Posts Tagged ‘Jelleke Wierenga’
Thursday, February 10th, 2011
Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.
 Digstring
Inhoud
A-B
Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010
Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010
Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011
Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012
C, D, E
TT Cloete. Swerwende verse
Toast Coetzer. geluk
Marius Crous. Die ander man
Anne-Ghrett Erasmus. Skilder
Sydda Essop. Ek lewe in stilswye
Louis Esterhuizen. Melopee
F, G
Gilbert Gibson. Another roadside attraction
Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.
H, I, J
Joan Hambidge. “The drama of being a child”
Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010
Joan Hambidge. Parys
Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010
Pieter Hugo. Honde
Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010
K, L
Ronelda Kamfer. Stof. Junie 2010
Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht
Martine Klopper. Kwatryn
Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010
Kobus Lombard. Kameeldoring
M, N
Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey
Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie
Melt Myburgh. Toeval
Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010
O, P, Q
Pieter Odendaal. die eerste steen.
Johannes Prins. Man diesel
R, S
Andries Samuel. All god’s children took their toll
Carina Stander. Lima
Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010
T, U
V, W
Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite
Ilse van Staden. Fluistering
Cas Vos. Kersrook
Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012
Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com
Tags: Andries Bezuidenhout, Andries Samuel, Anne-Ghrett Erasmus, Annie Klopper, Antjie Krog, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Digstring, Fourie Botha, Gilbert Gibson, Ilse van Staden, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Johannes Prins, Kobus Lombard, Louis Esterhuizen, Lucie Möller, Marius Crous, Marius Swart, Marlene van Niekerk, marlise joubert, Martina Klopper, Melanie Grobler, Melt Myburgh, Pieter Hugo, Ronelda Kamfer, Sydda Essop, Toast Coetzer, TT Cloete, Zandra Bezuidenhout Posted in Indekse | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, January 13th, 2011
 Die politoerblikson van gemaalde glas teen die plafon van die kombuis.
Uiteindelik het ek ook die pelgrimstog na die Uilhuis op Nieu-Bethesda onderneem. En soos ’n ware pelgrimsreisiger op reis gebly … weg, al hoe verder weg van my rekenaar. Ek het afgestaar in die Vallei van Verlatenheid met swaeltjies bo my kop, ’n enkele sekonde geskei van my Vallei van Vergetelheid. Om sonder vlerke of ‘n Lamborghini Diablo te vlieg, is nie moeilik nie. RIV, Rob Taylor.
Helen Martins se huis en beeldetuin was ’n reis die vreemde in.
 'n Deel van die beeldetuin soos gesien uit die kombuisvenster.
 Die uile sien alles.
Moontlik, peins ek by myself, was sy nie juis vreemder as die meeste ander mense nie, maar sy het haar onderskei deur haar vreemdheid skeppend uit te druk … waar talle ander alkohol, ativan, televisie, die internet, sigarette en kos gebruik om die roeringe van die vreemde in die doofpot te stop.
 Vergeefs probeer hulle die tyd terughou.
 Mona Lisa teen die watertenk.
Die meeste besoekers voel die Uilhuis aan as beklemmend, “weird”, depressief, ontstellend. Ek het die broeiende pyn in die huis aangevoel (dalk my eie projeksie), maar ook ’n oplugting omdat die pyn kreatief beweeg en voortstu na lig en kleur en beweging – die swiepende sterte van meerminne, oop vlerke van uile, bewegende pote van kamele, ’n hele optog op pad na die groot ster in die ooste.
 Reikhalsend na die Lig.
 Die Kind in sy stal vol lig.
Waarom Miss Helen bytsoda gebruik het as stadige, pynlike transport na die groot Lig, daaroor wonder ek nog altyd. Was vandag se vinnige, gerieflike vervoer nie beskikbaar nie – ’n oordosis slaappille, uitlaatgas in ’n motorhuis, ’n gasoond, ’n vuurwapen? Of was die pyn so groot – fisieke pyn weens artritis en oë gesny deur glasstof; knaende emosionele pyn van ou dinge – so erg dat net ’n groter pyn haar uit kon lei?
 Herinnering aan Pa.
Die Gautengers wat in hul weelderige wit viertrekvoertuie in ’n stofwolk voor die Uilhuis stop, vinnig die “weird” plek besoek, ’n klip- of blikuil koop en weer in ’n stofwolk vertrek, mis die hele ervaring – naamlik die dorp. Sommige Gautengers is darem meer avontuurlik ingestel – hulle jaag met hul BM’s deur die dorp, neem foto’s deur die voorruit en vergas hul vriende op verhale van hierdie lieflike, rustige dorpie wat net beleef móét word.
Die massiewe, manjifieke groen bome tref ’n mens die eerste as jy die dorp binne ry, dan die w-y-e stofstrate, die windpompe en damme in elke tweede tuin, die borrelende leiwatervore, die oop groen velde in die dorp waar waarskynlik ekstatiese skape, koeie en perde wei. Die sypaadjies is skoon – ’n rariteit in die nuwe Suid-Afrika – en saans sien jy hoe sterre eintlik behoort te skitter omdat daar geen straatligte is nie. Ongelukkig is daar heelwat inwoners wat moontlik uit empatie met die res van Suid-Afrika hul buiteligte heelnag laat brand. As ek die burgemeester was, word hulle streng beboet.
 So wyd soos die Heer se genade is die strate ...
Die verval wat so sigbaar en mistroostig die meeste dorpe en dorpies in Suid-Afrika oorgeneem het, is hier heeltemal afwesig. ’n Mens besef: Dis net ’n handjievol besielde mense, dié wat nie moed opgee nie, wat die verskil maak. Hulle staar nie verlam die donker ellendes van die toekoms binne nie – hulle doen wat die hand hier en nou vind om goed te doen.
 'n Lug vol helder wolke in die Karoo.
Daar broei ‘n toekomstige “Miss Helen” op Nieu-Bethesda … ’n man wat eiehandig ’n soort paleis/kasteel van klip met ronde torinkies en sprokiesvenstertjies bou. Hy is ook besig met ’n klipheining wat hy met drankbottels en stukkende koppies en bekers vul. Ek het ’n idee hy voorsien sy eie glasvoorraad teen ’n konstante tempo.
Met die verkenning van die dorp – en dit kan in niks minder as vier dae gedoen word nie om die blou lig, vet wolke, Karookoppies, vrede, fonteinwater, plaaslike bier, sterre en betowerde bome te assimileer – wurm ek my deur ’n draad langs ’n halfgeboude klipgeboutjie. ’n Mens doen sulke goed in vreemde dorpe. Ek klim ’n halfgeboude damwal op (ook de rigueur in vreemde dorpe) en bestaar die halfklaar sprokiesgebou oorkant die straat. Die bouer/eienaar in sy blou werkerspak is besig om sement op die sypaadjie te meng. Maar nou staan hy hande in die sye en bestaar my. Ek kan sommer so van ’n afstand aanvoel hy is nie op die punt om vriendelik te wuif nie en steek toe maar my kamera agter my lyf weg. Iets in sy houding laat my vermoed dat hy ’n dubbelloop-haelgeweer agter die naaste boom kan uitpluk en vulsel vir sy klipmure van my kan maak.
Sensitief soos ek altyd vir ander se delikate gevoelens is, klim ek ongrasieus van die damwal af, wurm weer deur die heining en stap aan die oorkant van die sypaadjie verby sy plek. Op my moontlik idiotiese vraag of hy alles self doen, mompel die paleisbouer iets wat op “fokof” kan neerkom. Ten minste hou sy jong Labrador van my bene en besnuif dit, maar sy baas roep hom kwaai terug. Geen mededoë met ’n nuuskierige siel nie – en ek kom nie eens van Gauteng nie, ry ’n ou Mazda en dra klere uit ’n hospieswinkel. Wie weet, dalk is hy gawer as ek eendag met ’n paar vol bottels drinkgoed vir die mure kom kuier.
 Helen Martins se beskeie graf.
Die begraafplaas, groot, goed versorg en met nog baie plek, is ‘n heerlike plek om ure lank in te dwaal en te peins oor hoe gou alles verby is. Heel per ongeluk kom ons op ‘n beskeie graffie vir Helen Martins af: ‘n uil met groot groen oë waak oor ‘n hopie grond met klippe, skulpe en pienk kunsblommetjies. Die teks op die lyf van die uil is net hier en daar leesbaar.
 Helen, het jy rus gevind of reik jy nog na die Lig?
Thursday, July 1st, 2010
Digstring
| Reënboognasie: Fear dot com
In alle kleure reën
bloed hier beter
as kill bill
in cinemascope
the bride se kopwaai-
swaardtegniek
verfyn met vyf vingers
om ‘n made-in-china mes
soos clockwork orange
kreun ‘n vrou onder
the old ultra-violence
the old in-out in-out
the devil wears prada
en amagents snyerspakke
gucci lacoste arbite camel
drop dead gorgeous
halfmas hang ons trois couleurs:
bleu is onse hemelhel
blanc die lyke neergevel
rouge die rowe in ons grond
(c) Jelleke Wierenga (Uit: Bloot mens, 2009: Protea Boekhuis)
|
Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jelleke? Hoe het dit ontstaan?
