Posts Tagged ‘J.C. Steyn’

Edms. Bpk.?

Monday, August 3rd, 2009

‘n Sober voetnoot by al die lawwighede wat die afgelope weke kwytgeraak is rondom die gebruik van woorde wat almal in Afrikaanse en/of Nederlandse woordeboeke teruggevind kan word. Verál prysloos is die implikasie dat as ‘n digter eenmaal ‘n ongewone woord gebruik het in ‘n gedig daardie woord nooit weer deur enigiemand anders gebruik mag word nie. Hoe word ‘n taal verryk deur eenmalige gebruik van woorde?Dit is wát die digter met woorde máák - sin & sinne - wat belangrik is.

Woord en sin
J.C. Steyn

Woorde is almal s’n,
nie net myne nie;
daar’s geen heimlike opsie nie,
‘k was te laat vir mineraleregte.
Maar delwe kan ons tog almal
dwarsdeur ons hele lewe deur;
buitendien en boonop
vir kleims is gehardloop
en vergange vir goud
‘n kryg laat ontbrand.

Al wat myne is
is my sinne;
in sinne is alle woorde
mýne
waar ek my in kan verdiep
verborge gange oopgrawe
met geheimsinnige waters deursypel
om myne te verbind
met ander ryk domeine s’nne

Bernard Odendaal. Uit die palm van die land

Thursday, July 9th, 2009

Uit die palm van die land:

Beeld- en woordkuns uit die Vrystaat

 ’n Uitstalling wat besoekers op 2008 se Volksblad-kunstefees (8-12 Julie) aan die praat gehad het, was een waarin beeld- en woordkunswerke met mekaar in gesprek tree. 

 

Die projektitel “Uit die palm van die land” dui eerstens aan dat die deelnemers almal kunstenaars uit die sentraal geleë Vrystaatpovinsie was. Terselfdertyd beklemtoon dit die kreatiewe handewerk wat verrig is. Soos uit die kunswerke gesien kon word, het ’n paar van die deelnemers ook die woord “land” in die projektitel ernstig opgeneem, en is Vrystaatse landskappe en landmerke, en kwessie soos grondbesit, uitgebeeld.

Die inisieerders van die projek was, naas myself, Ben Botma (hoof van die departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en Gilbert Gibson (internis en digter en, soos ons ander twee, woonagtig in Bloemfontein).

Ses beeldende en ses woordkunstenaars het deelgeneem. Hulle is, in ’n eerste stap, genooi om elk een nuwe kunswerk te lewer met “die Vrystaat” as impuls, maar waarop hulle dan totaal vry kon reageer. En, soos die gesegde lui: Soveel hoofde, soveel sinne.

Konkrete en aktuele sake, soos die genoemde landmerke en grondkwessies, maar ook meer algemeen-menslike vraagstukke soos verlies en verganklikheid, en kreatiwiteit en lewensdrif as teendele dáárvan, is aangepak.

Ewe uiteenlopend is die media wat benut is: olieverfwerk op doek en sintetiese oppervlaktes (Janine Allen en Pauline Gutter); gemengde beeldmedia in gevarieerde kombinasies (Ben Botma, Jaco Spies en Markus Steinmann); beeldhouwerk uit hout en alledaagse dinge soos ’n persketak, ’n klakson, ’n kwartsklip en ’n oogdruppelflessie (Charlayn von Solms). Tradisionele sowel as vormlik meer eksperimentele gedigte is geskryf deur Stef Cilliers, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal en Hennie van Coller; ook ’n paar prosavertellings was te sien (Jaco Jacobs en J.C. Steyn).

Nadat die eerste 12 kunswerke voltooi is, is deur middel van loting voortgegaan om die deelnemers in pare van een beeldende en een woordkunstenaar elk te verdeel. Daarna moes die pare kunstenaars telkens op mekaar se eersterondte-kunswerke reageer deur, eweneens in vrye respons, elkeen ’n verdere kunswerk te skep.

So het uiteindelik 24 nuwe kunswerke tot stand gekom wat nie net (met mekaar) oor Vrystaatse werklikhede gepraat het nie, maar ook veel te sê gehad het oor mens- en kunstenaarswees in die algemeen.  Opvallend was hoe die samewerking tot grensoorskrydende reaksies aanleiding gegee het. Beeldende kunswerke het soms woordmateriaal geïnkorporeer, en woordkunswerke plek-plek visuele kenmerke begin uitbuit.

Jaco Jacobs en Markus Steinmann het uiteindelik ’n totaal geïntegreerde kunswerkkompleks daargestel wat uitgesproke gemeenskapsbetrokke wou wees.  Hulle het byvoorbeeld blikkieskos, met prosavertellings wat soos etikette daarom gedraai was, aan die feesgangers beskikbaar gestel, op voorwaarde dat elke geneemde blikkie met twee volles vervang word.  Laasgenoemde is na afloop van die fees aan hulpbehoewendes in en om Bloemfontein geskenk.

