Posts Tagged ‘Johannes Prins’

Johannes Prins. man diesel

Tuesday, July 20th, 2010

Digstring

 

 Man diesel  

Hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself

 

 

(c) Johannes Prins (Uit: een hart, 2009: Lapa Uitgewers)

 

 

 

Wanneer het jy dié gedig geskryf, Jo? Hoe het dit ontstaan?

Seker so ses maande voor die publikasie van een hart.Ek ry gereeld in Hendrik Potgieterrylaan aan die Wes-Rand Makro se kant toe om te gaan wyn koop. Wyn koop is vir my effe van ‘n ritueel - ek kan ‘n uur of langer daar tussen die rakke staan en niks koop nie. Óf ‘n kis of twee - afhangend van die finansies & die behoefte…

Dit was op pad terug van só ‘n ekskursie (op Vrouedag) dat ek die grote Man Diesel-trok langs die pad sien staan het - daar waar dit deur die metropolisie afgetrek is. Op my eie - maar die gesprek in my kop was dié van ‘n vroeëre vraag wat my vrou my eenkeer gevra het: “Hoe kom ‘n vers na jou toe?”

En, soos dit in die vers uitkom, weet ek dikwels nie hóé dinge inmekaar val nie. Maar die ryery - soos bestuur met my maak - stem my dikwels tot skryf. En skielik het ek dié groot ou met die boeppens by die trok sien uitklim, en daar staan my oorle oupa voor my. ‘n Groot man van Adelaide in die Oos-Kaap wat ek dink beter Xhosa as Afrikaans kon praat.

In ‘n oogwink staan ek daar langs my oupa op die rooi stoep in Millstraat 1, Adelaide. Die ou groot huis agter ons met die silwer sinkdak wat neerbuig op wit pilare terwyl sonbesies die stofstrate se hitte besing.

En my oupa wat met sy geliefde sakmes ‘n appel sit en skil & dan die skil so langs my op hou om te wys “dis langer as jy!”.

Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

Die laaste twee reëls het aanvanklik heeltemal anders gelyk (in vorm). Maar die res het redelik vinnig gekom.

Dit was vir my baie belangrik om daai twee reëls “reg” te kry, want dis die laaste woorde in dié gedig wat die sluiting van die hele bundel moes bewerkstellig.

Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

Al’s is gegee - gelukkig. Maar die laaste twee reëls - soos hierbo gesê - het bietjie tob & ‘n glas of wat Thelema Shiraz geneem…

In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdeningsbeginsel toegepas?

Geen ordeningsbeginsel nie, nee. Toe die laaste twee reëls se wending vir my werk, toe werk hy.

Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ‘n vers werk?

Gewys ja, maar nie bespreek nie. My vrou sien meeste van my gedigte & ek hang nuwe verse gewoonlik teen die muur langs my rekenaar by die werk. Dan daag daar soms mense op & sê iets daaroor.

Van die verse in een hart is vir vriende in Kaapstad & Pretoria gestuur. Maar meer as reaksie op ‘n e-pos eerder as ‘n “kan ons die vers bespreek”. Natuurlik is die gevolg kommentaar op die vers waaraan ek my gewoonlik steur.

In een só ‘n e-pos het ek die slot van die inka-vers “melkweg” by Joan gekry.

Verskeie vroue figureer in die bundel - meeste van hulle is geken in die saak. Ek dink net een nie… dalk twee.

Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

Spesiaal vir een hart geskep - hoewel ek dit nie toe geweet het nie.

Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

Die gesprek in my kop in die vers is heeltemal fiktief - dit het nooit gebeur nie.

Die herinneringe aan die stoep en my oupa-hulle en Adelaide is heeltemal gesien deur die filter van my jeug. Fiksie voorop!

Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

Metapoësie; kommunikasie; kreatiwiteit; vertaling van ‘n realiteit; transportasie; herinneringe - dis wat by my opkom.

Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

Nope.

Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?

Beslis ja. Dikwels spreek ek iemand spesifiek aan oor wie die gedig gaan of wat by die ontstaan daarvan betrokke is. Ander kere is dit ‘n meer algemene leser ingedagte om insae te gee waarheen ek met die bundel gaan.

By een voorlesing by die Stoep in Nelspruit so maand of wat gelede, het ek agtergekom dat brugspelers (natuurlik!) dié bundel meer toeganklik vind. Hulle verstaan die taal - hulle kliek net.

Deesdae wanneer ek voorlees begin ek met: “Wie van julle speel brug?” By die Stoep was die gesprek tussen my en die gehoor soos ‘n brughand self.

