Posts Tagged ‘krimpvarkie gedig’

Philip de Vos. Stekelvarkentjes wiegelied

Wednesday, May 19th, 2010

In 1984 – ’n maand voordat my eerste versieboek O togga! ’n Gogga verskyn het, was ek in Amsterdam, opgewonde om op die ouderdom 45 my baba uiteindelik in my hande te kon vashou.
’n Aand voor my vertrek terug Kaapstad toe het ek ek vir Meinard Kraak (‘n sanger wat ek destyds in Suid-Afrika deur my pianis-vriend Carl Nietzshe ontmoet het) besoek.
En ek onthou hoe ek in 1971 gedurende ’n ses weke-verblyf in Amsterdam dikwels vir Meinard uit snoesige Amsterdamse winkeltjies gebel het en hoe dat ander in die winkel spitsoor geluister het na die vreemde taaltjie wat ek praat.
Nou was dit 17 jaar later en het ek vir Meinard in dieselfde taaltjie van my versies wat binnekort sou verskyn, opgesê.
Meinard vra my toe of ek die werk van Annie M.G. Schmidt ken. So geliefd was sy in Holland dat sy gereken is as hulle tweede koningin.

En dít was die begin van ’n liefdesverhouding wat tot vandag toe nog voortduur. Toevallig was daar daardie maand ’n groot Annie M.G. Schmidt-uitstalling in Amsterdam en ’n paar uur voor my vertrek terug Kaapstad toe het ek hierdie geliefde vrou se werk vir die eerste keer ontdek.

En so ook het ’n liefdestaak begin – om versies van Annie M.G. Schmidt in Afrikaans te vertaal. Dit was geen opdragwerk van ’n uitgewer nie en ek het destyds selfs nie eens aan publikasie van my vertalings gedink nie. Die versies het my sporadies vir ’n paar jaar aan die gang gehou selfs toe ek eenkeer vir depressie gehospitaliseer is en vertaling van die versies my weer in die hospitaal laat lig sien het.

Rym-vertalings het my nog altyd ewe veel plesier gegee as die skryf van my eie werk. Maar vertaalwerk bring sy eie probleme. en die grootste probleem lê seker by ’n taal se rymmoontlikhede.

Met my rymvertalings probeer ek altyd die ritme van die oorspronklike behou asook die oorspronklike gevoel. Woordelike vertaling bly onmoontlik.

Een van my geliefde Annie M. G. Schmidt-versies is juis Stekelvarkentjes-wiegelied.

STEKELVARKENTJES WIEGELIED

Suja, suja Prikkeltje, daar buiten schijnt de maan

Je bent een stekelvarkentje, maar trek het je niet aan.

Je bent een stekelvarkentje, dat heb je al begrepen

De leeuwen hebben manen en de tijgers hebben strepen

En onze tante eekhoorn heeft een rooie wollen staart

Maar jij hebt allemaal stekeltjes en dat is zo veel waard

Slaap, mijn kleine Prikkeltje, dan word je groot en dik

Dan word je net zo’n stekelvarken als je pa en ik.

Het olifantje heeft een slurf, de beren hebben klauwen

De papegaai heeft veren, van die groene, van die blauwe

En onze oom giraffe heeft een hele lange nek

Maar jij hebt allemaal stekeltjes en dat ik ook niet gek

Suja, suja Prikkeltje, het is al vrees’lijk laat

Je bent het mooiste stekelvarken dat er maar bestaat

De poezen hebben snorren en daar kunnen ze door spinnen

De koeien hebben horens en de vissen hebben vinnen

En onze neef de otter heeft een bruinfluwelen jas

Maar jij hebt allemaal stekeltjes die komen nog te pas

Suja, suja Prikkeltje, daar buiten schijnt de maan

Je bent een stekelvarkentje, maar trek het je niet aan.

 

My heel eerste probleem was: Kry mens krimpvarkies in Suid-Afrika? Miskien wel, maar ek was meer bekend met ’n ystervark. As kind het ons juis in die veertigerjare een aand na ’n besoek by my oupa en ouma in Kimberley teruggery Bloemfontein toe. In die donker het ons teen iets gebots en ’n paar myl verder het die kar skielik ’n pap wiel gehad. en toe ons ystervarkpenne in die vergasser sien vassteek, het ons besef wat gebeur het. En ’n paar jaar gelede het ek by World of Birds in Houtbaai ’n ystervark se snoet gestreel en dus het ek die vrymoedigheid gehad om die oorspronklike krimpvarkie in ’n ystervarkie te verander:

YSTERVARKIE-WIEGELIED

So ja, so ja Prikkeltjie. Daar buite skyn die maan.