Ek het dit geskryf terwyl ek besig was met die uitsoek, skaaf en skryf van gedigte vir my debuutbundel Bloot mens, so drie of vier jaar gelede. In die metropool Montagu waar ek woon, is daar geen bioskope of teaters om die inwoners se aandag van die natuurskoon en die af-en-toe-keelafsny-van-’n-vrou af te trek nie. Ek kyk net televisie wanneer ek iemand met DStv se huis oppas. My ou Blaupunkt het in elk geval ook al groen geword, nes ek, maar hy letterlik. Wanneer ek nie in ‘n leesfase is nie, kyk ek by tye kompulsief video’s. Drank werk nie vir my nie. Ek neem digitale videoskywe by ons plaaslike Vee’s Videos uit, waar hulle ook gebraaide hoenderstukke verkoop, en kyk hulle op my skootrekenaar in die bed, soms met sjokolade gedoop in tee. Die groot vreugdes van die lewe is dikwels klein. Die keuse van sielsverkwikkende DVS’e by Vee’s Videos is nie baie groot nie. Eendag, terwyl ek te midde van die oorverdowende gedreun van die TV en braaiende hoenders probeer besluit wat om uit te neem, besef ek skielik dat baie van die titels ‘n metafoor vir die opwindende gebeure in Suid-Afrika is. Fear dot com. Kill Bill. Running with scissors. Drop dead gorgeous. Army of darkness. Resident evil. Drag me to hell. Die idee het by my opgekom: Wat van ‘n protesgedig gemaak van die titels van DVS’e? Ek het later teruggekom met ‘n notaboekie en ‘n klomp titels afgeskryf. Ek het ook aantekeninge gemaak van die teks op die agterplat van die houers. Aan die hand van dié bladsytjies gekrapte woorde het ek die gedig geskryf.
Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?
Die gedig was heelwat langer as nou, want ek het probeer om soveel moontlik van die titels op my lysie in te werk. Ek het taamlik maklik geskryf aan sekere strofes, maar ander het my soveel probleme besorg dat ek dit naderhand geskrap het. Al my gedigte gaan deur baie oorskrywery en skrap van woorde - soms bly daar so min oor dat dit nie meer sin maak nie. Dan gaan ek terug na die oorspronklike weergawe en begin weer. As kopieskrywer is ek geskool om woorde te sny tot op ‘n bepaalde woordtelling. Ook om so direk en duidelik moontlik te skryf, wat dalk ‘n nadeel is. In die manuskripweergawe van die gedig was daar ‘n ekstra strofe:
running with scissors
hol ‘n malhuis mense
en all the president’s men
speel in hul masturbatorium
Ek het toe pas die DVS Running with scissors gesien (ook die boek gelees) en die verwysing na die “masturbatorium” kom daaruit. Inderdaad speel Jacob Zuma se manne (en vroue) in hul masturbatorium terwyl die land in duie stort. Jeanette Ferreira (of Martjie Bosman?) van Protea het voorgestel ek ruil die eerste twee reëls om:
‘n malhuis mense
running with scissors
Dit het die sintaksis dalk verbeter, maar hoe ek ook al met die strofe rondgespeel het, ek kon dit nie na my sin kry nie - dus: “when in doubt, leave out”, die ou gesegde destyds toe ek nog by Beeld gewerk het.
Strofe drie het ná heelwat wroeg en sweet na sy finale vorm ontwikkel. Die manuskripweergawe was:
op die ritme van ‘n vrouegil
clockwork orange
the old ultra-violence
the old in-out in-out
In ‘n stadium was die eerste reël ook:
op beethoven se negende
Die verwysing na Beethoven se Negende Simfonie is na aanleiding van Alex, die bendeleier in A Clockwork Orange, se obsessie met dié simfonie. Verbasend genoeg was die DVS van die rolprent in Vee’s Videos. Ek lees Wikipedia sê clockwork orange kom van ‘n ou Cockney-gesegde: “As queer as clockwork orange.” Dinge gaan vir my baie “queer” in ons land, en ek verwys nou nie na homoseksuele nie.
In die oorspronklike weergawe van strofe drie het ek “clockwork orange” as werkwoorde ingespan, maar die kommentaar van die redakteur was dat die betekenis en sinsbou nie duidelik is nie. Daar is voorgestel dat ek “op” skrap, maar dit het die betekenis vir my verduister. Ná ‘n lang gesukkel en kopkrappery het ek die idee gekry om “clockwork” te gebruik in die sin van “soos klokslag”. Die eerste sin het toe gekristalliseer:
soos clockwork orange
Nou moes ek “op die ritme van ‘n vrouegil” verwerk om as tweede reël daarby aan te sluit. Die sin verwys na die derduisende vroue wat in ons land verkrag word, gereeld, ritmies. “Ritme” skakel met “clockwork” sowel as die ritme van die seksdaad. Ek moes uiteindelik die hele sin laat vaar en iets heel anders uitdink wat steeds die daad van verkragting suggereer. Uiteindelik het die visuele en ouditiewe voorstelling van ‘n verkragting my die sin gegee:
kreun ‘n vrou onder
Nie alleen is die vrou letterlik onder die man tydens die verkragtingsdaad nie, maar ook in sosiale status onderwerp en ondergeskik aan die man en uiteindelik die prooi van sy magslus.
Die laaste twee sinne:
the old ultra-violence
the old in-out in-out
het ek van die teks agter op die DVS-houer gekry. Toe ek dit neerskryf, het ek geweet dié stukkie “new speech” van Alex en sy droogs is uitstekende kopie. Waar kan jy meer sinies en grafies kry?
Die laaste strofe verwys na die driedelige rolprent Trois Couleurs: Bleu, Blanc en Rouge. Blou, wit en rooi is die kleure van die Franse vlag. Elke prent in die trilogie is losweg gegrond op die slagspreuk van die Franse Republiek: gelykheid, vryheid, broederskap. Ek het die trilogie lank gelede in Kaapstad gesien en die titels het my te binne geskied toe ek kop gekrap het oor die laaste strofe. Die kleure het my laat dink aan die vlag van die “ou” Republiek van Suid-Afrika, waar oranje, wit en blou vir talle die simbool van verdrukking en onreg was. Vandag waarborg die grondwet gelykheid, vryheid en broederskap aan elke burger van die land … te midde van erger as ooit verdrukking en onreg. Die ironieë is eindeloos.
Die strofe was in manuskripvorm soos volg:
trois couleurs wapper ons vlag halfmas:
bleu vir onse hemel blou
blanc vir lyke wit gevel
rouge vir rooi die land gesooi
Martjie Bosman se kommentaar was dat die strofe nie heeltemal werk nie en moontlik te eksplisiet is. Ek stem saam: Dit was onnodig om die Franse kleurname in Afrikaans te herhaal. Sy het voorgestel ek oorweeg iets soos:
trois couleurs wapper halfmas
bleu is onse hemel
blanc die lyk se vel
rouge die grond gesooi
Of selfs:
ons trois couleurs hang halfmas
bleu is onse hemel
blanc die lyke (neer)gevel
die aarde rouge deurdrenk
Op grond van hierdie voorstelle het ek die slotstrofe soos volg aangepas:
halfmas hang ons trois couleurs:
bleu is onse hemelhel
blanc die lyke neergevel
rouge die rowe in ons grond
Die ritme werk vir my baie beter met sewe lettergrepe vir elke versreël. Die oorspronklike “sooie” wou om die dood (ha!) nie werk nie en uiteindelik het die beeld van “rowe” gekom, wat beter rym met “rouge” en “grond”.
Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?
Ek dink dit was so 20% inspirasie en 80% perspirasie. Die eerste strofe was ‘n geskenk - ek het dit so te sê net so neergeskryf. Ek is dankbaar oor die “hier” wat die redakteur in die tweede reël ingevoeg het. Dit het die gedig dadelik in die Suid-Afrikaanse bloederigheid geanker.
Met die skryf van die gedig het ek pas Kill Bill 1 & 2 op DVS gesien. Uma Thurman as die wraaksugtige bruid met haar fenomenale onthoofdingstegniek het my erg beïndruk. Vir die tweede strofe het ek Kill Bill 2 weer uitgeneem en gekyk. Ek wou graag iets insit oor die “five-point-palm-exploding-heart technique”, waar die Bride op vyf plekke op Bill se lyf druk en sy hart laat ontplof … nadat hy vyf treë gegee het. My Afrikaans vir die tegniek was iets soos die vyfpuntdood of die hoenderklou-tegniek. Uiteindelik het ek by die kopwaai-swaardtegniek gehou. Die vyf drukke het beslag gekry in “vyf vingers om ‘n made-in-china mes”.
Strofe 4 het ook taamlik maklik gekom. Die redakteur het my hier van ‘n flater gered: ek het “prado” geskryf, seker oor ek nooit etiketklere dra nie. (The devil wears Prada is ‘n aanbevelingswaardige fliek met Meryl Streep in die hoofrol.)
Die inligting oor die amagents het ek gekry in ‘n artikel deur Mariechen Waldner in Rapport van 16 September 2007, wat ek destyds uitgesny en gebêre het. Volgens die artikel verwys amagents na Suid-Afrika se transitorowers. Hulle beskou dit as benede hul waardigheid om misdadigers of gangsters genoem te word. Hulle noem hulself amagents (gentlemen) en dra net die duurste ingevoerde Europese klere.
