Posts Tagged ‘Knapsekêrels resensie resensies’

Resensie: Knapsekêrels (Pieter Fourie)

Sunday, July 2nd, 2017

Omslag

knapsekêrels deur Pieter Fourie. (Naledi, 2017, ISBN: 978-0-928316-77-3, Formaat: Sagteband, 143p.)

Resensent: Amanda Lourens

Fourie se knapsekêrels wat onlangs as ’n lieflik versorgde bundel by Naledi verskyn het, is onomwonde een van die groot digterlike verrassings van die laaste paar jaar. Fourie, wat met hierdie bundel die status verkry as die oudste debutant in die Afrikaanse poësie, het egter hoegenaamd nie nodig om hom op dié status te roem om vir sy bundel ’n plek in die Afrikaanse poësiesisteem te verseker nie. Ongeag ouderdom of digterlike ervaring is knapsekêrels ’n bundel wat deur ’n bedrewe woordkunstenaar tot stand gebring is, soos blyk uit die uiters digte, maar weliswaar oënskynlik eenvoudige verse.

As eerste gedagte: Lesers moenie dink dat “knapsekêrels” met sy bladspieël van min woorde enigsins ʼn “maklike” lees gaan wees nie. My eerste lees was eerder ʼn kennismaking met Fourie se sonderlinge taalgebruik en onpretensieuse styl, maar dit is veel later eers dat die betekenis begin deurskemer het. En ná die lees en oorpeinsing hiervan is dit steeds asof daar ʼn nog verdere dimensie is wat my ontglip. Tyd en herlees sal hopelik hieroor helderheid bring.

Ander resensente het reeds gewys op die verbande en gesprek tussen hierdie bundel en Van Wyk Louw se “Klipwerk”-reeks, maar dit is waarskynlik belangrik om ook op die titellose insetgedig te let, met sy toespeling op Opperman se bekende “Vakansiebrief”:

in onrus sit ’n oompie

mymer: “my dae verdwyn

soos kwartels in lang gras”

besin

ryg string na string

woordkrale in

In ʼn onderhoud op Versindaba vertel Pieter Fourie hoe hy as student onder Opperman se leiding werklik met gedigte kennis gemaak het. Die leser sou die raaiskoot kon waag dat Opperman se destydse uitspraak oor Blum se debuut (“ʼn Digter behoort te debuteer soos Blum. Met agting vir sy vak”) Fourie moontlik met sy eie debuut laat wag het totdat hy werklik meester van sy vak geword het. Vir die groter poësietoneel, so terloops, is dít dalk die beste raad denkbaar.

In hierdie kort gedig lê belangrike sleutels tot die bundel, wat te make het met die digter se selfverklaarde skeppingsproses, maar ook met die leser se benadering tot die bundel. Die digproses is hiervolgens een waarin besinning sentraal staan, en daarna volg die inryg van die “woordkrale”, oftewel die afgemete woorde wat in kunstige stringe naas mekaar gerangskik word om betekenis tot stand te bring. Dit is dus ʼn strategie waarvolgens die ervaring eers deurdink word, en daarna word die woorde gekies wat die ervaring en die betekenis daarvan die beste verwoord.

Terselfdertyd moet die leser bereid wees om met min woorde te werk – moet hy of sy die gapings sien en interpreteer. Die Opperman-vers lui oorspronklik “my dae verdwyn / in stiltes soos kwartels in lang gras”, maar in Fourie se bewerking word juis “in stiltes” verswyg; terselfdertyd word die nienoodsaaklike sinselemente weggelaat. En dit is juis hoe Fourie dikwels werk: Net die allernodigste word gegee, en noodsaak die leser om aktief tot die dans van betekenisgewing toe te tree.

Terselfdertyd is daar ʼn ooreenkoms tussen Fourie en Opperman in die sin dat beide sterk uit die aardse put, maar dat daar deur die gedigte gevul met aardse beelde tog ʼn sterk bewussyn van die groter strome van lewe en dood loop. Die Opperman-gedig werk onder meer met beelde wat ten nouste met die aardse verband hou, maar wat direk tot die mens spreek en ʼn soort atavistiese verlange ontlok:

[…]

Die berg se donker lies, vars spore

Van die likkewaan en kuttels van ʼn bok

Roer iets in my van lank tevore;

[…]

Dieselfde sensitiwiteit vir ou herinneringe wat terselfdertyd met die groter vraagstukke van menslikheid verband hou, word duidelik by Fourie gesien, soos byvoorbeeld in ʼn gedig soos “gompou” (p.93).

Fourie skryf gedigte wat intiem met die Suid-Afrikaanse bodem asook die fauna en die flora verband hou. Die taalgebruik is deurgaans gestroop, maar die digter bedien hom op ʼn meesterlike wyse van streekstaal wat baie in onbruik vervalle woorde en idiome weer na die oppervlak bring. Die versbou is eweneens ekonomies, en enumerasie is ʼn tegniek wat dikwels ingespan word – hetsy vir die opeenstapeling van naamwoorde of werkwoorde ten einde op essensiële eienskappe of handelinge te fokus.

Knapsekêrels, volgens die HAT, is ʼn “onkruid (Bidens pilosa) met (dun swart) klitserige saadjies wat aan klere en die wol/hare van diere vassit as dit daarteen skuur” – tot die ontvanger se groot frustrasie, soos alle Suid-Afrikaners sal kan beaam. Fourie se verse haak hulle letterlik aan die leser vas, en noodgedwonge sal jy dae lank herkou aan ʼn op die oog af eenvoudige gedig soos byvoorbeeld “suurklontjie” (p.56), wat handel oor vervreemding en verlies:

vreemd vir mekaar

draai ons

beteuterd om

.

dis nie meer

dieselfde nie

.

in die wegstap

kan ons net gis

.

iemand

het ’n stukkie

uit die maan gehap

.

Hierdie soort verkonkretisering van emosie word deurgaans gesien.

Aan die ander kant is dit ook by uitstek die knapsekêrels van die lewe waarvan Fourie gedigte maak – die groot temas van lewe, liefde, verlies en dood; ervarings wat universeel bly kleef en nie losgelaat kan word sonder deeglike besinning nie.

Die bundel bestaan uit sewe afdelings met interessante titels (ek moes my in twee gevalle na die woordelys agterin wend om die betekenisse na te slaan). Hulle is: “kiekie”, “knelter”, “oumeidsoen”, “veervolk”, “goljaartjie”, “duwweltjie” en “stilte”. “Oumeidsoen” beteken “ʼn besoek aan die Kaap en veral Tafelberg, nadat jy die ‘oumeid’ by aankoms op die stasie moes soen”. ʼn Goljaartjie is “’n vroligheid (vrolikheid? – AL), bokjol, joligheid”. Die bundel beweeg dan ook rofweg deur momente van aanskouing, aardse belewing, hoop en ontgogeling na ʼn sterk doodsbesef, maar dan wel een waarin die wete van lewe uiteindelik die opponerende – en kreatiewe – mag word.

In ʼn paar van die gedigte in die eerste afdeling word portrette van bepaalde maakprosesse aan die leser voorgehou. Daar is onder meer ʼn putgrawery, waarvan die uitkoms veel meer as net die vind van water is: “kyk op / hygenthert / helderoordag / sienderoog / die sterre skyn!” Ook kom daar “pragskywe / wit boerseep” te voorskyn, sowel as “ʼn dosyn / mudsakke sout” en “blink / ses zinksalfblikkies / snuif!”. Hierin kan moontlik ʼn basiese respek vir kreatiewe prosesse gelees word, sodat die leser al hoe sterker begin uitsien na die digterlike produkte wat gaan volg.

In die afdeling “knelter” sou ʼn mens gedigte verwag wat handel oor struikelblokke of knelterpunte – die HAT dui juis aan dat “knelter” ʼn verouderde vorm vir “kniehalter” is. Teen die verwagting in, behels hierdie afdeling egter vele gedigte wat op die aardse, op basiese drifte, en op spys en drank afgestem is. Die gedig “aftreeman” (p.37) gebruik heelwat enumerasie om die waarde van beeldende taal vir ʼn beter begrip van die natuur te illustreer, en wys terselfdertyd op die enorme kreatiewe moontlikhede wat die lewensfase van “pensjin” inhou:

 

ek pensjin vandag

vyftig jare

op hierie plaas

.

kry dak oor my kop

’n tuintjie

water

weiding vir dertien bok

.

sal nie op my gat

loop sit

september

jaar wat kom

speel ek perdalks

veldgids

vir blom en plantjie

.

in elke raakvatnaam

’n feëverhaal

vir die reg verstaan

.

verneukhalfmensies

rooikalkoentjies

ouma-met-die-bont-skoentjies

.

skotteloortjies

bob’jaantoontjies

poublommetjie

gansies

swartoognooi

.

basviooltjie

ghaap

wittjienkerientjee

.

klapklappie

piempiempie

kamiemie

 .

waterkannetjie

witkaree

boesmankers

.

ystergras

.

as my eerste lam

vir ooi se biesmelk kniel

trap ek vir hul

’n stofkap uit die riel!

