Posts Tagged ‘Johannes Prins’

Digstring

Thursday, February 10th, 2011

Hierdie inisiatief is na die voorbeeld van Brian Brodeur se hoogs suksesvolle weblog “How a poem happens“. Hiervolgens word op ‘n bepaalde gedig gefokus aan die hand van ‘n aantal standaardvrae aan die digter ten opsigte van die ontstaan van die betrokke vers. Ons glo dat gevestigde sowel as aspirant digters dié aaneenstring van digter en gedig leersaam (en hopelik inspirerend) sal vind.

Digstring

Digstring

 

 

Inhoud

 

A-B 

Andries Bezuidenhout. Taxi-rit ná die aand. Mei 2010

Zandra Bezuidenhout. Moderne Psalm. Mei 2010

Fourie Botha. My eerste Bybel. Augustus 2011

Aniel Botha. Rooikappie en die wolf. Mei 2012

C, D, E

TT Cloete. Swerwende verse

Toast Coetzer. geluk

Marius Crous. Die ander man

Anne-Ghrett ErasmusSkilder 

Sydda Essop. Ek lewe in stilswye

Louis Esterhuizen. Melopee

F, G

Gilbert Gibson. Another roadside attraction

Melanie Grobler. Die Eerste Vrees Is Hier.

H, I, J

Joan Hambidge. “The drama of being a child”

Joan Hambidge. In die skadu van Machu Picchu. Mei 2010

Joan Hambidge. Parys

Daniel Hugo. Ontnugterde digter. Junie 2010

Pieter Hugo. Honde

Marlise Joubert. waarskuwings. Mei 2010

K, L

Ronelda KamferStof. Junie 2010

Annie Klopper. ‘n Deurnagbraai in Oranjezicht

Martine Klopper. Kwatryn

Antjie Krog. Vier seisoenale waarnemings van Tafelberg/Winter. Mei 2010

Kobus Lombard. Kameeldoring

M, N

Johann Lodewyk Marais. Richard E. Leakey 

Lucie Möller. Kortstondige kalligrafie

Melt Myburgh. Toeval

Charl-Pierre Naudé. Twee diewe. Mei 2010

O, P, Q

Pieter Odendaal. die eerste steen.

Johannes Prins. Man diesel

R, S

Andries Samuel. All god’s children took their toll

Carina Stander. Lima

Marius Swart. liefdes-e-pos. Mei 2010

T, U

V, W

Marlene van Niekerk. Poets van ons vaderland unite

Ilse van Staden. Fluistering

Cas Vos. Kersrook

Cas Vos. Uitkyk. Mei 2012

Jelleke Wierenga. Reënboognasie: Fear dot com

 

 

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe - En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte - ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe“ hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

Johannes Prins. man diesel

Tuesday, July 20th, 2010

Digstring

 

 Man diesel  

Hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself

 

 

(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?

Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel - ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee - afhangend van die finansies & die behoefte…

Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het - daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie - maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”

En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery - soos bestuur met my maak - stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.

In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.

En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.

Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Al’s is gegee - gelukkig. Maar die laaste twee reëls - soos hierbo gesê - het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.

Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.

In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.

Verskeie vroue figureer in die bundel - meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Spesiaal vir een hart geskep - hoewel ek dit nie toe geweet het nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief - dit het nooit gebeur nie.

Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe - dis wat by my opkom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nope.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.

By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal - hulle kliek net.

Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.

Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld ;-) doen ook sulke goed.

Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek dink die vers werk.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.

Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.

Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:

“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”

Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie - want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).

In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):

“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”

Uiteenlopende reaksie dus.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op dees aarde - nee glad nie.

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands.

    Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.

     In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.

     In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.

     Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Oopmond in beeld en Facebook

Monday, March 15th, 2010

Johannes Prins het ‘n paar foto’s geneem, sommer so op die verhoog, tydens Oopmond by die Woordfees.

Jo Prins

Ronel Nel praat strategie. Foto: Jo Prins

Hier bo sit ek (DJ Stotterman) saam met Ronel Nel (Ingrid Dronker). Vroeg reeds word strategie bespreek en logistiek beplan, veral verversings, waarsonder die kreatiewe proses nie kan vloei nie.

Jo Prins

Danie Marais en John-Henry Opperman van Klopjag. Foto: Jo Prins

Danie Marais (NP van Lykskou) praat oor musiek saam met John-Henry Opperman van Klopjag.

Jo Prins

Niel van Deventer. Foto: Jo Prins

Hier lees Niel van Deventer (Breyten Lykverdag) van sy nuutskeppinge voor.

Jo Prins

Ingrid Dronker. Foto: Jo Prins

Laastens, Ingrid Dronker lees ’n gedig voor. Rock ‘n roll!

Nou het Oopmond ‘n gat op Facebook ook. Gaan sluit gerus aan, blaai deur die foto’s, lewer kommentaar.

