Posts Tagged ‘klein reis Breytenbach’

Breyten Breytenbach. Klein Reis deur Geledinge van Laat-Gaan, Sept – Okt 2014

Tuesday, November 4th, 2014

Klein Reis deur Geledinge van Laat-Gaan, Sept – Okt 2014

 

Ons kondisie : ons kan niks behalwe die huidige ken en ervaar nie. Of dan – die teenswoordige is die lens of die spieël waardeur ons onsself belewe, waarin die verlede gereflekteer en die toekoms geprojekteer word. Dis die enigste Altyd wat ons van weet, en tog gee dit altyd pad onder ons. Die enigste substansie wat ons ooit van bewus sal wees word voortdurend nie-substansie.

 

 

Tog : beweging, die ervaring daarvan, word ook gedeeltelik bepaal deur patrone of siklusse – instinktief om vergang te begelei, of as sediment van die geheue. Dit begin iewers, dit verloop langs ʼn kurwe wat beskryf kan word, daar is verwysings en ruspunte, die herhalings met variasies is soos ʼn hartklop en jy kyk uit na die toemaak of afronding.

Die mens aap sy eie dood na. Miskien juis omdat sluiting gesoek word. Dis immers makliker om ʼn aap dood te gooi met woorde as om jouself op te hang.

Maar die paradoks is dat betragting distansiëring meebring. Die beweeg van die skrywe is ʼn eie reis, soms gelyklopend met wat jy ervaar en dit sou miskien sonder daardie belewenis nie tot stand kon kom of in beweging gebring word nie. Al is dit eiewoordig : ʼn estetika op soek na die sintuiglikheid van etiek.

*

die dag vol water was

donker soos die stotterende nag

deurpriem met ligskigte

asof rammelende voertuie

nou buite beheer die pad

byster raak en knallend

in die afgrond donder

en die dowwe hemel skeur

in ʼn stortvloed water

*

Daar is indrukke – jy sou kon sê ‘momente’ behalwe dat die tyd geen sê het nie – so skerp, wat so ʼn skeur laat in die weefsel van aaneengroei, dat die diktate van die intuimelende besef van verbyganklikheid opgehef word. Die aand se verdwyning kom lê in onomskryfbare glorie op die water en maak ʼn bespotting van spieël. En skielik is daar die flitsbesef van binding, miskien selfs van ʼn wil-tot-wees. Want tensy jy die aand verbrand kan dit nie nag word nie.

*

Op die eerste dag van September sal ons in Lissabon arriveer. Emmanuella kom wag ons in op die lughawe. Haar ma was van die Kaap Verdiese eilande, haar pa van Angola. Enkele weke later sou jy in Thiés (ʼn dorp in die Senegalese binneland) by die middagete soortgelyk intiem daarvan oortuig wees dat die kelnerin in die eetplek, wanneer sy so wegstap kombuis toe, se boude in ʼn veelseggende en selfs suggestiewe gesprek gewikkel is wat die mond voorgee om g’n sout of water van te weet nie.

Ons sal in ʼn gastehuis in die Travessa de São Pedro tuisgaan in Bairro Alto – ʼn ou en ietwat vervalle buurt van nou straatjies op een van Lissabon se heuwels. Daar is baie klein restaurantjies waar fados gesing word, die mure is vol tags (die stilte van gestolde name), die smal sypaadjies is glinsterend wit gelegkaart met kieselsteentjies wat lyk asof dit van porselein mag wees, op straat staan mans met bierblikkies in die hande en kyk deur oop vensters na sokker op televisieskerms in donker kamers, twee honde baklei. Die glimlagkêrel agter die ontvangstoonbank is van Guinea-Bissau, hy praat Frans. Onder die bed in die kamer is ʼn leë geldtrommeltjie aan ʼn ketting in die vloer gebout.

*

Die rede vir die besoek is dat jy en jou vrou genooi is om aanwesig te wees by die eerste aanbieding van die verwerking vir die verhoog van jou tronkboek, Die ware bekentenis van ʼn albino terroris. Die teater in die volksbuurt het sitplekke vir 99 mense. (Dit word beweer dat die Profeet se Koraniese verwysing na 100 min 1, wanneer daar gepraat word van prysname en al die eienskappe toegedig aan die Oubaas, die samevatting sou wees van die mistieke kennis van en misterieuse omgang met Allah.)

Die regisseur, Rogério de Carvalho, is 83 jaar oud. Klein en stewig van lyf, kaalkop, bril, hy is oorspronklik van Angola en word gesien as ʼn kultusfiguur in die teaterwêreld van Portugal. Die akteurs – die groep se naam is Teatro GRIOT – sê hy is fanaties, al wat hy eet en dink is teater en hy laat hulle eindeloos repeteer. Hulle sê hulle loop almal rond met die koppe vol alternatiewe of versaakte tekste soos wappervlae op ʼn slagveld bestrooi met lyke waar net skimme nog dwaal op soek na vlees. Ons probeer in Frans kommunikeer maar dit haper. Wat hy en die spelers wil nagaan is of hulle die Afrikaanse name en die boep se wheaty reg uitspreek. Hulle was by verskillende ambassades met lyste woorde. By die Angolese afvaardiging was dit ʼn situasie van paniek, byna ʼn noodtoestand, tot daar verduidelik kon word dis nie broer Jan Breytenbach se storie wat hulle weer tot by oom Daantjie in die kalwerhok op loop sal jaag nie en dat hulle veilig is.

*

Dis asof jy deur ʼn luik terugval in ʼn ander bestaan, ʼn onderwêreld wat tegelyk beklemmend bekend en tog so vreemd soos ʼn glinsterende swart spieëlsaal is.

Ana Rosa Mendes, Daniel Martinho, Giovanni Lourenço, Maria Duarte, Matamba Joaquim, Miguel Eloy, Zia Soares… Sewe spelers om die angsverhaal op te roep – drie vroue soos weduwees, Zia is swart, en vier mans waarvan net die jong enetjie so witterig is soos Dawid Minnaar op sy dag (en Dawid, synde ʼn Afrikaner, het ook maar net gepass). Sewe stemme skreeu en fluister en murmel soms klik-klik om in groepsuiting te kommunikeer wat oorspronklik ʼn interne monoloog was, ʼn dowe diskoers gerig aan Meneer Ondervraer. Hulle gebruik geen dekor, beligting moet alles doen, beweeg op ritualistiese wyse en asof hulle haastig is van die een stoel na die ander wat op strategiese plekke op die verhoog neergesit is, op die klankbaan is daar momenteel klaviermusiek en later snouende honde.

As dit so moet wees dat mens by die afsterwe aan die oordeelsengele moet gaan verslag doen van al die personasies en beelde wat mens in jou lewe geskep het sal jy met trots pa wil gaan staan vir hierdie Afrikane.

Jy herken maar jy onthou nie. Niks verdwyn ooit. Niks word finaal uitgevee nie. Uit die uitvee kom vorm. Net belewenisse gaan dood om in ander gedaantes te herlewe. Dié wat nie ʼn gevoelsbelewenis ontketen nie word vergeet want onthou word deur intense emosionele ervaring vasgelê. Jy word herinner aan die begrip duende wat so nou verweef is met Spaanse diepsang en bulgevegte, daardie rou grasie wat anderkant tegniek waarneembaar deurskemer, gebore in die stryd tussen ʼn syn en die ander skadusyn wat binne die speler lewe. Om te kan getuig van die waarheid van jou verhouding tot jou kuns moet jy die duende wakker maak om met hom te stoei. In hierdie stryd word logika ontwrig om plek te maak vir die erotiek « wat die varsheid het van dit wat geskep is… »

Dis alles onwaarskynlik maar waar, dink jy. Hier sit jy saam met jou vrou in die donker teater van ʼn arm buurt en luister na die klip- en sisklanke van ʼn vreemde taal. Jy verstaan en volg alles behalwe die woorde. Net af en toe dobber daar ʼn herkende naam verby soos onverteerde bolle stront in die afvoer : Huntingdon, Kalfie Broodryk, Hendrik Goy, Spyker van Wyk…

Links van jou in die donker saal sit die Eerste Sekretaris van die Suid-Afrikaanse ambassade (« die ambassadrise is nog nie terug van vakansie in Suid-Afrika nie want die skoene het haar voete seergemaak ») en vroetel met sy bobbejaanspieëltjie (selfoon). Seker ʼn ontplooide kader.  In die loop van die aand sal hy jou vra watter land jy vandaan kom en later ook of jy miskien die stuk geskryf het. Die ambassade is by die openingsaand om ʼn skemeronthaal aan te bied vir die teatergroep en hulle gaste. Daar is die almalomvattende Afrikaner tannie-wat-die-werk-moet-doen (in baie gesantskappe is dit nog so) en sy is duidelik ontsteld na die opvoering. Sy neem eksepsie teen jou gebruik van ‘Boer’. « Ons het darem al veel verder gekom as dit. » Jy word gevra of jy iets wil drink. Na die tweede vinnige whisky herinner jou vrou jou daaraan dat jy nou sonde soek.

Mens moenie so in die verlede krap nie. Op die eiland, ʼn paar weke later, op die stoepie van die kamer wat die Nelson Mandela genoem word, terwyl ʼn dag van uitmergelende hitte ʼn aand van ondraaglike soelheid word, die reent het uitgebly vanjaar, lees Jek vir Johnny Leser ʼn ongepubliseerde gedig van destyds voor. Dis toe mens se keel nog rou was en duende baie bar.

(Gemeentebrief)

 

Na die riool met julle nasionalisme,

na die mishoop met julle nageaapte Nazisme,

na die see met julle rasegte afgod in sy

wit manel van sy, julle myne van hebsug

en plase van vraat,

die murasies melaats van julle vrees, julle haat

 

Gaan kak met julle impi’s huursoldate,

julle veetrokke veiligheidspolisie en ander elektrisiëns,

na die hel met julle rugbyspanne predikante,

julle bewind van aassuiers en hiënas,

julle ontbinde Gryshemde, vierdeklas Klukluxklanners,

die gelate melaats van julle vrees se gepraat

 

Wildehonde, mal swyne, selfingenome prehistoriese

nie-kleurling barbare, wit mombakkies gepleister

oor skande-swart are, laaste uitvaagsels,

sendelinge van die Westerse Christelike Aristoteliaanse

lig-of-donker dinastie van uitbuiters,

vrybuiters, vryboere… Hoe krepeer die boere sit-sit-so…

 

Gemeentelede, landgenote, fanatiese broeders

in verbond met afval : dis moeilik om Afrikaan te word.

Die son kry mos nie vatplek nie.

Ek weet, ek behoort te weet, ek is van julle,

ek kots dit soggens binnetoe in my maag

en sweet dis snags terug –

hoe sou ek anders dit kon skryf ?

 

Liewe behoeders van die pes, vrot voort !

Hou so aan. Plant ons kruise, grenspale

teen die nag. Ons sal op die knieë sing, hierdie selfmoord

met houtmesse volbring. Laat ons jammerklagte tog opklim

tot ʼn oor.

Want dis amper ryp, die lemoene het reeds baard.

Die honde sal volstrek waterblomme pis op ons memoriam

 

*

Die baas van gisteraand in die piepklein eetplek waar slegs tien mense kan aansit op ʼn keer het oorbelle aangehad wat albei ore heeltemal toemaak. Soos metaalgroeisels. By die fontein op die esplanade, die Mirador de São Pedro de Alcantara, was en plons stadsduiwe in die water en sit dan kroeserig plat op die lyf in die son om droog te word. Onder in die stad is Dom João 1 ʼn indrukwekkende brons ruiterbeeld met ʼn seemeeu op die helm en nog een op sy septerpunt. Langs die rivier is die seemeeue ʼn oorlas, veral wanneer vullis tydens stakings ophoop. Hulle verjaag ook die ander voëls. By die vlooimark het ʼn sameswering papegaaie drie of vier jaar gelede uit aanhouding ontsnap en hulle het nou aangeteel tot ʼn ingeburgerde, kletsende kolonietjie in die buurt. Julle besoek die Kerk Van Die Ongesteldes. Aan die een end staan ʼn beeld op ʼn voetstuk – skraps geklee en met die gespierde bolyf van ʼn Boland rugbyspeler wat nog nie onkant gevang is deur die suip nie, hy’t ʼn paar pyle in die lyf, een gevaarlik naby aan die koker van lekker en kwaad. Sint Stefaans. Jy het jou laat vertel hy’s die beskermmaatjie van die amaMofi. Die sentrale middeskip is beslaan in ʼn oordaad van goud en porselein. In ʼn alkoof staan die bekroonde Mariasbeeld met ʼn mantilla oor die gesig. Jy besin dat daar net vier stamme op die aarde is : die sinpapeles, toeriste, Chinese, en die gewone gente wat nou ʼn bedreigde spesie geword het. Langs die Taag op die enorme Praça do Comercio is daar ʼn standbeeldgroep met ʼn engel wat ʼn olifant lei. Iets te doen met koloniale aanwinste. Oor ʼn paar jaar sal mens vir die kinders moet probeer beduie wat ʼn ‘olifant’ was, en ʼn ‘renoster’. Op die plein loop daar ʼn man met ʼn wit baard, vasgebind in sy lyfband is ʼn figuurtjie waarvan net die beentjies uitsteek onder die loshangende hempspante. « Is die kind nog lewendig ? » vra jy bekommerd. Sy maat met die ongeskeerde gesig, so groot soos ʼn bul uit Bulgarye,  frons diep : « Dis ʼn pop ! » Hulle verkoop hasjis. Die stad kan gelees word in terme van voor en na die groot aardbewing en brand van 1755. Die koningsgesin was op reis en het die vernietiging vrygespring, maar die keiser wou nooit weer in die verwoeste paleis woon nie. Daar naby is ʼn kerk vol ex-voto plaatjies. Ou dames met dik bene kniel op die banke en tel hulle bidkrale prewelend deur die vingers. Dis miskien die ingang tot ʼn oorkant. Sofia sê : « In Lisbon it’s easy to find silence. »

*

(die digter en die gedig)

 

na ʼn lang reis

is ons eendag weer terug

in die geweste waar Breytenbach skuil

 

ons het kontak verloor

oor die jare. verneem

dit gaan nie so goed met hom en sy varkies nie

 

dat hy oud geword het. hy bly

nog steeds by sy ma iewers

in ʼn agterplaas. en dat hy sukkel

 

met die tong. dit is vandag

sy pampoendag onthou ons nou.

ons het hom te lank afgeskeep

 

miskien kan ons vir die klong ʼn bord

warm kos neem sê die vrou.

sjym hy verwaarloos seker sy vleeslike

 

behoeftes so in die gespartel

om kop bo woorde te hou.

maar nee. ek dink dit

 

sal hom ontstel om te sien ons is

soveel beter daaraan toe

na al die jare se verwydering.

 

hy was nog altyd ʼn liggeraakte jakkals.

dit sou beter wees om aan die hand

van rym en patroon ʼn verjaardag

 

gedagte agter te laat.

hom aan te roedig om digter begrippe

te verlip met minder spasie

 

tussen die reëls van stasie

tot stasie wanneer hy in die nag

ʼn verbygaande trein ver klopperuk hoor apoklip

 

*

Dan is julle weer in ʼn taxi op pad lughawe toe. Teen ʼn muur lees jy in die verbygaan : « They’ve got the numbers but we have the guns. » Dis ʼn besonder lommeryke stad –  daar is ʼn aantal parke en botaniese tuine en die strate, behalwe nou dié in die ou middestad, is beskadu met bome en welige struike : lindebome, bloekoms, platane, palms, loekwart, jakaranda, vlambome, micocoulier (Celtis australis), lourierbosse van verskillende kleure. Plek-plek druip die eendagmooi of trompettertjies pers oor buitemure ; dit word ook blouwind genoem. In Alfama, die kasba met die kronkelende steë en ʼn uitsig oor die Taag waar die seevaarders wat Afrika uit die verbeelding omsoom en ingekleur het se karvele gelaai is met gepekelde varkvleis in vaatjies, het elke denkbare klein openbare pleintjie of oopte by kruispaaie ʼn eie lemoen- of suurlemoenboompie. In een van die gange van die lughawe waar julle wag om aan boord te gaan, staan daar groot geskryf : « Às vezes durante horas, não està aqui ninguém » (sometimes there is nobody here for hours).

*

Die Air France vlug daal oor ʼn flonkerende Dakar – hier van bo sien mens nie die kus nie, soms wel liggies van ʼn diepseeboot wat na ʼn onsigbare horison gaan soek, en jy is onbewus van deining of glooiing – en stryk neer in die donker. Dadelik slaan die drukkende hitte jou soos ʼn effens klam vadoek in die gesig. Na jare het ons weer ʼn ‘konneksie’ op die lughawe – Jean-Claude da Silva ( afkomstig van Cabo Verde, hy smokkel met alles van motorkarre uit Europa tot invloed by die doeanniers, sy glimlag is onweerstaanbaar) sal sorg dat jou aankoms deur die hoogwaardigheidsbekleërs se salon glad verloop. ʼn Futuristiese laserinstrument meet jou temperatuur en dan is jy anderkant uit. (Iemand behoort ʼn boek te skryf met die titel, Ebola vir die lewe.) Ibrahim neem jou na die hawe vanwaar die Coumba Castel eiland toe vertrek. Hy skud jou hand met ʼn fladdering nerveuse drukkies en wanneer hy opgewonde raak duik daar onverwags ʼn sarsie tjk-tjk-tjk geluidjies op in sy praat.

ʼn Skeeloog outjie op die veerboot, leser van Flaubert o.a., sê hy is die voorsitter van die plaaslike studentevereniging maar hy het sy studies moes staak want die geld was op. Hy wil so graag skryf. Dis sy werklike ontvlugting. Vra jou : « Hoé is dit om ʼn skrywer te wees ? »

Wat gaan jy sê ? Dat dit kakwerk is teen ʼn hongerloon op sy beste ? Dat dit jou niks wyser en weinig meer ingelig maak al sou jy dit in jou alleswetendheid nooit erken nie ? Dat jy eintlik ʼn brocanteur is wat brokke en skeursels probeer saamvoeg ? Dat dit jou ʼn onhandige en soms onhanteerbare ego besorg, jou in ʼn stekelrige krimpvarkie verander ? Dat dit sleg is vir die oë en die hart, dat dit jou leer lieg en bieg soos ʼn Jesuïet ? Dat duende swaar op jou bors lê en hyg in die nag, ʼn blink ingevette stoeier ? Maar ook, maar ook… Die wind oor die see… Hy is so ernstig en gretig. Jy beter niks sê nie.

*

Emma is borrelend mooi soos swart sjampanje. Sy het arm op Gorée grootgeword voordat sy by die Instituut begin werk het. Dis sy wat na Jek omsien – diskreet, maar niks ontgaan haar nie. Enkele jare gelede het ʼn groep filmers en akteurs uit Barcelona twee weke op die eiland deurgebring om dokumentering voor te berei oor die onwettige sinpapeles wat by honderde elke maand in Europa uitspoel. (Dis nou duisende, en baie verdrink nog lank voor hulle die kus gewaar.) Eintlik was die onderwerp ʼn verspotte projek van die Spaanse owerhede om woestynbokkies uit hulle dieretuine as historiese ‘opmaak’ te skenk aan die Sahel lande waar die wild uitgesterf het, elke dier met kundige sorg begelei op die vliegtuig deur twee oppassers – terwyl vlugvragte vol ‘illegales’ hardhandig terug gestuur is Afrika toe sonder enige begeleiding. Jordi, een van die akteurs, se koerasie was dalk onrealisties gretig : sommer die tweede dag al het hy kom kla dat iemand sy voorraad kondome vasgelê het. Dit kon net Emma wees. Mens kan slegs hoop dat dit goed en kundig gebruik is. Self het sy nog net een keer probeer om die land uit te kom noordwaarts met ʼn karavaan handelaars om lappe te verkoop. In Algerië het sy omgedraai. Sowat drie jaar gelede het sy getrou met ʼn veel ouer man. Haar dogtertjie, sy maak die kind op haar eie groot, is nou vyf. ʼn Tydjie terug het sy geskei, en nou maak sy vol brawade maar tog skamerig bekend dat Adama (ook van die Instituut) haar vorige maand tot vrou geneem het. Sy is gade nommer twee, die eerste een (met kinders) woon op die eiland, sy wat Emma is in Dakar. Adama besoek haar elke week en bly dan twee nagte oor. Of sy goed oor die weg kom met die eerste vrou ? Sy slaan die oë neer, huiwer : « So-so… » Maar tipies fatalisties hoop sy dit sal regkom.

*

(die digter en die gedig : ʼn ghazal)

 

die lewe was vir lank ʼn bysaak

en kon ek met die heuning boer

 

wanneer die gedig ryp was

het ek ʼn sluier oor my kop gevou

 

en gewierook om die woedende woorde

weg te hou soos ʼn weduvrou

 

in rou die vloeiende goud gleuwende

uit stanzas teen die lig laat gloei

 

maar nou is die korf leeg geroof

met slegs miere wat nog ʼn saak probeer pleister

 

waarom so droewig, Byeboer ? om te bou

aan die lewe asof daar ʼn lewe sou wees om te onthou

 

is immers ʼn bevrugting van die verlede ?

 

 

*

Gorée. Stilte van oggende, mense oop-oë onder vuil komberse buite, mense wat op en neer loop en na die see kyk. Die afwagting. « Hulle begin eers praat wanneer hulle iets in die maag het. » In die televisie maak mense mekaar dood. Sogenaamde ‘vegters’ met lang haarlokke en stywe oë en moderne wapentuig. Die rat-tat-tat. Wapenvervaardigers, wapenverkopers, wapensmokkelaars vryf die hande skoon van bloed. En nou is dit aanvaarbaar dat onbemande hommels (drones) geruisloos en so hoog dat jy hulle nie kan sien nie, dalk ʼn klein flitsberig van die son, beheer of ‘gevlieg’ deur pilote met uniforms aan iewers in hulle jakkalsgate van beton in Amerika, duisende myle verder hulle lading doodsbomme los. Stil en lae sirkels van roofvoëls en hoog teen die bolletjies wolke bo die see die swaeltjies. Jy lê op jou rug in die dik stink water van die hawetjie, jy weet dis waar mense hulle klere was en soms in nood moet ontlas.

Saam met Johnny Leser loop Jek die bult uit. Vullis en rommel oral. Langs die moskee wat op herwonne grond digby die see onder die basalt rotswand gebou is, sit die posmeester met ʼn stapeltjie papiere. Hy woer-woer opgewonde, kan met vers en kapittel aandui presies wanneer die fondamente van die moskee heeltemal weggekalwer het, opgevreet deur die getye tussen die 23ste en die 24ste Augustus laaslede so en so laat in die nag toe hy in Touba was om sy gebedekrale te tel, hy gaan nou op staande voet met die imam praat, iets moet gedoen word.

Bokke (‘skape’ genoem) wag geduldig om oormôre geslag te word, oë omgedop styf starend in die hemel, die rictus, die dik blouagtige tong, die sloepie bloed in die sand.

« O, vous humains, nous vous avons crées à partir de mâles et de femelles. Nous vous avons repartis en peuples et en tribus pour que vous vous reconnaissiez mutuellement. Pour Allah, les plus honorables parmi vous sont les plus pieux. Allah connaît tout et sait tout. » (O mense, ons het julle gemaak uit die manlike en die vroulike. Ons het julle opgedeel in volke en stamme sodat julle mekaar kon erken. Vir Allah is die mees eerbare tussen julle die mees godvrugtige. Allah ken almal en weet alles.) Dit kom uit die Koran, Les Appartements 13, en is as geskenk van die volk van Quatar teen die moskee se muur op ʼn marmerplaket aangebring.

*

Die jong lat op straat, vroeg al ʼn bietjie geswaai, loop vir Jek en Johnny Leser tromp-op en stel voor dat hulle saam ʼn bok koop vir Eid-el-Kebir. (Nood loop hoog, pryse het nie gedaal nie, is nog altyd sowat CFA 100,000 vir ʼn volgroeide skaap, die diere lê gelate vasgemaak, die klokke so groot soos baobabpeule swaar tussen die bene in die sand. En hoekom is daar geen skaapstelers hier nie ? ʼn Klein Karoo se skaapdief sou mos sommer tjoptjop die mark kon reguleer !) Jek wys die ‘aanbod’ van die hand met die verduideliking dat hy ʼn Boeddhis is, dat hy nie vleis eet nie… (lieg hy nou soos ʼn smous met die vet nog blink om die mond). En buitendien : « Afhangende van jou gedrag op die ondermaanse kan jy miskien herbore word as ʼn bok of ʼn skaap in die volgende lewe. Hoe sal jy daarvan hou om met ʼn tou om die nek tjoepstil te lê en wag om keelaf gesny te word ? » Die lat se daggarooi oë dwaal daaikant toe. Sy ore kan nie glo wat hierdie toubab hom probeer wysmaak nie… Maar Tabaski is dan so ʼn ou geskiedenis, probeer hy paai ; veel ouer as hierdie jakkalsdraaie oor reïnkarnasie…

*

(die digter en die gedig)

 

jy vra of ek in my gedigte is

en ek moet nadink

die woorde deur ʼn siffie syg

om te sien of ʼn muggie

sig sou manifesteer

 

die marsjerende geledere klanke

ledige betogers

wat uit één keel

die afwesige gesig se bewering

probeer besweer

 

jy vra of ek in my gedigte is

en ek moes dink aan die nadrink

van die versuipte denker

in die leivoor terwyl die rye

leuseskellende ketters om die hoek

 

verdwyn soos waarhede

vergek tot ekke

se holle betoog

wegsyg in ʼn boeksoekbeweging

geletter in papier

 

*

« Alles wat tydelik is, is ewig. »

Wanneer dit donker is oor die eiland sit julle op die Boufflers terras wat uitkyk oor die hawetjie waar mense nog swem om af te koel en die strand waar pirogues uitgesleep word vir oornagting. Geen ander klante te bespeur nie, die seisoen was ʼn mislukking kla baas Papou, die geneuk van visums wat toeriste nou benodig om in die land te kom en die veerbote wat nie gediens is nie sodat mense tou moes staan tot verby die kerk om te wag dat die ene wat nog gebruik word al bulkende opdaag, en skielik hierdie ding van doodbloeikoors waar die hele Afrika oor dieselfde kam geskeer word. Sit julle met ʼn groeimaan bo in die dynserigheid, om dronk te word van gin & tonic en om vis te eet.

Johnny Leser praat van ʼn bron wat sou verwys het na die konserwatiewe opinie dat die bestaan van die Mens bewys God bestaan nie. Jek reken jy behoort nie die ore uit te leen nie – so ʼn siening bewys die tweekoppigheid van die God/mens begrip, terwyl die teëwerpsel juis sou kon wees dat die god ʼn onvermydelike bokvergestalting is van die mens se beangsde behoefte aan ʼn verbeelde skepper wat ons wat mens is so sou gemaak en laat staan het as verbrouselverdriet. Die god sal dan ʼn siek verbeelding hê.

*

Stanislas Jean de Boufflers, hier agter glas geskilder en teen die muur van die hotel op Gorée wat sy naam dra omdat hy as goewerneur so ʼn diep indruk gemaak en op beskeie manier bygedra het tot die volksplanting, geb. 1738 (Nancy) – gestorwe 1815 (Parys). Sy ma was die amptelike maîtresse van Koning Stanislas van Pole, skoonpa van Louis XV. Vandaar sy naam. Rivarol het die jakkals so beskryf : « Ab-libertyn, soldaat-filosoof, diplomaat-liedjieskrywer, republikein-gigolo. »  Na Voltaire se mening was hy egter ʼn mede-teendraadse sinikus.

In later jare, terug in Frankryk, sou hierdie avonturier wat sy adellike aanspraak eintlik maar gekoop het, beskryf word as vet en verslonsd. Dis ons almal se voorland indien ons ʼn asemwyle gegun word tussen lui lê en die laaste uitlê vir die langslaap.

*

Tydens die periode van afwagting voor Tabaski besluit julle om verder noord land-in te verken. Ibrahim bestuur veilig, hy beaam al jou opmerkings byna woord vir woord. Die eerste groot dorp is Thiés – Idrissa Seck se tuisbasis. Seck was jare lank die vorige president, Abdoulaye Wade, se eerste minister en kroonprins totdat hulle ʼn uitval gehad het oor die opdeel van groot bedrae geld wat as ontwikkelingshulp die land ingekom het. In hulle oorsese besittings het die koloniale bewind altyd ʼn hoërliggende en koeler uitvlugsoord geïdentifiseer om weg te kom van die gejaagdheid en die hitte in die hoofstad wat gewoonlik aan die kus geleë was. In Viëtnam was dit Dalat, vir Senegal is dit Thiés.

Die middelslag stad is boomryk met wye strate ; Afrika het egter lankal alles weer herskep in ander patrone van familiariteit deur die gestruktureerde uitleg van die setlaar uit te vee. By ʼn fast-food klim julle uit vir koffie, heerlik, reuse-croissants, pains chocolat en ander patisseries. Aan ʼn tafel sit en lees twee toubabs koerant asof hulle maar nog altyd hier was.

Die baobab-bome staan groen in die blaar, die hitte is drukkend. Julle ry verby kleiner uitbreidings, van die pad lyk hulle meer na kampongs. Dan ʼn volgende groterige dorp, Tivadouane, setel van die Tidjiaanse Sufi-gemeenskap. ʼn Imposante moskee waarvoor Marokko waarskynlik betaal het siende die stigter van die sekte se reste aldaar in ʼn praalgraf lê en vergaan. Verder deur Mékhé en Kébémer (waar jy ʼn onverwagse trop swart snuffelsnoet varke opmerk), en ander gehuggies met stapeltjies vrugte – suurlemoene, lemoene, waatlemoene – te koop aangebied langs die pad. Soms word plaaslike produkte uitgestal : kleipotte, mandjiesgoed en ander vlegwerk. Slank palmbome vervang mettertyd die baobabs, hier en daar is ʼn bewerkte landery te sien. Jy spekuleer dat grondboontjies, maniok en ander knolgroente seker verbou word en Ibrahim sê : « Tjk-tjk-tjk grondboontjies en maniok tjk-tjk-tjk en knolgroente word geplant. »

Julle ry deur markdorpe wat krioel van die lewe – skaaptroppe saamgeblêr, winkeltjies vol snuisterye, motorkarre wat langs die pad reggemaak word. Die verkeer is taamlik intens. Soms sien jy skape vasgemaak en vervoer in plastieksakke op die bussies se dakke, net die koppe steek bo die bondels uit en lyk soos kranse met wapperende linte op pad begrafnis toe. Af en toe is daar ʼn padversperring, gewoonlik net wanneer julle oor ʼn « donkierug » ry, gendarmes trek die trokke van die pad af en beboet die drywers summier, hulle soek ʼn bydrae vir die aankoop van die rituele skaap. Sedert die grense met naburige Mali en Guinea gesluit is as gevolg van ebola bly die prys van skape onbetaalbaar hoog. Die pad Mauretanië toe is wel oop en baie van die diere kom daarvandaan. Jong vroue in kleurryke gewade sit ingeryg op donkiekarrietjies. Daar is opvallend meer donkies te sien onder die bome, klein van portuur, geduldig soos grys gedagtes.

Na Louga, ʼn groterige stad uitgestrek regs swenk die roete weer wes, oseaan toe. Gandon is die laaste groot dorp voor St Louis bereik word. Die stad se verwesterse gedeelte lê op ʼn eiland, Ndar, die oorspronklike naam van die nedersetting in die mond van die Senegalrivier wat vir ʼn tyd die Franse kolonie se administratiewe hoofstad was. Julle ry verby soutpanne oor die 500 meter lange Faidherbe-brug die stad binne. Die oorkantse oewer van die wye rivier vorm ʼn landengte, la Langue de Barbarie, letterlik « die barbare se tong » – dit verwys na ʼn tradisionele ankerplek en vissersdorpie van die More, inkommers uit Mauretanië. Hulle is van Berber afkoms, aldus die ‘barbaar’ al was dit blykbaar die Grieke wat vir die eerste keer die term gebruik het in verwysing na die vreemdelinge in hulle poorte wat ʼn onverstaanbare « bar-bar » gebesig het.

*

Van ʼn vorige besoek onthou Jek die Hotel de la Poste, ook die Aéropostal genoem – bekend as die afsaalplek van pionier vlieëniers – Mermoz, Exupéry – wat die posdiens tussen Europa en Suid-Amerika behartig het. ʼn Ou hotel vol eggo’s en skimme en model vliegtuigies, groot oorgroeide binnehof, kamers wat uitkyk oor die rivier se bruin water. Die restaurant waar Johnny Leser en Jek gaan eet, die Flamingo, is leeg behalwe vir enkele toubabs wat mekaar se tande tel. Kelners buig laag, glimlag wit, die disse (giers van die omliggende distrik, garnale, seeduiwel) is voorstebos, die witwyn net koel genoeg, waaiers draai om die lug te laat vloei in ʼn geheue aan verfrissing. By die  swembad daarnaas sit ʼn jong student en maak asof sy studeer. ʼn Rooigebrande Italianer by ʼn naburige tafeltjie probeer kennis maak met die student. Later sal hulle op die hotel se voorstoep sit en drink en hy sal nie ophou praat om haar te beïndruk nie. Toe Jek gaan swem vroeër het die swerwer ʼn gesprek aangeknoop, sê sy naam is Simon Snow en hy’s eintlik ʼn Amerikaner met vakansie, dat hy in die lykbesorgersbedryf werksaam is. Vir Jek klink dit of hy ʼn mislukte huursoldaat mag wees.

In die straat van die Flamingo word julle omgepraat om in ʼn calèche, ʼn perdekarretjie, op ʼn begeleide toer van die stad geneem te word, die manne smeek byna vir ʼn bietjie besigheid. Hier sit jy op die foto met Leser langs jou. Die drywer het ʼn letsel oor sy wang en voorkop, sy een oog is langsaam. Sy maat, Mohammed, is die gids. Ook hy moes sy studies versaak omdat hy dit nie kon bekostig nie en hy was vas van plan om die ondergrondse pad te vat Europa toe maar toe kom die Spanjaarde en begin ʼn sentrum om mense op te lei as gidse, hy is die jongste, of te skool in landboutegnieke. Die bedoeling is natuurlik om die vloedgolf sinpapeleste probeer stuit. Terwyl die skemer toesak oor die ruisende stad van vlermuise en verlore siele ry julle op ʼn klopdraffie deur die strate. Die verval is oral sigbaar in verkrummelende mure, hope rommel en vullis. Mohammed papegaai entoesiasties wat die Spanjaarde hom geleer het, van boustyle en bewaring en grepies geskiedenis. Jy weet nie of die wit perd dit gaan maak nie. Is dit dan nie die ros waarop Mohammed hemel toe gegaan het nie ? Hiér en hiér het mense in afsonderlike buurte gewoon, handelaars bo hul pakhuise en winkels langs die oewer waar bote vasgemeer het, die verskillende graderings van vermenging tussen onderdane dieper die stad en die donker in tot by die verworpelinge en die uitvaagsels. Nuwe kastes het ontstaan, plaaslike dames het met die tubabigèes (« wittes wat uit die see gekom het ») getrou, die signares het ryk geword en slawe aangehou om die waaiers te swaai en groot huise laat bou. Die Kompanjie kon nie die geskiedenis keer nie. In 1688 is daar nog uitgevaardig dat geen amptenaar met ʼn negerin mag verkeer nie, nie in hulle huise mag ingaan of toelaat dat hulle sy woning penetreer onder watter voorwendsel dan ook, op las en met die straf van ʼn 6 pond boete en twee dae agtermekaar se wagstaan vir die oortreder. Maar die vlooi was reeds bekeer, gedoop en in die kooi. Mohammed sê hy het al vantevore Suid-Afrikaanse kliënte gehad, hulle was vriendelik en het selfs by hom tuis besoek kom aflê, hy vra uit na die Pistorius hofsaak, stem saam dat Zuma ʼn dief is. Afrika leiers is almal skurke. Let my people go. In die donker bevind julle jul opeens aan die oorkant van die rivier in die village des pêcheurs. Dis ʼn ander wêreld waar duisende families opmekaar lewe – 30,000 mense in ʼn area van 30 hektaar, volgens informasie wat oor die jong gids se lippe vloei is dit een persoon per elke vierkante meter. Johnny Leser begin paniekerig word, dis nou te laat om aan hierdie haglike teks of die hof van mirakels of selfs die nag te ontsnap. Ontoeganklike seremonies word op straat afgespeel. Op ʼn stadium ry die karretjie deur ʼn somber skare versluierde mense wat almal buite is vir ʼn begrafnis. Dis met groot verligting dat julle oplaas weer die leë hotel bereik. Die maan is vol en rooi van stof. Die woestyn kan geruik word.

*

o waar is my waarheid

my waarheid my waarheid

o waar is die waarheid

die waarheid van my

 

o waar is die wees-is

die wees-is die wees-is

o waar is die wees-is

die wees-is van my

 

o hier is die waar-is

die is-wees die waarkis

o hier is die wees-waar

die isheid van my

 

*

Leser,  jy wat die jonger, meer presentabel, afgeronder, gesonder, wyser en subtieler gebalanseerde weergawe van myself is, luister nou na Jek Oubok se vanselfsprekende: ‘oorlewe’ is om op reis te staan al weet jy nie altyd waarnatoe nie, dis om voor die venster te sit en droom oor volgende jaar, om ʼn ruimte te skep waarin die leegte kan uitvloei en waar beweging ontstaan. Al bestaan daardie « volgende jaar » ook uit brokke en breuke uit jou verlede wat jy altyd weer herskep. Slegs die antipasie maak die oorgange moontlik. Anders begin jou skoene jou druk en raak jy verstrik en verskrik in jou eie asemhaling.

Met dik toue vasgemeer aan die oewer van die wye en snel rivier dobber die Bou El Mogdad, ʼn rivierboot wat aan die Compagnie du Fleuve behoort, om hersien en toegerus te word vir die volgende seisoen. Tradisioneel was die rivier net bevaarbaar tydens die ‘hoogseisoen’, dit wil sê vanaf middel-Julie met die eerste reent wat die rivier laat swel tot in November wanneer die waters sak met die aanvang van die ‘laagseisoen’. Mense, goedere, negosieware, lewende hawe, pante materiaal van die fynste katoen met arabeske en ander motiewe vir die dames se gewade, Arabiese gom… is vervoer tussen die handelsposte op die rivier.

Dis hier waar ons volgende jaar gaan inskeep, miskien net na afloop van Saint Louis se jaarlikse internasionale jazzfees in die park waar ons nou die aand in die donker by verby gery het. Ons sal ʼn geslepe skrywer of twee saamneem, mense wat skerp kan kyk en ʼn verstaan afdruk op wat hulle sien, dalk ʼn paar digters van die Dancing In Other Words poësiefees. Jek sal maak asof hy van alles iets weet.

In die kajuite met die verniste houtpanele sal ons wieg op maat van die rivier se lirieke.   Ons sal vaar tot by die Diama keerwal en daarvandaan al langs die Diouling reservaat om na die voëllewe in die riete te kyk. Te kyk na die fluisterende vlug van die flaminke, die seerawe se duikstrepe, die parlementmaniertjies van die pelikane. Miskien met die syrivier, die Gorom, op tot by die Djoudj wildtuin vir die vlakvarke en die ape. Die volgende dag sal ons verby rysvelde op die oewers vaar, langs Rosso wat die grensdorp tussen Senegal en Mauretanië is, aan wal sal ons die suikerplantasies besoek.  Ons sal die uitspattige kasteel, die « folie du Baron Roger », sien verbykom en vaar tot waar die rivier mond en mangoboorde die dorpie Gourmel omsoom en naat. Ons sal Tiepboudijen eet, die tradisionele rys en vis, en die dorpie Dagana, ʼn ou Wolof standplaas wat eens die hoofstad van die Waalo ryk genoem is, gaan besigtig vir sy fortmurasie en die mark. Ons skoene sal ons nie druk nie. Die tyd sal verbyvloei soos riviergetye. Oor die volgende dae sal ons gaan rondloop in ʼn tipiese Fulani dorpie met hutte wat deur die vroue gebou word, en verder rivier-op beweeg langs gehuggies wat uit die 13de eeu dateer tot in die Sahel hart van die Toucouleur gebied waar die kinders okerkleurig is. En so sal ons aankom in Podor, destyds ʼn florerende handelstasie waar gom en ivoor en slawe gekoop en verkoop is. Saans sal ons musiek maak aan boord, of argumenteer, of kyk na ou Sowjet films, of die sterre se voorspellings probeer ontsyfer.