Ewe belangrik as die beklemtoning van kuns se sosiale rol, was die nadenke wat die uitstalling wou stimuleer oor die plek en rol van die kultuurmens, oor die kuns self en oor die grense tussen kunssoorte.

Onderstaande werk (gemengde media en objekte, 156 x 250 cm) deur Janine Allen, ’n dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, het aanleiding gegee tot die konfigurasiegedig “Wat vergeet word, het vergaan” wat onder my naam in die gedigtekamer hiernaas op die Versindaba-webwerf verskyn.   

 

 

 

Janine het die volgende oor bostaande werk van haar mee te deel gehad: “Inkarnasie van die puti handel oor die inherente werking van skilderkunstige prosesse en oor die aard van die skilderkuns self. Die spesifieke werk is gewortel in my belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis hiervan.  Vervreemding en verabstrahering het plaasgevind in die ‘magiese’ verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het.  Inkarnasie van die puti is een werk uit ’n reeks, getiteld Nekropolis, waarin ek skilderprosesse, beelde en selfs die konkrete skilderye verlewendig.”

Gilbert Gibson en Ben Botma het as paar saamgewerk. Ben het die werk Komeet (olie op digitale druk, 120 x 90 cm) gemaak na aanleiding van “die Vrystaat” as inisiële impuls. Oor dié werk skryf hy: “Geïnspireer deur ’n gedenkkruis langs die pad. Die sentrale deel van die werk behels ’n digitale foto waarom daar ’n energieveld of stralekrans van helder kleur in olieverf aangebring is. Die verfproses was ’n moeisame een, met groot sorg (met ’n baie dun kwassie) uitgevoer. Die doelbewuste ‘mooiheid’ van die kruis en die kleure staan in skrille kontras met die smart en pyn wat dit verteenwoordig. 

Na aanleiding hiervan het Gilbert die gedig “another fatal roadside attraction” geskryf, en daarby opgemerk: “Die gedig speel toe op Another Roadside Attraction,  Tom Robbins se eerste roman (1971; Doubleday), en vertel hier die verhaal van ’n motorongeluk waarin minstens een kind dood is, ook as (fataalste) weggaan en verlies.” 

Another fatal roadside attraction

die motor was ‘n wit almera ses jaar oud

met ‘n honderd en sewe duisend kilo’s op

bande effe afgeloop (veral regs agter)

en ’n duik in die deur. die ma het voor gesit

die pa agter die wiel die boetie

agter die ma en die babasussie plat

op die bank in ’n kombers toegedraai

aan die slaap. die boetie het met ’n

tafeltennisballetjie gespeel en

probeer om die headrest voor

hom met die balletjie raak te spoeg

elke tien sekondes ’n sagte plofgeluid

die ma was besig om

te brei penne wat klikklik terwyl

sy die speedometer uit die hoek van

haar oog dophou

die pa het ’n grys langbroek aangehad

en met sy toon sy been wat jeuk probeer krap

die baba was van die dreun aan die slaap gesus

wange van te warm toe rooi

een van die boetie se spoegslae het die

balletjie by ma se wang verby laat trek

teen die truspieël vas af tot in die pa se skoot

sy oë op sy bobeen neergeslaan

die hande gewar

 

die sussie het

in haar kombers verstyf.

 

die lorrie was vandeventer vervoer, ingelyf

 

 

Johann Lodewyk Marais. SENSAL se teleurgang

Sunday, July 5th, 2009

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika ten opsigte van erfenisbewaring (en dus ook die bewaring van bronne vir die bestudering van die Afrikaanse poёsie)? Ek wil enkele fasette aanraak in die lig van my eie ervaring by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar ek van 1983 tot 1990 ’n navorser was. Die rede daarvoor is dat daar tot dusver min gedoen is om ’n bestekopname te maak van SENSAL se rol veral gedurende die 1980’s, en om sekere fasette van die instelling se bestaan krities te beskou.

 

Toe SENSAL in 1981 met dr. Charles Malan as hoof tot stand gekom het, het die Sentrum weliswaar ’n voorloper gehad. Dit was die Dokumentasiesentrum vir Afrikaans, wat in 1970 binne die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns onder leiding van prof. P.J. Nienaber geskep is en hoofde soos drr. P.G. du Plessis en Pirow Bekker aan die roer gehad het. Prof. Nienaber se privaat versameling Afrikaanse boeke het aanvanklik die ruggraat van die Instituut gevorm, terwyl hy ook ’n Bibliografie van Afrikaanse boeke en ’n Bronnegids by die studie van die Afrikaanse taal en letterkunde opgestel het om die wêreld van die Afrikaanse boek te karteer. Prof. Nienaber het egter groter planne gehad en NALN in 1973 in die hartjie van Bloemfontein tot stand gebring om as museum met uitstalruimte en as navorsingsentrum vir die Afrikaanse letterkunde te dien.

