sommer ‘n klomp nuwe lesers aan die Afrikaanse digkuns sal blootstel. Ek vermoed uit die Stemme 4 is daar minstens een so digter/res met so ‘n sterk en relevante stem. Ons eersterangse digters, Breytenbach en Krog, Cloete en Hambidge en dies meer is wêreldklas.

My eie gedigte ontstaan omtrent vanself, hulle kry hulle eie lewe asof ek slegs die tussenganger is wat die gedigte gestalte gee. Ek maak baie staat op die krag van my onderbewuste en die tye wanneer die brein in sy droom stadium is. Daarna begin die harde werk, baie harde werk. Ek het amper ‘n kompulsiewe drang om te skaaf en te skaaf en verse word oor en oor geskryf, oor en oor gebore. My gedigte is nooit klaar nie. Ek moet gedwing word om hulle uit te los. Ek skat so 10 gedigte bly oor uit elke 100, elke geslaagde gedig stap maande saam met my. Ek glo aan ‘n streng suiwerings- en distileringsproses. Ek voel dit is my plig teenoor die leser , die gedig en die poësie, dat ek deurdag en met moeite die volmaaktheid soek. Amper intuïtief weet ek of ‘n gedig van my, nou werk… die volmaaktheid is ek jammer om te sê, ontwyk my tot dusver. My “amper volmaakte vers” sou huppel sonder om te struikel en hy verras met iets vars en tref ook met ‘n vuishou in die maag. WB Yeats se gedig the lake isle of innisfree (wat ek hier vir Afrikaans gesteel het) was altyd na aan my hart, ek laat dit aan u lesers oor om te oordeel of die of die oorspronklike naby aan die volmaaktheid kom en of ek geslaag het met my intuitiewe woordkeuses;

 

Skulpspruit innie Vrystaat

 

Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, gaan na die plaas innie Vrystaat

en daar vir my ‘n klein hartbeeshuisie bou met misvloer en populier

nege rye boontjies sal ek laat rank (organies) en ‘n hok vir die ganse hê

en ek sal alleen daar bly met net die ritsel van die rooigrasgeluid.

 

En ek sal rustig word daar en die sielevrede vind wat stadig neerdaal,

soos doudruppels pêrel oor jou aangesig in die smorensmis

en die nanag se glinstersterre en die maanlig purpergloed

en die vroeë skemer kalmte by die kuil, net naaldekokervlerke ghirts

en die geelvis rimpels maak.

 

Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, want elke dag en nag

hoor ek die spruitstroompies kabbel oor die klippe,

hier waar ek staan langs die teerstrate en die betongrys

hoor ek dit hier in my hart se diepste binneste druis

 

Met apologie aan  (The lake isle of Innisfree, WB Yeats)

 

***

 

Corné Coetzee

 

Ek is ‘n gedienstige taalsub by Beeld en Rapport, waar ek bly is dat ek werk het en salaris kry, maar ek verlang terug na my vryskut-skryf-dae by tydskrifte. My lekkerste werk was as fliek- en teaterresensent. Ek kry wel soms kans om vir Beeld iets te resenseer. En nou het ek baie meer respek vir en deernis en geduld met dramaturge en akteurs.  Ek is getroud met Hans en ons het twee wonderskone dogters.

Vandat ek kan onthou, steek daar soms ‘n woord of ‘n frase in my kop vas en lê daar rond vir ‘n paar dae. Soos wat jy ‘n spoelklip in jou hand sal rondrol. As ek gelukkig is, kom daar iets van. Poësie het my eers op universiteit begin bekoor: dit was deels G.M. Hopkins se digte, (vir my) moeilike sonette, deels die Nederlanders soos Gorter en Kloos (o, die ondraaglike verlange in die hart van ‘n 18-jarige) en deels Karel Schoeman se vertalings Uit die Iers.  

Enkele van my gedigte is in tydskrifte soos Karapaks, New Contrast en My ousie is ‘n blom opgeneem. Sommige digters wat in die Nuwe Stemme-reeks edebuteer het, het bekende digters geword.  Ons sal sien wat met NS4 se digters gebeur. 

Ek lees nie alles nie, maar sommige van die werk wat ek wel sien, is fantasties en opwindend. Soos Loftus Marais, Jeanne Goosen, Fanie Olivier, Hans Pienaar, Johan Myburg en Charl-Pierre Naudé. Dit sou gaaf wees  as poësie meer gereeld meer aandag en ondersteuning kon kry. Soos byvoorbeeld Ruth Padel se “The Sunday Poem” wat ‘n paar jaar gelede gereeld in die London Sunday Independent verskyn het. Of gereelde voorlesings in die kerksaal. Of in mense se sitkamers.

Vir my is ‘n Sheila Cussons se “Christ of the burnt men” ‘n bykans perfekte vers.

 

Christ of the Burnt Men

 

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende

skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare

op jou afstand gadegeslaan het: jy het

jou hande nie tóé uitgesteek toe ek

jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie

maar fel jou kruis geteken oor my, in hand

en voet en romp en hoof, en deur die beswyming

onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke

kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag

van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë

blink van ‘n verskriklike akkoord.

