Posts Tagged ‘Kerneels Breytenbach’

PEN Afrikaans Nuusbrief – Wat was jou woord van 2015?

Tuesday, December 8th, 2015

Beste lid van PEN Afrikaans

Dit was ’n onstuimige jaar met die woede van ’n nuwe jong Suid-Afrika wat die aarde van Kaapland tot bo in die Noorde laat dreun het. Die woelinge van 2015 met al sy heftige meningsverskille oor politiek, meertaligheid, dekolonisasie en Afrikaans as onderrigtaal aan universiteite word treffend en soms heel pittig in LitNet se Afrikaanse woord van die jaar-kompetisie weerspieël.

Kerneels Breytenhach, PEN Afrikaans se voorsitter, het “Jakobregop” as sy woord van die jaar aangewys en vir Bettina Wyngaard, ons onder-voorsitter, was dit “hashtag-aktivisme”. Breyten Breytenbach het “Kakiebosch” gekies en vir een van PEN Afrikaans se nuut verkose bestuurslede, Izak de Vries, was dit “banting”. Anzil Kulsen, ook nuut op ons bestuur, het “poenankies” genomineer. Vir Danie Marais was “witheid” die woord wat helaas ’n gevaarlike nuwe polarisering in ons identiteitspolitiek aangedui het. Frederik de Jager het “witgeit” gekies. Athol Fugard het “loop” genomineer, Kirby van der Merwe “ja-nee” en vir Dominique Botha was 2015 ’n “Zunami”.

“Emotikontjies” as verkleinwoord vir die vertaling van “emoticons”, wat onlangs in ’n rubriek deur Wilhelm Jordaan gebruik is, was egter sekerlik die beste meerduidige nuutskepping van 2015 – veral as ’n mens in ag neem dat dit gemaak is met verwysing na die feit dat die “tears of joy”-emotikon aangewys is as Oxford-woordeboeke se woord van die jaar. Oxford se “wenwoord” is ’n veelseggende herinnering aan die wyse waarop gesprek in die internet-era verander het. Dit druk implisiet die spanning uit tussen vereenvoudiging en standaardisering ter wille van globale kommunikasie aan die een kant, en die idiosinkratiese rykdom van meertaligheid en dialekte wat andersyds geskakeerde betekenismoontlikhede en bewussynsverruimende misverstande fasiliteer.

Dit is daarom opvallend en gepas dat verskeie ander skrywers en lesers “studenteprotes” of “taaldebat” gekies het, terwyl “Afrikaans”, onder andere, Pieter-Dirk Uys en Elsabé Brits se woord van die jaar was.

Wanneer dit gaan oor ’n stryd vir of protes teen ’n taal, gaan dit nooit net oor taal as gestandaardiseerde kommunikasiemiddel nie. Geen taal is bloot ’n versameling emotikontjies nie – dis ’n unieke wêreld en meesal ook die lewende, muterende simbool en opgaarplek van ’n geskiedenis. As taal net oor kommunikasie gegaan het, hoekom hoegenaamd jou pyp met die bedwelmende twak van poësie stop of jou kosbare tyd mors met die kollektiewe droomwerk van ’n letterkunde? In die markplek en parlement kan ons mekaar probeer verstaan met die emotikontjies van ’n lingua franca se generiese frases en die halwe waarhede van ideologiese slagspreuke, maar hierdie oorvereenvoudigende woordprentjies sal nooit deug om saam met ons kinders en geliefdes die dieper geheime van die kosmos of die windinge van die hart te verken nie.

Die bestuur van PEN Afrikaans het daarom met verligting kennis geneem van die US-raad se verbintenis tot meertaligheid aan die Universiteit Stellenbosch. (Klik hier vir meer besonderhede omtrent die raadsbesluit.) Ons bedank almal wat vanjaar aan hierdie openbare gesprek deelgeneem en probeer saamdink het aan oplossings wat ’n pluraliteit van taalwêrelde ook in openbare ruimtes wil erken.

