Posts Tagged ‘Johann Lodewyk Marais’

Onderhoud met Martjie Bosman (Vloeibare middelpunt)

Tuesday, June 21st, 2016

martjie bosman vloeibare middelpunt_b-horz

Johann Lodewyk Marais in gesprek met Martjie Bosman

oor haar nuwe digbundel, Vloeibare middelpunt

*

Martjie Bosman se derde digbundel, Vloeibare middelpunt (2016), het onlangs by Protea Boekhuis verskyn en volg op Landelik (2002) en Toevallige tekens (2010). Sy is met die Ingrid Jonker-prys vir haar debuutbundel bekroon.

Marais: In jou eerste twee digbundels handel heelparty van die gedigte oor ervarings in landelike gebiede. Dit sluit Groblersdal in waar jy gebore is en skoolgegaan het; asook ervarings as sosiaal-wetenskaplike in die Laeveld en KwaZulu-Natal. Aangesien ek tussen 1991 en 2000 saam met jou aan navorsingsprojekte in landelike gebiede gewerk het, was die agtergrond van baie van die gedigte bekend. Waarom was landelike ervarings en die omgewing vir jou “eerste prikkels” om oor te skryf?

Bosman: Die Bosveld waar ek grootgeword het en waarmee ek nog lank kontak gehad het, was uiteraard ’n belangrike verwysingswêreld en ook die inset van die gedigte in Landelik soos “Aand, Sendingstasie”, “Dorpsbegrafnis” en “Reisvaardig”. My kinder- en jeugjare was bevolk met plante, diere, voëls en mense wat nou nog iewers in die bewuste en onderbewuste sluimer. Die sprong van daardie Bosveld na die Laeveld was wat die ruimte betref nie so groot nie, en ek kon van die ervaringe aanhaak aan die bekende. Ander ervarings tydens veldwerk was egter volkome vreemd – nie soseer die subtropiese plantegroei of die diep vallei van die Tugelarivier nie, as die afgesonderheid van die klein dorpies, die bestaanswyse en soms bestaansnood van mense ten tye van die groot droogte van 1991–1992, die armoede, die kommunikasieprobleme in gemeenskappe waar mense nie Afrikaans of Engels kan praat nie. Ek was ook diep onder die indruk van my eie onvermoë om werklik te verstaan hoe dit moet wees om in daardie plekke en omstandighede te woon, en daarby ook die onvermoë om iets daarvan aan ander mense, kollegas, vriende en familie, oor te dra. Toe het ek maar daaroor gedigte geskryf. Die gedig oor Nkandla, wat toe nog uit nie veel meer as ’n landdroshof en ’n stamkantoor bestaan het nie, gee iets weer van die afstand tussen die stedelike besoekers en die nkosi wat die behoeftes van sy mense wil oordra. Die omgewing het van ander belangstellings gekom, onder andere die kursusse in voël- en roofdieridentifikasie wat ek by die Pretoriase Dieretuin gevolg het, en ’n baie besondere dagseminaar oor omgewingsvraagstukke wat ook by die Pretoriase Dieretuin aangebied is.

Marais: Ek het jou as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) leer ken toe die klem in die organisasie sterk op sosiaal-relevante navorsing geval het. Sedertdien was jy ’n SAUK-klankargivaris en tans ’n redakteur by Protea Boekhuis in Pretoria waar jy digbundels en ander Afrikaanse en Engelse publikasies (onder andere van Karel Schoeman) redaksioneel versorg en hanteer. Het jou werk en werksomgewing bygedra tot die verruiming van die onderwerpe waaroor jy skryf?

Bosman: Die fisiese, ruimtelike omgewing waarin ek werk het sekerlik ’n bydrae gelewer tot my skryfwerk, maar ek dink nie die aard van my werk self nie. Vier jaar se heen en weer ry na die SAUK in Johannesburg het aanleiding gegee tot die skryf van die gedig “Pendelaar, N1” in Toevallige tekens en die drie gedigte vir Aucklandpark het weer ontstaan as uitvloeisel van my stappery oor etenstye buite die SAUK-gebou, maar ek dink nie enige gedigte het hulle ontstaan direk te danke aan my werk as argivaris vir Afrikaans nie, al was programme oor die letterkunde en radiohoorspele ’n belangrike deel van my werk. Ook die werk as redakteur is nie regtig bevorderlik vir eie skeppende skryfwerk nie. Om as poësieredakteur die beste moontlike bemoeienis met ander digters se tekste te maak, vra dat ek eintlik my eie styl en my eie skryfwerk moet opskort of tussen hakies plaas: Ek probeer my indink, inlééf in die digter voor my se werk en as ek enige aanbevelings maak, moet dit in lyn wees met hierdie digter se werk. Dit gee soms ure se geworstel af met enkele woorde of enkele reëls, veral met digters soos jy en Daniel Hugo wat lettergrepe tel! Enigiets wat ’n mens dan wil voorstel, mag nie die perk van agt of tien lettergrepe per reël van daardie betrokke gedig oorskry nie of te min wees nie, en dis nogal ’n groot uitdaging vir die redakteur. Ook Jacobus van der Riet se sonnette was besonder moeilik. En soms het digters ’n eie ritme wat ek nie noodwendig kan peil nie, en dan praat ons maklik by mekaar verby.

Marais: Vloeibare middelpunt se eerste motto is die beroemde Duitse liriese digter Friedrich Hölderlin (1770–1843) se woorde “… dichterisch/ wohnet der Mensch auf dieser Erde”. Hölderlin se woorde het sterk neerslag in die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) se werk gevind. Wat het jy met die motto beoog?

Bosman: Die begrip “woon” is een van die temas wat in hierdie bundel ter sprake kom. In ’n tyd waarin baie Afrikaanssprekendes toenemend vervreemd voel, emigrasie oorweeg, onseker is oor ’n toekoms in Afrika, was die vraag oor my hierwees in Suid-Afrika oor die afgelope paar jare dringender as tevore, en al het ek dit nie noodwendig so beplan nie, handel heelwat van die gedigte in die bundel oor tuiswees teenoor ontheemd voel. Daar is ook die dubbelslagtigheid wat ’n Westerling in Afrika voel: Ek het my land diep lief, maar daar is ook die vreemde gewaarwording van tuis wees in Wes-Europa en met die Europese waardes en kultuurgoedere waarsonder ek nie my lewe kan leef nie. Miskien was Heidegger se lesing “Bauen Wohnen Denken” (5 Augustus 1951), waarmee ek in my derde jaar in die Wysbegeerteklas kennis gemaak het, maar altyd in die agterkop. Vir Heidegger lê die begrip Schonen aan die basis van outentiek woon: Dit beteken dat ’n verhouding van ontsien, bewaar, spaar, in orde hou, bestaan tussen die mens of die sterflikes, soos hy dit noem, en das Geviert, of die Viervoud. Daaroor het ek die reeksie “Viervoud” geskryf wat in Landelik opgeneem is.

In 1951, toe Heidegger hierdie lesing gelewer het, was die woningnood in Duitsland letterlik ’n tekort aan geboue waarin mense kan woon; in 2016 in Suid-Afrika bestaan dié nood ook, maar vir my behels dit ook die vraag na ’n sinvolle bestaan hier; dus nie noodwendig wáár of waarin ’n mens woon nie, maar hóé.

Die begrip woon kom weer aan die orde in die lesing “… dichterisch wohnet der Mensch …” (6 Oktober 1951) waarin Heidegger die Hölderlin-gedig bespreek waaruit die aanhaling kom:

.

Darf, wenn lauter Mühe das Leben, ein Mensch

aufschauen und sagen: so will ich auch sein

Ja. So lange die Freundlichkeit noch am Herzen, die Reine,

dauer, misset nicht unglücklich der Mensch sich

mit der Gottheit.

Ist unbekannt Gott? Ist er offenbar wie die Himmel?

dieses glaub’ ich eher. Des Menschen Maaß ist’s.

 Voll Verdienst, doch dichterisch,

wohnet der Mensch auf dieser Erde. Doch reiner

ist nicht der Schatten der Nacht mit den Sternen,

wenn ich so sagen könnte,

als der Mensch, der heißet ein Bild der Gottheit.

.

Volgens Heidegger beteken dié “digterlike woon” nie net die oomblikke van poëtiese aktiwiteite wat digters soms beleef nie; dit is “die mens” wat digterlik lewe, en dit nie in ’n fantasiewêreld nie, maar “auf dieser Erde”. Die mens moet op digterlike wyse sy maat neem aan die goddelike, onder die hemel maar op die aarde leef, wat weer verband hou met die Schonen-konsep. Die digterlike hou vir my ook in dat dit wat verborge is, te voorskyn gebring moet word, moontlik deur dit te “ver-taal”, uit te spreek. Die estetiese, sê Heidegger in “Die oorsprong van die kunswerk”, is een manier waarop die waarheid as onverborgenheid gebeur. Maar dalk is digterlik lewe om ironies te lewe, in N.P. van Wyk Louw se woorde.

Marais: Die titel Vloeibare middelpunt suggereer ’n ervarende subjek wat sowel in tyd as ruimte bestaan en veelsoortige ervarings beleef. Wat is vir jou die middelpunt of “knooppunt van die paaie” waar sekerhede opgeskort word soos dit in die eerste gedig, “Oidipus”, lui? Wat behels hierdie bewustheid van verskillende werklikhede?

Bosman: Die kruispad of knooppunt van paaie is ’n plek waar verskillende moontlikhede bymekaar kom, waar keuses gemaak moet word. Die gedig vra wie die skuldige is: Oidipus wat koning Laios van Thebe by die kruispad doodmaak, onbewus daarvan dat dit sy eie vader is, of Laios, wat jare tevore ná die voorspelling van ’n orakel opdrag gegee het dat sy pasgebore seun doodgemaak moet word juis om sy eie moord te voorkom. Die implikasie is, hoop ek, dat skuld nie so maklik toegeken kan word nie. Die bedoeling is nie soseer dat hier ’n ongemak met verskillende werklikhede is nie, maar wel ’n bewussyn daarvan, ’n bevraagtekening van die voor die hand liggende en algemeen aanvaarde wanneer van ’n ander hoek af na die kruispad gekyk word.

