Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais’

Hannalie Taute. Dierbaar

Tuesday, January 17th, 2012

Einde laas jaar ontvang ek ʼn geskenk van my dierbare man: NP van Wyk Louw se Raka. Nou ja, ek moet bieg dat ek deur die boek geworstel het net soos ek deur DJ Opperman se Joernaal van Jorik op skool geworstel het. Ek gebruik die term worstel, want die bogenoemde gedigte was te langdradig na my sin- ek persoonlik verkies haiku’s. Kort en kragtig en tot die punt. Meer hieroor in die toekoms.

Onlangs ‘google’ ek gedigte wat die woord renoster bevat, aangesien die dierasies en hul saak deesdae na aan my hart lê. Tussen al die opsies verskyn daar ʼn webblad van Johann Lodewyk Marais wat handel oor niemand anders as onse NP van Wyk Louw en aangesien ek toe pas deur Raka gesloer het, kon ek myself nie keer om ondersoek in te stel nie.

Ek moet erken dat ek nog nie deur alles in die bogenoemde webblad gelees het nie, aangesien my kinders dink mamma is hul gunsteling speelding, en tussendeur maak ek renosters en ander speelgoed uit ou binnebande.

Ek het werklik nog nie die geleentheid gehad nie, behalwe om hier en daar ʼn paragraaf te lees. Al wat ek tot dusver kon wysword is dat die natuur baie na aan NP van Wyk Louw se hart gelê het:

Louw het egter nooit die natuur bloot as “tema” ondersoek nie, maar dit in ’n wyer sosiokulturele en -politieke verband geplaas en so sy vinger op veranderinge in die (Suid-)Afrikaanse samelewing gelê. Hierdie geskakeerde bemoeienis met die natuur kan as bewys dien van hoe belangrik hierdie enigsins verwaarloosde onderwerp in Louw se oeuvre is en waarvoor daar ook in sy daaglikse lewe ruim belangstelling was.”

Nog ʼn paragraaf wat my oog gevang het is:

“Gedurende die 1960’s het Louw ’n aantal tekste gepubliseer wat hom deel gemaak het van ’n wêreldwye beweging om die belangrikheid van die omgewing onder die aandag van beleidmakers, besluitnemers en die publiek te bring. Sy gedigte “Die narwal” en “Svend Foyn het die harpoenkanon bedink” is seminale gedigte in die voortgaande stryd om die wêreld se walvisse (en ander bedreigde spesies) te bewaar, terwyl Berei in die woestyn ’n sterk pleidooi vir die bewaring van Suid-Afrika se kosbare bogrond lewer.”

Was die mens al so lank terug besig om verwoesting te saai? Hier in my onkunde dag ek die stryd vir bewaring is n nuwe tendens.

Ek groet met hierdie gedig wat ek opgespoor het in my soektog - geskryf deur Heilna du Plooy:

 

Die donker binne en die donker buite

 

Met opgetrekte knieë sit die kind

en gril verruk vir elke nuk

van die wonderdiere wat hy uitdink:

 

‘n renoster met vlerke en ‘n vis met vier oë,

‘n waterskilpad met ‘n periskoop

en die stekeltongpadda is ‘n dik dubbeldoor.

 

Vlug van voet, van vlerk of vin,

skerp geklou en sterk gebou, kan almal

vreemd en verskriklik goed sien.

 

Die kind se droom is sonder grense.

Hy maak sy skrik met kreature mak

in ‘n wêreld wat uitdy onder sy wense.

 

Die vader sluit die hek en al die deure,

sit die vensters dig op knip,

daarna die buitelig en die sirene.

 

Van agter die hoekige raam

speur hy strak die tuin deur

vir wat in die skaduwee donkerlik roer:

 

die ene oog sodat sy seun kan speel,

weet hy sy drome het verstar, vereelt,

soos hande wat te veel swaar dinge dra.

 

© Heilna du Plooy. Mei 2009.

Johann Lodewyk Marais – vertaling in Engels

Wednesday, November 23rd, 2011

Johann Lodewyk Marais – vertaal deur/translated by Charl JF Cilliers

 

 

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais was born in Johannesburg on 21 December 1956 and matriculated in 1975 as a pupil of Harrismith High School. He continued his studies at the University of Pretoria where, in 2001, he obtained a D.Litt degree for his thesis on Eugène N Marais’ scientific prose. His debut volume of poems was Die somer is ‘n dag oud (1983), a collection for which he was awarded the Ingrid Jonker Prize. He published six further volumes of poems, the latest being Diorama (2010), published by Protea Boekhuis. He also compiled three collections – Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997) and Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 his first work of prose appeared, a travel book Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek. Marais is a research associate at the University of Pretoria and chief editor of the magazine Ensovoort.

 

Manifestations

 

In April the light moves from Metsana

across the red grass, dust-drab mealie fields,

past poplars and over the narrow stream

 

pursuing Jan Eagar and Maans Kritzinger’s

Ol motor over the long gradient

up to Rietspruit. Later the two listened

 

to John Bull’s story of a rabbit hunt,

how he saw one eye blink and took a shot.

The eye vanished, emerging closer by.

 

He fired again, and still the eye approached!

Buckshot, then! Malevolently it glowed

so close that he high-tailed it out of there!

 

In April, with my wife and child, I drove

to Metsana again in search of the light.

I told them of Grandpa John Bull’s story.

 

In the dusk a sudden bright reflected light!

Ahead a hare, zigzagging playfully,

swerved smartly. From the corner of my eye

 

in shoulder-high red grass beside the main road,

between the yellow poplars of Parkhurst,

I clearly saw a wavering unicorn.

 

(From: Palimpses, Cape Town and Pretoria, Human & Rousseau, 1987)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

Prayer for Africa

 

From all four points of the compass come we

who lift up our eyes towards the hills,

folding our hands together at the cross

to pray to You who are in everything:

in shrubbery; birds; small antelope; stones;

the termites who construct their termitaries;

in lush grass, and newly in its seeding;

in fountains bubbling up beside the road;

in people living on this continent

between birth and the moment of their death.

The sun rises and sets. At Your command

clouds shed their rain so rivers can run free.

The moon waxes and wanes; by revolving

stars above us we are moved to wonderment.

Kneeling here, we give praise and worship You,

with thanks for everything that You provide.

Our Father in heaven, watch over us

and also over Africa.

                                    Amen.

 

(From: By die dinge, Cape Town and Pretoria: Human & Rousseau, 1989)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

A Country

 

What is a country? All our talk reveals

that it is more than simply politics

or an area of our own in which to live;

although…this too, a circumscribed area,

often defined by strife, demarcated,

and with a flag, an anthem and a map.

Yes, and more than a small, square patch of earth

where, as a ploughshare turns the clay-dark sods,

stately white egrets follow in its wake;

more than fields of mealies or waving wheat

where weeds treacherously proliferate.

We bring each other the small wondrous gifts

of tours, though droughts, locusts, fires and riots

may be thought to have led to indifference,

alienating us from this country.

Fireflies shimmering over the Letaba,

the wintry colours of the mopani

in the north-east, swallow-tail butterflies,

the blue star-fire of a thistle one picks,

baobabs, a brown-hooded kingfisher

or duiker, are there to anchor ourselves to.

Over this land the pageant of a setting sun

and the southern stars tilting in the sky.

We ask for the survival of animals,

plants, birds, the preservation of their names,

for the humanness of our humanity,

as in this sombre age the circumference

of the country is falteringly mapped.

 

(From: Verweerde Aardbol, Cape Town & Johannesburg: Human & Rousseau, 1992)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

Marabou

Leptoptilos crumeniferus

 

Long after it is dead the lead-wood tree

stands on the thorny and broad-leafed expanse

with branches like sketches of bent elbows:

a silhouette against a blood-red sky.

Black, large as life, in the late afternoon,

one sits, straight pencil-stripe legs, on a branch,

striated shading added later beyond

the carrion circle of the fading day;

but the finishing off of putrid remains,

so much that beggars the imagination,

remains unfathomable. Never documented.

Soon night will settle over all of it,

hiding from plain sight how both life and death

are endlessly reshaped by an eraser.

 

(From: Aves, Pretoria: Protea Boekhuis, 2002)

(Tr. by Charl JF Cilliers)

 

 

Translator:

 

Charl JF Cilliers  was born in 1941 in Cape Town. Initially he went into the field of electronics and lectured for 4 years. He then joined Parliament as a translator in 1968 and retired in 1998 as Editor of Hansard. His first volume of poems West-Falling Light appeared in 1971, to be followed by Has Winter No Wisdom in 1978. His Collected Poems 1960 - 2008 appeared in 2008 and The Journey in 2010. His latest volume of poetry , A momentary stay.  was published in 2011. He also published a volume of children’s poems, Fireflies Facing The Moon, in 2008. He has retired to the Cape West Coast where he continues to write.

 

Johann Lodewyk Marais. Kremetart

Monday, November 14th, 2011

KREMETART

Adansonia digitata

 

Met G.E. Wickens se kaart op my knie

het ek ver agter hulle aan gery

- van die Laeveld tot in die Sahel,

van die Caprivi tot by Mombasa -

en my aan hulle voorkome verkyk.

Ver suid onder die boom by Tshokwane

het ek ‘n merkie op die kaart gemaak

en nog gemaak tot langs die Luvuvhu.

By Sagole het ek al slingerend

deur die dik rooi sand aangery gekom,

in die toiletboom van die Caprivi

broek losgemaak, op Kukonje-eiland

na ‘n uil hoog in die takke gekyk,

in Mombasa laat in die aand gesien

hoe mense ná die roep van die muedzin

verby die boom in Nkrumahweg loop,

hoe wortels by die Takwa-ruïnes

tussen die grafte in dwing en later

die bome al langs die Lunatic Line

tot op die Yatta-plato aangestip.

By die Victoriameer het ek lank

met die gids in een se koelte gesels,

in Kartoem hulle by die samevloeiing

van die Blou en die Wit Nyl saam sien staan,

van Timboektoe na Dakar geoefen

aan nuwe name (”hamao”, “oro”

en “calebassier du Sénégal”)

en op ‘n Vrydagmark in Kaïro

die ovaal vrugte oopgebreek sien lê

en ‘n hand vol pitte soos die woorde

van ‘n gedig in my kaart toegevou.

 

© Johann Lodewyk Marais, 2011

Andries Bezuidenhout. Melville se poësiefees, 2011 – fotobeeld

Monday, October 17th, 2011

Dis nie met groot fanfare afgekondig nie. Die fees se baniere het ʼn underground kwaliteit gehad – dit is nie dwars oor strate opgehang nie, maar tussen die pilare van Melville se 1930s-geboue. Die Facebook-bladsy is eers ʼn week of wat voor die fees opgesit, die program selfs later. Maar nuwe bundels is die wêreld ingestuur (een van Gail Dendy), gesprekke is gevoer (een oor die nalatenskap van Wopko Jensma), gedigte is in binnehowe en restaurante voorgelees, weefwerk tussen beeldende kuns en woordkuns is teen mure opgehang (deur Hans Pienaar en Charl-Pierre Naudé), musiek is in teaters opgevoer, ʼn imbongi het van Melville se dakke af geroep (darem deur luidsprekers, spookagtig in die kalklig), gedigte is sommer op straathoeke voorgelees – enigiemand kon kom luister.

Ek wil nie veel hier sê nie, laat die foto’s eerder praat. Ek wil egter twee punte maak, oor wat die fees vir my besonders gemaak het:

Eerstens, die intieme skaal en aard van die voorlesings. Daar was twee geleenthede vir Afrikaanse gedigte – die een in ʼn restaurant se binnehof (“Melon Courtyard”) en die ander in ʼn aardige kroeg/restaurant (“Love & Revolution”). Daar was nie mikrofone en luidsprekers nie. Hans Pienaar het elke digter op sy rustige manier voorgestel en dan het mense sommer opgestaan waar hulle sit en hul gedigte voorgelees. In Love & Revolution het ek sommer op die vloer gesit, dalk die beste plek in tye van liefdeloosheid en revolusies wat skeef loop. Die spanning tussen van die digters het die geleentheid ʼn vreemde tipe energie gegee.

Tweedens, die ware Johannesburgstyl. Dit was ʼn Suid-Afrikaanse fees, waarin Afrikaans ook verteenwoordig was, as een van baie tale. Op ʼn persoonlike noot was dit vir my lekker om my musiek aan mense te kon voorstel wat nie andersins daarna sou luister nie. Ek het gepraat oor Voëlvry se verbintenis met Johannesburg en die vertoning met Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” afgeskop; dinge van daar af verder geneem. Al kon sommige van die mense in die gehoor – waarskynlik die meerderheid – nie Afrikaans verstaan nie, was die ontvangs tegemoetkomend en het ek welkom gevoel.

Gee jou gedigte vir Hillbrow...

Banier tussen pilare

Gedigte op straathoeke

Christo van Staden, ook bekend as Johannes van Jerusalem

Corné Coetzee lees voor, Hans Pienaar luister

Toast Coetzer lees: "Die Here is my herderspastei..."

Loftus Marais lees, Harry Kalmer heel links

Charl-Pierre Naude lees, Johann Lodewyk Marais in die gehoor

Rene Bohnen lees

En Cornel Judels

Heidi Papadopoulos

Johann Lodewyk Marais, oor Livingstone en Lamu

Digstring

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

 

 

Inhoud

 

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Marius Crous. Die ander man

Anne-Ghrett ErasmusSkilder 

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Cas Vos. Kersrook

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

Joan Hambidge. Versindaba-kroniek 2010

Friday, December 31st, 2010

Die gedig as kleitablet, sakrament of sms                             

Joan Hambidge

 

Agtergrond:

 

Die jaar 2010 het ʼn hele gerf goeie bundels opgelewer en in hierdie oorsig fokus ek hoofsaaklik op solo-bundels. Daar is uiteraard die Nuwe stemme 4-reeks, wat uitvoerig bespreek is op die blad (1) en die Versindaba-bloemlesing. Lina Spies se keuse uit haar werk deur Johann de Lange, Die skyn van tuiskoms (Human & Rousseau) gee ʼn blik op ʼn besondere digterskap. Op die agterblad staan tereg: “Want vir Spies is taal ʼn landskap op sigself, ʼn tuiskoms”. De Lange se eie keuse, Judasoog, gee eweneens ʼn besonder indrukwekkende blik op die ontwikkeling in hierdie digterskap. Soos Henning Snyman dan tereg skryf op die agterblad: “Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”.

Die heruitgawe van Kahlil Gibran se Die profeet (vertaal deur Louis Fourie en uitgegee deur Adamastor) het sterk poëtiese reëls soos die volgende:

“Mense van Orphalese, julle kan die tamboer omfloers en die snare van die lier laat skiet, maar wie van julle kan die lewerkie beveel om nie te sing nie?” (52).

“En wat is die son vir hulle behalwe die bron van skaduwees?” (52).

“Net soos die pit van die vrug moet breek sodat sy hart in die son kan staan, so moet julle pyn ken”(60). Hierdie bundel beklemtoon dat daar verskillende digterlike tradisies bestaan. Hopelik sal hierdie uitgewershuis of Protea M.M. Walters se reeks Poësie uit die verre lande (met o.a. Spaanse vertalings van Uys Krige) weer uitgee?

Verder was daar die debat oor die aanvanklike nie-toekenning van die Ingrid Jonker-prys, maar danksy ʼn debat - aangevuur deur myself, Daniel Hugo, Johann de Lange en Johann Lodewyk Marais - is die prys toegeken aan Tania van Schalkwyk vir Hyphen, wat sy onder mentorskap van Stephen Watson voltooi het aan die UK. Daar was geen persoonlike belang hierby betrokke nie; net ʼn matelose ongeduld met die arrogansie van diegene wat ʼn prys met ʼn lang tradisie wou “herskryf”. Gelukkig het die polemiek ʼn gelukkige einde gehad, want die prys is toegeken, ironies genoeg presies op dieselfde wyse as in die verlede, met drie beoordelaars wat stem vir die beste. (3) Loftus Marais se artikels, dikwels oor fiktiewe letterkundige figure in BY, begin nou afgesaag raak, omdat die grap te veel kere herhaal word. Danie Marais het weer Peter Blum as ʼn soort buikspreker gebruik om sekere kwessies wat hom irriteer aan die kaak te stel. Die vraag is: sou Blum so gepraat het? Hy sou skerper gewees het. Die twee digters het onderskeidelik verlede aar en vanjaar die Sala-prys verower, terwyl Annelie Botes se prys terug getrek is na haar omstrede onderhoud in Rapport.

 

II

 

Die meeste bundels is deur my geresenseer vir LitNet, Die Volksblad en Die Burger. Van tyd tot tyd word daar ook besprekings gedoen vir FineMusicRadio, ʼn onafhanklike radiostasie in Kaapstad. Die oorspronklike besprekings word breedweg herhaal. Hier en daar het ek wel ʼn bespreking aangepas of verkort of ʼn mening hersien. Bundels word bespreek soos wat aangestuur is deur die jaar en nie in ʼn rangorde van gehalte nie.

Oor die stand van die digkuns is ek saam met Marthinus Beukes gevra om ʼn opinie te gee vir Rapport (4). Jo Prins het by Beeld ʼn rubriek Verslangs gelanseer waarin ʼn literator of digter se analise van ʼn gedig langs ʼn gewone leser s’n geplaas is. Met interessante reaksies waarin die verskillende strominge in die digkuns na vore gekom het soos die meer hermetiese vers versus die praatvers. (5) Verder was daar ʼn aangename verrassing met die verskyning van die Kanadese literatuurteoretikus Jonathan Locke Hart se debuut. (6)

T.T. Cloete se versamelbundel Uit die wit lig van my land gesny is gepubliseer deur Pooka en in hierdie bundel met verse wat handel oor sy afgestorwe vrou vind ons ʼn meester aan die woord.

 

Omslag

Omslag

Vroue van Vermeer

Dit is meestal ‘n mooi jong vrou.

Meestal is sy alleen binnenshuis,

dalk met ‘n wit veraf brief wat sy vashou,

naby, in ‘n gloeiende klein hand

voor ‘n kleiner of groter oop

venster.  Daar kom ‘n ligte geruis

van ‘n wêreld aan uit ‘n land-

of groter wêreldkaart

wat teen die muurvlak oorkant

hang, daar waar seestrome en wind loop

met haar land se ganse skeepvaart.

Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,

sy droom of sluimer

in lig wat in vlokkies of korrels brand

of dof kaats in die ruimer

ruimte van ‘n skildery of spieël of in ‘n wynhouer

ivoor maak, of sy speel klavesimbaal

of sy loer oor haar skouer

en dra ‘n sonnende pêrel teen haar nek

se skadu.  En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

 

oogensiklopedie. gilbert gibson

oogensiklopedie. gilbert gibson

Gilbert Gibson se Oogensiklopedie (Tafelberg) het die ATKV-veertjie prys verower en hierdie deurgekomponeerde bundel werk op ʼn vernuftige wyse met die oog as simbool. Die gedig werk met verwysings na ander gedigte - dikwels met endnotas verklaar - maar hierdie sleutels kan ook lei tot interpretasiebreuke. Op sy beste vang hy dikwels ʼn moment buite woorde op, op sy swakste word die gedig iets van in die kamer was ʼn kas, in die kas was ʼn laai, in die laai was ʼn gedig waarop staan: kyk hoe slim is ek!

Gilbert Gibson het vanaf sy debuut met Boomplaats (2005) die aandag getrek as ʼn opwindende digter wat op ʼn slim wyse werk met intertekste. Toe kom die tweede bundel Kaplyn (2007) en hy maak van die intertekstuele spel iets verregaande en uitdagend. Hy verskaf vooraf woorde, nee eintlik spore, waarmee die leser die bundel moet benader. Daar is selfs ʼn woordelys agterin om vreemd-klinkende en mediese woorde te help verklaar in die leesaksie wat ʼn kaplyn is. (En ʼn kaplyn is ʼn boomgesleepte skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat op die kaplyn kruis op patrollie raak te sien.)

Die verduidelikings / endnote help dus die leser om die gedig oop te maak en as’t ware vanuit die digter se bedoeling te lees. Ons het dus die inhoudsopgawe - op die voorblad soos by Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters - en dan die gedigte met die verklarings (aangegee as “woorde”). Gibson stel dus bepaalde eise aan die leser, omdat sy gedigte nie volgens konvensies werk nie. “another roadside attraction” aktiveer onder andere Tom Robbins se kultusroman uit 1971. Dit is ʼn roman bekend om die non-liniêre progressie en in die gedig word die leser gekonfronteer met ʼn bloedige einde: ʼn gesin word uitgewis en “ingelyf” by ʼn vervoerwa weens ʼn kind wat ʼn balletjie gooi. Die pa se aandag word afgetrek: hy het sy oë neergeslaan.

Al die geledinge rondom die oog word in hierdie bundel in ʼn komplekse simbool-struktuur geaktiveer: sikloop, katarak, sien / kyk, sluiter, versluier, blik, wenkbroue, wimpers, oogknip, oogvog, pupil, sig, blind (onder andere is daar ʼn gedig oor Borges). Dit is ʼn digterskap waarin daar dikwels besin word oor die rol van die digkuns. Die gedigte beweeg tussen hoogs emosionele verse en gedigte wat intellektueel in beheer is.

“Ek onthou jou dus behendig / gephotoshop teen die dood” (124) is van die ongelooflike beelde wat die digter gebruik. ʼn Baie sterk motief in hierdie bundel is die talle verwysings na die religieuse belewenis. In die slotgedig “wat die mens” (130) word daar duidelik ingespeel op die Bybelse gegewe, maar dit word hier verdraai na die moderne mens met al sy ellendes en angste. Dit is asof die digter in hierdie bundel besig is met ʼn bestekopname van sy jeug en sy lewensfilosofie van nou probeer bepaal teen dit waarmee hy groot geword het. “Sewe dubbelsinnighede” betrek weer Willliam Empson se bekende studie oor die digkuns. Dalk ʼn gevaarpunt vir die digterskap: die verduidelikings is myns insiens dikwels onnodig, omdat ingeligte lesers tog weet wat dit bedui. Of wil die digter ons juis bewus maak van sy notas en die prosesse róndom die skryf van ʼn gedig? Soos “kenosis” - letterlike leegmaking uiteraard weer Harold Bloom se sieninge oor die digterskap (A map of misreading,1975) aktiveer en sy sieninge oor die Kabbalisme in ʼn gedig indra. Vir Gibson behels dit die wegdoen of afstand doen van die eie ek by die skryf van ʼn gedig - die “ek” wat skuilhou tussen dit wat gelees en gesien is. Die sleutels gee sy unieke aard weer: hoe eiesinnig hy ʼn gedig skryf en konstrueer. Die leser word dus attent gemaak op hierdie proses waar die gedig dikwels hortend tot stilstand kom of reëls afgebreek word.  Dikwels is daar ʼn e.e. cummings-aanslag met doelbewuste dubbelsinnighede soos “nuttig” (72) waar die boor-metafoor gebruik word en Coleridge in die digter se geheue geaktiveer word. Die internet-gedig “://_ mezangelle” (64) illustreer dit by uitstek. Die taal van die hart (en hard) is so geheim(sinnig) soos superstringteorie.

Ander kere is die Auden-verwysing onnodig en amper ʼn onderskatting van die leser se kennis soos in “lafras cuyper kannonier”(57); ander kere help dit vir die ondersoek en uitpluis.

 

Apostroof, Fanie Olivier (Human & Rousseau, 2010, Isbn 978 0 7981 5168 9)

(Resensie: Joan Hambidge)

apostroof

apostroof

Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word. Ons vind hierdie aanspreekvorm - wat sterk verband hou met personifikasie - dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!). Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een, ensomeer.

Apostroof is ‘n bundel na ‘n lang publikasiestilte, weliswaar nie skryfstilte nie. Olivier het die afgelope jare per e-pos vanuit Pole lieflike gedigte vir vriende en kennisse aangestuur. Hy debuteer in 1971 met Gom uit die sipres (bekroon met die Reina Prinsen-Geerligs-prys). Om alleen te reis (1973), Paradysrigting van die wind (1976), Skimmellig (1978) en verklarings 1967 - 1987 (1988). Olivier se digkuns bevat sowel politieke verset as persoonlik en intiem-belydende verse.

Sy jongste bundel doen verslag van die kartering van ‘n spesifieke verlies: die verwerking van die dood van sy geliefde vrou, Rike. Terselfdertyd bevat dit verse ten tyde van haar lewe. Daar is liefdesgedigte en teer verse waarin die mooi geliefde waargeneem word deur die spreker. Die voorblad bevat ‘n skild uit die Middeleeue waarmee die aangesprokene se belangstelling in die Middeleeuse letterkunde geaktiveer word en as ‘n mens mooi kyk, is daar ‘n apostroof in die hoek - en daarbo koekeloer die dood.

Dit is ‘n besonder aangrypende bundel wat die verlies navigeer, onder andere deur Breytenbach, Ingrid Jonker en veral Uys Krige! Die beroemde “Tram-ode” met sy Aldarin word o.a. geaktiveer in die gedig “Tussenteks” (47). En wanneer ‘n mens weer na hierdie gedig kyk, is dit opvallend hoe die melancholie en die oproep van name in hierdie bundel van Olivier weerklank vind. Hy besê die lewe namens die afwesige geliefde: die opdrag lees immers (vir die sinne wat sy [ge-] maak [het]). Hy gebruik gewone parenteses en ander kere fonetiese hakies. Is dit ‘n soort spel soos by die gerekonstrueerde tekste van Sappho om te wys wat het verlore geraak, wat het behoue gebly? Die geliefde is immers oorlede aan ‘n slopende siekte waarin sy haar semantiese funksies verloor het. En hierdie skrynende proses beskryf die digter vir ons. Ons word meegevoer deur die slopingsproses tot met die dood. Ten slotte beleef ons ‘n goedkoop avbob-kissie waarin die as geberg word. Die digter laat dit te water en hoop dat ‘n Vlaamse seuntjie dit sal uitvis.

Hierdie kissie is “veerlig, loodswaar, ‘n holte vir my voete later”. Op die agterblad verskyn ‘n lang gedig waarin die Advokaat Olivier met God in geding tree. Dit is ‘n “vituperation” en op ‘n skitterende manier word die nydigheid van die regswêreld ontmasker.

Dit het vir hierdie leser gevoel asof Olivier terugkeer na sy beginverse: verse wat dikwels sterk op die woordspel ingestel is. In ‘n vers soos “bliksem!” (48) word daar ‘n soort blokkiesraaisel opgebou; in “krematorium” (45) is alleen dit wat agterbly op papier, uiteindelik ter sprake.

 

Op sy beste, so weet ons, reduseer

‘n vers baie dinge, iets of iemand

tot essensie: wat word, was vroeër was.

 

Daar is verse wat die Poolse landskap skandeer en die ontreddering van die vreemdeling beskryf en die soeke na die regte woord om ‘n ervaring te beskryf. Die digter, ‘n samesteller van die mooiste liefdesverse in Afrikaans, wonder:”hoe sê ‘n mens dat ek // jou liefhet in ‘n vreemde tong…” (30). Daar is dan verse wat hier en daar in opposisie plaas soos “van podolany tot in rondebosch - geyk” (31). Deurgaans bly ‘n mens bewus van die digter se ontginning van woorde, sy spel met taal - of hy is bewus van sy gebrek aan ‘n woordeskat in ‘n vreemde landskap of die geliefde se soeke na woorde…

Dit is ‘n aangrypende bundel van ‘n digter wat sy regmatige plek weer kom opeis het. Dit is oop verse, geskryf uit die hart. Maar júis in hierdie direktheid lê die krag van Apostroof. Daar word inderdaad nou alleen gereis.

 

Notas uit die empire

Notas uit die empire

Notas uit die empire is Hans Pienaar se tweede digbundel gepubliseer deur Alto-Media. Hy is veral bekend as joernalis vir Business Day en die blog “Africa”. Die skrywer het Rapportprys vir Nie-fiksie verower vir sy Die derde oorlog teen Mapoch. In Nuwe stemme 2 (saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager) vind is ʼn handvol verse wat die belangrikste temas in sy digkuns aandui: die wrang blik op die geskiedenis vanuit ʼn joernalistieke perspektief; die gebruik van die parlando; die vermoë om onthoubare reëls te skep soos “die stad slaap soos ʼn Buick onder ʼn bokseil”; die bykans surrealistiese taalgebruik; die gevoel van vervreemding, en dies meer. In Nuwe stemme 2 staan die volgende knap gedig:

 

Pelgrimsrus

 

O die dood kom ook

stadig soos die melktrein aan

by elke stasie moet die stoker stook

die trein vir elke melkkan staan (76)

 

Nuwe stemme is ʼn belangrike debuut-plek vir jong digters en veral Nuwe stemme 4 het my nogal opgewonde gemaak oor die veelheid van talent wat hier aanwesig is. Maar daar was slypskole waar die digters onder die leiding van die samestellers geleer is oor versvorme en procédé. Hans Pienaar het ʼn ónbetwiste digterlike talent, maar vir my gevoel is sy gedigte soms te woordryk en tuimel die gedig dikwels verby die suggestie of die natuurlike slot. Die eerste gedeelte in Notas uit die empire heet “Lank leef”, en dis dan vir my die sterkste afdeling. Waar die gedigte teen foto’s geplaas word, soos in die tweede afdeling “Tweeduisend-en-vier”, is dit egter minder oortuigend. (Hier is die verse meer gestroop.) Die beelddig, dit wil sê, die gedig wat inspeel op ʼn bekende foto of skildery het ʼn galery van groot figure in Afrikaans opgelewer met Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie as ʼn kragtoer. Hierop volg daar ʼn reeks reaksies van digters op foto’s van Marilyn Monroe met T.T. Cloete as voorloper. Al die ander gedigte is palinodes of antwoorde op hierdie vers.

Die beelddig skep ʼn broeiende spanning tussen foto en gedig. Die een kan later nie meer onthou word sonder die ander een nie. Maar, die gedig moet steeds in eie reg sterk wees. Indien die foto langsaan pryk, word dit soos ʼn klankversterker. En die foto of skildery moet weer op sy beurt ʼn kunswerk in eie reg wees. Dit bewys Johann Johl se verse ook by uitstek. (Die promosie-pamflet skryf dat die plaas van foto’s en gedigte uniek is. Dit is al reeds gedoen. Uniek waarskynlik dat die digter self die foto’s geneem het.)

“Statig” (97), ʼn vers wat die sub-titel dra “Suid-Koreaanse parlement, Seoel”, klink so:

 

Vir ʼn wyle hier, voor die deure

van mag outomaties oopgaan,

kan jou herinneringe ʼn loop

neem oor lang dae toegesneeu,

en mymer oor komplotte. Hoe

hulle neig om te broei en voete

op matte laat aarsel terwyl in

agterplase bome statig vergaan.

 

Enkele van die gedigte wat inspeel op foto’s is wel knap, soos “Tier”, “Grond”, “Pilare”, “Papiervliegtuig”, “Dialoog” en “Kamele” met die rondeelagtige spel met rymwoorde. Die reisgedig stel die reisiger altyd bekend aan ʼn ander land, maar hierdie soort gedig word altyd ʼn ontdekkingsreis-na-die-self. Onvermydelik word die opposisies tussen hier en daar, toe en nou, kulturele bakens presies dit waarom hierdie soort gedig wentel. Die vraag is of hierdie reisgedigte die eiesoortige aard van ʼn stad opvang?

Die voorblad, deur die digter self, is treffend. Die parkeerterrein in Vrededorp wat ander “empires” oproep. Die titel is uiters ironies: die hawelose se “empire” (ʼn wasgoeddraad en vullis)  word teen die agtergrond van die Statue of Liberty en ʼn Hollandse windmeul geplaas. Sowel die Statue of Liberty as die meul is versier met ʼn Heineken-blik wat weer die kwessie van kolonisering oproep. ʼn Mens sien Staten Island

in die verbeelding…

Die bundel se sterkste vers is ongetwyfeld “Kraaie in die bome” in reaksie op 9.11 met sy sterk refrein en elegiese aanslag:

 

New York. New York.

Kraaie in die bome.

Harte treur oor New York.

 

Die taalspel op bladsy 32 is indrukwekkend en “Dit was toe nie” (37) getuig van vakmanskap.

Die gedig “Tromsolo” (120) uit ʼn reeks is eweneens sterk:

 

… Ek bly agter, soos ʼn wit jas

by die kroegdeur opgehang, uit gewoonte.

Ek dwaal deur leë strate, eindig waar ek was.

 

ʼn Dief in my eie middernag, op my eie pas.

 

ʼn Bundel dus met ʼn handvol goeie verse. ʼn Sterker redigeerder of keurder sou die bundel gesnoei het sodat net die béstes oorbly. Miskien moet ʼn volgende bundel aan Protea of Tafelberg voorgelê word vir die raadsamer keuringsproses. Die titel evokeer ook die komplekse kanoniseringsproses. Notas uit die kanon en oor die kanon. Dalk ook teen die kanon? Die programgedig is so gelees nie alleen ʼn komplekse siening van die geskiedenis nie, maar ʼn staning in eie reg. Die kolonie praat terug, besef ons.

Omslag

Omslag

In 2001 het Kobus Lombard gedebuteer met Geknipte naelstring en hierna het Tussen wysvinger en duim in 2005 gevolg. Die jongste bundel Vlerke vir my houteend het soos die vorige bundel eweneens by Protea Boekhuis verskyn. Die digter gebruik gestroopte, sober taal en veral die Namibiese landskap kom aan bod in hierdie digkuns. Gedigte oor die geloof is ʼn verdere tema en in die uitgewershuis se publikasieverslag word daar geskryf dat die digter in sy tweede bundel die liefde vir sy aanneemma verwoord en die moeder wat hy nooit geken het nie. Die derde bundel het hierdie leser begin lees sonder hierdie voorkennis en ek is van mening dat die leser nie nodig het om kennis te neem van hierdie outobiografiese gegewe nie.

Lombard skryf ʼn eenvoudige vers met min woorde, maar in die “eenvoud” is daar dikwels ʼn geladenheid opgesluit. Ek het die gewoonte om ʼn digbundel van agter na voor te lees en dan weer van voor na agter. Op hierdie manier kan jy dikwels die konstruksie van die bundel op sy kop draai of deur ónbedoelde motiewe of saamgroeperings breek. Die slotgedig in hierdie bundel is ʼn vers wat waarskynlik ʼn sleutel verskaf vir vele verse in die bundel. Dit heet “Ma se erflating” (78):

 

in jou vulpenadres

kan ek my ʼn kamer verbeel

in jou silwer poeierdosie

kan ek partikels

van jou lyf vermoed

selfs die brei in jou stem

is tegnologies bewaar

 

maar hoe streel ek

die swart van jou hare

agter die glans van ʼn foto (78)

 

En vele gedigte probeer hierdie toestand-van-die-onmoontlike besê. Die gedig bring dus ʼn soort versoening tussen die gevoel van verlies of nostalgie en die werklikheid. In die titelgedig word daar ʼn ars poëtika vir die leser gegee waar die idee van die houtkerwer se werk gelyk gestel word aan die digterlike proses (42). Vir my is die mooiste en aangrypendste verse in hierdie bundel gedigte wat handel oor die verhouding met die moeder, daardie primordiale relasie wat ons almal se identiteit bepaal. In die psigoanalise word daar ook gekyk na die verhouding tussen digterlike taal en die moederbuik; ʼn mens dink hier veral aan die teorieë van Julia Kristeva. Wat dus ʼn vers oor die moeder is, kan ook gelees word as ʼn gedig oor die skryfproses en die onvermoë (waarmee vele digters worstel) om dit wat buite woorde lê, onder woorde te bring.

Daar is ʼn handvol gedigte in die bundel wat onthoubaar is, soos “Eenrigtingkaartjie” (67):

 

met die vertrek van my reisgenote

staan ek telkens voor die eenrigtingglas

van dié eenmanvertreksaal

geen oproep om aan boord te gaan

geen digitale flikker

oor die beplande tyd van aankoms -

die bestemming, so sê die reisbrosjure,

het strate van goud, engelekore

en ʼn stadspoort van opaal

 

dog vir hierdie enkelreis

bly ek tot die dood toe bang

 

Die moontlikhede van die skryfproses word ontgin: so byvoorbeeld in die gedig as ʼn “briefwisseling” verander die letterlike brief verander na e-pos, maar lewer ook kommentaar op die intieme aard van die skryfproses.

Vanaf die debuut tot nou, is daar groter selfvertroue by die digter opmerklik. Dit is ʼn beskeie bundel, maar in die eenvoud en suiwerheid aangrypend en belangrik.

Omslag

Omslag

Tom Gouws se Ligloop het by Human & Rousseau verskyn en is ʼn besondere leeservaring. Die titel aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees en om versigtig om te gaan met die gegewe in hierdie bundel. Reeds in die programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop” (”he wishes for the clothes of heaven”, 11). Die motto uit Bakhtin (”We are the voices that inhabit us”)  aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ʼn gesprek met Akmatowa en Sergei Esenin wat ʼn gesprek met die Russiese letterkunde oopmaak. Yeats word herskryf - met sukses en ʼn gedig oor Johannes Kerkorrel tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger. Die Bybel, veral Elia, verskaf ʼn ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ʼn wrang distigon van Watermeyer beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73).  (Trouens, dit sou ʼn fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en verwysings te aktualiseer.) Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer” word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim aangespreek en in ʼn distigon, “elia en die ou boereplaas” (73) word die profeet Elia ʼn masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die siening van die plaas. In ʼn wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum: allesverloren. Daar is vele motto’s by gedigte en Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in hierdie bundel wat in sterk kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ʼn fyndraad (of lig?) deur die bundel skyn. En ook Eybers is hier in sowel ʼn vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat uit die self spruit. Gouws is bewus van die self as ʼn konstruksie en die spel met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In ʼn “wyding”, ʼn liefdesvers, word die geliefde ʼn vers gegee waaruit sy eendag moet put:

 

eendag as jy oud is en saggies met jouself praat, en bewe,

en die tou te kort word vir die skep uit putte van herinnering,

vat dié vers, geliefde, lees dit weer as onvoldoende wyding

van ʼn digter wat na woorde soek vir die diepgang van ʼn lewe.

 

Soms is die self  ʼn kleitablet, ander kere ʼn sakrament.

Titels van bundels en gedigtitels is in kleinletters en die verse getuig van ʼn streng tegniese beheer. Die beelddig is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), verrassend ontgin. Cloete se Marilyn Monroe-verse bly eweneens bakens hier. Dit is ʼn ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser. Woordspel, flink ryme, eksperimentering met vorme maak van hierdie bundel ʼn genoeglike leeservaring. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. Die bundel nooi ʼn psigoanalitiese lesing uit via Lacan veral met die verwysings na spieëls, die camera obscura, meniskus, en studies oor die betekenis van simbole (soos die leeu) in die skilder se werk. In ʼn gedig “advent” (44) word die self genadeloos bekyk. Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar afgespeel in ʼn gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ʼn klein juweel:”resep vir sinlike soesji”(53).

Ligloop is ʼn bundel oor die “verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in “die geograaf” (29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slot gedig wat ons as ʼn visioen kan lees.

Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.

In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.

Omslag

Omslag

Martjie Bosman se Toevallige tekens is gepubliseer deur Protea. In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik waarvoor sy bekroon word met die Ingrid Jonker-prys. Soos die titel van die tweede bundel Toevallige tekens dan ook suggereer, moet die leser die tekens en spore in hierdie bundel met nougesette aandag volg. Die teken as teiken dus en ʼn mens word telkens bewus van ʼn volgehoue semiotiese spel met die leser.

Van Wyk Louw rig dan ook die bundel in ʼn motto:

 

 

… dié Woord

vol bybetekenisse en bowe-tone,

té vol vir bloot net beteken of betekenis.

 

Die digter aktiveer die Afrika-wêreld waar mense die “tekens van gemene besit / op allemansgrond, gebied onder koningsgesag” beleef (”Meent”, 15). Die bundel spreek ʼn Afrika-landskap aan en so tree die bundel in gesprek met Opperman-kodes. In die gedig “Grondeis” (35) spreek sy Opperman dan direk aan. Dirk-se-erf is nou ʼn beleërde plek waar die digter haarself moet verweer met guerillategnieke. Bosman aktiveer telkens op ʼn konkrete wyse ʼn sintuiglike dimensie wat sy plaas teenoor die “angs van binneruimtes”. Vigs (”groter siekte”) is ʼn harde werklikheid waaraan geloofsgenesing niks kan doen nie. Die Mosambiekse landskap word eweneens ontgin met Maputo as ʼn vervalle stad. Vir hierdie leser wat die landskap intens en gereeld besoek het, is die beskrywing van die menslike ellende en die hospitaal-dienste, helder weergegee. En Bosman skryf eweneens oor die nood van vrouwees in so ʼn bestaan waar verkragting en liggaamsgeweld ʼn harde werklikheid blyk te wees. Hierom is daar ʼn motto by “Mutilados” wat verwys na Dine van Zyl se Die verminktes. “Die kind van Kigali” (24) tree weer in gesprek met Ingrid Jonker se ikoniese gedig “Die kind”. Die Rwanda-werklikheid kom eweneens aan bod in hartgrypende verse oor die volksmoorde aldaar. Die digter hou die pynlike en transgressiewe gegewe in beheer met sterk metafore. In die hande van ʼn mindere digter sou hierdie gedigte skel kon oorkom. Maar dit is júis wat hierdie verse onderskei van ʼn berig in Time: sy gebruik herhalings wat ʼn soort pynlike inkantasie word van die koeëls wat “in sagte vlees wegsink”. Die iteratief-duratief (wegsink in plaas van die verlede tyd weggesink) aksentueer dat die pyn voortduur in die menslike gemoed. Die bundeltitel word verklaar in “Eendagskoon” (27) waar die verval in Afrika weergegee word. Hierdie gedig tree eweneens in gesprek met Ina Rousseau se voortreflike tuin/Eden-verse en kan gelees word as ʼn ars poetica. In “Soet seisoen” (80) soek sy na ʼn metafoor om die verval van ʼn stad te verbeeld, maar die gedig bly die aftakeling ontwyk. Juis deur ʼn gedig te skryf kan sy haar verweer teen die sloping wat sy meemaak en is die tekens van die gedig “‘n tuin van alle liefde”. In die personifikasie van ʼn skreeu (”Die skreeu”, 31) word die weerloosheid van mense binne ʼn geweldgeteisterde Afrika-werklikheid belig. Die slim toespelings op Toon van den Heever en Marais skep winste vir die gedigte, nie alleen in die vervloë wêreld wat dit oproep van ʼn verlore stam nie, maar ook ʼn bewusmaking vanwaar die Afrikaanse digkuns tans staan. Hierom is daar waarskynlik ʼn bestekopname van die digter se verlede met aangrypende en nostalgiese gedigte oor die jeug. Ons vind reeds in die herinneringsverse ʼn slim kind as waarnemer wat tekens probeer dekodeer en nou as volwassene terugkeer na die verbeelde wêreld wat sy beleef het. In “Kispak” (58) vind ons ʼn lykdig wat weer terugwaaier na T.T. Cloete se vers oor die verskillende rokke van sy vrou. Hier is dit die kispak:

 

Dan word die pak diep weggepak

tot dié dag wanneer die kis

die pak weer waardig is.

 

Martjie Bosman bewys met haar tweede bundel dat sy ʼn knap digter is wat aan elke beeld en woord aandag gee. Haar leser word bekoor deur die tekens wat jy moet snap: foto’s, musiek, mense, diere se geluide. Daar is verse oor bekendes (soos Wena Naudé) en gedigte oor die Spaanse landskap. Die gedigte lyk op die oog af sober en in beheer - onder is daar ʼn melancholie wat by elke herlees ʼn mens dieper tref. Dit is ʼn bundel oor “vae en ontwykende drome” wat helder en stip verwoord word. Alles is hier dringend in klein tekens op papier gemerk, om die digter aan te haal.

Diorama

Diorama

Sedert sy debuut, Die somer is ʼn dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ʼn bundel ter viering van Marais se “Winternag” gepubliseer: Honderd jaar later.

Hy skryf gereeld oor die figuur, Eugène Marais, veral op die Versindaba se webruimte. Hy het ʼn doktorale proefskrif voltooi oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa. Daar was ook ʼn reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein en silwerige planeet (saam met Ad Zuiderent).

Die jongste bundel heet Diorama en is ʼn voortsetting van die bundel Aves wat oor voëls gehandel het.

Die outydse voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).

Diorama dan in die sin van die skaalmodel van ʼn landskap of  historiese momente.  Die digter nooi dan ook die leser in die programgedig uit:

Ek wil in my gedig ʼn wildtuin skep // en jou uitnooi om ʼn besoek te kom bring (13)

En wat ʼn uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ʼn springhaas, maar terselfdertyd word dit ʼn meditasie oor die skryf van ʼn gedig. In die vers oor “Streepmuis” (22) word die onmoontlikheid van die proses vergelyk met die vang van ʼn streepmuis en die bladsyverwysings na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel die skryf as die lees van ʼn gedig. (In “Rooiduiker”, 38 byt die gedig in die stof!) Soos dit ʼn goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan hom onbekend nie soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna” (23), ʼn soort villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke. Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd” (24). Later is daar ʼn handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte vers te eksperimenteer en “Wildehond” (27) bewys hoe goed hy dit kan doen. Die “fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak opwindende poësie oor wilde diere en plante. Daar is toespelings op bekende gedigte en ʼn in-grappie oor die “Okapi” (35) wat bloot as “Aha!” aangegee word. Met die konkrete voorstelling word ook geëksperimenteer in “Rietduiker” (45) waar die uitgespreide vlerke oor die bladspieël staan.

Marais het in sy debuut, Die somer is ʼn dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf. In hierdie bundel keer hy terug na die landskap van sy jeug: nou is daar plaasmoorde en aanvalle. Die tuin van Eden is aangetas. So beskou word die diaroma dan ʼn representasie van sy digkuns én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ʼn mens kry ʼn portret van ʼn bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall, e.a. Dit word egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias maak ook ʼn draai hier en selfs Saartje Baartman is verïkoniseer. Daar is uitstekende verse in hierdie bundel soos “Die brein” (15)  En “Springhaas” (21). En die volgende juweel het onlangs op die Versindaba se webblad verskyn:

 

Diego Maradona

 

Die vlugvoetigste is Maradona

met ‘n durende veggees in sy bloed.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

Kleintyd het hy ‘n sokkerbal geja

en teenstanders gesystap met sy spoed.

Die vlugvoetigste is Maradona.

 

Gou het hy met sy flinke rabona

die klubs ‘n prys laat betaal vir sy voet.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

         

Oral in Napoli en Sevilla,

op én af van die veld, was hy verwoed.

Die vlugvoetigste is Maradona.

 

Sy aangee na Jorge Burruchaga

het die hele Buenos Aires laat toet.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

In ‘n stampvol en luide Azteca

erwe hy die Wêreldbeker se soet.

Die vlugvoetigste is Maradona.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte suggereer, word voltrek in die gedig “Ex unguine leonem” (85). Daar is gestaltes en diere in hierdie voortreflike, netjies-afgewerkte bundel. Die spel tussen verhulling en onthulling word deurgaans goed hanteer.

Louis Esterhuizen se Wat die water onthou het eweneens by Protea verskyn:

wat die water onthou

wat die water onthou

dat die papier se grein vorm gee
aan die vloei van kleur: jy herken
‘n boom hier, ‘n sonvlek daar
voor jy selfs nog weet van berge

verder agtertoe: spatsels kleur

tussen die vloeiings tak en blaar,
die blomtapyt in die voorgrond
waarmee die papier verwater

tot dit is wat dit wel wil wees -
die gestolde vloeipatroon
van water wat verdamp het

en nou bewaar word
agter droë glas

Esterhuizen is nie alleen die onvermoeide skrywer van nuuswekkers vir die webblad van die Versindaba nie, maar hy is ʼn bestendige digter in ons digkuns wat veral imponeer met sy besonder intens  deurgekomponeerde bundels. Gedigte van ʼn bundel loop ook soms oor na ʼn volgende bundel. Op LitNet maak hy die volgende relevante stelling:

Poësie “is nie iets wat tydgebonde is nie. Dit is wat maak dat poësie altyd relevant is en sal bly. Dit is nie soos ‘n roman wat jy klaar lees en op jou boekrak wegpak en byna nooit weer sal lees omdat jy die storie daarvan ken nie, nee. ‘n Gedig se ’storie’ is eintlik nooit klaar vertel nie, want elke keer dat jy hom lees, is dit ánder assosiasies, ánder inhoude wat in jou losgemaak word. Die poësie is immers die kunsvorm van die emosie, en ons emosionele landskap is nóóit staties nie.”

Vir my gevoel speel elke bundel van Esterhuizen terug op die vorige tekste, asof hy met ʼn emosionele skaakspel besig is. (Daar was dan ook ʼn bundel wat Patzers heet.) Kyk byvoorbeeld hoe word teruggepraat met ʼn vroeë gedig uit Op die oog af (1988):

 

Landskap

Die landskap afgebeeld

weier om gelees te word.

Al is elke kontoer

uitgeskryf in die verweerde bolaag

van retina en senuwee

vir die lewenslange strompeltog -

halfblind, halfdol om klinker en konsonant,

wéét jy:

vanuit die oog rol beelde na die horison

waar die ligvlak ingenaat by strome

die geheue deurspoel.

Ook dié oog slyt mettertyd tot sand;

‘n uitgedroogde rivier wat terugkrimp

na sy bron -

  verborge sediment vir dooie grond.

 

Die spel met “dat” rig die verse: dit kan waarskynlik verwys na die digterlike proses tussen die belewenis en die onthou. Hoofsin en neweskikkende sin verbeeld die spel tussen belewenis en neerskryf wat dan in die gedig ʼn representasie word van die ervaring en dit uitwis of vervang. By Esterhuizen is die onthou selde ʼn nostalgiese verlange, eerder ʼn poging om deur middel van die digkuns die slopende en dus pynlike ervarings te herkonstrueer in die takelwerk van gedigte. Die digter het ʼn sterk intratekstuele bewussyn. Die aangehaalde vers kan ook as ars poëties gelees word:

en nou bewaar word
agter droë glas

Die simboliek van water (teenoor vuur) is volgens Cirlot gekoppel aan die onbewuste. Water word op verskillende simboliese maniere in die leser se gemoed gekoppel aan natuurverskynsels, aan die voorgeboortelike lewe, aan die oorgang tussen lewe en dood (die Styx). 

 

Toe dit nog vroeg was deur Mari Grobler. (Tafelberg 2010)

toe dit nog vroeg was

toe dit nog vroeg was

Hierdie bundel het bykans ongesiens verbygegaan. Dis ‘n baie mooi bundel waarin die digter veral die San-wêreld ontgin - met woordverklarings en voetnote. In “Winter”(35) word die liefdesvers nuut aangepak binne die wêreld van die San. Die gedigte klink outentiek op en getuig van deeglike navorsing. Maar die navorsing bedreig nie die gedig nie. Die primordiale bestaan van die San word beeldend vergstalt. “Jy’s mooi” (38) vang die inkantatiewe aard op van’n bestaan onder die gounja (maan).

Die afdeling “Storie” handel weer oor die intiem-persoonlike waar ‘n geliefde afgestaan is aan die dood. Die verbeelde, mitiese gegewe word dus hier deel van die digter se bestaan:

 

sy mag nie ‘n dooie volg

                  sy drome wakker maak nie

omdat afreis van spore glo

onsigbaar is (57)

 

Die een voetspoor op die bundel word dan ‘n klein ikoon binne-in die teks waar ons twee voetspore vind - met die leser as ‘n spoorsnyer.

Die bundel praat met die hele tradisie van die San, nie net met die Afrikaanse tekste nie, maar ook met Stephen Watson se Return of the moon. Veral Eugène Marais se boesmanverhale word hier geaktiveer en die herdigtings van Antjie Krog word ook opgeroep. Grobler gee egter haar eiesoortige interpretasie van die gegewe. Sy werk met min woorde, helder beelde en die verse het beslis ‘n sjamanistiese kwaliteit. Daar is enorme skoonheid in hierdie eenvoud opgesluit. In spaars woorde neem sy jou terug na al die debatte oor hierdie gedigte, onder andere die kwessie van besit/appropriasie. 

