Posts Tagged ‘Loftus Marais kry my by die gewone plek aguur’

Resensie: Kry my by die gewone plek aguur (Loftus Marais)

Sunday, August 26th, 2012

Ek’s hier vir die wêreld soos dit is:  “Kry my by die gewone plek aguur” – Loftus Marais (Tafelberg, 2012: ISBN: 9780624056461; R130.00, Sagteband, 96pp)

 Resensie deur  Marlies Taljard

omslag

omslag

Soos met sy vorige bundel, “staan in die algemeen nader aan vensters”, bestaan die titel van Loftus Marais se nuutste bundel ook uit ‘n opdrag: “Kry my by die gewone plek aguur”. Hierdie tipies onpoëtiese titel verskaf een van die eerste sleutels tot die onpretensieuse tipe poësie wat Marais skryf. Waarskynlik daarom ook die eenvoudige voorblad en die feit dat die bundel op baie goedkoop papier gedruk is. Die titel Kry my by die gewone plek aguur bevat drie woorde wat die aard van die nuwe bundel tipeer. Eerstens handel die gedigte in dié bundel oor gewone, alledaagse temas. Tweedens is plek en ruimte – spesifiek Kaapstad – belangrik in terme van verwysings én konseptualisering, en derdens speel tyd ‘n belangrike rol in die ordening van die bundel. Uit gedigtitels wat verwysings bevat na spesifieke tye, lyk dit asof die bundel op ‘n eerste vlak van betekenis die relaas is van ‘n tipiese dag in Kaapstad, beginnend met die gedig “‘n Begin”, dan volg “Oggend en jou lyf (twee oomblikke)”, “Dit is 6:00 en ek probeer dink” en “Oggendhoorder”; op p. 46 van die bundel vind ons “Twaalfuurkanon”, nog later “17:15” en “Halflig”, dan “Nagvatter”, “1:58”, “Stadsnag” en ten slotte “Bronx en vroegoggend”.

Soos die gedigtitels ‘n reis deur ‘n tipiese dag in Kaapstad suggereer, blyk dit ook algaande dat die reismotief een van die belangrikste temas in die bundel vorm. Oorgange en grense is belangrike merkers. Die bundel begin trouens met ‘n gedig waarin eksplisiet na oorgange en grense verwys word:

hoe om vroegoggend oor

oorgange te skryf?

 

die grafieterige tydjie voor dagbreek

wat nie verhelder nie, maar ontbloot

            iets persoonliks in die voorlig se wye gebaar

die werklikheid wil-wil bieg

 

deurkosyne en stopstraatlyne

geboue se donker kante

granietbloksypaadjierande

selfs die blinkgeverfde hekkies van skakelhuistuine

‘n eindelose versameling alledaagse grense

 

Omdat die eerste gedig in ‘n bundel ‘n baie sterk gemerkte plek is en meestal belangrike kodes vir die ontsluiting van die bundel bevat, sou ‘n mens dus uit bostaande strofes kon aflei dat die oorskryding van grense wat verskillende buurtes en plekke in die stad merk, op metaforiese vlak ook vir die digter geld wat beoog om die werklikheid [te] wil-wil bieg – ‘n tipiese liminale aktiwiteit. Ook elders in die bundel word konkrete grenslyne met selfondersoek en (self)openbaring verbind, soos in die gedig “Hysbak” met sy sikliese begin en einde: kyk af: dié strokie afgrond, dis ‘n grenslyn – ‘n grenslyn vir die oorsteek na die eintlike stadsruimte / kamers persoonlik openbaar / die geblikte sanktums van ons torings.

Verwysings na lyne en vorms as visuele grense wat dikwels ook ‘n dieper, metaforiese laag suggereer wat betrekking het op die digter en sy bestaan binne ‘n konkrete en/of abstrakte ruimte, kom inderdaad in byna elke gedig voor, soos in “Werk”, waaruit ek enkele strofes ter illustrasie aanhaal:

‘n padkaart van die middestad

kan double as grafiekpapier

 

en ek hier, in ‘n cubicle

luister na die skreeu-arias

van ‘n faksmasjien

 

ek sien: venster-uitsig:

die ene abstrak-oppervlak

 

selfs die berg is meetkundig, plat, korrek (…)

 

Ewigheid en oneindigheid, soos vergestalt deur die oneindigheidsteken op die voorplat van die bundel, vorm ‘n boeiende jukstaposisie ten opsigte van die temas van grense, begrensing en grensoorskryding wat die bundel kenmerk. Die gedig “Op ‘n sypaadjie” verwys direk na dié teken wanneer ‘n jong seun beskryf word wat sy skoene vasmaak: die lusse ‘n oneindigheids- / teken tussen vingers. In die laaste gedig, “Bronx & vroegoggend”, kom dié teken weer eens voor wanneer dit, veral saamgelees met die res van die bundel, ʼn Ars Poetica-metafoor word wat dit duidelik stel dat dit in Marais se poësie nié gaan oor die prewel van mitiese verwysings nie, want ek’s hier vir die wêreld soos dit is. Uit “Bronx & vroegoggend” spreek ʼn amperse minagting vir die ewigheid/oneindigheid – by Groenpunt sien die digter iets blink op die vloer en tel dit op:

dis ʼn oorbelstopper, ʼn klein silwer knop

ʼn möbiusstrokie?   ʼn agt?   ʼn oneindigheidsteken

as geskenkie? (…)

                                                ek gooi die stopper

oor die afgrond

van vannag

 

ʼn Verdere opvallende kenmerk ten opsigte van tematiek, is die digter se fassinasie met die Kaapse argitektuur, wat in talle gedigte veral deur middel van lyne, kurwes en vorms beskryf word. In “Oggendhoorder” word die stad self as ‘n lewende stuk argitektuur beskryf:

ek lê en luister (nog effe lam ná slaap)

hoe die argitektuur van die kaap

homself stem, opwarm

‘n madame wat sê “ahem?”

 

Die gedig “Ter verdediging van ‘n hoë kantoorgebou”, myns insiens een van die mees geslaagde gedigte in die bundel, is ‘n voorbeeld van die ineenvloei van verskillende diskoerse soos die argitektuur, die estetika, die sielkunde en die politiek, wanneer die digter oor die hoë kantoorblok skryf:

ek dink nou daaraan as ‘n dag

vasgehou en ook vorm gegee

deur dwarslatte en lig, monument

vir allerhande reëlmate,

en die kritiek van argitekte,

werkers, jong neomarxiste

wat stry oor die “fordist city”

in koffiewinkels, ag dis als

misplaas: daar is niks onmensliks

of hokagtigs hier voor my nie,

ons maak patrone uit ons dae,

dis hoe dinge is, en die blok

kerf uit ruimte ‘n ritme, kyk,

dit neem ‘n edel stelling in,

‘n beginsel wat die lyne

en die eentonigheid laat vlot:

prisma vir die son se verloop,

stadige metronoom van lig,

en: geen fout met roetine nie,

beaam die branders, getye

van die nabye oseaan.

 

Ook in ander gedigte word die ruimte van Kaapstad dikwels deur middel van geometriese vorme beskryf, soos in die ikoniese “Kloofstraat”. Die lyne en patrone van kragpale en oorhoofse elektriese kabels val in dié verband op – ek dink ook dat herhaalde verwysings daarna dui op energie, sowel in die sin van die geladenheid van die Kaapse ruimte wat in die bundel figureer, maar ook as verwysing na kreatiewe energie wat daaruit geput word, soos in die gedig “Kragpaaltoppe”.

 

Kreatiwiteit en die skryfambag is inderdaad die cantus firmus van die bundel – een van die sterkste bindingsmiddele wat in die bundel teenwoordig is. Soos reeds aangetoon, begin die bundel met ‘n gedig waarin die intensie van die skrywende ek uiteengesit word. Die digter wil-wil bieg, maar lê ook sy kaarte op die tafel deur sy bron van inspirasie te verklap: luister: harmoniseer die see, ‘n muezzin, die verkeer? // probeer nou oorgly in taal. Uiteenlopende impulse word in die bundel deurgaans in kontrapunt tot mekaar geplaas ten einde in die gedig en in taal sin en betekenis uit oënskynlike teenstrydighede te ontgin. Uit die eerste gedig spreek nog ‘n verdere intensie, naamlik om gedigte te skryf wat nie verhelder nie, maar ontbloot – ‘n voorneme wat dui op die onvermoë van taal enersyds, en andersyds impliseer dat die digter nie antwoorde wil gee nie, maar slegs bewus wil maak. By hierdie voorneme hou hy hom streng, want sien is in hierdie bundel baie meer prominent as besinning. ‘n Mens sou die bundel selfs met ‘n foto-verslag van Kaapstad kon vergelyk.

 

Een van die fassinerendste aspekte van die bundel is die Fabulisha de la Quellerie-figuur wat viermaal in die bundel opduik. As transvestiet is sy/hy ʼn ware drempelfiguur – ʼn liminale karakter. Haar naam, Fabulisha, kan verbind word met die fantastiese, die skeppende aspek van die kunstenaar wat eweneens dikwels as liminale handeling beskou word. Die van is waarskynlik geleen by Maria de la Quellerie, die vrou van Jan van Riebeeck. As karakter “uit die verlede” is “sy” dus ook liminaal van aard – ʼn tipe spook uit die verlede. Hierdie figuur verteenwoordig op die nie-konkrete vlak die vele grense en drumpels wat in die bundel as geheel figureer en lei die leser tot die lees van die bundel op ʼn dieper vlak van betekenis. Fabulisha se gedagtes vorm ʼn belangrike aspek van die bundel se diepgang. Dit fokus veral op tydsbelewenis (g’n tok van horlosies vir haar nie en: [sy] breek die minuutwyser af, gebruik dit / as haar cocktail / se mengstokkie), die ineenvloei van grense (buitekant wat skielik niks en alles is), die werklikheid as illusie/droom (ʼn gewel is nie ʼn gewel nie / nes meeste dinge / nie meeste dinge / is nie) en nie-kategoriese denke (nog altyd half mens, half droom / ʼn halfwegstasie (…) fort en tuin, top en bottom).

 

Wat in die bundel opval, is die digter se fyn waarnemings- en formuleringsvermoë. Metafore soos dan toet hy nog soos ‘n vals klarinetnoot (in “Oggendhoorder”) en die stad / is sag verpakte breekgoed (in “Stad in die mis”). Daar is egter ook ‘n hele aantal metafore wat myns insiens beter deurdag kon gewees het. [E]erste smeersels besoedeling / vibreer soos vermoedens is een so ‘n niksseggende frase, maar ook metafore soos ‘n bries soos ‘n rilling / deur my lyf is darem eens te voorspelbaar, terwyl sekere paaie, hulle’s anderste dinge alteveel na my eerstejaars se skryfwerk klink.

 

Ook wat poëtiese vormgewing betref, is daar dinge wat haper. Hoewel daar baie gedigte is wat getuig van sinvolle en poëties-verantwoorde vormgewing, lei die digter se verbete poging om poëtiese stylmiddele, taal en metaforiek te ondermyn soms tot ‘n baie onpoëtiese tipe vers. Die laagtepunt is “Die trekklavier”, wat inderdaad ‘n stuk prosa is wat deur verdeeltekens (/’e) in verse verdeel word. En hoewel ek begrip het vir die stelling wat die digter deur middel van sulke marginale poëtiese vorme wil maak, verloor die teks tog plek-plek sy inherent poëtiese aard. Ek illustreer dié bewering aan die hand van ‘n staaltjie wat oor die Russiese prima-ballerina, Anna Pavlova, vertel word. Een aand na ‘n besonder inspirerende vertoning sou iemand haar gevra het wat die dans nou eintlik beteken. Pavlova het geantwoord: “As ek dit in woorde kon sê, sou dit nie nodig gewees het om dit te dans nie.” Insgelyks: as ‘n gedig ewe goed in prosa sou werk – behoort ‘n mens ‘n gedig daaroor te skryf? Hiermee bepleit ek geensins die terugkeer na Middeleeuse poëtiese vorme nie, maar probeer ek eenvoudig sê dat die grense van ‘n genre net sóver verskuif kan word alvorens dit nie meer as, byvoorbeeld, poësie herken sal word en singewing nie meer kan geskied volgens die konvensies van die (poëtiese) genre waarbinne die kunstenaar dit aanbied nie.

 

Ten spyte hiervan is my belewenis van Loftus Marais se bundel “kry my by die gewone plek aguur” oorwegend positief. Hier is beslis ‘n digter aan die woord wat sy ambag ken en van wie ons in die toekoms nog veel behoort te hoor. Ek sluit my resensie af met die gedig “‘n Liefdesvers”, my gunsteling en beslis een van die beste gedigte in die bundel. Die gedig getuig van die digter se vaardigheid om verskillende balle gelyktydig in die lug te hou en ‘n afgeronde, bevredigende vers te skryf:

 

‘n Liefdesvers

uit net soveel bekommernis oor die wasmasjien

as uit nuuskierigheid én ‘n bietjie jaloesie

maak ek jou broeksakke leeg voor ek ingooi.

 

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime

al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig

soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

 

want liefde kom ook in sans serif

op vousels en strokies uit jou sakke.

‘n duideliker danigheid dié.

 

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08

lus vir ‘n fanta. jou banksaldo is min of meer

wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

 

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek

oor die grys kolle in sy kenstoppels?

hartstog in die detail: vat # 4820853876

 

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies

en a, ek vou dit oop, blomknoppe!

beminde, ek sal duisende origami-duiwe

 

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat

à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek

die dooie see se rolle ontdek.

 

afsendings en bewyse van jou

in ‘n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs

“credit authorised” betekenisvol.

 

liefde op dun papier, selfs hier

by die wankelrige ritme van ‘n wasmasjien

 

 

 

Onderhoud met Loftus Marais

Tuesday, August 14th, 2012

Loftus Marais

  Loftus Marais oor die moerige minnaar wat hom happy hou

Onderhoud met Melt Myburgh by die verskyning van Marais se tweede digbundel,

Kry my by die gewone plek aguur

Loftus, as ek my spriete uitsteek, registreer ek ʼn oorweldigende vibrasie van afwagting en opwinding oor die verskyning van jou tweede bundel, Kry my by die gewone plek aguur. Hoe hou jou senuwees dit – veral na die fenomenale sukses en rits bekronings van jou debuut?

Die senuwees pla tog soms. Maar ek hou my kop waar dit was met die skryf van die verse: dit het eintlik min met ander mense te make, dis tussen jou en ‘n vae verbeelde ideale leser – dis eintlik net ‘n gekompliseerde weergawe van by jouself sit en mompel. Natuurlik geniet mens die blou strikkies en die oo’s en aa’s, ek sal nie lieg nie, maar dis nooit hoekom jy pen op papier lê of voor die rekenaar gaan sit om te skryf nie.

Jou bundel spog weer met ʼn lang, ongewone titel, geneem uit jou gedig “Binnehuisversiering vir beginners”. Het dit toevallig so gebeur of bou jy voort op die “handelsmerk” wat gevestig is met Staan in die algemeen nader aan vensters?

Wanneer die woord “handelsmerk” naby aan die poësie verskyn, raak ek skrikkerig. Hulle is teenoorgesteldes. Ek vrek byvoorbeeld oor die manier waarop Michiel Botha, die bundel se omslagontwerper, die Tafelberg-handelsmerk en die strepieskode op die agterblad so half ongemaklik-terloops ingesluit het. Asof dit nie saam met die beeldskone uitleg kán werk nie. So nee, daar was nie ‘n bewuste besluit dat daar op ‘n sekere identiteit voortgebou word nie. Die titel is maar net ‘n frase wat meeste van die bundel se drade en vrae en suggesties en idees saambind. Iets soos die meer “tradisionele” eenwoordtitel, hoewel hulle in ander kontekste goed werk, sou vir my dalk té geslote en té selfbewus vir die inhoud gewees het.

In Staan in die algemeen nader posisioneer die rockstar-digter hom met sy “fokken lugdrukboor” baie pertinent binne die Afrikaanse literêre tradisie. In Kry my by die gewone plek neem die digter standpunt in teenoor die tradisie van Lorca (“Dis nie New York nie, maar …”). Voel jy tuis binne die gekanoniseerde Afrikaanse literêre sisteem? Steur jy jou aan die hekwagters en paspoortbeamptes wat kwaliteitskontrole doen?

Ha! In enige literêre sisteem is daar hekwagters soos Cerberusse, en paspoortbeamptes wat bribes vat, en kontroleurs wat sommer énige boek ‘n rubber stamp gee, maar in die Afrikaanse sisteem is ons darem ook geseën met werklike goeie lesers en kritiese denkers en ja, ek steur my dikwels aan húlle. Mens kan altyd nog meer oor die poësie leer. En wat posisionering betref: met die skryf van die nuwe bundel het ek belanggestel in wat dit nou juis is wat ‘n stedelike vers ‘n stedelike vers maak. Mens reageer op, en word ook geïnspireer deur, Afrikaanse stedelike verse (soos, vir my, die van Stockenström, Opperman, wanneer Blum oor die Kaap skryf), maar jy vind ook ander, wyer besinnings insiggewend, soos die tradisie van die Nederlandse stadsdigter, Lorca se Poet in New York, Walter Benjamin oor Baudelaire en Parys, en selfs Kirchner se skilderye oor Berlyn.

Die humor en selfironisering van die digterstem wat so sterk teenwoordig was in jou debuut, is ook weer treffend teenwoordig in Kry my by die gewone plek aguur. In ” ʼn Liefdesvers” betig die digter homself: “jirre, ek gaan tekere asof ek / die dooie see se rolle ontdek.” Vind jy dat humor help om perspektief te bring op kwellinge wat in die bundel aangespreek word? Stel die drag queen-persona Fabulisha de la Queillerie die digter in staat om dinge te sê wat andersins stemloos sou wees?

Ek vind dat die serieuse O!-O!-poësie soms met my weghol wanneer ek skryf. Humor help my om weer terug te keer na die ding wat ek eintlik bekyk, om die onderwerp in ‘n meer sobere lig te sien. En ja, ek dink die fopdosser is ook ‘n soort terroris. Fabulisha is vir my eintlik ‘n asprisse, ondergrawende figuur en dit was baie pret om haar/hom uit te dink.

Gedigte soos “Verkeerswaarneming”, “Vuil taal” en “Vertelling” registreer ʼn frustrasie met kwessies soos misdaad en rassisme in die hedendaagse Suid-Afrika. Dink jy ons samelewing gaan ooit “harmonieer” en watter bydrae kan digters en skrywers lewer om ʼn verandering te help maak? Of bly die digter alleen optekenaar van wat gebeur?

Ek is baie skepties oor die politieke mag van die literatuur. Veral in ons land. En ek voel die gedigte met ‘n effense “betrokke” lading in die bundel is eerder blote ervaringstukke as argumente. Mens kan natuurlik nie oor ‘n Suid-Afrikaanse stad, oor ons soort publieke ruimtes, probeer skryf sonder om die spanninge van klas en ras en misdaad en geweld in te bring nie. Ek wou ook met die bundel, in vorm en ook in inhoud, die gefokusde blik van die venster vervang met ‘n meer panoramiese uitsig. Die skeidings en oorgange tussen die intieme en die openbare – dáár lê die eindelose strekking van die stad.

Ek is baie nuuskierig oor jou werkwyse as digter. As ek kyk na die frekwensie waarmee “oggend” in die verse voorkom, lyk dit asof jy soggens pen op papier lê. Is dié waarneming akkuraat?

Net so. Soms wens ek ek is eerder een van daardie slapelose, gemartelde nagdigters, maar die waarheid is dat ek meestal in die oggend voel ek wil iets neerskryf. Daar word meer poëtiese verduidelikings vir die oggenddigter gegee (jy’s nog naby aan jou drome, of die vars dag wil juis dan waargeneem word…), maar ek dink dis eerder dalk ‘n oorblyfsel van my Protestantse grootwordwaardes: jy beter nou jou werk begin doen, boetie, die son is op.

Ek is ook nuuskierig oor hoe “Hawe” ontstaan het. Gee jy om om hieroor uit te brei sodat lesers insig kan kry oor hoe die kreatiewe proses by jou voltrek word?

“Hawe” is ‘n anderste ene. Toe ek gewerk het en dinge word te besig of wild, het ek altyd na die kafeteria op die 26ste vloer van die Naspers-gebou gegaan en afgekyk na die hawe. Dis ‘n vreemde plek. Dit voel asof jy onder die Kaap se rok inkyk. En ek het altyd gedink: wanneer ek tyd het en nie meer aanhoudend werk nie, dan gaan ek eendag die hééldag net rustig in die hawe rondstap en kyk wat daar aangaan en dan later daaroor skryf. Ek het dit toe ook gedoen. En nou vang ek myself dat ek opkyk na die Naspers-gebou en vreeslik verlang na die werk. Dis maar hoe dit is. Mens is nooit tevrede nie. En dis seker ook goed, want as mens heeltyd tevrede is, sal mens seker nooit skryf nie.

Jy het seker na musiek geluister toe “Trekklavier” geskryf is? Hoe het jy aan die struktuur van dié interessante vers gekom?

O ja. Dawerend. Ek wou graag hê die gedig moes op die bladsy oopsprei, soos die klank ook in die eerste reël beskryf word. Die skuinslyne waarmee ek die verse breek, laat my dink aan die latte of ribbes van die instrument. Dit het ook vir my ‘n unieke trekklavieragtige rukkerigheid aan die leesritme gegee.

Soos in jou debuut, is daar ʼn lys agterin Kry my by die gewone plek aguur waarin erkenning gegee word aan individue wat bydraes gelewer het. Hoeveel “vroeë” lesers het jy van jou verse en watter rol speel elkeen? Maak jy altyd aanpassings ná aanbevelings? Mis jy die insette en terugvoer wat jy gehad het in jou Kreatiewe Skryfkunde-kursus waaruit Staan in die algemeen nader aan vensters gebore is?

Die bundel is vir my ‘n reeks gedigte wat ‘n verloop wil weergee, so ek het dit eintlik eers as ‘n héél bundel vir drie vertrouelinge gegee om te lees. Mens verstel dan dinge. Daarna is dit as manuskrip uitgewers toe. Ek voel nogal sterk oor die bedankings. Dis nie noodwendig mense wat bydraes tot die gedigte self gelewer het nie, maar ook mense wat my op verskillende maniere ondersteun en aanvuur. Sonder hulle sou ek ‘n ander boek geskryf het. En wat ek die meeste van die Skryfkunde-kursus mis, is nie die kommentaar nie, maar eerder die atmosfeer van gevoelig en kreatief dink – die konstante stimulasie, die gesprekke en die leeswerk oor ‘n verskeidenheid onderwerpe. Dít lei, in my ervaring, veel meer gereeld na stewige gedigte as die nitty-gritty van insette en analise en punte en kommas.

Oorweeg jy dit om prosa of ʼn dramateks te skryf, of is die poësie jou enigste minnaar?

Mens wil nie “nee nooit!” sê nie, maar ek dink dis hoogs onwaarskynlik. Die poësie is ‘n moeilike, moerige minnaar, maar hy hou my happy.

  

Biografiese inligting : Loftus Marais is op 5 Maart 1982 in die Paarl gebore. Hy matrikuleer in 2000 aan die Hoër Jongenskool in die Paarl. In 2007 verwerf hy sy MA-graad in Kreatiewe Afrikaanse Skryfkunde cum laude aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy verse is al in Nuwe stemme 3, ‘My ousie is ‘n blom’, Tydskrif vir letterkunde en die nuwe Groot Verseboek gepubliseer. As vryskutjoernalis het hy al ‘n hele paar literatuur-artikels vir verskeie publikasies geskryf.
Sy debuutbundel, Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) het vyf literêre toekennings ontvang, onder meer die Eugène Marais-prys, UJ-debuutprys en die Ingrid Jonker-prys. Sy tweede digbundel, Kry my by die gewone plek aguur, verskyn by Tafelberg.