Posts Tagged ‘Lucas Malan’
Friday, June 10th, 2011
 Lucas Malan
Op 15 april 2010 overleed in Kaapstad de Zuid-Afrikaanse dichter Lucas Malan na een hartoperatie. Lucas Malan werd op 19 juli 1946 geboren in Nylstroom. Hij debuteerde in 1981 met de bundel ‘n Bark vir die ontheemdes. Later volgden nog Tydspoor (1985), Edenboom (1987), Kaartehuis (1990), Hongergrond (1994), Afstande (2002) en Vermaning (2008). Zijn werk is sterk geënt op zijn persoonlijke ervaringen. Hij schreef over zijn ouders, zijn eigen gezin, zijn liefdeservaringen en - in zijn later werk - over de angst voor het ouder worden en de dood. Zijn gedichten worden gekenmerkt door een grote stilistische gevoeligheid en het vermogen om vertrouwde woorden en beelden in een nieuwe context te plaatsen.
Malan promoveerde aan de Universiteit van Pretoria op een doctoraat over de poëzie van zijn persoonlijke vriend en mentor, de Zuid-Afrikaanse dichter Ernst van Heerden. Na diens overlijden in 1993 erfde Malan zijn literaire nalatenschap. Op zijn beurt schonk Malan de collectie dichtbundels uit het nalatenschap aan het Poëziecentrum. Door bemiddeling van Prof.dr. Wium Van Zyl, Prof.Dr. Wannie Carstens en Louis Esterhuizen kan ook het nalatenschap van Lucas Malan aan de Collectie Ernst van Heerden worden toegevoegd. De Collectie van Heerden was reeds de grootste collectie Zuid-Afrikaanse poëzie (geschreven in het Afrikaans) buiten Zuid-Afrika. Door deze uitzonderlijke schenking kunnen meer dan 200 titels uit verschillende tijdvakken aan de collectie worden toegevoegd. De boeken zullen zo snel mogelijk via de catalogus ontsloten worden. Geïnteresseerden zijn alvast welkom om in de goedgevulde dozen te komen snuisteren.
 Ernst van Heerden
De Collectie Ernst van Heerden omvat ondertussen ongeveer 1500 boeken, maar ook krantenartikels en geluids- en beeldopnames. De collectie wordt nog steeds verder uitgebreid dankzij de bereidwillige medewerking van de PUK-Kanselierstrust van de Noordwes Universiteit (Witwatersrand), Louis Esterhuizen (Protea Bookshop), Universiteit Stellenbosch, Protea Uitgevers (in het bijzonder Dr. Nicol Stassen) en NB-Uitgevers (in het bijzonder Kerneels Breytenbach).
Het Poëziecentrum dankt alle betrokkenen en hoop de dat Collectie Ernst van Heerden ook in de toekomst mag bijdragen aan de goede verstandhouding tussen Zuid-Afrika, Vlaanderen en Nederland.
Friday, August 6th, 2010
Beste Redaksie
My laaste brief aan Lucas Malan bevat informasie wat ook vir ander digters nuttig mag wees, en in dié gees bied ek dié brief vir Versindaba aan.
Hennie Aucamp
——————————
9 November 2009
Lucas, jy en Charl-Pierre Naudé het ‘n boeiende ding beet, rakende die verskille en ooreenkomste tussen prosa en poësie. Hoekom bou julle dit nie uit tot ‘n artikel nie, opgevolg deur ‘n bloemlesing prosa omgesit tot poësie? So iets is al gedoen, en raai, ek kon mý voorbeeld van dié praktyk in een van my ou Amerikaanse dagboeke opspoor. Ek sluit ‘n kopie van die aankondiging daarvan in. Dit gaan om die aanpassings van enkele inskrywings in Nathaniel Hawthorne se American Notebooks in. Walt Whitman se Specimen Days (prosa) leen hom selfs beter tot die omstelling van prosa na poësie, en van sy “prosas” is dan ook getoonset, o.a. deur Ned Rorem. Daaroor later.