Jy is ‘n ystervarkentjie, dit moet jy goed verstaan.

Jy is ‘n ystervarkentjie, dit weet jy tog ten volle.

Die leeu spog met ‘n maanhaar, en luiperd spog met kolle

en onse tante eekhoring het ‘n rooibruin wolhaar stert,

maar jy het net jou pennetjies, en dié is veel meer werd.

Slaap, my kleine Prikkeltjie, dan word jy groot en dik

soos Pappa en soos Mamma (en dít bring net geluk)

Die olifantjie het ‘n slurp, en beer spog met sy kloue,

en papegaai het vere: daar’s groenes en ‘n bloue,

en onse oom kameelperd het ‘n baie lang lang nek,

maar jy het net jou pennetjies, en dit is ook nie gek.

So ja, so ja Prikkeltjie, dit is al vreeslik laat.

Jy is die mooiste varkentjie waar mense oor kan praat.

Die ysbeer dra ‘n wolhaarpels vir warm-hou van binne,

en koeie spog met horings, en visse spog met vinne,

en onse neef, die otter het ‘n warm donker jas,

maar jy het net maar pennetjies en dié kom goed te pas.

So ja, so ja Prikkeltjie, daar buite skyn die maan,

Jy is ‘n ystervarkentjie, dit moet jy goed verstaan.

  

My eerste probleem met dié vertaling was die tiere met hul strepe:

Je bent een stekelvarkentje, dat heb je al begrepen

De leeuwen hebben manen en de tijgers hebben strepen 

Afrikaanse rymwoorde, sou woorde soos repe en grepe en skepe wees. Geeneen wat by die vertaling sou pas nie. Dus word tiere, luiperds in my vertaling en die strepe word kolle:

 
Jy is ‘n ystervarkentjie, dit weet jy tog ten volle.
Die leeu spog met ‘n maanhaar, en luiperd spog met kolle
 
Dan kom ek by die volgende gedeelte:

  

 

 
De poezen hebben snorren en daar kunnen zij mee spinnen
De koeien hebben horens en de vissen hebben vinnen
 
Omdat ek ons kleintjies nie aan pornografie wou blootstel nie, het ek die poezen in ’n ysbeer verander, en hier is ek gelei deur die rymwoord vinne (vinne) wat rym met binne, En ysbere en visse woon hopelik taamlik na aan mekaar en behoort in my vertaling sin te maak.

 

 

 

Die ysbeer dra ‘n wolhaarpels vir warm-hou van binne,
en koeie spog met horings, en visse spog met vinne.
 
Oorspronklik het ek daaraan gedink om stekelvarkentje as ystervarkietjie te vertaal maar het uiteindelik saam met Marina le Roux besluit om stekelvarkentjie te gebruik, want dit klink heel vriendelik al sou dit ’n bietjie na die Nederlands toe neig.
Oor die feit dat sommige dele te Nederlands klink het Maritha Snyman die volgende in ’n resensie oor my vertalings geskryf:

 

 

Of hierdie vertaling aan Afrikaanse kinders dieselfde leesplesier sal verskaf om dieselfde redes as hierbo genoem, kan bevraagteken word. Enkele getuienis van kinders se reaksie op die boek spreek van nee. Die onbekende Europese konteks en kennis van verwysingstekste wat nie noodwendig deel van die Afrikaanse kind se verwysingsraamwerk uitmaak nie is, myns insiens, twee hindernisse. Daarom sal veel van die satire en sosiale kommentaar die Afrikaanse kind verbygaan – tensy dit natuurlik geduldig deur ‘n volwassene leser aan die kind uitgewys en verduidelik word. Verder hinder die deugaanse weglating van die dubbele ontkenning in De Vos se verse my – soos ook in sy ander publikasies – steeds. Veral hier klink dit “Nederlands” en skep dit verwydering met gesproke Afrikaans wat afstand tussen die kind en die teks kan teweegbring.
 
As skrywer praat ek nooit terug nie, maar wil net ietsie noem en dit het niks met jakkals prys sy eie stert te doen nie: n Jaar of drie gelede het ’n laerskoolonderwyser aan my genoem. “Besef jy hoeveel van jou versies word deur kinders by die plaaslike eisteddfods voorgelees?”

Ek is toe incognito saam met haar na een van hierdie eisteddfods. Die versies dié dag was die kinders se eie keuse. Van die 30 kinders teenwoordig het 27 van my versies opgesê en meer as die helfte was juis van my Annie Schmidt vertalings.

 

Op daardie dag het ek besef dat oor die kwessie van leesplesier Maritha Snyman miskien nie heeltemal reg was nie.

Ek sê maar net …

En vir dié wat lus het om te luister kan op die volgende tik: