Posts Tagged ‘Katedraal Ys’

Marlies Taljard: Valstande in ‘n glas

Tuesday, August 27th, 2013

Die gedig Apostase in Marius Crous se bundel Vol draadwerk (2012) verbeeld die sprekende ek se afvalligheid van die Christelike godsdiens. Dit is nie toevallig dat dié gedig in die afdeling staan wat heet Aufhebung nie – ‘n woord wat vertaal kan word met “uitkansellering”, “opheffing”, “afskaffing” en “ongeldig verklaring”. Hierdie is een van die sentrale gedigte in ‘n bundel waarin spirituele kwessies deurgaans onder die vergrootglas kom:

APOSTASE

wat help dit om te kniel

as jy ‘n dwerg is by ‘n altaar wybene

want die sleutel tot die raaisels

vra vir ‘n lang lyf met goeie oë

dweiler en dweper sal ek helaas bly

hier om die slagtafel

treiteraar van die vroue

ou prewelende spreeus en mossies

met my bollemakiesies en my swetse

geen vetgesmeerde gesig en glinsteroë

vir die boggelbek-beeldpoetser van die bees nie

dus wind ek my wind en ek tiep die kelk

en vreet die liggaam van die silwer skaal

Hierdie gedig werp ook lig op die drie openingsgedigte van die bundel, Gesonke katedraal, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en Messiaen. In die openingsgedig van die bundel, Gesonke katedraal word beskryf hoe die katedraal by Ys-eiland in die see wegsink:

GESONKE KATEDRAAL

die katedraal sak af in die water

soos valstande in ‘n glas     wit grimas van steen

uit ruite en deure

van gate en openinge

van kantelende kandelare

altare wat oopkraak onder die water

die kruis wat wieg soos seebamboes

losgehaak tussen die dobberende mariabeelde

wanneer hy neergeplof het op die rug van die see

sal ek in en uit by hom kan swem

sal ek die timbre en die seegroen toonkleur van debussy

nog kan hoor

Soos ek in twee vorige blogs geskryf het, is hierdie gedig duidelik gebaseer op die legendariese gesonke katedraal by Ys-eiland waarop die komponis Claude Debussy op sy beurt sy bekende klavierstuk La Cathedrale Engloutie gebaseer het. Die digter se keuse van juis hierdie stof is om meer as een rede veelseggend. Soos uit my bespreking van die legendariese stof blyk, het die katedraal juis gesink vanweë die sogenaamde sondigheid van die inwoners van die stad Ys en hulle aangetrokkenheid tot ander godsdienste, spesifiek die Druïsme (Paganisme). Soos telkens uit gedigte in die bundel blyk, kan ook die sprekende ek van die bundel homself nie meer gemaklik met die Christelike godsdiens vereenselwig nie. Die sink van die katedraal, as simbool van die Kerk, is dus ‘n wegwyser na belangrike kwessies wat in die skering en inslag van die betrokke bundel ingeweef is.

Die banaliteit van beelde soos “soos valstande in ‘n glas” en “wit grimas van steen” dien enersyds die doel om die clichés wat gewoonlik gebruik word in verband met die kerk, die godsdiens en sogenaamde heilige simbole te ontluister. Andersyds is dit egter ook ‘n doelbewuste “vreemdmaak” van dié dinge met die oog op ‘n nuwe kyk en ‘n herinterpretasie van simbole, waardes en beginsels wat, weens hulle oorbelading met geykte inhoude, reeds versteen het en, gehul in die beeldspraak waarin hulle tradisioneel geklee word, nie meer direk tot die hart en siel van gelowiges kan spreek nie. Hulle het dus hulle oorspronklike krag verloor en daar moet iets nuuts in die plek daarvan kom. Hierdie interpretasie word ondersteun deur die speurtog van die spreker in die tweede gedig van die bundel, Duiker by Ys-eiland, kus van Bretagne en die “opkatrol” van die katedraal in die derde gedig in die bundel, Messiaen.

