Posts Tagged ‘lorca’

Daniel Hugo. Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

Monday, October 1st, 2012

Voël, Perd en Bul: Vertaling en die Afrikaanse Digkuns

(Praatjie gelewer by SATI / SAVI se driejaarlikse prysfunksie vir vertalers en woordeboekmakers op 29 September 2012 by die Universiteit van Johannesburg)

Vooraf

Voordat ek by die eintlike onderwerp van my praatjie kom, eers ‘n kort woordjie vooraf.

Die graad van kulturele sofistikasie wat ‘n taal bereik het, word dikwels gemeet aan die vertalings van klassieke tekste uit die wêreldletterkunde. In die Christelik-Westerse konteks word dan heel eerste gedink aan die Bybel. Dit was inderdaad ook van die heel begin af ‘n belangrike prioriteit van die mense – soos Arnoldus Pannevis en S.J. du Toit – wat Afrikaans as ‘n standaardtaal wou vestig. Met die verskyning van die volledige Bybel in 1933 is die belangrikste hoeksteen van Standaardafrikaans gelê. Maar ook die Oosterse kulturele en linguistiese bande van Afrikaans het formeel beslag gekry met die volledige oorsetting uit Arabies van Die heilige Qur’ān deur imam M.A. Baker in 1961.

Vertalings van klassieke tekste het Afrikaans se posisie as volwaardige, kultuurtaal verstewig. Die lang epiese gedigte die Ilias en die Odusseia van Homeros uit die negende eeu voor Christus word beskou as die begin van die Griekse, en daarom ook van die Europese, letterkunde. Hierdie twee werke het onderskeidelik in 1954 en 1963 in ‘n Afrikaanse prosavertaling deur J.P.J. van Rensburg verskyn. Van Rensburg was ‘n professor in Grieks aan die Universiteit van Stellenbosch en hy het ook dramas van Sophokles, Euripides en Aristophanes in Afrikaans vertaal.

N.A. Blanckenberg het klassieke tekste uit die Latynse letterkunde vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak met sy vertalings van Vergilius wat in 1975 en 1980 die Suid-Afrikaanse sonlig gesien het. In 2002 verskyn nog ‘n Latynse teks, die Encomium Moriae van die sestiende-eeuse Nederlandse teoloog Desiderius Erasmus, in Afrikaans as Tot lof van Dwaasheid. Erasmus se klassieke Latyn is deur J.L. de Villiers in klinkende Afrikaans omgesit.

Dante Alighieri se La Divina Commedia uit die dertiende eeu is waarskynlik die belangrikste digwerk in die Christelike wêreld. Delamaine du Toit het Die Goddelike Komedie volledig in Afrikaans vertaal as Die Hel (1990), Purgatorium (1998) en Die Paradys (2002). Vir elkeen van hierdie vertalings, met uitgebreide aantekeninge en kommentaar, is Du Toit deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon. Dante se ingewikkelde rymskema, die sogenaamde terza rima met sy “kettingryme” aba bcb cdc …, het die meeste rymende vertalings in die wêreldletterkunde onleesbaar en onbetroubaar gemaak. Du Toit het hierdie stilistiese slaggat vermy deur ‘n letterlike prosavertaling te maak. Die beroemde openingsreëls van Dante se Inferno klink nou só in Afrikaans: “Halfpad deur die reis van ons lewe / het ek my in ‘n donker woud bevind / daar ek die reguit pad byster geraak het.”

Saam met Homeros en Dante word Shakespeare altyd genoem as een van die grootste skrywers van alle tye. Die literator F.I.J. van Rensburg noem Shakespeare “een van die groot vertaaltoetsstene” vir enige taal. En hy gaan voort: “Elke literatuur probeer hom aan Shakespeare meet … Dit is vir sommige selfs ‘n prestige-saak hoeveel Hamlet-vertalings ‘n bepaalde literatuur besit.” Daar bestaan verskillende vertalings van Shakespeare se dramas in Afrikaans, maar die bestes is ongetwyfeld dié van Uys Krige. Hy is deur die Suid-Afrikaanse Akademie bekroon vir Twaalfde nag en Koning Lear.

En nou kom ek by die drie diere van my praatjie se opskrif.

 

Voël

 

Die Afrikaanse digkuns is byna 900 jaar oud en het begin met ‘n vertaling uit Latyn. Die oudste stukkie opgetekende Nederlandse poësie kom uit die tweede helfte van die twaalfde eeu. Dit klink só:

 

Hebban olla vogala

nestas hagunnan

hinase hic enda thu.

Wat unbidan we nu?

 

Dit wil sê: “Al die voëls het neste begin, behalwe ek en jy. Waarvoor wag ons nou?”

Hierdie reëls staan agterin ‘n Angel-Saksiese preekbundel wat behoort het aan die klooster van St Andrews by Rochester in Kent. ‘n Monnik het klaarblyklik sy nuwe gansveerpen op die skoon agterblad van die manuskrip uitgetoets. Hierdie sjarmante gediggie staan reg onder die Latynse reëls waarvan dit die direkte vertaling is. Dit is omstreeks 1150 neergekrabbel en het verlore gegaan, totdat die Engelse taalkundige Kenneth Sisam dit in 1932 in die universiteitsbiblioteek van Oxford (die Bodleian) ontdek het. Hy het dit dadelik geïdentifiseer as Oudnederlands. Die krabbelende en moontlik verliefde monnik was waarskynlik afkomstig uit Vlaandere.      

Omdat Afrikaans regstreeks uit sewentiende eeuse Nederlandse dialekte ontstaan het, is die Middelnederlandse letterkunde en ook hierdie Oudnederlandse reëls deel van ons literêre erfenis. Afrikaans het nie op 14 Augustus 1875 uit die blou Paarlse lug in ds. S.J. du Toit, die stigter van die Genootskap van Regte Afrikaners, se skoot neergedaal nie. Afrikaans stam uit Nederlands en daarom begin ons digkuns ook met hierdie liefdesgediggie.

            Die Afrikaanse digters het van die ontdekking in die Bodleian kennis geneem en kort voor lank die reëls toegeëien. Die eerste digter wat bewustelik daarop gereageer het, was D.J. Opperman. In 1947 verskyn sy Negester oor Ninevé en die bundel open met die gedig “Ná ‘n besoek aan die dieretuin”:

 

                        Twee kraaie het hul nes gemaak

                        van stukkies draad;

 

                        en in staalkoue

                        ver van riete en riviere afgesluit

                        broei rooivinke en wildepoue

                        nog hul eiers uit;

 

                        in ysterhokke

                        ver van rantjies en langgras

                        werp ape en die waterbokke

                        nog hul kleintjies af;

 

                        net in ‘n enkelkamer ek en jy

                        van hulle vreugde afgeskei.

 

In die bloemlesing uit sy werk, Astrak van 1960, voeg Opperman die woorde “Hebban olla vogala …” as ‘n motto by die gedig. Sedertdien het talle Afrikaanse digters laat blyk dat hulle deur dié Oudnederlandse reëls geïnspireer is – te veel om nou ‘n inventaris daarvan te gee. Digters is dikwels tradisiebewuster as ander taalgebruikers. Hulle is die argivarisse én die nuutskeppers van ‘n taal.

 

Perd

 

Maar nie net die Nederlandse letterkunde beïnvloed Afrikaanse digters nie. Sedert die Britse besetting van die Kaap in 1806 sou ook die Engelse letterkunde sy invloed laat geld. En dit het al gebeur vóór die stigting van die Genootskap vir Regte Afrikaners in 1875. F.W. Reitz was die eerste werklike digter in Afrikaans. Sy vroegste digpoging was “Klaas Geswind en syn perd” wat in 1870 in Het Volksblad verskyn het. Dit is ‘n vertaling en verwerking van Robert Burns se vermaaklike gedig “Tam o’ Shanter” van 1791.

F.W. Reitz, wat later president van die Oranje-Vrystaat geword het, het ook gedigte van Walter Scott en William Cowper in Afrikaans verwerk. Verder was hy in 1888 die eerste bloemleser van Afrikaanse gedigte wat in tydskrifte en koerante verskyn het. Tydens die Anglo-Boereoorlog was Reitz die Boere se enigste aktiewe digter-te-velde. In 1910 verskyn sy Oorlogs- en andere gedichten wat verse in Afrikaans, Nederlands en Engels bevat.

Robert Burns se “Tam o’ Shanter” is in Skots en Engels geskryf. Reitz verplaas die gebeure na die sendingdorpie Suurbraak naby Swellendam in Suid-Afrika. Hy doen dit in sprankelende Afrikaans in ‘n tyd toe Afrikaanssprekendes nog hul bes probeer het om Hoog-Hollands te skryf.

Ek haal uit Burns se gedig aan:

 

                        But pleasure are like poppies spread,

                        You seize the flower, its bloom is shed;

                        Or like the snow falls in the river,

                        A moment white – then melts for ever.

 

Reitz maak daarvan:

 

                        Plesier is nes ‘n jong komkommer:

                        As jy hom pluk, verlep hy sommer;

                        Of nes ‘n skilpad in sy dop in:

                        Soos jy hom vat, dan trek hy kop in.

 

Burns se Tam ry op ‘n vaal merrieperd genaamd Meg. Sy red hom van ‘n klomp spoke en die duiwel self wat Tam agternasit toe hy een nag in ‘n beskonke toestand by ‘n begraafplaas verbyry. In Reitz se gedig word van Klaas se perd gesê:

 

                        ‘n Flukse merrie was ou Kol,

                        Al was haar rug ‘n bietjie hol.

 

Tam en Klaas word gered deurdat hul perde oor ‘n riviertjie spring, want:

 

                        ‘n Spook is nes ‘n bokkapater,

                        Hy loop nie sommer in die water.

 

Hierdie gedig van F.W. Reitz staan vandag nog in die standaardbloemlesings uit die Afrikaanse poësie. “Klaas Geswind en syn perd” kan beskou word as die tweede begin van die Afrikaanse digkuns, en net soos in die geval van die eerste begin met “Hebban olla vogala” is dit ‘n vertaalde teks.

 

Bul

 

Uys Krige (foto: Marlise Joubert)

Die digter Uys Krige is waarskynlik die beste poësievertaler in Afrikaans. Hy het ons digkuns veral verryk met vertalings uit Spaans. Krige het natuurlik ook roem verwerf as vertaler van Shakespeare. In sy studie Digters van Dertig beweer die digter en akademikus D.J. Opperman selfs: “Uys Krige se vertalings neig tot oorspronklike werk, sy oorspronklike werk tot vertalings!” Krige se beste versvertaling is waarskynlik dié van Federico Garcia Lorca se “Klaaglied van Ignacio Sanchez Mejias”. Dit het in 1950 verskyn in die bundel Vir die luit en kitaar wat sy vertalings uit die Franse en Spaanse digkuns bevat.

            In sy opstel oor Lorca sê Krige dat dié grootse gedig in vier afdelings ‘n treursang is ter ere van ‘n vriend, die groot stiervegter Sanchez Mejias, wat in 1934 in die arena deur ‘n bul gedood is. Ek haal Krige woordeliks aan: “Dis geensins ‘n loflied op die stiergeveg nie. In sy wese het dit maar min met die stiergeveg te doen. Dis ‘n treursang op die dood van ‘n vriend, ‘n vriend wat kragtig en dapper gelewe en gesterwe het en wie se lewe ‘n eenheid was. Maar dis van so ‘n geweldige poëtiese siening, van so ‘n visioenêre krag, dat dit Lorca se eie klaaglied word, die klaaglied vir miljoene mense wat ná Lorca in die Burgeroorlog en daaropvolgende Wêreldoorlog sou sterwe, ‘n klaaglied vir almal wat moedig lewe en sterwe hier op aarde.” Tot sover Uys Krige.

            Lorca het natuurlik self ‘n slagoffer van die Spaanse Burgeroorlog geword toe hy in 1936 deur aanhangers van generaal Franco doodgeskiet is.

            Uys Krige vertel in ‘n naskrif by Vir die luit en kitaar hoe sy vertaling tot stand gekom het. Dit bevat een van die merkwaardigste bekentenisse deur ‘n vertaler wat ek al ooit teëgekom het. Krige sê: “Lorca se Klaaglied het ek in 1937 – tydens die Burgeroorlog en ná Lorca se dood – vertaal. Ek het nie die minste moeite daarmee gehad nie. Dit was asof iemand anders vir my die eerste, tweede en vierdie gedigte geskrywe het. Binne ‘n halfuur was aldrie kant en klaar. Dit was ook die enigste skryfwerk wat ek nog ooit gedoen het terwyl ek onder die invloed van drank was …” Dit wil dus voorkom of “daardie iemand anders” wat die vertaalwerk namens Uys Krige gedoen het, niemand anders as die god Bacchus was nie!

            Maar alle grappies op ‘n stokkie: Krige se vertaling is waarlik meesterlik en word inderdaad beskou as ‘n wesenlike bydrae tot die Afrikaanse poësieskat. Met reg is dit sedert 2000 opgeneem in die Groot verseboek – daardie Bybel van die Afrikaanse digkuns. 

Om u ‘n idee te gee van Krige se vertaalvermoë lees ek die vierde gedig in die reeks, “Die afwesige siel”. En daarmee sluit ek af.

 

            Die bul sal jou nie ken nie nog die vyeboom,

            nog die perde nog die miere van jou eie huis.

            Die kind sal jou nie ken nie nog die agtermiddag

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die plat kant van die leiklip sal jou nie ken nie,

            nog die swart mantel waarop jy verdelg is.

            Selfs jou eie stomme herinnering sal jou nie ken nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Die herfs sal kom met al sy slakkies,

            trosse van mis en saamgehurkte heuwels,

            maar niemand sal jou in jou oë wil kyk nie

            want jy is dood vir altyd.

 

            Want jy is dood vir altyd,

            dood soos al die dooies van die aarde,

            soos al die dooies wat vergeet word

            soos ‘n klomp dooie brakke in ‘n hoop.

 

            Niemand sal jou ken nie. Nee. Maar ek besing jou.

            Ek besing vir later jou gestalte en jou grasie.

            Die verhewe volwassenheid van jou begrip.

            Jou honger na die dood en die smaak van sy mond.

            En die treurigheid ten grondslag van jou manhaftige vreugde.

 

            Ons sal lank moet wag vir die geboorte, as hy ooit gebore word,

            van ‘n Andalusiër so helder, so ryk aan avonture.

            Ek besing jou swier en jou kordaatheid met woorde wat kreun

            en ek herinner my ‘n droewe wind deur die olywe.

  

© Daniel Hugo. 2012 

 

Bronne

 

Krige, Uys. 1950. Vir die luit en die kitaar. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Opperman, D.J. 1953. Digters van Dertig. Kaapstad: Nasou Beperk.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Tafelberg en Human & Rousseau.

Reitz, F.W. 1978. Outobiografie & Twee en sestig uitgesogte Afrikaanse gedigte.

Kaapstad: Tafelberg.

Hugo, Daniel (red.). 2009. Halala Afrikaans. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

 

 

 

 

 

 

                            

 

 

    

Carina van der Walt. ‘n Digterlike inval in Barcelona

Wednesday, August 11th, 2010

Die meeste Nederlanders hou nog vakansie in die suide van Europa: Spanje, Suid-Frankryk en Italië. Op ‘n besoek aan Barcelona laat ek my verlei deur die digter Lorca, die argitek Gaudi, die kunstenaars Dali en Picasso en die Spaanse kitaar. Sulke vertrekpunte kan tydens ‘n kort kuiertjie uitgroei tot ‘n wolk van ervarings. Wonderlik!

Die kronkelbank van Gaudi om die Griekse teater in Parc Guell, Barcelona (2010).

Die kronkelbank van Gaudi om die Griekse teater in Parc Guell, Barcelona (2010).

Federico Garcia Lorca behoort in die Spaanse letterkunde tot die Groep van ’27. Ander digters in die groep was onder andere Vicente Aleixandre – Nobelpryswenner (1977) en Pedro Salinas. Die groep manifesteer die eerste maal in die bloemlesing Poesía espaola. Antología 1915 – 1931, sonder insluiting van die Spaanstalige Chileense digter, Pablo Neruda. Dit het altyd ‘n onuitgemaakte saak gebly of Neruda nou by die Groep hoort of nie. Die bloemlesing was onmiddellik ‘n treffer. Die Groep van ’27 was veral téén dinge soos die versadigde romantiek en geswollenheid in seggingskrag, maar nouliks vír iets. Die gelade tydperk waarbinne hulle aktief was tussen 1932 en 1936, spreek vandag nog tot die verbeelding. Die Spaanse Burgeroorlog (1936 – 1939) het die einde van die groep ingelui, deurdat die bekendste digter van die Groep, Lorca, voor ‘n vuurpeloton dood is. Daardeur is sy status versterk tot martelaar vir die Spaanse vryheid.

Lorca se gedigte  is deurtrek met tragiek en ‘n obsessie met die dood, onrus, duistere frustrasies en verlangens. Sy gedigte het dikwels ‘n dreigende sfeer of ‘n ondeurgrondelike somberheid. Daarteenoor is die vorm van sy gedigte bedrieglik eenvoudig: kort versreëls, lirieke en refreine, selfs kinderrympies. As paradoks teen geswolle digterlike taal, was dit vernuwend. In die Suid-Afrikaanse letterkunde het Uys Krige en Roy Campbell die essensie van sy werk soos dit hierbo beskryf word pragtig vertaal. Klaaglied vir Ignacio Sanches Mejias is een van Lorca se bekendste gedigte. Dit is ook deur Krige vertaal:

 

Vyfuur in die middag.

Dit was vyfuur klokslag in die middag.

‘n Kind dra ‘n wit laken

vyfuur in die middag.

‘n Mandjie vol kalk wat reeds bestel is

vyfuur in die middag.

Die res was die dood en die dood alleen

vyfuur in die middag.