Marais: In Vloeibare middelpunt merk ek ’n verskuiwing na stedelike temas, wat jou gedigte ’n ander “karakter” gee en as ’t ware in Ryan Loubser se skildery, “Spookhuis in die reën”, op die voorplat weerspieël word. Jy skryf met deernis oor jou stad Pretoria in gedigte soos “September”, “Voëlvlug” en “Woelige Woensdag”. Is jou landelike ervarings nou afgehandel en het jy meer tuis (en ontuis?) in die stad begin voel?

Bosman: Die ruimtes waarin ek my bevind is belangrike stimuli vir my gedigte. Ek kom nie meer so baie in landelike omgewings nie, en probeer ook om meer bewustelik te leef in die stad – om teenwoordig te wees, werklik te ervaar daar waar ek is. Ek het dit as ’n uitdaging aan myself gestel om meer op te let na wat om my aangaan en waar te neem wanneer ek agter my motor se stuurwiel inskuif, en nie die hele tyd te beplan of te dink oor wat aan die einde van die rit voorlê of wat ek oor die radio hoor nie. Die gevolg was meer gedigte oor Pretoria.

Marais: Vloeibare middelpunt het ’n sterk ruimtelike karakter. Benewens Pretoria kom ook verwysings na Cambridge, Oxford, Edinburgh, Heidelberg in Duitsland en Reykjavik in die bundel voor. In al hierdie gedigte is die fisieke daarwees op ’n plek opvallend. Waarom wek vreemde plekke jou belangstelling?

Bosman: J.H. van den Berg het iewers geskryf dat ’n mens skerper herinneringe aan vakansies op ander plekke het omdat jy dan los is van alledaagse kwellinge. Wanneer ’n mens in die buiteland is, plaas jy regtig groot afstand tussen die gewone lewe en die vreemde plek waar jy jou bevind en kan jy konsentreer met al jou sintuie en jou bewussyn. Jy moet ook konsentreer, anders verdwaal jy! Maar dit het waarskynlik ook te maak met jou instelling teenoor die nuwe ervaring: Moontlik gaan jy nooit weer op hierdie plek kom nie, dus moet jy soveel as moontlik inneem. Waarom ek daarin belangstel om plekke in die buiteland te besoek? Baie dikwels beplan ek om ’n plek te besoek omdat my belangstelling in dié plekke geprikkel deur wat ek tevore gelees het (soos Lindisfarne), maar soms duik ’n geleentheid op wat ek net nie deur die vingers kan laat glip nie.

Marais: Jy openbaar wel in gedigte soos “Kanna hy kô hystoe”, “Blok myself” en “The powers that be” ’n betrokkenheid by sosiale kwessies in Suid-Afrika, maar daar is minder as in die vorige bundels.

Bosman: In die vorige twee bundels was daar meer gedigte oor die aktualiteit, maar op hierdie stadium van ons geskiedenis beleef ek die Afrikaner as gemarginaliseer, sonder inspraak, selfs sonder taal. Poësie in Afrikaans oor landsvraagstukke is nie veel meer as ’n binnegesprek oor sake wat al in talle forums opgehaal is en werklik nie veel nuut gaan bydra nie. Dit beteken nie dat ek my terugtrek in die vermaledyde ivoortoring nie, net dat ek totaal ontmagtig voel.

Marais: Hoe regverdig jy dat jy in hierdie bundel andersins, byvoorbeeld in “By twee impromptu’s van Franz Peter Schubert”, “Vir die vroeggestorwenes”, “Traviata, “Les liaisons dangereuses”, “Sole survivor” en “Steenhouer” oor die estetiese in plaas van plaaslike probleme of ʼn problematiserende ingesteldheid skryf?

Bosman: Bedoel jy nie dalk hier dat die gedigte nie handel oor probleme van ’n sosiaal-politieke aard nie? Dis die ou vraag van die private ache teenoor litterature engagée wat in die 1980’s nogal tot debatvoering in Afrikaanse literêre kringe gelei het, nie waar nie? Die gedigte wat jy noem, wentel myns insiens nie om die estetiese nie, al is ’n estetiese objek die aanset of oënskynlike onderwerp van die gedigte. Party van hierdie estetiese objekte het juis hul status in die musiek-, beeldende kunste- of literêre wêreld verwerf vanweë die groot menslike vraagstukke wat daarin aan die bod kom. Ek voel my nie verplig om net oor die aktuele vraagstukke van Suid-Afrika te skryf nie. Ek is ’n mens, alles mensliks raak my.

Marais: Jy het tot in Ysland gereis en gedigte oor dié ervaring geskryf. Vertel asseblief meer en haal een van die gedigte aan.

Bosman: Ek het lank gelede ’n bietjie kennis in verband met Ysland se geskiedenis en taal opgedoen toe ek ’n semesterkursus in Oud-Noors by prof. Heinrich Ohlhoff bygewoon het. Daar was ook drie bundels met Engelse vertalings van Yslandse sagas op my boekrak. Toe die geleentheid dus opduik om in Oktober 2014 na Ysland te gaan, het ek en my reisgenote dit met albei hande aangegryp. Ons het van Gatwick in Engeland met Ysland se goedkoper lugdiens na Keflavik-lughawe gevlieg, van daar met ’n bus na Reykjavik gereis en toe te voet by ons kelderwoonstelletjie redelik sentraal in die stad gekom. Alles in Ysland is vreeslik duur, veral vir Suid-Afrikaners, natuurlik, maar ons het kos by die supermark Bonus (slagspreuk Bigur Beður – groter en beter!) gekoop en onsself net nou en dan met ’n lekker warm koppie Latte beloon terwyl ons die stad te voet verken het. Een dag het ek saam met my broer Phlip ’n kongres by die Universiteit bygewoon terwyl my vriendin Annemarie die munisipale swembaddens en saunas en my broerskind Phlippie jr. die warmwatermeer ’n end buite die stad gaan beproef het. Hy het ook met ’n toerbus staduit gery om die noorderligte te sien, terwyl die ouer lede van die geselskap so gelukkig was om ’n simfoniekonsert met Vladimir Ashkenazy op die podium van die Yslandse simfonie-orkes en Yevgeny Kissin agter die klavier te kon meemaak. Op die laaste dag het ons met ’n bustoer die primordiale landskap met sy sneeubedekte berge, lawavelde en pioniersplante en ’n paar van die belangrike natuurverskynsels gaan besigtig: twee groot watervalle, die geotermiese terrein met die geysirs Strokkur en Geysir wat kokende water en stoom die lug in skiet, en die skeurvallei Þingvellir waar die Noord-Amerikaanse en die Europese kontinentale plate steeds verder uitmekaar beweeg. Dit klink miskien na ’n toeriste-advertensie, maar dit was werklik ’n besonder intense en buitengewone belewenis. Die gedig hier onder probeer iets daarvan weergee:

REYKJAVIK

Ash happens (Yslandse T-hemp)

.

In Reykjavik, in Reykjavik

in ’n smal steeg met runetekens in sy naam,

stoot ons die deur oop van ’n kelderwoonstel.

’n Kat so rooi soos ’n vos kom kuier vriendelik,

vertrek weer doekvoet toe die blonde kinders

bo stommelend begin met hulle spel.

In Oðinsgata staan ’n huis met lang gras

op die spits dak soos in ’n sprokiesboek.

In Reykjavik, in Reykjavik

hang die reuk van swael altyd in die lug,

tril die aarde skaars merkbaar ondervoets,

In Reykjavik praat die goedige mense

’n isolerende taal grinterig soos lawaklip,

eet ons smjörvi en rabarbarasulta op brood,

bak ons salm en fiskibollur in ’n oond

uit onderaardse hekseketels aangevuur.

In ’n winkelvenster wag ’n trollevrou

gestol en toornig op die donker nag ná joel

wanneer sy en haar genote geniepsig

sal toeslaan op afvalliges van die ou geloof.

In Reykjavik, in Reykjavik

lê ná elke kouer bui meer goue blare

van die berk en esp in vlak poele,

verloor elke dag nog kwartiere lig

en word dit haas tyd om te groet,

jou tas op ’n donker môre dreunend

te sleep na die terminus, voor die winter

soos ’n grys wolk uit ysige pieke stort.

.

Wicus Luwes. Twee Skepe en Een Boot

Tuesday, March 15th, 2016

800px-Ernest_Hemingway_1950

Pilar

“Die ou man is ‘n ou man. Die see is die see.”
Dit was Ernest Hemingway se woorde toe hy op ‘n keer uitgevra is oor die simboliek agter sy boek, ‘The Old Man and the Sea’. Daar is ‘n handvol karakters in Hemingway se boek, maar die karakters wat my die meeste fassineer, het nie konkrete rolle nie. Die rol van die see kan wel aandag kry, want die see is immers teenwoordig in die titel van die boek. Die interessantheid lê vir my daarin dat die see nie noodwendig die ‘see’ is nie. Tradisioneel sou die Engelssprekende leser die see miskien as vroulik sien; miskien selfs onheilspellend, romanties en misterieus. Die Spaanse leser hierteenoor, sien die see meer in ‘n manlike lig; ‘n soort opponent of iets wat uitgedaag word in ‘n geveg. Die verskil tussen ‘el mar’ en ‘la mar’ is hier ter sprake. Daar is party wat redeneer dat mense wat daagliks van die see lewe, na die see as ‘el mar’, die manlike weergawe verwys, maar daar is onenigheid hieroor te bespeur en daar is ook streeksgebruike wat verskil. Hoe dit ook al sy, is dit interessant om daaraan te dink dat verskillende lesers, die rol van die see verskillend kan interpreteer, bloot as gevolg van die taal wat hulle praat. (Duits maak dit sekerlik ‘n nagmerrie vir enige vertaler wat die regte gevoelswaarde weer sou wou gee: der Ozean, das Meer, die See)

Gelukkig het Hemingway ‘n beter verklarende antwoord gegee toe hy oor die ‘Old Man’-karakter gepraat het:
“He always thought of the sea as ‘la mar’ which is what people call her in Spanish when they love her. Sometimes those who love her say bad things of her but they are always said as though she were a woman. Some of the younger fishermen, those who used buoys as floats for their lines and had motorboats, bought when the shark livers had brought much money, spoke of her as ‘el mar’ which is masculine.They spoke of her as a contestant or a place or even an enemy. But the old man always thought of her as feminine and as something that gave or withheld great favours, and if she did wild or wicked things it was because she could not help them. The moon affects her as it does a woman, he thought.”

Die see bied die plek waar die verhaal afspeel, maar die boot word ‘n verlengstuk van die visserman. Hemingway was ‘n behendige visserman en het gelewe vir visvang en die see. Sy eie ervarings met bote en spesifiek sy eie boot, Pilar, kan dus nie misken word in die verhaal nie. Net soos wat die boot ‘n verlengstuk van die visserman word, word die boot ook ‘n verlengstuk van die skrywer. Dit is hierdie idees wat die boek ‘n sekere gevoel gee, miskien selfs ‘n sekere reuk. Pilar was wel ‘n ander boot as die een in die verhaal, maar Hemingway kon skryf oor iets waarmee hy welbekend is. Die boot, Pilar, het hy nagelaat aan ‘n man wat baie visvangekspedisies met hom meegemaak het, Gregorio Fuentes. Daar word gereken dat Gregorio Fuentes, ‘n Kubaan, die persoon is waarop die ‘Old Man’ gebasseer is.

Pilar was in ‘n sekere sin Hemingway se muse. Pilar het sy skryfdroogte gebreek, net soos die visvangdroogte van die karakter in die boek. In 1940 skryf hy ‘For Whom the Bell Tolls’ en alhoewel hy ‘n paar skryfprojekte aanpak, word sy volgende noemenswaardige werk, ‘Across the River and into the Trees’, eers in 1950 gepubliseer. Laasgenoemde het nie goed onder die resensente gevaar nie en die algemene persepsie was dat Hemingway se beste skryfwerk agter hom gelê het. The ‘Old Man and the Sea’ wat in 1951 verskyn het daardie stemme verkeerd bewys en mense met ander oë na sy vorige werke laat kyk.

PLEASE, LET ME WONDER

Sy het dadelbruin en mooi teruggekom
van die strand af en in ‘n fles water
seeslakke en klipvissies geskommel.

*

In die opdrifsels van notaboeke
het ek woorde van verlange gevind.

*

Die see skuur skouer met die strand
en lê sy diepste geheime
reg voor my voete oop en bloot.

*

Ek wil nie fondament wees nie –
eerder ‘n steier teen die buitemure
waarteen die suidooster ruk en pluk.

*

‘n Brander is net ‘n brander as hy breek.
Wanneer hy klaar is, hou hy op bestaan,
maar soms gaan die brander net aan en aan.

– deur Johann Lodewyk Marais (Uit ‘In Die Bloute’)

trireme
Die Skip van Theseus

‘n Eksperiment van die gedagtes / ‘n Brein-eksperiment. Die Skip van Theseus is so ‘n brein-eksperiment wat jou uitdaag om meer as eenmaal oor ‘n saak te dink. Die stelling is as volg: Die planke van die legendaries Theseus se skip verweer en verrot oor die jare. Dit is dus moontlik dat oor ‘n aantal jare elke plank in die skip vervang sal word om die skip seevaardig te hou. Die vraag is dan of dit nog dieselfde skip is as elke plank vervang is.

Die stelling is deur die Griekse historikus, Plutarch, opgeteken. Verskillende weergawes is al deur filosowe so wyd soos Heraclitus en John Locke beredeneer. Die aard van die vraag lei tot ‘n volgende vraag: As jy die planke van die oorspronklike skip weer aanmekaar sou sit, watter skip sal die skip van Theseus wees?

Die vraag kan natuurlik op legio maniere gevra word:
Is dit steeds jou Oupa se byl as beide die handvatsel en kop verskeie kere al vervang is?
Is jy dieselfde persoon selfs al word al jou selle elke paar jaar hernu?

The Ships of Theseus

The ship wherein Theseus and the youth of Athens returned had thirty oars, and was preserved
by the Athenians    …    for they took away the old planks as they decayed, putting in new
and stronger timber in their place, insomuch that this ship became a standing example among
the philosophers, for the logical question of things that grow; one side holding that the
ship remained the same, and the other contending that it was not the same.
— Plutarch, Vita Thesel

The answer of course is that the ship
doesn’t exist, that “ship”
is an abstraction, a conception,
an imaginary tarp thrown
across the garden of the real.
The answer is that the cheap
peasantry of things toils all day
in the kingdom of  language,
every ship like a casket
of words: bulkhead, transom,
mast steps. The answer
is to wake again to the banality
of things, to wade toward
the light inside the plasma
of ideas. But each plank
is woven from your mother’s
hair. The blade of each oar
contains the shadow of
a horse. The answer
is that the self is the glue between
the boards, the cartilage
that holds a world together,
that self is the wax in
the stenographer’s ears,
that there is nothing the mind
won’t sacrifice, each item
another goat tossed into
the lava of our needs.
The answer is that this is just
another poem about divorce,
about untombing the mattress
from the sofa, your body
laid out on the bones of the
double-jointed frame, about
separation, rebuilding, about
your daughter’s missing
teeth. Each time you visit
now you find her partially
replaced, more sturdily
jointed, the weathered joists
of   her childhood being stripped
away. New voice. New hair.
The answer is to stand there
redrawing the constellation
of   the word daughter in
your brain while she tries
to understand exactly who
you are, and breathes out
girl after girl into the entry-
way, a fog of   strangers that
almost evaporates when
you say each other’s
names. Almost, but not quite.
Let it be enough. Already,
a third ship moves
quietly toward you in the night.

– deur Steve Gehrke

mvsmart

MV Smart

Ek het een middag in 2013 gaan kyk toe daar ‘n boot in die hawemond by Richardsbaai aan die Kwazulu Natalse kus gestrand het. Die vragskip, die MV Smart, was streng gesproke al by die hawemond uit toe die enjins onklaar geraak het. Die branders en seestrome het die MV Smart strand toe gedruk en in twee laat skeur. Die vrag van duisende ton steenkool moes uitgelaai of herwin word. Die oorblywende dele van die boot is vir maande lank opgesny en oopgebreek. Die boeg van die skip is na dieper waters gesleep en laat sink. Die skip het vir maande lank besoekende skepe aan die hawe herinner aan die weerloosheid van ‘n stuk metaal en die krag van die see.

Daar is min simboliek te bespeur as jy sien hoe die see ‘n vragskip in twee skeur. Daar is min simboliek onderliggend aan ‘n boot wat meters buite die veilige hawemond sink. Miskien is die see nie misterieus nie; miskien is die oseaan nie ‘n opponent nie. Party skepe kan nie herbou word nie en sommige vragte gaan verlore onder die branders. Miskien is die see wel net die see; die skip net ‘n skip; ‘n hawe net ‘n hawe.

[hoe vaak was ons hier]

hoe vaak was ons hier tussen koeltes op die vloer
die reuk van terpentyn en van vuur
die doeke is wit want die oë is leeg
die afsydigheid van die nag
en die maan ‘n glimlag buite iewers
buie sig.
die dae vergaan soos seisoene by die ruite
‘n wolk, ‘n gesig, ‘n reënblaar, dié gedig
ek wou my afdruk op jou laat
ek wou jou brandmerk met die vlammende uur
van alleen wees
geen vuur sing so mooi
soos die silwer as van jou bewegings nie
en jou treurige liggaam
ek wou daardie treurigheid uit jou haal
sodat jou liggaam oop mag breek
soos ‘n stad oopgaan
op ‘n helder landskap
vol duiwe en die vuur van bome
en waar silwer kraaie ook onsigbaar is in die nag
en die maan ‘n mond wat mens aan die brand kan steek
en dan wou ek hê dat jy kon lag
en jou bitter lyf
my hande van porselein op jou heupe
jou asem so ‘n donker pyn
‘n swaard is aan my oor
hoe dikwels was ons hier
waar net silwer skaduwees nog roer
alleen deur jou moet ek myself verwerp
deur jou alleen het ek besef hoe haweloos ek is
in ‘n brandende see

IN A BURNING SEA

how often were we wrapped in coolness on the floor
the smell of turpentine and fire
the canvases white to our empy eyes
night’s indifference
and the moon a smile somewhere outside
out of site
days decompose like seasons beyond the panes
leaves of rain, a face, a cloud, this poem
I wanted to leave my imprint on you
to brand you with the flaming hour
of being alone
no fire sings as clear
as the silver ashes of your movements
and your melancholy body
I wanted to draw that sadness from you
so that you might be revealed
the way a city opens
on a bright lnadscape
filled with pigeons and the fire of trees
and silver crows also out of sight in the night
and the moon a mouth that one can ignite
and then I wished that you could laugh
and your body bitter
my hands of porcelain on your hips
your breath such a dark-dark pain
a sword at my ear
how often were we here
where only silver shadows stir
only through you I had to deny myself
through you alone I knew I had no harbour
in a burning sea

– deur Breyten Breytenbach

 

Bronne:
1. Internet. https://bostonlanguage.wordpress.com/2014/12/18/what-gender-is-the-sea/
2. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/Pilar_%28boat%29
3. Internet. https://www.goodreads.com/quotes/115115-he-always-thought-of-the-sea-as-la-mar-which
4. Internet. http://www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poem/246056
5. Internet. https://en.wikipedia.org/wiki/Ship_of_Theseus
6. Joubert M, In a Burning Sea, Protea Book House, Pretoria, 2014
7. Marais JL, In die bloute, Cordis Trust, 2012www.poetryfoundation.org/poetrymagazine/poem/246056

Johann Lodewyk Marais. Vroue van Bakavu

Tuesday, September 1st, 2015

Vroue van Bakavu

Demokratiese Republiek van die Kongo

 

Die vroue dra helder capulanas

en loop kaalvoet deur die tropiese bos.

Hulle hutte is van modder en gras.

 

Een vertel sy het dit probeer afwas,

maar moes die angs, woede en skande los.

Die vroue dra helder capulanas.

 

Twee vertel hulle was in ’n hoek vas

en hoe die soldate hulle rondtos.

Hulle hutte is van modder en gras.

 

Drie vertel van die yslike bloedplas

en hulle eie bloed in ’n skottel vir kos.

Die vroue dra helder capulanas.

 

Oral oor die kookgoed en koue as

het die spore gelê wat alles bemors.

Hulle hutte is van modder en gras.

 

Nou vlug die spul voort teen ’n stywe pas

deur die ruigtes; dis asof hulle dros.

Die vroue dra helder capulanas.

Hulle hutte is van modder en gras.

 

© Johann Lodewyk Marais/ 2015

Johann Lodewyk Marais. Garissa

Friday, July 24th, 2015

GARISSA
2 April 2015

Die Tana se bruin water loop stadig
ooswaarts deur die warm, droë vlakte
waar die nomades met hulle vee trek,
groepies doempalms staan en kraaie krys.
Maar op die kampus vloei bloed in gange
en lê pen en papier stukkend getrap
deur die laggende mans uit die noorde.
Kyk ook die enkele skoen, sandale
en aan die doringdraad om die slagveld
stukkies vleis, hare en repe klere
van hulle wat wild en wakker moes vlug.
Stadig loop die Tana se bruin water.

© Johann Lodewyk Marais /2015

Johann Lodewyk Marais. Eugène N. Marais se dood

Wednesday, March 4th, 2015

Eugène N. Marais se dood

Johann Lodewyk Marais

“[T]here is no escape from the dilemma of being a man.”

(Joseph Ratzinger (1970:20))

I

In Eugène N. Marais (1871–1936) se biografie beklee Pelindaba in die vallei tussen die Witwaters- en Skurweberg dertig kilometer wes van Pretoria ’n prominente plek. Om die laaste tydperk en gebeure in sy lewe in perspektief te plaas, is dit nodig om kortliks iets oor die enkele jare te sê wat dit voorafgegaan het. Gedurende hierdie jare het die joernalis, geskiedskrywer, kritikus en digter Gustav S. Preller (1875–1943) en sy vrou Hannie (gebore Pretorius) ’n groot rol in Marais se lewe gespeel. Dit is ook deur hulle toedoen dat hy sy laaste ure juis op Pelindaba deurgebring het. Maar kom ons neem die verhaal terug na ’n dekade of twee vantevore.

In Januarie 1916 het Marais die landelike lewe in die Waterberg ná ’n verblyf van nege jaar vir goed verlaat. Hy vestig hom vir ’n rukkie as advokaat in Pretoria en daarna as prokureur op Erasmus (tans Bronkhorstspruit). Van 1922 tot 1927 werk hy as prokureur op Heidelberg (in die destydse Transvaal). Hier het Marais in die geneesheer A.G. Visser ’n geesgenoot gevind (kyk Langenhoven, 1950:16). Op Visser se aanbeveling woon hy ’n tyd lank op die Meyers se plaas Steenkampskraal om sy morfienverslawing onder beheer te probeer kry. Aan die begin van 1927 keer ’n desperate Marais terug na Pretoria, waar die Prellers vir hom ’n stoepkamer by hulle huis in Blackwoodstraat 176, naby die Uniegebou, inrig. (Hy sou later ook ’n tyd lank by mevrou Jessie Cross en haar gesin loseer.) In hierdie jare (veral 1933) is Marais buitengewoon produktief en verskyn die meeste van sy bekende verhale en artikels in nuusblaaie soos Ons/Die Vaderland.

Dit was deur die Prellers se toedoen dat Marais nou met Pelindaba kennis maak. Pelindaba was aanvanklik deel van die familieplaas Welgegund waarop M.W. (Swart Martiens) Pretorius en sy vrou Deborah, die dogter van Piet Retief, hulle kort ná 1842 gaan vestig het. Swart Martiens is in die 1860’s dood. Daarna het sy seun kommandant Henning (Petrus Nicolaas) Pretorius, die stigter van die ZAR se Staatsartillerie en Hannie se vader, op die plaas geboer (kyk Du Plessis, 1988:322). Die bou van die Hartbeespoortdam tussen 1921 en 1924, waar die Krokodil- en Magaliesrivier inmekaarloop en deur die Magaliesberg vloei, het meegebring dat ’n deel van Welgegund onder water sou wees. Op Hannie se aandrang het Preller van haar oom Tinie Pretorius, destyds die eienaar van die plaas, ’n deel van haar geboortegrond gekoop wat hoofsaaklik suid van die Witwatersberg geleë was. Preller het onmiddellik met deeltydse boerdery op die plaas begin en naweke saam met Hannie en hulle drie seuns daar deurgebring. Preller se swear, Johannes Lodewicus (Lood) Pretorius, het ook op die plaas gewoon, naamlik in die familieplaashuis.

Die ou familiebegraafplaas was, soos die gewoonte onder die boere was, op laagliggende (sagte) grond naby die plaashuis. Talle mense het egter, toe die Hartbeespoortdam in aanbou was, die hoogwatervlak van die dam te hoog geskat en gevrees dat huise, landerye en begraafplase sou oorstroom. Dit was ook die geval met Hannie Preller, wat haar man aangesê het om ’n nuwe begraafplaas hoog op ’n plato te maak en die familie daar te herbegrawe. In die nuwe plaaskerkhof hoog op ’n kliprantjie het Hannie onder andere haar grootmoeder, Deborah Retief, laat herbegrawe (kyk Barnard, 1970: 25– 2; Du Plessis, 1988: 322–324).

Met die verkryging van grond om die dam te bou het die regering in die geval van Welgegund te veel grond gekoop en toe oorweeg om ’n dorp op die oorblywende deel te stig. Die boere was in die algemeen daarteen gekant en ’n jare lange debat het daaroor gevolg. Uiteindelik het die regering van die plan afgesien. ’n Plaaswerker van die Prellers het in reaksie hierop verlig uitgeroep: “Pelile indaba!” – Uitgepraat, einde van die pratery! (Barnard, 1970:25; kyk egter ook Raper, 1987:261). Die Prellers het toe die plaas se naam nieamptelik na Pelindaba verander.

Marais, wat in hierdie jare hoofsaaklik by die Prellers in Blackwoodstraat (waar die Duitse ambassadegebou tans is) tuisgegaan het, het uitstappies saam met die Prellers na Pelindaba baie geniet. In die 1930’s gaan hy heel dikwels na die plaas en bly sommer ’n hele paar dae oor. Die natuur was vir hom stimulerend en volgens oorlewering het hy in die somer graag onder die sterrehemel geslaap (Rousseau, 1984: 80). Andersins het Marais in die rondawelhuis (bestaande uit drie verbinde rondawels) gewoon wat Preller in 1924 in die “Transvaalse Styl” as naweekhuis vir hom en sy gesin opgerig het (Holm, 2005a:33). Volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVI) het Marais in 1935 ’n gesondheidskuur op die plaas ondergaan en “lange tyd alleen in dieselfde rondawels gewoon, met sy chauffeur”. Die poging om van sy verslawing te oorkom was egter nie suksesvol nie en Marais het teruggestap Pretoria toe (Rousseau, 1984:489–490)!

Van die mense in die omgewing met wie Marais vriendskapsbande smee, is majoor Lood Pretorius, een van Hannie se broers. Hy het alleen in die familieplaashuis naby die sameloop van die Krokodilrivier en die Klipspruit gewoon, aangesien sy vrou en kinders (onder andere Dotman Pretorius, waarvan ons later meer hoor) in Pretoria was (Rousseau, 1984:480; Pretorius, 1989). Lood Pretorius was ’n lid van die ZAR se Staatsartillerie gewees. Hy was ’n uitstekende skut en volgens oorlewering verwys die uitdrukking “skote Petoors” na hom. Nog iemand wat Marais hier goed leer ken het, was meneer C.D. (Chris) Roos, een van die twee onderwysers verbonde aan die tweemanskooltjie op Broederstroom (Rousseau, 1984:481). Hulle was op verskillende maniere getuienis van die wel en wee van Marais se laaste dae.

Aan die begin van 1936 het Gustrav Preller as redakteur van Die Vaderland uitgetree. Die Prellers het besluit om hulle huis in Blackwoodstraat te verhuur en permanent op Pelindaba te gaan woon, waar Gustav as geskiedkundige navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargief kon voortsit (kyk Du Plessis, 1988:439 en 442). Lood Pretorius en sy seun was in daardie stadium reeds besig om ’n nuwe huis, wat Gustav en Hannie ontwerp het, ’n entjie wes van die rondawelhuis te bou. Aangesien die Prellers die huis op 19 Maart wou betrek, is Lood aangepor om vinniger te werk. Oor die bouwerk en die styl van die huis, wat hulle Sterrewag genoem het, skryf die argitek Albrecht Holm (2005a:31) soos volg:

Die 60 cm dik mure is tot op vensterbankhoogte van plaaslike rooibruin verweerde ‘ysterklip’ en daarbo van gesaagde lei in lae gebou. Die aankarwei en saag van die klip was ’n geweldige werk en het amper ’n twis tussen die swaers laat ontstaan. Die dakke is van plaaslike dekgras, die vloere van lei en selfs die bad is van lei gebou. Ook die groot eettafel op die stoep is van lei. Hier is dus weer hoofsaaklik van plaaslike materiale gebruik gemaak: ’n kenmerk van die Transvaalse Styl.

Die huis is blykbaar so in die ontstaan beplan en verander. Die agterste gedeelte wat uit ’n groepering van rondawels om ’n lapa met ’n lae muur en tuinhekkie na suid bestaan, is eerste gebou en sou feitlik soos ’n Tswanakraal daar uitgesien het. Daarna is die voorste gedeelte van die huis aangebou. Hierdie deel is reghoekig en versmelt nie eintlik met die rondawels nie, behalwe dat die dak groot sagte wolwe-ente het. Dit bevat ’n grondverdieping en ’n solderkamer met ’n uitsigbalkon waar die teleskoop (sterrewag) opgestel kon word. Ook was daar ’n kelder. Die huis is noord gerig na die uitsig op Hartbeespoortdam. Die agterste lapa asook die klipgemesselde stoepe en groot bome aan die noordekant dui weer daarop dat die huis buite netsowel as binne bewoon is.

Preller se biograaf, P.J. du Plessis, beskryf in Die lewe en werk van Gustav Preller (1875–1943) (1988:441) die ligging van hierdie huis soos volg:

Die ligging van die woonhuis is so beplan dat dit stelende uitsigte oor die omringende vlaktes, bergreekse en rante bied. Aan die noordekant, waar die Krokodilrivier die Hartbeespoortdam voed, domineer die hoë rondings van die Magaliesberg die landskap. Die huis harmonieer met die landskap waar dit toegerank tussen die doringbome en Van Wykshout nestel. […] Slegs inheemse bome en plante word geduld en beskerm. Hier sal hy [Gustav Preller – JLM] die rus en bekoring wat die Bosveld bied, in ’n mate weer ervaar.

Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg (kyk Preller in Du Toit, 1940:XVI; Rousseau, 1984:504–511). Hy het sy intrek in die rondawelhuis geneem, sowat sewehonderd meter vanaf die Prellers se nuwe huis. Marais sou verkies het om in Pretoria te bly woon, waar hy elke dag sy morfieninspuiting moes kry, maar die Prellers se verhuising het hom geen ander keuse gelaat as om saam te gaan nie. Volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVI) sou hy hom bowendien op die plaas “kon gee aan beter werk as die koerante-artikels, en aan sy roman” waaraan hy kort vantevore met groot entoesiasme begin werk het. Die voëlbak wat Marais voor die rondawelhuis uit ’n dolomietklip en sement gebou het (kyk Preller in Du Toit, 1940:XVIII) en die krokodilvelmatjies wat hy gesny en op die drumpels vasgespyker het (kyk Barnard, 1970:26), het ook daarvan getuig dat hy op Pelindaba tuis kon wees. Kort nadat hy per motor na die plaas geneem is en deur die Prellers ontvang is en die aand by hulle in die nuwe huis geëet het, het hy egter ’n vergeefse poging aangewend om terug te gaan Pretoria toe. Met een van die plaaswerkers het hy laat die aand ’n brief aan Chris Roos met die volgende boodskap gestuur:

Waarde Heer Roos.

Ek het skielik ernstig siek geword. Kan u my tog nie in neem nie. Ek moet dadelik medisyne kry. Ek sal u vir die twee ritte vergoed. Kom tog a.u.b. gou. U vriend Eugène N. Marais

Roos, wat Marais kort vantevore ingeneem het dorp toe, het geweier. In Januarie 1980 het die agt en sewentigjarige Roos (in Mulder, 1980:1) sy besluit soos volg verdedig:

Ek skryf hom terug dat ek hom nie kan help nie. Ek was destyds een van die weinige persone met ’n motor. Dit het gereën en die swak grondpaaie was sulke tye altyd onbegaanbaar.

Oor Roos se reaksie op hierdie versoek bespiegel Rousseau (1984:513) soos volg: “Hierdie Saterdagaand is donker en nat. Buitendien weet Chris Roos dat sowel Lood Pretorius as Gustav Preller op die plaas is. As Eugène hóm nader, beteken dit dat hulle geweier het, en dan mag hy niks [morfien – JLM] kry nie.” Marais sou ook met dieselfde boodskapper ’n versoek om ’n bottel brandewyn stuur, wat ook geweier is. Preller (in Du Toit, 1940:XVI) (en Hannie, aldus Rousseau, 1984:513) het hom die volgende oggend terwyl dit nog motreën in die rondawelhuis gaan opsoek toe hy nie vir ontbyt opdaag nie. Marais het rustig “onder die breë gras waranda op ’n bed uitgestrek gelê, want, by gebrek aan beweging kon die klammigheid van die weer effens kouerig wees. Die gebruikelike versameling koerante en boeke waarin hy gelees het, het op en om ’n stoel voor die bed gelê.”

Die aanhoudende reën was vir Marais hinderlik. Deur sy venster kon hy sien hoe “’n klompie melkbeeste kromrug en kroeserig, met die stêrte teen die sagvallende reën” staan en herkou, wat hom, volgens Preller (in Du Toit, 1940:XVII) ongeduldig laat opmerk het: ”Selfs die arme diere het daar al genoeg van gehad!” Daar is afgespreek dat as dit sou aanhou reën, ’n motor gestuur sou word om hom na die Prellers se woning te haal; indien dit sou opklaar, sou hy op sy eie soontoe gaan. Kort ná Preller (en sy vrou) se besoek, moet Marais deur die ruie, nat gras in die rigting van die rivier na die huis van die buurman, Lood Pretorius, gestap het.

Kolonel Bob Preller, die Prellers se oudste seun en ’n befaamde vlieënier, het jare later self soos volg aan Chris Barnard (1970:27) vertel:

Oom Lood het ons dikwels vertel wat daardie nag gebeur het. […] Hy het toe nog in die ou Pretorius-opstal in die doringlaagte gewoon. Dit het dié nag verskriklik gereën.

Iemand het aan die deur geklop en toe hy oopmaak, het oom Eugène daar gestaan, deurdrenk van die reën. Hy het gesê daar is ’n slang bo in die rondawels en hy kom net gou die geweer leen. Daar was ’n koeëlgeweer en ’n haelgeweer en oom Eugène het die koeëlgeweer gevat. Oom Lood het gesê hy kan mos g’n ’n slang net ’n koeëlgeweer skiet nie – hy moet die haelgeweer vat. Oom Eugène wou nie, hy het op die koeëlgeweer aangedring, maar later is hy tog op oom Lood se aandrang met die haelgeweer daar weg. Die volgende oggend het klonkies [sic – JLM] Eugène Marais se lyk omtrent honderd tree van oom Lood se agterdeur af onder ’n boom gekry lê, met die haelgeweer by hom. Hy het homself geskiet.

 Oor die leen van die geweer en die gebeure daarna het Roos (in Mulder, 1980:1) die volgende inligting verstrek:

My haelgeweer was juis by Pretorius wat dit ook geleen het om ’n slang te skiet. Slange was daardie dae lasting en volop. Niks vermoedend, oorhandig Pretorius toe die geweer en ’n paar patrone aan hom. Ongeveer 300 meter van Pretorius se woning af, het Marais die loop van die dubbelloop haelgeweer teen sy skouer, aan die regterkant – nee, aan die hartkant, dws die linkerkant, vasgedruk en ’n skoot afgetrek. Die skoot tref nie die hart nie maar net die skouer. Dis toe dat hy die punt van die loop in sy mond plaas en met die tweede skoot sy lewe neem. Ek het die skoot gehoor want dit was maar ongeveer 1 km van my huis af maar niks vermoed nie. Eers die volgende dag het ek die plek besoek waar die lyk gekry is. Ek het op die bebloede plek ’n klipstaprel opgerig […].

Gustav Preller (in Du Toit, 1940:XVII-XVIII) skryf dat hy “die verpletterende tyding” van Marais se dood eers die volgende aand in Johannesburg oor die radio gehoor het waar hy met voorbereidings vir die Rykstentoonstelling besig was. Die vorige dag tydens hulle gesprek het hy nie gemerk dat Marais “buitengewoon neerslagtig” was nie maar wel onthou dat hy “een van die seuns wat by hom op besoek was, ’n haëlgeweer laat vra het, ‘om ’n slang te skiet wat in die Engelse-doring voor die rondaweldeur, die voëltjies vang’”. Die Prellers het egter nie patrone vir die geweer gehad nie.

In landdros L. Oakes se geregtelike ondersoek na Marais se dood, waaroor in Die Volkstem (11.4.1936, ook in Nienaber (samest.), 1951:120) berig is, is getuig ’n swart vrou het verklaar dat sy “die lyk langs die pad sien lê het” en Lood Pretorius daarvan vertel het. Pretorius het vertel dat Marais hom omstreeks drie-uur die middag besoek het. Marais het te kenne gegee dat hy “graag na die stad wou gaan. Die oorledene het hom om ’n haelgeweer gevra daar hy graag wou gaan skiet. Getuie het hom ’n entjie op die pad vergesel. “Daar is getuig dat Marais op sy rug gelê het, met die geweer by hom, toe hy gevind is. Die landdros se bevinding was soos volg:

Die dood is veroorsaak deur ’n geweerskoot wat die hoof verbrysel het. Die skoot is self toegedien.

Jare later het G.R. (Rein) Mulder (1981b:1), ’n afgetrede skoolhoof wat heelwat navorsing oor die plaaslike geskiedenis gedoen het, naby Brits ’n onderhoud gevoer met die vyf en tagtigjarige Maria Mofamere wat die oggend van 30 Maart 1936 op Marais se lyk afgekom het. Sy het vertel dat sy in die Prellers se kombuis gewerk, “kos gemaak het en baie keer aan baas Marais voorgesit het en ook vir hom tee aangedra het na die kamer in die rondawel”. Die vorige dag het Marais verdwyn en sy het die middag tot die aand na hom help soek.

Die volgende oggend het Mofamere die tyding gekry dat haar vader, wat by Lood Pretorius gewerk het, oorlede is. Mulder (1981b:1) vervolg:

Toe sy die tyding van die dood ontvang is sy deur die veld reguit na Lood Pretorius se woning. Onwetend het sy dus op dieselfde koers gestap as wat Marais die vorige dag gestap het om die haelgeweer te leen. Maria beweer […] dat sy geweldig geskrik het toe sy die Witman in die veld sien lê op sy rug in ’n plas bloed met die geweer langs hom. Met ’n geweldige uitroep van Jô-Jôôô … het sy die rieme neergelê na Pretorius se huis. Daar aangekom, al huilende en verskriklik ontsteld, moes Pretorius lank sukkel om haar tot bedaring te bring. Pretorius was onder die indruk dat sy ontsteld was oor haar Pa se dood, maar toe sy bedaar het, moes hy verneem van die lyk in die veld. Hy het nou self geskrik, vir Maria bietjie soet swart koffie gegee en eers daarna is sy na die Strooihuis waar haar Pa se lyk was. Pretorius is na die lyk [van Marais – JLM] toe en het die Polisie verwittig.

Marais, “die man wat gedurende sy lewe veel van die tragiese ervaar het” (Du Toit, 1940:22), se selfmoord is grootliks aan sy morfienverslawing toegeskryf. Oor dié selfmoord bied die skrywer en kliniese sielkundige Alexis Retief (1989:6–7) die volgende perspektief:

Selfmoord is altyd ’n tragedie. As ’n persoon homself boonop afsonder in die veld en hom onder ’n boom met ’n haelgeweer doodskiet, op ’n reënerige dag, is daar iets verlate en jammerlik sowel as iets grusaams daarin. Wat hierdie elemente by Marais intensifiseer [sic – JLM], is dat dit ’n spieël van sy laaste lewensjare was, en ook ’n soort logiese gevolgtrekking van sy verval in hierdie jare.

Marais is op ’n reënerige dag as armlastige deur ’n Skotse predikant in ’n eenvoudige houtkis (kyk Rousseau, 1977:19) langs sy jonggestorwe vrou Aletta (Lettie) (gebore Beyers), in die Pretoria-begraafplaas in Kerkstraat begrawe. Hulle grafte lê langs die Heldeakker, en Marais se graf het ’n klip uit die Waterberg as kopstuk, waarop die woorde “DIGTER, SKRYWER, NATUURKENNER” gegraveer. Enkele meter van sy graf lê dié van ander figure wat ’n prominente rol in die Afrikaanse politieke en kulturele lewe gespeel het: die digter Jan F.E. Celliers; die martelaar van die Rebellie van 1914, Jopie Fourie; en die politici doktor E.G. Jansen, advokaat J.G. Strijdom en doktor H.F. Verwoerd.

II

Oor die jare heen is ek deur mense gewaarsku dat Marais ’n “duister figuur” is en versigtig moet wees vir die invloed wat hy op my kan hê. As ’n mens met so ’n persoon besig is, kan dit allerlei onheile tot gevolg hê, is meermale geredeneer.

Ek het gelukkig oor ’n tydperk van meer as vyf en twintig jaar geen direkte inmenging deur Marais ervaar nie. Dit kan wees dat Marais my nie ernstig opneem het nie. Volgens Leon Rousseau (2005) sou dit wees omdat ek “oor Marais se wetenskaplike prosa geskryf het en nie oor sy lewe nie”. Met my rasionele en wetenskaplike ingesteldheid en oortuiging dat ’n mens nie duister magte ’n houvas op jou lewe moet gee nie, het ek in elk geval nie probeer om spoke op te jaag nie.

Daar is wel vreemde ervarings waarvan ek kan vertel. Terwyl ek met voorbereiding besig was vir die Marais & Preller-simposium wat op 25 en 26 Mei 1989 deur die RGN aangebied is, het ek met persone kennis gemaak wat my ’n een en ander oor Marais vertel het. Een van hulle was meneer Dotman Pretorius, Hannie Preller se broerskind. Dotman was ’n vooraanstaande Pretoriase fotograaf wat sy ateljee op Kerkplein gehad en heelwat negatiewe van (onder andere) Gustav Preller en sy gesinslede gehad het. Vir die simposium se uitstalling het ons van die negatiewe foto’s laat maak.

 Dotman het my vertel dat hy baie ongelukkig is omdat die monumentjie – wat die destydse Raad op Atoomkrag in 1981 opgerig het, op die plek nie ver van sy vader se huis af nie waar Marais selfmoord sou gepleeg het – op die verkeerde plek staan. Hy het immers die naweek nadat Marais selfmoord gepleeg het die toneel besoek en gesien waar dit gebeur het. Die besoek dié naweek was weliswaar die eerste kans om daar uit te kom, aangesien hy deur die week in Pretoria op skool was, waar sy moeder ook gebly het. Volgens Dotman was daar dié naweek nog heelwat bloed en stukke van Marais se brein en vergruisde skedel op die toneel.

 Op 18 Februarie 1989, ’n reënerige Saterdagoggend, het Dotman my, Renée Marais en Albrecht Holm na Pelindaba geneem om die presies plek te gaan soek waar Marais selfmoord gepleeg het. Eers het ons op die terrein van die Raad op Atoomkrag, net suid van Lood Pretorius se huis, gaan kyk na die klipmonumentjie op die plek waar Marais selfmoord sou gepleeg het. Daarop verskyn die volgende bewoording op ’n gepoleerde granietplaat wat in die monumentjie vasgemessel is:

Ter nagedagtenis van

EUGÉNE N. MARAIS

WAT OP 29 MAART 1936

OP 11HOO UUR

OP HIERDIE PLEK GESTERF HET

______

OP VERSOEK VAN DIE

VERENIGING VAN AFRIKAANSE

SKRYWERS EN LESERS VIR

KULTUURBEVORDERING

DEUR DIE

RAAD OP ATOOMKRAG

OPGERIG – 6 NOVEMBER 1981

Dotman het tydens die besoek ’n plek uitgewys wat veel nader is aan Lood Pretorius se huis, waar Marais die geweer geleen het, en wat sowat honderd meter is van waar die huidige monumentjie, wat op inisiatief van Rein Mulder deur die Raad op Atoomkrag opgerig is (kyk Mulder, 1981a:1). Dié plek is in 1981 deur Mulder uitgewys op die plek waar Roos ná die selfmoord klippe sou gestapel het om die bloed te bedek (kyk Roos in Mulder, 1980:2). Tydens ons besoek die Saterdag en lank daarna het ’n geweersmit, meneer Lars Melin, in Lood Pretorius se gerestoureerde huis gewoon! Dotman Pretorius, wat ook ’n ywerige amateurargeolooog en versamelaar was, was van plan om nog met sy siwwe stukkies van Marais se skedel te probeer kry sodat die nageslag presies kon weet waar dit alles gebeur het. Ek glo nie hy het dit ooit gedoen nie. Ek kan ook nie sê dat ek besonder geïnteresseer is in die uitslag van so ’n ondersoek nie!

Hoewel ek dit nie ook so ervaar het nie, was dit vir Albrecht Holm (2005b) asof Dotman Pretorius op daardie Saterdagoggend op ’n indirekte manier iets anders vir ons te kenne wou gee: Marais het hom so naby sy ouerhuis geskiet dat Lood Pretorius, sy vader, albei die geweerskote sou gehoor het. Tog het hy besluit om nie te gaan ondersoek instel nie. (Vroeër in die artikel is byvoorbeeld aangehaal dat Roos die skoot gehoor het, hoewel dit ongeveer een kilometer van sy huis af was. Uit die verslag van Mulder se gesprek met Mofamere blyk dit wel dat Pretorius “self geskrik” het toe hy by haar van die lyk in die veld gehoor het.)

Tydens ons besoek daardie Saterdagoggend het ons ook ’n draai gaan maak by Roos se Oord, een van die bekendste visvangplekke langs die Krokodilrivier voor dit in die Hartbeespoortdam vloei. ’n Entjie verder af met die grondpad het die ruïne van die huis gestaan waar meneer Chris Roos, die onderwyser, gewoon het, aan wie Marais kort voor sy dood sy laaste brief gestuur het. Die huidige eienaar, die destydse onderwyser se kleinseun, het ’n groot belangstelling in die Marais-geskiedenis gehad en het ons ’n fotostaat van die brief gewys wat Marais aan sy oupa geskryf het. Hy het egter met iets anders vorendag gekom wat héél makaber was. Onder die oorhang van die huis het hy die verroeste voorste deel van ’n dubbelloophaelgeweer uitgehaal. Aan die bokant van die geweer was duidelike kapmerke van ’n hamer. Volgens Roos junior het hy dié stuk van die geweer op sy oupa se erf gekry. Hy het min twyfel gehad dat dit die geweer is waarmee Marais selfmoord gepleeg het en waarvan sy oupa klaarblyklik ontslae probeer raak het deur dit in die grond te kap. Roos junior se aanname het heel aanneemlik geklink. (Volgens Mulder (1980:2) wou Roos egter ná die sefmoord nie meer die haelgeweer hê wat hy vir Pretorius geleen het nie en het dit “kort hierna vir ’n paar skape verruil aan iemand anders”.)

Enkele jare gelede het ek ’n boeiende gesprek met die dramaturg en Hertzogpryswenner Reza de Wet gehad (De Wet, 2005). Die gesprek het op Saterdag, 12 Maart 2005 tydens die Woordfees 2005 oor die middagete in die Bergzicht Heerenhuys op Stellenbosch plaasgevind; die wiskundige, professor Dirk Laurie, en sy vrou, die digter, Trienke Laurie, was ook deel van die geselskap. Tydens die fees is Verleiding, De Wet se collage oor onder meer Marais se verblyf op Boshof, vir die eerste keer opgevoer. Ons het oor Marais se dood gepraat. Na aanleiding van die beskrywing daarvan in (uitsluitlik?) Rousseau se Die groot verlange het sy die mening uitgespreek dat sy dood nie bloot aan selfmoord gewyt kan word nie. Marais het immers die haelgeweer by Lood Pretorius gaan leen, waaroor Rousseau (1984:514) soos volg skryf:

Hierdie twee verstaan mekaar goed. Lood Pretorius – dít lyk agt-en-dertig jaar later [in 1974, tydens die publikasie van Die groot verlange – JLM] feitlik vanselfsprekend – weet dat Eugène Marais nie ’n slang wil skiet nie, in elk geval nie ’n werklike slang nie.

Rousseau (1984:514) vervolg:

Lood stap ’n ent saam met hom voor hy teruggaan huis toe. Wie kan hom kwalik neem as hy daarna, toe die eerste skoot klap, gemaak het asof hy niks hoor nie?

Op grond van hierdie inligting in Die groot verlange was Reza de Wet van mening dat Lood Pretorius dalk aandadig was aan en verantwoordelik gehou kan word vir Marais se dood. Was hy dan nie onverantwoordelik deur die geweer vir Marais se leen indien hy vermoed het dat Marais sy eie lewe wil neem en nie ’n slang wou gaan skiet soos hy beweer het nie? En was Marais se eerste skrams skoot nie dalk ’n hulproep, soos dikwels tydens selfmoordpogings nie? Waarom het Pretorius hom nie toe tot Marais gewend, hulp probeer verleen en só op Marais se hulproep geantwoord nie? Is dit dalk moontlik om nou, jare later, weer hierdie saak te open en reg en geregtigheid te laat geskied? Ek kon De Wet nie antwoord nie. Een van die probleme is dat ons nie presies weet watter bronne Rousseau alles vir ’n beskrywing soos hierdie gebruik nie en dat sy interpretasie van fasette van Marais se lewe omstrede is (kyk Marais, 2004). Ná verdere besinning oor die saak dink ek De Wet se argument is moontlik nie vergesog nie. Selfs Pretorius se aandrang dat Marais ’n (geleende!) haelgeweer gebruik (waarvan mens nie die ballistiek kan bepaal nie!) en nie ’n koeëlgeweer nie, is moontlik sinister. Maar dan moet mens Rousseau se interpretasie van Pretorius se optrede as ’n getroue weergawe van die tragiese gebeure kan aanvaar.

Bibliografie

 

Barnard, Chris. 1970. “Pelindaba – Is dié saak afgehandel?” Die Huisgenoot, 17 Julie: 24–27.

 

De Wet, Reza. 2005. Tydens ’n gesprek. Bergzicht Heerenhuys, Stellenbosch, 12 Maart.

Du Plessis, P.J. 1988. Die lewe en werk van Gustav Preller (1875–1943). Pretoria: Universiteit van Pretoria. (Ongepubliseerde D.Phil.-proefskrif.)

Du Toit, François Guillaume Marais. 1940. Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Amsterdam: N.V. Swets & Zeitlinger.

Holm, Albrecht. 2005a. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.

Holm, Albrecht. 2005b. Tydens ’n gesprek. Glen Afric Lodge. Broederstroom. 22 April.

Langenhoven, P.H. 1950. Sanger van die Suikerbosrand: Die lewensverhaal van A.G. Visser. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Marais, Johann Lodewyk. 2004. “Perspektiewe op Leon Rousseau se Die groot verlange (1974).” Referaat gelewer by die Gesamentlike Internasionale SAVN/ALV-kongres, aangebied deur die Noordwes-universiteit, Potchefstroom, 21–25 September.

Mulder, G.R. 1980. “Eugène Marais sterf in ons omgewing.” (Ongepubliseerde dokument van 2 pp.)

Mulder, G.R. 1981a. “Gedenksteen Eugène Marais.” (Ongepubliseerde dokument van 1 p.)

Mulder, G.R. 1981b. “Hoe die lyk van Eugène Marais ontdek is op 30 Maart 1936.” (Ongepubliseerde dokument van 1 p.)

Nienaber, P.J. (samest.). 1951. Eugène Marais: Die groot eensame. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel. (Letterkundige Biblioteek Nr. 9.)

Pretorius, Dotman. 1989. Tydens ’n gesprek. Pelindaba, 18 Februarie.

Raper, P.E. 1987. Dictionary of Southern African place names. Johannesburg: Lowry.

Ratzinger, Joseph. 1979 (1968). Introduction to Christianity. New York: The Seabury Press. (Translated by J.R. Foster.)

Retief, Alexis. 1989. Eugène N. Marais se haplografie van die dood? (Ongepubliseerde referaat gelewer by die Marais & Preller-simposium, 25–26 Mei.)

Rousseau, Leon. 1977. “Die agtergrond van Die groot verlange.” Standpunte 30(6), Desember: 5–19.

Rousseau, Leon. 1984c (1974). Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. Derde uitgawe. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Rousseau, Leon. 2005. Bespreking van “Die groot Eugène”. Woordfees 2005. Bergzicht Heerenhuys, Stellenbosch, 12 Maart.

■ ’n Besondere woord van dank aan meneer Albrecht Holm wat nuwe inligting tot my beskikking gestel en waardevolle kommentaar op ’n vroeë weergawe van hierdie artikel gelewer het.

(c) Johann Lodewyk Marais / Maart 2015

Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais. “Die Moruti”

Saturday, February 28th, 2015

DIE MORUTI

 

 

Die klein moruti met die horrelvoet

het sy eie motor en dra ’n swart pak;

sy vrou in damas groet beleefd.

Pa wys hulle die melkskuur

en uit die strooise op die plaas

kom vanmiddag ’n gemeente,

kom in hulle beste klere

en ruik na Sunlight-seep, Dubbin,

kom na die skuur en sit op die krip.

Ek gaan sit by Sloepek Mokwena

en luister hoe die man met die bril

uit die Testamente e Ntja lees

en oor die liefde van Christus praat;

en hulle sing met stemme

wat ek nie ken uit die kombuis nie

of as in die môre gemelk word

of klere gewas word by die handpomp

of hawer gesny word op die lande nie;

sing hard en soel ’n lied

wat die tik-tik van die sinkdak

in die middaghitte stil maak

en my laat vergeet van die hommelby

wat dreun en sy gat in die muur soek.

 

Bid dat God hulle sal help by die werk

en met die klein boerdery op die land.

 

Bid vir ons almal op die klipvloer.

 

 

(c) Johann Lodewyk Marais

Johann Lodewyk Marais. “Dichter aan huis”

Thursday, February 5th, 2015

DICHTER AAN HUIS

Den Haag, 1995

 

 

Die grys middag word uitgesluit: buite.

Deur die venster sien ek die kastaiings

wat begin verkleur: roeskleurig, helder.

Kaal eikehoutplanke sny oor die vloer.

 

Twee kerse brand teen die muur: nutteloos.

In die hoek staan ’n kaktus. ’n Meeu vlieg.

’n Swart kat kom skuur op hoë pote.

’n Los stoel wag. Die vrou lees ongesteurd.

 

Blomme klou aan die lig soos aan woorde.

’n Horlosie tik op die tafeltjie.

Die digter lees en lees haar gedigte

oor die maan: ’n hele ganse bundel.

 

Later vertel ek vir Ad Zuiderent.

“Ik weet het niet,” sê hy. “As ik zoek

naar maangedichten van haar, krijg ik nul.

Ik twijfel dus of je informatie klopt.”

 

Nogtans, ek was self daar en het gehoor

van die digbundel van Christine D’haen:

’n boek gevul met verse oor die maan,

maar sy het dié antologie verloor.

 

(c) Johann Lodewyk Marais / Februarie 2015

 

 

Resensie: “Nomade” (Johann Lodewyk Marais)

Monday, January 26th, 2015

 

Nomade deur Johann Lodewyk Marais

[Cordis Trust, 2014; Prys: R150; Formaat: Sagteband; ISBN: 978-0-9870397-8-1]

Resensent: Tom Gouws

Poëtiese taksidermie op sy beste

 

Omslag

Johann Lodewyk Marais beklee ’n nisposisie in die Afrikaanse poësie. Miskien meer as enige ander digter hier te lande dokumenteer hy sy poëties gefokuste ekobewustheid, en in die proses gee hy gestalte aan baie fasette en gee hy poëties beslag aan ’n dikwels onaangeraakte deel van die sosiaal-kulturele én natuurlike geskiedenis van Afrika. Hy het bepaald “afsprake met ’n kontinent”, soos dit in die gedig ‘Worsboom’ verwoord word .

’n Tydjie gelede het pres. Zuma op die ANC se 103de herdenking uitgevaar dat die probleme met die land begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap, met die implikasie dat die blankes eintlik die begin van Afrika se probleme was. Nie net adem Marais se digbundel dat die blanke “onloënbaar hier aangeland” het (soos Antjie Krog dit sê) nie, hy beroep hom voorts op ’n gemeenskaplike oorsprong van alle mense in dié wieg van die mensdom:

            Al het ek eenkeer saam met ’n groepie

            uit Afrika weggedros, die landbrug

            na ’n ander kontinent oorgesteek

            en die buiteland diep binnegedring,

            kom ek nou weer tuis by die riviere,

            vleie en heuwels van hierdie moeder

            met die chromosome van lank, lank terug.

Die digter as nomade staan dus hier voorop, sy bundel die optekening van die rykdomme  wat hierdie vasteland spesifiek bied, en die gedigte “rou gedagtes” waarin die digter “versink met die noem van die kontinent”. Hy gedenk en verdig “avonturier, sendeling / en soldaat met stoete vorraaddraers”, se reise elk as ’n ‘daad van geloof’ (soos die titel van die gedig dit benoem), soos ook sy eie:

Met my oog op ’n verweerde aardbol

en ruwe kaarte van groot trekroetes

het alles onherstelbaar begin kwyn.

Marais se verkenning van die “verweerde aardbol”, ook ’n titel van sy 1992-digbundel, is welbekend, en ook in hierdie bundel is daar ’n besorgde digtershand wat aan die verweer (in albei betekenisse van die woord) van die natuur probeer beslag gee. Maar soms is ’n gedig helaas bloot “’n koloniale moment” (‘McMillan Memorial Library’), soos byvoorbeeld die onbevredigende gedigte ‘Kaïro’, ‘F.W. de Klerk’, ‘Haile Selassie’, ‘Cecil John Rhodes’, ‘Victoria’, ‘David Livingstone’ en andere. Dis opvallend dat die huldigingsgedigte of (stand)beeldgedigte dikwels die minder bevredigende tekste in die bundel is. Marais se kensketsing van mense is te veel kere anekdoties of episodies, berus op obskure verwysing, en gaan dikwels mank aan die aandoenlike sensitiwiteit wat sy gedigte oor fauna en flora wel demonstreer. Maar toegegee: die ontroerende huldigingsvillanelle vir Nelson Mandela is egter ’n absolute uitsondering:

Jare lank al weier u om te swig
by Mvezo oorkant die Mbashe.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Hier het u voorvaders ’n kraal gestig
en het u u heel eerste tree gegee.
Jare lank al weier u om te swig.

Bedags het u gedroom van stedelig
terwyl u drentel agter spikkelvee.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Ver hiervandaan was iets duisters in sig
toe u leer van mense se bitter wee.
Jare lank al weier u om te swig.

Hulle – mý mense – het u selfs verplig
om na dié te luister wat op u skree.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Toe u uit die donker kom na die lig
het u met ons nasie ’n band gesmee.
Jare lank al weier u om te swig.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Johann Marais se streng taksering in woorde en strak digterlike lyntekeninge is poëtiese taksidermie op sy beste. Kyk byvoorbeeld na die gedig ‘Arabierperd’:

ARABIERPERD

            Equus caballus

Die oorspronklike bloedlyn gaan stellig

terug na die dae van koning Dawid;

‘n perd geliefd deur Abbas Pasja I,

die graaf Rzewuski en Wilfrid Scawen,

en opgekoop deur die lady Anne Blunt.

Die perde van Ibn Saud van Nejd se stoet

moes net vyftien hande hoog wees, niks meer,

en ‘n korter effense hol rug hê

met die dik kanonne van die skene,

en welgesete lugpyp met strotklep

om akkers woestynwind in te adem.

Die breë kop, smaller af na die neus,

fier asof dit lug drink uit ‘n beker,

met die wakker en gevoelige oë,

en die twee ore, spits soos skerp dorings.

Voor- en agterpote met digte been

asof uit suiwer smeedyster gegiet,

die skoon en snaarstyf gedraaide spiere

en ‘n adrette hoef vir harde grond.

Die kort pels is sag, die maanhare lank,

die stertboog van nature perfek hoog.

Die heersende kleur: kastaiing of grys.

In die Sahara se perdestalle

staan in die oggend die buitelyne

van manne in disjdasjas en keffijes,

met saalkomberse oor hulle diere

ter beskutting teen die son en die wind:

die perd wat jy mag ry en moet versorg

soos deur Mohammed aan jou toegewys.

            Koran XIV: 16:8

Die begrip ‘nomade’ het sterk metaforiese ontginningsmoontlikhede. Hierdie woord verwys na die trekkende, pastorale bestaanswyse van bepaalde volkere of groeperings. Hul beweeg-rede, letterlik en figuurlik, word gerig deur voedselvoorsiening (dikwels die beskikbaarheid van diere om gejag te word), of dikteer deur klimaatsomstandighede en seisoene (vir planting), of die meer moderne nomade, wat vir die lewering van ’n bepaalde diens aan andere noodwendig moet rondtrek. Min hiervan ontgin Marais egter as potensiële onderwerpe – hy verwys hoogstens op die oppervlak daarna. Dis ’n jammerte, want dit sou die eenselwigheid van die digtersaanbod verbreek en vir die bundel groter wins kon bring.

Marais se klem val op enkel gegewens wat hy poëties verdig. Dit is baie soos die lyntekeninge van Lynette ten Krooden wat in die bundel afgedruk is – skerp buitelyne, maar nie altyd met reliëf, diepgang en dimensie nie, dikwels blote vinjette. Die waarneming van die digter val jou op, en die versigtige en sober aanbod, met net af en toe ’n suggestie van meer filosofiese of simboliese diepgang. Die “sinsbedrog van woorde” ontbreek egter grootliks, en dit is asof die meeste gedigte bloot vassteek in óf ’n waarneming, óf ’n doodgewone narratiewe gegewe wat in versreëls oorvertel word, óf die oorsigtelike kensketsing van ’n persoon/gebeurtenis/plek.  ’n Gedig soos  ‘Lamu se katte’ (sien Jack Couffer se boek: The Cats of Lamu), ten spyte van die ryk konteks waaruit die gedig gesprokkel is, bied nét te min uitdaging om as teks te boei:

LAMU SE KATTE

Tydens koningin Hatsjepsoet
van Egipte se kort bewind
het skepe van die Rooi See af
tot by dié argipel gevaar.

Ewebeelde van Bastet: kompleet
met lang bene, spits gesigte,
slanke lywe, van stert tot snoet,
reis op die vroeë vaarte saam.

Die Profeet was lief vir hulle,
katte voor oop deure, in steë,
of die koelte van ’n moskee,
die nakroos van die eerste kat.

Tog bied die digbundel deurlopend ’n tipe kode aan wat dui daarop dat die woorde in die gedig nie soseer net as woorde gesien moet word nie, maar as saad gesien moet word, byvoorbeeld in die gedig ‘Kremetart’

sien ek die ovaal vrugte oopgebreek

en ’n hand vol pitte soos die woorde

van ’n gedig in my kaart toegevou.

Alhoewel “die saad in goeie aarde geval” (‘Wonderboom’) het in die bundel se ryk veengrond, val dit dikwels egter “tussen klippe en dorings” (‘Hypatia’), en vat dit dalk ’n tyd om as gedigte in die leser se dromende denke te ontkiem, en miskien gebeur dit nooit.

In die knap gedig ‘Nelspruit’ word hierdie ars poëtikale siening van die digter dit besonder mooi poëties verwoord:

Al hierdie swoel dae wat ons deurdink,

word soos die pitte van ’n botterklapper

op ’n mrabaraba-bord rondgeskuif

tot één hand alles mooi kan kleinkry.

Dan dwing ons terug na soeter woorde,

dié wat spruit uit wyshede en ontroer.

Maar die hoop beskaam nie, want die digter se vertroue is in die saadwaarde van die woorde:

Deur al die eons heen het baie tyd

verlore geraak (’n rare begrip!)

en dimensies van bestaan het verdwyn.

Maar die stoflike neerslag duur.

Water en ’n sirkel sal nie weet nie

en die vrugbaarste sade het geheel

en al onopgemerk begin ontkiem.

’n Interessante kenmerk van die digbundel is ’n klompie gedigte wat aanvly tot Islam, miskien noodwendig omdat dié godsdiens en ideologie ’n bepalende stem in Afrika is. Dit verruim op sigself ’n tematiese register van Afrikaans wat erg afgeskeep word, en is ’n welkome toevoeging tot ons geskakeerde digkuns.

Die oeuvre van Johann Lodewyk Marais as literêre nomade bied veel stof tot interessante navorsing. Lees opnuut sy oeuvre byvoorbeeld in die lig van Katharine N. Harrington se uitspraak: “nomadism also implies a new perspective with regards to borders, both real and imaginary. In fact, nomadism, as a postmodern style of thinking, encourages individuals to reconsider rigid definitions of borders.” (in Writing the Nomadic Experience in Contemporary Francophone Literature, p. 4). Daar is steeds ook verkennende navorsing nodig rondom die neerslag van die filosoof J.H. van den Berg se kensketsing van metabletika, soos ek indertyd in my resensie van sy 1989-bundel ‘By die dinge’ genoem het.

En dan: die N.P. van Wyk Louw- en D.J. Opperman-spore wat Marais naloop in hierdie bundel, veral die inspeel op laasgenoemde se ongepubliseerde laaste bundel: Sonklong oor Afrika (wat egter wel as faksimilee-uitgawe verskyn het), is ’n ondersoek werd. Soms is die verwysings te ooglopend eksplisiet en effe pretensieus (soos met “Dr. Opperman, neem ek aan?”), maar dikwels is dit vernuftig verhul, soos in ‘Hamerkop by Dunga’ en in die manjifieke sluitgedig van die bundel, ‘’n Lewe’, waar die amper terloopse verwysing na dennebolle ’n hele Opperman-leefwêreld aktiveer. Op sy beste gee Marais beslag aan die palimses-konsep van intertekstualiteit op ’n besonder vindingryke wyse, met ’n duidelike natrap op Derrida se idee van spore.

Ten slotte: Wat ’n lieflike bundel om in die hand te hou! Cordis Trust het met die verloop van net ’n paar jaar met puik publikasies ’n sterk meesprekende stem in die Afrikaanse letterkundesisteem geword. Die kwaliteit van hierdie bundel, ook die pragtige drieluik debuutbundels van Mellet Moll wat pas deur Cordis Trust gepubliseer is, is ’n ryk en welkome toevoeging tot ons literatuur.

(c) Tom Gouws / Januarie 2015