Johannes en Johannes in Johannesburg

Thursday, February 18th, 2010

Oopmond-digters by Aardklop verlede jaar

Gisteraand gaan inloer by Love Books, waar Johannes van Jerusalem (tweede van regs in die foto hier bo) Johannes Prins (heel regs in die foto) van hulle gedigte voorgelees het, met Lize Wiid (saam met my in die foto hier onder, natuurlik ook aan die een aan die regterkant) wat die trekklavier speel vir atmosfeer. Sy het ook ʼn klok gebruik as musiekinstrument. Aan die begin van die aand het die winkel se alarm se bewegingsensor Johannesburg style saam musiek gemaak (“piep piep piiieeeeeeep”), veral as Johannes van Jerusalem ronddans terwyl hy sy gedigte voorlees. Hy praat oor die karakter Henry van Staden, “’n boer van my tyd,” wat ʼn poëtiese lewe lei, gedigte maak “van vergeet en aanmekaarsit” met sy “baard en ʼn boep en ʼn bles,” Henry van Staden, “wat net soos sy pa so bietjie meer aan die eenkant dra.” Johannes Prins het uit sy bundel een hart gelees, van sy besoek as joernalis aan ʼn plaas op die Wes-Rand waar veediewe ʼn man se verse se senings kom afkap het en die fetusse uitgesny het:

dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer

my verse is uitgelewer

Daar was wyn, lekker eetgoed en ʼn hele spul elegante boheme. Die winkel se kandelaar is van staal, blompotte en wynglase aanmekaargesweis. Ons het na die tyd na ʼn sjebeen toe gegaan, pap en boerewors geëet. Nóg wyn gedrink. 

David Robson

Foto: David Robson

 

een hart

Tuesday, December 22nd, 2009

Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.

 

een hart

een hart

Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld,  het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.

Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.

Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.

‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:

 

 

pas

 

‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend

van jou in worcester lok ons uit die paarl

 

met dreunende sonbesies pak ons die tog deur

du toitskloof aan - hitte walm van die teer op

en jy sit en sweet in jou swart rok

 

wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie

van die pas sny - agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond

 

in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk

oorweeg word - die skielike-heengaan-trooswoorde

van ‘n jong dominee hang in die lug

 

deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,

‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af

 

tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit

‘n sekslose somerdag sal wees - een waar jy die aand stil sal rook

en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]

 

Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:

 

    soveel tale

           

            “yo veo un letrero” sê jy op die langpad

            agter die spaanse les in die cd-speler aan

 

            “ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons

            moet seker hier afdraai of hoe?”

 

            “sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp

            my in die ribbes - ons draai af na paternoster

 

            “ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.

            hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?

 

            “miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai

            en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”

 

            “en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,

            “is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou’”[.]

 

Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:

wanneer die aandvoël

nes maak

en die plaaslyne

in kode

            die komende

onweer verklap,

sug die huis ‘n warm sug

 

die gang verlang

na karookinders met amandeloë

wat vroeër die dag

luidkeels stille nag op

blokfluite geblaas het

en nou droom

van jakkalsvoëls

en reën

 

en wanneer twee

polisiemanne uit die bloute

opdaag om jou

goudregister na te gaan - een

druk selfs sy hande

in die suur - sê jy:

“elke ons is hier meneer,

elke kind is hier.”

‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:

 

Ek sal doodgaan

 

ek sal doodgaan

inkonk

so met die hand

op my bors

ek sal nie wellington

toe gaan nie -

ken niemand daar

met ‘n bordienghuis nie

 

ek sal een oggend

my arm oplig

om te skeer

en in die spieël sien

die oog

is verby

 

die bloed sal in my slape klop

die hart sal skuurloop

soos ‘n huurder -

‘n laataand-lister

voor die nag

se nag

 

ek sal doodgaan

stellenbosch toe

in dorpstraat óp dros

jonkershoek in

waar sneeubedekte pieke

met kranse die blou

uit die hemel hengel[.]

 

Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (”trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).

Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (”nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.

Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.

soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,

nugter oggend - geen voorbodes

of swanger afwagtings

 

met my by-die-deur-uitstap het hy

dié dag se roepery begin - dit was duidelik

en ondubbelsinnig: een hart

[...]

Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer - en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.

‘n [N]uusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n storie[;]

 

en:

‘n nuusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n leser

- só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.

En die twee buitenste strofes van “glo” lui:

soms

maar net soms

wens ek

[...]

ek kan glo

dat alles nie tot niks

kom  nie[.]

Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring - voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word -  verder ter sprake.

Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).

Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (”jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:

(dat ek só

soos jy

skoorsoekend en kwaad

en verward kan bid

en verwyt

en vra

hoekom dit

en hoekom dat

 

om deur daai boek

te blaai   

en ‘n vers te soek

vir krag

en verstaan

en hoop -

it softens the blow

nogal weet jy

 

om hande te vat

en die seën te vra

en te weet

dit kom van elders

van bo

dankbaar te wees

want iewers hou iemand

‘n oog)[.]

Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.

Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.

Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.

Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.

Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:

 

man diesel

 

hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]

 

Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.

Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:

 [...]

dit rym

nie sê die man,

skryf jy nou maar

net wat jy wil

meneer

 

my verse is uitgelewer[.]  

[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.

Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.

 

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

So lyk gelukkige digters…

Wednesday, October 7th, 2009

Die digters van Oopmond: van regs na links: Joe Moer! (Johannes Prins), JC Van (Johannes van Jerusalem), Rene Renaissance (Rene Bohnen), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout), NP van Lykskou (Danie Marais), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en Uys Intrige (Neil Sandilands). FOTO: Alet Pretorius, foto24

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Loftus, Lize en die sletterige trekklavier

Monday, October 5th, 2009

Dit het alles by Loftus Marais se gedig oor die trekklavier begin. Adriaan Brand, van Springbok Nude Girls-faam, wat gewoonlik sy trekklavier wurg as Loftus die gedig voorlees, kon dit nie maak nie. Dís hoe ons toe aan Lize Wiid dink, wat gewoonlik saam met die Radio Kalahari-orkes en Laurie Levin speel.

