Posts Tagged ‘Koos Kombuis’
Monday, November 21st, 2011

Daar’s iets te sê vir myndorpe. Ek hou veral van Carletonville. Ek sing altyd André Letoit, nou bekend as Koos Kombuis, se “Swart Transvaal” as ek deur die dorp ry: “Ideale val soos Carletonville. Ondergronds is God die hel in vir die Boerenasie, wat bid soos Fariseërs, maar nooit kan ophou raas nie…” Daar word ook verwys na die “kil torings van klein dorpies”. Ek neem aan die “ideale wat val” verwys na die sinkgate by Carletonville, wat in die 1980s in die nuus was. “Swart Transvaal” kom oorspronklik van die kasset Ver van die ou Kalahari af, wat in die laat-1980s deur Shifty Records versprei is. Ek het dit in 1990 by Grahamstad se kunsfees gekoop, maar het reeds ʼn kopie daarvan gehad – “afgetape” van ʼn vriendin in Walvisbaai se broer s’n. Hy’t op Stellenbosch geswot en dit daar in die hande gekry. Die verkope deur Shifty Records was nie baie goed nie, want blykbaar het Letoit reeds self vir al sy vriende kopieë gemaak. Toe ek my wettige Shifty-weergawe koop, kon ek reeds die meeste van die songs op my kitaar speel.
Terug by Carletonville. Die wêreld se diepste goudmynskag – by die voormalige Western Deep Levels, nou bekend as Tautona – is naby Carletonville. In die laat 1990s het ek die dorp leer ken toe ek vir die National Union of Mineworkers (NUM) begin navorsing doen. Ek het meeste van die myne, veral hostelle, besoek om onderhoude met vakbondlede te voer – Blyvooruitzicht, Elandsrand, Wes-Driefontein, Oos-Driefontein, Kloof, ens. Sulke mooi name – klowe, rante, fonteine, alles met ʼn uitsig. Baie van die hostelle van daardie myne is egter uitsiglose plekke. Kontrakwerkers is byvoorbeeld van die laat-1990s af in Blyvooruitzicht se hostelle gehuisves.
My plan is om in die volgende paar maande aan ʼn reeks skilderye van myndorpe te werk. Ek het die een hier bo hierdie naweek voltooi. Dis van ʼn brug by Carletonville, reg oorkant die NUM se streekskantoor. Die pad laat my aan Johannes Kerkorrel se “Ry” dink, dalk ook sy “Ballade van ʼn mynwerker”. Ek het op die web gaan rondkrap en die volgende is die naaste aan ʼn transkripsie van die liriek wat ek kon opspoor. Ek het hier en daar ooglopende foute reggemaak:
Ek kom van Vryheid in Natal
Ek werk hier in die myn
Die droogte het ons plaas gebreek
Ek kon nie langer bly
Ek leer hier vir my ambag
Miskien gaan ek eendag weer boer
Tel die ure, doen oortyd
En die vakbond sal mos na my kyk
Ek werk in skofte dag na dag
Maar eenkeer ’n maand breek ek weg
Dis Vrydagaand en die naweek lê voor
Net ’n sak vol kontant en ek’s reg
My klere is koel, kam my hare perfek
Lyk skerp soos ’n skeermeslem
As ek buite toe stap is die heilige nag
Vol beloftes om later te ken
En kyk daar eenkant onder die boom
Chroom blink gevaarlik sag
Vuurperde-krag, bloedrooi geverf
Masjien in ’n cowboy se droom
En onder daai staal klop ’n hart van goud
’n Enjin wat net een verstaan
Sestienklep oopmaak en al wat sy vra:
Asseblief vat my ver hiervandaan
En buite die dorp loop die grootpad verby
Ons gaan ons wiele laat sing op die teer
Radio hard en die venters wyd oop
Gaan ons soek na die hart van die stad
En iewers in die nag
Staan ʼn neon-engel vir seker en wag.
