Posts Tagged ‘Loftus Marais’

Loftus Marais. MyCiTi

Monday, April 23rd, 2012

MyCiTi

kan ruimte jou uitsonder? ek
wat vroegoggend staan

en skielik is oranjestraat leeg
en dit voel asof ek iets verbode ervaar
totdat karre weer aankom

of wanneer mens dink dis ‘n soort gelukskoot
dat die straatligte juis nou
hier aanskiet, rare getuie tot iets gewoons

asof een of ander mag
my goedgesind is, en als is ‘n bietjie meer
omlyn deur teenwoordige lig

mens hoef nie eers alleen te wees nie, soos die nag

wat ek en jy gelê het in ‘n kamer
belig deur net ‘n tv se japanese monsterfliek

of nou die aand, in die bus
die kaap gekonsentreer
tot ‘n groep insittendes

generiese donker verbouings in busvensters
die anonimiteit van ‘n stad in die nag

en ek en ‘n ouvrou glimlag vir mekaar
so tussen die vibrasies
sy wat klou aan ‘n hangband, haar ander hand
in die lus van ‘n winkelsak

godweet hoekom, maar
ons bly so glimlag vir mekaar

  

© Loftus Marais, 2012

Inligtingstuk: Nuwe Stemme 5

Sunday, January 8th, 2012

Nuwe Stemme 5 poësie kompetisie is nou oop vir inskrywings:

Heilna du Plooy en Loftus Marais stel Nuwe Stemme 5 saam. Dit sal die nuutste versameling in hierdie opwindende poësiereeks wees. Alle aspirantdigters word genooi om werk voor te lê vir keuring.

Heilna du Plooy is professor in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit. Sy is ‘n gerespekteerde literator en het ook twee digbundels gepubliseer, Die donker is nooit leeg nie (1997) en In die landskap ingelyf (2003).

Loftus Marais het in Nuwe Stemme 3 gedebuteer. Sy eerste bundel, Staan in die algemeen nader aan vensters (2008), is met niks minder nie as vyf letterkundepryse bekroon. Hy het al opgetree by internasionale poësiefeeste soos die Badilisha! Poetry Exchange en Poetry Africa.

Die reeks se geskiedenis

  • Nuwe stemme 1 (1997) met George Weideman en Anastasia de Vries as samestellers
  • Nuwe stemme 2 (2001) met Petra Müller en Nèlleke de Jager as samestellers
  • Nuwe stemme 3 (2005) met Antjie Krog en Alfred Schaffer as samestellers
  • Nuwe stemme 4 (2010) met Danie Marais en Ronel Foster as samestellers

Die bundelreeks het met die verloop van slegs ‘n paar jaar reeds ‘n instelling geword, en een waarin verskeie gerekende digters gedebuteer het. Hulle sluit die volgende bekende name in: Martjie Bosman, Ilse van Staden, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal, Jo Prins, Melt Myburgh, Danie Marais, Ronelda S. Kamfer, Loftus Marais, Jasper van Zyl en Fourie Botha.

Reëls

  • Die sperdatum vir voorleggings is 31 Maart 2012.
  • Stuur ‘n manuskrip met sewe ongepubliseerde gedigte wat aan die volgende voorwaardes voldoen:
  • Slegs Afrikaanse gedigte sal oorweeg word
  • Die manuskrip moet in dubbelspasiëring getik word
  • Geen elektroniese weergawes sal in aanmerking kom nie
  • Manuskripte moet in drievoud voorgelê word, en ‘n inskrywingsblad moet vooraan elk van die drie stelle voorleggingskopieë vasgekram word – die inskrywingsblad kan by www.tafelberg.com afgelaai word.
  • Stuur jou manuskrip na:

Nuwe Stemme 5

Posbus 879

Kaapstad

8000

  • Geen manuskripte sal ná die inskrywingsproses aan digters terugbesorg kan word nie. Suksesvolle digters sal deur Tafelberg in kennis gestel word waarna die uitgebreide redigeringsproses in oorleg met die samestellers sal geskied. Ongelukkig sal daar nie verslae of kommentaar aan alle deelnemers gelewer kan word nie. Die finale oordeel berus by die samestellers en geen korrespondensie sal hieroor gevoer word nie.

 

Nuwe platform op Facebook:

  • 1. Hoewel bogenoemde gedrukte inskrywings noodsaaklik is, word alle aspirantdigters ook genooi om reeds vanaf 10 Desember 2011 deel te word van Nuwe stemme 5 se Facebook-groep en drie van hulle beste verse op hierdie blad te plaas. Kommentaar van belangstellendes in die groep kan digters help met die vormgewingsproses voordat hulle finale inskrywings indien.
  • 2. Hierdie internet-gespreksruimte, gefasiliteer deur Facebook, sluit op 1 April 2012.
  • 3. Die beste digters – nie minder as 15 maar nie meer as 30 individue nie – sal uit die voorlegging van manuskripte aan Tafelberg-Uitgewers geselekteer word. Daar sal direk met hulle in verbinding getree word. Hulle sal dan genooi word om eksklusief lede van ‘n finale Facebook-groep te word. Vanaf 1 Julie tot 31 Augustus 2012 sal die twee samestellers, binne hierdie geslote groep, kommentaar en raad plaas. Hierdie lede word aangemoedig om na aanleiding van kritiek en kommentaar van die samestellers ‘n hersiene weergawe aan Tafelberg voor te lê, sodat die redigeringsproses reeds met hierdie terugvoer begin.
  • 4. ‘n Finale, kleiner groep van digters sal dan hierna geselekteer word, en hulle moet verkieslik beskikbaar wees vir ‘n naweekwerkswinkel in September 2012. Insluiting in hierdie groep verseker egter nie opname in die bundel nie. Net die heel beste gedigte sal ná afloop van die werkswinkel geselekteer word vir publikasie.
  • 5. Tafelberg beoog om die bundel in die eerste helfte van 2013 te publiseer.

Navrae kan gerig word aan:

Danita van Romburgh

Tel: (021) 406 3412

Faks: 086 531 1609

E-pos: dvanromb@tafelberg.com

NB-skakelbord: (021) 406 3033

Media navrae kan gerig word aan: Eben Pienaar (eben@nb.co.za of 021 406 3450)

Inligting en inskrywingsblad ook beskikbaar by www.tafelberg.com en www.nuwestemme5.com

 

 

Louis Esterhuizen. Brian Eno se suikerklontjie vir die poësie

Thursday, November 24th, 2011

 

Soos vantevore berig, woed daar tans ‘n nogal venynige debat oor Ann De Cramer se uitlating dat die digkuns geen bydrae te lewer het tot die moderne kultuurbelewenis nie. Pas het niemand minder nie as Brian Eno (foto), suikerpappie van die musikale avantgarde, egter die ongewone stap geneem om ‘n totaal ánder perd met sy nuutste album op te saal. Hy het naamlik ten nouste met die Britse digter, Rick Holland, saamgewerk en laasgenoemde se gedigte met sy musiek verweef. Drums Between the Bells is die album se naam en “poetry music” noem hulle die styl daarvan.

“We are all singing. We call it speech, but we’re singing to each other,” het Eno glo hierdie nuwe insiatief van hom gemotiveer. “I thought, as soon as you put spoken word onto music, you start to hear it like singing anyway. You start to develop musical value and musical weight, and you start to notice how this word falls on that beat, and so on.”

Volgens The Telegraph se Lucy Jones, het dié ingesteldheid gunstige aanklank by Holland gevind aangesien hy klaarblyklik een van die ontnugterdes des poësies is: “I went to a couple of poetry recitals a long time ago and was really turned off by how the thing were run and how they were delivered,” het hy aan Jones gesê. “I didn’t like the formal aspect of sitting down and facing a collection of readers, most of whom weren’t particularly proficient or confident at reading. What they were saying might have been interesting but I found that sitting down and listening to six people pour their heart and soul out is just a bit much.”

Oor Eno het hy hom soos volg uitgelaat: “Eno is like a mad professor. He’s incredibly excitable and excited all the time. The problem is to stop him trying new things and to get the project finished. He liked my image bank, the content of my words and the fact they weren’t too elaborate and long. That meant they were good for him to manipulate in musical terms.”

En net verlede week ontvang ons nuwe voorraad van Breyten Breytenbach se Mondmusiek en Lady One en ek luister weer daarna en ek dink: Liewe magtig! Die res van die literêre wêreld speel nog steeds “catch up”. (Of is dit deesdae gewoon “ketchup”?) Nietemin, of Holland se gedigte Breyten s’n kan oortref, is ernstig te betwyfel en wat Rhythm Records se Albert du Plessis en sy mede-trawante musikaal op hierdie CDs vermag, is inderdaad ‘n kragtoer soos min.

Maar reflekteer die verkope van hierdie ongelooflike (plaaslike) produkte die waagmoed en kwaliteit daarvan? Mmmm … Ernstig te betwyfel.

En dít, geagte leser, is die prys wat ons betaal te midde van die heersende “cult of mediocrity” waarvan ons tragies genoeg óók deel is. Vir die middelmatige, dog kommersieel suksesvolle, word hande geklap, terwyl die werklik briljante verswyg of geïgnoreer word.

Helaas kon ek geen gedigte van Rick Holland opgespoor kry nie, maar aangesien ek op die oomblik só moerig is dat geen Eno’s daarvoor sal help nie, plaas ek sommer Loftus Marais se veelseggende gedig hieronder vir jou leesplesier.

***

 

Die digter as rockstar

vir Coennie

 

fok jou, ek pak sportstadions vol

vir my flits paparazzi splitsekonde wit bladsye

ek dra my punctuation as piercings

my woorde trash hotelkamers, fok jou

woofers sidder jambes

en die groupies se sashimi-poesies drup vir my

ek is die digter in ‘n studded leather broek

ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars

lighters swing op my sonette

fok julle almal

gevuisde skares skreeu my koeplette

daar’s stukke wallace stevens op my rug getatoeër

ek is die digter as rockstar

en kyk, nee lees, luister, dammit hóór:

ék is nie ‘n beiteltjie nie

ek is ‘n fokken lugdrukboor

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)

 

 

Andries Bezuidenhout. Melville se poësiefees, 2011 – fotobeeld

Monday, October 17th, 2011

Dis nie met groot fanfare afgekondig nie. Die fees se baniere het ʼn underground kwaliteit gehad – dit is nie dwars oor strate opgehang nie, maar tussen die pilare van Melville se 1930s-geboue. Die Facebook-bladsy is eers ʼn week of wat voor die fees opgesit, die program selfs later. Maar nuwe bundels is die wêreld ingestuur (een van Gail Dendy), gesprekke is gevoer (een oor die nalatenskap van Wopko Jensma), gedigte is in binnehowe en restaurante voorgelees, weefwerk tussen beeldende kuns en woordkuns is teen mure opgehang (deur Hans Pienaar en Charl-Pierre Naudé), musiek is in teaters opgevoer, ʼn imbongi het van Melville se dakke af geroep (darem deur luidsprekers, spookagtig in die kalklig), gedigte is sommer op straathoeke voorgelees – enigiemand kon kom luister.

Ek wil nie veel hier sê nie, laat die foto’s eerder praat. Ek wil egter twee punte maak, oor wat die fees vir my besonders gemaak het:

Eerstens, die intieme skaal en aard van die voorlesings. Daar was twee geleenthede vir Afrikaanse gedigte – die een in ʼn restaurant se binnehof (“Melon Courtyard”) en die ander in ʼn aardige kroeg/restaurant (“Love & Revolution”). Daar was nie mikrofone en luidsprekers nie. Hans Pienaar het elke digter op sy rustige manier voorgestel en dan het mense sommer opgestaan waar hulle sit en hul gedigte voorgelees. In Love & Revolution het ek sommer op die vloer gesit, dalk die beste plek in tye van liefdeloosheid en revolusies wat skeef loop. Die spanning tussen van die digters het die geleentheid ʼn vreemde tipe energie gegee.

Tweedens, die ware Johannesburgstyl. Dit was ʼn Suid-Afrikaanse fees, waarin Afrikaans ook verteenwoordig was, as een van baie tale. Op ʼn persoonlike noot was dit vir my lekker om my musiek aan mense te kon voorstel wat nie andersins daarna sou luister nie. Ek het gepraat oor Voëlvry se verbintenis met Johannesburg en die vertoning met Kerkorrel se “Gee jou hart vir Hillbrow” afgeskop; dinge van daar af verder geneem. Al kon sommige van die mense in die gehoor – waarskynlik die meerderheid – nie Afrikaans verstaan nie, was die ontvangs tegemoetkomend en het ek welkom gevoel.

Gee jou gedigte vir Hillbrow...

Banier tussen pilare

Gedigte op straathoeke

Christo van Staden, ook bekend as Johannes van Jerusalem

Corné Coetzee lees voor, Hans Pienaar luister

Toast Coetzer lees: "Die Here is my herderspastei..."

Loftus Marais lees, Harry Kalmer heel links

Charl-Pierre Naude lees, Johann Lodewyk Marais in die gehoor

Rene Bohnen lees

En Cornel Judels

Heidi Papadopoulos

Johann Lodewyk Marais, oor Livingstone en Lamu

Desmond Painter. ‘n Blues liriek

Wednesday, June 8th, 2011

Hierdie een lees nie so lekker nie, jy moet hom eerder sing. Gebruik sommer die deuntjie wat tydens die skryf deur my kop galop het, Bob Dylan se “Dirt Road Blues”, van die album Time out of Mind. Dit is in elk geval ‘n amper generiese blues ‘riff’, waarskynlik ‘n variasie op iets wat Dylan iewers gehoor het. Terloops, ek het die liriek op ‘n keer vir Loftus Marais gewys. Hy het sy kop meewarig geskud en gesê die verwysing na die blomme in die voorlaaste strofe is gewoon ontoelaatbaar in ‘n hedendaagse Afrikaanse gedig. Hy is natuurlik heeltemal reg.

***

stofpad

.

ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien

ja ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien

o ek draf met die stofpad langs

my hart raas soos ‘n blik kantien

.

jy het my hart gebreek in sewe stukke niks

ja jy het my hart gebreek in sewe stukke niks

o my hart het jy gebreek

my asem jaag in my keel ek is onfiks

.

ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei

ja ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei

die wolke bo dreig om te val

ek hoop om vanaand nog ‘n lift te kry

.

iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf

ja iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf

ek moet ‘n lang en wye draai draf

maar vat jou spoor weer anderkant die werf

.

ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk

ja ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk

die vergeet-my-nie is vir jou my lief

al weet ek jy verkies die aronskelk

.

eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal

ja eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal

maar totdat ek eendag ophou soek

draf ek hierdie stofpad tot ek val


Is jong digters krities genoeg ingestel?

Friday, March 18th, 2011
Daaglikse brood

Daaglikse brood

Vanweë ‘n mens se belangstelling in die breë verhoog van die digkuns, sal ‘n beskouing oor die stand van die digkuns in ‘n bepaalde letterkunde seker altyd jou aandag trek. Toegegee, nie alle beskouings is egter ewe goed of gesaghebbend nie, maar pas het die Vlaamse digters, Bart van der Straeten en Tom Van Imschoot, egter in dié verband ‘n besonder insiggewende rubriek op Rekto:Verso gelewer.

In hul rubriek kyk hulle nie net indringend na die dinamiese aard van die Vlaamse digkuns nie, maar  werp hulle ook ‘n ondersoekende kyk na die bydraes van die jonger geslag digters en hoe hulle binne die groter geheel van die lettere hul voete vind. En dit is juis dié gedeeltes wat my op nadenke betrap het, want hoe belangrik is dié aspek nie! Ook spesifiek in ons eie digkuns waar ‘n toenemende hoeveelheid jong(er) digters hul toetrede tot die digkuns maak.

So wat kan ons uit hul betoog op ons eie situasie van toepassing maak?

In hoofsaak het Van der Straeten en Van Imschoot dit teen die jonger generasie se voorkeur aan performance en hul al te dikwels nie-kritiese ingesteldheid teenoor dit wat geproduseer word: “Hoewel het veelvuldige, onderlinge uitwisselen en het populaire gebruik om poëzie op een podium te brengen net te maken hebben met het verlangen om van poëzie een gemeenschappelijke zaak te maken, ontbreekt het de gemeenschap van dichters die net komen kijken aan reflectie en stellingname daarover. Ze mist politiek-poëticaal bewustzijn, kortom. Het jonge dichtersgild mag zich dan wel verheugen over de big happy family die het meent te zijn, de vraag rijst of er buiten de familie iemand luistert naar wat er onder die gezellige stolp gebeurt.”

Volgens hulle is die rede vir dié toedrag die volgende: “Daar is een reden voor. Wie vandaag als jongere in Vlaanderen poëzie begint te schrijven en te publiceren, komt terecht in een gemeenschap die in de eerste plaats een sociologisch netwerk is. Ze hangt aan elkaar van vriendschappen en contacten. Die zijn vast en zeker stimulerend, en er mag veel, wat erg prettig is. Niemand legt een ander een strobreed in de weg om te doen wat hij of zij wil doen. Die vrijheid lijkt mee te brengen dat er geen behoefte meer bestaat om na te denken over de positie die men binnen én buiten de niche inneemt. In bepaalde opzichten komt het voor als een bevrijding dat er bij de jonge generatie geen stromingenstrijd gevoerd hoeft te worden.”

Dit, ten spyte daarvan dat daar wél poëtiese diversiteit bestaan; dié verskillende benaderings word kennelik aanvaar, of verdoesel, en selde oor besin óf gedebateer. “Het anything goes, een afgesleten en verkeerd begrepen erfenis van de postmoderne generatie, lijkt deze dichtersbent te ontheffen van de plicht om zichzelf te legitimeren. Zo doemt op de grote familiefeesten het spook van de vrijblijvendheid op.”

Inderdaad, ‘n sterk pleidooi om die poësie uit sy gemaksone te neem en weer krities-ondersoekend na die samelewing te laat kyk: “We hebben dichters nodig die de poëzie kunnen bevrijden uit de subculturele gevangenis waarin ze gestopt wordt, gezellig maar geneutraliseerd. We hebben dichters nodig die (actief) waken over wat de poëzie werkelijk is: een gemeen goed.”

Hierdie is gewis ‘n rubriek wat deur alle poësieliefhebbers gelees behoort te word; veral die reaksies daarop vind ek uiters sinvol en belangwekkend.

Vir jou leesplesier volg daar ‘n toepaslike gedig deur een van ons eie belowende jong digters onder aan hierdie Nuuswekker.

***

Sedert gister het daar heelwat blogs bygekom: Heilna du Plooy het haar eerste blog, in die vorm van ‘n gedig met ‘n kortverhaal daarby, gelewer; Marius Crous skryf oor voorblaaie en Spivak se bestuurslisensie terwyl Marlies Taljard ‘n gesprek wat sy met Cas Vos oor antieke tekste gevoer het, in haar blogruimte geplaas het. Intussen is daar ook nuwe verskamers vir onlangse debutante ingerig. Gaan kyk gerus en lees solank die eerste verse van Andries Samuel en Louis Jansen van Vuuren.

Ten slotte vra ek by voorbaat om verskoning dat ek nie met Maandag se Nuuswekker die gebruiklike aankondiging oor nuwe bydraes sal kan lewer nie. Dit sal ‘n geskeduleerde plasing wees aangesien ek en ons geliefde webmeester hierdie naweek hopelik nie in die omstreke van rekenaars gaan wees nie.

En daarmee is die iewat langer naweek op hande. Geniet hom!

Mooi bly.

LE

 

Die digter as rockstar

vir Coennie

 

fok jou, ek pak sportstadions vol

vir my flits paparazzi splitsekonde wit bladsye

ek dra my punctuation as piercings

my woorde trash hotelkamers, fok jou

woofers sidder jambes

en die groupies se sashimi-poesies drup vir my

ek is die digter in ‘n studded leather broek

ek breek my versreëls oor julle koppe soos guitars

lighters swing op my sonette

fok julle almal

gevuisde skares skreeu my koeplette

daar’s stukke wallace stevens op my rug getatoeër

ek is die digter as rockstar

en kyk, nee lees, luister, dammit hóór:

ék is nie ‘n beiteltjie nie

ek is ‘n fokken lugdrukboor

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)

 

Onderhoud met Melt Myburgh oor die komende Woordfees

Tuesday, February 1st, 2011

Elwe & Selwe – En kuier kán die spulletjie!

Louis Esterhuizen gesels met Melt Myburgh, Woordfees se Woordkunsprojekbestuurder

Melt Myburgh

Melt Myburgh

Melt Myburgh woon op Stellenbosch en werk by Woordfees as Woordkunsprojekbestuurder. Hy het langs die Oranjerivier op Karos naby Upington grootgeword.

Nadat hy in 1992 ‘n M.A.-graad in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het, was hy vir 15 jaar lank onderwyser in Afrikaans en Engels in skole regoor die land.

Van sy gedigte is in Nuwe Stemme 2 opgeneem. Hy skryf gereeld vir Rapport se boekeblad.

 

Sy debuurbundel, Oewerbestaan, het verlede jaar by Protea Boekhuis verskyn.

 

Melt, ten eerste veels geluk met ʼn uiters indrukwekkende program. Met die eerste deurkyk wil dit voorkom asof dié program meer omvangryk is en selfs nog meer verskeidenheid bied as wat dit in die verlede was. Is dit so?

Baie dankie, Louis. Die program is inderdaad omvangryker as verlede jaar omdat soveel nuwe uitgewers en belangegroepe met aanbiedings aangesluit het by die Woordfees. Om eerlik te wees, ons wou ʼn kleiner formaat aan feesgangers bied, maar die energie wat die Woordfees oor die afgelope paar jaar laat versnel het, is duidelik nog nie uitgewoed nie.

Hierdie is reeds die tweede Woordfees-program waarby jy betrokke is as Woordkunsprojekbestuurder. In welke mate voldoen vanjaar se fees aan die persoonlike doelwitte wat jy daarvoor in die vooruitsig gestel het?

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

Woordwerkers: Dorothea van Zyl & Melt Myburgh

My persoonlike doelwitte stem ooreen met die Woordfees sʼn; juis daarom bly my werk my passie. Ons streef daarna om ʼn platform vir woordkunstenaars te skep sodat die breë publiek kennis kan neem van hul werk en dit geniet. Vir my is dit belangrik dat skrywers en kunstenaars op ʼn fees soos hierdie geakkommodeer word met die respek wat hulle verdien. Daarom lê veral die profielaanbiedings, waar skrywers gehuldig word vir hul bydraes tot ons letterkunde, my na aan die hart.

Melt, ons fokus is uiteraard die teenwoordigheid van digkuns op die program. In dié opsig is daar die spesiale verering van TT Cloete wat vanjaar nie net 86 word nie, maar ons ook met ʼn magtige bundel, Onversadig, verras. Vertel ons ietsie meer oor dié spesifieke item wat op 9 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum plaasvind?

TT Cloete

TT Cloete

Ons is baie gelukkig om vir TT Cloete in hierdie senior lewensjaar van hom vir die eerste keer by die Woordfees te ontvang. By die profielaanbieding lewer Joan Hambidge ʼn oorsig oor Cloete se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Heilna du Plooy praat oor Cloete as mens. André Strijdom het pragtige toonsettings van Cloete se verse gemaak en die sopraan Elizabeth Frandsen sal hiervan sing by die geleentheid. En natuurlik lewer Cloete ʼn wederwoord.

Vir my was dit tot dusver ʼn inspirerende ervaring om met Cloete te skakel om alles gereël te kry.

Nog ʼn besonderse item is die gesprek wat die twee Marais’s, Danie en Loftus, tydens ʼn noenmaal op 8 Maart by De Vette Mossel gaan voer oor die indringende vraag “Hoe vry is die vrye vers?” Wat vermoed jy kan ons van dié gesprek te wagte wees?

Danie en Loftus het ingestem om vanjaar se LitNet-skryfskool, wat moontlik gemaak word deur Sanlam, aan te bied. Tussen die skryfskool-sessies word daar by De Vette Mossel oor middagete gesprek gevoer oor die onderwerp “Hoe vry is die vrye vers?” Ek vermoed dit gaan ʼn baie interessante gesprek wees. Die kwessie van die praatvers, waaroor daar gereeld hier op Versindaba rede gevoer word, sal sekerlik aangeroer word.

Hopelik stik voorstanders van tradisionele vormvaste konstruksies darem nie in die heerlike seekosgeregte wat De Vette Mossel voorsit nie.

Joke van Leewen

Joke van Leewen

ʼn Groot verrassing op die program vanjaar, is die teenwoordigheid van Antwerpen se voormalige stadsdigter, Joke van Leeuwen. Waarom het julle juis op haar besluit en hoe moeilik (of maklik) was die onderhandelinge om haar in te voer Stellenbosch toe vir dié geleentheid?

Die Woordfees is baie bevoorreg om ʼn vennootskap te hê met organisasies wat skrywers uit die Lae Lande sekondeer vir optrede tydens die fees in Stellenbosch. Danksy die ondersteuning van die Nederlandse Taalunie, bemiddel deur die Kaapse Forum, kan ons vir Joke, ʼn uitstekende voordragkunstenaar, akkommodeer in die volgende program-items: Poësie: vyf van die beste op 10 Maart om 19:00 in die Sasol Kunsmuseum, Soete Groete op 11 Maart om 19:00 in die Bilton Wynlandgoed en by die Neerlandistiekdag op 12 Maart vanaf 09:00 tot 14:00 in die Lettere-gebou se Lokaal 693. 

Dorothea van Zyl het al ʼn optrede van Joke in Nederland meegemaak, en was baie beïndruk met haar. Die korrespondensie tussen die Woordfeeskantoor en Joke was tot dusver joviaal: in terme van toeganklikheid en professionaliteit is sy ʼn engel.

Wat ons die afgelope tyd opval, is dat Nederlandse skrywers ons al hoe meer kontak en aandui dat hulle graag by die Woordfees sou wou optree.

Soos altyd bied die Woordfees ook heelwat vir die jonger, meer avontuurlustige poësieliefhebber. Watter items het julle juis met hierdie oogmerk by die program ingesluit?

Dit is altyd heerlik om debuutdigters by die Woordfees te akkommodeer. Vanjaar bring NB-Uitgewers vir Martina Klopper (Nadoodse ondersoek) en Andries Samuel (wanpraktyk). Hulle tree op 8 Maart om 18:00 in die Erfurthuis in gesprek met Joan Hambidge.

Oopmonddigters

Oopmond, onder leiding van Ronel Nel, is ook weer op die program. Dié gewilde aanbieding het verlede jaar sy Woordfeesdebuut gemaak. Ek dink die name wat deelnemende digters toe-eien, sê alles oor die gewildheid van dié tradisionele geveg tussen vers-makers: D.J. Stotterman (Andries Bezuidenhout), Breyten Lykverdag, (Niel van Deventer), Joe Moer! (Jo Prins), Ingrid Dronker (Ronel Nel) en NP van Lykskou (Danie Marais). Hulle is op 10 Maart te sien in die nuwe Dorpstraat Teater net buite Stellenbosch.

Die Adam Tas Studentevereniging sorg vir ʼn heerlike opskop by Aan de Braak Teater op 11 Maart om 20:15 met Drink, dig, kuier! Hulle maak spesifiek voorsiening vir studentedigters. En soos jy weet, Louis, is hier baie talent onder die Maties. En kuier kán die spulletjie!

En natuurlik is daar ook heelwat items vir die meer besadigdes onder ons; soos byvoorbeeld Skemerverse (13 Maart, Botaniese Tuin, 18:00) waarmee die fees tradisioneel afsluit. Watter soortgelyke items is daar om na uit te sien?

Gert Vlok Nel

Gert Vlok Nel

Skemerverse, wat vanjaar spog met digters soos Gert Vlok Nel, Ronel Nel, Andries Bezuidenhout, Robert Bolton, Johan Myburg, Jo Prins en Ronelda Kamfer, verkoop gewoonlik vroeg-vroeg uit.

Ek is baie opgewonde oor Engelse digters wat onder Leon de Kock se vlerk saamtrek. Hulle word ondersteun deur ProQuest, ʼn maatskappy wat digitale inligtingstelsels verskaf aan opvoedkundige instellings. Op 11 Maart om 17:00 lees Finuala Dowling, Sindiwe Magona, Ari Sitas, Marí Peté en Karin Schimke saam met Leon uit hul werk voor in die Boektent. Die Woordfees verwelkom digters en skrywers in tale waarmee Afrikaans ʼn historiese en geografiese verwantskap deel.

Een van die hoogtepunte op die poësieprogram is Poësie: vyf van die beste op 10 Maart in die Sasol Kunsmuseum. Hier word feesgangers getrakteer op verskuns uit die boonste rakke met T.T. Cloete, Petra Müller, Lina Spies, Danie Marais en Joke van Leeuwen.

Op die NB-program kan ons luister na Mari Grobler oor haar nuwe bundel, Toe dit nog vroeg was (8 Maart om 11:00) en Joan Hambidge oor Visums by verstek (10 Maart om 14:00). Tom Gouws en Marthinus Beukes voer op 12 Maart daar in jou en Marlise se Protea-boekwinkel die woord oor Gouws se Ligloop.

Liefhebbers van die klassieke vers-kuns kan op 12 Maart gaan luister na die US Departement Antieke Studie se aanbieding van ʼn dramatiese voorlesing uit die werk van die Romeinse liefdesdigter Catullus. Ek haat en ek het lief beloof om iets besonders te wees.

Ek is baie bly dat ons die bekendstelling van Adinda Vermaak en Pieter Strauss se Rymreise kan akkommodeer. Dié bloemlesing vir laerskoolleerders word deur Nasou Via Afrika bekend gestel tydens ʼn pragtige geleentheid in die US Kunsgalery op Vrydag 11 Maart om 19:00. Alida Bothma se illustrasies, wat in die bundel opgeneem is, word ook daar uitgestal.

Die ATKV se multimedia-tentoonstelling Skilder met woorde II, waarin gedigte met skilderye en ʼn klankbaan vermeng word, is ʼn ervaring wat nie misgeloop moet word nie. Sewe digters se werk is hierin opgeneem en die tentoonstelling is van 4 tot 13 Maart te sien in die Sasol Kunsmuseum.

Melt, persoonlik vind ek die items wat by die kategorie “Woordmusiek” aangetref word, besonder opwindend; veral omrede so baie van hierdie musiekitems in kombinasie met toonsettings van gedigte en/of voorlesing geskied. Watter van hierdie sou jy as moontlike hoogtepunte uitsonder?

Petra Müller

Petra Müller

Om iets uit te sonder is mos soos om ʼn oupa te dwing om tussen sy kleinkinders te kies. Ek dink egter Boegoe vannie liefde, Witlig en Vergesigte Vermeerder in Vers en Fuga is bo-aan my lysie. Die poësie van Hans du Plessis, Petra Müller en Tom Gouws word in dié pragproduksies omtower tot multimedia-ontploffings van woord, beeld en klank.

Ten slotte – ek vermoed dat daar met die saamstel van so ʼn omvattende program altyd items is wat vir watter rede ook al, nie geakkommodeer kan word nie. Items wat jy besonder graag sou wou betrek, maar helaas nie kon nie. Is ek verkeerd hierin of is daar inderdaad items buite rekening gelaat waaroor jy spyt is?

Ja, daar is items wat nie op die fees geakkommodeer kon word nie omdat daar eenvoudig nie plek op ʼn omvattende program is nie. Of soms is kunstenaars nie beskikbaar nie. Ek mis byvoorbeeld die ASV se bydraes vanjaar. Dit breek altyd mens se hart as iemand weggewys moet word. Maar daar is altyd ander geleenthede waar mens weer kan inhaal, soos met Versindaba later vanjaar.

Baie dankie vir hierdie gesprek, Melt. Mag vanjaar se fees vir jou nie net ʼn kroonfees wees nie, maar ook ʼn persoonlike vreugde.

Baie dankie, Louis; ek hoop woordliefhebbers geniet die fees net soveel soos verlede jaar. By wyse van toegif volg Zandra Bezuidenhout se feesgedig, “Elwe & Selwe” hieronder.

 

Elwe & Selwe

 

Op hierdie Woordfees gaan ons delwe

na die vele elwe en die selwe.

Deur woorde, kuns en die musiek

lig ons die sluiers oor geheime,

en reis ons met die oog en oor

langs al die wonderlike weë

wat die sinne en die hart bekoor.

 

Eintlik is ons almal elwe,

elkeen anders, elk uniek,

party met een, party met baie selwe.

Die Woordfees wil die pad plavei

vir jou en my om saam te dans

langs duisend kronkels van genot,

waar elf en self, vermom as kunstenaars,

kom goël en smokkel met die kop.

 

Elke asem, elke elf en self,

kan deelhê aan die spel van twintig-elf.

Die taal se pyl en boog, so word vertel,

is droom en fantasie se metgesel.

Maak dus jou koker vol;

kom jag die storie-bokkies sonder tal.

Ja, ‘n fees wat op die spoor van woorde loop

maak die poorte na ‘n sprokieswêreld oop!

 

(c) Zandra Bezuidenhout

 

 

Amanda Lourens. Op soek na ’n venster vir ’n tikkende madam

Saturday, January 15th, 2011

Ek het die gesprek oor veral ras in die Suid-Afrikaanse samelewing en denkwêreld na aanleiding van Pieter se blog van 14 Desember  met groot belangstelling gevolg.  Self is ek in my daaglikse lewe baie bewus van ras, klas en gender, soms in so ’n mate dat ek  al gewonder het of ek dit moontlik te ver voer en my as’t ware benadeel deur graag  vanuit hierdie perspektief na die lewe en die letterkunde te kyk? Kompliseer ek dinge dalk soms onnodig, deurdat ek dikwels vrae stel oor “onskuldige, alledaagse” situasies? 

Antjie Krog is spesifiek ’n digter en skrywer wat dit keer op keer regkry om my eie gedagtes of ervarings trefseker te verwoord, sodat ek my eie belewenisse dikwels beter begryp na ek haar werk gelees het.  So vertel sy in Begging to be black hoe sy elke gesinsbesluit oorweeg: Is hierdie spesifieke aksie  nie dalk wit-bevoorreg, uitbuitend, onregverdig nie?  Sy besluit byvoorbeeld daarteen om na ’n produksie van Lohengrin in Pretoria te gaan kyk – die sopraan se vliegkaartjie alleen kan die plaaslike township ’n jaar lank van elektrisiteit voorsien.  Wanneer ek dit lees, wil ek in die strate uithardloop en dit uitbasuin: Iemand, en boonop ’n grande dame van die letterkunde, ervaar dieselfde as ek!  Dalk is ek oplaas nie hopeloos stapelgek, soos my hoërmiddelklaskennisse reken ek is nie.  Ek wens ek kon op Antjie se voorstoep opdaag en haar vra wat máák ’n mens met jouself as hierdie dinge gereeld by jou spook; hoe leef jy met die konstante vrae oor reg en onreg, oor bevoorregting en skuld?

 Dus het spesifiek Wysneus se een stukkie kommentaar my bygebly:  “Daar is meer aan die lewe as ras, klas en geslag.”  Daarmee saam het ek  gewonder: Is dit moontlik vir my en my generasie om ooit verby hierdie werklikhede (of is hulle eerder konstruksies?) te kyk?  Ek verstom my dus gereeld aan studente se vryheid van sommige van die obsessies wat my en my tydgenote steeds striem. 

Wat gender betref – ’n anekdote.  Ek het my studente op ’n slag Krog se “weer eens” (haar intertekstuele gesprek met Eybers se bekende gedig) laat ontleed:

ek kom weer eens nie uit met my budget nie

die suiker en melkkoepons is op

langs my masjien lê stapels stukkende klere

spinnekoppe weef macramé teen die mure

my gesin grawe in leë koekblikke na iets om te eet

my baba het brandboudjies

my dogtertjie swere

my oudste hakkel van een of ander tekort

my man byt op sy tande

stoot die koolbredie agteruit

en druk sy sigaret stadig in die bordjie dood … […]

 

Ek het gehoop dat hulle die dwingelandy van die eise wat die (patriargale) samelewing aan ma’s stel, sou raaklees.  Die meeste van hulle was egter vas oortuig dat armoede die tema in bostaande uittreksel is.  Die “leë koekblikke”en “stukkende klere” is vir hulle nie die vergestalting van die huisvrou se algemene gevoel van ontoereikendheid nie ; hulle herken nie die skuldgevoel van die ma wat voel dat álles wat in die huis verkeerd loop – brandboudjies, swere, ’n gehakkel –  haar persoonlike skuld is nie.  Miskien is hulle bloot te jonk; dalk het ons verbruikersamelewing hulle gekondisioneer om te dink dat stukkende klere nie heelgemaak kan word nie en dat winkelkoekies die enigste opsie is?  Dalk het die nuwe generasie grootgeword sonder die juk van modelle van vroulike huishoudelike perfeksie.  (In my studentedae op Tukkies het die meisies nog hulle kêrels se wasgoed in die waskamer staan en stryk, sodat die hele koshuis van hulle status as onderweg-na-mevroue kon kennis neem.  Ja, regtig.) 

’n Mens sou nog kon redeneer dat vroue van my generasie dalk bloot moet besef ons leef in ’n nuwe eeu, en dat skuldgevoelens oor  nie-perfek versorgde huise en spruite maar na hul graf neffens gepermde en gespuite haarkapsels gestuur moet word.  (Of is ons in dermate ingeperk, geprogrammeer deur die voorskrifte en modelle van ons jeug dat ons as amper-middeljariges steeds probeer gehoor gee aan die eise van ’n nou minder sigbare sisteem?) 

Maar sonder om gender heeltemal saam met die skottelgoedwater uit te gooi, bly ras en klas op ’n meer direkte, en meer ontstellende manier met ons.  Sonder  ’n bewustheid van of nadenke oor die kwessies van ras en klas en sou die lewe moontlik geriefliker kon wees; ’n verleidelike gedagte, inderdaad.  Maar hoe moontlik is dit in die realiteit van ’n Suid-Afrika in 2011 waar verdelings langs hierdie lyne nog vlymskerp in die samelewing loop? 

Jare gelede het ek tydens my navorsing vir my meestersgraad afgekom op ’n artikel waarin einste Antjie Krog beskryf hoedat die bevoorregte wit vroue van die tagtigs en negentigs hulle energie kon wy aan hulle tuine, die verfraaiing van hulle huise of aan hulle kinders, terwyl swart vroue húlle kinders elders moes laat om aan wit vroue hierdie vryheid te gee.  (Ek kry nie meer die verwysing nie – is daar iemand wat dit dalk onthou?) Self besef sy haar bevoorregte posisie, soos sy dit ook treffend verwoord in ’n sleutelgedig soos “Lady Anne by die mikrogolfoond” (Lady Anne, 1989) wat skerp kritiek lewer teen die oppervlakkige lewens van hoërmiddelklasvroue en wat die ineenstorting van hierdie gerieflike lewenswyse voorspel:

o my susters in kombi’s en stasiewaens

met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint

liggame wat soggens in fleurige leotards

                                                jog en gym en joga

                                                verbete klou aan soepelheid en Pil

[…]

 

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en desperaat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat die kinders teer laat verblond op melk en heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

 In 2011 is die politieke strukture van destyds inderdaad in hulle “maai”, maar die ekonomiese strukture wat ’n voorstedelike lewenstyl ondersteun is tot ’n groot mate nog in plek.  Bevoorregte wit vroue is hoegenaamd nie ’n uitgestorwe spesie nie  (alhoewel daar gelukkig intussen ’n paar bevoorregte swart vroue tot die geledere toegetree het sodat die wit mevroue hulle wysmaak dat die speelveld nou gelyk is).  Die kombi’s en stasiewaens van destyds is weliswaar vervang deur viertrekvoertuie; die leotards en die res van die Body Beat-attire is uit die oude doos, maar daar is steeds geld vir duur oefendrag en gym-ledegeld.  En al is ek nie ’n wafferse gymmer nie, is ek steeds skuldig aan die soort gerieflike lewe in die suburbs wat in ’n hoë mate afhanklik is van huis- en tuinhulpe se arbeid.

Ek het toevallig ’n paar jaar gelede navorsing gedoen oor huishulpe se persepsies van  opleidingsgidse (kookkuns, kinderversorging ens.) en of hulle dit byvoorbeeld as toeganklik en ontdaan van stereotipes ervaar.  Ek het dus gesels met ‘n groep vroue wat as huishulpe werk en deeltyds by ’n nieregeringsorganisasie opleiding ontvang.  Groot was my verbasing toe ek moeite ondervind het om die gesprek op die gidse gefokus te hou, en die gesprek beweeg het in die rigting van ’n vergelyking van kantoorwerk  teenoor fisiese arbeid.  Die meeste van die vroue se mening was onomwonde: Om op ‘n rekenaar te sit en tik, is ’n ydele aktiwiteit, dis nie werk nie.  Vloere was en mop, stryk en skottelgoed was is ware werk.  Sedert daardie dag kom sit ’n skuldgevoel tussen my blaaie sodra ek my rekenaar aanskakel.  Want prakties beteken dit iemand doen daardie “regte werk” vir my, sodat ek die vryheid het om te kan studeer, te kan lees, te kan skryf.  (Ook vertel Antjie in Begging to be black : Wat moet haar weeklikse huishulp se gedagtes wees as sy haar werkgewer op haar rekenaar sien tik, en boonop daaruit ’n inkomste genereer vir  ’n huis, motor, klere en oorgenoeg kos?)  

As ek net verby ras en klas kon kyk en buite daardie parameters my lewe kon lei, sou ek waarskynlik makliker in ’n voortsedelike gemaksone kon leef.  Prakties sal dit beteken dat jy skuldgevoelvry kan sit en ‘n digbundel lees terwyl iemand anders jou kroos se wasgoed opvou.  Jy sal die spinnekopneste  in die hoek kan delegeer en Anna Karenina nadertrek.  

Soms lyk dit vir my asof die jonger generasie makliker met hierdie dinge omgaan; asof hulle reken  get over it, laat die lewe aangaan, dis dinge van die verlede.  (Vergewe tog as ek dalk veralgemeen.) Ek verwonder my aan my kinders se vermoë om verby kleur te kyk en die mens raak te sien; ook aan hoe hulle skynheilige politieke korrektheid nie nodig het nie.

Ek dink tog dat ek nie regtig anders wil of kan dink nie.  Ek wil ras, klas en geslag raaksien en ek wil aanhou om dit in tekste te vind, want ek is bloot te diep en te veel daardeur geraak om van die kennis daarvan afstand te kan doen.  Dit sal wees om intellektueel en psigies mutton dressed up like lamb te word; om myself te bedrieg dat ek kan deel in my kinders se ligter tred deur ons land. 

Miskien, dink ek intussen, het ek bloot ’n ander perspektief op hierdie kwessies nodig; ’n ander bril, ’n ander lens of filter.  Hierdie ketting van betekenisse bring my op ’n manier intuïtief by “venster”, sodat ek Loftus Marais se debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, van die rak afhaal en die gedig “Terug op die plaas” opnuut lees:

“daar’s min politiek in jou verse” sê my suster

“die digter het tog ’n verantwoordelikheid”

 

suster, ons generasie is die wesies van ideologieë

die groot idees staan teen die horison soos bouvalle

beeldskoon en gevaarlik soos dié ou waenhuis

’n karkas met ribbebalke en gate in sinkplate

ons loop in stof tussen blikke, klippe

verby, vermoedelik, ’n bylsteel, ’n pispot

en daardie murasies wat die kroeke was

ons onthou apartheid as alledaagse dinge

enemmelborde, selfgerolde sigarette, ’n aparte kraan

die skok van uitvind grieta het kinders en ’n man

suster, kyk na die leë skure teen die rand

waar destyds skeertyd dertig werkers per saal

geskeer, geëet, gesing, geslaap het

daar lê nou skerwe glas, draad, skerp stukke roes

daar’s ’n waarskuwing op karton

om nabye huise se kinders te verdryf:

“danger gevaar ingozi” – van meer nut

as enige gedig wat ek kan skryf

 En sedertdien loop ek rond met hierdie wonderlike gedig wat ek in my skedel van bakboord na stuurboord laat bons in die hoop om die “betekenis” of die “boodskap” te vind.  Sou dit kon wees dat die jonger geslag hulle ervaar as diegene vir wie al die ideologieë van twee of drie dekades gelede nie meer ‘n werklikheid is nie, vir wie dit nie ’n verskil gemaak het nie?  Of is hulle bloot moeg vir hulle ouers se gewroeg met ideologieë, hulle destydse flirtasies met Marxisme?  Sien hulle ‘n meer tasbare werklikheid raak – die praktiese een waarin apartheid die gesig van iets soos afsonderlike eetgerei aangeneem het?  Voel hulle dat die literatuur nie veel van ’n verskil kan maak nie en dat ons eerder prakties mense se lewens moet probeer verbeter?  Maar hoe verskil dit dan van my eie aan-die-lyf-ervarings van die verlede wat steeds saamleef, selfs in iets so eenvoudig soos die madam wat tik terwyl die huishulp die houtvloere poleer?  En watter oplossing, watter venster is daar vir ’n tikkende madam?