Posts Tagged ‘Louis Estrhuizen onderhoude’

Onderhoud met Marlene van Niekerk (In die stille agterkamer; Gesant van die mispels)

Monday, January 15th, 2018

Marlene van Niekerk gesels oor haar nuutste twee digbundels, met Louis Esterhuizen. Bundels ter sprake:  In die stille agterkamer (Gedigte by die skilderye van Jan Mankes: 1889 – 1920) en Gesant van die mispels (Gedigte by die skilderye van Adriaen Coorte ca: 1659-1707) (deur Marlene van Niekerk)

LE: Marlene, enkele jare na die publikasie van die veelbekroonde Kaar (2013: Human & Rousseau) verras jy ons met die weelde van twéé digbundels wat tegelykertyd verskyn: beide met beeldgedigte wat uitsluitlik en onderskeidelik op die skilderwerk van twee Nederlandse skilders fokus, te wete In die stille agterkamer – Gedigte by die skilderye van Jan Mankes 1889 – 1920 en Gesant van die mispels – Gedigte by die skilderye van Adriaen Coorte ca. 1659 – 1707. ʼn Volslae kragtoer en totaal uniek binne die Afrikaanse lettere is hierdie bundels inderdaad; nie net ten opsigte van tema nie, maar ook in aanbod. Van harte geluk daarmee. So bevat elke gedig byvoorbeeld sowel die skildery waarop dit betrekking het, as ʼn vertaling in Nederlands wat deur jou en Henda Strydom gedoen is. Boonop met ʼn Nawoord ten opsigte van elke bundel. Die eerste vraag is dus voor die hand liggend: Wat was die aanloop tot hierdie ontsaglike projek? Was daar byvoorbeeld ander beeldgedigte en/of publikasies wat jou hiertoe beïnvloed het? En waarom juis hierdie twee minder bekende skilders as fokalisators neem?

MvN:

‘n Warm ontvangs, dankie Louis. Reeds in Kaar is daar gedigte oor skilderye van Marlene Dumas, Velazquez, Manet, Weissenbruch. Die twee nuwe bundels is dus nie nuut wat tematiek betref nie. Daar is altesaam sewe en twintig Afrikaanse gedigte plus hulle Nederlandse vertalings. Die twee bundels is die eerste van ‘n beplande reeks, en hoewel die omvang van hierdie eerste twee nie groot is nie, was die studie oor skildertegniese en kunshistoriese kontekste intensief en veeleisend, en so ook die vertaal- en redaksieprosesse. Die direkte aanloop was ‘n besoek aan museums waar ek die skilderye in lewende lywe kon besigtig, iets wat ek altyd as ‘n impak ervaar, in hierdie geval met naskokke van bewondering, vereenselwiging, en selfs met wat sommige skrywers noem: “ekphrastic jealousy”. (Heffernan.)

Ek is origens nie die eerste om gedigte te maak by die werk van hierdie spesifieke twee skilders nie. Daar bestaan pragtige gedigte van Hans Favery oor die Coorteskilderye, http://beeldgedicht.info/Reprocitaat/faverey-coorte.htm  en ook ‘n ontroerende vers oor Mankes se geliefde wit boerbok deur Willem van Toorn. http://beeldgedicht.info/Reprocitaat/toorn-mankes.htm

Wat ek sien in die skilderye is hoe ambagtelikheid, perfeksionisme en obsessie in die hand kan werk. Een aspek van die obsessie wat my interesseer is dat die “spore van moeite”, kwashale, verftekstuur, deur albei skilders noulettend weggepoets is sodat die “werkery” wat plaasgevind het onsigbaar is. Dit is een van die aspekte wat maak dat mens iets as ‘n “kuns” kan beskou, iets indrukwekkends produseer sonder ‘n sweem van inspanning wat daaraan kleef, sodat dit “maklik” lyk. Dis veral die lig en ligval in die skilderye wat as gevolg hiervan haunted of bespook raak, veral in die Coorteskilderye. Uiteraard verskil so ‘n werkwyse radikaal van ‘n meer eietydse opvatting dat ‘n kunswerk sy eie bestaansvoorwaardes en prosesverslag letterlik en as integrale onderdeel sou moes tentoonstel, indien nie in die vorm van kwashale dan in die vorm van ingeslote voorstudie, ongeluk, korreksiemerk, doodles in die kantlyn, tentatiewe lyne, of afvalreste (vergelyk byvoorbeeld die werk van Kentridge waar vorige lyne meestal deurskemer, of in sommige werke van Dumas, waar korreksies en gelukkige ongelukke vir ‘n bepaalde vitale effek, of as spoor van ‘n bepaalde soort omgang met materiaal noukeurig bewaar of geëksploiteer word in die eindproduk). Soms is die aandrang op die behoud van die “rough edge” ideologies gemotiveer, soos by kunstenaars wat beweer dat afgewerkte gedigte/skilderye uit voeling sou wees met die “gebroke werklikheid”, ‘n opvatting wat soms ‘n rasionalisering van luiheid of onvermoë kan wees. Alle maakprosesse veroorsaak naamlik afval, rejects, onvoltooidhede en korreksies, maar in Coorte se werk is dit buite sig. (En daar was korreksies moontlik, byvoorbeeld van die perspektief op sommige skilderye.)