In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

Net twee verse in die bundel is “poësiebeskoulik” soos Bernard (Odendaal) daarna verwys het: die eerste een & die laaste een.

Hier wou ek sluiting bewerkstellig wat aansluit by baie verse (wat tussen hakkies is) & die hart én selfs die “a” van die hart op die voorblad. Om uit die hart te praat en om úít te praat (uit ‘n spesifieke konteks) & om dit verstaanbaar & op ‘n kreatiewe manier aan te bied.

Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

Dalk die knipmes en die appelskil, maar ek verstaan oupa’s elders (in Argentinië byvoorbeeld ;-) doen ook sulke goed.

Dis waarskynlik eerder ‘n landelike verwysing as tipies Suid-Afrikaans.

Kon jy dié vers tot ‘n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

Nee, ek dink die vers werk.

Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

Baie ja. Meeste mense het daarvan gehou.

Minstens twee resensente se reaksie was vir my baie interessant.

Met verwysing na “verse” (die eerste gedig in die bundel) en dié een, het Bernard gesê:

“Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.”

Wat Bernard ook tereg sê is dat ongewone beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie - want my poësie vermoed ek sluit aan by Fado (wat met die alledaagse werk, die werking van dit wat is).

In Beeld (7 Desember 2009) skryf Marius Crous weer (oor die genoemde twee verse):

“En terwyl hierdie gedig (‘verse’) geslaag is, vind ek die slotgedig ‘man diesel’, minder geslaag en effe geforseer.”

Uiteenlopende reaksie dus.

‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

Op dees aarde - nee glad nie.

 

Johannes Prins

Johannes Prins

Johannes Prins is op 30 April 1969 in Pretoria gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA  in Afrikaans en Nederlands.

    Hy reis veral in Oos-Afrika en het Kilimandjaro uitgeklim. Hy woon later twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar.

     In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook  by tot As die son kom oogknip,  die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji.

     In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante.

     Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa.

 

 

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog

How a poem happens“.

Oopmond in beeld en Facebook

Monday, March 15th, 2010

Johannes Prins het ‘n paar foto’s geneem, sommer so op die verhoog, tydens Oopmond by die Woordfees.

Jo Prins

Ronel Nel praat strategie. Foto: Jo Prins

Hier bo sit ek (DJ Stotterman) saam met Ronel Nel (Ingrid Dronker). Vroeg reeds word strategie bespreek en logistiek beplan, veral verversings, waarsonder die kreatiewe proses nie kan vloei nie.

Jo Prins

Danie Marais en John-Henry Opperman van Klopjag. Foto: Jo Prins

Danie Marais (NP van Lykskou) praat oor musiek saam met John-Henry Opperman van Klopjag.

Jo Prins

Niel van Deventer. Foto: Jo Prins

Hier lees Niel van Deventer (Breyten Lykverdag) van sy nuutskeppinge voor.

Jo Prins

Ingrid Dronker. Foto: Jo Prins

Laastens, Ingrid Dronker lees ’n gedig voor. Rock ‘n roll!

Nou het Oopmond ‘n gat op Facebook ook. Gaan sluit gerus aan, blaai deur die foto’s, lewer kommentaar.

Johannes en Johannes in Johannesburg

Thursday, February 18th, 2010

Oopmond-digters by Aardklop verlede jaar

Gisteraand gaan inloer by Love Books, waar Johannes van Jerusalem (tweede van regs in die foto hier bo) Johannes Prins (heel regs in die foto) van hulle gedigte voorgelees het, met Lize Wiid (saam met my in die foto hier onder, natuurlik ook aan die een aan die regterkant) wat die trekklavier speel vir atmosfeer. Sy het ook ʼn klok gebruik as musiekinstrument. Aan die begin van die aand het die winkel se alarm se bewegingsensor Johannesburg style saam musiek gemaak (“piep piep piiieeeeeeep”), veral as Johannes van Jerusalem ronddans terwyl hy sy gedigte voorlees. Hy praat oor die karakter Henry van Staden, “’n boer van my tyd,” wat ʼn poëtiese lewe lei, gedigte maak “van vergeet en aanmekaarsit” met sy “baard en ʼn boep en ʼn bles,” Henry van Staden, “wat net soos sy pa so bietjie meer aan die eenkant dra.” Johannes Prins het uit sy bundel een hart gelees, van sy besoek as joernalis aan ʼn plaas op die Wes-Rand waar veediewe ʼn man se verse se senings kom afkap het en die fetusse uitgesny het:

dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer

my verse is uitgelewer

Daar was wyn, lekker eetgoed en ʼn hele spul elegante boheme. Die winkel se kandelaar is van staal, blompotte en wynglase aanmekaargesweis. Ons het na die tyd na ʼn sjebeen toe gegaan, pap en boerewors geëet. Nóg wyn gedrink. 

