Posts Tagged ‘literêre kritiek’

Gedagtes rondom ‘n resensiekultuur van critique

Thursday, April 29th, 2010

Dis interessant hoe dissiplines meer van hulself kan leer deur na ander dissiplines te kyk, en sodoende ‘n buiteoog te kan werp op die self se wêreld.

‘n Dissipline waarvan ek nie veel weet nie, is sake. Maar nou die dag het ek iets geleer oor die letterkunde deur na ‘n besigheidspersoon te luister. Die persoon had die volgende te sê: “Dikwels doen mense in besigheid iets opsetlik nie reg nie, sodat hulle dit kan regstel.”

“Regtig?” vra ek, ietwat verbaas.

“Ja, dit registreer dan as veel meer positief as wat die geval sou gewees het as dit in die eerste plek reg gedoen was. Dis eintlik ‘n aanvaarde praktyk … Perfeksie beteken niks as dit nie gemeet kan word nie.”

Wel, wel, wel. ‘n Insiggewende sin daardie: Perfeksie beteken niks as dit nie gemeet kan word nie.

En dit het my toe laat dink aan boeke en resensies. Is dit beter vir ‘n resensent om ‘n boek of digbundel se vermeende sterkpunte op te noem (te sê), of om dit eerder te wys - aan te toon, ‘n snuifie te gee van hoe daardie sterkpunte binne die boek- of bundelverband, binne die netwerk van die teks se verbande, funksioneer? Ek stem vir die tweede: Wys, moenie sê nie, lui die kitsreël. Dit is nie net waar van boeke skryf nie, maar ook van die skryf oor boeke (resensies).

Daar is verskeie maniere waarop ‘n resensent kan “wys” waaroor ‘n boek gaan eerder as om te sê, en as dit suksesvol gedoen word, is dit gewoonlik ‘n voorbeeld van critique. Daar is verskeie redes waarom critique-beoefening ‘n belangrike onderdeel van ‘n letterkundige dampkring behoort te wees. Dis veel belangriker as blote kritiek (positief sowel as negatief), in Engels genoem criticism.

Maar eers iets oor die manier waarop critique kan plaasvind. Een van die wyses waarop critique sigself voltrek is om dit wat “verkeerd” is (na die mening van die resensent) of die vermeende swakpunte aan te toon. Dit is nie om opsetlik fout met die boek of bundel te vind nie, maar meer om dit wat wel goed is, by wyse van teenstelling uit te lig. Sodoende verkry jy ‘n “patroon” van vermeende negatiewe en positiewe punte waarin die resensieleser die positiewe punte veel meer driedimensioneel kan voorstel - soos wat dit in die werk voorkom; en ook herinner kan word van die breër gesprek waaruit sulke punte hul betekenis put.

Critique het te doen met die problematisering van die teks deur middel van kontra-insette. Problematisering werk met die idee van skering en inslag: deur middel van kontrapunte sit jy die kritiese leser aan die dink oor die teks en of dit slaag in terme van sy eie doel. Natuurlik behoort die kontra-insette geloofwaardig en gemotiveerd te wees in terme van die teks.

Trouens, wat kontra-insette ook doen, is om die leser ook te laat nadink oor die waarde en toepasbaarheid van die maatstawwe self. Critique word juis hierin van ander vorme van kritiek onderskei: Dis ‘n tweerigtingvorm van kritiek wat sigself, nie net die teks nie, gelyktydig onder die loep plaas.

Critique is baie duidelik te onderskei van die begrip “kritiek”. Omdat dieselfde woord (”kritiek”) in Afrikaans, soos in Engels, dikwels gebruik word om beide begrippe aan te dui, word die betekenis en aard van critique gekompromitteer. Maar dis critique wat jy meestal lees in New York Times Book Review, dis critique wat jy meestal in die Times Literary Supplement lees. Dis critique wat die hoogste standaard van resensering in toonaangewende literêre tydskrifte verteenwoordig.

En dis critique wat nog te min in ons eie resensering te lande te bespeur is, en dikwels ondermyn word, en veral misverstaan word (ondanks verblydende tekens van die teendeel).

Critique het twee voorvereistes: die doelbewuste strewe daarna, en ‘n leserskorps wat daardie strewe begryp. As jy die eerste het sonder die tweede, gaan critique verlore wees. Die Suid-Afrikaanse resensiegehore verstaan nie critique nie. En as critique misgelees word, word dit gewoonlik as kritiek verstaan. Natuurlik kan critique ook kritiek impliseer, maar nie alle kritiek is critique nie.

Critique het bepaalde eienskappe. Dis “onderskeidend”. Dit werk met die naasliggende begrippe “geldigheid”, “omgrensing” (limiete), “besinning”, “ondersoek”, “motivering”, en veral “sistematies”.

Om onderskeidend te werk te gaan impliseer om waardes teenoor mekaar op te stel en te vergelyk. Op sy beurt impliseer dit ondersoek en besinning. Die limiete (grense) van ‘n bepaalde geldigheid is ook belangrik. Alle geldighede het grense. Dit beteken dat waardes in die letterkunde nie grensloos toepasbaar is nie. As jy verby ‘n bepaalde waarde se geldigheid beweeg het, gewoonlik omdat die teks dit noodsaak, word geldigheid aan ander waardes afgestaan.

Vir critique is geldigheid eerder as “korrektheid” of die “regte” of die “ware” van belang. Die uitvloeisel hiervan is dat critique nie dogmaties is nie. En as dit ‘n gevolgtrekking maak, dan gooi dit tegelykertyd “skaduwees” van alternatiewe gevolgtrekkings. Daar sit, met ander woorde, ‘n geur van tentatiwiteit in, wat bedoel is om die kritiese leser aan die dink te sit. Tentawiteit beteken helaas nié om ongefokus óf dubbelsinnig te resenseer nie. Die strengheid wat deur critique vereis word, skakel dubbelsinnigheid uit.

Verder is critique altyd in die vorm van ‘n argument en bespiegelend van aard. Dogmatiese resensies argumenteer nie, dit maak stellings, het dikwels ‘n vooropgestelde rangorde wat dit wil bevredig, werk met ‘n vasgestelde verwysingsveld, verwys na hiërargiese begrippe soos “die kanon” op onkritiese wyse, is dikwels reduksionisties of vereenvoudigend, en is meestal nie ontledend nie maar beskrywend, of kwasi-ontledend.

Maar ja, nie alle critique is noodwendig die beste critique nie. En resensies bevat soms trekke van beide ‘n dogmatiese benadering sowel as critique.

Ek glo daar moet wegbeweeg word van die beskrywende kritiek wat dikwels resensies kenmerk, in die rigting van critique. (So iets is egter slegs moontlik as die beskrywende kritiek reeds goed gevestig is, wat by ons wel die geval is.)

Goeie beskrywende kritiek sal ‘n werk in literêre of droë (hoewel akkurate) akademiese terme beskryf; dis wesenlik ‘n studie van oppervlaktes wat selde uitkom by die geheimsinnige bedrading daaragter. Hoewel dit belangrik is dat skrywers van resensies terme grondiglik ken, is dit eers wanneer kritiek agter hierdie terme begin loer dat dit vir lesers interessant sal word, eers wanneer daar na die baie spesifieke senings en skakels van ‘n spesifieke werk gekyk word. Resensies moet dus op intuïtiewe vlak veel meer kreatief met die werk omgaan en minder steun op die gebruik van beskrywende terme. Laasgenoemde laat die fokus vasval in generiese aspekte, en die grootsheid en misterie van kuns lê juis in die spesifieke aard daarvan.

Critique is by uitstek toegerus om met die spesifieke aard van ‘n werk om te gaan.

Dit lyk egter soms of daar tans in die Afrikaanse akademiese kringe ‘n klein konserwatiewe drukgroep is wat pogings om weg te beweeg van beskrywende, dogmatiese kritiek as ‘n verval wil sien. Dis te verstane, in die lig van die feit dat hoër kultuurbedrywighede op die oomblik onder druk verkeer en inderdaad plek-plek verval in die gesig staar.

Maar waar geldige vrese oor verval bestaan, sal mens ook vind dat konserwatisme (dit wat iets ewe erg as verval naamlik stagnasie verteenwoordig), die kans sal probeer gryp om vooruitgang te fnuik.

Die ou beskrywende kritiek, wat op ‘n droë proses van toetsing aan vasgelegde generiese waardes steun pleks van op kreatiewe analise, is ‘n anachronisme in die postmoderne tyd - ‘n tyd waarin die spesifieke en afwykende aard van werke beklemtoning geniet.

Die resensie moet in sigself meer van ‘n kunswerk wees as ‘n beskrywing. Dogmatiese resensering is gewoon nie soepel of kreatief genoeg vir die vereistes van die eietydse literêre werk nie.

En die begrafnis wat wag is een wat ek beslis nie self sal bywoon nie. Daarvoor sal ek (met respek) te besig wees om dronk te word.

 

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd’” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Ietsie oor literêre kritiek

Thursday, September 17th, 2009
Twisgesprek

Twisgesprek

Ons residensiële resensent, Bernard Odendaal, het verlede week teruggekeer van sy oorsese reis en moes onmiddellik aan die werk spring. Met ‘n horde nuwe digbundels wat tydens sy afwesigheid verskyn het, is dit beslis géén geringe taak nie. Daarom is ons verheug dat hy sy eerste resensie oor Jelleke Wierenga se Bloot mens (Protea Boekhuis) reeds vroeër hierdie week kon geplaas het.

Onlangs het ek ‘n paar interessante stukke op die internet raakgelees betreffende die kwessie van literêre kritiek. Ten eerste was daar die kennisname van ‘n besonder unieke publikasie deur Yves T’Sjoen, een van ons nuwe bloggers. Dit is naamlik die boek Stem en tegenstem (Atlas, 2004) wat in wese negentien dubbelessays is in dialoogvorm tussen Yves en die digter wie se werk bespreek word. Intussen het ‘n webblad hieruit voortgevloei, naamlik DeRecensent waarin die digter (of skrywer) die geleentheid gebied word om op ‘n bepaalde resensie te reageer.

Waar daar onlangs nog hewige debatte in ons eie media gevoer is oor die kwessie van resensies en die unieke probleme (verdagmakings?) wat daarmee saamhang, wil ‘n mens tóg voel dat die elektroniese media in dié opsig die binnebaan het in vergeleke met die gedrukte media. Hoe kán ‘n mens immers binne die bestek van 600 woorde sinvol en indringend reageer op ‘n bepaalde teks; veral ‘n “digter” teks soos ‘n digbundel?! Voorts bied die internet die voordeel van reaksie en kontra-bespreking.

Daarom - raak betrokke en neem deel. Soos almal weldeeglik van bewus is, is die resensent ook maar net nóg ‘n leser van ‘n bepaalde teks; so ook die skrywer. Plaas dus ‘n kommentaar onder aan die resensie, of stuur ‘n e-pos na Brieweboks vir plasing.

Ter afsluiting kan jy gerus by The Quarterly Conversation gaan inloer waar daar tans ‘n baie interessante debat oor literêre kritiek gevoer word. Twee artikels wat beslis die moeite werd is, is die een hier en dan veral die antwoord hier. As lusmaker, die volgende aanhaling: These days, the debate over how to write about reading is a cold affair: a de-militarized zone. I avoid the terms literature and criticism here, and perhaps even debate is too hifalutin a word to describe what has amounted to a decades-long pissing match between creative writers and critics. The current steely silence is evidence only of empty bladders; the combatants have become preoccupied with internal skirmishes.”

Mmm, nou ja toe. Ter wille van fatsoenlikheid eerder die volgende aanhaling deur die redaksie van The Quarterly Conversation: ” … A good critic will (to draw on Nabokov) be a storyteller, a teacher, and an enchanter. The critic will tell us a story, the critic will educate us, and the critic will convey some of the enchantment of the reading experience. Thus with every word, sentence, and paragraph the good critic will remind us why we’re spending time discussing a book in the first place.”

En dááraan voldoen ons huis-resensent beslis … Lekker lees en onthou: neem deel aan die gesprek. In Desmond Painter, ons ánder nuutverworwe blogger, het ons ‘n ekspert in diskoersanalise wat immers agterna kan help om weer al die bottelstukke en verskeurde ego’s aan mekaar te sit.

Hê pret vandag.

Mooi bly.

LE