Posts Tagged ‘Lewies Botha’

Lewies Botha. Vier gedigte

Monday, July 4th, 2011

Stop voor die Kroonvaal tolplaza

 

Langs die pad is sement paddastoele

hoender reste en foelie frommelbolle

halfgeëete  eiertoebroodjies

en definitief menskak, volgens die stank

wat daar hang by die rusplek langs die pad.

 

Goudvisse swem lukraak roetes

deur (w)algbruin water en tortelduiwe

 was in die baksteen waterornament-fontein.

Swerm swaels plak hul modder-igloes onder oorweë-brûe

en fladder soos muise rakelings voor motorruite vooruit.

 

Buite beweeg die landskap relatief soos Einstein se teorie;

binne die motor verloop tyd effens stadiger.

 

By die petrolstasie sit ʼn man met drie brakke aan leibande

bagasie en ʼn bordjie van karton; YESHUA

by hierdie plek wat nie ʼn plek is nie gestrand.

Rustende motors en piekniek-insittendes

soos by ʼn inryfliek is gefokus op die toneel;

ek breek brood, my padkos met die man

en spreek my seën uit oor die brakke

en die man;

kniel op sy knieë,

sy vuil vingernaelhande bewe palms na die hemel

bid die Joodse man luid in Hebreeus en roep driemaal:

HALLELUJA  HALLELUJA HALLELUJA

Ek is half onkant gevang

en maak die teken van die kruis (soos my vrou sou)

en sê AMEN uit verweer.

 

YESHUA vasgespyker met sy doringkroon

swaai aan die blou plastiek-rosekrans

wat hang aan die truspieël.

 

Buite beweeg die landskap relatief soos Einstein se teorie;

binne die motor verloop tyd effens stadiger.

 

© Lewies Botha   Julie 2011

 

 

Op soek na Ben Dekker

 

“Jy sien hom soms hier stap” is aan ons vertel.

 

Ons het gaan soek na Ben Dekker die legendariese; “Ghaitshi Ghubi”

 

Ek en Dewaal

het ʼn kas quarts gedeel op First Beach.

Tien tingerige seuns in rooi swembroekies

het lewensredders gespeel.

Vet vroue in vleeskleurige onderklere

het in die vlak branders vasgesit.

Skuim vulkane het uit bierbottels gekook.

 

Vrouens wou aan ons stringe krale verkoop.

Jong seuns wou ons visstokke beaas.

Ouer seuns wou ons doobie laat rook.

Mans het krewe in plastiek sakke aangebied.

Meisietjies in skamelrokkies was ook daar.

 

Johannes die doper het sy volgelinge die see in gelei.

ʼn Man met ʼn taxi vol kwaito het ons biere geruil vir koues.

Twee meisies met blonde dreadlocks  het vir ons gewink.

ʼn Man met ʼn 4×4 het vanuit sy voertuig rondgekyk,

ʼn gesin gesigte verskrik agter die motorruite vasgevang.

 

Beeste het oor die groen sandduine gewei.

Die maan het geblom in die blou lug

en die nagrok onder haar opgetrek.

Die  meisies en hul surfer vriende het vuur

gemaak op die sand en drommetjies

getrom.

 

Ek het vir Dewaal gesê dit voel of ek op ʼn lughawe wag.

“Waarheen is jy op pad?” het hy gevra. Ek het geantwoord

die bestemming is nie die punt nie, ook nie jou vraag nie.

“Wat is?” het hy gevra. As jy lank genoeg sit sal

 die hele mensdom in ʼn parade voor jou verbygaan.

“Brad Pitt het dit in ʼn moewie gesê,” het Dewaal geantwoord

en daar by die vuur gaan dans; die meisies het gewink.

Ons kon nie vir Ben Dekker daardie dag kry nie, nie in sy grot nie,

nie op die vlaktes duskant Hebron nie,

maar ek was gediend daarmee dat hy  eendag waar ek

op ʼn lughawe wag, sal verbystap en my herken;

die reïnkarnasie van Ghaitshi Ghubi.

 

 

© Lewies Botha   Julie 2011

 

 
Tropiese nagte in Port St. Johns

 

Die vol maan bekruip al die takhare

die rivier stroom andersom

kolk al die bote om.

 

Tropiese plante slinger oor die paaie

gryp al die wandelaars om hul enkels

en sleep hulle die diep see in.

 

Baniaanbome skud hul blare

verdoesel alle dade onder ʼn swartgroen matras

en wortels dring deur skeure en krummel

 

betonmure en miere

dra kriesels van oorblyfsels in lang

lewende strome na neste ondergronds.

 

Skuim lappe vee die vele voetspore

van die strande se vloere skoon.

 

Jy hoor nou die ape in die woude uitroep

en die wilde varke terugkeer en naby snoep

tot die voëls begin kwetter

 

en boomslange in die bome begin bewe

opgewende vere wat loskrul

en teen ruggrate afgril.

 

Die nag se lakens

is klewerig skaamteloos naak

bossies is sanderig kroes.

 

Die volmaan bekruip die swemmers

en silhoeët hul kaal lywe

wat in die branders baai.

 

 

© Lewies Botha   Mei 2011

 

 

                           

Die Tatoe kunstenaar

 

Drake klou teen arms

vlinders flirt oor lieste

en adders uit boesems

rol areola, druiwe korrels

in oopsper bekke

se verhemeltes rond.

Jesus hang kopskeef

verveeld tussen sy skouerblaaie

in hierdie buurt loop sy volgelinge

almal gemerk met sy handewerk.

 

 

© Lewies Botha   Julie 2011

Lewies Botha. Wie lees (nog) gedigte?

Friday, August 27th, 2010

1

Ek maak ‘n klompie gedigte bymekaar.  Ek kliek en knip en plak en binne ‘n japtrap het ek een lang dokument op my rekenaar. Ek wonder oor ‘n titel. Dit moet tref, vasskop in die geheue soos van my gunstelinge; ” Zen and the art of..”  Wat van iets soos; “Moenie in die water mors nie die ou mense wil dit drink” Dan die omslagontwerp;  Hopper se “Night hawks” is my inspirasie. Ek dokter met ‘n rekenaarprogram een van my eie Vrystaatvlakte foto’s.  ‘n Verlate plaashuis doer ver op die rand, destyds in die Engelse oorlog afgebrand en bewoon deur oupagrootjie. Dreigende laatmiddag donderstormwolke omraam die prentjie. “Prrt prrt prrt” druk ek die ding, een bladsy per minuut. Ek laat dit Saterdagoggend bind dit by die Postnet winkel; ‘n plastiek ringbinder. My eerste boek. Een uitgawe. Oplaag; een. Terug in die laai.

 

2

 

Dis Vrouedag, 9 Augustus. ‘n Bonusdag vir die lessenaarlaai skrywers.  Ek hoor vroulief veraf in die woonkamer die stemme van; “Big Brother”, “Idols” en ander valse realiteite. Ek het my “holy pants” aan, die ou ingeleefde sweetpakbroek, die ene vol gaaitjies. Ek trek my studeerkamer se deur toe. ‘n Glasie Port,  Mozart se Requim vul die kamer. Vroulief loer in en vra; Coffee? en gee my ‘n soen sommer net uit pure verniet. Later is dit drie uur pikdonker as ek inkruip en vroulief haarself om my wikkel; nog ‘n vel aan my vasgroei.

 

3

 

Ek sit met die storie waarmee ek nou al die verste gevorder het. Elke nou en dan kliek ek op die “word count” ‘n paar duisend woorde. Die storielyn het nog nie eintlik verder as die plaaslike kroeg ontwikkel nie. Dalk die eerste kroegroman dink ek. Ek besef dat “in die kroeg sit” ‘n herhalende tema is in my stories. ‘n Goedige eensame hoofkarakter wat met die kroegmeisies flankeer.

 

4

 

Ek lees “How NOT to write a novel- 20 mistakes made…”  Ek pleeg al 20 sondige sondes waarvan die eerste is Wie wil die mymeringe lees? Terug lessenaarlaai toe.

 

5

 

“Hoop nie jy gaan kwaad wees vir my nie.” sê my ma toe ek haar die volgende dag bel om haar goeie Vrouedag toe te wens wat gister was. Gaats wonder ek, wat nou? Het sy my gunsteling Bul, ou Lodewyk verkoop? My erf saaidbord toe vir my suster gegee wat nou al hoeka skimpe gooi ? Soos ‘n Ma nou maar ‘n ma is, sy is my grootste fan. My vrou, skepties versigtig vir die Afrikaanse dinge van my, is my tweede grootste fan. Ek het twee fans. My Ma het destyds toe ek haar vertel het van die Nuwe Stemme 4 dinge bly aandring; “Ag, gee nou vir my van jou gediggies, ‘n Ma mag maar mos ietsie kry” Ek  het toe maar ‘n klompie bymekaar gemaak, die mees onskadelikes, sommiges mooi vir mooi wees, daardies veilig in my moeder se hande sou wees, dankie sê gedigte vir die moederhart. Die wat  intussen lankal uit die lessenaarlaai in die asblik beland het.

Sy kom toe uiteindelik by die  ontboeseming waarop sy my nou so voorberei het; ” Die haarkapster is so ‘n kunstige mens… ‘n jong geskeide vroutjie…net twee maande getroud gewees” vertel my ma. “Sy is besig om die salon bietjie op te vrolik, teen die een muur wil sy ‘n gediggie of twee sit. Sy is baie oulik en bied verftegniek klasse aan by die kwekery. Ek vertel haar toe mos maar my seun skryf mos gedigte” , “Haai tannie regtig!” en met die beland my gedigte in die hande van Ansie die kunstige geskeide vroutjie van Salon Angelique.