In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?
Soos hy nou is, dink ek hy is finaal, hoewel ek natuurlik verskillende variasies op die tema kan skryf. Ek verstaan nie die vraag oor die ordeningsbeginsel nie.
Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?
Ek dig maar in my allenigheid. My oorlede kat het geen erg aan ‘n voorlesery gehad nie en dikwels weggeloop terwyl ek haar insette dringend nodig gehad het. Ek is baie dankbaar vir die insette van Jeanette en Martjie met die afwerking van die gedig.
Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?
Pas nadat dit geskryf is, is dit in manuskripvorm na Protea gestuur. Dit is dus die eerste keer in Bloot mens gepubliseer.
Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?
Fiksie word ingespan om die feite van die Suid-Afrikaanse werklikheid oor te dra. Die een vrou se feite is natuurlik dikwels die ander ou se fiksie, en andersom.
Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?
Dit borrel en prut maar gedurig in my oor wat in Suid-Afrika aangaan - die negatiewe, die slegte, die geweld, die aftakeling, die chaos, die waansin. Dit kook in my verse uit. Ek het ‘n donker streep van my pa geërf. Ek werk ernstig en hard daaraan om meer positief, mensliewend, begrypend, verdraagsaam, oopkoppig, vergewensgesind en veral minder veroordelend te wees, want ek wil nie in my volgende lewe met die karma van die negatiewe opgesaal sit nie.
Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?
Al die rolprente wat in die vers genoem word, het my aan die gewelddadigheid en waansin van Suid-Afrika laat dink. Die lysie was baie langer as dié wat genoem word.
Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?
Ek skryf vir myself.
In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?
Ek skryf nogal uiteenlopende verse, van die lang, verhalende tot die kort en kriptiese. Ek glo nie hierdie vers verskil van my ander gedigte nie, maar ek is oop vir oortuiging deur ‘n minder betrokke leser.
Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?
Die groot leuen van die reënboognasie. Bloed wat in alle kleure reën. Die mes as aanvalswapen. Die hoë verkragtingsyfer. Transito-rooftogte. Die onbeskryfbare verdriet van ‘n volk wat ongeërg uitgemoor word. Moontlik gaan dit in sekere lande in Suid-Amerika erger as hier, soos sekere mense dit graag uitwys, maar moet dit ‘n mens nou beter laat voel? My ervaring is tog oorweldigend híér, nóú.
Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak?
Ek is tevrede met hoe hy nou staan, maar is nogal spyt dat “all the president’s men” en die masturbatorium in die slag gebly het.
Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?
Is resensente ook lesers? Een het my nogal gelooi oor my politieke verse (dié oeuvre van my beslaan 3 van die 38 gedigte), maar ek kan nie onthou dat iemand spesifiek na Reënboognasie verwys het nie. Van my vriende verstaan die vers glad nie, wat my verbaas, want myns insiens is dit baie eenvoudig en vanselfsprekend (as jy bekend is met die rolprente waarna verwys word).
‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?
Ek het op universiteit graag deur die Groot Verseboek geblaai en parodieë van bekende gedigte geskryf in plaas daarvan om te studeer. Ek dink die gedig hieronder is my eerste “ernstige” gedig. Ek het dit geskryf toe ek by Beeld gewerk het tydens ‘n universiteitsvakansie. Die koerant was toe nog in Nieu-Doornfontein en ek het ‘n kamer in ‘n gure buurt daar naby gehuur, binne stapafstand. (Daardie dae was studente mobiel per voet of fiets. Daardie dae het ek ook nog gerook.) Ek het die gedig nog al die pad gebêre, getik op my klein draagbare tikmasjientjie, ek dink dit was ‘n Antares:
kamer in johburg
vliegbesmetting keurig
gedétail
teen die groen plafon
rembrandt van rijn filter de luxe
verstomp
meesterstukkend
begatte draadstoel
sper
vierlynig wit
gelapte blomme
bries
krampend in en uit
 Jelleke Wierenga
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer. Haar debuutbundel, Bloot mens, het by Protea Boekhuis in 2009 verskyn.
|
Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog
“How a poem happens“.
Friday, June 18th, 2010
Mense soos ek, so hoor ek dikwels, lei aan ‘n vorm van politieke korrektheid. Ons wil “die realiteit” nie in die oë kyk nie; ons is desperaat om alle betekenisvolle verskille in Suid-Afrika te neutraliseer; ons wil ‘n onbeholpe en soms korrupte regering vergoeilik….
Siende dat baie mense soos ek wél krities oor die huidige regering is, wél dink dat diversiteit en dinge soos taalregte belangrik is, en tog bekommerd is oor geweldsmisdaad, moet “die realiteit” wat ons nie in die oë wil kyk nie, seker iets anders wees… Hierdie iets anders, “die realiteit”, is klaarblyklik dat ons nie in Suid-Afrika te make het met ‘n komplekse stel maatskaplike probleme nie – ‘n soort “sosiologisering” van “die realiteit” wat in elk geval net weer ‘n voorbeeld van politieke korrektheid is! Meer nog, omdat dit ‘n doelbewuste ontkenning van “die realiteit” is, is dit ook sommer ‘n vorm van selfsensuur!
Jy hoef maar net vir twee of wat minute op die organisasie Praag se webblad rond te hang (enigiets meer is vir enige selfrespekterende mens te veel) om te weet wat “die realiteit” is wat mense soos ek ontken en deur selfsensuur probeer verdoesel. Die kwessie is nie komplekse maatskaplike probleme nie, maar die wesenlike aard van swart mense, “die swartes” en “die swartes se regering”. Dit gaan daaroor dat swart en wit nie net verskillend is nie, maar dat swart minderwaardig is. Nee, meer: dat die swart persoon (jy sal die uitdrukking “swart persoon” egter nie eintlik dikwels op Praag se webblad vind nie; eerder net “swartes“) eintlik baie na aan ‘n dier is. Dié dat ons so sukkel met geweldsmisdaad, mos!
Die probleem is dat Praag se openbare stemme, die amptelike beriggewers en rubriekskrywers, hulleself ook maar skuldig maak aan ‘n vorm van selfsensuur. Hulle verdoesel ook maar wat hulle éíntlik wil sê. Hulle werk met innuendo en gekodifiseerde vorme van kommunikasie. Soms is dit selfs amusant. Ek bedoel, is daar iets meer tragikomies as iemand wat sy land so graag wil sien faal dat hy, al is hy nie ‘n sokkerkenner nie, ‘n sportberig skryf waarin hy homself verlekker aan SA se nederlaag teen Uruguay?! Dan Roodt (ek wonder wat sê hy oor Frankryk se vertoning? te veel immigrante in die span?) skryf: “Terwyl Suid-Afrika oor die afgelope maande getrakteer is op die onoorwinlikheid van die plaaslike sokkerspan en die regeringsgesinde media oor ‘nasiebou’ gepopel het, het Uruguay finaal die Afrosentriese seepbel geprik.” Hy gaan voort (want sal hy ooit níé!): “Die tweede helfte van die wedstryd is ontsier deur geniepsige en selfs vuil spel deur die swart Suid-Afrikaanse spelers wat telkemale hul opponente gepootjie het.” Magties! Jy sien díé soort ding gelukkig nie onder wit spelers nie. (Of miskien kyk Roodt gewoonlik net skaak.)
As jy gedink het Bafana Bafana het heelwat wit en selfs Afrikaanse ondersteuners, moenie jou oë en ore te maklik vertrou nie. Roodt het sy vinger op die pols, op “die realiteit”: “Op Facebook het honderde Afrikaners openlik kant gekies vir Uruguay en die assosiasie van die Bafana met die gewelddadige en korrupte bestel in Suid-Afrika is geredelik deur die meeste deelnemers verwoord. Wat ‘n triomf vir Afrosentriese ‘nasiebou’ en swart rassenasionalisme moes wees, is deur ‘n blou-oogman met lang blonde hare uit ‘n klein Suid-Amerikaanse land die doodskoot toegedien.” Ai, die Ariese erotiek!
Hiermee maak Roodt dan die deur oop vir sy dom, verbeeldinglose en boonop agterbakse (hulle skryf gewoonlik onder skuilname) en afknouerige lesers om kommentaar te lewer. Hierdie kommentare wissel van pateties tot walglik, maar ten minste word daar nie sensuur toegepas nie, veral nie selfsensuur nie. (Vir laasgenoemde sou ‘n soort selfrelativerende insig nodig wees, waaroor regses gewoonlik nie beskik nie. As jy heeldag “ek”, “ons”, “eie” prewel, is dit moeilik om dinge vanuit iemand anders se perspektief ook te sien. Veral, kleurgrens behoed my, wanneer die ander ‘n swarte is!)
Een van Roodt se lesers reageer soos volg:
“Hau !
Die Bobdzanna-Bobdzanna hy hêt gavorlôr. Bóggom !