En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur

van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –

– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand

as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand

onder my eenvoetig-springende begrip agter jou

ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik

omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel

met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:

drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees

wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry

opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy

dat ek moet sê, heeluit moet sê: grýp my hande dan,

amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

 

© Sheila Cussons

 

***

 

Jan A.F. du Plessis

 

Jan du Plessis

Jan du Plessis

Jan A.F. du Plessis is ‘n 47-jarige losloper boeksmous (Boekerij by hAp – huis vir Afrikaanse poësie – in Capital Park, Pretoria). Hy het aan Tukkies studeer (fisika, wiskunde, tale, sielkunde en filosofie). Ook bekend as DJ Kamikaze wat jare lank by al die groot raves die chill room behartig het. Maak elektroniese musiek onder die name Bliss Abyss en Oto Kagami (Japannees vir klankspieël). Aan fliek verslaaf en dol oor reis (17 keer Londen en die hele Europa plat). Fanatiese versamelaar (oor die 16 meter se Afrikaanse digbundels en kan die 100 meter hardloop op sy meer as 300 voet se langspeelplate en meer boeke as wat mens in 3 leeftye sonder slaap sal kan lees).

Was sedert 1999 by oor die 100 Bekgeveg Poetry-slams betrokke (as klankman en DJ). Hy skryf gedigte omdat dit die kunsvorm is wat die meeste met die minste vermag en hou baie van vertaling (veral iets uitdagends soos Dylan Thomas). Wil graag die eerste digter word om op die maan voor te lees (ha-ha).

Ek was van kleins af gefassineer deur woorde en hulle mag om realiteit letterlik te skep en verander. Was altyd gespot: jy’s seker in ‘n biblioteek gebore. Dan het sekere onderwysers en lektore ook gelukkig op die regte tye en plekke my pad gekruis (dankie veral miss Mouton en Prof Stephen Finn). Het hoofsaaklik in Engels gedig na skool, maar op ‘n stadium (in ‘n ysige Londen) weer die vars, jong en vernuwende loslit plastisiteit van Afrikaans herontdek en daarin begin dig. Die voorlees-aande by Up the Creek en die Inklings diggroep op Tuks was ook baie inspirend. Dan, natuurlik, om met digters van die kaliber van Henning Pieterse, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert en nog vele ander by die Bekgeveg Poetry-slams betrokke te wees was om werklik te sien hoe eet, slaap en leef ‘n mens digkuns.

Nuwe Stemme 4 is inderdaad my eerste mpublikasie, naas die paar gedigte in Inklings en ‘n stukkie poesie concrete in die eerste uitgawe van POMP-tydskrif.

Na my mening is die stand van Afrikaanse digkuns redelik kerngesond, al word algemeen aanvaar dat daar veels te min digbundels publiseer word (almal weet van die baie klein nis-mark – vra my, ‘n boekhandelaar – en nou boonop nog die afwaartse ekonomiese neiging). Vir my bly digkuns die lewensbloed en kroonjuwele van ‘n taal en moet dit gekoester word. Dis die kanarie in die mynskag en barometer en EKG-masjien van ‘n taal se welstand en vooruitsigte op voortbestaan.

‘n Gedig soos diė volgende een van Dannie Abse druk al my knoppies:

 

Elegy for Dylan Thomas

 

All down the valleys they are talking,

and in the community of the smoke-laden town.

Tomorrow, through bird-trailed skies, across labouring waves,

wrong-again Emily will come to the dandelion yard

and, with rum tourists, inspect his grave.

 

Death was his voluntary marriage,

and his poor silence sold to that rich and famous bride.

Beleaguered in that essential kiss he rode

the whiskey-meadows of her breath till, mortal, voiceless,

he gave up his nailed ghost and he died.

 

No more to celebrate

his disinherited innocence or your half-buried heart

drunk as a butterfly, or sober as black.

Now, one second from earth, not even for the sake

of love can his true energy come back.

 

So, cease your talking.

Too familiar you blaspheme his name and collected legends:

some tears fall soundlessly and aren’t the same

as those that drop with obituary explosions.

Suddenly, others who sing seem older and lame.

 

But far from the blind country op prose,

wherever his burst voice goes about you or through you,

look up in surprise, in a hurt public house

or in a rain-blown street, and see how

no fat ghost but a quotation cries.

 

Stranger, he is laid to rest

not in the nightingale dark nor in the canary light.

At the dear last, the yolk broke in his head,

blood of his soul’s egg in a splash of bright

voices and now he is dead.

 

December, 1953

 

© Dannie Abse

 

***

 

Sydda Essop

 

Sydda Essop

Sydda Essop

Gebore In Beaufort-Wes, skoolgegaan en toe Universiteit Kaapstad toe om in die kunste te gaan studeer. In die tagtiger jare, te Kaapstad betrokke met die “Wynberg Crisis”-organisasie , gedurende die stryd ,om bystand te lewer aan ouers en kinders wat betrokke was met “Public Violence”. Was ook betrokke met “Vakalisa” die eerste Multi-kulturele organisasie in die Kaap.  Raak betrokke in familie besigheid en raak toe voltyds gemeenskap aktivis in die Groot -Karoo en is ook betrokke by die Beaufort- Wes Museum beter bekend as die Chris Barnard-museum.

Ek het seker maar in die standerd nege (graad 11) wiskunde eksamen klas begin om gedigte te skryf. Toe kla ek maar op papier oor my sorge! Ja, natuurlik ook die feit dat ek “in die apartheidsjare ” groot geword het.  Dit het my baie gepla- in my stilte maar geskryf.of dit nou gedigte was weet ek nie!

Gedurende 1989 het van my gedigte ook verskyn in  ‘n digbundel “ I Qabane Labantu“, onder die redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse; Poesie in die noodtoestand.

Dis wonderlik en bemagtigend om deel te wees van Nuwe Stemme 4. Die erkenning is wonderlik maar ek besef ook en is altyd bewus van die feit dat  jou reis deur die lewe gesaai is met ‘beskerm-engele”  wat saam met jou die pad stap en vir my is dit in die vorm van my mentor: Ronel de Goede (Foster) en die gemeenskap oor  wie ek skryf.

