Posts Tagged ‘Leon Rousseau’

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (1)

Monday, June 21st, 2010

Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om die eerste keer na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, regsgeleerde, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het. Dié dag was Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) op die sitplek langs my, saam met twee of drie topografiese kaarte en ‘n aantekeningboek.

Oor sy Waterbergse ervarings het Marais baie geskryf en van dié boeke het hom beroemd gemaak. Die Waterberg met sy fauna, flora en mense het Marais besiel (vandaar waarskynlik sy boektitels Die siel van die mier en The soul of the ape) en hom heel aan die einde vergeefs laat hunker om soontoe terug te keer. Miskien daarom het die Waterberg my reeds as jong leser geboei en was dit die plek waar my reise op Marais se spore begin het.

Daardie middag in die Waterberg het ek ‘n bietjie koersloos na die Rietfontein van die gedig “Wanneer dit reёn op Rietfontein” tussen al die ander Rietfonteine op die kaart op my knie gesoek. Kort-kort het ek by die venster uitgeleun en by ‘n voetganger of fietsryer probeer hoor: “Waar is Rietfontein?”

Dié middag op die savanne het vir een van die unieke ervarings tydens my navoring oor Marais gesorg: Op ‘n werf buite Naboomspruit het ek hoopvol afgeklim en na die huis gestap waarheen ‘n jong man beduie het. “My ma het hom geken,” het hy tussen sy malende boelhonde agter my aan gesê. Op die agterstoep het ek die enigste persoon in al my navorsing oor Marais ontmoet wat hom nog uit die tyd van sy Waterbergse verblyf, 1907 tot 1916, self geken het. ‘n Ouerige mev. Van Heerden het vertel hoe sy meer as sestig jaar vantevore as dogtertjie op die Wonderdokter se skoot gesit en hoe hy met sy vinger liggies oor haar voorkop gevryf en haar “gemesmeraais” het.

Johann Lodewyk Marais. Stellings oor Eugène N. Marais

Wednesday, June 16th, 2010

Eugène N. Marais (1871–1936) is in die Afrikaanse letterkunde van vroeg af as digter gekanoniseer ten spyte daarvan dat hy ook ‘n beduidende hoeveelheid bellettristiese en wetenskaplike prosa geskryf het.

*

Marais het hom in Londen in die regte bekwaam (1897–1901), maar daarna min belangstelling getoon in die één rigting waarin hy formele opleiding gehad het.

*

Marais was besonder ontvanklik vir Charles Darwin se The origin of species (1859), wat ‘n groot invloed op die lewens- en wêreldbeskouing tydens die tweede helfte van die negentiende eeu gehad het.

*

In die verhaal oor Marais se lewe en werk is daar een groot skurk: die Belgiese Nobelpryswenner Maurice Maeterlinck (1862–1949).

*

F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy bydrae tot die Afrikaanse letterkunde (1940) is ‘n goed gedokumenteerde studie, wat nog steeds ‘n belangrike bron van inligting is.

*

Na die aandag wat Robert Ardrey in African genesis: A personal investigation into the animal origins of nature and man (1961) aan Marais gegee het, het Marais se bydrae op die gebied van die etologie vir die eerste keer duidelik begin word.

*

W.C.H. du Randt het gedurende die 1960’s ‘n hele aantal studies aan Marais gewy, wat van die winste van die stilistiek op linguistiese grondslag getuig. Hy kom egter ook met ‘n aantal enigmatiese lesings vorendag.

Leon Rousseau se navorsing vir die skryf van Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) kan nie herhaal word nie.

*

Letterkundiges het lank jaloers oor Marais se literêre nalatenskap gewaak en min moeite gedoen om erkenning vir sy wetenskaplike werk te beding.

*

Danksy die besondere wyse waarop sy ‘n sfeer kan beskryf, het Elize Botha in 1980 en 1987 twee rigtinggewende essays oor Marais as prosaïs gepubliseer.

*

Deur in die veld agter diere aan te loop en hulle gedrag waar te neem, het Marais tot ‘n belangrike paradigmaverskuiwing in die natuurwetenskappe bygedra. 

*

Na die differensie van die dissiplines het die opvatting lank bestaan dat literatuur en wetenskap twee onversoenbare wêrelde is.

*

Die paradigmaverskuiwing wat Thomas S. Kuhn se The structure of scientific revolutions (1962) bewerkstellig het, het daartoe bygedra dat die leser met ander oë na Marais se wetenskaplike geskrifte kan kyk.

*

Volgens Jonathan Culler (1997) is daar ‘n “basic human drive to hear and tell stories”. Natuurwetenskaplikes is eers onlangs bewus gemaak van die rol wat die vertelling (en ander literêre strategieë) in wetenskaplike tekste speel.

*

Die Waterberg is ‘n essensiële ruimte in Marais se lewe en werk.

*

Marais het baie daartoe bygedra om die soms bygelowige lesers van sy tyd (en daarna!) van die belangrikheid van rasionele verklarings vir verskynsels in die natuur te sensitiseer.

*

Die ontdekking van die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) weerlê die aanname dat Marais as natuurwetenskaplike ‘n boereverneuker was (‘n idee onderliggend aan S. Zuckerman se tirade). 

*

Marais sou hom verlustig het in David Copperfield se toertjies en self met een vorendag gekom het.

Johann Lodewyk Marais. Had Eugène N. Marais iets teen my?

Thursday, September 10th, 2009

Leon Rousseau, die skrywer van Die groot verlange, die wyd geprese en gelese lewensverhaal van Eugène N. Marais, noem in Eugène Marais and the Darwin syndrome/Die dowwe spoor van Eugène Marais (1998) ‘n aantal voorbeelde van sogenaamde sinchronisme. Hy beskryf sinchronisme in laasgenoemde boek as “Jung se woord vir min of meer gelyktydige gebeurtenisse of belewenisse sonder aantoonbare kousale verband” (p. 111). Wat die leser veral intrigeer, is die wyse waarop Rousseau sy ervarings aan ons voorhou as bewys dat Marais hom (d.w.s. Rousseau) “op soveel onverwagte maniere gedwarsboom” (p. 112) het om navorsing oor hom te doen en die resultate daarvan bekend te stel. Ek is egter skepties hieroor en beskou dit as niks anders as ‘n mistifisering van sy werk oor Eugène Marais nie. Maar soms moet ’n mens darem wonder …

Soos omstandighede (of die noodlot?) dit wou hê, was my naamgenoot, die bekende herpetoloog Johan Marais, op 4 Maart 2004 elders in Pretoria op presies dieselfde tyd besig om sý ‘n Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika/A complete guide to the snakes of Southern Africa (2004) bekend te stel toe my bundel, Plaaslike kennis (2004), by die hAp bekend gestel is. Volgens die uitnodiging wat ek per e-pos van Fascination Books Menlyn ontvang het, had die dapperes ook “the opportunity to have their PHOTO TAKEN with a snake!”. In die lig van die rol wat slange in die werk van die ander Marais (d.w.s. Eugène Marais) speel, sou iemand wat in sinchronisme glo moontlik dié aand die werking van sinistere magte kon vermoed.

Had Marais iets teen my? Was daar dalk êrens ‘n slang in die gras?

Smile

Johann Lodewyk Marais. Eugène N. Marais se vissershut

Thursday, June 25th, 2009

Dit is merkwaardig dat nuwe inligting oor Eugène N. Marais nog steeds na vore kom. Onlangs het mnr. Frikkie Briel van plot 16 by Elandsfontein naby Pelindaba my meegedeel dat Marais van tyd tot tyd ’n vissershut langs die Krokodilrivier besoek het. Briel was lid van die ontbinde Pelindaba-kommando wat tot in 2005 bestaan het. Die kommando het twee of drie keer in die tyd toe hy lid van die kommando was daar gaan uitkamp om vis te vang en na die voёls te kyk.

 

Aangesien die hut op die skeiding tussen die Hoёveld en die Bosveld is, kom voёls en plante van albei hierdie streke daar voor. Die inheemse plantegroei rondom die hut is ruig omdat dit in die Necsa-bewaringsgebied is en dus nie deur vee of landbouaktiwiteite versteur word nie. Die Krokodilrivier vloei by die hut verby en gaan verder af deur ’n kloof met hoё kranse. Langs die Elandsfonteinspruit wat verder af in die rivier vloei, het ons op ’n klipbank afgekom wat nes die plek op ’n foto (nommer 58 in Leon Rousseau se Die groot verlange) lyk waar Marais in sy swemklere sit. Daar is ook ’n leikliptafel wat baie soos die een by die Preller-woning lyk.

 

Volgens Briel het hulle bevelvoerder, lt.-kol. R.W. du Preez, broer van die rugbylegende Frik du Preez, vertel dat Marais in die hut kom bly het en van sy boeke daar geskryf het. Dit maak die hut vir Briel iets besonders en hy wil graag hê dat dit bewaar word. Hy is bang Necsa kan besluit om dit as ’n pakstoor te gebruik. Briel, ’n boukontrakteur, meen ook die hut se boustyl is dieselfde as dié van die Preller-woning en die rondawelhuis daarnaas waarin Marais onder meer sy laaste nag deurgebring het.

 

Die voordeur van die hut is van Amerikaanse greinhout (of Oregon pine) wat uit die tyd voor ongeveer 1942 dateer toe dit algemeen in die boubedryf gebruik is. Die hut het egter dieselfde staalraamvensters as die Preller-woning, sowat een en half kilometer daarvandaan. Volgens Briel is staalraamvensters eers sedert die Tweede Wêreldoorlog algemeen in die boubedryf gebruik.

 

Briel is een van baie mense rondom Pelindaba wat weet dat Marais homself op 29 Maart 1936 verder af langs die Krokodilrivier om die lewe gebring het; sy spore hier het nog nie doodgewaai nie. Heelparty van die mense het egter nog nie iets van Marais gelees nie.

 

Johann Lodewyk Marais