Posts Tagged ‘Johannes Kerkorrel’

Gisela Ullyatt. “Verward, jonk en rigtingloos”: revolusie of anti-visie?

Tuesday, March 21st, 2017

Is daar enigiets vir ons oor?

tyd raak min en ek weet

ek gaan moontlik nooit die antwoord hê nie

                                       Francois van Coke: “Moontlik nooit”

 

Geruime tyd hoor en sien ons ’n revolusie uitspeel op die planke van universiteite. #feesmustfall, #openstellenbosch, et al. ’n Hashtag-generasie. Terwyl daar oor mikrofone gebulder word, word selfies geneem; neon-pienk lippe pruil op fb-tydlyne. Jy moet immers cool lyk vir die revolusie. Alhoewel die voorbokke in politieke insignia galoppeer, is die tekkies steeds ’n brand; die jeans super-styf. Dit is ’n warm vryery tussen Sosialisme en Kapitalisme.

 

Tog is studente-protes nie ’n nuwe konsep nie. Een van die deurlopende temas van Milan Kundera se Unbearable Lightness of Being (1984) is die 1968 studente-revolusie in Praag, oftewel die Praagse Lente. Die wêreldliteratuur het talle voorbeelde van dié indertydse revolusie wat ook plaasgevind het in groot dele van Europa, byvoorbeeld Parys.

 

Nog ’n voorbeeld van studente-protes is dié teen die VSA se betrokkenheid in Viëtnam in die 1960’s en 1970’s.

Kent State University, Ohio

Kent State University in Ohio is ’n voorbeeld van hoe protes gruwelooslik skeef kan trek. Neil Young, toe nog ’n jong musikant, het feitlik onmiddellik die volgende lirieke geskryf nadat hy berigte oor die nuus gesien het. 4 Mei 1970 sou nooit weer net nóg ’n datum in die geskiedenis wees nie. Crosby, Stills, Nash & Young se opname hiervan volg op 21 Mei van dieselfde jaar:

Neil Young

Tin soldiers and Nixon coming,

We’re finally on our own.

This summer I hear the drumming,

Four dead in Ohio.

 

Gotta get down to it

Soldiers are cutting us down

Should have been done long ago.

what if you knew her

and found her dead on the ground

How can you run when you know?

 

4 Mei 1970 is begroet met ’n landswye staking van oor die vier miljoen studente: honderde kolleges, universiteite en selfs hoërskole is gesluit tydens hierdie tydperk. Publieke opinie het op groot skaal begin skuif: Nixon se leuens het stadig begin uitlek.

Instellings is egter nie op die lange duur lamgelê deur studente-stakings nie. Lesings moes voortgaan.

Elke nuwe generasie voel dat hulle ’n nuwe hond het om te skop en dat hierdie skoppe die wêreld gaan omskep in ’n Beloofde Land.

En so moet dit ook wees. Die wêreld moet verander. Onregverdige gesag moet uitgedaag word. Die Kerkorrel-generasie het teen nasionale diensplig en PW Botha se militêre regime in opstand gekom. Die status quo moes val en hét.

Wat egter opmerklik is, is die anti-intellektualisme waarmee die nuwe geslag (lees born-frees) die revolusie aanpak. Slordige SMS’e word na studente uitgestuur wat wemel van spelfoute en logiese denkfoute. Laasgenoemde word gedreig en geviktimiseer as hulle nie aan hierdie revolusie deelneem nie. Die deurlopende sub-teks is geskoei op vervelige herhalings en slagspreuke wat herkou word. Gesag word nie net uitgedaag nie, maar vertrap. Die beweging begin daagliks meer beweeg na ’n militêre junta. Daar wil nié onderhandel word nie; daar wil slegs bevéél word. Dis ’n gekeuwel, gebulk; kortom, ’n uitgerekte vertoon van jong mag.

Foto: Gisela Ullyatt. 2017.

Dosente word uit hulle klasse gejaag en gedreig as hulle durf voortgaan. Toetse word gegryp en opgeskeur en talle dosente moes presensielyste wegsteek want die junta wil die name hê van die ‘verraaiers’ wat durf klas draf of toets skryf. Heiligskennis word gepleeg as jy in jou studies belangstel. Klasnotas word na verwys as ‘pamphlets’. Ja, dosente, die notas wat julle pleeg is gelykstaande aan ’n Bradlows-pamfletjie. Dit het ’n no name-brand geword.

Ek moes gister so onopsigtelik as moontlik my ‘pamphlets’ uitdeel aan ’n klein groepie studentemeisies wat opsigtelik angsbevange was. Kort voor lank het twee bully boys die meisies buite ingewag en wysvingers is rondgeswaai. Een het ’n duur selfoon uitgehaal en die ‘skuldiges’ afgeneem. Ek kon nie die sekuriteit in kennis stel nie, omdat die junta dié lok met beloftes van “insourcing”. Daar word openlik gegrynslag as jy vra om die lesinglokaal oop te sluit. Daar is reguit aan my gesê dat hul opdrag is om nie klasse oop te sluit nie, direk deurgegee deur studenteleiers. Dit terwyl dosente direk deur topbestuur opdrag gegee word  om vir klasse op te daag en dat semestertoetse sal voortgaan. Akademici sit daagliks vasgevang tussen twee ‘waarhede’: ’n niemandsland. ’n Waiting for Godot.

 

Ek besit niks nie

Ek het niks om by die geselskap by te dra nie

Ek weet nie

Als is by my gevat

Inspirasie sluip deur die strate in die middel van die nag

Ek soek die waarheid

Maar die waarheid stel nie belang in my nie

Gesê ek sou alles een keer probeer

Maar ek het honderd keer

Maak my stil

Gooi my uit

Laat my verdwyn

Ek soek die waarheid

Ek soek die weg

Ek soek die lewe

 

Ek vertrou nie maklik nie

Ek het te veel nuwe leuens gehoor

Ek glo dit nie maklik nie

Besluit self wat jy wil vat

Ek sal nie weer my laat onderbreek

Of in die rede val nie

(Francois van Coke: “Waarheid, Weg en Lewe)

 

Uiteraard soek die nuwe geslag na waarheid. Kanaän is aan hulle belowe. Hulle woede is te verstane. ’n Generasie soos Kerkorrel s’n ook: God sal aan jou kant wees as jy die terries vermorsel. Dit het egter nie gebeur nie. Jong mans is aan die vaderland geoffer. Sonneskyn en Chevrolet het ’n Donkerland geword:

 

en jy ken die agterstrate

van stellenbosch tot in waterkloof

en as windhoek se fasciste smile

kan jy die beste twostep dans

of jy in bellevue na die hawe vaar

of in amsterdam verdwaal

dis oral nog banaal genoeg

om revolusie te verstaan

 

ja die sakemanne vra nog wyn

en betaal met ’n visakaart

en die joernaliste vra hier rond

grawe dooie bene oop

(hou nooit op nie)

en die gasvrou op haar TV-skou

vra haar laaste stomme vraag

en ek sit hier en sien die sin

om revolusie te versin

[…]

hulle dans nou in die strate

dis ons tyd in Afrika

ministers vlieg in boeings weg

en ons staan hier verstom […]

(Johannes Kerkorrel: Bloudruk)

Bloudruk

 

Kerkorrel en sy generasie het egter hulle moerigheid met die status quo met ’n mengsel van intellek en toeganklikheid vir die jonges van dae gebied. Daar is geboogie op “Sit dit af” en “BMW” maar daar is ook geredeneer; identiteit is bevraagteken; ou paradigmas is aan die kaak gestel. Die ‘revolusie’ het nie nodig gehad om jonges te dreig om deel te neem nie. Die lirieke, drif en boogie-woogie het vanself oortuig. Nuwe generasies soos Karen Zoid, fokofpolisiekar en ander kon voortbou op die Kerkorrels en Kombuise. Daar was dus ’n narratief wat voortgesit kon word. Maar, terselfdertyd het die narratief nie net ‘vertel’ nie (telling) maar ook ‘gewys’ (showing).

 

’n Protes-narratief wat benoud raak, wat homself vasdraai in sy eie jeremiades, kan nooit iets anders as ’n telling bly nie. Jy moet jouself in volwasse geselskap kan handhaaf. Dit beteken nié dat jy alles moet aanvaar nie. Dit beteken wel dat jy sloppy thinking halt sal moet roep om die weg oop te baan na ’n kragmeting tussen die ou en nuwe status quo. Jy kan egter nie die ou status quo op die vloer laat sit soos stoute kleuters terwyl jy ’n tantrum gooi en op die tafels toyi-toyi nie. Dit help nie om dieselfde ou slagspreuke rond te slinger nie; niemand wil meer daarna luister nie. Dié het ironies genoeg verpiep geraak, al word dit uitgebulder op mikrofone wat kringfluit.

 

Intussen is hierdie generasie studente vinnig besig om nog ’n verlore generasie te word. Hierdie jongmense het nie ’n stewige basis om hulleself internasionaal te handhaaf nie. Jy moet immers kruip voor jy kan loop of hardloop. Anders gaan jou knieë nerf-af wees op ’n gereelde basis.

Die vraag is: kan hierdie generasie werklike leierskap voortbring? Waar is die Gandhi’s, die Martin Luther Kings, die Neil Youngs, die Kerkorrels; die fokofpolisiekarre? Ek ken  weinig studente in die revolusie wat Marx se Das Kapital deurgelees het of die Communist Manifesto in hul slaap kan opsê. Weinig stel belang in gender-teorie (of die toepassing daarvan in die praktyk. Meisies word steeds as goods and chattle gesien) of in die tydlyn van wêreldgeskiedenis, albei belangrike bakens vir die jong revolusionêr. Hoe verander jy die ‘prevailing narrative’ as jy nie weet wát dit is nie?

Of is die born frees te “verward, jonk en rigtingloos”?

 

Ek’s gebore aan die Ooste-rand

In ’n straat wat net soos ander lyk

in die kerkbanke grootgeword

Anders as jy

Vir ewig in ’n ry gestaan

Verward, jonk en rigtingloos

Alles aan toeval oorgelaat

Nes jy

 

Mekaar gevind onder neonlig

Liggelowiges

Verblind

Verbind

(Francois van Coke: “Neonlig”)

Francois van Coke

 

Is die studente-revolusie wat ons tans mee te make het, werklik ’n revolusie? Of is dit net nóg ’n regime-in-the-making, ’n papegaai wat ‘bedroë die koggel kry”? Aldus David Cooper, die bekende eksistensiële psigiater (1968):

If we persist with the theme of transformation of our institutions into revolutionary centres of consciousness, we have to be clear about why more has not been achieved by what we have already done in this way. The most immediate answer is that we have become victims of a very old colonizing technique – the technique of divide and rule.

Ek berus by Stokely Carmichael (1967, soos aangehaal in Cooper:1968), wat onder andere leier van die Student NonViolent Coordinating Committee was:

I want to start off with definitions by using a quote from one of my favourite books, which is Alice in Wonderland, by Lewis Carroll. In the book there’s a debate between Humpty Dumpty and Alice around the question of definitions. It goes like this – ‘When I use a word,’ Humpty Dumpty said, in a rather scornful tone, ‘It means just what I choose it to mean. Neither more nor less.’

‘The question is,’ said Alice, ‘whether you can make words mean so many different things’.

‘The question is’, said Humpty Dumpty, ‘Who is to be master. That is all.’

Now, I think that Lewis Carrol is correct. Those who can define, are the masters.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Cooper, D. (ed). 1968. The dialectics of liberation. Harmonsworth, Middlesex: Penguin.

Kerkorrel, J. 1992. Bloudruk. Tusk Music.

Van Coke, F. 2015. Francois Van Coke. Supra Familias.

Young, N. 1970. Massey Hall 1971. Reprise Records.

Gisela Ullyatt. “In ’n niemandsland het ek verdwaal”: Johannes Kerkorrel (27 Maart 1960-12 Nov. 2002)

Monday, November 10th, 2014

November 2002. Ons is op pad Suid-kus toe. Ek kry ’n SMS-boodskap van ’n ou vriendin. “Johannes Kerkorrel dood”.

Die hele karrit daarnatoe en terug luister ons na Kerkorrel-kassette. By Van Reenenspas begin Eet Kreef uitrafel; die kassetspeler spu bruin lint uit. Onherroeplik beskadig. Ek koop ’n plaasvervangende CD in Look ’n Listen Pavilion se piepklein Afrikaanse afdeling. My kop loop draaie wanneer ek op die strand is:

 

Hier kom die somer die son

hier kom die somer die son

dae soos heuning warm en lou

 