Dit is sekerlik mede as gevolg van onbeperkte foutlose reproduksie, “photo-shopping” en perfek-getroue fotografie dat eietydse skilders die prosesse en probleme van die meer “morsige” skilderlike vorm van (re)presentasie wil laat mede-beteken in die skildery. Tydens die skryf van Memorandum het ek hieroor lang gesprekke met wyle Adriaan van Zyl gehad en baie by hom geleer. Ook by hom is die verflaag glad afgewerk en deursigtig en dring sigself nie op as medium nie. By Coorte is dit asof die skilderye vanuit ‘n droom op die doek geprojekteer is. Die beelde lyk soos die onnavolgbare resultaat van ‘n vreemde, veruitwendigde selfhipnose-via-objekte.

Uiteraard is my bewondering van hierdie spesifieke keuse en tegniek nie absoluut of eksklusief nie. Ekspressionistiese werk waarin soms die liggaamlike opgeruidheid van die skilder, sy/haar handbewegings en penseelvoering plus die materialiteit van die medium, die reste en oneffenhede van kanvas en verf eksplisiet opgevoer word, vind ek net so boeiend.

Verder kon ek ten tyde van die skryfproses (2015 en 2016) identifiseer met die beskeie onderwerpe van sowel Coorte as Mankes – onderwerpe geïsoleer en oorgiet met “gebiologeerde” aandag (mesmerized), soos die Nederlanders sou sê, en heropgevoer op doek/hout/papier. Ek het aanklank gevind by hierdie tydrowende, verfynde tegnieke waardeur die afgebeelde herkenbare objek uiteindelik raar (rarified) aandoen.

Verder het die skilderye my geïnteresseer omdat daar rondom die twee skilders, in twee wyd uitmekaarliggende tydsgewrigte, internasionale oorloë gewoed het en daar sprake was van  groot maatskaplike omwentelinge. Desondanks het die skilders net stilweg aangehou met hulle werk, sekerlik nie onbewus van die gebeure nie. Coorte het geleef in die nadraai van die Tagtigjarige Oorlog en ten tyde van die Europese oorloë rondom die Spaanse troonopvolging, en Mankes is twee jaar na die einde van die Eerste Wêreldoorlog oorlede. Nie een van hulle het slagvelde of portrette van gevegshelde geskilder nie. Hulle het eerder aandagtig lont geruik (soos Eybers sou sê). Coorte se goth ligvalle is egter alles behalwe “onskuldig”, so ook Mankes se gelate en alleswetende olieflesse. Sou die koel, toegewyde blik van die skilders ‘n indirekte vorm van kommentaar wees op hulle tyd?

Die skilders het my ook interesseer omdat hulle altwee buite die heersende skildermodes van hulle tyd gestaan het, Coorte buite die spektakulêre styl van die pronkstillewes van die Goue Eeu, Mankes buite die impressionisme en die post-impressionistiese ontwikkelings van die negentiende eeu, al was hy daarvan uitstekend op die hoogte soos wat uit sy briefwisselinge blyk.

https://www.moorsmagazine.com/kunst/mankesbrieven/

Mens kan sê dis skilderye wat ‘n pokerface  voorhou oor die hoeveelheid moeite wat in hulle gesteek is. Daar is iets stoïsyns in die werk. Wat is dit wat met so ‘n helder bewussyn verdra word? is die vraag in albei gevalle.

LE: Die titels. Ek vind beide titels pragtig en besonder evokatief. Kan jy dalk vir ons ʼn aanduiding gee van hoekom jy juis op dié titels besluit het en in welke mate dit die onderskeie bundels begrond?

MvN:

Nou ja, ek hou nog altyd van die idee van ‘n agterkamer, net soos van ‘n afdak, eerder as van ‘n voorkamer met hoërugstoele oorgetrek in chintz waarvan mense soms by voorkeur gebruik maak om hul gevoeglikheid aan bruikbare gaste te demonstreer. Mankes het in Friesland letterlik die agterkamer in sy pa en ma se boerehuis as ateljee gebruik. Agaat en Lambert het albei al so ‘n agterkamer gehad waarin hulle gedoen het wat hulle wou. En gesantskap, nou ja, in ons literatuur het jy al gesante/getuies/honde/scribas/slippedraers van God, Volk, Vaderland, die Syn, die Nie-Syn, die So-syn, die Ek, die Woord, die Vorm, die Broederbond, die Vrou, die Aarde, die Gees, die Man, die Waarheid (en Versoeningskommissie), die Weste, die Rede, Afrika, die Komende Daeraad van Volkome Bevryding van alle Lyding en Tekort, ‘n Gupta-huurling as Voorste Intellektueel en dergelike groothede gehad. Ek het gedink dis miskien nou tyd om te vra of mens ‘n kunstenaar as ‘n gesant van mispels kan sien, ‘n gesant, deelagtig dus aan die aard van diegene wat hom/haar afgevaardig het: effens koejawelagtig maar met sewe verskillende smake, vaalbruin van kleur, en pas lekker wanneer behoorlik  murf.  Te jonk is mispels naamlik wrang en melerig en hul gesant ewe onpruimbaar. Eintlik moet die mispel (soos sy gesant) eers skrik van temperature onder vriespunt, vervolgens  fermenteer, en voorts vinnig geniet word voordat dit beskimmel. Vijf harte, vyf sterte en ‘n prik in die gat, raai raai wat is dit? soos hulle in Nederland gesê het toe almal nog mispels geken het.  https://nl.wikipedia.org/wiki/Mispel

LE: Ooreenstemming bestaan wel tussen Jan Mankes en Adriaen Coorte: beide skilder stillewes wat as intieme, realistiese studies beskryf kan word. Dieselfde geld die poësie omrede elke gedig as ʼn intieme, introspektiewe woordskildery beskou kan word. Trouens, in Gesant van die mispels vind ons op bladsy 47 die volgende reëls:

ʼn stillewe bevloei

die klip, en daaruit, soos ʼn kannie-

dood, spruit soms ʼn klein poëem.