Lêkkêrrrrrr…
Dom donderse useless käffors”
Op Praag is hulle nie bang vir “die realiteit” nie, en briefskrywers maak hulle nie skuldig aan “selfsensuur” nie, so gelukkig het hierdie digterlike insig nie verlore gegaan nie…
Die grootste probleem in die Afrikaanse openbare diskoers is, anders as wat iemand soos Jelleke Wierenga dink, nie selfsensuur nie. Die probleem is veel eerder die onvanpaste intellektuele selfversekerdheid en die morele agterlikheid van die meeste Afrikaanse regses. Die ander probleem is dat hierdie mense, bloot oor ons dieselfde taal praat, hulle verbeel dat ek en hulle deel is van dieselfde groep. Diegene van ons wat anders dink gee gans te veel om wanneer ons van “politieke korrektheid” beskuldig word; en ons is boonop gans te verdraagsaam!
Wat ons wel by die regses kan leer, is dat daar iets is soos politieke vyandskap, en dat ons ons vyande meedoënloos moet jag met argumente en ‘n beter verbeelding. Bowenal moet ons nie afgeskrik word deur die siniese manier waarop hulle misdaadstatistieke en moordstories misbruik om retoriese punte aan te teken nie.
Dit is ‘n cheap trick, en verwerplik.
Tuesday, May 25th, 2010
Blogfokus
In die eerste gedig in haar bundel haal Jelleke Wierenga die deelteken van “poësie” af. Kru miskien, maar hierdie sê is ‘n raaksê oor die houding van die gemiddelde Afrikaanssprekende teenoor die digkuns.
Sy het redelik lank gesukkel om gepubliseer te kry, dus is die gedigte in haar debuutbundel goed “ingeleef”. Ek dink deel 3, “Galery van gewese geliefdes”, is eintlik haar forté en ek het gehoor dat gedurende een van die eerste probeerslae om haar werk voor te lê vir publikasie, Charles Fryer haar aangeraai het om te konsentreer op die erotiese gedig. Dit is egter nie al nie, in deel 1 en 2 stel sy haarself en haar verhouding met die woord bekend, met ‘n aantal intertekstuele verwysings na Breyten Breytenbach.en bv. die gedig Profiel, waarin amper elke tweede woord met ‘n P begin.
Sy skryf oor die omgewingskwessies, in “Geklassifiseer Gedoem“: Bome my bome / vergewe ons: / want ons wil nie weet / wat ons doen nie. Sy sê ook haar politieke sê, bv. in die gedig “Dislojale Verset“, die titel n.a.v. N.P. van Wyk Louw se Lojale Verset.
Sy skryf diep rakende gedigte, soos 10 September 2007:
My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het
…
Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.
Sy raak geestelik in God, ons almal se pel:
Heilig ons nog iets/iemand
knieverniel op die viniel
in die koue kombuis
Ek lees poësie om twee redes. Eerstens seker die normale rede hoekom lesers poësie lees, tweedens omdat ek altyd besig is om te soek na woorde wat hulle in ritme en note wil laat hokslaan tot liedjes. Aangesien my eie woorde maar min is, soek ek ook in ander mense se woorde. En as ek dit kry, dan is daardie bundel my gunsteling bundel tot eendag. So ‘n paar weke gelede het dit met my en die gedig “Van Blou” uit hierdie bundel gebeur. Ek moet sê dit was nie maklik nie, by tye het ek gedink dis onmoonlik, maar ek het geweet daar is iets in daardie gedig. En toe werk dit. Dit wérk! Gisteraand het ons die nuwe fliek Jakhalsdans gaan kyk, ek sien Theuns Jordaan in die rol van die kluisenaarsanger Ruan Landman met sy bloedbelope oë “deur die windpomp se wieke”, welliswaar in Loxton, nie Barrydale nie, maar skielik word die liedjie vir my werklikheid:
nooit het die blou
verdof in jou dronk
of rooi geaar
of pers gepimpel
soos jou arme knol
van ‘n neus nie
Blou was jou oë
in Barrydale
die dag deur die windpomp
se wieke en blouwinde
wat wapper
Daarom is hierdie my gunsteling bundel op die oomblik, van Jelleke Wierenga, bloot mens: “Bloot mens“.
Groete,
Chris van der Westhuizen
Monday, April 26th, 2010
 Jelleke Wierenga
Veels geluk, Jelleke. Mag daar sommer baie vreugde verskuil lê in hierdie dag, en ook die nuwe lewensjaar.
As huldeblyk volg een van die gedigte uit jou gedigtekamer hieronder.
Vriendelike groete,
Louis & Marlise
vir bb
intieme anonieme vriend,
vir hierdie oomblik onder jou hand
klop-klop my vier diepkamers
en in my lang bloedgange omhels ek
jou versuipte donker engel
in die swart wyn of asyn
wat uit jou vyf vriende
hondsgetrou drup en soms
stol tot drolle rol
ek in ontsettende vreugde
in jou woordtorinkie dig
dooldraai ek lig:
dít is die ondenkbare verskil: die sig
in en uit, want jou woordsaad skiet
soos sterre met sterte
in hierdie geknelde land
vou jou leë vertel-vel vér oop
en wyd wapper die tapyt
waarop ek hop vir ‘n trip en ‘n half
deur ‘n duisend-en-een nagte
vir hierdie oomblik, vir altyd,
Woordvoël, sug en snak
jou vlugverslag
die oë op my vlerke oop
Uit: Bloot mens. Protea Boekhuis, 2009
Tuesday, November 3rd, 2009
 Tjitske Jansen
Verlede week is dit bekend gemaak dat Tjitske Jansen met die gesogte Anna Bijns-prys vir vanjaar bekroon is. Sy ontvang die prysgeld van € 10,000 vir haar bundel Koerikoeloem. Die paneel beoordelaars, wat bestaan het uit Anna Enquist, Mustafa Stitou, Jaap Goedegebuure, Marja Pruis en Fleur Speet, het bevind dat haar bundel ”een originele, gewaagde en verfrissend humoristische blik op tragische gebeurtenissen (werpt). Het vormt in z’n diversiteit zo’n compact geheel dat de jury er niet omheen kan. De bundel is licht en donker. De bundel waaiert uit en bindt in. De bundel houdt afstand en schrijnt op de huid. De bundel is een samensmelting van contrasten die schitteren als een juweel.’ Die ander digters wat vir dié prys genomineer was, is Eva Gerlach (Situaties) en Esther Jansma (Alles is nieuw). Die volledige verslag kan hier gelees word.
Inderdaad is dit geen geringe prestasie deur Jansen om haar te midde van dié uitgelese geselskap te kon laat geld nie; veral omrede haar poësie allerweë as hoogs toeganklik en selfgerig beskou word. Nogtans het daar meer as 10,000 eksemplare van haar debuutdigbundel Het moest maar eens gaan sneeuwen (2001: Podium) verkoop … (Gaan lees gerus die berig by De Papieren Man. Op die Konijnklike Biblioteek se webblad kan jy ook ‘n onderhoud te lese kry.)
Nietemin, hierdie bekroning het my aan Charl-Pierre Naudé se resensie van Jelleke Wierenga se Bloot mens op LitNet herinner en meer spesifiek aan die vrae wat hy aan die einde van sy resensie opper, aangesien soortgelyke vrae deur Bert van Weenen in sy resensie van Koerikoeloem, wat verlede jaar op Meander verskyn het, gevra word: “Blijft natuurlijk wel de vraag of je deze bundel kunt lezen los van Tjitske Jansens leven. Zou je Koerikoeloem ook gekocht hebben als het boek onder een pseudoniem op de markt was gebracht, zonder de foto van een aantrekkelijke vrouw op de achterkant? Kan deze tekst als je hem loskoppelt van de biografie van de auteur op eigen benen staan? Wat kan het mij schelen dat de schrijfster vroeger door haar broer in elkaar werd geslagen - wordt de tekst daar beter van? In mijn beleving is ‘echt gebeurd’ geen kwaliteitsaspect maar een verkoopargument. En dan nog een slecht verkoopargument bovendien, want tegenwoordig zeker geen unique selling point meer, met alle uitwassen van reality soaps die de media overspoelen. Of de ijskoningin hier, meer nog dan in Het moest maar eens gaan sneeuwen, haar ware emoties toont, is dus voor de poëzie van geen belang. Is Tjitske Jansen geslaagd in het componeren van een lang samenhangend gedicht op basis van beelden die zij ontleent aan een niet zo leuke jeugd? Dat is de centrale vraag.”
Voeg dan hiernaas Charl-Pierre Naudé se verduideliking van mimetiese ordes in die reeds genoemde resensie en jy besef dat hierdie ‘n punt is wat verdien om bepraat te word: “‘n Gedig wat van ‘n hoë mimetiese orde is, is een waar daar ‘n groot “verplasing” gebeur tussen die ervaring en die mimetiese weergawe daarvan (die kunswerk). ‘n Kunswerk van ‘n lae mimetiese orde is een waarin die “verplasing” klein is, sodat die kunswerk en die ervaring waaroor dit handel, amper sinoniem lyk. As die verplasing op meer as een manier gelyktydig gebeur én ook groot is, dan is die mimetiese waarde daarvan nog hoër. Hoe groter die gaping tussen die ervaring/objek en die kunswerk, hoe hoër is die waarde daarvan, hoe groter is die ervaring van transformasie by die leser.”
