Posts Tagged ‘Joan Hambidge’

Joan Hambidge. La mano de Dios

Monday, July 5th, 2010

La mano de Dios

 

Diego Maradona

speel vir Los Cebollitas

dribbel die aarde

soos ‘n groot-groot ui

met fyn voetwerk

tot binne-in die Coppa Italia.

En die aarde draai,

en die aarde draai…

Van Argentinië

tot Italië klink sy naam

op sport se dobbeltafel:

M-a-r-a-d-o-n-a,

M-a-r-a-d-o-n-a…

Fidel Castro se tattoe

op sy linkerbeen,

die regterarm dra

‘n jong Che Guevara.

Voor die Azteca-stadion

word hy verewig:

‘n goue, gemeste kalf.

En die aarde draai,

ja die aarde draai…

Gekus deur die gode,

hierdie Diego.’n Demi-god.

‘n Doel word die hand

van God, ‘n ander een

uitgewys as die grootste

en beste oorwinning nóg.

En hul buig daar in aanbidding.

En die aarde bly draai,

o die aarde bly draai…

Hy was ‘n Dawid,

wat opponente kon uit-Goliat.

Voete van klei?

Roem uitgesnuif?

Dalk teen te veel gode opgestel?

Daar is geen beseringstyd

vir moderne godjies:

Yo Soy El Diego

(al speel jy afrigter

óf opsteller van jou span)

Ja die aarde draai,

ja die aarde draai…

‘n Eindfluitjie blaas

verdoemend: uit!

 

© Joan Hambidge

Joan Hambidge. Sokker

Saturday, June 26th, 2010

Vir weke luister ons al na die aankondiging. “Feel it, it is here”. Eers met ʼn geknoopte Afrikaanse tong en toe later ʼn gladder tong wat die dae aftel.

Uiteindelik.

Soos ʼn bruilof. Die afwagting, die beplanning, die vrese, die uitsien. Ek en ʼn vriend kyk met ʼn toegetrekte keel na die aangrypende openingseremonie. En vir dae daarna is ons sokker-entoesiaste.

Van die subtiele reëls leer hy my gou. Dit is wat onkant beteken. Dis wat die skeidsregter hier bedoel. Daar is die hoekskop so. En ja, ons  is besete van vreugde oor Bafana Bafana se eerste doel.

Deur die jare het sokker deel geword van my bestaan. In vreemde hotelkamers, in vreemde lande laatnag, alleen, was sokker ʼn vertroosting. Dit was soos dood in die familie toe Engeland verslaan is deur Portugal ʼn paar jaar gelede en die hele reis lank kon jy die Engelse se argwaan aanvoel. Die vlae wat halfmas hang, by wyse van spreke. In Plymouth ʼn Portugese restaurant met wapperende vlae wat die oorwinning uitbasuin.

Jacques Derrida
Jacques Derrida

Jacques Derrida was op sy ʼn dag ʼn sokkerspeler. Umberto Eco hou nie van sokker nie, want dit het hom as kind uitgesluit van ʼn bepaalde orde.

By Incredible Connection ʼn paar maande gelede speel ek en die een instrukteur sokker op die playstation en die kind is  in  my meegesleur, hoewel my span (wat eg lyk) die loef afgesteek word.

Daar is een studie oor sokker wat die moeite werd is om te lees. Desmond Morris se The soccer tribe (Jonathan Cape, 1981). Hierin word die mitologie róndom sokker vir die leser uitgespeel.

Soos dat ʼn sokkerveld se grootte nét by benadering dieselfde is. Hierom het die tuisspan altyd ʼn voorsprong bó hul besoekers (33).  Die bekende ikone of tekens word eweneens verduidelik: die einde van die wedstryd is die twee gekruiste arms na bo. Was dit nie wonderlik hoe Bafana Bafana se dansie na ʼn doel geskiet is, inspeel op al hierdie tekens nie? Semiotici van die wêreld kyk weer!

Diego Maradona, effens swaarder, moedig sy span nou aan. Wanneer ons na hom kyk, verteenwoordig hy ʼn simbool.

Nie net van die groot sokkerspeler (soos Pelé) nie, maar iemand wie se lewe in die teken van ʼn “professional foul” gestaan het (61).

Morris sien die spel as ʼn ritueel. Ofskoon dit op die oppervlakte mag lyk na ʼn oorlog (hy gebruik die woord “battle”), is daar volgens hom nie ʼn poging om mekaar werklik te vernietig nie. Dit gebeur net op ʼn simboliese vlak wanneer daardie bal in die doelhok geskiet gaan word (15)!

Die geskiedenis word terug gevoer na die ou Romeine en ander bloedsporte soos bulgevegte en Pamplona dui op ons versugting na rituele.

Derrida het as ʼn jong kind vir ʼn jaar weggebly van skool, net sokker gespeel en filosofie gelees. Sien ons hier ʼn verband tussen sokker en filosofie? Hoe jy tog jou opponent moet uitoorlê en steeds by die reëls van die spel hou? Sou ons die grammé en différance nou anders beoordeel?

Desmond Morris het sy PhD aan Oxford behaal en sy ander beroemde boek is The naked ape (1967).

Die sokker-ritueel is vir ons in Suid-Afrika van uiterse belang. Skielik is wit mense wat vantevore nie in sokker belang gestel het nie, deel van die spel en vind daar ʼn versoening plaas. Nou onlangs op die Oliver Tambo bedien ʼn swart kelner my. Op sy kop is twee blou horinkies Hy is ʼn blou bul-ondersteuner, verseker hy my.

Hoe wonderlik, dink ek.

Blaas jou Vuvuzela vir ons span.

Morris wys ook op al die bygelowe wat sokker deur die jare vergesel het.

Sokker is ʼn macho-spel ja, maar persoonlik vind ek dit ongelooflik sierlik.

En ʼn belangrike ritueel.

David Beckham. Foto:Antonio Calanni
David Beckham. Foto:Antonio Calanni

Onthou David Beckham is al ʼn kunsobjek. In die Tate is daar ʼn video geneem van hom waar hy vir 24-uur slaap en die huidige poet laureate Carol Ann Duffy het ʼn vermaaklike en slim gedig geskryf oor ons moderne Achilles na ʼn besering:

 

Achilles

Myth’s river - where his mother
dipped him, fished him, a
slippery golden boy flowed on,
his name on its lips.

Without him, it was prophesied,
they would not take Troy.

Women hid him, concealed him
in girls’ sarongs; days of
sweetmeats, spices, silver songs …

But when Odysseus came, with an
athlete’s build, a sword and a shield,
he followed him to the battlefield,
the crowd’s roar,

And it was sport, not war,
his charmed foot on the ball …

But then his heel, his heel, his heel …

 

http://www.nowpublic.com/sports/david-beckham-poem-achilles-carol-ann-duffy-poet-laureate

Joan Hambidge. “gom uit die sipres” (Fanie Olivier)

Wednesday, June 2nd, 2010
Fanie Olivier

Fanie Olivier

My blou bundeltjie van Fanie Olivier se lieflike debuutbundel Gom uit die sipres is met plastiek oorgetrek. Buite-om is die prysomslag: ‘n manuskrip van hierdie bundel is bekroon met die Reina Prinsen Geerligs-prys in 1971 en binne-in is daar ‘n foto van die digter wat ek uitgesny het van ‘n jong, laggende Stefaans Olivier. My naam in blou in ‘n ronde vetskrif met die datum: 1975. My eerstejaar aan die US. Die prys: R3, 50.

Die waarde van hierdie bundel: duursaam - prysloos.

Daar is min bundels wat so met my gepraat het as hierdie debuut van Olivier. Dat so ‘n jong mens ‘n stem kon hê, het my aangegryp. Boonop het ek gevoel dat hy alles presies verwoord soos wat ek as ‘n jong mens gevoel het. En die surrealistiese gedig “vroeë mis” (10) het ek uit my kop uit geken. Daardie eekhorinkies wat die verakkerde tone wegdra, het dae lank by my gespook. En die spel met Totius kon ek via my blou Groot Verseboek-uitgawe ook opspoor, lank voordat intertekstualiteit ‘n mode-woord was. Veral die gevoel dat hierdie digter nie bang was om sosiale ongerymdhede aan te spreek nie, het my ook aangespreek. Sy trefseker verwoording van jeugdige melancholie en nostalgie het my verder bekoor. Soos ook die gedig “jeugliefde” (34) waar die spreker bely:

 

maar ek sal bewend oor ons stil geheim die fraai

blou petrea tot blink helikopters draai.

 

In my bundeltjie is daar regmerkies en aantekeninge in die kantlyn met ‘n potlood. “Hebban olla vogala” (30) kan ek steeds opsê:

 

lief lief

ek tree die ringmuur wit-wit

af; staan by die hek

en sien die duiwe parend

op die gewel sit:

het alle voëls hul nessies reeds begin lief lief

behalwe jy en ek?

 

En die gedig “eerste aand” (25) bly maar ‘n klein klassiek in Afrikaans, net soos “kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal”(24) ‘n gedig wat my nooit verloor het nie, al het ek later in daardie einste 1975 my geloof verloor, begin dobbel met die Eksistensialisme, die NG-Kerk verlaat het weens hul diskriminasie teen mense soos ek. Genadiglik toe ek later, via die Boeddhisme, weer kon terugkeer na die spirituele, het hierdie gedig voor my opgedoem:

 

kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal

met my gebarste oë en vingertoringpunte

wat 18 duim kan oorhel in die wind.

kyk god ek gaan vir jou my visnet haal

 

om mense mee te vang en met die taal

te huisves in die baiewoningskerk.