DUIKER BY YS-EILAND, KUS VAN BRETAGNE

in hier en uit daar swem ek

met my nuwe lyf ‘n seedier

in sy mensgesoomde pels

deur die gate en die krake

in die mure van die katedraal

gesonke

geen seeperde hou hul lyf harp hier

stil die orrel

sy pype ‘n aanpakplek van skulpe en koraal

ek voel belieg deur die burgery

waar die see op sy rug lê

hier waar ek die myters hoor dobber

die krapgeluide van die kruise as hul tuimel

hier die altare hoor oopkraak

of bybelblaaie soos wiere

flapflap in die seestrome

hier is geen klavier of fluit

hier net die asemstote wat uitborrel

voor my derde oog

van plastiek

 ***

MESSIAEN

messiaen lig die katedraal

wat debussy laat sink het

soos ‘n hand vol skulpgruis

uit die see

debussy het hom laat wegsink

soos ‘n skatkis in die geelgroen slik

maar messiaen

voor die orrel

katrol hom stadig op

op

op

op

tot op ‘n piek in darien

Banalisering en ontluistering van lank gekoesterde heilige simbole en rituele dui egter ook op verlies van geloof in dié dinge. Veral die eerste twee gedigte in die bundel wemel letterlik van beeldspraak wat dui op vernietiging en fragmentasie – ‘n losmaak van simbole uit die verband waarbinne hulle spirituele krag geleë was en ‘n metaforiese val van uitgediende gode, simbole en selfs argetipes: “kantelende kandelare”, “altare wat oopkraak”, “dobberende mariabeelde”,”die gate en die krake / in die mure van die katedraal”,”kruise … tuimel”, “bybelblaaie … flapflap in die seestrome” … Ondermyning van Christelike waardes staan in skerp jukstaposisie ten opsigte van die oorspronklike legendariese stof oor die stad Ys: volgens oorlewering het die stad met sy katedraal gesink weens die inwoners se onwilligheid om die nuwe godsdiens, die Christendom, te aanvaar; etlike eeue later is dié godsdiens – in die gedig-metafore – so aangeplak van skulpe en koraal, die inhoude so deurspek met leuens dat die oue moet sink en nuut bedink moet word alvorens dit stadig opgehys kan word. Daar moet as’t ware ‘n heel nuwe spirituele orde kom – so nuut soos die Westerse “ontdekkers” die Stille Oseaan die eerste keer vanaf ‘n piek in Darien gesien het.

‘n Herevaluering van die oue – soos in Duiker by Ys-eiland – behels nie slegs die disseksie van die bekende nie, maar ook die ontginning van die spirituele inhoude van ander godsdienste, soos gesuggereer word deur die laaste twee reëls van dié gedig. In plaas daarvan dat die spreker se derdeoog hom in staat stel om die hoër spirituele dimensies te verken, is daar slegs “asemstote wat uitborrel” voor sy “derde oog” – hierdie betekenisonderskeiding dui nie op ‘n spirituele praktyk nie, maar suggereer dat dit wat die sentrum van spirituele belewenis kon gewees het (soos in baie Oosterse godsdienste die geval is), nou slegs ‘n addisionele oog is (‘n vyfde wiel aan die wa?), wat boonop van plastiek gemaak is – ‘n stof wat gewoonlik geassosieer word met gebruiksvoorwerpe van minderwaardige gehalte, iets wat nie duur nie.

Ek het in die bostaande bespreking gepoog om slegs enkele aspekte van die ryk betekenisdimensie van die betrokke gedigte vlugtig aan te toon sonder om by ‘n rigiede interpretasie uit te kom. Dit is nou die taak van die leser om aan die hand van hierdie wegwysers stadig die gedigte te verken, die legkaart stukkie vir heerlike stukkie verder te bou en hopelik in die labirint van die verse te verdwaal. Besinning oor spiritualiteit is maar een van verskeie verwysingsvlakke in dié gedigte. In ‘n volgende blog sal ek onder andere aan die psigologiese dimensie van die gedigte aandag gee.

Marlies Taljard. Die mitiese stad Kêr-Ys

Monday, July 22nd, 2013

In Marius Crous se bundel Vol Draadwerk (2012) kom daar ʼn groot aantal gedigte voor wat gebaseer is op mites en legendes – ek het onlangs ʼn blog geskryf oor die gedig Avalon wat, net soos die eerste drie gedigte in die bundel, sy stof put uit die mite van ʼn verlore stad. Hierdie verhaaltipe is in die mitologie nie onbekend nie – vergelyk byvoorbeeld die verhale oor Atlantis en Lyonesse wat byvoorbeeld breed uitgewerk word in die romans van Marion Zimmer Bradley. In hierdie en die volgende blogs, wil ek Crous se gedigte Gesonke Katedraal, Duiker by Ys-eiland, Kus van Bretagne en Messiaen (die eerste 3 gedigte in sy bundel Vol Draadwerk) van naderby beskou. Die eerste twee gedigte het, benewens die legende van die katedraal by Kêr-Ys, Debussy se  La Cathedrale Engloutie as addisionele interteks, terwyl die derde gedig verwys na Messiaen se bekende orrelwerk Apparition de L’eglise Eternelle (1932).

In hierdie blog konsentreer ek op die verhaal van die gesonke katerdraal wat ook die basis vorm van Claude Debussy se prelude vir klavier, La Cathedrale Engloutie (1910). Die verhaal het sy oorsprong waarskynlik iewers tussen die vyftiende en die sewentiende eeu gehad en vertoon groot ooreenkoms met ʼn middeleeuse Walliese gedig Seithennin oor die legende van Cantre’r Gwaelod waarin die stof van ʼn stad wat weens menslike vergrype onder die see verdwyn, eweneens voorkom. Soos die meeste mites, het ook hierdie een verskeie variante. Ek probeer in my bespreking konsentreer op dié narratiewe aspekte uit verskillende tekste wat belangrik is vir die latere interpretasie van die gedigte.

Volgens oorlewering was Gradlon die koning van die welvarende stad Ys wat geleë was in die suid-weste van Bretagne, waar die baai van Douarnenez vandag is. Die stad was een van die rykste stede in Europa, maar onder seespieël geleë. Om dit teen die see te beskerm, is ʼn geweldige dyk opgerig met reuse bronshekke wat tydens laagwater oopgemaak is om die vissermanne toegang tot die see te bied. Die koning alleen het die sleutels vir dié keerhekke om sy nek gedra. Koning Gradlon was ʼn wyse en godvresende man (alhoewel geskiedkundige bronne beweer dat hy goed bevriend was met die laaste Druid in Bretagne, dat hy hom voor sy dood vertroos het en eers die heidense doodsrituele vir hom laat voltrek het, voordat hy ʼn kerk in sy woud laat oprig het.) Volgens sommige variante van die verhaal was Gradlon vroeër, toe hy nog die heidense gode gedien het, getroud met ʼn wese wat half mens en half faerie was. (Ander bronne wil dit hê dat hy met die koningin van die Hiperborese getrou het nadat hulle twee haar ouerwordende man vermoor het.) Hoe dit ook al sy, die moeder het aan ʼn boosaardige dogter, Dahut, die lewe geskenk en daarna verdwyn. Getrou aan die faerie-aard van die moeder, het Dahut ʼn besondere voorliefde vir die ou Keltiese gode gehad en het sy, saam met die grootste deel van die inwoners van Ys, die aardmoeder aanbid. Sy het haarself in ʼn ou Keltiese rite aan die see verbind en haarself as die verloofde van die see beskou. Dit het haar die gramskap van die Christelike ab Guénolé (Winwaloe), stigter van die eerste klooster in Bretagne by Landévennec, op die hals gehaal. Hy het, soos ʼn Jeremia van ouds, gewaarsku dat God hom op die stad sal wreek weens Dahut en haar volgelinge se boosheid.

Dahut het geleef volgens die Keltiese tradisie en het aand vir aand flambojante orgies gereël. Omdat sy haarself sterk verbonde gevoel het aan die see, het sy daagliks offers aan die seegode gebring. Elke dag het sy vir haar ʼn nuwe minnaar vir die aand uitgesoek wat verplig was om ʼn swart masker te dra. Wanneer die fees verby was, het Dahut die versteekte vere in die masker geaktiveer wat die minnaar versmoor het. Die dooie mans is dan in die see gegooi as offers.

Een aand kom daar egter ʼn ridder aan wat heeltemal in rooi geklee was en dadelik Dahut se belangstelling geprikkel het. Sy het hom onverwyld na haar bed genooi. Wat Dahut nie geweet het nie, is dat hy die duiwel in persoon was. Hy het haar in haar laataand dronkenskap oorreed om die sleutel vir die stadshekke by haar slapende vader te steel. Ondanks ʼn ontsaglike storm wat op see gewoed het, het hy die hekke oopgesluit en die see het die stad oorstroom. St. Guémolé het Gradlon net betyds wakker gemaak om op sy geliefde perd Morvarc’h te spring, voordat die golwe die kasteel verswelg het. In die straat het Gradlon sy dogter Dahut sien spartel en haar agter op sy perd getel. Morvarc’h, wat op golwe kon galop soos op land, het egter gestruikel onder die swaar las. Skielik, terwyl oorverdowende donderslae en weerlig woed, verrys daar ʼn doodsbleek gedaante geklee in ʼn bruin monnikekleed uit die see. Dit was St. Guénolé wat Gradlon beveel om die demoon van sy perd af te gooi. Gradlon wou eers nie gehoor gee nie, maar toe die perd steier en onder die water verdwyn, moes hy sy dogter, wat volgens St. Guénolé verantwoordelik was vir die ramp, teruggee aan die see wat sy so lief gehad het. Onmiddellik het die storm bedaar en Gradlon kon veilig aan wal gaan. Spoedig het hy die stad Quimper bereik wat hy sy nuwe vesting gemaak het, aangesien Ys heeltemal onder die water weggesink het. Vandag kan die standbeeld van Gradlon wat tussen die twee torings van die katedraal van St. Corentin by Quimper opgerig is, steeds gesien word. Dit is in 1793 beskadig, maar in 1859 weer herstel.

Dahut, wat die see so lief gehad het, het verander in die meermin Marie-Morgane. Soms kan sy nog gesien word waar sy op ʼn rots sit en haar goue hare kam. Soos sy vantevore gewoond was om haar minnaars in die see te gooi wanneer sy met hulle klaar is, so verlei sy steeds die vissermanne sodat hulle bote op die rotse loop. Daar word ook beweer dat die torings van die stad soms tydens laagwater direk onder die wateroppervlak gesien kan word en dat die klokke van die katedraal Ys soms nog gehoor kan word vanuit die dieptes van die see.

Die mite van die versonke stad Ys hou op talle maniere verband met ander verhale. Net soos Sodom en Gomorra, was Ys ook ʼn welvarende stad, waarin daar egter slegs een verdienstelike siel te vinde was, naamlik die koning Gradlon. Ys word ook vernietig as gevolg van die heidense gebruike van sy inwoners. Dahut is ʼn soort Jessebel wat die leier is van mense wat die ou gebruike aanhang. Die ooreenkoms tussen Dahut en die bekende Loreley wat die vissermanne verlei sodat hulle verdrink, is voor die hand liggend: “Die schönste Jungfrau sitzet / Dort oben wunderbar, / Ihr gold’nes Geschmeide blitzet, / Sie kämmt ihr goldenes Haar, / Sie kämmt es mit goldenem Kamme, / Und singt ein Lied dabei; / Das hat eine wundersame, / Gewaltige Melodei. // Den Schiffer im kleinen Schiffe, / Ergreift es mit wildem Weh; / Er schaut nicht die Felsenriffe, / Er schaut nur hinauf in die Höh’. / Ich glaube, die Wellen verschlingen / Am Ende Schiffer und Kahn, / Und das hat mit ihrem Singen, / Die Loreley getan.” [Die mooiste jong vrou sit op die rotse en kam haar goue hare met ʼn goue kam terwyl sy ʼn aangrypende lied sing. Dit is vir die skipper so mooi dat hy na haar bly kyk en nie die rotsriwwe sien nie. Uiteindelik loop sy skip op die rotse en hy verdrink. Dit het die Loreley met haar singery gedoen.]

Hierdie mite word dikwels beskou as die oorwinning van die Christendom oor die ou Keltiese Druïdisme wat nog tot diep in die eerste millennium in Bretagne beoefen is.