Posts Tagged ‘Klankmanwoordboom’

Gisela Ullyatt. ‘Ek wil weer jou rooikors breek’: ontworteling in Klankmanwoordboom.

Tuesday, December 15th, 2015

‘Soul searching’. Meyer van Rensburg.

Deel drie van die Meyer van Rensburg-blog het die meganika van klank geëksploreer, deur die klankman/klankmenger/klankoperateur-motief:http://versindaba.co.za/2015/12/13/gisela-ullyatt-wanneer-die-klankman-begin-droom/

Klankmanwoordboom, sy debuutbundel (1983), verweef die wêreld van die klankman, die geskrewe woord, die soeke na die Woord en die boom-motief. Laasgenoemde is uitgestippel aan die hand van die klankboom wat terselfdertyd die Kruis-motief naspeur.

Die jukstaposisie van die kunsmatige omgewing van die klankateljee en die natuur wat neerslag vind in die digter se geboortewêreld, die Noord-Kaap, word tasbaar in die bundel. Deel vier ondersoek die land van herkoms (Suid-Afrika), die kontinent (Afrika) en die harde natuur (droogte, son) word verder verbind met die moedertaal (Afrikaans). Hierdie elemente roep die situasie van die expat op. Alhoewel Meyer eers later na Engeland geëmigreer het, word die bundel ’n profesie van nie net sy eie ontworteling nie, maar ook van duisende ander ontheemdes in die buiteland. Soos R.B. Jurgens tereg opmerk in As almal ver is (228):

You said, ‘I will go to another land, I will go to another sea.
Another city will be found, beter than this …
Kavafis, daardie groot eksponent van die ontwortelde siel.

Die bundelmotto aktiveer die stamboom van die Afrikaanse digkuns met ’n aanhaling uit ’n Peter Blum-gedig:

… Want wat is ons? ’n Boompie
Oop vir enige wind – vir enige meslem
Kerfbaar die bas; maar as die helderheid kom en
Jy dit gee, is daar skyn van lig op
Mense en dinge, hulle lewe is heerlik.

Verder verduidelik Meyer hoe die Blum-aanhaling met Klankmanwoordboom verband hou:

Ek het die lig gesoek in die mens in sy skeppende of digterlike aktiwiteite (veral in die eerste afdeling: Woord), sy behoeftes (esteties, intellektueel, seksueel en emosioneel) en ook in dinge. Dinge wat my omring het by die werk, die tegnologiese wêreld van klank en ook dinge uit my jeug as plaasseun in die Noord-Kaap […] Die Bybel sê: “Aan die begin was die Woord en die Woord was … en dit is waar ek begin het.

Stamboom

Die Klasie wat de waarheid zeggen
en met hogen hout willen schrijf soos ons praet,
die drieman klingel saam ’n passie
(Janfrederik soen sy Martjie)
en langs die suikerbos en rand
vry visvanger ’n rosarum hartjie.

Die toon van die sangers word verhewe,
weemoedig klink tinktinkietaal
uit die haak-en-steek-besluit;
’n Zoeloeland-jandiederik
skop verkeerdom eiers uit,
soek na die alfa en omega
in alles wat hom stuit.

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,
kyk wat die rooi pit bied
en grootoog in die skaduwee,
slaan janblom die ganse gade:

sal ek aanklank vind en saam rinkink
as janfiskaal of luistervink?

Hier enkodeer die digter die Afrikaanse digtradisie met leidrade wat die leser na die verskeie digters lei:
Die ‘Klasie’ is heel moontlik ’n verwysing na F.W. Reitz se gedig ‘Klaas Geswind en syn perd’

F.W. Reitz

F.W. Reitz

Meyer van Rensburg se intensie met hierdie deel van die gedig is egter die volgende:

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Louis Henri Meurant/Klaas Waarzegger

Wikipedia https://af.wikipedia.org/wiki/Klaas_Waarzegger verduidelik Meurant se ‘onbewustelike’ bevordering van Afrikaans. Meyer verduidelik in sy kommentaar op die blog soos volg: “‘Klasie wat die waarheid zeggen’, is ’n verwysing na ‘Klaas Waarzegger’. Klaas Waarzegger (19 Februarie 1811 – 29 Maart 1893) was die skrywersnaam van Louis Henri Meurant. Meurant was in die middel van die 19de eeu ’n drukker, joernalis en ’n onopsetlike bevorderaar van Afrikaans as taal”.

Die verwysing in die gedig na ‘hogen hout’ is voor die hand liggend.

CP Hogenhout

CP Hoogenhout

Die ‘drieman’ is ’n moontlike sinspeling op Louis Leipoldt se Uit drie wêrelddele (1923); hy was skoolarts in Londen, mediese skoolinspekteur in die Transvaal en later kinderarts in Kaapstad.

Louis Leipoldt

Louis Leipoldt

Die spesifieke intensie van die digter met die woord ‘drieman’ sluit egter nog twee digters in: Jan FE Celliers en Totius. Meyer se aanhaling uit JC Kannemeyer lui soos volg en kan ook in die kommentaar-gedeelte op hierdie blog gelees word:

Ek haal J.C. Kannmeyer aan: ‘Daarteenoor publiseer Celliers, Totius en Leipoldt reeds in die eerste tiental jare ná die Anglo-Boereoorlog hulle eerste bundels waarin daar poësie van besondere formaat voorkom. Heelparty Afrikaanse kritici het dan ook na hierdie drie digters as die Driemanskap verwys, ’n ongelukkige term omdat dit assosiasies met die drie Boereleiers (Kruger, Joubert en Pretorius) ná die Eerste Vryheidsoorlog het en omdat dit ’n hegte verband en gesamentlike optrede tussen die drie digters en hul poësie veronderstel wat die inherente verskille in aard en ingesteldheid uit die oog verloor’ (Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur; Academica, Pretoria, 1984).

Jan FE Celliers word opgeroep in ‘Janfrederik soen sy Martjie’, na aanleiding van Martjie (1911).

Jan FE Celliers

Jan FE Celliers

‘en langs die suikerbos en rand/vry visvanger ’n rosarum hartjie’ verwys na AG Visser wat met Suikerbosrand verbind word asook sy gedig, ‘Rosa Rosarum’ (Roos van die Rose).

