Posts Tagged ‘Kreatiewe skryfkunde’

Onderhoud met Marlene van Niekerk. Die aarde as oester en ander skryfkundes

Thursday, June 16th, 2016

Marlene van Niekerk

Louis Esterhuizen gesels met

Marlene van Niekerk oor die digkuns

LE: Marlene, baie dankie vir hierdie geleentheid om aan die hand van ‘n paar vrae oor ons digkuns te kan gesels. Ek weet nie of jy met my sal akkoord gaan nie, maar my indruk is dat daar die afgelope jare ‘n toenemende aantal uiters belowende klompie digters hul toetrede tot ons digkuns gemaak het. Interessant genoeg is dié debuutwerk dikwels die resultaat van ‘n kursus in Kreatiewe Skryfkunde aan ‘n universiteit. Wat is jou mening hieromtrent?

MvN: Ja, jy het gelyk Louis, dit lyk asof  skryfkursusse goed werk:  formele ondersteuning, aanbevole leeslyste, redaksievoorstelle en die dosente se verwagting van gereelde inlewering van nuwe werk lyk of dit vir baie jong digters die nodige aanmoediging gee om formeel te publiseer. Ook om gewoon saam met klasgenote, insluitende Willem Anker en my, te soek na oplossings en uitgebreid idees uit te ruil, kan help om vooruit te kom, ‘n taamlike persentasie van die mense wat by ons klas aansluit is/was ook reeds gevorderde lesers.

Daarby moet ‘n mens voeg dat volgens ons ervaring die meeste jong digters geen aanmoediging nodig het om formeel te probeer publiseer nie. Die vraag bly of keurders, uitgewers, resensente en skryfdosente oral altyd op dieselfde bladsy hoef te wees/behoort te wees/kan wees wat behoorlike kwaliteit en publikasiegereedheid betref.

Die hele begrip van kwaliteit is in ieder geval in flux tans, omdat enigiemand op die web kan publiseer, of hulle werk self kan uitgee sonder enige moeite, twyfel, redaksie of belemmering. En daar kan skynbaar altyd op die web ‘n ontvanklike dankbare gehoor gevind word/gemaak word wat graag in vriendelike toonaarde met die digter en met mekaar gedagtes uitwissel, en dan met ‘n gans ander doel as om oor kwaliteit uitsluitsel te kry.

Miskien moet ‘n mens liewer vra wat die funksie is van die hele verskynsel van poësie, die produksie, die publikasie en resepsie daarvan. Een antwoord kan lui dat dit soos alle kulturele verworwenhede gewoon die sosiale kohesie van die samelewing dien. En wat is die samelewing anders as ‘n lewendige gom van tekens en inligting wat klam en souterig gehou moet word? Miskien is hierdie funksie van poësie op die ou end veel belangriker as die kwaliteit van hierdie of daardie gedigte?  

Kan dieselfde gesê word van vertalings?  Al dadelik lyk dit asof die kwessie van kwaliteit weer kop uitsteek. Mens kan vinnig sien of ‘n vertaling versigtig en nadenkend gedoen is, of dit onhandig en verbeeldingloos is en of dit met adekwate vaardigheid en vindingrykheid gedoen is. Meestal word ‘n korpus poësie wat oorweeg word vir her/vertaling van meet af aan op kwaliteit geselekteer en word die kwaliteit van die vertaling self sterk in ag geneem by die formele publikasie daarvan. Mens kan jou kwalik voorstel dat ‘n swak hervertaling van, neem nou maar ‘n ekstreme voorbeeld, Shakespeare se sonnette in Duits, sommer maklik gepubliseer sal word deur ‘n ordentlike uitgewer.

Ek begin hier oor vertaling omdat ek graag jou mening wil hoor oor oefeninge wat ek deesdae heel eerste doen met jong digters wat in Afrikaans werk, ook op derdejaarsvlak. Ek gee vir hulle vertaaloefeninge van goeie Engelse gedigte. Dan kan ek dadelik sien of hulle poësie kan lees, of hulle enige nosie het van verstegniese kwessies rondom patrone van klem op sillabes (metrum), of hulle ‘n woordeskat het, en of hulle hul moedertaal met enige verve en vindingrykheid kan hanteer. Dikwels verstaan hulle glad nie waarom hulle hierdie vertaaloefeninge moet doen nie en vind dit ‘n mors van tyd omdat dit vele vele pogings kos voordat daar iets uitkom wat nagenoeg by die oorspronklike gedig kan kers vashou.

LE: Jy vra my na die gebruik van vertaling as deel van ‘n kursus oor skryfkunde? Wel, ek is geen akademikus nie, maar ek vermoed tog wel dat hedendaagse (Afrikaanse) digters nie genoeg kennis neem van wat op die internasionale verhoog gebeur nie. Uiteraard kan hulle hierdie digkunste in die meeste gevalle slegs deur middel van vertaling beleef. Wie is dit wat gesê het: “Elke leser van ‘n gedig is die mede-skrywer van daardie gedig”?! Vertaling (of meer korrek “omdigting”) is ‘n integrale deel van daardie proses. Hoe besluit jy watter digter en/of gedig by jou kursus betrek word? Is jou oogmerk om primêr verstegniese aspekte oor te dra of probeer jy ook iets van ‘n “ander-manier-van-kyk” daardeur te vestig?

Marlene van Niekerk en Loftus Marais

MvN: Ek dink jy is reg Louis, digters hier is soms nogal geïsoleerd, en onbekend met wat in ander tale aangaan en aangegaan het. As ek begin met die vertaaloefeninge kies ek dikwels gedigte van bekende digters uit die Engelse kanon, soos byvoorbeeld Hughes, Larkin, Heaney, Elisabeth Bishop, Sylvia Plath, Eavan Boland, met ander woorde poësie wat nie te moeilik is nie, en met duidelike oriëntasie in tyd en ruimte en stabiliteit in die stem; ek gaan nie beginners dadelik postmoderne gedigte of werk van Language Poets laat vertaal nie. My plan met vertaling is drieërlei: om studente te dwing om buite Afrikaans om, goeie gedigte te lees; tweedens om ‘n gewoonte te skep van skrap – mens moet baie skrap as mens vertaal, gewoon omdat jou vertaalkeuses nog nie voldoende is nie. My derde plan daarmee is ‘n ouderwetse een, naamlik taalverbetering deur taalinspanning. Ek glo nie mens kan goeie gedigte skryf as mens nie jou moedertaal formeel baie goed ken en in al sy registers uitstekend kan besig nie, alleen dan kan jy interessante maniere vind om af te wyk van normale taalgebruik, daarmee kom jy dan by een soort definisie van poësie, naamlik dat poësie afwykend of “verhewigend” is, en daarom moeilik om geskryf te kry en op ‘n bepaalde manier moeilik om gelees te kry, en dit alles natuurlik ten einde bepaalde subtiele insigte te wen of moeilike sinnelike of serebrale plesiere te beleef.  

Daar is baie mense wat met my sal verskil hieroor, hulle sal sê dis ‘n uiters elitistiese opvatting wat ek het, en dat mens  as digter net oor ‘n kommunikatief gangbare graad van taalbeheersing hoef te beskik en nie daarvan hoef af te wyk as jy gedigte skryf nie. Dieselfde mense sou dalk aanvoer dat hoe nader jy aan spreektaal kan bly hoe beter jou gedigte sal wees. Vele sal meen dat gedigte veral nie moeilik moet wees om te skryf of te lees nie, dat almal dit moet kan skryf en dat almal dit moet kan lees. Hierdie gedemokratiseerde poësie sou dan ook, volgens sommige, die engiste goeie poësie wees, alles wat moeiliker is, langsamer tot stand kom en stadige, noukeurige lees verg, sou verwaarloosbaar wees en sou behoort tot die ryk van die troglodiete.

