Posts Tagged ‘JH Leopold’

Wicus Luwes. Toe duiwe nog duiwe was

Friday, August 21st, 2015

Doves

The sprinkler is on
doves lie on the lawn, their wings
arched to catch the rain.

deur Charl JF Cilliers
uit Karoo (Haiku Variations)

Die Kareeduif

Die geluid van duiwe in Kareebome neem my gedagtes altyd na my kinderjare. Die herinnering bly egter nooit slegs by geluide nie en word n kombinasie van sintuie. Die duiwe se rustige koer, die takke wat teen sinkplaatdakke krap en die onmiskenbare reuk van die blare en sade. Duiwe is mos maar duiwe as ‘n mens nog kind is en hoe lekker is dit nie om geen abstrakte subteks of verskuilde simboliek te soek as jy ‘n duif gewaar of hoor uit n kamervenster nie.

Die Chinese sien n duif as simbool van vrede en n lang lewe. Party mense lewe lank, maar nie almal het n lang lewe nie. Ek het met Chris Chameleon en Daniella Deysel gepraat tydens die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein. Ons gesprek het begin oor relevansie in die musiekbedryf. Chris de Burgh is al n paar dekades in die musiekbedryf, maar is nie noodwendig meer relevant in die globale konteks nie. Mense soos die Rolling Stones is wel. Ons het gepraat oor hoe relevant Peter Gabriel of Tina Turner nog is. Dis die mense wat musiek vir meer as een generasie relevant gemaak het. Ek kon byna nie glo dat ek oor musiek kon praat met iemand soos Chris Chameleon nie. Kunstenaars soos Chris weet dat musiek nie net oor musiek gaan nie. Daar is meer as een sintuig nodig om musiek te waardeer. Iemand soos Chris weet hoe om n persona aan musiek te gee. Amper soos n Suid-Afrikaanse David Bowie.

Die Posduif

Chris en Daniella toer nou al n rukkie met die Posduif-album. Die album bestaan uit Daniella se gedigte wat deur Chris getoonset is. Die verwantskap tussen digkuns en musiek het al sterk deurgeskemer met die toonsettings wat Chris gedoen het van Ingrid Jonker se werk. Die Posduif-album is dus n herhaling (ek herhaal jou) van die digkuns tema, maar nuut in die opsig dat die digter en toonsetter hierdie keer die gedigte saam lewe kan gee. Die toonsetting bring natuurlik ‘n ander dimensie aan die gedig en laat die digter (miskien) anders na sy/haar eie gedig kyk.

‘n Mens sou natuurlik kon vra wat die onderliggende boodskap kon wees wat met die posduif na ons toe gebring word. Dit bied miskien verskillende emosies / sintuie / herinneringe vir verskillende mense. Die gedig en musiek is n koppelvlak tussen die mens wat jy is / was.  Ek het Chris en Daniella gevra om gedigte uit verskillende fases in hul lewe met ons te deel. Ek wou graag meer insig kry oor gedigte wat hul deur die jare bygebly het.

Gedigte uit skooldae wat in hul gedagtes vasgesteek het:

Chris:

Die Vloekwoord

Moederlief sit by die venster
Besig met die kouse stop.
Binne snel haar seuntjie Jannie,
Asem uit op ‘n gallop.
“Moeder,” sê die kleine Jannie,
“Moeder, het vir ons geleer:
As ons woorde sê wat stout is
maak ons ma se hart so seer.”
“Ja, my kindjie” sê die moeder,
Wat het my kind gesê?”
“Ma, dis Boetie, dis nie ek nie!
Dis ‘n vloekwoord wat hy sê”
“Kom nou Jannie, sê die moeder,
Wat het Boetie dan gesê?
Moeder kan hom mos nie straf nie
Voordat jy die saak uitlê.”
“Ag,” sê Jannie, “dis te vreeslik,
Ma se hart sal sommer breek.
Ma sal seker dit nie glo nie,
Maar hy sê … hy sê…APTEEK!”

deur Henriëtte Pienaar

Daniella:

