Posts Tagged ‘Keorapetse Kgositsile’

Marlies Taljard: Wie was Bra Willie?

Tuesday, May 8th, 2018

 

Wanneer hy ingekom het, het daar altyd ʼn eerbiedige stilte (hushed silence) oor ons gedaal. Die glimlag, dáárdie glimlag, het almal ingesluit. Dit het vanuit die siel, deur die oë na die mond, na die hele gesig versprei. As sy arms vir jou oopgaan, het jy gevoel jy ís íémand. Hy het ons almal by die naam en die beroep geken – die hele SALA-beoordelingspaneel. Hy was een van die mín mense wie se uitstraling van liefde, deernis en respek ʼn mens nie onaangeraak kón laat nie. Hy was oor baie jare ʼn vader en ʼn mentor vir ons, soos vir honderde ander hier en orals ter wêreld. Sy plek is akuut leeg. Dit is my indrukke van ʼn onvergeetlike mens. Wat hierna volg, kan enige iemand op Google gaan naspeur. Tog dink ek is hierdie blog op ʼn Afrikaanse webwerf nodig, aangesien ek glo baie min Afrikaanssprekendes bekend was met die lewe en die werk van hierdie enigmatiese digter.

Keorapetse William Kgositsile (algemeen bekend as Bra Willie)  is op 19 September 1938 in die agterplaas van ʼn voorstedelike huis in Johannesburg gebore. Sy ma het destyds as ʼn meid bekend gestaan. Sy het hom met haar karige inkomste deur matriek gehelp. Op 3 January 2018 sterf hy op 79-jarige ouderdom na ʼn kort siekbed in die Milparkkliniek. Benewens sy bekendheid as digter (hy het 10 digbundels die lig laat sien), is Kgositsile veral bekend as politieke aktivis wat gedurende die 1960’s en 1970’s in Amerika in ballingskap geleef het. Hy was onder andere getroud met Baleka Mbete, die Speaker van die Parlement. Ten spyte van die feit dat daar in die biblioteke waartoe hy op skool toegang gehad het (en selfs in sg. “blanke” biblioteke) baie min boeke oor Afro-Amerikaanse literatuur en kultuur te vinde was, het hy reeds as skoolseun ʼn studie darvan gemaak, veral van jazz. Terwyl hy in Amerika geleef het, het hy dikwels in New Yorkse jazzklubs sy eie gedigte en dié van ander Afrikadigters voorgelees en sodoende die aandag gevestig op Afrikakuns. Hy het destyds kultusstatus in New York beklee.

Sy eerste kennismaking met die politieke beleid van uitsluiting van die destydse Suid-Afrikaanse regering was dat hy nie verstaan het waarom hy nie saam met sy wit maatjies kon skoolgaan nie. Nadat hy in ʼn bakleiery met ʼn wit seun betrokke was omdat hulle hom nie in hulle boksklub wou toelaat nie, het sy outsider-status tot hom begin deurdring. Dat hy na dié voorval nie meer toegelaat is om saam met die wit kinders van die buurt te speel nie, het daartoe gelei dat hy al hoe meer begin lees het. Langston Hughes en Richard Wright het sy gunstelingskrywers geword, maar sy werk is ook beïnvloed deur ander Europese skrywers soos Charles Dickens en D. H. Lawrence. Reeds op ʼn vroeë ouderdom het hy stories begin skryf, maar nie met die doel om te publiseer nie. Omdat sy ma hom nie verder as matriek kon laat leer nie, het hy na skool ʼn verskeidenheid werke verrig, maar uiteindelik het sy skryfvermoë vir hom ʼn werk by die radikale anti-apartheidskoerant New Age besorg. Een van sy eerste gedigte verskyn in dié koerant:

Remember in baton boot and bullet ritual

The bloodhounds of Monster Vorster wrote

SOWETO over the belly of my land

with the indelible blood of infants

So the young are no longer young

Not that they demand a hasty death.