“naglig”(16) is onthoubaar mooi met die slot:

 

hy verstaan die taal wat kwartels

deurnag met wyfies

onder ‘n volmaan praat

 

Dis so jammer hierdie bundel het ongemerk verbygegaan, want dit verdien beslis meer aandag. Dis goed om binne die intellektuele tradisie ook hierdie soort gedig te lees.

Xô! Dis ‘n mooi bundel.

 

Tydelose gety

Tydelose gety

Die jongste bundel van Lina Spies heet Tydelose gety: die tydeloos aktiveer tydelik én tydloos, die hier én die ewige. Hierdie spanning vind ons regdeur die digter se oeuvre en veral in die bundel Hiermaals word die gesprek tussen die lewe op aarde en die Ewige bestaan ʼn digterlike onderwerp. Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog. By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing. ʼn Vers soos “Vraag” (28) spreek Eybers se “Taalles” aan, terwyl die belewenis van die liggaam gelees kan word as ʼn implisiete antwoord op Krog se verse waar kragwoorde gedy. In “Leeftyd” (12) kom sy in opstand teen die siening dat liefdesverse nie behoort tot haar tyd nie. Sy verset haar teen die klaagliedere wat hierdie tydvak kenmerk. Die digter kies dan beelde waarin sy haar lewensvreugde weergee, en hierom haar oorgee aan die “eb en vloed” wat in elke gety stu. By Lina Spies is daar van meet af aan ʼn sinvolle gesprek met ander digters. ʼn Mens dink aan haar Emily Dickinson herdigtings (Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson (1995) en in hierdie bundel vind ons eweneens vertalings, herdigtings en indigtings van bekende gedigte: Paul Celan se “Todesfuge” (”Fuga van die dood”), Pavel Friedmann se “Die skoenlapper” waarin Spies haar liriese kwaliteite ten toon stel. Daar is beelddigte oor Nelson Mandela en Anne Frank. Hierdie bundel wil sig teen die stereotipiese en die geykte van die lewe stel soos die digter dan ook skryf in die programgedig “Lectori Salutem” (11). Die liefdesverse is onthoubaar soos die gesprekke met twee groot digters, Elisabeth Eybers en Vasalis in die aangrypende vers “By wyse van vergelyking” wat inspeel op die voorblad van die bundel (23):

 

Vasalis het haar geliefde

met ʼn landskap vergelyk

waarin sy haar neer kon lê

en uit kon strek

maar toe besluit hy lyk

nog meer na die lug daarbo

waar ruimte is vir wolke.

 

Ek sou jou kon benoem

met dieselfde metafore

maar ek het jou lief

met my eie hart

en ek sien jou met my eie oë

en vir my lyk jy

die meeste op ʼn kroonden

met sy hoë stam

en sondeurstraalde kruin:

ʼn boom waarna mens op moet kyk

en waarteen jy aan kan leun -

sonder vrae, sonder beloeftes, sonder vrees.

 

Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ʼn Vers soos “Gewoon” (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op. Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin - selfs ʼn herdigting Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers. In ʼn gedig word die band met Afrikaans besing (”Moedertaal”, 54) en verse vir Degenaar en Elisabeth Eybers, twee duidelike mentors vir Lina Spies. Ook Audrey Blignault word vereer.

Tipies Spies is daar verse met ʼn religieuse strekking (soos “Kategismus”, 67) en natuurlik: Anne Frank.  Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel wat deur Protea uitgegee is. Hierdie bundel is nie Spies op haar beste nie; ons het haar bestes gesien in die keur van Johann de Lange.

 

IV Debute en nuwe stemme:

 

Omslag

Omslag

Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (Human & Rousseau) kan ek helaas nie bespreek nie, omdat hierdie werk voltooi is onder my leiding aan die UK in Kreatiewe Skryfkursus. Die bundel is goed ontvang en ten spyte van ʼn vermeende plagiaat-caskenade met ‘n resensie in Rapport het die bundel sy eie pad geloop. Dit is ‘n intelligente, gestroopte digterskap.

oewerbestaan

oewerbestaan

Oewerbestaan van Melt Myburgh het by Protea verskyn. ʼn Debuutbundel is ʼn besondere oomblik. Dit is wanneer die digter vir die eerste keer sy/haar verskyning maak en wys watter bydrae kan daar gemaak word binne ʼn kanon. Dikwels kan ʼn mens terugskouend al die temas terugvind in die debuut wanneer ʼn digter verder ontwikkel. Myburgh se Oewerbestaan is ʼn bundel wat die jeug in ʼn gerepresseerde en rassistiese bestaan sinkopeer met die leefwêreld van Lorca. Dit is uiteraard ʼn ambisieuse opset, juis omdat Lorca so ʼn groot digter is. Die besoek aan Lorca se leefwêreld in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros in Granada is die oerbron waaruit ander gedigte waaier. Lorca was ʼn komplekse figuur en hy is veral binne die gay-wêreld ʼn ikoniese figuur. Die digter is wel bewus van hierdie problematiek, want hy vra:

“hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop // sonder om reëlreg my eie graf in te loop?” (16)

Die digter aktiveer dus argetipes in ʼn Jungiaanse denke: lewe, dood, waansin, normaliteit, en dies meer. Die bundel betree die wêreld waaruit die digter kom (”karos”, met die onderskrif 40 km buite Upington, 16) en die landskap waarna verlang word, te wete die Spaanse wêreld van Lorca. Hierdie digter word dan ʼn simbool van die dood en die hele bundel kan gelees word as ʼn spanning tussen eros en thanathos (in Freud se terme). Die besef word uitgespeel in die vers oor die vader se selfmoord, “by my pa se dood” (67) in die afdeling “inkdood” waarin die seun desperaat die vader vra om sy “gedigpraat” aan te hoor. Dit sluit aan by die vers op bladsy 15 waarin die digter as’t ware sukkel “om ʼn john deere // te laat dreun op die onderpad van sy geheue”. Hiermee word ʼn psigoanalitiese lesing uitgenooi: die dood van die vader en die dood van Lorca word een in die onbewuste en hierdie spanning kan alleen in die ruimte van die gedig opgelos word.  Die films wat vasbrand in skoolsale, is die herinneringe wat vir die spreker oorweldigend en pynlik is (16).

Die lotgeval van die gay-man word dan op verwoord in verse soos “aan jeffrey dahmer”(68), tereg met erkenning aan Johann de Lange, wat dit uitmuntend gemetaforiseer het en in ʼn gedig oor Laurie Gaum wat heet “jesus in vlak water (na die foto van laurie gaum) (52) waar die problematiek van Gaum se Rapport-foto’s so verwoord word:

as jy op water kon loop,

sou die offer tussen jou hande

nie ʼn enkele koerant verkoop.

 Om Gaum se ontbloting aan Christus se lot gelyk te stel, vind hierdie leser gewoon problematies. Mag dit?, wonder ʼn mens. Is enige mens se leed vergelykbaar met Christus se simboliese offergawe? In “privaat skool” (53) word die draadwerk ʼn verwysing na onanisme, terwyl “playstation 2″ (54) die tema aanspreek wat reeds deur Johann de Lange soveel sterker uitgewerk is. In die lykdig, “by my pa se dood” (67) word die selfmoord van die vader in ʼn pynlike bestekopname beskou:

 

intussen hou ek die spieël angstig dop

vir lyne wat jóú lees as voorsaat

 

Die gedigte tree in gesprek met De Lange se pa-gedigte wat regdeur sy oeuvre loop en die gedig as beswering van die konflik met die vader wat die kind versaak het. Die vaderfiguur waarmee Myburgh in gesprek tree, is Lorca. Die leser is hierom dan bewus van ʼn gevoel van uitsigloosheid en somberheid. Die beste verse is oor die wêreld wat die digter ken, soos “upington” (21) met die trae refleksies en die mirador van ʼn oewerbestaan. Nie al die verse is deurgekomponeer nie. Daar is gesogte beelde (hoe lui ʼn foon slank?, 17) Dikwels staan verse nog te na aan die ervaring, maar wanneer dit slaag, soos in ʼn handvol, is daar beslis bewys van talent. Daar is hiperbolies gedink, om die digter buite verband aan te haal, en die gesprek met Lorca bring winste. Ons ken almal die voortreflike vertalings van Uys Krige in Spaanse dans. Myburgh is oorweldig deur die betowering van Granada en die “heuwels staan knop soos boude” (32). Daar is suggesties en openlike verwysings na homo-erotiese aanrakings; iets wat moeiliker was in die ruimte waaruit hy kom. Heen en terug flits die gedigte na mekaar: die nou en die verlede toe die oksels nog vry was van skadu’s. Die liefdesverse is egter al beter deur Auden, et al. (en by ons De Lange) hanteer en waarskynlik is die landskap-van-die-jeug die beste verse: dit wat die digter werklik ken én verken het.

 

V Ten slotte:

 

Nuwe Stemme 4

Nuwe Stemme 4

Dit was ʼn goeie jaar vir die Afrikaanse digkuns. Twee sterk debute en ʼn handvol besonder knap verse in Nuwe stemme 4 het beslis die aandag getrek: Lewies Botha en Fourie Botha is name om dop te hou. Corné Coetzee dig ook met ʼn vaste hand, maar al die bydraes in hierdie versamelbundel is die moeite werd om te lees. Daar het ʼn paar bundels op my tafel geland wat in my strydvaardige jeug ʼn skerp reaksie sou ontlok en die digters na lug sou laat HAP het. Van die self-gepubliseerdes is net Hans Pienaar al daar. Vir die ander is dit nog ʼn “long long way to Carol OK”. Op LitNet verskyn daar ook van tyd tot tyd kopooprukkende soet, sentimentele vrot verse, hoewel ʼn bekende of wat darem glorie aan die ruimte verleen.

 

 

Reëls soos die volgende is beroerte-materiaal vir die leser:

in die middag jou liggaam
‘n rooi sjinese bruggie
gebuig oor my snikke

in die stille heilige nag
van kerse en vuurwerk
wat soos droewe vure op die water
na ons toe dryf

 

Wanneer laas het ons “droewe vure” beleef? Snikke? I ask you.

 

of:

 

Die wond se eerste sug is verlig,
verlange na lewe met sy onhebbelik-
hede wat mens hals en kop oorval.
Toegevou in doeke en met ‘n mond
wat gretig suig, blaas die mens
uit stikstofbewolkte longe asem.

 

of:

 

en mens murg stik en sy mond aan trane smeul,
pyn aan lewe se oorblyfsels wurg
en mens na die dood soos na lig smag.

 

Die redakteur behoort waaragtig nie sulke verse te plaas nie. Stuur dit terug en vra vrae oor die geykte, soet beelde. Dit is die verantwoordelikheid van ʼn redakteur om te keur! Die gedigtekamers op Versindaba handhaaf ʼn hoër peil en ʼn mens is Die Burger dankbaar vir die gedigte wat elke Maandag op die Boekeblad verskyn. Die belangrikste tendense in die digkuns is die gesprek met ander digters, soos by Gibson, De Lange, Spies, Johann Lodewyk Marais. Sowel die buitelandse digkuns as die Afrikaanse gekanoniseerdes word aangetref. In Nuwe stemme 4 vind ons die loslit-praat-vers, terwyl ʼn gevestigde digter soos Spies ook hierdie tegniek aanwend. Daar word met vorme geëksperimenteer, soos die villanelle, rondeel, ballade en by vele digters is daar ten slotte ʼn ars poëtiese bemoeienis, voortreflik hanteer deur o.a. Johann Lodewyk Marais. ʼn Digter soos Tom Gouws skryf in kleinletters; ander weer gebruik formele interpunksie. Die internet, sms-taal, Facebook, ensomeer het ook sy invloed laat geld op die digkuns en hopelik beskou digters ʼn publikasie op die internet as ʼn eerste vingeroefening en nie as die laaste woord nie. Ook slypskole en kreatiewe skryfkursusse se impak kan nou reeds afgelees word uit die debutante wat binnekort solo publiseer (Andries Samuel, Fourie Botha, Aniel Botha) of in Nuwe stemme 4 en die Versindaba se 2010 uitgawe gepubliseer het. Marlene van Niekerk het aan die US ʼn kollokwium-aand gereël rondom Allen Ginsberg se “America”. Min (dalk drie?) van hierdie verse het die paal gehaal, wat steeds Ginsberg se statuur as ʼn ongelooflike digterlike krag bevestig en in Afrikaans is sy “Howl” uitstekend deur Johann de Lange vertaal. Ginsberg kon politieke kommentaar met onsentimentele beelde dra sodat die vers bly staan al is die figure vergete. Gaan kyk gerus op You Tube hoe dra hy “America” voor! ʼn Politieke vers word baie maklik ʼn retoriese, afgesaagde, skellerige, beeldarmoedige eendagsvlieg. Marlene van Niekerk bewys wel dat sy oor die digterlike allure beskik om woede te koppel aan digterlike drif. “ek berei ʼn slaai voor die oë van my vader” (opgeneem in die Versindaba-uitgawe) voorspel ʼn welkome  terugkeer na die digkuns. Uiteindelik is die digkuns soos Louis Esterhuizen se “Weerkaatsings” dalk

 

‘n moeë spieël van mis

en verbeelde vloei.

 

Die digkuns is ʼn proses, dit is ʼn gesprek met ʼn tradisie, sowel binnelands as buitelands, met ʼn erkenning van verskillende tegnieke, digvorme, digterlike aanbiedinge hetsy die parlando of meer hermetiese gedig. Sommige digters hou van gedigte voordra, ander verkies die binnekamer. Sommige digters maak selfs gebruik van musiek en videogrepe om die gedig te dra; ander dra hul eie verse swak voor en goddank vir Margot Luyt, Nic de Jager en Antoinette Kellerman se radio-vertolkings.

 

Joan Hambidge

Kaapstad einde Desember 2010

 

 Endnote:

 

 1.

 Joan Hambidge. Nuwe Stemme 4 is ʼn 4×4

 

Nuwe stemme 4

Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede

Tafelberg, 2010; Sagteband 140 bladsye

ʼn Bespreking deur Joan Hambidge

   

Nuwe stemme is al ʼn instelling binne die Afrikaanse digkuns, ʼn ruimte waar jong digters wat nog nie genoeg verse het vir ʼn solo-bundel ʼn bietjie kan kom uitstal en spog met hul, nuwe ware. Stiebeuel het Sheila Cussons opgelewer. Uiteraard is die begrip “nuut” in enige digkuns omstrede: wat ons dikwels as nuut/anders/baanbrekend ervaar, is al vantevore gedoen. Uys Krige het die praatvers puik hanteer en nou kom dit weer tot sy reg.

Nuwe Stemme 4

Die jongste bundel is saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede (daardie Ronel Foster wie se bloemlesing van postmodernistiese gedigte, gedoen saam met Louise Viljoen op ons almal se boekrakke pryk). Daar word geen biografiese besonderhede van die digters gegee nie en die leser word verwys na LitNet vir die bio’s - wat van die leser wat nie internet-vaardig is nie? Verder staan daar op p. 62 Maggie Loubser in plaas van Maggie Laubser. Party van die digters praat op die Versindaba se webbladsy; ander kom weer na vore op LitNet. Sommige uitsprake oor die digkuns is naïef. Ander gesofistikeerd.

Dieselfde geld hierdie bundel waar daar sterk heuristiese verse staan, teenoor stroomop-eksperimente. Party digters het ek vir die eerste keer hier ontmoet, ander se werk ken ek uit ʼn LitNet-Skryfskool (soos Bibi Slippers) en drie is oud-studente, naamlik Fourie Botha en Lou-Anne Stone wat formeel onder my studeer het en Corné Coetzee was ʼn skryfskool-kandidaat aan die UP se Winterskool ʼn paar jaar gelede.

Hierdie bespreking wil eerder fokus op tendense as digters. Ons is terug by Neruda se siening dat daar geen digters is nie, alleen ʼn digkuns - ʼn stelling wat Sheila Cussons hier te lande oorgeneem het. Hierdie siening van gesprekke en transformasie vind ons ook in Harold Bloom se studie oor die digkuns: The anxiety of influence (Oxford University Press, 1973).

Die betekenis van ʼn gedig is immers ʼn ander gedig. ʼn Nuwe stem voeg iets by tot die kanon wat reeds bestaan, ontken of verminder/verbeter word. Bloom verwys na die klinamen (of digterlike “misprision”), die tessera ( waar die digter voltooi wat hy ervaar die ouer digter nie klaargemaak het nie), kenosis (oftewel herhaling of diskontinuïteit), demonisering (of die teen-sublieme, wat ʼn mens dikwels in die parodie vind), askesis (of suiwering / solipsisme waar die digter homself probeer wegtrek van enige invloed) en ten slotte die apophrades of terugkeer van die dooies…

 

II

 

Hierdie leser was aangenaam verras met die bundel en in die voorwoord beywer die samestellers hulle dan ook vir die rivier-delta eerder as die stroom of rivier. ʼn Baie relevante en belangrike stelling: die erkenning van die stilistiese en tematiese verskeidenheid as een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie.

Die samestellers besef gelukkig ook dat alles nie kan/mag nie. “Gelukkig heers daar steeds, soos enige poësieliefhebber weet, breë konsensus oor wat nie goeie poësie is nie” (6).

Trouens, Marais se satire op die Versindaba se webbladsy oor swak poësie lui as volg:

 

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen - W.H. Auden

 

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

 

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

Maar dis alles bysaak -
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

 

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak -
die lewe is ‘n heruitsending van ‘n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ‘n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

 

So alles kan nie. 

Wat is nuut? Wat beteken nuut? Beteken dit ʼn digter wat soos ʼn “new kid on the block” pas gedebuteer het of beteken nuut uiteindelik ook ʼn nuwe aanslag? En kan ʼn mens iets wat nuut is dadelik bepaal? Of eers by nabaat? Daar is dikwels digters wat in hul tyd oor die hoof gesien is en later ʼn beduidende invloed gehad het. Dan is daar weer digters wie se debute so “anders” en belangrik is dat dit ʼn hele nuwe manier van lees opeis: ek dink hier aan Breytenbach en Cloete, o.a. Beide digters het ʼn leestrategie behoef en beide het digters ná hulle beïnvloed. Ek dink in hierdie verband is Francis Galloway se opmerking oor Breytenbach uiters tersaaklik. 1. Hierdie belydenis van Galloway som presies op hoe nuut Breytenbach se aanslag ervaar was indertyd.

 

III

 

Die bloemlesing plaas die digters nie afsonderlik nie, maar eerder onder hofies soos “Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd” met woordverklarings ten slotte. Die digter se afsonderlike verse kan jy dan agterin vind met die bladsyverwysings. Die gesprek met Van Wyk Louw (Pieter Hugo, Lou-Ann Stone, Hunter Kennedy o.a.) is opvallend en die Facebook-fenomeen (Slippers) vind eweneens sy beslag in gedigte hier. Die vermenging van Afrikaans en Engels, d.w.s. spreektaal, is opvallend en die gedigte werk dikwels met ʼn gevoel van vervreemding: herinneringe aan hoe dit was/kon wees en die harde realiteite van nou. Die grensoorlog en die letsels van so ʼn sinnelose politieke oorlog word sterk verwoord (Lewies Botha). Genderpolitiek en seksuele ontwaking vind ons ook hier: Fourie Botha se gelade seksuele gedigte en Corné Coetzee se gedig oor bruide bevestig dit. Die rassekonflik is tematies aan te tref o.a. by Marius Swart en André Trantaal.  Maar dit gaan in die digkuns nie om die wát alleen nie, maar veral die hoé iets verwoord word. Die voorkeur vir die loslit-vers is oorweldigend en eksperimente soos Jan A. F. Du Plessis se “episte(mol)ogie”(128) waar die mol as’t ware tussen begrippe gaan of Hennie Meyer se konkrete gedigte soos “Vyf anders as om” (127) waar die leser ʼn gevoude vliegtuigie sien met woorde op. Jou kinderherinneringe word so geaktiveer met die verskillende betekenismoontlikhede wat die woorde inhou. Die leser se assosiasies word hier geaktiveer om die leë plekke in te vul (vol te maak?). Dieselfde geld Francilié Hoek se “mind the gap”(43) waar die leser tussen twee strofes beweeg (tussen platform en trein) om betekenis te skep.   Vir my was die lees van die gedigte rondom temas baie lonend. Die gedigte speel dus ook op mekaar in en kry as’t ware ʼn groter trefkrag. Die verskeidenheid van aanslag is treffend: Hunter Kennedy se lirieke en spel met betekenis (”oop vir misinterpretasie”, 118) neem my terug na Bloom se siening van “misreading” of “misprision” waar die digter vir hom/haarself ʼn eie plek binne die kanon moet vind deur die reeds genoemde tegnieke. Van Wyk Louw en gert vlok nel is duidelike invloede (en vele gedigte van gert vlok speel weer terug op Louw) sodat ons dikwels hier die beginsel van tessera of voltooiing vind. Hunter Kennedy in sy proses (met ʼn sagte blik op Koos Doep) weier om skuldgevoelens te ervaar wat die Afrikaanse gemeenskap tans kollektief versmoor.

 

ek herinner myself aan my pa

hulle moes grens toe gaan

dis nie my skuld nie

 

Groot verseboek is dus hier in ʼn antwoord dikwels, in parodie of teenstem. In hierdie gedig is daar ook ʼn verskuilde siening oor die praatvers en oor uitpraat. Stilbly is nie ʼn opsie nie. Pieter Hugo vereer gert vlok nel (met die i en al!) in sy pragtige “kom in gert kom in kom in”, 124) waar die digter oor ʼn walkie-talkie met gert praat oor sy “beautiful” woorde: die interteks en postmodernisme word deel van die gedig se weefwerk.

Die ander word aangespreek: die blik van buite op die self soos in Marike Groenewald se “voor die lig groen word”(129) waar die blik van die man op die plaastrok haar gyselaar hou in haar eie kar. Paranoia en geweld is immers ons uitvoerprodukte sedert Outspan-lemoene.

In Fourie Botha se “Erediens” (130) gaan dit nie net om kerksake nie, maar die seun se vrees dat sy pa ook sy nek sal knak soos die voëltjie wat deur die dakwaaier getref word. Hunter Kennedy is satiries oor die hemel: dis skynbaar die platteland (131). Sy parodie van Louw klink so op bladsy 134:

 

en ek was ʼn kind

en al die helder wete

van bloed en maagdelikheid

bly eenmaal in my oë

 

met verskillende weergawes in die gedig self. Die apophrades dus of die opstaan uit die dode!

Die Calvinisme agtervolg Lize Viljoen in haar gedig “Calvinis”(137) waar sy haar persoonlikheid beskryf as ʼn kerkbank wat “hard, ongemaklik” is met ʼn mond wat soos ʼn gesangeboek toeklap.

 

IV

 

Nie al die verse is hardegat of sinies nie. Lewies Botha se verruklike “My broer” (113) tref die leser in die maag. Dit openbaar daardie ondefinieerbare moment van ʼn pakkende gedig: die vermoë wat ʼn mens die tegelykertyd-aspek noem van die digkuns. Die digter beskryf eers die dood van die vader en hoe dit op hom en die broer ʼn effek gehad het. En hierna, in die tweede fase van die gedig, die begrafnis van die broer en hoe hy in sy moeder se drome aan haar verskyn.

 

My broer kom kuier gereeld vir my ma in ʼn droom

en vertel haar dit gaan goed.

Wat eet jy, my kind?

Ag Ma, baie lekker, een dag hier en ʼn anner dag daar.

 

ʼn Duif kom sit op my ma se hand

en eet mieliepitte van die oes. 

 

Ek het hierdie gedig voorgelees vir ʼn vriendin op ʼn Saterdagmiddag in die Waterfront, wat onmiddellik aangevoel het dat dit eintlik oor die broer se dood handel. Die kelnerin was ontsteld oor ons beide se emosionele reaksie op hierdie gedig wat ʼn mens kan uithaal en afstof vir lesers: só lyk ʼn vers wat handel oor verlies en pyn en die dood, sonder om sentimenteel te wees. Of melodramaties. Dieselfde geld “Likantropie” (115), neffens hierdie gedig, van Jannie Malan:

 

In die winter van jou kind se dood word jy weer wolf,

groei die skuldgevoel té groot

en drink jy bakhand water uit die wolf se spoor.

 

En ek dink onwillekeurig aan die Ierse digter, Paula Meehan se “Child burial” oor die dood van ʼn kind of aan Lina Spies se klassieke lykdig “Op die dood van Riëtte”.2. Die saamgroepering van die gedigte eerder as die digters bevestig dus my siening van die digkuns (in navolging van Bloom) dat die betekenis van ʼn gedig ʼn ander gedig is. Dat die gesprekke of die tapisserie wat so geskep het, belangrike verbintenisse tussen gedigte skep. Bykans soos ʼn magneetveld.

 

V

 

ʼn Bloemlesing van en in ons tyd sal uiteraard politieke en sosiale kommentaar lewer. En hiervan is daar baie te lese. Trouens, die bundel open met Annie Klopper se “hoe om ʼn dorp te verf” (11) wat in BY bespreek is in die rubriek Verslangs en vir die leser hier volledig opgeneem word. 3. Eskom word gekritiseer - in geen onduidelike taal nie - deur Niel van Deventer en by Marius Swart is daar ʼn bewuswees van ʼn klas- en rasverskil wat mense van mekaar skei. In ʼn satiriese gedig (”Kiepie se klaaglied”, 83) word al die oordele en vooroordele van ons samelewing uitgestal.

 

VI

 

Hoe kan ʼn mens jonk wees en nie oor die liefde dig nie? Ook hiér is die problematiek van die “already said” duidelik aanwesig en die digters stoei (om Bloom weer by te haal) om ʼn eie plekkie in die liefdesson te kry. Breytenbach word geparodieer deur Swart in ʼn “liefdes-e-pos” (93) en Pieter Hugo skryf oor die “Dear John”-brief wat ontvang word, maar wat hy eers later, nadat hy met die honde gaan stap het, oopmaak. Die uitstel van die inligting, maak die impak des te groter en die leser treur saam met die ontvanger van die boodskap (”Honde”, 107).  Ook die Facebook-fenomeen word deur Bibi Slippers ontgin:”OMW!” (88).

(Hugo skryf op sy blog oor hoe hy die vers teruggesnoei het tot sy essensie.)

