Posts Tagged ‘Louis Jansen van Vuuren Novembermaand’

Louis Jansen van Vuuren. Novembermaand

Monday, November 5th, 2018

 .

Autumn

The morns are meeker than they were,
The nuts are getting brown;
The berry’s cheek is plumper,
The rose is out of town.

The maple wears a gayer scarf,
The field a scarlet gown.
Lest I should be old-fashioned,
I’ll put a trinket on.

Emily Dickinson

.

as dit sneeu

November in Boussac,

‘n Buite Blik

.

Teen slapenstyd trek ek die gordyne toe. Daar hang toe nog ’n yslike hap van die volmaan in die verdonkerde hemel. My skim in die ruitglas kyk my reguit in die oë, ek verbeel my dat ek jonger lyk as ooit tevore. Beter as botox is dié ruite met die sagte voorwinterstoom. Ek slaap. My mond is ’n tuisgebakte croissant met die mondhoeke na bo gedraai. Dit kom wyl ek slaap. Soos ’n dief in die nag val sneeu geluidloos oor sy eie voete om ’n huis met ’n koue kaggel wat niks vermoed nie.

Na drie jaar se stoorstaan word my boeke uitgepak in die nuwe kantoor. Dis nie eintlik ’n kantoor of ’n studeerkamer nie, dis eerder ’n wunderkammer. My eie cabinet de curiosité.  Als wat vir my lekker en mooi is word hier uitgestal. Skilpaddoppe en skilderye, briewe, tzatzkes, bibelots, objekte van begeerte en kaggelkak. Maar dis die boeke wat nou ontwaak.  Iedereen word afgestof en met die hand gegroet soos ’n wedersiens van ou vriende. Almal is nog daar. Breyten en Bibi en Wilna, Joan en Ted en Johann, Riana, Ronelda en Lina, Marlene, Marlise en Louis, Wilna, N.P. en T.T, Sylvia, Fanie, Danie en Emily en Boerneef. Só kan ek aangaan tot die koeie huis-toe kom. Die opsê van die bekende name is ’n bemoediging en klink so bekend want elkeen het sy eie unieke vibrasie. Klinkers en medeklinkers dreun deur my stembande soos ek die resitasie van name aankondig.

Slaap en sneeu is twee skouperde wat hoog trap deur die koue Oktober nag. Alles is nie altyd net maanskyn en sneeu nie.  Uit Marlene van Niekerk se Die sneeuslaper lees ek hardop ’n paar lyne wat my altoos diep ontroer:

.

“… U vra waar ek snags slaap. Ook dit het ek probeer deurvors. Want ek is die agterryer van onse liewe heer op solder, daardie ou fokker so verveeld met sy perfekte maaksels. n Hele sewende dag lank moes hy slaap om uit te dink hoe hy homself verder gaan vermaak, die eerste slaper van die heelal, en uit sy kelder van alleswetendheid droom hy toe die sondeval om hom mee besig te hou, en voilà, die wêreld vol barokke onheil, donder en blitse, oorloë en gekruisigdes wat hy heen en weer katrol wyl sy gevleuelde castrati sing oor die onverleplike rose van Jerusalem.”

 .

En uit Tom Gouws se bundel, Stigmata:

.

optelswaan

.

       marlene van niekerk*

 .

pluimedos van melkwit glas

nek geblaas in ’n droom van vuur

’n vaas wat vaar

dig aan sy weerkaatsing vas

gemaskerde tweeling

in ’n dans gebind bors aan bors

donker musiek in die webbe

.

van sulke toeval is die hart verruk

.

.

* “ Gedigte is soos voëls, hulle migreer oor die grense van mense heen asof die grense nie bestaan nie.” T.T. Cloete: Die Burger, 9 Desember 2010)

.

Im Abendrot

’n roeplied in falsetto-stem

.

Vir RS

.

As saans die hemel rosig bloos

Soek ek my kinderkamer op

Daar sing ma en Jessey Norman

In twee stemme,

Strauss se avondlied

Die plaat krap en sy neurie dit weg

Horlicks-klanke

Stemme wat die son sy kop laat sak

.

Die leeuwerik se lied word water

Die druppels is vergulde motte: goue flikkers

Wat opwaarts fladder.

Laat hulle vlieg.

Want dis amper slapenstyd

Liefde is sterk soos die dood; sy gloed

Is ’n gloed van vuur, ’n vlam van bo

Sien jy die aandster se gloeiende punte?

.

Daar is dit wéér, die onafwendbare stilte

Soos die suiskrap van ’n langspeelplaat.

In sy laaste groef.

.

Louis Jansen van Vuuren

.

.

Na nog ’n nag van slaap en sneeu is die wêreld om my heen in wit verdwene. Dis lekker warm in die wunderkammer en die stompe vonk in die kaggel. Ek weet nie hoekom slaap en sneeu my aan Madame Butterfly laat dink nie? Miskien is dit iets uit my kinderdae wat aan my torring wanneer Callas uit die tweede bedryf un bel di vedremo  op haar kenmerkende wyse sing. Èn as ek Callas hoor, dan hoor ek Joan Hambidge se stem:

.

Maria Callas (1923 – 1977)

.

Vir TT Cloete

.

Om só godsgenadig

te kon sing en vertolk,

dit doen sy absoluut spontaan

boonop ’n noot steel soos ’n gypsy,

bronstig omklem soos ’n munt

in ’n dooie se toegebalde vuis.

Elke lied word deur haar lyf

se ronde kontoere vervoer.

Later toe sy verslank,

fokus sy op haar flaminkkeel,

dra steeds gekartelde fluweel

om die véle omswerwinge

van ’n vasgevatte noot

oor vele hoogtes én laagtes,

te laat vloei in ’n asemsnakkende,

amper roggelende, volsonge snik.

.

Joan Hambidge, Lot se Vrou

.

.

Sneeukristalle moet nie met sneeuvlokkies verwar word nie. Die  kristal is ’n enkel yskristal wat op ruite vir ’n oogwink bly sit.  ’n Volsonge snik, ’n gevriesde klinker wat vir ’n oomblik bly kleef.

Die vlokkie is ’n konglomerasie van baie kristalle. Minuskule hexagone wat met ses ywerige armpies hande vat en wat  goedsmoeds van gedaante verwissel. Shapeshifters, ieder en ’n elk!

Daar is blykbaar ten minste vyf soorte sneeukristalle wat uitgeken kan word aan hul unieke vorme, prismas, stervormig, naaldvormig, boomvormig en varingkrulle…

Uit Sarah Emily Miano se betowerende teks, Encyclopedia of Snow, haal ek hierdie stukke wysheid aan:

.

“Upon reaching the ground, crystals lose shape and become granular in form due to evaporation and condensation. Rimelike ice crystals or pogonip, a Shoshone word for ‘white death,’ form in a freezing fog, then drift into the air so densely they make a tingling sound as they collide. The air instantly fills with flying needles of ice, which adhere to any surface – trees, plants, rocks – to form ice-blossoms or frost flowers. Snowflakes, then, are clumps of crystals.* When snowflakes unite with other flakes they grow larger. On rare occasions flakes are very large – measuring 15” x 8” – as in Fort Keogh, Montana, in Jan. 1887, when they were ‘larger than milk pans.’ Even when small – half an inch in diameter – snowflakes can be gathered in your hands or caught on your tongue, with the air below freezing temperature.”

 U.Nakaya, Hokkaido

 .

  • “ the growth of a genuine tradition resembles that of a crystal, which attracts homologous particles to it self, incorporating them according to its own laws of unity.” – Titus Burkhardt, 1967.

.

.

Vir Emily Dickinson

.

In my navrantste ure,

Emily, was jy daar,

bereikbaar op my boekrak

as naaste geesverwant:

.

Jou woorde was ’n sneeuval

wat die skrilste klag kon demp

en ook teen koue

’n warm wintershemp

.

en nooit was daar ’n kilte

wat die lente terug kon hou

want in teen die verkluiming

– helder en hoog –

het jou rooiborsies gesing.

.

Lina Spies. Die skyn van tuiskoms

.

.

Na waters waar rus is

.

om te huil terwyl jy hartseer is

is om ’n vuur dood te maak

.

om te dans terwyl jy totsiens sê is

om te keer dat jy saamgaan

.

om te drink terwyl jy dronk is

is om te bid

.

om te vloek terwyl jy kwaad is

is om kort paaie uit te rek

.

om te baklei terwyl jy bang is

is om antwoorde in die Bybel te soek

.

om te lag terwyl jy in pyn is

is om soos ’n lae gety te slaap

.

Ronelda S Kamfer, Hammie

.

.

Son

.

Kan ek minder as die saad wees,

saad wat lank in duinsand lê

en nie met Bokkebaai tot vygies breek?

.

Kan ek minder as die voëls wees,

voëls wat lank in melkhoutbome slaap

en nie met spreeus en duiwe en mossies spreek?

.

D.J. Opperman, Komas uit ’n Bamboesstok

 

.

In Parys is daar ’n wonderlike museum wat nie aan baie bekend is nie:  die Musée de la Chasse et de la Nature in Rue des Archives. Dit is ’n privaat museum wat die verhouding tussen mens en natuur ondersoek.  Die rare en uitspattige versameling is persoonlik deur die eienaars, François en Jacqueline Sommer sedert 1964 saamgestel. Die hele museum is in skatkamers opgedeel, wunderkammers, met name soos Die Kamer van die Beer,  Salon van die Honde, Wolwekamer en my gunsteling, Le Cabinet de Diane. In die godin van die jag se ruimte staan daar ’n reusagtige opgestopte takbok. In die middel van die glinsterende parquet vloer omring met sewentiende eeuse Aubusson wandtapyte wat Diana uitbeeld wyl sy takbokke jag. Die kamer is met houtpanele uitgevoer en die gordyne voor die drie meter hoë venster is van dowwe sy geweef.

Die hoof kurator, Claude d’Anthenaise, meng gemaklik 17de eeuse portrette van Louis XIV se troeteldiere met byderwetse objekte. Op die marmerblad van ’n antieke sytafeltjie is daar ’n eklektiese rangskikking van honde beelde, insluitende ’n kristal hondekop uit die sewentiger jare gemaak deur Baccarat en ’n wit porselein beeldjie van ’n Skotse hondjie getiteld, Puppy, deur die hedendaagse beeldhouer, Jeff Koons. Daar’s gewere en pistole, en naasteby drie duisend jag-verwante objekte en kunswerke. Daar’s ’n Rubens, ’n Cranach en ’n hand vol Alexandre-Françoise Desportes.

.

.

die tekenles

.

ek wil net ’n klein bietjie van jou ken op ’n keer

waar die litteken onder jou bors

vandaan sou kom of een droom

te perd in ’n bos

en nie waar jy jou hart verloor het nie

.

dat ek van die tyd ’n rek kan maak

op my hurke onder die son

om die swart voël weg te skiet

wat in die winterboom bot

.

Breyten Breytenbach, Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.

 .

 .

Waars my bok vanaand moflam

die wind stoot fris deur die poort

waars my bok vanaand skaaplam

’n ding hoort waar hy hoort

moflam boklam skaaplam warmlam

hanslam hartlam skatlam warmlam

bokkie alleen op ’n koue aand

blêr verniet op die wintersaand.

.

Boerneef.

.

.

Nouernood

.

Liefde is ’n akkedis se stert:

jy raak hom soms kwispellend kwyt

om te oorleef. Vir wat dit werd

is: hy groei weer terug, op sy tyd.

.

Johann De Lange

 .

 .

Op die vlerk

.

Sedert jou vertrek is ek daardie voël

wat van klein teugies leef,

wat nooit land, maar op lug-

strome eet, & slaap, & sweef.

.

Johann De Lange, Die heel mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

.

.

Mark Forsyth se twee boeke, The Etymologicon en The Horlogicon maak vir gawe leesgenot so op ’n wintersaand. Dis werklik twee publikasies en is eintlik ook wunderkammer. Wonderkamers van woorde. Bestaan daar perdalks sulke boeke in Afrikaans? Miskien kan mens so ’n projek begin…?

.

Lying down to sleep

      Night-spel, was a Prayer against the Night-mar.(1674)

It is time to put out the lights and dowse the glims, as a highwayman would have said. Highwaymen could never say anything in ordinary English, and they would bid you good night by saying bene darkmans,

pronounced BEN-ay, and derived from the Latin for blessed. So if there is somebody with you, that is how to wish them good night.”

Mark Forsyth, The Horologicon.

.

The Bridge

.

The trees are leaking shadows

where they stand upon the hill

and as we walk the mountain throws

a slate blue chill.

.

I hold her hard hand tighter

for we’ve turned away from home

and my apron glows like hers

in the dusty copper gloom.

.

Where are we going mother?

Where we haven’t been before.

The river’s spent its silver

The day’s a bolted door.

.

You’ll get back nothing tomorrow

you  touched or heard or saw.

The bridge we cross is sorrow’s

and this is sorrow’s law.

.

Jacob Polley, The Havocs.