Is dit ʼn korrekte aanname om bykans elke gedig as ars poetica te beskou, soos jy dit self in jou Nawoord tot Jan Mankes se skilderwerk stel: “Sy skilderye dwing ons sagkens tot ʼn aandag van klein vrae.” (p.63)? Die gedig is immers nie net antwoord (bevestiging) nie, maar terselfdertyd ook bevraagtekening (verruiming). Of lees ek skeef?

MvN:

Dis ‘n interessante waarneming. Ek hou dit by die vrae wat my besig gehou het toe ek na die skilderye gekyk het, want as ek ‘n poëtika het, verander dit in elk geval by die minuut. Ek vra: Waarom wil ek na sommige skilderye weer en weer kyk? In tradisionele beeldgedigte maak digters meestal verbale representasies van visuele representasies, maar waarom wil  hulle dit doen? Waarom wil mens dinge wat reeds in die werklikheid bestaan, (ook gevormde kunswerke) gaan herhaal op kanvas, in musiek, in skrif? Om opnuut sin te maak, is een antwoord, maar hoekom wil mens voortdurend opnuut sin probeer maak? Al wat mens kan uitwys is dat mense blykbaar nie gaan ophou daarmee nie, dat dit tot hulle “wese” behoort soos wat pronk behoort tot die wese van ‘n volstruis. Miskien het dit nie met “sin” te maak nie maar met  verleiding? Van kuns wat mens nie verlei nie, stap mens tog weg, volkome koud gelaat, nie waar nie?

LE: Vervolgens wil ek vlugtig na jou werkswyse verneem: Het jy byvoorbeeld tegelykertyd aan beide bundels gewerk, of het hulle afsonderlik ontstaan? Dieselfde geld ten opsigte van die vertalings. Het hulle organies saam met die gedig tot stand gekom, dalk selfs vóór die Afrikaanse teks – of agterna?

MvN:

Eers is die Coorte-gedigte geskryf, daarna die Mankes-gedigte, tussenin ook gedigte by ander skilderye, foto’s, beeldhouwerke. Ek probeer indien moontlik uit ‘n taamlik ruim voorradekas selekteer. Die gekose gedigte is vervolgens eers ‘n paar keer hersien oor ‘n periode van twee jaar. Toe die idee van ‘n tweeluik opgeduik het, het ek Coorte en Mankes as paar uitgekies op grond van etlike min of meer verdedigbare ooreenkomste.

Die vertalery was ‘n heerlik verrassende en jolige komplot. Henda en ek het onafhanklik vertalings gemaak, hare natuurlik veel beter as myne want haar Nederlands is veel beter, as musikus het sy ook baie goeie ore en kan fluff en ongepasthede qua klank en teneur onmiddellik uitwys. Vervolgens het ek die beste reëls uit die twee vertalings bymekaargesit. Daarna het ek die oorspronklike Afrikaanse gedigte herbewerk omdat hulle alte on(ge)trou geraak het aan die vertaling. Sommige vertalings was naamlik veel beter as die oorspronklike Afrikaanstaliges. Wat my betref is die Afrikaanse gedigte dus vertalings uit die Nederlands, maar die Nederlands self is ook nie die oorspronklike nie. Die oorsprong het verdwyn, en dit is ‘n goeie begin vir die einde om eweneens te verdwyn. Al wat oorbly is die glimlag van die kat.

Vervolgens het Annette Portegies en ander redakteurs by Querido die Nederlands nagesien, wat ‘n baie leersame proses was –  mens kan klaarblyklik veel meer los en vry speel met Afrikaans as met Nederlands. Miskien kan mens deur volgehoue vertaling vanuit Afrikaans en Kaaps na Nederlands uiteindelik Nederlands self ook bevrug en ondermyn vir sy eie beswil? Dit sou miskien beter wees as ondermyning van Nederlands deur Engels?

Daarna was nog ‘n verdere redaksie nodig om elke gedig en elke vertaling op net een bladsy ingepas te kry en wel in ‘n vorm wat visueel sou “pas” by die kleurafbeelding op die teenbladsy. Dit was die visuele geheelontwerp op elke bladsy wat moes klop. By sommige gedigte is daarom bewustelik verander aan reëllengtes en strofes ten einde ‘n geheel te vorm met die objek op die skildery of met die grootte van die afdruk. Ons het die hele tyd die boeke gekonsipieer as kunsobjekte in eie reg. Keith Dietrich se ervaring en deskundige insette as maker van sy eie kunstenaarsboeke (artist’s books) was hierin van onskatbare waarde.  Die bundels is dus die produk van ‘n inspirerende en vrugbare kollaborasie tussen Keith en my en Henda en Annette en nog etlike ander Nederlandse en Suid-Afrikaanse lesers, asook Nelleke de Jager sonder wie se volgehoue moeite, onder andere met die verkry van die reproduksieregte van sommige van die skilderye die hele projek in duie sou stort. Ons sal hierdie samewerking altyd onthou as ‘n besondere tyd waartydens ons dikwels saam gelag en ge-puzzle het, menigmaal oor die kontinente heen via Skype of Facetime.

LE: Volgens my vorm intimiteit skering en inslag van hierdie gedigte. Nog selde het ek gedigte te lese gekry wat jou as leser so intiem betrek by ʼn stuk geobjektiveerde realiteit: dit is asof jy die gedig plaas as intieme gespreksgenoot te midde van die skildery se interne gedagtegang. Hierdie graad van intimiteit verkry jy op verskillende maniere, nie net weens introspeksie of die direkte aanspreek van die betrokke skilder en/of geskilderde objek nie, maar ook deur middel van verstegniek, soos die kompakte versvorm met bykans geen wit tussen die versreëls nie. Tog vind ek Gesant van die mispels ʼn meer intiem-persoonlike bundel as In die stille agterkamer, wat myns insiens meer introspektief van aard is. Gaan jy akkoord met so ʼn opmerking?