*

Terug op Gorée stink die stegies na verskroeide bokhare. Op televisie sien jy die verslag oor die Londense cabby wat in Sirië liefdadigheidswerk wou gaan doen, gevang en as gyselaar aangehou is (« sy hart was van goud, » sê sy verdrietige swaer in ʼn dik Cockney-aksent) – en nou is hy onthoof. Ook ander materiaal van hoe gyselaars se naasbestaandes pleit vir die lewens van hulle seuns – ʼn sterwende oudchirurg in ʼn hospitaal wat deur ʼn klep in sy strottehoof probeer artikuleer, ʼn egpaar (vrou met kopdoek, blykbaar bekeer tot Islam)… En mens wonder oor die kontinuum tussen bokke keelaf sny en die onthoofdings. Is dit die offer konsep ? Of die intense besef van lewe wat kom met die oorskryding van ʼn taboe ? En dan onthou jy hoe jy miskien ʼn week gelede gestaan en kyk het hoe Seydou, jou seun, ʼn bokkie in die see was, hoe perfek mooi die dier is. Met die deernis waarmee mens ʼn huisdier streel. « Was jy hom vir Tabaski ? » het jy gevra. « Nee, » was die antwoord. « Hy is nog te jonk. Miskien volgende jaar. »

*

En toe die oorgang Holland toe, soos ʼn vlug terug in die verlede. ʼn Plataanboom van 131 jaar oud aan die Westersingel in Rotterdam sou her-heilig word as die Graf Van Die Onbekende Digter en jy moet die woord kom begrawe. Die oorspronklike teks soos dit in die tronk ontstaan het, uitgesmokkel is, waar gemaak is, is te lees in Mouroir. En in All One Horse die inwydingsbetoog van 1986 onder die boom in teenwoordigheid toe van die Rote Fanfare, die uitbundige blaasorkes met hulle vals musiek. Daar was vlaggies in die takke. Dié boeke sal jy nie in Moermikland kan kry nie. En twee muurskilderye in die Gaffelstraat, die een gemaak deur Lucebert en die ander deur Jek met die name van ʼn aantal digters wat oor die jare in gevangenisse beland het, is gerestoureer.

*

Maar eers na Amsterdam vir ʼn besonderse aandete verheerlik met twee bottels van die beste Spaanse wyn. ʼn Besoek die volgende oggend aan die Stedelike Museum om Marlene Dumas se oorsigtelike uitstalling te sien sou nie kwaad kon doen nie.

Blou wolke laai op oor die stad, ʼn onhollandse wind riffel die gragte se water. Daar is selfs weerligstrale. Onder die boog van die Ryksmuseum word julle vir ʼn tydjie vasgekeer deur die storm. ʼn Uitstappie bejaardes in rolstoele,  hulle het vir niemand niks gevra nie, eweneens deur die onweer onder skuiling  ingehok, is nou hoenders met die piep op ʼn ry geparkeer terwyl hulle wag om in die museum hulle dosis kultuur in te kry. Vier jong mense in swart geklee saag energiek op hulle klassieke instrumente en Bach weerklink onder die gewelfde dak. Reën stort neer in griffelstrepe, papiere word deur die wind opgeswiep en verslind soos ʼn woordeboek van vlinders.

Dit vou die beeld by jou oop van ʼn renga wat op die eiland geskryf is ; Ka’afir was een van die deelnemers en jy het hom daarop attent gemaak dat sneeu in so ʼn geweste en skrif onvanpas sou wees. (Die tweede renga het immers so begin : « Over this island in the sun / suddenly a million white butterflies / fluttering shadow snowflakes »)

Tropical winter : white

clouds moving fast. Below,

scattered leaves and palm-singing,

 

clapping their hands to bring back

memories of distant dreams.

 

Ancient wind in the fronds.

In the sand, a new beetle

begins his climb.

 

How much longer do I need to clothe

this body worn with grief ?

 

Love, come, be winter

to my summer.

Fill me with snow.

 

Geheue is ʼn dansbeweging met die skaduwees. Dis ʼn sneeureis. Jy onthou, toe julle nou die aand in die perdekarretjie die skemering soos ʼn sluier oor Saint Louis se keie gesleep het, die ou man in die silwergrys boubou in ʼn stoel op straat voor sy huis, afgesonder van die stadsgeluide om hom, hoe hy ʼn verweerde gesig draai na waar die son reeds verdwyn het so asof hy nog die melodie of die ritme kan hoor. En op pad terug Dakar toe (Johnny Leser slaap op die agterste sitplek gedommel in die drome van iemand wat sat gelees is aan tekste wat nie kop of stert het nie), die maer man in sy vuil wit kleed met die wit donkie onder die mangoboom. Dis ʼn land van eseltjies.

Al-Buraq, wat ‘weerlig’ beteken, was die naam van die rydier wat vir Mohammed in die bestek van een nag heen en weer sou vervoer tussen Mekka en die Verste Moskee, te wete Jerusalem. Die insident staan bekend as die ‘Nagreis’. Die beskrywing lui : Toe is ʼn wit dier, kleiner as ʼn muil en groter as ʼn donkie na hom gebring…  Hy was steeks toe Mohammed wou opklim. Die engel Jibril (Gabriël) het sy hand op die dier se maanhaar gelê en gesê, « Skaam jy jou nie, Buraq ? By my kool, wéét jy dan nie niemand in die Skepping is meer kosbaar vir Allah as hierdie man wat op jou wil ry nie ? » Toe hy dit hoor het ta hom papnat van die sweet beskaam, en hy het stil gestaan sodat die Profeet hom kon bestyg.

*

Marlene Dumas se uitstalling vervoer jou nie. Vir jou gevoel steun die werke te veel op ʼn omgewing van emosionele argumente wat ook in Holland waar die allochtoon ʼn eksotiese wese besoedel deur Westerse aantasting sou wees, weer moet oorwaai met die skoelappers. Wat moet dan nog alles gedoen word om op te kan maak teenoor die allos ? Die skakeling met gevoelighede buite die werk is nie altyd piktoraal verwerk of verantwoord nie. Vir hoe lank moet dit dan nog problematies wees om ʼn wit vrou te wees ? Sy woon al te lank in hierdie stad van kitsch waar ondeurdagte en uiteindelik oppervlakkige politieke korrektheid net-net pas oor die onderliggende betigtende moralisme. (Dis natuurlik Jek se babelaas wat hier babbel.)

Oor ontbyt het jy in De Volkskrant van 7 Oktober die verslag gelees oor ʼn rabbyn, tans in Nederland maar gesoek vir uitlewering deur Israel, wat ʼn charismatiese figuur skyn te wees. Eliezer Berland, 77 jaar oud, staan aan die hoof van ʼn Joods-Ortodokse sekte met die naam van Shuvu Banim. Inwoners in ʼn nabye dorp is ontevrede met die skade aangerig deur sy skaapagtige volgelinge toe hy daar gaan wondere verrig het. « Volgens verschillende media zouden zijn aanhangers zich hebben gewassen in de sloten en hebben gepoept in de berm. » Israel soek hom nadat ʼn pa sy dogter, ruim 16 jaar oud, in die middel van die nag na die rabbyn gebring het vir genesende behandeling. Die rabbyn het haar op elke wang en die voorkop gesoen, haar styf teen hom aangedruk, en sy beweer ʼn rilling asof van ʼn orgasme het deur die bejaarde heilige man se lyf gestuimig. Die advokaat wat die rabbyn verdedig sê dit kan nie wees nie, sy kliënt het nog al sy klere aangehad en is buitendien al jare ʼn suikersiektelyer, agter alles broei die kwaadwilligheid van sy seun wat die ou wonderwerker as ghoeroe na die kroon wil steek. Buitendien, wat sou die meisie kon wéét van ʼn man se orgasme ?

Jy moet buig voor Dumas se tegniese vernuf ; die vaardighede van sien beïndruk. Af en toe vlam ʼn bietjie kleur op in ʼn doek en skielik voel jy iets van die suide. En dit bied ten minste die geleentheid om môre te gaan sê en respekte te betoon aan ʼn voormoeder.

*

 Hoe het dit gebeur, wie het toegelaat dat Rotterdam se stadkern so ʼn gemors van modernistiese argitektuur moes word ? Dis waar, die buurt is op straatvlak nog beset deur Turkse besighede en Chinese restaurante en dit is so dat die herwinning van agteruitgang reeds sigbaar knaag aan die baie geboue wat toe staan en te huur of te koop aangebied word, maar alles word verdwerg deur die aaklige, meervlakkige bousels wat bo jou troon. Ook die stasie het ʼn nuwe dak, seker ten duurste aangebring, wat lyk na ʼn enorme vlieënde piering van beton gespan oor ʼn giganteske sokkerstadium. Die derde dag toe jy tydens ʼn openbare gesprek in ʼn gesellige kultuurruimte met die naam WORM gevra word of dit waar is dat jy destyds in Parys ʼn Karel Appel skildery in sy ateljee gesteel het (die onderhoudvoerder is ʼn besonder gretige en ambisieuse jong skrywer ; later die aand sou jou voorlesing van gedigte ontaard in ʼn totale fiasko), moet jy bieg dat dit wel so gebeur het maar dat dit jou bedoeling is om die aansienlike opbrengs aan te wend vir die oprig van galge in die stad waar die argitekte aan hulle baobabpeule opgehang kan word.

Hier naby iewers, onthou jy, dit was baie jare gelede tydens een van die jaarlikse Poetry International feeste, het jy een middag oor ʼn bottel goeie wyn in ʼn donker restaurant ʼn renga kon sit en skryf saam met vriende. Vasko Popa, Edoardo Sanguineti, Yehuda Amichai. Die taal was ʼn gemompelde by-benadering want julle moes die woorde aangee vir mekaar toegedraai in ongewone doeke. Elkeen van julle sou die finale produk weer op die lappe bring in sy eie taal. Daar was dus lae en luiers van vertaling. Die gedig het die titel Made In Holland gekry. Duende het ons aan tafel bedien, ʼn getatoeërde stoeier vermom as ʼn kelner met ʼn wit glimlag. En nou is daardie vriende almal onder die grond of aan die vlamme toevertrou.

Wanneer digters sterf gaan hulle na Rotterdam het die destydse tronkteks beweer. Met afloop van die WORM petalje kom ʼn toehoorder na jou toe, hy’s ʼn Nederlander wat Afrikaans leer praat het met ʼn hoë stem, en stop jou ʼn kwatryn van destyds in die hand, van toe jy nog rammetjie uitnek was :

hier verwurm Grootpraat digter

en nou gans obskuur :

sy woorde is aldag ligter

in die aardgroot vuur

*

Nou is jy nie meer haastig nie. Te veel mense (om nie eens te praat van vriende en trawante nie), te veel onthousels, te veel gemompel onder sooie en gras ingespit. Wat het oorgebly en wie sal enigiets weer terugbring ? Maar wat tydelik is, is ewig, en uitvee is om vorm te gee aan die geheue wat per definisie in beweging bly. Want om te onthou is ʼn onvoltooide reis. Sou dit wat verby is weer kan lewe ? Is om oor iets te skrywe ʼn manier om dit weer te herroep ? Wat dan wanneer jy skrywe oor wat nog nie gebeur het nie en dit so sorgvuldig vasbind dat dit nie eens nodig sal wees om dit na te aap nie want iewers bestaan dit reeds en het dit selfs reeds bestaan ?

En wie sal nou onthou hoe duende gelyk het ?

Vroeg een oggend wil Leser en Jek die Booijmans Van Beuningen museum besoek, dis nog nie oop nie maar julle kry wel toegang tot die verversingsaal langsaan en sien daar die uitdagende groot spotprent opgehang as boodskap uit Anderplek :

*

In die Hotel de la Poste (wat oorspronklik die Hotel Casablanca was) in Saint Louis, met van diep uit Afrika ʼn rivier stilte in die agtergrond, vertel ʼn hortende Simon Snow (hy is tot boordens en woordens en barstens toe vol van homself) die verhaal van sy seun se geboorte so ʼn ses jaar terug, dit was in Italië, sê hy, in ʼn vallei noord van Bolzano waar alle roomysmakers van die wêreld getoë is, 30° grade warm, byna soos hier waar die Sahara se stoftong aan ons lek. Hoe hy die nageboorte in ʼn plastieksak gedra het om te gaan begrawe, sy skoonma was ook by, ʼn vet ou vrou, en ʼn hond wat aanmekaar hap-hap om die plasenta te probeer bykom sodat hy die sak hoog moes hou in die hitte bo die klipperige grond, en hoe die vet vrou gehyg het. Hulle het die bloederige glibberigheid begrawe en  ʼn vyeboom bo die plek geplant en dit het wortel geskiet in die vrugbaarheid van veilige vergetelheid. Nou onlangs het hulle dit weer besoek en van die vye geëet.

*

Uit Afrika… Was jy ook jare gelede al bewus van die Afrikaanderwyk suid van Rotterdam se rivier, dis seker die Ryn, in die minder gegoede deel van die stad ? Weliswaar is daar nog meer dorpe in Nederland met buurte waar die strate vernoem is na Boerehelde van weleer. Dit kom uit ʼn tyd toe daar simpatie en solidariteit was met hulle stryd teen Britse imperialisme. Maar hierdie wyk vergestalt ʼn wrange ironie : dat die name wat in Moermikland vervang word met dié van nuwe bevryders, let my people go, hiér behoue sou bly al is die inwoners, sinpapeles, afstammelinge uit ʼn honderd nasies van Marokko verby Somalië en Koerdistan tot Afghanistan… en al sou hulle sekerlik nie eens weet hoe om die name, Krüger en De Wet en Botha en Cronjé en Joubert en De la Rey en selfs Pretoria… uit te spreek nie.

ʼn Gids neem julle oor die rivier in ʼn watertaxi. Hy het die moestas en rooi wange en gesaghebbende buik van iemand wat in Engeland gewoon het, en ondernemingsgees, en die lintjie van een of ander toekenning in sy baadjielapel. Dis sy droom om hierdie wyk wat as gevaarlik beskou word te omskep in ʼn nuwe beleggingsarea. Intussen huur hy self twee woonstelle in een van die opgegradeerde geboue, een vir ʼn gasarbeider in die kunste, die bedoeling was dat jy ook daar onderdak sou kry, en die ander een vir homself. By die instap in die voorportaal en weer in sy slaapkamer pryk daar twee reuse-foto’s van sy vriendin, naak met nippels wat, gesien haar aansienlike ouderdom, onwaarskynlik prominent in die wind punt.