So iewers in die Oos-Vrystaat,  nie te ver van Antjie Krog se Kroonstad, verder weg van Gilbert Gibson se Bloemfontein, nader aan die kunstenaarsdorp Clarens, is ‘n haarsalon op ‘n dorpie langs die Wilgerivier. Daar waar pensioenaristannies hul kapsels pers tint, teen die muur met die geskilderde Griekse suile en rosies en duifies en wolke met ‘n poeierblou Plascon agtergrond. Daar is ‘n gedig in groot letters geverf, dalk oor ‘n wilgerboom, dalk oor ‘n bokram, dalk oor moederliefde. En as tannies oor hul Huisgenote loer onder die haardroërs deur met silwerfoelie in hul hare, lees hulle oor en oor.  ‘n Gedig  van Tannie Dorothea se seun. “Nee hy boer mos nie, die een wat gedigte skryf.” sou hulle dalk sê.

Lewies Botha.Oorlog en gerugte van oorlog

Friday, July 30th, 2010

Niel van Deventer se blog neem my toe terug na 1989. Dit is die jaar wat die SAW uit Namibie ontrek. Dit is eintlik al wat ek wil sê daaroor;

 

Tuiskoms -1989

nêrens beweeg daar optog-vlotte deur die strate

nie.voëltjies fladder nie linte blinkertjies vanuit hoë geboue

nie. kerkstraat is nie gevul met vurige omhelsings tussen jagse jonges

nie. nêrens blaas toeters en hang dronk lag lywe uit stampvol motors

nie. meisies wapper nie soos swerms wilde vinkies

nie. reik nie oopbloes na helde in oopbus konvooie langs strate

nie. strooi nie klam blom broekies op die verhoë voor voete

nie. niemand swaai aan oom paul se pluiskuil

nie. leiers glimlag nie met moses oop arms nie

op voorblaaie brand steeds motorbande

kerkraadvergaderings woed voort

ouers is besonders besorgd

wat gaan jy volgende jaar doen ?

want die oorlog is verby.

 

©  Lewies Botha

Lewies Botha. Om Famous te wees

Friday, May 28th, 2010

Na aanleiding van Andries Bezuidenhout se blog en natuurlik die Rapport artikel; Ek het nogal gewonder hoe gaan ek die verhoog deel met die beroemde “Rock star” Hunter Kennedy,  natuurlik was ek jaloers. Waarom wou hy nou die klein kolletjie Ka(l)klig van die papiervliegtuigie vou klub kom steel?  F*k wie wil nie Rock beroemdheid hê nie. Elke vertoning met gillende groupies is ‘n adrenalien inspuiting wat jou ego tot voor barstens toe opjaag. Ek daag enige iemand uit om te erken heimlik wil ons almal RUK en ROL.  Ek het myself getroos dat behalwe my Ma wat seker al die helfte van Nuwe Stemme 4 (NS4) se oplaag vir haar vriendinne en familie opgekoop het, sal die naam ;Hunter van Polisiekarre seker die boekverkope aanhelp. So dis maar oriaat.

In my gedig “Ons was daar” vir die Lizard kings van Pretoria (Opgeneem in NS4) verwys ek na die Rockers van so voor die voëlvry toer dinge, Piet Botha, James Phillips ens.  Ek sê ook; ons is skrywers ons is rock stars …

Ek sien altyd voor my geestesoog; Jim Morrison van The Doors wat in ‘n ateljee sit en sy “An American Prayer” opneem, vet en plomp en woes bebaard, met daai stem wat hipnoties dreunsing/ lees, Ray Manzerek se keyboards wat die agtergrond vul.  Ja, Jim wou bekend wees as Poet. Die Rocker as Poet.

Dan moet julle my sien xbox 360 met Guitar Hero ! Die Poet as Rocker.

Soos Andries sê die debat is eintlik maar tong in die kies. Die waarheid is ons is almal ‘n bietjie van alles. Kunstenaars is kreatief en skeppend en vind gewoonlik ‘n uitlaatklep hetsy skilder, sing, skryf, dig of toneelspeel. Dit is opmerklik hoeveel digters musikale agtergrond het. ( Louanne Stone, Pieter Hugo?, Maruis Swart het ek op “Noot vir Noot gesien, Niel van Deventer , Hunter K ,is die waarvan ek weet uit NS4) Ek teoretiseer nogal daaroor; Skaak wonderkinders is gewoonlik ook Musikaal en Wiskundig talentvol, ek wil beweer hulle sal ook digterlik talentvol wees. EK glo dit het te doen met talente in; ritme, metrum, herhaling, patroon herkening, vorm, struktuur, analitiese vermoë ens.  wat neerslag vind in Skaak speel, Wiskundige probleem oplossing en uiteraard Musiek.

Om aan te sluit by Andries hier is my eie blues song (Annie Rok jagter neem kennis):

 Vrystaat kruispaaie-‘n blues song

 

 Van veraf  lyk hy soos ‘n lang maer kraai

en soos vlerke klap sy jas in die wind

en sy stewels kap kloue knars in die gruis

akkedisse skarrel geskrikte krokkedille weg

wolk skadus draai soos vlieënde haaie.

 

Refrein

 

Die stilte waai agterna toe hy voor my staan

glimlag sy poeding Leonardo de Caprio gesig

daaronder grinnik ‘n pok gru Jack Nicholson

muskeljaatkatte en rooikatte dog dis al aand.

 

Refrein

 

Dit het stil geword op daai stofpad wat kruis

tussen Voorspoedfontein en Welgedaan

hy het ‘n sigaret aangebied, ek kon sien;

Siener, Profeet, Volksdigter, Hertzogprys.

 

Refrein:

 

Los maar die rympies rym ek wil ruk en rol

met ‘n kitaar riff soos Jimi Hendricks

en ‘n middelrif soos Jim Morrison

gee my ‘n stem soos ‘n Harley Davidson,

‘n pop soos Pamela Anderson

‘n liriek vir ‘n super hit.

 

So neurie ek toe, my eerste lied.

Lewies Botha. Die mense wat ons ontmoet

Friday, May 7th, 2010

Elke gedig van my het so ‘n klein storietjie; Dalk hoe dit ontkiem het of die storie agter die storie of so. Ek is alte lief om te veel te praat as ek die kans kry en kan vreeslik vertel. Dit bederf natuurlik al die lees plesier vir die leser. (Om nie te praat van kastrasie van jou gedig nie, so ‘n digter moet liewer sy bek hou ne)  Daarom volstaan ek deur te sê die gedig hieronder is die volle waarheid nie gelieg nie. O ja, (hier gaan ek sien wat ek bedoel) ek is nie lief vir tipografiese foefies nie maar hier het ek probeer. Werk dit my mede stemme en agbare GROOT STEM genote?

 Huisbesoek

 Ek ontmoet ‘n Engelse Naude;

‘n Loodgieter met ‘n Landrover en skieppertjie brak

en soos dit  maar is as die vrouens loop en die kinders

eenkant op swaaie swaai en die skieppertjie brak

onder jou voete kom lê

vlieë die oorskiet braai besoek

vet soos murg in die son skitter

aartappelslaai suurderig vergaan

herken ons dit in mekaar;

die versigtig vleis omdraai, die innig streel oor seunskoppe

die hoeveelste bier, die stilweg kak opvreet.

 

Hy was ‘n diensplig Luitenant, vertel hy

LT NAUDE  in breë swart letters vasgestik

bo sy songebleikte browns se hempsak

en op die lapelle; die pips soos voëlkak

blêrtse.  Behalwe ballas bak moes hy elke goddelike dag

 (gereeld maar ontydig), so was die opdrag

‘n herhalende ritueel uitvoer;

 

1. Wag voor die tuinhekkie

2. vir die gordyn om te roer

3. soms sal die ou man loer

4. die voordeur swaar oopskuifel

5. (Winters sal droog en wit wees,

6. Somers ook)

7. die tuinpaadjie

8. ‘n lang sement grys tapyt

9. langs

10. sal hy kom

11. en jou register bewerig teken;

12.  Beyers Naude.

 gaan na 1.

Onderhoud. Nuwe Stemme 4

Monday, February 22nd, 2010

Twintig digters wat in Nuwe Stemme 4 opgeneem is, gee terugvoer op vrae deur Louis Esterhuizen

 

Deelnemende digters (in alfabetiese volgorde):

Fourie Botha, Lewies Botha, Corné Coetzee, Jan A.F. du Plessis, Sydda Essop, Francilié Hoek,

Pieter Hugo, Willem Jansen, Annie Klopper, Jannie Malan, Hennie Meyer, Heidi Papadopoulus-Pienaar,

Bibi Slippers, Adél Steyn, Lou-Ann Stone, Marius Swart, André Trantraal, Karlien van der Merwe,

Niel van Deventer en Lize Viljoen.

 

Fourie Botha

 

Fourie Botha

Fourie Botha

Ek het op die Hoëveld en in die Marico-Bosveld grootgeword, en in Pretoria gaan studeer. Daar het ek vir ‘n opvoedkundige uitgewer begin werk. ‘n Paar jaar gelede het ek Kaap toe gekom. Op die oomblik is ek ‘n redakteur by ‘n uitgewershuis en werk ek meestal met Engelse fiksie. Ek bly in Woodstock.

Ek kan onthou dat ek in standerd twee ‘n gedig in paarrym oor ‘n rivier en die Anglo-Boereoorlog geskryf het waarvan my juffrou gehou het. Ek het nog altyd graag gedigte gelees en ek dink jy probeer jouself uitdruk in ‘n medium wat jy die beste ken. Waarom ek myself wil uitdruk, weet ek nie.