Rachelle Greeff het as Boeke-Rapport se redakteur ʼn poësieprogram vir Aardklop saamgestel. Dis nou al so half ʼn tradisie om die laaste Vrydagaand van die fees iets met gedigte en musiek by die Boeke-Oase te doen. Hierdie keer kon ek, Danie Marais, Johannes Prins (ook bekend as Jo Prins) en Loftus Marais op die ou end instem en die logistiek agtermekaar kry om gedigte voor te lees. Ek moes sommer ook as musikant double up. Die geleentheid is “Met woorde soos met manne” genoem.

Kyk, Lize Wiid laat vele manne se woorde soos ʼn kers met ʼn uitgebrande pit stotter. Nie net het sy ʼn fenomenale talent vir musiek nie, sy is beeldskoon, to say the least. (En enigiemand wat nou oor objektivering wil aangaan, kan gaan doppies blaas – vir watter een van die twee opsies hulle ook al sin het.)

Ons sit in die Gereformeerde Gemeente se tent, waar hulle kos en drank tydens die fees bedien. Rachelle gooi ‘n vinnige party met Lize en die vier manne om oor die geleentheid te gesels. Ek en Lize oefen van my songs wat ons wil opvoer, ek met my kitaar en sy met die trekklavier. Sy figure sommer vinnig uit wat ons moet doen. Selfs “Spoed”, ʼn rock song oor ʼn beduiwelde biker, word met die trekklavier opgespice.

Nietemin, Loftus is min of meer bestand teen die uitgebrande-pit-sindroom in Lize se teenwoordigheid en dis toe lekker om te hoor hoe die twee oor die gedig praat. Dis nogal lank, met verskillende luimveranderings.

“Wat wil jy hê moet ek doen?” wil Lize weet.

Loftus trek sy neus op ʼn plooi. “Van die dele is ernstig,” sê hy, “en ander dele is weer sletterig.”

Lize se wenkbroue lig so effentjies.

Loftus sit die gedig se teks voor haar neer en sy lees dit. Hulle gesels nog ʼn bietjie en dan stel Rachelle voor dat ons almal gaan rus. Sekere mense se rooi oë speel seker ‘n rol; ek het die vorige aand net ʼn uur geslaap weens ʼn verbete kuiersessie wat vele blikkies Red Bull behels het in die Snowflake, ʼn ou meelmeule wat as kuierplek en kunsgalery dien, en ʼn vroeë afspraak in Johannesburg waarvoor ek moes terug en toe kort voor sonsopkoms sonder vlerke iewers in Sebokeng en Orange Farm verdwaal het.

Vroeër die middag het ek ʼn disaster van ʼn optrede op ʼn oop verhoog op die “bult” gehad. Die “bult” is ʼn plat stuk grond naby die universiteit waar die meeste van die fees se minder kunstige doef-doef-doef en kou-kou-kou plaasvind. Ek kon slegs twee mense in ʼn redelike groot gehoor identifiseer wat ek nie heeltemal koud laat nie en het toe maar op hulle gekonsentreer. Ten spyte van dié twee se ondersteuning, het ek een song se akkoorde heeltemal vergeet en moes rooigesig in die middel ophou.

Dalk moes ek nie eers vieruur die oggend Johannesburg toe gery het nie.

Ten spyte van my slegte bui het “Met woorde soos met manne” toe heel goed uitgewerk. Danie, Loftus en Jo het wonderlike gedigte voorgelees – een van Danie se nuwe gedigte gaan oor swak gedigte. Hierdie gehoor was meer ontvanklik vir my ou liedjies en Lize se trekklavier het wondere vir die atmosfeer verrig. Ek het van die onderliggende humor gehou, veral toe Loftus met die titel van die geleentheid spot en uitwys dat hy die enigste een van ons vier is wat nie getroud is nie, twee wat boonop nog kinders ook het – hy as die token “mannin.”

Die hoogtepunt was egter toe die duet op die maat van Loftus se gedig oor die trekklavier. In die speelse dele speel Lize speels, in die gemaak ernstige dele speel sy dramaties, en toe Loftus die sletterige deel heel sletterig voorlees, speel sy ook heel gepas heel sletterig.

Dit was ʼn besige Aardklop. Ek het min tyd gekry om produksies by te woon of om kunsuitstallings te besigtig. Ek moes ʼn paar keer my kitaar instem en vir my supper sing, of by die Boeke-Oase met mense oor boeke gesels. Alles was nogal lekker, ten spyte van die gemors by die oop verhoog. Vir my was die hoogtepunt egter die twee poësiegeleenthede – “Met woorde soos met manne” en “Oopmond” (waaroor ek eerskomende Sondag in my Rapport-rubriek skryf). By laasgenoemde geleentheid was sowat seshonderd mense. En dít vir poësie.