Op straat het julle ʼn vulliswa gesien met groot teen die kant ʼn reël uit ʼn gedig van Robert Hass aangebring : « Het is goed dat poëzie ons soms ontnuchterd. »

Waarom sou die Afrikaners bekommerd wees ? Het daar dan nie vorm uit die uitvee gekom nie ? Iewers is daar nog spore van ʼn taal soos klippe toegedraai in bloederige windsels in die grond begrawe. Iewers galop skimme nog oor die veld met wapperende linte soos dié van offers voortbestem vir die versoening van gebroke drome.

*

Dis die inwyding van die boom wat jou Rotterdam toe gebring het.

In die hotel waar julle tuisgaan ontmoet julle vir Bas Kwakman, direkteur van Poetry International, en besluit om sommer daar te eet.  Hy kruip ʼn bietjie weg agter baard, bril en pet, dra ʼn knapsak wat seker vol manuskripte is, jy kan sien hy is saggeaard maar die intellek is skerp en die kennis beleë. Hy skets die program vir jou besoek. Oor ete vertel hy van sy onlangse reis in Mongolië (en jy sou eers die volgende dag agterkom dat hy ʼn mooi boek oor die ervaring geskryf het, geïllustreer met sy eie tekeninge van vlugtige waarneming), van hoe hy met sy gashere op ʼn stapel klippe afgekom het, miskien ʼn plek waar die lewende herinnering aan ander nomade saamgebring is, die onsigbares en die verbyganers, en waar daar soos in Tibet ook met tjk-tjk-tjk geluidjies in die keel besweringsrympies opgesê word. Hoe nader jy aan die hemel kom, hoe meer strak en eenvoudig word die mens se sigbare inkarnasie van interaksie met die vertroude onkenbare. Of is dit dat die mens eenvoudige en stom herinneringe aan sy passasie op aarde wil agterlaat ? Sy gashere was verbaas dat hy soveel aandag wou gee aan die hopie, vir hulle was dit die bewys dat hy eintlik ʼn Mongool is, miskien iemand wat moes terugkeer na waar die as uitgestrooi is op die wind. Hy wou ʼn klip optel en saamneem maar sy gidse het hom gestop, verduidelik dat dit traumaties sou wees vir die klip én vir die stapel, dat die klip in ballingskap vir drie maande in rou gedompel sou wees.

Jy onthou Mahmoud Darwish se graf in Ramallah. Hy wou juis nie ʼn graf hê nie, het gevrees dit sou ʼn plek word waar hoogwaardigheidsbekleërs krokodiltrane kom huil. Jy het ʼn klip van sy graf saam teruggeneem Wellington toe. En jy onthou nou dat jy ʼn paar dae gelede vir Leila Shahid raakgeloop het op die perron van die stasie in Parys waarvandaan julle trein na Holland sou vertrek. ‘Shahid’ beteken martelaar in Arabies. Sy het ouer geword, het al soveel gesien en belewe. Sy was saam met Jean Genet in Beiroet toe die Palestiniërs in twee woonbuurte, eintlik vlugtelingkampe, Sabra en Shatila, deur die Israeli invalsmagte onder bevel van Sharon omsingel en afgesper is sodat die Christen Falangiste hulle kon uitmoor. Sy het Darwish tot aan die einde begelei. Nou verteenwoordig sy die Palestynse Owerheid in Brussel by die Europese Unie, nog steeds vasberade en blymoedig in die oortuiging dat die gety geleidelik begin draai, dat al hoe meer instansies Israel se misdade teen « die mensdom en die Arabiere » (soos Hannah Arendt dit ironies gestel het) begin veroordeel en dat die Palestiniërs se wettige aandrang op ʼn eie staat vordering maak.

ʼn Bietjie later vertel Bas die storie van sy oom die skilder wat alles in één oogopslag kon inneem, hoe hulle op reis toe hy nog klein was in ʼn motor vol kinders sommer onverwags in die middel van nêrens moes stilhou sodat die oom ʼn boom of ʼn landskap kon vasteken. En hoe die oom se een oog verswak het met die jare, dalk was dit ʼn kwessie van losgeskeurde netvlies, dat die oogarts toe uit vergissing op die goeie oog opereer het. Wat sou erger kon wees vir ʼn skilder as om te belewe hoe sy lewende omgaan met sién en daarom met wat gesien word, wegspoel in ʼn swart versluiering ?

*

Die uitvee van aanwesigheid is ʼn manier om weer jou spore te herken, die lieflike plekke waar die snoere geval het. Ons maak met rituele op vir die jare wat soos klippe in die put waar ons die maan wou bewaar geplons het.

Die droomboom, die soom tussen die sigbare en die aarde, is naby Poetry International se kantore. Wanneer jy oor ʼn paar dae weer daar verbyloop op pad stasie toe sien jy langs die ingang van die kantore ʼn plek met die naam van Bootleg DJ Café, en dan ʼn Chinese Reisagentskap (« Drs. Lee Vertalingen Chinees »), dan die Skyland Drukkerij met ʼn bietjie verder aan die Tapas Club (« Shisha Lounge & Restaurant ») en daarnaas die Proeflokaal De Ridder (waar ʼn waarskuwing in die venster jou daarop laat let dat « Consumptie Verplicht » is), en dan Koinoonnia, duidelik die setel van die Societas Studiosorum Reformatorum Roterdamensis. Die boom staan waar hy hoort in goeie geselskap aan die eindpunt van die ry openbare kunswerke wat die mens se ondergang en weerstand uitbeeld in brons.

Ou vriende, sommige staan nie meer so kierts teen die aanslae van tyd en tyding nie, en jonger onbekendes is aanwesig vir die seremonie. ʼn Klomp hemde met gedigte van deelnemers oor die jare hang in die boom. Sou dit die ex-voto van tereggesteldes wees ? Jy sien nie enige bloed of snotstrepe nie. Bas Kwakman maak ʼn mooi en bondige toespraak. Jy het ʼn klip toegedraai in sneespapier met ʼn grafskrif daarop geskryf saamgebring vir die okkasie. Dit word nou seremonieel oorhandig vir veilige bewaring aan die Rotterdamse digter, Rien Vroegindewij, wat dit op sy beurt sal besorg aan die volgende fees se inwonende digter.

ligt hier de onbekende dichter

zorgvuldig voorzichtig

als de donker maan in haar watergraf

ieder avond een weinig lichter

Gedigte word voorgelees, die plaket wat gelyk met die gras is, word onthul. Dan verdaag ons soos ganse oor ʼn werf na die nabye Van Gennep Boekhandel vir meer gedigte en ʼn gesprek. Voor die boekwinkel is daar die driekwart mensgrootte bronsbeeld van ʼn kêrel, bokbaardjie en wegstaankuif, jas aan, kitaar in die hand : Speenhoff – dichter, zanger, tekenaar uit ʼn vorige eeu. ʼn Tokkelaar dus. Die regte buurman vir die onbekende digter onder die plat steen. Saam sal hulle sing. En op die hoek is daar nog steeds die groot portret van Multatuli teen die muur, met die aanhaling : « Van de maan gezien zijn we allen even groot. »

*

Vanaand in die hotelkamer sal jy die boomhemp wat jy present gekry het aantrek vir ʼn bruilofsdans, wit soos sneeu, met swart skoelappers oor die bors, en pronk voor die spieël. Miskien sal jy ʼn daaiding oopvou, soos ʼn pou die stervere in ʼn teater sprei :

(uit : die digter en die gedig)

 

om ʼn gedig te skryf

is soos ʼn hond dood te maak

hy weet vooruit die donkersny kom

en wurg aan die tou

met verskriklike tande

 

oë wat uit oogkaste peul

bloed en derms in die agterplaas

soms het jy bytmerke aan die hand

en brommers sing lofliedere

om die karkas se geskeurde vleis

 

wanneer vuurblomme swart mond in die nag

blaf iets onverwags onder die slaapkamervenster,

jy kyk na die geslagte woorde

met bewerige lippe

en voel hoe komma en punt jou hare

soos die diakritiese tekens van ʼn gedig

 

*

Dis tyd om om te draai. In Parys op die stasie is ʼn klavier neergesit. Jy kan dit wen as jy goed genoeg is en verfilm word terwyl jy speel. ʼn Amateurpianis speel sy hart uit. Hy het groot hande met baie vingers, hy swaai die hande rond asof hy van hulle ontslae wil raak, asof die vingers lastig en taai is. Af en toe klap hy homself teen die kop. Maar die note rinkel onder sy vingers met die klank van klippies waaroor ʼn sterk stroom vinnig vloei.

Skrywer en Leser sal weer die ondervindings wat hulle saam en afsonderlik deurloop het besoek, die paaie waarlangs hulle gewandel het, die landskappe wat hulle oë bevlek het, die seisoene wat ʼn bed so groot soos ʼn reis was – soms vars en bleek, soms natgesweet of koorsig van drome, soms soos ʼn somber kombers wat begin skif en waarin dooie dinge toegedraai word, en met pluime rook soos stil rouklagte.

Dis ʼn afstand doen, ʼn afskeid neem van wat nie beskryf kan word en nie ophou bestaan nie. Dis ʼn sigbaar maak van die klankweefsels wat die wêreld in al sy verbuigings bind. Dis gedeelde grond wat hulle opsy sal sit omdat dit geskiedenis is.

Die geskiedenis is wat voor hulle oopgaan, wat saam deur Leser en Skrywer geïnventeer, geïnventaris, bestryk en geporsie gaan word al proe die hand en die mond ook nie dieselfde nie.

Leser, kom saam

op hierdie reis oor seë

met meer ink as roem en dieper as vaam

sodat jy mag weet

die laat-gaan is jou binnenaam

*

In Katalonië word dit stadigaan herfs. In Poble Gran, onder die woud van aangeplante platane wat so hoog groei dat dit lyk asof hulle die wolke verflard, sal jy daaraan dink dat die wêreld vol onbekende digters is.

uit uitvee kom vorm /

ʼn laaste vlieg uit die nag

kleef met dooie gewig

aan hierdie skryfhand /

voordeur en rame is dig

geswel van die reën /

die hele aarde deurweek

ruik nou na oneindigheid

se groei / ʼn allesomvouende

asem van damp en vlerkskaduwees

van gisters en mis

verglinster / verduister die tuin /

mossies op die telefoondraad

versonke in gedagtes gewigtig

soos nat vere /

daar is sien in beweging

van die newel

wat ʼn verdigting bome

teen die oorkantse heuwel

skielik na die hand rig /

hoër berg-op waar wimpels en lappe

wolke word

blaf ʼn enkele hond stotterend

(more…)

Breyten Breytenbach. Klein Reis (ex Africa, ex nihil…)

Friday, January 10th, 2014

  

Klein Reis (ex Africa, ex nihil)

 

                                                           Over the island

                                                          A wind of voices

                                                     Vibrant with the deep

                                                     Song of human dignity

                                                       Murmurs messages

                                                 Of peace and responsibility

                                         And that movement becomes a space

                                                         For freedom to:

                                                          Imagine Africa

 

Dis die teks van die etiket op ons eie rooiwyn. Jare gelede het ons ʼn prysenswaardige besending goeie en diep wyn uit die Robertson distrik geskenk gekry danksy die bemiddeling van ʼn dame met visie. Of medelye? Ons het self die etiket ontwerp. Die bottels is in vraghouers hiernatoe verskeep. Abdou Salam het weke lank moes onderhandel met die doeane om dit die land in te kry. (Abdou Salam, so pas terug van ʼn pelgrimsreis na Mekka, moet na regte nou El Hadj genoem word.) Die klompie bottels wat nog oorskiet is byna almal suur of muf. Sterrestelsels wentel, alles kom tot ʼn einde om in ander gedaantes of gedagtes elders op te vlam.

Die uitsonderlike voorreg was dat so min mense in hierdie Moslem-omgewing daarvan gedrink het dat verlooptes soos Jek en ʼn paar heidene vir jare kon geniet van die wonderlike vrug van Rooiwal se wingerd. Diep laat-aand drome is bekonkel en groot verskille finaal die nek in geslaan rondom die houttafel in die binnehof van die Residensie terwyl bokke iewers in die nag hulle droewe opsommings van die lewe kreunend blêr en die sterre oorhoofs soos gekristalliseerde frangipaniblomme bewe in die wind. Die bokke weet slagting is hulle voorland.  

*

Ons moenie (net) treurig wees nie. Dis goed om soms melancholies te wees – of dan, dis goed om te weet dat dit deel is van die siklusse wat ons ervaar. Nie net op intieme vlak nie maar ook die groter wêreld daar buite. Ons sjôr almal op verskillende wyses deur die driwwe waar sterre versuip. Dis sekerlik makliker om uiting te gee aan mens se ontsteltenis of aan die triestigheid van drome en ideale wat bitter geword het (ek praat nou bv. van die Suid-Afrikaanse ontnugtering) as om die vreugdes van die tekstuur van lewe te artikuleer of om, hoe krities dan ook, vas te hou aan die onderliggende droom, die ‘dieper reg’ se behoefte/begeerte vir andersmaak en andersword wat tog die oorspronklike voedingsaar van mens se betrokkenheid by ‘n historiese proses is. Maar dis net so belangrik om te wéét en te ervaar dat ons seker altyd met hierdie tweespalt sal saamlewe – die dialektiek wat inhou dat dit wat goed is, die droom van bevryding en vooruitgang vir almal, ook die korrupsie en die verspilling meebring – maar dan in ‘n groter siklus van beweging waar dit belangrik is om te onthou dat mens nie net “aanhou beweeg om gedig te maak nie” maar dat jy ‘n agent vir verandering is en dat dit die moeite werd is. 

