Posts Tagged ‘kleuterrympies’

Nini Bennett. Die keisers van die yswoestyn.

Sunday, August 20th, 2017

 

1.

Magellanic Penguin

Neither clown nor child nor black

nor white but verticle

and a questioning innocence

dressed in night and snow:

The mother smiles at the sailor,

the fisherman at the astronaunt,

but the child child does not smile

when he looks at the bird child,

and from the disorderly ocean

the immaculate passenger

emerges in snowy mourning.

I was without doubt the child bird

there in the cold archipelagoes

when it looked at me with its eyes,

with its ancient ocean eyes:

it had neither arms nor wings

but hard little oars

on its sides:

it was as old as the salt;

the age of moving water,

and it looked at me from its age:

since then I know I do not exist;

I am a worm in the sand.

The reasons for my respect

remained in the sand:

the religious bird

did not need to fly,

did not need to sing,

and through its form was visible

its wild soul bled salt:

as if a vein from the bitter sea

had been broken.

Penguin, static traveler,

deliberate priest of the cold,

I salute your vertical salt

and envy your plumed pride.

(Pablo Neruda)

*

Neruda was waarskynlik goed bekend met die Magellaanse pikkewyn, ’n Suid-Amerikaanse pikkewynspesie wat voorkom aan die kuslyn van Argentinië, Chile en die Falkland-eilande.

‘Ernstige’ poësie oor pikkewyne is skaars; aan die ander kant bestaan daar ’n magdom kleuterrympies oor dié magiese seevoël wat nie kan vlieg nie. In ’n sekere sin kan ’n mens dit verstaan: op die oog af vertoon pikkewyne speels en koddig en is die diere omgeef met ’n aura van onskuld en fantasie; naïwiteit selfs. Tog is pikkewyne is ook bekend as simboliese draers van oorlewing, herlewing en vernuwing; ewolusie; liminaliteit; beskerming; sosiologiese struktuur en behoud; lojaliteit en onkonvensionaliteit.

Liefhebbers van poësie en ekoliteratuur sal beslis inspirasie put uit die televisiereekse Planet Earth 1 (2006), Frozen Planet (2011) en Planet Earth 2 (2016), ’n kragtoer waarin die aarde se vername ekosisteme in ultra hoë definisie verfilm is. Laasgenoemde minireekse spog met ’n IMDb-gradering van 9.3 / 10.  Alhoewel die produksies enkele brandpunte binne die ekologiese wêreldagenda aanspreek, is dit dokumentêre reekse wat nie die liriese inboet ter wille van ’n saakliker wetenskaplike beskouing nie – dit is films waarvan die inhoud lank ná die kyk daarvan steeds op die silwerdoek van die verbeelding bly uitspeel.

2.

Die keisers van die yswoestyn

Dan begin die uitmars van die keisers, ’n mankolieke parade terug na die plek van ons geboorte. So leef ons al vir duisende generasies: die plek van ontmoeting is ook óns broeigrond, ’n honderd myl land-inwaarts, weg van die predatore wat in die seewaters skuil. In die suiderland lewe ons, ’n kennis sonder wete, ’n instink sonder begrip. Dit is hier waar poolreisigers omkom en sterfkennis opdoen.

Miljoene jare gelede het ’n onervare skepper die vastelande geskuif en opgebreek; die land het gekraak in reuse fragmente van tektone en ys. Van die plate en ysskotse het weggeskeur en breuke in die aardkors gelaat, aswolke van rook en ys smeulend bo vulkaankeëls en -kraters. Die aarde gee geboorte aan haarself, sy spuug water en vuur en ysberge breek weg van die bevrore see. Die yswoestyn is bitter en ongenaakbaar en die koue brand alles dood: slegs die meesters van oorlewing – smele, kristalwiere en pêrelkruid – kan op die ysskilde oorleef. Die fumerole vlam, ’n egeïese blou asof die sneeuskaduwees hulself aan die brand steek. Gletsers kruip stadig oor die ysdekke see toe en die sneeu val sonder ophou, flikker in strooilig oor die landskap terwyl die wind fluit teen die rotse, die rotse se nerwe skaaf tot alles verdwyn in ’n eindelose wit, gestroop van diepte, vorm, vlak of kleur. In die somermaande spog die rotse met die weelde van antieke mos.

As die wind nie waai nie, verbeel ek my dat ons ondergletserse mere en lawavloei kan hoor borrel. Soms is dit stil, en luister ons bloot na die rotse se skerwende stilte. Die berge is geseën met fossielvuur, olie, steenkool en aardgasvelde. Daarom vind ek dit ironies as die mense na die suiderland as ‘godverlate’ verwys – hier brand die gees van ’n godheid soos ’n helder wit vlam en is oorlewing bruut: die onmoontlikheid van lewe word herbevestig met elke generasie keisers word gebore word ten spyte van die geweld van die wind en weer. Want die tydloosheid van die glasiale tyd leef in ons: hiér is ons hartland.

Meimaand kondig die mees dramatiese seisoenswisseling op die planeet aan, die koudste en donkerste winter op aarde as die son sy gesig wegkeer.

Ons antieke verhouding van teerheid, skeiding en hereniging het begin toe jy my raakgesien het tussen die duisende ander. Jy het regoor my kom staan en jou kop gewieg in ’n onhoorbare serenade. By tye het jy soos ’n standbeeld geposeer, snawel in die lug met jou ooglede half toe, maar ek kon die lig ondeund in jou oë sien skreef. Koudliewend is ons, en maatgetrou: een liefde vir altyd. Tot die dood van ’n kuiken ons weë noodlottig skei.

Die mane het gekom en gegaan en vroeg in Junie het ek die eier op my voete uitgebroei. O, die wonder, die trots, want as die keisers van die yswoestyn het ons net een kans op lewe: één eier. Die mees angswekkende oomblik in die suiderland is die omruil van die eier tussen die moeder en die vader. Die liefde kan in ’n oogwink sterf as dit wegrol op die ys, oopkraak en swart verkleur soos die klip van die dood.

Ek moes teruggaan see toe om vis te vang vir die kleinding, maar alles het sonder voorvalle verloop; die eier nou veilig in jou broeisak geberg. Die vaders, die broederskap van keisers, bly agter.

Ek en my susters val in gelid val en begin aanstryk. Die pad is lank. Die kameraderie op die broeigrond, die vaders wat die eiers verder moet uitbroei, is een organisme van behoud, hitte en lewe. Juliemaand tref die ergste koue die suiderland as die temperature daal tot onder tagtig grade vriespunt en die wind snyp teen ’n honderd myl ’n uur. Maar jy is ’n alfa: die swakker voëls vertou op jou. Biddend soos pelgrims en rug-aan-rug met net die lyfdun leefhitte van dié rondom jou vorm julle ’n ondeurdringbare offensief teen die koue. Wagtend, of is dit die leegheid van verwagting..? Sommige van my susters gaan nie terugkeer nie; omkom van honger of uitputting langs die pad of perdalks die prooi van ’n predatoor word – dit is die lotgevalle wat enige een van ons kan tref. As ’n moeder sterf, is dit ’n dubbele sterwe, want die kuikens kan nie oorleef sonder die eerste volwaardige maaltyd – silwervis of planktonkrefies – wat die moeders hulle kropgekluif gaan voer nie.

In die suiderland is die wet van die lewe suiwer, dit is lewe of sterwe, niks onnatuurlik of kunsmatig tussen-in nie. Daar word nie teen swakker voëls gediskrimineer nie; hulle sterf met ’n nederige oorgawe aan die skepping, gaan lê en wag tot die dieper slaap hulle oorval en die gees verdwyn in die oneindigheid van materie. Dit is die mens wat in opstand kom teen die dood, dit vrees met sy arrogante aannames van ewigleef. Na alle waarskynlikheid vermoed diere meer van die dood as mense. Mense wat so graag die aarde se relieke versamel en bereid is om ver te reis of duur te betaal daarvoor: Himalaja-sout uit Pakistan, die heilige haliet of steensout, die pienk kristal wat die onsigbare kan reinig; seewater uit die suiderland, voëlvere, skulpe, grond…die relieke van die aarde is die draers van genesing en lewe maar die aarde eien haarself geen relieke toe nie. Materie sterf nie, en of dit kreng of kompos is, die kouevuur bly een van entropie. Materie verander bloot van gedaante, en lewe is die omdigting van ánder lewe.

