Posts Tagged ‘Loftus Marais gedigte’

Loftus Marais. Piet Pectoral

Wednesday, July 25th, 2018

Piet Pectoral

 

julie-nag, die hoëveld se lae temperature, maar:

in die gym bewerk die manne hulle vleis

met hefbome, katrolle – been en staal hier in balans –

voor die spieëls, en steunsug,

klank van liefderike selfseermaak: heuhhh!

weens die asems, sweet, ook ydelheid en lugversorging,

pak ’n lagie dampigheid die vensters toe:

blokke newelnag so langs die tricepknewels,

een het met sy vinger teen die glas ’n smiley face geteken

nou’s die stad se liggies sigbaar deur die drupgesiggie,

almal sien die wêreld binne trekke

nes die kurwes van dié primitiewe profile pic –

daai noue uitsig deur die self se meganiek.

 

© Loftus Marais. 2018

 

Loftus Marais. Mcebisi Jonas se das

Friday, March 18th, 2016

Mcebisi Jonas se das

 

heit hy lasso so die aanwysers wat digitaal bly flits en om

geboue krul? menéér, hy wikkel sy maroen das los

en lees. hy ignoreer maar respekteer die sauk-mikrofoon

as power septertjie van vrot party-gepolitiekery. 150 cm

is die mate tussen voorgee en jou werk bly doen,

in geel of groen of swart of ook maroen. hy hopwieg

ongemaklik lig en op die maat van senuwees. hy lees

in daardie stem die teendeel van die backroom bariton

die kickback kakpraat keelskoonmaak en mag se flou

gesmoorde brombromlag. wat van: hy sak die modieuse

galgtou van sy vroeër stilbly oor sy kop? sy saxonwold-

satynerige strop? hy praat net want die Ouman is nou swak?

of: trek sy mond skeef soos die krom knoop van sy das as

vasbeslote hierdie-bondel-sal-ons-deur-moet-hak? saggies

gly geskiedenis hier deur die bindsels van ’n informele

deftigheid, ’n mou oprol, ’n vas en los en tog ook vreemde

albatros, ’n ek is nou bereid.

 

© Loftus Marais / 2016

Loftus Marais. Shakespeare, sonnet #1

Saturday, October 18th, 2014

Shakespeare, sonnet #1

 

Lus is lus vir meer. Die roos wat ooptrek moet bly

ooptrek. Homself te kenne gee, weer en weer.

’n Bondeltjie heeltyd, tuiterig. ’n Ewige ta-daa!

Maar: Verlep is plain verlep. Ons soek ’n opvolger.

So luister nou, meneer, jy met jouself behep, wat oë

stadig toemaak, soos net ’n fokkenfrisverwaande

boerseun kan: Mooi wil mooier wees as net een man.

Maar jy hou dit ín in regop skouers, versamel vinnig

wrede one night stands nes koue ornamente. Posterboy

van hierdie nuwe rowwe lente. Jy bly jouself so knoop

in suinigheid. Jou mond. En jou ontspanne vuis.

Jou hele lyf, dit vra, o ja, vir nageslag, om iets ook so

aan tyd te kan bewys. ’n Iets wat jou uit pronkery

kan haal, jou oop en doerkant van die dood vertaal.

 

© Loftus Marais / 2014