 

In 1961 verlaat hy die land en werk eers in Dar es Salaan, toe in Tanzanië en emigreer later na die VSA. Daar studeer hy onderskeidelik aan die Lincoln University, Pennsylvania University, University of New Hampshire en verwerf ʼn Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns aan die Columbia University. In hierdie tyd publiseer hy sy debuut, Spirits unchained wat besonder goed ontvang word en waarvoor hy bekroon word met die Harlem Cultural Council Poetry Award, asook met die  National Endowment for the Arts Poetry Award. In 1971 verskyn My Name is Afrika wat deur sommige kritici as sy beste werk beskou word. Hierdie bundel vestig hom as een van die bekendste Afro-Amerikaanse digters. The Last Poets, ʼn groep rewolusionêre Afro-Amerikaanse digters se naam is aan ʼn gedig uit dié bundel ontleen. Hy publiseer in die tyd waarin hy in New York klasgee ook akademiese artikels oor Amerikaanse jazz en stig die Black Arts Theatre in Harlem waar hy legendariese status verwerf vir sy dinamiese voorlesings van Afrikaskrywers in downtown klubs. In 1974 stig hy, saam met ander vooraanstaande Afrikaskrywers, onder andere Mazisi Kunene, die African Literature Association.

Kgositsile se oeuvre word gekenmerk deur sy liefde vir jazz, ʼn musiekgenre wat hy beskou as die universele swart stem wat alle swartmense in die diaspora saambind in hulle sug na vryheid. Sigmund Ro haal Kgositsile in ʼn 1985-artikel in ʼn Amerikaanse tydskrif soos volg aan:

There is nothing like art—in the oppressors sense of art. There is only movement. Force. Creative power. The walk of Sophiatown tsotsi or my Harlem brother on Lenox Avenue. Field Hollers. The Blues. A Trane riff. Marvin Gaye or mbaqanga. Anguished happiness. Creative power, in whatever form it is released, moves like the dancers muscles. [sic.]

In New York ontmoet hy verskeie beroemde jazzkunstenaars. Hy dra onder andere een van sy bekende gedigte op aan Johnny Dyani:

 

For Johnny Dyani

When I swim in my music

a harmattan of colours

becomes an area of feeling

where a rainbow of feathers

peoples all space

dancing in my heart

 

Here I do not even know

what flowers pop out of my eye

I move

without even touching air

 

Johnny you take us out there

where we gasp silently

amidst a bombardment of sound

in the spell of the witchdoctor’s son

where I cannot even ponder

how a witch and a doctor paradox

could be one entity

 

Your bass

Johnny pins nothing down. Your bass

rides on wave or height or rock

or depth or crevice of sound

to bathe us in music

 

And we are moved

where we cannot even

hear ourselves gasp

 

In 1975 kry hy ʼn aanstelling as professor by die universiteit in Dar es Salaam (Tanzanië). Daar ontmoet hy sy tweede vrou, Baleka Mbete. Later werk hy ook in Kenia, Botswana en Zambië. In 1990 – die jaar waarin When clouds clear verskyn – kom hy terug na Suid-Afrika waar hy na die 1994-verkiesing Adviseur van die Minister van Kuns en Kultuur word. Hoewel hy tydens die apartheidsregime fel kritiek teen apartheid en die regering uitspreek, is hy nie blind vir die vergrype van die nuwe ANC-regering nie. Tot sy dood sou hy onreg, korrupsie en wanadministrasie ten sterkste veroordeel en persoonlike onderhoude met ministers aanvra ten einde raad, leiding en kritiek te verskaf.

In 1996 word Kgositsile deur die South African Literary Awards (SALA) aangewys as die Suid-Afrikaanse hofdigter (Poet Laureate) en in 2008 word hy vereer met die National Order of Ikhamanga vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur. Tydens dié geleentheid word hy ook geloof vir sy rol in die bekendstelling van Afrikaletterkunde en veral diasporaliteratuur aan die Amerikaanse publiek.

Hoewel sy diasporagedigte, soos die meeste versetliteratuur, soms ongebreidelde woede en sterkbewoorde veroordelings van apartheid bevat wat die kwaliteit van gedigte negatief beïnvloed, is sy poësie na 1990 van ʼn meer gematigde aard, asook beter afgewerk en deurdag. Ek dink byvoorbeeld aan frases soos die volgende uit sy “Random notes to my son”:

Beware, my son, words

that carry the loudnesses

of blind desire also carry

the slime of illusion (…)

 

… today it is fashionable to scream

of pride and beauty as though it were not known that

‘slaves and dead people have no beauty’ (…)

 

… I have

fallen with all the names I am

but the newborn eye, old as

childbirth, must touch the day

that, speaking my language, will

say, today we move, we move?