AG Vsser

AG Visser

‘Die toon van die sangers’ is ’n verwysing na Toon van den Heever.

Toon van den Heever

Toon van den Heever

‘Haak-en-steek-besluit’ dui op Totius se gedig ‘Die Godsbesluit’ (82) terwyl ‘Tinktinkietaal’ na dieselfde digter verwys.

n Jong Totius

n Jong Totius

Jare terug skilder Meyer ‘n skildery wat op Totius se ‘Die wêreld is ons woning nie’ geskoei is:

Meyer van Rensburg.

Meyer van Rensburg.

’n ‘Zoeloeland-jandiederik’ aktiveer DJ Opperman wat in die Dundeese distrik gebore is en ook skoolgegaan het op ander dorpe in KwaZulu-Natal.

Opperman deur Philip Terblanche

Opperman deur Philip Terblanche

’n Piet-my-vrou wyk verder,
weg van die lou geykte lied,
beitel glad deur jaarringe,

Bogenoemde speel in op ‘wyk’: NP van Wyk Louw; ‘weg van die lou’ na sy digter-broer, WEG Louw en ‘beitel’ onder andere na die alombekende NP van Wyk Louw se ‘Die beiteltjie’.

NP van Wyk Louw

NP van Wyk Louw

WEG Louw

WEG Louw

‘Janblom’ is een van die meer ooglopende kodes: ‘n skryfpersona van Breyten Breytenbach.

Breyten Breytenbach

Breyten Breytenbach

In ’n resensie van Klankmanwoordboom skryf E.C. Britz (1983) oor die twee laaste reëls van ‘Stamboom’ soos volg: ‘Die digter vra homself uiteindelik af of hy as ‘janfiskaal’ (d.w.s. die voël wat al die ander opvreet) of as ‘luistervink’ (d.w.s. as blote volgeling van die tradisie) by ons sal ‘aanklank vind’.

Die feit dat die titel van die resensie lui, ‘Treffer in ou styl’, versterk vir die leser die gevoel van die Afrikaanse stamboom van digters; iets wat die taalkwessie by universiteite wat ons tans ondervind reaktiveer. Die kwessie van die literêre kanon kom ook ter sprake: wié is die Afrikaanse kanon en hóé is dit saamgestel in die loop van jare?

In ‘Versteende woord’ (16) word die beeldgebruik verder uitgebrei na die eg Afrikaanse milieu wat skakel met begrippe soos ‘moerland’, en ‘hartland’, alhoewel die bundel nege jaar voor Chris Barnard se roman, Moerland (1992) verskyn. ‘Baaierdland’ mag ook moontlik inspeel op die titel van Opperman se 1956-bundel, Blom en baaierd. Volgens die HAT (2015:71) beteken ‘baaierd’ onder andere ‘(1) ongevormde elemente waaruit die aarde ontwikkel het. (2) verstrengelde massa 2. (fig) warboel; chaos’. Die leser volg die innerlike chaos van die spreker: ‘hart koffiesak’; ‘swart moer’; ‘klipkil hartland’ en ‘bitter baaierdland’. Tog is daardie verlossende aspek van bogenoemde deur die ‘woordsteen’ en die digproses (‘suikerklontjie’; ‘blink kristal’, en ‘reënboog uit prismastreke’).

Herbore uit die lakens nes ’n slang vervel,
spoel ek my hart koffiesak uit
met, kaatsend in my hand,
’n suikerklontjie
uit die swart moer van ’n bitter baaierdland.

Die koue winterlig
verskerf teen die blink kristal
en gister vlam in warm stukke uit.

Jy, klein woordsteen
wat uit die verre suikerveld
oorbly in die asbestrooide grond,
haal baie bitter boeretroos
se dae uit my mond
en reënboog uit die prismastreke
my klipkil hartland oop.

In jou lig
staan ek verwese, teruggevoer,
voor my gesmelte suikerbrug
en my hart vol moer.

Die ‘baaierd’ herinner aan die volgende gedeelte in T.S. Eliot se ‘East Coker'(v:31):

[…] And so each venture
Is a new beginning, a raid on the inarticulate
With shabby equipment always deteriorating
In the general mess of imprecision of feeling,
Undisciplined squads of emotion […]

Talle ander gedigte skakel met die digter se Noord-Kaapse herkoms; die idee van wortelskiet; ook die jukstaposisie wat tussen Engels en Afrikaans geskep word: lank het die digter net Engels gepraat (‘Brits gesoog’), maar terselfdertyd het hy ook in Brits skoolgegaan.

Woordboom 1

Trek uit my woord
’n blokdiagram wat langbeen wys
hoe ek in houtskoolbanke
Engelse woorwaarde prys;
probeer dan stam en soort
bepaal deur analise van die klanke,
dring deur die vlees af na die pit,
die geraamte, wit
bevrees en biltongdroog:
’n Boerskelet wat, Brits gesoog,
op dertig begin wortelskiet
in diederik se roepgebied
(Afrika se wisselende windewyk
waar woorddele soos vrugte pryk).
Daar, tussen rotse aan die rand,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

'Veldfire and aloes' . Meyer van Rensburg.

‘Veldfire and aloes’ . Meyer van Rensburg.

Die doring-motief word verder in die bundel uitgestippel en verleng deur die ‘enkeldoring’ of Acacia-robusta; snoei-metafore; Boer en Brit(s). Totius se ‘Daar het ’n doringboompie/ vlak by die pad gestaan’ (‘Vergewe en Vergeet’:47) word hier gereaktiveer en in ’n nuwe konteks geplaas. Totius se gedig is ook te sien by die Vrouemonument in Bloemfontein. Ter wille van spasie haal ek slegs sekere gedeeltes uit Van Rensburg se gedig aan:

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Acacia Robusta of Enkeldoring.

Boom-Stam-Boom (27)
Vir Lorraine

(i)
Die penwortel vroetel-voel vir watervoeding,
druk dit osmoties na die kroon:
Acacia-robusta of enkeldoring
(soms Engelse doring genoem) vertoon
geel bloeiselballe en beenwit
dorings teen die Noord-Kaaplug:
bied skaduwee waar ek kan sit
maar stamdorings steek my ruweg in die rug.

