Posts Tagged ‘Lady Anne’

Nuuswekker. Lady Anne binnekort in Engels beskikbaar

Thursday, February 9th, 2017
Omslag

Omslag

Goeie nuus is dat Antjie Krog se grensverskuiwende bundel, Lady Anne (1989: Human & Rousseau) teen die einde van die maand in Engelse vertaling gaan verskyn. Hierdie bundel, wat in 1990 met die Hertzogprys vir poësie bekroon is, is inderdaad 26 jaar later nog net so relevant en daarom is hierdie publikasie, in samewerking met Bucknell University Press, te verwelkom.

Volgens die uitgewer se inligtingstuk, die volgende: “In an attempt to make sense of her own existence, Krog juxtaposes her own life in the midst of a world of racial injustice and discrimination, against that of the life and times of Lady Anne Barnard, of Scottish descent, during her stay in the Cape Colony in the late eighteenth century. Ultimately the collection transforms into a document of multiple voices, highlighting the complexity of a colonial legacy.”

Aanbevelings is die volgende:

Stephen Clingman: “There is a rugged, gripping quality to Krog’s language, digging deep into the nature of South African life and her own self-challenging life to it.”

Ingrid de Kok: “Krog engages . .. with originality and power, in poetic language of great beauty, passion and complexity.”

In September 2011 het Bernard Odendaal en Hennie van Coller se artikel oor “Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)” in Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88 verskyn. Met goedgunstige verlof is dié artikel ook op Versindaba geplaas.

Onder andere was hul bevinding soos volg: “Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het ‘om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring’, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar ‘volggenote/volksgenote’ met elke volgende bundel van haar telkens te verruim – só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê ‘literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid’ (Brink, 1985:79) […] Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.”

Die volledige artikel kan hier gelees word.

Hieronder volg een van die gedigte uit dié bekroonde bundel.

Mag jou dag vreugdevol verloop.

Louis

 

*

Lady Anne by die mikrogolfoond

o my susters in kombi’s en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat soggens in fleurige leotards
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

soos ons by mekaar op oorbrûe verbyjaag
in stofwolke stop langs sportvelde
aandagtig sit en tydhou voor musiekkamers
mekaar aan die huil bid op Bybelstudies
wonder ek: van watter breed is ons?

in die meedoënlose metodiek van beplanning
herken ek die waansin van wa-pak
die drif waarmee kinders gedryf word
tot uithaal en byhou ruik na kamp en kroep

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai
en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai
weet ons ons is die laaste
die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en heuning
ons is die laaste
agter ons onder ons langs ons
stort met die sagte geluid van as
strukture wat ons soort in stand hou
in hulle maai.

 

© Antjie Krog (Uit: Lady Anne, 1998: Human & Rousseau)

Bernard Odendaal en Hennie van Coller. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Thursday, July 7th, 2011

Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Bernard Odendaal en Hennie van Coller

 

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88

ABSTRACT

The poetic plot in Antjie Krog’s Lady Anne (1989)

Antjie Krog’s Lady Anne, inter alia labelled as “a novelistic poetry volume” – bears the stamp of the postcolonial discourse, more specifically as it concerns Apartheid and post-Apartheid South Africa. Aspects of the life of the historical figure lady Anne Barnard are metaphorically employed and embedded in an intricate narrative about Krog’s growth towards realising the necessity of (personal and national) transformation concerning socio-political, gender, religious and poetical issues. In this way some of the most important contemporary public discourses in the South Africa of the late 1980s are further highlighted by means of various text citations surrounding the poems in the book. This article focuses specifically on the construction of the poetic plot in Lady Anne, namely on “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), as well as on the discursive implications thereof. Observations are also made and conclusions drawn about the manipulation of aspects of the mediating dimension in the book (agents/actants, narrative levels and narrative structure, the meaningful way in which the process of writing poetry itself is emphasised).

1. Inleiding

Antjie Krog se 1989-bundel Lady Anne, staan in die teken van die postkoloniale diskoers, meer spesifiek wat dit apartheid- en postapartheid-Suid-Afrika betref1. Die vraag na wat ‘n (Afrika- en) Suid-Afrikaanse identiteit behels, is ‘n sentrale kwessie in die bundel – soos trouens ook in ander Krog-bundels, waaronder Gedigte 1989-1995 (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000). Bundels deur ander Afrikaanse digters wat kennelik deur Lady Anne geïnspireer is, of waarin op aspekte daarvan gereageer word (veral Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg: ‘n Versroman uit 1996 en onderskeidelik Heilna du Plooy en Marius Crous se bundels In die landskap ingelyf en Brief uit die kolonies uit 2003), getuig voorts hiervan.

Al genoemde bundels het boonop min of meer ‘n opvallende (hoewel verkapte) verhalende inslag, en voer reële en/of fiktiewe vertellers/sprekers ten tonele. Trouens, narratiwiteit (en digterskap) word telkens getematiseer.

Lady Anne is onder meer om bostaande redes as “‘n roman van ‘n bundel” (Brink, 1989:13) bestempel; en Esterhuizen se bundel word in die subtitel “‘n Versroman” genoem.

Hühn (2004) beweer dat narratologiese konsepte kan bydra om die tegnieke te beskryf wat in poësietekste ingespan word om elemente tot een of ander “gemotiveerde” orde te bind. Die “poetic plot” in Lady Anne, dit wil sê “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), asook die diskursiewe implikasies dáárvan (byvoorbeeld op aktansiële vlak), word in hierdie artikel onder die loep geneem. Tussendeur word waarnemings van en afleidings oor die hantering van aspekte van die mediëringsdimensie (agente/aktante, vlakke van vertelling en bundelopbou, vooropstelling van die digproses en die funksies dáárvan) gemaak.

2. Enkele opmerkings oor narratiewe poësie

Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (Odendaal, 2009:116), maar ook na wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word, sowel as “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag (Stolk, 2007:1122 & 1127).

Vaessens en Joosten (2003:86-87) verbind die wêreldwye oplewing in die verhalende soort poësie met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer. In die dominasieposisie van dergelike meesternarratiewe tree ‘n aangewesenheid op sogenaamde klein, dikwels outobiografies getinte vertellings in wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied.

In die onderhawige bundel sal aangetoon word dat (outo)biografiese, ‘klein vertellings’, dié van lady Anne Barnard en dié van “die skrywende subjek” (Crous, 2003b:151)2,  met die groter, Suid-Afrikaanse, nasionale diskoers verweef word.

‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum bestaande uit ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Soos deur Odendaal (2009:119 – in navolging van Hühn, 2004:139) opgemerk word, kan ‘n mens dus in hierdie verband praat van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeling (“mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In laasgenoemde dimensie gaan dit om die presentasie (en interpretasie) van so ‘n sekwensie vanuit ‘n bepaalde perspektief3.

Die onderskeid tussen sekwensialiteit en bemiddeling kom breedweg ooreen met bekende narratologiese onderskeidings soos “histoire” en “récit”, “fabula” en “sjužet”, “storie” en “verhaal”/”diskoers”/”teks”/”plot”, ensovoorts4. Of soos Brink (1987:38) verkies om die onderskeiding te formuleer: storie en vertelteks.

Volgens Hühn (2004:139) sal in ‘n omvattende modellering van narratief ook voorsiening gemaak moet word vir ‘n dimensie van die handeling van artikulasie of vertelling (“act of articulation or narration”), dit wil sê vir die dimensie waardeur die bemiddelde opeenvolgendheid van gegewens en gebeure bewerkstellig word, en waarvan spore in die tekstuele vormgewing nagespeur kan word. Brink (1987:40) gebruik hiervoor die term vertelproses. Verteldimensies soos konkrete of abstrakte, en eksplisiete of implisiete verteller- en outeurskap, asook handelingsdieptestrukture en aktante5 soos deur onder meer Greimas (1971) onderskei word, is hier ter sprake.

Oor spesifieke vorme van narratiwiteit in liriese poësie maak Hühn (2004:151-153) ‘n klompie rigtinggewende aantekeninge.

Hy beweer eerstens dat die kenmerkespektrum van intrigevorming (“plotting”) en vertelling in die poësie merkbaar verskil van dié in die prosa. Daar word in die digkuns byvoorbeeld graag vertel vanuit ‘n posisie binne-in die voortgaande storie (“interne” vertelling – Brink, 1987:153), eerder as vanaf ‘n posisie aan die einde (“agternavertelling” – Brink, 1987:160-161) – dit wil sê liefs op prospektiewe wyse (“vooruitvertelling” – Brink, 1987:161) of op simultane wyse (“gelyktydige” vertelling – Brink, 1987:161-162) terwyl die storie ‘gespeel’ of die gebeure-opeenvolging ‘gevorm’ word deur die vertel van die storie (die vertelteks).

‘n Besonder komplekse poëtiese intrigevormingswyse waarop Hühn (2004:151-152) wys, is waar die gebeurlikheid (“eventfulness”) die storievlak oorskry en ‘n “discourse event” word. Hy noem die voorbeeld van Shakespeare se Sonnet 107,

where the frame of the sequence is abruptly redefined – from aiming at the friend’s praise for his continued friendship and patronage to the speaker’s insistence on his own superiority, on account of his immortalizing poetic gift, over his friend’s mortality.

Soos verderaan gesien sal word, vind iets dergeliks in Lady Anne plaas wanneer lady Anne Barnard terug die Kaapse kasteel in vlug (as simboliese daad van nievereenselwiging met die Suid-Afrikaanse werklikhede).

In die tweede instansie wys Hühn (2004:152) daarop dat karakters in digtekste, in die besonder die sprekers in gedigte, gewoonlik nie deur name en beskrywings geïdentifiseer word soos dikwels in die prosa nie, maar eerder deur hulle perspektief, hulle “interiority” (of ‘interniteit’, om ‘n Afrikaanse term analoog aan die onderskeiding “interne verteller” te skep), asook op grond van die persoonlike aard van die digterlike narratiewe.

Indeed, one important function of narratives in poems is the constitution of the speaker’s or narrator’s subjectivity and individuality, the definition of his or her identity, by the self-attribution of a chain of events, of a ‘mental story’… (Hühn, 2004:152).

Vandaar dat ‘n neiging tot performatiewe vergestalting van karakter, deur middel van die houdings, sienings en handelinge van die subjek soos weerspieël in die (self-) geuiterde teks, in die poësie bemerk kan word.

‘n Derde kenmerk van vertelling in poësie is die voorkeur vir ongewone verteltye en stemmings (Hühn, 2004:152), byvoorbeeld deur die tweedepersoonperspektief of die “imperative mood” (gebiedende wyse) te benut, of ‘negatief’ te vertel (gebeure te verhaal wat nié plaasgevind het nie).

Vierdens vermeld Hühn (2004:152-153) dat narratiewe sekwensies in die poësie ‘n gebrek vertoon aan tydruimtelike plasing (“[they] lack explicit circumstantial explanations and connections”), anders as wat konvensioneel vereis word in romans (hoewel erken word dat ‘n beduidende hoeveelheid “avant-garde fiction” wél hierdie kenmerke vertoon, “arguably partly as an import from the genre of lyric poetry” – Hühn, 2004:153). Meer abstraksie en tematiese universaliteit kan sodoende bewerkstellig word, terwyl tyds- en tematiese oorgange vergemaklik word.

In die vyfde plek beklemtoon Hühn (2004:153) dat die narratiewe sekwensies in liriek deur die ‘materialiteit’ en spesifieke vormlikheid van poësie (stilistiese en strukturele aspekte soos klank, ritme, prosodie, beelding, sinsbou, tipografie, ensovoorts) beïnvloed word, “reinforcing, modifying, or counteracting the semantic plot-development”.

Meer spesifiek, skryf hy, fungeer die formele kenmerke in die poësie as paradigmatiese relasies of ekwivalensies naas motiwiese en tematiese aspekte. Hierdeur raak hy aan wat al as ‘n verikoniseringsdrif in die poësie bestempel is (Bronzwaer, 1990:99), dit wil sê die ‘demonstratiewe’ en derhalwe sterker geloofbaarmakende wyse waarop talige, stilistiese, verstegniese en vormlike middele benut word om een of ander ‘gelykenis’ met die semantiese aspekte van byvoorbeeld die gedig te vertoon, sodat die ‘boodskap van die gedig hierdeur medegekonstitueer én -gefasiliteer word6.

‘n Kernelement in narratiewe digkuns is wat ‘n mens, na Hühn se reeds vermelde bestempeling “poetic plot”, die liriese intrige kan noem. Enkele opmerkings hieroor lyk nodig vóór die toepaslikheid van die begrip vir ‘n analise van Krog se Lady Anne gedemonstreer word.

3. Liriese intrige

 Du Plooy (1992a:384 & 386) beklemtoon hoe omstrede die begrip “plot” is, want, skryf sy, daarin lê ‘n hele groep begrippe ingebed: temporele aspekte soos volgorde en opeenvolging, logika en kousaliteit, die intelligente vermoë nie net om te onthou en na temporele en logiese reekse te soek nie, maar veral om verhoudinge te kan raaksien en interpreteer. Die relevante verhoudinge sluit alle aspekte van verhalende tekste in sodat handeling, karakter, plek en tyd en al die maniere waarop hierdie elemente artistieke betekenis verkry, in ‘n bespreking van die plot  tuishoort.

