Posts Tagged ‘Jasper van Zyl’

Pieter Odendaal. Oor Kamfer, Van Zyl en kleur wat nooit alleen kom nie

Friday, January 13th, 2012

Hierdie blog het aanvanklik as ’n kommentaar op Charl-Pierre Naudé se kommentaar op Yves T’Sjoen se essay oor die resepsie van Ronelda Kamfer in die Lae Lande begin. Hoe meer ek getik het, hoe meer het ek egter besef dat my kommentaar die konvensies van die genre van aanlynkommentare begin oorskry – ek wou te veel sê en later het dit nie meer soseer oor Charl-Pierre Naudé se kommentaar gegaan nie – daarom die blog.  Naudé het onder andere verwys na die sogenaamde “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” wat dikwels die ontvangs van ’n bepaalde digter se werk beïnvloed. Ek stem saam wat betref sy opmerking oor die behoefte aan ’n meta-kritiese blik op literêre kritiek in Suid-Afrika wat fokus op die wyses waarop die identiteit van die outeur dikwels ’n deurslaggewende invloed het op die resepsie van sy/haar werk. Ek dink dit is die geval in beide die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse Engelse literatuursisteme (ek weet nie genoeg van wat in die Xhosa en Zulu letterkunde op die oomblik aangaan nie, maar hierdie afgeskeepte poeletjies loop net soveel gevaar). Dit is seker iets waarvoor enige letterkunde versigtig moet wees.

noudat slapende honde

noudat slapende honde

Waaroor ek wonder, is die “sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings” waarna Naudé verwys (en ek neem aan dat dit juis hierdie oorwegings is wat Naudé meen veroorsaak dat Ronelda Kamfer eerder as Jasper van Zyl se werk aansien in Nederland geniet). Bedoel hy dat Kamfer ’n “kleurling” is en Jasper ’n “whitey” (ek plaas hierdie etikette in aanhalings om hulle as etikette te merk)? Indien dit die geval is, verstaan ek nie hoekom Naudé dit nie net sê nie – dit voel of hy heeltemal te versigtig is. En ek verstaan dat mense skrikkerig is om prontuit oor etikette te praat, maar dit is presies hierdie soort dapper gesprekke wat Kamfer, glo ek, oopskryf in haar poësie.

 

Ek dink hier ook aan die gedempte menings wat sekere mense het rakende die gedeelde toekenning van die Jonker-prys aan Kamfer én Marais – dat dit ’n soort troosprys vir Kamfer is, dat Marais dit glo eintlik meer verdien het en dat hierdie gebaar herinner aan die jaarlikse top matriekpresteerder-toekennings waar “voorheen benadeeldes” dieselfde erkenning geniet (met swakker uitslae) as die wit uitblinkers van privaatskole. Ek wonder soms hoeveel lesers agter bleek en geslote deure voel dat Marais die Jonker-prys meer as Kamfer verdien het.

Maar terug by Naudé se kommentaar en sy voorstel om te kyk na die verskil in resepsies van Kamfer en Van Zyl se werk in Nederland. Ek is ’n bloeitjie wat die poësie aanbetref, maar ek dink tog dat ek ’n opinie wil waag. Ek het reikhalsend na Jasper se bundel uitgesien nadat ek hier en daar van sy verse te lese gekry het, maar die bundel het my so ’n bietjie teleurgestel. Dit het onder andere vir my gevoel of daar min gegewens in die bundel is wat die gedigte anker in ’n Suid-Afrikaanse werklikheid en wanneer daar wél ‘n eksplisiete verwysing na hierdie plek en tyd is, is dit na my mening ’n redelik eendimensionele en beperkte werklikheid wat beskryf word.

Die lewe tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne

Maar waarteen ek dit eintlik het, is die bundelomslag. Ek weet dat die bundelomslag nie altyd in die digter se hande is nie, maar ’n goeie omslag spreek letterlik boekdele – dit berei die leser voor op dit wat gaan volg. Die enkeling in volkleur bell-bottoms wat omring word deur grys sakemanne (die enkeling wat tussen pikkewyne probeer leef) vergestalt vir my Van Zyl se mymerende individualisme en gedeeltelike opgesmuktheid. Nie dat daar enigiets verkeerd is met ’n ek-gesentreerde digter nie – een van die wonderlike aspekte van die poësie is juis die rare toegang wat dit ons tot die binnekamer van ’n ander mens bied.

 

Hierteenoor skryf Ronelda Kamfer oor alles behalwe haarself – sy skryf buitentoe. En ek dink dat dit presies om hierdie rede is dat haar werk soveel aandag in die Lae Lande geniet. Sy skryf verskeie onsigbares se werklikhede oop (onsigbaar in die Afrikaanse letterkunde, onsigbaar in die daaglikse gestamp en gestoot) en dien dus as ’n soort optekenaar van die onopgetekendes. Beide Noudat slapende honde en grond/Santekraam dien as poëtikale argiewe van die hede en is daarom ook veral relevant vir buitestaanders wat (nes ons) probeer om hierdie vreemde land te verstaan – hierom, dink ek, dat Kamfer ook in die Lae Lande gelees word. Derek Walcott stel dit die beste in ’n aanhaling wat ook as motto vir Kamfer se debuutbundel dien:

[she’s] just a red nigger, who love the sea,
[she] had a sound colonial education,
[she has] Dutch, nigger and English in [her],
and either [she’s] nobody, or [she’s] a nation …

 The Schooner Flight, Derek Walcott

Laastens wil ek reageer op T’Sjoen se observasie (en Naudé se beaming) dat Alfred Schaffer & kie ’n groot invloed op Kamfer se resepsie in Nederland gehad het. Schaffer & kie kan ook net soveel doen om Kamfer se werk oorsee te herlei – daarna moet haar gedigte self die praatwerk doen. En hulle is besig om ’n helse bohaai op te skop, as ek die saak so kyk. Dis ook goed so: dis hoog tyd dat ons ’n jong Afrikaanse digter kry wat so wyd en presies oor die vreemde hede kan skryf.  En in hierdie sin is die inhoud van haar verse, tesame met die off-hand delivery, vuishou laaste reëls en sonoriteit van haar poësie, presies die literêre oorwegings (en nie die sosiale en kulturele buiteliterêre oorwegings waarna Naudé verwys nie) wat maak dat Kamfer vertaal word en dat haar verse so geredelik op beide Suid-Afrikaners en Nederlanders se lippe gaan lê. Sy, meer as Jasper van Zyl, is besig om ons te leer om onsself en die mense om ons wyer en presieser te verstaan.

Andries Bezuidenhout. Gedigte by Aardklop

Thursday, October 6th, 2011

Môreaand (7 Oktober) om 18:00 by die Boeke-oase. Gedigte en ʼn bietjie musiek. Saam met Johannes Prins, Fourie Botha, Martina Klopper, Jasper van Zyl, Anne-Ghrett Erasmus en ander. Ek vat my kitaar saam en sal iets hartseer sing, net vir ingeval iemand in ʼn té vrolike luim verkeer. Dis gratis, dink ek.