Belangrike standpunte, myns insiens. So, hoe lyk dit? Wil jy nie jou mening oor die kwessie van “middelmoot” of laer mimetiese poësie en die hantering daarvan aan die hand van (moontlik) gewysigde kriteria na die Brieweboks vir plasing stuur nie? Of wat blaf ek nou teen ‘n skeefgetrekte boom?
Vir jou leesplesier volg hieronder ‘n gedig uit Tjitske Jansen se debuutbundel Het moest maar eens gaan sneeuwen (2001); ongelukkig kry ek nie ‘n voorbeeld uit haar nuutste bundel opgespoor nie. (Terloops, Bert van Weenen se antwoord op “de centrale vraag” wat hy in die aanhaling hierbo opper, is: “Ja, beslis.”)
***
Nuwe plasings op die webblad vanoggend is die uitnodiging tot deelname aan ‘n poësie werkswinkel wat onder leiding van Ronel Foster by die Universiteit van Stellenbosch aangebied word op 27 November. Dan is ‘n interessante toevoeging tot die Versindaba vanjaar sekerlik die kunsuitstalling deur digters wat ook met die verfkwas vaardig is. Hier kan jy kyk wie die digters is wat deelneem en hoe van hul kunswerke lyk. Indrukwekkend, inderdaad.
Ten slotte - luister gerus vanaand om 09:30 na Leeskring op RSG; dan gesels ek met Daniel Hugo oor die Versindaba wat op hande is …
Mooi bly.
LE
Een groot nadeel van er nog niet zijn
je kunt ook nog niet kwijtgeraakt
nog niet verdwalen in een bos
dat toch te klein is voor verdwalen,
in jezelf of in een ander, teruggevonden.
Niet bij alle seringen stilstaan om eraan te ruiken
niet staren naar een laatje pennen en denken
waarom staar ik naar een laatje pennen?
Naar iets anders kijken! Naar de spiegel rennen.
Je kunt ook nog geen zusjes hebben en ook geen broertje
en ook geen broer en ook geen honderd moeders hebben
en niet die vader van je, niet die vrienden.
Je kunt nog nergens blijven, niet van iemand dromen
en ook niet dromen van jezelf als je er nog niet bent.
Je zou het verschil niet weten tussen maandagmorgen
en donderdagavond. Als je er bent kun je een kraan
horen druppen op vrijdag terwijl je in geluiden ligt
van trein en straat en ademhalen.
© Tjitske Jansens (Uit: Het moest maar eens gaan sneeuwen, 2001: Podium)
Thursday, October 8th, 2009
Laat ek dit dan maar op rekord hier in my klein hoekie sê. Ek vind waarmee mede-digter Jelleke Wierenga besig is afstootlik. Lees hier. Ek bevraagteken nie haar reg om te sê wat sy wil sê nie, of om op te tree waar sy wil optree nie. Maar haar tirades teen swart sprekers van Afrikaans en oproepe vir mense om by spesifieke politieke partye aan te sluit is iets wat benede die openbare rol van ʼn Afrikaanse digter behoort te wees. Digters het uit die aard van die saak ʼn politieke stem, maar oproepe om by spesifieke partye aan te sluit? Ek weet nie so mooi nie…
Om Jan Rabie aan te haal, uit die boek Halala Afrikaans:
“Afrikaans is die grootste nie-rassige prestasie in ons Suiderland sover. Gesamentlik geskep deur mense van drie vastelande – Afrika, Asië en Europa. En daarom is dit nie die besit van eensydige politieke partye nie, maar behoort dit aan almal wat dit praat, skryf en liefhet. En daarom ook is my taal my beste wapen teen rassisme.”
As die taal dan kwansuis besig is om te sterf, is hiérdie tipe pogings om Afrikaans (weer) vir Afrikaners te kaap die grawe wat die vinnigste in ses voet se rigting spit.
Wednesday, October 7th, 2009
 Die program
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Tags: Andries Bezuidenhout, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, Danie Marais, Daniel Hugo, David Kramer, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Hilary Mantel, Ilse van Staden, Jasper van Zyl, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Laurinda Hofmeyr, Loftus Marais, Lucie Möller, Luna Paige, marlise joubert, Piet van Rooyen, Pirow Bekker, Program, Rosa Smit, Sheila Cussons, Versindaba 2009 Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, September 17th, 2009
 Twisgesprek
Ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, het verlede week teruggekeer van sy oorsese reis en moes onmiddellik aan die werk spring. Met ‘n horde nuwe digbundels wat tydens sy afwesigheid verskyn het, is dit beslis géén geringe taak nie. Daarom is ons verheug dat hy sy eerste resensie oor Jelleke Wierenga se Bloot mens (Protea Boekhuis) reeds vroeër hierdie week kon geplaas het.
Onlangs het ek ‘n paar interessante stukke op die internet raakgelees betreffende die kwessie van literêre kritiek. Ten eerste was daar die kennisname van ‘n besonder unieke publikasie deur Yves T’Sjoen, een van ons nuwe bloggers. Dit is naamlik die boek Stem en tegenstem (Atlas, 2004) wat in wese negentien dubbelessays is in dialoogvorm tussen Yves en die digter wie se werk bespreek word. Intussen het ‘n webblad hieruit voortgevloei, naamlik DeRecensent waarin die digter (of skrywer) die geleentheid gebied word om op ‘n bepaalde resensie te reageer.
Waar daar onlangs nog hewige debatte in ons eie media gevoer is oor die kwessie van resensies en die unieke probleme (verdagmakings?) wat daarmee saamhang, wil ‘n mens tóg voel dat die elektroniese media in dié opsig die binnebaan het in vergeleke met die gedrukte media. Hoe kán ‘n mens immers binne die bestek van 600 woorde sinvol en indringend reageer op ‘n bepaalde teks; veral ‘n “digter” teks soos ‘n digbundel?! Voorts bied die internet die voordeel van reaksie en kontra-bespreking.
Daarom - raak betrokke en neem deel. Soos almal weldeeglik van bewus is, is die resensent ook maar net nóg ‘n leser van ‘n bepaalde teks; so ook die skrywer. Plaas dus ‘n kommentaar onder aan die resensie, of stuur ‘n e-pos na Brieweboks vir plasing.
Ter afsluiting kan jy gerus by The Quarterly Conversation gaan inloer waar daar tans ‘n baie interessante debat oor literêre kritiek gevoer word. Twee artikels wat beslis die moeite werd is, is die een hier en dan veral die antwoord hier. As lusmaker, die volgende aanhaling: “These days, the debate over how to write about reading is a cold affair: a de-militarized zone. I avoid the terms literature and criticism here, and perhaps even debate is too hifalutin a word to describe what has amounted to a decades-long pissing match between creative writers and critics. The current steely silence is evidence only of empty bladders; the combatants have become preoccupied with internal skirmishes.”
Mmm, nou ja toe. Ter wille van fatsoenlikheid eerder die volgende aanhaling deur die redaksie van The Quarterly Conversation: ” … A good critic will (to draw on Nabokov) be a storyteller, a teacher, and an enchanter. The critic will tell us a story, the critic will educate us, and the critic will convey some of the enchantment of the reading experience. Thus with every word, sentence, and paragraph the good critic will remind us why we’re spending time discussing a book in the first place.”
En dááraan voldoen ons huis-resensent beslis … Lekker lees en onthou: neem deel aan die gesprek. In Desmond Painter, ons ánder nuutverworwe blogger, het ons ‘n ekspert in diskoersanalise wat immers agterna kan help om weer al die bottelstukke en verskeurde ego’s aan mekaar te sit.
Hê pret vandag.
Mooi bly.
LE
Tuesday, September 15th, 2009
 Bloot mens
Bloot mens. Jelleke Wierenga. Pretoria: Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-311-9. Prys: R130.
Met Bloot mens is Jelleke Wierenga, as ek reg getel het, al die sesde van die sestien digdebutante in nuwe stemme 2 (2001) wat met ’n eie solobundel vorendag kom.
Dis ’n gekwelde mens, geneig tot die uiterstes van lewensdrif en depressiwiteit, wat uit die prentjie tree by die lees van dié bundel. Pers en pienk is waarskynlik nie verniet die twee kleure wat die meeste opduik in die bundel nie; ook die swierige kledy van die vrou op die bandfoto (geneem deur Jurgen Doom) word deur hierdie kleure gestempel.
Vroulike sensualiteit, tot die swoele toe, en sentimentele gevoeligheid, maar ook pyn en kwesbaarheid, word so vooropgestel.
Die “sy” in die gedig “Argetipies” word byvoorbeeld, in ’n passasie wat plek-plek aan Cloete se uitbeelding van iemand soos Marilyn Monroe herinner, soos volg geteken:
Kaalvel koningin sy
in die tuin en beleef
hoe purper in pienk
pas en palm ooplyf:
die minnares-hedonis
Onverweer leef sy
teen die lang arm wat al vinniger
deur die sirkel swaai;
die bolip soet gekrul,
die wange weerloos:
sy[.]
’n Onvrede met die persoonlike verlede spreek uit die bundel. Dis ’n verlede gekenmerk deur onvervullende verhoudings, ook vanweë eie aandadigheid deur die subjek, soos veral uitgedruk in sekere van die gedigte in die afdeling “Galery van gewese geliefdes”. Daarby kom die besef dat die eie potensiaal nog grootliks onverwerklik is. Teen die einde van die bundel, in die gedig “Rekenskap”, bely die “ek” dat sy “’n lieg gelewe” het, “suutjies en saggies en bietjies”. As sy “eerlik” moet sê (in funksioneel verkapte taal), was sy tot dusver eintlik
[...] net pot
pot
potensiaal
gemorste mat
mat
materiaal.