Die gedigte van  Louis Leipoldt ,Elisabeth Eybers, Adam Small het baie na aan my hart kom lê – Diana Ferrus en Gert Vlok Nel. (Ek verstaan van wat hulle  praat, dit maak sin) . Ek is ook baie lief vir die digters en skrywers van Noord-Afrika, Midde-Ooste en Indië. Maar die Afrikaanse digkuns soos dit tans nou  daaruit uitsien? Ek weet nie….

Sjoe, ‘n “volmaakte vers”?… vir my, as ek mag…. Ronel de Goede se gedig “Habie en Piesie” uit “Skoop”:

Habie en Piesie

 

Habie en Piesie het saam gelewe

Waar die Papegaaiberg pryk

En die dun naalde in die naglug swewe

As die wind die denne stryk.

 

Habie en Piesie het saam geswerwe

Waar die druiwe-dinkgoed bloei

En die sagte grafiet, deur die silikon verderwe

In die pm-tyd, nog groei.

 

Habie en Piesie het saam gesanik

In die aand teen die vollemaan:

Sluit ek my oë vannag, dan wens ek

Ek kan hulle taal verstaan.

 

Habie en Piesie het saam gesterwe

Waar die denneland hom nog strek.

Daar’s niks as die speletjie om oor te erwe,

En niks om daaruit te trek.

 

 

 

© Ronel de Goede

 

***

 

Francilié Hoek

 

Francilié Hoek

Francilié Hoek

Kind gewees in Van den Heever se Hoëveld en blink-oog student in Koos Dup se jakarandastad.  Die lewe in oordaad ontdek as bloedjong onderwyseressie in ‘n als-behalwe-grys London!  Deesdae is ek sielkundige by ‘n remediërende skool aan die Wes-Rand.  In my hart woel die passie om kinders te help om die tower in hul lewensstorie raak te kyk.  In my kop reis ek steeds na anderland (vanaf 14 Nov 2009 aan die sy van my droomman!).  In wese wil ek als met woorde mooier maak.

Miskien het my opgewondenheid oor poësie as Laerskoolkind ontstaan, met die ontdekking van Breyten se Ysterkoei-bundel in my pa se boekrak.  Al kon ek nie ‘n enkele sin verstaan nie, het die woorde vir my ‘n magiese bekoring ingehou en het ek dit skelm onder my bed weggesteek en laatnag gelees as almal slaap. Of dalk by die “dramatiese” aanhaling van ‘n Krog gedig in Sonkring!  Miskien voor al bogenoemde nog, met die andersheid van my naam.

Buiten gedigte in skooljaarblaaie, het ek van my gedigte verskyn in Vlieg (UP) en Inkvars van die BSV. Die opname van my gedigte in Nuwe Stemme 4, is egter die eerste regte-egtige boekpublikasie daarvan.

Vir my is Breyten se “Ek sal sterf en na my vader gaan” ‘n inspirerende vers.

 

Ek sal sterf en na my vader gaan

 

ek sal sterf en na my vader gaan

Wellington toe met lang bene

blink in die lig

waar die kamers swaar en donker is

waar sterre soos seemeeue sit op die nok

en engele vir wurms spit in die tuin,

ek sal sterf en met min bagasie

in die pad val

die Wellingtonse berge oor

tussen die bome en die skemer deur

en na my vader gaan;

 

die son sal in die aarde klop

die wind se branders laat die voeë kraak

ons hoor die huurders

skuurloop bo ons kop,

ons sal dambord speel op die agterstoep

– ouvader kul –

en oor die radio

luister na die nag se nuus

 

vriende, medesterwendes,

moenie huiwer nie; nou hang die lewe

nog soos vlees om ons lywe

maar die dood beskaam nie;

ons kom en ons gaan

is soos die water uit die kraan so

soos klanke uit die mond

soos ons kom en ons gaan:

ons béne sal die vryheid kén –

kom saam

in my sterf in in my na my vader gaan

Wellington toe waar die engele

met wurms vet sterre uit die hemel hengel;

laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:

mý vader het ‘n groot bôrdienghuis

 

(c) Breyten Breytenbach

 

***

 

Pieter Hugo

 

Pieter Hugo

Pieter Hugo

Ek is ‘n pastoriekind, ‘n bibliotekaris en nou, uiteindelik, net-net, ‘n gepubliseerde digter. Overgesetsynde dus, leef ek weens, vir en van die geskrewe woord. Dit doen ek tans in Kaapstad, maar vorige adresse sluit in Beaufort-Wes, Bonnievale, Worcester, Malawi, Stellenbosch (student), Windhoek (kind) en Greyton (baba). Ek het grootgeword met my pa se onophoudelike woordspel en oudgeword met my broer, Daniel, se vernuftige poësie. Eersgenoemde het my op skool al geinspireer tot tienergediggies. Laasgenoemde het my vir baie jare eers geinhibeer, maar gelukkig later, met sy aanmoediging, geinspireer.

Nuwe Stemme 4 is my eerste aansienlike publikasie (nie van omvang nie, maar van aansien). Ek voel geëerd. En hoopvol. Maar veral verlig. Die ys is nou gebreek.

Myns insiens is ons Afrikaanse digkuns tans baie fikser en leniger as in die oorgewig 70’s en 80’s toe dit te maklik was om gepubliseer te word. Dis ook uiteindelik lekker losbek losgat loslit na die post-apartheid 90’s se siellose euforie en polities korrekte depressie. (O, dis darem lekker om sulke sweeping statements te maak. Ek kan nie wag om te sien hoe dit uitmekaargetrek gaan word nie!)

Die “volmaakte vers” moet volgens my so veel as moontlik sê in so min as moontlik woorde, sonder om dit wat eintlik gesê word, pront-uit te sê.