Heilna du Plooy. Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Wednesday, June 29th, 2011

Waar die poësie ‘n digter gaan haal

Deel I

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl

Die titel van Jasper van Zyl se bundel Die lewe tussen pikkewyne kom uit ‘n gedig “dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). In die gedig is ‘n spreker en ‘n “jy” saam in ‘n bootjie en hulle trek “silwer vissies” uit die see. Die gedig begin met die volgende gedagte: “soms is dit só dat een mens/ deur ‘n ander kan praat”.  Die leser besef dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Die boot is eers staties, rustend, “in utero”, maar die “jy” wat die “taal van meeue” praat, droom dat hulle strand. Die boot bots dan ook onverwags teen ‘n ysberg en die spreker en die “jy” moet op die ys verder lewe. Die verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur asof dit so bestem is buite die bootvaarder self om. Die stranding op die ys is egter wel duidelik onvermydelik en ontkombaar. Die lewe word in nuwe omstandighede voortgesit en hierdie lewe word uiteindelik ‘n manier van bestaan, ‘n yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.

Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur: iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.

Pablo Neruda

Pablo Neruda

Nou het Antjie Krog ook al gepraat van die “snode ys” van die poësie, maar die gedig het ook by my ander gedigte opgeroep wat gaan oor die onontkombaarheid van die digterskap en die digtersaktiwiteit. In Van Zyl se gedig is daar twee gedagtes wat hier ter sake is. Die eerste is dat die digterskap nie gekies word nie, maar soos ‘n ysberg aanmeld, dat dit iets is wat in die digter se weg kom staan. Die ander gedagte het te make daarmee dat die digterskap, die poëtiese aktiwiteit of dalk ook die gedig self, intimiderend, bedreigend of koud is, maar ook vreugde bring, dat dit ‘n ander manier van lewe is wat die digter dan aanvaar.  Die idee dat die digter nie sy rol as digter kies nie, maar as ‘t ware gekies word, dat die digterskap die digter kon roep of kom haal en dat die digter dit opvolg ten spyte van alles, kom dan ook meermale in gedigte van bekende digters na vore. Ek gaan hier net enkeles noem wat vir my besonder mooi is. Die eerste is die gedig “Poetry” van Pablo Neruda, waarin die digter vertel hoe die poësie hom kom haal het en hom aan die wind oorgelewer het op die mees bevrydende manier.

Poetry
          – Pablo Neruda
And it was at that age … Poetry arrived
in search of me. I don’t know, I don’t know where
it came from, from winter or a river.
I don’t know how or when,
no they were not voices, they were not
words, nor silence,
but from a street I was summoned,
from the branches of night,
abruptly from the others,
among violent fires
or returning alone,
there I was without a face
and it touched me.

I did not know what to say, my mouth
had no way
with names,
my eyes were blind,
and something started in my soul,
fever or forgotten wings,
and I made my own way,
deciphering
that fire,
and I wrote the first faint line,
faint, without substance, pure
nonsense,
pure wisdom
of someone who knows nothing,
and suddenly I saw
the heavens
unfastened
and open,
planets,
palpitating plantations,
shadow perforated,
riddled
with arrows, fire and flowers,
the winding night, the universe.

And I, infinitesimal being,
drunk with the great starry
void,
likeness, image of
mystery,
felt myself a pure part
of the abyss,
I wheeled with the stars,
my heart broke loose on the wind.

Dit bly net eenvoudig ‘n gedig om weer en weer te lees en vreugde te hê aan die vloei van gedagtes, die ritmiese oorgange wat ikonies is van die vloeiende aard van liriese denke. Wat my ook bly opval, is dat dit nie net gaan om liefde vir woorde nie, ook nie oor gedagtes nie, maar oor ‘n lewenswyse: die poësie self is iets onbenoembaar wat ontbrand in die binneste en dan ontsyfer moet word. En terwyl Neruda praat van die intuïtiewe aard van sy eerste pogings, is die gedig self wel deeglik samehangend, lieflik in sy eie logika. Oor hierdie gedig moet daar dan ook inderdaad nie veel meer gesê word as net om iemand aan te moedig om dit weer te lees nie.

‘n Ander gedig wat die gedagte aanbied dat die poësie voor die digter kom staan, hom in ‘n ander rigting dwing, is “Earthy Anecdote” van Wallace Stevens. Nou is dit so dat Stevens self geen kommentaar wou lewer op die poëtikale interpretasie van die gedig nie en bloot net gesê het dat te veel interpretasie die pret van die gedig as sodanig bederf. Hoewel die gedig natuurlik as ‘n soort allegorie op baie verskillende sake van toepassing gemaak kan word, het Stevens nie die poëtikale interpretasie ontken nie.

 

Earthy Anecdote

                   Wallace Stevens

 

Every time the buck went clattering
Over Oklahoma
A firecat bristled in the way.

Wherever they went,
They went clattering,
Until they swerved
In a swift, circular line
To the right,
Because of the firecat.

Or until they swerved
In a swift, circular line
To the left,
Because of the firecat.

The buck clattered
The firecat went leaping,
To the right, to the left,
And
Bristled in the way.

Later, the firecat closed his bright eyes
And slept.

In hierdie gedig word die misterie van die “firecat” (die volksnaam vir die bergleeu), wat so “bristle” en daarmee die bokke wat reguit wil hardloop, dwing om van koers te verander, op geen manier nader toegelig nie. Stevens bly hier getrou aan sy uitspraak: “Poetry must resist the intelligence almost successfully”. Nogtans, net soos by Neruda, is die poëtiese kwaliteit van die segging buite tyd en ruimte uitsonderlik goed. Edmund Wilson het van Wallace Stevens se werk gesê: “Even when you do not know what he is saying, you know that he is saying it well.”

TT Cloete
TT Cloete

‘n Ander merkwaardige poëtikale gedig is T.T.Cloete se “penkop hoor meer as een stem” waarin die digter sy digterskap as ‘n soort roeping sien. Dit is nie vir hom maklik nie, hy voel homself onwaardig en te swak, nie taai genoeg nie, nie weerbaar genoeg nie, maar hy moet voortgaan. Tog word die digterlike werk ook ‘n troosmiddel, ‘n verweer, ‘n tuiste op sigself.

 

 

 

 

penkop hoor meer as een stem

          T.T.Cloete

Hy wat my gemaak het, weet alte goed
ek is dun van vel, sonder harnas, gebukkel.
Ek vlug swaar, loop met groot gesukkel,
skraal, klein van moed.

Ek is geen goeie soldaat
en geen wenner nie, nie kordaat
of dapper nie, swak is my gelaatstrekke
en my hele lyf is vol teer oop achillesplekke.

Tog is ek – deur Wie nou weer? – aangesê:

Ek wil juis jóú liggaam in die slagveld hê.
Skryf op,
Ek hou jou dop.

Hulle sal jou op albei wange slaan
en op jou mond, maar hou aan.
Loop heel voor en loop regop.
Daar is ook vreugde en geluk
maar ook dáárvoor sal jy rondgepluk
en gestamp word. Kom sukkelaar, kom penkop.