David Robson

Foto: David Robson

 

een hart

Tuesday, December 22nd, 2009

Een hart. Deur Johannes Prins. Lapa Uitgewers. ISBN 978-0-7993-4509-4.

 

een hart

een hart

Johannes Prins, kwekeling van Stellenbosch en bekroonde joernalis by die Johannesburgse dagblad Beeld,  het in 2001 as digter op die voorgrond getree met ‘n elftal gedigte in Tafelberg-uitgewers se Nuwe stemme 2. Met een hart is hy die sewende van die debutante in daardie bloemlesing wat met ‘n solobundel vorendag kom.

Dit bevat skaars 40 gedigte, maar lewer ‘n boeiende en meermaals ontroerende leeservaring op.

Die bundeltitel is ewe bedrieglik in sy bondige eenvoud. In die eerste plek roep dit die belangrike liefdesgegewe in die bundel op.

‘n Hele paar liefdesgedigte is gemik op die verhouding met ‘n vriendin en latere huweliksmaat, soos dit gekenmerk word deur hartstogte én (aanvanklike) onsekerhede en spanninge. Vergelyk:

 

 

pas

 

‘n begrafnisdiens van ‘n vriend van ‘n vriend

van jou in worcester lok ons uit die paarl

 

met dreunende sonbesies pak ons die tog deur

du toitskloof aan - hitte walm van die teer op

en jy sit en sweet in jou swart rok

 

wil jy ons ook nou dood hê vra jy soos ek die draaie

van die pas sny - agter skuif jou vriend met ‘n blink gesig rond

 

in die kerk kraak houtbanke terwyl die sin van ‘n motorongeluk

oorweeg word - die skielike-heengaan-trooswoorde

van ‘n jong dominee hang in die lug

 

deur loodwerkvensters vermeng die son kleure op die vloer,

‘n druppel loop agter jou oor in jou nek af

 

tussen die laaste gesang en die amen herinner ek my dat dit

‘n sekslose somerdag sal wees - een waar jy die aand stil sal rook

en later na ‘n glas wyn jou onderlyf teen my kom vasdruk[.]

 

Later, wanneer die nuus van ‘n eerste swangerskap vreugdevol ontvang is, verdwyn die spanninge en verloop ‘n motorrit byvoorbeeld op liefderik-speelse wyse:

 

    soveel tale

           

            “yo veo un letrero” sê jy op die langpad

            agter die spaanse les in die cd-speler aan

 

            “ja ek sien ook ‘n padteken en ek weet ons

            moet seker hier afdraai of hoe?”

 

            “sí señor,” sê jy met ‘n breë glimlag en pomp

            my in die ribbes - ons draai af na paternoster

 

            “ek verstaan nie die geslag-ding in dié taal nie,” sê ek.

            hoekom is ‘n motor manlik en vragmotor vroulik?

 

            “miskien omdat ‘n mens meer in ‘n vragmotor kan laai

            en motors gewoonlik groter ego’s onder die enjinkap het?”

 

            “en in chinees” dink ek hardop oor die drumpel by ons huis,

            “is die karakter vir vrede ‘n kombinasie van ‘dak’ en ‘vrou’”[.]

 

Liefdevolheid, hoewel nie ongekompliseerd nie, kleur ook die spreker se verhouding met die Boland en die Karoo. Die treffende “juwelier” suggereer die deernis waarmee die spreker sowel die gesinslewe as die Karoo betrag:

wanneer die aandvoël

nes maak

en die plaaslyne

in kode

            die komende

onweer verklap,

sug die huis ‘n warm sug

 

die gang verlang

na karookinders met amandeloë

wat vroeër die dag

luidkeels stille nag op

blokfluite geblaas het

en nou droom

van jakkalsvoëls

en reën

 

en wanneer twee

polisiemanne uit die bloute

opdaag om jou

goudregister na te gaan - een

druk selfs sy hande

in die suur - sê jy:

“elke ons is hier meneer,

elke kind is hier.”

