Posts Tagged ‘Jolyn Phillips’

Resensie: Radbraak – Jolyn Phillips

Monday, July 24th, 2017

“ek breek by die taalwiel”

Resensie: Radbraak – Jolyn Phillips (H&R, 2017)

Resensent: Marlies Taljard

 

Sedert die vroegste tye betreur digters en skrywers die onvermoë van taal om hulleself akkuraat uit te druk en bedink hulle maniere om dié belemmering te bowe te kom. Derrida merk by geleentheid oor die digter Paul Celan op dat “Celan’s language is itself a bodily struggle with the German language, which he deforms, transforms, which he assaults, and which he incises”.

Dieselfde sou – hoewel dan op ʼn veel beperkter skaal – gesê kon word van Jolyn Phillips se debuutbundel radbraak wat pas by Human en Rousseau verskyn het. In hierdie bundel staan die worsteling met taal en die radbraak van die digter se “vel-taal” sentraal in ʼn poging om iéts weer te gee van die worsteling met die lewe (onder andere) op die Kaapse Vlakte én die uitkristallisering van ʼn eie identiteit uit dié gegewe.

Dat die proses van taalverminking vir die digter ʼn veel dieper betekenis inhou as blote dekonstruksie en ondermyning van bekende taalwendinge en woorde, kan afgelei word uit die afbeelding van die spiraalskulp op die voorblad van die bundel. Hierdie simbool kan enersyds verbind word met verskeie gedigte waarin die see ʼn belangrike plekbepaler is. Die spiraalskulp het egter ook belangrike simboliese betekenis wat ʼn metafisiese betekenisvlak in die bundel suggereer. Dié skulp is een van die oudste spirituele simbole ter wêreld wat onder andere verband hou met die proses van verinnerliking – die pad wat van uiterlike bewuswording lei na besinning op die vlak van die siel, ook individuasie of verligting genoem. Die spiraal dui op wisselwerking tussen “buite” en “binne”, tussen die binneste kern en konsentriese beweging na buite en terselfdertyd ʼn beweging van buite na binne. Hoewel spiritualiteit nie ʼn duidelik uitgewerkte tema in die bundel is nie en die spiraal/skulp-metafoor baie meer effektief deur die digter ontgin kon gewees het, word die soeke na die self en na sin – soms deur doelbewuste “radbraak” van die bekende en voor-die-hand-liggende dinge – in verskeie gedigte fyn uitgespin. Identiteitskonstruksie vind onder andere plaas deur die metafoor van taalradbraking – die uitmekaarhaal en nuut vergestalting van oor-bekende taalkonstruksies wat hulle segkrag verloor het deur oorgebruik. Die uitmekaarhaal-proses behels byvoorbeeld ʼn verkenning en tentoonstelling van dit wat “binne” is (byvoorbeeld samestellende dele, homonimie en homofonie), ʼn kreatiewe hersamestelling van die “onderdele” en die gebruik van woorde in ongewone woordsoortlike betekenisse, soos in die gedig “ballade van ʼn wasdag”:

ek wil verstaan wat Ma so

blind-blind neurievink

gee dit ʼn naam ek sal dit dra sodat Ma

my kan bemin ek wil ontslae

die naarsugtigheid wat ek gaar

gun tog Ma haar woordlose

begin my seun se klipportret

moet rus in sy sandklippeplek

Die verwringing van taal word in hierdie gedig metonimies gebruik vir die worsteling van die sprekende ek om haar ma se liefde en toegeneentheid te verwerf, vir die moeder se stryd om tot versoening te kom met haar seun se dood én vir die spanning wat die teenoormekaarstel van ma en dogter se botsende belange teweegbring. Of die radbraak van die taal orals in die bundel ewe suksesvol is in terme van poëtiese segkrag, is debatteerbaar – myns insiens word dit te dikwels oordoen en onnadenkend en oneffektief aangewend, maar later meer hieroor.