 

Ontnugtering en sinisme word in later jare kenmerkend van Kgositsile se digterstem. Gematigdheid raak ook al hoe meer deel van sy lewensfilosofie, soos spreek uit sy later digterlike werk, maar veral ook uit sy openbare optredes en sy ander skryfwerk. Hoewel Bra Willie ʼn Amerikaanse kultusfiguur was en veral in downtown New York bekend was tydens sy rewolusionêre fase, word hy in Suid-Afrika onthou as vegter vir menseregte en kenner van Afrikaletterkunde, maar ook vir sy ander bydraes op kulturele gebied. Hoe hoog hy geag is, blyk onder andere uit president Cyril Ramaphosa se huldeblyk na sy dood.

Ek sal hom onthou vir sy wysheid, vir sy menslikheid … en die glimlag wat ek glo hom selfs in die dood nie sou verlaat het nie.

Hamba kahle, Bra Willie.

 

(Hierdie blog is ʼn opsomming van ʼn aantal internetartikels wat na Bra Willie se dood verskyn het.)

Spier Dansende Digtersfees. Keorapetse Kgositsile (1938)

Wednesday, April 6th, 2016

Keorapetse Willie Kgositsile

Keorapetse Kgositsile

“In a situation of oppression, there are no choices beyond didactic writing: either you are a tool of oppression or an instrument of liberation.”

***

Een van die digters wat aan die Spier Dansende Digtersfees op 7 Mei 2016 gaan deelneem, is Suid-Afrika se poet laureate, Keorapetse William Kgositsile wat in 1938 in Johannesburg gebore is. Sy skoolopleiding het hy aan die Matibane High School voltooi. Na sy skoolopleiding was hy werksaam as  verslaggewer by New Age, ‘n publikasie wat ook van sy eerste gedigte gepubliseer het. In 1961, in opdrag van die ANC, ‘n organisasie waarvan hy tóé reeds lid was, verlaat Kgositsile die land. Eers het hy na Dar es Salaam, Tanzanië, gegaan waar hy eers aan die Spearhead magazine verbonde was. In die daaropvolgende jaar is Kgositsile na die VSA waar hy aan verskeie universiteite studeer het. Hy het etlike grade behaal.

In hierdie tye het hy sy eerste digbundel, Spirits Unchained, gepuliseer; ‘n werk wat met die Harlem Cultural Council Poetry Award bekroon is en ook met die National Endowment for the Arts Poetry Award. In 1971, het die bundel, My Name is Afrika, wat sy reputasie as een van Afrika se vernaamste digters sal vestig, verskyn. In 1974 was hy ‘n stigterslid van die African Literature Association. Nadat hy aan verskeie universiteite in Afrika doseer het, keer hy in 1990 terug na Suid-Afrika; dieselfde jaar waartydens sy digbundel When clouds clear verskyn het.

In 2008 is Kgositsile aangewys as  South African Poet Laureate.

Van sy werk is die volgende: This Way I Salute You (2004), If I Could Sing (2002), To the Bitter End (1995), Approaches to Poetry Writing (1994), The Present is a Dangerous Place to Live (1975), When the Clouds Clear (1990), Freeword – with Katiyo, Davis, & Rydstom – (1983), Heartprints (1980), Places and Bloodstains (1976), A Capsule Course in Black Poetry Writing – with Brooks, Madhubuti & Randall – (1975), The Word is Here, ed. (1973), My Name is Africa (1971), For Melba (1971), Spirits Unchained (1969). He is also the author of numerous articles, speeches, and other materials. His poems and essays have appeared in numerous journals including Guerrilla, Journal of Black Poetry, Negro Digest, The New African, Pan African Journal and Urban Review as well as in the anthologies Black Arts, Black Fire, For Malcolm andPoems Now.

By wyse van bekendstelling volg een van sy gedigte hieronder.

***

Random Notes to My Son

Beware, my son, words
that carry the loudnesses
of blind desire also carry
the slime of illusion
dripping like pus from the slave’s battered back
e.g. they speak of black power whose eyes
will not threaten the quick whitening of their own intent
what days will you inherit?
what shadows inhabit your silences?