My kop rewind tyd soos ek ander kassette in die karradio terugspeel: 1991. Pas in die hoërskool, te jonk om by die 1989 Voëlvry-konsert te kon wees, stig ek en my beste pel, E, ons eie alternatiewe groep. Ons koop Eet Kreef en luister ook na Koos Kombuis. By sokkies blêr die nuutste Roxette se Joy ride, maar ons, ons luister na Kerkorrel. Ons is alternatief. Ons maak vir ons alternatiewe name op. Ons wens Houtstok het nog bestaan. ’n Jaar later koop ek Bloudruk met karige sakgeld wat ek vir maande spaar.  Later kom Cyanide in die beefcake; sommige van Kerkorrel se mees aangrypende lirieke. Daarna verval hy in die rave-kultuur met lirieke wat steeds aangryp soos “my ewige ontwykende beminde” en “sirkusdier”, maar helaas, die musiek het net nie meer die impak van byvoorbeeld Bloudruk nie. Dis ’n natuurlike fenomeen onder sangers en hulle volgelinge: die eerste generasie luisteraars en aanhangers identifiseer bloot meer met die eerste albums van die kunstenaar. Dink maar hoe Bob Dylan uitgejou is veral tydens ’n toer in Engeland toe hy van folk hero in elektriese hero ontpop het. Die wêreld gaan aan.

Forward: 2003. Kerkorrel. ’n jaar later … in die staatsteater, ’n mooi rymende titel van die DVD van die konsert wat vir Kerkorrel gehou is, ‘n jaar na sy selfdood naby Kleinmond. Talle van sy songs word gesing; Karen Zoid, toe nog die jong-opkomende-zoid, ontroer veral met haar song “Foto teen die muur” wat sy vir hom geskryf het. Haar woede oor sy selfdood is sigbaar. Haar weergawes van sy “Sit dit af” en “Ek ry ’n BMW” is rouer as rou. Die skok, steeds immer aanwesig. Stef Bos se weergawe van “Hillbrow” ontroer geweldig met sy Nederlandse aanslag. Valiant Swart (wat deur Kerkorrel as die opvolger of fakkeldraer van die post-Voëlvrybeweging beskou is) se “Kleinmond goodbye” is sag, is seer. Maar Amanda Strydom se weergawe van “Hoe ek voel” laat ’n mens voel asof hy iewers in die omstreke was. Strydom se rou pyn word veral saamgevat wanneer sy die woorde van hierdie song verander na ‘ons’ in plaas van die oorspronklike ‘ek’:

 

Sou jy weet, jy sou weet

as jy teen die tyd nog vergeet

hoe ons voel, hoe ons voel

oor jou

 

Strydom se lirieke wat sy ter herinnering geskryf het, ontruk nie die alter ego Kerkorrel aan die vergetelheid nie, maar wel Ralph Rabie, vriend en vertroueling. Die volgende lirieke (eerste drie verse) is in Kaalvoet (2004:53) gepubliseer:

 

Ek het gedroom (vir Ralph)

 

Ek het gedroom jy het opgestaan

uit jou dood

en aan my deur kom klop soos

altyd met blomme

wyn en brood

Jy sê: “Ek moes net vinnig

wegkom,” en jy maak die

bottel oop

“Ek is jammer oor die drama,

maar dis die pad wat ek

moes loop…”

 

En jy gaan sit op die rusbank

Jy glimlag verleë

My mond is droog, my hande

Beef as ek die glase vir jou gee

“Het jy enige idéé hoe ons gevoel

het met jou dood?

Jy was selfsugtig, jy was wreed.”

Jy sê: “Miss Mandy, sny die brood.”

 

En so hard soos ek probeer, kan

ek nie uit hierdie droom ontsnap

En ek sê vir God: “Meester

hierdie droom is ’n siek grap.”

Maar hier sit ons op die rusbank

en jy kyk my in die oë

en jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

 

Daar is verbasend min Afrikaanse gedigte geskryf in die twaalf jaar sedert JK se dood, maar die leser vind wel ’n roerende lykdig in Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014:98):

 

Die ander kant

Vir Ralph

Jou laaste songs het somber ondertone

van ’n finale kleedrepetisie:

in “Die ander kant” sing jy in sober swart

ontwapen voor jou demone

in ’n naamlose bos, in & uit

fokus met oë wat ontroosbaar pleit.

sommiges onder ons weet

voortydig van ons dood.

 

Jy het jou aan ’n wattelboom

vasgemaak, van alles losgemaak

& jou woorde geword,

& ’n naam op ’n dossier. Ook hiér

in die bos van die verbeelding

het die middag botstil geraak.

 

Vir sommige was hy Johnny K, vir ander die ewige ontwykende Kerkorrel van die laaste doodsrukke en -snikke van apartheid; die vergestalting van die weermag-generasie wat jong seuns soos Ralph Rabie ingestuur het en ironies genoeg apartheidsrebelle soos Johannes Kerkorrel ontketen en teruggestuur het. Vir ander was hy Ralph, die introverte joernalis, met die skerp brein en foutlose Afrikaans. Hoe dit ook al sy, hy was nie net ’n popster nie; sy lirieke was soms meer soos gedigte.

Ons het ’n nuwe protes-generasie nodig, een wat nie verswelg in sy eie plesierige vette nie. Is dit hoegenaamd moontlik? Of koes hulle vir hul BMW’s, goue plate en vintage kitaar-altare in hierdie deurmekaar en Eskom-bedonderde niemandsland? Ek gee die laaste woord aan Ralph/Johannes:

 

Derde Wêreld (Bloudruk)

Lente in die ou Transvaal

môredou en oggendlig

eerste son op sink en staal

en kolle nat groen gras

klavier se note hou my vas

gisteraand weer donderweer

 

in niemandsland het ek verdwaal

sal ons ooit weer die daglig haal

die toergids gee die reisplan aan

sê totsiens Azanië

ek groet my vriende een vir een

versigtig elke tree

en ek stap deur die spieël se raam

die derde wêreld in

 

Van die allerlaaste beeldmateriaal van Kerkorrel

is te sien op http://www.youtube.com/watch?v=cGTiynJ8pqA deur Tiny Laubscher

 

Bibliografie

 

De Lange, J. 2014. stil punt van die aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Strydom, A. 2004. Kaalvoet. Liriektekste. Parklands: Genugtig!

 

 

Andries Bezuidenhout. Ideale val soos Carletonville

Monday, November 21st, 2011

Daar’s iets te sê vir myndorpe. Ek hou veral van Carletonville. Ek sing altyd André Letoit, nou bekend as Koos Kombuis, se “Swart Transvaal” as ek deur die dorp ry: “Ideale val soos Carletonville. Ondergronds is God die hel in vir die Boerenasie, wat bid soos Fariseërs, maar nooit kan ophou raas nie…” Daar word ook verwys na die “kil torings van klein dorpies”. Ek neem aan die “ideale wat val” verwys na die sinkgate by Carletonville, wat in die 1980s in die nuus was. “Swart Transvaal” kom oorspronklik van die kasset Ver van die ou Kalahari af, wat in die laat-1980s deur Shifty Records versprei is. Ek het dit in 1990 by Grahamstad se kunsfees gekoop, maar het reeds ʼn kopie daarvan gehad – “afgetape” van ʼn vriendin in Walvisbaai se broer s’n. Hy’t op Stellenbosch geswot en dit daar in die hande gekry. Die verkope deur Shifty Records was nie baie goed nie, want blykbaar het Letoit reeds self vir al sy vriende kopieë gemaak. Toe ek my wettige Shifty-weergawe koop, kon ek reeds die meeste van die songs op my kitaar speel.

Terug by Carletonville. Die wêreld se diepste goudmynskag – by die voormalige Western Deep Levels, nou bekend as Tautona – is naby Carletonville. In die laat 1990s het ek die dorp leer ken toe ek vir die National Union of Mineworkers (NUM) begin navorsing doen. Ek het meeste van die myne, veral hostelle, besoek om onderhoude met vakbondlede te voer – Blyvooruitzicht, Elandsrand, Wes-Driefontein, Oos-Driefontein, Kloof, ens. Sulke mooi name – klowe, rante, fonteine, alles met ʼn uitsig. Baie van die hostelle van daardie myne is egter uitsiglose plekke. Kontrakwerkers is byvoorbeeld van die laat-1990s af in Blyvooruitzicht se hostelle gehuisves.

My plan is om in die volgende paar maande aan ʼn reeks skilderye van myndorpe te werk. Ek het die een hier bo hierdie naweek voltooi. Dis van ʼn brug by Carletonville, reg oorkant die NUM se streekskantoor. Die pad laat my aan Johannes Kerkorrel se “Ry” dink, dalk ook sy “Ballade van ʼn mynwerker”. Ek het op die web gaan rondkrap en die volgende is die naaste aan ʼn transkripsie van die liriek wat ek kon opspoor. Ek het hier en daar ooglopende foute reggemaak:

Ek kom van Vryheid in Natal
Ek werk hier in die myn
Die droogte het ons plaas gebreek
Ek kon nie langer bly
Ek leer hier vir my ambag
Miskien gaan ek eendag weer boer
Tel die ure, doen oortyd
En die vakbond sal mos na my kyk

Ek werk in skofte dag na dag
Maar eenkeer ’n maand breek ek weg
Dis Vrydagaand en die naweek lê voor
Net ’n sak vol kontant en ek’s reg
My klere is koel, kam my hare perfek
Lyk skerp soos ’n skeermeslem
As ek buite toe stap is die heilige nag
Vol beloftes om later te ken

En kyk daar eenkant onder die boom
Chroom blink gevaarlik sag
Vuurperde-krag, bloedrooi geverf
Masjien in ’n cowboy se droom
En onder daai staal klop ’n hart van goud
’n Enjin wat net een verstaan
Sestienklep oopmaak en al wat sy vra:
Asseblief vat my ver hiervandaan

En buite die dorp loop die grootpad verby
Ons gaan ons wiele laat sing op die teer
Radio hard en die venters wyd oop
Gaan ons soek na die hart van die stad

En iewers in die nag
Staan ʼn neon-engel vir seker en wag.
Spreek ’n seënbede uit oor elke dief van die nag
En veterane van oorlog stroom in
Veterane van oorlog stap weg
Veterane van oorlog wonder waarheen, waarheen…

Jy eindig op met ’n vuur in die hart
Die onrustigheid diep binnekant
Jy leef en jy leer om alles te gee
Vir die kans om net eenkeer te leef
Die kans om net eenkeer te leef

Dit kom van die album Bloudruk af. Didi Kriel se verwerking van die lied is baie 1980s – snaartrom met ʼn groot eggo op, kitaarsolo en al. Ek hou daarvan, op dieselfde verleë manier wat ek steeds van Alphaville hou. Tog vat die liriek iets van die spanning tussen die name van plekke soos Blyvooruitzicht en die werklike uitsigloosheid van Suid-Afrika se myndorpe vas. Ek hoop die skildery kry dit ook reg.

detail

Carletonville se brug: detail

Andries Bezuidenhout. Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate

Friday, April 23rd, 2010

Vlieswolke vanoggend, regte Hoëveldherfs. Iemand stuur ʼn link aan na ʼn video van Leonard Cohen – ʼn lied oor die Chelsea Hotel in New York wat hy vir Janis Joplin geskryf het.

Ek dink weer oor die Chelsea Hotel waaroor Johannes Kerkorrel geskryf het. Die een in Hillbrow. Ek het onlangs daaroor in ʼn rubriek geskryf:

Reg van onder lyk die Hillbrow-toring spookagtig vreemd.

Dis skemer en dit reën onophoudelik. ‘n Mens kan wilde reënvlae sien in die spreiligte se strale wat die groot sokkerbal om die toring se skag verlig. Dit lyk soos iets uit ‘n futuristiese fliek.

Ek wou my vriend Denver, wat op besoek is van Namibië, wys hoe lyk Hillbrow; gedink ons kan vinnig deur ry op pad Melville toe. Johannesburg se donderbuie het egter ander planne gehad.

Iewers het afvoerpype verstop en kitsriviere het van die strate onbegaanbaar gemaak. Nou sit ons in die verkeer vas tussen toetende taxi’s se aggressie en luierende busse se dieseldampe. Niemand beweeg nie, slegs voetgangers wat deur stilstaande voertuie vleg.

Die petroltenk se liggie begin flikker. Ek skakel die kar af om brandstof te bespaar.

“Weet jy darem waar ons is?” wil Denver weet. “Ja,” lieg ek, “moenie bekommerd wees nie.”

Dis dié dat ek die toring soek. As jy in Johannesburg verdwaal sê die torings vir jou waar jy is. Wel, dink ek, ons is iewers rég onder die toring.

Hillbrow voel soos ‘n vreemde land. So min van die ou landmerke is oor. Fontana is ‘n franchise in die voorstede. Estoril Books het elders heen getrek.

“Die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel en stemme en musiek klink in elke woonstel,” hoor ek Johannes Kerkorrel in my kop sing. “Gee jou hart vir Hillbrow…”

Ek dink aan ‘n tydjie gelede toe ek en Irma ná ‘n begrafnis in Venda te kapot was om terug te ry Johannesburg toe. Net noord van Louis Trichardt het ons ‘n ouwêreldse hotel opgespoor en besluit om oor te bly.

Die kamers het ‘n mens laat voel of jy steeds in die 1970s is. Kelners in outydse uniforms het maaltye in die eetsaal bedien. Aandete het uit vyf gange bestaan: Sop, vis, ‘n hoofgereg met groente uit skottels van vlekvrye staal, nagereg, en dan kaas, beskuitjies en koffie.

Ons het gelag en gewonder of hierdie tradisionele benadering nog in Engeland bestaan. In Londen eet meer mense Sondae Indiese hoender tikka as die tradisionele “roast beef”. ‘n Mens moet deesdae Louis Trichardt toe kom vir ‘n outentieke Engelse hotelaandmaal, of dalk vele ander plekke in die voormalige kolonies.

Een van die kelners wou weet waar ons vandaan kom. Hy’t ook in Johannesburg gebly, het hy gesê. Hy’t sy oë gerek toe hy oor Hillbrow praat: “Yes, Hillbrow, that’s where all the ducktails are…”

Denver pomp my met sy elmboog. Die verkeer het weer begin beweeg. Ek skakel die kar aan en ons ry verby die Chelsea Hotel, waaroor Johannes Kerkorrel gesing het. Ek kan onthou hoe ek in die vroeë 1990s bier op die stoep gedrink het.

Vir ‘n tyd lank was die gebou stukkend; slierte verf het aan die mure gehang en die vensters is met plate saamgeperste hout toegespyker. Nou is dit weer in mooi skakerings geel en beige oorgeverf. Dis nie meer ‘n boheemse hotel nie, maar ‘n gewone woonstelblok. Die art deco-styl het darem behoue gebly.

Dinge verander so vinnig. Daar is soveel wat verval, of sommer in duie stort. Soms word daar weer opgebou, oorgeverf. Ek slaan my oë op na die sokkerbal teen die toring. Hel, dink ek, is dít waar ons hulp vandaan moet kom?

Op die sypaadjie stap ‘n vrou met ‘n baba op haar rug. Haar gesig blink in die reën. Sy weet dit nie, maar iewers is daar nog ‘n Hillbrow met ducktails. Hulle herkou steeds aan taai stukkies kougom en spin wheelies met Sheilas agterop hulle motorfietse.

Maar dis nie in Hillbrow nie. Dis in die geheue van ‘n kelner by ‘n hotel net noord van Louis Trichardt.

Lees die oorspronklike rubriek hier.

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 4a

Wednesday, November 11th, 2009

1
Wie sing vir die metropool?

2
Wat gebeur as jy die aardbol omdraai sodat die gatkant bo sit? Die antipodes is nie meer doer onder nie. Die plek wat ons Suid-Afrika noem sit aan die noorde van die kontinent. Op die wilde wye web is enigiets moontlik. Op straat lyk dit nie juis so nie.

3
Na slegs ses jaar se boomtown sprawl:
duisende myners in tente, sinkhuise, hostelle en hotelle
     suiphuise en bordele vir enkellopende mans
besluit die Rand Lords
dis een te veel en vlug
oor die randjie – beskut van die smerige Eldorado
rig hulle ʼn heining rondom Parktown op.

Raserige, swetende bouers werk aan:
Northwards,
Pallinghurst,
Highfield Manor, en,
spesiaal vir Lionel Phillips,
met die rug gekeer op die myne se hel:
Hohenheim
en later Villa Arcadia.

Maar steeds hoor hulle die gestamp
van metaal op klip –
soos tromme in die nag.

4
Melankolie en nostalgie. Hulle sit hoog in hulle woonstel, die glasdeure oop. Hy blaai deur ʼn ou Elizabeth Eybers digbundel. Die drukkers het rooi ink op die titelblad gebruik. Die drukpers het nie slegs ink nagelaat nie. Die letters is letterlik by die bladsye se vesels ingestamp. Hierdie is woorde met gesag, dink hy. Hy lees oor die Witwatersrand. Die Ponte flikker met daardie obsene Vodacom-advertensie. Die Hillbrow-toring stuur nog steeds sy seine in die nag, sy seine in die nag, sy sein vir die junkies wat wag.

5
The Johannesburg Salon is an experiment. It is a contingent and in-process attempt to merge elements of an intellectual-cultural magazine with a public discussion forum. Notwithstanding the misgivings of many of our Anglophone writers (who associate the term Salon with amateur opera and sad canapés) we have called this forum a Salon in an attempt re-establish the ideal of a public space fundamentally dedicated to intellectual discussion; one that recognises the central place of ideas in public life. We also wish to rework the notion that such a forum is the exclusive domain of old Europe. The Johannesburg Salon is an attempt to utilize the opportunities for global conversation offered by the spatial and temporal compression of the virtual environment. The 21st Century manifestation of the internet allows The Johannesburg Salon’s public to be from all over the world, and to meet simultaneously.