(ii)
Van Prince Albert tot in Suid-wes
het my oupa met snoeiskêr en mes
bome ge-okuleer […]

(iii)
Maar die weefsels se Boerbloedvlam
groei oor letsels van die Engelse robuuste stam […]

'Piet Painter'. 'n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Piet Painter’. ‘n Skildery wat Meyer van sy pa gemaak het.

‘Bittereinder’ (28) aktiveer die Anglo-Boereoorlog (tog net nié die Suid-Afrikaanse Oorlog nie!) wat weereens die stryd tussen Engels en Afrikaans uitspel. Let op die woord ‘kombuisuitskot’ en ‘gepuurde stam’. Hierdie gedig het ’n profetiese kwaliteit: dink aan duisende expats in die buiteland asook die verdrukking wat Afrikaans tans beleef. Tog neem die gedig ’n positiewe wending, wat dalk ook profeties mag wees: ‘die rebellie se vuur’, die ‘botsels’ en die ‘feniks’:

Uit my heilig-geagte grond
is ek wreed vir ’n ander losgeskeur,
my stam vertrap, my takke afgebeur.
Ek is verdruk, in depressie leeggebloei
en op die vullishoop sal dit boomskraap gaan,
maar stammaak my net voor ek stomp word
sodat ek ’n wortel tot by water kan roer,
sodat ek die rebellie se vuur weer voer
en soos ’n feniks
nuwe vlinderblare en botsels ontvou
om van meet af ’n gepuurde stam
uit kombuisuitskot te bou.

Gedigte soos ‘Snoeityd (30); ‘Noord-Kaap (31), ‘umNgamanzi’ (33) wat die enkeldoring se Zoeloenaam vergestalt en ‘Boom’ (34) is verdere voorbeelde van bogenoemde tematiek.
Die versugting na reën, iets wat die meeste van ons tans ondervind met die knellende droogte, word meesterlik in ‘Noord-Kaap’ uitgebeeld. Ek haal die laaste agt reëls aan:

Dorre Noord-Kaap, in drome
stoot die windpomp jou leivoorare
weer vol blinkende bloedwater-strome
en my hartkeerwal loop oor.
Ek ruik die voor-die-reën-kom-reuk
as die ploeglem deur jou sooie gaan
en ek wil weer jou rooikors breek
en kniediep in jou kluite staan.

'Veldfire and Aloes ii'. Meyer van Rensburg

‘Veldfire and Aloes ii’. Meyer van Rensburg

Laastens haal ek drie van Meyer se meer resente gedigte aan wat in die negentigerjare geskryf is voor hy geëmigreer het. Hy skryf die volgende oor hulle:

Die nuwe Afrikaanse gedigte is saamgevat in ‘n bundel met die naam Motsa wat uittog of eksodus beteken. (Ek wou dit eers ‘Ek sȇ dus:’Eksodus’ genoem het). Dit was geskryf voordat ek seker was dat ek oorsee sou kom, maar dit gaan juis daaroor. Dit het ook drie gedeelte : Eksodus (wat die geskiedenis van die Eksodus van toepassing maak op al die mense wat uit SA emigreer); ‘Uitspraak’ (wat weer met klank te doen het, maar die keer gaan dit oor ‘spraak’ en nie oor ‘hoor’ nie); en dan, laastens, ‘Uitgang’, wat weer terugkeer na die uitgang van mense uit SA uit.

Aftrede

Hy dink sy oudag in

bou ’n pensioenpensie op
sodat hy kan aftree daar agter
met jakopeweroë t’rug kan sit

om binnevet te eet
mooi bakvissies te beloer
wat oor die duine manna
en kwartel saans
die sardiens loop wulps in Durban
lê ka(a)lbas(sies) in die sand.

*

Eks. 18:5
‘Jetro, Moses se skoonpa, het met Moses se seuns en vrou
na hom toe gegaan waar hy kamp opgeslaan het’.

Na ’n lang stryd van lei
en stryd van haar met my

oor besnydenis en bloed
wat maande lankal woed

om middernag terwyl sy slaap
met my wat tussen bid en gaap

my omdraai om ’n nuwe lê te lê
(so baie antwoorde wil ek nog hê)

vat ek die punte van haar liggaam raak
en wonder oor U haar so anders maak.

*
Trek uit my woord

..
..
uit
hierdie
klein vertrek
moet woordwys
’n duister volk
verhuis

trek uit my woord
my kleinvolk
…gekopuleerde klinkers van my klankbord…
uit taai tradisieklou
wat verstaal
vas wil hou

trek uit
my Woord
hang
vasgehamer
hale oor
kaal blaaie
uitge(s)trek
want die
Groot Vertrek
verlang
dit so
..
..
.

Noord-Kaapse rooigrondpad

Noord-Kaapse rooigrondpad

My hartlike dank aan Meyer van Rensburg wat soveel materiaal (resensies, analise, foto’s, en so meer) aan my beskikbaar gestel en aan my toevertrou het. Mag die Woordman van die Noord-Kaap weer in Afrikaans begin droom.
En my ewige dank aan my digmentor wat Klankmanwoordboom vir my gestuur het.

Bibliografie
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Deel 1. Kaapstad: Tafelberg.
Britz, E.C. (1983). ‘Klankmanwoordboom. Treffer in ou styl’. Die Vaderland, 22 Desember 1983, 12.
Eliot. T.S. (1972). Four Quartets. Londen: Faber.
Handboek van die Arikaanse Taal. (2015). Kaapstad: Pearson.
Marais, D. (ed). 2009. As almal ver is. Suid-Afrikaners skryf huis toe. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. (ed). 1990. Senior Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.
Van Rensburg, M. (1983). Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Gisela Ullyatt. Wanneer die Klankman begin droom.

Sunday, December 13th, 2015

recording studio

Deel een en twee van die vierluik oor Meyer van Rensburg, wat in 1983 met Klankmanwoordboom
debuteer, het op die herbekendstelling van die digter gesentreer:

http://versindaba.co.za/2015/09/11/gisela-ullyatt-wat-het-van-meyer-van-rensburg-geword/

http://versindaba.co.za/2015/09/16/gisela-ullyatt-meyer-van-rensburg-foto-album-en-enkele-gedigte-2/

Deel drie poog om die ‘klank’-gedeelte van die bundel van naderby te beskou en vir die leser ’n paar klankingenieursterme te ontsluit. Hierdie terme/beelde word sentrale metafore in die bundel wat met temas soos byvoorbeeld die soeke na God skakel. Die sinne wat in kursief aangehaal word, is Meyer se verbatim woorde, soos verskyn in ons e-pos kommunikasie.