MvN:

Ek dink die bundels verskil, ja, maar albei bevat voorbeelde van dieselfde tipiese ekfrastiese strategieë. Sowel die direkte aanspreek van die skilder as die adresseer of beskryf of uitleg van die geskilderde objek, is naamlik welbekende strategieë in beeldgedigte, so ook die selfondersoek van die beelddigter ten aansien van die skildery. Die teoretici noem dit dramatiseringstegnieke, of (re-)animeringstegnieke ten opsigte van die (objekte in die) skildery, soms heropwekkingsfantasieë ten opsigte van die (oorlede) skilder. In ieder geval is niks daarvan nuut nie. Mens sal in ieder geval nooit weet waaraan die skilder gedink het toe hy geskilder het nie. Miskien het hy aan heeltemal niks “gedink” nie, net geskilder, presies soos sokkerspelers nie hul eersvolgende beweging “bedink” nie, maar bloot intuïtief-intelligent speel op grond van hul kennis en ervaring van die spel, die teenstander, die omstandighede op die veld, ensovoorts.

In  hierdie bundels is dit die spreker in die gedig wat allerlei oorwegings aan die skilder toedig en dit aan die leser probeer verkoop as sitroene. Indien die gedigte op die leser ‘n bepaalde effek het is dit dus verkry deur rook en spieëls. Mens kan verdere vrae stel: skep sommige gedigte vir die leser die illusie dat sy oog aangestuur word op bepaalde suggestiewe detail in die skilderye? Of gee die gedigte die leser kykopdragte, of -aanwysings? Hoe dit sy, die skryf van die gedigte was ’n poging om te probeer uitvind waarom daar so ‘n onverklaarbare suigkrag van sommige van die skilderye op my uitgegaan het in die spesifieke tydsperiode van 2015/16. Die skilderye sal verskillende kykers verskillend affekteer, en hopelik geld dieselfde vir die lesers van die gedigte. Dit sou mooi wees as die gedigte, selfs nou tydens die dekoloniale wending, ‘n toename veroorsaak in die aantal “slagoffers” van die skilderye.

Daarby ‘n verdere vraag:  watter soort intimiteit is dit wanneer die spreker in die gedig sig skaar by die geskilderde objekte ten einde onskuldiges te verlei? Daar is baie soorte onskuldiges in ons land. Ek het oor die jare ‘n reeks gedigte in Engels probeer skryf  by foto’s van Goldblatt. Soos jy seker weet het hy onlangs in protes teen sensuur sy hele argief van foto’s weggehaal  van die Universiteit van Kaapstad. Ons het die afgelope jare gesien hoe onskuldiges aanstoot kan neem aan beelde/skilderye en dit sal my absoluut nie verbaas as sommige van Goldblatt se foto’s die soms ideologies-bevloeide maklik beledigbare gemoed van sommige selfidealiserende jong verbruikers uitermate sal affronteer nie. Gedigte wat politiesgelade beelde bekommentarieer/animeer sal waarskynlik nooit gepubliseer kan word as die digter se legitimiteit om dit te doen ontken word nie. Gelukkig kan niemand Goldblatt se foto’s ontmaak nie, hulle is opgeneem in talle internasionale publikasies en hang wêreldwyd in galerye.

Ander beeldgedigte sal om ander redes moeiliker word om te skryf  byvoorbeeld as hulle sou gaan oor skilderye met verwronge figure of oor nie-figuratiewe kunswerke. Die “vertaling” van die semiotiese struktuur (tekensisteem) van een medium (die van visuele beelde)  na die tekens van ‘n ander medium (van geskrewe taal) sal myns insiens moeiliker word na mate die beelde minder realisties is en nog moeiliker as die beelde volledig nie-figuratief of abstrak is. Indien die beelde abstrak is sal ‘n beelddigter sterk  in die verleiding kom om te doen wat baie vertalers (soms moet) doen by ‘n hermetiese of verwikkelde stuk talige bronteks – naamlik om dit te eksplisiteer of te verklaar, of te konkretiseer, of te “verinheems”, en op die manier insigtelik te maak vir die doeltekslesers. Om hierdie rede is vertaling al beskryf as ‘n vorm van kommentaar/kritiek op ‘n literêre werk. Om dieselfde rede kan geskrewe kunsgeskiedenis beskou word as ‘n vorm van ekfrastiese hermeneuse of ekspliserende uitleg by visuele beelde. Aan die ander kant: poësievertalings uit een taal in ‘n ander taal word ook dikwels as geslaagd beskou indien die doelteks (hoe dan ook), die totaaleffek (abstraksie of distorsie) van die bronteks kan beliggaam.

Tot watter mate hierdie soort oorwegings ook geld vir iets soos intermediale vertaling, (dit wil sê vertaling van een medium tot ‘n ander,) is vir die teoretici om oor te spekuleer. Moet die digter probeer om die (dis)torsie in die beeld te herhaal in taal?