‘n “Bolandse” gedig soos die volgende roep bekende terugkeer-na-die-vader-toe-verse van W.E.G. Louw en Breyten Breytenbach in herinnering:

 

Ek sal doodgaan

 

ek sal doodgaan

inkonk

so met die hand

op my bors

ek sal nie wellington

toe gaan nie -

ken niemand daar

met ‘n bordienghuis nie

 

ek sal een oggend

my arm oplig

om te skeer

en in die spieël sien

die oog

is verby

 

die bloed sal in my slape klop

die hart sal skuurloop

soos ‘n huurder -

‘n laataand-lister

voor die nag

se nag

 

ek sal doodgaan

stellenbosch toe

in dorpstraat óp dros

jonkershoek in

waar sneeubedekte pieke

met kranse die blou

uit die hemel hengel[.]

 

Hiermee word ‘n volgende belangrike tematiese veld aangeraak wat ook al deur die bundeltitel geaktiveer word: siekte en sterflikheid. Blykens gedigte soos “hart”, “basiskamp” en “diefstal” is die digter se familie aan vaderskant hartsiektelyers, terwyl sy moeder weens kanker gesterf het. Hy vrees dat ‘n soortgelyke lot hom sal tref, wat gevoelens van selftwyfel en weerloosheid aanwakker (”trapmeultoets”,”toewens”, “basiskamp”, “malaria”, ensovoorts).

Die ouderdom 33 word meer as een maal te berde gebring (”nasedit”, “drie-en-dertig”), telkens in verband met dood of doodsvrese. Christus se sterfouderdom word sodoende gekonnoteer.

Kaartspel blyk volgens die gedig “brugrubriek” egter die primêre vindplek van die bundeltitelkeuse te wees.

soos ek kan onthou was dit ‘n baie helder,

nugter oggend - geen voorbodes

of swanger afwagtings

 

met my by-die-deur-uitstap het hy

dié dag se roepery begin - dit was duidelik

en ondubbelsinnig: een hart

[...]

Assosiasies van waagspel, onsekerheid, onbeslistheid, huiwering, teenstrydigheid, tussenstandigheid en kwesbaarheid word derhalwe óók deur die bundeltitel geaktiveer - en sodanige lewensgevoel word, tot naby die einde van die bundel toe wanneer die geluk van die eie gesinsverband oorheers, die dominante in die bundel. Die digter se nering as joernalis hou met hierdie lewensgevoel verband. Daardeur word hy genoop tot ‘onpartydigheid’ en groter ‘objektiwiteit’, selfs tot ‘n sekere onthegtheid. Daar is ‘n diepe besef van die voorlopigheid en relatiwiteit van oortuigings en stande van sake , juis ook in die lig van die misdadighede en geweld wat die Suid-Afrikaanse aktualiteit deurspek.

‘n [N]uusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n storie[;]

 

en:

‘n nuusredakteur

bid nie

want god is net nog

‘n leser

- só begin en eindig die gedig “nuusredakteur”, ietwat sinies opgedra aan die fundamenteel Christelik-religieuse digter T.T. Cloete.

En die twee buitenste strofes van “glo” lui:

soms

maar net soms

wens ek

[...]

ek kan glo

dat alles nie tot niks

kom  nie[.]

Die woord “nomade” word meer as een keer in die bundel gebruik in verband met die spreker en sy geliefde, terwyl half-gepakte en -uitgepakte kartondose herhaaldelik vermeld word om hulle tussenstandige posisies te beklemtoon. Enkele verwysings na die Boeddha-figuur bring ‘ontheemdheid’ as bestaanservaring - voordat uiteindelike ‘verligting’ en rus gevind word -  verder ter sprake.

Myns insiens moet die hoofsaaklike vryer versvormgewing in die bundel met sodanige belewing van onbeslistheid en voorlopigheid in verband gesien word. Dit wissel van (oënskynlik) minimale digterlike ordening (met die kroegtoneeltekening in “koedoe-steaks in nieu-bethesda”, wat funksioneel in dié verband uitstaan) tot wel tog sterker graderings van tipografiese reëlmatigheid (soos uit van die hierbo aangehaalde verse behoort te blyk).

Relativering en onvoldongenheid word in ‘n sekere sin ook vooropgestel deur die opvallende benutting van omvangryke parenteses in ‘n aantal gedigte (”jy”, “malaria (ii)”, “glo” en “melkweg”). Ek het reeds die begin- en slotstrofes van “jy” aangehaal. Die drie binnestrofes daarvan lui:

(dat ek só

soos jy

skoorsoekend en kwaad

en verward kan bid

en verwyt

en vra

hoekom dit

en hoekom dat

 

om deur daai boek

te blaai   

en ‘n vers te soek

vir krag

en verstaan

en hoop -

it softens the blow

nogal weet jy

 

om hande te vat

en die seën te vra

en te weet

dit kom van elders

van bo

dankbaar te wees

want iewers hou iemand

‘n oog)[.]