Benewens die voor-die-handliggende betekenisonderskeiding van die woord “radbraak” as taalskending, -verknoeiing en -verminking, resoneer – in die gees van die bundeltema – ook ander betekenisse en onderdele van die woord saam. “Radbraak” is ʼn folteringsmetode waar iemand gemartel word deur sy/haar bene op ʼn wiel (rad) te breek. In ʼn onderhoud met René Bohnen op Versindaba maak die digter die volgende verhelderende opmerking oor die term “radbraak”: “In terme van die verminking en marteling wil ek sê dat mens nie moet vergeet nie dat intensie agter marteling nog altyd was: die verkryging van informasie.”  Ook die woord “braak” en die vaste verbinding “gal braak” waarin dit dikwels voorkom, moet in berekening gebring word by die verdiskontering van die titel. Die meeste gedigte staan op een of ander wyse in die lig van die meerduidige bundeltitel.

Die lewe op die Kaapse Vlakte en in die vissersgemeenskap by Gansbaai vorm die kerngegewe in die onderhawige bundel en kring uit  na sub-temas soos liefde; gedigte oor familiebetrekkinge; taal en taalbewustheid; perlemoenstroping en bendebedrywighede; gedigte met ʼn herinnerings- en biografiese strekking wat soeke na persoonlike identiteit insluit; die dood; en enkele gedigte oor plante. Soos die spiraal van die skulp wat ook van buite na binne lei, lei besinning oor sodanige, soms “uiterlike”, dinge op sy beurt in sommige gevalle weer tot ʼn dieper kyk en insig wat in die beste verse ongeformuleerd “om die grense flikker” van die digter se woorde. Ek dink byvoorbeeld aan die gedig “dop system’s merry-go-round” waarin die enkele woord “hallowed” in die voorlaaste strofe die fokus sagter op die drankverslaafde vader laat val – hoewel dit waarskynlik ironies bedoel is. Hierdie is een van ʼn hele aantal gedigte waarin ʼn toon van deernis met die gevallenes byna teenstrydig klink met die ontstellende narratiewe gegewens wat in sodanige gedigte onthul word.

Kyk ʼn mens na die Inhoudsopgawe, blyk dit dat die bundel as ʼn geheel aangebied word en nie duidelik in verskillende afdelings ingedeel word nie en dienooreenkomstig as een narratief gelees wil word wat wel ook spore van ʼn outobiografie bevat. Tog kom die leser al lesend agter dat daar tog ʼn ordenende instansie by die vormgewing aanwesig is wat gedigte losweg soort by soort gerangskik het. Hiermee wil geensins aangedui word dat rubrisering en kategorisering (soos in akademiese tekste) noodsaaklik is in poësiebundels nie. Omdat in hierdie bundel ʼn paradigmatiese snit uit die digter se lewens- en bestaanswêreld aangebied word, is dit trouens sinvol dat die teks oënskynlik ongestruktureerd verloop, ikonies van die lewensverhaal wat ook nie streng in kategorieë en tydperke ingedeel kan word nie.

Die gedigte oor familiebetrekkinge vorm een van die belangrikste sub-temas in die bundel. Veral die vaderfiguur, die digter se problematiese verhouding met haar moeder, asook die afwesige broer word belig. Dood vorm ʼn konstante polifoniese diskoers wat die familiediskoers begelei. In gedigte oor die vader is jukstaponering opvallend. Ooglopend is die pa ʼn dronklap, maar hy is ook boekgeleerd, iemand op wie sy dogter, ironies genoeg, trots kan wees:

my father comes home to midnight the dop system

inflames his veins black a haunted wine stock-drunk

in a ditch six foot six he is the comely cursive

of every name on every bottle every end of the week

licking the liquor of his labour lingering on the winyard’s hiss

 

this is the story of the unrequited papsak and my fermented pater

Daarteenoor staan ʼn vers soos:

in my pa se huis hou ek hom dop

die vissermanhande wat deur bladsye blaai

die gebundelde man wat seine gooi

met sy adamsappel woorde sluk

hoe sy hart ensiklopedie

as hy bene oorkruis sit en met sy

hande beduie ons moet hom uitlos

want hy kan net nugter lees

Die woord “dop”, soos dit uitreik na ander gedigte oor die vader, verkry in hierdie reëls ʼn betekenisvolle dubbelbetekenis. Die sluk van woorde staan in ironiese relasie tot die sluk van sterk drank. Ook roep die laaste reël deur middel van klankooreenstemming (“ek kan net nugter wees”) die ironiese teenstelling op van wat reeds oor die vader bekend is.