Die dae word weke, en al waarvan ek bewus is, is die monotone gewieg van my susters voor my. As ek moeg raak van loop, seil ek op my maag verder. Soos die ys begin smelt, gaan my kragte ook vinniger taan, al klop die hartjie in die eier sterker by die dag. Maar ek beur voort met die wete dat jy op my koms wag; dat jy jaloers oor ons eier waak. In my geestesoog kan sien hoe jy na die wind hap om yswater te drink. Jy kan vir vier maande, of op die uiterste honderd-vyf-en-twintig dae sonder kos oorleef.

Ek kyk na die hipnotiese gang van my susters en begin te doom. In my oergeheue onthou ek: dit raak nou somer in die Noorderland.

Maar die somer is kort, net ’n fuga van die trekvoëls. Die woud haal asem; kruisbekke en neutkrakers maak nes en beitel sade uit die dennebolle, en kort voor lank is die bome gevul met gevleueldes van verskillende kleure en groottes. Voëls sing die woud se longe oop.  Herte en linkse verskyn tussen die stamme, en eekhorings ontwaak in hulle slaapgate, toegedraai in hulle liggaamshitte: die lang winter is verby. Moese trap met hulle steltagtige bene die ys los en wolpoothase wip dankbaar nader om aan die struikgewasse te knabbel.

In die yswoestyn in die verre noorde kruip ysbere, kariboes en lemmings uit hulle skuilings vanuit die warm, geheime binnelewe van die onderste laag sneeu, die pukak. Elke gemeenskap het sy tricksters en outsiders, en die poolvos verander slu van jas: die spierwit pels raak nou donkerbruin. In die agtergrond is die immer sluimerende gevaar, die gryswolwe, en die muskusbeeste met die droewige bruin oë trek ’n kring om hulle kalwers wat onlangs onder die sneeu gebore is.

Die Noorderland is vol wonders. Arktiese lupien beur deur die ys en staan regop in helderblou blomme. Sterker as die doderyk is lupien, soos die liefde – ná tienduisend jaar se slaap onder die sneeu kan dié meerjarige kruid steeds ontkiem.

Ek skrik wakker uit my sluimering toe my voet teen ’n klip vashaak en ek amper my balans verloor. Ook net betyds, want ’n stormwind ontplof in die sneeu. As dit nou somer was, het die voëls gedisoriënteer grond toe geduik – en die mense, wat soms buite hulle navorsingsbasisse rondloop, sou soos slaapwandelaars in die witsig bly dwaal het, soekend na hulle koepelvormige tuistes waarvan die sneeu so maklik afgly.

Groot is my en my susters se verligting toe ons ná vele dae ’n kraak – ‘n lewenslyn in die ys – gewaar. Kortpad see toe.

Koorsagtig duik ons af in die skeur; ons vinne propeller ons lywe vorentoe en ons sweef deur ons tuiswaters. Diep onder in die marienewêreld lyk dit soos ’n séance; skyn ’n groen demplig en verander by tye in skakerings van blou, afhangend van die refraksies: turkoois, kobaltblou of lapis lazuli.

Ons vlieg stroombelyn met ’n moeitelose vlerkopswaai en vlerkafswaai, ons asem borrelend soos sterstof na bo.

Maar die seeluiperds weet ook van ons koms en ons het nie tyd om te verspeel nie: ons moet soveel moontlik eet want ons kuikens gaan binnekort uitbroei en ongeduldig wag met swaaiende koppe skril van die honger.

Ek slaag daarin om van my dodelike vyande te ontkom, maar van my susters is nie so gelukkig nie. Die kraak in die ys raak rooi van die bloed.

Dan daag einde Julie en ons moet terughaas kolonie toe. Met ’n ingebore kompas en toe oë val ons weer in gelid, ons mae vol seekos. Ek voel versterk, maar die kommer bly aan my knaag: ek wonder of die eier veilig is. Éintlik is ek te bang om myself af te vra of jy en ons kind nog leef. Die sneeu, nou sagte perkamentlig, sif eindeloos oor ons neer. En weer droom ek van die somer in die Noorderland.

Die yswildernis ontwaak, ’n boomlose haaivlakte wat plek maak vir moerasse en boslande met dwergbome vol oumansbaard, heide, en bessiedraende struike. Hoër op suid begin die passasies van die bome tot die bergland oorgaan in ’n woudgordel, soos katedrale van sneeu. Wilgers, seders, else, berkebome, lorke, sparre en silwerbome baai in ’n towerspel van smeltwater en lig. Fototrope is gode. Die vinnig smeltende ys wissel van kwiksilwer – die snaardun koue wat aan takke bly hang – tot die helder ysigheid van edelgesteentes, of die rilling van aaneengerygde sterlig.