Laastens wil ek die titel een hart ook sien as indikasie dat al bovermelde, uiteenlopende ervarings en sienings in één gemoed setel.

Vandaar die bundelordening sónder bundelafdelings (maar waarin ‘n min of meer chronologiese lewensverloop merkbaar is). Reekse gedigte oor bepaalde temas volg mekaar ongeskei op; trouens, soms oorvleuel ‘reekse’ kennelik in bepaalde gedigte. Ter versterking van die vervlegtheidsindruk van die verwoorde belewings duik motiewe soos die liefde, lewensdreiging en onbepaaldheid telkens op verskillende plekke in die bundel op.

Die Taoïstiese jinjang-simbool aan die begin van die bundel is ‘n teken dat dit om die harmoniëring van polêre manifestasies gaan.

Voorts: Dat twee puik poësiebeskoulike verse juis die begin- en slotposisies in die bundel inneem, is tekenend van die strewe om sodanige integrasie van uiteenlopenhede ook poëtiese vergestalting te laat vind.

Die slotgedig, met sy treffende ironieë en sterk sentrale beeld, lui:

 

man diesel

 

hoe kom ‘n vers

na jou toe

vra jy op vrouedag in hendrik potgieter

ek skud my kop

en sê nee ek weet werklik nie

want dis soms vreemd

die hele ding

ons sou byvoorbeeld

op pad makro toe

wees om te gaan wyn koop

en dan klim daar

sommerso

‘n vers by ‘n man diesel

se deur uit

en tuur ver in sy blou overallbroek

na die metrocop wat hom pas

afgetrek het

en verstel onder sy maag

aan sy belt se kopergespe

vee met swart naels

en ‘n hand so groot

soos my oupa s’n

oor sy sweterige

voorkop

 

en skielik knip hy sy pierpont-knipmes toe

en ‘n kind kyk grootmond op na ‘n appelskil langer as hyself[.]

 

Juis die treffendheid van die man-in-blou-overallbroek-beeld in dié slotgedig laat ‘n mens besef dat ongewone of vindingryke beelding nié een van die opvallende kwaliteite van een hart is nie (waar dit byvoorbeeld die hartklop van die poëtiese effekte in Danie Marais se twee bundels uit onlangse jare is). Trouens, in gedigte soos “brugrubriek” en “Jasus klim uit die water (i) & (ii)”, waar daar hard gewerk word in die rigting van uitgebreide simbolisering of allegorisering, voel ek ‘n mate van onnoodwendigheid en geforseerdheid aan.

Maar in die geheel gesien, hoef Prins nie die kritiese toets te vrees waarop hy in die openingsgedig, “verse”, skimp nie:

 [...]

dit rym

nie sê die man,

skryf jy nou maar

net wat jy wil

meneer

 

my verse is uitgelewer[.]  

[E]en hart is ‘n sterk debuut. Dat ek ryklik daaruit in hierdie resensie aangehaal het, behoort my plesier by die lees daarvan te bewys.

Dit verdien ook ‘n pluimpie vir Lapa, wat maar eers in onlangse jare tot die uitgee van poësie oorgegaan het. Met bundels soos dié, ook met byvoorbeeld Ilse van Staden se Fluisterklip en Johan Myburg se aangrypende Kamermusiek in die afgelope jaar of twee, bewys Lapa sy ernstige intensies op klinkklare wyse.

 

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

So lyk gelukkige digters…

Wednesday, October 7th, 2009

Die digters van Oopmond: van regs na links: Joe Moer! (Johannes Prins), JC Van (Johannes van Jerusalem), Rene Renaissance (Rene Bohnen), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout), NP van Lykskou (Danie Marais), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en Uys Intrige (Neil Sandilands). FOTO: Alet Pretorius, foto24

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Om te Oopmond…

Monday, October 5th, 2009

 Ons is pas terug vanaf Aardklop met rooi oge, grys velle en groen harte. Rooi oge, want ons het bitter-, bittermin geslaap. En dalk ’n bietjie te veel wyn gedrink ook. (Dit klink soos ’n DKW-song.)

Grys velle, hoeka vanwee die min slaap, maar dalk ook vanwee die harde werk. Het mos eiehandig die aarde gaan probeer red – skoongemaak, gerecycle en als.