 

Ek hoor die kind se voetstappe weerklink deur ons smal straatjie in die Barri Gòtic. Ignacio Sanches Mejias, trotse stiervegter en ondersteuner van die Groep van ’27, is dood tydens ‘n stiergeveg.

 

‘n Doodkis met wiele is sy bed

vyfuur in die middag.    

 

Met ons besoek was die jongste nuus dat stiergevegte in die provinsie Katalonië verbied gaan word vanaf 2011. Dit is iets waarteen Salvador Dali al in 1961 op ‘n plakkaat in sy geboortedorp, Figueres, te velde getrek het. Vyftig jaar later word daar nou gedeeltelik hieraan gehoor gegee in dié noordelike provinsie. Stiergevegte en die flamenco is eintlik eie aan die stad Sevilla in die suidelike provinsie Andalusië. Die suiderlinge voel verontreg deurdat hierdie tradisie in ‘n swak lig gestel word. Hulle voel dat Katalonië dit gebruik in hulle stryd tot onafhanklikheid teen die res van Spanje. Stiergevegte is ook ‘n tema in die werk van Pablo Picasso.

Die Suid-Afrikaanse Engelstalige digter Roy Campbell het onder andere The Shadow of My Soul, The Guitar en Song of a Horseman (1860) van Lorca vertaal. Onrus, verlange en ondeurgrondelike somberheid spreek alles uit The Guitar:

 

The lament begins

Of the guitar.

The wine-cups of daybreak

Are splinter afar.

……..

It weeps monotonously

…….

It weeps for things

Far out of sight.

……..

It weeps,

…….

Oh, the guitar! the Heart

That bleeds in the shades

Terribly wounded

By its own five blades.

 

Ek luister in ‘n kerkie op een van die honderde pleine in Barcelona na die meeslepende klanke van die klassieke kitaarspeler, Xavier Coll. Sy uitvoering van Albéniz se Asturias stort soos ‘n mantilla met eindelose fraiings oor my skouers. Voor my geestesoog sien ek die afbeelding van Picasso se The Old Guitarist uit sy Blou Periode. Hierdie bekende skildery ontstaan na die selfmoord van sy vriend, Casagemas. Die bekendste gedig wat na die skildery verwys, is van die Amerikaanse digter, Wallace Stevens: The Man With the Blue Guitar:

 

The man bent over his guitar,
A shearsman of sorts. The day was green.

They said, “You have a blue guitar,
You do not play things as they are.”

The man replied, “Things as they are
Are changed upon the blue guitar.”

 

Die vurige ritmes van die flamenco op ghitaarklanke agtervolg my tot in Parc Guell. Dis ‘n vertoonvenster van Gaudi se talent. Die park staan nie terug vir die grillige, robuuste argitektuur van sy talle huise of vir die Sagrada Familia nie. Is die Sagrada Familia ʼn 20ste eeuse toring van Babel?, wonder mens. Na byna 130 jaar is die bouwerk hieraan nog nie naastenby voltooi nie. Die hoogste torings moet nog gebou word. Dit is tyd dat ek my eie Afrikaanse gedig oor die Sagrada Familia klaarskryf. In Parc Guell lê die Griekse teater van aangestampte leemgrond omring deur ‘n slingerende bank met kleurryke, ingelegde teëlwerk. Die eerste kongres oor die geskiedenis van die Katalaanse taal het in 1906 hier plaasgevind.  

 'n Installasie van Dali waarin 'n dooie stier 'n sentrale rol speel (Valencia, 1954).

'n Installasie van Dali waarin 'n dooie stier 'n sentrale rol speel (Valencia, 1954).

Poësie is egter in my belewingswêreld ‘n taal op sy eie. Dit laat hom deur geen taalgrens inperk nie. In die Groep van ’27 gaan my voorkeur uit na die gedigte van Pedro Salinas. Hy is bekend vir sy liefdesgedigte. Hierdie liefdesgedigte is deel van sy nuuskierigheid na die oorsprong van dinge of van ‘n idee. Dit druk ook sy verlange na suiwerheid uit.

Hieronder volg my vertaling van die allereerste gedig wat ek van Salinas gelees het:

 

Grond. Niks meer.

Grond. Niks minder.

En dit moet genoeg vir jou wees.

Want op die grond steun jou voete,

op jou voete die regop bolyf,

op jou bolyf die vasberade kop,

en daar, onder die hoede van die voorkop,

die suiwer idee en op die suiwer idee

die dag van môre, die sleutel

 – môre – van die ewige.

Grond. Niks meer of minder.

En dit moet genoeg vir jou wees.

 

Soos hulle in Nederlands sê: “het smaakt naar meer”. Dit geld in elk geval vir my!