Dis lekker as dinge soms net uitwerk. Dis lekker as jy daardie gevoel kry dat jy deel van iets moois was. En jý weet dit en álmal wat daar was weet dit en gaan sit sommer na die tyd om ʼn groot tafel en drink die Doppergemeente se wyn in hulle tent en hulle gee nie eers om dat Loftus ʼn fire resistant cat suit het vir die oordeelsdag nie, ook Steve Hofmeyr, wat onder ʼn pet agter een van die boekrakke geluister het en ek na die tyd kon onthou dat daar ʼn man met ʼn pet aan tafel was maar nooit eers herken het nie.

Súlke oomblikke besweer soms al daardie voorbehoude wat maak dat jy alles op ʼn ironiese afstand moet bejeën en kan jy onbeskaamd aan ʼn glas wyn uit ʼn bottel met die etiket van ʼn Doppergemeente slurp en voel dís hoe dit perdalks moet wees.

Woorde en manne en sulke goed

Tuesday, September 29th, 2009

Kyk net hoe lyk hulle in swart!

Mense wat by Aardklop is, kan gerus Vrydag om 18:00 ʼn draai kom maak by die Rapport Boeke-Oase. Rachelle Greeff het ʼn program met Danie Marais (saam met haar in die foto hier bo), Loftus Marais, Johannes Prins en ek saamgestel. Die vier van ons gaan van ons ouer en nuwer gedigte voorlees. Ek en Lize Wiid gaan ook ʼn bietjie musiek maak om mense ʼn blaaskans te gee.

Die program se naam is “Met woorde soos met manne.” Ek weet nie heeltemal wat om daarvan te maak nie. Ek wonder wat dink Antjie Krog hiervan. Ek vermoed Rachelle wil iets oor manlikheid sê en ons gaan met hierdie doel voor oë ingespan word. Ek hoop daar word nie met swepe geklap nie.

Die sweep het geklap en die wawiele draai…

Of hoe gaan daardie ander gedig nou weer?

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan
wat sy drank kan vat en wat sy vrou kan slaan.

Nee, die oorspronklike weergawe het seker ietwat anders geklink. Dan is daar die een oor geld en geweld. Die volgende is een van my eie, meer onlangse pogings.

RENT-A-HUSBAND

ʼn Yskas het ʼn kompressor
en ʼn oond ʼn element.
Een kondenseer en verdamp,
die ander bied weerstand.

Vleis kan ek vries
en dit dan weer braai
deur meters te lees
en knoppies te draai.

Hoe om dinge af te koel of op te warm
weet ek dus goed,
maar helaas, my lief, as dáái goed breek
you’re on your own.

Sien julle Vrydag by Rapport Boeke-Oase. Vir meer oor die program, gaan kuier hier.

Snare wat vir altyd vibreer

Friday, September 25th, 2009

Dit was gister lekker om mede-blogger Philip de Vos by die Woordpoort te ontmoet. Ek het ook die gespek met Johan Myburg en Johannes Prins oor hulle digbundels geniet. In ʼn stadium het die gesprek met die gehoor nogal warm begin raak, veral toe ons gesels het oor die media se dekking, al dan nie, van die digkuns. Die punt is weer gemaak dat die digkuns te veel dekking kry in vergeleke met byvoorbeeld kinder- en jeugliteratuur.

Later die aand het ek dit baie geniet om in die Maskerteater op te tree saam met Albert de Vos. As kind het ek gereeld in die studeerkamer geluister na hoe my ma klavierlesse gee. Vir die eerste les het sy altyd die klavier oopgemaak om vir leerlinge te wys hoe die instrument aan die binnekant werk – hoe die hamertjies die snare slaan om die klank voort te bring deur ʼn vibrasie te veroorsaak. Volgens haar het só ʼn vibrasie in teorie nooit opgehou nie.

As sy reg is, draal die keer wat Johannes Kerkorrel “Gee jou hart vir Hillbrow” in die Maskerteater gesing het tydens die Voëlvrykonsert daar – twintig jaar gelede – steeds in daardie ruimtes rond. Ek het toe maar my eie weergawe bygevoeg, al speel ek dit met ʼn kitaar en nie, soos wyle Kerkorrel, met ʼn trekklavier en ʼn botteltjie klippies as perkussie nie.

Dis maar my klein, onvolmaakte huldeblyk aan hom (tweede van regs af op die foto hier bo).

Ek en Albert het natuurlik elkeen ʼn liriek geskryf wat op ʼn manier op “Gee jou hart vir Hillbrow” antwoord – vanuit die oogpunt van so twintig jaar later.

Klaviere en kerkorrels. Soms wonder ek oor my ma se teorie, oor snare wat vir altyd vibreer. Dan gaan die geskiedenis waarskynlik op een groot kakofoniese crescendo eindig.

Ek en Albert tokkel vanaand weer ons snare in die Maskerteater – om 18:40.

Woord-akkoord by die Woordpoort

Wednesday, September 23rd, 2009

 

“Weet jy hoe dit voel as jy nie terug kan draai nie? Weet jy hoe dit voel as jy nie vorentoe wil gaan nie, maar nie stil kan staan nie?”

Ek hou daarvan om saam met Albert de Vos, of AD (in die foto hier bo saam met my), op te tree. Ek is mal oor sy musiek. Hy is ʼn singer-songwriter van formaat. Die twee van ons doen twee vertonings in die Maskerteater op die Tukkiekampus as deel van die Woordpoort. Ons probeer deur musiek om die raakpunte tussen digkuns en melodie te ontgin. Die tye vir die optredes, getiteld “Woord-akkoord”, is die volgende:

Donderdag, 24 September 2009, 21:15
Vrydag, 25 September 2009, 18:40

Dit kos R80, en R60 vir studente.