Ek beur voort. En die dae sleur verby. Ek en my susters raak moeg en staan by tye eers stil om te rus; dan luister ons na die geveerde stilte, of kyk na die bevrore landskap met die groen ys vol alge, of die blou skynsel van oeroue ys. Teen dié tyd het jy reeds die helfte van jou liggaamsmassa verloor; leef jy op die genade van vetreserwes en hang jou swart en wit verekleed los om jou buik. Gelukkig is die kolonie is net enkele dagreise ver. Met hernude krag du ek voort: die kuiken kan nie veel langer sonder kos oorleef nie.

Die ys begin te smelt, die land kraak in ‘n reuse découpage en die yswoestyn raak broos en ontvanklik vir lewe.

Ek hoor die broederskap se gesnater van vreugde ’n myl ver – en jóu getrompetter – wat ek tussen ’n duisend ander sal herken.

Die spilpunt van my bestaan is ons kuiken wat nog geen geen spore getrap het nie, maar die gevoelsritme van loop leer ken het deur bo-op jou voete te staan; al het sy reeds ’n duisend treë gedans, het sy dit nog nooit op die ys gewaag nie. Ook het sy nog nooit die lewe buite die broeisak ervaar nie; sy is te jonk en dit is te koud daarvoor.

Sy herken my instinktief en druk haar kort, spits bek teen myne sodat ek haar kan voer. Die ruil van die kuiken tussen die vader en moeder vereis – soos in die geval van ‘n eier – konsentrasie, vaart en tegniek, en soms verloor onervare ouers hulle kleingoed. Nalatigheid is net ’n oogwink weg. Die oudste weemoed op aarde is die dood van ’n kind. In die ry voor my het ’n suster net sekondes té lank getalm om die kuiken oor te skuif na haar broeisak…

Nuuskierig en skuinskop skuifel ons nader. Die wees moedertjie kyk verslae hoe die ysnaalde neersif oor haar kuiken. Sy stamp met haar snawel aan die bevrore donslyf, maar dit is reeds dood. Eers het die ys sy eiers geëis: nou is die kuikens wat die ergste Julie-koue kon oorleef, aan die beurt.

Die droefheid skarnier uit haar bors: sy ween tot ook dít later wegsterf in sagte skaafgeluide en sy bly opkyk in die lug met nougeskreefde oë.

Maar die verlies maak van haar ’n gedugte vyand – en ’n grypdief. Oombliklik swaai sy om; klap met haar vinne na my en stamp my weg. Ek verloor amper my ewewig en flap verwoed terug, maar sy mik vir my oë met haar bajonet-bek.

My kamerade is gewoond aan hierdie gedrag; duld dit nie en my susters snel my te hulp met ’n gesketter en peitsende vinne om die kinderdief van my af te weer en ek druk my buik net betyds oor my kuiken. My vlugspiere pyn, maar my kind leef, al skree sy van die vrees.

Die aanvaller strompel weg, doof en blind van verdriet, doof en blind soos die sneeu om ons. Ek voel innig jammer vir haar, maar kan haar nie help nie – dit is te gevaarlik, want die drang na moederskap is allesverterend. Troos is immers net die ander gesig van treur, en empatie die verlengstuk van jou eie verdriet – die projeksies, verweer of nákennis van ou pyn.

Met my mollige lyf pantser ek die kleintjie teen die koue. Sy loer groot-oog uit die broeisak, en as die wind opsteek, trek sy kleinkoppie bo-op my voete met die skurfgeloopte swemvliese.

Die dae breek nou ligter. Dit is amper lente: jóú beurt om see toe te gaan om te gaan visvang vir ons kuiken.

Ek kyk hoe jy wegstap. Jy is jonk en fier en daar is krag in jou stap; jy veer jou liggaamsgewig van links na regs. En as jy terugkom, keer ons saam terug see toe, dan maak die somer ons kuiken verder groot. Want hier is ons terra incognita, ons enigste paradys met die bevrore ondergrond waar die Jeti se voetspore wyd en diep lê. Dalk was ons maar altyd hier, die keisers van die yswoestyn soos tydsreisigers van die ewigheid.

Verwysings

https://www.poemhunter.com/poem/magellanic-penguin/

http://www.whats-your-sign.com/symbolic-penguin-facts.html