Maar die harte is groen, nuutgrasgroen, omdat daar iets gebeur het wat selfs die mees siniese sinistêre sinikus sou laat liggroen word van afguns. Onse harte is dus nou die groen van groei…

Want daar, op die ATKV se verhoog, op Donderdagaand 1 Oktober, het die digters en die muso’s darem nou vir jou gekook, hoor. Soveel só dat (van) die sowat 600 mense in die gehoor met tye soos tieners by ’n rock-konsert opgespring het en ge-air punch het. Gejil en gecheer. Regtig. Die air punches was nou wel kleinerig, soos daai ou in die bier-advertensie waar die man so op die jong lat afkyk en sê: Always keep it real.

Die digters was in twee spanne ingedeel: JC Van (Johannes van Jerusalem), Joe Moer! (Johannes Prins) en René Renaissance (René Bohnen) was die X-faktor. NP van Lykskou (Danie Marais), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout) en Ingrid Dronker (die uwe), was Artillerie, owergesetsynde Die G5-Kanon (sic). Dit is nou omdat ’n groot klomp van ons op die Wehrmacht se militêre artillerie-basis moes oornag. Hoekom, sou jy wou weet? Wel, dis die goedkoopste daar, en almal weet tog dat poets maar eintlik arm is.

Die ongelooflike charismatiese – en, met tye, bietjie lawwe – meester van die seremonie was Uys Intrige, ook bekend as Neil Sandilands, ook bekend as Bart van 7e Laan. (Daar was juis ’n oomblik by die artillerie-menasie waar hy in die kombuis ingestap het en een van die werkers in trane uitgebars het. ‘Bart! Jy leef!’ Hierdie is ’n ware verhaal.)

Sheila Concussion, ook bekend as Charlene McKenzie van Steak ’n Ale in Centurion, was die baie wulpse en welwillende puntehouer. Toe begin die pret.

Drie rondes. Drie poets. Twee spanne van twee muso’s. Elke ronde word een van elke digspan uitgestuur om binne 10 minute ’n gedig volgens ’n tema uit die gehoor te gaan skryf, net soos Bekgevegte wat Louis Esterhuyse en Henning Pieterse destyds so briljant uitgedink het. MAAR. Hierdie keer met die onderskeid dat die muso’s 20 minute gekry het om die wengedigte te toonset.

Die skare was verstom. Hier gebeur kunstegoed so reg voor jou oë! En toe klein Luc Zaldzwedel (7 jaar oud) op die verhoog klim om sy impromtu gedig op te sê, het die dak gelig. Sy ma het laat weet dat Luc oplaas nou net ’n poet wil word. Hy dink dis koel. Sy gedig was iets in die lyn van: Jou ma jok vir jou/ jou pa jok vir jou/ jou onnie jok vir jou/ maar Steve jok vir almal!

Ingrid Dronker se tema was Naelstring en haar gedig het begin met iets soos: Ek is aan jou vas/ Jou kop, jou broek, jou jas /Ek is aan jou vas/ Soos ‘n embrio aan sy ma se lewensvlas.

Toonsetters Jaco Lotter en Nardus du Plooy (Die Kaalkop Waarheid) en Brenda Burnit en John-Henry Opperman (van Klopjag-faam) het uitgehaal. Later is Gert Vlok Nel se Beautiful in Beaufortwes en Rivier sommer deur die hele digter/musi-ensemble gesing. Hulle moes die Oopmonders omtrent smeek om die verhoog te verlaat.

Die volk was verstom, verheug – en, hopelik – vir ewig ietwat veranderd.

Loftus, Lize en die sletterige trekklavier

Monday, October 5th, 2009

Dit het alles by Loftus Marais se gedig oor die trekklavier begin. Adriaan Brand, van Springbok Nude Girls-faam, wat gewoonlik sy trekklavier wurg as Loftus die gedig voorlees, kon dit nie maak nie. Dís hoe ons toe aan Lize Wiid dink, wat gewoonlik saam met die Radio Kalahari-orkes en Laurie Levin speel.

Rachelle Greeff het as Boeke-Rapport se redakteur ʼn poësieprogram vir Aardklop saamgestel. Dis nou al so half ʼn tradisie om die laaste Vrydagaand van die fees iets met gedigte en musiek by die Boeke-Oase te doen. Hierdie keer kon ek, Danie Marais, Johannes Prins (ook bekend as Jo Prins) en Loftus Marais op die ou end instem en die logistiek agtermekaar kry om gedigte voor te lees. Ek moes sommer ook as musikant double up. Die geleentheid is “Met woorde soos met manne” genoem.

Kyk, Lize Wiid laat vele manne se woorde soos ʼn kers met ʼn uitgebrande pit stotter. Nie net het sy ʼn fenomenale talent vir musiek nie, sy is beeldskoon, to say the least. (En enigiemand wat nou oor objektivering wil aangaan, kan gaan doppies blaas – vir watter een van die twee opsies hulle ook al sin het.)

Ons sit in die Gereformeerde Gemeente se tent, waar hulle kos en drank tydens die fees bedien. Rachelle gooi ‘n vinnige party met Lize en die vier manne om oor die geleentheid te gesels. Ek en Lize oefen van my songs wat ons wil opvoer, ek met my kitaar en sy met die trekklavier. Sy figure sommer vinnig uit wat ons moet doen. Selfs “Spoed”, ʼn rock song oor ʼn beduiwelde biker, word met die trekklavier opgespice.

Nietemin, Loftus is min of meer bestand teen die uitgebrande-pit-sindroom in Lize se teenwoordigheid en dis toe lekker om te hoor hoe die twee oor die gedig praat. Dis nogal lank, met verskillende luimveranderings.

“Wat wil jy hê moet ek doen?” wil Lize weet.

Loftus trek sy neus op ʼn plooi. “Van die dele is ernstig,” sê hy, “en ander dele is weer sletterig.”

Lize se wenkbroue lig so effentjies.

Loftus sit die gedig se teks voor haar neer en sy lees dit. Hulle gesels nog ʼn bietjie en dan stel Rachelle voor dat ons almal gaan rus. Sekere mense se rooi oë speel seker ‘n rol; ek het die vorige aand net ʼn uur geslaap weens ʼn verbete kuiersessie wat vele blikkies Red Bull behels het in die Snowflake, ʼn ou meelmeule wat as kuierplek en kunsgalery dien, en ʼn vroeë afspraak in Johannesburg waarvoor ek moes terug en toe kort voor sonsopkoms sonder vlerke iewers in Sebokeng en Orange Farm verdwaal het.

Vroeër die middag het ek ʼn disaster van ʼn optrede op ʼn oop verhoog op die “bult” gehad. Die “bult” is ʼn plat stuk grond naby die universiteit waar die meeste van die fees se minder kunstige doef-doef-doef en kou-kou-kou plaasvind. Ek kon slegs twee mense in ʼn redelike groot gehoor identifiseer wat ek nie heeltemal koud laat nie en het toe maar op hulle gekonsentreer. Ten spyte van dié twee se ondersteuning, het ek een song se akkoorde heeltemal vergeet en moes rooigesig in die middel ophou.

Dalk moes ek nie eers vieruur die oggend Johannesburg toe gery het nie.

Ten spyte van my slegte bui het “Met woorde soos met manne” toe heel goed uitgewerk. Danie, Loftus en Jo het wonderlike gedigte voorgelees – een van Danie se nuwe gedigte gaan oor swak gedigte. Hierdie gehoor was meer ontvanklik vir my ou liedjies en Lize se trekklavier het wondere vir die atmosfeer verrig. Ek het van die onderliggende humor gehou, veral toe Loftus met die titel van die geleentheid spot en uitwys dat hy die enigste een van ons vier is wat nie getroud is nie, twee wat boonop nog kinders ook het – hy as die token “mannin.”

Die hoogtepunt was egter toe die duet op die maat van Loftus se gedig oor die trekklavier. In die speelse dele speel Lize speels, in die gemaak ernstige dele speel sy dramaties, en toe Loftus die sletterige deel heel sletterig voorlees, speel sy ook heel gepas heel sletterig.

Dit was ʼn besige Aardklop. Ek het min tyd gekry om produksies by te woon of om kunsuitstallings te besigtig. Ek moes ʼn paar keer my kitaar instem en vir my supper sing, of by die Boeke-Oase met mense oor boeke gesels. Alles was nogal lekker, ten spyte van die gemors by die oop verhoog. Vir my was die hoogtepunt egter die twee poësiegeleenthede – “Met woorde soos met manne” en “Oopmond” (waaroor ek eerskomende Sondag in my Rapport-rubriek skryf). By laasgenoemde geleentheid was sowat seshonderd mense. En dít vir poësie.

Dis lekker as dinge soms net uitwerk. Dis lekker as jy daardie gevoel kry dat jy deel van iets moois was. En jý weet dit en álmal wat daar was weet dit en gaan sit sommer na die tyd om ʼn groot tafel en drink die Doppergemeente se wyn in hulle tent en hulle gee nie eers om dat Loftus ʼn fire resistant cat suit het vir die oordeelsdag nie, ook Steve Hofmeyr, wat onder ʼn pet agter een van die boekrakke geluister het en ek na die tyd kon onthou dat daar ʼn man met ʼn pet aan tafel was maar nooit eers herken het nie.

