Posts Tagged ‘Koos en Jakob’

Wicus Luwes. Kulturele ervarings danksy Lego

Monday, November 4th, 2019

 

’n Oud taalonderwyseres laat weet my ’n bietjie meer as maand gelede dat sy besig is om te trek na ’n kleiner plek en dat sy ’n paar ou digbundels het wat ek by haar kan kry as ek sou belangstel. By my aankoms vra sy uit na my kinders en vertel my van haar kleinkinders. Ons bespreek wat dit verg om ’n gebalanseerde klein mens op te voed. Daar was natuurlik die blootstelling aan akademie, sport en kultuur.

“Hoe stel jy jou kinders bloot aan kultuur?” vra sy.

Ek kon haar vertel van die kitaarlesse en die onlangse toneelstuk waarheen ons die kinders geneem het. Ek kon haar vertel van die kersopvoering waarin ons kinders deelneem. Ek het egter nie een van daardie dinge genoem nie en het, sonder om ’n oog te verroer, na die volgende onderwerp gespring.

Miskien was dit omdat my kinders se nuutste Lego-skepping in my gedagtes opgekom het, dat ek nie aan die kitaarlesse en kersopvoering kon dink nie. Lego. Hoe kan die boublokkies kultuur verteenwoordig? Op watter manier het my brein kultuur en boublokkies aan mekaar verbind? Ek het begin dink aan wat kultuur vir ons verteenwoordig en hoe ons dit miskien  kan toepas op boublokkies.

Koos van der Merwe in die galery

.

ou koos kyk rond en lyk benoud

hy staar en frons aaneen

en die kurator wil hom hulp verleen

gaan prewel sonder voorbehoud:

“neem dié portret, ie pro porsie 2 x 1

’n hier en daar, ’n hoog en wyd

beraming van ’n manlikheid

formele beide vort

en ook in toom

’n hard en sag ’n lank en kort

die x-as y-as xy-chromosoom

het u dit ook so opgelet?”

en koos sug, antwoord met

“ja danki maar uhm sê gou net

jong waar is die toilet?”

 

deur: Loftus Marais uit Jan, Piet, Koos en Jakob (Human & Rousseau: 2019)

Die aktivering van die verbeelding

Die boublokkies aktiveer definitief die verbeelding op ‘n besonderse manier. Jy moet tog seker kreatief begin dink voordat jy die kasteel of seerower-skip bou. Die kleinspier-ontwikkeling en ander vaardighede het ook ‘n belangrike rol te speel in die praktiese uitleef van verbeeldingsvlugte. As ouer lees jy van spelterapie en kinders wat moet leer kruip om hul taalvaardighede te verbeter. Die aktivering van die verbeelding is ‘n deur wat makliker en moeiliker oopgetrek word deur verskillende kinders (en volwassenes).

Die volg van instruksies

Daar is ‘n stel ongeskrewe reëls wat uitspeel in die kultuuromgewing. Die boublokkies het ook gewoonlik ’n instruksieboek wat wys hoe die Hogworths-skool of die Batmobile gebou moet word. Dit leer natuurlik die kinders ruimtelike insig en hoe om instruksies te volg. Die natuurlike kreatiwiteit kom dan ook tot die oppervlak wanneer die kind nie meer die instruksie volg nie en sy eie geboue en ruimtetuie begin bou.

Die praktyk

Daar is natuurlik ’n stukkie kuns in die goeie uitvoering van ‘n taak. Die kuns lê in die interpretasie van die verbeeldingsvlug. Die boublokkies is in ’n sekere sin eintlik sommige kinders se eerste kennismaking met die praktiese sy van verbeelding. Nuwe wêrelde word in die verstand van die kind geskep.

Invloed op die populêre kultuur

Die boublokkies het ‘n ongelooflike impak op die moderne kind se ontwikkeling. Watter kulturele invloed dit op die ontwikkeling van die kind het, is natuurlik die vraag. Dit het wel ‘n onteenseglike invloed op populêre kultuur. ‘n Mens kan maar net na al die flieks en TV-reekse kyk om te sien hoe Lego deel geword het van die samelewing.

Die verandering van kultuur

My kinders bou nie ossewaens nie. Sover as wat ek weet is daar ook nie volkspele Lego-mannetjies beskikbaar nie. Op watter manier wil jy jou kinders blootstel aan kultuur? Op watter manier wil jy die kultuur vernuwe of miskien herdink in plaas van herdenk?

Die kleure van Lego-blokkies het deur die jare ook verander om klein dogtertjies aan die wonderlike boublokkies bekend te stel. Ek is seker dat daar al ‘n groot persentasie van verkope na die vroulike mark toe gaan. Lego het die potensiaal om tradisionele manlike beroepe aan dogtertjies bekend te stel.

.

Piet X

 

hy is ‘n noord-pretoriase donder

hy toet vir learner drivers wat voor hom gaan staan

hy vloek op armes wat by verkeersligte

net voorruit was, sonder om te vra

hy dink ‘n double cab is ‘n familiemotor

sy lewe ‘n balansstruuk tussen liefde vir sy derde vrou

en irritasie met sy stiefkinders

hy is ‘n middeljarige en harige rekruut van daardie ligte

afstigting bearbei deur die solidariteit-beweging

tog: dikwels saans gaan sit hy by sy rekenaar en lees

en luister op die internet na al die “unexplained

sea sounds” – meegevoer, met stuyvesant en frons

sy gunsteling is upsweep, en ook slow down

die ongoddelike vreemdheid in die afluister van oseane

ondanks hidrofonika en spektrogramme

het die wetenskap g’n antwoord vir die spookgerase nie

– dis nie duikbote of ysberge wat kraak nie – en

soms raak sy oë byna waterig oor die patrone

in die dieptes, al die teorieë, klank so hol

wat sê dit dat ‘n wese soos piet x

geroer word deur die tjanke van verbeelde seemonsters?

 

deur: Loftus Marais uit Jan, Piet, Koos en Jakob (Human & Rousseau: 2019)

 

Die verteenwoordigers van die handelsmerk

Ek het gaan soek na die maniere waarop die Lego handelsmerk aan kinders en die groter mark oorgedra word. Ek kon nie ’n Ronald Macdonald of Kolonel Saunders kry wat Lego bemark nie.

Ek sien net oral die klein glimlaggende geel mannetjie sonder ’n naam. Die mannetjie word Harry Potter of Batman. Die geel mannetjie word ’n ruimtereisiger of ’n loodgieter. Lego verteenwoordig daarom die kultuur van ons tyd, maar op ’n sekere vlak word die kind self ook die Lego-mannetjie. Die verteenwoordiger van die handelsmerk word die kind wat daaraan deelneem.

Gevolgtrekking (Wat sal ons nou sê oor al hierdie dinge?)

Die verteenwoordiger van die kultuur is Jan, Piet, Koos en Jakob, soos die titel van Loftus Marais se nuwe digbundel dit stel. Lego is seker nie al kultuur wat my kinders nodig het nie, maar miskien is dit juis so bedoel dat kultuur, sport en akademie soos blokkies opmekaar pas. Ek het besef dat kultuur nie noodwendig die dinge is wat jy van kindsbeen af as kultuur beskou nie. Daar moet sekerlik ’n strewe na die mooi en mooier wees – hoekom sou ons dit dan anders navolg? Die plek, die tyd waarin ons leef of miskien iewers en iets waarheen ons streef. Die verteenwoordigers van kultuur is nie slegs die mense wat daarna kyk omdat dit mooi is nie. Dit is ook die mense wat daaraan deelneem.