Sal ons dan maar sê daar is plek vir alle soorte poësie en  dit waarvan jy nie hou nie sit jy rustig terug in die rak en lees liewer iets wat tot jou spreek?

Met ander woorde, sal ons sê dis ‘n kwessie van smaak en ons vermy die kwessie van kwaliteit omdat dit slegte maniere is om daaroor te praat?

Of is juis die gesprek oor watter poësie goeie poësie en watter poësie swakker is, miskien ‘n essensiële deel van die algemene funksie van die veld van poësie? Sou debatte oor die kwaliteit van poësie die sosiale kohesie van die samelewing verstewig?

Miskien kan ‘n vergelyking met (ja) rugby verhelderend wees. Almal kan rugby speel soos hulle wil, dit het ‘n belangrike sosiale funksie dat almal dit kan doen op allerlei vlakke, maar deel van die funksie is ook dat daar soms uitmuntende rugby gespeel kan word op ‘n hoë vlak en dat mense dit daaroor eens kan wees of nie. Goeie rugby is trouens nie noodwendig rugby wat “wen” nie. ( Maar as mens aftjop omdat die Iere telkens die bal afvat as mens daarmee op die grond rondkruip dan is dit verloor sonder enige styl en dis erg, hoor.)

Ek hou self van rugby wat ‘n mooi stewige klassieke ritme bevat maar dan daaroorheen kan improviseer en speels, kansvatterig en vlugvoetig is en vol verrassings, en ek hou daarvan as die bal vinnig beweeg in die agterlyn en gou by die vleuel uitkom wat oor merkwaardige spoed en systappe moet beskik. Ek hou daarvan as die bal via kombinasies van fopskêrbewegings en skynuitgeeë  beweeg en ek hou daarvan as skoppers hulleself ongemerk posisioneer en onmoontlike skepskoppe waag. En as ek na sulke akrobatiese verbeeldingryke rugby kyk van uitmuntend geoefende spelers wat hulleself duidelik gate uit geniet, weet ek altyd twee dinge, ‘n bepaalde sensibiliteit is onder al die spelers vaardig en hulle wil die sensibiliteit uitleef en tweedens die spelers is fiks en lus en vol boontjies. Hulle kan in twee, drie minute in “flow” geraak, weet ek, en dis lekker. Rugby wat vasval in ‘n vrugtelose voorspelbare geskop, geen ritme het nie, en met konserwatiewe, vrugteloos-herhaalde binnetoemalery van die voorspelers werk, terwyl die agterlyn nie benut word nie, en laasgenoemde ook nie die savvy het om die bal uit te grawe tussen die dik dooie boude en daarmee te gaan hardloop nie, vind ek vreeslik om na te kyk. Geen lug en geen lewe, net jockstraps en doodsverlange.

En soms  is die kinders wat in die skemer op ‘n stowwerige veldjie touchies speel nog die heel mooiste, daardie kaalvoet-onderskeppertjie wat sy kans sien om deur die hande te kurktrekker en die bal tussen die twee ou bloekoms te gaan plant.

Nou weet almal dadelik van watter soort poësie ek hou! Maak dit saak? Solank iemand tog net ‘n glimlaggie kry en besluit om ons kursus te kom volg. Die groot “rugbybundel” (ahem) moet nog geskryf word en waar is ‘n beter plek as Stellenbosch? Daar kan jy elke middag, synde skuins of haaks of bloot net rugbyminnend, langs die veld sit en kyk na hoe lenige jongens in die blom van hul lendene hul bewegings polys.

Laat niemand sê ek het nie my bes probeer om studente te werf nie.

LE: Marlene, volgens jou antwoord hierbo blyk dit dat verskeidenheid, hetsy ten opsigte van tematiese aanbod én stem, waarskynlik die bloedlyn van ons digkuns is; beskeie soos dit is. Hoe slaag julle as aanbieders van skryfkunde daarin om hierdie diversiteit te handhaaf?

MvN: Wel, ons sien nou nie soveel digters dat ons ‘n direkte invloed kan hê op die verskeidenheid in die Afrikaanse verskuns nie … Ons probeer wel om verskeidenheid nie net aan te moedig tussen digters nie, maar ook in een en dieselfde digter. Wat al klaar baie help is dat Willem en ek soms heel verskillende dinge lees en ook soms oor aspekte van ‘n teks kan verskil. Ons dink dit is baie goed vir die studente om die soort meningsverskil waar te neem en om meer as een smaak en meer as een perspektief te kry. Maar niks help so goed soos lees nie.

Veelvuldige gebruike

Omslag

As ‘n mens deur die Norton Anthology blaai, sien jy daar is nie eintlik iets soos ‘n “algemene” poësie nie, elke digter maak sy eie persoonlike vingerafdruk. ‘n Mens probeer dus altyd agterkom wat die student se eie stem/styl en inhoudelike belangstelling is, mens probeer vasstel hoe wyd die studente oor bepaalde sake gelees of gedink het en probeer bronne van idees en kennisvelde oopdek wat hulle sal prikkel om verder te lees. ‘n Mens probeer ook om die student sy eie innerlike verskeidenheid te laat agterkom en te verken. Sommige studente het nog maar baie min ontdek van wat in hulleself skuilgaan en ook byvoorbeeld nog glad nie agtergekom dat hulle van moment tot moment van hulleself kan verskil nie. ‘n Mens probeer om hierdie dimensies te ontsluit deur bepaalde oefeninge, maar dit bly uiteindelik die digter se eie taak om te groei.

n Mens doen verder ook dikwels redigering om te wys hoe gedigte verskillend kan wees met slapper of meer styfgetrekte reëls. Daar is soms by digters ‘n neiging om informeel en praterig te skryf sonder dat hulle dit presies so bedoel en sonder dat hulle die informele taal presies en opsetlik kies en in besonderhede ontwerp. Ons probeer altyd sê: as jy ‘n lakonieke gedig skryf moet dit ‘n ontwerpte lakoniekheid wees en nie toeval nie. Op dié manier kan ons die student help om helderheid te kry oor watter soort gedig hy of sy skryf, en hom op die manier help om self verskeidenheid in sy of haar eie werk op te soek.

Dieselfde geld vir verskeidenheid in taalgebruik. Dikwels kry mens by beginnende digters ‘n onbewustheid van basiese dinge soos versritme (wat iets anders is as metrum), onsensitiwiteit vir vokaalverspreiding en konsonantverpreiding, onkunde oor die effekte van kwart- en halfryme, dikwels ‘n onhandigheid met sintaksis en korrekte voorsetsels, ensovoorts. Weereens: alles is moontlik. Indien iemand met opset en ter wille van ‘n bepaalde effek verkeerde voorsetsels en sintaksis wil gebruik, is dit wat my betref honderd persent in orde. Ek soek net altyd na opsetlike en doelbewuste patrone wat met enige vaardigheid neergesit is, en wel omdat ek dink dat ontwerpte patrone, onder andere, essensieel is indien ‘n mens iets as ‘n “werk” wil herken of beskryf.

