Posts Tagged ‘Kaapstad Slaapstad’

Andries Bezuidenhout. Ek luister op die oomblik na…

Tuesday, May 26th, 2009

…Mavis Vermaak se nuwe EP. Dis moeilik om dit te beskryf. Miskien kan ek sê mense wat van The Buckfever Underground hou sal dit aangenaam vind. Musiek uit die “flipside of the fairest Cape” dalk, alhoewel die flipside hier nie na die vlaktes verwys nie, maar die suburbs.

Ek hou op die oomblik die meeste van “Diep Kaleidoskoop”. Hier is ʼn uittreksel uit die liriek:

“ʼn palmboom dra ʼn dik bruin jas verbloem dun en moedig die uitkyk op ʼn raserige straathoek skaam en dom sou jy kon raai lewens tol daarom negentig bloedlose grade van taai en soet en rond soos gesteelde lekkers soos ʼn brandsiek ek steek my tong uit gee nie om wat jy van my dink nie my pels blink my pote lig hoog ek hardloop langs ʼn gawe see.”

Dit laat my ʼn bietjie aan Gert Vlok Nel dink. Ek hou ook baie van “16 Februarie 2007”:

“wie sit die kartel in die mofskaap se wol wie span die bult oor die afrikanerbees se voorkop wie sit die krul in die mofram se horing wie trek die springbok se pronk oop.”

En:

“op 16 februarie 2007 in die jaar van jou here het ons op ʼn vliegtuig geklim het ons in roodepoort gauteng gebraai geswem gedrink.”

Hierdie een laat my weer aan The Buckfever Underground se “The Highveld is a shit place to be in winter” dink.

Vir meer oor Mavis Vermaak gaan loer en luister gerus hier.