Spreek ’n seënbede uit oor elke dief van die nag
En veterane van oorlog stroom in
Veterane van oorlog stap weg
Veterane van oorlog wonder waarheen, waarheen…
Jy eindig op met ’n vuur in die hart
Die onrustigheid diep binnekant
Jy leef en jy leer om alles te gee
Vir die kans om net eenkeer te leef
Die kans om net eenkeer te leef
Dit kom van die album Bloudruk af. Didi Kriel se verwerking van die lied is baie 1980s – snaartrom met ʼn groot eggo op, kitaarsolo en al. Ek hou daarvan, op dieselfde verleë manier wat ek steeds van Alphaville hou. Tog vat die liriek iets van die spanning tussen die name van plekke soos Blyvooruitzicht en die werklike uitsigloosheid van Suid-Afrika se myndorpe vas. Ek hoop die skildery kry dit ook reg.
 Carletonville se brug: detail
Friday, July 29th, 2011

Einde van die maand. Geen vrugte en joghurt nie. So, vanoggend se ontbyt laat my aan Koos Kombuis dink. Eintlik sy vorige gedaante, André Letoit. Spesifiek die reëltjie “koffie en toast met peanutbotter op”. Dit kom uit die song Valerie, effe van ʼn rip-off van dele van “If I were a capenter, and you were a lady”. Maar ten spyte daarvan, bly dit een van my gunstelinge op daai kasset Ver van die ou Kalahari, waarmee ons almal in die laat-1980s gesmokkel het.
Loop ook nou die dag vir Dineke Volschenk raak. Sy’t mos die backing vocals op die kasset gedoen. So eenvoudig, daardie kasset. Stemme – Koos en Dineke s’n – en kitaar. Geen verwerkings nie. Maar van die heel beste songs wat nog ooit in Afrikaans geskryf is. Lekker, soos koffie (kitskoffie, hiervoor) en toast met peanutbotter op. In daardie tyd ook so subversief soos grondboontjiebotter wat aan jou verhemelte vassit.
Valerie van Rondebosch
Met die lag en stem soos groentesop
Sy maak vir my sulke lekker kos
Koffie en toast met peanutbotter op
Sy’s in ʼn woonstel bo die Main Road
Karre ry heelnag verby
Maar Valerie, sy kom van Goodwood
Dis hoekom sy so lekker vry
Sy’t grootgeword in Van’s Cafe
Sy wys my al haar foto’s
Die mense dag sy’s ʼn take-away
Agter die till vandat sy so groot is
Haar voete is plat soos die Cape Flats
Haar gesig is ʼn Renoir-skildery
Ja, ek het Valerie so lief
My Valerie van Van’s Cafe
Valerie, my hart is nat
Waar jy verbygeskuur het
Maar Valerie, kind, weet jy wat
Ek wonder nou nog wat gebeur het
Hoekom slaan daai musiek uit die laat-80s my nou nog so tussen die oë? Bloot nostalgie?
Wednesday, January 5th, 2011
In 1990 het ʼn vriend ʼn pakkie briewe toegevou in hierdie plakkaat aangestuur saam met ʼn gemeenskaplike vriendin wat vir my in Pretoria kom kuier het uit die Kaap. Dis steeds teen my kantoordeur opgeplak. Dit herinner my daaraan dat daar ʼn tyd was toe ʼn mens na Koos Kombuis en Valiant Swart kon gaan luister vir R7.00. In 1990 het ek die twee vir die eerste keer live sien optree, by die kunsfees in Grahamstad, in die kelder van Laerskool PJ Olivier se saal. Ek het ook ʼn Ver van die ou Kalahari-kasset gekoop.

Friday, September 10th, 2010
My kop vol musiek. Ou, ou, ou musiek - uit my jeug. Daardie kasset wat André Letoit destyds met ʼn geleende kitaar by Shifty Records gaan opneem het.
Ek is ʼn Afrikaner in die stad
Ek dra my masker soos ʼn kat
Deur donker stegies en geboue
Vat vyf, by broer vat vat
Wat laat my aan Letoit en “Boer in Beton” dink? Op die kampus is daar plakkate met Paul Kruger se gesig op, deur die jeugafdeling van een van die politieke groeperinge opgehang. Hulle maak ʼn betoog vir “Christelike waardes”, “Afrikaans” en “hoë standaarde”.