Uiteraard sal daar baie mense wees wat sê mens moet juis nie probeer om ‘n “werk” te maak nie, mens moet eintlik net presies probeer registreer wat dit is wat in taal rondom jou gebeur (byvoorbeeld in gesprekke, nuusberigte en advertensies) en grepe daarvan so direk moontlik siteer sonder alteveel eie inbreng, dit alles om veral die vermeende “realiteitshonger” van lesers te bevredig. Baie digters dink dat “oorspronklikheid” en artifisialiteit (artifice) in die digkuns volledig verwerplik is en sien enige teken van ‘n bewustelik aangebragte patroon of “verhewigde taalgebruik” as die reinste reaksionêre konserwatisme. So be it. Onthou, die meeste kunstenaars is aandagvrate. Op die ou end probeer kunstenaars die grootste moontlike impak maak in die veld. Daarvoor moet hulle telkens met iets aandagtrekkends vorendag kom. Ten einde dit reg te probeer kry, probeer hulle baie verskillende en soms ook ongelooflike dinge, en dit kan insluit om so gereeld as klokslag herkenbaar dieselfde soort werk uit te stal net om op die kaart te bly, of dit kan wees om op skokkende wyse af te wyk van enige “aanvaarde norm” en verder alles tussen hierdie twee uiterstes. Die idee is by sommige om onthou te word na jou dood, hoe dan ook. Sommige maak selfs skandes en pleeg misdade, vandaar die nosie van die sg Herostratos-kompleks in die kuns. Die dood en die verganklikheid is vir sommige ‘n ysere aanmoediger en die hele skryfhandeling is een uitgesproke tematiese en vormlike toernooi met die dood en die “Niet”. Dit voel vir my erg negentiende–eeus, moet ek sê. Dikwels kry ‘n mens ook dat kunstenaars slegs in, vir en uit lewensbevestiging werk, dit is mense wat Basho se wyse uitspraak probeer uitleef: aan die sonbesie se lied hoor jy niks wat daarop dui dat hy sal doodgaan nie.

Dikwels beveel ons spesifieke digters aan, veral ook buite die Afrikaanse poësie, (Willem ken heelwat eietydse Amerikaanse skrywers en digters en ek ken weer ‘n paar Nederlandses) ten einde studente bewus te maak van wat alles moontlik is aan soorte gevoeligheid en soorte van omgaan met taal en gedagtegoed. Soms skryf ‘n student vanself  heel verskillende soorte tekste/gedigte en ons moedig dit aan sodat hulle verskeidenheid (byvoorbeeld van vorm en lengte om mee te begin) as ‘n deug kan ervaar en nie gaandeweg verval in eenselwigheid en herhaling van tema en woordeskat nie. Miskien kan mens met “verskeidenheidsopleiding” probeer voorkom dat ‘n jong digter aanvanklik met ‘n briljante nuwe styl kom en dit weer en weer sonder veel ontwikkeling herhaal, omdat dit aanvanklik so suksesvol was en nie agterkom dat dit  met verloop van tyd flouer en flouer word soos blousel wat uitwas nie.

LE: Wat sal jy sê as iemand van mening sou wees dat die idee van akademiese skryfkursusse eintlik onvanpas is om die kunstenaar en verskillende soorte kunstenaarskappe te stimuleer, dat kunstenaars so min as moontlik met akademici en universiteite te doen moet hê, dat hulle in feite so min as moontlik met literatore of kritici te make moet kry as hulle vry wil ontwikkel en hulle spesifieke talent en spesifieke artistieke temperament die vrye teuels wil gee, of daardie temperament nou geteken word deur ’n liefde vir verskil en verskeidenheid, en of dit geteken word deur heropname en herhaling van ‘n basisinhoud en -styl

MvN: Dis vrae wat baie mense stel en ek is bly ons kan hulle hier vra en bespreek. Wanneer Willem en ek oor ‘n rukkie hierdie onderhoud opvolg met ‘n verdere dialoog, sal daar waarskynlik nog ‘n hele klomp sake in hierdie verband te sprake kom. Hier solank net die volgende: my stelling hierbo oor eenselwigheid en herhaling is ‘n opvatting waarmee nie alle letterkundiges noodwendig sal saamstem nie, omdat, as hulle eenmaal ‘n digter of skrywer se styl en tema herken en omskryf het, hulle dit as ’n vorm van dislojaliteit, (van die digter aan sigself –  of aan die poësiekritiek), of as ‘n “gebrek aan eenheid” of ‘n soort “losheid” beskou as die digter in verskillende style skryf, uit verskillende tradisies put, en verskillende woordeskatte, registers en bestaande of ongebruiklike of volledig versonne taalvariante aanwend. Dit is ‘n rare verskynsel in die Afrikaanse literêre omgewing dat sommige lesers skynbaar ‘n hekel het aan verrassings, skokke, afwykings of ongewoonheid, byna asof ‘n skrywer/digter se gehegtheid aan sy eie verbruikersmerk (soos baked beans van Koo) die deurslaggewende kenmerk van gehalte sou wees.

Daar is trouens nie baie mense wat die enigsins teen-intuïtiewe insig sou hê dat ‘n volgehoue produksie juis van heel verskillende soorte werk dalk ook op ‘n betekenisvolle stryd met die eie ego kan dui nie. Ek dink Sybren Polet se interessante boek De creatieve factor is hierby van belang en ek beveel dit ook aan vir baie van ons studente sodat hulle iets kan begin verstaan van die narsisme wat alle kunstenaars (behalwe miskien outentieke Boeddhistiese haikudigters) dryf: byvoorbeeld die uitryg van eindelose alter ego’s tesame met die heropvoering van die een enkele dwingende onderliggende private mite wat taamlik onvermydelik elke werk besiel. Die kuns vir sommige skrywers is om hierdie eenheid van die gemoed direk en onverdund uit te speel in agtereenvolgende werke wat dan begin lyk na een lang totaalskepping. Sommige hou so iets vol verby alle grense, meestal uit ‘n misplaaste opvatting van die uitsonderlike waarde van hulle siel. Andere eksperimenteer met soveel as moontlik verskillende verpakkinge van hulle goedjie, waarskynlik uit ‘n misplaaste gevoel van skaamte. Albei is myns insiens ewe egosentries. (Let wel ek gebruik “egosentries” en “narsisme” hier deskriptief en nie veroordelend nie – Marcuse in One-Dimensional Man verduidelik mooi waarom ons geen estetiese kultuur sou hê sonder narsisme wat hy juis positief verstaan nie.)

Of dit goed of sleg is vir ‘n kunstenaar om te verstaan wat dit presies is wat hom/haar in wese besiel, is natuurlik  die vraag. So ‘n selfverstaan is in elk geval net altyd ten dele, en is binne bepaalde opvattings van selfbewussyn selfs grotendeels onmoontlik. ‘n Mens is ook bewus daarvan dat baie kritici dink dat kunstenaars slegs suksesvol kan wees indien hulle volledig blind vir hulle eie diepste dryfvere of oortuigings is. (Anders is daar byvoorbeeld nie genoeg werk vir die kritici nie….) Of dit nou die psigologies “blinde” kunstenaar is wat sigself sonder veel selfrefleksie tot satwordens toe herhaal en of dit die min of meer verligte en selfbewuste een is wat vanweë skaamte en verleentheid en beskaambaarheid of anders uit inhiberende perfeksionisme met weinig vorendag kom, of volledig stilval, die feit bly staan: an artist’s life is not an easy one om Gilbert en Sullivan se liedjie verkeerd aan te haal.