‘n Perfekte voorbeeld van so ‘n “volmaakte vers” is ‘n triolet in Drs. P se boekie, Ons Knutselhoekje, (p.11.)

 

Een trage, lauwe regen

Een troebel ochtenduur

Een vreugdeloze zegen

Een trage, lauwe regen

De mannen stonden tegen

De veelbesproken muur

Een trage, lauwe regen

Een troebel ochtenduur

 

© Drs. P.

 

***

 

Willem Jansen

 

Willem Jansen

Willem Jansen

Ek haal die kort skets aan uit my profiel op LitNet:  Willem Jansen is ‘n 40-jarige professionele argitek wat hom onder andere ook besig hou met skryf en die teater. Sy “roots” is Noord-Kaaps, sy stam Oos-Kaaps, sy takke Wes-Kaaps en sy blare hopelik eendag orals. Twee van sy tekste is al opgevoer: Fuses & ander Connections (KKNK 1992) en Vrypas (KKNK 2005 en Grahamstad-fees 2006; benoem vir ‘n Kanna). Hy het al stelle ontwerp vir onder andere Liz Mills, Mark Fleishman en Heike Gehring. Hy woon tans in Boston, Bellville, met ‘n beautiful lover, twee honde (Blommie en Sausage) en ongeveer 34 visse. Hy is ontettend gelukkig dat hy die titel “Poet” uiteindelik agter sy naam kan plaas.

Ek kom van ‘n konserwatiewe dorpie af.  Die meeste boeke wat ek sou wou lees was nie beskikbaar nie. Die wat ek mog lees het my verveel tot die dood toe oor dit hulle duisende blaaie gevat het om niks te sê nie.  Ek het Lina Spies voorgelees in die Dopper kerk en ‘n doodse vrees gehad vir die antie in die biblioteek.  My enigeste troos was ‘n reeks groen boeke vervuil met mitologie en wetenskap. Ek wens ek kan onthou waar ek dit in die hande gekry het, maar Sewe dae by die Silbersteins beland toe in my skoot en ‘n eerste lig switch aan.  Toe lees ek Antjie se “Ma” en besef jy kan vyftig boeke opsom in  twintig reëls.  Nog ‘n lig.  En toe laat Breyten sommer die son opkom. Die eerste keer wat ek self ‘n poem geskryf het (wat nie onder skoolmenere se dwang moes uit nie) was op universiteit.  Ek was huilerig oor ‘n verlore liefde en kon geen ander manier kry om myself uit te druk nie: “vandag het ek jou nodig / net jou lippe / en ‘n blink in jou oë / en joú hande in my hare.” Poësie het my jare se kopdokter rekeninge gespaar…

Van my gedigte is saam met van my prosawerk opgevoer in ‘n produksie by die KKNK en die Grahamstown National Arts Festival as “Vrypas”, maar niks is nog gepubliseer nie (litnet uitgesluit).  Nuwe Stemme 4 is dus ‘n eerste vir my.  Ek het ‘n klomp van die Nuwe Stemmers van die Kaap persoonlik ontmoet en dink hulle almal (en hulle werk) is ongelooflik.  Die res se werk het ek onder oë gehad en is net so impressed.  By implikasie beteken dit dat my werk ook ten minste skaflik is.   Dis ‘n uiters bevredigende warm gevoel in die borskas en ‘n vlinderstuipe in die maag.

Ek geniet die ding van “gedigte-maak” nou weer.  Daar was ‘n rukkie wat dinge vir my of te slim of te “please tog net vir almal” was.  Ek het ‘n voorliefde vir die subversiewe of “die ander” kant van kuns en skryfwerk.  Die jong klomp (en ek sluit die rockers in) is besig om groot vernuwing te bring; en hulle is passievol daaroor! ‘n Nuwe heroiese periode. Dis baie exciting.

‘n “Volmaakte vers” het ek nie regtig in my kop nie.  Sommige verse mag tegnies perfek wees, maar ontroer nie juis nie. Ander roer my weer, al is hulle tegnies maar so-so.  Daar is vir my ongelooflike songs; Ne me Quitte Pas, La Chanson des Vieux Amants (beide Brel), gatskop poems; ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster (Krog), Skisma (Goosen) en roerende stukke graffiti;  “Sometimes I feel so sick at the state of the world I can’t even finish my second apple pie” (Banksy). O, skielik onthou ek een:

 

‘n Geel transvestiet op hakke

swalk telkens berekend verby

haar boude lil geil in haar sjoebroek,

maar kan sy ‘n straight man verlei?

 

© Hennie Aucamp

 

***

Annie Klopper 

 

Annie Klopper

Ek het hoofsaaklik grootgeword op Merriespruit en Brackenfell – ‘n klein Vrystaatse myndorp en ‘n Kaapse voorstad, maar het ook al gewoon op onder meer Roodepoort, Riebeeckstad, Randfontein, Vredendal en Stellenbosch. My BA (Geesteswetenskappe) Honneurs en Meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde behaal ek op Stellenbosch waarna ek na Kaapstad verhuis. Vandag is ek gevestig in Tamboerskloof van waar ek as redakteur werk vir Protea Boekhuis. Wanneer ek nie lees nie, skryf ek – meestal oor musiek. Op die oomblik is ek besig met die skryf van Fokofpolisiekar se biografie.

Ek kan nie onthou hoe dit gekom het dat ek begin dig het nie. Ek vermoed musiek en die Kleuterverseboek het ‘n groot rol gespeel. Ook tienerangs, myndorpe, voorstede en die Namakwaland.