In hierdie artikel word, soos in die inleiding aangedui, Hühn (2004:142) se omskrywing van “poetic plot” benut, naamlik die wyse waarop die elemente in digtekste geskakel is tot ‘n kousale, temporele of andersins ‘gemotiveerde’ ketting. Hoewel Brink (1987:66 & 155) plot ook met die terme “handelingstruktuur” en “verwikkelingsplan” benoem, word die bestempeling liriese intrige hier verkies as vertaling van poetic plot. Daardeur word eerstens gepoog om die gelykstellende assosiasies van plot met begrippe soos “verhaal”, “diskoers”, “teks” en “vertelteks” uit te skakel, terwyl met die term liries tweedens klem geplaas word daarop dat hierdie ondersoek gerig is op ‘n teks waarin verhalende elemente op die liriese genresoort ingeënt is.

Hühn (2004:142-143) brei soos volg uit oor liriese intriges: “Plots in poetry are typically constituted by mental or psychological incidents such as perceptions, imaginations, desires, anxieties, recollections, or emotions and their emergence, development, and decisive change.” So ontstaan volgens hom ‘n sintagmatiese samehang in liriese tekste. Dit is egter slegs deur die paradigmatiese verwysing na buite-tekstuele kontekste en na ‘wêreldkennis’, “i.e. to cognitive schemata already familiar and meaningful” (Hühn, 2004:143), dat lesers sin van sulke tekste kan maak. ‘Wêreldkennis’ sluit kultuurspesifieke patrone van algemene ervaring in, sowel as intertekstuele verwysings na literatuur en ander kunsvorme.

Deur middel van sulke kognitiewe skemata word paradigmatiese verhoudings gelê, word indiwiduele insidente en gegewens geselekteer, gegroepeer en sistematies getransformeer tot ‘n samehangende en betekenisvolle narratiewe sekwensie of intrige. Brink (1987:54-57) praat in hierdie verband van die vorming van gebeurtenisreekse, en wat dan verder “saamgeklonter” word tot gebeurtenissiklusse om uiteindelik ‘n verhaal te konstitueer.

Dit behels dus ‘n transformasionele proses wat herinner aan wat deur byvoorbeeld Bal (1980:16) as die omsetting van ‘n “geschiedenis” tot ‘n “verhaal” bestempel is, en wat via bewerkinge op ses vlakke geskied (volgorde, tyd, karakterinvulling, ruimte, simbolisering of verwysing, en gesigspunt).

Twee hoofsoorte kognitiewe skemata wat deur Hühn onderskei word – en wat herinner aan die bekende kategorie-onderskeidinge van W. Blok (1960) tussen abstrakte en verhaalmotiewe7 – is rame (“frames”) en skripte (“scripts”):

Frames designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read, as for instance death, growing up, or sexual love; scripts denote sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame, such as, to take up the examples given, dying as crossing the border between this world and another, unfamiliar one; personal growth as the development from childhood to adulthood seen in a positive or negative light (gaining more knowledge or losing spontaneous vitality, respectively); or the formalized ritual of courtly love barring the gratification of the lover’s desires (Hühn, 2004:143).

Waar rame lesers in staat stel om digwerke ten opsigte van hul situasionele en tematiese betekenisvolheid en samehang in primêr statiese verband te interpreteer, word die dinamiese, by name die verhalende dimensie van tekste deur die skriptuele element gevorm (Hühn, 2004:143-144). Daar kom gewoonlik ‘n beslissende wendingspunt (gebeurlikheid, of “event”) in voor – ‘n bepalende gebeurtenis, in Brink (1987:52-53) se terminologie – as ‘n sentrale kenmerk van die verhaalopset wat dit vertelwaardig maak (Hühn, 2004:145).

Ekwivalensies tussen tekstuele elemente word verder bewerkstellig deur isotopieë, dit wil sê semantiese of tematiese kenmerke (seme of kombinasies daarvan) wat in ‘n verskeidenheid woorde en uitdrukkings binne gedigte en digbundels voorkom, waardeur nuwe verbande binne die teks gelê en verdere lae betekenis toegevoeg word8.

Tipies van literêre tekste is dat op betekenisvolle wyses van die rame en skripte wat daarin geaktiveer word, afgewyk word; boonop, vanweë die konvensies van bondigheid, situasionele abstraktheid en veralgemeendheid wat vir poësie geld, is gedigte gewoonlik minder eksplisiet en omstandigheidspesifiek as prosakunswerke in die aanbied van tekstuele tekens waardeur rame en skripte geaktiveer word (Hühn, 2004:144).

4. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

4.1 Sintagmatiese koherensie in Lady Anne

Die sintagmatiese koherensie in die bundel word bewerkstellig rakende die kwessie van Afrikanisering (of verinheemsing) van blankes in Suid-Afrika, ‘n vraagstuk wat steeds relevant is in Suid-Afrika vandag, maar ten tye van die verskyning van die bundel, in die tydperk voordat die politieke transformasie vanaf 1990 op gang gekom het, in die brandpunt gestaan het.

Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het “om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring”, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar “volggenote/volksgenote” met elke volgende bundel van haar telkens te verruim – só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê “literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid” (Brink, 1985:79).

Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut9 om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.

Die bundel word egter ook meer as net ‘n ekspressiewe teks waarin Krog – via die instansie van die skrywende subjek – uiting gee aan haar gevoelens, oordele en dergelike. Om rekenskap te gee van die situasie waarin sy haar bevind, word gesien as deel van haar digterlike taak. In die eerste “slot”-gedig, met ‘n ietwat gewysigde en vertaalde sitaat uit lady Anne Barnard se boek Lives of the Lindsays, heet dit byvoorbeeld:

Die leuse van my vader wil ek herhaal:

hy wat versuim om sy lewe

en dié se plek noukeurig te ondersoek,

het die Skrywer van sy verhaal gefaal.

Dié rekenskapgewing geskied in en deur die skryf van die bundel, op die wyse van die poësie. “Feitelikhede uit lady Anne se bestaan en uit die eietydse aktualiteit van Antjie Krog word verweef met poëtiese ‘verdigsel’. Die digter sê immers: ‘ek moes baie jok en verkort'” (Viljoen, 1989:8). Die poëtiese werkswyse herinner daarom sterk aan “New Jounalism” of “faction”, waarin die boeiende spelmoontlikhede van die verhouding tussen feit en fiksie uitgebuit word.

Inderdaad word die feit dat ons te make het met ‘n literêre teks, en met wat deur Hühn as ‘n handeling van artikulasie of deur Brink as ‘n vertelproses bestempel sou word, op verskeie wyses in die bundel vooropgestel. Odendaal (1994:87-88) het voorheen sodanige vooropstelling in meer besonderhede aangetoon, en dit word hier opsommend benut om vertelteoretiese aspekte te belig.

Eerstens word geëksplisiteer dat beide die vertelinstansie (die skrywende subjek) en die metaforiese titelpersonasie kunstenaarsfigure is (lady Anne Barnard was skilder én dagboek- en joernaalskrywer) wat worstel met hul onvermoë om Afrika in kuns vas te lê of die vasteland in hul diepste wesens op te neem. Tweedens skroom die skrywende subjek nie om die maakproses van die bundel bloot te lê nie (“process made visible” – Hutcheon, 1980:6), byvoorbeeld in gedigte oor die moeitevolle pogings om aan die skryf te kom, of waarin geworstel word met die spanning tussen die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy (ook Krog) opgevoed is om te skryf en die eise van die onontkombare politieke situasie waarbinne sy haar bevind – gedigte waarin vertellerteks en personeteks kennelik ooreenstem10. Voorts word briewe, joernaal- en dagboekinskrywings (deur lady Anne Barnard én deur die skrywende subjek), selfs sketse van die tongvis in verskillende stadia van sy ontwikkeling, en afdrukke van ‘n menstruasie-almanak, ‘n munisipale-verkiesingsplakkaat uit 1988 en ‘n koerantknipsel van ‘n eiendomsadvertensie uit dieselfde tyd, as “onaf” gedigte aangebied. Derdens is die bundel deurspek met sitate wat die (literêr) estetiese en sosiopolitieke konteks waarbinne die bundel ontstaan het, invul.

Gestel met betrekking tot van sommige van die onderskeidinge wat Brink (1987) in sy inleiding tot die lees van verhalende tekste maak: Dinge behorende tot die verskillende vlakke (en kontekste) van die storie(s), die vertelteks en die vertelproses word in Lady Anne vervleg aangebied.

Sodoende word die soort situasionele (byvoorbeeld tydruimtelike) abstraksie en veralgemening in die hand gewerk wat so kenmerkend van die liriese genre (in onderskeid van die prosagenre) is, soos voorheen in navolging van Hühn aangetoon.

Laasgenoemde is bevorderlik vir die oorredende gehalte van Lady Anne as teks, dit wil sê as teks wat daarop gerig is om die opvattings, gevoelens, en selfs handelings van ‘n bepaalde deel van Krog se waarskynlike leserskorps te beïnvloed. Brink (1987:147) toon byvoorbeeld, in navolging van ‘n teoretikus soos Rimmon-Kenan (1983:86 en verder), aan dat daar “vir elke vertelfunksie […] ‘n ooreenstemmende leesfunksie in die teks beteken word. Ofte wel: vir elke ‘spreker’ is daar ‘n ‘aangesprokene'”11. In die lig van die bepaalde tematiese strekking van Lady Anne, waaroor net hierna in meer besonderhede uitgewy word, lyk dit of dit veral die sogenaamde ‘blanke’ Suid-Afrikaners, meer spesifiek die Afrikaners (Krog se “volksgenote”), is wat as ‘aangesprokenes’ in die bundel geïmpliseer word.

Inderdaad word die ekspressiwiteit van die bundel (die outentiekheid van die liriese belydenis, versterk deur datum-, plek- en ander outobiografiese verwysings), asook die literariteit daarvan (soos hierbo verduidelik), juis in hierdie verband oorredend aangewend. Dit gaan naamlik om die verhoging van die waarskynlikheid of geloofwaardigheid van die (eksemplariese) worstelstryd wat werklike kunstenaarspersoonlikhede soos lady Anne Barnard en Antjie Krog, met uiteenlopende uitkomste, hier te lande gevoer het – om wat Roland Barthes volgens Brink (1987:131-132) die “vraisemblance” of die “l’effet du réel” van mimetiese verbesondering sou noem.

In die lig van bostaande argument lyk dit gepas om die tema (of hoof- of sluitmotief) wat die sintagmatiese koherensie in Lady Anne bewerkstellig, te beskryf as die noodsaak van postkoloniale Afrikanisering in Suid-Afrika12.

4.2 Transformasie as paradigmatiese raam in Lady Anne

Die paradigmatiese raam waarbinne bogenoemde tema uitgespeel word in die bundel, is dié van transformasie, wat isotopies uitgebou word om vier intrinsiek verweefde vlakke in te sluit:

  • transformasie as blanke Suid-Afrikaner, waaronder as Afrikaner
  • transformasie as vrou
  • transformasie as Christen
  • transformasie as kunstenaar/digter

Hieroor weldra meer.

Dié (statiese) paradigmatiese raam word tot ‘n dinamiese skript uitgebou deurdat transformasie in hierdie geval as ‘n uittrede uit bevoorregte omstandighede en die self voorgestel word. Aangesien lady Anne Barnard se wedervarings en handelings deur die skrywende subjek as (aanvanklike) metafoor vir haar eie belewenisse benut word, kan sodanige eksistensiële uittrede deur die beeld van die uittog uit die kasteel (as simbool van Europees-Westerse geborgenheid) aangedui word. Dis ‘n uittog eerstens vanuit Europa na Afrika wat onderneem moet word, en vanuit die Kaapse kasteel die binneland van die kontinent in (soos lady Anne Barnard wel onsuksesvol gepoog het).

Die uittog-uit-die-kasteel-beeld geld dan vir isotopies ekwivalente houdingsveranderinge soos die volgende (telkens op een of meer van bogenoemde vlakke):

  • van selfgerigtheid na naasteliefde
  • van daadloosheid na daadkragtigheid
  • van estetiese preokkupasie (skoonheid) na maatskaplike impak (nuttigheid)
  • van afstandelikheid na vereenselwiging
  • van konserwatisme na rewolusionêre betrokkenheid

Die verbande wat dusdanige tematiese strekkings in die bundel het met die sieninge voorgestaan in die postkolonialistiese en feministiese kritiek (soos byvoorbeeld gekenskets in Van der Merwe en Viljoen, 1998), is klaarblyklik.

Om egter terug te keer na die vier paradigmavlakke van die transformasietema-raam in Lady Anne: Ook hieroor het Odendaal (1994:90-93) reeds meer breedvoerig geskryf, mét illustrasies uit die bundel, en die strekking daarvan word hier hoofsaaklik opsommenderwys weergegee.

‘Blanke’ Suid-Afrikaners word geteken as hebsugtige maghebbers, as ‘n bevoorregte, pretensieuse en selfs huigelagtige besittersklas (veral in gedigte uit Deel II van die bundel). Parallelle word getrek met die situasie in die 1980’s in Suid-Afrika, en die skrywende subjek voel haar deel hiervan. “[E]k is gebore / aan ‘n gilde / van hebsug en hoon”, skryf sy byvoorbeeld in die gedig “parool” (bladsy 37). Daar word voorts geïmpliseer dat dié blanke maghebbers ‘n wrede, bloeddorstige geslag is, maar dit word ook duidelik gemaak dat húl wêreld ‘n bedreigde een is – trouens, dat hulle aan die einde van ‘n era leef:

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en despe-

raat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en

heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

(“Lady Anne by die mikrogolfoond”, bladsy 71)

Oor die magtelose, onderdrukte niebesitters (die sogenaamde ‘nieblankes’ of ‘anderskleuriges’) word daarenteen min gesê. Die swartman bly in ‘n groot mate die onbekende “broer” met wie die digter nie mooi weet hoe om haar te versoen nie (“nuwe alfabet”, bladsy 91). Voorop staan die ellende en geweld wat dié mense die hoof moet bied. Die enkele kere waar wel iets meer aangaande hulle gesê of gesuggereer word, is die uitbeelding eerder gunstig.

Ook wat religieuse kwessies betref, is die voor- en afkeure duidelik. Die tradisionele Christelike geloof in die volkome versoening wat deur die lyding van Christus vir die mens se sondes bewerkstellig is, word as ontoereikend en uitgediend gesien. Daarom dat sowel lady Anne as die skrywende subjek hul ontuiser voel in die ‘blanke kerke’, terwyl hulle egtheid en krag van geloof ervaar in ‘anderskleurige’ gemeentes. Heil word dus eerder gesoek in ‘n teologie (die sogenaamde “bevrydingsteologie” – vergelyk Brink-de Wind, 1992) wat ‘n horisontale versoening tussen mense onderling predik, ‘n bevryding van aardse onreg deur ons tot die dood toe te verneder vir ‘ander’. Volgens die bevrydingsteologie is God aan die kant van die armes en onderdruktes. Dit staan ‘n daadwerklike ingrype in sosiale en politieke misstande voor om ‘n aardse heilstaat te bewerkstellig. Soos dit aan die einde van die gedig “Op klipplate word seile oopgegooi” (bladsye 47-48) lui: “[…] hoe meer / jy het hoe meer is jy verskuldig”. Om van haar “eksklusiewe smet” ontslae te raak, sal lady Anne – so verneem sy in die gedig “Toe Dundas met sy dik aksent” (bladsy 65-66) – intense lyding moet ondergaan. Dit is ook in die lig hiervan dat die woorde “die mens lewe van slagspreuke alleen” in die slotgedig van die bundel (bladsy 108) verstaan moet word. Eerstens word die konnotasies van geweld en lyding rondom “slag” geaktiveer. Tweedens word die honger Jesus se bekende antwoord (“Die mens kan van brood alleen nie lewe nie” – Matteus 4:4) op die duiwel se versoekende uitdaging om die klippe in brood te verander, ironies verdraai om die gevoelde noodsaak vir religieus-geïnspireerde politieke optrede uit te hef.

Oor die gemarginaliseerde posisie van die vrou in die samelewing laat die skrywende subjek haar in die bundel ewe sterk, hoewel minder eensydig uit. Die metaforiese personasie lady Anne word in haar verhoudings met verskillende mans (Dundas, Windham, Andrew Barnard) voorgestel as ‘n sterk vrou wat haar volkome bewus is van die magspel tussen man en vrou. Hiervan getuig die erotiese gedig “dis middernag en piouter” (bladsy 24) met sy byna militant feministiese klank.

Ook die skrywende subjek spreek haar uit oor die man-vrou-verhouding ten opsigte van ‘n magspel. Die erotiese spel tussen man en vrou word gesien as slagveldmaneuvers, en vrouwees word in ‘n sekere sin ervaar as nederlaag (“Soos wat jy gisteraand ingestap het”, bladsy 74). Manlike chauvinisme kan sy nie verdra nie (“given line: macho-mans gee my die creeps”, bladsy 67). Sy bly egter bewus van die kompleksiteit van die situasie, erken byvoorbeeld haar afhanklikheid en haar verantwoordelikhede as ma. Die man is nie net heerser nie, maar ook slagoffer van vrou en familie. Iets van hierdie ambivalensie spreek uit die gedigte op bladsye 72 en 73 in die bundel.

Oor die vierde paradigmavlak is reeds heelwat gesê in die bespreking hierbo van die vooropstelling van die literariteit van die bundel. Genoeg om te beklemtoon dat die spanning tussen estetiek en politiek sentraal in die bundel staan, ‘n bundel wat eintlik gekonsipieer is as ‘n opgaaf om dié ‘swart’ Afrika-kontinent en -land en hul aktualiteit, asook die rol en verantwoordelikheid van ‘n ‘blanke’, vroulike digter daarbinne, deur middel van die skryfdaad te deurgrond om sodoende daarmee versoen te raak13. ‘n Kerngedig in die bundel wat spesifiek oor hierdie spanning handel, is “parool” (bladsye 35-38), ‘n gedig wat deur Kannemeyer (1989:39) as die “ars poetica van die politieke vers” bestempel is. Die kern van die saak is dat die skrywende subjek, soos lady Anne, ervaar dat die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy opgevoed is en waarvan sy sukkel om haar te bevry, ontoereikend, nutteloos en daarom verwerplik is binne die (destydse) Suid-Afrikaanse konteks van armoede, onreg en onderdrukking. Hier is rewolusionêre poësie nodig:

woorde as AK 47’s moet veg

poësie moet nuttig wees, daad, belas

met die uitering van die stryd altyd part

staan poësie kan rewolusie puur[.]

(“parool”)

Daarom, om haar met Afrika en die swartman van Afrika te kan versoen, moet sy ‘n “nuwe alfabet” (bladsy 91) leer: “A is altyd teen apartheid / B is blind vir kleur”. Die benutting van gewoonlik niepoëties geagte tekste (soos die talle sitate van sosio-politieke en poëtikale aard, die verkiesingsplakkaat, die menstruasie-almanak, ensovoorts) is ikonies van dié anti-elitêre estetiese strewe – ‘n deurbreking “op ‘n opsigtelike manier” van “die vertroude grense van die poësie” (Viljoen, 1991b:20). Ten slotte voel die digter haar derhalwe die “groot van-kant-maker” van die nuttelose Europees-Westerse estetiek soos deur lady Anne verteenwoordig: “onder my duim lê die fyn sintaksis van jou strot”. (Albei die laaste aanhalings uit “slot”, bladsy 108.)

Trouens, soos reeds aangetoon, kan lady Anne Barnard se simboliese terugvlug die Kaapse kasteel in – waardeur sy uiteindelik as metafoor vir die skrywende subjek, as ‘n vehicle waardeur laasgenoemde haar eietydse situasie en posisie kon verken en peil, verwerp moet word – beskou word as die gebeurlikheid (“event”) wat volgens Hühn vir die keerpunt in die poëtiese intrige verantwoordelik is.

4.3 Tydshantering en bundelopbou in Lady Anne

Dié keerpunt staan duideliker uit as ‘n mens die hantering van tyd in die bundel, asook die bundelopbou, in oënskou neem.

Die chronologie van (dele van) lady Anne Barnard se lewe – “die historiese diskoers” in die bundel (Crous, 2003b:151) – kan min of meer gerekonstrueer word uit die bundel; plek-plek word dit aangevul deur grepe uit ‘n vroeër tyd (byvoorbeeld “lied geskryf voor die geboorte van lady Anne Lindsay, 1750”, bladsy 12; of die anonieme brief uit 1300, bladsy 11). Hierop gryp die skrywende subjek op verskillende wyses in. Lady Anne se reise word niechronologies herhaal, gereleveer en gerelativeer (Brink, 1989:13); én die vertelteks oor lady Anne word verkap aangebied met ‘n tweede vertelteks – dié van die belewenisse en wroeginge van die skrywende subjek van die laat 1980’s (op die vier tematiese vlakke wat in die vorige afdeling vermeld is). Boonop loop dit alles uit op die numeries afwykende afdelingaanbod in die bundel: I, II, V, IV, III.

Sodoende ontstaan ‘n verweefde veld van spanninge tussen wat ‘n mens, na die voorbeeld van Brink (1987:127), sou kon noem deurlopendheid (gedra deur die twee stories) en onderbreking (geteken deur die verkaptheid van die aanbieding van die twee stories, dit wil sê die breuke in die vertelteks). Die funksie van sodanige spanningskepping beskryf Brink (1987:127) as “‘n aktivering van die begrip van grense wat oorgesteek word (analoog aan die verskynsel van versreëls en enjambement in ‘n gedig). Dit gaan om die konstituering van betekenisse téén die bloot lineêre chronologiese patroon in”.

Bondig saamgevat, en hier ter wille van oorsigtelikheid diagrammaties voorgestel, behels die numeries afwykende bundelaanbod, dit wil sê die vertelteks soos die leser dit vanaf bladsy 1 tot 108 te lese kry, die volgende gebeuresekwens of “sjužet”14:

 

Bundelafdeling Storie 1: Lady Anne Barnard Storie 2: Die skrywende subjek
Deel 1 Lady Anne Barnard se afkoms en haar koms na die Kaap word uitgebeeld. (Hoewel hierdie “storie 1”-gedeelte later in dié bundeldeel aan die bod kom as die “storie 2”-gedeelte hiernaas vermeld.) Die moeilike begin met die bundel Lady Anne en die skrywende subjek se probleme om die regte metafoor te vind om haar worstelinge voor te stel.
Deel II Lady Anne Barnard aan die Kaap; haar flambojante, bevoorregte lewe, maar ook haar uitsonderlikheid as sterk, ondernemende vrou; haar liefdeslewe en haar skryfwerk. Daarteenoor die skrywende subjek se belewing van, en haar worsteling met, die wantoestande, ook die noodtoestand in Suid-Afrika van die jare 80; die probleme van digter-wees in sulke omstandighede.
Deel V Dagboek van lady Anne Barnard oor haar togte die Kaapse binneland in, vervleg met die skrywende subjek se dagboekaantekeninge oor háár besoek aan Skotland om lady Anne se bevoorregte afkoms na te vors. Sentraal staan lady Anne se (poging tot) kennismaking met die landskap en die mense daarin; telkens word op slavinne gefokus – hul onmisbaarheid en hoe hulle uitgebuit word. Dan beleef sy ‘n krisis op Genadendal (ironies!), ‘n “moment van insig waar sy geestelik sou kón wegbreek uit haar kondisionering as wit, adellike vreemdeling om tot ‘n vorm van handeling oor te gaan” (Brink, 1989:13); sy vlug egter terug na die kasteel. Net hierna staan ‘n rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die destyds behoudende Konserwatiewe Party afgedruk (bladsy 59; implikasie: dit gaan om dieselfde soort keuse as lady Anne s’n), onmiddellik gevolg deur ‘n ovulasie-almanak (met sy beklemtoning van die “bloedige” = lewensegte en wrede realiteit/identiteit waarmee die skrywende subjek gekonfronteer staan).
Deel IV Belewings van geweld, verset en bloed staan voorop: Lady Anne beleef die vuur in die pakkamers, daar word berig oor haar belewenisse tydens die Franse rewolusie, oor haar ervaring van die diskriminerende bevoorregting van die man, oor die ophang van rebelle, oor slawerny en haar opstandigheid daaroor. Tussendeur verneem ons ook van die skrywende subjek se situasie: haar belewing van die noodtoestand en geweld in haar eietydse SA, van die stryd tussen die geslagte, haar siening dat die Afrikaanse poësie nie in staat is om iets in hierdie omstandighede by te dra nie; haar beskrywings van beesslag, veroudering, moederskap; die transformasies wat sy sal moet ondergaan om van Afrika te word. Sy word nou ‘n eietydse lady Anne, ‘n “Lady Anne by die mikrogolfoond” (bladsy 71).
Deel III Lady Anne Barnard vertrek terug na Europa; daar is nog korrespondensie tussen haar en Andrew Barnard aan die Kaap tot en met sy dood. Die skrywende subjek voel die noodsaak van transformasie sterk aan (vergelyk “transparant van die tongvis”, bladsye 92-92), neem ondubbelsinnig afskeid van lady Anne en haar soort; leer ‘n nuwe alfabet aan, skryf ‘n gedig oor skuld – gaan dus ‘n Afrika-toekoms tegemoet.

Hiervolgens gelees, staan die draaipunt-gebeurtenis van lady Anne Barnard se terugvlug die kasteel in (waar die gebeurlikheid die storievlak oorskry en dit ‘n “discourse event” word, volgens Hühn, 2004:151-152) ongeveer in die middel van die bundel (op die 58ste van 108 bladsye). Waar lady Anne nie háár insig in dade wil of kan omsit nie, word sy vir die skrywende subjek al hoe meer irrelevant, sodat lady Anne se vertrek, soos aan die bundeleinde (deel III) beskryf word, ook ‘n finale afskeid van haar as metafoor. Die verkenning van haar eietydse aktualiteit via die historie van lady Anne word dus vanaf die middel van die bundel toenemend ‘n innerlike verkenning deur die skrywende subjek, deurdat haar metafoor ‘n ander koers as sy ingeslaan het.