Die Dans Van Die Reën

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.
Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”
En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaalkaros met altwee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

deur Eugène Marais

Daniella se taalonderwyser was ‘n hele paar tale magtig en het Dans van die Reën vir hul in Khoi voorgelees.
Nog gedigte wat deel vorm van hul skooldae is Winternag deur Eugene Marais en DJ Opperman se Ballade van die Grysland. Loer gerus na Joan Hambidge se antwoord op / verwerking van die gedig – http://versindaba.co.za/tag/ballade-van-die-grysland/

Ek het ook vir Chris gevra of daar al ‘n gedig was wat hy besonders moeilik gevind het om te toonset. Daar was inderdaad so ‘n gedig, het hy my vertel. Hy wou met die Ingrid Jonker album graag ‘Die Kind’ verwerk, maar kon net nie sover kom nie. Tydens sy konserte in Nederland het hy toe ‘n Romeense dame, Joanna Kaze, ontmoet. Tot sy verbasing het sy toe ‘n pragtige toonsetting van die gedig gedoen. (http://www.chrischameleon.com/track/133214/die-kind-performed-composed-by-joanna-kaze?feature_id=33064)

Deur die jare het Chris al meer as een keer in Nederland opgetree. Die Nederlanders se siening oor dogma en miskien ‘n minagting daarvan is vir hom interessant. Reis verbreed jou horisonne en ontsluit wêrelde in jou bestaande wêreld.

Er is in donkerte een flauw afschijnen
van een gezicht mat-zijen, zacht-zijen
en daarin vochte ogen zoet kwijnen
in een gezicht mat-zijen, zacht-zijen.

In lauwe donkerte is woordenklank
in talmen, in een kalm teemen
lief-langzaam in een tragen zang
klagend, in een kalm teemen.

–  gedeelte van  ‘Zes Christus-verzen’ deur JH Leopold
uit De Nieuwe Gids (1893)

Daniella het onlangs Charl JF Cilliers se Karoo (Haiku Variations) gelees en een van die verse wat haar bygebly het was ‘Stork’. Die hartseer beeld van die ooievaar raak ‘n mens aan op meer as een vlak.

Stork

A stork in the rain
sad the image that it sees
in broken water

deur Charl JF Cilliers

Chris was natuurlik ook lid van die groep Boo! en ‘n gedig wat uit daardie dae vassteek is Rudyard Kipling se ‘The Power of the Dog’:

The Power of the Dog

There is sorrow enough in the natural way
From men and women to fill our day;
And when we are certain of sorrow in store,
Why do we always arrange for more?
Brothers and Sisters, I bid you beware
Of giving your heart to a dog to tear.

Buy a pup and your money will buy
Love unflinching that cannot lie—
Perfect passion and worship fed
By a kick in the ribs or a pat on the head.
Nevertheless it is hardly fair
To risk your heart for a dog to tear.

When the fourteen years which Nature permits
Are closing in asthma, or tumour, or fits,
And the vet’s unspoken prescription runs
To lethal chambers or loaded guns,
Then you will find—it’s your own affair—
But … you’ve given your heart to a dog to tear.

–    deur Rudyard Kipling

Die Droomduif

Die woorde en musiek wat Chris deur die jare vir ons gebring het, is n goeie voorbeeld van hoe ‘n kunstenaar relevant kan bly. Sy verhoognaam, Chameleon, impliseer dat hy aan kan pas by sy omgewing. Wat egter vir my opgeval het, is dat hy deur die jare eerder uitgestaan het. Die vraag is amper hoe n kunstenaar inpas in ‘n bedryf waar jy moet uitstaan.
‘Watter projekte kan ons na uitsien in die toekoms?’, vra ek aan Chris en Daniella.
‘Daar is genoeg liedjies vir n tweede Posduif album, maar ek dink dis eers tyd vir n volgende Engelse album’, sê Chris.
Daar is ook moontlik ‘n solo-album in die pyplyn vir Daniella.

Voordat ek kon groet, moes ek egter eers ‘n klein bietjie van ‘n jakkals in die hoenderhok (of dalk die duiwehok) wees. Ek het gevra of hul dalk bereid sou wees om ‘n Haiku op kort kennisgewing te skryf. Gelukkig was die antwoord positief en hieronder is die pragtige gevolg:

Trapsuutjies

die tong die die hart
vergenoeg vooruit verskiet
nou-nou nou reeds proe

Ek wonder of transformasie iets te doen het met die idee om relevant te bly. Kan die duif net ‘n duif bly? Hoeveel van ons eie transformasie deur die jare laat ons beeld van die duif verander?
Daniella het tydens ons gesprek verwys na Siddhartha deur Herme Hesse. ‘n Aanhaling uit die boek lui as volg: “I have always believed, and I still believe, that whatever good or bad fortune may come our way we can always give it meaning and transform it into something of value.”

Transformation

That flower transformed
as the season changed
this dandelion heart!

deur Charl JF Cilliers

Ek is bly dat ek die Posduif-vertoning op die verhoog kon sien. Ek is dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om met Chris en Daniella te kon gesels. Ek wens hul sterkte toe met hul volgende projekte. Mag hul projekte se vlerke weer so mooi (ver)sprei en mag dit vlieg na hoogtes wat hul voorheen nie eers van kon droom nie.

Verdere leesstof:

http://versindaba.co.za/2015/05/08/carina-van-der-walt-duiwe-en-denke/

 

Bronne:
1. Cilliers, C.J.F. Karoo (Haiku Variations). Malgas Publishers, 2012
2. De Nieuwe Gids (1893)
3. Internet: http://www.kinderwerf.co.za/kinderrympies.php
4. Internet: http://www.poemhunter.com/poem/die-dans-van-die-reen/
5. Internet: http://www.poets.org/poetsorg/poem/power-dog

Fotobronne:
1. CD-omslag: Posduif
2. Internet: http://drunkinamidnightchoir.com/author/mlutheranderson/

 

JH Leopold – vertaling in Afrikaans

Tuesday, November 8th, 2011

J.H. Leopold (1865-1925) – vertaal uit Nederlands deur Daniel Hugo

 

Kersliedjie

 

In die donker dae rondom Kersfees

is daar ‘n kind van lig gebore.

Die maan skyn helder oor die dyk

en ysnaalde hang aan die bome.

 

Onder die doeke in die krip

daar lê die liewe Jesuskind.

Om sy kop straal ‘n krans van lig

en dit lyk of sy armpies wink.

 

Maria, bleek en bewerig,

het neergesak op haar knieë.

Sy kyk liefdevol na die kind

en Josef lag maar net verleë.

 

En buite in die bitter koue

kom op dié Kersdag – dis al laat –

die drie wyse manne van ver

deur die diep sneeu aangewaad.

 

Daardie drie wyses hoes en so,

en die stal se stof laat hul nies.

Druppels hang onder hul neuse

en hul baarde is wit gevries.

 

Die drie wyses staar na die kind,

die lig skyn by hulle oë in.

Die kind lê daar en kyk en kyk:

van sy denke die eerste begin.

 

(Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo)

 

Oinou hena stalagmon

 

Waar op die pleg van gekartelde hout,

wat swart verweer is, uit die offerkelk

die wyn gepleng word en ‘n purperreën

syg in die bloute van die watervlak

by priesterlike lofspraak en gebede,

sodat die see, sodat die barre winde

genadig sal wees en die water glad –

daar kleur ‘n druppel wat spat uit die kelk

die Oseaan; ‘n enkele pêreltjie

deurdring die ganse helderheid en deel

sy wese uit tot aan die verste strande,

die diepste bodem; van die rotsbasalt

van Poolgebergtes, waar die koue groen

van enorme gladgeskuurde gletsers

neerdaal en afgly na die wêreldsee

in ysige are, tot waar verhit

en doodstil in die flikkering van lig,

die asuur ure van die tropedag,

die lou water bly swewe – ver gedra

en yl geword – en dan in die inhamme,

die holtes van die Karibiese rif,

as atmosfeer, as hemel van kristal

deur poortgewelwe en koraalspelonke

sypel en hang: die hele element

bespeur die yl vermenging en die fyn-

verdeelde krag, die spanning wat strek oor

die ganse lang afstand, tot dit alles-

omvattend is, en terugkeer in homself,

aan al die dinge rondom hom gelyk.