NS4 is nie my eerste publikasies nie. Ek het gedebuteer in Versindaba 2008 en ook verse in Penseel (‘n bundel uitgegee deur die Universiteit van Stellenbosch) gepubliseer as student. ‘n Opname in Nuwe Stemme is vir enigiemand wat gedigte skryf sekerlik ‘n groot mylpaal. Dis veral lekker om toevallig saam met twee van my goeie vriende van wie se werk ek baie hou, opgeneem te word: Hunter Kennedy en Marius Swart.

Digkuns is iets waarvan die digter moet hou en as ander mense toevallig ook daarvan hou, is dit ‘n bonus. Ek hou nie daarvan as dit ‘n resies tot prestige raak nie. Ek háát dit as digters hulleself te ernstig opneem. Sulke gedrag maak my skaam om te sê ek skryf gedigte en belemmer die groei van die Afrikaanse poësie. Ek is opgewonde oor jong digters soos Loftus Marais, Marius Swart en Hunter Kennedy (sien: liriekskrywer-skuinsstreep-digter). Ek is ook besonder opgewonde oor die interessante Afrikaanse kletsrymtendens wat tans aan die opleef is. Daar is ‘n groei in Afrikaanse digkuns, dit kom net uit ander oorde as in die verlede – veral musiek.

As daar iets soos die volmaakte vers was, sou ek graag my kleim daarop wou afsteek, maar ek dink nie daar is so iets nie. Ek kan egter my gunstelingreël aanhaal. Dit kom uit ‘n Fokofpolisiekar-liedjie:

“daar is gif in jou kinders se kos / daar is tydbomme in gapings van opvoeding gelos”.

 

***                                                                                                           

Jannie Malan

 

Jannie Malan

Jannie Malan

Ek is in die Kaap gebore, maar het in die destydse Transvaal skool gegaan. In die geesteswetenskappe studeer en toe in uitgewerswese gespesialiseer. Ek het oor die jare onder andere gewerk as uitgewer, boekverkoper en grafiese kunstenaar. Tans, werksaam as konsultant, help ek met die skep van innoverende e-opleiding en die implimenteer van kennisbestuurstelsels. Ek is getroud en het twee pragtige, engelse dogtertjies, vir wie ek Afrikaans probeer leer; en soveel ek kan lees, skryf, skilder en kook ek. Musiek is ook ‘n passie, veral alternative en indie en sogenaamde Americana.

Ek was bevoorreg genoeg om ‘n ma te hê wie ons as kinders aangemoedig het om te lees. Toe ek dus aan my emosies en gedagtes uiting wou begin gee was skryf die voorhandliggende medium. Ek het op laerskool reeds twee boekies geskryf (dink Fritz Deelman met dierekarakters!) wat ek aan my skoolmaats teen vyf sent uitgeleen het. Deur die turbulente tiener-jare het skryf ook aan my ‘n uitlaat gegee. Ek het maar net altyd met hierdie ‘ding’ binne my gesit om op ‘n manier my leefwêreld op papier verstaanbaar te maak en ook om aan ander te kan sê: “hey, staan stil, dink tog net ‘n bietjie… there’s more to it“. Dit was veral die uitdaging van die gedig se ekonomie van woordgebruik wat my aangegryp het… om met so min as moontlik, soveel moontlik te suggereer. En dan weer aan die ontvangkant, die leser se (baie maal verassende) ontsluiting van die gedig. Hierdie, byna alchemistiese proses, fassineer my.

Alhoewel ek voorheen enkele gedigte aanlyn en in klein, onafhanklike bloemlesings gepubliseer het, is Nuwe Stemme 4 inderdaad my eerste ligit publikasie. Dit is ‘n hengse voorreg om deel van hierdie groep te wees. Die proses om tot by publikasie te kom was van onskatbare waarde, en ek kan net ‘n reuse “dankie” sê vir die twee samestellers, Ronel en Danie en vir Riana, by Tafelberg uitgewers. Dit is eindelik ‘n tasbare bevestiging dat ek tog darem iets beet het met my skryfwerk. Tog ervaar ek ook dat hierdie voorreg gepaard gaan met persoonlike verpligting. Vertroue is in jou geplaas… nou is die onus op jou om te woeker; om ‘n bydra te maak.

In Suid Afrika bly digkuns steeds die stiefkind van die literatuur. Tog voel dit vir my asof daar ‘n nuwe energie in die Afrikaanse digkuns is. Veral die pogings om Afrikaanse gedigte meer toeganklik te maak. Daar is digters met veel meer diverse agtergronde wat tot die gesprek toetree. Die  vertroebeling tussen die grense van verhaal, gedig, liriek en liedjie is ook ‘n baie interessante verskynsel. Die goeie, leesbare digkuns is daar, die probleem is steeds dat ons sit met ‘n leserspubliek wat onder die wanindruk verkeer dat gedigte slegs vir ‘n uitverkore groepie intellektuele individue beskore is. En selfs al word ‘n gedig hoe “toeganklik”; in ‘n wêreld van kits-gratifikasie en oppervlakkige massa-media gaan dit steeds moeiliker wees vir ‘n medium wat tog vra dat die leser op meer as net vlietende aard daarmee moet omgaan. Digters sal moet kyk na innoverende maniere om hul werk by die lesers te kry, miskien deur middel van tegnologie of onortodokse aanbiedingsmetodes.

As voorbeeld van ‘n bykans “perfekte” vers haal ek graag Loftus Marais se Still life with wild life uit sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters aan:

 

Still life with wild life

 

hier slaap almal. ook karen se man

wat vandag die gras gesny het.

maar karen is ‘n insomniac vanaand

in haar smaakvolle nagjassie voor die kassie:

een of ander david attenborough special.

bokkies word deur leeus verskeur.

sebras kopuleer.