Twee stukkies vertaal uit ‘n opstel van Pierre Zaoui – in beide gevalle verwys hy na Spinoza se denke : “Die enigste ware vreugde is in ons aanwesigheid in die wêreld en in die vasgryp van alles wat nog lewe, wat kragtig is en selfs in die hart van ongelukkigheid oorlewe.” En: “Mens moet ook leer (of aanleer) om partykeer treurig te wees, al is dit slegs as beskerming (of teenwig) teen die buitensporige of narkotiese vreugdes wat maar al te dikwels lei na ‘n nog groter triestigheid. Want daar is eweveel onmag in die persoon wat nie weet hoe om te treur nie as in dié wat hom (of haar) nie kan verheug nie.”  

Dis in daardie konteks van aanvaarding en van sin maak van die sinnelose dat ons die ritmes van saamwees en van verskeurdheid moet leer verstaan of akkommodeer. Dis iets heeltemal anders om pessimisties of swartgallig of selfs fatalisties te wees! Jek weet byvoorbeeld dat daar sedert “la chute” ʼn skerper aanvoeling en gevoeligheid is vir beide die intensiteit van ekstase en die dieptes van ellende, vir die pieke en klowe en veral vir die groot wisselinge tussen die twee. Dis vermoeiend maar nie fataal nie. Jek weet ook dat daar dimensies ontsluit is waarvan ons voorheen nie bewus was nie, nie so nie : hierdie intieme vertroue beide liggaamlik en geestelik waar vertroudheid lei na ‘n groter begeerte om verder en dieper te gaan. Jek weet nie wat dit bring of mag beteken nie maar wil graag glo dat dit ook ‘n verryking is.

Natuurlik verbeel ons mekaar en in dié sin beantwoord die verbeelding dalk aan ‘n behoefte of ‘n verlies of iets wat mens mis – en tog glo ek dis meer as net verbeelding of alleen die voltooiing van iets binne mens. Want dis ook waar en dit het ook ‘n eie geskiedenis en dit kom van ver af… Die metafore van ʼn 1000 jaar waarmee ons die pad probeer oopmaak wil eintlik net sê dat daar aansluiting is, ‘n komplementering en ‘n verder-beweeg-verby-grense binne ‘n groter harmonie wat nooit ‘normaal’ sal wees nie en miskien nie die wette van swaartekrag gehoorsaam nie. En dit het nie ‘n afsnypunt nie. Of nié voordat die bottel leeg is en daar klonkend oorgegaan word in drome van wind en donker reise nie. Dit is hoekom ons nie (net) verdrietig mag wees nie.

(Jy/ek ­­= jek ; my/jou = mou ; myne/joune=moune) 

*

Eintlik is dit wat ‘lewe’ genoem word maar net ʼn klein reis. Dit, die reis, is  die storie van mou lewe. Soms verwar ek dit met die landskappe, die medereisigers wat ek langs die pad ontmoet, die wind wat kuiwe maak in die wolke – asof dit moune sou wees, en hierdie omgewing dan die land-in van die oopkoms waar alle verbeeldsels oorly.

Wat is woord en wat is waarheid ? Is Jek dan nog steeds so gekontamineer deur onkunde dat die vraag sin maak ? (Wat is oord en wat aarheid ?) Maar mens luister nie. Ou mense is ongehorig ! As ek dit wat deur die flardes van ʼn « Klein reis » gedek word saamlees is dit die lappiesjas van ʼn laat lewe. Dis nie moontlik om ʼn lewe te skryf nie – die skrywe is dan juis die pad. Skrywe is ʼn stomp koorsigheid, ʼn reislus gebore uit ʼn stel aanduidings of ‘afsprake’. Nog skrywe nog lewe kan herwin word. Solank jy daarmee besig is verander dit… This is not an autobiography

 

Jek weet maar al te goed dat die mate, die afmetings en dalk selfs die metrum van ons medeliefde bepaal word deur hoe ons omsien na ander, na hulle wat ons aandag en simpatieke meelewe verdien, daarop geregtig is (al word daardie aanspraak weggesteek of weg beredeneer om partykeer op te  duik as irritasie of as ʼn misverstand), sy dit kontraktueel of uit vrywillige en innige vorige bande, of omdat hulle eksistensieel deel van ons lewe is, die bindstof van gedeelde herinneringe, of afhanklik van ons, of bloedfamilie, of omdat ons verantwoordelik is (teenoor watter moraliteit?) vir die morele of etiese perspektiewe wat ons nog moet ontwikkel aan die hand van mens-simbole (ʼn Gandhi, ʼn Madiba) wat vir ons staangemaak is  om as voorbeelde na te streef. Of sommer net omdat ons lief vir hulle is.

Dit is tog, buiten daardie obsessie met die eie grafiek, wat ruimte en diepte en ʼn weerklank  gee aan die moontlikheid van deelneming.

Op die foto hierbo staan ʼn groepie mededelers van die destydse Dakar beraad (Julie 1987) wat direk gelei het tot die totstandkoming van die Gorée Instituut. Aan Van Zyl Slabbert se regterkant staan Penuel Maduna – wat sou van hom word? – en dan Archie (kom ons noem hom maar so) die ANC verteenwoordiger in Dakar.  Later sou dit blyk dat hy ook ʼn informant vir die Boere se Spioenasiediens was; ek vermoed hy lê roemloos iewers in ʼn sloot toegegooi. Langs Jek staan Benoît Ngom – hy was ons gladdetong pleitbesorger by die Senegalese owerhede – in gesprek met ʼn minister uit President Diouf se kantoor. En heel op die ander punt staan N. A. Liebenberg – een van die weinige kere, sover ek weet, wat hy met ʼn kamera-oog gesien is. Ons wag vir die wind.  

*

Wat bedoel Jek met “memory of wind” behalwe nou dat dit ʼn evokatiewe frase is? Wie was die mense wat hier die realiteit van vroeër tye belewe het? Hoe sou ek ooit weet? Hoe kan dit deur enigiemand voorgestel word? Is die verlede nie ons storie nie? Wat het die mense agtergelaat – want hulle staan altyd op vertrek? Wat is die substansie van wind? Beweging? Maar wat bly oor van beweging? Die stof in die bome? Hoe onderhandel mense met hulle verlede? Doen hulle dit regtig? Hoekom? Waarom sou hulle? Wat gebeur in interaksie? Is enigiets – houding, samestelling, produk – ooit nuut? Hoe? Wat is mutasie? Hoe gaan dinge verlore? Gaan hulle ooit werklik verlore? Van watter nut is geheue?

Saam-mekaar-andersmaak, ‘together-each-other-different-make’ – hoe verskil dit van transformasie? Hoekom moet daar getransformeer word? (En ek het nie die mislikheid waarop die term in Kakland ingemond word in gedagte nie.) Waarom en hoé praat-praat (thinktalk) ons oor hierdie verskynsels? Wat laat ons agter behalwe leë bottels en die gesuis van wind in die nag wanneer die voëls nog slaap?

Mense het gekom en gegaan. Selfs in Jek se tyd. Sommiges na hulle vlak grafte op die vasteland. Ek sien hulle gesigte nog duidelik, hoe hulle loop, die geritsel van hulle lag. Jek ook het gekom om nou te gaan. Somtyds gaan hy terug en ontdek die sluier voetstappe. Vir mou is dit ʼn skryfloop deur verskeie boeke net soos die wind verskuif en verskuifel is in die sand. Jek loop terug oor daardie bladsye en probeer die voeteval van geheue opdiep om die tekens uit te werk. Dit wil voorkom dat skrywe die oombliklike geheue-neerslag van bewussyn sou wees wat vervaag tot die palimpses van onthou se uitveegsel.

 

Natuurlik is dit méér as slegs die aanteken van spore waar iets vir die brewwe moment van passasie opgeflikker het en toe gesnuit is, méér as net die brandmerke van die verbygaande vlam. Om te skrywe is ook ʼn beweging wat nuwe grense daarstel. Oorkant daardie grense van ‘definisies’ en ‘uiting’ is ook ʼn wysiging van wat nié aanwesig is of gesê word nie. Die ongeuite word gewysig en miskien selfs gevorm deur dit wat wel verklaring kry. Dis hoe voortdurende verandering in werking gestel word. Herinnering is dus ʼn sedimentering, die nasaksel van bewuswees wat vorm teëkom. Dis eiestandig, onderworpe aan verslyting so soos beendere vergaan tot stof.  Maar dit is eweneens die deurlooplyn se in-gedagte-hou, ʼn aandenking van die feit dat die leeg (of die vol) daar buite anderkant geheue lewe.

So is die skryfwees ʼn proses (soos om op die eiland te arriveer) met ʼn dagbreek wanneer vraatsug na die in-beslag-neem (eiemaak) van ʼn nuwe territorium ontsluier word, die ure van die dag wat oënskynlik ingeslote beweging is, en die afskeid neem. Daar is altyd die droewige besef dat jy nie kon vasmaak wat jy wou vermag nie, dat dit alles te gou neusie verby is, dat ek te veel leë woorde opgeroep en laat aantree het net om dooie ruimte af te pen.

Geen doeltreffende uiting tensy dit wat geuiter word goed geïntegreer is nie. Geen effektiewe integrasie as daar nie veruiterliking is nie. Alhoewel, as jy jou gedagtes nie verder as die verwagte na die Anderkant kan neem nie, watter kans is daar dat jy enigiets anders kan maak?    

Die gedagte kom by mou op dat ek sou kon sê die skryfwerk, die herinnering aan wind, is ʼn eiland soos hierdie een. Dis marginaal, nie ver van die kus nie, nie verbind aan die vasteland nie behalwe onderlangs onder strome en die besoedelde seestraat waar allerlei visse en vaartuie die onsigbare deurgange kontroleer; dis ʼn dagsoom van hibridisering, daar’s geen ‘suiwerheid’ hier nie en weinig wat oorgebly het van die ‘oorspronklike’ bewoners; mense kom en gaan en al wat oorbly is die wind wat hul stemme gedra het.

Maar dit kan ook die plek wees waar basters gebore word en ʼn nuwe taal ontstaan. Dit kan nie ʼn plek van wette wees nie. Jek mag hier tuishoort maar dit kan nooit aan hom behoort nie. “Le propre de vivre sur une île est de partir…”

 

Na gelang die woorde vorm aanneem in die skryfdaad, uit (die) mou kom as wemelende versamelplek wat bewe van flardes waarop alles geskryf staan en waarvan ek net geweet het as skuur en skuring, as towergrot en skoelapperdroom, begin sien ek wat Jek is en wat hy doen of dink. Die uiting word die bewussyn. Probleem is dat dit in woorde verstrengel raak.

Jy skryf die niet. Die skrywe kom voort uit die niet. Jek skryf: niet. Augustinus het verwys na hierdie wordende, om die temporaliteit van die leë te vul, as “extensio animi” – oftewel, hoe om die tyd in ritme te verwyl.

 

            die reënwind, laat in die seisoen

            het vensterdeure laat klap

            en takkies uit die bome gepluk

 

            maar vanaand is die see rustig

            soos ʼn vrou wat diep en dikwels

            bemin is, en in die donker nog onthou

            van die mane in haar skoot

 

*

Robert Huchard, skrywer van “Autour de l’Afrique”, het Gorée in 1873 besoek. Wat my bybly van sy mooi beskrywing is hoe dit eindig, waarskynlik een laat middag, wanneer hulle wegvaar. Die eiland sink weg in die see, “’n vreemde rots wat op onverklaarbare wyse bo die getye uitsteek.” Hy kyk na die kus van die vasteland waarheen hulle op pad is – “somber, sonder kranse, sonder onderbreking, gelyk en dood soos die onmeetbare Sahara daaragter, tot niet gemaak, stil, en dit ook onder die groot verorberende son. En terwyl ons bark verder seil onthou ek soos ʼn droom: ʼn hospitaal, ʼn fort, ʼn kaserne – al wat oorgebly het op Gorée van ʼn eens welvarende verlede, ou sterwende dorp wat nog net die plek is waar doodgemaak word, waarheen jy kom om te sterwe.”

Ek weet nie so mooi van doodmaak nie, behalwe die katte wanneer daar te veel van hulle is (en dit moet ʼn nie-Moslem wees wat dit doen), en die gereëlde en rituele massaslagting van skape. “Waarheen jy kom om te sterwe…” is dalk ʼn ander storie. 

Louis d’Estampes (“La France au Pays noir”- 1892) haal ʼn bekende spreekwoord aan. “Wanneer die baobab haar blare verloor (die droë seisoen) sterf die swartes; wanneer die koraalbome bot (die reënseisoen) sterf die wittes.” 

 

*                      

ʼn Munisipale regulasie het in 1865 nog bepaal dat diere op straat verbied word. Rondloperdiere sal geskut en verkoop word. Inwoners word beveel om soggens voor agtuur die helfte van die straat voor hulle wonings skoon te vee. Na agt saans mag griots nie meer hulle dromme slaan nie. Ook mag daar nie hande geklap en in groepe op straat geloop en gesing word nie en « die blindes mag nie in hulle huise of binneplase of op straat skree nie. »

 

                    wanneer dit lig word

                    is die eiland nog stil :

                    die stil buitelyne en stylfigure

                    van mense wat buite slaap :

                    vodde versaakte vleis

                    gewikkel in veelkleurige lappe :

                    een vrou sit regop

en prewel met gebedekrale

die name van god :

die son wat ʼn vuurglas

gaan maak van die see

sal skerfmaan en sterre wegvee

onder voue van die hemeldoek :

die lettergrepe van opsê en sterwe :

drie witterige honde soek baas

op die strand :

woue wiel

 

*

geitjies, akkedisse, geelgesigvoëltjies, valke, vlieë, vrot reuke van maanontbinding, die eenbeendanser maak klippies bymekaar as wapens in sy toring om die passies van woorde uit te spel in die na-aap van poësie.

