Vriende en katte
Tuesday, January 26th, 2010Ek het ’n vriendin. Nie ver by die blou see nie, sommer net hier anderkant in Pretoria. En elke keer as ek aan Phyllis dink, dan dink ek aan ’n gedig. Maar dis weer Operasie Gedigsoek hier, omdat ek nóg naam nóg skrywer daarvan kan onthou.
In die digbundels op my rak, dié wat ek bereid is om vlugtig deur te blaai, kry ek niks. Dan maar gaan kyk wat Google weet van Phyllis en kat, en hoera! Daar is dit sowaar:
Met Phyllis ingekooi
Phyllis op die vensterbank
tel sneeuvlokkies, daglank, aandlank,
“Triljoen-en-twee-“ Ek sê: veel dank.
Kom Phyllis, maak my voete warm.
Phyllis lek haar hare glad
soos George Raft s’n, blink en nat
want Phyllis is my outydse kat.
Kom Phyllis, maak my voete warm.
Ek tel haar op – sy kyk ontstel
want wie gaan nou die sneeuval tel?
en sit haar op my kooi op bevel
van Phyllis-maak-my-voete-warm.
Dan in my lang wol-onderklere
(sy draai haar kop weg vir die gebeure)
krimpvarkie-kruip ek in die vere.
Kom Phyllis, maak my voete warm.
Lank opgewen slaan sy haar enjin
nou aan met por, voetvroetel, spin,
straal katte-Watte die komberse in.
So maak Phyllis my voete warm.
Dis ’n gedig van Barend J. Toerien en ek dink dis heerlik! Van sneeuvlokkies weet ek nie veel nie, maar van katte wel en hierdie is in die kol. Hulle sê mos ’n kat is nie so skoon nie, dit is net vol katspoeg.
Juis is my liefste kat vanoggend soek, seker aan ‘t jag in die grasvelde om my huis. Wie gaan nou my skoot warm sit en kla as ek opstaan om tee te maak? Wie gaan nou my woorde tel?