 

En Sappho se laaste appel wat aan

die tak bly hang, waar dit steeds ná die oes

hom volsuig aan die sap en ongestoord

swel tot ‘n sfeer van satyn, tot die skat

van die laat somer, die vertroetelde,

wat in die arms van die middaghitte hang,

die prins oor wie se donsige wange

die sonstrale streel vanweë sy blos

en donker voorkoms waarop die winde,

vrypostige broers, heimlik verlief is –

as dan op ‘n herfsnamiddag die trotse

vrug wik en weeg en loslaat: met sy val

skok hy die stand van ewewigtigheid

waarin die aarde in sy pole hang

en versteur die balans, en wanneer daar

dan in wankelinge na die verskuifde

gelykheid al skommelend gesoek word,

beweeg die sterre én die band wat hulle

almal in die hemelsale vashou –

die wedervaring van een word oral

voelbaar, vermenigvuldig, en dein oor

die sidderende firmament; dan kom

die trans tot bedaring, ‘n goddelike

kalmte verskyn in die heelal, tot straks

die bestemde stand bereik word

en alles weer rus in die wysiging.

 

En nou, wat in my is, hierdie gedagtes,

hierdie stil verbinding van wat wissel

tussen ‘n toevallige ontmoeting

wanneer daar onbekommerd gedwaal word,

en die drang na iets anders, wat dáár is

en skielik weg, en dan met groter klem

gesoek en onverhoeds gevind word

om saam te smelt tot een – hierdie ywer,

hierdie innerlike bedryf, uitgebeeld

as ‘n beweging, hierdie dinkpolsslag,

na watter vertes kan dit hom uitstrek

en tot in watter streke kan dit reis

agter homself aan? Lê vir hom

nie al daardie ander skynbaar geslote

afsonderlike sielelewens nog

steeds oop nie? Hierdie ingekeerde denke

verbrei na oral waar ‘n sielsbestaan

hom openbaar, waar nog nouliks gebore

‘n eerste wete in die midde lê

van die onbewustheid, en waar ryklik

‘n miljoenemenigvuldigheid

opgebou is, wat tye sonder tal,

‘n skat van wêrelde in hom bevat,

maar hom onnaspeurlik afgerond het

tot ‘n wonderlike eenheid – deur dit alles

heen vloei hierdie vloedgolf wat almal

verswelg, hul donkerte skok en gevoel

word in wat hul mees verborge besit

en hulle diepste oorspronklikheid is.

 

En eindelik, in omgekeerde trant,

hoeveel ongetelde storings deurstroom

hierdie een brein? ‘n Storm kom van rondom

op ons af; soos ‘n wal staan die dreiging

om ons op. Die groot leërmag word meestal

afgeweer en die hordes onderdruk,

maar breek die volheid van die tye aan,

dan kan ‘n dolende, ‘n vreemdeling kom

tot ‘n uitsonderlike heerskappy

en die troon oor die volkere bestyg;

verbaas bespeur ons sy jong vorstehande,

die werking van sy gebod, sy genade

en sy triomf en oppermagtigheid.

 

© vertaling: Daniel Hugo, 2011

 

Reën

 

Die reënbui het verbybeweeg;

aan die gesonke horison

trek die opgestapelde rond-

gewelfde wolke weg; al wat oorbly

is die blou, die kil blou waaruit verban

is elke kreukel, glad en opnuut gespan.

 

En hier aan die vensterglas

aan die bedroefde ruite

beef in die bries

wat weer begin waai het buite

‘n druppel van die reën;

dit klou daaraan vas,

dit ril in die kille lig …

 

en al die blinkheid en die vergesig,

van hemel en van aarde, sooilandswart,

stralende waters, heinings, die verwarde

beweging van mense wat na buite kom,

ploegperde langs die pad, die ou bome

voor huis en hoewe en oor alles die glans

van die nuwe dag, die diep hemeltrans

met skitterson, wêreld en ruim heelal:

dit is bevat in dié klein trilkristal.

 

(Vertaling van Regen – J.H. Leopold)