‘n vlieg verdwyn in ‘n giftige blomkelk.

sy vat ‘n sluk warm melk, sit haar glas

op ‘n coaster, kyk verder.

buite in die stilte groei die gras

 

© Loftus Marais

 

***

 

Hennie Meyer

 

Hennie Meyer

Hennie Meyer

Ek het in 1989 gematrikuleer aan die Hoërskool die Wilgers.Ek is 38 jaar oud en woon my hele lewe nog in Pretoria. In 2007 was ek ‘n finalis van die Sasol Nuwe Handtekeninge Kompetisie. In 2008 het ek my eerste volwaardige uitstalling van my konkrete poësie, Winkel van Wanklanke, gehou by die Tina Skukan-gallery in Pretoria. In 2009 het ek ook ‘n uitstalling gehou by die Woordpoort in Pretoria. Ek neem ook deel aan die projek, Oor die einders van die bladsy, wat by vanjaar se Woordfees uitgestal gaan word. Van my verse het verskyn in die CD, Klikspringer, wat deur Dr. Ian Raper saamgestel is. Die afgelope drie jaar het ek gewerk by Unisa se administrasie. Ek is ongetroud. 

 Ek was nog op laerskool toe ek al begin het om gedigte te skryf. Verder was en is dit nog steeds ‘n ontdekking deur die lees en skryf van poësie en is dit vir my ‘n groot eer om gekeur te wees vir Nuwe Stemme 4.

Ten slotte moet ek erken dat ek nie op hoogte is ten opsigte van al die bundels wat verskyn nie. So; laat ek liewer nie ‘n uitspraak waag ten opsigte van die stand van die Afrikaanse digkuns nie. Vir my is onderstaande gedig van DJ Opperman wel ‘n voorbeeld van ‘n bykans perfekte vers:

 

Wildernis

 

Watter boom se bitter wortel

watter beentjie van die tortel

 

sal die hart teen bose gees

beskerm en van eensaamheid genees?

 

Sal die kranse en die wildepeer

tot sin en ewigheid besweer?

 

Met die jare word die kamer

daagliks onherbergsamer

 

en buite kom ‘n kilte

dieper uit die klip en stilte,

 

buite agter ‘n miershoop lê

die maer lyk van Eugène Marais

 

(c) DJ Opperman

 

***

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Ek is in Pretoria gebore, maar het grootgeword op Hoëveldse myndorpe en in Zoeloeland, alhoewel ek aan  die Pretoriase Hoërskool vir Kuns, Musiek, en Ballet gematrikuleer het. Tans hou ek skool saam met Poolse nonne en priesters by Mary Immaculate Nursery School; meestal vir kinders van Alexandrië. Werk vir die Internasionale Beweging vir verstandelik gestremdes, Faith and Light of Foi e Lumiere onder die Franse filosoof en professor in Morele Etiek, Jean Vanier, waarvan ek die Gautengse nuusblad behartig.

As skolier het ek die ATKV-Eerste Prys vir ” vryskryf” in Empangeni laerskool in standard vier gewen. Deur my ouers se belangstelling en liefde vir die Letterkunde was daar altyd ‘n goedtoegeruste “huisbiblioteek” vol klassieke werke van oor die hele wêreld.

Hierdie is egter nie my eerste publikasie nie; my gedigte word gereeld deur Die Woordgilde uitgegee. Het ook jare galede in die Poetry for Africa-reeks in Afrikaans en Engels gepubliseer. Van my gedigte was al voorgelees deur o.a. Petru Wessels, die bekende aktrise. ‘n Lid van die Woordgilde se seun in Londen het my toestemming gevra om my wengedig (laaste Woordgilde-kompetisie ) op die internet rond te stuur.

Die Afrikaanse digkuns het deur ‘n droë tydperk gegaan weens ‘n bloedskandelike “kliek van gevestigde en bevoorregte skywers wat nie hul plekkie in die son wou afgee nie.Volgens my Engelse vriende wat baie van Afrikaanse gedigte hou, is die “plat, platter,platste” taal juis geaffekteerd.Maar ek is veral verras oor die nuwe ekologiese temas wat deesdae in baie digters se werk voorkom. Dis ook of daar ‘n meer konserwatiewe streep onder die jongklomp is en meer godsdiesntige gedigte wat welkom is.

Die laaste strofe van Breyten Breytenbach se gedig “Met ‘n bossie bergblomme” vind ek besonder inspirerend.

Oeillets du poète :klein oë van die digter

en as jy lank genoeg daarin kan kyk

sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk

tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg

na die berge deur die venster

 

© Breyten Breytenbach (uit: Met ‘n bossie bergblomme“)

*** 

Bibi Slippers

 

Bibi Slippers

Bibi Slippers

Ek is in 1983 in Bloemfontein gebore en was as baba mal oor komkommers.  Terwyl my ma eendag ‘n komkommer staan en sny het, het ek so opgewonde geraak dat ek uit my babastoeltjie gespring het, en op my kop geval het.  Van toe af is my lewe baie opwindend.  Ek was op skool op Empangeni, en daarna het ek my Drama Lisensiaat voltooi en in Pretoria gaan studeer:  BA Beeldende Kuns en BA Tale.  Na my studies is ek vir 2 jaar oorsee, maar het vroeg in 2010 terug gekom SA toe om my MA graad in Kreatiewe Skryfkunde te doen aan die Universiteit van Stellenbosch.  My obsessies is hase, skape en gedigte.  En ek hou nogsteeds baie van komkommer.    

Ek vermoed dit in die bad was wat ek begin skryf het, toe ek baie baie klein was.  Ek het so water-proof boekie met die naam “Pikkie Pikkewyn” gehad, en ek het daai rymende verhaaltjie oor en oor vir myself “gelees”.  Later het ek in spraak-en-drama klasse op skool ‘n liefde vir Afrikaanse digkuns ontwikkel, en so voel-voel begin skryf.  Ongelukkig was Pikkie Pikkewyn die duidelikste invloed.  Ek het eers aan die Universiteit van Pretoria werklik ‘n passie vir die “kuns” in digkuns ontwikkel, maar ek is nogsteeds nie heeltemal ontslae van Pikkie nie.     

Van my gedigte is voorheen op Litnet en Itch gepubliseer, maar Nuwe Stemme is my eerste ink on paper publikasie, en dis opwindend want boeke ruik lekkerder as rekenaars.  Ek voel besonder bevoorreg om in die bundel opgeneem te word, omdat ek al jare lank ‘n fan is van Nuwe Stemme. Vandat ek die ander digters in Nuwe Stemme 4 se gedigte gelees het, voel ek ook klein, humbled en baie lucky.

Oor die stand van die Afrikaanse digkuns voel ek sommer baie opgewonde.

‘n Perfekte vers volgens my? Wel, ek gaan gulsig wees en sommer twee aanhaal. Die eerste is die laaste woorde van Alex, ‘n African Gray papegaai, wat met behulp van navorser Irene Pepperberg 100 woorde geleer het en heel goed kon kommunikeer.  Voor sy dood sê hy aan Pepperberg:  “You be good.  See you tomorrow.  I love you.”  

Die tweede is deur Michael Ondaatje.

 

The Cinnamon Peeler. 

 

If I were a cinnamon peeler

I would ride your bed

and leave the yellow bark dust

on your pillow.

 

Your breasts and shoulders would reek

you could never walk through markets

without the profession of my fingers

floating over you.  The blind would

stumble certain of whom they approached

though you might bathe 

under rain gutters, monsoon.

 

Here on the upper thigh

at this smooth pasture

neighbour to your hair

or the crease

that cuts your back.  This ankle.

You will be known among strangers

as the cinnamon peeler’s wife.

 

I could hardly glance at you

before marriage

never touch you

– your keen nosed mother, your rough brothers.

I buried my hands

in saffron, disguised them

over smoking tar,

helped the honey gatherers…

 

When we swam once 

I touched you in water

and our bodies remained free,

you could hold me and be blind of smell.

You climbed the bank and said

 

                             this is how you touch other women

the grass cutter’s wife, the lime burner’s daughter.

And you searched your arms 

for the missing perfume

                                   and knew

 

                        what good is it

to be the lime burner’s daughter

left with no trace

as if not spoken to in the act of love

as if wounded without the pleasure of a scar.

 

You touched

your belly to my hands

in the dry air and said

I am the cinnamon

peeler’s wife.  Smell me.

 

© Michael Ondaatje

 

***

 

Adél Steyn

 

Adél Steyn

Adél Steyn

Ek is op Vryburg gebore en het my kinderjare op klein dorpies in die Noord-Kaap en Noord-Weste deurgebring: Reivilo, Niekerkshoop, Griekwastad en toe Prieska, waar ek op hoërskool was. Daarna het ek op Stellenbosch studeer waar ek vir ‘n paar jaar as spraakterapeut gewerk het voordat ek voltyds ma geword het. Ons bly vanaf Januarie vanjaar op Harrismith in die pragtige Oos-Vrystaat, waar ek nou deeltyds vertaal- en redigeerwerk doen.

My liefde vir poësie het ek met my moedersmelk ingekry. Ma ma het baie vir my gesing en Afrikaanse gedigte voorgedra wat sy nog van haar skooldae kon onthou. Dit het my betower. Ek onthou goed hoe sy vir my liedweergawe van die aangrypende gedig “Amakeia” (deur A.G. Visser) gesing het, sodat dit my byna tot trane gedryf het!  As laatlamkind het ek baie wonderlike en verbeeldingryke alleenure gehad wat ek met boeke verwyl het. Ek het gediggies geskryf vandat ek kon skryf.

Nuwe Stemme 4 is die eerste publikasie van my gedigte in boekvorm. Daar verskyn ook ‘n gedig van my in Onse mense, ‘n boek met skilderye deur die Stellenbosse skilder Marié Stander, wat ook op vanjaar se Woordfees bekend gestel gaan word. Dat ek opgeneem is in Nuwe Stemme 4 is ‘n reuse eer en inspirasie om doelgerig aan ‘n eie bundel te werk.

Ek dink daar is tans in die Afrikaanse iets vir elke lesersmaak. Daar is heelwat nuwe bundels van goeie gehalte.  Maar dit bly ‘n moeilike vraag, omdat dit altyd moeilik is om kuns te beoordeel.

As voorbeeld van ‘n “perfekte vers” kan ek nie anders nie as om die eer te gee aan een van die boumeesters van die Afrikaanse poësie:

 

Die dans van die reën

 

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

 

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

 

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

 

En haar krale skud,

en haar kopperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

 

© Eugène N. Marais

 

***

 

Lou-Ann Stone

 

Lou-Ann Stone

Lou-Ann Stone

Ek het musiek op Stellenbosch studeer, toe my MA in Kreatiewe Skryfwerk by UCT (onder leiding van Joan Hambidge) behaal en nou werk ek as ‘n joernalis by sarie.com en gee klas by Stellenbosch Universiteit se jazz-program. Ek speel saxofoon vir ESP, ‘n plaaslike jazz-groep. Ons is besig om ons debuut-album op te neem (dit word in Junie vanjaar bekendgestel).

Jy vra na wanneer ek begin het met gedigte skryf? Wel, as ek die antwoord hierop geweet het, het ek waarskynlik nooit gedigte geskryf nie. Want dis ‘n onpeilbare, goddelike iets hier binne. En ja, Nuwe Stemme 4 is my eerste publikasie. Ek beskou dit as ‘n geleentheid vir groei.