‘n Paar vroeë gedigte is op universiteit in Vlieg opgeneem, maar Nuwe Stemme is die eerste boek waarin my verse opgeneem is. Om in Nuwe Stemme te wees, is goeie aanmoediging.

Die Afrikaanse digkuns tans is ‘n ding met baie koppe en daar gaan eintlik verbasend baie aan vir ‘n genré wat so min rakruimte in die gewone boekwinkel opneem. Met Nuwe Stemme was dit ook vir my interessant om te sien hoe baie jonger mense so ‘n ou kunsvorm beoefen.

Persoonlik voel ek dat daar baie gedigte is wat volmaak of ‘reg’ is, al is hulle “klein” gedigte. Nie alle gedigte kan of hoef groots te wees nie. Maar dan is daar die grotes, soos William Blake se “The Tyger”, wat so perfek is dat jy dit op jou wil laat tatoëer.

 

The Tyger

 

Tyger! Tyger! burning bright

In the forests of the night,

What immortal hand or eye

Could frame thy fearful symmetry?

 

In what distant deeps or skies

Burnt the fire of thine eyes?

On what wings dare he aspire?

What the hand dare sieze the fire?

 

And what shoulder, & what art.

Could twist the sinews of thy heart?

And when thy heart began to beat,

What dread hand? & what dread feet?

 

What the hammer? what the chain?

In what furnace was thy brain?

What the anvil? what dread grasp

Dare its deadly terrors clasp?

 

When the stars threw down their spears,

And watered heaven with their tears,

Did he smile his work to see?

Did he who made the Lamb make thee?

 

Tyger! Tyger! burning bright

In the forests of the night,

What immortal hand or eye

Dare frame thy fearful symmetry?

 

© William Blake (uit: Songs Of Experience, 1794)

 

***

 

Lewies Botha

 

Lewies Botha

Lewies Botha

Ek het in die Vaaldriehoek, Sasolburg, groot geword en daar gematrikuleer in 1983. Ek het ‘n B.Com-graad by Universiteit van Pretoria verwerf en kon later registreer as Owerheidsouditeur. Ek is in die ouditeursberoep en is ook deeltyds betrokke by my vrou se besigheid. Ek het in Pretoria, Durban en Umthatha gewoon en gewerk voordat ek nou Oos London my tuiste gemaak het. Ek en my vrou, Karen is nou sewe jaar saam, ons is lief vir die lewe by die see en stap gereeld op die strand. My wortels lê egter diep in die familieplaas in die Oos-Vrystaat waarheen ek so dikwels moontlik gaan. Ek dig nie net nie, maar is ook besig met vele onklaar verhale en stories.

Die skeppingsdrang was maar so lank as wat ek kan onthou daar, ek het met boeke groot geword en vroeg as kind al baie gevorderd gelees. Hoe het die passie vir poësie ontstaan? Ek kan eintlik nie my vinger daarop sit nie, dit was maar altyd deel van my aard. Ek was nog altyd binne in my siel oortuig en het dit vanselfsprekend aanvaar dat ek eendag poësie sou publiseer. As tiener was ek ‘n groot Breyten Breytenbach-aanhanger, aanvanklik het sy lewenstorie my aangetrek. Breyten se Ysterkoei-bundel het gedigte skryf vir my “cool” gemaak. As ek moet sê (waar het dit ontstaan) dan was dit hierdie ontmoeting. Ek het net van toe af geweet. DJ Opperman se Bamboesstok-bundel was nog so ‘n oomblik, so ook die lees van Wally Serote se gedig wat Brink aanhaal in sy roman; “‘n Droë wit seisoen“. ‘n Verdere invloed was pop en rock-musiek; The Police, Queen, Pink Floyd selfs Anton Goosen. Toe Annesu de Vos debuteer wou ek opsluit self ook publiseer. Ek het nagte deur op ‘n ou klein tikmasjientjie gesit en tik, toetse geslaan tik tik tik, met tiklinte en sulke dun tikpapier en deurslag papier gesukkel. Ek was seker so 17 jaar oud toe ek my eerste manuskrip na Human en Rousseau toe gepos het, genadiglik het hulle dit afgekeur. Na my universiteits- en dienspligjare (1988-89) het ek half my rug gekeer op die hele Afrikaanse letterkunde en Afrikanerding , ek was half ontnugter ( dalk half met myself ook) In elk geval, ek het baie bewustelik ‘n belofte gemaak dat ek eers sal probeer publiseer as ek die dag veertig word. Jy moet verstaan dat die skeppingsdrang ‘n ontsettende intense energie, tyd en harde werk vereis en jou tot waansin kan dryf. Ek was besig om mal te word en kon net nie tevredenheid met my skryfwerk kry nie. Ek het ook besef dat ek nie met ‘n ryp eerlikheid en geloofwaardigheid kan dig voordat ek nie eers self bietjie die lewe ervaar het nie … Hierdeur het ek ook (die belofte) myself soort van onthef van die verpligting om skeppend te wees en ek kon met volle aandag aangaan met my ouditeursloopbaan. Ek het weer so in 2004 rond begin skryf, aanvanklik aan idees vir romans en kortverhale. Ek het blogs op die internet geskryf en gedigte begin plaas wat ek maar vingeroefeninge genoem het. Die terugvoer was nogal positief. Van my stories het soms, nadat ek dit tot die been geredigeer het, net enkele reëls oorgebly wat die struktuur van gedigte begin aanneem het. Ek het gevind dat poësie die genré is wat my omstandighede die beste pas (naweekskrywer). Intussen het ek ‘n intense liefde vir die poësie ontwikkel. Ek beskou myself as ‘n relatiewe jong digter en elke dag slyp ek nog aan my tegniese vaardigheid.

Ek is baie opgewonde om in NS4 opgeneem te wees; ek voel baie geëerd en natuurlik dankbaar. Dit is beslis die aansporing en die klop op die skouer wat my daardie selfvertroue gee wat nodig is om voort te gaan en nie op te gee nie. Ek hoop die blootstelling is die voet in die deur en baan die weg vir ‘n eie selfstandige debuutbundel. Ek dink al die Stemme-digters word dopgehou om te sien wat verder met hulle gebeur. Die vorige Stemme het bewys dat die projek van Tafelberg ‘n baie waardevolle rol speel om digters aan te spoor en bekend te stel. Loftus Marais is ‘n baie goeie voorbeeld van ‘n digter uit Stemme 3 wat ‘n baie suksesvolle debuutbundel gelewer het. Van my gedigte was voorheen opgeneem in Poort, ‘n publikasie van die Akademie vir Wetenskap en Kuns wat ‘n keur van hoërskoolleerlinge se werk was. Die een gedig dink ek het die tyd deurstaan, maar die ander is dalk ‘n goeie voorbeeld hoekom ‘n digter (in my geval in elk geval ) nie vroeg moet publiseer nie.

Hoe voel ek oor die Afrikaanse digkuns tans? Ek voel soms dit sal lekker wees as die Afrikaanse digkuns ‘n lekker oplewing kan beleef. Die voorgrond te kan betree met ‘n paar opwindende nuwe bundels of digters wat sommer ‘n klomp nuwe lesers aan die Afrikaanse digkuns sal blootstel. Ek vermoed uit die Stemme 4 is daar minstens een so digter/res met so ‘n sterk en relevante stem. Ons eersterangse digters, Breytenbach en Krog, Cloete en Hambidge en dies meer is wêreldklas.

My eie gedigte ontstaan omtrent vanself, hulle kry hulle eie lewe asof ek slegs die tussenganger is wat die gedigte gestalte gee. Ek maak baie staat op die krag van my onderbewuste en die tye wanneer die brein in sy droom stadium is. Daarna begin die harde werk, baie harde werk. Ek het amper ‘n kompulsiewe drang om te skaaf en te skaaf en verse word oor en oor geskryf, oor en oor gebore. My gedigte is nooit klaar nie. Ek moet gedwing word om hulle uit te los. Ek skat so 10 gedigte bly oor uit elke 100, elke geslaagde gedig stap maande saam met my. Ek glo aan ‘n streng suiwerings- en distileringsproses. Ek voel dit is my plig teenoor die leser , die gedig en die poësie, dat ek deurdag en met moeite die volmaaktheid soek. Amper intuïtief weet ek of ‘n gedig van my, nou werk… die volmaaktheid is ek jammer om te sê, ontwyk my tot dusver. My “amper volmaakte vers” sou huppel sonder om te struikel en hy verras met iets vars en tref ook met ‘n vuishou in die maag. WB Yeats se gedig the lake isle of innisfree (wat ek hier vir Afrikaans gesteel het) was altyd na aan my hart, ek laat dit aan u lesers oor om te oordeel of die of die oorspronklike naby aan die volmaaktheid kom en of ek geslaag het met my intuitiewe woordkeuses;

 

Skulpspruit innie Vrystaat

 

Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, gaan na die plaas innie Vrystaat

en daar vir my ‘n klein hartbeeshuisie bou met misvloer en populier

nege rye boontjies sal ek laat rank (organies) en ‘n hok vir die ganse hê

en ek sal alleen daar bly met net die ritsel van die rooigrasgeluid.

 

En ek sal rustig word daar en die sielevrede vind wat stadig neerdaal,

soos doudruppels pêrel oor jou aangesig in die smorensmis

en die nanag se glinstersterre en die maanlig purpergloed

en die vroeë skemer kalmte by die kuil, net naaldekokervlerke ghirts

en die geelvis rimpels maak.