Oefen goed om te koets.
Dè, hier is jou stewels, slaapsak en pauliniese tent.
Leef soos Godsjakkalse bloot. Slaap orent.
Gaan ongewapen en barrevoets
en leer om te hol. Wees paraat…

Hoe? Dit is eenvoudig:
in die blote gedig.
(maklik gepraat)

“Waaroor mag ek skryf en hoe,
wat is toegelaat en wat is taboe?”

“Vra hulle wat weet wat God alleen weet.” Tjoepstil
is Hy oor wat Hy met my wil.

Soek antwoorde
uit die ongehoorde…

… snags hou ek my hande ongetroos
uitgestrek. al my nadink bring net vrae,
hou my slapeloos.
Ek dink my verslae.

 

 

En, o ja, om van honoreer te praat –
dit is doelbewus nagelaat.
Om net aan die kaktus te vat
is voldoende, tydelik… gaan daarop prat.

Jy moet op pynlik vreemde maniere leer
om waardeloos te waardeer.

So word jy kerngesond
gereed gemaak vir die ergste wond.

Steeds neem die dinge in ons vorm aan,
steeds is daar in ons nuwe onstaan

as jy kaalhande skryf-skryf
die dorings van die turksvy afvryf.

Hierdie slotmetafoor is een van dié wat ‘n mens nie maklik weer vergeet nie: die dorings van die turksvy word skryf-skryf afgevryf.

Die poësie is dus koud en blootstellend. Jy kan dit egter tot warmte slaap, dit kan die turksvydorings help wegskryf en dit is die bron van voortdurende vernuwing. Nogtans dwing die poësie die potensiële digter en selfs die gevestigde digter tot stilstand teen die ysberg of voor die “firecat” se grimas en trillende pels. Uiteindelik gee die poësie die digter vleuels wat hom, in Neruda se woorde, dra op die wind.

 

Deel II

 

Nou weet ek ook van ‘n ander geval, van iemand in ‘n ander lewe soos in ‘n ander land. Hy het altyd graag stories vertel en het dit later ook begin neerskryf. Op ‘n keer stuur hy ‘n storie vir ‘n (nogal!) literêre tydskrif. Die verhaal het inderdaad verskyn en hy het dit geniet om sy woorde in druk te sien. Sommer so in sy eie stilligheid want die verhaal is gepubliseer onder ‘n skuilnaam.

‘n Tyd later skryf hy weer ‘n verhaal en stuur dit na dieselfde tydskrif. Die verhaal is ook aanvaar en gepubliseer maar wel onder sy eie naam. Dit het hom geïnspireer en hy het ook ander verhale geskryf waarin hy probeer het om op subtiele maniere die kwesbaarheid van mense uit ‘n ongewone hoek te benader.

Op ‘n dag kry hy uit die bloute ‘n brief van ‘n redakteur wat by ‘n uitgewer werk. Sy het geskryf dat sy die verhaal in die tydskrif gelees het. Sy het dit baie geniet omdat dit oorspronklik en vol lewe was en sy het gevra of hy nie nog sulke verhale het nie.

Die man (hy was geen skrywer nie en het homself ook nie so gesien nie) gaan krap toe in sy laai en soek ‘n stuk of ses verhale uit, onder meer ook die een wat die positiewe kommentaar uitgelok het. Hy stuur dit na die uitgewer, hou sy hart so ‘n bietjie vas maar gaan tog gewoon aan met sy lewe wat op sigself heeltemal vol genoeg was.

Na ‘n taamlike verloop van tyd (hy het in elk geval geen idee gehad van hoe lank sulke dinge sou kon neem nie en het ook glad nie heeltyd daaraan gedink nie), kry hy die pakkie verhale terug met ‘n verslag daarby. Tot sy totale verstomming is die verhale uiters negatief ontvang en wel deur dieselfde redakteur.

Selfs die verhaal wat aanvanklik die aandag van die redakteur getrek het, was nou vir haar glad nie goed nie.

Nou moet daar seker bygesê word dat dié dinge gebeur het in ‘n tyd wat daar in dié bepaalde letterkunde ‘n paar opspraakwekkende boeke verskyn het, boeke wat alles oopruk en seks en politiek eksplisiet en direk en lekker sappig uitbeeld. Mens kan dit ook verstaan dat sulke boeke ‘n uitgewer se droom is, dat verkoopsyfers ‘n onbetwyfelbare troos is in enige uitgewersbedryf. Besigheid is immers besigheid en nie liefdadigheid nie.

Die redakteur se verslag was inderdaad min of meer in dieselfde trant geskryf: dat die markplek bepaal wat gepubliseer kan word en dat dit nou die tyd is om oop te maak en uit te ruk. Daarna vat sy toe elke storie en tot die man se verbasing (en ontnugtering, het hy later ook teenoor homself erken) was haar beswaar teen elke storie presies gerig teen dit wat in die bedremmelde skrywende mens se oë die kern van die spesifieke verhaal was.

As ‘n onervare skrywer en baie bewus van sy gebrek aan ervaring en kennis in die praktyk van skryf, het hy gedink hy moet dit dus aanvaar dat sy verhale oor onderwerpe handel waaroor niemand wil lees nie. Hy het in elk geval ook vermoed en aanvaar dat die verhale nie goed genoeg geskryf was nie, want anders sou dit immers ‘n beter impak moes hê. Wat hom wel verbaas het, was dat die verhaal wat aanvanklik die redakteur se aandag getrek het, so sleg daarvan afgekom het. Op die hele manuskrip self was lang strepe getrek en die geheelindruk van die verslag en die kwaai strepe was dat die stories die redakteur geïrriteer het. Hy was nogal geskok oor dié duidelike irritasie. Later het hy wel gedink dat hy dalk te sensitief was. Dit is inderdaad ook moontlik dat hy hom misgis het oor die irritasie wat hy raakgelees het in die verslag. Maar, meer as duidelik het die man die boodskap gekry! Want dom was hy nogal nie en selfs ‘n onnosele sou dit nie kon misverstaan nie. Hy het geweet dat sy geskriffies gebêre moes word, so spoedig en so stilletjies as moontlik as hy met enige waardigheid nog vir homself in die spieël wou kyk oor die skeerseep heen.

Desnieteenstaande het hy selfondersoek begin doen en besluit sy belangstelling in die lewe gaan oor die agterkante van die bestaan, oor dit wat agter dinge lê, dit wat van die onderkant af die oppervlak beïnvloed. Hy het ook begryp dat hy meer geboei word deur wat dinge beteken as deur die feit dat dinge gebeur. Hy het ook besef dat hy lewe in ‘n tyd wat vra vir aksie en direktheid, beslis “showing” en nie “telling” nie, en nog minder bespiegeling oor vertel en oor die verhaal. Dit is net vir die groot skrywers beskore en dit sou hy immers nooit wees nie. Hy het besef hy sou op sy beste ‘n gewone skrywer kon wees, maar dat hy dalk ‘n bietjie van ‘n anachronisme was. Hy het ook gewonder of hy dalk leef in ‘n tyd met ander oordele as dié waarmee hy van nature geprogrammeer was. Hy het aanvaar dat hy nie in staat sou wees om ‘n storie te skryf, ‘n kortverhaal of ‘n roman, waarin sy belangstelling in onderliggende filosofiese kwessies goed genoeg verhaalmatig ingewerk sou wees dat mense dit interessant sou vind nie.

Sy lessenaar by sy huis het aan die een kant laaie en aan die kant ‘n deurtjie met twee rakke gehad wat deurloop tot aan die ander kant van die lessenaar. Dit was dus regtig diep rakke en daar het hy die pakkie stories tot teen die agterste houtwand ingeskuif. Dit was nogal ‘n bevryding want hy het besef dat as hy met die storieskrywery sou wou aanhou, dit hoër eise aan hom sou stel en dat hy homself daarvoor nie opgewasse gevoel het nie. En, het hy besluit, wie wil nou sy mislukkings of onvermoë openbaar maak as dit nie nodig is nie. Waarom sou ‘n mens jou blootstel met iets waarin jy kennelik nie goed genoeg is nie? Dit is buitendien geen ramp of skade van formaat nie. Dit raak hom en niemand anders nie. ‘n Mens se saak is immers jóú saak. Hy het so half lig gevoel asof hy ‘n las afgelê het. Daarmee was die verhaalskrywery op ‘n einde.

Met verloop van tyd kom hy toe agter dat hy wel steeds soms behoefte het daaraan om met woorde te werk. Hy begin toe sulke los aantekeninkies maak, kort sinnetjies en frases en hy begin dit baie geniet om met die subtiliteite van die taal te speel. Dan bêre hy dit in die rak voor die hopie stories en vergeet dit. Dit was vir ‘n lang tyd sy geheim, ‘n heerlike speletjie waarvan niemand weet nie. Die persoonlike erns daarvan was sy saak alleen en die gebedskraal stringetjies woorde was aan geen toetsing behalwe van homself onderworpe nie.

Maar op ‘n aand sien hy dat van die skryfseltjies ander patrone begin maak, sinstrukture of klanke wat herhaal en ‘n gedagte wat gestel en omgedop kan word. Hy kon ook sien hoe hulle bymekaar aansluit, hoe daar klein kettings gevorm word. Later het hy ook agtergekom hoe iets so broos soos ‘n ritmiese patroon wat herhaal ‘n lang gedagtegang kan saambind. Hy kon by die vrae wat hom interesseer uitkom sonder om dit in ‘n storie uit te weef en kon dit direkter aan die hand van metafore doen.

En op ‘n dag het hy gesien dat hy byna sonder om dit te besef en gewis sonder dat hy dit beplan het, reeds ‘n gedig geskryf het. Nie juis ‘n goeie gedig nie, maar nogtans ‘n gedig. So gewoon en onvoorsien het dit gebeur.

Jare later het hy geweet dat dit vir hom ‘n kosbare besit geword het, hierdie gedigte wat hy geskryf het sonder om dit te wil of te beplan, hierdie woordkettings en -konstruksies wat so vanself na hom toe gekom het in die plek van die mislukte verhale. Hy het iets afgelê sonder om aan plaasvervanging te dink en tog het daar iets opgedaag, soos ‘n toegif. Dit was vir hom meer as ‘n geskenk, dit was, ja werklik, ‘n toegif, iets ekstra en bykomend, wat hy ten spyte van enige tekortkominge daarin nooit sou wou bevraagteken nie en ook nooit sal wil aflê nie.

So het die poësie ook hierdie klein en onbekende digtertjie kom haal, maar die gedig daaroor moet hy nog skryf.

Die lewe tussen pikkewyne

Monday, June 20th, 2011

Jasper van Zyl. 2011. Die lewe tussen pikkewyne.  Kaapstad: Tafelberg. ISBN 978-0-624-04681-3

Resensent: Heilna du Plooy

 

Die lewe  tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne

Die lewe tussen pikkewyne  is Jasper van Zyl se debuutdigbundel, maar hy skryf reeds vanaf sy skooldae. In  2005 is daar in Nuwe stemme 3 van sy verse gepubliseer en hy het ook al aan Versindaba deelgeneem. Dit blyk duidelik uit die bundel dat mens hier te make het met ‘n digter wat al ‘n hele tyd met sy digterskap saamlewe. Die gedigte is noukeurig afgerond en weldeurdag, daar is nie los draadjies wat rondhang nie. Die opvallendste eienskap is die verrassende wendinge in die gedigte, sowel metafories as “narratief”, maar die wendinge is boeiend en misterieus,  nie lukraak of toevallig nie en veral nié daar vir die blote effek nie.

Die bundel het ‘n interessante buiteblad. Getekende mansfigure in swart en wit is in ‘n sirkel gerangskik. Die figure nie almal dieselfde is nie – sommiges dra ‘n baadjie en das, ander ‘n onderbaadjie, nog ander ‘n jas en die liggaamshoudings verskil ook. Maar hulle val as’t ware in ‘n patroon en daar is ‘n voorspelbaarheid in hulle voorkoms en houding: hulle is meer of minder ernstige, saaklik geklede mansfigure. Aan die bokant van die sirkel is daar ‘n figuur van ‘n jong man in kleur. Sy bolyf is kaal en hy het ‘n hippie-agtige geblomde broek met uitklokpype aan. Hy is kaalvoet, staan gemaklik met gevoude arms en glimlag breed. Hy verskil dus in bykans alle opsigte van die figure in die tekening en daar word duidelik gesuggereer dat dit gaan om die uitsondering, die een wat nié soos die ander lyk nie, wat nié soos net nog ‘n pikkewyn tussen al die ander ononderskeibaar is nie (buitendien lyk die gebaadjiede en gedasde figure ook nogal soos pikkewyne).

Die titel van die bundel kom uit ‘n gedig met die titel ” dit is nes jy daar sê, ja” (p. 20). Hierdie gedig gaan oor ‘n spreker en ‘n “jy” wat saam in ‘n bootjie is en “silwer vissies” uit die see trek. Aanvanklik is die boot staties, rustend, “in utero”, waarmee ‘n periode voorafgaande aan ‘n nuwe fase of die werklike lewe gesuggereer word.  Veral belangrik is dat die gedig begin met die reëls “soms is dit só dat een mens/deur ‘n ander kan praat” en gou besef die leser dat die “jy” in die gedig waarskynlik verwys na ‘n alter ego of ‘n ander persona van die self wat die boot met die spreker deel. Hierdie “jy” wat die “taal van meeue” praat, is die een wat droom dat hulle strand en dit gebeur dan ook inderdaad, maar onverwags. Die afloop en verloop van die boottog is nie beplan nie, dit gebeur, dit is ‘n verrassing maar nogtans onontkombaar. Dan moet die “jy” ‘n lewe in nuwe omstandighede voortsit en uiteindelik word dit ‘n manier van bestaan, hierdie yslewe tussen pikkewyne. Die “jy” wat ook soos ‘n geliefde uitgebeeld word, is “pragtig” en “yslik mooi”, lieflik en koud, maar ook groot, vir my dus onder meer ook in die sin van ysingwekkend. Die buikspreektaal van die geliefde is geheimsinnig en versluierend soos vaal rook.

Dit is vir my ‘n poëtikale gedig wat verwys na die onvermydelikheid van die poëtiese aktiwiteit, van die digterskap wat sigself soos ‘n ysberg aanmeld, wat aandring en sigself selfs opdring, wat alles in ‘n ander rigting stuur, iets wat pragtig is, maar ook ietwat skrikwekkend en waarteen die digter styf slaap totdat die koue warm word.

Hierdie bewustheid van digterskap en die implikasies van die poëtiese representasie van belewenis en van gedagtes, het my die gedigte laat lees op soek na verbande, patrone en voortgaande gedagtegange wat wel duidelik daar is, maar wat nogtans baie subtiel aangebied word.

Subtitliteit is een van die aantreklike eienskappe van hierdie bundel. Elke gedig het ‘n narratiewe lyn waarin en waarop diskrepante elemente vervleg word, en tog kry ‘n mens nooit die gedagte van geforseerdheid of die behoefte om ‘n effek te bereik deur bloot te skok nie. Die gedigte handel oor gewone dinge wat telkens so vervreemdend aangebied word dat die gewoonste aspekte van die lewe in hulle volle potensiële absurditeit nuut voor mens kom staan.  En dit word gedoen in ‘n speels-ernstige toon wat ‘n baie spesifieke atmosfeer in die bundel laat ontstaan.

Aan die begin van die bundel is ‘n paar gedigte wat handel oor droomgesigte of gedagtes wat soos drome aangebied word waarin ontwykende figure ‘n rol speel. In “film” sleep die meisie Anine, wat haar yskasmagnete rangskik, se arms op die vensterbank voordat  “haar lyf deur die venster breek”. Teen dagbreek ontmoet digter-spreker haar weer in die woud en dan sluit die gedig af met ‘n teruggryp na die eerste strofe.  Aanvanklik “brul paddas vir mekaar” in vlak plantegroei voor die digter se koshuisvenster, maar ten slotte word die digter se droomervaring in terme van paddagedrag beleef, met die erotiese suggestie slim verwoord in die verwysing na die opsitkers se doodblaas:

in ‘n wilde oomblik swel my keel:
ek brul vir haar en blaas
die opsitkers dood.  (p. 8 )

In die gedig “tronk” word gesuggereer dat die tronk waarin die spreker hom bevind, hom nie uiteindelik skei van die geliefde vriendin nie: sy kan op water loop, maar dit is ‘n geheim:

                                       …ek rol in my slaap
sodat niemand kan sien waar jy gaan nie. (p.11)

Op verbeeldingryke wyse word die werklikheid en droom vermeng, word die werklikheid droom en die droom werklikheid, onder meer in “wieg”. Die onheil wat die dorp bedreig, word ondersoek deur speurders maar as die inwoners self betrokke raak, sweer die verdwene mense uit die skrapnelwonde uit hulle arms tot herbestaan sodat “die dorp weer begin beweeg/ en wieg soos ‘n bloeiende boom” (p.14). ‘n Gedig soos hierdie staan oop vir ‘n spel met interpretasie. Dit kan gaan oor onheile wat in eie boesem vertroetel word, dit kan gaan oor verwonding van buite soos in ‘n oorlog, maar wat duidelik is, is dat wanneer die mense hulself as deel van die probleem sien en so optree, kom daar ‘n soort genesing, minstens ‘n nuwe toekoms. Wat egter ook belangrik is, is dat die gedig werk soos ‘n narratief sonder om lig anekdoties te wees. Die metaforiese samehang van die water en lewe bind die gedig saam: eers ruik die water sleg en die mense verdwyn en as die bose water wegsak en daar genesing kom, is die dorp soos ‘n bloeiende boom, ‘n boom wat groei uit gesonde water.  Water as metafoor figureer ook sterk in “droogtehulp” en “die nuwe winter”, albei gedigte waarin daar ‘n bepaalde onheil dreig en waarin na misterieuse verskynsels verwys word. Die droogte word deur “reën op die lagune” verbreek, maar in die winter verys die lewegewende stroom onder die gemeenskap sodat die mense “op ‘n magneetveld beweeg/ in ‘n land van ontydige weersveranderinge” (p. 17). Sulke gedigte is ten spyte van oënskynlike surrealistiese metaforiek en onwaarskynlike verhaalverloop, vir my tekenend van ‘n soeke na sin, selfs as dit nie te vinde is nie. Die gedigte vertel van vreemde moontlikhede, maar die leser besef weldeeglik dat daar ‘n probleem is wat nie met rasionele denke alleen hanteer kan of hoef te word nie. Dit gaan ook nie oor oplossings nie, maar oor ‘n poging om die ervaring van blootstelling en uitgelewerdheid, hetsy aan die eie boosheid of onheil van buite, aan die orde te stel – dink ek nou, maar soos dikwels by boeiende poësie, is ek nie seker nie en dit maak ook nie saak nie. Die gedigte laat mens anders dink en kyk terwyl jy die vreemde modulasies van die narratief geniet.

Interessant is ook die gedigte oor ouers. In die gedig “emma” word die jong meisie se eerste maandstonde verbind met geykte temas soos die vader wat niks agterkom nie en soos altyd beskermend optree waarna die dogter instinktief uitreik asof niks verander het nie, maar daar tog iets baie essensieels wel verander het. Die gewone tafereel word egter gekompliseer. Die vader beskik oor militêre kennis wat hom verlam, wat hom konfronteer met wat hy liewer nie sou wou weet nie. Die vrees vir die toekoms raak, sonder dat hy self daarvan bewus is, by implikasie ook die toekoms van sy dogter, as mens en as vrou, maar hy verberg sy vrees. Aan die ander kant is die dogter se uitreik na die vader inderwaarheid deel van haar seksuele ontwaking. In die gedig “les”  word die seun se onwetende oortreding om ‘n koi-vis te vang die aanleiding vir ‘n subtiele verwysing na religieuse insig deurdat die vader sy seun van “régte vis” leer. Hierdie gedig sou ook ironies gelees kon word (wat is ‘n ou koi-vissie nou?), maar ek dink tog dat daar ‘n positiewe vaderbeeld na vore kom omdat die seun wel erg geskok is oor wat hy onwetend gedoen het.

Dit is asof daar in die bundel ‘n chronologiese verloop is want die later gedigte handel oor meer werklik onheilspellende dinge soos ‘n motorrit waartydens die berg “‘n toevallige moordenaar” word, iemand wat leer dans in ‘n ervaring wat later deur sirenes bedreig word, ‘n vader se “ongeëwenaarde” drif, die dokter se geheime vrese wat hom uit die slaap hou en die verslaafde se besef dat “die beswyming van jare …nooit moes wees nie”. Mens sou kon sê dit gaan toenemend oor ‘n meer volwasse problematiek. Gewone mense en normale optrede word aangebied vanuit die duister onderkante daarvan – alles is nie so eenvoudig as wat dit lyk nie. Vanuit ongewone hoeke beskou, is daar ook onheilige en bedreigende aspekte wat onvermydelik deel van die gewone en normale is. Gewone sake kan ondersoek word om die verskuilde absurditeite daarin raak te sien en dit is op ‘n belewenisvlak onthutsend en poëties vervreemdend.

Al is al die gedigte in die bundel nie ewe goed nie (dit kan en hoef immers ook nie wees nie) is hierdie bundel varrassend tot aan die einde. In die voorlaaste gedig word Jona se reis in die buik van die vis omgedop. Die gedig vertel van groot dier wat uit die lug val en terwyl niemand weet wat om daaromtrent te doen nie, maak die man onder die peperboom vuur en droom gespanne drome. Die gedig sluit af:

Hy eet weke lank, elke dag ‘n ander deel,
sommer hompe, venynig aan die vis. (p. 45)

Die gebruik van die woord “venynig” in hierdie versreël toon dat die digter uitstekend in staat is om betekenis oop te slaan, om die reeds enigmatiese verhaal nog verder te kompliseer deur die taal as handlanger effektief te gebruik. Taal is immers onvermydelik die digter se instrument, sy handlanger, sy metgesel, sy alter ego, dit is die hart van die  poësie self. Met een woord wat dadelik opvallend is, word die leser in sy spore gestuit en dan begin hy of sy nadink of gewoon net dink.

Die slotvers is ‘n pragtige liefdesvers, hetsy vir ‘n geliefde van vlees en bloed, of die digkuns, of die gedig of watter geliefde saak ookal (ek vermoed wel die geliefde as sodanig is ‘n sterk moontlikheid). Die smeking van die spreker word uiteindelik beantwoord met ‘n sein en terwyl “sleg vrouens verbyvlieg op besems en warse wolke” slaap hierdie spesiale geliefde “adellik, op ‘n brandstapel van sterre” (p. 46). Dit is gewoon baie mooi beeldspraak.

Dit is duidelik dat die digter wel aansluit by die literêre tradisie – in klein frases klink daar telkens bekende woorde op, maar telkens so dat dit nie meer gaan om bekende betekenisse nie. Daar is onteenseglik ‘n werklik oortuigende eie stem hier hoorbaar. Dit is ook opvallend hoe die vervreemdende en surrealistiese gebruik van narratiewe strukture die verse saambind maar ook die betekenis oopslaan tot iets veel wyer as net die opeenvolging van insidente, juis omdat die poëtiese ontginning van taal uitgebuit word. Elke insident word ‘n poëtiese gebeurtenis.

Die lewe tussen pikkewyne illustreer dat hierdie jong digter inderdaad die transformerende werking van die poësie as poësie begryp en met ontsag hanteer.

     

 

Onderhoud met Jasper van Zyl

Sunday, May 1st, 2011

Die absurditeit van die alledaagse

Jasper van Zyl in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl

Jasper van Zyl is in 1987 in die Paarl gebore en word as pastoriekind groot op Lambertsbaai, Kimberley en Upington, maar hoofsaaklik op Gansbaai. In 2004 verskyn sy eerste verse in Antjie Krog en Alfred Schaffer se Nuwe stemme 3 terwyl hy nog op hoërskool is. Sedertdien word van sy verse in verskeie bloemlesings opgeneem en tree hy by verskeie poësiefeeste en aanlyn-skryfskole op. Van Zyl is tans ‘n mediese student aan die Universiteit van Stellenbosch.. Sy debuutbundel, Die lewe tussen pikkewyne, het pas by Tafelberg Uitgewers verskyn.

 

 

Veels geluk met ‘n indrukwekkende debuutbundel, Jasper. Vertel ons ietsie meer oor die titel, Die lewe tussen pikkewyne? En – hoe skakel dit met die treffende omslag-ontwerp van die bundel?

Baie dankie vir die mooi kompliment, Louis. Die lewe tussen pikkewyne is ‘n aanpassing van ‘n reël uit dit is nes jy daar sê, ja, een van die gedigte in die bundel. Die titel verwys na ‘n lewensbestaan in absurditeit, eenvormigheid en navolging. Dit, glo ek, is die sentrale tema in die bundel: die absurditeit van die alledaagse.

Ek het redelik min insae gehad wat betref die omslag, maar ek dink dit slaan die spyker op die kop! Dit vang vir my die buitestaanbestaan mooi vas.

Toevallig weet ek dat jy jou tyd geneem het met die hele proses van tot publikasie kom; met die implikasie dat hierdie verse oor ‘n lang tydperk tot stand gekom het. Was dit ‘n moeilike proses vir jou om hulle tot ‘n bundel saam te bind?

Vir my is die skryf van ‘n gedig ‘n ontsaglike onderneming. Ek wens dat ek daartoe in staat was om myself ‘n “skrywer” te noem: iemand wat kan gaan sit en letterkunde uitspoeg. Maar dis nie so nie. Om te skryf is ook nie iets wat ek vir ontspanning doen nie – ek het seker bloot nie genoeg om te sê nie! Dis seker waarom die poësie vir my so aanloklik is: ‘n mens kan ‘n idee of ‘n storie of ‘n bepeinsing of ‘n droom of ‘n stukkie protes in ‘n klein pakkie toedraai.

Die meerderheid verse in die bundel is oor jare geskaaf – een van die gedigte het ek in graad 10 begin en eers laasjaar klaargemaak. Dis ‘n kouproses: ek sal ‘n gedig begin en lank daaraan peusel, tussendeur ‘n woordjie hier en daar verskuif of verander of sny. Op die ou end word die gedig iets heel anders as wat ek bedoel het. Dit behoort dus geen verrassing te wees dat die verse wat in die bundel opgeneem is, min of meer my volledige oeuvre verteenwoordig nie!

‘n Gevolg is natuurlik dat die bundel nie ‘n konsepbundel is nie. Ek glo dat die verse oor die algemeen die sentrale tema, d.w.s. die absurditeit van die alledaagse, volg, maar die saambinding van die verse is heeltemal lukraak deur my redakteur, Francois Smith, gedoen.

Jy is tans besig om jou as medikus te kwailifiseer. Hiermee neem jy natuurlik jou plek in in ‘n nogal indrukwekkende galery van digters wat hul in die mediese wêreld bevind (het). Ervaar jy dat jou studies ‘n positiewe invloed het op jou digterskap?

Iemand wys my nogal nou die dag op die groot aantal Afrikaanse digters wat uit ‘n mediese agtergrond kom – dis nogal, soos jy sê, ‘n indrukwekkende groep.

Ek het natuurlik begin skryf lank voordat ek in hierdie wêreld beland het. Maar die mediese omgewing is baie poëties, omdat jy te doen kry met die weerloosheid, angs, seer, woede en soms ook die uitbundige geluk van die mens. Verder is daar natuurlik ook ‘n heel ander dimensie aan ons bestaan in die vorm van fisiologie, mikrobiologie, farmakologie: ‘n klein wêreldjie waarvan mens omtrent niks weet nie. Die “onondektheid” daarvan boei my geweldig en ek glo dat dit wel ‘n invloed op my skryfwerk het.