 

VII

 

Aan die basis van die digkuns is daar ook repressie of verdringing, aldus Bloom. Lewies Botha verwoord dit met hierdie woorde:

 

… terwyl ek myself soek

en my gevoelens in ʼn army-balsak toerits (113)

 

Die geslaagde gedigte is dan, volgens hierdie leser, dáárdie vers wat die emosie terughou, terugsnoei - sodat die werklike impak jou eers veel later tref.

Daarom is ʼn beeld waar die wêreld “sag soos sneeu skuif” van Corné Coetzee onthoubaar (112).

ʼn Bespreking verraai altyd die leser se eie smake of voorkeure. Hoe dan anders. ʼn Mens lees mos vanuit jou eie verwagtingshorison en leeservaring. Hierdie bloemlesing getuig van kreatiewe impulse en ʼn mens voel die begeleidende hande van die redakteurs en ʼn kennisname van die reeds-geskryfde. Un coup de chapeau! Karlien van der Merwe skryf in “Plaasskoollewwie” (61) so:

en sonsyfer deur die groenroes van spykergate.

ʼn Gedig moet met beeldspraak toor, ja. Selfs A.P. Grové gooi hier ʼn draai in ʼn gedig (en luister, hy kón gedigte lees) en ja, tussen die vrye verse deur is daar ʼn distigon! Hiep-hiep hoera. Daar is verwysings na kundalini, lotus en Calvinisme. Hier en die buiteland. Lewe en dood.

 

VIII

 

Die bundel wys ook op kreatiewe angste. Dit is immers die lot van die jong digter wat sy of haar eie plek moet vind in Afrikaans. En Bloom bevestig dat dit is wat die digter dryf. Sleng, kru taal, Maleierafrikaans (Syda Essop) vind ons ook hier. Die ontginning van spreektaal is verruimend; Engelse woorde of begrippe - waaraan talle digters skuldig is - kan dikwels as ʼn maklike uitweg gesien word. Ander lesers sal weer meen dit is ʼn outentieke weergawe van ons dig-soos-ons-praat.

Wie ʼn solo-bundel uiteindelik sal lewer, dit sal die tyd alleen leer.  Selfs hiervoor sal die nederige nee-digters maar moet wag!

4. (Almal kon nie vermeld word nie, vergewe my. Onthou ek het eerder op tendense as digters-met-pense gelet.) Die buiteblad van Michiel Botha is treffend. Kyk ons het nie meer foto’s van die digters nie, omdat daar groter fokus op die gedigte is. Is dit ʼn oorskulp op die buiteblad? Dat ons moet luister na die jong digters se sieninge van die lewe en ontgogeling met politiek? Ook waarskynlik omdat vele gedigte klankmatig is of gewoon lirieke. ʼn Monoloog in stereo, dus. Of soos Camille Paglia meen ons moet luister na ʼn gedig en wat dit wil oordra. 3.

Daar is ʼn spanning tussen die idilliese plaaslewe en die harde werklikheid van Yskor. En Eskom-debakels. Daar is raspejoratiewe - met effek. Hoe dan anders?

Hierdie is nommer vier in die reeks en hopelik sal daar nog nommers wees vir jong digters om te “show case”.

Dis goed om na Karlien van der Merwe te luister en haar beeldspraak te beleef.

Die intertekste in hierdie versameling is goed verwerk en daar was slypskole wat waarskynlik vele van die vratte en moesies uitgewys het.

Hierdie bundel spreek van Kundalini, soos, ons iewers lees, en die inspeel van gedigte opmekaar, het beslis ʼn positiewe effek gehad.

Om poësie te skryf, is nie vir sissies nie.

Kom ons kyk wie publiseer binne die volgende jaar of wat ʼn solo-bundel!

 

Een van die Bothas?  Dalk Corné Coetzee?

 

Joan Hambidge

 

 

Bronne:

 

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New York: Oxford University Press.

Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.

 

Endnote:

 

1. www.litnet.co.za (Besoek op 29 April 2010).

   Wat is jou gunsteling-boek en hoekom?

   Francis Galloway  [2010-04-08] LitNet

 

Francis Galloway oor die boek wat haar lewe verander het: Die jaar waarin Breyten Breytenbach debuteer, was vir my die Jaar van die Sneeu op ons plot in die Vrystaat. Ek onthou vaagweg dat my pa briewe uit Die Huisgenoot vir my ma voorlees waarin mense kla oor die snert wat die nuwe digter, met die naam wat soos ‘n rympie klink, skryf. Anders as Antjie Krog, behou ek nog ‘n wyle my onskuld oor hierdie digter wat die horison van die Afrikaanse poësielandskap radikaal verskuif. Dit verander oornag toe ‘n eksentrieke dosent in my eerste jaar op universiteit die ysterkoei moet sweet vir my leen. My lewe keer linksom.

Die boek met sy pampoengeel stofomslag en afsigtelike tekening maak ‘n totale aanslag op my gemoedelike plaaslike bestaan. Dit dop my bekende en veilige wêreld om en lê ‘n ander polsende werklikheid daaragter bloot. Dit ruk die mat van matriek-idees oor wat poësie is, onder my uit. Dit ondermyn my opvattings oor reg en verkeerd, mooi en lelik, werklikheid en verbeelding.

Die oneerbiedige, sluwe en bitter eende, die blomme met are soos voos rubberpype, die strotbytende en knabbelende karkasse wat hierdie rymlose verse sonder hoofletters en leestekens bevolk, sak snags in volkleurdrome op my toe en skiet my gode en sekerhede in die buik en boud. Terselfdertyd is ek verruk deur die ronde visse met rooi truie, die fontein van sêmaarso, die kopreis van vrees tot saad, die patatranke met die séér ore langs die spoorlyn, die klouter met lanterns soos draakoë op getande dakke om na die grommende maan te kyk. Dit was daar in oorvloed, boordensvol: die fantastiese, die sintuiglike, die sap van die lyf, die sáámbestaan van verskriklik en verruklik, dood en lewe, ontbinding en buitelende groei.

Sedertdien loop ek soos ‘n hans Grietjie op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker strooi. Die (ver-)dwaalpaaie lei my telkens na mirakelland, want ander wêrelde, ander moontlikhede bestaan mos. En al hou my gids nie by sy vae belofte van ek-hou-op-die-smal-paadjie-van-een-werklikheid-en-vermy-rondspringery nie, bly hy beweeg, vér anderkant bevryding, want niks is vir ewig gewen nie - of waarskynlik vir ewig verloor nie.

* Bydrae tot Theo Kemp se artikel “Pampoendag vir die maer man met die groen trui”, De Kat, Sept/Okt. 2009:31-32

 2.

 http://www.consolatio.com/2006/11/paula_meehan_ch.html (geraadpleeg 1 Mei 2010).

 

Child burial

Your coffin looked unreal, 

fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care,
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too.
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you
the paths of wild birds,

the names of the flowers,
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,

my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair,
and further spin you back

through nine waxing months
to the split seeding moment

you chose to be made flesh,
word within me.

I’d cancel the love feast
the hot night of your making.

I would travel alone
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth
drop by bright red drop.

 

3. Hierdie rubriek is geskryf op versoek van Jo Prins vir BY (”Verslangs”) oor die gedig van Annie Klopper “Om ʼn dorp te verf”.  Dit verskyn 1 Mei 2010.

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

 

“Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf”

 

Skryf op snippertjies papier:

berg, bamboes en blom,

verder: boom en stroom en droom,

en skommel telkens om.

 

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar - sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang - selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005):”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig.

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.

“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns.

Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

 

Joan Hambidge

 

 

hoe om ‘n dorp te verf

 

          begin by die posbusse -

massiewe gholfballe, skoene, pampoene

geskakeer met fyn skadu’s van roes

verf dan die skoolbusse

skeur die banke en skryf op die dak

woorde wat rym met “oes” en “ak”

(onthou om spelfoute te maak)

skets die skoolmure na aan mekaar

om drome in te perk en daar te bewaar

teken dan ‘n tandlose vrou by die drankwinkel-till

‘n skoolrok by die kliniek in ‘n ry vir die pil

‘n beroofde bejaarde wat op ‘n sypaadjie bewe

‘n horlosie op ‘n kerktoring sonder ‘n sewe

‘n kind wat rook agter ‘n stegie se muur

en bergies wat baklei langs ‘n uitgebrande vuur

laat alles dan verbleik en verweer

spoeg op die sypaadjies

boor gate in die teer

en herhaal

‘n paar honderd maal

            Herhaal

 

Annie Klopper

 

4. www. Versindaba.co.za (Geraadpleeg 1 Mei 2010).

Hennie Meyer: ʼn nederige needig

Die poet met die pot as ʼn pet …

Tuesday, May 4th, 2010 | Nuut op Versindaba.co.za.

Trackback from your site.

 

2.

 

Johann de Lange:  Judasoog  Die Volksblad

ʼn Keur uit die gedigte van Johann de Lange

H&R  Isbn 978 0 7981 5149 8

144 bladsye

Resensent: Joan Hambidge

Akwarelle van die dors. Dit is nie alleen die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ʼn mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ʼn digkuns van die paradoks, van onvervulling en juis hierom is daar ʼn intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ʼn Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ʼn herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) tipeer as gay-digter. Hy het van die sterkste verse oor hierdie tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ʼn Januskant. Hy is sowel cruiser, gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van o.a. Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, o.a. Henning Snyman skryf op die agterblad tereg:”Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ʼn raak opsomming van die besondere beeldvermoë. Wat hierdie bundel uiters waardevol maak vir die waarderende leser, is die handvol nuwe verse wat ook opgeneem is in hierdie keur. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ʼn versweë antwoord aan ʼn ander digter) en ʼn lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ʼn vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos google, sms, twitter, blog, ensomeer om te probeer bepaal hoé die moderne media-behepte mens sou reageer op die fenomeen Jesus Christus. Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) ensomeer. ʼn Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besondere vermoë om die gedig op ʼn sekure slot af te stuur:

 

Ek soek in die falende lig

na die slot van my gedig (126, “Slot”)

 

Hier gebruik die digter die wêreld-van-die-digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou helder na vore en in ʼn keurbundel kry gedigte dikwels ʼn nuwe betekenis, omdat hulle nou langs ander verse lê. Die Judasoog van die bundel betrek nie alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë om die eksplisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word. Selfs die gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2″) word metafories so in beheer gehou dat ʼn mens net jou hoed kan afhaal vir die digterlike energie. Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre - en al die ander bundels voorspel en keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is ʼn belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele “correspondances” en “blomme van boosheid”.

Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van tekste nie,” lui die motto uit Prediker 12:12.

Johann de Lange is eweneens ʼn begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys het) en ʼn besóndere kortverhaalskrywer.

Maar dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ʼn suiwerheid:

 

Die sagste wat ons het, die taal,

bestaan solank ons asemhaal. (”Taal”, 123)

 

Hierdie digkuns is bekroon met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse.

Sy oeuvre word feitlik ʼn register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies hoé dit is.

 

Beeld-kyk

 

Net die oog: ooglidloos

en ingedagte in marmer,

‘n gaatjie geboor

om ‘n soort pupil

- paradoksaal, want: pupil

is juis nie gaatjie nie,

maar: ‘n soort anemoon

met sluitspier kompleet -

te simuleer. En juis

die gaatjie: die gaatjie

gee jou daardie kyk,

daardie serene uitdrukking,

en is die verskil

tussen jou en my:

jy: soos klip,

ek: soos anemoon.

 

(uit: Akwarelle van die dors, 1982).

Die digter het self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het! Human & Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee, moet beslis aangeprys word - nes ʼn mens die wingerd prys.

 

Joan Hambidge

 

3. Joan Hambidge

Repliek in Rapport

 

In sy lang repliek op die kritiek van die nie-toekenning van die Ingrid Jonker-prys vir Engelse poësie, verwys Rustum Kozain na die kritiese vituperasies wat hy as ongelukkig en onverwags beskou.

Onverwags?

ʼn Mens kan miskien net aan Rustum Kozain uitwys: Afrikaanse letterkundiges is nie aan die slaap nie. Hierom die kritiek van my, Daniel Hugo en Johann de Lange op hierdie verbysterende oordeelsfout. Maar kom ons begin by die begin; ʼn goeie plek om te begin. Do-re-me!

Wie is Rustum Kozain om die appelkar om te smyt van ʼn gevestigde en prestigeryke-prys?

Sy hele skrywe (die volledige antwoord is te lese op www.Versindaba.co.za) sit vol vreemde beskouings. Soos dat die komitee uit vrywilligers bestaan. Presies hier begin sy hele argumentasie skeef te loop, want as hy nie wou deelneem nie, moes hy van die begin sy volunteer-skap opgehef het.

Dan wys hy daarop die beoordelaars geen vergoeding ontvang nie. So? Wat daarvan?

Hy verwys na die ondankbare werk wat Louis Esterhuizen al vermag het. Die woord ondankbaar is helaas maar part en deel van menige literator en skrywer se werk.

Maar waar hy veral begin kleitrap, is wanneer hy wys op dispute: soos ʼn digter wat reeds in een taal gepubliseer het en nou in ʼn ander taal debuteer. Hoe nou gemaak? Dit is duidelik dat die Ingrid Jonker-prys ʼn prys vir beginners is. Dus, Petra Müller kan nie bekroon word vir haar Engelse debuut nie, want sy is geen groentjie nie. Sy het reeds die Hertzogprys in Afrikaans verower - om ʼn voorbeeld uit my hoed te haal. Ek was nie op die komitee nie.

Die gees van die Ingrid Jonker-prys is tog glashelder, nie waar nie?

Dan praat hy van die teleurstellings en ontsteltenisse rondom die prys. Liewe vader, pryse is gelyk aan teleurstelling, omdat net één persoon kan wen. ʼn Ou grap van my: ek het die Ingrid Jonker-prys teen Donald W. Riekert verloor.

Donald wie?

Die regulasies wat hy eis, is tog glashelder soos Daniel Hugo alreeds uitgewys het, net toe hierdie bom gebars het.

En hoe gemaak met ʼn debutant in ʼn ander land?

Ag kom nou. Isobel Dixon, om ʼn voorbeeld te neem,  kwalifiseer beslis; sy is Suid-Afrikaans gebore. En natuurlik mag ʼn self-gepubliseerde digter in aanmerking kom. Of ʼn rap-digter op ʼn CD of ʼn besoeker met ʼn visa (as hy/sy gelukkig is) hier publiseer.  DIT IS ‘N PRYS VIR ALLE DEBUTANTE.

Impasse?

Rustum Kozain noem hierdie non-toekenning ʼn impasse? Hy praat van die “excoriating” kritiek wat hy moes verduur. So is die so. Elke plig het ʼn

rekening.

As hy my sou vra, kan ek vir hom ʼn lys verskaf van die afgelope tyd se digters en uitgewers. Ek sou selfs vir hom die boeke kon leen.

Rustum Kozain se oor die tweeduisend woorde-verskoning maak alles net erger.

Pleks dat hierdie energie lank terug ingespan is om probleme uit te stryk, verduidelik hy waarom hy nie sy werk gedoen het nie. Dit wil my voorkom dat hy nie verwag het dat die laksheid van die komitee soveel reaksie sou ontlok nie.

Goddank, nie alle digters hier te lande word wol oor die oë getrek nie. En as hy werklik wil weet wat fel kritiek behels, word hy onverwyld verwys na die Engelse of Amerikaanse letterkunde.

Dáár sou alle hel losgebars het. Ek sien in my geestesoog hoe Carol Ann Duffy ʼn satire oor hom sou skryf en Camille Paglia van hom ʼn polemiese sosatie sou maak.

Hy weet nie wat fel kritiek behels nie.

Hy moes liewers hierdie Bisantynse verduideliking gelaat het en saam met die komitee sy werk gedoen het.

Die eerbare ding sou wees om die Ingrid Jonker-medalje terug te gee, aangesien hy geen respek vir hierdie prys en die tradisie van die Ingrid Jonker-nalatenskap openbaar (het) nie.

Aangesien geld vir hom belangriker is as ʼn simbool, daag ek hom uit om dit onverwyld te doen saam met die ander loodswaaiers. Dis nou as die medalje nie al verpand is vir ʼn drinkgeldjie nie. Of as ʼn deurstopper gebruik word nie.

 

Joan Hambidge

 

 

4. Die stand van ons poësie  Rapport

Joan Hambidge  

 

Die Afrikaanse digkuns word veral deur die Versindaba-webwerf lewend gehou. Die gedigte wat hier verskyn is van die bekendes soos Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, Marlise Joubert en andere, terwyl digters ook hier blog. Dit gee dikwels aanleiding tot skermutselinge tussen digters. ʼn Mens sou breedweg die debatte kon tipeer as simpatisante van die praatvers versus die meer hermetiese gedig. Beide maniere van dig het ʼn reg op bestaan en die verskillende stemme en manier van doen (rym?), dui op ʼn lewenskragtige letterkunde.

Op LitNet verskyn daar ook gedigte, maar van ʼn mindere allooi. Dit is eerder die plek vir beginners, hoewel die Litnet-aanlyn-skryfskool ʼn uitstekende ruimte bied vir jong digters om onder ʼn jonger en meer ervare digter geslyp te word. Dus Roof Bezuidenhout en Lina Spies. Jo Prins en Joan Hambidge.

Nie alle digters is bereid om hierdie soort leiding te verskaf nie, omdat die “raad” veral gelees word deur mede-digters.

Hoe lyk ons poësie tans?

Wel, veral met Nuwe stemme 4 (behartig deur Ronel de Goede en Danie Marais) was hierdie leser onder die indruk van ʼn veelheid van nuwe stemme. Digters wat aktief nuwe tegnieke of temas aansny, selfs Facebook gebruik. Tog bly hierdie leser veral geïmponeer met nuwe stemme wat ou temas ondersoek en in hierdie verband is die digkuns van Lewies Botha en Fourie Botha vir my besonder sterk in die gevoelige wyse waarop daar oor die vader geskryf word.

Ons het onlangs ook die solo-debute beleef van Melt Myburgh se Oewerbestaan (Protea) wat sterk verse bevat oor sy jeug en Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (H&R) waarin die leser ʼn soort forensiese patoloog word met die gedig as lyk. ʼn Bykans kliniese manier van dig wat sterk inspeel op Opperman se spaars woordgebruik en gedistansieerde aanbod.

Nou onlangs was Johann de Lange se Algebra van nood op die rakke, nes  sy simpatieke keur uit Lina Spies se gedigte en vertalings van Wilma Stockenström.

Johann Lodewyk Marais se bundel  Diaroma (Protea) met die volgehoue gesprek met N.P. van Wyk Louw is ʼn bestendiging van ʼn sterk stem.

Om my te weerhou van ʼn blote enumerasie van wie gepubliseer het die afgelope tyd (ʼn volledige lys is beskikbaar op die Versindaba se webruimte), is dit lonender om te kyk na tendense. In hierdie opsig is dit byvoorbeeld opmerklik dat die kanonisering van die Afrikaanse digkuns radikaal verander het weens die internet wat sieninge oor wat poësie is voortdurend verskuif en uitdaag. ʼn Mens dink hier o.a. ʼn wedstryde vir digters soos die Hipertekspoësie-kompetisie op Litnet. Hier klik jy op ʼn woord en ʼn ander wêreld maak agter die woord oop. René Bohnen het met haar gedig oor Toulouse Lautrec (1) gewen, maar daar was ook bydraes van Roof Bezuidenhout wat op sy beurt weer die konvensionele siening van wat ʼn vers is, uitdaag met sy begeleiding van ʼn gedig.

Waarskynlik het die Groot verseboek (in ʼn blik) ook bygedra tot ʼn verskuiwing in die algemene opvatting oor wat die digkuns behels deur André P. Brink se ruimer siening van die digkuns. Digters wat nog net in die Nuwe stemme-reeks gepubliseer het, is opgeneem sonder dat hulle verse in solo-bundels die “toets van die tyd” deurstaan het.

Vir vele lesers van die Afrikaanse digkuns verskyn daar, veral op webruimtes en in klein antologieë, gedigte wat volgens húl siening van die digkuns nie as gedigte per se kwalifiseer nie. Hierdie leser se persoonlike voorkeur is die digkuns wat getuig van ʼn tegniese kennis. Die lees van glossariums oor digterlike terme is ʼn beginpunt vir enige jong digter.

Maar gedigte moet telkens uitdaag, die vormlike en tegniese aspekte probeer verander en verruim. En die toets van die tyd sal uitwys of ʼn digter wel ʼn wesenlike verandering meegebring het of beskou kan word as ʼn “normdeurbrekende” digter.

 Dikwels word hierdie soort uitsprake gemaak, terwyl die ink nog nat is.

Daar het vele digters in Afrikaans gekom, maar veral verdwyn.

O, pazienza, pazienza che tanto sostieni, soos Dante opmerk. Dante via Leipoldt via ons webwerwe.

Joan Hambidge

Hipertekspoësie-kompetisie: Toulouse-Lautrec 

René Bohnen

Toulouse-Lautrec

Spatsels kleur wat ek sterrehoog lanseer
in ‘n reënboog van gebreke en gebede,
drup soos taai absint se wase neer
op can-can-poppe en Henri-hoepelbene.

My olieverf-oë vloei oor kaskades kant
waar mans na vinnige dye vlug.
In jolige kroeë lispel ek ʼn klam konsonant
terwyl ons verwarm in kwynende lig.

Pluiskeile kom hyg in donker silhoeët
by vrugte uitgestal op rooi fluweel.
Skaduwees sug bo die blitsduet
wat uitblom in vannag se dronk bordeel.

My kwas streel in leë lig op die moeë vloer
oor die sifilis en skoon hart van ‘n hoer. Rustum Kozain  Rapport  Pieter Malan

Joan Hambidge

Repliek 

 

5. Verslangs  Joan Hambidge  BY  Jo Prins

 

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

 

“Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf”

 

Skryf op snippertjies papier:

berg, bamboes en blom,

verder: boom en stroom en droom,

en skommel telkens om.

 

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar - sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang - selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005):”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig.

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.

“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns.

Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

 

6.

Jonathan Locke Hart   Die Burger

Dreamwork 

AU Press, Athabasca University

Isbn 1917 9405

98 bladsye  Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Jonathan Locke Hart is ʼn bekende Kanadese teoretikus en ʼn digter van format. Dreamwork is op die internet beskikbaar en vir die begeesterde leser is hierdie ʼn bundel

ʼn staning op die boekrak werd. Dis uiters delikate gedigte wat soos die Japannese tanka en haikoe met min woorde werk. Maar onder die subtiele, min woorde - Opperman sou praat van spaars - word die leser uitgelok om die leë plekke in te vul. Die gedig is die droom; en die droom word ʼn gedig.

Die titel aktiveer Freud se beroemde Interpretasie van drome (1900) en al die psigoanalitiese interpretasies róndom drome. Die bo- en onderbou van die droom. Dieselfde geld die gedigte wat die leser laat nadink oor die betekenis wat in die gedig skuilhou; bykans soos wanneer ʼn mens tob oor die droomwêreld wat jy sopas verlaat het en die implikasies wat dit mag inhou. ʼn Waarskuwing?

ʼn Boodskap?  Tog is die droom ook niks nie:

 

Dreams are unacknowledged

 

And, being nothing

Legislate nothing (5).

 

Digters is egter, soos Shelley geskryf het, “the unacknowledged legislators of the world”.

 

Die digter aktiveer al die moontlikhede van die droom. Die gedigte is genommer en gedig 23 begin so:

 

The distance from New Haven to Princeton

Is more than a metaphor. The scar

In Manhattan is hard to imagine

The people remarkably calm.

 

En dan vertel hy van die drome wat al deur New York beweeg het en die leser dink aan Delmore Schwartz se
“In dreams begin responsibilities” en skielik staan jy voor 9/11. Skielik draai hy die gegewe óm in die gedig. Nou beweeg ons van Princeton na New Haven, daar waar Wallace Stevens se groot gedig skuilhou en die gedig sluit:

 

The ghosts can do nothing to heal

The unsleeping horror of terror and violence.

 

In my eksemplaar het ek vele potloodmerke gemaak by gedigte waar die metaforiese lading tref. Tonnels, die “underground”, reise, die dood word behendig saamgebind:

 

92.

 

Another burial, never the last,

Takes away. The dun earth

 

Receives its guest: as the moon

 

Wanes, the dew melts.

 

Words come and are undone

But stay for now, this sturdy dream.

 

Die dood is ʼn ruimte waar mense veilig is: ʼn plek van geen bomme (93). Ook Vigs word in die verse aangespreek (”the place of poetry in a plague time”, 49), maar die digter probeer telkens wegbeweeg van die grusame werklikheid na die brose ruimte van die droom. Na die versugting van ʼn tyd voor metafore en treine, soos hy opmerk in gedig nommer 30.

Die onmag van die gedig om die werklikheid te verander, word verwoord in gedig 33:

 

Stanzas // Cannot hold the world, contain the day.

 

Die tegelykertydaspek van die gedigte is meesleurend. So dig hy in 52:

 

Something futile: crafting

A poem translating a dream

 

Into words. The possible world

Takes hold …

 

ʼn Verdere juweel staan op bladsy 58:

 

The prose of love

Will not live

 

Will stutter, words

Loose and absurd.

 

Daar was ʼn tyd voor treine en metafore, waarsku die digter. Boonop sukkel ons om by die werklikheid uit te kom. Daar is vele intertekste, verhuld, veral na die Ooskus-Amerikaanse digters. Dit is ʼn digkuns waarin die digter bewus is van die kortstondigheid van die lewe: daar is helaas te veel geskiedenis en te min tyd!

Wat ʼn lieflike bundel is dit nie! Cleanth Brooks se “the well wrought urn” is die beste beeld wat ʼn mens kan vind om hierdie pragbundel mee op te som wat die ware digter uitsonder van die babbelbek. Suggestie, min woorde, metaforiek, subtiliteit.

En, less is more.