Ek dink wel dat die realistiese oriëntering van spreker, ruimte en tyd in die gedigte in hierdie twee bundels enigsins parallel is aan die realisme van die skilderye. Nie dat hierdie soort formele konsonansie tussen beeld en woord ‘n voorvereiste is vir ekfrastiese gedigte nie –  soos wat die pragtige vry-assosiatiewe gedigte van Hans Favery oor Coorte se werk duidelik illustreer, die Favery-gedigte antwoord op ‘n  droomagtige, byna surrealistiese manier op die  realistiese skilderye. Dis ‘n eg-eietydse respons op skilderye uit die verlede. Ek dink nie hier is enige reëls of voorskrifte moontlik nie. Die skilderye van Coorte is ten spyte van hul realisme, kompleks en raaiselagtig, en het daarom mense oor eeue heen bekoor en gefassineer. Sy werk sal nog vele verskillende response oproep. Net soos wat die musiek van Bach miskien nog eeue lank uitgevoer sal word en variante, sitate en verwerkings sal ontlok. Selfs nie die mees inkwisitoriale dekolonialisering van kultuuruitinge sal hierdie vervloeiing en verspringing van elemente oor die kontinente heen kan keer nie (soos wat die uitstekend befondste afdeling vir Chinese taal en kultuur aan die Universiteit van Stellenbosch reeds bewys,  om nie te praat van die Suid-Afrikaanse donkievelle, renosterhorings, ietermagô’s, leeubeendere en perlemoen wat hul weg na China vind nie).

Oor die gebrek aan wit tussen die versreëls: Die uiteindelike kompakte voorkoms van die gedigte het heelwat te make met hoe hulle as teksblokke visueel moes artikuleer met die afdrukke van die skildery op die teenbladsye. En dit is maar een ontwerplogika, vele ander logika’s sou moontlik wees, in die geval van hierdie twee bundels het ons ‘n taamlik simmetriese en gesentreerde ontwerpplan gevolg om te pas by die  inhoudelik en formeel taamlik konvensionele skilderye en gedigte.

LE: Aansluitend tot my opmerking hierbo moet ek noem dat indien intimiteit die toon van hierdie gedigte bepaal, dit inderdaad ‘grense’ is wat in hierdie gedigte aangespreek en oorskry word. Hiervolgens identifiseer ek sterflikheid vs onverganklikheid, tekstuele vs visuele, teenswoordige vs verlede, kyker vs bekykte (en ook andersom: die bekykte wat terugkyk na die kyker!) en ten slotte: Afrikaans vs Nederlands, sowel stamtaal as kulturele aanloop tot die Afrikaanssprekende samelewing. In een van die sleutelgedigte (In die stille agterkamer, p.11) vind ons byvoorbeeld die volgende reëls wanneer Jan Mankes se selfportret behandel word:

            Jy vul die raam kompleet

asof jy eensklaps in ʼn doodloopstraat

tot stilstand kom. Dis ek na wie

jy so van digby kyk soos na ʼn muur

met ʼn geslote hek …

(rr. 1 – 5)

En ten slotte.

                                               Ek lig my hand,

niks anders skiet my binne as jou reguit

in die oë kyk en soos ʼn ver

familielid te groet.

Volgens my is die insluit van vertaalde tekste dus nie net ʼn poging om die reikwydte van jou lesersmark te vergroot nie, maar inderdaad ʼn tematiese noodwendigheid omrede die Afrikaanse gedig nie net ʼn (introspektiewe) weerspieëling van die skildery is nie, maar tegelykertyd in die vertaalde teks gereflekteer word. Ook die leser (uit beide taalgroepe) mag nie hier buite die raam geplaas word nie; op subtiele wyse word die leser as ‘kyker’ immers deel van hierdie drieledige spel tussen uitbeelding en waarneming. Jou kommentaar?

MvN:

Ja, jy sien dit goed, grense is daar om oorskry en geperforeer te word en om ontoelaatbare en verbode dinge oorheen te smokkel in teenoorgestelde rigtings. In ‘n tyd van aggressiewe kulturele essensialisering deur  akademiese identiteitsteoretici is die besluit om die Nederlands ook in die Suid-Afrikaanse uitgawe in te sluit onder andere bedoel om die onvermydelike werking van verstrengelings en wedersydse “besmetting” van kulture via (ook intermediale) vertaling te illustreer: in hierdie geval, soos jy sê:  intersemiotiese “vertaling” van oud-Europese skilderye na gedigte in ‘n postkoloniale mineurtaal in Afrika, voorts vertaling van laasgenoemde “terug” na die Europese “stamtaal”, daarna aanpassing van die Afrikaanse teks aan die vertaling, en laastens “vertaling”/rangskikking van al die visuele aspekte van die bundel om in een gesamentlike ontwerptaal sin te maak vir die min of meer visueel ervare oog. Sowel verinheemsing as vervreemding is deur hierdie verskillende soorte en “rigtings” van oorsetting bewerkstellig. Die mengsel is in ieder geval wat my betref onontwarbaar en onsuiwerbaar. Mens sal origens moet sien of daar enigiemand in Nederland is wat vind dat ek my skuldig maak aan kulturele toe-eiening.

In hierdie verband wil ek verwys na die kollektiewe Brasiliaanse Tropicália- of Tropicalismo-beweging uit die sestigerjare. Hierdie beweging in die Globale Suide is naamlik verlangs verwant aan bogenoemde nosies van ongebreidelde kulturele grensverkeer en interkulturele “vertering”van elemente. Die beweging sal miskien bekend wees by Suid-Afrikaanse lesers vanweë die rol wat Veloso Caetano daarin gespeel het, die sanger van La Paloma in die rolprent Hable con ella, (Talk to Her) van Almodóvar. Die digter Oswald de Andrade was in 1928 reeds ‘n soort grondlegger van hierdie latere kulturele beweging met sy anargistiese Antropofagiese manifes, ‘n los stel aforismes/beweringe wat volgens eietydse teoretici nie alleen ‘n kontra-koloniale kultuurvoorstel was nie, maar ook ‘n Latyns-Amerikaanse vertaal- en musiekteorie. Dit het basies neergekom op ‘n herwaardering van pre-koloniale kannibalisme, maar dan in kulturele sin: neem en eet alles vreemds wat uit die buiteland inkom of oorwaai en maak dit, deel van die eie kulturele produksie/uitskeiding. Andrade het hom hiermee absoluut gedistansieer van die sogenaamde Manifesta regionalista (1926) van nasionalistiese groepe wat met hulle verwerping van  ingevoerde konserf, Switserse medisyne en Amerikaanse nuwighede basies ‘n “sluiting van die hawens” wou afdwing. Daarteenoor stel De Andrade idees van radikale transkulturasie en kulturele toe-eiening voor. Sy verdediging van die tradisionele matriargie, die  prelogiese mentaliteit en die karnavaleske word deur eietydse teoretici gesien as  ‘n bevryding van mentale kolonialisme en as voorloper van idees van Kristeva en Deleuze en Guattari. Sy manifes word  vandag beskou as ‘n “etno-poëtiese model” en ‘n “soepele boetseerbare kulturele grondslagdiskoers”.

http://www.academia.edu/6998258/Antropofagia_Cultural_cannibalism_

Hieronder is die skildery getitel Abaporu  (Mensvreter), ‘n verjaardaggeskenk van die skilder Tarsila do Amaral aan De Andrade wat die impuls was agter die Antropofagiese manifes –  ‘n groot Indiaanse liggaam met ‘n minuskule kop in dieselfde liggaamshouding as Rodin se Denker. Mens kan jou voorstel hoe Suid-Afrikaanse studente wat hierdie skildery in Suid-Amerika sou sien dit onmiddellik (dalk namens hulle gashere?) as aanstootgewend sou kon ervaar en dit sou wou laat verwyder of toespyker.

Interessant is miskien ook vrae wat Achille Mbembe stel, byvoorbeeld: waarom geen kulturele opbloei na 1994 nie; en daarby kan mens voeg, waarom twintig jaar later nog geen teken daarvan tydens kampusopstande in 2015 en 2016 nie; waar is die nuwe meesleurende vorme van teater en musiek? Waarom sou etniese chauvinisme en nasionalisme of “nasionaalgeoriënteerde groepsidiolekte” nog steeds, selfs deur akademiese propagandiste, aanbeveel word as die enigste legitieme bronne vir kunsskepping?

http://www.litnet.co.za/oorwegings-vir-die-dekolonisering-van-die-verwante-musieksoorte-van-westerse-en-suid-afrikaanse-kunsmusiek/

LE: In beide bundels kon ek slegs twee gedigte vind waar die stem in die gedig haar/sy waarneming direk en persoonlik op eie belewenis betrek, te wete “Net so ʼn haan had ek as kind” (In die stille agterkamer, p.47) en “Adriaen, die gekke is dat julle tydgenote was” (Gesant van die mispels, p.54). Vertel ons meer van hierdie gedigte? Ook – is dit toevallig dat dié gedigte in die onderskeie bundels basies sluitverse is?

MvN:

Die twee gedigte se posisies in die onderskeie bundels het uiteraard te make met ‘n soort “spanningsboog” in die volgorde van die gedigte. Mens moet na my mening, formeel gesien, sorg vir eindes, al is dit ‘n nosie wat soms bevraagteken word deur Neo-Marxistiese kunsteoretici op grond daarvan dat ‘n skrywer se bemoeienis  met “einde” (formeel en inhoudelik) altyd ‘n aanduiding sou wees van ‘n twyfelagtige hang na sluiting en totalisering, ‘n emfatiese slotakkoord, waarin alles wat voorafgegaan het “opgelos” en tot stilstand gebring sou wees. Eindes (net soos beginne) kan egter, soos reeds geargumenteer, formeel sowel as inhoudelik “oop” wees of deur ‘n oneindige aantal maneuvers hul eie relativering insluit of  “merk”. Die meeste kunswerke is, goed beskou, in elk geval eintlik ‘n strange loop (möbiuslus) tussen die kunstenaar, die kunswerk, die prototipe/model en die resepsie. Elkeen van hierdie elemente kan ten opsigte van elkeen van die ander elemente die “dader” (agent) of die “slagoffer” (pasiënt) wees. Ook die kunstenaar self kan deur sy/haar werk, of deur sigself  “beseer” word. (Vergelyk Alfred Gell se mooi boek Art and Agency hieroor). Oor altwee die gedigte wat jy noem se insluiting is daar getwyfel, die haangedig by die haanskildery van Mankes, omdat dit miskien te sentimenteel sou wees; die tydgenote-gedig aan die einde van die Coorte-bundel (Coorte het min of meer in dieselfde tyd geleef as my stamvader Cornelis Gerritz van Nieuwkerk), omdat dit dalk te direk-persoonlik sou wees. Uiteindelik het ek besluit om hulle te behou ter wille van afwisseling en kontras met die res.

LE: Marlene, die wisselspel tussen beelding en teks was nog altyd iets wat prominent teenwoordig was in jou skryfwerk. (Ek dink byvoorbeeld hier aan Memorandum: ʼn verhaal met skilderye, 2006: Human & Rousseau.) Watter rol speel ander kunsuitdrukkings soos byvoorbeeld die skilderkuns – en natuurlik, veral ook musiek – in jou eie kunsbeskouing en -uitdrukking?