Staan in die algemeenEk dink die rol van teoretiese inbreng in die akademie en die verbreding van die skrywers en digters se leesagtergronde en die kritiese redaksie van hulle skryfwerk is maar eintlik om die maak-handeling te kontekstualiseer en te kompliseer. Die idee is om ‘n kritiese en self-refleksiewe skryfpraktyk te bevorder: vir wie skryf ek? Hoekom skryf ek in ‘n bepaalde taal? Wat is my opvatting oor taal en oor betekenis? Hoe is my verhouding met die idee van ‘n “mark”. Wie is my ideale leser? Skryf ek om te verduidelik wat ek dink of om uit te vind wat ek dink? Waarom en wanneer gebruik ek gewone funksionele taal en waarom en wanneer gebruik ek taal wat streng ontwerp en afwykend is van gewone taal? Waarom hou ek van bepaalde skrywers meer as ander? Hoe bepaal my klas, ras en geslag my skryfwerk? Wat is die materiële en ideologiese moontlikheidsvoorwaardes van my produksie as skrywer? Dink ek ek het ‘n “rol”? Dink ek ek het ‘n “verantwoordelikheid”? Wat sê ek vir politiek korrektes wat wil hê ek moet politiek korrekte gedigte skryf? Wat maak ek as mense my werk voor hulle politieke karretjie wil span? Is dit my taak om identiteit te bevestig en te omlyn of is dit my taak om alle identiteit te bevraagteken en te ondergrawe? Waarvoor is ek bang in die skryfbesigheid en waarom? Wat verskaf my vreugde in die skrywery? Kan ek dit vertrou?

Te veel selfkritiek is uiteraard nie goed nie. Dit moet gebalanseer word deur lewenslus en vitaliteit en robuuste waagmoed en veral die vermoë om jou te verwonder aan dinge, en veral die verdere vermoë om jouself in ‘n toestand te kry van invoelende partisipasie aan wat ook al, wind, wolke, skreeuende optogte. As gevoelige verbeeldingryke vereenselwiging ontbreek sal al die korrektheid en selfrefleksie in die wêreld nie help om van jou ‘n skrywer of digter te maak nie. Jy sal net ‘n prediker of ‘n profeet of ‘n moreel hovaardige boodskapper bly en dit maak almal op die ou end naar. Mens weet mos: beter wete, oordeel, doem, mens raak mos kotsmislik daarvan.

Oor kunstenaars wat selfkrities is omdat hulle hulle kan verbeel wat moontlik is nog die volgende: vergelyk die Russiese pianis Grigory Sokolov wat weinig opnames gemaak het en selde in die openbaar opgetree het, en aan die Duits-Argentynse dirigent Carlos Kleiber, ‘n geniale musikus wat  relatief min gedirigeer het en wat sigself vir lang tye afgesonder het. Maar as hierdie twee wel die keer uitgekruip het om in ‘n konsert te speel, of te dirigeer, was dit meestal ‘n gebeurtenis van elektrifiserende kwaliteit wat gespreek het van uitvoerige voorbereiding en konsentrasie, en wat dikwels nuwe interpretasies van komposisies gebied het. Kyk maar hier https://www.youtube.com/watch?v=vPNDjiem27M  en  luister na https://www.youtube.com/watch?v=zqdMlOhb3j0&index=42&list=RD2pb7-3K92bg

Let wel, ek maak bogaande opmerkings oor musiek slegs as belangstellende leek en nie as ideologiekritiese musiekkenner nie. Ek is doodseker dat sommige akademici beginselprobleme sal hê met enige kuns wat formeel bemark word, en met enige musiek, selfs van bogenoemde musici, wat in ‘n kommersiële konteks in konsertsale en op cd’s verkoop word. Vanaf die tyd van Adorno is sulke geleerdes beter in die verduideliking van hierdie gesigspunte as in dirigeer of klavierspeel voor ‘n klomp mense, maar so het elke diertjie sy plesiertjie.

Om te rekapituleer: sou ‘n omvangryke eenselwige artistieke ekspressie oor ‘n hele leeftyd lank beter wees as ‘n beperkte ekspressie oor ‘n kort leeftyd wemelend van wendinge en verskille? Ek dink daar is plek vir altwee. Dit hang maar net af, soos Spinoza sal sê, van ‘n spesifieke organisme (die conatus) se unieke maniere om te volhard in sy bestaan en op sy beste te probeer floreer in sy veld (“haar” veld ook, uiteraard hier bedoel).

LE: Daar bestaan verskeie skryfkursusse wat deur verskillende universiteite aangebied word. In welke mate bestaan daar onderlinge skakeling tussen julle, of loop elke kursus maar by die lig van eie oë?

MvN: Ja, ek dink daar is nogal verskille in vereistes en in aanbiedingswyses, maar dit is ook goed. Willem en ek bly min of meer op die hoogte deur soms as eksaminators op te tree vir MA’s in skryfkunde wat by ander universiteite soos Wits en Kaapstad geproduseer is en ons neem deel wanneer skryfkundedosente van ander universiteite vraelyste stuur om akademiese navorsing oor sulke kursusse te doen. Ek weet Henning Pieterse van UP (tans by UV) het al sulke navorsing gedoen en daar was ook al ‘n kongres by Rhodes en ook by Bloemfontein oor die onderwerp waar dosente verskillende aanpakke kon bespreek. Op die ou einde is wat saakmaak of die werk van studente publikasie haal. Die spesifieke pedagogiese tegnieke wat mense uitdink om studente te prikkel en te dril is vir my besonder interessant. Sommige mense glo dis volledig onnodig, mens moet net ‘n passiewe onoordelende leser wees wat ‘n bietjie kommentaar lewer. Ons eie ervaring is dat lewendige interaksie en gedetailleerde terugvoer uitstekend werk vir nuuskierige, leergrage studente. Dit hang natuurlik ook af van die karakter van die studente en die dinamiek in die klas.

LE: Uiteraard volg ‘n student hierdie kursus met die oog op publikasie. Wat is jou ervaring ten opsigte van uitgewers se ingesteldheid teenoor manuskripte wat as resultaat van jul kursus vir moontlike publikasie voorgelê word?  

MvN: Dit wissel. ‘n Student van ons het al werk voorgelê aan ‘n uitgewer wat dit afgewys het, en toe word dit binne enkele dae deur ‘n ander  uitgewer opgeraap en wen toe ook nog sommer ‘n debuutprys. Dit hang dikwels af van die menings van keurders. Ons is oor die algemeen strenger as uitgewers en hanteer ander soorte van maatstawwe as die kommersiële maatstawwe. Ons beleid is dat ons akademiese grade met die bes moontlike uitkomste afhandel. As die student na afloop van die studie met sy of haar manuskrip na die uitgewer gaan, is ons nie meer in die prentjie nie en dan is die uitgewer verder sy redakteur. En dit is hoe dit moet wees.

LE: Ter wille van voornemende studente: kan jy ‘n uiteensetting gee van die prosedure en/of vereistes waarvolgens ‘n voornemende student by julle vir ‘n Magister-graad kan registreer?

