Posts Tagged ‘Loftus Marais’

Loftus Marais wen Ingrid Jonker Prys vir debuutbundel

Wednesday, October 21st, 2009

Redaksie Versindaba -

Vernuwing en ironie sonder sarkasme wen 2009 Ingrid Jonker Prys

[Persverklaring] 

Loftus Marais se digbundel Staan in die Algemeen Nader aan Vensters (Tafelberg, 2008) is vanjaar die wenner van die Ingrid Jonker-prys.

Loftus Marais

Loftus Marais

Marais se poësie word aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme. Een beoordelaar sien die spreker as ‘n  ”geïnspireerde flâneur” wat aan ‘n veronderstelde gespreksgenoot die absurde in die alledaagse uitwys. Dieselfde beoordelaar bestempel ook hierdie poësie as sterk intellektueel en vormvas, en as “heilige spot”. Nietemin, soos ‘n ander beoordelaar dit stel, is dit ‘n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte. Die bundel word ook aangeprys vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring. Die beoordelaars het ook daarop gewys hoe moeilik dit was om ‘n wenner te kies, en beskou Ronelda S. Kamfer se Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) as ‘n baie sterk naaswenner. Haar poësie, sê een van die beoordelaars, word gekenmerk deur belydenis, “maar dan ‘n belyding wat ‘n gat deur die bladsy brand.” Nog ‘n beoordelaar stel dit so: “‘n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taal-demografie praat deur haar in ‘n besondere sterk stem op ‘n manier soos nog nooit tevore nie.”

Die Ingrid Jonker-prys word elke jaar aan ‘n debuutbundel toegeken, alternatiewelik vir poësie in Afrikaans en Engels. Die prys sal op 28 November tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch aan Marais oorhandig word.

Trienke Laurie, Petra Müller and Charl-Pierre Naudé was die beoordelaars.

 ——————————————————————-

Renewal and irony without sarcasm wins 2009 Ingrid Jonker Prize

 

Loftus Marais’ Staan in die Algemeen Nader aan Vensters (Tafelberg, 2008) has won the Ingrid Jonker Prize for 2009. Marais’ poetry is praised for its sophistication and craft, as well as for the use of irony that steers clear of sarcasm. One of the adjudicators sees the lyrical speaker in these poems as an inspired flâneur who, in conversation with an interlocutor, points out the absurdities in what passes as everyday life. Sharply intellectual and formal, Marais’ work is characterized as radical, divine jest; and yet, as another adjudicator points out, the volume reaches out to everyman because of its readability. The volume is also praised for the renewal it brings to Afrikaans poetry.

Two of the adjudicators noted how difficult the judging process was, and Ronelda S. Kamfer’s Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) was judged a very close second. Her poetry, says one adjudicator, is marked by a confessional style that burns a hole in the page. Says another member of the panel: “A completely under-lit part of the Afrikaans linguistic demographic speaks through her in a particularly strong voice in a manner as never before.”

The Ingrid Jonker Prize is awarded for debut poetry collections and is awarded every year, alternatively for work in English and Afrikaans. The  prize will be presented to Marais on 28 November at this year’s Versindaba in Stellenbosch.

 The adjudicators were Trienke Laurie, Petra Müller and Charl-Pierre Naudé.

Loftus berig & dig oor Poetry Africa 2009

Monday, October 19th, 2009

Loftus Marais

 

Ek is een van die digters wat vanjaar by Poetry Africa opgetree het, Durban 5 - 11 Oktober. Daar was baie talentvolle skrywers (veral die talentvolle Indiese digter Anindita Sengupta) en elke aand se voorlesings so vol energie, mens het wonderlik en ook effe battered na die tyd gevoel. En hulle het dit goed bygewoon. Ek wonder of so iets soveel lawaai in Kaapstad sal veroorsaak?

 

Twee dinge het my egter bly pla. Een, ’n hoeveelheid gedigte wat propaganda of basies opgekapte politieke koerantrubrieke genoem kan word; gedigte wat so betrokke is dat hulle slagspreuke begin herhaal. Twee, een aand is daar vertalings van my gedigte geprojekteer terwyl ek gelees het. Ek het self hierdie vertalings gemaak. Vir my het dit gevoel na ’n ongemaklike horrible gedoente. Mens voel die gedigte is veel veel minder in ’n ander taal.

 

Tydens die fees het ek toe besluit dis tyd vir ’n eksperiment. Uit wraak: skryf die mees onbetrokke gedig denkbaar, en skryf hom in Engels as boetedoening vir jou crappy vertalings. Hier dan die uiteinde van die eksperiment, as ’n soort verslag van die fees.

 

 

Night Campus

Poetry Africa 2009

 

from howard college the city is a stretch of light

and a lighter type of buzzing below the crickets

and a palm tree’s crackle in the wind –

the campus gardens own their dark

in a crisscross of shadows and insects and damp –

this is it then, look: tonight, a city like crushed glass

scattered on a blackness I know nothing of

and the ocean keeping its rhythm and its facets

as if it’s showing off a filled-up emptiness

 

durban: a perspective lights, unblinking

a car revs somewhere, absurdly like a person

clearing his throat, the city on the verge of saying something?

perhaps landscape has nothing to share except

a hollow sort of gesture: it says “look,

things can happen here” – tonight it has no aphorisms

even including that line of cloud, a wave’s soft slicing

all these spaces have refined their noises

the restless detail of things staying put

 

a city, the darker green of plants, and a sotto sea:

make any big statement and the night will deny it

this view is the biggest, most beautiful lecture

in why to be quiet

 

Die gekouery met oop monde

Sunday, October 11th, 2009

Hier is my stuk in Rapport oor Oopmond by Aardklop. Lees ook Ronel Nel se bloginskrywing daaroor. En die artikel daaroor in Beeld, hier bo. ʼn Vorige klug wat ek geskryf het oor ʼn poësievoorlesing by Aardklop het tot ʼn bietjie van ʼn debat gelei – oor digters as popsterre of rocksterre. Daar is ook natuurlik Loftus Marais se gedig daaroor. Ek’s nuuskierig om te sien wat mense van hiérdie een gaan maak. Byt ons meer af as wat ons kan kou?

O ja, voor ek vergeet. Moet beslis nie Theunis Engelbrecht se heerlike artikel oor NuL en Thys Nywerheid misloop nie. ʼn Ruk gelede wou Antjie Krog weet hoekom Afrikaanse poësie nie die energie het wat rockmusiek het nie. Sedertdien, lyk dit my, het die energie in poësie vlamgevat, maar baie van die musiek het maar vervelig en beklemmend geraak (Ek verwys na lirieke, spesifiek). Dit lyk of daar weer iets gebeur!

Dis tyd om opgewonde te begin raak …

Wednesday, October 7th, 2009
Die program

Die program

Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.

Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.

Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.

Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.

‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.

Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.

***

En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie?  ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.

Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.

Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.

Mooi bly.

LE

Loftus, Lize en die sletterige trekklavier

Monday, October 5th, 2009

Dit het alles by Loftus Marais se gedig oor die trekklavier begin. Adriaan Brand, van Springbok Nude Girls-faam, wat gewoonlik sy trekklavier wurg as Loftus die gedig voorlees, kon dit nie maak nie. Dís hoe ons toe aan Lize Wiid dink, wat gewoonlik saam met die Radio Kalahari-orkes en Laurie Levin speel.

Rachelle Greeff het as Boeke-Rapport se redakteur ʼn poësieprogram vir Aardklop saamgestel. Dis nou al so half ʼn tradisie om die laaste Vrydagaand van die fees iets met gedigte en musiek by die Boeke-Oase te doen. Hierdie keer kon ek, Danie Marais, Johannes Prins (ook bekend as Jo Prins) en Loftus Marais op die ou end instem en die logistiek agtermekaar kry om gedigte voor te lees. Ek moes sommer ook as musikant double up. Die geleentheid is “Met woorde soos met manne” genoem.

Kyk, Lize Wiid laat vele manne se woorde soos ʼn kers met ʼn uitgebrande pit stotter. Nie net het sy ʼn fenomenale talent vir musiek nie, sy is beeldskoon, to say the least. (En enigiemand wat nou oor objektivering wil aangaan, kan gaan doppies blaas – vir watter een van die twee opsies hulle ook al sin het.)

Ons sit in die Gereformeerde Gemeente se tent, waar hulle kos en drank tydens die fees bedien. Rachelle gooi ‘n vinnige party met Lize en die vier manne om oor die geleentheid te gesels. Ek en Lize oefen van my songs wat ons wil opvoer, ek met my kitaar en sy met die trekklavier. Sy figure sommer vinnig uit wat ons moet doen. Selfs “Spoed”, ʼn rock song oor ʼn beduiwelde biker, word met die trekklavier opgespice.

Nietemin, Loftus is min of meer bestand teen die uitgebrande-pit-sindroom in Lize se teenwoordigheid en dis toe lekker om te hoor hoe die twee oor die gedig praat. Dis nogal lank, met verskillende luimveranderings.

“Wat wil jy hê moet ek doen?” wil Lize weet.

Loftus trek sy neus op ʼn plooi. “Van die dele is ernstig,” sê hy, “en ander dele is weer sletterig.”

Lize se wenkbroue lig so effentjies.

Loftus sit die gedig se teks voor haar neer en sy lees dit. Hulle gesels nog ʼn bietjie en dan stel Rachelle voor dat ons almal gaan rus. Sekere mense se rooi oë speel seker ‘n rol; ek het die vorige aand net ʼn uur geslaap weens ʼn verbete kuiersessie wat vele blikkies Red Bull behels het in die Snowflake, ʼn ou meelmeule wat as kuierplek en kunsgalery dien, en ʼn vroeë afspraak in Johannesburg waarvoor ek moes terug en toe kort voor sonsopkoms sonder vlerke iewers in Sebokeng en Orange Farm verdwaal het.

Vroeër die middag het ek ʼn disaster van ʼn optrede op ʼn oop verhoog op die “bult” gehad. Die “bult” is ʼn plat stuk grond naby die universiteit waar die meeste van die fees se minder kunstige doef-doef-doef en kou-kou-kou plaasvind. Ek kon slegs twee mense in ʼn redelike groot gehoor identifiseer wat ek nie heeltemal koud laat nie en het toe maar op hulle gekonsentreer. Ten spyte van dié twee se ondersteuning, het ek een song se akkoorde heeltemal vergeet en moes rooigesig in die middel ophou.

Dalk moes ek nie eers vieruur die oggend Johannesburg toe gery het nie.

Ten spyte van my slegte bui het “Met woorde soos met manne” toe heel goed uitgewerk. Danie, Loftus en Jo het wonderlike gedigte voorgelees – een van Danie se nuwe gedigte gaan oor swak gedigte. Hierdie gehoor was meer ontvanklik vir my ou liedjies en Lize se trekklavier het wondere vir die atmosfeer verrig. Ek het van die onderliggende humor gehou, veral toe Loftus met die titel van die geleentheid spot en uitwys dat hy die enigste een van ons vier is wat nie getroud is nie, twee wat boonop nog kinders ook het – hy as die token “mannin.”

Die hoogtepunt was egter toe die duet op die maat van Loftus se gedig oor die trekklavier. In die speelse dele speel Lize speels, in die gemaak ernstige dele speel sy dramaties, en toe Loftus die sletterige deel heel sletterig voorlees, speel sy ook heel gepas heel sletterig.

Dit was ʼn besige Aardklop. Ek het min tyd gekry om produksies by te woon of om kunsuitstallings te besigtig. Ek moes ʼn paar keer my kitaar instem en vir my supper sing, of by die Boeke-Oase met mense oor boeke gesels. Alles was nogal lekker, ten spyte van die gemors by die oop verhoog. Vir my was die hoogtepunt egter die twee poësiegeleenthede – “Met woorde soos met manne” en “Oopmond” (waaroor ek eerskomende Sondag in my Rapport-rubriek skryf). By laasgenoemde geleentheid was sowat seshonderd mense. En dít vir poësie.

Dis lekker as dinge soms net uitwerk. Dis lekker as jy daardie gevoel kry dat jy deel van iets moois was. En jý weet dit en álmal wat daar was weet dit en gaan sit sommer na die tyd om ʼn groot tafel en drink die Doppergemeente se wyn in hulle tent en hulle gee nie eers om dat Loftus ʼn fire resistant cat suit het vir die oordeelsdag nie, ook Steve Hofmeyr, wat onder ʼn pet agter een van die boekrakke geluister het en ek na die tyd kon onthou dat daar ʼn man met ʼn pet aan tafel was maar nooit eers herken het nie.

Súlke oomblikke besweer soms al daardie voorbehoude wat maak dat jy alles op ʼn ironiese afstand moet bejeën en kan jy onbeskaamd aan ʼn glas wyn uit ʼn bottel met die etiket van ʼn Doppergemeente slurp en voel dís hoe dit perdalks moet wees.

Woorde en manne en sulke goed

Tuesday, September 29th, 2009

Kyk net hoe lyk hulle in swart!

Mense wat by Aardklop is, kan gerus Vrydag om 18:00 ʼn draai kom maak by die Rapport Boeke-Oase. Rachelle Greeff het ʼn program met Danie Marais (saam met haar in die foto hier bo), Loftus Marais, Johannes Prins en ek saamgestel. Die vier van ons gaan van ons ouer en nuwer gedigte voorlees. Ek en Lize Wiid gaan ook ʼn bietjie musiek maak om mense ʼn blaaskans te gee.

Die program se naam is “Met woorde soos met manne.” Ek weet nie heeltemal wat om daarvan te maak nie. Ek wonder wat dink Antjie Krog hiervan. Ek vermoed Rachelle wil iets oor manlikheid sê en ons gaan met hierdie doel voor oë ingespan word. Ek hoop daar word nie met swepe geklap nie.

Die sweep het geklap en die wawiele draai…

Of hoe gaan daardie ander gedig nou weer?

Ek hou van ‘n man wat sy man kan staan
wat sy drank kan vat en wat sy vrou kan slaan.

Nee, die oorspronklike weergawe het seker ietwat anders geklink. Dan is daar die een oor geld en geweld. Die volgende is een van my eie, meer onlangse pogings.

RENT-A-HUSBAND

ʼn Yskas het ʼn kompressor
en ʼn oond ʼn element.
Een kondenseer en verdamp,
die ander bied weerstand.

Vleis kan ek vries
en dit dan weer braai
deur meters te lees
en knoppies te draai.

Hoe om dinge af te koel of op te warm
weet ek dus goed,
maar helaas, my lief, as dáái goed breek
you’re on your own.

Sien julle Vrydag by Rapport Boeke-Oase. Vir meer oor die program, gaan kuier hier.

Vergeetagtigheid of vergeetlike boeke?

Friday, September 18th, 2009
Katie Price (Jordan)

Katie Price (Jordan)

Onlangs het die Britse hotelgroep Travelodge hul statistiek ten opsigte van “agtergelate boeke” boeke bekend gemaak. Hiervolgens word rekord gehou van die boeke wat gaste liewerster in hul kamers “vergeet” as om die verder op hul lewensreis saam te piekel. Interessant genoeg was die boek wat loshande die meeste agtergelaat word in die hotelgroep se 7,200 kamers die model en gepaardgaande “glanspersoonlikheid” Katie Price (Jordan) se outobiografie, Pushed to the limit. Die boek in die tweede plek is ietwat van ‘n verrassing: Barack Obama se Dreams from my father. In ‘n stewige derde plek volg die komiese aktrise Dawn French, se Dear Fatty.

Nog interessante titels op dié lys van agtergeblewenes is John Grisham se The Appeal (sewende) en J. Randy Taraborrelli se boek The Magic and the Madness by Michael Jackson (negende). (Lees gerus The Telegraph se berig hieroor.)

Godedank, darem géén digbundel nie … Of is die prys van digbundels deesdae gewoon te duur?!

***

Twee interessante toevoegings tot die webblad vanoggend is Mathews Phosa se toespraak wat hy Maandagaand tydens die bekendstelling van Deur die oog van ‘n naald by Hidden Valley buite Stellenbosch gelewer het, asook Louise Viljoen se toespraak tydens die bekendstelling van Breyten Breytenbach se nuutste bundel, Oorblyfsel / Voice over, Woensdagaand by die Breytenbach-sentrum op Wellington. En maak seker dat jy ook Andries Bezuidenhout en Desmond Painter se nuwe blogs raaklees; veral die kommentaar wat Andries onderaan sy blog geplaas het, verdien aandag. Om nie eens van Yves T’Sjoen se insiggewende stuk oor Hugo Claus en vertaling te praat nie …

Lekker lees aan alles en onthou tog om jou boeke in te pak waar jy ook al hierdie naweek mag oornag. Vir jou sardoniese plesier volg Loftus Marais se Gedig vir my Seamus Heaney New Selected poems 1966-1987 hier onder. (Gelukkig het dié boek darem nie vergete iewers agtergebly nie …)

Nuuswekker hervat weer Maandag.

Mooi bly.

LE

Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987

 

potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk

katoliek te wees, ‘n koffievlek

‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk

‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 -

o, dis poësie dié

die ganse wêreld is tweedehands te koop

 

die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)

is geplooi en daar val sand

uit die blaaie as ek skud

(god, van watter tuin of park of strand?)

kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf

soos swart stukkies turf

 

die boek in my hand sê woorde is restant -

die swart skeletjies van dooie idees

geperste memento’s van die eerstehandse dinge

 

meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse

selfs vol subtiliteit en melodie

kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie

 

ons kan jou plekname darem hoor

die wind in “Aarhus” en “Anahorish”

en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap

 

maar luister: die wêreld bars

uit alle metrum uit

‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom

meneer Heaney, voel:

selfs dié papier was eens ‘n boom

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters (2008: Tafelberg Uitgewers)

Johann Lodewyk Marais. ‘n Leerskool vir skrywers

Tuesday, September 1st, 2009

I

Die digter W.H. Auden (1907–1973), wat as professor in poësie aan die Universiteit van Oxford die opdrag gehad het om opleiding in skeppende skryfwerk aan te bied, het by geleentheid ‘n leerplan voorgestel vir die aspirantdigters aan sy “Daydream College for Bards” (oftewel sy ideale Leerskool vir Digters): Die leerplan het iets oorgedra van die geskakeerdheid wat met opleiding in skeppende skryfwerk gepaard kan gaan:

1)         In addition to English, at least one ancient language, probably Greek or Hebrew, and two modern languages would be required.

2)         Thousands of lines of poetry in these languages would be learned by heart.

3)         The library would contain no books of literary criticism, and the only critical exercise required of students would be the writing of parodies.

4)         Courses in prosody, rhetoric and comparative philology would be required of all students, and every student would have to select three courses out of courses in mathematics, natural history, geology, meteorology, archaeology, mythology, liturgics, cooking.

5)         Every student would be required to look after a domestic animal and cultivate a garden plot.

Oor die sukses wat Auden met hierdie veeleisende kursus sou gehad het, kan baie bespiegel word. Die vraag bly egter: Kan ‘n skrywer opgelei word?

Hierdie vraag duik meermale op wanneer opleiding in skeppende skryfwerk ter sprake kom, en spruit waarskynlik uit ‘n onderliggende opvatting dat die vermoё om ‘n skrywer te word as ‘t ware geneties vasgelê moet wees en eintlik nie aangeleer kan word nie. Wat natuurlik enigsins vreemd is, is dat dieselfde vraag nie noodwendig gevra word oor die opleiding van skilders, beeldhouers, komponiste, musici en balletdansers nie.

Wat is dan nou so uniek aan ‘n skrywer? Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat op byna elke Afrikaanse skrywer se lessenaar lê (of behoort te lê!), verklaar die lemma “skrywer” soos volg:

1. Persoon wat skryf: ‘n Vinnige skrywer. 2. Persoon wat ‘n bepaalde stuk, brief geskryf het: Die skrywer van hierdie brief. 3. Persoon wat boeke, artikels, gedigte, ens. vir publikasie skryf; outeur: ‘n Veelsydige outeur. 9 …). 4. Werk van ‘n outeur: ‘n Skrywer bestudeer.

Hierdie lemma laat vermoed dat daar meer oor “skrywer” gesê kan word as die algemene siening wat in die verklaring vervat is. Die verklaring dui ook nie aan dat ‘n skrywer as uniek beskou word, of oor unieke talent moet beskik om te kan skryf nie. En tog het die opvatting dat ‘n skrywer nie “gemaak” kan word nie tot betreklik onlangs, toe skryfskole as ‘t ware soos paddastoele opgeskiet het, bestaan. Heelparty mense huldig steeds die opvatting dat skrywers se werke bestudeer kan word, maar dit word nie as gerade beskou om opleiding aan te bied oor hóé om te skryf nie.

Daar kan verskeie redes aangevoer word vir die feit dat daar so lank onvoldoende aandag aan die opleiding van skrywers bestee is. Een van die redes sou wees dat die besit van letterkundige werke vir ‘n groot deel van die breё publiek nie dieselfde prestigewaarde het as byvoorbeeld die besit van kunswerke, of die bywoning van musiek- of balletuitvoerings nie. Daarom word ‘n belegging in die letterkunde ook nie geredelik gemaak nie en kan ‘n mens met reg kla oor mense nie meer boeke koop en lees nie. My ervaring in ‘n heeltemal ander verband is dat mense se min toewyding aan lees direk aan die lae geletterdheidvlakke in die land en die swak kennis van tale toegeskryf moet word.

Nou is dit so dat baie mense die behoefte ervaar om te skryf, maar nie weet wat en hoe nie. By sulke mense is daar dikwels onsekerheid oor die mate waarin hulle “talent het”, “meriete toon” en hulle skryfwerk “publiseerbaar” kan wees. D.J. Opperman, baanbreker van opleiding in skeppende skryfwerk in sowel die Afrikaanse as die Suid-Afrikaanse letterkunde, onder meer vanweё die Letterkundige Laboratorium wat hy in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch begin het, het hierdie onsekerheid van sommige universiteitstudente soos volg verwoord:

“Wat word van die jong skeppende genie wat eensaam op die kampus ronddwaal en geen raad met sy talent weet nie? Hy vir wie dit hoofsaak in die lewe is: Is die jambe uitgedien? Sy gawe geniet geen akademiese erkenning of leiding nie, dit is geen studievak nie. Later, as hy eers gebundel het, word sy werk wel bestudeer. Daarop word punte en grade verwerf, maar hy …? Êrens is daar iets skeefs.”

By Opperman se “jong skeppende genie” moet ‘n mens ook voeg: die middeljarige man wat lank reeds net vir die laai skryf, die vrou wat half toevallig ontdek dat sy skryftalent het en die standerd 8-leerling op die platteland wat by ‘n bekende skrywer of uitgewer om raad aanklop. Geslagte aspirantskrywers het nie die geleentheid gehad om opleiding in skeppende skryfwerk in Afrikaans te ontvang nie en bly worstel met vrae oor hulle skeppende vermoёns. Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat kursusse in Afrikaans of Afrikaans en Nederlands gevolg het, was tot betreklik onlangs toe nog deurgaans onbewus daarvan dat verskillende soorte opleiding in skeppende skryfwerk glad nie so ‘n rariteit in die skrywerswêreld is nie en veral in die Verenigde State van Amerika goed gevestig is.

Sedert die 1980’s het opleiding in skeppende skryfwerk egter ‘n betreklik algemene verskynsel in die Afrikaanse literêre wêreld geword. Verskeie universiteite bied tans skrywersopleiding aan, die ATKV is daarby betrokke en ander instansies bied van tyd tot tyd werkswinkels aan. Hierbenewens het hulpmiddels soos skrywershandleidings soos dié van Hennie Aucamp ook in Afrikaans beskikbaar geraak, hoewel die publikasie van skrywershandleidings nie as ‘n florerend beskou kan word nie.

Ongeag die soms ideosinkratiese uitsprake oor opleiding in skeppende skryfwerk, is skrywersopleiding outentieke literatuurbeoefening. Dit blyk uit die manier waarop die hele kommunikasiesituasie daarin ter sprake kom en uit die feit dat die doel van opleiding in skeppende skryfwerk immers is om ‘n teks tot stand te bring. Opleiding in skeppende skryfwerk is by uitnemendheid teksgerig!

Vir my, wat op verskillende maniere by die vestiging en evaluering van navorsing (by die RGN en vir my MA-verhandeling) oor en aanbieding van opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans betrokke was, is dit altyd ‘n uitdaging om uiteindelik by die skrywers en hulle werk self uit te kom om ander skrywers te help om hulle werk te slyp en vir moontlike publikasie voor te berei. Veral as redakteur van Ensovoort en van die eerste PoёsieNet op LitNet het ek baie blootstelling in hierdie verband gehad. Dit is ook belangrik om dit duidelik te stel dat dit heeltemal normaal en aanvaarbaar is om verskillede soorte hulp met jou manuskrip te kry. Agter in Loftus Marais se dubbelbekroonde Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) word ‘n hele aantal mense bedank vir hulle hulp met die bundel. Ten opsigte van die meeste skrywers is dit ‘n totale mite dat hulle sonder enige hulp hulle werk skryf en publiseer.

II

Ek gaan nou oorsigtelik en ter inleiding individuele skrywers se werk en die soort foute waarmee die redakteur of beoordelaar van skeppende skryfwerk heel dikwels te doen het, bespreek. Ek wil egter eers iets in die algemeen sê oor die verskillende vlakke van opleiding wat vir die aspirantskrywer beskikbaar is, naamlik formele, nieformele en informele opleiding.

Vroeёr was aspirantskrywers min of meer aangewese op sogenaamde “tradisionele” vorme van opleiding of hulp, soos raad van ‘n onderwyser of dosent, in enkele gevalle die opinie of voorstelle van ‘n meer ervare (en gewoonlik heelwat ouer) skrywer wat gewillig was om kommentaar op ‘n aspirantskrywer se werk te lewer, asook keurderverslae van tydskrifte en uitgewers. Ofskoon korrespondensiekolleges ook sedert die 1950’s kursusse in skeppende skryfwerk aanbied, word die spektrum van skrywersopleiding eers sedert omstreeks die helfte van die 1980’s aansienlik uitgebrei deur vorme van opleiding wat deur universiteite, uitgewers en kultuurverenigings ingestel is. In hierdie dekade het LitNet se hulp ook bygekom.

III

In byna al die hoedanighede waarin ek by opleiding in skeppende skryfwerk betrokke was, het daar voortdurend aspekte na vore gekom of het ek waarnemings gemaak wat dalk goed kan wees in ‘n gesprek oor nuwe skryfwerk. Vir hierdie gesprek het ek my tot enkele punte beperk, naamlik dinge waarop aspirantskrywers bedag moet wees en wat hulle in gedagte moet hou voordat hulle hulle skryfwerk vir publikasie voorlê:

1)           Talle gedigte (en prosawerke) word ontsier deur veralgemenings en abstraksies. Waarskynlik gee ‘n bepaalde siening oor die poёsie of selfs letterkunde tot sekere reaksies aanleiding. Die spesifieke dinge, die ding as sodanig, dit waarvoor jy ‘n naam kan gee en nuut en spesifiek kan beskryf/benoem, het veel groter kans om die leser te boei. Die gevaar bestaan weliswaar dat ons ‘n digter soos Opperman se poёtika kan verabsoluteer, maar in Afrikaanse gedigte het abstrakte selfstandige naamwoorde (die “-heid”-woorde) en woorde soos “liefde”, “siel” en “gees” min kans op sukses.

2)         Die emosies word in tekste gesê in plaas van getoon. Dit gebeur dikwels in gedigte, en een van die eerste lesse wat aspirantdigters moet leer, is om hierdie emosies oortuigend aan te bied en die waarde van suggestie te leer.

3)         Gebrekkige taaldissipline. In sowel gedigte as prosa sorg skrywers nie dat hulle werk tot in die vesels afgerond is nie. Heelwat manuskripte sal ‘n baie beter indruk maak indien moeite gedoen is om ten minste die spelling en grammatika te kontroleer. Enige keurder is skepties as daar basiese foute in ‘n manuskrip is. Die uitgewer gaan sekerlik help om jou foute reg te maak, maar daar is perke daaraan. Dieselfde geld vir die feitelike inhoud van jou werk. Goeie skrywers spandeer baie tyd daaraan, selfs jare en dekades!

4)         Min nadenke oor wat gesê word. Aspirantskrywers besin nie altyd genoeg oor wat hulle wil sê nie.

5)         Wantroue oor nuwerwetse neigings. Uitgewers kry dikwels te doen met (veral ouer?) skrywers wat nuwe neigings in die letterkunde wantrou en sterk standpunt daarteen inneem. Van die opmerkings is dat hulle nog soos A.G. Visser en Jan F.E. Celliers skryf, en rym nog soos die ouer digters gebruik. Skrywers hoef natuurlik nie alles wat nuut is vir soetkoek op te eet nie, maar naïwiteit oor nuwe tendense is gewoonlik nie ‘n goeie teken nie.

6)         Te veel gedigte of verhale. Aspirantdigters en aspirantkortverhaalskrywers is geneig om te veel gedigte of verhale voor te lê en sinspeel gewoonlik dat daar “nog is”. Keurders het nie dosyne tekste nodig om ‘n skrywer se werk te kan takseer nie.

7)         Plagiaat. Plagiaat is ‘n ernstige saak wat skrywers ten alle koste moet vermy. Ek het by drie geleenthede met plagiaat te doene gekry en weet hoe blootgestel sowel die skrywer as die uitgewer in hierdie verband is. My ervaring is dat skrywers wat hulle een keer hieraan skuldig gemaak het, geneig is om dit weer te doen. In ons tyd van literêre gesprekke tussen skrywers is dit nog steeds belangrik om te weet waar die grense is.

8)         “Special pleading”. Skrywers probeer dikwels simpatie werf vir hulle manuskripte deur te vertel van die moeilike omstandighede waaronder ‘n manuskrip tot stand gekom het of wat aanleiding tot die skryf van ‘n teks gegee het: ‘n pynlike egskeiding, die lyding of verlies van ‘n geliefde, bankrotskap. Dit is egter die gehalte van die teks wat die uitgewer moet oortuig.

Kan ‘n skrywer opgelei word? Dit is nog steeds nie maklik om hierdie vraag te beantwoord nie. Ek het wel gebaat by die hulp wat ek in my skrywersloopbaan by ‘n hele aantal mense gekry het. Daarbenewens is dit doodgewoon opwindend om oor en met skrywers en hulle werk te gesels. Daarsonder het ons nie meer ‘n lewenskragtige letterkunde nie.

Die verhalende vers

Tuesday, July 14th, 2009

Effe onmusikale worshonde, oftewel die poësie

in die raamwerk van die verhalende vers

 

Danie Marais

 

I love you baby and I always will

Ever since I put your picture

In a frame

 

Tom Waits – “Picture in a Frame” (Van die album Mule Variations, Anti 1999)

 

 

As die digkuns ’n hond is

 

In die besprekings van gedigte of bundels in alles van dagblaaie tot akademiese joernale en die internet word dikwels algemene stellings gemaak oor Die Poësie, Die Tradisie en Vernuwing. Hoewel hierdie veralgemenings stof tot nadenke bied en soms ’n groot deel van ’n koherente waarheid beet het, glo ek dis misleidend om sonder verdere kwalifikasie al die verskillende vorme van die eindeloos vertakkende digkuns te probeer reduseer tot enige teorie of definisie.

            Die filosofie sukkel al geruime tyd om nog ’n onderskeid te vind tussen subjek en objek, liggaam en gees, of waarheid en mening. Tog meen verskeie belangrike digters en bekende akademici steeds ’n klinkklare, definieerbare verskil tussen prosa en poësie moet bestaan. Op ’n soortgelyke manier as wat baie (benoude?) sosiaal-wetenskaplikes aan wetenskaplike metodes glo waarmee die fantasmagoriese moeras van menslike gedrag bestudeer kan word, praat kreatiewe skryfkunde-dosente met oortuiging van “verstegniek” – asof daar ’n soort tegnologie en ambag is wat skrywers kan bemeester om uiteindelik as gekwalifiseerde loodgieters van die woord ’n praktyk te begin in die diens van gesonde metafisiese, of ten minste emosionele, riolering.

            Laat ek dit so vra: Ontstaan die unieke stembuiging nie juis in die afwyking van konvensie of die vindingryke teleurstelling van verwagtinge nie? Het die afleiding van ’n metode of tegniek uit ’n bepaalde konvensie nie bloot voorspelbare, patroonmatige werk tot gevolg nie? In die geval van loodgieterswerk is dit presies wat die kliënt wil hê, maar die digkuns is tog ’n perd van ’n ander kleur.

            En hiermee wil ek geen anti-intellektuele, anti-akademiese betoog inlei, of soos ’n nuwer weergawe van Allen Ginsberg die bongo’s en psigedeliese dwelmmiddels nadertrek nie. Ek wil bloot op ’n punt van orde sê ek neem die kloof tussen teorie en praktyk ernstig op en aanvaar dit met gelatenheid. Soos Phoebe Millikin sê: “Unlike riding a bike, with poetry, / you never quite know how.” Of in die woorde van T.S. Eliot: “There is no method but to be very intelligent.”

            Maar ek wil ook nie kursusse in Kreatiewe Skryfkunde radikaal bevraagteken nie – natuurlik lei ’n kritiese oop gesprek, intensiewe leeswerk, kennis oor literêre konvensies en oefening tot kosbare insigte,deeglik afgewerkte manuskripte en persoonlike groei. Ek stem bloot saam met een van die bekende kreatiewe-skryfkunde-dosente van die 20ste eeu John Gardner: “One should not treat the only magic left in the world, as if it was done with wires.”

            Ek wil dus allermins voorgee ek beskik oor die teoretiese kennis – dit wil sê die dig- en leesmetodes – wat myns insiens nie objektief bestaan nie. Ek weet nie presies waar die liefde, die poësie of die verskil tussen prosa en poësie lê nie. Wat ek wil aanbied, is ’n paar vergelykings en waarnemings wat dalk ’n ander fokus op ’n sekere spesie van digkuns, en meer spesifiek ’n bepaalde vertakking van die verhalende digkuns, moontlik maak.

            Die idee van verskillende spesies van poësie is die eerste sentrale gedagte. In ’n onderhoud met die aanlyn-poësietydskrif Poets.org maak die bekroonde Amerikaanse digter Tony Hoagland die volgende opmerking:

           

… I do perceive poetry as having a lot of different bloodlines, you could say. And spiritual lines, lines of imagination, lines of linguistic experiment.

(http://www.poets.org/viewmedia.php/prmMID/19684)

 

Ek wil egter verder as Hoagland gaan: As die digkuns ’n hond is, is daar intussen ’n groot aantal honderasse, oftewel spesies, met allerhande verskillende bloedlyne en ’n groot klomp sjarmante, sowel as onaansienlike basterbrakke daartussen. Om die digkuns as ’n hond met verskillende spesies te sien – ek sê maar ook spesie, want ras het so ’n nare klank in Suid-Afrika –  impliseer verskeie aannames:

 

1)         Beskou jy ’n spesifieke soort poësie as ’n spesie, gee jy implisiet toe die sukses van ’n teling of kruising kan net vergelyk word met ander diere van dieselfde spesie. Geen hondeskou kan opregte Duitse herdershonde, windhonde en worshonde in dieselfde kategorie beoordeel nie; en langhaar- en korthaarworshonde kan ook nie teenmekaar meeding nie. Net só kan die gedigte van sê maar T.S. Eliot en Philip Larkin net so min vergelyk word soos dié van N.P. van Wyk Louw en Breyten Breytenbach. Om te sê Breytenbach is ’n groter digter as Van Wyk Louw, is om een honderas bo ’n ander te verkies. Neem jy die idee van verskillende poëtiese bloedlyne ter harte, bevraagteken jy outomaties die objektiewe waarde van enige literêre prys.

2)         Wie van verskillende soorte honde praat, gee ook te kenne sekere kenmerke of eienskappe sal meer prominent as ander in ’n spesifieke kruising teenwoordig wees. Indien dit die teler se doel was om ’n lang hond wat buitengewoon laag op sy skopgraafpote is, te teel om knaagdiere in hul gate te vang, is die worshond ’n sukses – ten spyte van die rugprobleme wat hy dalk op sy oudag mag ondervind.

3)         ’n Honde-ras of ’n soort gedig word geteel met spesifieke funksies en voorkeure in gedagte. ’n Vergelyking tussen honderasse of bloedlyne is dus wel sinvol om die onderskeie funksies van verskillende eienskappe van nader te bekyk.

4)         Sien jy die poësie as ’n hond met verskillende rasse en bloedlyne, aanvaar jy ’n minder idealistiese siening van vernuwing. ’n Nuwe bloedlyn of spesie word dan gesien as ’n interessante vermenging van bestaande eienskappe, nie as ’n heeltemal nuwe mitiese dier met bonatuurlike magte nie.

5)         Enige normatiewe veralgemening oor die hele honde-spesie, oftewel die digkuns, is ’n halwe waarheid. (Ook die indeling in verskillende rasse is uiteraard geen eksakte wetenskap nie.)

 

 

Halwe waarhede en verhalende worshonde

 

Hier is ’n voorbeeld van ’n halwe normatiewe waarheid – in sy essay “Four Temperaments and the Forms of Poetry” sê die Amerikaanse digter en literatuurprofessor Gregory Orr die volgende:

 

To my way of thinking there are four distinct [poetic] temperaments. If a poet is born with one temperament, then he or she grows as a poet by developing that temperament, but also by nurturing the others. The greatest poem is one in which all four are present in the strongest degree, though no one in English but Shakespeare could be said to exhibit all four in equal vigour. The main point is, great poems show the presence of all four, though in varying proportions.

[...]

The four temperaments are: story, structure, imagination and music.

 

 

Die vier temperamente (my vertaling)

 

Inperkende impulse

Help om die gedig te anker        

 

Grensloosheid

Help om die gedig te laat sweef

Storie

Dramatiese eenheid – begin, middel, en einde. Konflik, dramatiese fokus, oplossing.      

 

Musiek

Ritme en klanke.

 

Struktuur

Die bevrediging van meetbare patrone. Dit is verwant aan hoër wiskunde, meetkunde, theoretiese fisika – die skoonheid en balans van wiskundige vergelykings. Dit manifesteer in sonnette, villanelles, sestinas (geslote strukture) en, tot ’n mindere mate, in metriese reëls, rymende koeplette, en herhalende verspatrone (oop struktuur). 

 

Verbeelding

Die vloei van beeld na beeld of gedagte na gedagte.

(Verbeeldingspronge.)

Dit beweeg in ’n stroom van assosiasie, óf konkreet (die vloei van beelde) of abstrak (die vloei van gedagtes).

 

 

 

Orr se stellings lyk met die eerste oogopslag deurdag en 100% redelik. Sy normatiewe slotsom – “The greatest poem is one in which all four are present in the strongest degree” – berus egter op die aanname dat elke poësie-teler, oftewel digter, ’n sekere gebalanseerde proporsionaliteit nastreef. Die bulhond, die miniatuur-poedel, die windhond, die Basset of die worshond met sy onatletiese, skewe proporsies moet dus as ’n minderwaardige frats beskou word.

            Tony Hoagland wy sy spitsvondige essay, “On Disproportion”, aan hierdie tema. Dit begin só: “For the purpose of generalizing, the world of poems could be divided into two large camps: the classically wrought, well-behaved, shapely poem, and the deformed, lopsided, zany, and subversive poem.” Soos ’n mens kan aflei uit Hoagland se ironiese toon is hy ook lief vir digterlike worshonde, of soos hy dit stel “poems admirable for their lack of orthodontia”.

            Volgens Hoagland word ons geleer om proporsie in kuns te verwag en daar is redes hoekom ons daarop reageer. Ter stawing van dié stelling haal hy uit Oscar Wilde se essay “The Decay of Lying” aan:

 

What art really reveals to us is nature’s lack of design, her curious crudities, her extraordinary monotony, her absolutely unfinished condition [...]  If nature had been comfortable, mankind would never have invented architecture, and I prefer houses to the open air. In a house we all feel the proper  proportions. Everything is subordinated to us …

 

Wilde wys op die merkwaardige vermoë van kuns om orde te stig en so ’n vorm van geborgenheid te gee. En om orde te stig moet kuns die werklikheid onderwerp (subordinate) en argitektonies proporsioneer. Hierdie onderliggende aannames kom volgens Hoagland tot uiting wanneer ons ’n gedig “ekonomies” of “doeltreffend” noem.

            Beheer en onderwerping, sê hy, vind egter dikwels plaas ten koste van ontdekking en spontaniteit. Kuns wat van proporsie en beheer afsien ten gunste van spontaniteit en ontdekking is dan as ’t ware rebels – die estetika van punk is ’n sprekende voorbeeld:

 

What is art that does not subordinate parts to the whole, or the self, or offer perspective? Such art might be called insubordinate … 

           

As een voorbeeld van sulke opstandige, tugtelose kuns bespreek Hoagland die werk van Wallace Stevens en kom tot die slotsom dat Stevens sy kenmerkende flambojantheid in sommige gedigte slegs kon bereik deur te vergeet van proporsie en terughouding, en te laat waai. In gedigte soos “Loneliness in Jersey City”, “Bantams in Pine-Woods”, “The Bird with the Coppery Keen Claws” en “Sea Surface Full of Clouds” gee Stevens vrye teuels aan musiek en verbeelding. En is hierdie ongebalanseerde oordadigheid nie kenmerkend van Stevens op sy uitbundigste en onderhoudendste nie?

            Om van Walt Whitman nie eers te praat nie. Whitman se uitgesponne, liries uitoewerende magnus opus “Song of Myself” word nie juis ingeperk deur storie of simmetriese struktuur nie. Volgens Orr se skema vind die grootste gedigte egter ’n balans in die spanning tussen beperkende elemente soos storie en struktuur, en die skynbaar einderlose moontlikhede van musiek en verbeelding:

 

If the minimum formula for a poem’s success is a kind of Chinese menu – one from Column A (the limits of story and structure), one from column B (the limitlessness of music and imagination) – then it should be added that combining two impulses from the same column can be fatal. Hart Crane’s reputation, despite his great gifts, is precarious in large part because he relied so frequently on a fusion of music and imagination to make his poems. One can say the same of Dylan Thomas, or Swinburne for that matter. Such a marriage makes it almost impossible to create closure, to constellate a wholeness.

 

Die feit dat Whitman in sy leeftyd soveel verskeie weergawes van “Song of Myself” gepubliseer het, wys Orr het ’n punt beet. Aan die ander kant lê die bedwelmende sjarme van Whitman se groot ode juis in die gevoel van onbeperkte moontlikhede wat dit verwoord. Kan sulke liriese ekstase ooit tot ’n netjiese punt kom?

            Wanneer ’n gedig “skuldig is” aan ’n ongetemperde kombinasie van musikaliteit en  verbeelding, is daar egter min mense wat wil beweer dis nie poësie nie. Word die hoogs musikale Dylan Thomas ooit as enige iets behalwe ’n digter beskryf ? In die Afrikaanse digkuns sou ’n mens volgens Orr se skema ’n soortgelyke beswaar teen van Breyten Breytenbach se langer oordadige gedigte kon opper, maar vanweë Breyten se enigmatiese verbeelding wat soveel neologismes en ryk beelde oplewer, word ook hy eerder van ’n oormaat poësie in sy taalgebruik verdink.

            Ek wil my aandag egter vestig op ’n ander soort poëtiese worshond; ’n honde-spesie waarin die verhalende of anekdotiese die mees prominente kenmerk is, en musikaliteit en verbeelding nie so oordonderend teenwoordig is nie. Dit wil sê, gedigte wat hoofsaaklik in Orr se Kolom A bly, aan die kant van storie en struktuur, maar hoofsaaklik die storie. In hierdie geval ontstaan die vermoede blykbaar by sommige kritici dat die leser nie meer werklik met poësie te make het nie.

            Neem byvoorbeelde die poësie van die gevierde kortverhaalskrywer Raymond Carver – waarskynlik John Gardner se beroemdste student. In haar resensie van Carver se tweede digbundel, Where Water Comes Together With Other Water (1985), in die New York Times Book Review kritiseer die digter Carol Muske sy hoofsaaklik verhalende digkuns as volg:

           

The problem is that this [Carver’s]technique, which makes for glorious prose, tends to literary reductionism in these poems, which seem, over all, rehearsals for poems, anecdotes precedent to poetry, unreeling as if they were written back to back and quickly. The structure Mr. Carver uses is a loose, talky stanza built on the model of his prose paragraph. Despite varying line breaks and rhythmic shifts, the lines never flow like poetry.

(Sien: http://www.nytimes.com/1986/02/09/books/disk-jockeys-eggplants-and-desaparecidos.html)

 

Fred Chappel gaan nog verder – met verwysing na Carver se vierde digbundel, A New Path to the Waterfall (1989), verklaar hy in die Kenyon Review: “ … the only trouble with Raymond Carver’s poems is that he was not a poet.”

            Hierdie soort uitsprake oor anekdotiese of verhalende poësie wat nie vir hul poëtiese effek op ritme, musiek en ’n opstapeling van ooglopend poëtiese beelde staatmaak nie, is steeds algemeen. Sulke kritiek word meesal gebaseer op ’n oorvereenvoudigde, essentialistiese siening van die onderskeid tussen prosa en poësie. Susan Sontag som dit mooi op in haar essay “A Poet’s Prose”. In reaksie op stellings van die groot Russiese digter Joseph Brodsky, wat onder meer poësie as die lugmag beskryf en prosa as die infanterie, sê sy:

 

Like earlier great Russian poets, Brodsky requires for his definition of poetry a carricutural Other: the slack mental condition he equates with prose. [...] Such a definition of poetry is actually a tautology – as if prose were identical with the “prosaic”.

 

Ek wil egter nie te veel tyd aan Carver se kritici of aanhangers afstaan nie – hy het immers ook twee pryse gewen vir die bundel wat Muske so skerp gekritiseer het. Ek wil liewer probeer om aan die hand van ’n paar voorbeelde te kyk na waar die poësie, die magic waarvan Gardner praat, in gedigte lê wat soms deur kritici as “verkapte prosa” afgemaak word.

            ’n Goeie beginpunt is ’n gedig van Carver uit sy eerste digbundel, Fires (1983): 

 

Morning, Thinking of Empire

 

We press our lips to the enameled rim of the cups

and know this grease that floats

over the coffee will one day stop our hearts.

Eyes and fingers drop onto silverware

that is not silverware. Outside the window, waves

beat against the chipped walls of the old city.

Your hands rise from the rough tablecloth

as if to prophesy. Your lips tremble …

I want to say to hell with the future.

Our future lies deep in the afternoon.

It is a narrow street with a cart and driver,

a driver who looks at us and hesitates,

then shakes his head. Meanwhile,

I coolly crack the egg of a fine Leghorn chicken.

Your eyes film. You turn from me and look across

the rooftops at the sea. Even the flies are still.

I crack the other egg.

Surely we have diminished one another.

 

Vir my lê die magic in Carver se gedig in die manier waarop ’n doodgewone spreektalige sin soos “Surely we have diminished one another” in ’n onvergeetlike slotreël verander word. Dis asof die gedig, dit wil sê die storie van twee mense wat ontbyt eet, ’n magiese konfytfles is wat ’n huisvlieg gevang het en in ’n vuurvliegie verander het. En dit is in hierdie alchemistiese proses wat die kopermunte van gewone woorde in Krugerrande verander, waar die poësie in die verhaal lê; in die wyse waarop dit juis liriese intensiteit uit die prosaïese verwek.

            Dit wil sê, die anekdote of narratief skep ’n ruimte waarbinne ’n paar woorde poëties kan weergalm. Maar die woorde wat hier diep resoneer, sou waarskynlik nie die bekende Amerikaanse kritikus Harold Bloom se toets vir groot poësie slaag nie. In onder meer The Art of Reading Poetry noem hy “an inevitability of phrasing” (die gevoel dat ’n reël of vers noodwendig só moet lees en op geen ander wyse nie) as essensiële kenmerk van groot poësie. Bloom kontrasteer hierdie noodwendige frasering met die voorspelbare diksie en rymwoorde van mindere poësie. As voorbeeld van so ’n noodwendige frasering haal hy ’n reël uit Alfred Tennyson se “Ulysses” aan: “Though much is taken, much abides.”

            Bloom is reg, dit is ’n uitstekende reël, maar Bloom se keuse van aanhaling verraai waarskynlik meer oor sy eie estetiese voorkeure as oor die essensiële wese van groot poësie. Hy kies ’n register wat geen ruimte laat vir die onthulling van poësie in onopgesmukte spreektaligheid nie. Eintlik sê hy ook indirek dat daar nie werklike plek vir die illusie van “artlessness” in poësie is nie. G’n wonder dus dat Bloom in The Western Canon skouerophalend te kenne gee hy kan nie verstaan wat lesers in die sober Philip Larkin sien nie. Per slot van rekening is Bloom se onafwendbaarheidstoets nog ’n voorbeeld van ’n hiperbool, of ’n normatiewe halwe waarheid – ’n verabsoluterende oordeel wat die deurslaggewende rol van konteks buite rekening laat. Hy wil gedronge taalgebruik en opvallende diksie tot wesenlike, ononderhandelbare kenmerk van groot poësie verklaar, maar wanneer die gedig as raam of narratiewe ruimte funksioneer, kan ’n reël wat buite konteks doodgewoon lyk en klink, ’n diep poëtiese effek hê.

            Sou enigiemand ’n spesifieke kamera-tegniek, vertelritme of metode van beligting en grimering as voorvereiste vir ’n goeie rolprent wil stel? Die Deense Dogme 95-beweging onder leiding van regisseurs soos Lars von Trier en Thomas Vinterberg het dit ter wille van eksperimentering gedoen. Dié beweging  se riglyne (geen rekwisiete, klankbaanmusiek of spesiale beligting nie; slegs handkameras en buite-opnames ens.) het ’n nuutgevonde “artlessness” ten doel gehad en is om verstaanbare redes deur ’n groot stilis soos die Spaanse rolprentmaker Pedro Almodóvar verwerp. Daar is immers ook verskillende spesies van visuele poësie. Diegene wat die verhalende worshonde van die poësie as prosa wil afmaak, verteenwoordig in der waarheid presies die teenoorgestelde estetiese dogma as die Dogme-beweging.

            Maar hoekom dan nie net prosa in paragrawe skryf nie? Kan dieselfde aha-effek nie ook so verky word nie?

            Soms, ja. Vele geslaagde prosa-gedigte maak nie op die gebruik van versreëls staat nie, en vind ook poësie in filosofiese mymeringe of in meer gedrae registers. Daar is egter myns insiens twee goeie redes vir Carver om versreëls in te span vir ’n gedig soos “Morning, Thinking of Empire”:

 

1. Deur die gebruik van enjambement word spesifieke woorde in “bevoorregte” posisies aan

die begin en einde van versreëls geplaas en sodoende om verskeie redes beklemtoon. Dit kan vergelyk word met die manier waarop ’n kameraman inzoem op iets. Die fokus word verskuif en verskerp op ’n manier wat prosa in paragraafvorm nie toelaat nie.

 

2. Die gebruik van versreëls het daarbenewens ook ’n beduidende uitwerking op die tempo.

Kyk byvoorbeeld hoe Carver die leser laat huiwer met dramatiese pouses ná “floats”, “waves”,

“tremble”, “hesitates”, “Meanwhile”, “across” en “still”. Die digter gee ’n leesritme aan wat

 met snitte in ’n rolprent vergelyk kan word en ook die ritme van die verteller se gedagtegang

weerspieël. Die effek is veral opvallend wanneer die betekenis-eenhede in sintaks ingrypend

deur die reëlbreuk versteur word. Byvoorbeeld in die geval van “floats / over”. Deur hierdie breuk dwing die digter ons om duidelik te sien watter onverkwiklike lagie op die oppervlak van die koffie dryf.

 

Hoewel klankpatrone geen oorheersende rol in dié gedig speel nie, is klank nie onbelangrik nie. Let byvoorbeeld op die meesleurende effek van die slotwoorde in die eerste vyf reëls: “cups”, “floats”, “hearts”, “silverware” en “waves”. Dit is egter veral binne die ongemaklike stilte wat tussen die ek-verteller en die ander party broei, waar die alliterasie van “coolly crack” soos ’n sweep klap. Die woord “crack” word dan ook twee reëls later herhaal.

            Die vergelyking van die  reëlbreuke in die gedig met die primêr visuele filmkuns is sinvol omdat juis die visuele elemente, die konkrete detail, wat ’n gedig soos dié beklemtoon, van deurslaggewende belang is. Die Amerikaanse digter James Longenbach konsentreer egter in sy insiggewende boek The Art of the Poetic Line op die klank-effekte wat die organisasie van versreëls het. Hy open sy boek met die volgende stelling:

 

Poetry is the sound of language organized in lines. More than meter, more than rhyme, more than images or alliteration or figurative language, line is what distinguishes our experience of poetry as poetry, rather than some other kind of writing. Great prose might be filled with metaphors. The rhytmic vitality of prose might be so intense that it rises to moments of regularity we can scan. Its diction may be more sensuous, more evocative, than that of many poems. We wouldn’t be attracted to the notion of prose poetry if it didn’t feel exciting to abandon the decorum of lines.(1)

 

Een van die gedigte wat Longenbach in sy studie bespreek, is die Pulitzerwenner en voormalige Amerikaanse Poet Laureate Louise Glück se gedig “Nostos” (Grieks vir tuiskoms) – ’n gedig wat beduidende ooreenkomste met die vorige een van Carver toon:

 

Nostos

 

There was an apple tree in the yard –

this would have been

forty years ago – behind,

only meadows. Drifts

of crocus in the damp grass.

I stood at that window:

late April. Spring

flowers in the neighbor’s yard.

How many times, really, did the tree

flower on my birthday,

the exact day, not

before, not after? Substitution

of the immutable

for the shifting, the evolving.

Substitution of the image

for relentless earth. What

do I know of this place,

the role of the tree for decades

taken by a bonsai, voices

rising from the tennis courts –

Fields. Smell of the tall grass, new cut.

As one expects of a lyric poet.

We look at the world once, in childhood.

The rest is memory.

 

Uit: Meadowlands (1996)

 

Glück se vaardige afwisseling van reëlbreuke dwing ons nie net om woorde op ’n sekere manier te beklemtoon en te hoor nie, maar ook om na hulle te kyk. Anders as in die kortfilm kan ons egter konkrete detail – die appelboom, die agterplaas met die weivelde daaragter – sowel as gedagtes en ’n gemoedstoestand “sien”. Die ritme van die gedig is die ritme van waarneming en die gepaardgaande gedagtegang. Longenbach stel dit so:

 

So while we hear the sound of certainty at the beginning of the poem (“There was an apple tree”), we feel here the evolving drama of discovery as that certainty unravels. [...] Glück is dramatizing the encroachment [...[ of self-doubt, and in both cases the lineation is determining the pulse of thought, the interplay of different kinds of line-ending creating different ways of apprehending syntax as thinking.

 

Wat Longenbach bedoel, word duidelik wanneer ’n mens kyk na die effek van ’n reël soos: “Drifts / of crocus in the damp grass.” Deur die enjambement word die aandag gevestig op die woord “drifts” – ’n selfstandige naamwoord wat ook die beweging van ’n werkwoord aandui en die assosiasie van “snow drifts” en lopende water het. Dit wat vas en seker was, ruk los. Indien Glück, soos met die eerste reël die sinsbou en betekeniseenheid met die einde van die reël laat saamval het, sou die reël nie dieselfde spanning en gevoel van afwagting skep nie. (2)  

            Dit is eers aan die einde van die gedig waar die spanning tussen reëlbreuke en sintaks weer opgehef word. Wanneer die sintaks en reëlbreuke egter weer in die drie slotreëls saamval, is die effek anders. Longenbach:

 

At the beginning of “Nostos”, the confluence of syntax and line suggests a security of knowledge and memory that the poem persists to unravel; in retrospect that security sounds unexamined, the plain declaration of existence weirdly naive: “There was an apple tree.” At the end of the poem, in contrast, the confluence of syntax and line sounds rueful, the hard-won product of thought rather than a declaration masking the necessity of more thinking.

 

Dis amper asof ’n mens die vertelstem kan hoor sug met die woorde: “As one expects of a lyric poet.”

            Maar dis veral Longenbach se opmerkings oor die laaste twee reëls van die gedig wat interessant is. Hy wys daarop dat die gedig nie juis tot ’n vreeslik uitdagende slotsom kom nie – ’n mens hoef jou net ’n gedig voor te stel wat begin met die reël “We look at the world once, in childhood” om te besef dat die manier waarop hierdie gedig by die gevolgtrekking uitkom, meer opwindend is as die wysheid van die insig self. Vir Longenbach is dit dan veral Glück se geïnspireerde strukturering van die gedig se waarneming, klanke en gedagtes wat die verrassingseffek van die slot moontlik maak.

            Ek wil nie met Longenbach stry nie. Hy wys inderdaad aan die hand van sy analise watter magtige poëtiese middel enjambement en die afwisseling van verskillende soorte reëlbreuke veral vir die vryevers-digter is. Ek meen egter Glück en Carver se gedigte deel ook iets veel geheimsinnigers – en dit is die manier waarop gewone woorde, wat bes moontlik nie Bloom se noodwendigheidstoets sou slaag nie, deur die raam van die narratief of anekdote getransformeer word in groot woorde wat by die leser bly spook. Carver se slotreël en Glück se laaste drie reëls eggo binne die ruimte wat die verhaal geskep het, en stuur ’n nuwe rimpeling terug deur al die voorafgaande reëls. En binne daardie ruimte wat die verhaal skep, is die konkrete dinge – die hardgekookte eiers by Carver en die appelboom by Glück – ten minste net so belangrik soos die klank en struktuur, indien jy wil begin verstaan hoekom die slotreëls sulke uitklophoue is.

             ’n Veel ouer gedig, wat tot dieselfde familie van gestroopte verhalende verse behoort, is William Carlos Williams se “The Last Words of My English Grandmother”:

 

The Last Words of My English Grandmother
            1920

 

There were some dirty plates

and a glass of milk

beside her on a small table

near the rank, disheveled bed –

 

Wrinkled and nearly blind

she lay and snored

rousing with anger in her tones

to cry for food,

 

Gimme something to eat –

They're starving me –

I'm all right – I won't go

to the hospital.No, no, no

 

Give me something to eat!

Let me take you

to the hospital, I said

and after you are well

 

you can do as you please.

She smiled, Yes

you do what you please first

then I can do what I please –

 

Oh, oh, oh! she cried

as the ambulance men lifted

her to the stretcher –

Is this what you call

 

making me comfortable?

By now her mind was clear –

Oh you think you're smart

you young people,

 

she said, but I'll tell you

you don't know anything.

Then we started.

On the way

 

we passed a long row

of elms. She looked at them

awhile out of

the ambulance window and said,

 

What are all those

fuzzy looking things out there?

Trees?Well, I'm tired

of them and rolled her head away.

 

Uit: The Broken Span (1941)

 

 

Die poësie in dié klein verhaaltjie lê in presies dieselfde meganisme as in die vorige twee gedigte: Williams skep ’n narratiewe ruimte waarbinne sy Engelse ouma se laaste woorde jou bybly. Die opvallende verskil van die vorige twee gedigte is Williams se gebruik van ongerymde kwatryne. Dit skep myns insiens die valse indruk van ’n simmetriese struktuur wat die gedigte in der waarheid nie het nie. ’n Mens kan selfs vra of dié gedig nie werk ten spyte van die formalistiese fasade wat dit voorhou nie? Carver het verskeie soortgelyke gedigte geskryf, maar ek glo nie hy sou die nut van die kwatryne ingesien het nie.

 

 

Inheemse honde

 

Ten slotte ’n paar opmerkings oor drie gedigte en een liriek, oftewel liedteks, uit die kontemporêre Afrikaanse poësie na aanleiding van die voorafgaande bespreking: 

 

Twee diewe

 

Alles wat aan my behoort, het ek dié dag verloor.

Besteel, rot en kaal, totaal onverwags.

Deur twee vreemdelinge, ’n jong vrou en ’n dogtertjie.

Die buurt is gewaarsku oor hierdie nuwe taktiek.

Hulle gebruik onskuldiges, en oorval jou dan van agter.

Ek het die sagte geklop aan my voordeur gehoor.

Soos ’n besoeking van oorkant die groot skeidslyn.

’n Toets natuurlik, of iemand tuis is of nie.

Ek het geluister vir die breekysters, ’n broodmes in my hand.

Tot die kristalsakrament, die gelag, verdwyn het.

In ’n fladdering, soos twee duiwe wat uit ’n sysak ontsnap.

Maar ek het op my hoede gebly. Dis wat ek nie verstaan nie.

Ek’t die waarskuwing ernstig opgeneem. Ek het geweet hulle sal terugkom.

Maar dit alles het my nie gevrywaar teen die bedrog nie.

Ek het die deur oopgemaak, mes agter die rug.

Hulle het amper moed opgegee, het die vrou gesê.

Haar dogter wil graag ’n blaar van my boom hê, omdat dit silwer is.

Ek het verby hulle gespeur, vir die gevaar

wat agter skuil, die rede vir die lokval.

Hulle was brandarm, maar ryklik gekroon met hul glimlagte.

Vra God vir ’n blaar, dis sy boom, sê ek nors.

’n Ander man wou ons skiet, het die kind trots gesê;

salig onbewus dat sy dan dood sou wees.

Ek het gekyk hoe hulle wegstap, geklee in hul klanke.

Moeder en dogter. Met hul blaar, hulle wonderwerkie.

Niemand het my aangeval nie. Niks meer het gebeur nie.

Daardie twee diewe het my kaal gestroop.

 

Charl-Pierre Naudé (Uit: In die geheim van die dag, Protea 2005)

 

Die huisvrou

 

Antie Doris was 'n tipiese tannie

soggens het sy haar kinders by die skool kom afsien

met 'n pienk check overall en groen rollers in haar hare

het sy heeldag huis skoon gemaak, wasgoed gewas en kos gekook

sy was 'n huisvrou

eendag in Junie het dit vreeslik gerëen

maar antie Doris het wasgoed opgehang, vensters gewas

en haar stoepplante water gegee

later het 'n polisievan en twee van Tygerberg se lykhuisbussies

voor haar huis gestop

drie bodybags is op stretchers uitgestoot

een grote en twee kleintjies

antie Doris het vir die eerste keer in jare

'n blomrok aangehad met haar hare wat in lang los krulle

oor haar skouers hang

sy is gehandcuff en het agter in die polisievan geklim

sy't vir ons nosey bystanders gesê dat ons maar kan kyk

haar huis is skoon

 

Ronelda S. Kamfer (Uit: Noudat slapende honde, Kwela 2008)

 

Tafel afdek

 

dít doen hulle in stilte

messe en vurke, warm gevat, koel af.

op ’n glas: haar lip, afgedruk

twee servette, gevlek met vet en vinaigrette

gefrommel langs die sout en peper

wat wagstaan oor wat oorbly van die ete

hy slyp die oorskiet saam op sy bord

en pas vir die was dit bo-op haar leë

sy rol die plekmatjies op

die kurk word die wyn ingestop

opskepbakke afgedra, en hy vra:

“koffie, tee?”

sy sê nee

onder ’n neonbuis in die klein kombuis

is alles wat oorbly detail: sy kyk:

krummels, spatsels, ’n chip in porselein

die fyn netwerk slytsels in die holte van ’n lepel

sy tap water in die wasbak

warmkraan, kouekraan

hy maak kaste toe, elke ding op sy plek

en kyk en wag en vat aan haar nek, haar rug

haar skouers trek

haar ring tik koud teen sink

hy draai terug

om die laaste goed

af te dek.

 

Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, Tafelberg 2008)

 

Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry

 

Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf,

Jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf,

Geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou,

ʼn Vinnige e-mail om kontak te hou.

 

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek,

Ná die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek,

Daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe,

Die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe.

 

REFREIN:

 

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie

En tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.

Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry,

Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry.

 

Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,

Vensters toegespyker, haar dae is getel,

Geen Mini-Cult Cinema, geen Estirol Books.

Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

 

REFREIN

 

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood

En Kombuis se kinders is al amper groot.

Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer,

Maar tog moet ek sê ek het iets geleer:

 

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie

En al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.

Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry

Tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,

 

Is ek deel van hierdie land met liefde en haat,

Het ek te veel gegee en te veel gevat

Om die donker land nou te verlaat,

Om die donker, donker land nou te verlaat.

 

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap,

Ek druk alweer “delete”, laat ons dit hierby laat.

Droom sagte drome in die noordelike nag,

In die suide van Afrika sal ek vir jou wag.

 

Andries  Bezuidenhout (Van die album Bleek berus, wat eersdaags uitgereik word.)

 

 

In hierdie drie gedigte en Andries Bezuidenhout se ballade funksioneer die narratief op dieselfde manier as in die gedigte van Carver, Glück en Williams wat bespreek is: Die verhaal skep telkens ’n ruimte waarbinne ’n reël of twee kan spook, oftewel kan draal soos die refrein van ’n liedjie. In die geval van Bezuidenhout se liriek is die woorde “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry” werklik deel van die refrein, maar dis tegelyk die titel van die liedjie. Die betekenisswangere, poëtiese effek van die reël is egter slegs ’n vae vermoede wanneer dit bloot as titel in isolasie gelees word. Dis eers binne die raam van die ballade wat dit “geaktiveer” word en begin gloei. Die onderskeie slotreëls van Naudé se “Twee diewe” en Kamfer se “Die huisvrou” het ’n baie soortgelyke effek. En binne Loftus Marais se gedig “Tafel afdek” weerklink die doodgewone woorde van die slotreëls (“hy draai terug /om die laaste goed / af te dek”) soos ’n skrikwekkende openbaring.

            Ek sou nie wou kies tussen hierdie vier uitstaande tekste nie, maar volgens Orr se skema behoort ons Bezuidenhout se liriek as die grootste gedig van die vier te beskou. Dit het immers storie en struktuur uit kolom A, sowel as ’n onmiskenbare musikaliteit uit kolom B. In navolging van Orr sou Marais se “Tafel afdek” tweede kom, aangesien dit welluidend van rym en ritme gebruik maak (byvoorbeeld “gevlek met vet en vinaigrette” en “onder ’n neonbuis in die klein kombuis”), hoewel daar weliswaar geen vaste rymskema en simmetriese struktuur soos by die Hillbrow-liedjie is nie. Kamfer en Naudé se gedigte bly egter deeglik in Kolom A. Beteken dit lesers wat diep geraak is deur dié twee gedigte, is oorrompel deur twee prosa-tekste wat as gedigte vermom is?

            Dis myns insiens ’n onsinnige vraag. Vra lesers hulle ooit af wanneer hulle ’n goeie roman gelees het of dit werklik prosa was wat hulle geraak het en nie dalk poësie vermom as prosa nie? Vreemd dat ’n bruikbare definisie van poësie so ontwykend bly, terwyl elkeen verstaan wat bedoel word wanneer iemand ’n roman of rolprent as poëties beskryf. Binne ’n skematiese, normatiewe benadering soos dié van Orr is die vraag na die hoeveelheid poësie wat in ’n gedig teenwoordig is, egter onafwendbaar. En sodra jy daardie vraag stel, raak jy opnuut verstrik in die verskillende menings oor die verskille tussen prosa en poësie.

            Sou dit nie meer sinvol wees nie om te vra na die funksies van verskillende eienskappe binne ’n teks wat as poësie aangebied word? Byvoorbeeld, watter doel dien die gebruik van rym en ritme in ’n spesifieke gedig?

            In terme van die effek van die tekste op die leser speel die ritme en klank by sowel Bezuidenhout as Marais eerder ’n ondergeskikte rol – dis nie waar die grootste betowering en trefkrag lê nie. Vergelyk byvoorbeeld die Hillbrow-liriek met Koos du Plessis se ballade “Op pad na Nooitgedacht”. In laasgenoemde word ’n spookstorie met soveel meesleurende musikaliteit vertel dat die bekoring van die liedjie in die eerste plek in die woordmusiek lê. Die verhaalgegewe is daarenteen triviaal. In die geval van “Dis net werk toe ...” onderskraag en begelei die rym ’n storie wat die verlorenheid van die Voëlvry-generasie treffend verwoord. Die rym maak dit bowenal vir die ballade moontlik om saam met ’n elegiese melodie te sing wat die stemming en impak van die teks versterk. (’n Mens sou ook andersom kon beweer die liedteks is een moontlike interpretasie van die melodie, maar die verhouding tussen liriek en melodie is net so ingewikkeld soos die verband tussen semantiek en metrum of rym.)

            By Marais is die funksie van die rym tweeledig: Dit onderstreep eerstens die illusie van orde en harmonie in die paar se geoefende afdek-ritueel, en versterk só die spanning tussen die oënskynlike vrede en die etterende onbehae wat onder die gladde oppervlak broei. Die rym het dus ’n betekeniskomponent. Tweedens het die rym ’n stilistiese en estetiese element – dit het ’n wesenlike uitwerking op die leser se ervaring van die digter se soepel, elegante stem. Deur te kies om die toneel só te verwoord, gee Marais te kenne dat hy nie met dié gedig in die eerste instansie na “artlessness” strewe nie.(3)  

            ’n Mens sou ook die estetiese keuses wat al vier digters maak, vrugbaar met verskillende regie-style kon vergelyk. Al vier gedigte, met hul klem op visuele detail, kan ’n mens vir die doeleindes van so ’n vergelyking as kortfilms in woordvorm bestempel.  

            Terwyl Marais sagte klankbaanmusiek, stadige aksie en verskeie naby-skote inspan om sy stempel as regisseur af te druk, kies Bezuidenhout die gebruik van melodie en herhaling om die visuele en emosionele detail in sy film se impak te versterk. ’n Mens stel jou as ’t ware ’n rit deur die binnestad van Johannesburg voor met die woorde en musiek wat die verteller se gevoelens oor die landskap en die herinneringe wat daaraan kleef, interpreteer.

            Met haar kortfilm onderskryf Kamfer die estetika van die Dogme 95-beweging. Sy gebruik natuurlike lig en ’n kamera-tegniek wat die storie van die huisvrou met sy duister ondertone na ’n dokumentêre film, ’n stukkie Special Assignment, laat lyk. Die effe rukkerige skote is met ’n handkamera afgeneem en die taalgebruik bly saaklik en spreektalig. ’n Sinvolle keuse indien die regisseur se hoofdoel is om die verrrassingseffek van die gelaaide, ironiese slot te verhoog. Stilisties skep sy só die indruk haar poësie word direk uit die lewe geskeur.

            Naudé se styl van regie toon ooreenkomste met dié van Kamfer – hy gebruik nie klankbaanmusiek nie en die snitte (reëlbreuke) wat hy maak, vestig nie die aandag op die regisseur se vernuftige kamerategniek nie. In sy keuse van register en met die gebruik van surrealistiese elemente soos die gesprek oor die blaar, verwerp hy egter ook die Dogme 95-manifes. Soos die Amerikaanse regisseur Jim Jarmusch (Stranger than Paradise, Down by Law, Dead Man, Ghost Dog ens.) kleur hy ’n oënskynlik realistiese toneel liries in met ’n mymerende reël, soos “... ’n besoeking van oorkant die groot skeidslyn”, en beeldende taal: “Tot die kristalsakrament, die gelag, verdwyn het. / In ’n fladdering, soos twee duiwe wat uit ’n sysak ontsnap.” Die vervreemding van die alledaagse werklikheid wat Naudé só bewerkstellig, gee aan sy anekdotiese kortfilm ’n allegoriese karakter.

 

 

Slotgedagtes

 

Die anekdotiese vers het vanweë die slegte naam van biegpoësie vir sommige poësieliefhebbers ’n negatiewe konnotasie. Dié besproke tekste illustreer egter die vermoë van die verhalende, anekdotiese gedig om onder die oppervlak van die alledaagse te tonnel en om voorwerpe, gebare en woorde in enige register so te raam dat die leser ’n “gevoelde verandering in bewussyn”, ’n verruiming, ervaar. En hierdie “felt change of consciousness” is volgens Owen Barfield die vernaamste effek van poëtiese taalgebruik.

            In die lig van Barfield se stelling sou ’n mens trouens kon vra of “Twee diewe” nie die mees “poëtiese” van die vier Afrikaanse tekste is nie. Dit het immers die vermoë om ’n leser se blik op ’n alledaagse sosio-politieke werklikheid ingrypend te verander. So ’n stelling sou egter dieselfde soort halwe waarheid wees as ’n hiërargiese oordeel wat op Orr se skema gebaseer is.

            Kan ons dus nie maar getroos ophou om die waarheid, die liefde of die poësie te probeer definieer nie en aanvaar die toets vir poësie sal altyd ’n subjektiewe, praktiese een bly? Soos Hoagland in die slot van “On Disproportion” sê:

 

The question arises [...] how much digression, wildness, lack of control, tumult of style and content can a poem contain? Until rapture ruptures? The easy answer, and the only true one, of course, is that it will take as much as it takes. The final standard is whatever works.

 

Kortom, as ’n hond jou byt, vóél jy dit en as jy kragtige poësie gelees het, wéét jy dit, nes James Bond wéét iemand het iets in sy martini gegooi wanneer die kamer begin draai.

 

 

[1] Die Italiaanse filosoof Giorgio Agamben kom tot ’n soortgelyke slotsom in sy essay “The Idea of Prose”: “No definition of verse is perfectly satisfying unless it asserts an identity for poetry against prose through the possibility of enjambement. Quantity, rhythm, and the number of syllables – all elements that can equally well occur in prose – do not, from this standpoint, provide sufficient criteria. But we shall call poetry the discourse in which it is possible to set a metrical limit against a syntactic one (verse in which enjambement is not actually present is to be seen as verse with zero enjambement. Prose is the discourse where this is impossible.”

 

2 Giorgio Agamben beklemtoon hierdie vermoë van enjambement om spanning tussen sintaks, metrum en semantiek te skep in sy essay “The Idea of Prose”: “What precisely is it about enjambement that gives it this governance over the metrics of poetry? Enjambement reveals a mismatch, a disconnection between the metrical and syntactic elements, between sounding rhythm and meaning, such that (contrary to the received opinion that sees in poetry the locus of an accomplished and a perfect fit between sound and meaning) poetry lives, instead, only in their inner disagreement. In the very moment that verse affirms its own identity by breaking a syntactic link, it is irresistibly drawn into the next line to lay hold of what it has thrown out of itself. [...] This hanging back, this sublime hesitation between meaning and sound is the poetic inheritance with which thought must come to terms.”

 

3 Die verband tussen metrum en toonaard, asook die individuele stembuiging, word dikwels buite rekening gelaat. In haar reeds genoemde resensie van Carver se digbundel Where Water Comes Together with Other Water kla Carol Muske byvoorbeeld oor die digter se praatstyl, sy “talky stanzas”, maar verklaar ook: “It is hard not to like the guy talking to us in these poems.” Carver se innemende stem, sowel as die onthutsende verrassingseffek van sy poësie – die liriese intensiteit wat skielik uit die prosaïse verskyn – sal egter verdwyn, indien hy heeltemal ontslae sou raak van die “talky stanzas” wat Muske pla. Sonder sy kort beentjies is die worshond nie meer ’n worshond nie.

 

Donderdag, 21 Mei 2009

Thursday, May 21st, 2009
Marlene van Niekerk & Loftus Marais

Marlene van Niekerk & Loftus Marais

En dan doen die digters dit weer! Die Universiteit van Johannesburg het pas bekendgemaak dat hul R20,000-prys vir ‘n beste debuutwerk vanjaar aan Loftus Marais toegeken is vir sy bundel Staan in die algemeen nader aan vensters. Luidens die verslag word die prys aan Loftus toegeken weens sy gedigte wat “dikwels ‘n ligte, speelse toon en getuig van ‘n belesenheid en taalvaardigheid wat groot belofte inhou.” Daar word ook melding gemaak van die feit dat dit reeds die derde keer is wat die debuutprys aan ‘n digbundel toegeken word. (Gaan lees die volledige berig hier.)

Veels geluk, Loftus! Dit is inderdaad ‘n skitterende prestasie. Mag die vensters altyd ‘n vriendelike bondgenoot wees vir jou …

President Barack Obama

President Barack Obama

 

Vervolgens, buitelandse nuus. Dit wil voorkom asof daar nog ‘n regmerkie agter President Obama se naam geplaas moet word; nie net is hy kort na sy verkiesing by ‘n paar geleenthede gesien met Derek Walcott se stewige versamelde gedigte onder sy arm nie, maar hy en sy vrou, Michelle, het verlede Dinsdagaand ‘n uiters suksesvolle Poetry Jam in die Wit Huis aangebied. Die program, wat voorlesings deur verskeie digters - bekend sowel as onbekend - bevat het, het volgens The New York Times se beriggewer groot byval gevind. Blykbaar was Barack Obama as student ‘n toegewyde en entoesiastiese digter, boonop.

In sy verwelkoming by hul Poetry Jam het President Obama die volgende te sê gehad: “We’re here tonight not just to enjoy the works of these artists, but also to highlight the importance of the arts in our life and in our nation … in our nation’s history.  We’re here to celebrate the power of words and music to help us appreciate beauty, but also to understand pain; to inspire us to action, and to spur us on when we start to lose hope; to lift us up out of our daily existence – even if it’s just for a few moments – and return us with hearts that are a little bit bigger and fuller than they were before.” Amen. Die volledige berig is te lese by The New York Times. Die Wit Huis se amptelike persverklaring is hier te vinde.

Lekker lees aan alles wat nuut is op die webblad!

 LE

 

Dinsdag, 19 Mei 2009

Tuesday, May 19th, 2009
Ilse van Staden

Ilse van Staden

Dit is vir ons aangenaam om aan te kondig dat Ilse van Staden by ons paneel bloggers aansluit. Sy sal my plek om die tafel inneem. So, as poësieliefhebber kan jy solank begin uitsien na die heerlike ete en drinke wat sy in haar blogruimte gaan bedien … Sy het reeds haar eerste inskrywing gister geplaas en dit bevat sommer ‘n paar treffende idees rondom wat ‘n gedig nou eintlik alles kan wees. Ter agtergrond: Ilse van Staden het grootgeword in die Waterberge in die Limpopoprovinsie. Sy matrikuleer aan die Hoërskool Pro Arte (Pretoria) en studeer veeartsenykunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy is deeltyds veearts en deeltyds skrywer. Haar debuutbundel Watervlerk (2003) ontvang die Eugène Marais- en Ingrid Jonker-pryse. Haar tweede digbundel, Fluisterklip, het in 2008 by Lapa verskyn. Lees Ilse se blog hier.

 En dan - wat ‘n plesier was verlede Vrydag se uitgawe van Die Burger nie gewees nie! Nie net was die tweegesprek tussen Daniel Hugo en Danie Marais ‘n skitterende idee nie, maar dié twee “opponerende” digters se hantering van mekaar se vrae was uiters insiggewend en inspirerend. En dan, enkele bladsye verder - Murray La Vita in gesprek met die immergroen Philip de Vos. ‘n Totale leesplesier! (Dié berigte kan onderskeidelik hier en hier gelees word.) Dan was daar ook nog verlede week se uiters suksesvolle voorlesing deur Loftus Marais en Ronelda Kamfer by die Boekehuis in Aucklandpark, Johannesburg. (Lees ’n volledige verslag van dié aand hier.) 

Nietemin, hoekom ek dít alles ter inleiding tot vandag se Nuuswekker noem, is om die stelling te kan maak dat - selfs al is die poel waarin ons hengel, maar klein - ’n enorme verskil ten opsigte van ons digkuns gemaak kan word indien alle belanghebbende rolspelers hande vat in ‘n “totale aanslag”-benadering. Van skrywers tot uitgewers, van letterkundiges tot lesers, van boekhandelaars tot joernaliste, ens. ens. Dit hou immers alles verband met mekaar en indien die apatiese leser op alle fronte deur die digkuns en haar vele aktiwiteite gekonfronteer word, kan dit mos nie anders as om ons digkuns prominent op die wêreldverhoog te plaas waar dit hoort nie?! Of wat praat ek alles?

Soos Andrew Putter, my engelssprekende vriend en voormalige kollega dit eenkeer gestel het: “Poetry will never lie down in the grave that’s been prepared for it.”

Kom aan, mense - die lig voor in die tonnel is presies wat dit is. ‘n Lig.

‘n Lekker dag vir julle. (En stof sommer vandag weer jou gunstelingbundel af en léés hom flou.)

Mooi bly.

LE

Vrydag, 15 Mei 2009

Friday, May 15th, 2009
Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters

Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters

In die nuutste uitgawe van die Poeziekrant (Nommer 2, Maart-April, Jaargang 33) lees ek dat daar omtrent ‘n geskrop in die hoenderhok ontstaan het rondom die publikasie van Hotel New Flanders - 60 jaar Vlaamse poëzie: 1945 - 2005 (Poeziecentrum, Gent). Die samestellers van dié omvattende bloemlesing (752 bladsye, 672 gedigte, 266 digters), is Dirk van Bastelaere (digter), Erwin Jans (dramaturg) en Patrick Peeters (kritikus). Hulle word tans heftig gekritiseer oor die relatiewe prominensie wat hulle aan bepaalde digters gegee het volgens die aantal gedigte per digter wat opgeneem is. Sug. Is daar ooit iets nuuts onder die son?! Nietemin, hul werkwyse was heel eenvoudig (altans, só het hulle gedink …): Die digters is in vyf kategoerieë ingedeel, elk met ‘n stertoekenning.

Van vyfsterdigters is daar dan soveel as nege gedigte opgeneem. Verdermeer is daar ‘n bepaalde kriterium of riglyn gestel by elke kategorie; so moet die digter genoegsaam “vernuwend” wees ten einde vir vyfsterstatus te kwalifiseer. Die gevolg is dat daar in bepaalde gevalle meer gedigte van ‘n digter met enkele bundels op sy kerfstok opgeneem is, as van digters met ‘n veel meer uitgebreide oeuvre wat slegs vir vier of drie sterre kwalifiseer. Dit het uiteraard aanleiding gegee tot ‘n hele debat oor die kwessie van “vernuwing”. Kan ‘n digter met net een of twee bundels agter sy naam, byvoorbeeld, as “vernuwend” beskou word? Volgens die kritici van die bloemlesing is daar eers daadwerklik vernuwing ter sprake wanneer ’n mate van groepering, of navolging, rondom ‘n bepaalde digter se werk ontstaan het.

Nietemin, dié relletjie het my toe meteens laat besef hoevéél “vernuwende” stemme daar in Afrikaans is wie se totale statuur (tans) nog net op een of twee digbundels gebaseer is: Marlene van Niekerk, Gert Vlok Nel, HJ Pieterse, Gilbert Gibson, Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, en natuurlik die twee debutante Ronelda Kamfer en Loftus Marais. Indien ons dan spesifiek na ons eie geblikte Verseboek kyk, wil dit voorkom asof die samesteller tóg daarin kon slaag om meer van ‘n balans tussen produksie en vernuwing te vind; ten spyte van die kritiek wat uit bepaalde oorde geopper is. Maar hoe gemaak met een van ons ware vernuwers wat nie tot bundel wíl kom nie?! Kom aan, Toast, die volk vra na jou!

‘n Lekker naweek vir almal en onthou - Nuuswekker sal Maandag weer hervat.

Intussen kan jy gerus by Facebook of Twitter ‘n draai maak ten einde aan te sluit by ons woelinge dáár.

Mooi bly.

LE

ʼn Bondige verslag oor gisteraand se voorlesing by Boekehuis in Aucklandpark

Wednesday, May 13th, 2009

Dis nou die voorlesing deur Ronelda Kamfer en Loftus Marais, wat uiteindelik ʼn draai kom maak het in Johannesburg. ʼn Paar jaar gelede wou Antjie Krog weet hoekom die energie in Afrikaanse rockmusiek nie ook in die digkuns voorkom nie. Wel, ek skat daardie energie is nou witwarm en selfs dalk sterker as in musiek. Vergeet van kitaar feedback (danksy Vincent Pienaar weet ons die Afrikaans daarvoor is “kringfluit”), die aarde dreun van die lugdrukbore (verskoning aan Loftus).

Die boekwinkel was stampvol en ek het ʼn hele paar skrywers, akteurs en digters opgemerk – Harry Kalmer, Johan Myburg, Jo Prins, René Bohnen, Leon de Kock, Kleinboer, Kirby van der Merwe, David Minnaar, om maar ʼn paar te noem. (Ag, soms moet ʼn mens maar ʼn bietjie skaamtelose name dropping doen. Dis vir ʼn goeie saak.) Corina van der Spoel het vir Ronelda en Loftus om die beurt laat lees, volgens temas. Dit was soos goeie kabaret. Jy lag die een oomblik en die volgende oomblik voel jy skuldig omdat jy gelag het. Toe alles afgehandel blyk te wees is Loftus deur Marianne Fassler teruggeroep om haar gunsteling gedig uit sy boek te lees.

Ek het ʼn ruk gelede ʼn onderhoud met Philip Larkin gelees waarin hy heel negatief oor die voorlesing van gedigte in die openbaar is. ʼn Gedig gaan ook oor hoe dit op papier uitgelê is en punktuasie, sê hy. En ʼn mens kies gewoonlik maar jou meer toeganklike gedigte om by sulke geleenthede voor te lees. Volgens Larkin kan dit tot vervlakking lei. Voorlesings kan dus nooit vir die geskrewe woord op papier instaan nie.

Maar die feit dat iemand met Loftus se boek in haar hand gesit het en gekom het om hom te hoor lees, wys dat die interaksie tussen lees en luister nogal dinamies is. Baie mense het ook bundels gekoop.

Dis tog lekker as soveel mense op ʼn yskoue herfsaand, ʼn weeksaand, uit die huis kom om na gedigte le luister. Vanoggend moes ek ʼn olierige ontbyt eet om daarvan te herstel.

Vir ‘n meer uitvoerige verslag en ‘n paar foto’s, gaan kyk gerus hier.