I have aspired to expression, all these years,
elegant past the most eloquent word. But here now
our tongue dries into maggots as we continue our slimy
death and grin. Except today it is fashionable to scream
of pride and beauty as though it were not known that
‘slaves and dead people have no beauty’

Confusion
in me and around me
confusion. This pain was
not from the past. This pain was
not because we had failed
to understand:
this land is mine
confusion and borrowed fears
it was. We stood like shrubs
shrivelled on this piece of earth
the ground parched and cracked
through the cracks my cry:

And what shapes
in assent and ascent
must people the eye of newborn
determined desire know
no frightened tear ever rolls on
to the elegance of fire. I have
fallen with all the names I am
but the newborn eye, old as
childbirth, must touch the day
that, speaking my language, will
say, today we move, we move ?

© 2002, Keorapetse Kgositsile
Uit: If I Could Sing (Kwela Uitgewers)

Marlies Taljard. “Home is where the music is”

Thursday, November 5th, 2015

Kgositsile

 

This then is the rhythm
and the blues of it
Home is where the music is
(Uit: For Hugh Masekela – Keorapetse Kgositsile)

Min Afrikaanse poësielesers ken die stem van Keorapetse Kgositsile (ook bekend as Bra Willie), wat in 2006 deur die South African Literary Awards aangewys is as Suid-Afrikaanse “hofdigter” (Poet Laureate).

Kgositsile is in 1938 in Mahikeng gebore en het in Johannesburg grootgeword. In 1961 word hy gedwing om in ballingskap te gaan. Eers gaan hy na Dar es Salaam waar ʼn groot aantal ballinge destyds gewoon het en werksaam was en waar die hoofkantoor van die ANC gesetel was. Hier skryf hy ʼn jaar lank vir die radikale tydskrif Spearhead waarna hy na die VSA emigreer. Hy studeeer aan verskeie Amerikaanse universiteite, onder andere Lincoln University in Pennsylvanië, die Universiteit van New Hampshire en die Universiteit van Columbia waar hy in 1971 ʼn Meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns behaal. In dieselfde jaar verskyn sy eerste digbundel, Spirits Unchained wat in die VSA met twee literêre pryse bekroon word en gou daarna verskyn sy belangrikste werk tot op datum, My Name is Afrika. Na die verskyning van dié bundel word hy as een van die invloedrykste Afro-Amerikaase digters beskou. Benewens ʼn doseerpos aan die Universiteit van Columbia, raak Kgositsile ook betrokke by ʼn verskeidenheid kulturele bewegings, onder andere die Uptown Black Arts Movement en die lees en voordrag van sy gedigte in verskeie Downtown klubs. Ten spyte van sy reeds ikoniese status as digter in die VSA, aanvaar hy in 1975 ʼn pos by die Universiteit van Dar es Salaam in Tanzanië waar hy in 1978 in die huwelik tree met die bekende Baleka Mbete, in Suid-Afrika onder meer bekend as Speaker van die Parlement. Gedurende die tyd toe hy uit Suid-Afrika verban was, beklee hy ook doseerposte in ander Afrikalande, soos Kenia en Botswana. Die eerste bundel van hom wat in Suid-Afrika verskyn, is ʼn bloemlesing, When the clouds clear (1990). In Julie 1990 keer Bra Willie terug na Suid-Afrika waar hy sedertdien ʼn groot deel van sy tyd deurbring. Hy gee nog van tyd tot tyd in Amerika klas.
Kgositsile is in die VSA verskeie kere vir sy poëtiese werk bekroon, en in Suid-Afrika het hy reeds die Herman Charles Bosmanprys verower en is hy in 2008 bekroon met die Nasionale Orde van Ikhamanga (silwer) vir sy bydrae ten opsigte van letterkunde en die oopvlek van die booshede van die apartheidsbestel.
Hoewel Kgositsile veral bekend is vir sy skerp bewoorde en kompromielose veroordeling van apartheid, konsentreer ek in hierdie blog op die liriese inslag van sy gedigte en die sterk invloed van jazz en Afrikaritmes op sy werk. Oor kuns – en veral digkuns – laat hy homself soos volg uit:
“There is nothing like art—in the oppressor’s sense of art. There is only movement. Force. Creative power. The walk of Sophiatown tsotsi or my Harlem brother on Lenox Avenue. Field Hollers. The Blues. A Trane riff. Marvin Gaye or mbaqanga. Anguished happiness. Creative power, in whatever form it is released, moves like the dancer’s muscles.”
In sy gedigte is daar sowel die loslit-ritme van jazz as die inkanterende, polsende ritme van Afrika hoorbaar. In sy voorwoord tot die bundel If I could sing (2002), waarin verskeie gedigte oor musiek en opdraggedigte vir bekende musiekikone byeengebring is, skryf Sterling Plumpp dat, wat die kombinasie van politieke aktivisme en digkuns aanbetref, Kgositsile se werk vergelyk kan word met dié van Pablo Neruda, Garcia Lorca, Agostinho Neto en Thomas McGrath. Ek haal doelbewus uitgebreid aan, omdat Plumpp dit regkry om die poëtiese aard van Kgositsile se kuns in een paragraaf trefseker te tipeer:
“Kgositsile’s work is complex: exploring a sense of impending impotence, anger, disgust, commitment, joy, love, metaphysical death, birth, confession, loss and an overriding need to participate concretely in struggles to liberate the land of his birth. These poems are no mere slogans. One might observe that their rhythms alone are both stunning and original; perhaps drawn from the insistence of an inner-ear sensitive to the possibility of utilising music and Setswana to affect poetic lines. These poetic texts are masterfully written evoking a superior orality and aurality (…) This is the work of a poet hearing his own muse and inventing an original expression as medium for the oracle.”
Wat beslis in die bostaande viering van Bra Willie se werk uitstaan, is dat musiek en poësie nie los van mekaar staan nie, dat dit nie – soos die werk van baie politieke aktiviste wat ook gedigte skryf – ʼn kombinasie van swak poësie en goeie politiek is nie, dat die orale kenmerke van Afrikamusiek duidelik gehoor word en – vir my besonder insiggewend – dat sommige van die gedigte, hoewel dit in Engels geskryf is, ʼn duidelike Setswana-klank aan hulle het. As ek reg onthou, het Willie by meer as een geleentheid ʼn skrywer aangehaal wat ʼn diep indruk op hom gemaak het deur te sê dat mens die vreemde taal so moet leer bemeester dat dit soos jou moedertaal klink.
ʼn Gedig waarin sowel die meesleurende ritme van blues en die inkanterende aard van Afrikasang meewerk om ‘n verruklike klankeffek te bewerkstellig, is When the clouds clear, waaruit die volgende aanhaling kom:

What had the ancients observed
when they said of cattle
when I lack it
I have no sleep
when I have it
I still lack sleep
remember only yesterday someone said
something makes you do right
the same thing makes you do wrong
singing about love and happiness

So when we tame this turbulence
it will not be without pain
it will not be without pain
if memory can be witness
and could claim some wisdom
mother used to say
in the crucible of life
it is what you value most
that will cause the most pain

Die gedig, Santamaria, opgedra aan die Afro-Kubaanse drommer Mongo Santamaria, is een van die beste voorbeelde van die legendriese samesmelting van musiek en liriek in Kgositsile se werk, byvoorbeeld deur die nabootsing van die tromme by wyse van die herhalende o-klank en die byna bedwelmende ritme van die vers wat onder andere deur die enjambemente in die lang aaneengeskakelde sinsuitinge verkry word. In ʼn onderhoud met Menza Wali in 2012 sê Kgositsile: “I do my thinking away from writing, so when I sit down to write poetry, I take my solo. I literally approach it like a musician approaches his solo.” In die gedig waaruit ek hier onder aanhaal, hoor ek die saksofoonsolo met sy lang improvisasie wat so eie is aan jazz-musiek:

Santamaria
Is where the vowels dream
in a name among consonants
chasing the crevices of sound
in a ritual longer than the distance
between the shores of the ocean
which cannot expose its hideous memories

Refusing to be blinded by sea water
Mongo is not from the Congo
but on conga or any drum
Mongo gathers all our memories
like the crop of an abundant harvest
from the oracle of his palms
and commands them to the bidding
of the polyrhythmic dance of life

Benewens die groot aantal gedigte wat aan musiekikone opgedra word en deur middel waarvan die digter implisiet na invloede op sy werk verwys, kan kundige lesers ook ʼn hele web van intertekstuele verwysings uit die jazz-domein in sy werk herken – dit is immers ʼn kenmerk van jazz dat improvisasie dikwels geskied op ʼn tema uit ʼn ander komponis se werk.
Dit is nie vir my vreemd dat Kgositsile, wat aanvanklik probeer het om verhale te skryf, nie in dié medium tot uiting kon bring wat hy op die hart gehad het nie, want wanneer ʼn mens sy gedigte lees, is dit duidelik dat hy in ritme en in vloeibare vorme dink. Self erken hy dat hy in bewegende beelde dink en dat dit makliker is om sulke beelde in poësie uit te druk as in prosa. Wat die musikale inslag van sy poësie betref, maak die digter geen onderskeid tussen gedig en musiek nie:
“…the separation between poetry and music is artificial. It was imposed deliberately to serve certain interests. Even today among all our poets in South Africa, you could go into the countryside and run into an oral poet who can recite and recite and seamlessly move into singing and come back. There’s no boundary, there’s no separation. Poetry at its best aspires to be music.”
Hierdie stelling sluit aan by sy insig dat die instrumentalis in jazz nie vooraf komponeer nie: “To me improvisation is composing and playing at the same time.” Dit is myns insiens waar die heerlike vloei in sy gedigte vandaan kom, soos in die gedig For Johnny Dyani:

(…)
Johnny you take us out there
where we gasp silently
amidst a bombardment of sound
in the spell of the witchdoctor’s son
where I cannot even ponder
how a witch and a doctor paradox
could be one entity

Your bass
Johnny pins nothing down. Your bass
rides on wave or height or rock
or depth or crevice of sound
to bathe us in music

And we are moved
where we cannot even
hear ourselves gasp

Kgositsile se poësie kan getipeer word deur wat Julia Kristeva oor die aard van literêre tekste sê, naamlik “… poetic language points to the fact that language cannot live by grammar or syntax or even vocabulary alone, that sensation will leave its indelible stamp …” (Smith 1998:14). Hierdie tipe taalgebruik noem sy semiotiese taalgebruik, in aansluiting by wat deur Lacan as simboliese taalgebruik bestempel word (min of meer vergelykbaar met woordeboekbetekenis van woorde). Semiotiese taalgebruik, soos dit in literêre tekste voorkom, verteenwoordig hoofsaaklik nieverbale, sensoriese betekenis, soos dit ook in musiek voorkom. Die semiotiese aspek van ‘n teks word deur Kristeva gedefinieer as “musical, anterior, enigmatic, mysterious and rhythmic” (Smith 1998:21) en word bewerkstellig deur poëtiese middele soos ritme, rym, alliterasie, onomatopee, toon, timbre, beweging, lag, jouissance, modulasie en woordspel (Lechte 1990:129, 132; Smith 1998:22).
Hiermee wil ek nie voorgee dat Kgositsile se werk deur die lens van Westerse literêre kritiek en beginsels van poëtiese vormgewing gefilter behoort te word nie. Sy werk is nie gebaseer op die Westerse poëtiese tradisie nie, maar Kristeva se definisie van semiotiese taalgebruik sê dalk iéts oor die aard van sy poësie sonder om dit te probeer verklaar.

To move towards
laughter has always been my desire
so here now knowing what
you should do you must do
right now I laugh
moved by the memory
of hate and guns and love
(Uit: Re/Creation)

Bronne
Lechte, John. 1990. Julia Kristeva. New York en Londen: Routledge.
Lechte, John en Margaroni, Maria. 2004. Julia Kristeva: Live theory. Londen en New York: Continuum.
Smith, Anne-Marie. 1998. Julia Kristeva: Speaking the unspeakable. Londen: Pluto Press.

Louis Esterhuizen. Nederland op soek na hul volgende Vaderlandsdigter

Tuesday, December 4th, 2012

In Nederland het hulle nou reeds weer begin met die benoeming van hul volgende Dichter des Vaderlands wat op 31 Januarie 2013 tydens die Gedichtendag-vieringe ingehuldig sal word. Dit sal die vierde Vaderlandsdigter wees.

Met die nuwe aanwysing word daar egter drasties afgewyk van die proses wat aan Ramsey Nasr dié gesogte benoeming sedert 2009 besorg het. Waar die aanwysing vantevore op ‘n volksstemming berus het, is daar volgens die berig op De Contrabas besluit om eerder die kandidaat deur middel van ‘n verteenwoordigende benoemingskomitee te laat aanwys. Dié komitee bestaan uit die Maria Barnas, Arie Boomsma, Arjen Fortuin, Piet Gerbrandy, Kristien Hemmerechts en Mei Li Vos. Hulle sal bygestaan word deur Nasr en ook Bas Kwakman, teenswoordig die direkteur van Poetry International, as onderskeidelik adviseur en sekretaris.

 

Ramsey Nasr

Volgens De Contrabas se berig is die motivering vir dié nuwe benadering soos volg: “Aanleiding om de verkiezing te verruilen voor een benoeming is de sterke ontwikkeling die de functie sinds de introductie in 2000 heeft doorgemaakt. Het Dichterschap des Vaderlands is van ereambt geëvolueerd tot een in het oog springende functie met veel mogelijkheden om een breed publiek enthousiast te maken voor poëzie. De organiserende partners, NRC Handelsblad, Poëzieclub, Koninklijke Bibliotheek, NTR en Poetry International, juichen deze ontwikkeling toe en kiezen in het belang van de poëzie voor een objectieve, goed doordachte en afgewogen benoeming op basis van een vooraf vastgesteld profiel. Ook is de afgelopen jaren gebleken dat het aantal dichters dat bereid is Dichter des Vaderlands te worden veel groter is dan het aantal dichters dat campagne wil voeren of deel wil nemen aan een verkiezing.”

Uiteraard is hierdie ‘n uiters belangrike aanstelling wat met groot omsigtigheid (behoort) hanteer te word. Die posbeskrywing lees soos volg: “De Dichter des Vaderlands is ambassadeur voor de poëzie en initieert als zodanig projecten om kennis en enthousiasme voor de vaderlandse poëzie te bevorderen. Daarnaast wordt de dichter gevraagd zich middels poëzie te verhouden tot actuele (inter)nationale gebeurtenissen, cultureel, politiek, sportief of maatschappelijk van aard.”

Nou ja, toe. Klaarblyklik is daar heelwat digters wat belangstel (en hoop om benoem te word), ten spyte daarvan dat daar geen vergoeding aan verbonde is nie.

 

Keorapetse Kgositsile

Onlangs was ek bevoorreg genoeg om ons eie poet laureate, Keorapetse Kgositsile, te ontmoet; ‘n pos wat hy reeds sedert 2006 vul. Sjarmant en ‘n besonder dinamiese persoon is hy inderdaad, maar of sy pos enigiets te make het met die ontwikkeling van die inheemse digkunste, waanronder die Afrikaanse, is ernstig te betwyfel. 

Nietemin, by wyse van groet die volgende uitspraak deur “Bra Willie” (by gedagte aan ‘n vroeëre blog van Desmond Painter), gevolg deur ‘n gedig van hom: “In a situation of oppression, there are no choices beyond didactic writing: either you are a tool of oppression or an instrument of liberation.”

 

***

Random Notes to My Son

Beware, my son, words
that carry the loudnesses
of blind desire also carry
the slime of illusion
dripping like pus from the slave’s battered back
e.g. they speak of black power whose eyes
will not threaten the quick whitening of their own intent
what days will you inherit?
what shadows inhabit your silences?

I have aspired to expression, all these years,
elegant past the most eloquent word. But here now
our tongue dries into maggots as we continue our slimy
death and grin. Except today it is fashionable to scream
of pride and beauty as though it were not known that
‘slaves and dead people have no beauty’

Confusion
in me and around me
confusion. This pain was
not from the past. This pain was
not because we had failed
to understand:
this land is mine
confusion and borrowed fears
it was. We stood like shrubs
shrivelled on this piece of earth
the ground parched and cracked
through the cracks my cry:

And what shapes
in assent and ascent
must people the eye of newborn
determined desire know
no frightened tear ever rolls on
to the elegance of fire. I have
fallen with all the names I am
but the newborn eye, old as
childbirth, must touch the day
that, speaking my language, will
say, today we move, we move ?

 

© Keorapetse Kgositsile (Uit:  If I Could Sin, 2002: Kwela Uitgewers)