Posts Tagged ‘Johannes Kerkorrel’

Andries Bezuidenhout. Ideale val soos Carletonville

Monday, November 21st, 2011

Daar’s iets te sê vir myndorpe. Ek hou veral van Carletonville. Ek sing altyd André Letoit, nou bekend as Koos Kombuis, se “Swart Transvaal” as ek deur die dorp ry: “Ideale val soos Carletonville. Ondergronds is God die hel in vir die Boerenasie, wat bid soos Fariseërs, maar nooit kan ophou raas nie…” Daar word ook verwys na die “kil torings van klein dorpies”. Ek neem aan die “ideale wat val” verwys na die sinkgate by Carletonville, wat in die 1980s in die nuus was. “Swart Transvaal” kom oorspronklik van die kasset Ver van die ou Kalahari af, wat in die laat-1980s deur Shifty Records versprei is. Ek het dit in 1990 by Grahamstad se kunsfees gekoop, maar het reeds ʼn kopie daarvan gehad – “afgetape” van ʼn vriendin in Walvisbaai se broer s’n. Hy’t op Stellenbosch geswot en dit daar in die hande gekry. Die verkope deur Shifty Records was nie baie goed nie, want blykbaar het Letoit reeds self vir al sy vriende kopieë gemaak. Toe ek my wettige Shifty-weergawe koop, kon ek reeds die meeste van die songs op my kitaar speel.

Terug by Carletonville. Die wêreld se diepste goudmynskag – by die voormalige Western Deep Levels, nou bekend as Tautona – is naby Carletonville. In die laat 1990s het ek die dorp leer ken toe ek vir die National Union of Mineworkers (NUM) begin navorsing doen. Ek het meeste van die myne, veral hostelle, besoek om onderhoude met vakbondlede te voer – Blyvooruitzicht, Elandsrand, Wes-Driefontein, Oos-Driefontein, Kloof, ens. Sulke mooi name – klowe, rante, fonteine, alles met ʼn uitsig. Baie van die hostelle van daardie myne is egter uitsiglose plekke. Kontrakwerkers is byvoorbeeld van die laat-1990s af in Blyvooruitzicht se hostelle gehuisves.

My plan is om in die volgende paar maande aan ʼn reeks skilderye van myndorpe te werk. Ek het die een hier bo hierdie naweek voltooi. Dis van ʼn brug by Carletonville, reg oorkant die NUM se streekskantoor. Die pad laat my aan Johannes Kerkorrel se “Ry” dink, dalk ook sy “Ballade van ʼn mynwerker”. Ek het op die web gaan rondkrap en die volgende is die naaste aan ʼn transkripsie van die liriek wat ek kon opspoor. Ek het hier en daar ooglopende foute reggemaak:

Ek kom van Vryheid in Natal
Ek werk hier in die myn
Die droogte het ons plaas gebreek
Ek kon nie langer bly
Ek leer hier vir my ambag
Miskien gaan ek eendag weer boer
Tel die ure, doen oortyd
En die vakbond sal mos na my kyk

Ek werk in skofte dag na dag
Maar eenkeer ’n maand breek ek weg
Dis Vrydagaand en die naweek lê voor
Net ’n sak vol kontant en ek’s reg
My klere is koel, kam my hare perfek
Lyk skerp soos ’n skeermeslem
As ek buite toe stap is die heilige nag
Vol beloftes om later te ken

En kyk daar eenkant onder die boom
Chroom blink gevaarlik sag
Vuurperde-krag, bloedrooi geverf
Masjien in ’n cowboy se droom
En onder daai staal klop ’n hart van goud
’n Enjin wat net een verstaan
Sestienklep oopmaak en al wat sy vra:
Asseblief vat my ver hiervandaan

En buite die dorp loop die grootpad verby
Ons gaan ons wiele laat sing op die teer
Radio hard en die venters wyd oop
Gaan ons soek na die hart van die stad

En iewers in die nag
Staan ʼn neon-engel vir seker en wag.
Spreek ’n seënbede uit oor elke dief van die nag
En veterane van oorlog stroom in
Veterane van oorlog stap weg
Veterane van oorlog wonder waarheen, waarheen…