*

In die nag besoek Jek sy vriend V in Anderplek. Wat hom opval is dat alles hier oorwegend in bloue en perse getint is en dat die plek ʼn gevoel van ruimte en gerief gee. Tot sy verbasing sien hy dat sy vriend nog net so stewig in die vlees is as altyd. Hulle het ʼn lang gesprek en daar is geen spanning nie. Of hy enigiets mis ? Volg hy wat in die wêreld aangaan ?

V antwoord rustig, op sy gemak, en is vol grappies. Dis duidelik dat hy hom tuis voel hier in Anderplek. Hulle gaan speel pluimbal buite op die gras en dis goed om te sien hoe ballet-agtig V beweeg, hoe rats en lig hy op sy voete is ondanks die groot lyf. Baie besoekers het klaarblyklik hier kom dag sê (nag sê ?) vir hulle afgestorwe naasbestaandes en geliefdes en boesembuddies,  want toe die klok lui om die einde van die kuiertyd aan te dui word die besoekers in ʼn konvooi vervoer deur die blou en pers omgewing terug Wêreld toe… Die Wêreld is oënskynlik meer gekontrasteer, leliker, daar is ʼn daagliksheid van lewe met beskilderde boomskuite en duiwe en baasspelerige kraaie (in Anderplek was daar ʼn wind van stemme, selfs tydens die puk-puk van die pluimbalwedstryd kon die dynserige melodieë gehoor word, maar opmerklik geen voëls nie) – en tog is dit asof die dag-werklikheid slegs ʼn vel oor die chaos is, broos en verflenterd gespan oor die byna sigbare beendere net onder die oppervlakte van sien, die hoekighede en die vrot kolle. Die basaltrotsmure is swart van vuur, vlamme dans oor die klippe en rook draal bo die see. Jek kyk na die dartelende en swiepende swaeltjies bo die Poort van Terugkeer wat ʼn groepie kunstenaars van Réunion, afstammelinge van slawe, laas jaar hier kom oprig het en met sang en wierook en borde seremoniële offerkos ingewy het. Dan gaan dryf hy op sy rug in die baai en kyk na die onpeilbare en bodemlose blou hemel. Daar is ʼn paar strepe wit wolke asof van rook. Sou Anderplek anderkant die blou peilloosheid wees ? En as V nou die veerbal te hard sou slaan en dit na benede stort in die see – sou dit aangesien word vir ʼn dooie voëltjie of ʼn vlek papier wat op die water dryf ?.. By die huis spoel ek die sand van my voete, vertel vir Vieux dat ek op reis was in die nag en vir V gesien het (hy was die oprigter van die Instituut – ons het hom Papa genoem) en dat dit goed met hom gaan. Vieux is bly.

 

Ek is agter met my korrespondensie – en sommer ‘n klomp ander goed ook. Dit bly drukkend warm en bedompig op die eiland, tot so ‘n mate dat mens eintlik net enkele ure per dag kan werk, gewoonlik vroeg in die môre of dan laat in die nag indien mens nog wakker en vars genoeg is. Die plek het baie agteruit gegaan, dis vuiler en meer vervalle as ooit. Maar dis seker die lot van die wêreld want dit gaan oral slegter alhoewel nie altyd om dieselfde redes nie. En tog is ek bly om hier te wees. Partykeer dink ek Jek is heeltemal eilandmal (hier is ‘n paar malles op die eiland) – fatalisties, gelate, met min belangstelling in wat elders aangaan. En dan is dit weer nie so nie, is dit ‘genesend’ om op ander en dalk dieper wyses te herstel en dinge in perspektief te sien. Om anders te dink oor mens se eie werk. Om nuwe projekte te wil aanpak. Eintlik is dit lekker om terug te wees tussen my mense, gesprekke te hê, betrokke te raak by die doenighede – ook die Instituut s’n – en as ware op die rand van die wêreld te sit waar daar min sentimente is en lelik en mooi ewe intens ervaar word met weinig oordeel of selfs onderskeiding. Tussen die gruwelike en die verwaarlosing deur is daar momente van vervoering, ekstase selfs. Dit bly iets besonders om die lig silwer oor die see te sien daag, om buite te wees wanneer die buiteslapers (baie mense slaap buite in die stegies of op enige oop plek, miskien om te ontsnap aan die ergste hitte) nog skaars begin roer, en om dan heuwel op te loop.

Binnekort kom die omdraai. Die weer is ook traer, die wyn word min en die muskiete meer. Dan maar liewer terug Europa toe vir eers. Vanoggend is daar ʼn pluimbal op die houttafel in die binneplaas waar ek gewoonlik brekfis eet. Vieux, die opsigter wat tans aan diens is, sê hy het dit so daar gekry toe hy soos gewoonlik nog voor ligdag opstaan vir sy oggendgebed op die matjie. Watter kant lê Mekka ? Hy gaan daarna soos gewoonlik die plante afspuit.   

Geweld… Ons het so pas Saterdag klaar gemaak met ‘n tweedae-lange “Ronde tafel” simposium oor die mate waartoe die media (joernaliste) in Wes-Afrika die begrippe van vrede, menseregte en dergelike aanhelp – of dan juis die vure van geweld stook. Eintlik ‘n ontgogelende ervaring: om in die stomende hitte (die verkoeling in die saal kon eenvoudig nie bybly nie) tussen ‘n dertigtal mense te luister na relase, land op land, van afgryslikhede, geweld, marteling, doodslag. Werklik “verslae van die front.”

             

Jek moes die verrigtinge inlei en toe weer afsluit. Ek het gevoel ek kan werklik nie voldoen aan die verwagtinge nie. In Afrika is die neiging nog steeds om alles te mitifiseer – die persepsie geskep (die beeld en die woorde) word byna nooit gedekonstrueer nie. Hulle sien my dus as ‘n soort gesaghebbende wat gepaai moet word en dit is omdat SA ‘n mitiese wêreld is vir die meeste mense op die kontinent – terwyl dit eintlik veel meer kru en teleurstellend is as byna enige van die Wes-Afrika state. Maar woorde tel, gebare tel, rituele tel. Mens voel die tasbare (en vasvangende) aanwesigheid van woorde. Eintlik kan mens byna enigiets sê solank die ritme en die deling daar is. Ieder geval, ek probeer daaroor skryf, weet nie of dit moontlik gaan wees nie.

Desperate mense probeer vlug uit die ellende. Hulle sal enigiets doen, al is die kanse op verdrink of omkom van die honger op pad of moord ook hoe ongenadiglik hoog, om in die hemel te kom. Dit help nie jy verduidelik dat die hemel ʼn interneringskamp op Lampedusa is (hulle weet dit) of dat dié wat lewend deurkom tweedeklas nie-burgers in Europa is nie. Skaduhonde. Hulle is die bevolking van die Middelwêreld. Hulle is ondergrondse nomade.

Ek wens ek kon vir jou sê ek weet hoe hierdie dinge werk – die angs, die aanvaarding, die byna klewerige weerstand wat verhoed dat mense afstand kan neem, die verskriklike kontradiksie (en dis ‘n verskrikking) dat die menselewe tegelyk die opperwaarde is en as van geen belang geag word nie. Dit waartoe ons in staat is, die dun lagie van wete (van self of van die ander)…  Al hoe meer dink ek gedigte is eintlik maar net intieme korrespondensie, berigte of briewe aan enkelinge gerig, en dat dit so gelees en ‘verstaan’ word. Eintlik is dit ook die enigste manier om die ander, die jek, te leer ken. Of deur die kors te breek. Terwyl ‘n narratief of ‘n verhaal tog meer gemeenskaplik is en ʼn huid oor die chaos span.

 

 

die Coumba Castel kom laai al om die uur

bokke met klokke en dik stemme af –

oor drie dae is die massa-offering

van diere, dié wat in die plek

van die eersgeborenes geslag word

veertig dae na die einde

van ʼn maand se vas –

die bloed sal nog warm wegsypel

in slootjies in die sand –

maar intussen hang hulle peesters

lank en pienk en viriel uit die harigheid

tussen die bene

 

vroegoggend met die eerste oorvaart

verskeep die Coumba Castel

die toegelakende lyke van hulle

wat in die nag gesterf het

na die vasteland waar die laasgestorwenes

in vlak grafte weggelê verword

om vir ewig te vas

 

intussen van land na die eiland se kaai

en terug wanneer die dag in lig baai

bring die Coumba Castel jong meisies

met donker borste en trosse ingerygde krale

waaroor eindeloos gekibbel word

om die ure om te kry

 

  

*

Haar naam is Fatou. Sy is elf jaar oud, maar Jek glo dit nie. Sy is dan so klein, reik skaars tot aan sy heup! Sy dra ʼn verslete rokkie en plastieksandaaltjies. Haar hare is kroes en rooierig, so asof sy aan ondervoeding lei. Haar tandjies staan so effens uit. Haar slim ogies trek op skrefies wanneer sy glimlag. Toe hy weer kyk was sy daar by hom hier agter die golfbreker waar hy kom swem in die skadu van die gevangenismuur. Gewoonlik is hier byna niemand nie – die strand is te klipperig en die water onstuimig – net soms ʼn paar jongelinge met hulle draagbare konfoor gestook met ʼn stokkiesvuur waarop ʼn treksel kruisementtee prut. Meeste mense swem in die beskutte en vlakker baaitjie waar die pirogues uitgesleep word, soms met ʼn sparteling silwer visse in die bodem, en waar allerlei gemors op die strand uitspoel. Sy sal tog nie haar krale hier kan verkwansel nie ? In ieder geval, toeriste is skaars vanjaar. Sy maak ʼn halfhartige poging om hom om te praat om ʼn halssnoer te koop, sy sê haar ouma maak dit en dan probeer sy dit verkoop. Dan bly sit sy knoes langs hom en kyk uit oor die glimmende golwe. Hulle het min om vir mekaar te sê.

Die volgende dag is sy weer daar. Sy groet hom skamerig, kompleet asof hulle ʼn afspraak sou hê. Kom sit langs hom in die sand. Vandag is sy meer spraaksaam en nuuskierig. Sy beweer sy kan swem tot aan die punt van die hawehoof. Ek glo haar : die eilandkinders is soos klein dolfyne in die water, duik vir die munte wat passasiers van die Coumba Castel soms na hulle gooi. Sy wil weet of ek getroud is en waar my vrou dan is. Later streel sy byna liefkosend oor die haartjies op my voorarm. Wie het die kraalstringe om my nek gemaak ? Hierdie een is van my vrou, sê Jek. En die ander een is van my dogter. En die armband met die fyn kraaltjies wat Imagine Africa borduur ? Weer my vrou, sê Jek. Dis baie mooi, sê sy. As jou vrou meer wil maak sal ek dit vir haar verkoop. Wanneer Jek regmaak om te loop (want waaroor sal hy tog met so ʼn klein dogtertjie gesels ?) gee sy baie plegtig vir hom ʼn cadeau, ʼn geskenk – ʼn sleutelring van ʼn paar krale saamgeryg, en frons haar klein gesiggie ontsteld toe Jek haar daarvoor probeer betaal. 

*

Van die Chevalier de Boufflers – veelwywer, minnaar van faam, soetbekjakkals, amuseur de salons, libertyn, goewerneur van Gorée (tot Voltaire het sy gevatheid waardeer) – is gesê dat sy lewensfilosofie saamgevat kon word in : « Indien dit u welgeval om bemin te word, wie sou dit beter doen as ek, want ek leef net vir u, en om dit so te stel, danksy u ? »

Boufflers word verstrik in die Revolusie. Bonaparte, in ʼn oomblik van grootheid van siel, sorg daarvoor dat Boufflers se naam geskrap word van die lys van uitgewekenes wat verbied was om terug te kom. « Laat hom terugkeer ; hy sal vir ons liedjies skryf. » Maar die man wat weer la patrie se strand betree is nie meer die vleier-verleier van weleer nie. Hy is bedroef, stug, in homself gekeer, moeilik. Die eens briljante ridder sou nie weer madrigale slyp nie. Die skip wat hom teruggebring het, die 20ste November 1787, se naam was, ironies, le Rossignol.  

*

In Februarie van daardie einste jaar het hy nog aan Madame de Sabran, die geliefde vir wie hy ʼn bruidskat in Afrika probeer bymekaarmaak het, geskryf dat hy ʼn Negerinnetjie van 2 of 3 jaar oud gekoop het as geskenk (cadeau) vir Madame la Duchesse d’Orléans. « Sy is mooi, nie soos die dag nie maar die nag ; haar oë is sterretjies, en sy is so lief en so soet ek wil huil wanneer ek dink dat die kind soos ʼn skapie aan my verkoop is. As jy haar sou sien by die Palais-Royal, praat asseblief met haar in haar taal en soen haar met die gedagte dat ek haar ook gesoen het en dat haar gesiggie daarom die ontmoetingspunt van ons lippe is. » En om die epistel mee af te sluit : «  Ek gaan nou lê en probeer slaap met jou in my gedagtes, soos kinders soms maak wanneer hulle met ʼn lekker in die kies insluimer. » 

*

bruid in die water met swaeltjies

 

wanneer dit lig word

dryf ek op my rug in die see

tussen opdrifsels plastiek en papier

al die ou gedagtes

 

aan die een kant het die maan gaan lê

in die gevlekte lakens van ʼn sterwende nag –  

ver oorkant ʼn ander land

                                     van woude en woestyne

gaan die son opstaan uit wolke

                                    soos komberse oor die see

al die ou gedagtes

 

bo draai swaeltjies die tydwiel se ratte –  

eers net twee want so was die teken

                                    van paring en verbintenis

en dan ʼn dartelende en uitrygende swerm

vliegwieletjies

soos gate in die huweliksrok

                                    motte se ou-onrus gedagtes vertel

 

hierdie rots gaan swart gloei –

die stank van bokbloed weggesyg in die sand

sal mettertyd uitspel

in sillabes vlieë van die eindelose taal

waar die begrawe derms vervel –  

en die bruid se hemelruim word ʼn slaapvertrek

waar die woorde van die moskeeroeper

al die ou gedagtes  bring en laat kring

tot bid in die gebede bed

  

*

Ons lewe na ʼn grens. Miskien om minder pyn te hê, of beter te kan sien, of minder in die pad te wees of langer te mag lewe. Of om te reis. Asof die reis, omdat alles om jou afspeel, sou bewys jy bestaan en ʼn substansie het. Sonder die reisiger immers geen reis nie. Sonder waarnemer geen beweging nie. Die skynbaar eindelose en einderlose lig van wolke oor ʼn landskap.

Jek besef opeens dat hy die afgelope vier-en-twintig uur onophoudelik gereis het. Altyd in byna intieme nabyheid van ander. Hy sien en hy lees hulle houdings, die plooi van hulle lippe wanneer hulle slaap. Eers op die boot van die eiland na die hawe, die see was opstandig en ruig en donkerder sedert ʼn paar dae maar nog steeds lou op die vel wanneer jy gaan swem. Die Amerikaner aan boord met die jong Senegalees wat hom ‘help’ met Frans, volgens hom is die huise op die eiland voorbeelde van Franse argitektuur, dit laat hom aan New Orleans dink, hy is hier om die plaaslike manier van djembe’s speel te bestudeer, hy self slaan al sedert drie-en-vyftig jaar die tromme. Jek dink die man is gay. Samba en Hamidou wil albei Jek se koffer dra. Jek is die “grand frère”, die beskermheer van skoenpoetsers. Hulle kan nie lees of skryf nie al is Hamidou nou ook reeds getroud en al dra hulle donkerbrille. Hulle wil hê Jek moet hulle in ʼn groot tas wegsteek en saamneem paradys toe. Wat hulle daar gaan doen om te oorlewe? Skoene poets, versool, los hakke vasgom. 

Jek en sy seun, Seydou

Dan in die nag verder. Die stad en die paaie is vol motors en openbare voertuie, cars rapides soos verfrommelde visblikke vol mense, met Allah se name en Koraniese spreuke beskilder. Seydou praat, praat, praat. Die hoofweg lughawe toe se lamppale is gedoof. Dakar raak agter in armoede. In die donker met so baie rokende en stink voertuie wat rakelings by mekaar verbyskuur, wat mekaar verblind, en met markstalletjies tot reg aan die pad en mense wat oral uitpeul en luier of die straat oorsteek is dit moeilik om nie iemand raak te ry nie.

En dan die lughawe – warm, vogtig, oorstroom met mense. Jek staan sy aan sy met mense wie hy nooit weer gaan sien nie, hy skuifel vorentoe lyf aan lyf, hy sal deur die nag vlieg in die byna binnekamerse nabyheid van vreemdelinge.  Niks ruik so onaangenaam as ʼn oorryp menselyf nie. Jek weet altyd dat hy op ʼn vliegtuig vol Senegalese is wanneer die toilette verstop omdat die uitskot nie weggespoel word nie, wanneer die toilette se vloere nat is en die wasbakke klots vol seperige water.

Jek is ʼn rassis. Hy hou nie van witmense nie. Op die eiland al is hulle aanstootlik wanneer hulle koeisaam as toeriste deur die straatjies kom slof – slordig en onvanpas aangetrek, vet en nors en seer gebrand deur die son, die ongemaklike suur vrouens met hulle growwe kinders en die mans met bultende of pap pense. In teenstelling met die plaaslike Afrikane wat op en af loop nêrens heen met dringende doelgerigtheid en mekaar opvorder asof daar brand in die huis is, hoe lenig en slank die vrouens, selfs vet is mooi aan sulke lywe, almal gepruik of met verlengde haardosse, die swaai van die heupe, die rondinge van buik en swelsel van borste. En die trotse mans, selfs die mees miserabele is gespierd, elk geklee in ʼn kleurryke gewaad. Die fierheid is oppervlakkig. Elke handeling is ʼn transaksie. Daar kan nie ʼn kontak of ʼn transaksie wees wat nie berus op die poging om die ander te uitoorlê nie. Alle kultuureienskappe gewaan of eg sal knaend aangewend word – die aanspreeklikheid van familie te wees, die omsien na jongeres en die eerbied vir ouderdom, die onverbiddelikheid van deel en die byna heilige aanspraak op uitdeel, seks, verleiding, lis, humor, onderdanigheid, lieg (nagaanbare feite is nie ter sake nie), namaking, gemaakte gekrenktheid. En werklike gasvryheid, mededeelsaamheid, intelligensie. Hoe die pa’s hulle suigelinge se gesigte in die see was, met teerheid, asof hulle skapies is.

Ons lewe na ʼn grens. Die nag word dag en die dag word nag en Jek besef hy is oral, op land of op see, in die lug of in die stad of op reis deur ʼn land wat gedreineer word van lig, waar rook skeef trek en mis begin draal oor riviere, waar maanlig ʼn sipresboom gaan vul met ʼn substansie donkerder as ink of as skaduwees – dat hy byna oral ingelyf is tussen ander mense en byna geen woord met hulle wissel nie. Die gedagte kom by Jek op dat hy onsigbaar is. Miskien is hy dood. Jek dink dat hy baie vlak deur baie oë beweeg het, dat hy waarskynlik slegs ʼn flikkering van hulle ervaring van reis was.

 

Gorée – Oktober, November 2013

© Breyten Breytenbach.

 

 

Breyten Breytenbach. klein reis as stippelkoei van ‘n jaar…

Friday, September 16th, 2011

            klein reis as stippelkoei van ‘n jaar se weggaan fragmente

                               en hoe die pampoen vrot geword het

                                                   (‘n nostos)

 

                                                “The poetic fact pre-exists”

                                                                                   -Ezra Pound

 

*

Ons het die koerante gelees. Baie.

Elke oggend het gekom met ‘n lading

geweld, verlies, droefenis, verwondering,

magswellus, paniek, intriges, bloed (baie bloed),

ekstase, leuens, oorloë en gerugte van oorloë,

dooie bergies en dooie dassies –

die neerslag van ou-ou verbranding

            en van donker chemikalieë

het ons hande met nuus bevlek

 

 

*

agter ruite buig die wind

wolke en see se wit fronsnate

na ‘n ander diskoers

 

die tyd van vye het gekom

en toe druiwe, en gegaan

 

‘n afskeidsvers as koei in die sloot

waar ons om die tafel sit

om saam die vis en die brood te eet

en die wynglas in ‘n ritueel van vertrek te lig

sodat son soos die bloed van tye nog glans

 

en ons weerkaatsings in die ruite sien

dansgebare maak

 

tot siens, tot siens

(goodbye Koos, goodbye)

 

*

lettergrepe wat mekaar te lyf gaan

met die kapmesse van wanhoop

 

*

ons sal vlieg: trekganse

in die ryspapierruimte

van ‘n ou skilder op die knieë

 

in die nag

wat ‘n verbeeldingsvlug is

sal ek aan julle dink

 

 

*

want om so oor Afrika te vlieg…

hierdie droewe smeulende landmassa

hang ‘n goiter aan die hart

met ver benede die geflikker

waar vlieënde metaaldrake

dood spuug

en ander gepantserde gedrogte

                        mure verpulwer

en dooies op straat bewegingloos dans

in verspotte posture en met

                        opgeblase pense

 

klein is hulle soos karakters in reistonele

van die ou Chinese meester

onbenullig soos daardie miere

                        wat die ontbindende vlees

woord vir woord sleep

                        na enklawes van verorbering

                        onder die soetdonker aarde

 

*

o die lewe is onvoorstelbaar

alhoewel dit al hoe meer voorspelbaar word

hoe langer jy lewe

(verby die die-by datum)

totdat jy die stel en die spel verloor

oorstelp deur die duiseling

van dansende engele op die speldekop

 

*

(this desert country / where every shadow / is a bird of comfort / for the unhinged poet)

 

*

die dood van jou vader

hy is lankal oorlede

sy dood bly jou by

as ‘n onderhuidse hede

‘n voortdurendheid onder lede

 

is soos ‘n smeersel diepkennis

wat lankal in jou brood

gesyg het

en soek jy nou ‘n soetigheid

van woorde

om daardie smaak

onsigbaar in die mond te maak

 

die lewe is

sluk vir sluk

‘n skryfoefening

 

*

(“Since his pet potbellied pig

wandered away from home,

Aiken Hart slumps into a depressive

dolour every time he smells bacon.”)

 

 

*

weg van hier waar die Suiderkruis se knypers

soos passers die oneindigheid

van die ewige nag afmeet

na ‘n ander halfrond

na die versteende denke van grys stede

 

na ‘n ander hemel

waar die môrester ‘n bakenvlam is

wanneer die ganse werf

swymel van jasmyn

en in die verte pieke wit rook

 

bekots met hoogte-asem

 

*

die dralende geur van lindebome

wat reeds hul bloeisels afgewerp het

oor die sypaadjies

verleë ligte leë ooglede

en in ander strate lilatakke in blom

ligpers oor mure getros

om af te loer

 

 

*

all is well

the moon in well

swelling a wet baby

 

moon is round

I shit a pound

talk to the hound

tomorrow sound

s’truth

 

*

daardie rookpilare oordag

en die vuurkolom in die nag

van die woestyn

dui die krematorium aan

 

dis goed dat alles wat ooit lewe was

nou die medegeleefdes se roet en as

is in die woestyn

om die soete weg te verlig

 

mens wil immers nie afdwaal nie

 

*

(“Corruption was correlated with earthquake deaths, haze was correlated with Shangainese deaths, and flipper banding by scientists was correlated with king-penguin deaths. Colombian officials seized a narco-pigeon, and Saudi Arabia detained a vulture affiliated with Tel Aviv University. Police in Phorzheim, Germany, detained an owl who was drunk on schnapps. Dozens of Romanian starlings drank themselves to death. One thousand Italian turtle doves fell from the sky with blue-stained beaks; 500 starlings and red-winged blackbirds were found dead on a road in Pointe Coupee Parish, Louisiana; and 4,500 Arkansas blackbirds were thought to have been killed by fireworks.” Findings, Harper’s Magazine)

 

*

 

 

*

hoe ek vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken om my ganse lewensverhaal vir haar te vertel, dringend, wie ek is waar ek vandaan kom hoe ek tot hier gekom het ek weet nie, hoe die woorde uit my tuimel en stort terwyl die reis se onverbiddellike onsamehangendheid buite verby die donker nagtreinvenster swiep – gloeilampe soos smeertrane, bosse, klosse dorpies, ‘n peillose nag, die stofmaan, duisternis vol lewe, alles wat wieg en skree soos ‘n trein se fluit ; hoe sy toe ek niks meer oor het om te sê nie en vorentoe leun in die kompartement met my hand op haar knieg so asof ek haar sou ken, nou leeg gebieg met ‘n tong wat te veel geword het in die mond en reeds nie meer weet wat was lieg en wat verbeeldingsklanke met die verhemelte en wat die onsamehangende onverbiddellikheid van ‘n nag wat verskiet in die niet nie, hoe sy wegdraai van haar afbeelding in die ruit die kombers opgetrek tot aan die skouers van haar knopperige lyf so asof sy bang is ek sal die vere sien, om haar oë so groot dié van ‘n uil agter die blinde brillense na my te draai en te sê: I’m sorry. You’ll have to come again.

 

*

 

*

nou dit reeds laat is

onthou ek dat ek ‘n paar indrukke

wou skryf –

hoe die maan gekantel het

en paddas kraak in die vywer

en hase en muise en wildeswyne

en geeste skarrel in die bos

en nou ek dronk van whisky is

onthou ek dat ek iets van hierdie dag

wou onthou om nie te vergeet nie –

 

dat die dag lig en vol kleur was

dat ek geskilder het

dat my hart gebrand het

van vreugde oor die lewe

van Mikis Theodorakis –

 

dat ek trots was op die verdraagsaamheid

wat dit vir my moontlik maak

om myself waar te neem en vergesel

en te geniet

deur die lied van ‘n paar indrukke

 

 

*

ken jy die stil vreugde

en eerbiediging

van ‘n ronde ou-heuningkleur

koekie seep

in ‘n vaalwit bakkie

met net genoeg groenerige skaduwee?

 

ken jy die nederige geskiedenis van son

en wind

van die skille onder die tafel

op die meester se doek

wat vertel van geloofsdade en wonderwerke?

 

weet jy dat speserye gebruik is

die naeltjie, die kaneel

om die vleeslike teen verderf te bewaar

en binneplaas en stoepkoelte daar is

om te oorleef teen hemel en woestyn?

 

*

niks saliger as dit

middernag verby

die maan byna vol

skerp reliëf van donker bosse

swaar en stil met voëls

en werf gebaai

in helder lighoofdige sluimermymeringe

van die ewig bestaande afwesigheid van son

die geur van jasmyn

groen sterre

en skielik weer

iewers uit die heuwel

jakkals se rillende tjank 

 

*

my mense, nou dit aand word

oor die wye land,

nou die geritsel van vlerke soos die klik-klik

                       van ‘n droë rugstring is,

nou soek ek julle wat name gehad het

en gesigte en hande en die warmte van tonge

 

ek het julle so lank in die woorde gelê,

voorgelê en vasgemaak,

dat die smaak van grond en son vervlieg het

en net die versuikering van beweging oorbly

 

verskoon my, julle wat nou skoon is

                       van alle vlees en tekstuur

en vergun my om oplaas saam

                       met julle te vergaan,

één en afwesig te word gestroop

                       van geheue

in die skuur van ewige reise

 

 

*

elke dag is toegooimooi

 

*

eers dán

by volmaanhelderheid

as onthulsel van stof

se stilte oor die werf

wéét jy vlees is pampoen

 

Blackface Buiteblaf

15-16 September, 2011