 

Ek sal maar aanstaltes maak en gaan, want elke dag en nag

hoor ek die spruitstroompies kabbel oor die klippe,

hier waar ek staan langs die teerstrate en die betongrys

hoor ek dit hier in my hart se diepste binneste druis

 

Met apologie aan  (The lake isle of Innisfree, WB Yeats)

 

***

 

Corné Coetzee

 

Ek is ‘n gedienstige taalsub by Beeld en Rapport, waar ek bly is dat ek werk het en salaris kry, maar ek verlang terug na my vryskut-skryf-dae by tydskrifte. My lekkerste werk was as fliek- en teaterresensent. Ek kry wel soms kans om vir Beeld iets te resenseer. En nou het ek baie meer respek vir en deernis en geduld met dramaturge en akteurs.  Ek is getroud met Hans en ons het twee wonderskone dogters.

Vandat ek kan onthou, steek daar soms ‘n woord of ‘n frase in my kop vas en lê daar rond vir ‘n paar dae. Soos wat jy ‘n spoelklip in jou hand sal rondrol. As ek gelukkig is, kom daar iets van. Poësie het my eers op universiteit begin bekoor: dit was deels G.M. Hopkins se digte, (vir my) moeilike sonette, deels die Nederlanders soos Gorter en Kloos (o, die ondraaglike verlange in die hart van ‘n 18-jarige) en deels Karel Schoeman se vertalings Uit die Iers.  

Enkele van my gedigte is in tydskrifte soos Karapaks, New Contrast en My ousie is ‘n blom opgeneem. Sommige digters wat in die Nuwe Stemme-reeks edebuteer het, het bekende digters geword.  Ons sal sien wat met NS4 se digters gebeur. 

Ek lees nie alles nie, maar sommige van die werk wat ek wel sien, is fantasties en opwindend. Soos Loftus Marais, Jeanne Goosen, Fanie Olivier, Hans Pienaar, Johan Myburg en Charl-Pierre Naudé. Dit sou gaaf wees  as poësie meer gereeld meer aandag en ondersteuning kon kry. Soos byvoorbeeld Ruth Padel se “The Sunday Poem” wat ‘n paar jaar gelede gereeld in die London Sunday Independent verskyn het. Of gereelde voorlesings in die kerksaal. Of in mense se sitkamers.

Vir my is ‘n Sheila Cussons se “Christ of the burnt men” ‘n bykans perfekte vers.

 

Christ of the Burnt Men

 

Jy sal my ook al hoe meer wen, glimlaggende

skerts-oog blink-oog Christus wat my vervaarde jare

op jou afstand gadegeslaan het: jy het

jou hande nie tóé uitgesteek toe ek

jou sengende wonde aan my lyf ontvang het nie

maar fel jou kruis geteken oor my, in hand

en voet en romp en hoof, en deur die beswyming

onder druppende bloedplasma- en soutwatersakke

kom skyn voor my met net die trekking van ‘n glimlag

van uiterste pyn om die mondhoeke, jou oë

blink van ‘n verskriklike akkoord.

En ek begryp, jy het my geteken vir die avontuur

van jóú, ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was –

– O wat is die brand in brein en hart wat brandender brand

as die vlam aan die lyf en wat gaan gloei in klip en sand

onder my eenvoetig-springende begrip agter jou

ságsinnigheid aan?: Nee, iets heerlikers: as jy eindelik

omdraai met oë wit en stip en ver en skouers gemantel

met ‘n verwoede en stormende son: o my kosmiese Christus:

drie-en-dertig jaar verdoesel in die klein en donker vlees

wat jy in een nag oopgevlek het om jóú vir my te bevry

opdat ek jou raak sien, raak weet, raak het, en nog wag jy

dat ek moet sê, heeluit moet sê: grýp my hande dan,

amper sonder vingers vir jou: kundige timmerman.

 

© Sheila Cussons

 

***

 

Jan A.F. du Plessis

 

Jan du Plessis

Jan du Plessis

Jan A.F. du Plessis is ‘n 47-jarige losloper boeksmous (Boekerij by hAp – huis vir Afrikaanse poësie – in Capital Park, Pretoria). Hy het aan Tukkies studeer (fisika, wiskunde, tale, sielkunde en filosofie). Ook bekend as DJ Kamikaze wat jare lank by al die groot raves die chill room behartig het. Maak elektroniese musiek onder die name Bliss Abyss en Oto Kagami (Japannees vir klankspieël). Aan fliek verslaaf en dol oor reis (17 keer Londen en die hele Europa plat). Fanatiese versamelaar (oor die 16 meter se Afrikaanse digbundels en kan die 100 meter hardloop op sy meer as 300 voet se langspeelplate en meer boeke as wat mens in 3 leeftye sonder slaap sal kan lees).

Was sedert 1999 by oor die 100 Bekgeveg Poetry-slams betrokke (as klankman en DJ). Hy skryf gedigte omdat dit die kunsvorm is wat die meeste met die minste vermag en hou baie van vertaling (veral iets uitdagends soos Dylan Thomas). Wil graag die eerste digter word om op die maan voor te lees (ha-ha).

Ek was van kleins af gefassineer deur woorde en hulle mag om realiteit letterlik te skep en verander. Was altyd gespot: jy’s seker in ‘n biblioteek gebore. Dan het sekere onderwysers en lektore ook gelukkig op die regte tye en plekke my pad gekruis (dankie veral miss Mouton en Prof Stephen Finn). Het hoofsaaklik in Engels gedig na skool, maar op ‘n stadium (in ‘n ysige Londen) weer die vars, jong en vernuwende loslit plastisiteit van Afrikaans herontdek en daarin begin dig. Die voorlees-aande by Up the Creek en die Inklings diggroep op Tuks was ook baie inspirend. Dan, natuurlik, om met digters van die kaliber van Henning Pieterse, Louis Esterhuizen, Marlise Joubert en nog vele ander by die Bekgeveg Poetry-slams betrokke te wees was om werklik te sien hoe eet, slaap en leef ‘n mens digkuns.

Nuwe Stemme 4 is inderdaad my eerste mpublikasie, naas die paar gedigte in Inklings en ‘n stukkie poesie concrete in die eerste uitgawe van POMP-tydskrif.

Na my mening is die stand van Afrikaanse digkuns redelik kerngesond, al word algemeen aanvaar dat daar veels te min digbundels publiseer word (almal weet van die baie klein nis-mark – vra my, ‘n boekhandelaar – en nou boonop nog die afwaartse ekonomiese neiging). Vir my bly digkuns die lewensbloed en kroonjuwele van ‘n taal en moet dit gekoester word. Dis die kanarie in die mynskag en barometer en EKG-masjien van ‘n taal se welstand en vooruitsigte op voortbestaan.

‘n Gedig soos diė volgende een van Dannie Abse druk al my knoppies:

 

Elegy for Dylan Thomas

 

All down the valleys they are talking,

and in the community of the smoke-laden town.

Tomorrow, through bird-trailed skies, across labouring waves,

wrong-again Emily will come to the dandelion yard

and, with rum tourists, inspect his grave.

 

Death was his voluntary marriage,

and his poor silence sold to that rich and famous bride.

Beleaguered in that essential kiss he rode

the whiskey-meadows of her breath till, mortal, voiceless,

he gave up his nailed ghost and he died.

 

No more to celebrate

his disinherited innocence or your half-buried heart

drunk as a butterfly, or sober as black.

Now, one second from earth, not even for the sake

of love can his true energy come back.

 

So, cease your talking.

Too familiar you blaspheme his name and collected legends:

some tears fall soundlessly and aren’t the same

as those that drop with obituary explosions.

Suddenly, others who sing seem older and lame.

 

But far from the blind country op prose,

wherever his burst voice goes about you or through you,

look up in surprise, in a hurt public house

or in a rain-blown street, and see how

no fat ghost but a quotation cries.

 

Stranger, he is laid to rest

not in the nightingale dark nor in the canary light.

At the dear last, the yolk broke in his head,

blood of his soul’s egg in a splash of bright

voices and now he is dead.

 

December, 1953

 

© Dannie Abse

 

***

 

Sydda Essop

 

Sydda Essop

Sydda Essop

Gebore In Beaufort-Wes, skoolgegaan en toe Universiteit Kaapstad toe om in die kunste te gaan studeer. In die tagtiger jare, te Kaapstad betrokke met die “Wynberg Crisis”-organisasie , gedurende die stryd ,om bystand te lewer aan ouers en kinders wat betrokke was met “Public Violence”. Was ook betrokke met “Vakalisa” die eerste Multi-kulturele organisasie in die Kaap.  Raak betrokke in familie besigheid en raak toe voltyds gemeenskap aktivis in die Groot -Karoo en is ook betrokke by die Beaufort- Wes Museum beter bekend as die Chris Barnard-museum.

Ek het seker maar in die standerd nege (graad 11) wiskunde eksamen klas begin om gedigte te skryf. Toe kla ek maar op papier oor my sorge! Ja, natuurlik ook die feit dat ek “in die apartheidsjare ” groot geword het.  Dit het my baie gepla- in my stilte maar geskryf.of dit nou gedigte was weet ek nie!

Gedurende 1989 het van my gedigte ook verskyn in  ‘n digbundel “ I Qabane Labantu“, onder die redaksie van Ampie Coetzee en Hein Willemse; Poesie in die noodtoestand.

Dis wonderlik en bemagtigend om deel te wees van Nuwe Stemme 4. Die erkenning is wonderlik maar ek besef ook en is altyd bewus van die feit dat  jou reis deur die lewe gesaai is met ‘beskerm-engele”  wat saam met jou die pad stap en vir my is dit in die vorm van my mentor: Ronel de Goede (Foster) en die gemeenskap oor  wie ek skryf.

Die gedigte van  Louis Leipoldt ,Elisabeth Eybers, Adam Small het baie na aan my hart kom lê – Diana Ferrus en Gert Vlok Nel. (Ek verstaan van wat hulle  praat, dit maak sin) . Ek is ook baie lief vir die digters en skrywers van Noord-Afrika, Midde-Ooste en Indië. Maar die Afrikaanse digkuns soos dit tans nou  daaruit uitsien? Ek weet nie….

Sjoe, ‘n “volmaakte vers”?… vir my, as ek mag…. Ronel de Goede se gedig “Habie en Piesie” uit “Skoop”:

Habie en Piesie

 

Habie en Piesie het saam gelewe

Waar die Papegaaiberg pryk

En die dun naalde in die naglug swewe

As die wind die denne stryk.

 

Habie en Piesie het saam geswerwe

Waar die druiwe-dinkgoed bloei

En die sagte grafiet, deur die silikon verderwe

In die pm-tyd, nog groei.

 

Habie en Piesie het saam gesanik

In die aand teen die vollemaan:

Sluit ek my oë vannag, dan wens ek

Ek kan hulle taal verstaan.

 

Habie en Piesie het saam gesterwe

Waar die denneland hom nog strek.

Daar’s niks as die speletjie om oor te erwe,

En niks om daaruit te trek.

 

 

 

© Ronel de Goede

 

***

 

Francilié Hoek

 

Francilié Hoek

Francilié Hoek

Kind gewees in Van den Heever se Hoëveld en blink-oog student in Koos Dup se jakarandastad.  Die lewe in oordaad ontdek as bloedjong onderwyseressie in ‘n als-behalwe-grys London!  Deesdae is ek sielkundige by ‘n remediërende skool aan die Wes-Rand.  In my hart woel die passie om kinders te help om die tower in hul lewensstorie raak te kyk.  In my kop reis ek steeds na anderland (vanaf 14 Nov 2009 aan die sy van my droomman!).  In wese wil ek als met woorde mooier maak.

Miskien het my opgewondenheid oor poësie as Laerskoolkind ontstaan, met die ontdekking van Breyten se Ysterkoei-bundel in my pa se boekrak.  Al kon ek nie ‘n enkele sin verstaan nie, het die woorde vir my ‘n magiese bekoring ingehou en het ek dit skelm onder my bed weggesteek en laatnag gelees as almal slaap. Of dalk by die “dramatiese” aanhaling van ‘n Krog gedig in Sonkring!  Miskien voor al bogenoemde nog, met die andersheid van my naam.

Buiten gedigte in skooljaarblaaie, het ek van my gedigte verskyn in Vlieg (UP) en Inkvars van die BSV. Die opname van my gedigte in Nuwe Stemme 4, is egter die eerste regte-egtige boekpublikasie daarvan.

Vir my is Breyten se “Ek sal sterf en na my vader gaan” ‘n inspirerende vers.

 

Ek sal sterf en na my vader gaan

 

ek sal sterf en na my vader gaan

Wellington toe met lang bene

blink in die lig

waar die kamers swaar en donker is

waar sterre soos seemeeue sit op die nok

en engele vir wurms spit in die tuin,

ek sal sterf en met min bagasie

in die pad val

die Wellingtonse berge oor

tussen die bome en die skemer deur

en na my vader gaan;

 

die son sal in die aarde klop

die wind se branders laat die voeë kraak

ons hoor die huurders

skuurloop bo ons kop,

ons sal dambord speel op die agterstoep

– ouvader kul –

en oor die radio

luister na die nag se nuus

 

vriende, medesterwendes,

moenie huiwer nie; nou hang die lewe

nog soos vlees om ons lywe

maar die dood beskaam nie;

ons kom en ons gaan

is soos die water uit die kraan so

soos klanke uit die mond

soos ons kom en ons gaan:

ons béne sal die vryheid kén –

kom saam

in my sterf in in my na my vader gaan

Wellington toe waar die engele

met wurms vet sterre uit die hemel hengel;

laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:

mý vader het ‘n groot bôrdienghuis

 

(c) Breyten Breytenbach

 

***

 

Pieter Hugo

 

Pieter Hugo

Pieter Hugo

Ek is ‘n pastoriekind, ‘n bibliotekaris en nou, uiteindelik, net-net, ‘n gepubliseerde digter. Overgesetsynde dus, leef ek weens, vir en van die geskrewe woord. Dit doen ek tans in Kaapstad, maar vorige adresse sluit in Beaufort-Wes, Bonnievale, Worcester, Malawi, Stellenbosch (student), Windhoek (kind) en Greyton (baba). Ek het grootgeword met my pa se onophoudelike woordspel en oudgeword met my broer, Daniel, se vernuftige poësie. Eersgenoemde het my op skool al geinspireer tot tienergediggies. Laasgenoemde het my vir baie jare eers geinhibeer, maar gelukkig later, met sy aanmoediging, geinspireer.

Nuwe Stemme 4 is my eerste aansienlike publikasie (nie van omvang nie, maar van aansien). Ek voel geëerd. En hoopvol. Maar veral verlig. Die ys is nou gebreek.

Myns insiens is ons Afrikaanse digkuns tans baie fikser en leniger as in die oorgewig 70’s en 80’s toe dit te maklik was om gepubliseer te word. Dis ook uiteindelik lekker losbek losgat loslit na die post-apartheid 90’s se siellose euforie en polities korrekte depressie. (O, dis darem lekker om sulke sweeping statements te maak. Ek kan nie wag om te sien hoe dit uitmekaargetrek gaan word nie!)

Die “volmaakte vers” moet volgens my so veel as moontlik sê in so min as moontlik woorde, sonder om dit wat eintlik gesê word, pront-uit te sê.

‘n Perfekte voorbeeld van so ‘n “volmaakte vers” is ‘n triolet in Drs. P se boekie, Ons Knutselhoekje, (p.11.)

 

Een trage, lauwe regen

Een troebel ochtenduur

Een vreugdeloze zegen

Een trage, lauwe regen

De mannen stonden tegen

De veelbesproken muur

Een trage, lauwe regen

Een troebel ochtenduur

 

© Drs. P.

 

***

 

Willem Jansen

 

Willem Jansen

Willem Jansen

Ek haal die kort skets aan uit my profiel op LitNet:  Willem Jansen is ‘n 40-jarige professionele argitek wat hom onder andere ook besig hou met skryf en die teater. Sy “roots” is Noord-Kaaps, sy stam Oos-Kaaps, sy takke Wes-Kaaps en sy blare hopelik eendag orals. Twee van sy tekste is al opgevoer: Fuses & ander Connections (KKNK 1992) en Vrypas (KKNK 2005 en Grahamstad-fees 2006; benoem vir ‘n Kanna). Hy het al stelle ontwerp vir onder andere Liz Mills, Mark Fleishman en Heike Gehring. Hy woon tans in Boston, Bellville, met ‘n beautiful lover, twee honde (Blommie en Sausage) en ongeveer 34 visse. Hy is ontettend gelukkig dat hy die titel “Poet” uiteindelik agter sy naam kan plaas.

Ek kom van ‘n konserwatiewe dorpie af.  Die meeste boeke wat ek sou wou lees was nie beskikbaar nie. Die wat ek mog lees het my verveel tot die dood toe oor dit hulle duisende blaaie gevat het om niks te sê nie.  Ek het Lina Spies voorgelees in die Dopper kerk en ‘n doodse vrees gehad vir die antie in die biblioteek.  My enigeste troos was ‘n reeks groen boeke vervuil met mitologie en wetenskap. Ek wens ek kan onthou waar ek dit in die hande gekry het, maar Sewe dae by die Silbersteins beland toe in my skoot en ‘n eerste lig switch aan.  Toe lees ek Antjie se “Ma” en besef jy kan vyftig boeke opsom in  twintig reëls.  Nog ‘n lig.  En toe laat Breyten sommer die son opkom. Die eerste keer wat ek self ‘n poem geskryf het (wat nie onder skoolmenere se dwang moes uit nie) was op universiteit.  Ek was huilerig oor ‘n verlore liefde en kon geen ander manier kry om myself uit te druk nie: “vandag het ek jou nodig / net jou lippe / en ‘n blink in jou oë / en joú hande in my hare.” Poësie het my jare se kopdokter rekeninge gespaar…

Van my gedigte is saam met van my prosawerk opgevoer in ‘n produksie by die KKNK en die Grahamstown National Arts Festival as “Vrypas”, maar niks is nog gepubliseer nie (litnet uitgesluit).  Nuwe Stemme 4 is dus ‘n eerste vir my.  Ek het ‘n klomp van die Nuwe Stemmers van die Kaap persoonlik ontmoet en dink hulle almal (en hulle werk) is ongelooflik.  Die res se werk het ek onder oë gehad en is net so impressed.  By implikasie beteken dit dat my werk ook ten minste skaflik is.   Dis ‘n uiters bevredigende warm gevoel in die borskas en ‘n vlinderstuipe in die maag.

Ek geniet die ding van “gedigte-maak” nou weer.  Daar was ‘n rukkie wat dinge vir my of te slim of te “please tog net vir almal” was.  Ek het ‘n voorliefde vir die subversiewe of “die ander” kant van kuns en skryfwerk.  Die jong klomp (en ek sluit die rockers in) is besig om groot vernuwing te bring; en hulle is passievol daaroor! ‘n Nuwe heroiese periode. Dis baie exciting.