Soos die titel van die gedig direk voorafgaande aan “Rekenskap” lui, is sy, wat al ouer as vyftig is, eintlik steeds net “op pad” – bowendien, luidens die gedig “Trip” in dieselfde bundelafdeling, onderweg “na wie weet watter onbewoonde / plan”. (Die ruimtevaartbeeld wat “Trip” oorheers, maak dit duidelik dat “plan” ook as “planeet” gelees moet word.)
Die leser kan dus skaars anders as om geraak te voel as Wierenga in “op pad” skryf:
[...]
en die lintwurm strek
so lank en so swart
daar’s rooi oë in die nag
en ek stop vir koffie by die Shell
een suiker asseblief
en ek is weer op pad
en ek draai die venster af
en al die sterre waai
en die maan dreunsing
op pad[.]
Die onvrede by die “ek” betref egter ook die burgerlike en/of verkommersialiseerde bestaanswyse van vandag (veral uitgedruk in afdeling 5, “Gespook”), asmede die sosiaal-politieke omstandighede in Suid-Afrika (afdeling 4, “Aan- en uitklag”).
Dié onvredes verskaf die nodige reliëf aan die hoë lewenseise wat die “ek” aan haarself stel. “Vraatsug” is ’n woord wat in die gedig “Geboortedag: 1 Mei 2007” val om dié lewensdrif te kwalifiseer. 1 Mei 2007 was klaarblyklik die dag waarop sy bevry is van ’n versmorende verhouding oor “dekades” heen wat haar “dood en gewoon” laat voel het. Nou wens sy vir haarself:
Waag.
Waar.
Wonders.
Daarby poësie, waarsonder sy “glad nie lewe [lus] nie”.
Teen hierdie tyd is die verskillende betekenisnuanses van die bundeltitel al duidelik. Dit gaan om ’n blootgestelde, verwondbare mens (nou ook deur middel van die selfopenbarende digbundel!), maar wat ook inténs mens wil wees. Trouens: bloot méns. Vergelyk die stilisties verkapte, derhalwe gestroopte (maar terselfdertyd sensuele) gedig “Kantwerk” uit die selftekenende afdeling “Profiel”:
Tuinwerk.
In blou kantbroekie.
Son op die land.
En lyf.
Buurman.
Op soldertrap.
Sien.
Wat jy sien.
Hier.
Is ek.
Kant.
En kaal.
’n Ander treffend gestroopte vers in Bloot mens is “10 September 2007” (oor die dood van ’n suster); miskien ook die slotgedig, “Waarneming”.
Sulke gedigte is egter in die minderheid. In die meeste gevalle word ’n seggingsvernuf eerder uitgestal: enersyds as ’n maskerade teen die eie weerloosheidsgevoel, andersyds as neerslag van die belyde lewens- en uitingsdrang. Daarby kom ’n opvallendmaking van aanhalings, intertekstuele verwysings en toespelings as “bewuste” literêrheid.
Soms, in gedigte soos “vir BB”, “Epos sonder helde of heldinne” en “Dit kan nie wees”, word dit hoofsaaklik boeiend of funksioneel gedoen (byvoorbeeld met betrekking tot bewussynsontwrigtheid). Meestal lei dit egter tot oordaad, tot onbeheersdheid wat selfs banaliserend kan aandoen.
In laasgenoemde verband staan die alliterasiedrif in soveel gedigte uit. “Profiel”, “Argetipies”, “Hoe gaan dit nog met jou adiposity?”, “Klaaglied van die kleintjies” en “Dislojale verset” het die twyfelagtige eer dat hulle as “uitstekende” voorbeelde hiervan genoem kan word.
Daar is waarskynlik iets uitdagends, iets aandringend poëties in die wyse waarop Wierenga vreemd- en opvallendmakende middele benut soos die volgende: woordfunksiewisselings (byvoorbeeld die reeds aangehaalde “[k]aalvel koningin sy”) en omgekeerde woordordenings, neologismes en gesogte samestellings (“bottel-bekkend”, “dwarreldaal”, “goorgrond”, ensovoorts, ensovoorts), ellipse, ontkoppelings (“sonder lei of draad”), woord- en klankspel (“poësie … ha-ha, gee ons eerder poesie”!), Loslitafrikaans en woordkontaminasies (“wondernis”), uitbuiting van spreekwoorde en geykte segswyses, herhalingseffekte soos parallelismes, anafore en repetisies, asook retoriese vrae en enumerasies (dikwels in polisindetiese opstapeling van konstruksies met “en”).
Met betrekking tot die satiriserende, sosiaal- en religieus-kritiese verse in afdelings 3, 4 en 5 sou ’n mens nog ’n saak kon uitmaak dat dit ’n speels-ondermynende werking het.
Maar dié stylopvallendhede verteenwoordig ook ’n soort digterlike naaklopery, waardeur die poësie ernstig aan subtiliteit inboet. Dit word helaas alte geforseerd, te “maklik”. Ter illlustrasie enkele passasies uit “Huis ontuis”:
[...]
Dis bedoel om my & jou
– hallusineer / droom ek –
te wakker na bewus:
no pain, my dear,
no gain:
en dis die kotsbare waarheid.
[...]
jy pomp seks sy slaaf werk ek god geld hy penis Porsche
[...]
ek sel my siel jy spin die Web hy kuber seks sy Second Life
[...]
Meermale is die eindproduk banalisering, soos gesê. (Die herhaalde verwysings na en toespelings op Breyten Breytenbach in die bundel verlei my om van Breyten-vir-die-volkse-smaak te praat.)
Let maar op hoe die oppervlakkige vernufspel die morele onthutsing en aanklag in ’n geval soos die volgende ontkrag:
Die situasie
Sito-sito die situasie
op die snelweg
’n transito-oorloggie
og toggie
konsternasie op die stasie
want die fluitjie willie blasie
en die gewere is in die menasie
of geleen deur die nasie
maar alle panic op ’n knoppie
die amagents ken die wet
van etiket
en vra polite:
“Your money or your life!”
umshini wam bam bam
“Thank you, man!
And greetings to your wife!’
Clichés opgestapel saam met oorwerkte truuks.
’n Mens kry die indruk dat Wierenga ten alle koste poësie wíl maak (en publiseer). ’n Bietjie soos die blitsbesoek-minnaar in “Epos sonder helde of heldinne” wat aandring: “ek WIL jou NOU ek wil jou GOU”.
Dis jammer, want die klompie knapper gedigte in Bloot mens kom derhalwe te staan in die skadu van oorwoekerende woorduitwasse.
Resensie deur Bernard Odendaal
Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein
Tuesday, August 11th, 2009
Jelleke Wierenga
Nadat ek Louis Esterhuizen se onderhoud met Marlene van Niekerk op Versindaba gelees het - “Met buskruit en salpeter” - en Van Dale moes raadpleeg oor die verloederde sondes van oewerloos uitgesponne vryeversdigters, het my muse my ‘n gedig ingestop:
Vis met ‘n knippie sout
Mag ek maar
vadsig en verloederd
‘n gedig afkraal
deur staar
na ‘n prosaïese hoewel onpurperige vis?
Hygend buite sy roman hang hy oewerloos
perpetuum mobile physicae
perpleks
bepeins ek die drie rooi kraletjies
in sy sowaar silwerige stert:
die in/uitgeslaapte vissemaker
ryg die blink dingetjies so
aan sy alledaagse draad en die wind
flakker veel meer kante kleure as hy draai
as hy draai.
Raai en die vis lag
oopbek sopbek son toe.*
* Hier pleeg ek plagiaat op myself. Die “oopbek sopbek son toe” kom uit my gedig “Buffelsbaai”, gepubliseer in Nuwe Stemme 2. Hoewel, dáár is dit nie die vis nie, maar die vleesfluit se preutse klein vaginatjie wat jags lag.
Marlene, dankie vir jou opstopperwoorde. Ek lees dit weer en weer en hoop om die stoppers uit my woorde te kry.
Beste wense
Jelleke Wierenga
Wednesday, August 5th, 2009
 Rutger Kopland
Gister het Rutger Kopland (pseudoniem vir Rutger Hendrik van den Hoofdakker), een van die reuse in wêrelddigkuns, sy 75ste verjaarsdag gevier. Kopland het in 1966 gedebuteer met Onder het vee. Daarna het nog vyftien digbundels gevolg, waarvan Toen ik dit zag (2008: Van Oorschot, Amsterdam) die mees onlangse is. In sy loopbaan het hy vele pryse verower, waaronder die VSB Poësieprys (1988) en die PC Hooft-prys (1988). Kopland, wat hom as psigiater bekwaam het, het hom deur die jare heen gevestig as een van Nederland se mees geliefde digters. Die onveranderlike in die mens se doen en late kan as sentrale motief van Kopland se digwerk beskou word. In vers na vers verset hy hom teen dit wat verbygaan, met die besef dat die mens telkens daarheen terugkeer langs ánder weë. Hierdie teenstrydigheid het hy self treffend saamgevat in ‘n aanhaling op Poetry International se webblad: “Everyone finds a lost paradise in my poetry, a longing for it. I don’t long for the past, I long for experience (…) and experience is new, now.” Net so het hy by geleentheid die teenstelling tussen die nostalgiese toon van sy verse en die nie-nostalgiese betekenis daarvan, beskryf as “memories of the unknown”, ’n uitspraak wat uiteindelik as titel vir Kopland se vertaalde gedigte in Engels gebruik sou word. (Lees gerus die inligtingstuk hier.)