 

Gustav S. Preller (1875-1943): ‘n Profiel

Sunday, December 12th, 2010

Johann Lodewyk Marais

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

1.         Inleiding

 

Gustav S. Preller (1875-1943) was ‘n veelsydige mens en het ‘n prominente rol as artilleris tydens die Anglo-Boereoorlog, taalstryder, joernalis en koerantredakteur, literêre kritikus en geskiedkundige gespeel. In heelparty gevalle was sy invloed die grondslag en prikkel vir verdere inisiatiewe binne die Afrikaanse kulturele wêreld. F.A. van Jaarsveld beskryf Preller as “‘n man met enorme energie en werkkrag en besiel met liefde vir sy volk en dié se verlede, ‘n kind van sy tyd”.[1]

In hierdie profiel val die klem op Preller as historikus, veral as verteenwoordiger van ‘n nasionalistiese Afrikanergeskiedskrywing. Afdeling 2 bevat ‘n kort lewenskets wat as agtergrond vir sy geskiedbeskouing dien en die leser ‘n beeld van hom as geskakeerde persoon gee. In afdeling 3 volg ‘n oorsig van sy geskiedkundige publikasies oor veral die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog, in afdeling 4 besonderhede oor die erkenning wat hom gedurende sy leeftyd en daarna te beurt geval het en in afdeling 5 word sy rol as nasionalistiese historikus krities onder die loep geneem. Die profiel word afgesluit met ‘n kort samevatting.

Soos dit uit die enigsins kursoriese bibliografie blyk, is baie oor Preller geskryf en word vandag nog van hom notisie geneem. “Oor geen Afrikanerhistorikus is so veel geskryf as oor Preller nie - nie net na sy dood nie, maar nog tydens sy lewe,” aldus Van Jaarsveld.[2] Aandag aan Preller se werk kom van sowel Afrikaanse as Engelse historici, wat baie oor sy nasionalistiese Afrikanergeskiedskrywing te sê het. Aangesien Preller homself in die eerste plek as ‘n Afrikanerhistorikus beskou het, is dit nie onvanpas om hierdie faset in meer besonderhede te behandel nie. Interessant genoeg gee die beskouings oor Preller ons ook ‘n blik op die beskouings van sommige historici wat hulle ideologies binne die Suid-Afrikaanse situasie probeer posisioneer.

 

2.         Lewensloop

 

Gustav Schoeman Preller is op 4 Oktober 1875 in Pretoria gebore. Hy was die oudste kind van kommandant Robert Clunie Logie Preller (1846-1916) en Stephina Maria Aletta (gebore Schoeman).[3] Preller het grootgeword op die Hoёveld van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) “met sy ou-wêreldse mentaliteit van die vóór-industriёle tydperk”[4] waar hy “die vaste roetine van daaglikse skoolgaan vry[spring]“[5] en nie sy skoolopleiding op Standerton voltooi nie. Nadat Preller ‘n ruk lank enkele ander betrekkings beklee het, begin hy in Augustus 1893 in Pretoria as vyfde klerk by die Departement van Mynwese werk.[6] In April 1898 trou hy met Johanna Christina (Hannie) (geb. Pretorius) Preller (1878-1975), ‘n direkte afstammeling van sowel Piet Retief as Andries Pretorius,[7] leiersfigure tydens die Groot Trek.

Tydens die Anglo-Boereoorlog veg Preller as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Op 11 Januarie 1902 word hy en “die oorlewendes van die korps Staatsartillerie”[8] naby Carolina gevange geneem en ‘n maand later met die Tagis[9] as krygsgevangenes na die Nilghiri-heuwels in Brits-Indiё gestuur.[10] Na sy terugkeer word hy deur Eugène N. Marais (1871-1936) oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as redakteur by Land en Volk aan te sluit.[11] Preller gaan werk later by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons Vaderland (later Die Vaderland) word. Deur al die jare het Preller en Marais ‘n besonder hegte verhouding gehad. In 1932 word Ons Vaderland, waarvan Preller eienaar en redakteur was, na ingryping deur generaal J.B.M. Hertzog om die koerant van finansiële ondergang te red, deur die Noordelike Drukpers Maatskappy oorgeneem[12] en die koerant se naam na Die Vaderland verander. Preller bly tot aan die einde van Februarie 1936 hoofredakteur, maar eintlik net in naam, aangesien sy besluitnemingsmag aansienlik ingekort is.[13]

Ná Preller se uittrede in 1936 het die gesin hulle huis in Blackwoodstraat, wat binne loopafstand van die Staatsargief in die kelder van die Uniegebou was, verhuur en permanent op Pelindaba gaan woon in die huis wat hy in die inheemse “Transvaalse styl” laat bou het.[14] Daar het Preller as historiese navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van bronne vir die Staatsargief voortgesit.[15] Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.

Preller het dwarsdeur sy lewe ‘n belangrike rol op kulturele en politieke gebied gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans, onder meer as een van die leiers van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging. Hy was ook betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (die latere Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns). In 1910 bring hy ‘n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs, literêre kritikus, vertaler en natuurlik as historikus. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt in 1917. Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf in 1916 die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers.

 

3.         Publikasies

 

Preller het ‘n groot aantal publikasies die lig laat sien, wat in “drie afdelings” ingedeel kan word, naamlik “sy werke oor die Groot Trek, sy werke oor die Anglo-Boere-oorlog en verskeie werke wat buite hierdie twee terreine val”.[16]

Preller se publikasies oor die Groot Trek sluit die volgende in: Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker;[17] Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal;[18] Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge;[19] Voortrekkermense, ‘n sesdelige versameling dokumente oor die Groot Trek;[20] Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945;[21] Die Retief-Dingaan-ooreenkoms” in Annale van die Universiteit van Stellenbosch;[22] Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando;[23] Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal;[24] en Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode.[25]

Preller se publikasies oor die Anglo-Boereoorlog sluit die volgende in: Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner;[26] Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919;[27] Oorlogsoormag en ander sketse en verhale;[28] Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene;[29] Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902;[30] en Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus.[31]

Preller se publikasies oor ander onderwerpe sluit die volgende in: Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910,[32] “Suid-Afrika s’n Boere republieke: ‘n historiese resumé”;[33] Historiese opstelle;[34] Sketse en opstelle;[35] Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele;[36] Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865);[37] Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881;[38] Geskiedenis van die Krugerstandbeeld;[39] Voortrekkers van Suidwes;[40] en Lubengula: the tragedy of a Matabele king.[41]

Sommige van hierdie werke, soos die biografieё oor Piet Retief en Andries Pretorius, getuig van omvattende en voortgesette navorsing,[42] terwyl ander “feitlik pamflette” en “oppervlakkig” is.[43] Op grond van die beperkte omvang van heelparty van Preller se publikasies en omdat ‘n groot aantal daarvan uit bronnepublikasies en verwerkte herinneringe bestaan, is sy bydrae ten opsigte van die omvang daarvan, soos B.J. Liebenberg dit stel, “nie so indrukwekkend as wat dit by die eerste oogopslag mag voorkom nie”.[44]

 

4.         Erkenning

 

Preller is gedurende sy lewe op verskillende maniere vir sy werk vereer. In die eerste plek is daar die talle publikasies oor sy werk wat oor die jare heen die lig gesien het.[45] Daar was egter ook ander eerbewyse. In 1930 ken die Universiteit van Stellenbosch aan hom ‘n eredoktorsgraad in die Filosofie toe. In Nederland word hy benoem tot lid van die Historisch Genootschap van Utrecht en van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden.[46] In 1970 het die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns die Gustav Preller-prys ingestel, wat elke drie jaar aan ‘n Afrikaanse letterkundige toegeken word “for meritorious work in the field of literary studies”.[47] Sy woning op Pelindaba is in 1973 gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.[48]

 

5.         Waardering en kritiek

 

Die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog waaroor Preller talle publikasies die lig laat sien het (kyk afdeling 3), was tot in die derde kwart van die twintigste eeu “main foci of the Afrikaner’s historical image”.[49] Preller se opvattings is gevorm deur “die Afrikaner se ellipsvormige geskiedbeeld met sy twee pole, naamlik die Groot Trek en die Eerste Vryheidsoorlog, en dié se religieuse grondslag wat godsdiens en geskiedenis ten nouste in Ou Testamentiese sin verbind het. Hierdie geskiedbeeld is verdiep deur sy oorlogservaring van 1899-1902″.[50] Preller het met sy “filosofiese fundering van die nasionalistiese ideologie wat voor die Oorlog ontbreek het”[51] ‘n historiese bewussyn nagestreef wat ‘n nasionale bewussyn kon kweek; ook andersom. Hy het derhalwe “die Afrikanervolk afgegrens uit die breё Suid-Afrikaanse geskiedenis en sy unieke posisie beklemtoon”.[52] Sy belangrikste protagonis was die Engelse van wie die Voortrekkers in die Kaapkolonie weggetrek het en teen wie hulle weer tydens die Anglo-Boereoorlog te staan gekom het. Preller het hierteen ‘n stryd gestry en aangesien sy nasionalistiese geskiedskrywing, geloof in onpersoonlike kragte en vryheidsdrang ‘n reaksie teen Britse Imperialisme was en sy geskiedskrywing ‘n hoё gevoelfrekwensie of emosionele inslag gehad het, “hou dit veel van die Romantiek in”.[53] Die geskiedenis moes vir hom die “kontinuїteit”[54] in die Afrikaner se geskiedenis bewerkstellig waarop die volk trots moes kon wees. Sodoende het Preller “as argitek van die toekoms opgetree en ‘n filosofiese fundering aan Afrikanernasionalisme verskaf”.[55]

Direk ná die Anglo-Boereoorlog het Preller met sy “alternatiewe, opposisionele volksgeskiedenis” die Afrikaners wat pas die oorlog verloor het, verdedig en hulle bestaan “gewettig en geregverdig”.[56] Preller het dus die geskiedskrywing as hulpmiddel gebruik om sy volk te inspireer deur hulle met nuwe oё na hulle geskiedenis te laat kyk. Sy eerste werke het oor die Groot Trek gehandel, is in Afrikaans geskryf en het onder meer verset teen die verengelsingsbeleid van lord Alfred Milner getoon.

Aangesien Preller baie publikasies oor die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog die lig laat sien het, kan met veiligheid aangeneem word dat sy beeld van die geskiedenis in ‘n tydperk toe daar min ander historiese werke in Afrikaans bestaan het, ‘n groot invloed op sy leserspubliek gehad het. Preller se 341 bladsy lange debuutwerk Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker is in 1905 kort na die Anglo-Boereoorlog en midde-in die Tweede Afrikaanse Taalbeweging gepubliseer en het “sy weg tot die ‘hart’ van die ‘volk’ gevind”,[57] wat dit ‘n grensoorskrydende werk maak. Dit was “die eerste noemenswaardige lewensbeskouing van ‘n Voortrekkerleier”, “die mees gelese biografie in Afrikaans” en “naas J.H.H. de Waal se roman Johannes van Wyk, die eerste prosawerk van die Tweede Afrikaanse Taalbeweging”.[58] Teen die 1930’s is 15 000 eksemplare van die boek verkoop, wat dit nog steeds een van die suksesvolste biografieё in Afrikaans maak.

Dit is belangrik om kortliks aandag te gee aan Piet Retief, waarvoor Preller wyd navorsing gedoen het. In die boek word deur middel van voorwoord(e), voetnote, erkenning van koerantberigte, mondelinge bronne, geslagsregisters, gedenkskrifte en argivale en gepubliseerde bronne rekenskap van die navorsing gegee. Tersaaklike dokumente word in die “Bijlage” afgedruk. Die boek sluit af met ‘n “Bladwijzer”, ‘n verdere bewys dat Preller en J.L. van Schaik hulle bes probeer het om wetenskaplike aanskyn aan die publikasie te gee. M. Lombard toon aan hoe krities Preller met sy bronne omgegaan het en met min gegewens tot sy beskikking ‘n beeld van die jong Retief geskets het.[59] Preller lê verder veral klem op die Groot Trek as ‘n volksbeweging waaraan duisende mense deelgeneem het. Die voorstelling klop met Preller se geskiedbeskouing wat hy in een van sy sleutelopstelle soos volg verwoord het:

“Dit is ‘n gebeurtenis wat in sy soort altemit uniek is in die geskiedenis van die mensheid, waarin ons duisende en nogmaals duisende mense spontaan sien oorgaan tot ‘n sekere, algemene handeling: die gesamentlike beweging om hul vaderland te verlaat, en elders anderkant die grens, vir hulle ‘n eie vry land te vestig. In Retief, miskien ook in Potgieter, in Pretorius e.a. leef daardie ideaal bewus. By die massa is ‘t vaag. Tog berus by die massa alleen die mag tot handeling.”[60]

Liebenberg noem Piet Retief Preller se “beste werk”.[61]

Preller het Piet Retief in 1937, ‘n jaar voor die honderdjarige herdenking van die Groot Trek, met ‘n ewe groots opgesette werk, Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal, opgevolg. Volgens Ken Smith was Preller in hierdie werk “strongly under the influence of the racial theories of National Socialism and he tried to establish parallels between the theories of National Socialism and the Teutonic tribal migrations in Europe. The issue of race came strongly to the fore.”[62] Die werk was andersins ook nie so suksesvol soos Piet Retief nie, onder meer op grond van die lang aanhalings “wat van drie tot sewe bladsye beslaan”.[63]

Uit die groot hoeveelheid bronne wat hy tydens die navorsing vir sy biografieё opgespoor het, was massas ongepubliseerde eerste- en tweedehandse bronne oor die Groot Trek, wat Preller in verskeie bronnepublikasies opgeneem het. Een van die belangwekkendste hiervan was Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838.[64] Vir Preller was hierdie dagboek oor die epiese tog van Trigardt van belang vanweë die “kennis van sy volk en hul vrydheidsin”.[65] Preller versorg ook Voortrekkermense, ‘n sesdelige versameling dokumente oor die Groot Trek.[66] Met hierdie publikasies het hy ‘n magdom bronne oor die Groot Trek aan toekomstige navorsers beskikbaar gestel en getoon dat hy in die voortgang van die wetenskaplike bestudering van die geskiedenis belê. Die bronnepublikasies, wat onder meer talle herinneringe bevat van mense wat self die Groot Trek meegemaak het, word as “een van die grootste bydraes van Preller tot die Suid-Afrikaanse historiografie” beskou.[67]

As outodidak wat sy skoling in Duitse en Franse vakkundige boeke gehad het,[68] het Preller se werk in ‘n voor-akademiese fase van die bestudering van die geskiedenis talle leemtes getoon. Sy dokumentering was nie altyd duidelik nie, aanhalings uit dokumente is meermale in vertaalde vorm gegee, die negentiende-eeuse Engelse koloniale beleid teenoor die Voortrekkers word nie in sy biografieё behandel nie, min aandag word aan die materiёle oorsake van die Groot Trek gegee, soms vermeld hy net die dag en maand van ‘n gebeurtenis, bronne word dikwels in die teks ingevleg en nie in voetnote opgeneem nie, en bronne word foutief gebruik.[69] Preller se aanhalings uit dokumente was ook “uiters onnoukeurig”,[70] terwyl sy taalgebruik wat deur sommige historici geprys is ook eksentrieke elemente bevat wat “‘n mens eerder irriteer as plesier”.[71] Hierdie gebreke in Preller se werk het ongelukkig bygedra om ‘n skaduwee oor sy bydrae as historikus te werp en hom waarskynlik ten onregte die beeld van ‘n enigsins argaїese en verstokte persoonlikheid besorg.

Preller het heelwat moeite gedoen met sy “ontkennings en weerleggings van en verontwaardiging oor die Engelse historiese voorstelling” van die Afrikaner.[72] Vir hom was die voortbestaan van die volk en die vaderland immers belangrik en moes Afrikaners “hulle eie identiteit behou”.[73] Daarom staan vryheid sentraal in sy werk en is die Afrikanergeskiedenis vir hom “enersyds ‘n worsteling van baanbrekers teen inboorlinge om die land bewoonbaar te maak en andersyds ‘n vryheidstryd teen Britse oorheersing”.[74] Preller se geskiedskrywing was “in diens van die lewe[75] en hy het ‘n besondere gevoel vir die gewone mens gehad, wat hom ‘n hoogs suksesvolle “populariseerder van die geskiedenis”[76] gemaak het.

Die feit dat, soos Van Jaarsveld dit stel, “die Afrikaners as aparte volk binne die Britse Unie van Suid-Afrika ook ‘n aparte, isoleerbare geskiedenis van Suid-Afrika het, wat dié geskiedenis van die land verteenwoordig”,[77] was skering en inslag van Preller se geskiedskrywing. Dit het ongelukkig meegebring dat hy “[d]ie eis dat die geskiedskrywer onpartydig of neutraal of objektief teenoor die verlede moet staan” met minagting verwerp het.[78] Sy beeld as historikus is ook geskaad deur sy negatiewe sienings van Engelse en swart mense.

Preller se simpatie met die Afrikaner se geskiedenis het weliswaar ook winste vir sy werk as historikus gehad. Dit het hom minstens in staat gestel om “‘n simpatiek, begrypende en liefdevolle uitbeelding van sy volk se verlede te gee”.[79] Sy werk was daarom ook “‘n belangrike korrektief op die werk van skrywers soos H. Rider Haggard, John Nixon, Alexander Wilmot, J. Cappon, A.M.S. Methuen en andere wat met vyandige oё na die Afrikaner gekyk het”.[80] Onder Afrikaanstalige historici sal hy bowendien ‘n besondere plek as iets van ‘n herout van Afrikaanse historici inneem.

 

6.         Samevatting

 

Gustav S. Preller is ‘n goeie voorbeeld van ‘n historikus wie se lewensverhaal nou verweef was met die onderwerpe wat hom as historikus die meeste besig gehou het. Tydens sy vormingsjare aan die einde van die negentiende eeu en tydens die eeuwisseling is hy blootgestel aan belangrike politieke gebeure en omwentelinge van die tyd. Deur sy huwelik met ‘n afstammeling van twee van die Voortrekkerleiers en kennismaking met mense wat self ooggetuies van sleutelgebeure was, het hy bowendien as ‘t ware ‘n bloedband met die geskiedenis gehad. Dit verklaar minstens ten dele Preller se onomwonde partydigheid vir die Afrikaner se geskiedenis. Preller se “leefwêreldlike ervaring [het] ‘n rol in [sy] siening van die geskiedenis gespeel en [sy] geskiedskrywing is dus deur hede-betrokkendheid gekenmerk”.[81] Die sentimente en opvattings wat uiteindelik in Preller se sterk Afrikaner-nasionalistiese geskrifte neerslag gevind het, sou egter maklike teikens word vir historici wat met aspekte van die Afrikaner se geskiedenis in ‘n geding getree het en min begrip vir Preller as kind van sy tyd toon. Preller se “geskiedenisboeke [het] afgegly na die vlak van tydsdokumente waaruit studente sy gees, tyd en omstandighede kan leer ken”,[82] maar ‘n historikus wat vandag ‘n omvattende werk oor (onder meer) die Groot Trek wil skryf, sal dankbaar van Preller se onherhaalbare navorsing gebruik kan maak.

Terwyl Preller aanvanklik wyd gelees is en groot lof deur tydgenootlike en later historici soos J.J. Oberholster,[83] D.W. Krüger[84] en J.S. du Plessis[85] toegeswaai is, het die kritiek teen sy werk met verloop van tyd toegeneem. Liebenberg het aangevoer dat Preller se “bydrae tot die opwekking van Afrikaner-nasionalisme [...] hoёr aangeslaan [moet] word as sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse geskiedskrywng”.[86] Isabel Hofmeyr het aandag gegee aan die rol van Preller as populariseerder van die geskiedenis van die Groot Trek, waardeur hy as belangrike miteskepper van hierdie geskiedenis en die uiteindelike viering van die Simboliese Ossewatrek van 1938 in die spervuur is.[87] (Ook Van Jaarsveld noem hom “die skepper van ‘n Groot Trek-mite wat tot vandag toe nog bestaan”.[88]) Met sy omvangryke oeuvre het Preller, wat “in sy persoon die eienskappe van beide kunstenaar en wetenskaplike” verenig het,[89] egter veel nagelaat waarmee ook die kritiese en afwysende leser van ‘n ander era hom of haar mee kan besig hou.

 

7.         Bronne

 

ANTONITES, A.J., Gustav Schoeman Preller. In: De Klerk, W.J. (hoofred.) Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Kaapstad, 1968.

Bosman, Martjie, Awards for South African literature. Pretoria, 1988.

De Klerk, W.J. (hoofred.), Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Kaapstad, 1968.

DU PLESSIS, J.S., Dr. Gustav Preller as historikus van die Groot Trek in B.J.  Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

DU PLESSIS, P.J., Die lewe en werk van Gustav Preller, 1875-1943. Universiteit van Pretoria, 1988. Ongepubliseerde DPhil-proefskrif.

Hofmeyr, Isabel, Popularising history: the case of Gustav Preller, AFS Forum, UNISA, 1988. Ongepubliseerde MS.

Holm, Albrecht., HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam, 2005. CD-ROM.

KRÜGER, D.W., G.S. Preller as geskiedskrywer in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

LIEBENBERG, B.J., Gustav Preller as historikus, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Desember 1975.

LIEBENBERG, B.J. (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

LOMBARD, M., Gustav Preller as historikus, Tydskrif vir Letterkunde 13(4), November 1975.

OBERHOLSTER, J.J., Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing - Gustav S. Preller in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie. Pretoria, 1975.

PRELLER, Gustav S., Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker. Pretoria, 1905.

PRELLER, Gustav S., Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid-Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910. Pretoria, 1910.

PRELLER, Gustav S., Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal. Pretoria, 1915.

PRELLER, Gustav S., Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner. Pretoria, 1916.

PRELLER, Gustav S., Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge. Bloemfontein, 1917.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkermense: dele I-VI. Kaapstad, 1918-1925 en 1938.

PRELLER, Gustav S., Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919. Pretoria, 1920.

PRELLER, Gustav S., Oorlogsoormag en ander sketse en verhale. Kaapstad, 1923.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945. Pretoria, 1924.

PRELLER, Gustav S., “Die Retief-Dingaan-ooreenkoms in Annale van die Universiteit van Stellenbosch IIB, no. 1. Kaapstad, 1924.

PRELLER, Gustav S., Historiese opstelle. Pretoria, 1925.

PRELLER, Gustav S., Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando. Bloemfontein, 1928.

PRELLER, Gustav S., Sketse en opstelle. Pretoria, 1928.

PRELLER, Gustav S., Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele. Pretoria, 1930.

PRELLER, Gustav S., Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865). Pretoria, 1935.

PRELLER, Gustav S., Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-

kommandant-generaal. Johannesburg, 1937.

PRELLER, Gustav S., Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881. Pretoria, 1937.

PRELLER, Gustav S., Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode. Pretoria, 1938.

PRELLER, Gustav S., Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902. Kaapstad, 1938.

PRELLER, Gustav S., Geskiedenis van die Kruger-standbeeld. Pretoria, 1939.

PRELLER, Gustav S., Voortrekkers van Suidwes. Kaapstad, 1941.

PRELLER, Gustav S., Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus. Kaapstad, 1942.

PRELLER, Gustav S., Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth, 1943.

PRELLER, Gustav S., Lubengula: the tragedy of a Matabele king. Johannesburg, 1963.

SMITH, Ken, The changing past: trends in South African historical writing. Johannesburg, 1988.

VAN JAARSVELD, F.A., Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Afrikanergeskiedskrywing: verlede, hede en toekoms. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk. S.l., s.a.

VAN JAARSVELD, F.A., Geskiedkundige verkenninge. Pretoria, 1974.

 

 


 

Eindnote

 

[1] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing: verlede, hede en toekoms, p. 19.

[2] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 18.

[3] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller, 1875-1943, p. 19.

[4] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 19.

[5] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 20.

[6] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 34.

[7] A.J. Antonites, Gustav Schoeman Preller in W.J. de Kock, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek: deel I, p. 673.

[8] Gustav S. Preller, Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene, p. 1.

[9] Gustav S. Preller, Ons parool …, p. 59.

[10] Gustav S. Preller, Ons parool …, p. 83.

[11] Gustav S. Preller, Ons parool …, pp. 153-154.

[12] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, p. 417.

[13] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, pp. 419 en 439-440.

[14] Albrecht Holm, HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of emarkable sites. Die “Transvaalse styl” is aangevoor deur argitekte W. de Swaan, F. Soff, J. Burg, G. Moerdijk en andere wat hul bewustelik deur die plaaslike klimaat, omgewing, materiaal, kultuur en tradisie laat lei het. Hierdie argitektuur het hom ook onderskei van die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl wat in die 1920’s mode geword het, asook van die Edwardeaanse en ander Europese style.

[15] P.J. du Plessis, Die lewe en werk van Gustav Preller …, pp. 439 en 442.

[16] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 4, Desember, p. 243. F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 19 maak dieselfde indeling.

[17] Gustav S. Preller, Piet Retief: lewensgeskiedenis van die grote Voortrekker. Die boek is wyd gelees en het elf herdrukke beleef.

[18] Gustav S. Preller, Baanbrekers: ‘n hoofstuk uit die voorgeskiedenis van Transvaal.

[19] Gustav S. Preller, Dagboek van Louis Trigardt, 1836-1838, met inleiding en aantekeninge.

[20] Gustav S. Preller, Voortrekkermense.

[21] Gustav S. Preller, Voortrekkerwetgewing: notule van die Natalse Volksraad, 1939-1945.

[22] Gustav S. Preller, “Die Retief-Dingaan-ooreenkoms” in Annale van die Universiteit van Stellenbosch IIB, no. 1. Kaapstad, 1924. Dit is later opgeneem in Sketse en opstelle.

[23] Gustav S. Preller, Hoe ons aan Dingaansdag kom: Jan Bantjes se dagverhaal van die Winkommando. Die boek is herdruk in Voortrekkermense: VI.

[24] Gustav S. Preller, Andries Pretorius: lewensbeskrywing van die Voortrekker-kommandant-generaal.

[25] Gustav S. Preller, Ou-Pretoria: sakelike verhaal van die stad se Voortrekkerperiode.

[26] Gustav S. Preller, Kaptein Hindon: oorlogsawenture van ‘n baas verkenner.

[27] Gustav S. Preller, Generaal Botha: ‘n paar besonderhede en ‘n paar foto’s, 27 Sept. 1862-27 Augustus 1919. Gedeeltelik herdruk in Historiese opstelle.

[28] Gustav S. Preller, Oorlogsoormag en ander sketse en verhale.

[29] Gustav S. Preller, Ons parool: dae uit die dagboek van ‘n krygsgevangene.