Vanweë my uiters beperkte kennis van klankmeganika en klanktoerusting, moes ek allereers by Meyer kersopsteek. Uiteraard het die wêreld van die klankoperateur/-ingenieur in so ’n mate verander vandat die bundel verskyn het, dat bandmasjiene, byvoorbeeld, in onbruik verval het. Die digitale era het die klankateljee radikaal verander.

Die volgende twee gedigte is voorbeelde van hoe die digter ‘klank’ met die ‘boom’ verweef;
“Klankboom” (43) sluit aan by die program-gedig, “Woordboom 1” se laaste ses reëls:

Daar, tussen rotse aan die rand,
verstaal in ’n kilohertzland,
begin desibels Boerwees die doring dryf
om meters klank neer te skryf:
klink en kopuleer nou hier en daar
die klankboomwortels aanmekaar.

Klankboom

Die chroomboom is driewiel
vol katrolle
met net een dwarstak
wat met teenwig-vrugte plankwip
of teleskopeer

’n woordboom
wat die verskil maak
tussen verwringing
of hoë klankgetrouheid
kwaad of goed
my boom van kennis.

Soos reeds verduidelik in Blog 1, was Meyer werksaam as onder andere klankmenger/-operateur by die destydse SAUK. Later jare is hy werksaam (15 jaar) by Radio Kansel. Die ‘klankboom’ verwys na die chroom- of staalboom wat deur middel van katrolle beheer word. Hierdie ‘boom’ word byvoorbeeld in televisieopnames aangetref. Dus word woorde of musiek so ‘klinkklaar as moontlik vas[ge]lê’. Sodoende word ‘die eggo’ uitgesluit. Klank word ‘deur die klankmengbak [mixing desk] na die opnamemasjien gelei’. Voor dit na die opnamemasjien gelei word, kloof, ondersoek en rangskik die klankmenger die klank.

Klankboom met mikrofoon.

Klankboom met mikrofoon.

Volgens die digter verwys die ‘dwarstak’ wat by die klankboom gevind word, direk na die simbool van die Kruis, wat terselfdertyd terugspeel na Genesis se Boom van Kennis van Goed en Kwaad. Hierdie boom/kruis help die gelowige om tussen ‘verwringing’ of ‘hoë klankgetrouheid’ te onderskei en die regte keuses te maak.

Klankboom as 'dwarstak' en kruis.

Klankboom as ‘dwarstak’ en kruis.

Nog ’n betekenismoontlikheid ten opsigte van die ‘boom’ is die Kosmiese Boom (of Boom van die Wêreld) van ander wêreldfilosofieë soos die Kabbala, en die Noorse kosmologie. Die Boom van die Lewe is ’n motief wat neerslag vind in verskeie teologieë, mitologieë en filosofieë. Enersyds word die Boom van Kennis verbind met die hemel en onderwêreld, andersyds, word die Boom van die Lewe die simbool van kosmiese interkonneksie. Daar is dus, soos met die kruis, ’n horisontale asook vertikale dimensie:

World tree, is also called ‘cosmic tree’, the centre of the world, a widespread motive in many myths and folktales among various preliterate peoples, especially in Asia, Australia, and North America, by which they understand the human and profane condition in relation to the divine and sacred realm. Two main forms are known and both employ the notion of the world tree as centre. In the one, the tree is the vertical centre binding together heaven and earth; in the other, the tree is the source of life at the horizontal centre of the earth (Encyclopaedia Britannica online [World Tree]).

Boom van die Lewe

Keltiese ontwerp van die Boom van die Lewe.

Meesterbandmasjien: Drie-in-een (52)

Drie koppe waar die band oorspeel
kan magneties
klein deeltjies met nuwe lewe bedeel
en dit dan luid as toonbeeld weergee
of die opname vir ewig uitvee.

Die destydse bandmasjien bestaan uit drie koppe (heads). Tydens ’n opname word alles wat tevore op die band was deur die eerste kop uitgevee. Die tweede kop neem nuwe klanke op en die speel die nuwe opname terug. Die ‘Drie-in-een’ aktiveer ook die Christelike konsep van die Drie-Eenheid, iets wat persoonlike resonansie vir die digter het. Hy skryf só hieroor: ‘’n Mens se vorige lewe word vir ewig uitgevee as jy weergebore word en dan word jou gees met nuwe lewe bedeel. Hierdie nuwe lewe behoort as voorbeeld vir ander te dien’.

Bandmasjien met drie koppe/'heads'.

Bandmasjien met drie koppe/’heads’.

Slagwerk (42)

Ek sny die ritme op in stukke,
rantsoeneer dit streng:
perkussie, bas of tromme
lewer maer of vet en ronde note,
maar net soveel per maat;
druk die snaar vas, slaan die trommelvel,
laat dit in my kopstukke dreun,
in my oordromme,
pynig, maar nie te veel nie,
moenie oordaad pleeg nie:
die balans moet tref.

Hierdie gedig verwys na die ritme-afdeling van ’n orkes wat die klankman moet balanseer. Terselfdertyd het die titel ook ’n ander betekenis: die slag van diere wat gekoppel word aan beelde in die bundel soos die janfiskaal wat in blog 4 geëksploreer sal word. Metafories vervul die klankman dus die rol van die slagter (of selfs chirurg): die klank word gedissekteer en opgesny:

In die ateljee kry elke trom, simbaal en ander ritme-instrument sy eie mikrofoon en ek poog om elkeen se klank so suiwer as moontlik te hou sodat ek met elke klank apart kan werk om dit te vereffen of te begrens. Die effenaar (‘equaliser’) kan die klank se gehalte heeltemal verander deur die hoër, middel of laer frekwensies óf te aksentueer óf sagter te maak óf heeltemal te sny (‘tops’ en ‘bass’). Die bastrom (‘bass drum’) of snaartrom (‘snare drum’) of ‘hi-hat’ [‘cymbals’] kan dus individueel vereffen word. Hiermee word die klank gesuiwer, want een instrument ‘lek’ nie oor na ’n ander nie: [aldus die] ‘maer’, ‘vet’, ‘ronde’ note.

