Posts Tagged ‘Kamermusiek’

Andries Bezuidenhout. Paradys deur die motorvenster

Thursday, February 10th, 2011

Ek lees oor landskappe op vir die komende Woordfees. Die klassieke Suid-Afrikaanse teks oor landskappe is seker J.M Coetzee se White Writing. Ek onthou hoe ek ʼn ruk gelede in Fort Beaufort se museum deur ʼn fotoboek geblaai het. Dis in die 1880s deur Lovedale Kollege gepubliseer om aan hul befondsers in Engeland en Skotland te toon wat hul impak in Afrika is. Daarin wys hulle hoe die sendelinge die “Natives” leer tuinmaak – hoe bome in reguit rye geplant moet word, beddings netjies afgerond. Hulle poog om orde op ʼn landskap, wat hulle as barbaars en chaoties sien, te vestig, soos ʼn Engelse tuin.

Na die 1930s, met die wit staat se pogings om armblankes op te hef, het maatskaplike werkers besonderse aandag aan diegene wat opgehef moes word se tuine gegee. ʼn Netjiese tuin is blykbaar ʼn teken van ʼn netjiese gemoed.

Ek wonder oor gedigte oor landskappe en gaan lees weer Johan Myburg se gedig “Niks is waarna dit lyk nie” uit sy bundel Kamermusiek:

NIKS IS WAARNA DIT LYK NIE

Ek ry deur sagte suurveld
vlak voor Stutterheim, verlustig my
aan plomp skape wat soos in Bach
se skaapkoraal rustig wei

in heuwels gras. Die veld is egalig groen
en wuif gifgeel plate
voorjaarblomme. Alles dui,
bo alle twyfel, op ʼn uitermate

goeie jaar. By die afklim vir ʼn foto
van di
é idilliese toneel lyk
gras geler, minder geil,
meer pollerig en oorbewei, blyk

skape vrotpoterig kruppel
met klitsgras vasgewoel in wol;
l
ê half verskuil in gras die halfgevrete
karkas van ʼn skaap, vol

vretende organismes. Hand oor die neus
vlieg ek om, hoor ʼn gesis
en trap ʼn adder wat verraderlik bruin
in die voetpad pof net-net mis.

Kerk, Lovedale, 1932

Kerk, Lovedale, 1932

 

Foto:
Van Warmelo-versameling
http://hdl.handle.net/10210/1752

Andries Bezuidenhout. “Flat, drab, boring” Oos-Kaap

Friday, August 14th, 2009

Ek is vanoggend verstom oor ʼn onderhoud wat Shaun de Waal met Steven Jacobs, die regisseur van die filmweergawe van Disgrace, in die Mail & Guardian gedoen het. In plaas van om die plaastonele in die Oos-Kaap te verfilm, is daar eerder besluit om dit in die Wes-Kaap te doen. Blykbaar kan ʼn mens die Hottentots-Hollandberge in die agtergrond sien, alhoewel daar steeds in die film na “nabygeleë” Grahamstad verwys word.

Die volgende uittreksel uit die onderhoud maak die redes vir die besluit heel duidelik. Steven Jacobs aan die woord:

“In terms of where we shot it, there were two reasons for that… One was economic — we had to be close enough to Cape Town. [ʼn Mens neem aan John Malkovich se hotelkamer] The second was that I wanted something that had an epic quality to it. I wouldn’t have shot it in the Eastern Cape. I didn’t even bother going there. It wasn’t my intention to shoot somewhere that was drab and flat and boring. I wouldn’t have done the picture that way. Other people saw the location shots, including Mr Coetzee, and they thought it was appropriate. I’m not an expert on South African landscape. I’m in the movie world. I’m dealing with a visual medium. I took a visual slant on the film that I thought was correct. It’s now up to people to decide if it’s successful or not. We did what we set out to do and I’m pleased with the result.”

Kan iemand asseblief vir die stomme man ʼn toer na die Oos-Kaap organiseer! Of dalk Johan Myburg se pragtige (maar steeds half siniese) gedigte oor die Oos-Kaap in Engels vertaal (uit Kamermusiek). Vat hom op die pad van Rhodes af terug Barkly-Oos se kant toe, laat hom regs draai by Moshesh’s Ford, tot by Lundin’s Nek (in die foto hier bo). Wys vir hom die berge. Of neem hom Nieu Bethesda toe, of die pad deur die Winterberge waar die Bezuidenhouts van Slagtersnek met die pandoers baklei het. Om hemelsnaam, selfs die vlaktes en berge rondom Grahamstad. Wys vir hom ʼn aalwyn. Laat hom die woord op Afrikaans sê: “Aalwyn.”

Wys dalk ook vir hom die filmweergawe van Na die geliefde land, waarin die vlaktes rondom Trompsburg pragtig verfilm is. Ten minste het die verfilming van daardie boek dít reggekry. Amper té goed.

Of dalk moet hy White Writing lees en agterkom hoe Coetzee skryf oor mense wat oor landskappe skryf. Dalk sal hy dan verstaan dat Coetzee selfs ʼn sjokoladedooskitch plek soos Kaapstad “drab and flat and boring” sal laat lyk.

Ek is jammer, maar teen die Oos-Kaap se landskappe is die Wes-Kaap nou nie juis “epies” nie. Of hel ek nou weer te veel na die ander kant oor?

Ek proes in my Oos-Kaapse voorgeslagte se roosterbrood met marmelade.