Gedigte oor die broer in sy Boys’ Town-dae – oor wie daar trouens ook ʼn pragtige ironies-elegiese vers teen die einde van die bundel verskyn – is deurdrenk van deernis en daaruit spreek ʼn sagtheid wat algaande kenmerkend word van hierdie digter se praatstyl,  veral in ʼn herinneringsvers soos “geelsanger” met sy aangrypende refrein:

Boeta sy [Ma] hou jou vas

sy hou houvirhou jou rou

Die skreiende ironie van ʼn lewe tussen bendes word verwoord in ʼn gedig oor families van bendelede met ʼn onverwags donker einde, “duiker-Ma se skrikkeljaar”, waarvan die eerste strofe só lui:

ek moet seker niks sê oor die poachers nie

seker harteloos om te dink dat die susters

by die biduur skynheilig is want hulle bid:

bring terug die broodwinners uit die tronk

Hierdie gedig waarin die spreker se gemengde gevoelens uitgespreek word oor perlemoenstroping wat baie families aan die lewe hou maar ook deur geweld gekenmerk word, getuig van haar geskakeerde emosionele omvang en bied insig in die verwikkelde sosiale problematiek waarmee sy deurgaans in hierdie bundel werk.

Uit die handvol familiegedigte vroeg in die bundel, is reeds veel af te lei oor die identiteit van die sprekende ek wat in die bundel aan die woord is – veral ook uit die hoek waaruit ingefokus word en die toonaard van die gedigte. Uit die gedig “oe jirlikheid! Janwap se kind” blyk die buitestanderskap van die sprekende ek wat sterk ooreenkoms vertoon met die konkrete outeur se biografiese gegewens op die agterflap van die bundel. Die spreker word gemarginaliseer op grond van haar geleerdheid, haar afkoms, haar hare en haar onvermoë om weer in die eenvoudige vissersgemeenskap van Gansbaai in te pas:

met al daai grade agter jou naam

bly jou pa ʼn papsak

in die Kaap noem hulle jou miesies

maar hier verstik jy aan ʼn visgraat

want jy het vergeet dat ʼn harder

se grate wurg     goetsoe

jy wil mos anderste wees

Die laaste stelling word ooglopend nie deur die spreker as belediging opgeneem nie – dit word haar bundelmotto: sy wil “anderste wees” deur die grense en begrensinge wat haar knel te deurbreek en uit die “taalpuin” (TT Cloete se term) nuwe moontlikhede te skep en te ontgin. Dat sy persoonlik egter ook nie aan die radbrakingsproses ontkom nie, word algaande duidelik, byvoorbeeld in die gedig “tongvis” wat ek in sy geheel aanhaal:

tongvis

 

ek is sardynstil

jou hande slim

jou lippe sjuut

op my lippe

jy prooi tussen my bene

jou ou visbene

ek hyg nog met die hoek

in my bek

jy kyk vir die gety

die see raak onstuimig

as jy     visvrou naby

Romansbaai se rotse kom

ek hoor jou lem skerp

ek hoor jou oor my meeu

jy vat my     jy vlek my

langdradig sny jy langs

my kiewe al langs my pens

daar lê my binnegoed stom

met die kaal hand trek jy my uit

en smyt my eenkant toe

vir aandete berei jy my voor

my kop kook jy in soutwater en uie

                        ʼn tongvis vir twee

                        die’s vir die meel

                        die pan wat my braai wag

sodat die rou stadig uitbak

            stadig uit my uitbak

In hierdie gedig word die radbrakingsproses as tydsame, pynlike foltering opgeroep deur seksuele uitbuiting in metafore van visvang en -gaarmaak te beskryf. Hierdie is trouens een van die mees geslaagde gedigte in die bundel waarin die digter se behendige en konsekwente omgang met metafore, haar vernuftige woordspel en die vermoë om meerduidigheid en meervlakkigheid van woordbetekenisse ten beste te ontgin, gedemonstreer word. Ek dink byvoorbeeld aan die woord “uitbak” wat op figuurlike vlak aansluit by gedigte soos “oe jirlikheid! Janwap se kind” en die uitgebaktheid van die spreker binne die gemeenskap van Gansbaai. Ek sou trouens talle sulke voorbeelde kon aantoon wat, benewens hulle suiwer poëtiese  doeltreffendheid, ook bydra tot bundeldigtheid en kohesie op die makrovlak van die bundel.