6
Nuwe tendens. Kinders wat hulle gesigte wit smeer en danspassies by verkeersligte doen. Die man met sy een arm is verplaas deur die nuwe agente.

7
Nuwe inisiatief. Die Johannesburg Salon. Om lewe intellektuele lewe in Johannesburg se onderaardse mynskagte te blaas. Luister iemand? Hy lees van die artikels. Hy geniet John Comaroff se stuk oor neoliberalisme en Franco Barchiesi se onstellende argument oor wat gebeur as jy ander mense se drome droom. Ook Pamila Gupta oor nostalgie. Hy sal later die onderhoud met Achille Mbembe aanpak.

8
Will readers respond and become writers? Will this Southern-based Salon attract an active global public? Are we right that such a venue is needed and desired and will be used?

9
ʼn Suid-Afrikaner van Joodse afkoms wat al lank in Chicago woon. ʼn Italianer, wat lank in Johannesburg gewoon het, maar nou in Ohio klasgee. ʼn Kameroener, wat lank in Parys gewoon en studeer het, en nou in Johannesburg woon. ʼn Amerikaner van Indiese afkoms, wat nou in Johannesburg woon. Hiérdie is die nuwe intellektuele elite wat uit Johannesburg se salon skryf. Mense sonder grense. Hy voel provinsiaal. Hy skryf in Afrikaans, nie omdat hy wil nie, maar omdat dit al taal is waarin hy homself min of meer kan uitdruk. Soms moet hy ver ry om ʼn Afrikaanse koerant te koop. Waar hy woon, is nie baie ander Afrikaanssprekendes nie. Hy is een van baie immigrante. Kan die mense in die salon met die mense in Johannesburg se strate praat? Dit lyk asof hulle so ʼn behoefte het. Maar vir wie sing hulle? Die ontwykende Johannesburg, of ander metropole? Moet jy ʼn keuse maak?

10
Bronne: Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. 1989. Eet kreef! Klankopname, Shifty Records. Kursiewe aanhalings in Engels: Lara Allen en Achille Mbembe. 2009. “Editorial: Arguing for a Southern Salon.” Johannesburg Salon, volume 1, pp. 1-3.

Andries Bezuidenhout. Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Andries Bezuidenhout. Snare wat vir altyd vibreer

Friday, September 25th, 2009

Dit was gister lekker om mede-blogger Philip de Vos by die Woordpoort te ontmoet. Ek het ook die gespek met Johan Myburg en Johannes Prins oor hulle digbundels geniet. In ʼn stadium het die gesprek met die gehoor nogal warm begin raak, veral toe ons gesels het oor die media se dekking, al dan nie, van die digkuns. Die punt is weer gemaak dat die digkuns te veel dekking kry in vergeleke met byvoorbeeld kinder- en jeugliteratuur.

Later die aand het ek dit baie geniet om in die Maskerteater op te tree saam met Albert de Vos. As kind het ek gereeld in die studeerkamer geluister na hoe my ma klavierlesse gee. Vir die eerste les het sy altyd die klavier oopgemaak om vir leerlinge te wys hoe die instrument aan die binnekant werk – hoe die hamertjies die snare slaan om die klank voort te bring deur ʼn vibrasie te veroorsaak. Volgens haar het só ʼn vibrasie in teorie nooit opgehou nie.

As sy reg is, draal die keer wat Johannes Kerkorrel “Gee jou hart vir Hillbrow” in die Maskerteater gesing het tydens die Voëlvrykonsert daar – twintig jaar gelede – steeds in daardie ruimtes rond. Ek het toe maar my eie weergawe bygevoeg, al speel ek dit met ʼn kitaar en nie, soos wyle Kerkorrel, met ʼn trekklavier en ʼn botteltjie klippies as perkussie nie.

Dis maar my klein, onvolmaakte huldeblyk aan hom (tweede van regs af op die foto hier bo).

Ek en Albert het natuurlik elkeen ʼn liriek geskryf wat op ʼn manier op “Gee jou hart vir Hillbrow” antwoord – vanuit die oogpunt van so twintig jaar later.

Klaviere en kerkorrels. Soms wonder ek oor my ma se teorie, oor snare wat vir altyd vibreer. Dan gaan die geskiedenis waarskynlik op een groot kakofoniese crescendo eindig.

Ek en Albert tokkel vanaand weer ons snare in die Maskerteater – om 18:40.