Posts Tagged ‘Johannes van Jerusalem’

Johannes en Johannes in Johannesburg

Thursday, February 18th, 2010

Oopmond-digters by Aardklop verlede jaar

Gisteraand gaan inloer by Love Books, waar Johannes van Jerusalem (tweede van regs in die foto hier bo) Johannes Prins (heel regs in die foto) van hulle gedigte voorgelees het, met Lize Wiid (saam met my in die foto hier onder, natuurlik ook aan die een aan die regterkant) wat die trekklavier speel vir atmosfeer. Sy het ook ʼn klok gebruik as musiekinstrument. Aan die begin van die aand het die winkel se alarm se bewegingsensor Johannesburg style saam musiek gemaak (“piep piep piiieeeeeeep”), veral as Johannes van Jerusalem ronddans terwyl hy sy gedigte voorlees. Hy praat oor die karakter Henry van Staden, “’n boer van my tyd,” wat ʼn poëtiese lewe lei, gedigte maak “van vergeet en aanmekaarsit” met sy “baard en ʼn boep en ʼn bles,” Henry van Staden, “wat net soos sy pa so bietjie meer aan die eenkant dra.” Johannes Prins het uit sy bundel een hart gelees, van sy besoek as joernalis aan ʼn plaas op die Wes-Rand waar veediewe ʼn man se verse se senings kom afkap het en die fetusse uitgesny het:

dit rym
nie sê die man,
skryf jy nou maar
net wat jy wil
meneer

my verse is uitgelewer

Daar was wyn, lekker eetgoed en ʼn hele spul elegante boheme. Die winkel se kandelaar is van staal, blompotte en wynglase aanmekaargesweis. Ons het na die tyd na ʼn sjebeen toe gegaan, pap en boerewors geëet. Nóg wyn gedrink. 

David Robson

Foto: David Robson

 

So lyk gelukkige digters…

Wednesday, October 7th, 2009

Die digters van Oopmond: van regs na links: Joe Moer! (Johannes Prins), JC Van (Johannes van Jerusalem), Rene Renaissance (Rene Bohnen), DJ Totterman (Andries Bezuidenhout), NP van Lykskou (Danie Marais), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en Uys Intrige (Neil Sandilands). FOTO: Alet Pretorius, foto24

Bekgeveg by WITS vanaand …

Wednesday, September 23rd, 2009
Demos Takoulas

Demos Takoulas

Ai, mense, vanoggend trek my gemoed omtrent met ‘n punt noordwaarts, want vanaand om 19:30 vind daar iets besonders plaas in Wits se Downstairs Theatre: ‘n Bekgeveg / Poetry Slam wat ‘n mens omtrent laat watertand … Dié Bekgeveg, wat deur die Wits School of Literature and Language Studies en The Weekender aangebied word, is inderdaad volgens die óú, beproefde formaat van weleer: twee spanne van drie digters elk ding mee aan die hand van tema’s wat die gehoor gee; en dan word die individuele digters se pogings nog boonop bepunt óók.

Wat my hart egter so punt laat staan, is nie soseer die plesierigheid daarvan nie, maar die gepekelde name wat deel vorm van die program. So is daar die veteraan-skeidsregter sonder skaamte, Demos ‘die mal kafeegriek’ Takoulas, saam met die gemodereerde Leon de Kock in die mede-aanbieders stoel. (Wat de hel doen jy in daai stoel, Leon?!), plus die gekontroversialiseerde boeredigter des gronds, JC Van, alias Johannes van Jerusalem. Ander digters wat deelneem, is Veronique Tadjo (van Ivoorkus); Comrade Fatso (Zimbabwiese digter) Lesego Rampolokeng, Ike Mboneni Muila; en Gail Dendy.

Wat ‘n geleentheid, wat ‘n fees! Uiteraard gaan my geld hand-oor-mond na Johannes van Jerusalem vanweë sy welbekende en gedurfde improvisasie-vermoëns, maar ek het ook al vir Lesego Rampolokeng gesien (en hoor) optree; hier kom ‘n ding, mense …

En dis al wat ek bereid is om hieroor te sê, om nou vir Forrest Gump na te praat. Kaartjies kos R40 (vir studente) en R60 vir die res. Geniet, geniet. O, ja! Geniet … (En, Andries, probeer tog keer dat Demos nie weer van sy klere ontslae raak op die verhoog nie, hoor. Dis hoegenaamd nie meer snaaks nie.)

***

Op die webblad is daar vanoggend sommer ‘n hele aantal nuwe blog-inskrywings. So is daar ‘n wonderlike gesprek op die oomblik tussen Andries Bezuidenhout en Johann Lodewyk Marais op hul onderskeie blogs oor hul ervarings in, en indrukkke van, Oos-Afrika. Ook Ilse van Staden spreek in haar nuutste blog-inskrywing ‘n interessante aspek rondom veelsydigheid aan, terwyl Yves T’Sjoen se deeglike stuk oor M. Vasalis (een van Nederland se mees geliefde en gerespekteerde digters) en haar uitgewer, Geert van Oorschot, eweneens ‘n móét lees is. En onthou om dan sommer weer Hans Ester se artikel oor Elisabeth Eybers en háár verhouding met Van Oorschot te lees. (Laasgenoemde is al enkele maande gelede geplaas …) En in haar gedigtekamer antwoord Jelleke Wierenga die resensie oor haar bundel soos ‘n digter behóórt te antwoord: met ‘n gedig!

Vir jul verdere leesplesier volg hieronder ‘n vers van wyle Ronnie Belcher wat hy nog tydens ‘n Bekgeveg in Dorpstraatteater op Stellenbosch gepleeg het. Wat ‘n meesterlike Bekvegter was hy nie! En, as toegif, indien julle belangstel in ‘n eerstehandse verslag oor die vim, vicks en wol van ‘n Bekgeveg, kan julle Marlise Joubert se héérlike rubriek, wat sy na afloop van die Bekgevegte by die KKNK in 2001 vir ‘n koerant in Durban geskryf het, gaan lees. Dit is hier geplaas; kompleet met foto’s daarby.

Lekker lees en hê pret vandag.

Mooi bly.

LE

 

Poësie-aand

 

Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee

my siel ontbloot for everyone to see?

Hier tussen die geskinder en gepraat

my siel ophang soos aan ‘n doringdraad?

Met ander se geroggel en gerook

my sielsgeheim met nikotien bestook?

Hier tussen al die waaiers en die fans

myself beskinder saam met also-rans?

Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak

oor snaakse goed wat ander siele raak

soos ghoffels wat kafoefel op ‘n trein

and other dear souls crying in the rain.

Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm

voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

 

(c) Ronnie Belcher (uit: Van heidebos en klip, Suider-Kollege, 2000)