Hi-hats simbale

Hi-hats simbale

Die vereffening en begrensing kan op twee vlakke beskou word: vanuit die Christelike etos is God die Groot Klankman wat die ritmes van die mens begrens of verruim om balans, veral op geestelike vlak te voorsien. Die mens as individu, soos gesien vanuit ’n Jungiaanse perspektief vind hierdie balans deur onder andere die ‘vereffening’ van sy/haar anima en animus, ’n individuele reis wat na individuasie lei.

Voorts kan gedigte soos ‘Klankfiskaal’ (46); ‘Operateur’, (47) en ‘Klankmenger’ (48) ook gelees word as die goddelike wat balans in die individu skep. Laasgenoemde gedig utiliseer die wêreld van die klankateljee deur optimaal met die dubbelsinnigheid van klank en betekenis te werk te gaan: (‘Groot Geheul’) en ‘bi(e)d’. ‘Hangstokmikrofoon’ dui byvoorbeeld nie slegs op die klankapparaat nie, maar ontgin ook die fallosentrisme van die klankman en sy wêreld van manlike (of selfs goddelike) beheer (‘wees gehoorsaam’; ‘klankwettig’ en ‘finale meng’):

(i)
Dis jou taak
om klank te kloof,

dit onder jou vingers aan te voel,
party splinters vas te druk,
saam te pers,
dikker te maak,
te laat uitbot
en nader te bring;

terselfdertyd
(rooi pynkrete van ’n viool of sanger)
herhaalde kere te laat weerklink;
die eggo’s te lei
deur verskeie kanale
en dan al die klein strome
van die helder lewe

te laat saamloop
en te meng
tot een Groot Geheul.

(ii)

Maar hier, god luisterryk,
wys ek my hangstokmikrofoon
na willekeur,
regeer klankwettig
en besluit verhewe
wie se klank weerklank sal word:

wees gehoorsaam,
bi(e)d jou woorde weer en weer,
miskien sal jou stem
met die finale meng
my luidspreker sag laat vibreer.

Insgelyks word die woordspel voortgesit in ‘Begrens’ (51) waarin die digter die gesegde ‘stoksielalleen’ letterlik begrens of besnoei deur die ‘siel’ uit te laat. Ook word die idioom ‘hoog in die takke’ se betekenis verruim deur dit in een versreël te isoleer, met ‘takke’ in die eindposisie, wat terugspeel na ‘boom’ en ‘dwarstak’. ‘Deur die blare’ en ‘draadloos’ word ook vernuwend gebruik. ‘Die klankryke dop’ word ook veelvoudig aangewend: dit kan na ’n eierdop verwys maar kan ook inspeel op die woord ‘dophou’:

Waar ek graag god wil speel
sit ek stokalleen
hoog in die takke,
’n waterfiskaal oor die stroom.

Ek hou deur die blare die klankryke dop:
kanale hol my klankbord leeg
en dol jaag ek aan,
probeer myself deur die klankgrens kry,
wil draadloos wees,
maar ek word klankdig afgesny.

Die begrenser of ‘compressor’ word gebruik om ‘die klankpeil te handhaaf sodat dit nie te hoog op die klankmeter sal gaan en verwringing veroorsaak nie’.

Begrenser

Begrenser/’compressor’, oud-modiese styl.

Laastens sluit ‘Solusklankman’ (60) aan by die klank-tematiek wat regdeur bespreek is. ‘Solus’ is die Latynse oorsprong van die Italiaanse ‘solo’. Meyer kontekstualiseer die gedig soos volg: ‘ek het opnames gemaak wat baie populêr geword het en wat ’n mens oral kon hoor, totdat dit my byna mal gemak het. ‘Gruesome’ verwys hier na ‘Gruesome Gresh’: David Gresham wat die Top 20 aangebied het. My harde werk is suksesvol op aarde, maar is dit ’n seën of ’n vloek?’:

Ek wil niemand my beste opnames laat hoor nie
ek wil elke desibel bêre
in ’n nes van stilte iewers
soos ’n hand vol weglê-eiers

anders word dit
middelpuntvliedend gedruk
en alles klink vals
in donkerige speelhole geskend
jillend luid oor lawaaisprekers geskree
(van te klein tot te groot)

om te klim
tot bo-aan die gruesome tref-en-trap-parade

dan word dit subtieler lugbesoedeling
want elke nuwe restourant
hyser
of
hipermark
het verwringend agtergrond nodig

music to buy the better by
music the better to buy by

totdat ek
my oorskulpe soos krimpvarkies
probeer oprol
en probeer uitvlug
uit die weergalmende gange van die binne-oor
en beenderige vingers
brein en bandmasjien
vervloek

oor die seën
wat hulle oor dié land uitgespreek het.

En óórverdowend is die lewe wel. Tog kan ‘middelpuntvliedend’ ook die stil middelpunt van die Al word, in elkeen van ons:

At the still point of the turning world. Neither flesh nor
fleshless;
Neither from nor towards; at the still point, there the dance
is,
But neither arrest nor movement. And do not call it fixity,
Where past. And future are gathered. Neither movement
from nor towards,
Neither ascent nor decline. Except for the point, the still
point […]

-T.S. Eliot, ‘Burnt Norton, ii’, Four Quartets (15)

Gettyimages.in

Deel vier van Klankmanwoordboom eksploreer die digter se ontworteling van die Afrika-kontinent deur onder andere motiewe soos die janfiskaal, stamboom, Afrikaans en geboortegrond. Drie meer resente gedigte van Meyer sal ook geplaas word.

Bibliografie

Eliot, T.S. (1972).Four Quartets. Londen: Faber.
Encylopaedia Britannica Online [Worldtree]. (Besoek: 10/12/2015).
Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.

Gisela Ullyatt. Meyer van Rensburg: Foto-album en enkele gedigte.