Wat my betref is die belangrikste gedigte in die bundel egter dié wat handel oor die digpraktyk en die digter se siening van die taalinstrument wat sy tot haar beskikking het. Daar is verskeie gedigte in die bundel wat spesifiek handel oor taal en woorde en die digter se emosionele reaksie daarop. “Tong-trilogie” (ʼn lang gedig in drie dele) ondersoek die digter se verhouding met woorde en taal: “die storie van my woord begin toe ek vir die eerste keer / saam met Pa en sy familie Pêreberg toe gaan”. In hierdie gedig word woorde die metafoor van vreemdheid, nie-hoort, andersheid en buitestanderskap wanneer haar “tong dennehoutbolle word” as sy met die vreemde familie moet kommunikeer. Daarteenoor staan die woord as kommunikasiemiddel met plante en die natuur: “ek fluister vir die speldekussing / as ek die woord in die are / van die adamsvy soek”. Woorde verkry vir die spreker vroeg reeds ʼn betekenis wat op intuïsie berus, selfs ʼn immateriële en transendentale betekenis, want “geeste het nie tonge maar ek verstaan hulle”. Hierdie is ook een van die min gedigte waarin ʼn spirituele dimensie aangeraak word:

ek praat al my tonge gelyk

Ma sê dis gevaarlik as mense

in tonge praat     niemand kan

 

ʼn prooi-tong vertaal nie slinks is die ekkes

in my besig om bakstene aan te dra

vir ʼn nuwe babel

Die laaste reëls dui op die voorneme van die digter om taal vreemd te maak en verwarring te veroorsaak (ook in ʼn frase soos “my mond proe na karring-tale” uit dieselfde gedig), dalk in die Brechtiaanse sin van Verfremdung – ʼn stylmiddel waardeur die hoofteks sodanig onderbreek word dat ‘n illusie van heelheid (of die handhawing van ‘n status quo) onmoontlik is en ʼn kritiese herevaluering van die gegewe wat aangebied word, noodwendig onderneem moet word. Stilte wat nooit leeg is nie as teenwig van (leë) woorde is ʼn belangrike deel van die inskryf teen die geykte siening van woorde as kommunikasiemiddel tussen mense. Deel van die radbrakingsproses is beslis klemlegging op die taal van nie-menslike dinge en entiteite, soos in die reëls:

ek kan nie genoeg kry van die wind se geskinner nie

ek het nog gevra is die see en die wind susterskinders?

my pa se mense lag my nog altyd tot stilte.

Soos ek reeds vroeër aangedui het, is die problematisering van woorde en taal deur digters niks nuuts nie. Hierdie digter het egter beslis iets te sê en sy doen dit in ʼn hele aantal gedigte op ʼn vaardige en deurdagte wyse. Soms het haar verse ʼn bekoorlike ritme en liriese vloei en beïndruk die metafoorgebruik, maar ek het gevoel dat taalskending in sommige gevalle die kwaliteit en toeganklikheid van verse negatief beïnvloed, asof dit ʼn doel op sigself word. Tegnieke soos hierdie kan slegs werklik doelmatig aangewend word deur bedrewe digters wat reeds die klassieke versvorme bemeester het. Picasso het byvoorbeeld by herhaling die stelling gemaak dat skilders eers realisties korrek moet kan skilder alvorens alternatiewe werk in die kubistiese of surrealistiese style aangepak kan word – al is dit dan slegs as “vingeroefeninge”. Dit is dalk waarom sekere gedigte in hierdie bundel lomp en onafgewerk voorkom en mank gaan aan poëtiese bindingselemente. Wat egter groter rede tot kommer bied, is die duidelike invloed van Antjie Krog in die digter se werk – ek dink hier byvoorbeeld aan ʼn gedig soos “hoe ontlief ek jou?” Sekere gedigte toon myns insiens nog te veel ooreenkomste met gedigte uit die afdeling  “essay-abstrakte: re: sinaps” uit die bundel mede-wete. Tog moet ek onmiddellik byvoeg dat in ʼn debuutbundel die onverwerkte stemme van ander digters nog vergewe kan word, maar ek sien uit na ʼn opvolgbundel waarin die digter tot ʼn groter mate haar eie stem en poëtiese werkwyse gevind het.

Ons kan beslis in die toekoms nog veel van Jolyn Phillips verwag. Sy is ʼn digter wat alternatief en dieper as die oppervlakte dink en wat werklik vernuwende werk kan lewer op sowel tematiese as verstegniese vlak.