In die lig hiervan, en die feit dat die bundel afskop met Antjie Krog se geworstel om aan die skryf te kom, word dit duidelik dat die storie van lady Anne inderwaarheid verkap ingebed is in dié van die eietydse skrywende subjek, naamlik aanvanklik in ‘n verhelderende of verduidelikende funksie met betrekking tot die skrywende subjek se worstelinge, maar daarna in motoriese funksie as stimulus vir laasgenoemde se eie lewensrigtingkeuse15.

Dit is eintlik deurgaans “vandag se verteller” (om ‘n slag Brink se bestempeling van die subjek te benut) se perspektief wat gebied word, ook waar dit om die uitbeelding van lady Anne se lewe gaan. “As skrywende subjek oefen sy beheer oor die diskoers uit deurdat sy besluit watter uitinge ingesluit, hoe dit georganiseer en watter uitinge uitgesluit moet word, aangesien dit nie inpas by die moderne diskoers […] in Suid-Afrika nie” (Crous, 2003b:155).

Die nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings is vir die leser – soos vir die skrywende subjek – belangrik. Dit word ‘n uitnodiging om die bundel in dié volgorde te lees (in numeriese volgorde vanaf afdeling I tot V), sodat die leser/skrywende subjek uiteindelik (in dié bevoorregte bundeleindposisie) met dieselfde keuse/insig as lady Anne gekonfronteer word, soos die plasing van die genoemde verkiesingsplakkaat en ovulasiealmanak impliseer. ‘n (Polities-sosiaal) negatiewe slot word gesuggereer: laertrek deur blankes, en ‘n bloedige toekoms.

Vandaar dat Crous (2003b:157) “Krog se diskoers” as “ideologies van aard” kan bestempel.

4.4 ‘n Oorredende teks

Ons het al aangetoon dat Lady Anne as ‘betrokke’ bundel ‘n sterk oorredende aard het – dat die pragmatiese kommunikatiewe funksie16 daarvan besonder belangrik is. Hierdie nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings, en die “uitnodiging” om dit daarvolgens te lees, versterk sodanige aard van die bundel.

In sy reeds vermelde artikel het Odendaal (1994:93-98) in meer besonderhede op die oorredende kenmerke van die bundel ingegaan. Hy kon aantoon dat die retoriese vraag (meermale gepaardgaande met ‘n inklusiewe “ons”, byvoorbeeld in “van watter breed is ons?”) ‘n stylgreep is wat redelik dikwels in die bundel benut word om lesersbetrokkenheid by die argumentatiewe proses te vergroot; ook dat daar in die aanbod van teksinformasie ‘oop plekke’, logiese lakunes en afwykings aangebring is wat die leser as ‘t ware noop om teksbetekenisse in te vul (Wierenga, 1978:161), byvoorbeeld via implisitering deur simboliek. Die tongvisdiagramme in die bundel, wat verskillende ontwikkelingsfases in die lewe van dié vissoort aandui, funksioneer byvoorbeeld simbolies van die bundelboodskap dat aanpassing deur transformasie nodig is. Daar word aanspraak gemaak op die kennis van die leser om die implikasie van die simboliek te verstaan, hoewel ‘n gedig soos “transparant van die tongvis” (bladsy 92-93) iets van die tongvis-simboliek eksplisiteer.

Amplifikasie, dit wil sê die induktiewe perspektiefverbreding of “infinitisering” van ‘n situasie of geval deur ‘n gepersonaliseerde, gelokaliseerde en getemporaliseerde situasie te veralgemeen (Wierenga, 1978:162), is ‘n volgende retoriese tegniek wat Krog inspan om die ontvanger by die konkretisering van die teks te betrek. So word die spesifieke geval van lady Anne Barnard as metafoor deur en vir die skrywende subjek gekies, juis omdat sy aanvanklik die ervaring van lady Anne Barnard as eksemplaries (of verhelderend of verduidelikend, soos hierbo vermeld) van haar eie – en van diesulkes soos sy – gesien het.

‘n Beskouing van die tydshantering in die bundel (aan die hand van Brink, 1987:93-96, se begripsverklarings) maak sodanige infinitiseringsproses duideliker. Die verkapping van die twee stories wat in die bundel opgeroep word, werk ‘n vermenging van prosestyd (die ontvouing van die storie van die skrywende subjek van waar sy sukkel om te begin skryf, tot waar sy uiteindelik vir lady Anne as metafoor van transformasie verwerp) en retrospektiewe tyd (die terugblik op lady Anne se doen en late) in die hand, sodat ‘n politemporele tydsbelewenis vir die leser moontlik word. Daardeur word die universaliteitsaanskyn van die uitgebeelde belewenisse én die tematiese strekking van die bundel versterk.

Soos reeds bekend, moet die skrywende subjek later in die bundel vir lady Anne as historiese metafoor verwerp17. Ten spyte van ‘n kritiese ingesteldheid teenoor die misstande van haar tyd, kon lady Anne haar nie uit die kettings van haar bevoorregte stand losruk nie. Daarom, soos dit in die gedig “ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef” (bladsy 40) uitgedruk word: “gearriveer met jou hele frivole lewe sit ek nou berserk / met jou op my lessenaar: as metafoor is jy fôkol werd”.

Die skrywende subjek kies om as digter die rewolusionêre weg, die weg van Afrikanisering te gaan. Dié keuse word voorgestel (in woorde wat aan dié van Maarten Luther eeue gelede herinner) as sou dit onontwykbaar wees, as sou die waaragtigheid van haar insig en haar roeping aan haar opgedring wees: “hier leer ek skryf – ek kan nie anders nie” (uit die gedig “nuwe alfabet”, bladsy 91).

Hierdie insig, hierdie hartsverandering by die skrywende subjek, word dan as eksemplaries vir ‘blanke’ Suid-Afrikaners voorgehou. Dit geskied by implikasie deur die verwerping van die voorbeeld van lady Anne, maar word nêrens geëksplisiteer nie. Eintlik het ons hier te doen met ‘n soort logiese reduksievorm. Aristoteles het reeds aangetoon hoe ‘n reduksie van die drieledige sillogisme as argumentasievorm, byvoorbeeld deur die weglating van een van die premisse of van die gevolgtrekking om ‘n tweeledige enthymema te vorm, retories aangewend kan word (Wierenga, 1978:161-162; en Hauser, 1986:75-76). ‘n Mens sou byvoorbeeld die boodskap van die bundel in die volgende sillogistiese struktuur kon saamvat:

I. Ten einde te kan aanpas by die (Suid-)Afrika-konteks en bestaande verontregting daadwerklik te kan help regstel, sal blankes moet transformeer wat betref sekere tradisionele (Christelik-Westerse) beskouings, waardes en leefwyses.

II. Lady Anne Barnard kon of wou nie sodanige transformasie ondergaan nie, en haar lewe getuig van “totale stralende nutteloosheid” (soos dit in die gedig “jy word onthou vanweë jou partye” op bladsy 96 uitgedruk word)18.

III. Daarom behoort blanke Suid-Afrikaners die voorbeeld van die skrywende subjek te volg en ten gunste van transformasie te kies.

Dit is die gevolgtrekking van die sillogisme wat in die bundel versweë bly en ‘n ‘oop plek’ is wat deur die leser ingevul moet word. Dat die (blanke) Suid-Afrikaanse lesers van die laat tagtigerjare gekonfronteer is met sodanige keuse, word duidelik gemaak deur die plasing van die genoemde munisipale verkiesingsplakkaat aan die einde van die bundel (as dit in numeriese afdelingvolgorde gelees word). Dis ‘n bevoorregte posisie in die teks, sodat die belang daarvan beklemtoon word. Boonop staan dit teen die agtergrond van die twee onmiddellik voorafgaande gedigte. In die eerste daarvan, “Drie Morawiese broeders huisves ons” (bladsye 55-57), moet lady Anne, ná haar kennismaking met die binneland, teen die einde wanhoop in die vermoë van haar kuns om iets van dié land “ingepas geskaal” te kry. Die volgende gedig, “Middagete op Blaauwbergpas …” (bladsy 58), beskryf dan haar wegvlug van die land se felle realiteite na die veiligheid van die afgeslote, ‘gekultiveerde’ Kaapse kasteel, en vandaar terug na Europa. In hierdie lig moet die plasing van die plakkaatafdruk gesien word as ‘n bedagmaking op en ‘n waarskuwing teen ‘n eietydse ideologiese bevangenheid ekwivalent aan dié van lady Anne.

Die invulling van die ‘oop plek’ word bykomend dwingend gemaak deur die intertekste, by name deur die aard van die meeste van die sitate wat verspreid in die bundel voorkom. Om ‘n enkele voorbeeld aan te haal (bladsy 8): “‘As ek my kinders nie kan leer om wit Afrikane te word nie, vernietig ek hul toekoms,’ sê dr Smith. […] ‘Ek dink hierdie land het ‘n rewolusie nodig om hom weer gesond te maak.'” Sulke sitate deurbreek nie net die fiksionaliteit van die teks deur die buitetekstuele realiteit die diskoers binne te ruk nie; deurdat die insigte en ervaring van ander persone betrek word, word die waarskynlikheid en relevansie van die bundelboodskap verder vergroot.

Ook die aanduidings dat van briewe, dagboek- en joernaalinskrywings gebruik gemaak word, die afdruk van die ovulasie-almanak en die verkiesingsplakkaat, trouens ook die hele blootlegging van die maakproses van die bundel, moet, soos voorheen aangetoon, in hierdie lig beoordeel word. Die outentiekheid van lady Anne Barnard én Antjie Krog se worstelstryd met die onderhawige vraagstukke word hierdeur beklemtoon, sodat die hartsveranderinge wat die digter voorstaan, steeds aan ‘geldigheid’ wen.

4.5 Die aktansiële dieptestruktuur in Lady Anne

Greimas (1971) se aktansiële model wat, soos onder andere Du Plooy (1992e:5) aandui, “‘n baie nuttige instrument [is] in die analise van verhalende tekste”, het ‘n toepaslikheid op Lady Anne waardeur die narratologiese dieptestruktuur van die bundel oorsigtelik gemaak kan word19.

Heel kernagtig en diagrammaties voorgestel, behels dié model die volgende:

Begunstiger       →→→→→→     OBJEK             →→→→→→     Begunstigde

(positief óf negatief)                                ↑

 ↑

 ↑

                                                            streef na

                                                             ↑

Helper   →→→→→→     SUBJEK           ←←←←←←     Teenstander

Die subjek in Lady Anne is die skrywende “ek” in die bundel wat, soos al aangetoon, in ‘n groot mate met die reële outeur Antjie Krog te vereenselwig is. Soos gesien, word vier aspekte of rolle van die subjek betrek in die bundel: dié van (Afrikaanse) blanke, dié van (blanke) vrou, dié van digter en dié van as Christen.

Die strewe, oftewel die aangevoelde ‘noodsaak’ (soos aangedui), is na Afrikanisering, wat dan die aktansiële objek uitmaak van die vertelteksdieptestruktuur (wat ook ‘n “nie-personale doel of hoedanigheid” kan wees – Du Plooy, 1992e:4). Dié abstrakte objek verteenwoordig, soos voorheen uitgewys, houdings soos die volgende: naasteliefde en vereenselwiging (die Afrika-ideaal van Ubuntu), daadkragtigheid, maatskaplike impak of nuttigheid, rewolusionêre betrokkenheid.

Die negatiewe begunstiger(s) wat die hele onderneming of strewe teenwerk of belemmer is (met betrekking tot die vier rolle waarbinne die subjek figureer): die Europees-Westerse, kolonialistiese sosio-politieke sienings (soos vergestalt in die voormalige apartheid-Suid-Afrika); fallogosentristiese beskouings (verpersoonlik deur die “macho-mans” wat die skrywende subjek “die creeps” gee – bladsy 67); die (Europees-Westerse) estetika waarbinne haar digterskap sy beslag gekry het; en die maatskaplike afstandelikheid van die Christelike hoofstroomteologie. Soos gesien, verteenwoordig dié negatiewe begunstigers houdings of eienskappe soos selfgerigtheid, daadloosheid, estetiese selfpreokkupasie, afstandelikheid en konserwatisme.

Die liberale lady Anne Barnard (‘liberaal’ in die Europees-Westerse sin van die woord) figureer aanvanklik as die oënskynlike helper van die skrywende subjek, naamlik as die metaforiese voertuig waardeur laasgenoemde haar eie tyd kan verken en ‘n moontlike weg kan baan uit die ‘kasteel’ van beperkings waarin sy haar bevind. Later, wanneer die nutteloosheid van lady Anne as metafoor ontmasker is en lady Anne letterlik en figuurlik terugvlug die kasteel in, word sy, saam met die ondersteuners van die apartheidsbestel met sy manlik-chauvinistiese kenmerke, die verwerplike teenstander van die skrywende subjek.