.

Die uiterstes van uitsien en hoop teenoor ontgogeling en aftakeling is ʼn belangrike tema in die derde afdeling (“oumeidsoen”). In “kaap toe” (p.51) word daar met min woorde omgegaan, maar die gedig is skrynend in die uitbeelding van die hoop op die “eendag” wanneer dit moontlik sal wees om te ontkom aan die doodse roetine van blote oorlewing:

leeftyd al werk ek

vir patat

soutsnoek en brood

jy baar

maak kinders groot

.

kaap toe

kaap toe

dit moet ons nog doen

.

nie hoorsê nie

ons eie

oumeidsoen

.

Hierdie afdeling is dan ook een waarin die lyding van die arbeider treffend uitgebeeld word in byvoorbeeld die skrynende “dopstelsel” (p.63), met sy ontginning van streektaalvorme soos “hondjie byt” (rugpyn as gevolg van baie bukwerk) en “die swartvarkie skrou” (die drang na drank).

“Veervolk” bevat ʼn aantal knap verse oor verskillende voëlsoorte, maar Fourie gebruik die voëlportrette ook om skerp kommentaar op die menslike aard te lewer, soos byvoorbeeld in “namakwaduifie” (p.80) waar diegene sonder vertoonsug gesien word as met selde ’n swak plek in hulle mondering:

parmantig laag

in vlug

eintlik

gevaarlik

.

vertoon paartyd

nooit

met pronk en fuif

weet sommer net

.

lae profiel

het selde ooit

achilleshiel

.

Die gedigte in “goljaartjie” handel onder meer oor ʼn oorgawe aan die aardse en sensuele, maar behels ook omskepping in die gees van medelewing, soos blyk uit “onthaal” (p.85) wat omgaan met die Bybelse gegewe van die water wat deur Jesus op die huweliksonthaal in wyn verander is. In die lang gedig “plaasskuurdans” (p.89) kom verskillende stemme (in die gedaantes van verskillende musiekinstrumente) aan die woord, sodat die eindproduk ʼn bont mengelmoes is waarin die universele verhaal van lyflike begeerte vertel word. Die volheid en rykheid van die aardse word aangetoon in “kotiljons” (p.98-99). Enumerasie word ook hier ingespan, maar nou ten opsigte van aksies, waaruit die vitale aard van die Karoo-omgewing blyk:

die dag wemel

skitter

sing

skyt

pis

gons

.

stokoud

karoo-kotiljons!

Die bundel loop ten einde in die afdeling “stilte”, wat ʼn reeks gedigte oor verskeie vorme van sterwe insluit. Daar is dié wat sterf om deur die mens as voedsel geniet te word (“slak” en “hemelhappies”); daar is sterfte as gevolg van die mens wat die dierelewe probeer beheer (“sterwende hond”) en deur ongelukke en met ’n gevolglike bevraagtekening van God se ontferming (“begrafnis”). Tog verken Fourie die ineengevlegtheid van lewe en dood op ʼn baie subtiele wyse. Die slot van “sterwende bobbejaan” (p.132) dui aan hoe die sterwende moederdier tot aan die einde nog lewensbron is:

dan

sleep sy hom

styf teen haar

.

oë dof

haar hand

gee pram

.

Die slotgedig (“voorland”, p.134-135) gebruik taal wat intiem aan die aarde verbonde is, om die mens se uiteindelike bestemming te verbeel:

ons soek

deur kakiebos

asbos

taaibos

na nuwe veld

’n buitepos

[…]

wei ons

verneukpan in

.

vind

die buitepos

.

bokveld!

Hierdie slot vir die bundel kan natuurlik ironies óf metafisies gelees word, maar die digter laat dit aan die leser oor.

Dit is werklik moeilik om aan enige punte van kritiek te dink. Elke vers is tot in die fynste besonderhede afgerond en elke woord is op sy blik. Die bundelopset is deurdag en geen gedig skaad die groter geheel nie.

Met hierdie bundel het Pieter Fourie die dwarslat vir debute sommer héélwat gelig.

Bronne:

Esterhuizen, L. 2017. Onderhoud met Pieter Fourie (knapsekêrels). Versindaba. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/2017/05/17/onderhoud-met-pieter-fourie-knapsekerels/ [2017, 18 Mei].

Hambidge, J. 2017. Klokhelder stilte uit ’n bedrewe hand. Die Burger: 29 Mei, p.7.