[30] Gustav S. Preller, Scheepers se dagboek en die stryd in Kaapland: 1 Oktober 1901-18 Januarie 1902.

[31] Gustav S. Preller, Talana: die drie generaals-slag by Dundee, met lewenskets van genl. Daniel Erasmus.

[32] Gustav S. Preller, Agt jaar s’n politiek: skoon geskiedenis van die Suid- Afrikaanse Nasionale Party, 1902-1910. Die werk het onder die skuilnaam “Knop” verskyn.

[33] Gustav S. Preller, “Suid-Afrika s’n Boere republieke: ‘n historiese resumé”. Opgeneem in C.J. Langenhoven en Gustav S. Preller se Twee geskiedkundige opstelle.

[34] Gustav S. Preller, Historiese opstelle.

[35] Gustav S. Preller, Sketse en opstelle.

[36] Gustav S. Preller, Die Grobler-moord: historiese rekonstruksie van die opkoms en ondergang van die Matabele-dinastie, 2 dele.

[37] Gustav S. Preller, Ons goudroman: die Marais-dagboek (1849-1865). Ook in Engels as Argonauts of the Rand.

[38] Gustav S. Preller, Daglumier in Suid-Afrika: oorsig van die geskiedenis van Suid-Afrika van die vroegste tye tot 1881. Ook in Engels as Day-dawn in South Africa.

[39] Gustav S. Preller, Geskiedenis van die Krugerstandbeeld.

[40] Gustav S. Preller, Voortrekkers van Suidwes.

[41] Gustav S. Preller, Lubengula: the tragedy of a Matabele king.

[42] Preller het die herdrukke van Piet Retief telkens met nuwe navorsing aangevul.

[43] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 244.

[44] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 244.

[45] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 18-19 verwys na ‘n aantal van hierdie publikasies.

[46] A.J. Antonites, Gustav Schoeman Preller, p. 677.

[47] Martjie Bosman, Awards for South African literature, 1988, p. 10.

[48] Albrecht Holm, HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of emarkable sites.

[49] Ken Smith, The changing past: trends in South African historical writing, 1988, p. 65.

[50] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 19-20.

[51] F.A. van Jaarsveld, Geskiedkundige verkenninge, p. 63. Sy kursivering.

[52] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 20.

[53] J.J. Oberholster, Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing - Gustav S. Preller in B.J. Liebenberg (samest.), Opstelle oor die Suid-Afrikaanse historiografie, pp. 51-53.

[54] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 21.

[55] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 21.

[56] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 22.

[57] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 34.

[58] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 243.

[59] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, pp. 10-25.

[60] Gustav S. Preller, Historiese opstelle, p. 15.

[61] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 243.

[62] Ken Smith, The changing past …, p. 67.

[63] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 247.

[64] Gustav S. Preller, Dagboek van Louis Trigardt … .

[65] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 19.

[66] Gustav S. Preller, Voortrekkermense.

[67] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 20.

[68] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, p. 22.

[69] M. Lombard, Gustav Preller as historikus, pp. 20-22.

[70] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 247.

[71] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 248.

[72] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, pp. 23-24.

[73] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 27.

[74] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 30.

[75] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 30. Sy kursivering.

[76] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 31.

[77] F.A. van Jaarsveld, Omstrede Suid-Afrikaanse verlede: geskiedenisideologie en die historiese skuldvraagstuk, p.20.

[78] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 246.

[79] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, pp. 244-245.

[80] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 245.

[81] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 18.

[82] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 36.

[83] J.J. Oberholster, Die neerslag van die Romantiek op ons geskiedskrywing ….

[84] D.W. Krüger, G.S. Preller as geskiedskrywer.

[85] J.S. du Plessis, Dr. Gustav Preller as historikus van die Groot Trek.

[86] B.J. Liebenberg, Gustav Preller as historikus, p. 250.

[87] Isabel Hofmeyr, Popularising history: the case of Gustav Preller.

[88] F.A. van Jaarsveld, Afrikanergeskiedskrywing …, p. 28.

[89] D.W. Krüger, G.S. Preller as geskiedskrywer, p. 59.

D.J.Opperman se “Shaka” uit Heilige beeste. J.L.Marais.

Tuesday, October 26th, 2010

D.J. Opperman se “Shaka” uit Heilige beeste

binne die historiese konteks van sy ontstaan

 

 Johann Lodewyk Marais

 

1

 

D.J. Opperman

DJ Opperman

D.J. Opperman se “Shaka” uit sy debuutbundel Heilige beeste (1945) is die enigste van sy lang gedigte waarvan daar jare lank nie ‘n uitvoerige bespreking bestaan het nie. In teenstelling met die oorvloedige aandag wat gedigte of gedigreekse soos “Brandaan”, “Gebed om die gebeente”, Joernaal van Jorik, “Staking op die suikerplantasie,” “Kroniek van Kristien”, “Blom van die baaierd”, “Dennebol”, “Kantelkompas”, “Vreters van die bossie”, “Glaukus klim uit die water” en selfs korter gedigte soos “Vakansiebrief”, “Digter” en “Sprokie van die spikkelkoei” ontvang het, is daar opvallend min aandag aan hierdie gedig bestee. Dit is enigsins vreemd aangesien daar al om verskillende redes opvallend baie studies rondom Opperman en sy poësie verskyn het, veral ook omdat “Shaka” naas Joernaal van Jorik Opperman se langste gedig is.

            Dit is moeilik om vas te stel presies wanneer die gedig geskryf is, aangesien nóg die oorspronklike manuskrip van Heilige beeste, nóg enige ongepubliseerde weergawe van “Shaka” oënskynlik bewaar gebly het. Die bundel het nietemin tydens die digter se Natalse periode ontstaan en sekere gedigte, soos die eerste gedig, “Heilige beeste”, asook “Bloedrivier, 1938″ en “Shaka”, weërspieël dan ook hierdie wêreld. Op grond van die Raka-invloed wat in Shaka merkbaar is en die feit dat die gedig vermoedelik opgeneem is in ‘n manuskrip met die titel Grensgeveg, wat Opperman op 9 Februarie 1943 aan die Nasionale Pers voorgelê het (Kannemeyer, 1986: 92), lyk dit asof “Shaka” tussen 1940 en vroeg in 1943 geskryf is. (Die eerste deel van Raka is in Bosman et al. se Tussen die engtes (1940) gepubliseer.) In teenstelling met die werkwyse ten opsigte van ander vroeë gedigte het Opperman hierdie gedig nie elders gepubliseer voordat dit opgeneem is in Heilige beeste, wat op 17 Mei 1945 aan hom oorhandig is nie (Kannemeyer, 1986: 98).

           

Omslag

Omslag

Heilige beeste is oorwegend hoog aangeslaan deur die kritici en dan ook in 1947 met die Hertzogprys bekroon. Terwyl “Shaka” vandag as ‘n mindere gedig van Opperman beskou word, is dit destyds positief ontvang. Verskeie kritici het hierdie gedig in besprekings van die bundel ter sprake gebring. Naas kommentaar op verstegniese aspekte van die gedig is heelwat klem, ofskoon oppervlakkig, gelê op Opperman se uitbeelding van Shaka[1] en die Zoeloeleefwyse, soos uit die uitsprake van Ernst van Heerden en G. Dekker blyk. Van Heerden skryf onder meer: “Die intieme kennis van die naturelle-mentaliteit en -gewoontes, die innige verband tussen stof en landskap, die beelde wat volkome inpas in die stemming is ‘n paar kenmerke van hierdie merkwaardige gedig” (Die Burger, 9.6.1945, opgeneem in Van Heerden, 1963: 99). Dekker noem die gedig “‘n welkome aanwins vir ons skraal skat epiese poësie. In rymlose verse, sober en saaklik van segging en in die veelvuldige enjambering vry en natuurlik van stuwing, met telkens trekkies plastiek wat uit die werklikheidsfeer opflits, gee Opperman hier geslaagde epiek, hoewel ons hier nie die dinamiese, die hewig dramatiese, die dieper geestelike agter- en ondergrond, die elementêre magiese woordkrag van Raka kry nie” (Die Huisgenoot, 27.7.1945, opgeneem in Grové, 1974: 5). Daar is in etlike ander besprekings veral gewag gemaak van die feit dat Opperman in sy gedig intieme kennis van verskeie fasette van die Zoeloe se persoonlikheid, leefwyse en geskiedenis sou openbaar. Volgens J.J. Kruger het Opperman in die gedig “sy deurleefde kennis van die Zoeloe-siel weergegee” (Die Volksblad, 20.6.1945). F.E.J. Malherbe praat van die blik op “worstelende geweld” in “Shaka” (Ons Eie Boek, Sept. 1945, opgeneem in Grové, 1974: 9) en W.J. du P. Erlank beweer dat die tema ‘n “hurricane of destructive energy” suggereer (New Era, 13.9.1945). Gerhard J. Beukes meen dat Opperman in “Shaka” die “vitaliteit van hierdie genadelose oermens (laat) spreek” en “die donker drifte (laat) leef” (Eendrag, 5.10.1945 in Trans-Afrika, Nov. 1945). M.P. Olivier Burgers skryf: “Die gedig munt uit deur karakterdeurpeiling, die aanvoeling van magiese magte, naakte krag en die weergawe van die psigiese lewe van die inboorling in sy heldetydperk.” Hy is van mening dat Opperman in “Shaka” aangegryp is “deur die historiese verskynsel in die lewe, die gebeurtenis in die realiteit” (Die Brandwag, 14.12.1945).

            ‘n Later bespreking van “Shaka” vind ons in Lina Spies se D.J. Opperman-gedenklesing van 13 Mei 1987 aan die Universiteit van Stellenbosch. Spies sien die gedig as bewys van Opperman se “Afrika-gerigtheid” en “oopgesteldheid teenoor die volledige Suid-Afrikaanse geskiedenis en die volle Suid-Afrikaanse werklikheid.” Sy beweer: “Sy (d.w.s. Shaka se - J.L.M.) obsessionele drang om sy moeder se vernedering en sy eie vernederende jeug te wreek, was die impuls vir al sy wreedhede, die hele gang van sy lewe” (Spies, 1987: 7, 8). Vir die twaalfde D.J. Opperman-gedenklesing van 26 Augustus 2009 vergelyk Antjie Krog “Shaka” met Thomas Mofolo se Chaka (1925). Volgens haar beskou Opperman Shaka “as ‘n gekwelde individu, ‘n uitgesoekte enkeling [...] wat, soos in die poësie van die Dertigers, ten alle koste getrou moet wees aan sy geniale insigte; wat hierdie ‛hoogste waardes’ deur die massas moet dra wat nie werklik sy taak verstaan nie” (Krog, 2010: 16).

            Uit voorafgaande sienings blyk dit dat die lesers van Opperman se gedig ‘n bepaalde siening an Shaka gehad het. Hierdie sienings sluit in ‘n hoë mate aan by die gestereotipeerde siening van Shaka soos dit uit veral die reisiger- en sendelingliteratuur van die negentiende en vroeë twintigste eeu blyk. Vervolgens sal daar gekyk word na die historiese en literêre beskouings oor Shaka soos dit sedert die eerste helfte van die negentiende eeu in literatuur en letterkundes in verskillende tale weerspieël word.

 

2

Shaka is volgens mondelinge oorlewering in 1787 uit die buite-egtelike verhouding van die Zoeloehoofman Senzangakhona met Nandi, die dogter van ‘n Langenistamhoof, gebore. Die verhouding tussen Senzangakhona en Nandi was nie blywend nie en Shaka het gevolglik moeilike kinderjare beleef. Dit het waarskynlik tot ‘n abnormale verknogtheid aan sy moeder gelei. Hy vind uiteindelik ‘n heenkome by die Mthethwastam van Dingiswayo, waar hy hom mettertyd as buitengwoon begaafde krygsman onderskei. Ná die dood van Senzangakhona (c. 1816) en later Dingiswayo (c. 1818) slaag Shaka daarin om ‘n klomp stamme te verslaan en sy magsposisie as hoofman oor ‘n militêr magtige volk uit te brei. Teen 1824, wanneer die eerste blanke handelaars in Port Natal aankom, strek Shaka se grondgebied oor die oostelike kusstrook vanaf die Pongolarivier in die noorde tot verby die Tugelarivier in die suide. Sy optrede by die dood van Nandi, wat grootskaalse geweldpleging en moord tot gevolg gehad het, het regstreeks aanleiding gegee tot die smee van ‘n komplot teen en die moord op hom deur sy halfbroers Dingane en Mhlangena en sy lyfbediende Mbopha op 22 September 1828. As militêre despoot het Shaka ingrypende invloed op sowel militêre as politieke gebied in Suidelike Afrika gehad (kyk bv. Krüger, 1972: 672-674; en Wylie, 2006).

Shaka

Shaka

Oor Shaka bestaan daar uiteenlopende sienings. ‘n Enorme hoeveelheid navorsing oor hom is in sowel Suid-Afrika as die buiteland onderneem en gepubliseer; in so ‘n mate dat ‘n mens met reg van hom as ‘n legendariese figuur kan praat, iemand wat al met onder andere Agamemnon, Julius Caesar, Beowulf, Attila, Napoleon en Hitler vergelyk is. Verskeie mites is met verloop van tyd rondom Shaka geweef (kyk Wylie, 2006). Die vroeë Europese belangstelling in hom kan waarskynlik aan die gefassineerdheid met donker Afrika, sy “barbare” en vreemde leefwyses en etiese kodes toegeskryf word. Shaka is dan ook in die Europese literatuur as slu, wispelturig, sadisties, wreed en barbaars voorgestel. Daarenteen het Shaka in later jare vir die Pan-Afrikanistiese rewolusionêr ‘n simbool van nasionalisme geword (Worger, 1979: 144).

            Die eerste bronne oor Shaka is verslae van reisigers en handelaars wat persoonlik met hom kennis gemaak het. Dit sluit persone soos luitenante James Farewell en James King in, asook Nathaniel Isaacs en Henry Fynn, wat lang reisbeskrywings nagelaat het. In die tweede plek is daar geskrifte van mense wat hom nie persoonlik geken het nie en gevolglik op sekondêre bronne, byvoorbeeld mondelinge oorlewering, staatgemaak het. ‘n Voorbeeld van laasgenoemde is literatuur deur die Rooms-Katolieke sendeling A.T. Bryant, wat veral vir sy Zulu-English Dictionary (1905) en Olden times in Zululand and Natal (1929) bekend is. Voorts is daar ook die sogenaamde izibongo of Zoeloeprysliedere oor Shaka, waarvan ‘n versameling deur Trevor Cope in 1968 verskyn het.

            Twee belangrike aspekte kom ter sprake wanneer daar na die literatuur oor Shaka gekyk word. Die eerste aspek behels die betroubaarheid van die basiese bronne en ander literatuur oor Shaka. Oorgelewerde inligting is nie altyd betroubaar nie en is bowendien affektief gekleur na gelang van die stam waartoe die informant behoort, hetsy die Qwabe-, Langeni- of Zoeloestam, wat botsende sienings oor Shaka huldig. Dit het veroorsaak dat daar meningsverskil ten opsigte van kernaspekte van Shaka se lewe voorkom, soos of hy inderdaad ‘n buite-egtelike kind was en of hy werklik so wreed was soos dikwels te kenne gegee word. ‘n Indringende studie van die verskillende bronne maak ‘n mens daarop bedag dat daar met groot omsigtigheid met hierdie materiaal omgegaan moet word (kyk Worger, 1979: 144-158).

            Die tweede aspek wat van belang is, is die benaderings wat historici gevolg het en wat tans in die bestudering van Shaka gevolg word. Rofweg kan vier verskillende benaderings onderskei word, naamlik die sendelingbenadering, die Afrika-nasionalistiese, die neo-Freudiaanse en die moderne historiese benadering. In die sendelingliteratuur word in fyn besonderhede oor Shaka geskryf, dikwels deur die ondersteuning van die sendingtaak gekleur. Veral Nathaniel Isaacs se Travels and adventures in Eastern Africa (1836) het ‘n rigtinggewende rol gespeel ten opsigte van die vestiging van ‘n bepaalde beeld van Shaka (Gray, 1975: 67). In die neo-Freudiaanse benadering word daar veral aandag aan seksuele determinante en die moontlike invloed van jeugervarings op sy latere optrede gegee. In die Afrika-nasionalistiese benadering word Shaka op so ‘n wyse voorgestel dat hy ter sake is in die hedendaagse soeke na die wortels van ‘n nasionalistiese Afrika-identiteit en -trots. So gebruik die digter en eertydse staatshoof Léopold Sédar Senghor Shaka in sy gedig “Chaka” in die bundel Éthiopiques (1956) as metafoor vir die moderne leier wat probeer om ‘n volkstaat tot stand te bring.

            Die moderne historiese benadering probeer om meer krities na die Shaka-geskiedenis te kyk en sosio-politieke en ekonomise redes vir die era te soek (Worger, 1979: 153-156).

            Talle historiese studies konsentreer op die omstrede persoon van Shaka en slaag nie daarin om meer insig te gee in die kragte wat die Zoeloestaat van destyds gevorm het nie. Vrae wat grootliks onbeantwoord bly, is byvoorbeeld die volgende: Watter sosio-politieke en ekonomiese faktore het destyds ‘n rol gespeel? En: In watter mate is Shaka se optrede daardeur bepaal? Dikwels word ‘n studie van die man buite konteks van die bestudering van die staat en die groter gemeenskap aangepak.

            Shaka se roem is bykans ‘n honderd jaar lank hoofsaaklik deur middel van mondelinge literatuur, in die vorm van prysgedigte, voortgedra (Gray, 1975: 66). Daar bestaan meer prysgedigte oor Shaka as oor enige ander swart heerser en volgens Daniel P. Kunene het Shaka selfs daartoe bygedra om die aard van die prysgedig te verander van ‘n toespitsing op die liriese tot ‘n gedig wat veel meer oor die heroïese en die opstanding van ‘n volk te sê het.

Chaka deur Thomas Mofolo

Chaka deur Thomas Mofolo

 In 1925 verskyn daar egter ‘n roman wat ‘n belangrike rol sou speel om Shaka se roem wêreldwyd te vestig, naamlik Thomas Mofolo se Chaka, wat in 1974 uitgegee is in ‘n Afrikaanse vertaling deur Chris Swanepoel. Die roman is later in Frans (en ook in Ibo) vertaal en het ‘n beduidende invloed in Franssprekende Wes-Afrika uitgeoefen. Dit het onder meer direk tot die skryf van Senghor se “Chaka” gelei. Mofolo se Chaka is al beskou as ‘n roman waarin daar ‘n botsing is tussen begrip vir wat Shaka as heroïese figuur vermag het en ‘n afkeer van sy optrede op grond van Christelike norme.

            Later volg talle ander werke deur skrywers van verskillende nasionaliteite in verskillende tale, onder meer Stephen Gray en Cecil Skotness se The assassination of Shaka (1974). In John Ross: The true story (1987) lewer Stephen Gray self ‘n boeiende herwaardering van sy siening van Shaka. In sy uitgebreide studie oor Shaka verwys Dan Wylie (2000) na nog ander tekste, hoofsaaklik in Engels, wat oor Shaka geskryf is. (Opperman se “Shaka” is deur C.J.D. Harvey in Engels vertaal, maar die vertaling is nooit gepubliseer nie.[2])

            In die Afrikaanse letterkunde vind ons naas Opperman se gedig ook Pieter Fourie se drama Tsjaka (1976), en by P.J. Schoeman onder meer die roman Pampata: Die beminde van koning Tsjaka (1978).

 

3

Die vraag kan nou gestel word hoe Opperman se gedig daar uitsien, in hoe ‘n mate die gedig by die literatuur oor Shaka aansluit en watter bronne hy by die skryf van sy gedig gebruik het. Ek sal ook aandui watter konsekwensies die gebruik van die bepaalde bronne het.

            In antwoord op ‘n brief van H.W. Truter (1967) van 25 Oktober 1967 waarin hy navraag doen oor “watter ‘bron’ [...] as daar so ‘n boek of boeke was” Opperman gebruik het, antwoord laasgenoemde (1967) soos volg:

 

            Beste Hennie

 

Ek het indertyd die roman Chaka geken. Verder het ek gelees alles wat ek in die hande kon kry, maar veral

A.T. Bryant se Olden Times in Zululand & Natal

& Nathaniel Isaacs se Travels & Adventures, I + II

 

My belangrikste bronne was egter:

 

  • 1. Zoeloes v/d Butelezi-stam (sic) op die plaas Steadham - die inligting is oor ‘n lang tydperk versamel, ook deur middel v/’n oom van my.
  • 2. Ene Ndlovu, ‘n Zoeloeprokureursklerk wat destyds by Guy & Turton op Vryheid gewerk het en baie goed met sy mense se geskiedenis en wette bekend was.

 

Hoop dis van hulp.

 

Hartlik,

 

Dirk.

 

Volgens J.C. Kannemeyer is die bronne vir “Shaka” ook by geleentheid op die regterkant van die oefeningboek geskryf waarin Opperman die eerste aarselende aantekeninge vir die skryf van Joernaal van Jorik gemaak het (Kannemeyer, 1979: 11). In die tweede band van sy Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur voeg Kannemeyer die volgende inligting by: “Afgesien van sy vertroudheid met die Shaka-figuur en die Zoeloewêreld van Natal berus Opperman se gedig op gegewens wat hy uit Nathaniel Isaacs’ Travels and adventures, Kuka-R.R.R. Dhlomo se Ushaka, S. Goro se Shaka en G.A. Gollock se Lives of eminent Africans verkry het” (1983: 103-104).

Wat opvallend is, is dat “Shaka” Opperman se eerste lang gedig is. Die gedig kan as ‘n epiese gedig beskou word en bestaan uit 296 versreëls wat in vyf afdelings ingedeel is, elkeen met ‘n titel. Die gedig is enigmaties in dié opsig dat dit die enigste lang gedig is waarin Opperman nie van tradisionele bindmiddels gebruik gemaak het nie.

Uit die eerste afdeling, “Langeni”, blyk dat Opperman aansluit by die opvatting dat Shaka ‘n buite-egtelike kind was wie se vernederende jeugjare hom wreed en wraaksugtig gemaak het (kyk I: 48-52). In die tweede afdeling, “Dingiswayo”, word Shaka se knapheid as kryger en andersins uitgebeeld, steeds met verwysing na sy genadeloosheid. In die derde afdeling, “Bulawayo”, word laasgenoemde aspek pertinent met Shaka se ongelukkigheid as kind in verband gebring. In die vierde afdeling, “Unkulunkulu”, word Shaka se vrees verwoord vir die verlies van sy mag, wat bygedra het tot verdere moordoptredes, en in die slotafdeling, “Dukuza”, word die moord na aanleiding van Nandi se dood en die sluipmoord op Shaka deur Mhlangaan en Mbopa gedramatiseer.

Opperman onderskryf dus die stereotiepe siening van Shaka soos dit in die bronne van Bryant en Isaacs voorkom. Opperman se siening van Shaka is dan ook nie heroïes soos dié van Mazisi Kunene in sy 433 bladsy lange Zoeloe-epos Emperor Shaka the Great (1979) of ander Afrika-nasionalisties geïnspireerde tekste nie. Opperman beeld Shaka feitlik slegs positief uit in die beskrywing van sy aantreklike voorkoms en sy woord- en dansvaardighede (kyk II).

Opperman het hoofsaaklik gebruik gemaak van die sendeling A.T. Bryant se Olden times in Zululand and Natal (1929), waarskynlik omdat dit destyds die volledigste bron oor Shaka was. Sy siening van Shaka as onderliggend ‘n wrede heerser tot op die punt van barbaarsheid is grotendeels onkrities uit Bryant oorgeneem. Opperman het selfs in ‘n brief van 3 November 1946 aan Gerrit Achterberg die volgende stelling ten opsigte van Shaka gemaak: “Shaka is hulle (d.w.s. die Zoeloes se - J.L.M.) ekwivalent in die geskiedenis vir Hitler (plus minus 1820)” (Kannemeyer, 1989: 142). Dit is nie die doel van hierdie artikel om uitvoerig op die ooreenkomste tussen Opperman se gedig en Bryant se werk in te gaan nie, ofskoon dit interessante gegewens aan die lig sal bring.

Ten opsigte van die Zoeloe-informante wat Opperman geraadpleeg het, kan die afleiding gemaak word dat hulle óf van die Zoeloes was wat self negatief jeens Shaka was, óf dat Opperman slegs aspekte soos kultuurgebruike en dies meer by hulle gekontroleer het sonder om ‘n positiewe siening van Shaka by hulle oor te neem. In hierdie opsig weerspieël Opperman se gedig die algemene Afrikaner-opvatting van daardie tyd omtrent die Zoeloegeskiedenis. Dit is veelseggend dat iemand soos Lina Spies in haar lesing (1987) van Opperman se “Shaka” slegs op die inhoudelike aspekte van die gedig kommentaar lewer sonder om krities teenoor die geloofwaardigheid en ideologiese kode op Opperman se gedig te staan. Binne die konteks van die omvangryke literatuur oor Shaka is dit noodsaaklik om ook hedendaagse opvattings omtrent Shaka as historiese figuur in berekening te bring by die beoordeling van Opperman se uitbeelding van hom (kyk Krog, 2010).

             

4

Opperman se jeug, agtergrond en sowel sy “kennis van die Zoeloe” as dié van die geskiedenis van Natal en die lotgevalle van sy voorgeslagte moet, soos reeds aagedui is, in aanmerking geneem word by ‘n waardering van die gedig. Heilige beeste handel onder meer oor die ondergang van mag, veral die Zoeloemag, en dit is opvallend dat die digter eers later die heropstanding van die swart man beskryf en onrustig aanvoel, byvoorbeeld in ‘n gedig soos “Staking op die suikerplantasie” in Blom en baaierd (1956). Opperman se sieninge en beperkinge ten opsigte van die skryf van “Shaka” moet in ag geneem word wanneer die betekenis van die gedig in sy tyd van ontstaan en sy betekenis vir die huidige tyd beoordeel word.

 

Bibliografie

 

Antonissen, Rob. 1973. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Kaapstad:

Nasou.

Argyle, John & Preston-Whyte, Eleanor. 1978. Social system and tradition in

Southern Africa. Cape Town: Oxford University Press.

Bosman, D.P.; Louw, N.P. van Wyk; Louw, W.E.G. (reds.). 1940. Tussen die engtes.

Kaapstad: HAUM.

Bryant, A.T. 1905. Zulu-English Dictionary. Pietermaritzburg: P. Davis & Sons.

Bryant, A.T. 1929. Olden times in Zululand and Natal. London: Longman.

Burness, Donald. 1973. Shaka king of the Zulus in African literatures. Washington:

Three Continents Press.

Cohen, Daniel. 1973. Shaka: King of the Zulus. New York: Doubleday.

Cope, Trevor (ed.). 1968. Izibongo: Zulu praise poems. Oxford: Oxford University

Press.

Cronjé, G. (red.). 1970. Die epos. Pretoria: J.L. van Schaik.

Dekker, G. 1970. Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Dhlomo, R.R.R. 1970 (1937). Shaka. Pietermaritzburg: Shuter and Shooter.

Dube, John. 1951. Jeqe the bodyservant of king Tshaka. Lovedale: The Lovedale

Press.

Fourie, Pieter. 1976. Tsjaka. Johannesburg: Perskor.

Gérard, Albert S. 1971. Four African literatures: Xhosa, Sotho, Zulu, Amharic.

Berkeley: University of California Press.

Gérard, Albert. 1986. Rereading Chaka. English in Africa 13(1): 1-12.

Gibson, J.Y. 1903. The story of the Zulus. Pietermaritzburg: P. Davis & Sons.

Gon, Philip; Mulholland, Rosemary. 1985. Die eerste Zulukonings: Shaka en

Dingane. (Vert. Carmen Welz.) Craighall: Ad. Donker.

Gray, Stephen; Skotness, Cecil. 1974. The assassination of Shaka. Johannesburg:

McGraw-Hill.

Gray, Stephen. 1987. John Ross: The true story. Middlesex: Penguin.

Grové, A.P. (s.a.). D.J. Opperman: Monografieë uit die Afrikaanse letterkunde.

Nommer 9. Kaapstad: Nasou.

Grové, A.P. (samest.). 1974. D.J. Opperman: Dolosgooier van die woord. Kaapstad:

Tafelberg.

Grové, A.P. 1988. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Pretoria: Nasou.

Harvey, C.J.D. s.a. Jorik’s Journal and other poems by D.J. Opperman. Unpublished

manuscript. Stellenbosch: Document Centre, J.S. Gericke Library, University

of  Stellenbosch.

Isaacs, Nathaniel. 1936 (1836). Travels and adventures in Eastern Africa. 2 volumes.

(Ed. by L. Hermann.) Cape Town: Van Riebeeck Society.

Kannemeyer, J.C. 1983. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Band II. Pretoria,

Kaapstad en Johannesburg: Academica.

Kannemeyer, J.C. 1986. D.J. Opperman: ‘n Biografie. Kaapstad en Pretoria:

Academica.

Kannemeyer, J.C. 1989. Die bevestigende vlam: Opstelle en lesings oor die

Nederlandse letterkunde. Kaapstad en Pretoria: Academica.

Kennedy, Philip A. 1981. Mpande and the Zulu kingship. Journal of Natal and Zulu

History IV: 1981.

Krog, Antjie. Die verkleurmannetjie(s) op Shaka: ‘n Vergelyking tussen D.J.

Opperman en Thomas Mofolo. Tydskrif vir Letterkunde 47(2), Winter: 5-18.

Krüger, D.W. (red.). 1972. Suid-Afrikaanse biografiese woordeboek. Deel II. Pretoria:

RGN.

Kunene, Mazisi. 1979. Emperor Shaka the Great: A Zulu epic. London: Heineman.

Lazarus, Neil. 1986. The logic of equivocation in Thomas Mofolo’s Chaka. English in

Africa 13(1), May: 41-60.

Lindes, Elize. 1956. Veelheid en binding. Amsterdam: N.V. Noord-Hollandse

Uitgevers Maatschappij.

Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en

Tafelberg.

Malaba, Mbongeni. 1986. The legacy of Thomas Mofolo’s Chaka. English in Africa

13(1), May: 61-71.

McDowell, Robert E. 1968. The brief search for an African hero: The Chaka-

Mzilikazi story in South African novels. Discourse XI.

Mofolo, Thomas. 1974. Tjhaka. (Vert. Chris Swanepoel.) Kaapstad: Tafelberg.

Nienaber, C.J.M. (red.). 1977. Tuinprovinsie Natal. Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D.J. 1947 (1945). Heilige beeste. (Tweede druk.) Kaapstad: Nasionale

Pers.

Opperman, D.J. 1967. Brief aan H.W. Truter. Dokument 118.K.Tr.3(12).

Stellenbosch: Dokumentesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van

Stellenbosch.

Opperman, D.J. 1979. Die galeie van Jorik. (Geredigeer en ingelei deur J.C.

Kannemeyer.) Kaapstad: Tafelberg.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human &

Rousseau.

Phillips, Mary. (s.a.) (1979?). Valley of the virgin warrior. Durban: Knox Printing &

Publishing Co.

Rademeyer, J.J. (s.a.). Shaka. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Ritter, E.A. 1986 (1955). Shaka Zulu. Middlesex: Penguin.

Roberts, Brian. 1974. The Zulu kings. London: Hamish Hamilton.

Schoeman, P.J. 1978. Pampata: Die beminde van koning Tsjaka. Johannesburg:

Perskor.

Senghor, Léopold Sédar. 1956. Éthiopiques. Paris: Éditions du Seuil.

Spies, Lina. 1987. Besieling en behoud: Die boodskap van D.J. Opperman vir ons tyd.

(Eerste D.J. Opperman-gedenklesing.) Stellenbosch: Universiteit van

Stellenbosch.

Swanepoel, C.F. 1975. Oor die interpretasie van Tjaka (Thomas Mofolo). Limi 3(2):

64-80.

Swanepoel, C.F. 1976. Die wêreld van Tjhaka (deur Thomas Mofolo): ‘n Strukturele

en stilistiese ondersoek. (Ongepubliseerde D.Litt. et Phil.-proefskrif.)

Johannesburg: RAU.

Swanepoel, C.F. 1979. Reflections on the art of Thomas Mofolo. Limi 7(1 & 2): 63-

76.

Swanepoel, Chris. 1988. History in Mofolo’s Chaka: A comparison of text and

possible sources. South African Journal of African Languages 8(1): 23-27.

Truter, H.W. 1967. Brief aan D.J. Opperman. Dokument 118.K.Tr.3(11).

Stellenbosch: Dokumentesentrum, J.S. Gericke-biblioteek, Universiteit van

Stellenbosch.

Van Heerden, Ernst. 1963. Rekenskap. Kaapstad, Bloemfontein en Johannesburg:

Nasionale Boekhandel.

Worger, William. 1979. Clothing the bones: The myth of Shaka. Journal of African

Studies 6(3), Autumn: 144-158.

Wylie, Dan. 2000. Savage delight: White myths of Shaka. Pietermaritzburg:

University of Natal Press.

Wylie, Dan. 2006. Myth of iron: Shaka in history. Pietermaritzburg: University of

Natal Press.

 

 


 

Note

 

[1] Zoeloename word deur verskillende skrywers verskillend gespel. Die spelling van “Shaka” is in navolging van Opperman.

[2] Die vertaling verskyn in ‘n manuskrip getitel Jorik′s Journal and other poems by D.J. Opperman. Die manuskrip van Harvey (s.a.) se vertaling van Opperman se gedigte word in die Dokumentesentrum van die J.S. Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch bewaar.

Diorama

Monday, October 18th, 2010

Diorama. Deur Johann Lodewyk Marais. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-356-2. Prys: R140. 87 bladsye. Sagteband.

 

Diorama

Diorama

 

Met Diorama lewer Marais ‘n waardige voortbouing op sy vorige digwerk.

Temas en vormlike en stilistiese fasette bekend uit veral die vorige drie bundels van Marais, oorheers. Veral sy reputasie as voorste natuur- en omgewingsbesorgde digter in Afrikaans word versterk.

Soos ook in die uitgewersbrief aangedui, brei Marais met die fauna- en floraverse in hierdie sewende bundel van hom veral uit op sy “voëlboek” uit 2002, Aves - hoewel sulke gedigte ook in sy ander bundels ‘n belangrike rol gespeel het. ‘n Soort versmuseum van spesies word algaande opgebou. Of, lewendiger gesien, en soos dit in deel III van die openingsgedig lui:

 

 

 

Ek wil in my gedig ‘n wildtuin skep

en jou uitnooi om besoek te kom bring

aan sy goed ingerigte boskampe

en wildernisgebiede langs waters

en by koeltebome waar daar rus is.

Gedigte oor soogdiere is in afdeling II van die bundel versamel, voëlgedigte in afdeling III en gedigte oor inheemse plante in afdeling IV. 

Maar dit gaan nie net oor die diere en plante self nie. Dis ook, en miskien veral, die mens se verhouding en bedreigende omgaan met hierdie dinge wat dioramies belig word. (Luidens die HAT is ‘n diorama “‘n visuele voorstelling waardeur ‘n skildering deur deurvallende lig lewendig na vore kom”.)

Die genoemde sentrale bundelafdelings II-IV word byvoorbeeld voorafgegaan deur ‘n soort natuurbewaringskundige én digterlike oriëntering in afdeling I. ‘n Mens kan jou verbeel dat dit dié twee, die digter en die natuurbewaringskundige, is wat in “Die spore van Laetoli” saam die res van die bundel in stap:

Ons twee, die aasmense, is die eerstes

wat in die skaduwee van Sadiman

se aswolk tussen die fluitdorings deur

na die opkomende son toe kan stap

met ons twee rye spore weggesak

op die pad na dié wat voor ons wegkoes:

haas, tarentaal, olifant en giraf.

Soms word die (lots-)verbondenheid tussen die mens en die ander skeppingsdinge sterk aangevoel. Één voorbeeld:

Rooijakkals

Canis mesomelas

 

‘n Wilde, ongetemde roep

sny skerp deur die klowe

en sterf weg in die nag.

Iets tintel teen my rug

asof daar hare op my groei

en regop sou moes staan.

          Na Alda Orton

Ook sê sulke verse dikwels meer van die mens as van die natuurdinge wat uitgebeeld word. Dringend word die verhulde aanklag deur die vormgewing in die volgende gedig:

Wildehond

Lycaon pictus

 

Die wildehond gee nie sy woord nie.

 

Die wildehond toon nie berou nie.

 

Die wildehond het nie skaamte nie.

 

Die wildehond kan nie verstaan nie.

 

Die wildehond ken nie sy plek nie.

 

Die wildehond sal jou nie groet nie.

 

Die wildehond is nie ‘n vriend nie.

Ander kere staan die mens as (beskaamde) vyand van dier en plant geteken:

Ratel

Mellivora capensis

 

Ná al sy gromgeluide en draaie

was die doodmaak van die rateltaaie

regtig nie te moeilik nie - ek skaam my

daarvoor tussen hierdie boek se blaaie.

Soos tevore in Marais se oeuvre, neem hy sorg om sy uitbeeldings met wetenskaplike kennis te laat klop. Onderaan die volksname vir die fauna en flora in die gedigtitels, verskyn telkens ook die wetenskaplike name. Die digter wil ‘n optekenaar en bewaarder wees soos die natuurkundige.

Of is hy soms ook maar net ‘n soort trofeejagter?

Rooiduiker

Cephalophus natalensis

 

Nóg ‘n dier moet vrekgemaak word

en in my vers in die stof byt,

met wyd oopgesperde kake

die laaste asem uitroggel,

dalk jammerlik ‘n bietjie bloed

by sy neusgate laat uitloop

en met dowwe oё bly lê.

Kyk, dié keer het ‘n sku ooitjie

in die waai van die Lebombo

mooitjies in my vangstrik getrap!

In afdeling V word gefokus op “[g]rondsake” - om die titel van een van die gedigte daarin te leen - met ‘n oog vir veral die sosio-politieke spoke van grondbesit. (In meer as een gedig hier kom dwalende geeste voor.) Plaasaanvalle is ‘n verdere manifestasie van dié kwessie waaroor gedig word. Let op hoe suggesties in hierdie verband met die minimum aan middele opgeroep word in:

Afrikaanse haikoes

 

I

Toe die duif opvlieg,

was dit vir hom ‘n teken

om die deur te sluit.

 

II

Dis nag en die maan

se perdehoef trap ligweg

op die vensterbank.

 

III

Ná hulle weg is,

het die bloed op die kosyn

‘n bruin swam geword.

Afdelings VI behels potretterings, wat meestal ook huldigings word, van figure wat deur hulle natuurstudie en -optekenings uitgemunt het (François le Vaillant, Phillip V. Tobias, Thomas Baines, Richard E. Leaky, en derglike); of wat dit as hulle “taak” sien of gesien het “om ‘n vinger te verroer / om soos Atlas die aarde te kan dra” (”Friedrich Dürrenmatt”).  Ten slotte volg ‘n afdeling met drie gedigte waarin die digter se verhouding met die natuur en met “hierdie stof” waartoe hy sal “terugkeer” (”RIV”, die bundelslotgedig), uitgedruk word.

In die verband van dié bundel en van sy raakpunte met Marais se voriges, verkry die indiwiduele gedigte bykomende waarde, vorm hulle onderling-na-mekaar-toe kaatsende onderdele van ‘n groter geheel - skyn daar ook op hierdie vlak ‘n soort lig deur hulle ter verlewendiging van enkelverse wat andersins weinigseggend sou kon wees.

Vergelyk hoe die volgende enkele, haas metonimiese duiding van Jane Goodall se reddingswerk met sjimpansees sterker resoneer teen die agtergrond van die talle “groen” gedigte in Marais se oeuvre - d.w.s. bý die versterkende werking van die verwysing na die bekende Michelangelo-skildery in die eerste strofe van die gedig:

Jane Goodall

 

In die begin het God

met sy wysvinger

Adam s’n

liggies aangeraak.

 

Lank daarna het ‘n vrou

ook só deur tralies

‘n sjimpansee se vinger

liggies aangeraak.

Daar is ‘n gevaar dat sommige gedigte van Marais op sigself yl kan aandoen, in kwalik meer as mededeling of beskrywing kan vassteek; dat hulle naderhand té min bevat om poëties/esteties te boei - júís ook vanweë Marais se kenmerkend onderbeklemtonende, weinig demonstratiewe styl. Dit is inderdaad asof hy in hierdie bundel (veral in die afdelings met die diere- en plant-”portrette”) nog vollediger gehoor gee as voorheen aan die “sy” se raad in “Ex unguine leonem”, naamlik om as subjek te “leer terugtree uit die lig”.

Kortom, ek vrees dat die voortgesette aanpak van dieselfde soort onderwerp met dieselfde gestrooptheid op die duur eenselwigheid in die hand werk.

Gelukkig bring die digter op verskeie wyses variasie in hierdie gedigte teweeg, byvoorbeeld deurdat sommige gedigte beskrywend of sketsagtig geaard is, ander bespiegelend of besinnend; of deurdat in sommige die in die titel aangekondigde onderwerp die hele gedig oorheers, terwyl die benoemde dier of plant in ander eintlik net sydelings ter sprake is.

Ook: soms word spesies kennelik bewonder; ander kere gaan dit om menslike aantastings van dié spesies (se leefwêreld), of om die verhouding tussen mens en natuurding, soos aangetoon. En gedigte soos “Okapi” (’n eenwoordgedig: “Aha!”) en “Rietduiker” bring welkome stilistiese en tipografiese afwisseling.

         

Rietduiker

Phalacrocorax africanus

 

Hy het uit die kabbelende water

geglip

en op ‘n seepgladde klip

langs die rivier tussen die mopanies

gewip

e n  h o m  m e t  u i t g e s p r e i d e  v l e r k e

in die wit son

droog gedrup en gedrup.

 

Bernard Odendaal, departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Johann Lodewyk Marais. RICHARD E. LEAKEY

Sunday, September 12th, 2010

Digstring. Enkele vrae oor die rugstring van ‘n gedig

Louis Esterhuizen in gesprek met Johann Lodewyk Marais

  

 RICHARD E. LEAKEY 

Here is the Africa of unlimited space,

of tranquility and of great beauty.

           

Die huis met sy wye uitkyk

suidwes oor die Groot Skeurvallei

bied aan die gesin na maande

se ondersoek ‘n verposing.

 

Hier kan hy Ol Donyo Lengai

ver in die vallei sien sluimer

en vroegaand die Masaikinders

met hulle beeste hoor aankom.

 

Wanneer die maan oplaas ligtend

bo die vlaktes en berge hang,

sal hy ‘n oomblik lank terugsit

en oor name van spesies peins.

 

  

Wanneer het jy dié gedig geskryf? Hoe het dit ontstaan?

 

RICHARD E. LEAKEY
RICHARD E. LEAKEY

Op 2 Maart 2008, maar ek het daarna weer aan die gedig verander. Ek het op hoёrskool ‘n artikel oor dr. Richard E. Leakey in Die Huisgenoot van 18 Januarie 1974 gelees. Dit vertel van Leakey se ontdekking van ‘n 2,8 miljoen jaar oue skedel aan die oewer van die Rudolfmeer (later die Turkanameer) in Noord-Kenia. Die artikel en ‘n foto van Leakey “met sy ‘Adam’” voor ‘n rak met natuurkundige boeke het ‘n geweldige indruk op my gemaak. Dit het trouens baie tot my jare lange belangstelling in die Leakeys en Kenia bygedra. Vroeg in die 1990’s het ek die charismatiese Richard Leakey twee lesings in Suid-Afrika hoor lewer. Saam met hom op die verhoog van ‘n volgepakte Great Hall van die Universiteit van die Witwatersrand was vermaarde paleoantropoloё soos proff. Phillip V. Tobias en Ron Clarke, en dr. Bob Brain. Leakey het ‘n lesing oor sý paleoantropologiese werk gelewer. Wat ‘n belewenis! Kort daarna het hy by Eskom se Megawattpark oor natuurbewaring in Kenia gepraat. Dié aand het hy korte mette gemaak met Suid-Afrikaners in die gehoor wat teen die CITES-verbod op ivoorhandel gekant was. Na dié besoek het ek omtrent alles gelees wat hy geskryf het. My latere besoeke aan Kenia het my na die Nairobi National Museum geneem waar onder meer van die skedels (eintlik “kroonjuwele”!) te sien is wat die Leakey-familie (en fossielsoekers soos Heslon Mukiri en Kamoya Kimeu!) in Oos-Afrika gevind het. Ek het ook besoek gebring aan museums en parke in verskillende dele van die land wat Richard Leakey as direkteur van die National Kenya Museums en later as direkteur van die Kenya Wildlife Service help vestig en in stand hou het (deur byvoorbeeld ‘n paramilitêre eenheid op die been te bring om wildstropery aan bande te lê). Op die eiland Lamu, hoog op teen die Keniase kus, het ek spesiaal moeite gedoen om Richard en Meave Leakey se Swahili-vakansiehuis te sien. Ek het ook gesprekke met gewone Keniane oor hierdie beroemde én omstrede man gevoer. Kortom, my gedig(gie!) oor Richard E. Leakey het eintlik ‘n lang ontstaansgeskiedenis.

 

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

My gedigte is selde ná die eerste skryfpoging klaar. Gewoonlik is daar ‘n hele aantal handgeskrewe of getikte weergawes van ‘n gedig. Daarna kry en/of vra ek dikwels terugvoer oor die woordkeuse, woordorde, ritme en versbou. Ek het uitstekende “literêre adviseurs”, wat help om talle gedigte hulle finale vorm te gee. Veral wanneer ‘n mens tussen twee of drie woorde moet kies, help dit baie om ‘n tweede of derde mening te kry. Ek werk hard en dikwels jare lank voordat ek met ‘n gedig tevrede is. Wanneer die gedig eers in ‘n bundel verskyn, is daar min wat ek verder daaraan kan of wil doen. Dan stop ek en bepaal my aandag by nuwe werk.

 

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

In die lig van wat ek vroeër gesê het, moet dit duidelik wees dat hierdie nie ‘n “toevallige” gedig is wat op die ingewing van die oomblik ontstaan het nie. Die skryf self het weliswaar redelik vinnig verloop, hoewel die gedig aanvanklik in die tweede persoon geskryf is en ek nogal met die slotreël gesukkel het. In die slot wou ek immers iets sê oor Leakey se paleoantropologiese preokkupasie, maar dit op so ‘n manier doen dat die gedig meer as net wetenskaplike feite weergee. Joan Hambidge het in haar resensie van Diorama in Die Burger (23.8.2010) bevind dat die beeldgedigte nie “dordroё navorsingsgedigte” is nie. Dit is vir my ‘n riem onder die hart.

 

Hoe het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

Ek het ‘n resep wat goed vir my werk. Gewoonlik probeer ek die woorde in ‘n redelik beproefde struktuur giet, tel dikwels die lettergrepe in elke versreёl, luister of die klank reg is, en besluit of suggestie genoegsaam bewerkstellig is en die gedig visueel “reg” op die bladsy lyk. Maklik, nie waar nie?

 

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en met die persoon bespreek? Is daar iemand (of ‘n instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

 

Ja, ek wys graag my gedigte vir dié wat bereid is om as klankbord op te tree en, indien nodig, voorstelle ter verbetering van my gedigte te maak. Renée Marais was veral in die beginjare as ‘t ware ‘n tweede stoel agter my lessenaar. Met haar sintuig vir die poësie en taalgevoeligheid maak sy goeie voorstelle. Sedert 1986 is ek ook ‘n lid van die digtersbyeenkomste onder leiding van vader Bonaventure Hinwood wat gereeld in Pretoria bymekaarkom om mekaar se gedigte te bespreek. Mense soos Hinwood, Henk Havenga, Costa André Georghiou en Kobus van der Riet lewer almal ‘n bydrae tot my werk. Vroeër het Johann de Lange goeie wenke gehad en ek gaan steek soms kers op by die groot Sestiger, D.P.M. Botes. Ek moet ook Martjie Bosman se naam noem. Sy is ‘n intelligente leser van my poësie en kom meermale met uitstekende wenke vorendag. Ek is baie dankbaar vir die bydrae wat sy (en die twee keurders!) tot die afronding van veral Diorama gelewer het. Haar geduld is tot die uiterste beproef, want ek verander nog aan gedigte tot op die finale bladproewe! Dan benut ek ook literêre tydskrifte om van my gedigte afstand te kry en verander hier en daar nadat hulle daarin gepubliseer is. ‘n Digter hoef nie met die kaarte teen die bors te sit en speel nie, en moet ook nie!

 

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Die gedig het die eerste keer in Literator 30(3), Augustus 2009 verskyn. Daarna is die gedig in Diorama (2010) opgeneem.

 

Kan jy ‘n ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Die gedig is op “feitelike gegewens” gebaseer, maar die “fiksie” dra tot suggestie by. Maar moet nooit vergeet nie, ek is baie op feite gesteld. Antjie Krog en Petra Müller het albei al gefrons oor die prioriteit wat ek aan feite in (my) gedigte gee. Ek wil nie leer nie! My benadering is anders.

 

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Dit is nie ‘n moeilike gedig nie. Die leser behoort self ‘n antwoord op hierdie vraag te kan gee. Ek dink wel dat die gedig veral iets met verwondering te make het …

 

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die totstandkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Daar is sekerlik baie boeke agter hierdie gedig. Daar is nietemin veral ‘n gedeelte in Leakey (en Virginia Morell) se Wildlife Wars: My Battle to Save Kenya’s Elephants (2001) waarin Leakey skryf oor die gesin se woning met ‘n uitsig oor die Groot Skeurvallei “which drops away some fifteen hundred feet and stretches across forty miles”. Op ‘n helder dag “you can see for more than a hundred miles. The highlands of Tanzania’s famous Ngorongoro Crater and the last active volcano in this area, Oldonyo Lengai, are both clearly visible” (p. 24). ‘n Keer het ek tydens ‘n vlug na Nairobi dié vulkaan sien uitbars en by verskillende geleenthede oor die manjifieke Groot Skeurvallei uitgestaar. Leakey skryf mooi oor sy ervarings.

 

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

 

Nie noodwendig nie. Ingeligte en literêr geskoolde lesers is belangrik, maar dit gee my groot vreugde indien nieliterêre lesers en lesers wat in ander dissiplines geskool is in my werk belangstel. Die nieliterêre leser is baie belangrik en ek wens ons kan nog meer van hulle in die Afrikaanse poësie geïnteresseerd maak. Die Afrikaanse poësie bied immers ‘n ryk skat. Met my werk oor die omgewing en bietjie belesenheid in die natuurwetenskappe hoop ek om ‘n effens ander dimensie by te dra, al het ek sekerlik voorlopers soos N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Wilma Stockenström en T.T. Cloete.

 

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Verstegnies verskil die gedig waarskynlik nie baie van my ander gedigte nie. Tematies handel die gedig oor Oos-Afrika, wat al meer en meer ‘n onderwerp van my navorsing en gedagtes is. Ek het die afgelope tyd iets van ‘n digterlike ontploffing beleef en die meeste van die gedigte is geskryf na aanleiding van my Oos-Afrikaanse leeswerk en reise.

 

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nee. Nie alles wat ek skryf handel oor Suid-Afrika en hoef oor Suid-Afrika te handel nie. ‘n Mens sou dit dalk vir wat dit werd is ‘n Keniase of Afrika-gedig kon noem.

 

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Ek is tevrede met die gedig. Oor Leakey sal ek moontlik nog meer (gedigte) skryf.

 

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Die lede van die digtersbyeenkoms het positief op die gedig gereageer. Nadat Literator hierdie en nog ‘n klompie ander gedigte oor figure ontvang het, het die hoofredakteur, prof. Hein Viljoen, laat weet dat hulle “treffend en aktueel” is. Ek het dus niks om oor te kla nie, hoewel die gedig tot dusver deur min ander lesers uitgesonder is.

 

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ‘n ietsie daarvan.