(…)

 

En die digter blokkie met sy raket se snare ‘n klein dorpstoneel.

Die liriese aard en binnespraak het my altyd bygebly:

 

bring die doek en bring die kis

ons kyk die hele lewe mis (15)

 

Daar is maar een Stefaans Olivier en met sy suiwer debuut het hy die jongmensellendes vir my verklank. Die hel is nie ander mense nie. Die hel is ‘n plek sonder digters soos Olivier.

 

Joan Hambidge

 

 

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu

Monday, May 10th, 2010

 

In die skadu van Machu Picchu

 

  

In die skadu van Machu Picchu

vind die temalied van Il Postino my:

die storie van ‘n eenvoudige posman,

wen haar hart met Pablo se verse,

verby die vloei van die Urubamba,

in knetterende klanke van verlange.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

glip ‘n skaars vlinder verby my hand.

Die ruïnes van ‘n verlore Inka-stad

herwin in ‘n argeologie van woorde:

die digter, ‘n latter day-Bingham.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

volg ek getrou Pablo Neruda se reis

na die herwonne Inka-stad,

‘n wêreldwonder van graniet en klip.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

daal stilte soos stof oor die ruïnes.

‘n Fluit eggo, draal van berg tot berg

waar die Grootste Digter ‘n vers skryf:

soekend, speurend ‘n stil boodskap ontsyfer.

In die skadu van Machu Picchu.

 

In die skadu van Machu Picchu

soggens maagde tot ‘n songod geoffer.

Wat is ons offergawe hier, in ‘n ruimte

waar God en natuur volledig één word?

Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?

In die skadu van Machu Picchu,

Ja, in die skadu van Machu Picchu.

 

(c) Joan Hambidge

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Joan? Hoe het dit ontstaan?

In Machu Picchu. Ek was tweekeer daar. In 1989 die eerste keer toe ek Verdraaide raaisels geskryf het tydens ‘n besoek aan ‘n hele paar lande binne Suid-Amerika en ‘n tweede keer in 2007 toe ek ‘n kongres bygewoon het in Rio de Janeiro en besluit het om weer Machu Picchu toe te gaan. Die gedig het ontstaan toe daar ‘n treinvertraging was terug na Cuzco. Ek het gewoon terug gegaan na die restaurant, gekyk na die manjifieke berg voor my en die gedig het letterlik in een sitting uitgekom. Toe hulle ons bagasie twee ure later afhaal, was ek reg om te vertrek.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Daar is uiteraard altyd ‘n eerste, tweede en derde weergawe van enige gedig. Maar hierdie is wel ‘n vers wat enkel uit genade, dadelik na my gekom het. Waarskynlik omdat ‘n mens binne so ‘n spirituele ruimte verkeer.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”?

Die gedig is “gegee”, maar dan moet ek byvoeg: ek het Machu Picchu in die laat tagtigerjare uitgeklim - voordat dit begrens was - en met my tweede besoek weer twee keer opgegaan. Terselfdertyd het ek baie poësie gelees oor hierdie stad en die eerste weergawe wat opgeneem is in Verdraaide raaisels klink dan so:

 

El Condor Pasa

Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte.

- Pablo Neruda

 

In Machu Picchu, die heilige Inka-stad,

hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:

“die nagwind draai in die lug en sing”.

In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ‘n reis

ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.

Heilige Machu Picchu bewaar sy gees

teen die onstuimige rivier en kil berglug

- sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.

Al die aangebode raaisels hier aanwesig

in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.

Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood

lê ‘n nuwe begin ópgesluit.

Met die aflegging van die self soos ons opbeur

na die hoogste punt van ‘n eens verlore beskawing,

pynlik bewus van ons argeloosheid

oor die krag van die lewegewende natuur.

Klim op, hoër na self-

loosheid - na stilte volledig.

Die kosmiese plan hier aanwesig,

argetipies in die roerlose rotse afgedruk - ontdaan

van nuttelose oordaad of menslike verdelging.

So ook die reis in die self: ‘n smagting

na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.

Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

 

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander “ordeningsbeginsel” toegepas?

Ek lees deurgaans glossariums oor hoe om te skryf; dus internaliseer ek vele tegnieke, bykans soos ‘n sanger wat elke dag sangofeninge doen. Ek lees byvoorbeeld tans weer Ruth Padel se The poem and the journey (Chatto & Windus, 2007) en Camille Paglia se Break, blow burn (Pantheon, 2005) ten einde meer te wete te kom oor hoé gedigte gestruktureer word.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as “klankbord” gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Ek gebruik Johann de Lange as my klankbord. Hy is ‘n regte barometer van gehalte. Met ‘n groot aanvoeling vir onegtheid wat ‘n mens help met ‘n eerste weergawe. Dan wys ek ook verse vir twee ander persone: Henning Snyman en Wilhelm Jordaan. Beide reageer ook onmiddellik. Verder praat ek met Dolf van Niekerk en Charl Cilliers oor die digkuns. ‘n Mens behoef dikwels ‘n onmiddellike reaksie - en dan natuurlik, bied ek kreatiewe skryfkursusse aan waar so ‘n vers ook land. En verder geslyp word deur kritiese vrae.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Die vers het op Litnet verskyn en het in my bundel Vuurwiel (2009) verskyn. Daar is dan ook streng keuringsprosedures by Human & Rousseau. Daar was wel een oningeligte leser wat nie begryp het wat ek doen nie. Maar so ‘n verslag help dikwels meer as ‘n positiewe leesverslag. Madri Victor was ‘n goeie oor en ook wyle I.L. de Villiers het baie van die Machu Picchu vers gehou.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Ek verwys in die gedig na die film Il postino (1994), ‘n gefiksionaliseerde besoek van Pablo Neruda aan ‘n eiland: in Italië in die vyftigerjare. Die werklike bestaan van die Chileense digter van Isla Negra word verplaas na Salina, waar die verhaal verfilm is.

Net soos die Afrikaanse digter Neruda verplaas/verplant na Afrikaans…

Die gedig is ingegee deur die draalliedjie wat in die restaurant gespeel het en toe het ek die gedig begin skryf in ‘n Japannese notaboekie wat ‘n mede-kongresganger uit Tokio vir my persent gegee het!

Die film handel oor die mag van die digkuns en hoe dit ‘n mens se lewe verander.

Il Postino

Il Postino

 

 

 

 

 http://en.wikipedia.org/wiki/Il_Postino

 

 

 

Is dit ‘n narratiewe vers?

Dit is sowel liries as narratief. In die digkuns bly selfs die narratiewe gedig myns insiens altyd liries.

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Oor die lewe en dood, die ontdekking van Macchu Picchu deur Bingham, die mitologie rondom die Inkas, die soeke na God en spiritualiteit, die soeke na die finale, groot gedig - en Neruda se siening dat God die grootste digter is. Die digter is dan ‘n latter day-Bingham of ontdekker….

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gehad het?

Neruda se Canto general veral en die reeds genoemde Il postino.

Ek het die 1991 uitgawe van die Universiteit van Kalifornië-uitgewers gebruik en die Inkaterra-hotel waar ek gebly het tydens my besoek, se visitekaart ontdek ek vanoggend as ‘n boekmerk in die bundel!

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Myself. Op ‘n ewige reis na ‘n beter gedig of soeke na helderheid.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Dis waarskynlik meer liries. Ek is tans besig met ‘n reisbundel Visums by verstek en die liriese spring altyd uit wanneer ek oor Suid-Amerika dig.

  

Santiago de Chile

 

O geliefde, geteisterde stad:

ek verneem van jou ellende,

jou Costanero Norte afgesny

Santiagunos vasgekeer in

jou donker ondergrond en Estacion.

Ek stap in my gedagtes oor

die Alameda en wonder of Sanhattan

steeds staan. Smelt die sneeu op die Andes?

Weet die Cordillera de la Costa

van jou terugslag? Bloei die Mapoche?

Is die Tupungato-vulkaan

aan die sluimer en stotter?

O geliefde, geteisterde stad:

Las Chascona, daardie monument

is hopelik ongeskonde?

“Verby die land se mure,

neffens die sneeu se kristalwerk,

agter die rivier van groen lower,

onder die nitraat en dorings,

het ek druppels bloed gevind,

en elke druppel het soos vuur

gebrand.” Die digter

van Las Chascona se woorde

bly leef tot by Machu Picchu

en die moregloed van die Urubamba

se knetterende klanke van verlange

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Ja, die alliterasie en assonansie in die gedig is eg Afrikaans: knetterede klanke van van verlange.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “prysgegee” of versaak?

Ek publiseer net ‘n gedig wanneer dit my bevredig. Jy moet egter dikwels ‘n vers “abandon”, los… “Jy voltooi nooit ‘n vers nie; jy versaak dit net”, aldus Paul Valery.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Absoluut. Dit is deur talle lesers uitgesonder as ‘n gedig wat met hulle gepraat het.

 

         Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste digbundel is Vuurwiel (2009). Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad.Joan behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde - ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman - ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Sy het ook satiriese romans (Swart koring, Die swart sluier, Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het) en ernstige romans: Die Judaskus, Palindroom en Kladboek gepubliseer. Die Buigsaamheid van verdriet (2006) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

Joan Hambidge lees hierdie gedig e.a. voor uit haar bundel Vuurwiel.  

[© NB Uitgewers] 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

 

Om te umlaut of nie…

Monday, May 3rd, 2010

’n Week of wat gelede wonder ek waar die sêding “poësie met of sonder die deelteken” vandaan kom.

Eers klop ek by Louise Viljoen aan wat my na Ampie Coetzee verwys.

Nee, sê Ampie, dis nie hy wat dit gesê het nie maar daar was wel ’n keer dat Joan Hambidge die soort grappie gebruik het toe hy gekla het oor die gebruik van “poetry” eerder as “poësie” in Afrikaans.

Ampie verwys my na Breyten, en Breyten sê ja hy hét dit inderdaad kwytgeraak – maar wáár en onder watter omstandighede weet hy nou nie meer nie.

Maar, sê Breyten: “Dis sekerlik een van die heel weinige ordentlike insigte wat ek ooit gehad het.”

Hoe só wonder ek?

“Mens sou kon beweer poësie is ’n deelteken, net soos poesie ’n teken (en tekening) van deel en ten dele is. Diepgaande poësie is, in soeke en bereiking of bevrediging, poesie. Die umlaut is eintlik maar net ‘n gekunstelde poging om die esoteriese en die erotiese te skei.

“Te veel mense glo nog die bestaansrede vir poësie is dat dit in die plek van iets anders kom staan.”

Ernst van Heerden en Paul Wittgenstein

Thursday, February 11th, 2010

Paul Wittgenstein

Paul Wittgenstein

Ek het in ‘n vorige inskrywing vertel van my ontdekking, op skool, van Ernst van Heerden se poësie, en van die rol wat hierdie ontdekking gespeel het in die aanwakkering van my eie belangstelling in die digkuns.

Sedertdien het ek weer ‘n slag deur sy bundels geblaai, hier en daar gelees, en opnuut onder die indruk gekom van hóé goed Van Heerden op sy beste was; en tot watter mate hy steeds – en dalk toenemend – ‘n onregverdig afgeskeepte stem in die Afrikaanse letterkunde is. Heelparty van sy bundels is immers nie meer in druk nie, en sover my wete strek is ‘n versamelde werke, of selfs net ‘n keur uit sy voltooide oeuvre, nog nooit gepubliseer nie.

 

Ernst van Heerden was, soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Joan Hambidge na hom (om enkeles te noem), ‘n verteenwoordiger van ‘n soort ‘estetisisme’ in die Afrikaanse poësie. Ek verwys hiermee na digters (en skrywers) wat die estetiese (eenvoudig gestel: uitgebreide verwysings na die letterkunde en ander kunsvorme) as temas en onderwerpe in hulle werk ontgin – of eerder, by wie hierdie soort poëtiese ontginning en omploeging van ‘n estetiese verwsyingsraamwerk ‘n (of dalk díé) sleutelkomponent is in hulle digterskap.

Daar is natuurlik belangrike verskille in hoe liggaamlikheid en seksualiteit (byvoorbeeld) by Van Heerden en De Lange onderskeidelik uitgebeeld word; of hoe Van Heerden en die meer postmodernistiese Hambidge onderskeidelik met kulturele verwysings omgaan. Nogtans dink ek hierdie latere digters behoort, wat hulle posisie in die Afrikaanse literatuur (en die verskillende tradisies en tendense wat dit kenmerk) betref, met Ernst van Heerden in gedagte gelees word.  

Van Heerden se oeuvre inkorporeer al sedert sy heel eerste bundel ‘n uitgebreide estetiese verwysingsraamwerk. Sy oeuvre is ryk aan verse oor digters, die skilderkuns en, wat my veral aanspreek, musiek. As jy gedigte soos ‘Symphonie Pathétique’, ‘Prélude à l’après-midi d’un faune’, ‘Nocturne’ en ‘Chopin’ lees (en daar is vele meer), is dit baie duidelik dat Van Heerden ‘n indringende kennis van en groot liefde vir die musiek moes gehad het.

Een van sy latere en beste gedigte oor die musiek is te vinde in my gunsteling Van Heerden-bundel, Amulet teen die vuur (ek sal by ‘n later geleentheid iets skryf oor hierdie bundel, wat ek tans weer aan die lees is). Die gedig is ‘Paul Wittgenstein’. Wittgenstein (broer van die beroemde filosoof met dieselfde van) was ‘n bekende vroeë twintigste-eeuse pianis. Hy het sy regterarm verloor in die Eerste Wêreldoorlog, en was dus, soos Van Heerden, ‘n ‘geamputeerde’ (Van Heerden het beide sy bene in die 1970s verloor).

Na afloop van die oorlog het etlike komponiste werke ‘vir die linkerhand’ gekomponeer, wat dit moontlik gemaak het vir Wittgenstein om sy loopbaan as konsertpianis voort te sit. In Van Heerden se gedig is dit Maurice Ravel se ‘Klavierkonsert vir die linkerhand’ wat ter sprake is. Op briljante wyse versoen Van Heerden die tema van die geamputeerde ledemaat met ‘n hoogs evokatiewe uitbeelding van die stuwing, ritme, toonaard en kleur van daardie musiekstuk.

 

Paul Wittgenstein

Klavierkonsert vir die linkerhand (Ravel)

 

Wanneer ‘n ongevulde regtermou

die snyerslanfer onderstreep

en skielik aandag opeis,

bedaar geroesemoes;

 

algaande minder soberend

deur wilder sproeisels heen,

word tarantella-vuur gestook,

‘n teistering, ‘n woede opgewek;

 

wanneer weemoed en bravour

hul eie bane uitstip,

word deur gekerm en gesnater

‘n waterval van ánder kleur gebou

en vredes sprokkelwys opeengehoop.

 

Wilgers ruis in kontrapunt

en seë slaan ‘n hele klankbord los,

terwyl ‘n volle somer

aan die son se tepel suig.

 

Triomf en dawering!

 

Die mou buig saam

voor ‘n dubbelhandige applous. 

Die liefdesgedig - ‘n persoonlike belydenis

Saturday, January 30th, 2010

Joan Hambidge

 

Joan Hambidge

Joan Hambidge

Joan Hambidge is professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy is ‘n gereelde boekresensent en skryf rubrieke oor letterkunde en films. Sy bied ‘n MA-kursus in Kreatiewe Skryfwerk aan by die Universiteit van Kaapstad. Joan behaal twee doktorsgrade. In 2000 “Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde - ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk” aan die UK en ‘n eerste aan Rhodes Universiteit “Die metaroman - ‘n dekonstruksie-ondersoek” in 1984. Die Buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ‘n keur uit haar poësie. Verder is sy bekend vir haar teoretiese essays. Vir haar digkuns is sy bekroon met die Eugène Marais- en Litera-pryse. Sy is tans besig met ‘n studie oor die digkuns van Johann de Lange.

 

Valentine

Not a red rose or a satin heart.

 

I give you an onion.

It is a moon wrapped in brown paper.

It promises light

like the careful undressing of love.

 

Here.

It will blind you with tears

like a lover.

It will make your reflection

a wobbling photo of grief.

 

I am trying to be truthful.

 

Not a cute card or a kissogram.

 

I give you an onion.

Its fierce kiss will stay on your lips,

possessive and faithful

as we are,

for as long as we are.

 

Take it.

Its platinum loops shrink to a wedding-ring,

if you like.

 

Lethal.

Its scent will cling to your fingers,

cling to your knife.

 

- Carol Ann Duffy

 

I

Daar word vertel dat glansmense in Engeland deesdae ‘n egskeidingkaartjie ontvang: Geluk met jou egskeiding en dan word ‘n winkel aanbeveel waar ‘n mens vir die geskeide geskenke kan aankoop ten einde te kan oorleef (BY, 23 Januarie 2010). Is die skeiding maar nie net die anderkant van die liefde nie? Om geskei te wees, beteken daar was ‘n verhouding. Net soos die meeste gedigte ‘n verhouding na die afloop probeer opvang.

 

II

Een van die grootste digters in Afrikaans, D.J. Opperman het in sy letterkundige laboratorium - wat ek bygewoon het as kritikus, want ek het toe verhale geskryf - se mantra was: skryf wég van jouself. Opperman het die objektivering van die emosie voorgestaan en hy het jong digters probeer weghou van pynlike en dikwels embarasserende onthullings oor die liefde. In Fanie Olivier se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte kom ‘n mens wel onder die indruk van die feit dat die liefdesgedig besondere eise aan die digter stel. Die meeste verse in hierdie versameling handel oor afgelope en dikwels misgelope verhoudings.  

Ekself het my hand aan ‘n hele klomp liefdesverse gewaag. (Trouens, as ek Voyager-punte vir my liefdesverse kon kry, sou ek al om die aarde kon vlieg.) En Opperman se waaksame woorde het deur die jare by my gebly. Maar hoe gemaak met die liefde wat dikwels in ‘n nuwe vorm voor jou staan?

In die vers “Vlugvertraging” uit Vuurwiel probeer die spreker via John Stammers, die Britse digter en Pablo Neruda, die Chileense digter, ‘n nuwe roete vind vir hierdie soort gedig, juis omdat die digter reeds in Verdraaide raaisels oor hierdie ervaring gedig het.

‘n Digter is uiteindelik ‘n soort teoretikus wat woorde moet weeg en opsies moet ondersoek.

 

Vlugvertraging

 

Daar was ‘n keer in Santiago

in die stad van Neruda

toe die vliegtuig nie die stad

kon verlaat.

 

Nog ‘n keer in Londen

in die stad van Stammers

bly ‘n vlug uitgestel,

gekanselleer.

 

Oor die liefde het Neruda

en Stammers veelduidig

gedig:”Vanaand dig

ek die seerste reëls”.

 

Hulle het dit reeds geskryf,

beide Neruda en Stammers.

Laasgenoemde met die geliefde

in ‘n hotel - met ‘n panoramiese uitsig.

 

Net ek, ek sien die vliegtuie

wat sirkel, draai:

die elektroniese glimming

van ‘n slaaplose horlosie.

 

Drome kartets

soos ligte op die landingstrook:

‘n laaste vlug in ‘n eensame

hotelbed.

 

Nie ver van hier

slaap jy onrustig,

onbewus-bewus-onbewus

van hierdie klein gedig.

 

Ook die kuberruim word ingespan, want e-posse het die liefdesvers binnegedring nes film-verwysings soos Sleepless in Seattle en Casablanca.

 

Sleepless in Seattle

 

Bedags versend ons e-posse

na mekaar: twee reisigers

in stede vér van mekaar.

 

Snags besoek jy my in drome:

in die helder film van my

beeldryke onbewuste.

 

Miskien is drome niks meer

as ‘n e-pos versend uit

die donker skag van begeerte.

 

Ons sal waarskynlik nooit

in die werklikheid

mekaar só intens beleef,

 

of iewers, soos Meg Ryan

en Tom Hanks, op ‘n hoë

gebou mekaar moeiteloos

 

vind nie. Ons is immers

nie in Hollywood nie.

Maar in die landskap

 

van die bodemlose put:

die grenslose kuberruim.

 

 

Sleepless in Seattle II

 

Toe word die versendings

minder driftig, selfs ingeperk.

Die twee reisigers in stede

 

vér van mekaar. Vasgevang

in daaglikse roetines, veral

die opruiming van verhoudings.

 

Skielik is daar weer kontak:

‘n e-pos, ‘n wedersiens:

ons telepatie van ouds hervat.

 

Miskien hoor ek jou opmerk:

om in ‘n convertible ‘n landskap

te verken, sit ons terug in Hollywood.

 

Dit bly alles praatjies vir die vaak:

‘n duiselingwekkende raakvat

van begrip, verstaan tot verruiming:

 

“Here’s looking at you kid!”

 

 

III

Maar die liefde neem ‘n duisend vorme aan. En ‘n mens dink hier aan die liefdesverse van Johann de Lange wie se Nagsweet vele onrustighede veroorsaak het, omdat kritici gevoel het dat dit te openlik-gay is. 1. De Lange se besegging van die liggaam of lyf, dwing bewondering af.

 

Tongnaai I

 

Roekelose gevleuelde wilde man

op jou rasendmooi snelrooi motorfiets:

jy het jou lyf een nag vir my oop-

gemaak, ‘n fyn senuagtige roos,

‘n nuutgevonde herontdekte pyn.

 

Boude wit en rond soos eierdoppe,

sterk geheime kluis van die liefde.

Ek weet nie dat ek jou liefhet nie,

net dat jy oopvurk vir die woord

wat my reënende tong wil plant

 

teen ons dood. My heupe stamel.

Jou nat voorkop, bruin bene wat span

terwyl jy swetend spook en buitel

om te kom. Ek lê langs jou, krom

soos ‘n hand, luister na jou asem

 

wat gejaagd ‘n ander beeld wil oproep

agter jou saamgeperste oë:

‘n paar huise weg jou vrou en kinders

soos liefdesbriewe in ‘n laai vergeet,

afgesluit van ons agterbakse plesier.

 

 

Tongnaai II

 

Op jou maag, met een been hoog opgetrek,

kan ek sien tot waar jou blonde beenhare

strek, verdonker en verdig, en die dik rif

van jou horing tussen harde boude in verdwyn.

 

Judasoog wat vir ‘n tongnaai oper plooi,

geurige kreukel met ‘n vag bruin krulle,

ring wat ritmies knel as die eerste fel spasmas

die skoot diep uit my swaar balle boontoe bring

 

en stoot tot by die rooi geswolle knop wat klop

en taai wit wiele oor jou rug uitrol.

Jou lyf maak my jags vir growwe taal

- hol en horing, pielkop, fok en tos -

 

want in my mond is sulke soepel woorde

dik en vlesig en vrank soos jy.

 

In die twee gedigte “Tongnaai I” en “Tongnaai II” word die twee dimensies van Orpheus en Eurydike se bestaan uitgespeel, te wete die spanning tussen lewe en dood. Ook ‘n opposisie tussen die bewuste en onbewuste is hier aantoonbaar.

In die eerste gedig behoort die geliefde nog nie volledig aan die spreker nie. Hy is nog deel van sy konvensionele lewe; die bestaan waar ‘n vrou en kinders wag - afgesluit van die agterbakse plesier wat sowel die seksuele dimensie as die verraad-element aktiveer. In die tweede gedig is daar oorgawe aan die wêreld van die spreker; die geliefde spook nie meer om te kom nie. Hy is dus nou die objek, volledig oorwin en besit deur die spreker. In die gedig “Tongnaai II” wat as ‘n tweeluik met die eerste gedig gelees moet word, word die geliefde tot objek verklaar. De Lange neem hier besit van die geliefde soos wat ‘n man die vrou tot objek verklaar. Hy de-romantiseer egter die liefdesdiskoers deur vuige woorde of begippe te gebruik. Die geliefde se anus (dik rif) word beskryf en hy besing die penis as ‘n horing. Hy vertel ook vir die leser presies wat in die liefdesdaad gaan gebeur. Die leser word medepligtige, voyeur en sien hoe die anale seks plaasvind. Tongnaai is immers sleng vir die betreding van die anus.

Dit word as ‘n “geurige kreukel” beskou, “ring wat ritmies knel”. Ons neem ook presies waar watter effek dit op die spreker sal hê: die ekstase van betreding of binnedringing. Bykans beskryf soos dit in ‘n pornografiese rolprent ervaar word en ons sien hoe hy spuit oor die geliefde se rug, om die ekstatiese oomblik uit te stel. Meer nog, die daad neem hom wég van romantiese liefdeswoorde en hy verkies die gebruik van growwe, platwoorde in die liefdesdaad. En ten slotte word die liefdeswoorde soepel in sy mond. Die gedig is dan ‘n tongnaai met dik en vlesige en vrank woorde.

Die besondere vernuftige taalspel word in die gedig “Tongval” verder ontgin. Om liefde te maak, is angelsisties, ‘n toespeling op anglisisties. Omdat Vigs die liefdesspel bedreig, is dit iets met ‘n angel. Daar is ‘n begeerte om die liefde veilig te maak: hierom ‘n soeke na uitdrukkings wat bloot op plesier ingestel is soos “seks gehad”, “naai” of “kopuleer” waarin die spreker kortstondig bevry sal word van die gevaarelement van die seksuele. Tog is die seksdaad tussen mans reeds aggressief in taal verwoord: “kom”, “skoot”, “skiet”. Dus voor die bedreiging van Vigs, is die seksuele alreeds in taal ‘n aggressiewe daad, juis deur die gebruik van oorlogsmetafore. Hierom dan dat die dood retrospektief gesaai word, omdat daar in nadenke of dig oor die seksuele gebruik gemaak word van sodanige metaforiek.

 

Tongval

 

Om te sê: ek’t saam met so-en-so

geslaap, is ‘n lieg,

want van slaap soos óns

dit ondermaans verstaan

was daar g’n sprake nie:

‘n neurotiese kwartier

op die agtersitplek van ‘n kar.

Of: ons maak liefde (angel-

sisties) terwyl ons met spits lywe

mekaar nóg dieper probeer

wond. Meer korrek sou wees

om te beweer: ons het seks gehad,

of: genaai, gekopuleer.

‘n Man sê, as hy kom (cum

op Amerikaans): ek gaan

skiet, of praat van skoot

as hy bedoel die liefdesvog.

Só word die daad van hartstog

aggressief, en word die dóód

gesaai, retrospektief.

 

Die “gevaarlike skoonheid” (soos Etienne Britz dit noem), is wat hierdie verse so sterk maak. Maar dit is ook die vermoë om die liefdesgedig in opstandige beelde te beskryf, wat die leser bybly.

 

 

IV

Op die Versindaba se webblad vind ons hierdie speelse, jagse vers van Daniel Hugo wat weer ‘n ander “spin” gee op hierdie soort gedig!

 

Hanekraai

 

klokslag met dagbreek steek

‘n morning glory sy kop uit

saam met al die ander lig-

gevoelige organe wat geur

op hierdie lengtegraad

 

stel jou voor: triljoene ereksies

wat verskyn, weer verdwyn

en in ‘n Meksikaanse golf

reg rondom die aardbol dein

teen vyftien grade per uur

 

die aarde draai om die son

ter wille van ‘n voyeur

 

Hoe kan ‘n mens skryf oor die liefde sónder om Ingrid Jonker of Breytenbach te betrek. Of Antjie Krog? 

Die liefde wat gebitterbessie-dagbreek is of die allerliefste wat by Breytenbach sóveel keer in landskappe van die taal aangespreek word? Of Van Wyk Louw se aangrypende gedig oor die geliefde wat ‘n silwer herberg in die sneeu bewoon?

Of Elisabeth Eybers?

Of Cloete wat die ouerwordende geliefde in soveel teerheid opvang?

So dig Krog in haar agterstevoor-om-sonnet waar sy die toepassing eerste plaas:

 

Sonnet

 

vanaand weet ek

dat ek jou nooit weer lief sal hê nie:

jou hande het te klein geword

om my vas te hou

jou liggaam te tenger

om my te bevry

ek het losgespoel uit pyn en hartseer

en uit jou

ek het koeie sien opstaan uit die gras

‘n dag sien sterf soos ‘n voël op sy rug

ek moet nou opstaan

en ‘n horison breek

omdat ek moeg is

vir jou nat snoet in my lies.

 

Of J.C. Steyn se taalspel in “Die grammatika van liefhê”:

 

Liefhê is ‘n tangkonstruksie,

as eenwoord-samestelling ‘n abstraksie.

Die eenwoordsin-imperatief

is nypend ongrammaties: “*Hê-lief!”

(So ‘n sterretjie, ontaalkundiges,

lig u toe dat ‘n sin ontaalkundig is.)

Lief-hê (s)kort dus ‘n onderwerp

en is - met onderwerp - onderwerp

soos wees, wat is word, aan deklinasie,

ouderwets, maar glo-nodig vir kombinasie.

Dus: “Jy/hy/sy het-lief.” Korrek?

Nee, ‘n voorwerp ontbreek, naamlik ek.

Maar die eerste persoon word verbuig,

as lydende voorwerp raak ek my.

“Jy het-lief my.”?

Nee: Het en lief word deur my geskei.

Alleen as ek vra: “Het jy my lief?”

kom jy my naby - byna-byna.

Hét jy dit nou? Begryp jy?

En hét jy nou my

en het jy my nou

lief, of liefgehad? Of sou jy, wou jy?

Is liefhet ‘n te “groot” woord vir jou, te lank?

Kort ons iets korters, met minder klank?

Iets soos min. Mín jy my?

Of is jy dalk my aan ‘t vermy?

Een min een, dag ek, maak twee

of reken jy een min een maak niks?

Iemand minus iemand gee niemand.

Een minus ‘n ander

min vinkel of koljander

saam-saam geeneen saam.

 

Maar ons het soveel polfyntjies in ons digkuns dat ‘n mens sal kan aanhaal en aanhaal tot in ewigheid.

“Mitsdese wil ek vir jou sê”…

 

 

V

Roland Barthes se bekende A lover’s dicourse dra ‘n sub-titel, te wete “fragmente”.  Miskien omdat ‘n mens nooit die geliefde in volledigheid kan beskryf of besit nie.

Die “discours amoureux” is in Afrikaans só veelsydig. Barthes beskryf hoé die geliefde jou volledige universum word en dat jy later alles as tekens van die geliefde interpreteer. Ingrid Jonker se beroemde “Bitterbessie dagbreek” het hierom ookal ‘n parodie ontlok (www.litnet/poësie). 2

Barthes skryf oor die “angoisse” of agonie wat die geliefde ervaar: die wag op ‘n wederwoord of ‘n verwerking van die afsegging, van die verby-wees oftewel, die “cri de coeur”.

Is die parodie of pastiche nie dalk juis ‘n poging om hierdie pyn te probeer systap nie?

Want die liefdesvers dra in sig die Petrarcaanse paradoks: jy raak dikwels verlief op die projeksie wat dalk niks met die werklikheid te make het nie. Laura, so skryf  kenners van die Canzoniere, het Petraraca nooit geken nie en sy was ‘n maaksel / ‘n konterfeitsel.

Tog het hy bitterlik geween toe sy dood is.

In hul prettige en dikwels skunnige bloemlesing, Die dye trek die dye aan, bring Johann de Lange en Antjie Krog die lyflike vers van al ons digters tesame. So buite bundelverband, kom lê verse tesame en stig as’t ware nuwe betekenisse aan.

So ons het nie net liefdesverse in Afrikaans nie. Ons het ook lyflike verse, naamlik waarin die liggaamlikheid van die liefde besing of  beskryf word. Sowel Krog as De Lange het die sogenaamde platvloerse woord suksesvol binne die Afrikaanse gedig ingedra; dikwels tot ontsteltenis van gevestigde kritici en lesers wat nie die belangrikheid van hierdie dekonstruksie raaksien nie. Dit wil die liefdesgedig met sy mymerende, valsifiserende diskoers neem na die harde, ruwe werklikheid van die lyflike ontnugtering of ekstase waarmee die digter (en die geliefde) moet saamleef.

En in hul antologie neem hulle ‘n vers op van I.D. du Plessis (wat staan in Vreemde liefde, 1937):

 

Die rooi blom van begeerte het oopgegaan

en deur die bloutes van die nag gegloei:

Dit was die uur, en ek het opgestaan

om swyend met ‘n woesteling te stoei (p. 114).

 

Dalk ‘n gedig oor masturbasie? Of is die woesteling dalk ‘n werklike persoon?

Of ‘n mens ‘n twakkie lus of op die babbeljoentjie baljaar: die liefde (en die wellus) neem ‘n duisend vorme aan. Begeerte, jagsheid, verlange, verdriet word dan dikwels verwar met Die Liefde. En gedigte tree in gesprek met mekaar soos Van Wyk Louw en Cussons se liefdesgedigte bewys: Abélard en Heloïse. Soms is die geliefde ‘n intieme afwesige, een wat moet weggaan sodat jy oor hom / haar kan skryf en in Afrikaans het ons eerlike en openhartige verse oor die gay-belewenis.

En “What abou’ de lô?”

Diana was ‘n wit nôi

Martin was ‘n bryn boy  skryf Adam Small oor liefde oor kleurgrense heen (Die dye trek die dye aan, p.206) en die harde realiteite van die apartheidbestaan wat mense se lewens vernietig het.

Tog kan niemand waarskynlik wanneer dit oor die liefde handel G.A. Watermeyer se slotstrofe in “Ballade op die dronkparty” troef nie:

 

Die liefde is die bitter glas,

die droë glas, die donker glas;

die liefde is die naverdriet

wat in die hart se holte pas.

 

Hierdie gedig staan op bladsy 308 van Brink se Groot verseboek 2000.

Uitinge oor die liefde, wellus, begeerte - te veel om te noem. Maar dit bewys uiteindelik Neruda en Cussons se stelling reg dat daar geen digters is nie, maar alleen ‘n digkuns. Elke woord ontlok ‘n wederwoord.

 

Joan Hambidge, Kaapstad 23 Januarie 2010

 

Bibliografie

Barthes, Roland. 1979. A lover’s discourse: Fragments. New York: Hill and Wang.

Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

De Lange, Johann. 1991. Nagsweet. Johannesburg: Taurus.

 -1998. Die dye trek die dye aan. Kaapstad: Human & Rousseau / Tafelberg. (saam met Antjie Krog).

Hambidge, Joan. 1989. Verdraaide raaisels. Kaapstad: Human & Rousseau.

-. 2009. Vuurwiel. Kaapstad: Human & Rousseau.

Olivier, Fanie. 1992. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Kaapstad: Human & Rousseau.

 

Endnote:

1. Oor die omstrede bundel Nagsweet is die volgende geskryf:

T.T. Cloete resenseer Nagsweet in Beeld van 8 Julie 1991 (”Die erotiese as vertrekpunt…”). Cloete wys op die ooreenkoms tussen Nagsweet en Wordende naak. Die vertaling van Musuo Takahashi se “Portret van myself aan die begin” plaas die gedigte in ‘n bo-Afrikaanse literêre geselskap. By die aansluiting by soortgenote in ander tale, bevind die digter hom in ‘n geselskap waar die wenkbroue nie meer gelig word oor hierdie soort gedurfde gedig nie. Die bundel is sterk afgestem op ‘n bepaalde erotiese tema. Aan die een kant is so ‘n distinktief-tematiese fokus beperkend, maar die beste gedigte in die bundel bring vanself ‘n perspektiwiese verwyding. Cloete wys daarop dat van die belangrikste belewenisse wat uit die erotiek groei, teleurstelling en verydeling is. Of die ontdekking van die dood agter die sterk uiterlike van die mens. Hy wys op die viriele liggaamlikheid in die bundel, wat ook fragiele breekbare liggaamlikheid behels. Vir hom is van die beste gedigte foto-portret-gedigte. In ander gevalle sou ‘n mens kon praat van gebeeldhoude of anatomiese gedigte. Die gedigte het nie net in hul deskriptiewe kwaliteite trefkrag nie; ook die ritme is fel en die versreëls eindig dikwels abrup. Daar word ook vernuftig met die taal omgegaan. In te veel gedigte kry ‘n mens egter die indruk dat die digter te demonstratief omgaan met die onverbloemde taal; asof hy ‘n saak wil uitmaak vir die nuwe, vrye gebruik van woorde wat voorheen heeltemal of byna taboe was in die Afrikaanse digkuns. Sommige gedigte bly steek in die seksuele en mis hierom dimensie. Daar is egter uitstekende gedigte met baie verrassende momente. Hoewel hy soms ‘n brute gedig kan skryf, is De Lange op sy beste in staat tot die vertaling van die mees delikate, getemperde menslikheid en tot ‘n geraffineerde sintuiglikheid en taalgebruik.

Joan Hambidge bespreek die bundel in Beeld van 10 Oktober 1991 (”Agter die gedurfdheid lê ‘n stuk weerloosheid”) en wys op die deurbraak-hoogtepunt-bydrae van hierdie bundel. Die uitgewer moet geloof word om die manmoedigheid en daar word gewys op die feit dat die bundel eers as Tongnaai bekend gestaan het. Die homoseksuele-aspek word uitgelig met die obsessionele verkenning van die teks-as-liggaam. Die gedig word ‘n fallus / liggaam wat aan die leser aangebied word - hierom sal / gaan dit skok of walg of aantrek. Roland Barthes se The pleasure of the text word hier tot sy uiterste gevoer.

Die tekste word as ‘n volledige ontkleedans gesien nie as ‘n blote gaping tussen liggaam en kledingstuk nie. Die taalvaardigheid en knap strukturering van die gedigte temper die morele besware. Die patriargale oortreding van die taboe word verwoord deur gebruik te maak van die Orpheus-mite. Hambidge wys daarop dat De Lange die interpretasie gebruik van Woods se Articulate flesh. Die terugkeer na Hades is vir De Lange ‘n metafoor vir die ootreding van ‘n seksuele taboe, meer spesifiek die sterk taboe dat ‘n mens in die Hades van homofiele liefde mag afdaal. ‘n Ander weergawe van die mite beweer Orpheus het weens die verlies aan Eurydike hom volledig van vroue weggekeer en die Meinades het hierom sy liggaam volledig in repe geskeur. Orpheus is egter binne folklore die vader van die gays. Hy staan vir ‘n man-gesentreerde wêreld selfs vir misogonie. Orpheus is vir De Lange beeld / simbool van die digter wat telkens met verlies moet worstel en alleen uit hierdie toestand kan skep. Die opbreek van Orpheus se liggaam en sy verhouding met mans ná sy verlies aan Eurydike is vir De Lange voorts beeld van die digter se opbreek van woorde en die versplintering daarvan. Psigoanalities gelees, is dit ‘n bundel wat die leser dwing om af te daal in die Hades van die eie onbewuste ten einde meer te wete te kom oor die eindes of verloop van jou eie vleesgedig. Dood en erotiek word dus nie om dowe neute nie so saamgedig.

Verlies en verbrokkeling - twee bekende De Lange-motiewe - word in gedig na gedig teruggevind. Die opbreek van Orpheus se liggaam (vermoedelik uit wraak, omdat hy hom nie aan die Meinade wou oorgee nie) word ‘n metafoor vir die poëtiese werkswyse in die bundel. Daar is ‘n bykans aggressiewe opbreek van (vroulike?) taalpatrone in hierdie bundel te bespeur en verbrokkeling, onvolledigheid én onvervuldheid lê ten grondslag van elke gedig. “The true body is the broken body,” aldus Norman O. Brown en hierom is dit onmoontlik om in die liefde ooit die hele liggaam volledig te te beskryf. Agter die gedurfdheid, die openlike vulgariteit en selfs liederlikheid vir die swakkes van hart, lê ‘n stuk weerloosheid. Dis ‘n manjifieke bundel, omdat die digter in hierdie bundel begin wegdig van sy vroeëre amper té romantiese aanslag.

In sy bespreking van hierdie bundel in Vrye Weekblad van 12 - 18 Julie 1991 skryf Etienne Britz vermaaklik oor “Nagsweet: Nóg ‘n aangereikte warm patat”. Hy verwys na boeke waaroor resensente hul nie uitlaat nie en hy meen dat Merwe Scholtz op bladsye 56 - 57 ‘n blerts tamatiebredie (of hoesmedisyne? dalk pyptabakkwyl?) uitgestort het op die boek. Weens die weerlose inhoud het dit volgens Britz buitengewone beskerming en toeligting nodig. Sy geliefde promotor was die ideale man om dit te doen, aangesien hy die dekadente literatuur immers briljant teenoor sy studente verdedig het en hy het ‘n hele akademiese loopbaan gewy om te verduidelik dat die talige vorm, die eie stilistiese wetmatigheid - en nie die inhoud nie - die kwessie is wat saakmaak in poësie.

Britz skerts verder deur te verwys na Cas van Rensburg se brief aan hom na sy stuk deur Insig geweier is: hulle stel nie belang in ander resensente se menings nie. Britz vra tersaaklike vrae oor die resensie-bedryf en die gekonkel agter die skerms. Dan merk hy op dat hierdie bundel reeds die vernedering moes deurmaak dat dit deur Tafelberg afgekeur is. Hy wend hom tot die Vrye Weekblad om hierdie onthulling te doen en bely dat die bundel se tematiek hom nie persoonlik aanspreek nie. Hy was selfs ‘n bietjie ongesteld oor die onsanitêre voorstellings in hierdie bundel. “Hoe nader ‘n literêre werk sny aan pynlike of onaangename waarhede, hoe harder moet ‘n mens tog veg teen jou eie selfingenomenheid, teen jou eie sone van gerief en veiligheid, want hoe nodiger het daardie werk jou vermoë om dit te kan lees”, meen Britz.

Hy tipeer die boek as ‘n gevaarlike skoonheid. Die bundel doen die dapperste werk wat ‘n literêre teks kan doen, naamlik om vir alle mense ‘n stuk vryheid te probeer wen. Dit is ‘n boek soos wat Hermans die funksie van die literatuur omskryf, naamlik ‘n boek wat die eensaamheid van alle mense ophef. ‘n Boek wat troos, bevry, bevry en stimuleer, omdat ‘n mens, meen Britz, ‘n lewe so erg of erger as jou eie lewe daarin kan terugvind. Geen boek om dus aan te reik na tweede of derde resensente nie. Dis egter ‘n boek om vol deernis te lees, te verduidelik en te beskerm.

“Hierdie tong is ‘n springmes” is die bespreking van Wilhelm Liebenberg in De Kat (Desember 1991 Jg 7: Nr. 6). Hy meen dat die belofte van Wordende naak, bekroon met die Rapport-prys, in ‘n sekere sin vervul word. Hy noem dit kaalgatpoësie. Hy analiseer die betekenis van die begrip loergat in die bundel: die loergat in die openbare toilet en die loergat in die tronkdeur. Die suggestie is vir hom dat die leser ‘n mede-gevangene word en deur die lees van hierdie poësie geraak en daardeur ryker sal word.

Onderliggend aan die bundel is ‘n soort “Judasoog”-metafisika - met al die implikasies an verraad - waarin die “dieper” betekenis van wat die mens bespeur, self ‘n loergat blyk te wees. Hy beskryf dit as ‘n postmodernistiese mîse-en-abyme. Dit maak verder van ‘n arsenaal van seksistiese metaforiek gebruik. Die metaforiek gaan gepaard met ‘n verhouding waar oorlog intiemer as liefde blyk te wees, waarin die minnaars blote skermmaats is vir latere vyandigheid. Hier, volgens Liebenberg, gaan dit om mag soos dikwels ook in “hard core”-pornografie die geval is. Die tong word met ‘n springmes vergelyk, terwyl die “liefde” nie anders kan as om diep wonde te laat nie.

Ten slotte vra Liebenberg of die manier waarop die vervreemding (wat hierdie soort verhouding meebring) as tekenend van die menslike kondisie gesien kan word. Hy vra dan of dit projeksie is en hy wonder of De Lange nie hier dalk perspektief op die wyer werklikheid begin verloor met sy nou fokus deur die loergat nie.

Andreij Horn meen in Die Volksblad (10 Junie 1991) egter anders.”Verstommende talent misbruik” is die opskrif van sy stuk waarin Horn anti-gay-uitsprake maak. Hy stel hierdie bundel gelyk aan ‘n bevrydingstryd waarin die persoon aanvanklik die nuwigheid van sy regte misbruik. Volgens Horn was Wordende naak ‘n “stylvolle” betreding van die homoërotiek.  Hy noem die gedigte “soms tydloos elegant” en “met ‘n onweerstaanvare begrip vir die eise van die homoseksuele leefwyse afgerond”. Volgens hom het hierdie bundel baie simpatie gewek en is dit alles tekens van ‘n “volwasse verwerkte emosiebalans”. Horn bevind dat hy kuns gemaak het uit die pyn van “uitsluiting en verwerping”. Horn meen hy kon voortgebou het op die begrip van Wordende naak, maar hy het egter ‘n bundel gelewer wat hy beskou as een met groteske verse. Hierin word die kru-aspekte van homoseksuele omgang  in die fynste besonderhede beskryf. Hy bevind dat die bundel walglik is. Horn skryf: “De Lange verkrag jou daarmee. Hy doen sy ding sonder aansiens des persoons. En hy druk dit in jou keel af. Hy vryf jou dit onder die neus. En hy stoot jou van hom weg.” Hy erken wel die meesterlike hantering van die woord. Hy bevind dat hy ‘n knap digter is met ‘n verstommende talent wat onmiskenbaar is. Hy hoop dat De Lange uit hierdie “fase” sal breek en hy mis die volwassenheid en beheersdheid van ‘n Wordende naak.

Marthinus Beukes resenseer die bundel as “Die sweet van die erotiese spel” in Die Transvaler (12 September 1991). Hy sien voyeurisme as ‘n vooropgestelde tema in hierdie bundel en hierom moet die oog as kode raakgelees word. Alle seksuele verhoudings is dus momenteel in hierdie wêreld van cruising wat hy tipeer as reisigers-van-een-nag. Hy vind egter dat die eensydige beskrywing van die homoërotiek ‘n beswaar is wat teen De Lange ingebring kan word, omdat die seksuele daad geteken word as pervers, liefdeloos en sig slegs ten doel stel om seksueel te bevredig.  Die heelheid en duursaamheid van die enkelverhouding bestaan nie en die spreker bly voortdurend soekend. Die bundeltitel kan gesien word as ‘n simptoom van vigs en tuberkulose. Hy let op die deurdagte komposisie van die bundel met die motto’s om die onvoltooidheid van verhoudings, alleenheid en soeke na geliefde(s) oor te dra.

Henning Snyman bespreek die bundel in Rapport van 14 Julie 1994 (”Skokkende word literêre skoonheid”). Hy verwys na die komplekse aard van hierdie poësie wat begryp moet word binne die denksfeer waarbinne dit bestaan. Hy kan egter net lukrake opmerkings maak by gebrek aan ruimte. Hy sien die bundel as ‘n tweeluik van Wordende naak en die leser moet bekend wees met die digkuns van Whitman, García Lorca, Allen Ginsberg, W.H. Auden en Wilfred Owen. Op sigwaarde handel die gedigte oor die lyflike, maar met die ordende mag van die woord word die oënskynlik skokkende gegewe tot literêre skoonheid verwerk. Die bundel beantwoord aan die elementêrste eis van die letterkunde: die styl moet die gegewe pas. En, dit moet mensgerig wees. Alhoewel die meeste van die gedigte as flitse van die gay-wêreld beskou kan word, word dit ook die verhaal van menslike eensaamheid, vir die vrees vir die tyd en ouderdom, die tragedie van onvervuldheid en verlore liefde, die ironie van menslike illusies en verlangens en die wrangheid waarmee ons helaas moet saamlééf. Dit word ‘n inventaris van dié emosies wat menswees kenmerk. Die eerlikheid van die gedigte mag moontlik skok, maar as sodanig daag dit die samelewing en sy moraliteite uit tot gesprek en self-ondersoek. Dit is ontbloot van huigelary en so gelees, lewer dit sosiale kommentaar. Dit is ‘n gesprek wat steeds wag op ‘n antwoord. De Lange bring met hierdie bundel ‘n nuwe volwassenheid in die digkuns en dit is ‘n volwassenheid, volgens Snyman, wat nie terugstuit vir tematiese waagmoed nie. Dit is vorm die poëtiese ekwivalent van Aucamp se Volmink: dit is ‘n verslag van “volmaaktheid in die verminking”.

In ‘n berig van 7 Desember 1990 in Die Volksblad (”Uitgewer sê nee vir bundel”) word berig dat die bundel Judasoog, die eerste titel vir Nagsweet, afgekeur is deur Tafelberg uitgewers en toe uitgegee is deur Taurus. Die skildery van Battiss gee ‘n realistiese afbeelding van ‘n manlike geslagsorgaan. Die uitgewer, Danie van Niekerk verwys net na die meningsverskil oor die omslag van die bundel en lewer egter nie kommentaar op die inhoud van die bundel nie.

 

2.

Bitterbessie dagbreek

‘n Huildronk op Ingrid

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie nag
Lacan het gebreek
tussen ons met mag

Vind jou in my verse
nes korrels lood
alles bly méconnaissance:
‘n vervloekte woord

Reis deur herinnering
beweeg ek deur vergeet
verdwaal ek in ‘n kring
wat terug lei na my leed

Vind net ‘n eggo
in kierang nabootsing
om opnuut so bedroë
‘n pastiche voort te bring

Eggo is ‘n antwoord
antwoord is ‘n eggo
bitterbessie dagbreek
bitterbessie nag

 

 - Joan Hambidge

 

 

 

Joan Hambidge – Vertaling in Engels

Monday, November 23rd, 2009

Joan Hambidge - Vertaal deur Jo Nel & Joan Hambidge

 

 

 

My sweet old etcetera

Joan Hambidge

 

It’s through Latin

Etruscan becomes comprehensible -

and even Egyptian hieroglyphics

are effortlessly deciphered

by experts; now explicable.

But who will someday grasp

the alphabet of our ruins?

 

Mysteriously you construct

a plastic model ship

of the Titanic - while I drift

on the Dead Sea

anticipating deliverance.

Archaelogical research

cannot simplify

the destruction

which you multiply.

 

(Vertaal deur Jo Nel)

 

 

 One night-stand

Joan Hambidge

  

The scène is always the same:

intro-drink-seduction-bed.

 

The next day constantly a mind fuck:

guilt-silence-longing

and regret.

 

To fall in love is like placing a bet.

 

(Vertaal deur Joan Hambidge)

 

 

 Writing as fucking

Joan Hambidge

 

To write a sapphic verse

close before midnight

leads to many problems

(ignoring “vicious mathematics” …)

to find a non-off-beat image

for our for(ever)ness:

the pen is mightier than the sword:

does not work; too phallic, sexist,

sounds like penis-envy…

when two lips speak together:

does not reveal much of our softness/tenderness;

rubyfruit jungle:

is false, fruit-

less romanticism;

dark labyrinth:

too desperately literary;

bitter lemons:

cute poetic cunninglingus.

 

To write a (love)poem

like this, creates

coldness/logic/guilt

about that which merely is.

  

(Vertaal deur Joan Hambidge)

 

  

Domanda

Joan Hambidge

 

For Margaret Rosabel Mezzabotta

  

Untimely, premature your exit

to an unknown region.

The soul, I remember this morning,

needs the slow maturation of wine.

If hastily uncorked or poured

wine suffers bottle shock.

You would have been able to verify

this for me: an obscure reference

to the Egyptian Book of the Dead.

But to comprehend your death

is an undecodable hieroglyphic

in a dark impassable alleyway.

Death reverses the order of words,

it makes us look back, remember, even

seize small moments of chance -

like my cleaning your glasses once,

discussing dark symbols with you.

For this funeral oration, or rather declamation –

as a poet I am completely unprepared,

no, undeclared, undeserving…

The so-called consolatio or comfort

of a medium (Look, she sends you a rose)

or the flickering of a candle,

undoes nothing. What does “passing away”

mean? That you had to leave - in my book

anyway - far too rapidly

for heaven? That your soul was forced out

seemingly without warning. That roses fade,

candles cease to flicker…

Still I wanted to ask:

“Who scratched out Nefertiti’s one eye

so that she was blinded on the other side?”

 

 (Vertaal deur Joan Hambidge)

 

 

My parents

Joan Hambidge

  

i

 

From my birdlike mother,

I inherited my unhappy, dissatisfied, unpleasing nature:

Yesterday, was a better day.

From my forceful, burly father,

my dreamy, romantic, undaunted disposition.

 

The one can place words like blocks;

the other’s dreamy nature almost blocked

by others…

 

And me?

Their heirloom?

The one part of the Janus head

looks back to what was;

the other half to what words

may unblock.

 

ii

 

Oh it was always so effortless, so easy

to turn away from you my parents,

the eternal addressees

of this poem and my prayers.

 

This is an elegy

before you leave for the other side

and because a funereal poem might be inappropriate

at this time of deadly silence.

 

For her my crooked old mother

for him my burly father

something which is shorter than a letter

worthier than a legacy

more lasting than a gravestone

more reliable than an insurance policy

more worthy than a family ring.

 

Every poem which stems

from me with affection

due to them.

 

Her voice the metre of my verses

his hand the form of my words.

 

iii

 

They are the salt of the earth

yes, the salt of the earth

because their tears

their tears

stream like salt

like salt

over their cheeks

They are the salt of the earth

my parents

lamenting in silence

over their children’s tears

streaming like salt

like salt

over their cheeks

 

iv

 

Mother:

tonight I recall a letter to you

written in my niggling handwriting

from a faraway country:

 

It is winter in New Haven

at night I hear the silence

of the snow falling

like the wings of departing swallows

 

O Mother

I carry the heavy burden

of feeling the descending words

the feathers of a departing swallow

 

O Mother

O Mother

I carry the heavy burden

of words descending on me

like black swallows.

 

v

 

Tonight I suddenly recall

how you called

out: “Everything is against me!”

and about three decades later

I realise

Dad

how you struggled

to fit us all in

on your 30 Day Old Mutual

calendar.

 

Another policy

another late shift

an extra work load.

 

And I?

 

I keep myself busy with a policy

with almost no investment value.

It fails to fit on a normal calender,

it prefers the unpredictable hour

and yes, it does not protect you

against disillusion

or similar feelings

as a published poem betraying the poet.

 

vi

 

When I was younger

and oh so unsure

 

they were merely in the way

 

but now I return

incessantly to them

my parents so sure

and understanding,

prepared to stand surety

 

Does a pun lurks there

in being “sure” and “stand surety”

if merely in a poem?