‘n “Volmaakte vers” het ek nie regtig in my kop nie.  Sommige verse mag tegnies perfek wees, maar ontroer nie juis nie. Ander roer my weer, al is hulle tegnies maar so-so.  Daar is vir my ongelooflike songs; Ne me Quitte Pas, La Chanson des Vieux Amants (beide Brel), gatskop poems; ek staan op ‘n moerse rots langs die see by Paternoster (Krog), Skisma (Goosen) en roerende stukke graffiti;  “Sometimes I feel so sick at the state of the world I can’t even finish my second apple pie” (Banksy). O, skielik onthou ek een:

 

‘n Geel transvestiet op hakke

swalk telkens berekend verby

haar boude lil geil in haar sjoebroek,

maar kan sy ‘n straight man verlei?

 

© Hennie Aucamp

 

***

Annie Klopper 

 

Annie Klopper

Ek het hoofsaaklik grootgeword op Merriespruit en Brackenfell – ‘n klein Vrystaatse myndorp en ‘n Kaapse voorstad, maar het ook al gewoon op onder meer Roodepoort, Riebeeckstad, Randfontein, Vredendal en Stellenbosch. My BA (Geesteswetenskappe) Honneurs en Meestersgraad in Afrikaanse Letterkunde behaal ek op Stellenbosch waarna ek na Kaapstad verhuis. Vandag is ek gevestig in Tamboerskloof van waar ek as redakteur werk vir Protea Boekhuis. Wanneer ek nie lees nie, skryf ek – meestal oor musiek. Op die oomblik is ek besig met die skryf van Fokofpolisiekar se biografie.

Ek kan nie onthou hoe dit gekom het dat ek begin dig het nie. Ek vermoed musiek en die Kleuterverseboek het ‘n groot rol gespeel. Ook tienerangs, myndorpe, voorstede en die Namakwaland.

NS4 is nie my eerste publikasies nie. Ek het gedebuteer in Versindaba 2008 en ook verse in Penseel (‘n bundel uitgegee deur die Universiteit van Stellenbosch) gepubliseer as student. ‘n Opname in Nuwe Stemme is vir enigiemand wat gedigte skryf sekerlik ‘n groot mylpaal. Dis veral lekker om toevallig saam met twee van my goeie vriende van wie se werk ek baie hou, opgeneem te word: Hunter Kennedy en Marius Swart.

Digkuns is iets waarvan die digter moet hou en as ander mense toevallig ook daarvan hou, is dit ‘n bonus. Ek hou nie daarvan as dit ‘n resies tot prestige raak nie. Ek háát dit as digters hulleself te ernstig opneem. Sulke gedrag maak my skaam om te sê ek skryf gedigte en belemmer die groei van die Afrikaanse poësie. Ek is opgewonde oor jong digters soos Loftus Marais, Marius Swart en Hunter Kennedy (sien: liriekskrywer-skuinsstreep-digter). Ek is ook besonder opgewonde oor die interessante Afrikaanse kletsrymtendens wat tans aan die opleef is. Daar is ‘n groei in Afrikaanse digkuns, dit kom net uit ander oorde as in die verlede – veral musiek.

As daar iets soos die volmaakte vers was, sou ek graag my kleim daarop wou afsteek, maar ek dink nie daar is so iets nie. Ek kan egter my gunstelingreël aanhaal. Dit kom uit ‘n Fokofpolisiekar-liedjie:

“daar is gif in jou kinders se kos / daar is tydbomme in gapings van opvoeding gelos”.

 

***                                                                                                           

Jannie Malan

 

Jannie Malan

Jannie Malan

Ek is in die Kaap gebore, maar het in die destydse Transvaal skool gegaan. In die geesteswetenskappe studeer en toe in uitgewerswese gespesialiseer. Ek het oor die jare onder andere gewerk as uitgewer, boekverkoper en grafiese kunstenaar. Tans, werksaam as konsultant, help ek met die skep van innoverende e-opleiding en die implimenteer van kennisbestuurstelsels. Ek is getroud en het twee pragtige, engelse dogtertjies, vir wie ek Afrikaans probeer leer; en soveel ek kan lees, skryf, skilder en kook ek. Musiek is ook ‘n passie, veral alternative en indie en sogenaamde Americana.

Ek was bevoorreg genoeg om ‘n ma te hê wie ons as kinders aangemoedig het om te lees. Toe ek dus aan my emosies en gedagtes uiting wou begin gee was skryf die voorhandliggende medium. Ek het op laerskool reeds twee boekies geskryf (dink Fritz Deelman met dierekarakters!) wat ek aan my skoolmaats teen vyf sent uitgeleen het. Deur die turbulente tiener-jare het skryf ook aan my ‘n uitlaat gegee. Ek het maar net altyd met hierdie ‘ding’ binne my gesit om op ‘n manier my leefwêreld op papier verstaanbaar te maak en ook om aan ander te kan sê: “hey, staan stil, dink tog net ‘n bietjie… there’s more to it“. Dit was veral die uitdaging van die gedig se ekonomie van woordgebruik wat my aangegryp het… om met so min as moontlik, soveel moontlik te suggereer. En dan weer aan die ontvangkant, die leser se (baie maal verassende) ontsluiting van die gedig. Hierdie, byna alchemistiese proses, fassineer my.

Alhoewel ek voorheen enkele gedigte aanlyn en in klein, onafhanklike bloemlesings gepubliseer het, is Nuwe Stemme 4 inderdaad my eerste ligit publikasie. Dit is ‘n hengse voorreg om deel van hierdie groep te wees. Die proses om tot by publikasie te kom was van onskatbare waarde, en ek kan net ‘n reuse “dankie” sê vir die twee samestellers, Ronel en Danie en vir Riana, by Tafelberg uitgewers. Dit is eindelik ‘n tasbare bevestiging dat ek tog darem iets beet het met my skryfwerk. Tog ervaar ek ook dat hierdie voorreg gepaard gaan met persoonlike verpligting. Vertroue is in jou geplaas… nou is die onus op jou om te woeker; om ‘n bydra te maak.

In Suid Afrika bly digkuns steeds die stiefkind van die literatuur. Tog voel dit vir my asof daar ‘n nuwe energie in die Afrikaanse digkuns is. Veral die pogings om Afrikaanse gedigte meer toeganklik te maak. Daar is digters met veel meer diverse agtergronde wat tot die gesprek toetree. Die  vertroebeling tussen die grense van verhaal, gedig, liriek en liedjie is ook ‘n baie interessante verskynsel. Die goeie, leesbare digkuns is daar, die probleem is steeds dat ons sit met ‘n leserspubliek wat onder die wanindruk verkeer dat gedigte slegs vir ‘n uitverkore groepie intellektuele individue beskore is. En selfs al word ‘n gedig hoe “toeganklik”; in ‘n wêreld van kits-gratifikasie en oppervlakkige massa-media gaan dit steeds moeiliker wees vir ‘n medium wat tog vra dat die leser op meer as net vlietende aard daarmee moet omgaan. Digters sal moet kyk na innoverende maniere om hul werk by die lesers te kry, miskien deur middel van tegnologie of onortodokse aanbiedingsmetodes.

As voorbeeld van ‘n bykans “perfekte” vers haal ek graag Loftus Marais se Still life with wild life uit sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters aan:

 

Still life with wild life

 

hier slaap almal. ook karen se man

wat vandag die gras gesny het.

maar karen is ‘n insomniac vanaand

in haar smaakvolle nagjassie voor die kassie:

een of ander david attenborough special.

bokkies word deur leeus verskeur.

sebras kopuleer.

‘n vlieg verdwyn in ‘n giftige blomkelk.

sy vat ‘n sluk warm melk, sit haar glas

op ‘n coaster, kyk verder.

buite in die stilte groei die gras

 

© Loftus Marais

 

***

 

Hennie Meyer

 

Hennie Meyer

Hennie Meyer

Ek het in 1989 gematrikuleer aan die Hoërskool die Wilgers.Ek is 38 jaar oud en woon my hele lewe nog in Pretoria. In 2007 was ek ‘n finalis van die Sasol Nuwe Handtekeninge Kompetisie. In 2008 het ek my eerste volwaardige uitstalling van my konkrete poësie, Winkel van Wanklanke, gehou by die Tina Skukan-gallery in Pretoria. In 2009 het ek ook ‘n uitstalling gehou by die Woordpoort in Pretoria. Ek neem ook deel aan die projek, Oor die einders van die bladsy, wat by vanjaar se Woordfees uitgestal gaan word. Van my verse het verskyn in die CD, Klikspringer, wat deur Dr. Ian Raper saamgestel is. Die afgelope drie jaar het ek gewerk by Unisa se administrasie. Ek is ongetroud. 

 Ek was nog op laerskool toe ek al begin het om gedigte te skryf. Verder was en is dit nog steeds ‘n ontdekking deur die lees en skryf van poësie en is dit vir my ‘n groot eer om gekeur te wees vir Nuwe Stemme 4.

Ten slotte moet ek erken dat ek nie op hoogte is ten opsigte van al die bundels wat verskyn nie. So; laat ek liewer nie ‘n uitspraak waag ten opsigte van die stand van die Afrikaanse digkuns nie. Vir my is onderstaande gedig van DJ Opperman wel ‘n voorbeeld van ‘n bykans perfekte vers:

 

Wildernis

 

Watter boom se bitter wortel

watter beentjie van die tortel

 

sal die hart teen bose gees

beskerm en van eensaamheid genees?

 

Sal die kranse en die wildepeer

tot sin en ewigheid besweer?

 

Met die jare word die kamer

daagliks onherbergsamer

 

en buite kom ‘n kilte

dieper uit die klip en stilte,

 

buite agter ‘n miershoop lê

die maer lyk van Eugène Marais

 

(c) DJ Opperman

 

***

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Heidi Papadopoulos-Pienaar

Ek is in Pretoria gebore, maar het grootgeword op Hoëveldse myndorpe en in Zoeloeland, alhoewel ek aan  die Pretoriase Hoërskool vir Kuns, Musiek, en Ballet gematrikuleer het. Tans hou ek skool saam met Poolse nonne en priesters by Mary Immaculate Nursery School; meestal vir kinders van Alexandrië. Werk vir die Internasionale Beweging vir verstandelik gestremdes, Faith and Light of Foi e Lumiere onder die Franse filosoof en professor in Morele Etiek, Jean Vanier, waarvan ek die Gautengse nuusblad behartig.

As skolier het ek die ATKV-Eerste Prys vir ” vryskryf” in Empangeni laerskool in standard vier gewen. Deur my ouers se belangstelling en liefde vir die Letterkunde was daar altyd ‘n goedtoegeruste “huisbiblioteek” vol klassieke werke van oor die hele wêreld.

Hierdie is egter nie my eerste publikasie nie; my gedigte word gereeld deur Die Woordgilde uitgegee. Het ook jare galede in die Poetry for Africa-reeks in Afrikaans en Engels gepubliseer. Van my gedigte was al voorgelees deur o.a. Petru Wessels, die bekende aktrise. ‘n Lid van die Woordgilde se seun in Londen het my toestemming gevra om my wengedig (laaste Woordgilde-kompetisie ) op die internet rond te stuur.

Die Afrikaanse digkuns het deur ‘n droë tydperk gegaan weens ‘n bloedskandelike “kliek van gevestigde en bevoorregte skywers wat nie hul plekkie in die son wou afgee nie.Volgens my Engelse vriende wat baie van Afrikaanse gedigte hou, is die “plat, platter,platste” taal juis geaffekteerd.Maar ek is veral verras oor die nuwe ekologiese temas wat deesdae in baie digters se werk voorkom. Dis ook of daar ‘n meer konserwatiewe streep onder die jongklomp is en meer godsdiesntige gedigte wat welkom is.

Die laaste strofe van Breyten Breytenbach se gedig “Met ‘n bossie bergblomme” vind ek besonder inspirerend.

Oeillets du poète :klein oë van die digter

en as jy lank genoeg daarin kan kyk

sal hulle nog dieper en vuriger blom, verryk

tot die vlerke waarmee jy óór skaduwees gaan vlieg

na die berge deur die venster

 

© Breyten Breytenbach (uit: Met ‘n bossie bergblomme“)

*** 

Bibi Slippers

 

Bibi Slippers

Bibi Slippers

Ek is in 1983 in Bloemfontein gebore en was as baba mal oor komkommers.  Terwyl my ma eendag ‘n komkommer staan en sny het, het ek so opgewonde geraak dat ek uit my babastoeltjie gespring het, en op my kop geval het.  Van toe af is my lewe baie opwindend.  Ek was op skool op Empangeni, en daarna het ek my Drama Lisensiaat voltooi en in Pretoria gaan studeer:  BA Beeldende Kuns en BA Tale.  Na my studies is ek vir 2 jaar oorsee, maar het vroeg in 2010 terug gekom SA toe om my MA graad in Kreatiewe Skryfkunde te doen aan die Universiteit van Stellenbosch.  My obsessies is hase, skape en gedigte.  En ek hou nogsteeds baie van komkommer.    

Ek vermoed dit in die bad was wat ek begin skryf het, toe ek baie baie klein was.  Ek het so water-proof boekie met die naam “Pikkie Pikkewyn” gehad, en ek het daai rymende verhaaltjie oor en oor vir myself “gelees”.  Later het ek in spraak-en-drama klasse op skool ‘n liefde vir Afrikaanse digkuns ontwikkel, en so voel-voel begin skryf.  Ongelukkig was Pikkie Pikkewyn die duidelikste invloed.  Ek het eers aan die Universiteit van Pretoria werklik ‘n passie vir die “kuns” in digkuns ontwikkel, maar ek is nogsteeds nie heeltemal ontslae van Pikkie nie.     

Van my gedigte is voorheen op Litnet en Itch gepubliseer, maar Nuwe Stemme is my eerste ink on paper publikasie, en dis opwindend want boeke ruik lekkerder as rekenaars.  Ek voel besonder bevoorreg om in die bundel opgeneem te word, omdat ek al jare lank ‘n fan is van Nuwe Stemme. Vandat ek die ander digters in Nuwe Stemme 4 se gedigte gelees het, voel ek ook klein, humbled en baie lucky.

Oor die stand van die Afrikaanse digkuns voel ek sommer baie opgewonde.

‘n Perfekte vers volgens my? Wel, ek gaan gulsig wees en sommer twee aanhaal. Die eerste is die laaste woorde van Alex, ‘n African Gray papegaai, wat met behulp van navorser Irene Pepperberg 100 woorde geleer het en heel goed kon kommunikeer.  Voor sy dood sê hy aan Pepperberg:  “You be good.  See you tomorrow.  I love you.”  

Die tweede is deur Michael Ondaatje.

 

The Cinnamon Peeler. 

 

If I were a cinnamon peeler

I would ride your bed

and leave the yellow bark dust

on your pillow.

 

Your breasts and shoulders would reek

you could never walk through markets

without the profession of my fingers

floating over you.  The blind would

stumble certain of whom they approached

though you might bathe 

under rain gutters, monsoon.

 

Here on the upper thigh

at this smooth pasture

neighbour to your hair

or the crease

that cuts your back.  This ankle.

You will be known among strangers

as the cinnamon peeler’s wife.

 

I could hardly glance at you

before marriage

never touch you

– your keen nosed mother, your rough brothers.

I buried my hands

in saffron, disguised them

over smoking tar,

helped the honey gatherers…

 

When we swam once 

I touched you in water

and our bodies remained free,

you could hold me and be blind of smell.

You climbed the bank and said

 

                             this is how you touch other women

the grass cutter’s wife, the lime burner’s daughter.

And you searched your arms 

for the missing perfume

                                   and knew

 

                        what good is it

to be the lime burner’s daughter

left with no trace

as if not spoken to in the act of love

as if wounded without the pleasure of a scar.

 

You touched

your belly to my hands

in the dry air and said

I am the cinnamon

peeler’s wife.  Smell me.

 

© Michael Ondaatje

 

***

 

Adél Steyn

 

Adél Steyn

Adél Steyn

Ek is op Vryburg gebore en het my kinderjare op klein dorpies in die Noord-Kaap en Noord-Weste deurgebring: Reivilo, Niekerkshoop, Griekwastad en toe Prieska, waar ek op hoërskool was. Daarna het ek op Stellenbosch studeer waar ek vir ‘n paar jaar as spraakterapeut gewerk het voordat ek voltyds ma geword het. Ons bly vanaf Januarie vanjaar op Harrismith in die pragtige Oos-Vrystaat, waar ek nou deeltyds vertaal- en redigeerwerk doen.

My liefde vir poësie het ek met my moedersmelk ingekry. Ma ma het baie vir my gesing en Afrikaanse gedigte voorgedra wat sy nog van haar skooldae kon onthou. Dit het my betower. Ek onthou goed hoe sy vir my liedweergawe van die aangrypende gedig “Amakeia” (deur A.G. Visser) gesing het, sodat dit my byna tot trane gedryf het!  As laatlamkind het ek baie wonderlike en verbeeldingryke alleenure gehad wat ek met boeke verwyl het. Ek het gediggies geskryf vandat ek kon skryf.

Nuwe Stemme 4 is die eerste publikasie van my gedigte in boekvorm. Daar verskyn ook ‘n gedig van my in Onse mense, ‘n boek met skilderye deur die Stellenbosse skilder Marié Stander, wat ook op vanjaar se Woordfees bekend gestel gaan word. Dat ek opgeneem is in Nuwe Stemme 4 is ‘n reuse eer en inspirasie om doelgerig aan ‘n eie bundel te werk.

Ek dink daar is tans in die Afrikaanse iets vir elke lesersmaak. Daar is heelwat nuwe bundels van goeie gehalte.  Maar dit bly ‘n moeilike vraag, omdat dit altyd moeilik is om kuns te beoordeel.

As voorbeeld van ‘n “perfekte vers” kan ek nie anders nie as om die eer te gee aan een van die boumeesters van die Afrikaanse poësie:

 

Die dans van die reën

 

O die dans van ons Suster!

Eers oor die bergtop loer sy skelm,

en haar oge is skaam;

en sy lag saggies.

En van ver af wink sy met die een hand;

haar armbande blink en haar krale skitter;

saggies roep sy.

Sy vertel die winde van die dans

en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.

 

Die grootwild jaag uit die vlakte,

hulle dam op die bulttop,

wyd rek hulle die neusgate

en hulle sluk die wind;

en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

 

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,

en hulle kruip nader en sing saggies:

“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

 

En haar krale skud,

en haar kopperringe blink in die wegraak van die son.

Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;

sy trap af van die hoogte;

sy sprei die vaal karos met altwee arms uit;

die asem van die wind raak weg.

O, die dans van ons Suster!

 

© Eugène N. Marais

 

***

 

Lou-Ann Stone

 

Lou-Ann Stone

Lou-Ann Stone

Ek het musiek op Stellenbosch studeer, toe my MA in Kreatiewe Skryfwerk by UCT (onder leiding van Joan Hambidge) behaal en nou werk ek as ‘n joernalis by sarie.com en gee klas by Stellenbosch Universiteit se jazz-program. Ek speel saxofoon vir ESP, ‘n plaaslike jazz-groep. Ons is besig om ons debuut-album op te neem (dit word in Junie vanjaar bekendgestel).

Jy vra na wanneer ek begin het met gedigte skryf? Wel, as ek die antwoord hierop geweet het, het ek waarskynlik nooit gedigte geskryf nie. Want dis ‘n onpeilbare, goddelike iets hier binne. En ja, Nuwe Stemme 4 is my eerste publikasie. Ek beskou dit as ‘n geleentheid vir groei.

Oor die Afrikaanse digkuns voel ek byna soos wat ek oor klassieke musiek-uitvoerings, museums en botaniese tuine voel – as meer mense maar net die waarde daarvan kon besef. Aan die anderkant is ek dankbaar dat talle digbundels nog die lig sien.

“Die gesegtelike dood” van Sheila Cussons is op die oomblik vir my ‘n voorbeeld van ‘n bykans “volmaakte vers”. Daar’s ander ook. Maar ek spandeer tans baie tyd met haar gedigte as deel van ‘n toonsetting-projek.  

 

Die geseglike dood

 

En toe die ou-ou transparante man

wat nie meer kon nie tingerig sê:

ek groet jou, liewe dood, dienskneg

ook soos ek, en as jy nie mag wag

om my te vat nie, staan dan net

uit die lig

en vat my sag –

het daardie holte meteens ‘n iets

‘n meer as iets in sigself ervaar

asof dit ‘n engel geword het wat sku

op sy hurke buite gaan sit het

in ‘n warm roerende voorjaarlug

soos in ‘n wolk van vlinders

verbluf oor sy eie aard

en magteloos van ontsag.

 

© Sheila Cussons (uit: Die skitterende wond, 1979: Tafelberg)

 

***

 

Marius Swart

 

Marius Swart

Marius Swart

Ek is ‘n kind van die Overberg wat op Bredasdorp gebore is en skoolgegaan het. Deesdae woon en werk ek op Stellenbosch. Ek is ‘n taalpraktisyn en dosent.

Wie weet waar my passie vir die digkuns ontstaan het … Eendag het ek gevoel daar is iets wat krap, toe skryf ek daaroor. Beskrywings van die skryfproses klink al almal soos clichés. Ek weet nie of ek sou sê my gevoel jeens die poësie is soseer ‘n passie as ‘n soort kinderlike verwondering en bewondering nie. Dit is so ‘n ongelooflik gekonsentreerde en presiese medium, met baie vakmanskap wat sit agter die skep van iets wat waarde dra.

Daar is van my gedigte in Penseel-bundels en ‘n bundel van die Versindaba opgeneem, asook een opdraggedig wat in ‘n boek met sketse staan wat by vanjaar se Woordfees bekend gestel word. Die gedigte in Nuwe stemme 4 is egter nuut en nog nie voorheen gepubliseer nie. Om in hierdie bundel opgeneem te word, is vir my eerstens ‘n klop op die skouer, want ek voel my erg geïmponeer deur die geselskap waarin ek by die werksessies gesit het. Toe ek die eerste keer ‘n Nuwe stemme-bundel gesien het, sou ek regtig nooit kon dink dat ek eendag daarin sou publiseer nie. Verder is dit ook ‘n aansporing om aan te hou met hierdie ding waarmee ons klomp besig is.

Ek dink die Afrikaanse digkuns tans is lewendig en opwindend, en dat die bestaan van hierdie soort projek, asook die gehalte van my mede-digters in NS4 se werk, ‘n sterk bewys daarvan is. Ek kan al klaar nie wag vir Nuwe stemme 5 nie! Daar is net ‘n moeilike balans wat ons myns insiens nog moet bereik, naamlik, om die poësie toeganklik en aanloklik te maak vir die breë leserspubliek, sonder om die gehalte of inhoud daarvan te moet verlaag of vervlak, soos wat die geval byvoorbeeld in sekere segmente van ons musiekbedryf is. Afrikaanse digters moet, na my mening, ons tradisie van hoë gehalte voortsit sonder om die digkuns snobisties te laat voorkom. Woorde soos “gehalte” en “goed” en “swak” is net skynbaar nie meer in die mode nie. Mense is tog so polities korrek. Dit is wel jammer. Ek dink ook daar word in baie gevalle te min poësie gelees, selfs deur ons digters self (en daaraan is ek natuurlik ook skuldig). ‘n Mens kan nie in ‘n tradisie skryf of dit vernuwe as jy dit nie goed ken nie.

As daar so iets soos ‘n “ideale vers” is, het Wislawa Szymborska dit waarskynlik geskryf. Sy maak ‘n ongenaakbare vers in veerligte taal. Dit is vir my na aan volmaaktheid.  Ek weet darem nie of een gedig volmaak kan wees nie, maar ek is erg oor gedigte soos haar “Cat in an empty apartment” en “Conversations with a stone” (wat ook in party vertalings “Conversations with a rock” heet). Een wat ook nogal by my vassteek, is die volgende:

 

Negative

 

Against a grayish sky

a grayer cloud

rimmed black by the sun.

 

On the left, that is, the right,

a white cherry branch with black blossoms.

 

Light shadows on your dark face.

You’d just taken a seat at the table

and put your hands, gone pray, upon it.

 

You look like a ghost

who’s trying to summon up the living.

 

(And since I still number among them,

I should appear to him and tap:

good night, that is, good morning,

farewell, that is, hello.

 

And not grudge questions to any of his answers

concerning life,

that storm before the calm).

 

(c) Wislawa Szymborska

 

***

 

André Trantraal

 

André Trantraal

André Trantraal

Ek woon tans in Bishop Lavis Township maar ek het in Mitchell’s Plain Township grootgeword. Ek weet, ‘n township is ‘n township is ‘n township.You don’t have to tell me. Dit is ‘n little known fact, maar die lug in townships is ongelooflik vars. Kom probeer dit gerus wanneer jy die kans kry. Dis soos Seepunt. Wat kan ek sê oor myself sonder om my privaatheid te skend? Dit is natuurlik hoekom so baie mense skryf, oor hul privaatheid so belangrik vir hulle is … Ek hou van sokker. En dokumentere programme oor insekte. En goeie en slegte comics. En unintentional comedy, nie so seldsaam s

Nuwe stemme word bekend gemaak

Monday, September 7th, 2009
Tafelberg Uitgewers

Tafelberg Uitgewers

Een van die opwindendste projekte in ons digkuns is sekerlik Tafelberg se Nuwe Stemme-reeks waarmee publikasie-geleentheid gebied word aan jong digters wat nog nie genoeg kwaliteitgedigte het vir ’n eie, selfstandige debuut nie. En vandag kan ons die jong stemme wie se verse moontlik in Nuwe Stemme 4 opgeneem gaan word, bekend maak. In alfabetiese volgorde is hulle Fourie Botha (Kaapstad), Lewies Botha (Beacon Bay), Corné Coetzee (Johannesburg), Jan A.F. du Plessis (Pretoria), Marike Groenewald (Kaapstad), Francilié Hoek (Bryanston), Pieter Hugo (Beaufort-Wes), Willem Jansen (Bellville), Hunter Kennedy (Brackenfell), Annie Klopper (Brackenfell), Hennie Meyer (Pretoria), Heidi Papadopoulos-Pienaar (Johannesburg), Bibi Slippers (New Zealand), Adél Steyn (Stellenbosch), Lou-Ann Stone (Kaapstad), Marius Swart (Stellenbosch), André Trantraal (Matroosfontein), Karlien van der Merwe (Pretoria), Niel van Deventer (Ifafi) en Lize Viljoen (Suid-Korea). Danie Marais en Ronel de Goede (Foster) is die samestellers van dié nuwe bloemlesing. Volgens die inligtingstuk wat ns onvang het, sal hierdie twintigtal nou na slypskole genooi word waarna die finale keuse vir opname deur die samestellers gemaak sal word.

Nuwe Stemme 1 het reeds in 1997 verskyn onder redakteurskap van Anastasia de Vries en George Weideman. Elf aspirant digters se verse was daarin opgeneem. In 2001 is dit opgevolg met Nuwe Stemme 2, met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers. Dié bloemlesing het inderdaad ’n besonder indrukwekkende trefrekord, aangesien die volgende digters uit ‘n groep van sestien sedertdien met ’n eie bundel vorendag kon kom: Sarina Dönges, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Hans Pienaar, Ilse van Staden en Jelleke Wierenga. Van Johannes Prins word daar binnekort ’n bundel verwag en van Melt Myburgh vroeg volgende jaar. Ook Toast Coetzer, Petrus de Kock, George A. Hill, Neels Jackson, Tertius Kapp, Renée Marais en Yolandi Woest is nog aktief betrokke by die digkuns; ‘n eie, volwaardige bundel uit hul geledere is dus nie té onwaarskynlik nie.

Nuwe Stemme 3 het in 2005 verskyn, met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers. Nie minder nie as 20 digters se verse is hierin opgeneem, met die volgende debutante wat reeds na vore gebring is: Ronelda S Kamfer, Danie Marais, Loftus Marais en Jasper van Zyl (binnekort).  Van die reaksie in die media rakende Nuwe Stemme 3 was soos volg:  “Dit is duidelik dat hierdie digters wil wegbreek van die tradisie … [h]ier is pragtige verse opgeneem.” (Joan Hambidge, Volksblad); “… van die beste digters in dié bundel skryf met soveel sofistikasie dat ‘n mens verbaas is dat hulle nog nie vantevore die kans gegun is om te debuteer nie.” (Andries Visagie, Beeld) en “… hier is werklik talent.” (George Weideman, Taalgenoot).

Ten slotte – ons is baie jammer om bekend te moet maak dat Johann de Lange hom as blogger aan die webblad onttrek. Sy bydraes was altyd van ‘n hoë gehalte en sy teenwoordigheid sal beslis gemis word. Hopelik sal Johann darem nog sy weg oopsien om op ander maniere tot die webblad by te dra. 

Ons sal so spoedig moontlik Johann se opvolger bekend maak.

Mooi bly.

LE