Diegene wat waarde heg aan die voortbestaan en groei van Afrikaans en ander inheemse tale binne ’n Suid-Afrika waar die ekonomiese speelruimte tans dramaties aan die krimp is, sal egter moet besef dat kreatiewe oplossings en nie retoriek nie uiteindelik die deurslag sal gee. Die aandring op grondwetlike regte moet met die daadwerklike soeke na en skep van alternatiewe, nuwe taalruimtes gepaard gaan. Die twis rondom Afrikaans op die kampusse van die universiteite in Noordwes, Stellenbosch en die Vrystaat het gewys dat daar nie meer tyd is om te kyk wat gebeur nie. Alliansies en planne moet nóú gesluit en gemaak word.

Dit is dus ’n plesier om te rapporteer dat PEN Afrikaans te midde van al die sosio-politiese storms, die steierende ekonomie en groot nasionale onsekerheid bestendig vooruit geboer het.

Die Page Likes op ons Facebook-bladsy het tussen 1 Februarie en 1 Desember vanjaar op Facebook verdubbel en dus daarmee ook ons invloedsfeer op daardie sosiale media-platform. Ons het meer as 400 volgelinge op Twitter en verlede jaar dié tyd het ons nog nie ’n Twitter-rekening gehad nie. Onder hierdie volgelinge tel ’n groot deel van die PEN International-familie en verskeie invloedryke individue en organisasies in die wêreld van lettere en menseregte.

(Vir verdere inligting oor PEN Afrikaans se bedrywighede vanjaar, sien die verslae van ons voorsitter en bestuurder asook die verslag oor PEN Afrikaanse se bywoning van die PEN International-kongres in Kanada.)

PEN Afrikaans is, met ander woorde, besig om nasionaal en internasionaal die bande te smee wat nodig is vir ’n minderheidstaal en sy skrywers om gehoor te word en in gesprek te tree met mense en groepe wêreldwyd wat met soortgelyke uitdagings en dilemmas stoei.

Ons nooi hiermee ook al ons lede nogmaals hartlik uit om saam te gesels oor moontlikhede om Afrikaanse skryfwerk te bevorder en stimuleer – oral en veral ook onder gemarginaliseerde groepe.

In daardie gees klink ons ’n glas op al die nuwe Afrikaanse boeke wat in November en Desember verskyn het. (Klik hier om die volledige lys in Excel-formaat af te laai.)

Ons lig ook die glas op ’n weerbarstige jong Suid-Afrikaanse uitgewer wat vanjaar mondig geword het. Kwela Books, een van die drukname in die stal van NB-Uitgewers, is in 1994 onder die leiding van dr. Annari van der Merwe geloods.

Die doel met Kwela Books was uit die staanspoor om aan swart skrywers ‘n pubikasietuiste te verskaf. Binne die eerste tien jaar van sy bestaan het dr. Van der Merwe die plaaslike uitgewerswese goed laat kennis neem van haar uitgewery se ratsheid. Onder die name wat binne die eerste dekade deur Kwela uitgegee is, tel Achmat Dangor (Kafka’s Curse en Bitter Fruit), K. Sello Duiker (The Qiet Violence of Dreams), Lewis Nkosi (Underground People) en die bekroonde werk van Rayda Jacobs, Confessions of a Gambler.

Kwela het ook ’n tuiste gebied vir Afrikaanse skrywers. Die groot deurbraak was A.H.M. Scholtz se Vatmaar. Van Scholtz is verskeie ander werke gepubliseer. ’n Ander naam wat deur Kwela bekend gemaak is, is dié van EKM Dido (’n Stringetjie blou krale, Die onsigbares en Rugdraai en stilbly), Loit Sôls, Anchien Troskie, Pat Stamatelos, Odette Schoeman en Karel Benjamin.

Antjie Krog (Kleur kom nooit alleen nie, Met woorde soos met kerse en Die sterre se ‘Tsau’) en Ronelda Kamfer (Noudat slapende honde en Grond/Santekraam) is twee van die toonaangewende digters wat by Kwela ’n tuiste gevind het.

Van der Merwe is opgevolg deur Nèlleke de Jager, wat Van der Merwe se publikasiebeleid voortgesit het, soos ook James Woodhouse en Carin van Houwelingen, De Jager se opvolgers.

Willem Anker, wat in 2007 by Kwela gedebuteer het met Siegfried, het in Kwela se mondigwordingsjaar aan dié druknaam groot luister gebring deur feitlik elke moontlike literêre prys in te palm met sy 2014-roman, Buys. Maar dit was nie die enigste verjaardagjaarseges nie: Nathan Trantraal, wie se opspraakwekkende debuut, Chokers en survivors, eweneens in 2013 by Kwela verskyn het, is vanjaar met die Ingrid Jonker-prys bekroon.

Gesondheid! Op uitgewers en skrywers van alle soorte en ’n vreedsame, boekryke feestyd en Nuwejaar vir julle almal.

Met vriendelike groete
Kerneels Breytenbach (voorsitter) en Danie Marais (bestuurder)

Kerneels Breytenbach. PEN Afrikaans.

Saturday, June 28th, 2014

1.

Ek wil hierdie nuusbrief begin met iets wat my persoonlik raak. Ek het my loopbaan as joernalis in 1976 begin by die Kunsblad van Beeld. Dit is daar waar ek geleer het dat ’n koerant met ’n ordentlike kunsblad ’n koerant met ’n siel is.

Die besluit deur die bestuur van Beeld om dié koerant se Kunsblad te sluit, raak my dus persoonlik, omdat dit die joernalistieke waardes wat ek by Naspers geleer en uitgeleef het, verloën. Dit pluk die hart uit die koerant.

Dit is ’n besluit wat ek as joernalistieke barbaarsheid beskou en een wat, hoop ek, deur die bestuur van Media24 met dieselfde pragmatisme benader sal word as wat hulle aan die dag gelê het met hul misplaaste besluit om Volksblad se nek om te draai en dit deel van Beeld te maak.

Sekerlik sal daar redes aangevoer kan word vir die wegmaak van Beeld se Kunsblad en die verlies van kundige, gerespekteerde kunsjoernaliste. Deur die jare was dit altyd dat die blad nie advertensies lok nie (hoeveel lok die sport- en politieke blaaie?) en dat ’n minderheid van die koerant se lesers dit lees.

Daar word dikwels beweer dat die Kunsblad nie ’n sirkulasiebouer is nie. Seker nie. Maar dit is nie die huidige Kunsblad se inhoud wat Beeld se sirkulasiesyfers geknou het nie.

Die feit is net dat as daar nie ’n Kunsblad is nie, is daar geen rekord van die Afrikaner se kulturele belewenis in Beeld se groot verspreidingsgebied nie. Dit is op daardie bladsye waar mens kan sien wat die intellektuele en kulturele peil is wat Afrikaanse lesers kan nastreef. Dit is deur die Kunsblad wat lesers nie alleen hul eie kultuur sien leef nie, maar ook dié van die ander Suid-Afrikaanse kultuurgroepe.

Die groot prestasie van Beeld se Kunsblad was sedert 1974 die reikwydte van sy dekking, die gehalte van die skryfwerk op daardie blaaie, en die integriteit van sy kunsjoernaliste en medewerkers van die blad. Deur die jare was die Kunsblad – in al sy verskillende gedaantes, ek gebruik “Kunsblad” oorkoepelend  –  ’n vriend en vennoot van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde. Sy sluiting is nie iets wat Afrikaanse skrywers nie kan bekostig nie – dit is een van die min plekke waar ons stemme nog gehoor kan word. Waar ons met en onder mekaar kan gesels. As ’n koerant soos Beeld sy Kunsblad sluit, begin hy swyg oor die dinge wat Afrikaanse skrywers, akteurs en akademici raak. Maak nie saak wat hul politiek is nie.

Dis was nog altyd vir my ’n saak van trots om mede-Suid-Afrikaners te wys op die maniere waarop die kunsblaaie van Beeld, Die Burger en Volksblad die toon aangee en in meeste opsigte strate beter is as dié van hul eweknieë in plaaslike Engelse koerante. Voortaan sal ek maar by voorbaat moet toegee dat Beeld en die Star ewe vaal en voos is.

En dan onvermydelik die volgende vraag: Gaan die Boekeblad die mes van die winsjagters vryspring?

Dit is vir my moeilik om te aanvaar dat die koerant wat my in 1976 bekeer het tot die saak van Afrikaanse kultuurjoernalistiek, nou weinig daarvoor voel. Het Beeld ophou omgee oor Afrikaanse skrywers, dramaturge, toneelspelers, televisiemense, et al?

Tot sover my persoonlike gevoelens. Omdat PEN Afrikaans nie alleen Afrikaanse skrywers verteenwoordig nie, maar ook Afrikaanse joernaliste, dan die volgende:

Ek doen namens PEN Afrikaans ’n beroep op Beeld om sy Kunsblad in ere te herstel en daardeur na die belange van sowel sy lesers as die Afrikaanse kultuurbelewing in sy verspreidingsgebied om te sien.

Ek doen die beroep met inagneming van die feit dat Beeld die laaste plek in die noorde van ons land is waar Afrikaanse kulturele joernalistiek nog aktief bedryf word. Die sluiting van Beeld se Kunsblad is ’n marginalisering van die Afrikaanse kultuur vanuit eie geledere.

Dit gaan nie vir ons oor verandering en die oorlewing van die pers nie. Ons is bewus van die ongekende groei wat vir die Afrikaanse media in die kuberruim moontlik is. Ons is oortuig daarvan dat die Kunsblad daardie groei eerder sal bestendig as vertraag.

Ons doen ’n beroep op Beeld om getrou te bly aan die koerant se strewes met sy vestiging, naamlik om borg te wees vir die sake van die gees – op papier én op sy webwerf.

2.

Die lang gesloer met ons registrasie as nie-winsgewende maatskappy is agter die rug, en vir die eerste keer kan ons aktief begin funksioneer as ’n organisasie wat omsien na die belange van Afrikaanse skrywers.

Met die oog op die onmiddellike toekoms het die bestuur op 22 Junie byeengekom vir ’n dinkskrum. Met Theuns Eloff as fasiliteerder, was dit ’n besonder positiewe wisseling van idees oor hoe PEN Afrikaans nie alleen meer kan beteken vir sy lede nie, maar ook vir die leserspubliek. En as ons praat van leserspubliek, het ons gedink aan sowel diegene wat reeds lank aan die lees van Afrikaanse boeke voorkeur gee, as hulle wat nou op skool is en vir die eerste keer kennis maak met Afrikaanse lektuur.

Hieruit het voortgespruit gedagtes oor moontlike projekte waaraan ons in die volgende weke ernstig navorsing sal doen om te sien waar toepaslike wegspringplekke is.

Ons dink dat PEN Afrikaans veral aandag kan skenk aan gemeenskapsprojekte waardeur skoolbiblioteke ondersteun kan word (én dormante skoolbiblioteke geaktiveer kan word), asook opstelkompetisies; begeleiding van voornemende of nuwe skrywers; skakeling met leeskringe en ’n teenwoordigheid by geleenthede soos Aardklop en die KKNK; ons wil ons beywer vir die groter sigbaarheid en beskikbaarheid van besprekings van Afrikaanse boeke wat gepubliseer word.

Dit is alles nog net voornemens en met die hulp van PEN Afrikaans se bestuur sal ek in die volgende maande werk maak van die praktiese uitvoering van hierdie strategiese denke.

3.

Een van die dinge wat ons reeds geïdentifiseer het, is die probleme wat jong of nuwe skrywers ondervind met hul manuskripte. Te oordeel na die gereeldheid waarmee ek self deur mense gevra word om manuskripte te lees of raad te gee vir publikasie, is so-iets baie noodsaaklik.

‘n Manier moet gevind word om leiding en begeleiding te gee aan die mense wat Afrikaans op hierdie manier lewenskragtig hou. Vir my gevoel sal dit reeds oneindig baie help as ons aan ons lede, en toekomstige lede, gegewens kan gee van die mense wat op ’n professionele en betroubare basis manuskrip-begeleiding kan gee, of kan help om manuskripte gereed te kry vir voorlegging aan uitgewers.

In die jare wat ek aan ’n uitgewery verbonde was, het ons altyd gepraat van die slush pile – die hoop van manuskripte wat ongevraagd voorgelê word vir publikasie. Dit is nie vir uitgewers altyd moontlik om noukeurig aandag te gee aan al daardie manuskripte nie, en tensy hulle mense vra om dit vir hulle te beoordeel, kom dit gewoonlik daarop neer dat iemand die slush pile takel – en as ’n manuskrip nie binne die eerste twintig of wat bladsye die verbeelding van die leser aangryp nie, word dit teruggestuur.

As ’n skrywer gehelp kan word om ’n manuskrip voor te lê wat in sy geheel gelees en beoordeel word, het ons alreeds ver gevorder. PEN Afrikaans wil vir sy lede ’n databasis skep van mense wat manuskripte help ontwikkel. Ons is reeds bewus van verskeie sulke persone. Indien enigiemand sy/haar naam by só ’n databasis wil laat insluit, laat weet my asb. by penfrikaans@gmail.com.

4.

Ek het met die uitgewers van Afrikaanse boeke geskakel oor die bekendmaking van inligting oor alles wat in Afrikaans verskyn. Ek wil elke maand hier ’n lys verskaf van die titels wat in die voorafgaande maand verskyn het.

Enersyds sal dit mense help om by boekwinkels navraag te doen oor titels – en dit te bestel indien die boekwinkels dit nie in voorraad het nie. Of die vingerroete Amazon en Kalahari toe te slaan.

Ondervinding het geleer dat boekliefhebbers nie te kampe het met drempelvrees nie, maar as hulle in boekwinkels kom en nie weet na watter titels hulle moet of kan soek nie, sal leser en boek nooit by mekaar uitkom nie.

Hopelik sal die inligting teen die tyd wat die volgende nuusbrief moet verskyn, begin instroom.

5.

Nog ’n saak wat genoem tydens ons dinkskrum, is die behoefte wat daar by skrywers is om helderheid te kry oor sake rondom die kontrakte wat hulle met uitgewers moet sluit.

Outeurskontrakte was iets waarop ek skerp gefokus het in my tyd by H&R en NB, en ek het geleer dat ’n eenvoudige gesprek dikwels help om groot wrywing uit te skakel.

Ek wil ons lede aanmoedig om my te kontak oor sulke sake. Ek sal help sover ek kan, andersins hulle verwys na kundiges op die gebied van kontrakte. Indien die lede se reaksie dit regverdig, sal ek ondersoek instel na ’n meer formele kanaal.

6.

Ek sal ander sake voortspruitend uit die dinkskrum mettertyd opneem: Gereelde byeenkomste vir lede van PEN Afrikaans; ’n Afrikaanse boekeweek; kortings vir lede by boekwinkels, en so meer. Maar die belangrikste saak sal heel eerste aan die beurt kom.

Die bestuur het besluit om bestuurder aan te stel wat op ’n deurlopende basis kan sorg dat ons projekte glad verloop, omsien na lede en hul navrae, en in die algemeen sorg dat kommunikasie behoorlik geskied na alle kante toe. Die persoon sal gemoeid wees met die werwing van nuwe lede, identifisering van nuwe projekte, die bepaling van die uitvoerbaarheid en die aktivering daarvan. Uiteraard sal die finansies en administrasie van PEN Afrikaans ook onder die bestuurder se verantwoordelikhede tel.

Dit is dringend nodig. Ek sal nog voor die volgende nuusbrief meer besonderhede oor die pos en sy inhoud uitstuur.

Kerneels Breytenbach
Voorsitter

Hoe voel ons lede? Ons hoor graag van julle – per kerende e-pos, of via ons Facebook-blad.

Afrikaanse Skrywersunie: inligting oor die stigtingsvergadering

Tuesday, March 6th, 2012

Ons rig hierdie kennisgewing aan almal wat belangstelling uitgespreek het om by die Afrikaanse Skrywersunie aan te sluit.
Die stigtingsvergadering word op 7 Maart 2012 in die Erfurthuis, Van Ryneveldstraat, Stellenbosch gehou. Dit begin om 7 nm en hou aan so lank as wat nodig is. Die agenda is eenvoudig: Verwelkoming, Stigting van die Afrikaanse Skrywersunie, en verkiesing van die eerste bestuur. Daarna laat ons sake hul gang gaan!

Ons finaliseer tans nog die grondwet, en sal dit ruim voor die vergadering per e-pos aan almal uitstuur.  Ons sal dit waardeer as diegene wat dit sal kan bywoon, ons net per kerende e-pos sal laat weet dat julle kom. Dit sal help met die aanlê van verversings, versnaperinge en lafenis.

Vir verdere inligting kontak Kerneels Breytenbach of Andries Visagie by loods.asu@gmail.com.

Kerneels Breytenbach, Andries Visagie