Wednesday, September 16th, 2015

catcher

Blog een, http://versindaba.co.za/2015/09/11/gisela-ullyatt-wat-het-van-meyer-van-rensburg-geword/ het Meyer van Rensburg, digter van die debuutbundel, Klankmanwoordboom, aan die leser herbekendgestel. Blog twee integreer foto’s uit Meyer se jeug, klankman-dae en van sy lewe in Engeland, waar hy sedert 2004 saam met sy vrou, Lorraine, woon. Enkele gedigte vergesel sommige van die foto’s.

Meyer se ouers saam met die oudste twee van sewe kinders [circa 1932].

Meyer se ouers saam met die oudste twee van sewe kinders [circa 1932].

PA (1983:29)

By jou lees het ek geleer:
dikvellig teen die seer
net voor die groot vertrek,
lees jy oor looityd en die weer.

Meyer (middel) in die Noord-Kaapse koringlande saam met ma, Judith; jonger sussie Miems en ouer boetie Theunis. Voor: bure se kleinseun, Frikkie [circa 1953].

Meyer (middel) in die Noord-Kaapse koringlande saam met ma, Judith; jonger sussie Miems en ouer boetie Theunis. Voor: bure se kleinseun, Frikkie [circa 1953].

Steeds lief vir die koringlande van sy kinderdae: Meyer se skildery, 'Wheatfield and Poppies'.

Steeds lief vir die koringlande van sy kinderdae: Meyer se skildery, ‘Wheatfield and Poppies’.

 

NOORD-KAAP (1983:31)

Ek het jou iewers in my jeug verloor
maar in my drie-en-dertigste jaar
keer ek terug op my kaalvoetspoor.
Ek sien by my vliegtuigvenster uit
hoe wintergras geel oor vlaktes woel
en ek klim weer in Ganspan se populiere
met ’n seun se avonturier-gevoel.
Uit die toppe laat die koringsee
met ’n walmende dorsvloerwasem
my in die koue ysdun lug
snik-snak na my stadsjapie-asem.
Dorre Noord-Kaap, in drome
stoot die windpomp jou leivoorare
weer vol blinkende bloedwater-strome
en my hartkeerwal loop oor.
Ek ruik die voor-die-reën-kom-reuk
as die ploeglem deur jou sooie gaan
en ek wil weer jou rooikors breek
en kniediep in jou kluite staan.

Skoolkind Meyer. Circa 1954.

Skoolkind Meyer. Circa 1954.

 

 

Meyer (voor) saam met Dave Simpson in Ateljee 3A [1967].

Meyer (voor) saam met Dave Simpson in Ateljee 3A [1967].

ELEGIE VIR DAVE SIMPSON (1983:61)
en, in mindere mate, vir Bill Evans (met apologie)

Musiek (jou hande is nie meer hier om dit te maak nie)
breek nog teen my ore, skud my
en ek voel weer stil voor jou:

’n skugter glimlag hardloop oor jou gesig
waar jy ivoor vooroor gebuig sit oor jou skaduwee
op die klavier se grynsende kunstande;
jou prooi wat bewe onder die aanraking van jou hande
en dan tot spinnerakdruppels kondenseer,
in sparse note kristalliseer.
Jy maak jou oë in meditering toe
om daardeur beter jouself te sien.

Nou ken jy die houplek van die dier
wat dwars en kruis in jou gebeente sing
tot jou vingerpunte hom ad hoc moet jag
en in die net van nootpatrone kry.

Ons ander volg, kruipstil gehore,
op die merke van sy haastige hoewe
en jou netjiese impromptu spore,
maar ons vind net die oorblywende fossiele in donker groewe
wat die naald spiespunt laat beef
en julle óór en weer uitlewer.

Aan’t skilder. Meyer saam met dogter, Jacqui in 1975.

Aan’t skilder. Meyer saam met dogter, Jacqui, in 1975.

 

 

Digter, denkend. 1972.

Digter, denkend. 1972.

 

 

Meyer (voor, derde van links) gedurende sy televisieklankman-dae. Die bekende Amerikaanse sanger, Rod McKuen sit regs van hom [circa 1977].

Meyer (voor, derde van links) gedurende sy televisieklankman-dae. Die bekende Amerikaanse sanger, Rod McKuen, sit regs van hom [circa 1977].

"Beeld van ’n Jeug: Duif en Perd" [1978]. Olieverfskildery wat op NP van Wyk Louw se gelyknamige gedig geskoei is.

“Beeld van ’n Jeug: Duif en Perd” [1978]. Olieverfskildery wat op NP van Wyk Louw se gelyknamige gedig geskoei is.

Beeld van ’n jeug: duif en perd

NP van Wyk Louw

Ons agterplaas die flikker van die son
en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;
waar agter in die donker die swart hings
ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif […]

Meyer word verskeie kere vir ’n Artes benoem vir sy uitstaande TV-ateljeeklankwerk.

Meyer word verskeie kere vir ’n Artes benoem vir sy uitstaande TV-ateljeeklankwerk.

 

TV-KLEURE (1983:63)

Al langs die stofpad is spikkel en wit
kosmoskwaste uitgeskud:
groen lowerplante teen die blou
waar rooigrond nuwe lewe broeikas hou.

As ek klankmankleure verf
oor ’n lensbedekte werf
word die tweetoringstad verbete gestook
dat beeldwoorde die eter inrook

Die film van die sonprojektor loop uit
as sonbesiestasies een vir een sluit
en die klap flip-flap in die rondte.
Die prentjie word uiteindelik verblindend wit;
dan word die krag gitswart afgesit.

 

South London Christian College: Meyer, vyfde van regs as akademiese dekaan in 2006 tydens ’n gradeplegtigheid.

South London Christian College: Meyer, vyfde van regs as akademiese dekaan in 2006 tydens ’n gradeplegtigheid.

 

 

Aan’t klas gee in Pole, saam met ’n tolk.

Aan’t klas gee in Pole, saam met ’n tolk.

 

 

Meyer se sesde teologiese boek wat in 2014 verskyn het. Hy en sy dogter, Jessi-Nicole, ontwerp self die omslae vir sy boeke.

Meyer se sesde geestelike boek wat in 2014 verskyn het. Hy en sy dogter, Jessi-Nicole, ontwerp self die omslae vir sy boeke.

 

 

Meyer hou daarvan om gereeld in Westwood, wat naby hulle huis is, te gaan stap [2013].

Meyer hou daarvan om gereeld in Westwood, wat naby hulle huis is, te gaan stap [2013].

Meyer se vyf rose: dogters (v.l.n.r.) Kelly-Gene; Meggan; Jacqui; Kim; en Jessi-Nicole [Kersfees 2001].

Meyer se vyf rose: dogters (v.l.n.r.) Kelly-Gene; Meggan; Jacqui; Kim; en Jessi-Nicole [Kersfees 2001].

Meyer, saam met Lorraine, sy vrou, en kleinseun Logan, in Londen met St. Paul's Cathedral in die agtergrond [2014].

Meyer, saam met Lorraine, sy vrou, en kleinseun Logan, in Londen met St. Paul’s Cathedral in die agtergrond [2014].

"Island Refuge". 2013.

“Island Refuge”. 2013.

 

 

Chinese wegneemete met die Teems in die agtergrond.

Chinese wegneemete met die Teems in die agtergrond.

 

 

Meyer en Lorraine is lief vir die see en besoek gereeld oor naweke die strand [2014].

Meyer en Lorraine is lief vir die see en besoek gereeld oor naweke die strand [2014].

Kopiereg © 2015 Meyer van Rensburg (Privaatversameling).

Lesers kan ook die volgende skakels volg:
Meyer se boeke:
https://www.facebook.com/Author-Meyer-van-Rensburg-794488023935746/timeline/
Meyer se skilderkuns :
https://www.facebook.com/artistmeyervr/photos_stream

Hou Versindaba dop vir Blog drie oor die resepsie van Meyer se debuut deur kritici in 1983; enkele temas in die bundel en ‘n paar ongepubliseerde gedigte.

Bibliografie
Brink, A.P (ed). 2008. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg, Deel 1, 165.
Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom.

Gisela Ullyatt. Wat het van Meyer van Rensburg geword?

Friday, September 11th, 2015

2015-09-11 18 12 26_resized

’n Paar weke gelede ontvang ek ’n besonderse retro-geskenk in die pos van my dig-mentor: ’n kopie van die 1983-debuutbundel, Klankmanwoordboom, deur Meyer van Rensburg. Jare gelede het ek reeds na hierdie bundel begin soek, maar hierdie soeker kon niks vind nie: tóé jare reeds uit druk.

Ook werp ’n soektog op die internet oor beide bundel en digter geen vrugte af nie. Ek kon nóg resensies nóg biografiese inligting vind. Die Groot Verseboek (Junior in Geel (1989); Senior in Kakie-groen (1990) en Die Dikke in Moerbeirooi (1990) asook die geblikte uitgawe van 2008 sluit geen Meyer van Rensburg-gedigte in nie. Helaas, ook nie Poskaarte, saamgestel deur Ronél Foster en Louise Viljoen nie. Die Senior Verseboek se 1991-uitgawe het wel twee gedigte opgeneem: ‘Drieankerbaai, 19 Julie 1965’ en ‘Klankmenger’ (243-244). Versjoernaal (2008) het ook ’n kort bespreking van die ‘Drieankerbaai’-gedig en ’n kort biografie. Andersins is daar weinig beskikbaar.

Wát het van Meyer van Rensburg geword?

Hy bevind homself weliswaar in die land van die lewendes en kon ek met hom op facebook en later per e-pos kommunikeer. Ek sien myself as besonder geseënd met al die inligting, materiaal en foto’s wat ek van hom ontvang het, in ’n baie kort bestek van tyd.

Om die leser dus bekend te stel aan Meyer (of herbekendstel), stippel ek allereers sy biografiese besonderhede uit wat op ’n e-posonderhoud wat ek met hom gevoer het, gebaseer is.

FB_IMG_1441984186209

Meyer is op 4 Julie 1944 te Upington gebore, maar het op ses-jarige ouderdom saam met sy gesin na Warrenton  verhuis (tot aan die einde van sy standerd sewe-jaar/graad nege). Hy was ook altyd die ‘baba’ in sy skoolklasse omdat hy Sub-A oorgeslaan het. Sy pa is ‘n boorling van Ceres en Meyer het dus van kleintyd af kennis gemaak met die plant en snoei van vrugtebome. Hierdie kennis ontkiem en bot jare later in Klankmanwoordboom wat onder meer snoeityd en okkulasie as beeld en metafoor ontgin.

Na sy pa se afsterwe verhuis hy en sy gesin na Brits waar hy matrikuleer. In 1962 sluit hy by die SAUK as klankkontroleur in die ou gebou in Commissionerstraat aan. Later is hy werksaam by Springbokradio-ateljee. Hier sluit sy “pligte” (tans sekerlik genoem die gewraakte ‘Key Performance Areas’) die volgende in: om al die plate, bande en spots (kommersiële boodskappe) teen die korrekte spoed en op die regte plek te speel. Hierdie ondervinding het hom later handig te pas gekom: nie net in die musiekbedryf nie, maar ook in sy debuutbundel.

Rondom 1966 word hy ’n musiekopname-ingenieur en is hy betrokke by opnames van jazz en ‘ligte musiek’ wat ook Boeremusiek insluit (in Ateljee 3A). Die volgende gedig, ‘Konsertinaspeler’ (1983:42), word ook in Gerrit Komrij se 1001 Afrikaanse gedigte (1999) opgeneem. Die gedig is op die konsertinaspeler, Nic Potgieter geskoei:

Kop omhoog, met oë toegeknyp,
soek hy knoppies soos ’n blinde
toe sy vingers verruklik
in ’n heel ander wêreld sing.
In die lig
van sy blaasbalk se vuur
sien hy, weggevoer
na sy eie stukkie hemel,
hoe kras die terugkeer
na ’n agterplaas vol varkvoer,
tussen semels.

In 1972 aanvaar Meyer ’n pos by R.P.M.-ateljees wat sy ‘ruk-en-rol-dae’ inlui. Alle bekende Top 20-musikante van Suid-Afrika het hier opgeneem. Hy verwerf bekendheid met sy opnames van die orkesleier, (kommersiële musiek met big band-instrumente) Dan Hill. Hy werk ook saam met John “Mutt” Lange wat later wêreldbekend word vir sy werk met veral AC/DC. Verder werk Meyer ook saam met 4 Jacks & A Jill (met Glenys Lynne); Lionel Peterson, Richard Jon Smith, Jonathan Butler en vele meer.

Meyer saam met die jazz-musikant/orkesleier, Dan Hill.

Meyer saam met die jazz-saksofoonspeler, Bez Martin, circa 1972.

Meyer word ook ’n bekende liedskrywer (hy verpes die woord ‘liedjie’). As musiekopname-ingenieur het hy gedurende die vroeë sewentigjare ’n paar Afrikaanse kunstenaars opgeneem, maar nié die swak lirieke waardeer nie. Dan Hill daag hom toe uit: skryf jý dan beter lirieke vir ons. Bekende lirieke volg: Ramaja; My hart het ’n kleine venster, Haai Casanova (vertolk deur Glenys Lynne/4 Jacks & a Jill) en veel meer. Meyer ontmoet ook sy vrou, Lorraine (Lainie) deur hierdie gemeenskaplike sfeer; sy was betrokke by musiek-publikasie. Hulle is vanjaar 37 jaar getroud.

Die skryf van lirieke was ’n belangrike leerskool vir Meyer wat algaande meer in die digkuns begin belangstel. Hy word groot in ’n huis waar boeke hooggeag word, veral deur sy pa, wie as vyftien- en sestienjarige in die Anglo-Boereoorlog geveg het. Meyer se pa was ’n tolk/vertaler vir die Hof in die destydse Suidwes-Afrika en was vele tale magtig: Afrikaans, Nederlands, Duits, Swahili, Koi-koi (toe bekend as Boesman).

Hy skryf sy eerste gedig “nadat ek ’n bundel van Ingrid Jonker se gedigte gelees het en, terwyl ek gestaan en wag het om te betaal in ’n parkeergarage, het die eerste paar reëls van die gedig wat aan haar opgedra is by my opgekom. Daarna het ek ernstig begin skryf’. Die gedig waarna hy verwys, ‘Drieankerbaai, 19 Julie 1965’, is ook ’n gedig wat positief deur resensente ontvang is: Joan Hambidge noem dit ‘die mooiste vers in die eerste afdeling’ (Beeld, 4 Julie 1983) en TT Cloete skryf soos volg (Oosterlig, 27 Oktober 1983):

Dit is nie verniet nie dat dit hier om digters gaan, want as Van Rensburg oor Ingrid Jonker skryf in Drieankerbaai, 19 Julie 1965 speel hy met Jonker se eie woorde op ’n interessante manier. Die klank as tema en as saak is botoon in Van Rensburg se debuut.

Ek haal die bostaande gedig aan vir lesers wat dit nog nie gelees het nie of wil herlees (1983:21):

My lyk lê uitgespoel in wier en gras …

Die son was ’n kind se ligte ballon
hoog teen die diepblou lugplafon
toe jy die pad van jou liggaam soek
tussen kranse met digte mos oorkoek.
Waar elke golf soos ’n hond teen jou spring
met ’n sonnetjie groot in die blou halfkring
skryf jy versies teen strandonkruid
maar die waterse hand vee dit ritmies uit.
Die kabouterman met die aardbolkop
het die geellyf-maan se pens ingeskop:
vind jy ontvlugting in oker rook
of as jou kantelson die see laat kook?
Soos woorde oor die bleekwit strand
groei ’n seewierklad met ’n reikende hand
wat jou vir ’n see-instappie lok.
Jy neem jou woorde se brons sonklok
na Meneer Vergeet oor ’n donkermaan-trap
waaroor jy met poplapvoete stap.
Was die bitterbessie-dagbreek-vrou
wat jou woord ons laat onthou
die beeld wat jy vir ons wou laat?
Jy wat met donker strome praat
laat vroeër of later
jou nageslag blink lê in die water
want jy was ouer, dog ook jonker:
die see is lig en die see is donker.

In 1976 aanvaar Meyer ’n aanbod van die SAUK om regstreekse TV-musiek shows uit te saai. Dit is hier waar hy die eerste keer kennis maak met die mikrofoon-hangstok wat veral in flieks gebruik word. Dit is ook beter bekend in Engels as ’n boom en losweg vertaal, ook ’n ‘klankboom’. Hierdie leitmotief word deurgaans in Klankmanwoordboom ontgin.

Nadat die manuskrip reeds by die uitgewers was (1982), kom Meyer te staan voor ’n persoonlike kruispad: in sy gedigte eksploreer hy die soeke na God deur spesifieke metaforiek wat op die drie elemente (en afdelings) in die titel sinspeel: ‘klankman’ (ook ‘klankboom’); ‘woord’ (‘Woord’) en ‘boom’ (ook ‘stamboom’ wat na ’n genealogiese stamboom verwys, maar meer belangrik, ook na die Afrikaanse kanon, dus die digterlike stamboom. In 1982 neem hy die besluit om die res van sy lewe aan God te wy. Later verwerf hy verwerf ’n Ph.D. in Teologie en tree in 2013 af as senior dosent en akademiese dekaan by die South London Christian College. Voor hy na Engeland emigreer, saai hy regstreeks uit as deeltydse omroeper by Radio Kansel. Hy ontmoet onder meer sportmanne soos Jonty Rhodes, Peter en Shaun Pollock, Hanneke Meyer en die Olimpiese swemmer, Penny Heyns.
Hy gee tans deeltyds klas; preek in Londen, Plymouth; Pole en van tyd tot tyd, in Suid-Afrika.

Hou Versindaba dop vir ‘n opvolg oor Meyer van Rensburg: ’n foto-album wat die digter se lewe en skilderwerk toelig en gepaardgaande inligting. Daar is ook latere, ongepubliseerde gedigte en resensies wat temas en motiewe in Klankmanwoordboom vir die leser aktiveer.

Bibliografie

Cloete, T.T. 1983. ‘Dié digbundel meer as gewone’. Oosterlig, 27 Oktober 1983.

Hambidge, J. 1983. ‘Drie digters se debuutbundels’. Beeld, 4 Julie 1983.

Malan, L. et al. 2008.Versjoernaal – Nuwe benadering tot poësie. Pretoria, Kaapstad: Best Books, pp 236.

Van Rensburg, M. 1983. Klankmanwoordboom. Kaapstad: Human & Rousseau.