Jy eindig op met ’n vuur in die hart
Die onrustigheid diep binnekant
Jy leef en jy leer om alles te gee
Vir die kans om net eenkeer te leef
Die kans om net eenkeer te leef

Dit kom van die album Bloudruk af. Didi Kriel se verwerking van die lied is baie 1980s – snaartrom met ʼn groot eggo op, kitaarsolo en al. Ek hou daarvan, op dieselfde verleë manier wat ek steeds van Alphaville hou. Tog vat die liriek iets van die spanning tussen die name van plekke soos Blyvooruitzicht en die werklike uitsigloosheid van Suid-Afrika se myndorpe vas. Ek hoop die skildery kry dit ook reg.

detail

Carletonville se brug: detail

Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate

Friday, April 23rd, 2010

Vlieswolke vanoggend, regte Hoëveldherfs. Iemand stuur ʼn link aan na ʼn video van Leonard Cohen - ʼn lied oor die Chelsea Hotel in New York wat hy vir Janis Joplin geskryf het.

Ek dink weer oor die Chelsea Hotel waaroor Johannes Kerkorrel geskryf het. Die een in Hillbrow. Ek het onlangs daaroor in ʼn rubriek geskryf:

Reg van onder lyk die Hillbrow-toring spookagtig vreemd.

Dis skemer en dit reën onophoudelik. ‘n Mens kan wilde reënvlae sien in die spreiligte se strale wat die groot sokkerbal om die toring se skag verlig. Dit lyk soos iets uit ‘n futuristiese fliek.

Ek wou my vriend Denver, wat op besoek is van Namibië, wys hoe lyk Hillbrow; gedink ons kan vinnig deur ry op pad Melville toe. Johannesburg se donderbuie het egter ander planne gehad.

Iewers het afvoerpype verstop en kitsriviere het van die strate onbegaanbaar gemaak. Nou sit ons in die verkeer vas tussen toetende taxi’s se aggressie en luierende busse se dieseldampe. Niemand beweeg nie, slegs voetgangers wat deur stilstaande voertuie vleg.

Die petroltenk se liggie begin flikker. Ek skakel die kar af om brandstof te bespaar.

“Weet jy darem waar ons is?” wil Denver weet. “Ja,” lieg ek, “moenie bekommerd wees nie.”

Dis dié dat ek die toring soek. As jy in Johannesburg verdwaal sê die torings vir jou waar jy is. Wel, dink ek, ons is iewers rég onder die toring.

Hillbrow voel soos ‘n vreemde land. So min van die ou landmerke is oor. Fontana is ‘n franchise in die voorstede. Estoril Books het elders heen getrek.

“Die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel en stemme en musiek klink in elke woonstel,” hoor ek Johannes Kerkorrel in my kop sing. “Gee jou hart vir Hillbrow…”

Ek dink aan ‘n tydjie gelede toe ek en Irma ná ‘n begrafnis in Venda te kapot was om terug te ry Johannesburg toe. Net noord van Louis Trichardt het ons ‘n ouwêreldse hotel opgespoor en besluit om oor te bly.

Die kamers het ‘n mens laat voel of jy steeds in die 1970s is. Kelners in outydse uniforms het maaltye in die eetsaal bedien. Aandete het uit vyf gange bestaan: Sop, vis, ‘n hoofgereg met groente uit skottels van vlekvrye staal, nagereg, en dan kaas, beskuitjies en koffie.

Ons het gelag en gewonder of hierdie tradisionele benadering nog in Engeland bestaan. In Londen eet meer mense Sondae Indiese hoender tikka as die tradisionele “roast beef”. ‘n Mens moet deesdae Louis Trichardt toe kom vir ‘n outentieke Engelse hotelaandmaal, of dalk vele ander plekke in die voormalige kolonies.

Een van die kelners wou weet waar ons vandaan kom. Hy’t ook in Johannesburg gebly, het hy gesê. Hy’t sy oë gerek toe hy oor Hillbrow praat: “Yes, Hillbrow, that’s where all the ducktails are…”

Denver pomp my met sy elmboog. Die verkeer het weer begin beweeg. Ek skakel die kar aan en ons ry verby die Chelsea Hotel, waaroor Johannes Kerkorrel gesing het. Ek kan onthou hoe ek in die vroeë 1990s bier op die stoep gedrink het.

Vir ‘n tyd lank was die gebou stukkend; slierte verf het aan die mure gehang en die vensters is met plate saamgeperste hout toegespyker. Nou is dit weer in mooi skakerings geel en beige oorgeverf. Dis nie meer ‘n boheemse hotel nie, maar ‘n gewone woonstelblok. Die art deco-styl het darem behoue gebly.

Dinge verander so vinnig. Daar is soveel wat verval, of sommer in duie stort. Soms word daar weer opgebou, oorgeverf. Ek slaan my oë op na die sokkerbal teen die toring. Hel, dink ek, is dít waar ons hulp vandaan moet kom?

Op die sypaadjie stap ‘n vrou met ‘n baba op haar rug. Haar gesig blink in die reën. Sy weet dit nie, maar iewers is daar nog ‘n Hillbrow met ducktails. Hulle herkou steeds aan taai stukkies kougom en spin wheelies met Sheilas agterop hulle motorfietse.

Maar dis nie in Hillbrow nie. Dis in die geheue van ‘n kelner by ‘n hotel net noord van Louis Trichardt.

Lees die oorspronklike rubriek hier.

Hul laaste dae in Johannesburg, skets 4a

Wednesday, November 11th, 2009

1
Wie sing vir die metropool?

2
Wat gebeur as jy die aardbol omdraai sodat die gatkant bo sit? Die antipodes is nie meer doer onder nie. Die plek wat ons Suid-Afrika noem sit aan die noorde van die kontinent. Op die wilde wye web is enigiets moontlik. Op straat lyk dit nie juis so nie.

3
Na slegs ses jaar se boomtown sprawl:
duisende myners in tente, sinkhuise, hostelle en hotelle
     suiphuise en bordele vir enkellopende mans
besluit die Rand Lords
dis een te veel en vlug
oor die randjie - beskut van die smerige Eldorado
rig hulle ʼn heining rondom Parktown op.

Raserige, swetende bouers werk aan:
Northwards,
Pallinghurst,
Highfield Manor, en,
spesiaal vir Lionel Phillips,
met die rug gekeer op die myne se hel:
Hohenheim
en later Villa Arcadia.

Maar steeds hoor hulle die gestamp
van metaal op klip -
soos tromme in die nag.

4
Melankolie en nostalgie. Hulle sit hoog in hulle woonstel, die glasdeure oop. Hy blaai deur ʼn ou Elizabeth Eybers digbundel. Die drukkers het rooi ink op die titelblad gebruik. Die drukpers het nie slegs ink nagelaat nie. Die letters is letterlik by die bladsye se vesels ingestamp. Hierdie is woorde met gesag, dink hy. Hy lees oor die Witwatersrand. Die Ponte flikker met daardie obsene Vodacom-advertensie. Die Hillbrow-toring stuur nog steeds sy seine in die nag, sy seine in die nag, sy sein vir die junkies wat wag.

5
The Johannesburg Salon is an experiment. It is a contingent and in-process attempt to merge elements of an intellectual-cultural magazine with a public discussion forum. Notwithstanding the misgivings of many of our Anglophone writers (who associate the term Salon with amateur opera and sad canapés) we have called this forum a Salon in an attempt re-establish the ideal of a public space fundamentally dedicated to intellectual discussion; one that recognises the central place of ideas in public life. We also wish to rework the notion that such a forum is the exclusive domain of old Europe. The Johannesburg Salon is an attempt to utilize the opportunities for global conversation offered by the spatial and temporal compression of the virtual environment. The 21st Century manifestation of the internet allows The Johannesburg Salon’s public to be from all over the world, and to meet simultaneously.

6
Nuwe tendens. Kinders wat hulle gesigte wit smeer en danspassies by verkeersligte doen. Die man met sy een arm is verplaas deur die nuwe agente.