Dan gesels ek en Pieter Duvenage oor die toekoms van “minderhede” in Suid-Afrika, Donderdag om 10:00, en die aand gesels ek met Johan Myburg en Johannes Prins oor hulle digbundels en die digkuns in die media, om 18:00.

Meer inligting oor die Woordpoort hier.

“De Taal” as driepootpot

Monday, September 21st, 2009
Driepoottaalbeleid

Driepoottaalbeleid

Dit wil voorkom asof die taaldebat in die Nederlandse taalgebied weer momentum verkry. Nie net het Jan Pollet in De Contrabas se tweeweeklikse Nuusbrief ‘n paar treffende opmerkings hieroor te make gehad nie, maar ook die volgende artikel wat in De Standaard verskyn het, handel direk daaroor. Onder die opskrif Ammehoela, een vluchtmisdrijf” word naamlik berig dat Belgies Nederlands nou die status bereik het om as volmondige taalvariant naas Nederlands Nederlands en Surinaams Nederlands.

So het Prisma, die grootste uitgewer van woordeboeke in Nederland, pas 1,800 Belgies Nederlandse woorde in hul nuwe sakgrootte woordeboek opgeneem. “Tot nu toe gingen Nederlandse vertaalwoordenboeken vooral uit van de variant zoals die in Nederland algemeen gebruikt wordt. Daardoor waren zij niet altijd toereikend voor de Vlaamse gebruiker,” het ‘n woordvoerder van Prisma aan De Standaard se verslaggewer gesê. Later vanjaar word daar ook nog ‘n verklarende handwoordeboek in die vooruitsig gestel.

Prisma se keuse van woorde wat opgeneem word, is gebaseer op ‘n lys van ongeveer 4.000 Belgies Nederlandse woorde wat onder leiding van twee Vlaminge, prof. dr. Willy Martin (VU Amsterdam) en prof. dr. Willy Smedts (KU Leuven), saamgestel is. Prof. Martin se kommentaar was soos volg: “Het is natuurlijk niet de eerste keer dat verklarende of vertaalwoordenboeken Belgisch Nederlandse woorden opnemen en labelen. Het grote verschil is dat Prisma het nu op systematische wijze doet … Het Belgisch Nederlands heeft het stadium van volwassen variant van het Nederlands bereik”, het hy gesê, en bygevoeg: “Het natiolect staat naast het Nederlands Nederlands en het Surinaams Nederlands. Men accepteert stilaan dat die evenwaardig zijn. Onze taal is een driepoot.” Ruud Hendrickx, hoofdredakteur by Van Dale, het dié siening beaam en gesê dat hy inderdaad van mening is dat Nederlandssprekendes tans ryp is om ook die variante op ‘n gelykwaardige manier te beskryf en te erken. Volgens hom sal die volgende uitgawe Van Dale beslis ook die voorbeeld van Prisma-woordeboeke volg. (Gaan kyk gerus by die skakels hier en hier indien dié onderwerp jou interesseer.)

Wat egter vir my sardoniese oog besonder interessant was, was van die kommentare onder aan die De Standaard-berig: Belgisch Nederlands’ is natuurlijk een monstervormpje. Het moet ‘Nederlands in Vlaanderen’ of ‘Vlaams Nederlands’ zijn,” het ene Marcel van Cleemput byvoorbeeld opgemerk.

Mmm, hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde, lyk dit my. Of wat praat ek alles?

***

Dan is ons verheug dat nog ‘n debuutdigbundel einde verlede week in die boekwinkels gearriveer het, naamlik Johannes Prins se bundel Een hart (Lapa Uitgewers). Lees gerus die onderhoud wat met Johannes gevoer is, en ook die inligtingstuk wat van die uitgewer af ontvang is. Nog heerlike leesstof wat gister op die webblad geplaas is, is die essay Eg(g)olalie van Breyten Breytenbach, asook ‘n onderhoud wat Andries Visagie met Ester Naomi Perquin gevoer het. (Indien jy nog nie prof. Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuwe bundel, Oorblyfsel/Voice over gelees het nie, moet jy gerus so maak; dit is ‘n absoluut skitterende werk.) En nog is het de einde niet - nie minder nie as drie bloggers het nuwe stukke geplaas gedurende die naweek nie, te wete: Andries Bezuidenhout, Philip de Vos en Desmond Painter

Sjoe, wat ‘n bedrywige naweek! Lekker lees aan alles. Vir jou eetplesier hierdie week plaas ons in navolging van die “driepoot-tema” die volgende resep vir ‘n beesstertpotjie; spesiaal geneem vanaf “Weg!” se webblad. Begin hom maar solank voorberei, want teen die tempo wat die tyd verbysnel, is dit weer naweek voor jy dit besef …

‘n Smaaklike week word jou toegewens en lees darem ook so nou en dan ietsie, hoor …

Mooi bly.

LE

BEESSTERTPOT

Ryk, vleiserig en lymerig. Dit neem lekker lank om te berei en gee jou die ideale geleentheid om agter te kom waaroor potjiekos eintlik gaan.

3 e kookolie
1 beesstert, in litte gesny
1 gekapte ui
2 fyngekapte knoffelhuisies
500 ml droë rooi wyn (onthou, as dit nie goed genoeg is om te drink nie, kook jy nie daarmee nie)
2 lourierblare
2 teelepels sout
1 e gedroogde roosmaryn
1 e gedroogde pietersielie
‘n paar draaie van die swart peperpot
6 middelslag-wortels, geskil
4 selderystingels met blare, in stukke gesny
3 bakhande vol vars of bevrore ertjies

Onderhoud: Johannes Prins

Sunday, September 20th, 2009

Om hartens te roep

Johannes Prins in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands. Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar. In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji. In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante. Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Johannes, jy is tans ‘n nuusredakteur by die Johannesburgse dagblad Beeld. Maar vertel ons ietsie omtrent jou agtergrond? Waar het jy byvoorbeeld grootgeword, geswot, ensovoorts.

 

My pa was destyds nóú betrokke by die Universiteit van Pretoria se tandheelkunde fakulteit. Hy was ook huisvader van die manskoshuis Taaibos. Dis in Taaibos waar ek “gemaak” is, maar kort daarna het my pa Dekaan by die Universiteit Stellenbosch se tandheelkunde fakulteit by Tygerberg geword. Ons het vir ‘n paar jaar in Boston, Bellville gebly. In ‘n ou groot rietdakhuis in Joostestraat - naby die Laerskool Vredelust. Dié huis - het my kleinneef my onlangs laat weet - het intussen ‘n bordeel geword. My ma draai in haar graf om!

As kind het ek vir jare gedink my pa is eintlik “Dingaan”. As iemand my gevra het wat my pa doen, was dít my antwoord. Een van my mees vivid herinneringe aan Tygerberg is ek en Pieter de Waal (die kleinneef waarvan ek hierbo praat) wat in ‘n vertrek in die mediese fakulteit ronddwaal (waar ons ingesneak het) tussen rakke vol vreemde goeters in groot bottels formalien: babas met twee koppe; ‘n voet wat afgesny is; ‘n man se maag wat oopbars & derms wat uitpeul; ens. Elke keer wanneer ek & Pieter saam met my pa werk toe gegaan het, het ons skelm dié vertrek besoek. Ons was vrek bang, maar dit was telkens aangrypend en ons kon nie daar uit bly nie! Dit het ‘n vreemde effek op ons gehad - om die minste te sê.

Mid-laerskool het my ouers Stellenbosch toe verhuis. Eintlik nie Stellenbosch-propper nie - eerder Lynedoch (daar in die omgewing van die ou Drie Gewels-hotel). My pa het sy erfdeel van ‘n plaas gaan opeis. Dit was ‘n interessante opset. My pa - terloops so ook my ma - was een van ‘n tweeling. Ná ‘n verwikkeling het my oom die plaasgrond geërf en my pa die ou plaashuis - dis in dié plaashuis waar ek behoorlik plaaskind geword het. En dié klein plasie het in baie opsigte my lewe gered. Druiweplaas natuurlik. Skool toe & terug plaas toe was soggens & smiddae met die bus of die trein. Ons plaaskinders het ons nie veel aan die dorpskinders se issues gesteur nie. Daar was te veel om ons mee besig te hou.

Ná skool aan die Paul Roos Gimnasium volg ‘n grootliks onstuimige twee jaar diensplig. Daarna rondswerf vir ‘n paar jaar en toe uiteindelik swot by Stellenbosch. Het vir vyf, ses jaar in Wilgenhof gebly wat vir my ‘n huis geword het (omdat beide my ouers intussen oorlede is). Swot was goed vir my. Nooit ‘n great student nie, maar het meestal als deurgekom. Mis dit verskriklik om te swot & dreig al die afgelope paar jaar om ‘n D (in Afrikaans & Nederlands) aan te pak.

 

Jy het reeds in 2001 in Nuwe Stemme 2 gedebuteer. Vanwaar hierdie vroeë passie vir die digkuns?

 

Waarskynlik grootliks aan my ma te danke. Sy het self geskryf en my as kind blootgestel aan poësie. Ek het laat in my lewe ‘n “leser” geword, want my vrye tyd is meestal deur gimnastiek opgeneem.

Ná twee jaar in Londen het ek glad nie meer Afrikaans gelees nie - maar ek het Afrikaanse gedigte geskryf. Dié verse het my geanker aan my Moedertaal en ek het ook besef: daar is net een taal van jou hart.

 

“Jasus klim uit die water” is ‘n gedig wat sowel in Nuwe Stemme 2 as een hart opgeneem is, maar nou met ‘n spieëlvers, “Utopia”. Het dié vers dieselfde tyd as deel (i) ontstaan of is dit ‘n geruime tyd daarna geskryf? Vertel sommer wat jy met dié twee spieëlverse probeer sê?

 

Jip, (ii) is dieselfde tyd as (i) geskryf. As ek reg onthou is dit aangebied vir Nuwe Stemme 2, maar die samestellers het net vir die eerste een gegaan.

Ek wil nie te veel uitbrei oor wat ek met dié verse probeer sê nie, want ek glo die vers/e soos hy daar staan moet vir homself praat, maar ek gee graag agtergrond oor hoe die verse ontstaan het.

In die jaar toe my pa dood is (1990) was hy nie meer op die plaas nie. Hy’t ‘n huis in Mostertsdrift op die dorp gehuur. Dit was in Rowanstraat (as ek reg onthou) om die draai van Thibaultstraat 3 - waar die Oppermans gebly het. Wanneer ek soms oor naweke daar gekuier het, het ek dikwels gaan draf. En wanneer ek in Thibaultstraat opgedraf het bergpad se kant toe, het ek altyd gedink: dis die huis van die Koeblai Khan… Ek het tannie Marie ‘n paar keer ontmoet en Komas (uit ‘n Bamboesstok) weer en weer gelees. Van al die verse het “Gaukus Klim uit die Water” ‘n besondere inslag gevind.

Bg. is die eerste “merker” vir verse wat ‘n hele paar jaar later sou volg.

‘n Tweede is:

Om kreef te duik was jaarliks ‘n baie belangrike ritueel in die Prins-huishouding. Met die eerste volmaan in die nuwe kreefseisoen sou my pa seker maak ek en my twee broers is ‘n uur voor laagwater in die water - in die ysige water van Donkergat aan die weskus. En al die eerstes was belangrik. Die eerste kreef uit die water is na my pa toe gegooi daar waar hy op die rotse met sy leerhandskoen gesit het. Hy’t elke seun se eerste kreef in ‘n pot gedruk waarin ‘n lekseltjie seewater aan’t kook was op ‘n Cadac-gasstofie. Die krewe moes gaar stoom - nie kook nie. Kom jy uit die water uit is jou lyf tot die been toe koud van daai water, dan peul my pa jou uit jou duikpak. En dan kry jy ‘n yskoue skoot wyn en ‘n vuurwarm kreef.

Dan het ons elkeen stil-stil ‘n kreef of twee geëet. Oor die see getuur. En amper woordeloos die pad huis toe aangepak.

My pa, die wetenskaplike, het ons baie van die wêreld van krewe geleer. Wat presies is ‘n sagtedop-kreef? Wat beteken dit - wat se veranderings ondervind die kreef? Hoe migreer krewe? Is hulle sosiaal? Hoe verskil wyfies presies van mannetjies?

En só het Jasus Lalandii en Gaukus mekaar gaandeweg ontmoet…

 

Uit jou antwoord hierbo kan ‘n mens aflei dat jy in ‘n baie hegte gesins-eenheid grootgeword het. Daarom dat dit dan ook geen verrassing is dat twee van die mees aangrypende verse in jou bundel “bloedwerk” en “eerste sonar” is nie. Vertel ons ietsie oor hoe jy die geboorte van jul eersteling ervaar het.

 

Dit was ‘n ongelooflike high. Alles daarvan. En die feit dat daar ‘n klein storietjie op Beeld se voorblad was die volgende dag het hiertoe bygedra. En dink daar was in Die Burger ook ‘n klein ietsie.

Ek het die een oomblik nog by my vrou se kop gestaan - gereed met my kameras (ek skiet altyd digitaal én met film). Was nog rustig besig om als af te neem en het nét gesien hoe klein Manon se koppie uit mamma se buik kom, toe gaan die krag af! Die teater was gitswart-donker en ál lig wat in daardie oomblikke beskikbaar was, was my kamera se flits. Die ginekoloog se koel en kalm woorde aan my was bloot: hou aan met foto’s neem.

Ek het honderde foto’s (’n hele 1 Gig-geheue-kaart vol) van hoe die naelstring geknip word; van hoe sy deur verskillende hande stewig na die pediater oorgedra word; ens. Ek het selfs foto’s van die vloer want ek moes flits daar gooi dat ek kon sien waar om te loop. Met die Apgar-telling neem het ek in die een hand ‘n klein flitsie vir die dokter vasgehou & in die ander hand die kamera. Én die ginekoloog moes onder flitslig my vrou daarna toewerk! Van noodkrag was daar nie in die teater sprake nie (al het die hospitaal-woordvoerder hóé probeer om die ding te spin…).

Toe die adrenalien gaan lê het, het ‘n emosionele golf my daarna geslaan. Ná ek omtrent vir 20 jaar nie ‘n ouerhuis gehad het nie & met meeste van my familie in die buiteland, het ek skielik my eie gesin en my eie mitologie om te skep (gaan ek die kreef-ritueel laat voortbestaan?).

Jou wêreld verander oornag.

Soos ‘n kollega ge-sms het: ouerskap verander en verouder ‘n mens op die beste manier.

 

Heelwat van jou verse kan eintlik op verskillende maniere gelees word. Een só ‘n vers is “brugrubriek” waaruit die titel van jou bundel geneem is. Die slotreëls “later die dag / het ek die uitslag per telefoon gekry: / hy het een hart te veel geroep en dit het bly staan” verwys enersyds letterlik na ‘n hartstilstand, maar andersyds ook na ‘n (aan)bod wat bly staan. Lees ek dié vers reg? Wat beteken dit vir jou?

 

Ja, jy lees dit reg.

Die vers het (uiteraard) ‘n baie persoonlike betekenis - weereens (soos die kreef-ritueel) ‘n baie intieme gesins-ritueel.

Een van die kodes waarin ons gesin met mekaar gepraat het, was in brug-taal. Die spel brug (kontrakbrug in elk geval) het ‘n hele taal wat jy moet leer as jy dit uiteindelik behoorlik wil speel - as jy al die nuanses reg wil interpreteer en die regte boodskap aan jou “partner” wil oordra.

Die idee is dat jy binne dié kodes van die taal met jou maat kommunikeer dat julle op ‘n kontrak kan ooreenkom om ‘n sekere aantal pakkies te speel en te maak. Die idee is om nie die potensiaal van jou hand te onder- of te oorskat nie. Dat jy presies maak (die pakkies) wat jy geroep het.

Dikwels ‘n tall order…

Die brug-taal het toevallig goed gewerk. Wanneer ‘n roep “staan” is daar op ‘n kontrak ooreengekom. En die “een hart” en die “staan”…ek hoop nie dit is té net vir ingewydes nie.

Dit bly maar moeilik om “uit te praat” - om uit ‘n bestaande kode / taal te praat.

 

Johannes, die een ding van jou verse wat my opgeval het, is die reikwydte daarvan: sowel stilisties as tematies. Verse met ‘n bykans ongenaakbare kyk na sosiale euwels word vernuftig afgewissel met meer persoonlike temas; soms met deernis en empatie en soms weer met ‘n gestroopte aanbod. Is hierdie gevarieerde aanslag iets wat jy bewustelik nastreef?

 

Die gevarieerde aanslag is opsigself gevarieerd. Dikwels is dit in my kop wanneer ek kom sit om te skryf en dikwels nie.

Ek vind die verse neem ‘n eie lewe aan - dis interessant om te sien waarheen hulle my neem.

 

Iets wat ‘n mens opval wanneer jy na die inhoudsopgawe van jou bundel kyk, is dat daar geen onderafdelings is nie. Tog maak die bundel ‘n goed georganiseerde indruk en vloei die lees gemaklik van een vers na die volgende. Hoe het jy jou bundel saamgestel en watter temas het rondom die groepering van die verse vir jou voorop gestaan?

 

Dit was vir my belangrik om die bundel te begin en te eindig met ‘n besinnende gedig oor die skryf van poësie & dan binne dié sogenaamde sikliese sluiting op ‘n min of meer chronologiese uitbou van die bundeltitel voort te gaan.

Die motto-vers / aanhaling is ‘n belangrike sleutel én die Yin-Yang wat op sy/haar eie bladsy staan is iets wat buite taal staan en op ‘n veelheid maniere geïnterpreteer kan word - dis ook goed so want dis ‘n verdere sinjaal vir die verse wat volg.

Temas wat voorop gestaan het?

Benewens die variasies van die hart, sou ek sê: die Boeddha; die self; die Ander; die joernalistiek; die natuur; Karoo-mense; verlies; liefde; jou eie sterflikheid; geloof; op reis…

Daar is nog, maar ek dink die temas moet self inslag in lesers vind.

 

Hoe gaan jy te werk wanneer jy skryf, Johannes? Werk jy volgens ‘n vaste roetine, byvoorbeeld? Of kom die verse maar soos hulle kom; werk jy lank aan ‘n vers of handel jy hom relatief vinnig af?

 

Ek werk net volgens ‘n vaste roetine wanneer ek tyd het. My lewe as joernalis maak dat ek in die nuus van die dag “ingeprop” moet wees - tyd (vir my eie denke en die uitbou daarvan) is dus ‘n luukse.

In Johannesburg is poësie vir my altyd ‘n “tussenin” - iets wat ek moet doen om van een ding na ‘n volgende te beweeg. Dis waarskynlik ook hoekom ek van dié mynersdorp hou - dinge is edgy en vinnig.

Maar wanneer ek tyd het werk ek graag stadig en lank aan iets. Ek neem byvoorbeeld ‘n week of wat en gaan bly alleen in ‘n goeie vriendin se huis in Ladismith in die Klein Karoo. Kry baie berglug in die longe (in die berge is ek op my gelukkigste); eet veels te veel knoffel & gemmer; maak vreemde disse; drink heelwat rooiwyn; en skryf. Dit neem my omtrent gewoonlik ‘n week om van die stad af te skakel, en dan is die kop soos ‘n leë doek.

‘n Vers is vir my nooit werklik klaar nie. Hulle is soos voëls wat vir ‘n sekere tyd van die jaar na beter en warmer plekke vlieg, en met hul terugkeer is hulle soms (en dikwels) vreemde skepsels.

Ek plak gewoonlik ‘n vers teen ‘n muur (by die huis of die werk naby my rekenaar) vas dat my oë dit so elke nou en dan vang - dat ek dit weer en weer kan lees. Soms is die vers in ‘n oogwink klaar - ander kere verander ek elke keer daaraan en gooi dit later weg.

So elke nou en dan skryf ek iets wat ek dink “klaar” is…

 

Baie dankie vir dié geleentheid tot gesprek. Ons wens jou alle voorspoed toe met jou loopbaan as digter. Sal jy dalk so vriendelik wees om as toegif vir ons lesers een van jou persoonlike gunstelingverse hieronder oor te tik?

 

Baie dankie ook vir die onderhoud, Louis.

En ja, natuurlik tik ek graag my gunstelingvers vir julle oor: die een van ons klein Prinsie.

 

eerste sonar

 

‘n besoeker

van ‘n ander planeet

kyk na my

met haar hart

wat sien jy vra my vrou

‘n luislang wat ‘n olifant

ingesluk het?

nee sê ek, ‘n klein skapie -

en dié jakkals

eet al klaar

uit haar hand