En iewers in my onderbewussyn
Sien ek nog die Karooson skyn
Hoor ek die grensdrade se gesing
Voer ek die kabouters in my tuin
Ek haal nou die dag ʼn ou atlas van die rak af. Daarin is Suid-Afrika nog nie ʼn Unie nie. Botswana is nog ʼn protektoraat genaamd “Bechuanaland” en Namibië heet “German South West Africa”.
Ek rook ingevoerde fags
Ek lees Engelsprekende mags
Ek gaan nooit kerk toe
Want dis ʼn drag

Want ek’s boer in beton
Soos Oom Paul op ou Kerkplein
Niemand weet van my pyn
Want ek is goed vermom
Ek is ʼn boer in beton
Op die boekrak, naby die atlas, is daar ʼn ou digbundel van Van den Heever. Dis met krammetjies aanmekaargeslaan. Die krammetjies roes. Ek hou van die titelblad, die drukwerk en ontwerp is amper nog Art Nouveau.

Iewers in my klink die stem
Van Strydom, Verwoerd en die knipmeslem
Van die patriotisme wat nog flits
Al maak ek Sondae vuur met Blits
Dit was eens by ʼn boekwinkel in Pietermaritzburg beskikbaar, met ʼn plakkertjie van die boekwinkel op die titelblad.

Elke voorvader ʼn pionier
En ek weet ek hoort nie hier
Ek sit in laatnag kroeë rond
Maar ek ken nie meer die reuk van grond
ʼn Paar bladsye verder is daardie gedig oor die beeld van Oom Paul. Die beeld het destyds nog by die stasie gestaan, nie op Kerkplein nie. Ek hou van die Vernederlandste Afrikaanse spelling wat nog gebruik is.

Daar is iewers nog velde wat roep
Daar is iewers nog ʼn Boerestoep
Die Groot Trek oor die oop savanna
Die blink loop van ʼn sanna
Praat vandag met my studente oor Pretoria se eerste nywerhede. In 1881 het Alois Nellmapius toestemming van die ZAR se volksraad gekry om ʼn brouery op te rig. Hy het ʼn konsessie gekry om vir 15 jaar brandewyn te stook. In 1886 het die goudvelde van Johannesburg nuwe markte verskaf en het Nellmapius sy konsessie aan Sammy Marks verkoop. Die mynbase het die verskaffing van drank aan mynwerkers aangemoedig, want hulle wou nie hê hulle moes hul lone spaar nie.
 Eerste fabrieke in Pretoria
Daar is ʼn ketel wat nog kook
Daar is ʼn kampvuur wat nog rook
Daar is vroue wat nog ween
En uitlanders wat brande stook
Die voorstad Irene is na Nellmapius se dogter vernoem. Al wat van die stokery oorbly is die naam “Eerste Fabrieke”, ʼn stasie in Mamelodi.
En ek net so vreemd soos jy
In hierdie stad van fuifery
Hier tussen die wolkekrabbers
Waar speedcops spied en karre ry
Ek wonder hoeveel van die aanhangers van hierdie politieke party se jeugvleuel weet iets oor wie Paul Kruger was. Wat sou hulle antwoord, as jy in ʼn opname aan hulle vra: “Wat bewonder jy die meeste van Paul Kruger?”
Moontlike antwoord: “Uhm… Hy was mos ʼn geleerde man?” Duidelik iemand in wie se naam ʼn mens op hoë akademiese standaarde kan aandring.
My handpalms is wit soos jy
Ek bedel troos waar ek kan
In hierdie land van blik en glas
Is ek ʼn mens in sak en as
Ek hou nie van die weergawe van “Boer in Beton” wat Koos Kombuis op die CD Elke boemelaar se droom sing nie. Dis dalk maar omdat ek die Ver van die ou Kalahari eerste gehoor het. Die kasset gekoop by die kunsfees in Grahamstad in 1990. Call me old fashioned.