In die gedig “om te keer” (p.42) skryf jy: “ek skryf nooit oor hoe ek voel nie. // my begrip is te anemies vir die bladsy / ek verwoord moeiliker as wat jy dink.” Gee ons so effense kykie na jou werkswyse? Is jy byvoorbeeld ‘n konstante digter, of werk jy sporadies aan gedigte? Skryf jy ‘n vers vinnig klaar, of werk jy lank daaraan soos hierdie aangehaalde reëls wil suggereer?

Soos ek bo genoem het, is dit vir my maar ‘n moeisame proses. Ek sal stukkies van ‘n gedig skryf en baie lank daaraan werk voordat dit volledig is. Die proses behels dikwels ernstige snywerk (gewoonlik volledige strofes) en die invoeging van ‘n woord of twee hier en daar.

‘n Gedig begin gewoonlik as ‘n strofe of ‘n versreël, dikwels geïnspireer deur ‘n liriek of selfs ‘n enkele woord. Dan begin die proses van voor af. Soos ek sê, dis nie iets wat natuurlik kom nie. Ek werk ook dikwels aan meer as een gedig op slag, wat dit nogal moeilik maak.

Jou vroegste verse het reeds in Nuwe Stemme 3 (Tafelberg, 2005) verskyn; daarna was jy ook by etlike Versindaba-feeste betrokke. Het jy dié vroeë blootstelling as positief ten opsigte van jou digkuns ervaar, of was dit iets wat jou geïnhibeer het? Anders gestel: het die verwagtings wat rondom jou vroeëre verse ontstaan het, druk op jou ontwikkeling as jong digter geplaas?

Die grootste voorreg wat jong skrywers, veral dié wat in Afrikaans skryf, het, is dat daar ‘n ontsaglike groot aantal gevestigde skrywers is wat bereid is om hulle te lei. Ek onthou byvoorbeeld, Louis, dat ek kort nadat ek in Nuwe Stemme 3 verskyn het, daar voor Protea Boekwinkel ‘n koppie koffie saam met jou gedrink het (die sigaret daar het my in groot moeilikheid by die skool laat beland!) Om kontak te maak, verg letterlik ‘n e-pos of oproep. Dis ‘n onontginde myn wat ons meer sal moet gebruik om skryftalent onder ons jongmense te ontwikkel.

Ek was destyds baie verras deur die positiewe reaksie op my verse in Nuwe Stemme 3, maar ek onthou ook dat ek heelwat (dog altyd opbouende) kritiek ontvang het. Ek was eers baie verwar deur die verskillende insette: sommiges het gedink my skryfstyl is effens aansitterig en daar was heelwat verskillende opinies rondom my vermenging van Afrikaans en Engels. Dit het vir my lank gevat om die kritiek te kanaliseer, maar wat vir my van die meeste waarde was, was dat dit my daarop laat let het dat ek self ook nie heeltemal gemaklik was met my skryfstyl nie. Tussendeur, soos ek daaraan gewerk het, het ek begin om meer positiewe reaksies te ontlok en kon ek só my voete vind en stadigaan begin lig sien.

Kortom: terwyl die proses aanvanklik redelik verwarrend was, het die geleenthede my die kans gebied om self ook krities na my werk te begin kyk – iets wat baie jong skrywers dringend moet leer doen.

Tydens jou optredes by die Versindaba-feeste het jy jou ook as musikant laat geld met pragtige toonsettings van jou gedigte. Hoe belangrik is hierdie musikale inkleding vir jou?

Musiek is vir my ‘n baie groter bron van inspirasie as poësie. Toe ek aanvanklik begin skryf het, so rondom graad ses of sewe, was die Britpop-orkeste van daardie tyd vir my ‘n sleutel om my eie gedagtes te leer fokus. Ouens soos Radiohead, Oasis, Travis: almal het ‘n manier om hul eie (baie poëtiese) lirieke perfek met hul klank te vermeng.

Ek onthou dat ek destyds Engelse lirieke geskryf het, seker maar om hierdie ouens te probeer na-aap. Maar dit was in daardie tyd dat ek op Piet Botha en ander Afrikaanse kunstenaars afgekom het (dit was in daardie tyd dat ‘n klomp baie progressiewe Afrikaanse orkeste begin werk het: Klopjag, Skallabrak, Spinnekop, Akkedis – almal jongmense wat met Voëlvry grootgeword het). Ek het dadelik geweet dat ek meer gemaklik is in Afrikaans en hierdie ouens het dit “okay” gemaak om dit te erken.

Goeie poësie is soos musiek. Ek strewe altyd daarna om my gedigte te laat “klink” soos dit gelees moet word, nes musiek gespeel word soos dit geluister moet word.

Afgesien van die afgerondheid wat jou verse kenmerk, is dit dikwels die slotreëls wat ‘n mens tref; reëls wat lank na die lees in ‘n mens sy gedagtes bly resoneer. Een so ‘n voorbeeld is die pragtige vers “geraamtes in die kas” (p.37) wat soos volg begin: “die dokter beweeg met nagskof deur die pediatriesale, / gesels met dié wat wakker lê en deel balonne uit / waar daar ‘n behoefte is”. Van dié vertrekpunt stu die vers verder tot met die volgende slotreëls: “snags lê hy stil en tel vlieërs / in sy donker wakkerte. in sy slaap / noem hy sy vrese by die naam.” Hierdie enigsins ‘oop’ einde laat ‘n mens vermoed dat hiermee ‘n benouende angstigheid mee vervleg word … Kan jy dalk hierop uitbrei?

Ek is ontsaglik verlig dat jy dink die verse mooi afgerond is. Ek dink dit is waarom ek so lank met ‘n gedig moet sit: iets vóél bloot nie reg nie, dit sít bloot verkeerd. Daarom was dit so ‘n wonderlike ervaring om met Francois Smith te werk. Francois het ‘n manier om presies dit wat skort, op die naam te kan noem. Heelwat van die afronding wat jy sien, is aan hom te danke.

Ek haat dit om my verse te interpreteer; “it defeats the purpose” vir my, soos ons in Engels sê. Maar kom ek probeer: vir my gaan daardie vers oor die vervlegging van goed en sleg, die duistere motiewe in ons goeie dade. Hierdie verteenwoordig natuurlik ‘n geweldige spanning, of benouendheid, soos jy dit noem. Ek hoop dat dit in die vers na vore tree.

In nog ‘n verrassende vers, “dit is nes jy daar sê, ja” (p.20) skryf jy: “in die begin speel jy teësinnig huis / en later leef ons heerlik tussen pikkewyne. // in ons igloe slaap ons styf teen mekaar. / ons weet nou al hoe mens hier warm word. / jy’s pragtig, jy’s yslik mooi / en jy blaas vaal rook wanneer jy buikspreek.” Kan hierdie vers gelees word as ‘n ars poetica? Die digter as buikspreker, by wyse van spreke?