Súlke oomblikke besweer soms al daardie voorbehoude wat maak dat jy alles op ʼn ironiese afstand moet bejeën en kan jy onbeskaamd aan ʼn glas wyn uit ʼn bottel met die etiket van ʼn Doppergemeente slurp en voel dís hoe dit perdalks moet wees.

Woorde en manne en sulke goed

Tuesday, September 29th, 2009

Kyk net hoe lyk hulle in swart!

Mense wat by Aardklop is, kan gerus Vrydag om 18:00 ʼn draai kom maak by die Rapport Boeke-Oase. Rachelle Greeff het ʼn program met Danie Marais (saam met haar in die foto hier bo), Loftus Marais, Johannes Prins en ek saamgestel. Die vier van ons gaan van ons ouer en nuwer gedigte voorlees. Ek en Lize Wiid gaan ook ʼn bietjie musiek maak om mense ʼn blaaskans te gee.

Die program se naam is “Met woorde soos met manne.” Ek weet nie heeltemal wat om daarvan te maak nie. Ek wonder wat dink Antjie Krog hiervan. Ek vermoed Rachelle wil iets oor manlikheid sê en ons gaan met hierdie doel voor oë ingespan word. Ek hoop daar word nie met swepe geklap nie.

Die sweep het geklap en die wawiele draai…

Of hoe gaan daardie ander gedig nou weer?

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan
wat sy drank kan vat en wat sy vrou kan slaan.

Nee, die oorspronklike weergawe het seker ietwat anders geklink. Dan is daar die een oor geld en geweld. Die volgende is een van my eie, meer onlangse pogings.

RENT-A-HUSBAND

ʼn Yskas het ʼn kompressor
en ʼn oond ʼn element.
Een kondenseer en verdamp,
die ander bied weerstand.

Vleis kan ek vries
en dit dan weer braai
deur meters te lees
en knoppies te draai.

Hoe om dinge af te koel of op te warm
weet ek dus goed,
maar helaas, my lief, as dáái goed breek
you’re on your own.

Sien julle Vrydag by Rapport Boeke-Oase. Vir meer oor die program, gaan kuier hier.

Snare wat vir altyd vibreer

Friday, September 25th, 2009

Dit was gister lekker om mede-blogger Philip de Vos by die Woordpoort te ontmoet. Ek het ook die gespek met Johan Myburg en Johannes Prins oor hulle digbundels geniet. In ʼn stadium het die gesprek met die gehoor nogal warm begin raak, veral toe ons gesels het oor die media se dekking, al dan nie, van die digkuns. Die punt is weer gemaak dat die digkuns te veel dekking kry in vergeleke met byvoorbeeld kinder- en jeugliteratuur.

Later die aand het ek dit baie geniet om in die Maskerteater op te tree saam met Albert de Vos. As kind het ek gereeld in die studeerkamer geluister na hoe my ma klavierlesse gee. Vir die eerste les het sy altyd die klavier oopgemaak om vir leerlinge te wys hoe die instrument aan die binnekant werk – hoe die hamertjies die snare slaan om die klank voort te bring deur ʼn vibrasie te veroorsaak. Volgens haar het só ʼn vibrasie in teorie nooit opgehou nie.

As sy reg is, draal die keer wat Johannes Kerkorrel “Gee jou hart vir Hillbrow” in die Maskerteater gesing het tydens die Voëlvrykonsert daar – twintig jaar gelede – steeds in daardie ruimtes rond. Ek het toe maar my eie weergawe bygevoeg, al speel ek dit met ʼn kitaar en nie, soos wyle Kerkorrel, met ʼn trekklavier en ʼn botteltjie klippies as perkussie nie.

Dis maar my klein, onvolmaakte huldeblyk aan hom (tweede van regs af op die foto hier bo).

Ek en Albert het natuurlik elkeen ʼn liriek geskryf wat op ʼn manier op “Gee jou hart vir Hillbrow” antwoord – vanuit die oogpunt van so twintig jaar later.

Klaviere en kerkorrels. Soms wonder ek oor my ma se teorie, oor snare wat vir altyd vibreer. Dan gaan die geskiedenis waarskynlik op een groot kakofoniese crescendo eindig.

Ek en Albert tokkel vanaand weer ons snare in die Maskerteater – om 18:40.