MvN:

Ek gee nie voor om enigiets buiten ‘n geïnteresseerde leek op die gebied van skilderkuns en musiek te wees nie. Ook kyk en luister ek, miskien wel ‘n bietjie uit ‘n antropologiese en filosofiese oogpunt, na heel verskillende vorme van musiek en skilderkuns, alles van Mongoolse bowetoonsang tot Europese kunsliedere en die Kalfiewals, veral as Dries Laas dit speel op sy konsertina https://www.youtube.com/watch?v=-09FaMGKwC0, En ons het die konsertina by die Engelse en die Duitsers gekry –  hier is  verder ‘n Sweedse hoenderpolka: https://www.youtube.com/watch?v=bgfBCli0Bik, ‘n Ierse riel https://www.youtube.com/watch?v=pPDM-2seKpA en so klink ‘n Portugese volksmusiek in postkoloniale Brasilië, https://www.youtube.com/watch?v=TUxKpuxc_BM,  alles familie van mekaar. Ek kyk ook na baie soorte kuns, in museums en ook op die internet, alles vanaf graffiti tot gekerfde Eskimobeeldjies, Aborigine-kuns en bekende en minder bekende werke uit die verskillende kunskanons. Omdat ek taamlik vatbaar is vir suggestie kry ek dikwels, soos baie ander skrywers, bruikbare idees as ek ander kunsvorme bekyk of beluister. Daar is oneindig veel teorie en geskiedenis om te lees oor kuns, oor watter rol dit speel in verskillende kulture, oor wat die funksies daarvan is. Maar dat dit uiteenlopende rolle en funksies vervul, neem nie weg dat kuns nie ook iets in gemeen kan hê nie. Een standpunt waarmee ek kan identifiseer is dat kuns dalk meer met biologie te make sou kon hê as wat mens sou dink; met evolusie, met oorlewing en met seksuele seleksie. Hoe ook al, ek vermoed dat die maak en die geniet van sogenaamde kuns geanker is in ons animaliteit en materialiteit eerder as suiwer in ons “geestelike”/simboliese vermoë, iets wat allegoriste nie verstaan nie, ook nie ideoloë wat net skryf wat hulle klaar weet nie. Kuns het myns insiens met ekses te make, oorbodigheid, en met die roekelose verspilling van libidinale energie, met die vermoë om in ‘n flow te kom met materiaal, met die onontbeerlike algemeenmenslike narsisme van hongerige selfherkenning in die wesens en dinge, die gamut van bestaansvorme buite ons, waarvan Marcuse praat in One-dimensional man. Sulke opvattings kan erg bedreigend wees vir skrywers wat nie kan herken of erken dat hulle nog nie in aanraking is met hulle gevoelens of onderdrukte vrese of begeertes nie. Die idees van Elizabeth Grosz, Alphonse Lingis, Deleuze en Guattari en sommige filosowe in die kader van die sogenaamde Nuwe Materialisme het my verder gesterk in my kwaad wat hierdie soort opvattings betref.

Ek wil net nog iets byvoeg waarop jy nie ingaan in jou vraag hierbo oor grensoorskryding nie, maar ek vind dit tog nodig om dit te sê as gevolg van die huidige atmosfeer in die publieke domein in SA.

As mens in hierdie tyd van die oproep tot transformasie van kurrikula en verbranding van kunswerke op kampusse so iets soos hierdie bundels publiseer, dan is mens intens bewus van ‘n bepaalde risiko wat mens neem/grens wat mens dalk oorskry, gesien die verbandhoudende wysgerige oproep van akademici soos Samantha Vice dat wittes nie in ons tyd politieke kritiek moet lewer nie, maar hulle moet beperk tot “small gestures en utterances”.

http://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/j.1467-9833.2010.01496.x/full  ( Sou sy die onlangse boeke van Jacques Pauw, Ronnie Kasrils, Crispian Olver oor die politieke toestand in die land ook in die verdomhoek werp?)

Daar sou kritici kon wees wat, terwille van hulle eie selfadvertensie hierdie soort publikasie van gedigte en skilderye sou wou uitsonder as ‘n laakbare sosiale handeling wat op opsetlik aanstootgewende wyse die gegewe van historiese bevoorregting, ‘n hoër middelklasposisie en taamlike elitêre smaak durf tentoonstel saam met alle geriewe en geleenthede wat daarmee saamhang: gevestigdheid in ‘n sosiale en artistieke “veld”, ‘n koppeling aan ‘n “mark”, toegang tot produksiemiddele en -prosesse, en tot institusies en befondsing.

Mens riskeer met so ‘n soort publikasie egter nie alleen moontlike aanvalle vanuit ‘n openbare sfeer gekenmerk deur kontestasie en disinhibisie nie, jy neem as histories bevoorregte ook bewustelik ’n kritiese houding in, en wel met die volgende agterliggende vraag: waarom sou die toevoeging (addition) van verskillende soorte kuns, van uitbreiding van die bestaande, van verinheemsing, vermenging, improvisasie, metamorfose en ontlening en vertaling van alle voorhande vorme, media, werke, tale en style afgewys word ten gunste van aggressiewe vervanging van een  bepaalde soorte kuns of musiek of letterkunde deur ‘n ander? Waarom soms die verdagmaking en afbreek van bestaande ontleende of gemengde vorme ten gunste van die sentralisering en eksklusiewe bevordering en voorskrywing van ‘n ander, sogenaamd meer “outentieke”, “suiwer”  of  “legitieme” of outochtone kuns? Sou dit nie in ons huidige tydsgewrig nog ‘n verdere en ander soort kulturele verarming kon veroorsaak nie? – bo-op die eeuelange en gewelddadige verarming van inheemse kulture onder kolonialisme en bo-op die verpotting (ook potboundness) van die so lank deur Apartheid geïsoleerde wit kulturele uitsette? ‘n Bewuste keuse vir toevoeging (addition) en hibridisering in die kader van die kunste hoef nie uit te sluit dat die publiek krities bewus gemaak kan word van die effek van dominante kultuurvorme en van die kommodifikasie van kunswerke in ‘n konteks van verbruik nie. Dit hoef ook nie uit te sluit dat agtergestelde of onontwikkelde gemeenskappe ekstra befonds of gestimuleer sou kon word wat kulturele uitsette betref nie.