Ek dink wel so. Ek dink die gedig skep ‘n baie ongewone atmosfeer en ‘n mens is half onseker wat om daarvan te maak. Dis tergelykertyd ‘n innemende prentjie, ‘n rustige aand op die see saam met ‘n geliefde en ‘n spannende, duister toneel. Dis seker soos die meeste gedigte, of hoe? Ek dink ‘n mens skep dan ‘n redelik interessante spanning deur die rol van digter op die buikspreker te projekteer: ‘n herberg in ‘n onherbergsame landskap … dis eintlik nogal ‘n mooi beskouing van die digkuns.

Jasper, om pluspunte in hierdie debuut van jou uit te sonder, is ‘n bykans onmoontlike taak, omrede daar sóveel is wat ‘n mens kan uitsonder. Een hiervan – en waarskynlik die rede waarom hierdie myns insiens een van die sterkste debute in afgelope jare is – is die totale afwesigheid van ander stemme wat in jou gedigte saampraat. Jou digterstem is gewis uniek en eiesoortig. Ook is daar die minimum aan peritekste (gegewe buite die gedig om) ter sprake. Was hierdie afwys van enige vorm van interteks vir jou ‘n bewustelike besluit gewees of iets wat natuurlikerwys ontstaan het?

Ek is mal oor interteks in gedigte, maar ek ken ook nie genoeg om dit altyd te snap nie. Ek onthou dat ons op skool Joan Hambidge se Totius behandel het. Ons onderwyseres het nogal vir ons ‘n klein boekie gemaak van die gedig, tesame met kopieë van al die gedigte van Totius waarna sy verwys. Dit was loshande die mees treffende gedig in die matriekkurrikulum. Gert Vlok Nel is natuurlik ook ‘n meester wat dit aanbetref. En jy ook, Louis!

Ek dink dat ek moontlik te veel respek vir digters het om met hulle in gesprek te probeer tree. Dis nie iets wat ek doelbewus doen nie; ek dink dis bloot ‘n geval van respek vir “outoriteit” – daai oeroue Afrikaanse motto!

Ten spyte van my opmerking hierbo, weet ek ook dat jy ‘n vurige leser van die digkuns is. Is daar bepaalde digters (plaaslik óf internasionaal) wat in die besonder tot jou spreek?

Ja, kyk, ek lees baie graag, maar ek is uiters selektief! Ek glo dat ‘n mens moet lees wat tot jou spreek, en om nie te lees net omdat jy voel jy moet nie. Ek stel nie genoeg in enigiets belang om al my tyd daaraan te wy nie – kortom: ‘n bundel moet lekkerder wees as ‘n rekenaarspeletjie of ‘n TV-program!

Ek lees baie graag Robert Frost, e.e. cummings en Alfred Schaffer op die internasionale front (sal iemand asseblief net klaarkry en Charl-Pierre Naudé betaal om ‘n bundel van sy Afrikaanse Schaffer-gedigte te publiseer!). Plaaslik is dit Charl-Pierre, Gilbert Gibson, George Weideman, Gert Vlok Nel. Danie Marais is ook besig om sterk op my te groei! Dan moet ‘n mens ook nie vergeet van die Afrikaanse “musiekdigters” nie: Bacchus Nel, Gian Groen, Piet Botha en Hunter Kennedy, om maar ‘n paar te noem.

Dankie vir hierdie geleentheid om oor jou indrukwekkende debuut te kon gesels, Jasper. Sal jy by wyse van groet dalk so vriendelik wees om een van jou persoonlike gunstelinge uit Die lewe tussen pikkewyne hieronder te plaas?

Dankie, Louis. Hier is een van my gunstelinge, avontuur:

avontuur

op hierdie dorp van ons
word dit nooit lig nie.
geen bome kan hier groei nie,
dis knaend koud.
die straatligte moet altyd brand
op die plek wat ons avontuur noem.

elke jaar, met die trek
van die nagvoëls, hou ons partytjies
tot mekaar se eer.
ons skiet vuurwerk af,
dompel slapende katte
in die munisipale swembad.

ons dra ook geen hemde nie,
net vel en been. ons kyk op,
want die lug is ‘n kalm uil
wat oor ons slapende landskap waak

en die katte jaag. ons volg
die geluide van verwilderde vlerke
wat soos klappers
oor die landskap reën 

en wie verdwaal slaap vir altyd
in die grotte, op die skerp kontoere
tussen sand en water. soos vlermuise
hang hulle onderstebo

die geraamteverkenners.

© Jasper van Zyl (Uit: Die lewe tussen pikkewyne, 2011: Tafelberg Uitgewers)

 

Oortjies net-net bo die water

Tuesday, March 16th, 2010

 

Na die afgelope Woordfees begin ek so stadigaan weer my kop bo water lig – my oortjies steek net-net uit.

 

Louis en Marlise het seker al moed opgegee met my omdat ek die afgelope twee maande so stil was. Ek is jammer daaroor, liewe webmeester en webmeesteres.

 

Ons is besig om die laaste punte vas te knoop na ʼn heerlike Woordfees waarin ons ʼn rekord aantal kaartjies verkoop het. Ons is ook baie dankbaar oor die bywoningsyfer van 70,72%. Verlede jaar, tydens die elfde US Woordfees, wat toe die grootste was in die elf jaar van die fees se bestaan, was dit net onder 70%.

 

Sonder ons skrywers en digters sou die fees natuurlik nie kon wees nie. Baie van die digters wat aktief is op hierdie webwerf, het opgetree by die Woordfees. Aan gesprekke en lieflike poësie was daar dus nie ʼn tekort nie.

 

Ek deel graag ʼn paar foto’s van digters wat gaste was by Skemerverse op die laaste (Sondag-)aand van die Woordfees.

 

Annie Klopper, van wie se verse in Tafelberg se Nuwe Stemme 4 opgeneem is, het die foto’s geneem.

 

 

 

Abel Kraamsaal het gesorg vir die musiek tussen digters se voorlesings. Sy jongste CD, Die afstand tussen tyd, is onlangs uitgereik na ʼn musikale stilte van drie jaar.

 

 

Danie Marais was skitterend, soos altyd. ʼn Lekker verrassing was toe hy vir Rustum Kozain as gas daar aanbring. Ek en Danie kon darem vinnig-vinnig nuus uitruil tydens ʼn kort verposing in die Trumpet Tree se rookkamer.

 

 

 

Twee jongmanne aan wie se lippe Skemerverse se gehoor gehang het, was Jasper van Zyl en Loftus Marais. Loftus het, soos almal weet, nou omtrent al elke literêre prys met sy uitstekende debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters, ontvang. Ons sien uit na Jasper se debuut wat later vanjaar verskyn.

 

 

Louis Esterhuizen en Marlise Joubert is altyd ʼn wenkombinasie by ʼn geleentheid soos Skemerverse. Die ontstemmende rustigheid en liefde wat straal uit hul aanbiedings bevredig ʼn kritiese gehoor. Oor Louis se Wat die water onthou heers daar groot opgewondenheid.

 

 

Diana Ferrus was haar formidabele self. Ek het agterna tot om middernag saam met haar gekuier. Ons verstaan mekaar. Diana, ek hoop jou bril en skoene wat jy vergeet het, het jou bereik daar waar ek dit by UWK laat aflewer het.

 

Volgende jaar maak ons weer so.

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  “If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE