Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais gedigte’

Johann Lodewyk Marais. Rooi-ivoor

Monday, December 17th, 2018

ROOI-IVOOR

Berchemia zeyheri

 

Rooi-ivoor, ek skryf by die lig

van ’n lampstaander uit jou hout

gekerf deur ’n kundige hand

en soek woorde om jou te ken.

 

Rooi-ivoor, ’n naakte byl het

jou gevel, tunstenversterkte

saagtande deur jou bas geklief

en ’n beitel jou afgerond.

 

Rooi-ivoor, ná die ritseling

van jou gekartelde blare

stil geword het, klink jou naam op

in die bloed van ivoordraers.

 

 

© JL Marais / 2018

Johann Lodewyk Marais. A Day of Celebration

Friday, October 13th, 2017

A Day of Celebration

 

Jy drink ’n cocktail in die Library Bar

van die Royal York waar die koningin

’n goue hysbak en eie suite het.

 

Met ’n glas Célibatiere in die hand

blaai jy benieud deur die Toronto Star

en kiek die interieur met jou iPhone.

 

Ek sien leer, hout en lig op die foto

en op ’n skemerdrankielys name

wat Munro, Atwood en Negroni eer.

 

Van die spyskaart af bestel jy later

’n seafood chowder met salm, mossels

en garnale in ’n geurige sous.

 

Ek skryf vir jou boodskappe oor Bangui,

Dakar en Douala en die lappe

wat daar oraloor op straat te koop is.

 

Jy hou van die atmosfeer, geluide

en reuke van verskillende plekke

en skuif na die balkon bo die foyer

 

met groot leesstoele en skryftafeltjies

voor jy in jou drome met die hysbak

na ’n suite, onder wit lakens, verdwyn.

 

 

(© Johann Lodewyk Marais)

Johann Lodewyk Marais. Drie insekte

Friday, March 4th, 2016

Graankalander

Sitoplulus granarius

 

Die piet-my-vroue het rigting gekry

en in die bome het dit stil geword.

Hulle wat naby die aarde lewe,

maak in die najaar saad bymekaar

om deur die wintermaande te bewaar.

Wanneer die rook van die miskoekvure

wit en laag oor die lappies grond huiwer,

word die somer se oes ingesamel.

Maar hier, hier in die onderstebo

mieliekoppe het oornag rolronde,

skildvleuelige kalanders gekom

en die boerdery se loon leeggevreet.

 

*

 

Duitse kakkerlak

Blatella germanica

 

Die bleek kakkerlak op my lessenaar

maak vlugtig sy verskyning

agter ’n woordeboek, ’n tesourus

en die hopie gedigte in die hoek.

Ek mik om hom dood te slaan,

gaan koop by die Chinese winkel

’n stafie Twin Luck-insektekryt

en trek ’n streep agter sy bestaan.

Maar: skielik loop hy oor ’n boek

en dae lank soek ek hom vergeefs

tot vandag toe ek ’n gedig druk

en hy hom op die spierwit bladsy

afsmeer met alles, alles wat hy is.

 

*

 

Pylstertmot

Agrius convolvulvi

 

Die jong vrou met ’n T-hempie en shorts

sit kruisbeen met haar een hand beskermend

oor ’n glas wyn en in die skemering

hoor sy vrugtevlermuise se gepiep.

Dan hou sy weer uit die hoek van haar oog

die pylstertmot dop wat om haar bly draai

en sy roltong deur haar vingers laat gly.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2016

 

 

Johann Lodewyk Marais. Out of Africa

Saturday, April 11th, 2015

OUT OF AFRICA

 

’n Jong man het ’n week lank die vliegtuig

uit ’n olieblik en draad geprakseer

en op ’n straathoek te koop aangebied.

 

Hierdie maaksel het jy bly aangeskaf,

op die glasblad van ’n tafel laat staan

en een foto ná die ander geneem.

 

Die volgende dag staan die stuk buite

op die plaveisel tussen boomvarings,

irisse en ’n koorsboom in die blom

 

asof hy in die nag uitbeweeg het

om gereed te maak, ’n aanloop te vat

en ’n verdere reis te onderneem.

 

Ek het hom in Johannesburg gaan haal,

stewig in my kattebak staangemaak

en versigtig die pad huis toe aangepak.

 

Nou pryk die verroeste vliegtuig van blik

op my lessenaar en sien ek hy lig

op en vlieg esse oor Naivashameer.

 

 

© Johann Lodewyk Marais / 2015

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Arabierperd

Friday, February 7th, 2014

ARABIERPERD

Equus caballus

 

Die oorspronklike bloedlyn gaan stellig

terug na die dae van koning Dawid;

’n perd geliefd deur Abbas Pasja I,

die graaf Rzewuski en Wilfred Scawen,

en opgekoop deur die lady Anne Blunt.

Die perde van Ibn Saud van Nejd se stoet

moes net vyftien hande hoog wees, niks meer,

en ’n korter effense hol rug hê

met die dik kanonne van die skene,

en welgesete lugpyp met strotklep

om akkers woestynwind in te adem.

Die breë kop, smaller af na die neus,

spits asof dit lug drink uit ’n beker,

met die wakker en gevoelige oë,

en die twee ore, spits soos skerp dorings.

Voor- en agterpote met digte been

asof uit suiwer smeedyster gegiet,

die skoon en snaarstyf gedraaide spiere

en ’n adrette hoef vir harde grond.

Die kort pels is sag, die maanhare lank,

die stertboog van nature perfek hoog.

Die heersende kleur: kastaiing of grys.

In die Sahara se perdestalle

staan in die oggend die buitelyne

van manne in disdasjas en keffijes,

met saalkomberse oor hulle diere

ter beskutting teen die son en die wind:

die perd wat jy mag ry en moet versorg

soos deur Mohammed aan jou toegewys.

            Qur’ān XIV, 16:8

 

 

© Johann Lodewyk Marais / 2014  

 

 

Johann Lodewyk Marais. ’n Lewe

Tuesday, January 7th, 2014

’N LEWE

 

In die klein ryk van my vae kindertyd

het ek kastele in die lug gebou

en die son in die ooste sien opkom:

oor riviere, vleie en heuwels sien skyn

en in ’n hemelsblou middag verdwyn.

Oral was die gees van my voorvaders,

bloedverwante wat allengs vertrek het

op ’n ander tog, durend, onkenbaar.

Die tuin met rosette van dahlias,

rose met hulle toevertroude lewe

en ’n oorle ouma wat bly herrys

in suurlemoenverbena se nageur.

Maar die stem van dié wat eens geroep het

na vryheid en geregtigheid was stil,

of eggo plek-plek in ou patroondoppies,

’n skyfskietklip vergete in die gras

en stories van ’n verlore oorlog.

In die huis in ’n uithoek van die land

het ek die wind in die bome hoor waai,

geskrik as dennebolle op die dak val

en ’n donker hand verbeel wat ruite

hard in hulle houtrame laat ratel.

By die kamer van die ademloses

het ek meteens myself in die deurspieël

van die swaar hangkas gesien en geken.

’n Vrou het my hand gevat, uitgelei

na buite, op ryp duiwelsnuif getrap

en my tussen skraal dennestamme my

moedertaal uit die eerste mond geleer.

In daardie dae het ons in ons spel

tydloos na aan die grafte gelewe –

die dooies nogmaals ter aarde bestel,

’n halfontbinde duif herbegrawe.

In die veld het sy beesmis opgetel,

versigtig geplak, en met haar vingers

patrone in die nat miskoek getrek,

en gekoes toe ’n miskruier opvlieg.

In ’n klipskooltjie het ek op ’n lei

onseker syfers en letters leer maak:

in die klaarte en digtheid van syfers

en die sinsbedrog van woorde verdwaal.

Die wind het oor die berge opgesteek

en om Skeurklip, Pelaan en Hlomisa

gehuil en kilte en verdriet gebring.

’n Reis het begin na ander plekke,

oorkant hierdie berge, waar die wolke

laatmiddag soos aandblomme verskyn.

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2014

 

 

Johann Lodewyk Marais. Hargeisa, Somaliland

Monday, October 21st, 2013

Hargeisa, Somaliland

18 Mei 2013

 

Onafhanklikheidsdag pronk

gimnaste en sirkusartieste,

gefestoeneerde kamele,

polisie op perde met tossels,

’n konvooi vuurpyllanseerders,

soldate met rooi barette,

303’s en Kalasjnikofs

deur die stowwerige strate.

 

Die mans brul en vroue jubel.

Skarebeheerders dryf almal

met stokke en swepe terug.

 

Dan hervat die parade weer:

brandweermanne met pothelms,

veewagters, lorries vol gelaai

met sakke reinigingsmiddels.

’n Vlot dra die staatswaterraad

se wapen: ’n sproeikop wat giet,

’n gekettingde stokou leeu

en die Somalilandse vlag.

 

             Na Geoffrey York

 

© Johann Lodewyk Marais / 2013

 

 

 

 

Johann Lodewyk Marais. Mogadisjoe

Monday, September 23rd, 2013

MOGADISJOE

 

Hierdie dor stad teenaan die ewenaar

is die tuiste van donker Berberstamme

wat sedert menseheugenis hier bly

en hulle op die horisonne rig

waar hulle hulp vandaan sal kom.

Hulle wat die Bakaaramark besoek,

in die witgepleisterde moskees bid

en deur palmomsoomde strate stap,

het nog skaars poësie in die volksmond.

Hier skryn die taal van seemeeu, donkie

en kameel wat ter slagting gelei word

wanneer die son laatmiddag uitloop.

 

© Johann Lodewyk Marais / 2013