MvN: Ons toelatingsvereisteis is ‘n Honneursgraad in enige taal. Studente maak ‘n voorlegging wat ons elke jaar teen 1 Oktober moet ontvang. Dit moet bevat: veertig bladsye prosa of twintig bladsye poësie, ‘n opsomming van die voorgenome eindprojek, ‘n motiveringsbrief d.w.s. die redes waarom die aansoeker die kursus wil volg, plus ‘n volledige CV. Op grond van hierdie voorlegging besluit ons departementele keuringskomitee of ons die student gaan toelaat. Indien wel, doen hy of sy formeel aansoek by die universiteitsadministrasie. Studente wat nie oor ‘n Honneursgraad beskik nie, kan ook aansoek doen, en word op grond van hulle voorlegging gekeur en kan verder via ‘n spesiale toelatingprosedure toegang kry tot die kursus. Hiervoor moet hulle ‘n akademiese artikel oor ‘n literêre onderwerp saam met hulle skryfwerk voorlê, en/of eers ‘n jaar lank onder ons leiding werk aan ‘n tipiese groot Honneurs-navorsingsopstel waarvoor hulle ‘n goeie gemiddelde punt moet kry. Laasgenoemde akademiese inspanning moet hulle voorberei om uiteindelik die teoretiese en analitiese mini-tesis te skryf wat saam met die skryfprojek voltooi moet word. Die student kan binne bepaalde grense kies of die skeppende skryfwerk, of die akademiese tesis die swaarste moet weeg by die beoordeling. Dit doen ons om ten einde alle soorte van talent die beste kans te gee in die kursus.

Ter afsluiting: enigiemand wat die teks hierbo lees sal moet vasstel dat dit bepaalde Westerse (Eurosentriese en miskien selfs Romantiese) nosies van die kunstenaar as individu in die samelewing is wat hier deurspeel en dat dit ‘n enigsins klasgebonde verwysingsveld is wat hier bygehaal word. Bepaalde beperkte opvattings van die digkuns is daardeur ewenseer onvermydelik. Dit is egter hierdie tradisies en opvattings waaroor ek die meeste kon lees in my lewe en waaruit ek  kon leer, ek gee nie voor om meer as oppervlakkig op die hoogte te wees van selfs maar ‘n klein monster van ander waardevolle tradisies nie, en daar is vele waarby mens kan leer as jy jou wil verdiep in ander tale en kulture, soos byvoorbeeld: Japannese doodsgedigte, rituele gedigte van die sout-rapers van Tibet, en orale tradisies van Afrika met ‘n sterk gemeenskapsverworteldheid. Poësie kan op vele maniere sosiale kohesie dien, nie net in omgewings soos poësie”feeste” met sushi nie.

(Ek wag dus nog steeds op die griots van Orania om hulle verskyning te maak, en tot dusver het ek nog net gehoor van die Odusseus van Verwoerdburg.)

Maar daar is ‘n ander konteks van kohesie wat ek wil byhaal, een wat van altyd af bestaan, maar wat mens bewustelik kan begin kultiveer. Iewers het ek gelees van ‘n pigmeestam in Midde-Afrika wat slegs musiek maak as die reëntyd aanbreek en die paddas en krieke begin klink. Hulle maak dus hulle musiek slegs saam met ander lewende wesens, nooit alleen as mense nie. Dit klink my besonder gepas om  hierdie soort aansluiting te soek, en jouself as digter radikaal in ‘n wyer biosemiotiese konteks te begin verstaan.

http://www.jstor.org/stable/10.1086/661708?seq=1#page_scan_tab_contents. Vergelyk die Routledge Companion to Semiotics (red. Paul Cobley) as ‘n pragtige toeganklike inleiding. https://books.google.co.za/books?id=iduOAgAAQBAJ&pg=PA35&lpg=PA35&dq=biosemiosis+sebeok&source=bl&ots=qTEpR23caP&sig=k13-D1o5Y5Ch4r27ZL2DsQI3sbQ&hl=en&sa=X&ved=0ahUKEwi20fG3s6jNAhXMCMAKHTxuCzUQ6AEIOjAH#v=onepage&q=biosemiosis%20sebeok&f=false

In hierdie verband is ‘n “gepaste” etos, modus en stem vir die digter van die Antroposeen ‘n ander kwessie wat ondersoek kan word. En hiermee saam hang die vraag hoe mens energiek, krities en verbeeldingryk weerwerk kan lewer teen die verbruiksdwingelandy van die gevorderde kapitalisme, teen die onaflatende druk om steeds makliker verteerbare, hapklare, snelvoorbereide brokke op te dis as poësie in  “global English” wat die meeste mense verstaan. Miskien moet mens eerder praat van die Kapitaloseen en teruggryp na Orfiese en anargistiese wortels om die mensonterende gedonder van die konsumpsiemaatskappy in jou klein hoekie saam met jou subversiewe swerm mineur-mededigters te probeer beveg. ‘n Mens kan natuurlik ook as skrywer die heersende politieke diskoerse in ons vaderland probeer aanpak, die belangrike sal dan wees om die nuwe dekadente sosiale normatiwiteit wat die regering probeer afdwing te begin ondergrawe, (miskien deur graffiti van ministers se uitsprake op mure te skryf. Waar is die dae toe ons “P.W. Botha is not a lesbian” op The Mixer-koffieshop se muur in Melville geskryf het, ai.), hulle agenda is  immers nie los te dink van die mondiale finasiële kapitalisme nie. http://www.dailymaverick.co.za/opinionista/2016-06-10-the-morphogenesis-of-a-post-apartheid-political-normativity/#.V19uxE2hfIU  

Hieronder is sommer ‘n gediggie wat onlangs in Engels uit my potoo geval het, waarom ook nie? Hier is die potoo en hoe sy in die werklikheid klink in Brasilië: https://www.youtube.com/watch?v=-lfSOa5hig4 Nee, dis nie ‘n truuk nie, luister maar hier: http://www.xeno-canto.org/species/Nyctibius-griseus en hier is moontlik haar Orfiese imitator in die Amasone, dis nou waarlik iemand by wie mens iets kan leer, vind ek, wat liefde en tegniek betref: https://www.youtube.com/watch?v=5nDCafqGnlA.

En van die os op die jas, hier is ‘n prentjie van ‘n tardigrade waarna in die poempie hieronder verwys word, ook geheet mosvarkie of waterbeertjie, sy beskik oor fantastiese oorlewingsmeganismes selfs in onuitstaanbare toestande.

 tardigrade

Wat ek maar wil sê met al hierdie voorbeelde en verbande tussen lewende wesens is die volgende: die aarde is nog steeds ons oester en al het ons haar skynbaar onherroeplik geskend, bestaan die geleentheid altyd om haar individueel en kollektief terwille te wees op die beste maniere wat ons kan uitdink.

 

First lecture on Gaia

 

Together with the claims

of the tardigrades and those

of rosy turtledoves, the laughing

doves, she reckons us as reasons

for changing her anatomy. 

New niches arise, old ones die

as something small needs moss

to crawl on and changes moss

that way, as those with wings

need trees to call from, and,

alighting with their roundalays,

precipitate her autumns, make

her waters deep down hum,

which is felt in turn by clams

on rocks and by the sands

as they sigh and shift like so many

pieces of silken underwear.

A ticklish goddess with trillions

of arms bearing various worlds

like gaudy hurdy gurdies

brimful of fates, each shape 

of animal providence, even

that of the little fly, gurgling

a tune that is dealt with singly,

precisely and in concert by her,

every croak and chirrup added

to ease and lift the shimmering,

breathable breast that we share.

Of all the earthbound critters

pinned against her spinning

bulk, of all who curb her space

to suit their wealth, we are the ones

who take to her flesh in sheerest

predator mode, scratching at bounds

and stretching them vastly.