Hieronder volg ’n vers uit die pen van hierdie meester, plus ‘n vertaling daarvan deur Daniel Hugo.
Dan is dit vir my besonder aangenaam om ’n nuwe toevoeging tot ons digkuns te verwelkom, naamlik Jelleke Wierenga met haar debuutbundel, “Bloot mens” wat pas by Protea Boekhuis verskyn het. By die eerste deurlees is dit veral die emotiewe lading van die verse en die besonderse gebruik van ironie wat ’n mens met ’n voorhamerslag tref. Ek vermoed dat ’n vergelyking met Jeanne Goosen se “Elders aan diens” en Ronelda S. Kamfer se “Noudat slapende honde” nie onvanpas is nie. (Maak seker dat jy ook die onderhoud lees wat met Jelleke gevoer is en hier op die webblad geplaas is.)
Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad.
LE
Oude vrouw met geiten
Zij komt terug, met een mand vol gras komt ze
op mij af tussen uitbundige bermen
om haar heen huppelen geiten
het is avond, in haar rug zijn de weiden nog
wit van de zomerse dag, zij is oud en klein
maar haar schaduw danst ver voor haar uit
zij is swart, om haar kousen, haar jurk,
haar hoedje, ligt een dun laagje licht
van de zon, het silhouet van het meisje
ja ze komt terug met zomers gras voor de geiten
© Rutger Kopland (uit: Verzamelde gedichten, Uitgeverij G.A. van Oorschot, Amsterdam.)
Ou vrou met bokke
Sy kom terug, met ‘n mandjie vol gras kom sy
op my af in die plesierige paadjie,
huppelende bokke om haar heen
dit is aand, agter haar is die weivelde nog
wit van die somerse dag, sy is oud en klein
maar haar skadu dans ver voor haar uit
sy dra swart, om haar kouse, haar rok,
haar hoedjie lê die son se dun
lagie lig, die silhoeët van die meisie
ja, sy kom terug met somerse gras vir die bokke
(Vertaling: Daniel Hugo)
Tuesday, August 4th, 2009
Bloot mens is wie ek is
Jelleke Wierenga in gesprek met Louis Esterhuizen
 Jelleke Wierenga
Jelleke Wierenga woon op Montagu in die Wes-Kaap. Sy het die graad B.A. (Hons.) Kommunikasiekunde aan die Potchefstroomse Universiteit behaal. Sy is ‘n vryskut-taalpraktisyn en doen onder meer kopieskryfwerk, vertalings, boekredigering en boekuitleg. Sy het voorheen by Beeld, Sarie, Juta en die WNNR gewerk.Sy het ‘n hele klompie Afrikaans-handboeke op haar naam, het ‘n kinderverhaal gepubliseer, asook ‘n kortverhaal wat in verskeie bundels opgeneem is. Van haar gedigte is in Nuwe stemme 2, Karapaks, As die son kom oogknip en Woordreise gepubliseer.
Haar debuutbundel, Bloot mens, het pas verskyn by Protea Boekhuis.
|
Jelleke, kan jy dalk ter inleiding iets omtrent jou persoonlike agtergrond vertel? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, en hoe het dit gebeur dat jy jou tans in Montagu bevind?
Ai, ek kry altyd so ‘n depressiewe insinking as ek oor my persoonlike agtergrond uitgevra word. Dit vermoei my erg … Dis nou drie dae later. Sug. Hier gaan ons … In my ontliggaamde staat het ek hierdie lewe wat ek op aarde sou lei (ly), lank betrag. Ek was geheel en al nie lus vir die spul nie. Toe skop ‘n ongeduldige engel my onder my ontliggaamde alie van die randjie van wik en weeg af. By die poort na die aardse lewe ruk ek my kop weg toe die afskeidsengel my wou soen, met die gevolg dat die kus van vergetelheid skrams geplant is. Ek onthou dus my ware tuiste goed en vind hierdie onderstebo, agterstevoor en deurmekaar plek genaam die aarde vreemd en onherbergsaam. Uiters raar dat sommige mense dink dis hul enigste tuiste - die engel het hulle seker vol op die mond gesoen.
Ek is op Klerksdorp in Wes-Transvaal gebore (hou dit asb. Wes-Transvaal, ek doen nie mee aan die klug van die Nuwe Suid-Afrika nie). Op Potchefstroom Afrikaans-Nederlands en Kommunikasiekunde geswot. In Johannesburg by Beeld begin werk, in die nagkantoor. Wonderlike en wilde tye.
My eerste trek was in ‘n swartman se taxi. Daai tyd was ‘n taxi ‘n gewone kar, nie ‘n kombi nie. Moenie my vra hoe my boekrak, bokse en tasse ingepas het nie. Ons het ooreengekom op ‘n fooi van R10 vir vervoer van die plek vir plattelandse meisies in Claimstraat, in die middestad van Johannesburg, na High Rise in Berea. My vyftiende trek, van McGregor na Montagu, was met ‘n oop boulorrie van Conradie’s Vervoer, plus ‘n sleepwaentjie vir al my potplante. Die dronk handlangers het die rit in weelde op my statige leerrusbank, ‘n egte ou Chesterfield, agter op die lorrie meegemaak.
Onder die adresse in my veelbewoë persoonlike agtergrond tel die Hotel 224 in Pretoria, Bosduiflaan 82 in Wierdapark en die Muizenberg-woonwapark. Hoe ek op Montagu beland het? Ek weet selwers nie en is eintlik doodverbaas - het maar elke keer beweeg wanneer die drang gekom of die binnestem gepraat of die verhouding in stukke gespat het. Dat ek al agt jaar hier bly, is skokkend … dis my lieflike ou huisie met sy solder, houtvloere en stoeptrap wat my vasgom.
Ek het onder meer vir Beeld, die WNNR, Sarie en Juta gewerk. Ek is al van 1989 af werkloos, ook bekend as vryskut.
Hoekom voel jy jou tot die poësie as uitdrukkingsmedium aangetrokke? Was daar bepaalde invloede wat ‘n rol hierin gespeel het?
In st. 4 en 5 het ek gediggies oor Meneer Van der Westhuizen, my klasonderwyser, geskryf - “Ou Wessie in sy ondervessie” - maar my pa het gedink dis onbehoorlik. Op universiteit het ek graag deur my Groot Verseboek geblaai en gelees. Ek het ook The Albatross Book of Verse in my eerste jaar ontdek. Die drang het begin roer. Ek het ‘n paar gedigte vir die universiteit se Skrywerskring geskryf en was tydens die bespreking verbaas oor al die “versteekte goed” wat daaruit gelig kon word. Goed waarvan ek glad nie bewus was nie. Dit verstom my steeds: dat ek nie regtig weet wat in my aan die kook is nie totdat ek skryf. Eers met die teruglees, soms jare later, besef ek hoe akkuraat die inskrywings in my joernaal en my gedigte allerlei onbewuste, onderdrukte en halfgevormde aspekte van myself, konflikte - ook die toekomstige verloop van my lewe - weerspieël. In dié opsig is gedigte vir my soos Freud van drome gesê het: die koninklike hoofweg na die onderbewussyn. Dalk ook die hoër bewussyn.
Die geskrewe woord was nog altyd my speelgoed, my skietgoed, my werkgoed, my toorgoed, my manier om die lewe te oorleef. As subredakteur by Beeld onder manne van naam soos Bob van Walsem en Ebbe Dommisse het ek seker die beste taalfondament denkbaar gekry. Dit het natuurlik ook gehelp om uit ‘n arm huis te kom waar die biblioteek - en die munisipale swembad - die hoofbron van vermaak was. As vryskutter het ek baie jare kopie vir onder meer Leserskring se katalogus geskryf - ‘n groot klomp inligting moes in ‘n baie klein spasie ingepas word. Hier het ek geleer om die maksimum uit elke woord te pers. Dit het my styl gestroop - die ideale slyping vir poësie skryf.
Ek het maar so deur die jare gedigte geskryf, nie vreeslik ernstig nie, en nie juis gedigte gelees nie. Ek het in 1994 ‘n klomp gedigte aan Human & Rousseau gestuur - ek was toe net as “Jeanne” bekend. Kerneels Breytenbach het my gedigte in ‘n bedagsame briefie afgekeur, onder meer omdat baie van die gedigte soos prosa klink. Hy het aanbeveel dat ek eerder prosa skryf. ” … met prosa bereik ‘n mens baie meer lesers as met poësie, wat maar steeds die kuns bly van wynige [stet] vir wyniges [stet].” Aldus Kerneels. Dit was ‘n dolk in my poëtiese hart. In 1998 stuur ek meestal dieselfde gedigte aan Tafelberg. Charles Fryer skryf ‘n bemoedigende briefie terug waarin hy sê veral die langer gedigte het ‘n vaart en speelsheid wat verras. Hy reken ek kan gerus meer gedigte oor “vleesdrif” maak en weer stuur.