 

Veral onder dr. Du Plessis se leiding het die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns ’n redelike profiel as bewaringsinstelling vir die Afrikaanse literatuur gehad. Sedert die stigting van SENSAL onder dr. Malan het die navorsingsprofiel egter enorm vergroot en is geywer om ’n leidende inset te lewer tot die stimulering en koördinering (’n geliefde SENSAL-oriëntasie waarvoor iemand soos prof. Merwe Scholtz geen ooghare gehad het nie) van veral literêrsosiologiese navorsing oor die Suid-Afrikaanse literature. Waar SENSAL nie self oor die kapasiteit beskik het om hierdie navorsing te doen nie, is van kundiges buite die Sentrum gebruik gemaak. ’n Ambisieuse én suksesvolle uitvloeisel van hierdie inset was die reeks van ses literêre jaaroorsigte, getiteld SA literature/literatuur, saamgestel deur dr. Francis Galloway.

 

Benewens vir literêrsosiologiese navorsing is ook ruimte geskep vir die bestudering van progressiewe Sestigerskrywers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en Breyten Breytenbach. Gedurende hierdie jare was daar byvoorbeeld publikasies oor die esoteriese Leroux, waaraan ’n hand vol “uitgelese kenners” eksklusief meegewerk het, wat tot die hemelhoë kanonisering van dié skrywer se werk gedurende die 1980’s bygedra het. (Toe die Universiteit van die Vrystaat enkele jare gelede ’n seminaar oor Leroux aangebied het, is die vraag gestel of hy intussen vergete geraak het.)

 

Op 1 Oktober 1990 het SENSAL ophou bestaan en ’n jaar later is die dokumentasie wat intussen in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Kunste-inligting bewaar is na die Staatsargief oorgeplaas, waar dit sedertdien geen verdere aandag gekry het nie. In hierdie tyd het formele navorsing oor die Suid-Afrikaanse letterkunde en die befondsing daarvoor in die RGN tot ’n einde gekom. Die einde van SENSAL, waaroor géén literêre haan gekraai het nie, het gekom toe dr. Tjaart van der Walt president van die RGN was en die organisasie te midde van snelle politieke hervorming en die meegaande navorsingstendensies ’n dramatiese koersaanpassing gemaak het.

 

Van die ideale tydens die RGN se herstrukturering was om groter legitimiteit te verkry (in daardie jare bykans ’n onbereikbare ideaal) deur navorsing te doen wat deur kliënte van buite befonds word. Terloops, indien genoeg geld vir letterkundige navorsing van buite die RGN beskikbaar was, sou dit moontlik gewees het om hierdie navorsing voort te sit. Weliswaar sou kunstenavorsing wat nie ’n sterk dimensie van gemeenskapsbetrokkenheid gehad het nie (iets soos dr. Gerard Hagg se kunstesentrums) voortaan met groot wantroue bejeën word.

 

Hierdie agtergrond is myns insiens belangrik wanneer na besluite gekyk word wat by SENSAL (en die RGN) ten opsigte van erfenisbewaring geneem is. In die lig van die groot klem wat op navorsing van ’n literêrsosiologiese aard gelê is, het SENSAL gou afskeid geneem van ’n navorser soos me. Rothea Olivier (iemand wat vergelykbaar is met NALN se me. Erika Terblanche), wat vir die aanwins en hantering van die dokumenteversameling verantwoordelik was. Me. Olivier (1983) se verhandeling oor onder andere die skryfster M.E.R. (onder studieleiding van prof. Elize Botha) en haar boek oor Jochem van Bruggen is as uit pas met die nuwe rigting in SENSAL beskou, terwyl die oorblywende deel van die Nienaber-boekery as van min waarde beskou is.

 

Gedurende my tyd is min navorsing oor die dokumente in SENSAL se besit gedoen en skenkings (soos dié van Bartho Smit, Henk Rall en Koos Prinsloo) kon nie meer tot hulle reg kom nie. Buite SENSAL is min opleiding aan studente gegee om hulle voor te berei om argivale navorsing te doen en talle verhandelings en proefskrifte is gekenmerk deur blootstelling aan nuwe teoretiese benaderings (onthou dit was ’n era van paradigmawisseling) en pogings om dit op aanvaarbare tydgenootlike skrywers se werk “toe te pas”. Dat figure soos proff. Nienaber en Jacques P. Malan (laasgenoemde die hoofredakteur van die vierdelige Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie) minder aanvaarbaar geword het en mettertyd binne die RGN as dinosourusse uit die verlede beskou is, was ’n logiese gevolg van hierdie aanpassings.

 

Boeke met Nienaber se ex libris voorin en Africana-boeke wat kort vantevore nog onder spesiale omstandighede bewaar is, het mettertyd vir R1 stuk op die RGN se uitverkopingstafel beland. Dit wat ons in Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990) en Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat (2006) oor die devaluasie van biblioteekversamelings gelees het, het in die wêreld daarbuite gestalte gevind. Dit wat binne enkele dekades tot stand gebring is, is “laat sterf”, om J.C. Steyn se woorde in die gedig “Vrede” in Die grammatika van liefhê (1975) te gebruik. Dit is beslis nie net die nuwe regering wat vir hierdie tendens verantwoordelik was nie.