We won’t get away with such

a fast, hot, competing economy,

forever digging up stuffs,

oiling our stomachs and shitting

in holes where we’ve riveted

piles into the crust or seeded

with rockets our rain-sucking

clouds. Itching from a dark

forgetfulness we start to smell

our acid interference, we blink

as she shows us her face

as in the beginning, when,

like Eros, born from Chaos,

she spouted ashes, spouted

blood, and screams uncoiled

from her cosmic scruff

like wires. We’ll  fight one

another with cudgels like Goya’s

giants and in the thinning

strip of atmosphere gasp

and cough until we grasp

it is only to force us to birth

her anew. When her green

and blue have almost gone,

we’ll vote as one to stop

being the plague and

parasite in residence,

to compose, on her rump, 

to the pulse still beating

between her heaving

clavicles, our new symbiont

behaviour and a difficult,

patient neo-ediacaran* peace,

like a fern, resilient and gently

undulating, for which

our wars would have been

entirely worth it.

*http://www.ucmp.berkeley.edu/vendian/ediacaran.php

 

(c) Marlene van Niekerk / Junie 2016

Onderhoud: Marlene van Niekerk

Saturday, July 4th, 2009

Met buskruit en salpeter

Marlene van Niekerk in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk

Marlene van Niekerk is die skrywer van twee digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), een bundel kortverhale, Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), en twee romans Triomf (1994) en Agaat (2004).

Sy is tans verantwoordelik vir die begeleiding van M.A.-studente in die skeppende skryfkunde. Sy vra haar af of die enigste subversiewe daad in ’n gebrutaliseerde samelewing nie dalk die skryf van klein gediggies is nie.

Van Niekerk het die volgende toekennings ontvang: 1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster en die Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch; 1995: M-Net-prys, CNA-prys en Noma-prys vir Triomf; 2005: UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat.  Sy het ook in 2007 die Hertzogprys vir hierdie roman ontvang. Van Niekerk sal later vanjaar vir drie maande as gasdosent in skeppende skryfkunde in Leiden optree waar sy onder andere die Albert Verwey lesing sal gee.

 

 

Marlene, jy staan al sedert 2001 aan die hoof van die uiters suksesvolle Kreatiewe Skryfkursus by die Universiteit van Stellenbosch. Alhoewel baie belanghebbendes bra skepties staan teenoor sulke kursusse het julle al besonderse suksesse behaal; met Loftus Marais se debuut as ʼn meer onlangse voorbeeld hiervan … Hoe geskied die keuring vir so ʼn kursus?

 

Belanghebbendes het sekerlik reg om skepties te wees. Sogenaamde skeppende skryfdosente kan nie mense wat ʼn behoefte het om te skryf verander in goeie skrywers nie. Tussen die behóéfte om jou uit te druk en die aflewer van ʼn min of meer vlotte verhaal/gedig, laat staan nog maar eers ʼn komplekse literêre teks, val ʼn groot skaduwee, een wat dikwels lei tot frustrasie en teleurstelling in die hart van die behoeftige. Christopher Hope het ooit gesê hy weet nie wat hy moet doen met mense wat vir hom sê hulle wil skryf nie, hy mik vir die deur.

 

Die punt is: die “skryfbehoeftige” moet reeds redelik goed kan skryf, moet reeds oorspronklike idees hê, moes reeds heelwat gelees het, en moes reeds hard probeer het. Die meeste studente wat uit ons kursus kom met publikasies en prestasies, was reeds nuuskierig, kompetent en toegewyd voordat hulle by die kursus aangesluit het. Willem Anker, (nou saam met my dosent in die MA skryfkundekursus en wenner van die UJ Debuutprys vir prosa), Deon Meyer (ATKV-prys), Helena Gunter (Eugène Maraisprys), Loftus Marais (UJ Debuutprys), het hoogstens gebaat by die streng skryftempo wat ons vir ons studente voorskryf. Hoe meer bladsye die skrywer/digter genereer hoe groter die kans dat hy/sy goud raakspit. Verder vind Willem en ek wel dat voorgeskrewe leeswerk (fiksie, wetenskap, teorie) en meningswisseling in die klas, saam met ons terugvoer en noukeurige redaksie van tekste mense help en aanmoedig in hulle pogings. Reeds kompetente skrywers besluit in elk geval watter adviese hulle wil aanneem en watter menings hulle in die wind wil slaan. Soms vind kandidate wat reeds sukses behaal het en bevestig is in die openbare arena die kursus nogal konfronterend. Ons mening is dat die eise wat ons in die skryfklas aan skryfwerk stel altyd hoër moet wees as die eise wat die verbruikers van vermaak stel.

 

Toelating tot die MA-kursus sal strenger word volgende jaar wanneer die kursus ook aangebied sal word vir studente wat in Engels skryf. Studente, wat in ieder geval moet beskik oor ʼn Honneurs in Afrikaans/Engels, is tot dusver gevra om vir ons keuringsproses ʼn portefeulje voor te lê van veertig geskrewe bladsye prosa, of twintig gedigte, ʼn uitvoerige opsomming van die beoogde eindprojek (wat die formele en inhoudelike samehang en uitdagings daarvan moet verbesonder) en ʼn brief wat verduidelik en motiveer waarom hulle die kursus wil neem en wat hulle wil leer. Hieruit kan die keurkomitee baie vinnig agterkom wat die vlakke van (ook teoretiese) belesenheid, skrywerlike toewyding, vaardigheid en mate van intellektuele ontwikkeling by voornemende studente is.

 

Hierby ʼn opmerking: ons is van mening dat skryf nie in die eerste plek ʼn kuns is nie, maar ʼn tegniese kunne, ʼn vak waarin mens sekere ambagtelike grepe kan leer net soos wat mens kan leer klavierspeel. Of jy dan uiteindelik uitstekend kan klavierspeel en moeilike werke op uitdagende maniere kan interpreteer, is weer ʼn ander vraag. Dit hang af  of jy “aanleg” het soos die ou mense sê, en of jy onydel genoeg is om aanmekaar te luister na hoe die meesters moeilike werke interpreteer en speel. Met ander woorde, bo en behalwe die ambag is daar dan die sogenaamde “ kuns”  Ons bring die meeste van ons studente die ambagtelikhede by, sodat hulle ten minste ʼn vlot en onderhoudende storie sonder perspektieffoute, clichés of  chronologiese verwarrings kan skryf. Alleen as die vakkundige basis gelê is, kan mens verder gaan.

 

Hoe werk so ʼn kursus? Wat is julle werkwyse?

 

Ons skryf algemene en persoonlike leeswerk voor en ons hou elke maand ʼn uitvoerige werkswinkel/seminaarklas waarvoor alle lede mekaar se werk moet lees en terugvoer gee.

 

Vir hierdie seminaarklas vra ons dat studente wat prosa skryf elke maand dertig tot veertig bladsye nuwe werk inhandig. Dit beteken dat hulle voltyds moet skryf en tagtig bladsye per maand moet genereer. Dit kom neer op plus minus drie bladsye per dag, wat dan afgeredigeer moet word tot die dertig of veertig wat hulle inhandig. Ons kyk nie graag na heeltemal rowwe eerste weergawes nie, ons soek die bladsye wat reeds verminder en geredigeer is deur die student.