Laasgenoemde word vooropgestel deur die ‘dubbele’ struktuur van die bundel, die nie-opeenvolgende numerering van die afdelings. Hierdeur vorm sowel lady Anne se terugvlug die kasteel in as die rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die laat 1980’s (albei as simbolies van die onvermoë of onwilligheid om ten gunste van Afrikaniserende transformasie te kies) en die ovulasie-almanak (as simbolies van die gestereotipeerde ‘private’, polities nie-aktiewe rol van die vrou) op ‘misplaaste’ wyse een bundeleinde in die middel van die boek. Die ‘verwerping’ blyk uit wat hierop volg in die bundel – byvoorbeeld dat die sprekende subjek as ‘t ware ‘n nuwe alfabet begin aanleer, soos voorheen uitgewys.

Trouens, ‘n mens sou die poësie (die “nuwe alfabet”) en die transformerende krag daarvan as een van die verdere aktansiële ‘helpers’ in die bundel kan beskou. Let maar net op die benutting van diagramme van die tongvis in verskillende fases van ontwikkeling in die bundel. Soos Odendaal (1994:94-95) aangetoon het, word dié vis (wetenskaplike spesienaam Hippoglossus hippoglossus, saamgestel uit die Griekse woorde vir ‘perd” en ‘tong/taal’) uitgebou tot simbool van onder meer “die onvermoeide en onvermydelike bemoeienis van die digter met die taal, waarmee [die Afrikaniserings-] transformasie medebewerkstellig moet word”.

In die “slot”-gedig op bladsy 108 konstateer “die bard” derhalwe onder meer soos volg:

ek is die groot van-kant-maker! van titel en tuig

sal ek ons bevry ons prysgee hart-

lik wring tot die lady viva tongvis juig[.]

In die lig van die aangetoonde oorredende aard van die bundel, sou ‘n mens ook kon sê dat die skrywende subjek eintlik beoog het dat ook die blanke Suid-Afrikaanse kiesers, én die Afrikaanse skrywers en hulle lesers, helpers moes word in die verwerkliking van haar strewe.

Die voorsiende begunstigde in die bundel (want die strewe na Afrikanisering word nog nie verwerklik in die bundel nie, en die apartheidsbestel was in 1989 nog nie ten einde nie) is in die eerste plek die skrywende subjek (by implikasie Antjie Krog self). Soos aangetoon, word amplifiserende tegnieke in die bundel aangewend om die wedervaringe en dilemmas van dié skrywende subjek (Krog) én lady Anne uit te bou tot die eksemplariese vir blanke Suid-Afrikaners in die breë. Die strekking is dat blanke Suid-Afrikaners, en miskien veral Afrikaners, begunstig sal word deur ‘n Afrikaniserende transformasie.

5. Slotopmerkings

Uit bostaande is dit duidelik dat Lady Anne ‘n goeie illustrasie bevat van die volgende samevatting deur Hühn (2004:146) van wat ‘n liriese intrige behels:

A plot is constituted by the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences. Plots are normally attributed to an agent (e.g. the protagonist) and derive their particular function from this attribution. Events form the crucial turning points in the progression of plots and are in turn defined by these. In poetry, a plot typically uses as its medium mental phenomena such as ideas, memories, desires, emotions, imaginations, and attitudes which the agent in a monological reflective and cognitive process ascribes to himself as his plot and through which he can then define or stabilize his self-concept or identity.

Die benutting van die figuur van lady Anne as metaforiese vehicle, en die inkorporering van allerlei gewoonlik nie-poëties geagte tekste, is slegs oënskynlik nie te versoen met die kenmerk van monologiese refleksie nie. Soos gesien, staan dit alles ingebed in en geteken deur die diskoers wat Krog via die (skrywende subjek in die) bundel voer betreffende (veelvlakkige) houdingstransformasie. Sy streef om sodoende ‘n verafrikaniseerde identiteit vir haarself daar te stel, ook vir haar “volksgenote” wat sy by implikasie hoop om met haar siening te laat identifiseer.

“Sou dit verregaande wees om aan die hand te doen dat Lady Anne eintlik gelees kan word as ‘n roman in verse?” het Brink (1989:13) in sy resensie oor die bundel gevra, en spesifieke kenmerke genoem wat hom wel so laat dink: “‘n narratiewe diskoers waarin strategieë soos karakterisering en gebeure binne die dimensies van tyd en ruimte fungeer, voortgebring vanuit ‘n duidelike vertelsituasie”. So wou Krog ‘n verantwoorde sosiaal-betrokke digkuns vestig20 en haarself sodoende posisioneer as “‘n skrywer in die Derde Wêreld” (Krog, 1989b:44).

Soos gesien, sou dit tot ‘n ernstige uitdaging van die ‘tradisionele’ grense tussen die poësie- en prosagenres aanleiding gee, waardeur Lady Anne die weg gebaan het vir ‘n hele aantal Afrikaanse ‘narratiewe’ bundels, meermale in die ‘praatpoësiestyl’, in die twee dekades sedertdien (Odendaal, 2009).

AANTEKENINGE

1 Lady Anne word onder meer deur Brink (1991), in sy aanpassing van die postkoloniale model vir ‘n blik op ontwikkelinge en moontlikhede vir die Afrikaanse letterkunde, in hierdie verband uitgesonder. Hy (Brink, 1991:12) bestempel Krog se bundel as ‘n voorbeeld van “die merkwaardige verwikkelinge” wat in die aanloop tot die millenniumwending sigbaar geword het betreffende “‘n hersiening – ‘n verbreding en komplisering – van die begrip [eie identiteit en] wat aan ‘n groter besef van Suid-Afrikaansheid uiting sou kon gee”.

2 Dié term sal in die res van die artikel benut word om te verwys na die geëksplisiteerde abstrakte outeur, maar wat weens die duidelike outobiografiese gegewens in die bundel grootliks met die reële outeur, Antjie Krog, te vereenselwig is. Brink (1989:13) verwys na “vandag se verteller” in hierdie verband.

3 Die “point of view”, wat al in 1921 deur Lubbock uitgelig is as sentrale eienskap in vertelling – vergelyk Du Plooy (1992a:385) en Brink (1987:14).

4 Vergelyk Afrikaanse bronne soos Brink (1987:15, 17-18, 26-27), Du Plooy (1992a:384-387, 1992b:120-121 & 1992c:150-152) en Van Coller (1987:50).

5 Brink (1987:67 & 84) vertaal Greimas se aktante-begrip met die term akteurs.

6 Vergelyk Odendaal (1997:39-40, 61-67) vir ‘n meer uitvoerige bespreking van die ikonisiteitskonsep.

7 Vergelyk onder meer Du Plooy (1981:195) en Van Coller (1987:16).

8 Greimas (1971) het dié terme uit die veld van die semantiek vir die verhaalteorie geleen, soos onder meer Brink (1987:22) aantoon.

9 Vergelyk byvoorbeeld Brink (1987:154-158) oor hierdie vertelgreep en die funksies daarvan.

10 Kyk onder andere Bisschoff (1992:565-566) en Brink (1987:79-80) vir omskrywings van laasgenoemde terme. Die terme outeurs-, vertellers– en personeteks is van Schmid (1973:29) en word uitvoeriger behandel deur Van Coller (1980:17-21 & 1982:238-240) en Van Coller en Van Rensburg (1982:220-222).

11 Van Coller (1982) lewer ‘n uitgebreide bespreking van die verskille tussen fiktiewe leser en abstrakte leser en die belangrike metodologiese en interpretatiewe onderskeide tussen vlakke “sprekers” en “hoorders”.

12 Kyk byvoorbeeld Van Coller (1987:16) en Du Plooy (1992d:328) vir die uitruilbaarheid van die terme tema, hoof- en sluitmotief.

13 Hieroor het onder meer Gouws (1989) en Brink-de Wind (1992) meer uitvoerig geskryf.

14 Vergelyk Du Plooy (1986:139-142) se analise van Lotman se siening van die begrip sjužet, asook Van Coller (1984:1-15 & 1987:5-6, 13-15) se besprekings in hierdie verband.

15 Gekursiveerde terme geleen by Brink (1987:155).

16 Vir ‘n bespreking van die literêre werk as taalhandeling met ‘n sterk “oorredende” of “perlokusionêre” gerigtheid, vergelyk Van Coller (1992) en Van Coller en Van Rensburg (1984).

17 Terwýl sy simpatie met haar “stralende nutteloosheid” voel, soos op bladsy 96 in die bundel verwoord, en waar “stralende” naas skoonheid ook iets van ‘n heilige sfeer oproep (aldus Viljoen, 1991a:26).

18 Skaars drie strofes tevore in dieselfde gedig bely die skrywende subjek egter ook aangaande lady Anne Barnard: “god ek is verknog aan jou”. Op subtiele wyse word dus erken dat die Westerse invloede tog nie totaal verwerplik is nie.

19 Vir verdere illustrasie van die aktansiële struktuur, vergelyk Van Coller (1984:9 & 1987).

20 “[V]ir ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe ruimte […] ‘n nuwe poëtika” (Brink, 1989:13).

 

VERWYSINGS

Bal, M. 1980 (1978). De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Blok, W. 1960. Verhaal en lezer. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Brink, A.P.

1985. Literatuur in die strydperk. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

1987. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1989. Antjie Krog se Lady Anne: ‘n Roman van ‘n bundel. Vrye Weekblad, 18 Augustus:13.

1991. Afrikaans: Op pad na 2000. (Tiende D.F. Malherbe-gedenklesing.) Acta Varia 1991(1). Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Brink-de Wind, M. 1992. Lady Anne deur die oog van die vis. Tydskrif vir Letterkunde 30(2), Mei:99-112.

Bronzwaer, W. 1990. Poëzie en iconiciteit. Forum der letteren, 31(2):93-103.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.

Crous, Marius.

2003a. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

        2003b. Anne en Antjie: Die wisselwerking tussen diskoerse in Antjie Krog se Lady Anne. Stilet   15(2), September:149-171.

Du Plooy, H.J.G.

1981. Die verhaal in “Laat vrugte” en “18-44”. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

1992a. Plot. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:384-387.

1992b. Fabula en sjužet. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:120-121.

1992c. Geskiedenis/storie/verhaal en teks. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:150-152.

1992d. Motief. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:326-328.

1992e. Aktant en aktansiële model. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:3-5.

2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

Esterhuizen, Louis. 1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

Gouws, T. 1989. Krog se Lady Anne gelyke van Tristia. Insig, Oktober:43.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hauser, G.A. 1986. Introduction to rhetorical theory. New York: Harper & Row Publishers.

Hühn, P. 2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.

Hutcheon, L. 1980. Narcissistic narrative; the metafictional paradox. London & New York: Methuen.

Kannemeyer, J.C. 1989. Die horries van A.E. Samuel (gebore Krog). Tydskrif vir letterkunde 27(3), Augustus:33-42.

Krog, A.

1989a. Lady Anne. Bramley: Taurus.

1989b. Waarom praat ons van vroue-skrywers? Die Suid-Afrikaan 22:41-44.

1995. Gedigte 1989-1995. Groenkloof: Hond.

2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

Lategan, B.J. (ed.). 1992. The Reader and Beyond. Theory and Practise in South African Reception Studies. Pretoria: HSRC.

Odendaal, B.J.

        1994. Retoriese fasette van die tematiek in Antjie Krog se Lady Anne. Kruispunt, Literair kwartaalschrift 157 (jaargang 35), Junie:86-100.

        1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006). Stilet 21(2), September:114-133.

Pier, J. (ed.). 2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction. London: Methuen.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in der Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Stolk, F.R.W. 2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127.

Vaessens, Thomas & Joosten, Jos. 2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.

Van Coller, H.P.

1980. Etienne Leroux as siklusbouer. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

1982. Pilatus of Pilaar? ‘n Ondersoek na illokusieverwagtings in De Onrustzaaier van Willem van Maanen. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:235-252.

1984. ‘n Kortgids by die bestudering van ‘n kortverhaal. In: Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984: 1-15.

1987. Laat vrugte (behandel deur…). Reuse Blokboek 20. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1990. Narratiewe konvensies en Onse Hymie. Tussenkoms. Pretoria: H.A.U.M. Literêr. 43-61.

1992. Pragmatiek /Taalhandelinge en literatuur. In: Lategan, B. 1992:57-82.

Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984. Bestek. Pretoria: Juventus.

Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984. Woorde as dade. Taalhandelinge en letterkunde. Durban: McGraw Hill.

Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J.

1982. Van mond tot oor. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:213-234.

1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984: 86-98.

Van der Merwe, C.N., & Viljoen, H. 1998. Alkant olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Viljoen, L.

1989. Krog se virtuose kompleksiteit. Die Burger, 28 Desember:8.

1991a. Susanna Smit en lady Anne Barnard – enkele aspekte van Antjie Krog se historiese poësie as tagtiger-verskynsel. Stilet 3(1), Maart:57-80.

1991b. Die teks as transparant: Antjie Krog se Lady Anne binne die Suid-Afrikaanse werklikheid. Stilet 3(2), September:19-31.

Wierenga, L. 1878. Retorische tekstbeschrijving. In Grivel, C. Methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Dick Coutinho.

 

 

Amanda Lourens. Op soek na ’n venster vir ’n tikkende madam

Saturday, January 15th, 2011

Ek het die gesprek oor veral ras in die Suid-Afrikaanse samelewing en denkwêreld na aanleiding van Pieter se blog van 14 Desember  met groot belangstelling gevolg.  Self is ek in my daaglikse lewe baie bewus van ras, klas en gender, soms in so ’n mate dat ek  al gewonder het of ek dit moontlik te ver voer en my as’t ware benadeel deur graag  vanuit hierdie perspektief na die lewe en die letterkunde te kyk? Kompliseer ek dinge dalk soms onnodig, deurdat ek dikwels vrae stel oor “onskuldige, alledaagse” situasies? 

Antjie Krog is spesifiek ’n digter en skrywer wat dit keer op keer regkry om my eie gedagtes of ervarings trefseker te verwoord, sodat ek my eie belewenisse dikwels beter begryp na ek haar werk gelees het.  So vertel sy in Begging to be black hoe sy elke gesinsbesluit oorweeg: Is hierdie spesifieke aksie  nie dalk wit-bevoorreg, uitbuitend, onregverdig nie?  Sy besluit byvoorbeeld daarteen om na ’n produksie van Lohengrin in Pretoria te gaan kyk – die sopraan se vliegkaartjie alleen kan die plaaslike township ’n jaar lank van elektrisiteit voorsien.  Wanneer ek dit lees, wil ek in die strate uithardloop en dit uitbasuin: Iemand, en boonop ’n grande dame van die letterkunde, ervaar dieselfde as ek!  Dalk is ek oplaas nie hopeloos stapelgek, soos my hoërmiddelklaskennisse reken ek is nie.  Ek wens ek kon op Antjie se voorstoep opdaag en haar vra wat máák ’n mens met jouself as hierdie dinge gereeld by jou spook; hoe leef jy met die konstante vrae oor reg en onreg, oor bevoorregting en skuld?

 Dus het spesifiek Wysneus se een stukkie kommentaar my bygebly:  “Daar is meer aan die lewe as ras, klas en geslag.”  Daarmee saam het ek  gewonder: Is dit moontlik vir my en my generasie om ooit verby hierdie werklikhede (of is hulle eerder konstruksies?) te kyk?  Ek verstom my dus gereeld aan studente se vryheid van sommige van die obsessies wat my en my tydgenote steeds striem. 

Wat gender betref – ’n anekdote.  Ek het my studente op ’n slag Krog se “weer eens” (haar intertekstuele gesprek met Eybers se bekende gedig) laat ontleed:

ek kom weer eens nie uit met my budget nie

die suiker en melkkoepons is op

langs my masjien lê stapels stukkende klere

spinnekoppe weef macramé teen die mure

my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet

my baba het brandboudjies

my dogtertjie swere

my oudste hakkel van een of ander tekort

my man byt op sy tande

stoot die koolbredie agteruit

en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood … […]

 

Ek het gehoop dat hulle die dwingelandy van die eise wat die (patriargale) samelewing aan ma’s stel, sou raaklees.  Die meeste van hulle was egter vas oortuig dat armoede die tema in bostaande uittreksel is.  Die “leë koekblikke”en “stukkende klere” is vir hulle nie die vergestalting van die huisvrou se algemene gevoel van ontoereikendheid nie ; hulle herken nie die skuldgevoel van die ma wat voel dat álles wat in die huis verkeerd loop – brandboudjies, swere, ’n gehakkel –  haar persoonlike skuld is nie.  Miskien is hulle bloot te jonk; dalk het ons verbruikersamelewing hulle gekondisioneer om te dink dat stukkende klere nie heelgemaak kan word nie en dat winkelkoekies die enigste opsie is?  Dalk het die nuwe generasie grootgeword sonder die juk van modelle van vroulike huishoudelike perfeksie.  (In my studentedae op Tukkies het die meisies nog hulle kêrels se wasgoed in die waskamer staan en stryk, sodat die hele koshuis van hulle status as onderweg-na-mevroue kon kennis neem.  Ja, regtig.) 

’n Mens sou nog kon redeneer dat vroue van my generasie dalk bloot moet besef ons leef in ’n nuwe eeu, en dat skuldgevoelens oor  nie-perfek versorgde huise en spruite maar na hul graf neffens gepermde en gespuite haarkapsels gestuur moet word.  (Of is ons in dermate ingeperk, geprogrammeer deur die voorskrifte en modelle van ons jeug dat ons as amper-middeljariges steeds probeer gehoor gee aan die eise van ’n nou minder sigbare sisteem?) 

Maar sonder om gender heeltemal saam met die skottelgoedwater uit te gooi, bly ras en klas op ’n meer direkte, en meer ontstellende manier met ons.  Sonder  ’n bewustheid van of nadenke oor die kwessies van ras en klas en sou die lewe moontlik geriefliker kon wees; ’n verleidelike gedagte, inderdaad.  Maar hoe moontlik is dit in die realiteit van ’n Suid-Afrika in 2011 waar verdelings langs hierdie lyne nog vlymskerp in die samelewing loop? 

Jare gelede het ek tydens my navorsing vir my meestersgraad afgekom op ’n artikel waarin einste Antjie Krog beskryf hoedat die bevoorregte wit vroue van die tagtigs en negentigs hulle energie kon wy aan hulle tuine, die verfraaiing van hulle huise of aan hulle kinders, terwyl swart vroue húlle kinders elders moes laat om aan wit vroue hierdie vryheid te gee.  (Ek kry nie meer die verwysing nie – is daar iemand wat dit dalk onthou?) Self besef sy haar bevoorregte posisie, soos sy dit ook treffend verwoord in ’n sleutelgedig soos “Lady Anne by die mikrogolfoond” (Lady Anne, 1989) wat skerp kritiek lewer teen die oppervlakkige lewens van hoërmiddelklasvroue en wat die ineenstorting van hierdie gerieflike lewenswyse voorspel:

o my susters in kombi’s en stasiewaens

met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint

liggame wat soggens in fleurige leotards

                                                jog en gym en joga

                                                verbete klou aan soepelheid en Pil

[…]

 

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat die kinders teer laat verblond op melk en heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

 In 2011 is die politieke strukture van destyds inderdaad in hulle “maai”, maar die ekonomiese strukture wat ’n voorstedelike lewenstyl ondersteun is tot ’n groot mate nog in plek.  Bevoorregte wit vroue is hoegenaamd nie ’n uitgestorwe spesie nie  (alhoewel daar gelukkig intussen ’n paar bevoorregte swart vroue tot die geledere toegetree het sodat die wit mevroue hulle wysmaak dat die speelveld nou gelyk is).  Die kombi’s en stasiewaens van destyds is weliswaar vervang deur viertrekvoertuie; die leotards en die res van die Body Beat-attire is uit die oude doos, maar daar is steeds geld vir duur oefendrag en gym-ledegeld.  En al is ek nie ’n wafferse gymmer nie, is ek steeds skuldig aan die soort gerieflike lewe in die suburbs wat in ’n hoë mate afhanklik is van huis- en tuinhulpe se arbeid.

Ek het toevallig ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor huishulpe se persepsies van  opleidingsgidse (kookkuns, kinderversorging ens.) en of hulle dit byvoorbeeld as toeganklik en ontdaan van stereotipes ervaar.  Ek het dus gesels met ‘n groep vroue wat as huishulpe werk en deeltyds by ’n nieregeringsorganisasie opleiding ontvang.  Groot was my verbasing toe ek moeite ondervind het om die gesprek op die gidse gefokus te hou, en die gesprek beweeg het in die rigting van ’n vergelyking van kantoorwerk  teenoor fisiese arbeid.  Die meeste van die vroue se mening was onomwonde: Om op ‘n rekenaar te sit en tik, is ’n ydele aktiwiteit, dis nie werk nie.  Vloere was en mop, stryk en skottelgoed was is ware werk.  Sedert daardie dag kom sit ’n skuldgevoel tussen my blaaie sodra ek my rekenaar aanskakel.  Want prakties beteken dit iemand doen daardie “regte werk” vir my, sodat ek die vryheid het om te kan studeer, te kan lees, te kan skryf.  (Ook vertel Antjie in Begging to be black : Wat moet haar weeklikse huishulp se gedagtes wees as sy haar werkgewer op haar rekenaar sien tik, en boonop daaruit ’n inkomste genereer vir  ’n huis, motor, klere en oorgenoeg kos?)  

As ek net verby ras en klas kon kyk en buite daardie parameters my lewe kon lei, sou ek waarskynlik makliker in ’n voortsedelike gemaksone kon leef.  Prakties sal dit beteken dat jy skuldgevoelvry kan sit en ‘n digbundel lees terwyl iemand anders jou kroos se wasgoed opvou.  Jy sal die spinnekopneste  in die hoek kan delegeer en Anna Karenina nadertrek.  

Soms lyk dit vir my asof die jonger generasie makliker met hierdie dinge omgaan; asof hulle reken  get over it, laat die lewe aangaan, dis dinge van die verlede.  (Vergewe tog as ek dalk veralgemeen.) Ek verwonder my aan my kinders se vermoë om verby kleur te kyk en die mens raak te sien; ook aan hoe hulle skynheilige politieke korrektheid nie nodig het nie.

Ek dink tog dat ek nie regtig anders wil of kan dink nie.  Ek wil ras, klas en geslag raaksien en ek wil aanhou om dit in tekste te vind, want ek is bloot te diep en te veel daardeur geraak om van die kennis daarvan afstand te kan doen.  Dit sal wees om intellektueel en psigies mutton dressed up like lamb te word; om myself te bedrieg dat ek kan deel in my kinders se ligter tred deur ons land. 

Miskien, dink ek intussen, het ek bloot ’n ander perspektief op hierdie kwessies nodig; ’n ander bril, ’n ander lens of filter.  Hierdie ketting van betekenisse bring my op ’n manier intuïtief by “venster”, sodat ek Loftus Marais se debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, van die rak afhaal en die gedig “Terug op die plaas” opnuut lees:

“daar’s min politiek in jou verse” sê my suster

“die digter het tog ’n verantwoordelikheid”

 

suster, ons generasie is die wesies van ideologieë

die groot idees staan teen die horison soos bouvalle

beeldskoon en gevaarlik soos dié ou waenhuis

’n karkas met ribbebalke en gate in sinkplate

ons loop in stof tussen blikke, klippe

verby, vermoedelik, ’n bylsteel, ’n pispot

en daardie murasies wat die kroeke was

ons onthou apartheid as alledaagse dinge

enemmelborde, selfgerolde sigarette, ’n aparte kraan

die skok van uitvind grieta het kinders en ’n man

suster, kyk na die leë skure teen die rand

waar destyds skeertyd dertig werkers per saal

geskeer, geëet, gesing, geslaap het

daar lê nou skerwe glas, draad, skerp stukke roes

daar’s ’n waarskuwing op karton

om nabye huise se kinders te verdryf:

“danger gevaar ingozi” – van meer nut

as enige gedig wat ek kan skryf

 En sedertdien loop ek rond met hierdie wonderlike gedig wat ek in my skedel van bakboord na stuurboord laat bons in die hoop om die “betekenis” of die “boodskap” te vind.  Sou dit kon wees dat die jonger geslag hulle ervaar as diegene vir wie al die ideologieë van twee of drie dekades gelede nie meer ‘n werklikheid is nie, vir wie dit nie ’n verskil gemaak het nie?  Of is hulle bloot moeg vir hulle ouers se gewroeg met ideologieë, hulle destydse flirtasies met Marxisme?  Sien hulle ‘n meer tasbare werklikheid raak – die praktiese een waarin apartheid die gesig van iets soos afsonderlike eetgerei aangeneem het?  Voel hulle dat die literatuur nie veel van ’n verskil kan maak nie en dat ons eerder prakties mense se lewens moet probeer verbeter?  Maar hoe verskil dit dan van my eie aan-die-lyf-ervarings van die verlede wat steeds saamleef, selfs in iets so eenvoudig soos die madam wat tik terwyl die huishulp die houtvloere poleer?  En watter oplossing, watter venster is daar vir ’n tikkende madam? 

Onderhoud: Antjie Krog

Saturday, May 23rd, 2009

‘n Sterk letterkunde bestaan nie in fluff nie

Antjie Krog in gesprek met Louis Esterhuizen 

 

Antjie Krog

Antjie Krog

Antjie Krog is digter, joernalis en Buitengewone Professor aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy het elf Afrikaanse digbundels en twee bundels kinderverse gepubliseer. Haar twee nie-fiksie-werke, Country of my skull (1998) en A change of tongue (2003), verskyn in Engels.

Vir haar poësie het Krog onder andere die volgende pryse gewen: die Eugene Marais-prys (1973); die Rapport-prys (1987); die Hertzogprys (1990); die FNB Award (2000) en die RAU-prys (2000). Vir haar vertaling van gedigte uit die inheemse tale, Met woorde soos met kerse (2002), ontvang Krog in 2003 sowel die Toekenning vir Voortreflike Vertaling van Poësie as die Toekenning vir Beste Vertaler van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (SAVI) in 2003.

Gedigte van Krog is in Nederlands, Frans, Spaans, Duits en Italiaans vertaal.

In 2009 verskyn ‘n keur uit haar werk, Digter wordende , by Human & Rousseau.

 

 

 

Antjie, jy is onlangs gekies as digter vir die Vlaams-Nederlandse Gedichtendagbundel 2009 wat op 29 Januarie vanjaar verskyn het. Dit is uiteraard ’n groot eer vir ’n Suid-Afrikaanse digter en ’n pluimpie vir jou eie digkuns. Vertel ons ietsie meer hieromtrent?

 

ʼn Mens word eenvoudig verstom deur die effektiewe geesdrif van Nederlanders jeens hul letterkunde en veral die poësie. Elke jaar word 29 Januarie as Gedigtedag gevier. Poetry International is die dryfkrag daaragter, maar die hele land neem op verskeie vlakke daaraan deel. Daar is ‘n groot literêre prys vir die beste digbundel. ‘n Paar maande voor die tyd word die kortlys aangekondig en dan word geweldig aandag aan hierdie bundels en digters gegee. Die idee is dat elke winkel ‘n plakkaat met ‘n gedig op sal hê, elke koerant moet ‘n gedig plaas, die radio en televisie    selfs die nuus    fokus op gedigte en digters. As “Digter van die dag” moes ek spesiaal tien gedigte skryf wat dan in ‘n standaard dun boekie gedruk en vir twee euro verkoop word by elke till. Oral in die winkels het ek gesien waar mense dit vir hulleself en mekaar koop. Die parlement moes ook dié dag met een van my gedigte open. Vyftienduisend kopieë is verkoop. Vir die gedigtedag moes ek verskeie televisie– en radio-onderhoude voer, asook voorlesings doen. Bitter vroeg die oggend moes ek in Utrecht op die stasie begin waar ‘n paar digters voorgelees het. Daar was ‘n kleinerige verhogie, maar ons gedigte is op enorme vaandels aangebring wat van die dak af gehang het. Soos die mense heen en weer verbystroom, het hulle vir ‘n minuut of wat stilgestaan en luister. Elke vierde jaar word die Dichter des Vaderlands gekies en vanjaar het van die jonges besluit om vir hulself ‘n kampanje te maak. Daar is toe intensief voorgedra, nuwe goed geskryf, briewe vir koerante gestuur, profiele opgebou, bekgevegte gehou in die sin van ook ʼn bietjie uit te wys waar die ander tekortskiet. Dit het gemaak dat daar ‘n rekord getal mense gestem het vir die digter per selfoon of op die internet. Die aand vóór gedigtedag is daar ‘n reuse geleentheid gehou waar die pryswennende digter aangekondig is uit die kortlys, en uiteindelik is die nuwe vaderlandsdigter aangekondig. Dit was naamlik Ramsy Nasr, wie se pa ‘n Palestyn en ma ‘n Hollander is. Sy hele Palestynse familie was daar en Ramsy se ma het haar hande etlike kere in die lug gegooi sodat Ramsy agterna vir my moes sê: “Uiteindelik het my ma haar soos ‘n egte Palestynse vrou gedra.”  Al die aspirant-vaderlandsdigters moes ‘n gedig skryf waarin die land gepeil word en ek moet sê, Ramsy s’n was ongelooflik: dapper en skerp. Hy bly tans in Antwerp waar hy die stadsdigter is. En dit is ‘n ander ding: stede stel elkeen ‘n stadsdigter aan vir drie jaar. Daardie digter moet dan gereeld optree, literêre geleenthede reël, projekte uitdink wat poësie bevorder en ook oor gebeure in die stad skryf. Toe daar arm mense verskuif is in Antwerp, het Ramsy ‘n stuk daaroor geskryf. Die koerante staan tot my verbystering ongelooflik baie plek aan so iets af. Wat ek nog interessanter vind, is dat daar altyd gesê is dat ʼn digter net in Afrika ‘n sosiale en politieke funksie het, in “real literature” is dit kuns om die kuns. Nou blyk dit dat die Hollanders aan hul digters ‘n uiters belangrike funksie toeken ten opsigte van sosiale betrokkenheid. Want ons het nog nie eers gekom by die rol van die Dichter des Vaderlands nie …

 

Sjoe, Antjie. ʼn Mens staan omtrent stomgeslaan ten aanhore van sóveel aktiwiteit en inisiatiewe … Dit is natuurlik wat moontlik is wanneer jy jou in ʼn enkeltalige kultuur bevind met die staat wat sulke projekte daadwerklik kan steun. In Suid-Afrika, met sy meertalige samelewing, is só iets helaas nie moontlik nie. Individue (en geïnteresseerde instansies) moet maar sélf skouer aan die wiel sit om die gedigte-wa deur die drif te kry. Met hierdie as uitgangspunt – kon jy enige projekte en/of inisiatiewe identifiseer wat jy voel dalk met sukses by ons toegepas kan word? Meer voorlesings, dalk? Media-dekking?

 

Nederland is miskien op hierdie stadium homogeen, maar hy word oorstroom deur mense van ander tale, kulture en godsdienste. Ook is Nederlands maar ʼn klein taaltjie wat veg vir oorlewing in Europa. Vertaling en meertaligheid is hierin sy grootste wapens. Ons as Afrikaanssprekendes is op ʼn manier bederf omdat die staat na die taal gekyk het. Hoe onregverdig ook al, die taal is op alle vlakke in stand gehou. Nou moet ons self daarna omsien en waarop dit dikwels neerkom, is dat ons op Nasboek of Stellenbosch Universiteit skel omdat hulle nie Afrikaans in stand wil hou soos dit met die vorige bedeling die geval was nie. Ons koop nie Afrikaanse boeke nie, Afrikaanse bruin – en wit kerke, skole en universiteite smelt nie saam nie; daar is nie ʼn Afrikaanse oorlewings- en uitbreidingsplan op die tafel wat almal betrek nie. In terme van die poësie is daar baie te doen. Waarom het ons byvoorbeeld nie ʼn poësiedag nie? Waarom word sekere aksies nie vir daardie dag geteiken nie? ʼn Spesiale gedig as poskaart, motorsticker, plakkaat, koerant, twee spesiale digbundels wat in elk geval sou verskyn het, die poësieprys, gedigte vertaal uit ander tale in Afrikaans: byvoorbeeld Neruda en Mqhayi. Ons vra die nuus om te open met ʼn gedig, die radio, skole moet gedigte opplak. In Nederland kry jy die mooiste kussingslope met liefdesgedigte, voorskote met kosgedigte, pennesakkies, koffiebekers met jong digters se verse daarop afgedruk. Indien dit goed werk, volg die ander tale ʼn mens dalk na en kan jy uiteindelik ʼn veeltalige gedigtedag hê. Ek het dit op UWK gedoen. Vanaf die hekke waar die studente inry, of afklim, is pamflette met poësie uitgedeel. Oor die hele kampus was gedigte in Afrikaans, Xhosa en Engels opgeplak. Die hoofgedig was van Ingrid Jonker in drie tale. Studente kon hul eie gedigte by die biblioteek opplak en daar was pryse. Tydens middagete was daar ʼn uurlange poësie-voorlesing van nasionale –, internasionale – en studente-digters. Ek onthou dat selfs die skoonmakers dit bygewoon het.

                 

Pas het daar Digter wordende, ’n keur uit jou verse en deur jou saamgestel, verskyn. Wat was die aanloop hiertoe en hoekom het jy op die spesifieke indeling van afdelings besluit; ’n struktuur wat ek self uiters opwindend beskou, bygesê.

 

Human & Rousseau is tans in die proses om van ‘n paar van hulle digters ‘n soort bloemlesing uit te gee. Hulle sou dit doen vir my 50ste verjaarsdag, maar almal was te besig met ander goed en so moes ek toe inspring sodat hulle dit nie doen vir my sestigste verjaarsdag nie. Om te kan kies moet jy leidrade hê, en temas is die maklikste. Dit was egter ‘n wins dat my gedigte oor die jare heen dieselfde temas aangespreek het; elke tema toon dus op sigself ‘n ontwikkeling van jeug na ouderdom. 

 

In ’n onderhoud wat ek met Alfred Schaffer gevoer het oor die teenwoordigheid van die Afrikaanse digkuns in Nederland, het hy genoem dat jóú prominensie en verkope groter en meer is as selfs van die vernaamste Nederlandse digters. Waaraan sal jy hierdie sukses van jou toeskryf?

 

Ek het nie ʼn benul nie. Aanvanklik het ek gedink dit is maar Suid-Afrikaners wat daar woon en heimwee het, maar dit blyk toe nie so te wees nie. Toe het ek gedink hulle beskou my eintlik as ʼn soort van wit barbaar: lyk soos hulle, klink amper-amper soos hulle, maar swaai poësie soos ʼn byl of ʼn hellebaard en dis vir hulle opwindend, maar nie noodwendig in die kader van wat hulle as goeie poësie sou reken nie. Toe begin die resensies inkom (en die gehalte van nuansering van die resensies is ʼn gesprek in eie reg) en dit is so goed dat die uitgewers nou hierdie opmerkings as blurps begin gebruik. Ek dink dit is eintlik ʼn mengsel van al hierdie dinge, want ek bly ʼn randfiguur. Jy moet hiermee ook onthou hoe ongelooflik baie die Nederlanders lees en veral met watter oorgawe hulle nuwe boeke verken. Terloops, die Nederlandse vertalers, Robert Dorsman en Jan van der Haar, het my onlangs gevra waarom ek dink hulle so heerlik vertaal het aan die Nederlandse weergawes van my gedigte vir die Gedichtendag-bundel, so asof die hart van die gedig ‘nederlands’ is. Ek glo dat dit is omdat ek die gedigte in Berlyn geskryf het tydens ’n navorsings-fellowship en die poësie van Paul Celan intensief saam met ʼn ander fellow en leraar bestudeer het; dat die Germaanse kern van Duits my Afrikaans geweldig beïnvloed het – ’n mens besef nie aldag hoe geangliseerd ons Afrikaans met verloop van jare geword het nie.

 

En ander tale? Jou gedigte is immers al in Engels vertaal; deur jouself, sowel as ander. Hoe werk dié proses vir jou? Is selfvertaling byvoorbeeld vir jou ’n integrale deel hiervan?

 

Teen die einde van die 1980’s, na ses digbundels en vyftien jaar van skryf in Afrikaans, is ek vir die eerste keer in Engels vertaal. (Dis nou afgesien van die gedig My Mooi Land wat Ronnie Kasrils – so het hy my vertel – in Engels vertaal het om te gebruik in Sechaba, die ANC se mondstuk van daardie jare). Die vertalings is óf deur joernaliste self gedoen wat onderhoude kom voer het, óf  deur ʼn literêre (selfs politieke) fees. Die Afrikaner was aan bewind en wat Afrikaners en hulle dissidente gedoen en gedink het, was van belang (Die Engelse joernaliste het byvoorbeeld ook gereeld die Afrikaanse koerante gelees om op die hoogte te bly van wat die politici dink en doen.) Nietemin, aanvanklik was dit interessant om die vertalings te lees, maar ek het mettertyd al hoe ongemakliker geraak met wat vertaal word: meestal politiek en selde komplekse politiek. Dit het begin voel of ek wanstaltig in Engels bestaan. Dus het ek begin om die liefdes-, gesins- en vroue- gedigte te vertaal wat verskyn het as Down to my last skin. Aan die begin was dit opwindend vir my; as die gedig nie lekker wil werk in Engels nie, het ek dit verander en ʼn tweede kreatiewe proses het begin. My lojaliteit was dus nie soseer om getrou te bly aan die Afrikaans nie, maar om ʼn ‘goeie’ gedig in Engels te lewer. In die laaste klompie jare het ek egter baie versoeke uit Engelse oorde begin kry om gedigte te lewer en ek het mettertyd ʼn ongesonde werkswyse begin opbou: ek skryf die gedig in Afrikaans (dis die enigste taal waarin my poëtiese orgaan werk), maar aangesien die tyd dikwels ontbreek om dit rustig af te rond en later na Engels te vertaal, word die finale proses wat die gedig voltooi, nou in Engels gedoen; die gevolg is dat die Engelse gedig dan meer ‘klaar’ en ‘beter’ is as die Afrikaanse ekwivalent. Soms probeer ek wel om dit terug te vertaal, maar dan werk dit met tye glad nie in Afrikaans nie, en dan moet ek dit wéér verander. Op die oomblik is daar etlike gedigte wat in verskillende weergawes bestaan; iets wat tot gevolg het dat wanneer ek byvoorbeeld in Frankryk of Italië moet gaan voorlees, ek die Afrikaanse gedig lees, terwyl die Italiaanse vertaling vanaf die Engelse weergawe gedoen is. Gewoonlik is daar dan iemand in die gehoor wat Afrikaans kan praat en dan agterna geskok kom vertel hoe swak die Italiaanse vertaling is omdat dit hééltemal van die Afrikaanse gedig verskil.

 

Is die oplossing dan nie om maar gewoon die vers in Engels voor te lees nie? Of skep dit vir jou ’n probleem ten opsigte van taal-identiteit?

 

Ek lees ook wél in Engels voor, maar vind dat ek slegs die gedigte wat ek sélf vertaal het, kan voorlees; die gedigte wat deur ander vertaal is, het hulle Afrikaanse grondritme verloor en ek kan glad nie daarby aanpas nie. Dit voel asof iemand anders die gedigte geskryf het. Die ongelukkige gevolg hiervan, met die prosa in Engels en net sommige gedigte in Afrikaans, is dat ek nie in een van die twee tale volledig bestaan nie. Deels hier en deels daar. Ek het ernstig oor hierdie saak besin verlede jaar (tydens die reedsgenoemde navorsings-fellowship in Berlyn), toe die Vertalingsburo my genooi het om deel te neem aan hul simposium oor Selfvertaling. Baie skrywers doen dit, of hét dit gedoen, ontdek ek toe; bekendes soos Brodsky, Beckett, Hannah Arendt, ens. Uitstekende lesings is gelewer oor die “waarom”, die “hoe” en al die meegaande verskille. Ek het egter toe besef dat dit ʼn geweldige vermorsing van tyd is. Waar ander digters nuwe gedigte skryf, of hul oues al hoe meer afrond, vertaal ek meestal, of skryf net halfnuwes. Ek het besluit om op te hou om my eie gedigte in Engels te vertaal. Die Engelse weergawe van die gedigte vir die gedigtedag is toe pragtig deur Karen Press vir Poetry International se webtuiste vertaal; in dié mate dat, toe ek verlede maand deur Adrienne Rich genooi is om ʼn voorlesing saam met haar by Columbia te lewer, ek besluit het om dié Engelse weergawes voor te lees. Vier reëls in die eerste gedig in, besef ek meteens: alle conviction is weg; ek lees die gedig asof dit iets vreemds is, ek bind op geen manier met die teks nie. Dus is ek terug by die vraag: sal ek tóg maar my eie vertaling van die gedigte maak?! Ek weet nog steeds nie.

 

Antjie, jy is ’n persoon wat vir vele jare oor ’n wye terrein betrokke is by die bevordering van digkuns in vele fasette. Hoe sien jy die situasie in die Suid-Afrikaanse verskuns tans? En hiermee bedoel ek nie net die Afrikaanse digkuns nie, maar ook die digkunste van ons ander landstale.

 

Dit gaan baie beter met die poësie as ‘n paar jaar gelede en dit is inderdaad danksy die volgehoue werk (en baklei) wat mense soos jy en Marlise Joubert doen, asook uitgewers wat aanhou om bundels uit te gee teen hul ekonomiese beterwete in. Maar daar is verskeie dinge wat problematies is. In terme van Afrikaans is dit waarskynlik die beperkte ruimte wat bestaan vir omvattende resensies. Dit beteken dat daar nie ‘n stewige tradisie van evaluering opgebou word nie. Dit voel vir my die wind waai sus en dan só, en dis nie die mense wat resenseer se skuld nie, dit is gewoon dat daar ‘n verlies aan outoriteit ontstaan wanneer iemand byvoorbeeld ‘n bundel in net drie paragrawe moet bespreek; óf wanneer daar nie ‘n konsekwente ruimte is vir die resensent waar hy of sy op gereelde basis kan resensies plaas ten einde op dié manier ‘n mate van standaard te vestig nie. Alles word net so bolangs aangeraak. Ek sou byvoorbeeld graag ‘n intelligente en kragtige vergelyking wou lees van die twee bundels wat gesamentlik die Eugene Marais-prys ontvang het. En daarvan gepraat: wanneer bekyk iemand daadwerklik wat presies in die akademie vir kuns en wetenskap aangaan wat sulke groot besluite oor ons letterkunde neem? Ook kry ʼn mens die gevoel dat lesers nie meer die kanon ken nie. Daar is hard baklei om die kanon te verander, maar noudat dit verander is, leer niemand dit meer nie. Ek sou graag wou hê dat ‘n mens moet kan sê dat indien iemand Afrikaans Eerste Taal neem en matrikuleer, hy of sy ten minste die vernaamste digters kén. Daar was ʼn bietjie stof oor die Groot Verseboek, maar geen volgehoue polemiek of argument van “Ja, dit is ons beste gedigte en ons wíl dit kén” nie. ‘n Sterk letterkunde kan nie bestaan binne-in fluff nie. Landswyd is daar dieselfde probleem: belangrike werk word uitgegee en met ligte watertjies in die koerante begelei. Die Engelse faksie is egter so sterk, ook wêreldwyd, dat die meeste Engelse skrywers intensief bespreek word. Dit bring ʼn mens by die kwessie van vertaling. Ek pleit deurlopend dat ons ‘n voortgesette aksie moet hê waarvolgens alles wat goed is in Afrikaans vanselfsprekend ook na Engels vertaal moet word. Indien ons dit nie doen nie, sal al hoe meer skrywers uitwyk Engels toe soos dit reeds die geval is met ander  inheemse tale, omdat ons almal graag deel wil vorm van die breër Suid-Afrikaanse stem. Om in Afrikaans te skryf, durf nie te beteken dat jy jou in ‘n etniese doodloopstraat bevind nie. Breyten Breytenbach is Afrikaans s’n, maar hy behoort dit gestand te kan doen deur middel van vertaling en nie noodwendig deur om spesiaal in Engels te skryf nie. Die feit dat Marlene van Niekerk se vertaalde werk die ander Engelse skrywers so uitgestof het, wys dat ons ‘n kragtige letterkunde het. Maar jy wil nie dat jou skrywers hulle tyd moet verkwansel met vertaling nie.

 

Ek vermoed dat jy jou vinger hier op ʼn hele aantal teer punte plaas, Antjie. Ten opsigte van die eerste gedeelte van jou antwoord hierbo, is die een ding wat my al vir ’n geruime tyd pla, die akkreditasie-ingesteldheid onder ons akademici. Uiteraard het ’n mens begrip hiervoor; dit verskaf ten minste inkomste aan die betrokke departement en akademikus. Die nadeel is egter dat uiters belangrike navorsing en kommentare net in vaktydskrifte verskyn waartoe die breë publiek dikwels nie toegang het nie. Ons literatore het immers nie nét die taak om tekste te “ontsluit” nie, maar ook om die lesers te begelei ten opsigte van verfynde leesstrategieë by bepaalde tekste, is dit nie? Sien jy hierdie ook as ’n wesenlike probleem of is ek nou onbillik jeens ons akademici met hierdie opmerking?

 

Ja, dit is tragies dat akademici skielik afgesluit word van ʼn publiek omdat van hulle verwag word om in hierdie akademiese joernale wat deur fokken niemand gelees word nie, te publiseer; in plaas daarvan om organies binne in hul gemeenskappe werksaam te wees. ʼn Mens haal jou hoed af vir iemand soos Joan (Hambidge) en ander, wat bo en behalwe hul akademiese werk nog vir koerante skryf ook. Maar dis tog asof almal se gekonsentreerde energie elders doenig is. Nogtans sou ʼn mens graag wou sien dat hierdie akademiese verhandelinge en essays omgeskakel word na gewone taal vir ons ander om te lees. Veral ook dié wat by oorsese universiteite geskryf word.

 

Enkele jare gelede was jy en Alfred Schaffer betrokke by die samestelling van Nuwe Stemme 3, ’n publikasie wat heelwat nuwe stemme suksesvol na vore gebring het … Was dit vir jou ’n gelukkige ervaring en voel jy dat sodanige projekte lewensvatbaar is, of skep dit gewoon verwagtings waaraan só dikwels nie voldoen kan word nie?

 

Dit was een van die wonderlikste projekte vir my, aangesien dit ‘n uitstekende manier is om nuwe stemme aan te spoor en ‘n hupstoot te gee. Dit is veral opwindend om te sien hoe baie van hulle uitskiet en dan is daar boonop nog ander wat hopelik binnekort tot publikasie sal kom. Alle krediet aan Nasboek dat hulle hiermee volhard.

 

Is jy dalk bereid om name te noem, Antjie? Watter van die digters wat in Nuwe Stemme 3 opgeneem is, behoort na jou mening nog in die nabye toekoms te kan debuteer?

 

Ek kan, maar ek wil nie. ʼn Mens word geskroei tot poësie skryf. Altans, die poësie waarvan ek hou, het ʼn gedrewenheid daaragter. Sommige mense het talent, maar niks gebeur wat hulle daartoe dryf nie. ʼn Versigtige digter wat skryf sodat ander hom of haar moet goedkeur, het probleme. Ek hou daarvan om Johann de Lange aan te haal: “Om ʼn bundel te publiseer moet wees soos om by ʼn waterval af te spring …” Jy moet glad nie weet of jy jou te pletter gaan val of wonderbaarlik in ʼn sjampanjepoel gaan opduik nie.

 

In die persberig oor Waar ik jou word, die Gedichtendagbundel wat in Nederland verskyn het, word genoem dat dit uit tien nuwe verse bestaan. Is jy tans besig om aan ’n nuwe bundel te werk en wanneer kan ons dié vreugde te wagte wees?

 

Jong, ek word oud. Ek moet genoeg vrye tyd en stilte hê om te kan gedigte skryf. Voor elke digbundel moet ek dus eers iets skryf wat op ‘n manier geld inbring sodat ek kan ophou werk ten einde op die gedigte te kan konsentreer. Op die oomblik is ek besig met ‘n derde nie-fiksie boek wat Country en Tongue sal afsluit. Ek oortree naamlik op my oudag die belangrikste reël wat ek vir myself gemaak het toe ek jonk was: hou jou by jou lees. Jy is ‘n digter. Moenie ander goed skryf nie, dit versplinter net wat jy wil sê. Sekere dinge sê jy in prosa of in skilderkuns (soos Cussons) en ander sê jy in poësie. Indien jy alles kan kanaliseer, verryk dit jou poësie. Ek sou byvoorbeeld nooit Lady Anne, óf Jerusalemgangers, geskryf het indien ek geweet het dat ek prosa kan skryf nie. Dit sou gewoon makliker gewees het om daarvan prosa, of ‘n nie-fiksie boek, te maak as ‘n epiese gedig. Aan die ander kant geniet ek nogal hierdie vele maniere van “wees” en hou ek nou veral daarvan om deesdae te probeer leer hoe om “akademies” te skryf. Waar poësie vir my ‘n absolute private daad is, ‘n skrywe wat te make het met wat ek in my kop hoor, is prosa en akademiese werk vir ‘n spesifieke gehoor.

 

ʼn Laaste vraag. Ek onthou toe ek eenkeer by jou en John aan’t huis was in Kroonstad hoe jy en Gerrit Olivier vir mekaar gesit en gedigte voorlees het; die besonderse manier wat ek later jare so goed leer ken het: asof jy eers die woorde in jou mond “proe” voor jy dit asem gee. Dit maak jou voorlesings ʼn onvergeetlike ervaring: intens, gevoelvol en genuanseerd. Beskou jy die voorlees van verse as ʼn belangrike funksie wat ʼn digter óók moet vervul? (Ek stel dié vraag omrede baie mense van mening is dat poësie nié op ʼn verhoog hoort nie; dat die voordrag afbreek doen aan die poëtiese inhoud van die vers.  )

 

Die kern van poësie is klank. Dis hoe poësie ontstaan het, as gesê-de klank. Die skryf het later gekom. Dis wat van iemand ʼn digter maak: hy hoor wat hy skryf. Ek is obsessioneel oor die geluid van gedigte; ek kan iemand letterlik te lyf gaan as hy of sy kak voorlees. Asof daar nie ʼn verskil is tussen ʼn “d” of “t” of ʼn “v” en “w” is nie. Die voordra, of voorlees, van ʼn gedig is egter iets anders as die gedig op papier. Op papier moet dit as sulks werk; jy kan tog nie sê: “dit werk nie op papier nie”, maar dan is dit tóg op papier gedruk nie! Ek verander dus maklik my werk wanneer ek voorlees. Die voordrag word bepaal deur die gehoor, die tyd wat ek tot my beskikking het, hoeveelste ek lees, hoe die persoon voor my gelees het en in watter gemoedstoestand wil ek die gehoor agterna hê. Indien jy nie ʼn gehoor respekteer nie, en niks by die papier wil voeg nie, moet jy nie voorlees nie. Dan moet jy sê: “Ek’s op my beste op papier en dis waar my lesers my moet kry.” By Tom Lanoye het ek nog die volgende geleer: hy sê ʼn mens skryf ʼn boek in afsondering, dit word verkoop om in afsondering gelees te word, maar omdat hy wil help om die boek te verkoop, gaan hy soos ʼn rock band te werk. Hy maak naamlik ’n CD (in sy geval ‘n voordragprogram gebaseer op die nuwe boek) en gaan daarna op toer sodat die mense die boek moet koop.

 

Baie dankie vir die gesprek, Antjie. Sal jy so vriendelik wees om dalk een van die gedigte wat in die Gedichtendagbundel opgeneem is, hieronder vir ons lesers weer te gee?

 

3.

 

sterre tongblind en sterwend in gravitasie

jy kom hartbevlek en opwaarts

kom jy

jou asem van kristal

en die mondnabye geluid van voëls

 

sterre tongblind

sterre sterwend

sterre adembenemend as digsbysyndste galaktiese sig

 

onverworwe moet ek word

losgeknip

en sterstapelend van gewrig

 

© Antjie Krog