 

My eerste gedig was ‘n liefdesgedig wat ek oor my skoolmaat, Dalene van Rooyen, geskryf het. Ek was in standerd 5 op Harrismith en ek het haar een aand by ‘n volkspelebyeenkoms raakgeloop, met haar gedans en die aand dolverlief daar weggegaan en lank daarna verlief gebly. Dit sê nogal iets van die poësie dat iets so intens en persoonlik soos die liefde ‘n mens uitdrukking in hierdie medium laat soek of jou hart daarin wil laat uitstort. Ek was in standerd 5 nog geen groot leser nie, maar die muse het my om een of ander rede kom opsoek. Nou ja, eerste liefdes het ‘n manier om ‘n mens by te bly en dalk probeer ek maar nog altyd om daardie eerste gedig oor en oor te skryf en te verbeter! Ons Engels-onderwyseres in die hoёrskool, Miss El Bedford, het ons immers ad nauseam “corrections of corrections” en “corrections of corrections of corrections” laat doen. Dit het, vreemd genoeg, ‘n soort literêre perfeksionisme by my wakker gemaak.

 

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ‘n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ‘n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal.

Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek.  Sy nuutste digbundel Diorama het vanjaar by Protea Boekhuis verskyn. Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring kom van Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens“.

Onderhoud met Johann Lodewyk Marais

Sunday, August 22nd, 2010

Om op ver paaie te loop

Costa André Georghiou in gesprek met Johann Lodewyk Marais oor sy jongste digbundel Diorama

* * * 

 

All the arguments to prove man’s superiority cannot shatter

 this hard fact: in suffering the animals are our equals.

Peter Singer, Australiese filosoof

 

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais is op 21 Desember 1956 in Johannesburg gebore en het in 1975 aan die Hoёrskool Harrismith gematrikuleer. Daarna studeer hy aan die Universiteit van Pretoria waar hy in 2001 ‘n D.Litt.-graad (cum laude) vir sy proefskrif oor Eugène N. Marais se wetenskaplike prosa verwerf. Hy het vroeër onder meer ‘n M.A.-graad (cum laude) oor opleiding in skeppende skryfwerk aan dieselfde Universiteit behaal.

Marais debuteer as skeppende skrywer met die digbundel Die somer is ‘n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonker-prys kry. Hy skryf nog vyf bundels, naamlik Palimpses (1987), By die dinge (1989), Verweerde aardbol (1992), Aves (2002) en Plaaslike kennis (2004). Hy stel ook drie digbundels saam, naamlik Groen: Gedigte oor die omgewing (1990), Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1905 (2006). In 2003 verskyn sy eerste prosawerk, naamlik Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek.

Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort

 

 

Costa André Georghiou het op 18 Augustus 2010 met Johann Lodewyk Marais in Pretoria gesels. Georghiou en Marais het dieselfde jaar aan die Sekondêre Skool Harrismith gematrikuleer en albei aan die Universiteit van Pretoria gestudeer. Georghiou het daarna vir die Departement van Buitelandse Sake gewerk en as diplomaat Suid-Afrika in Hongkong, Griekeland, Suid-Korea en by die Verenigde Nasies in New York verteenwoordig. Tans is hy ‘n dosent in internasionale politiek aan die Universiteit van Johannesburg. UNISA ken in September 2010 ‘n doktorsgraad in internasionale politiek aan hom toe vir sy proefskrif oor die Amerikaanse politieke wetenskaplike Samuel P. Huntington. Georghiou is ook ‘n bekende klavier- en orrelspeler en werk tans aan sy eerste digbundel.

Georghiou: Johann, dit is vir my ‘n voorreg om hierdie vrae aan jou te stel na aanleiding van die publikasie van jou sewende en jongste digbundel, Diorama (2010). Ons het albei ver paaie geloop oor hierdie “dioramiese” aardbol en het nou meer vrae as ooit tevore.

Baie van jou gedigte herinner ‘n mens nogal aan die werk van ‘n bioloog of ekoloog. Dit kom weer eens in Diorama na vore. Vanwaar jou groot liefde vir die natuur?

Marais: Hoewel ek in Johannesburg gebore is, het ek my eerste twaalf jaar op ‘n plaas in die distrik Harrismith deurgebring waar my ouers geboer het. Wanneer ek oor myself praat, moet ek gewoonlik met hierdie woorde begin! Daarna het ek op Harrismith skoolgegaan waar ‘n mens min of meer altyd Platberg uit die hoek van jou oog kan sien, terwyl die Drakensberge natuurlik nie ver daarvandaan is nie. Hierdie landelike wêreld het nie noodwendig van almal natuurliefhebbers gemaak nie. Is Rocco de Villiers byvoorbeeld ‘n natuurliefhebber? Ek is van vroeg af aan die wisselende seisoene, die strawwe winters, die oostewind van Natal af en die ryk fauna en flora blootgestel. Ek het baie herinneringe aan relatief gelukkige kinderjare.

            Nadat ons op die dorp gaan woon het, het my belangstelling in die natuur voortgeduur. In standerd nege het ek ongelukkig nie biologie as vak gekies nie, wat ek gou daarna bitter berou het. Dit het as ‘t ware my kanse om dier- of veeartsenykunde te gaan studeer die nekslag toegedien. ‘n Keer het ek oorweeg om ‘n veldwagter te word, maar van die plan afgesien nadat ‘n vriend, Bernhard Fourie, volgehou het ‘n mens moet eers ‘n polisieman word voor jy by natuurbewaring kan “inkom”. Hy is ‘n neef van Arnold Schreiber, een van die Nasionale Krugerwildtuin se legendariese veldwagters. Ek het nie vir vier jaar in die polisie kans gesien nie.

            Gelukkig het ek van jongs af heelwat oor die natuur en mense in die natuur gelees. Aanvanklik was dit die werk van skrywers soos Eugène N. Marais, P.J. Schoeman, Sangiro, Jan J. van der Post en Evert F. Potgieter, maar na my universiteitsjare ook buitelandse skrywers soos Konrad Lorenz, Richard E. Leakey, Jane Goodall, Diane Fossey, Biruté M.F. Galdikas, Cynthia Moss, Anne Rasa, Joyce Poole, Frans de Waal en Iain Douglas-Hamilton. My proefskrif oor Marais se wetenskaplike prosa het binne hierdie belangstellingsfeer beslag gekry.

            Vandag het ek talle veldgidse, ‘n verkyker, teleskoop en twee mikroskope waarmee ek die wonder van die natuur probeer bestudeer. Dit is daarom seker te verstane dat ek gevoelig sal wees vir die baatsugtige wyse waarop die mens met die natuur omgaan en hoedat ons vervreem en verwyder geraak het van die omgewing waarin ons leef. In die gesprek wat in Suid-Afrika oor die ewolusie gevoer word, is dit opvallend hoedat dikwels aan die mens ‘n unieke posisie totaal verhewe bo alle ander lewende wesens op aarde toegeken word. Ja, as mens is ek “weinig minder as ‘n goddelike wese” (Psalm 8:6), maar ook trots daarop om een van die primate te wees.

Georghiou: Soos die titel aandui, volg jou nuwe bundel ‘n meer holistiese benadering. Daar is ook baie elemente van “selfbepeinsing”. Dis amper vir my asof jy in jou latere gedigte, en veral nou in Diorama, ‘n meer postmodernistiese benadering begin volg. Jou vroeëre gedigte het oor diere, plante, artefakte en plekke gehandel - dus meer sintuiglik. Ek sien al hoe meer verwysings na spesifieke persone (kyk afdeling VI) en na jouself, na die “ek” (kyk byvoorbeeld “RIV”); dus ‘n selfbewuswording in jou gedigte. Jou kommentaar?

Diorama

Diorama

Marais: As ‘n kind van my tyd is daar sekerlik elemente van die postmodernisme in my werk. Wat die selfbewuswording betref, glo ek wel dat ek reeds in Palimpses (1987) my daarmee besig gehou het. Ek beskou my bestaan in ‘n toenemend wyer verband. Aanvanklik was die plaas in die distrik Harrismith die middelpunt van my bestaan, maar ek het geleidelik meer met Suid-Afrika en Afrika kennis gemaak. Ek is ‘n mens van Afrika en moet daarvan rekenskap gee. Die mense na wie ek in my werk verwys is meestal besondere mense oor wie ek gelees het of wat ek die voorreg gehad het om te ontmoet. Waar my mede-Tagtigers veral oor mense in die vermaaklikheidswêreld geskryf het (Johann de Lange het weliswaar uitstekende gedigte oor diere in sy oeuvre), het ek my tot François le Vaillant, Charles Darwin, Phillip V. Tobias, Joy en George Adamson, Richard E. Leakey, Jane Goodall en ‘n klompie ander gewend. In my laai is nuwe gedigte oor Nelson Mandela, die vermoorde Keniase politikus Tom Mboya, Mahatma Gandhi en nog enkele ander. Ek sou wou glo dat ek nie digterlik stagneer nie!

Georghiou: Dink jy daar is toenemend ‘n vervreemding tussen die mens en sy beskouing van hom-/haarself en hoe hy/sy deel uitmaak van die natuur/omgewing?

Marais: Ongetwyfeld. Sedert die Industriële Rewolusie staan die mens grootliks ongevoelig teenoor die natuur. Filosowe soos Martin Heidegger, Hans Jonas, Marthinus Versfeld, J.H. van den Berg, Murray Bookchin, James Lovelock en Peter Singer het op die negatiewe gevolge van hierdie vervreemding gewys. Die mens is ‘n hoogs arrogante spesie wat sy eie oorlewing en welvaart ten koste van ander lewe op aarde wil voortsit. Ons dade teenoor die omgewing skrei ten hemele.

Georghiou: Dit is asof jy in jou gedigte bykans deurentyd jou besorgdheid oor die aftakeling van die natuurlike omgewing aan jou lesers wil uitwys; ‘n soort profetiese blik op wat met die aarde gaan gebeur. Diegene wat jou gedigte lees, is dalk reeds “oorreed”. Maar gaan dit enigsins ‘n impak hê op die menigtes daarbuite wat nie vir die omgewing “omgee” nie.

Marais: Ek is nie heeltemal so seker dat al my lesers al bekeer is nie. Daarvoor is te veel van ons (en dit sluit my dalk ook in) aandadig aan die verkwisting van die aarde se natuurlike hulpbronne. Die bewusmakingsproses het nog ‘n hele pad om te loop. Ideaal gesproke behoort meer oor kwessies geskryf te word wat nie in my poësie aandag kry nie. Jou vraag impliseer waarskynlik ook of die poësie as genre by “die menigtes” sal kan uitkom. Die poësie is weliswaar ‘n betreklik esoteriese genre, maar dit het die vermoë om stadig maar seker na die breë publiek deur te werk. ‘n Enkele gedig in ‘n skoolbloemlesing kan ‘n ontvanklike leser se verbeelding prikkel. Daardie soort ontvanklikes het die potensiaal om ‘n verskil in die gemeenskap te maak (en hulle hoef nie digters of letterkundiges te word nie!).

Georghiou: Die mens se kultuur kom dikwels in opstand teen die natuur. Dink maar aan die slag van diere vir godsdienstige seremonies. Is die behoud van die mens se kultuur nie net so belangrik soos die behoud van die natuur nie?

Marais: Kultuur is belangrik en dit is ons taak om dit te bewaar. Kultuur bly egter nie staties nie en met verloop van tyd raak ons ontslae van sekere gebruike wat eens groot waarde vir ons gehad het. ‘n Masaiman hoef in Kenia en Tanzanië nie meer ‘n leeu dood te maak om sy manlikheid te bewys nie, terwyl die Kataloniërs besluit het om ‘n verbod op stiergevegte te plaas. Ongelukkig word sekere kulturele gebruike nog voortgesit en ons betaal ‘n duur prys daarvoor. Dink maar aan Oosterlinge se opvatting dat renosterhoring ‘n seksstimuleermiddel is, en die eet van walvisvleis in Japan ten koste van die voortbestaan van sekere walvisspesies in die Suidelike Oseane en bosvleis (soos verskillende soorte ape) in tropiese Afrika. Ja wat, ons kan maar van sekere gebruike afstand doen. Godsdienstige seremonies as sodanig het egter waarskynlik ‘n veel kleiner invloed op die uitwissing van spesies as ander praktyke.

Georghiou: Adrian Mitchell skryf: “Most people ignore most poetry / because most poetry ignores most people.” Wat dan is vir jou die nut van die poësie?

Marais: Hierdie vraag word waarskynlik die beste in my gedigte self beantwoord. Daar waar die leser my poetika in en tussen die reëls kan lees. Maar goed, om poësie te skryf het vir my betekenis as deel van ‘n leerproses (byvoorbeeld oor die gedrag van diere), historiese verslagdoening (byvoorbeeld oor my familiegeskiedenis), bewusmaking (byvoorbeeld oor die wonder van lewe om my) en ‘n geheime kode (byvoorbeeld oor die liefde) om na mense na aan my uit te stuur. Dit is ook ‘n medium wat besondere dissipline, strukturering en toewyding verg. ‘n Mens is maar te bly indien daar lesers is wat iets van waarde in die gedigte vind. Ek was nog altyd ontroer oor hoe my Harrismithse lesers of mense wat saam met my navorsing in die Laeveld gedoen het op my gedigte reageer. Kortom, die poësie is ‘n belangrike faset van kultuur. Groot digters soos Federico Garcίa Lorca, T.S. Eliot, Martinus Nijhoff, Pablo Neruda en N.P. van Wyk Louw is spilfigure in hulle onderskeie kulture en oefen groot invloed uit.

Georghiou: Daar is talle Bybelse verwysings in jou gedigte, byvoorbeeld na ‘n “Hemelse Vader” (byvoorbeeld in Aves, 2002) en “God het gesien dat alles goed is” (”Kleinstreepswael” in Diorama). Tog verwys jy gereeld na ewolusioniste soos Charles Darwin (in Aves), Phillip V. Tobias en Richard E. Leakey (albei in Diorama); asook na Sterkfontein waar belangrike opgrawings oor die oorsprong van die mens gedoen is. Veral “Jane Goodall” in Diorama dui op hierdie tweeledigheid. Hoe vereenselwig jy hierdie twee uitgangspunte?

Marais: Gegewe dat my Bybelse verwysings werklik betekenis het en my werk ook ‘n Darwinistiese inslag het, kan dit inderdaad lyk asof hier van ‘n “tweeledigheid” sprake is. Richard Dawkins en ons eie George Claassen sal waarskynlik van mening wees dat dit vanuit ‘n natuurwetenskaplike oogpunt onhoudbaar is. Laat dit maar so wees.

            In my poësie is weliswaar van vroeg af ‘n bemoeienis met die Christelike godsdiens aanwesig, terwyl selfs in my bundels oor die omgewing ‘n hand vol gedigte voorkom waarin ek my met die Christelike godsdiens vereenselwig en bepaalde persoonlike keuses in hierdie verband gemaak het. Gaan kyk maar wat staan in “Die besoek” (in By die dinge, 1989). Ek het in ‘n Christelike huis grootgeword en ek streef nog altyd hierdie waardes na. Maar hoe nou gemaak met die invloedryke Darwinisme wat (gewoonlik?) geen plek aan God gee as die skepper van hemel en aarde en ‘n bemoeier met die mens nie?

            Verlede jaar het ek vir Tydskrif vir Geesteswetenskappe (jaargang 49, nommer 4, Desember 2009) ‘n artikel oor onder meer die Darwinisme in T.T. Cloete se poësie geskryf. Dit het my oor die jare heen opgeval dat die leser toenemend met dieselfde “tweeledigheid” in Cloete se werk gekonfronteer word. Ek wou klarigheid hieroor kry. Die artikel was ‘n poging om te sien hoe hierdie digter met sowel ‘n Bybelse as natuurwetenskaplike belesenheid skryf en hoe hy as Christen (soms “omstrede”) wetenskaplike kennis benut.

            Dit is ‘n uitdaging om denkend met sowel wetenskaplike kennis as God se rol rekening te hou. As sosiaalwetenskaplike by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing het ek self ervaar hoedat hierdie kennis nie onfeilbaar is nie en hoedat ons krities na die waarheid moet bly soek. In ‘n volgende bundel kan my posisie in hierdie verband dalk duideliker word.

Georghiou: Ek sien “Bosvark” het ‘n verwysing na André P. Brink. Dit laat my terugdink aan ons ontmoeting met hom op 28 Oktober 1974 op Harrismith. Dis asof dié ontmoeting (en later ons bywoning van Breyten Breytenbach se verhoor) ons op skool as “outsiders” geëtiketteer het. Jou kommentaar?

Marais: Brink was in die Oos-Vrystaat om by te wees toe die rolprent Somer gemaak is. Hy het die draaiboek na aanleiding van C.M. van den Heever se (uitstekende!) novelle met dieselfde titel geskryf. Ná die verfilming het hy en sy gesin een aand in die Holiday Inn op Harrismith tuis gegaan. Daar het oom Polly du Plessis, wat getroud was met jou musiekonderwyseres, hom toevallig ontmoet en na julle huis toe genooi. Jy het gebel en gesê daar is “iemand wat my graag wil sien” (sic). Ek was totaal oorbluf toe ek Brink in julle sitkamer aantref, al was ek half gewoond daaraan om interessante en bekende mense by julle “huis van die vier winde” te ontmoet.

Brink se besoek het helaas ‘n nadraai gehad. Ek het kort daarna ‘n besoek van ‘n lid van die Buro vir Staatsveiligheid ontvang. Hy het kom uitvis oor Brink se besoek en my opstel, “Vensters”, waarin ek onder meer geskryf het oor Ahmed Timol wat by John Vorster-plein van die tiende verdieping af itgespring het. Hy wou weet of daar dalk iemand is wat my beïnvloed. Bid jou aan! Ek is ook gewaarsku dat ek voortaan dopgehou sou word, wat wel gebeur het. Ná Brink se besoek het ek geweet selfs ‘n dorp soos Harrismith is vol informante.

            Brink se besoek en my opstelle het my inderdaad as ‘n “outsider” geëtiketteer. Dit het ook my belangstelling in die letterkunde verder geprikkel en my laat besluit om in hierdie rigting te gaan studeer. Vandag is ek wel dankbaar ek en jy kon reeds in standerd nege kritiese stemme laat opgaan oor die soort diskriminerende samelewing waarin ons ons bevind het. Dalk het ek nie genoeg van my kant af gedoen om die stryd teen apartheid te stry nie, maar tydens my laaste twee skooljare was my posisie duidelik en ek was bereid om op my standpunt te staan. Ek en jy was, na my wete, die eerstes wat reeds op skool op Harrismith die oortuiging gehad het om dit te doen.

Georghiou: Na aanleiding van “Kameelperd” (oor plaasbesetting in Zimbabwe), “muti shop” in “Gifbol” en gedigte soos “Plaasaanval” en “Grondsake” wonder ek of die politieke probleme van Afrika ooit vir ware kontinentale besorgdheid oor die aftakeling van die omgewing sal kan plek maak. Voer ons nie maar ‘n verlore stryd in dié opsig nie, soos om ‘n “kolletjie gifblaar” (in “Gifblaar”) te probeer toespan?

Marais: Mense is in Afrika net so wreed teenoor diere as wat hulle teenoor mense is. Die konflik in onder meer Angola, Mosambiek en Zimbabwe het ewe veel tragiese gevolge vir die omgewing as vir die mense van dié lande gehad. Die AK47 en die R1 het ook miljoene diere doodgemaak. Gelukkig is daar in Afrika ook mense wat hard werk om ‘n besorgdheid oor die aftakeling van die omgewing te kweek. Iemand soos die Nobelpryswenner vir Vrede, Wangari Maathai (wie se woorde ek as motto voor in Diorama gebruik), het in Kenia met haar Green Belt Movement miljoene bome geplant en is daar wyd bekend. Ook talle ander individue en organisasies leer die mens om in harmonie met sy omgewing te leef. Vanselfsprekend behoort die kunste ‘n groter rol te speel om mense bewus te maak van hoe belangrik die omgewing is. Ons het met die Afrikaanse letterkunde baie gedoen om van apartheid ontslae te raak, maar ons protesteer nog nie hard genoeg oor wat besig is om met die omgewing te gebeur nie.

Georghiou: Ten slotte, Johann: Volgens Jeremy Reed (in sy essay “The angel of poetry”) “we demand more of the poem than a social conscience”. Dink jy jou gedigte voldoen aan hierdie vereiste?

Marais: Daaroor sal my lesers moet besluit, maar ek hoop tog wel so. Ek sal graag wil hê dat ek vanuit ‘n beskeie perspektief bygedra het tot bewuswording van die implikasies van ons teenwoordigheid op hierdie tragiese dog wonderlike kontinent. Ek beskou myself as ‘n bevoorregte en geseënde mens om enkele aantekeninge hier aan die suidpunt van Afrika te kon maak.

 ***

 

Besoek aan die swart stad

Tuesday, July 20th, 2010
Maputo se katedraal

Maputo se katedraal

Ek dink die hele naweek lank aan Breyten Breytenbach se gedig “Die swart stad” uit sy bundel Kouevuur:

weer jou veral teen die bitterheid, swart kind,
dit, en dat jy nie mag droom nie…

Ek probeer onthou hoe die res van die gedig gaan. Ek dink ook oor Johann Lodewyk Marais se boek Lae wolke oor Mosambiek, wat ek ʼn paar jaar gelede gelees het. En aan Ruth First se boek Black Gold, oor trekarbeiders van Mosambiek wat in Suid-Afrikaanse myne werk. Naby die plek waar Ruth First se kantoor was, by Eduardo Mondlane Universiteit, is nou ʼn gedenksteen.

My jongste broer Jan en sy vrou Lirette gaan Maputo toe vir die naweek. Hulle wil weet of ek wil saam. Natuurlik! Ons vriendin Erika spring ook in my broer se Jeep en ons slaan die snelweg oos. Die seil oor die kajuit wapper in die ysige Hoëveldwind. Maar dis okei, ons gaan somer toe.

“Kouevuur” is in 1969 gepubliseer. Dis die jaar toe ek gebore is. Maputo was toe nog Lorenco Marques. Dis waar die gedig geskryf is. LM Radio. Suid-Afrikaners sit op die Costa do Sol se stoep en eet kreef, kyk deur die palmbome vir die oseaan. Blou teëls op die vloer, die gebou se art deco lyne.

In 1975 het Mosambiek onafhanklik geword. Lorenco Marques se naam is na Maputo toe verander. Portugese is die keuse gegee om Mosambiekse burgers te word. Anders is hulle toegelaat om die land binne 24 uur te verlaat, met 20kg bagasie. Die huidige president, Armando Guebusa, het destyds daardie opdrag gegee. Vir lank het hulle hom “Mister 20/24″ genoem. Van die 200 000 Portugese in Mosambiek het 180 000 die land binne ʼn bestek van ʼn paar dae verlaat. Alle eiendom is genasionaliseer.

knip en kam liewer gereeld jou papajaboom
en onthou die wolke tree op ook vir jou
en rotte eet vullis

Na onafhanklikheid het ʼn burgeroorlog uitgebreek. Frelimo teen Renamo. Frelimo met ʼn magsbasis in die suide, gesteun deur o.a. Rusland en Oos-Duitsland. Renamo in die noorde, gesteun deur o.a. Suid-Afrika.

Jan, my broer, het in die laat-negentigs vir twee jaar lank in Mosambiek gewoon. Hy praat gevolglik Portugees, wat dinge makliker maak - onderhandelinge by die grenspos, met verkeerspolisie - sulke dinge. Destyds met die vloed was Jan betrokke by hulpverlening aan die land. Doeanebeamptes wou omkoopgeld hê voor hulle noodvoorraad en voedsel deur die hawe sou toelaat. Ek weet nie of Jan die omkoopgeld betaal het nie.

Ons het destyds, in 1998, vir hom gaan kuier met die trein. By Ressano Garcia, op die grens, was daar nog koeëlgate in die mure. Maar nou was die oorlog was verby. Stilgehou in die Herbert Baker-stasiegebou. Dis turkoois geverf. Maputo is ʼn pragtige stad. Destyds, in 1998, het dinge reeds beter begin lyk. ʼn Burgeroorlog kan nogal onaangenaam wees.

Die Jeep kom in Maputo aan. Tot onlangs was dit nogal moeilik om van die buitewyke van die stad tot in die middestad te kom; geen straatligte nie, slaggate in die paaie, orals was verkeersknope. Nou is daar splinternuwe paaie, straatligte, dubbelbane in en uit die stad, verkeersligte wat die vloei reguleer. Dit voel soos ʼn nuwe stad. Ons boek ons by die backpackers in. Dis reeds laat en ons is honger. Soos soveel Suid-Afrikaners voor ons gaan sit ons op die Costa do Sol se stoep. MacMahon draught, kreef, garnale, barrakuda - op die kole gaargemaak.

Dis Saterdag. Skaars vyf ure van Johannesburg af is dit somer. Ek dra ʼn T-hemp. Stap in die strate rond, bewonder die argitektuur. Ek sal Sao Paolo en Lissabon moet besoek. Cobra-styl van argitektuur, Brasiliaans, as ek dit nie mis het nie. Ons neem die veerboot oor die rivier, wat ook die hawe se ingang is. ʼn Massiewe vragskip vaar verby. Gesels op die veerboot met twee mans van Swaziland wat vir die naweek see toe gekom het. Aan die oorkant, by Catembe, stap ons op die strand tot by ʼn restaurant onder casuarinabome. Eet garnale, drink witwyn.

Na 1975 is daar bitter min nuwe geboue in Maputo opgerig. Die stad het dus daardie aaklige postmoderne fase gemis wat lelike plekke soos Sandton in Suid-Afrika veroorsaak het. Dis elegante, modernistiese lyne. Parketvloere, houttrappe. Lieflik. Selfs die backpackers waar ons tuisgaan het houtvloere. Nou staan die stad vol hyskrane. Nuwe geboue word opgerig, oues weer geverf.

Ons besoek die katedraal in die middestad, langs die stadsaal. Toevallig is daar ʼn troue wat klaarmaak en ons kry ʼn kans om die gebou van binne te sien. Dis massief, ʼn katedraal wat vir ʼn wêreldstad bedoel is. Maputo is weer besig om ʼn wêreldstad te word.

waak veral teen die slymerige swart papaja
van bitterheid, swart kind -
hy wat daarvan eet sterf op bajonette
en in biblioteke,
sterf alleen in die mond

Op die laaste dag eet ons ontbyt langs die see. Dis ʼn bootklub. Idillies. Mense roei met kajakke op die stil oseaan. Op die strand voor die restaurant se stoep speel ʼn kleuter, haar ma en pa naby, asook ʼn oppasster in daardie kenmerkende bediende-uniform wat jy ook in Johannesburg sien.