7
Nuwe inisiatief. Die Johannesburg Salon. Om lewe intellektuele lewe in Johannesburg se onderaardse mynskagte te blaas. Luister iemand? Hy lees van die artikels. Hy geniet John Comaroff se stuk oor neoliberalisme en Franco Barchiesi se onstellende argument oor wat gebeur as jy ander mense se drome droom. Ook Pamila Gupta oor nostalgie. Hy sal later die onderhoud met Achille Mbembe aanpak.

8
Will readers respond and become writers? Will this Southern-based Salon attract an active global public? Are we right that such a venue is needed and desired and will be used?

9
ʼn Suid-Afrikaner van Joodse afkoms wat al lank in Chicago woon. ʼn Italianer, wat lank in Johannesburg gewoon het, maar nou in Ohio klasgee. ʼn Kameroener, wat lank in Parys gewoon en studeer het, en nou in Johannesburg woon. ʼn Amerikaner van Indiese afkoms, wat nou in Johannesburg woon. Hiérdie is die nuwe intellektuele elite wat uit Johannesburg se salon skryf. Mense sonder grense. Hy voel provinsiaal. Hy skryf in Afrikaans, nie omdat hy wil nie, maar omdat dit al taal is waarin hy homself min of meer kan uitdruk. Soms moet hy ver ry om ʼn Afrikaanse koerant te koop. Waar hy woon, is nie baie ander Afrikaanssprekendes nie. Hy is een van baie immigrante. Kan die mense in die salon met die mense in Johannesburg se strate praat? Dit lyk asof hulle so ʼn behoefte het. Maar vir wie sing hulle? Die ontwykende Johannesburg, of ander metropole? Moet jy ʼn keuse maak?

10
Bronne: Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band. 1989. Eet kreef! Klankopname, Shifty Records. Kursiewe aanhalings in Engels: Lara Allen en Achille Mbembe. 2009. “Editorial: Arguing for a Southern Salon.” Johannesburg Salon, volume 1, pp. 1-3.

Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Snare wat vir altyd vibreer

Friday, September 25th, 2009

Dit was gister lekker om mede-blogger Philip de Vos by die Woordpoort te ontmoet. Ek het ook die gespek met Johan Myburg en Johannes Prins oor hulle digbundels geniet. In ʼn stadium het die gesprek met die gehoor nogal warm begin raak, veral toe ons gesels het oor die media se dekking, al dan nie, van die digkuns. Die punt is weer gemaak dat die digkuns te veel dekking kry in vergeleke met byvoorbeeld kinder- en jeugliteratuur.

Later die aand het ek dit baie geniet om in die Maskerteater op te tree saam met Albert de Vos. As kind het ek gereeld in die studeerkamer geluister na hoe my ma klavierlesse gee. Vir die eerste les het sy altyd die klavier oopgemaak om vir leerlinge te wys hoe die instrument aan die binnekant werk – hoe die hamertjies die snare slaan om die klank voort te bring deur ʼn vibrasie te veroorsaak. Volgens haar het só ʼn vibrasie in teorie nooit opgehou nie.

As sy reg is, draal die keer wat Johannes Kerkorrel “Gee jou hart vir Hillbrow” in die Maskerteater gesing het tydens die Voëlvrykonsert daar – twintig jaar gelede – steeds in daardie ruimtes rond. Ek het toe maar my eie weergawe bygevoeg, al speel ek dit met ʼn kitaar en nie, soos wyle Kerkorrel, met ʼn trekklavier en ʼn botteltjie klippies as perkussie nie.

Dis maar my klein, onvolmaakte huldeblyk aan hom (tweede van regs af op die foto hier bo).

Ek en Albert het natuurlik elkeen ʼn liriek geskryf wat op ʼn manier op “Gee jou hart vir Hillbrow” antwoord – vanuit die oogpunt van so twintig jaar later.

Klaviere en kerkorrels. Soms wonder ek oor my ma se teorie, oor snare wat vir altyd vibreer. Dan gaan die geskiedenis waarskynlik op een groot kakofoniese crescendo eindig.

Ek en Albert tokkel vanaand weer ons snare in die Maskerteater – om 18:40.