Oor die Afrikaanse digkuns voel ek byna soos wat ek oor klassieke musiek-uitvoerings, museums en botaniese tuine voel – as meer mense maar net die waarde daarvan kon besef. Aan die anderkant is ek dankbaar dat talle digbundels nog die lig sien.

“Die gesegtelike dood” van Sheila Cussons is op die oomblik vir my ‘n voorbeeld van ‘n bykans “volmaakte vers”. Daar’s ander ook. Maar ek spandeer tans baie tyd met haar gedigte as deel van ‘n toonsetting-projek.  

 

Die geseglike dood

 

En toe die ou-ou transparante man

wat nie meer kon nie tingerig sê:

ek groet jou, liewe dood, dienskneg

ook soos ek, en as jy nie mag wag

om my te vat nie, staan dan net

uit die lig

en vat my sag –

het daardie holte meteens ‘n iets

‘n meer as iets in sigself ervaar

asof dit ‘n engel geword het wat sku

op sy hurke buite gaan sit het

in ‘n warm roerende voorjaarlug

soos in ‘n wolk van vlinders

verbluf oor sy eie aard

en magteloos van ontsag.

 

© Sheila Cussons (uit: Die skitterende wond, 1979: Tafelberg)

 

***

 

Marius Swart

 

Marius Swart

Marius Swart

Ek is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en skoolgegaan het. Deesdae woon en werk ek op Stellenbosch. Ek is ‘n taalpraktisyn en dosent.

Wie weet waar my passie vir die digkuns ontstaan het … Eendag het ek gevoel daar is iets wat krap, toe skryf ek daaroor. Beskrywings van die skryfproses klink al almal soos clichés. Ek weet nie of ek sou sê my gevoel jeens die poësie is soseer ‘n passie as ‘n soort kinderlike verwondering en bewondering nie. Dit is so ‘n ongelooflik gekonsentreerde en presiese medium, met baie vakmanskap wat sit agter die skep van iets wat waarde dra.

Daar is van my gedigte in Penseel-bundels en ‘n bundel van die Versindaba opgeneem, asook een opdraggedig wat in ‘n boek met sketse staan wat by vanjaar se Woordfees bekend gestel word. Die gedigte in Nuwe stemme 4 is egter nuut en nog nie voorheen gepubliseer nie. Om in hierdie bundel opgeneem te word, is vir my eerstens ‘n klop op die skouer, want ek voel my erg geïmponeer deur die geselskap waarin ek by die werksessies gesit het. Toe ek die eerste keer ‘n Nuwe stemme-bundel gesien het, sou ek regtig nooit kon dink dat ek eendag daarin sou publiseer nie. Verder is dit ook ‘n aansporing om aan te hou met hierdie ding waarmee ons klomp besig is.

Ek dink die Afrikaanse digkuns tans is lewendig en opwindend, en dat die bestaan van hierdie soort projek, asook die gehalte van my mede-digters in NS4 se werk, ‘n sterk bewys daarvan is. Ek kan al klaar nie wag vir Nuwe stemme 5 nie! Daar is net ‘n moeilike balans wat ons myns insiens nog moet bereik, naamlik, om die poësie toeganklik en aanloklik te maak vir die breë leserspubliek, sonder om die gehalte of inhoud daarvan te moet verlaag of vervlak, soos wat die geval byvoorbeeld in sekere segmente van ons musiekbedryf is. Afrikaanse digters moet, na my mening, ons tradisie van hoë gehalte voortsit sonder om die digkuns snobisties te laat voorkom. Woorde soos “gehalte” en “goed” en “swak” is net skynbaar nie meer in die mode nie. Mense is tog so polities korrek. Dit is wel jammer. Ek dink ook daar word in baie gevalle te min poësie gelees, selfs deur ons digters self (en daaraan is ek natuurlik ook skuldig). ‘n Mens kan nie in ‘n tradisie skryf of dit vernuwe as jy dit nie goed ken nie.

As daar so iets soos ‘n “ideale vers” is, het Wislawa Szymborska dit waarskynlik geskryf. Sy maak ‘n ongenaakbare vers in veerligte taal. Dit is vir my na aan volmaaktheid.  Ek weet darem nie of een gedig volmaak kan wees nie, maar ek is erg oor gedigte soos haar “Cat in an empty apartment” en “Conversations with a stone” (wat ook in party vertalings “Conversations with a rock” heet). Een wat ook nogal by my vassteek, is die volgende:

 

Negative

 

Against a grayish sky

a grayer cloud

rimmed black by the sun.

 

On the left, that is, the right,

a white cherry branch with black blossoms.

 

Light shadows on your dark face.

You’d just taken a seat at the table

and put your hands, gone pray, upon it.

 

You look like a ghost

who’s trying to summon up the living.

 

(And since I still number among them,

I should appear to him and tap:

good night, that is, good morning,

farewell, that is, hello.

 

And not grudge questions to any of his answers

concerning life,

that storm before the calm).

 

(c) Wislawa Szymborska

 

***

 

André Trantraal

 

André Trantraal

André Trantraal

Ek woon tans in Bishop Lavis Township maar ek het in Mitchell’s Plain Township grootgeword. Ek weet, ‘n township is ‘n township is ‘n township.You don’t have to tell me. Dit is ‘n little known fact, maar die lug in townships is ongelooflik vars. Kom probeer dit gerus wanneer jy die kans kry. Dis soos Seepunt. Wat kan ek sê oor myself sonder om my privaatheid te skend? Dit is natuurlik hoekom so baie mense skryf, oor hul privaatheid so belangrik vir hulle is … Ek hou van sokker. En dokumentere programme oor insekte. En goeie en slegte comics. En unintentional comedy, nie so seldsaam s