Steeds is ek nie baie ernstig aan ‘t dig nie. Eers in 2006, ná die verpletterende verbreking van ‘n gedoemde verhouding, word gedigte en gedig skryf my letterlike oorlewing. Sedertdien het ek digters-pes. ‘n Tweede bundel lê al by Protea. En daar’s nog ‘n paar honderd gedigte in my joernale en op my rekenaar. Stapels digbundels lê op my bedtafeltjie. Vreemd hoe hierdie lang gesluimerde hartstog nou eers losbars.
Van jou gedigte het ook al elders verskyn, alhoewel Bloot mens ‘n eerste gebundelde publikasie is. Noem vir ons kortliks waar orals van jou gedigte verskyn het?
‘n Hele klompie kinder-/jeuggedigte is gepubliseer in die Afrikaans-taalboeke waarby ek betrokke was. In my McGregor-fase het ek ‘n klompie gedigte aan Tafelberg gestuur vir oorweging vir die bundel Nuwe stemme 2. Dit is aanvaar vir publikasie. Sestien nuwe digters het in hierdie bundel - saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager en in 2001 gepubliseer - gedebuteer. Ek het hier en daar ‘n gedig in versamelbundels gepubliseer; maar dis eintlik niks noemenswaardig nie.
Die titel van jou bundel is nogal treffend aangesien “bloot” in die onverbuigde vorm aan resonansie wen. Watter suggesties lê alles vir jóú opgesluit in hierdie “blootheid”?
Ek het nie juis lank of hard of baie gedink aan ‘n titel vir die bundel nie. Bloot mens het bloot een dag of nag in my kop beland. Ek het geweet dis net reg. ‘n Mens stel jouself baie bloot deur jou gedigte te publiseer, veral as van hulle van ‘n intieme aard is; diep, intense, persoonlike belewenisse. Jy openbaar dele van jouself wat die meeste mense liefs bedek hou. My gedigte toon ook dat ek net mens is, vol allerlei teenstrydighede: bravade en weerloosheid, haat en liefde, wreedheid en teerheid, ‘n intense lewensdrif, maar ook ‘n diep doodsdrang. Ek haat pretensie, voorgee, agteraf. Bloot mens is wie ek is.
Jou verse getuig van ‘n besonderse sterk sosiale bewussyn. So is daar verse oor misdaad, sosiale onregte, omgewingsbewaring en allerhande soorte verslawings. Is jy van mening dat die uitpraat téén onregte ‘n bepaalde funksie van die hedendaagse digkuns is (of behoort te wees)?
Niemand behoort ooit van ‘n digter te “verwag” om oor sekere goed te skryf nie. Myns insiens behoort die digter uit ‘n opwelling van intensiteit oor wat ook al te dig - enige ding onder die son wat hom of haar diep roer, ontroer, aanraak, plesier verskaf.
Ek voel baie sterk oor baie dinge - dinge wat so verkeerd is (myns insiens) dat dit ten hemele skree, maar dit traak so min mense. Goddank kan ek my intensiteite uit-druk in my gedigte; die plofkrag gebruik om iets nuuts te skep. Dit is vir my uiters vervullend. As ek in die proses mense aanraak of wakker maak, loop my beker oor. Dit is vir my verskriklik dat soveel mense wandelende dooies is, verdof en verdoof. Om die lewe onverdoof te ervaar, is geweldig pynlik en ongemaklik, maar myns insiens die enigste pad na hoër bewussyn. Ek is ook uitgelewer aan verslawings, maar ek stry bewustelik daarteen, want vir my is dit die pad van die dood. Ek was al lang rukke in my lewe dood.
Jelleke, met die deurlees van jou verse tref die besonderse manier waarop jy ironie hanteer, ‘n mens. Is dit vir jou ‘n bewustelike tegniek of iets wat natuurlikerwys kom vanweë ‘n bepaalde lewensingesteldheid?
Ek is eintlik verbaas dat jy van die ironie in my verse praat. Dis seker so onbewustelik deel van my dat ek nie eens besef dat dit ook sterk in my verse deurslaan nie. Dis natuurlik ‘n manier om seer te slaan en ek span dit outomaties in as ek woedend-verontwaardig voel oor iets.
In jou verse is daar dikwels ‘n inspeel op die skryfproses as terapie; iets wat ‘n sterk emosionele lading tot gevolg het, te midde van momente van bykans onhanteerbare teerheid, en veral: verwonding. Gaan jy akkoord, of lees ek dalk die emosionele basis van jou verse verkeerd?
Skryf is vir my die verskil tussen lewe en dood, soos in die gedig “Kankerkuur” verwoord word. My verse is dus sterk gelaai. Ek is nie ‘n lou mens nie; ek voel intens, swaai hoog en laag, wat die lewe natuurlik nie baie maklik maak nie. Ek is bly jy sien teerheid in my verse raak … ek was bang hulle hel dalk te veel na die striemende kant oor. Ja, ek is ‘n baie kwesbare mens, ‘n velletjie of twee te min. Ek het bewustelik besluit om my hele self in my verse te ontbloot … van daar ook die titel. Ek het dit oorweeg om die bundel onder ‘n skuilnaam te publiseer, juis oor hierdie ontbloting van my “teer” plekke, maar ná nadenke besluit: Ek is wie ek is - “hier is ek, kant en kaal”. Juis deur die moed te hê om jou kwesbaarheid te wys, toon jy ‘n sekere onkwesbaarheid. Ek het meer respek vir ‘n kwesbare mens wat bewus is van haar/sy kwesbaarheid en dit wys as iemand verpak agter sielkundige skanse/verdowings en dan oorkom as “gebalanseerd” of “normaal”. Ek is onrehabiliteerbaar abnormaal en wens ek het genoeg geld gehad om vir die res van my lewe in sielkundige terapie te wees. By gebrek aan geld skryf ek maar gedigte.
Nog ʼn aspek van jou verse wat die leser opval, is die stilistiese verskeidenheid daarvan. Alhoewel die verse deur middel van toon en tema saamgegroepeer word, wissel die aanbod van kriptiese verse (soos “Kantwerk, p.25) tot langer, verhalende verse (soos “Epos sonder helde of heldinne”, p.43). Dit laat ʼn mens wonder: by wie se verse, uit die Afrikaanse digkuns, byvoorbeeld, vind jy die meeste aanklank? Of lees jy merendeels oorsese poësie?
Kopieskryfwerk het my gestroop tot kripties. Elke woord moet werk. Met die langer verse kon ek lekker speel met woorde, my geliefkoosde tydverdryf. Ek lees omtrent net Afrikaanse poësie en daar lê ‘n hele klomp nuwe digbundels op my bedtafeltjie. Ek is besig om die drie dele van die nuwe Groot Verseboek deur te lees. Breyten Breytenbach se gedigte, sy hartstog, sy metafore, sy ongeëwenaarde woordspel, slaan my asem weg, letterlik! Van altyd af tot nou. T.T. Cloete is briljant. E.W.S. Hammond het ek onlangs ontdek - ‘n sielsgenoot wat ek ongelukkig nooit in die liggaam ontmoet het nie. Antjie Krog, Ronelda S Kamfer, Gert Vlok Nel, Danie Marais … ek kan nog seker 30 name noem van digters wie se gedigte my diep raak of vermaak.
Jelleke, “Bloot mens” is ʼn besonder sterk debuut en ons hou beslis jou loopbaan voortaan met groot belangstelling dop. Sal jy so vriendelik wees om as toegif een van jou persoonlike gunstelinge uit jou bundel hieronder vir ons lesers oor te tik?
Dankie vir jou mooi woorde. Nogal al my gedigte is my gunstelinge (!), dus is dit moeilik om te kies. “Epos sonder helde of heldinne” was vir my ‘n geweldige ontlading, maar dis te lank om hier te reproduseer. Ek volstaan met “10 September 2007″:
10 SEPTEMBER 2007
My sussie Sybokkie,
onthou jy hoe ons perskes gesteel het
by Tannie Agter een aand
by ons spoorweghuis in Wilgehof-Wes
en sy ons geflitsvang het en ons
agterna gegiggelgil het van skaamte?
Sussie,
wat het Jesus en/of die engele gesê
toe jy daar kom
en het jy jou lewe in 3-D gesien
en vreeslik spyt gekry
en is die skape al van die bokke geskei?
Sussie,
waar sweef jy nou
in jou lang wit nagrok rond
soos jou alkoholiese skoonma
(nou wyle, soos jy weet)
jou gesien het voor jou dood?
Sussie,
jy het die kanker gekoester
in jou kop die ondraaglike
pyn teen die ondraagliker pyn
want as kind al
was jy te kaal teen die kil.
Sussie,
ons het nou plooie en word grys
en Ma kry hoofpyn nes jy
sy huil maar dis van haar nek
en Pa wankel geraamterig rond
hy werk steeds in die garage.
My Syboksussie,
dit is/was
jou verjaardag vandag.
Ek het nie vergeet nie
en wil net sê:
Sussie, ek kom.
|
|