Posts Tagged ‘Julius Malema’

Desmond Painter. Teen die sotheid: Anti-Digter van die Week

Friday, April 9th, 2010

Steve Hofmeyr

Ek wil begin om elke Vrydag ‘n ‘Anti-digter van die Week’ te benoem. Die benoeming sal gaan aan iemand wat die afgelope week verbeeldingloos en destruktief met die taal (enige taal) omgegaan het, op so ‘n manier dat sy of haar woorde die wêreld kleiner, meer geslote, en ‘n bietjie meer gemeen gemaak het. Julius Malema is ‘n aanspraakmaker op ‘Anti-Digter van die Week’ elke keer as hy sy mond oopmaak. Die Afrikaanse vermaaklikheidspersoonlikheid (‘sanger’?) Dozi is hierdie week ook ‘n sterk aanspraakmaker, met sy rassistiese uitbarsting in Oudtshoorn.

Maar Anti-Digter van die Week is myns insiens ‘n man wat nie die verskoning het van ‘maar ek is ‘n politikus’ of ‘maar ek was dronk’ nie: Steve Hofmeyr. Dit is altyd vir my ironies dat Hofmeyr so uitvaar teen Julius Malema, want hulle is kraaie wat eenders krys. Vergelyk maar: Hulle opportunistiese uitbuit van politieke sentimente; hulle opdringerige, dikwels selfdienende mediateenwoordigheid; hulle selfregverdigende, onboetvaardige houding teenoor opponente; en hulle vervelige ‘tough guy’ houding. Ag, daar is so baie van hierdie manne in Suid-Afrika, dit is ‘n epidemie. Hulle laat my dink aan Nick Cave se woorde (uit ‘Darker with the Day’):

Amateurs, dilettantes, hacks, cowboys, clones
The streets groan with little Caesars, Napoleons and cunts
With their building blocks and their tiny plastic phones
Counting on their fingers, with crumbs down their fronts

Maar waarom vir Steve Hofmeyr benoem as ‘Anti-Digter van die Week’? Hy verdien dit myns insiens vir sy kommentare (soos gerapporteer in Die Burger) hierdie week oor Dozi en oor die dood van Eugene Terre Blanche. Dit is moeilik om te besluit watter van die volgende twee stellings die domste is: ‘Miskien was Dozi reg’, of [oor sy toespraak vandag by Terre Blanche se begrafnis]: ‘Ek wil in ‘n land woon waar mense baklei’. 

Die digterlike woord is nie altyd sag en koesterend nie; dit kan ook uitdagend, gewelddadig en selfs afbrekend wees. Ek dink egter nie die digterlike woord het ten doel om (soos ek in die eerste paragraaf geskryf het) die wêreld doelbewus meer geslote en gemeen te maak, om ons ervarings en persepsies in te perk en te verhard nie. Bruce Springsteen sing: ‘Well, sir, I guess there’s just a meanness in this world.’ Die digterlike woord maak myns insiens van hierdie ‘meanness’ ‘n teiken. Of soos Czeslaw Milosz (in ‘Ars Poetica?’) skryf:

And yet the world is different from what it seems to be
and we are other than how we see ourselves in our ravings.
People therefore preserve silent integrity
thus earning the respect of their relatives and neighbors.

The purpose of poetry is to remind us
how difficult it is to remain just one person,
for our house is open, there are no keys in the doors,
and invisible guests come in and out at will.