Die ander risiko met die publikasie van poësie in ander tale as Engels is dat dit in ‘n “silo” van  soms onkritiese of ondeurvorsende, vriendelike gelykgestemdes val waardeur mens ook nie kan vorder in jou werk nie. Die risiko wat egter alle ander verdwerg het te doen met die deesdae voelbare anachronisme van tydrowende handgemaakte entiteite soos skilderye, gedigte en boekontwerpe in die kubergemaal van versuilde opinies, versuilde opiniebevestigende “nuus” en advertensies. Waardebepaling gaan toenemend nie meer noodwendig oor kwaliteit en die weerstand wat kwaliteit meestal bied nie, maar oor (dikwels spektakulêre) toeganklikheid en populêre resonansie. ‘n Literêre werk is lankal ook nie meer “‘n brief aan vriende” nie, dis ‘n tweet in ‘n tuimeldroër. Soos Peter Sloterdijk dit stel: sosiale samehang word deur ander middele bewerkstellig en uit ander dimensies verwag, nie meer deur en uit die kontemplasie van gedeelde tekste wat vra dat mense hulle aandagtig lees nie.

https://homepage.univie.ac.at/henning.schluss/seminare/023bildung_und_genetik/texte/01sloterdijk.htm.

Maar miskien is daar wat dit betref ook reeds ‘n verandering van sentiment in die lug. http://designinquiry.net/wp-content/uploads/2014/01/Richard-Sennett-The-Craftsman-Chapter-1.pdf

LE: Baie dankie vir hierdie gesprek, Marlene. Volgens die meegaande inligtingstuk het wyle Henning Snyman na hierdie bundels verwys as “ ʼn poëtiese én grammatikale kragtoer” en “ ʼn ryke aanwins tot die Afrikaanse digkuns en kunsbeskouing”. As poësieliefhebber kan ek maar net handeklap ter bevestiging van prof. Snyman se uitsprake. Vir my as leser was dit ʼn heerlike spel om eers die meegaande skilderye te bestudeer en dan die toepaslike gedig te lees; net om telkens sprakeloos te staan voor die diepgang en tematiese reikwydte van jou teksaanbod. Welgedaan.

Mag ek vra, by wyse van groet, dat jy hieronder vir ons een van die gedigte by wyse van illustrasie plaas, asseblief? Ook met die meegaande skildery en vertaling.

MvN:

Dankie Louis, ek waardeer dit dat jy hierdie interessante vrae opgeskryf het, en dankie vir die ruimte om te antwoord. By die skildery hieronder, die volgende opmerking: wilde aspersies, Asparagus rubicundus, is inheems aan die Boland en hulle wortels is ook eetbaar, net soos dié van die kommersiële variëteit  Asparagus officinalis wat inheems is aan Europa en wat vier eeue gelede  deur Coorte geskilder is. Sal ons die Bolandse soort ook begin eet, skilder, en uitvoer in gepaste Kreoolse Afrikaans? Miskien sal dit verfrissend wees –  die skildery hieronder het naamlik inmiddels in Nederland reeds ‘n cliché geword vanweë voortgaande reproduksie op poskaarte, kookboeke en menu’s.

 https://wikivisually.com/wiki/Asparagus_rubicundus

https://wikivisually.com/wiki/List_of_Asparagus_species

Die spruite, bymekaar-

geskud en met ’n donker

twyg gebind, rangskik jy

eenkant op die steen met vlak

daaronder naam en agter-

naam in ’n oopgebuigde

lemniskaat, die krul

van die oneindigheid geprent

vlak langs die reguit kraak.

Jy watertand die ganse

dag na sout, botter, groente-

murg, maar skil of skilder

niks, tot waak bereid

en slapeloos – die elpelote

in die maanlig bespook jou

met hul Eurydice-agtigheid.

As jy eindelik jou kwaspunt

doop en oor die maalstok

in die donker mik, splyt

jy met ivore tinte

die somber ondergrond.

Soos die wande van ’n sarko-

faag val die hele hede los

om ligte lede oop. Jy verlaat

jou delikaat en duidelik

oorstelp op tien aspersies

en twee woorde –

Adriaen Coorte.

*

De spruiten, bij elkaar

geraapt en met een donkere

twijg gebonden, rangschik jij

terzijde op het blad, met pal

eronder naam en achter-

naam in een uitgebogen

lemniscaat, de zwier van het

oneindige geprent vlak naast

de rechte naad.

Jij watertandt de ganse dag

naar zout, boter, groente-

merg, maar schilt of schildert

niets, slapeloos houd je

de wacht – de elpenloten

in hun clair-obscur beletten

jou het kijken als Eurydice

in het schimmenrijk.

Als je eindelijk de kwast-

punt doopt en langs

de maalstok in het donker

richt, splijt je met ivoren

tinten de sombere onder-

grond. Gelijk de wanden

van een sarcofaag valt heel

het heden om de lichte

leden open. Je verlaat je,

delicaat en duidelijk over-

stelpt, op tien asperges

en twee woorden –

Adriaen Coorte.