 

Ons redigeer voorts groot stukke van hierdie ingehandigde tekste, maak die sinne reg, maak die vertelperspektief reg, korrigeer die tydsverpakking van die verhaal, stel ontwikkeling van tonele voor, suggereer hoe die stemme geïndividualiseer moet word, skrap adjektiewe en bywoorde, skrap clichés, ensovoorts. Dis ʼn gehiert en ge-pffft en geskrop, dis soos die huisvriendelik maak van klein hondjies: hier hondjie, hier, op die koerantpapier, hier, nie daar op die tapyt nie. Oor en oor en oor doen ons dit soos vingerposisies en tydtel as mens leer klavierspeel, tot gewoon net die vertel van die storie min of meer vlot.

 

En dan pas begin die eintlike werk, d.w.s. as dit ʼn talentvolle skrywer is. Anders laat ons die teks gewoonlik by “goed vlot” en konsentreer op die teoretiese opstel waarmee die punte dan opgemaak moet word.(Die teoretiese opstel tel die helfte van die punte vir die MA-eindprojek, en dit moet handel oor ʼn onderwerp wat formeel of inhoudelik verband hou met die skrywer se skeppende werk. Hierdie opstel is egter nooit ʼn verslag van die skryfproses of ʼn beskouing oor eie werk soos wat mens dikwels vind in ander uitvoerende of beeldende kunstedepartemente ook by ons eie universiteit nie. Ons vind dat dit alte maklik uitloop op ʼn selfregverdiging of rasionalisering van skryfwerk wat nie heeltemal so besonders of goed is as wat die skrywer daarvan graag wil glo nie. Dis meestal erg verleentheidswekkend om hierdie selflowende geskrifte te lees. Skrywers dink ek behoort hulle te weerhou van interpretatiewe of waarderende kommentaar op hulle eie werk, dit kan lei tot die ongeluk van inhiberende selfinsig!

 

Nog oor ons werkwyse: soms doen Willem en ek iets wat ons noem ʼn “cockpitsessie”. Dan sit die student voor die rekenaar met haar teks en ons sit weerskante langs haar en ons laat haar haar teks hardop voorlees, en dan laat ons haar sin vir sin skoonmaak en styftrek en skrap. Na so ʼn sessie ruik die kantoor meestal na buskruit en salpeter, maar dit is ʼn erg effektiewe oefening.

 

Redaksie is iets wat ek geleer het by my eie lewenslange redakteur Hettie Scholtz. Mens het ʼn begenadigde iemand soos sy nodig wat jou die ding van selfkorreksie leer, iemand wat jy absoluut moet vertrou, ʼn rol wat jy voorts moet internaliseer. Hettie het my byvoorbeeld ʼn pedagogiese truuk geleer wat ek met groot vrug toepas. By al die sinne wat reg was in my werk het sy regmerkies gemaak, en by die wat nie helder was nie of te lank, verkeerdmerkies. Met sulke redaksie voel mens ondersteun en hoopvol terwyl jy jou teks hersien. Slegs verkeerdmerkies sou baie erg gewees het.

 

Tot dusver het ek jou vraag beantwoord met verwysing na prosa. Maar ook digters moet hulle ambag leer. Nougesette komposisie van beeld en klank, ʼn helder inhoudelike fokus, verwikkeldheid van idees en verrassende assosiasies is nodig vir ʼn geslaagde gedig. Slap, flou prosareëls en modderige adjektiewe moet daarom geskrap word.(veral woorde wat oorgeëksploiteer is in Afrikaanse poësie soos digby, oker, silwer, plots en ruggelings!)  Ons laat graag gebonde verse skryf, sonnette, villanelles. Dan leer die aspirantdigter baie gouer om te skrap. ʼn Baie goeie oefening is om ʼn maklik memoriseerbare, (maar nie ʼn soetsappige) melodie, of lied te neem en die digters nuwe  woorde daarop te laat skryf. Die woorde moet perfek skandeer op die musiek (met die klem op die regte sillabes van die woord) en die teks moet in een enkele emosionele fokus bly met inagneming van die musikale wendinge en klimakse. Geen beter manier om uit te vind of jy twak geskryf het as om dan jou woorde op die voorgeskrewe melodie vir die klas te sing of te laat sing nie. ʼn Baie goeie oefening vir digters is om goeie Engelse gedigte in vaste vorm in Afrikaans te vertaal, met behoud van rym en metrum. Dis soos om perde met ʼn rek om die enkels te laat hardloop. As jy die rek afhaal tel hulle vanself hulle knieë mooi hoog op.

 

Daar is deesdae ʼn vadsige, ek wil amper sê verloederde mode van die oewerloos uitgesponne vrye of “praat”-vers in Afrikaans waarvan dikwels twee derdes geskrap kan word, die soort gedig waarvan die digter nie weet waaroor dit in essensie gaan nie en dit skynbaar ook nie wil weet nie. Dit lyk vir my dikwels in sommige verskynsels van hedendaagse Afrikaanse digkuns asof die idee van gedrongenheid en verwikkeldheid op klank- en betekenisvlak saam met die idee van inhoudelike gravitas of ʼn meer as anekdotiese betekenis volledig in die vergetelheid geraak het ten gunste van ʼn prosodies ongedissiplineerde selfkoesterende gewauwel. Keurders by die uitgewers sou hieroor aangespreek moet word. Dis sleg vir ons taal en sleg vir ons digkuns dat sulke poësie gepubliseer word en aangeprys word deur lui of lafhartige resensente. Dis onverantwoordelik. Ons sal gewoon kry wat ons verdien as dit so aangaan.

 

Uiteraard is die studente uitgelewer aan my en Willem se smaak en opvattinge, nie dat ons oor alles saamstem nie, ons vind dit heel belangrik dat studente sien hoe hulle dosente ook van mekaar kan verskil. Ons dwing nie ons idees af nie, maar ons eis wel dat studente soveel as moontlik lees. En dan by verre nie alleen fiksie of poësie nie. Dit kan ʼn skrywer en ʼn digter baie goed doen om ʼn slag ʼn boek oor dieregedrag of meteorologie of die fisiologie van die anus te lees, selfs meer as nog ʼn bundel gedigte of nog ʼn roman. Dit kom daarop neer dat ons studente wil leer om geykte taalgebruik en geykte persepsies te onderdruk en nuwe gewaarwordings oop te dek, deur die peilstif, die voelstaaf, die sonde van taal.(Soek dit op in die woordeboek, dis Afrikaanse woorde vir  “probe”) Dit gaan vir ons oor die kweek van insig in die materialiteit van taal en die moed om risiko’s te neem daarmee, ja, om die gewone funksionele mededelende en konvensionele taal plesiergewende (erotiese) geweld aan te doen. Dit gaan om die wildmaak van taal agter die tong aan by die mond uit, soos wolwe om Hans Andreus vry aan te haal.

 

 

Alhoewel jy as digter gedebuteer het met Sprokkelster (Tafelberg, 1977), het jy jou die afgelope dekade by uitstek gevestig as prosaskrywer. Tog het jy deurentyd voortgegaan met die skryf van gedigte; kom dié gelyktydige beoefening van twee uiteenlopende dissiplines maklik vir jou, of vind jy dat die een die ander inhibeer?

 

Ek vind dit deesdae veel plesieriger en hoopgewender om gedigte te skryf as prosa. Ek vlug uit die prosa in die gedigte om daar bietjie asem te kry. Ek voel veel vryer en gelukkiger as ek ʼn versie pleeg  as wanneer ek ʼn kortverhaal probeer skryf. Kortverhale is vir my die heel moeilikste vorm, ek beland deesdae binne drie sinne van die aanvang in ʼn vreeslike gestoei met vorm. In die romans neig ek natuurlik om te langdradig te wees. Wat ek wel merk, is dat ek steeds meer die eise van poësie aan my prosa oplê – ek soek steeds na ʼn hiper-integrasie op klank- en beeldvlak in die prosa. Die ritme van die sinne is vir my toenemend belangrik. Miskien is dit hoekom die prosa vir my so moeilik voel om te skryf, want ek wil eintlik poësie daarvan maak, maar mens kan dit nie doen oor die hele lengte van ʼn sewehonderd bladsye taamlik realistiese roman nie.

 

Uiteraard verskil die verse wat ʼn mens die afgelope tyd van jou te lese kry (of hoor), heelwat in aanslag van die verse in jou twee digbundels. Voel jy dat jou werk as prosaskrywer hiertoe bygedra het, of is dit gewoon vanweë ʼn natuurlike ontwikkelingsproses en/of veroudering?

 

Ek dink veroudering, van myself dus het alles te make met my hang na die poësie. Ek dink beweging is nodig vir die skryf van poësie, die halsreikende beweeglikheid van die prille jeug, die bewoënheid en verbystering van die ouerword. (nou rek jy jou nek na die plek waar jy moet oeit en jy wonder hoe op gods aarde jy dit moet doen) Die verliese wat jy ly as jy ouer is, is vreeslike droewige verliese, die winste wat daar nog is, voel almal soos groot geskenke, groot kanse. Die skryf van gedigte voel dan soos ʼn soort aandagoefening, ʼn soort gedenk-aktiwiteit: die duiwe help die eik verherfs, gedigte help my sterwe. (Nie ʼn reël wat moet bly staan nie!)

 

Marlene, daar word nogal dikwels gesels oor veral twee nuwe tendense wat teenswoordig in ons digkuns na vore kom: die sogenaamde anekdotiese (of vertelvers) en die ou strydpunt van filosofie en poësie. Hoe voel jy hieromtrent? Het ons hier met sop sonder sout te make, of is dit wesenlike groeipunte in ons digkuns?

 

Ek dink ons eietydse digkuns word veral bedreig deur slapheid en flouheid, deur ʼn gebrek aan inspanning en ambisie, deur halfsagtheid, deur of purperige of cool-erige muurpapiertaal, en dan ook nog bedreig deur verskillende soorte van ydelheid, vanaf hoogs postmodernisties geleerd tot religieus dweepsugtig tot jags selftentoonstellend tot gewoon rooibostee– en toasthuishoudelikselfvertroostend. (Gepraat van toast, Toast Coetzer is hierby ʼn uitsondering, ek dink hy maak wildewegholtekste in wildewegholkontekste van klank. Dis hoogs aansteeklik en verfrissend. Take it away Toast!)

 

Dis gevaarlik om te lewe, dis gevaarlik om te dig.  Taal is ʼn gevaarlike en lewendige ding as jy hom wakkerkry uit sy ingeslaapte alledaagsheid. Ek voel nie daar is altyd genoeg bewustheid hiervan in ons jonger digkuns nie. Baie gedigte is nogal selftevrede en dof. Oulikheid en dekorasie is ʼn ander gevaar. Ek dink dit is omdat jong digters dikwels nie genoeg goeie of wilde poësie en wilde filosofie lees nie, en die keurders wat hulle moet krit ook nie. Ek dink die dumbing down van die samelewing het veel daarmee te make, die verdwyning van die openbare domein as een van betrokkenheid en debatvoering. Hierdie land vra om in sy skoonheid besing en in sy lyding gerou en in die enorme stupiditeit van sy leiers uitgeskel en wakkergeskud te word, maar die digters poer meestal net aan asof hulle magneetlettertjies rondskuif op ʼn yskas. Wat het geword van die himniese en elegiese digters? Waar is die digters wat “verby die moederspeen in die mond skel” om BB buite konteks aan te haal?

 

Die gedigte wat ekself die graagste sou wou skryf, so vertel ek myself in my een hart, moet iets algemeen probeer beweer. My voorbeeld hierby is die Poolse digter Wislawa Szymborska. Sy is filosofies geskool en wat my betref ʼn ware en voorbeeldige digter: sensitief vir aktuele en historiese gebeure en gegewens,  gewaarwordingsbereid tot en met, maar meestal met ʼn humoristiese of skeptiese wysgerige gevormde ondervraging van die gegewens, gebeure en gewaarwordings, sodat die gedig ʼn “algemeen menslike”  en “tydlose” waarde kry. Ek weet nie hoe die gedigte in Pools klink nie, wat verskriklik jammer is, ek stel my voor hulle klink ook nog erg mooi. In die Nederlandse en Engelse vertalings is wat my tref die ekonomie, die helderheid van die “argument”, die puntigheid, die oorspronklikheid, ʼn soort lugtige wysheid, maar met heel veel mededoë, anders as Larkin, die ou bitterbek, wat ʼn ander digter is wat ek graag wil naboots.

 

Maar in my ander hart is ek te jaloers op musiek om te veel te kommer oor (filosofiese) betekenis, ek neig steeds meer daarna om die klankeffek van die gedig aan te stel bo die betekenis daarvan. Ek dink soms: betekenis, ag, betekenisbespekenis, wat moet wat ookal nou eintlik be-teken? Die meeste ou betekenissies is puffel. Op warm dae is ek ʼn taalskeptisis, as die sneeu op die berge val nog meer. Teenoor “betekenis” staan die oorstelpende verbysterende onbenoembare so-heid van die dinge. ʼn Eerlike respons daarop sou ʼn woordelose kreet moes wees, ʼn kreun.  Dus, digter, roep na die maan, na die blare, na die bloed, antwoord op die varings by die wal. Slampamperpoësie verder ontwikkel dus? Maar nie soet nie. Dionusiese slampamper? Die gedig as eksklamasie, as beswering, as invokasie, as sjamanistiese intervensie? Teenoor die wysgerige dan miskien die Orfiese? Of anders nonsenspoësie?

 

Maar kyk om u heen beste leser: hoe lyk Orfeus op Stellenbosch? Hy is ʼn no nonsense fellow. Alles wat hy beweer dra by tot beter begrip. Jy sien hom by Java koffiedrink met sy Blackberry. Hy kyk nooit om na Ariadne nie. Hy is ʼn wellness expert.

 

Pallaksch, het Hölderlin gesê in sy toring, ja-nee.

 

Dankie vir hierdie heerlike gesprek, Marlene. Sal jy, ten slotte, dalk so vriendelik wees om een van jou (nuwer) verse hieronder oor te tik vir ons lesers se vaartbelynde leesplesier?

 

 

In die aand by die dam.

(By die Variasies en fuga op ‘n tema van Beethoven vir twee klaviere van Max Reger)

 

Dreun is wat die hiel doen van die wolk in die water,

‘n dreun wat veramber in die waag van die aand,

die berg met haar koning

‘n sitting van spilsiek reïterasie.

 

Ek hurk daarby my palms in die modder

en wens ek was Max  Reger

wat die wildemakou met een akkoord kan inink in die glans,

en die otter met sy rimpelvermenigvuldigende snoet

kan uitstuur aan oewers van oorvloed,

en die landing van kolganse fugaal kan verskitter,

en die rietkraag kan naderbuig met klawers van winking,

en die maan kan aanslaan in die tabernakel van die oor,

en al die variasies van die val van die skemer kan hang

langs die skene van die reier wat staan in die kaatsing

van aankwinkelende transe.

 

En as hy uiteindelik sy drome betree

daardie tred kan vang in deursigtige

skandelose kadense.