Maar ek’s ʼn boer in beton…
Tuesday, January 26th, 2010

Ek en Irma moes vanoggend karre omruil. Sy wil iets met die dieseltrok oplaai. Dit beteken ek het vir ʼn verandering musiek om na te luister in die verkeer. Irma luister nou al vir weke na my nuwe kopie van die Mattheuspassie (ʼn opname van Karajan se Weense weergawe uit 1950), maar om een of ander rede voel ek nie opgewasse vir Bach nie. Met die kitaar in die een hand (vir band practice vanaand) loop ek gou verby die CD rak en gryp met die ander hand die eerste en beste CD waarvoor ek lus is. Druk dit onder die arm in.
Louis Botha-laan sukkel maar. Ek vat ʼn kortpad deur Yeoville, mik vir Hillbrow en Berea, dan deur Braamfontein tot by die kantoor.
Ek luister oor en oor na “Picasso se song”, die eerste snit op die album, Koos Kombuis se Equilibrium. Hy het dele van die liriek uit gedigte gehaal wat Annelize Olivier van Pretoria vir hom gestuur het, dele bygevoeg, asook “ietsie geleen by Breyten”, soos hy op die CD se omslag skryf.
Ongelukkig is die liriek nie daar nie. Ek is mal oor die klavier en kontrabas in die opname. Soms kan ʼn mens Koos ook hoor asemhaal, baie soos die musikante in die opname van die Mattheuspassie. Dit laat die opname werklik voel. Laat ek dele van “Picasso se song” probeer onthou:
My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die metafoor is Breyten s’n.
Namakwaland kweek drome na elke jaar se reën
en Joburg lyk soos Rome, net sonder hart of been.
Picasso sou kon lekker bly in Hartenbos se hand
en Shakespeare sou kon poetry skryf op Mosselbaai se sagte sand.
In ons land van steel en bedel soek jy telkens na jou rus,
op die trein van toek(?) na vrede, of die Melville party bus,
want wense kos net tiekies op die plekke langs die pad -
dit hang af wie jou wens kies, dis belangrik wie hom vat.
In jou flat in Hillbrow saans sit ons op jou balcony
en ons sing van hoe ons dans, maar weet ons dat ons kan nie.
My hart is in ʼn speaker box, gebêre in wit Wellington,
hy’s gewoond aan AC/DC speel, maar die memories is ons s’n.
Hierdie is goeie musiek om mee werk toe te ry. Deur Yeoville, Hillbrow en Braamfontein. Ek dink steeds Equilibrium is een van Koos Kombuis se beste CD’s, deels weens die uitstekende, onkonvensionele verwerkings.
Wednesday, November 25th, 2009

Ek het erg baie na die Versindaba uitgesien. Hierdie jaar se tema lê my na aan die hart - digters wat kwasse met verf rondswaai. En nou moet ek in een of ander dorpie reg in die middel van Duitsland gaan bibber. Dit terwyl dit nog te vroeg vir die Kersmarkte en glühwein is. Blykbaar het die Duitse ryk lank gelede hul koloniale landbouers in Witzenhausen opgelei. Deesdae sit die Universiteit van Kassel se landboufakulteit in die geboue. Ek sal maar ʼn bier daar drink as David Kramer die verrigtinge afkop en ʼn stukkie Koos Kombuis sing:
Ons is gesoute reisigers
Deur dop en lied, deur klank en vers
Ons is ballings uit ʼn paradys
Orals bekend, maar nêrens tuis
Agter elke grens ʼn vreemde taal
In elke stad sy katedraal
Maar waar jy ook al sing of vra
Jou toekoms bly in Afrika
As die nag finaal sy mantel gooi
As die son verdof van wit tot rooi
As stede stil word, mense bang
In die woude niks meer voëlgesang
Sal ons wat weet ons voete wend
Terug na die donker kontinent
Die laaste lente volg weldra
Ons toekoms wag in Afrika
Louis, Marlise, ek hoop die eerste buitelug Versindaba is ʼn reuse sukses!
Thursday, November 5th, 2009
 Katie Price (Jordan)
Verlede maand het Nuuswekker berig dat Katie Price (Jordan) se meerdelige outobiografie, Pushed to the limit, die boek is wat die meeste agtergelaat word in die hotelgroep Travelodge se 7,200 kamers. Pas het sy egter wéér die koerante gehaal toe die vrypostige skrywer Martin Amis (De Papieren Man verwys na hom as ‘n “woelwater”) bekend gemaak het dat hy dié rondborstige model as karakter by sy nuutste roman, State of England, ingeskryf het. Tydens die pasafgelope Hay Festival in London het hy sy voorneme ten gunste van Price as roman-karakter soos volg gemotiveer: “She has no waist, no arse … an interesting face … but all we are really worshipping is two bags of silicone.”
Hierdie aankondiging deur Amis volg kort op die hakke van die misdaadskrywer Lynda La Plante se onverbloemde aanval op Price tydens die oorhandiging van die Specsavers Crime Thriller Awards toe sy uitgevaar het teen die buitensporige bedrae geld wat deur uitgewers aan glanspersoonlikhede soos Price voorgeskiet word om hul knoeisels, waarna sy as “trite tripe” verwys het, te skryf. “Katie Price’s book outsold the Booker Prize list. She’s a terrible thing for young girls who just want pink welly boots,” het sy volgens The Telegraph se beriggewer gesê. Hiermee het La Plante glo verwys na die feit dat Price se tweede roman, Crystal, meer kopieë in 2007 verkoop het as die res van die boeke op Booker-prys se kortlys tesame. Verdermeer is sy verlede jaar in Desember genooi, nogals as genomineerde “Reading Hero”, om die premier te Downing Street 10 te ontmoet. En vroeër vanjaar was sy boonop deur The Bookseller Magazine aangewys as een van die 100 mees invloedryke persoonlikhede in die Britse boekbedryf.
In sý reaksie het Martin Amis na die plakker “Number One bestseller” op Price se boekomslae verwys en gesê dat hy dáárdie betiteling meer skrikwekkend vind as enigiets wat jy in haar boeke te lese kan kry … Nogtans is hy blykbaar vas van voorneme om die geykte klassifikasie van “ronde” en “plat” karakters heeltemal op sy kop te draai deur ‘n plat karakter met beduidende borsmaat te skep … (Of is dit “bruikleen”?)
Nou ja, toe. Maar watter toepaslike vers sal ek ten gunste van jou leesplesier vanoggend kan meegee? Aaa-a-a, natuurlik Koos Kombuis se “Dronk liefdesvers”. Hoe dan anders?! Dit is immers sy verjaarsdag vandag. Veels geluk, Koos. Mag daar sommer baie vreugde wees in jou huis vandag.
***
Ter afsluiting vestig ek graag jou aandag op Bernard Odendaal se resensie van Cas Vos se bundel “Intieme afwesige” wat gister geplaas is, en ook Andries Bezuidenhout wat met sy nuutste blog-aflewering nostalgies raak oor Afrikaanse musiek en die weermag na aanleiding van die End Conscription Campaign se makietie verlede naweek.
Lekker lees en hou tog die dinge bymekaar.
Mooi bly.
LE
Dronk liefdesvers
my begeerte is
‘n vrou wat l&m rook
en alles verstaan
met lang slanke bene
‘n maklike bankrekening
vriende oorsee
en twee ouers
(skatryk en feitlik gedaan)
ek sal haar dag en nag spring
ek sal vir haar gedigte bring
sy sal klein van postuur wees
sy moet iets nuuts in die afrikaanse kultuur wees
ek sal vakansies met haar gaan hou
haar in die riviera gaan afshow
‘n studeerkamer vol boeke om haar bou
soos ‘n huisie by die see
met prints van chagall
en originals van christo coetzee
ons sal dae deursit op nieblanke strandoorde
tot sy moeg raak vir my woorde
eendag
kry ek haar nog
(watch my tog)
brigitte brigitte
gee my jou tiete
dan leen ek jou my hande
© Koos Kombuis (Uit: Die geel kafee, 2003: Protea Boekhuis)
Monday, October 26th, 2009

Ek het gisteraand die nuwe doccie oor Fokofpolisiekar gesien - die titel is Fokofpolisiekar: Forgive them for they know not what they do. Toevallig het ek ook die naweek Koos Kombuis se Tyd van die Kombi’s gelees. Dis vreemd hoeveel ooreenkomste daar is, veral as dit kom by die liefde-haat verhouding met ʼn sekere rigiede definisie van Afrikanerdom. As iemand wat so tussen die twee fenomene sit (Voëlvry en Fokofpolisiekar), is dit vir my vreemd hoe elke generasie dieselfde ou demone (of is dit nou engele?) moet doodmaak, maar ook hoe elke generasie dink hulle doen dit vir die eerste keer. Ek was verstom toe die lede van Fokofpolisiekar praat oor hoe hulle gelag het oor die moontlikheid van punk in Afrikaans. Maar dan weer, toe Koos (dis nou Neil Goedhals, Marcel van Heerden en kie.) gespeel het, was hulle nog baie jonk. En Plank, Joburg tydgenote, het in ware punktradisie nooit so ver gekom om iets op te neem en dit wyd te bemark nie. Wat Fokofpolisiekar baie beter reggekry het as voorgangers soos Koos of Plank, is uitstekende bemarking. Nietemin, die feit dat soveel temas van Voëlvry tot Fokofpolisiekar herhaal, wys dalk net hoe sterk rigiede Afrikaneridentiteite is en dat die instellings wat dit in stand hou (kerke, skole, suburbs) veel lewenskragtiger is as wat ʼn mens as buitstaander sou dink.
Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.
Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.
Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.
Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”
Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.
Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.
Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.
Tags: Angola Badprop, Anton Goosen, Bacchus Nel, Battery 9, Beeskraal, Brasse vannie Kaap, Brixton Moord & Roof Orkes, Diff-olie, fokofpolisiekar, Foto Na Dans, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Johannes Kerkorrel, Kallitz, Karen Zoid, Kobus!, Koos Kombuis, Mr Mac and the Genuines, Nul, Piet Botha, Prophets of da City, Riku Latti, Straatligkinders, Trike, Twintig jaar later: Van Voëlvry tot Fokof, Willim Welsyn Posted in Andries Bezuidenhout | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, June 2nd, 2009
Wat ʼn wonderlike naweek in die Kaap! En rof.
Ek het Vrydagmiddag klas in Stellenbosch bygewoon en na die tyd ʼn drankie saam met my dosente en klasmaats geniet. Soos ware sosiale vlinders het ek en Irma Saterdagoggend die bekendstelling van Louise Viljoen se boek oor Antjie Krog se werk by Protea Boekhuis op Stellenbosch bygewoon. Dit was baie lekker om ʼn bietjie verlore kuiertyd met Louis Esterhuizen op te vang. Ek is ook bly om te verneem dat ons webmeester, na verskriklike ontbering, binnekort weer op die been gaan wees.
Saterdagaand het in Kaapstad se middestad begin en in die vroeë ure van Sondagoggend op die ritme van Balkan dansmusiek iewers in Woodstock geëindig. Sjoe! En toe is daar Sondagaand se lekker kuier saam met Danie en Clive op die Unhappy Hour. Dankie aan Kabous, Ronelda, Rustum en al die ander mense wat sms’e tydens die show gestuur het!
Vir mense wat in Zilleland woon se part hoop ek nie al die naweke in Kaapstad en omgewing is só wild nie.
Toe ek vanoggend Koos Kombuis se bespreking van my eerste solo-CD “Insomniak se Droomalmanak” lees, kon ek nie anders as om aan 1989 terug te dink nie. Ek was in die weermag in Walvisbaai en het ʼn kopie van “Ver van die ou Kalahari” in die hande gekry. Soms, as ek wonder oor of dit die moeite werd is om gedigte te skryf en musiek te maak, dink ek terug aan wat ander mense se skilderye, romans, gedigte en musiek vir my gedoen het; daardie kere wanneer jy laaie in jou kop oopmaak wat jy nie geweet het bestaan nie.
“Ver van die ou Kalahari” het my die kitaar laat opneem. Dalk moet ek Koos eerder hiervoor kwalik neem! Dit beteken vir my ongelooflik baie dat juis hy die moeite gedoen het om versigtig na Insomniak te gaan luister en iets daaroor te skryf.
Gister weer in Johannesburg geland. Uit die lug kon ek meer as twintig veldbrande tel. Dis lekker om tuis te wees.
Lees Koos se “resensie” op sy blog, Deel 1 hier en Deel 2 hier.
|
|