 

vii

 

Dad

I carry you

a graft on my body.

I dreamt of you last night:

you are playing in an orchestra

with your old cronies

at a small, village wedding

with many dirty, stacked plates.

You hand me a glass of wine…

 

How real, tangible

the dream feels which according to Cirlot

might indicate an approaching death.

Yes, my father presents me with a glass

from which I pour life

with full abundance.

 

viii

 

My mother prefers

Not to be mentioned in my verses.

Yet my first searching, rambling poem

written in a faraway USA

in cold winter snow, was addressed to her.

 

Previously I spoke to her through

other woman poets in my letters.

Poetry learnt by heart

now written from the heart.

My mother prefers

not to be mentioned in my verses.

Yet all words stem

from the restrained, confined mother womb.

 

Oh mother forgive me this tres-

pass, this intrusion

of your privacy,

due to the unsevered umbilical cord.

 

ix

 

Look at them, my parents,

sitting as a young engaged couple

on a sofa in a Jewish studio.

You smile with a little hat on your head

holding Dad’s hand.

Many decades later I realise:

we choose undoubtedly our parents

prenatal and astral.

 

Here they are, my parents,

waiting

the two old wrecks

in a poem by their second eldest.

I see them after being 50 years together:

on that day I phone them up

from a faraway place.

 

I place them neatly

- as if for a photo shoot -

for a final analysis,

for an unharmed version,

in a thankful cadeau.

A coup de chapeau!

 

(Vertaal deur Joan Hambidge)

 

 

Rome

Joan Hambidge

 

Although I lost my religion long before my virginity

 

yes it was traumatic   to copy others

in this process   me I copycat    could I understand in Rome

the first original shall we say, most original city

of the arts understand why artists create

represent passion in a painting hanging upside

down from roofs   everything for art’s sake

I must confess: I even cried

 

when I saw Michelangelo’s Pieta

 

as it becomes more than a mother

not comprehending the death

of her beloved firstborn   look at the fingers

they are stretched out   searching    

the son’s cold broken knee

the head backwards   the loin cloth unravel-

ling  how long will it take before the body de-

composes?  the muscles breaking down

  

Even the holes in hand and foot

recalled in breathtaking detail

(Remember: He was pierced)

 

For me death here becomes colder than marble

 

(Vertaal deur Joan Hambidge)

 

 

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Huldeblyk.I.L. de Villiers (Joan Hambidge)

Monday, September 28th, 2009

Deur: Joan Hambidge

I.L de Villiers (1936 - 2009)

I.L de Villiers (1936 - 2009)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

I

 

In my jongste bundel Vuurwiel (Human & Rousseau) verskyn daar twee verse vir die digter I.L. de Villiers. Die eerste is ‘n parodie van sy bekende “Huisbesoek” en die tweede gedig “Wederom” het ek geskryf nadat ek die mens in lewende lywe ontmoet het. Ons vriendskap het hoofsaaklik telefonies geskied en ongeveer drie weke gelede het hy my uit die bloute opgebel en bely dat hy siek is. Ek het iets in die dringendheid van sy stem aangevoel -  en in retrospek besef ek dat hy as’t ware afskeid geneem het van my.

So klink die twee gedigte:

 

Huisbesoek

 

vir Pater Sakkie de Vee

 

Dis waarlik betredend om agteroor te sit,

die gemeente te beskou - hoe dit alles knyp:
“Ja, dominee net gister was daar ses, my kwit,

moordsake binne die geslote kring. Dit

 

dui op die verbrokkeling van die gesin.”

Die man blameer die ANC, die vrou die stryd.

Meteens kondig die herder aan: “In die begin

was die woord wáár. Laat ons weer besin.”

 

En terwyl hul vir oulaas kniel, in ‘n kring,

dink hy, ja, “things fall apart” en weet hy vir ‘n feit

dat die koerantwese nog méér leed sal bring:

dalk ‘n gebreekte sonnet, distigon of  ‘n fyt.

 

Wederom

 

      Vir I.L de Villiers

 

Die eerste keer leer ek jou ken

in ‘n geskifte blou verseboek:

die dominee op huisbesoek.

 

Toe, later, sien ek jou tersluiks

op ‘n loom namiddag in ‘n hotel

waar jy sonder eerbied die hof hou.

 

Die derde keer beleef ek jou

by die erediens van ‘n digter -

in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

 

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp

en swierig bypassende das, waarop

jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

 

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.

En ek haal my groen verbeelde hoed af

vir ‘n manjifieke digter en vriend,

 

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,

rymende tersine of distigon sou maak!

 

 

II

 

Veral met sy laaste twee bundels, Vervreemdeling en Jerusalem tot Johannesburg het die digter hom by uitnemendheid bewys as ‘n digter van formaat: iemand wat verstegnies en veral met sy beoefening van die distigon ‘n besondere bydrae gelewer het to die Afrikaanse digkuns.

Oor laasgenoemde bundel het ek positief geskryf in ‘n resensie wat in Die Burger van 6 April 2008 verskyn het. Ek haal die slotparagraaf aan: “Dit is ‘n ryk geskakeerde bundel waarin vorm en inhoud altyd één is. Daar is slim toespelings op Eliot en verder terug na Coleridge en Wordsworth. Die digter praat dikwels deur konkrete beelde wat simbole word vir sy eie lot of siening van die lewe. Hy laat sy beelde práát sodat die leser by implikasie die afleiding oor die boodskap moet maak - die uitstaande kenmerk van ‘n groot digterskap. Dit is die werk van ‘n vakman met ‘n hárt.”

 

III

 

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van ‘n enorme vakbeheer. Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). In die jongste Groot verseboek is hy wat my betref onderwaardeer en ‘n mens besef skielik dat veral die laaste twee bundels waarskynlik nog ‘n impak moes maak op die keurders en kanoniseerders. (Daar is vanselfsprekend ook ander publikasies: essays en religieuse mymeringe en ‘n boek oor depressie.)

‘n Digter word immers onthou aan die verse wat klassieke status in sy taal bereik het. In hierdie opsig is “Huisbesoek” beslis so ‘n klassieke vers en “Dietrich Bonhoeffer :brief aan homself”:

as niks meer heilig is nie

word alles heilig

en die wind waai waar hy wil

 

En in die aangrypende vers “Dit is volbring” skryf hy:

 

mens sien pas voor die oomblik van die dood

glo prente van tevore, kiekies uit ‘n laai

wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot

party, son op die agterstoep, ‘n skaaprib bruin gebraai

 

Vir my persoonlik is die gedig oor sy vader,  “Nagedagtenis”, een van die sterkste en aangrypendste gedigte van ‘n kind oor ‘n vader. Ons weet hoe min geld daar in die sak van hierdie stil vader is en die gedig eindig met die tréffende slot:

 

 ’n notaboekie

L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 14

sê jy het ‘n vaderland gesoek

 

De Villiers was ‘n predikant en koerantman. In sy bundels vind ons talle religieuse gedigte en veral in Jerusalem tot Johannesburg is daar ‘n besonder aangrypende vers oor die religieuse digter Sheila Cussons. In hierdie gedig word daar in gesprek getree met haar digkuns en kommentaar gelewer op die mens wat as spirituele wese altyd deel bly van die onvolmaakte wêreld uitgelewer aan vlieë wat oor alles loop.

In die titel sien ons dan ook die paradoks wat regdeur hierdie werk loop: dit is die digter van die aardse, wêreldse bestel teenoor die religieuse. Maar die spirituele is sterker, daarom word dit eerste in die titel van die bundel vermeld. De Villiers het eweneens uitmuntende lykdigte geskryf - waarvan die een oor sy vriendin Lorna Vosloo waarskynlik my altyd sal bybly.

I.L. de Villiers se voortreflike hantering van die sonnet, distigon en tersine dwing bewondering af. Ek dink ‘n mens sou uiteraard die digter kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis.

Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ‘n moment verhelderend voor die waarnemer staan.

Uiteraard was die digter ‘n komplekse mens: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verraai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer.

Lykdig

 

   Vir Izak

 

 

Het jy ooit kon dink, ou knorpot,

dat vir Roman Polanski

na Bladsy 3 sou uitskuif

as groter, relevanter nuus?

As koerantman sou jy waarskynlik

grinnik oor só ‘n skuif.

“Wag, sit neer, ek bel jou weer!”

Wat sou jy maak van dié wandelende Jood

se onverwagse inhegtenisname in Zürich?

Dit was jý wat te vertelle had

hoe sy moeder in Auschwitz die lewe laat,

daarna die jongeling altyd op vlug;

op skool ‘n voorvelletjie gevorm uit kerswas

om Nazi-parades te fnuik; Sharon Tate se dood,

en uiteindelik die media-sirkus:

verkragting van ‘n dertienjarige.

‘n Regter wat sy woord nie hou.

Op ‘n aand kyk ek na Knife in the water,

die klank afgeskakel, toe jy bel.

Boots lewe die kuns hier na

of gebeur dit dalk als ándersom?

Nóż w wodzie.

Raak ons moeg gesluk aan lewenswalging

sodat ons begin stik aan blote verontwaardiging?

Die koerantman sou ánders as die digter beslis

omdat hy vervreemdeling én verskoppeling is.

 

Joan Hambidge

 

Vir ‘n onderhoud met I.L. de Villiers: kyk op LitNet se Absa-ketting van 22 Januarie 2007.