Hoe is dit dat poësie - goeie poësie sowel as “sogenaamde” poësie - sig nie altyd leen tot omstelling na soliede, geritmeerde prosa nie? Onder sogenaamde poësie reken ek daardie soort poësie wat albei stoele missit, die prosastoel én die poësiestoel, ‘n hibried wat vroeër tereg skamper “proësie” genoem is. Die prosas van Jan Rabie slaag sowel as poësie en as prosa; op die koop toe kan jy ‘n paragraaf uit enige verhaal in 21 herhaal en dit speel-speel omsit in aanneemlike poësie.
Ek het ‘n baie bruikbare vertrekpunt vir jou/julle bespreking van dié kwessie, n.a.v. The Poetic Memoirs of Lady Daibu, c. 1174 - c.1232. Sy was ‘n hofdame van die Keiserin Tokuto, in Kyoto, Japan. Hofdames was uiteraard ook “gesellinne” vir hoë gaste. Die intelligente en beskaafde Lady Daibu het natuurlik besef dat sy nie verlief durf raak op een van haar “kliënte” nie, maar ja, daar gebeur dit toe tog, en só, sê sy, “I also came to know love’s miseries.”
Ek laat volg die res van haar inskrywing:
“Once, while this affair was causing me a great deal of heartache, I was at my home, lost in thought and gazing westward into the distance. The light of the evening sun was fading on the treetops and that filled me with melancholy. Then the sky darkened and the fitful winter ruin began to fall. As I looked out at this, I felt:
Caught in the last rays
Of the setting sun, the treetops
Darken in the chilling rain:
So too my heart is dimmed
And clouded over in its misery.
Bron: The Book of Life: A compendium of the best autobiographical and memoir writing, edited by Eve Claxton. Ebury Press, London, 2005.
Dié boek word voortdurend heruitgegee, en staan o.a. by Wordsworth, maar ook by Louis in Stellenbosch. Lady Daibu se inskrywing moet een van die min voorbeelde in die wêreldletterkunde wees waar ‘n identiese emosionele ervaring eers as prosa gegee word, daarna as poësie, beide mededelings getrou aan hul wesensaard. En nou laat ek aan jou en Charl-Pierre “die besonderhede en verdriet”.
As julle ernstig is, kan ek julle na wonderlike digte prosapassasies by Gustav Preller, Sangiro, Van Melle, Karel Schoeman, en ander lei. O, ja, ook by Cussons, Petra Müller, Rabie en Braam de Vries.
Hartlike groete
Hennie
NS Uit nuuskierigheid, maar ook as kontrole by myself, luister ek toe gisteraand na ‘n CD: Ned Rorem: War Scenes, Five Songs etc.
•(1) A Speciman Case
. . . Poor youth, so handsome, athletic, with profuse shining hair. One time, as I sat looking at him while he lay asleep, he suddenly, without the least start, awakenen’d, open’d his eyes, gave me a long steady look, turning his face very slightly to gaze easier - one long, clear, silent look - a slight sigh - then turne’d back and went into his doze again. Little he knew, poor death-stricken boy, the heart of the stranger that hover’d near.
•(2) Inauguration Ball
At the dance and supper room I could not help thinking what a different scene they presented to my view a while since, fill’d with a crowded mass of the worst wounded of the war. Tonight, beautiful women, perfumes, the violins’ sweetness, the polka and the waltz; then the amputation, the blue face, the groan, the glassy eye of the dying, the clotted rag, the odor of wounds and blood, and many a mother’s son amidst strangers, passing away untended there . . .
En net vir vergelyking: ‘n Walt Whitman-gedig, ook getoonset deur Ned Rorem:
Look down, fair moon
and bathe this scene,
Pour softly down night’s nimbus floods,
on faces, ghastly, swollen, purple;
On the dead, on their backs;
with arms tosse’d wide,
Pour down your unstinted
nimbus, sacred moon.
Die prosa en die poësie van Walt Whitman het ‘n intense emosionele lading, en ook die bykomstige spanning van ‘n verbode emosie: homoërotiek. En beide prosa en poësie werk met teenstellings, met markante ritmes.
Hubert du Plessis het een prosateks getoonset, Dawid se Klaaglied oor Jonathan, en dit byna matematies geskandeer voordat hy begin komponeer het.
Komponiste kan ons baie leer omtrent stiplees.
Hennie

Wednesday, April 21st, 2010
Om Vyfuur op ‘n herfsoggend

Lucas Malan (19 Julie 1946 - 15 April 2010)
(‘n Huldeblyk deur Hennie Aucamp gelewer tydens die Gedenkdiens, Maandag 19 April 2010.)
***
As jy om sesuur opstaan, soos ek, merk jy dat dit nog donkerig is. Om vyfuur op Donderdag 15 April 2010 moet dit nog nagdonker gewees het toe Lucas Malan gesterf het. Vyfuur, soos dit in Lorca se groot klaaglied vir ‘n gestorwe stiervegter staan, maar nou effens aangepas vir dié geleentheid:
Vyfuur in die oggend.
O, wat ‘n vreeslike vyfuur in die oggend!
Dit was vyfuur op al die horlosies!
Dit was vyfuur die oggend op alle polshorlosies en wekkers; dit was vyfuur die oggend op die kerkhorlosies van Darling, Yzerfontein, Moorreesburg, Malmesbury, Koringberg en Piketberg, en verder aan en wyer uit, landoor.
Dis onvermydelik dat my rede met die doodsbegrip begin, want dit gaan om ‘n elegie vir ‘n gestorwe digter, maar my stuk gaan met ‘n opswaai eindig; met ‘n epifaniese oomblik waarin literatuur en teologie hopelik gaan oorvleuel.
Wat nie alle mense weet nie, is dat Lucas Malan ‘n leeftyd lank betrokke was by siekes en sterwendes; meesal intieme vriende. Hy het sy vriend Billy Egan, die akteur, deur sy kankerkrisis gedra tot aan die laaste kalmte toe. Hy het Gert de Villiers tydens sy stadige, tragiese sterwe gereeld besoek. Hy was in ‘n sin ‘n sterwensbegeleier vir Johan van Rooyen, kultuurfenomeen. En bowenal het hy die gestremde Ernst van Heerden op ‘n gereelde basis besoek en rondkarwei waar nodig, ‘n dekade lank en langer.
Lucas Malan was, as ek vir die soveelste maal met M.E.R. se kalwers durf ploeg, ‘n gewer en ‘n aangewer; van goeie, ouderwetse menslikheid in die eerste plek, en van kennis in die tweede plek. Oor sy rol as opvoeder het ek iets gesê in die College-roubeklag van Die Burger van 16 April 2010, maar ek wil uitbrei op sy doodshantering wat maar net die keersy van sy lewenshantering was.
Hy, wat vertroud was met die afstandelike gelaat van die dood, het sy eie dood in die spieël gesien, en hieroor ‘n eie epitaaf geskryf:
Bestek: 2009
Diep middeljarig het ek geword
bo alle lus en verwagting, oud;
met vratte op die voorkop en ‘n klont
in die skrotum. Onbegryplik. Lélik
oud het ek geword
met gate in die gebit. Mikro-spatare
in ‘n fyn borduurwerk op die enkel
aan die linkerkant, stempel die stand
van oorgewig. Die ander een, regs,
swel weer op in die stygende hitte
van dié swelgende somermaande -
‘n Sorgwekkende geval het ek geword,
jaar na jaar. Maar die geheue, die taai
ou bondel in die brein, dié hou nog kop.
Met elke lente, met ieder skemerdop
kom ál die tam welters weer aangekruip
om aan die geil vier van ons jeug,
die lyf se óú speenvreugdes te suip.
(Junie 2009)
Met hierdie gedig voeg Lucas Malan hom by die reeks ouer digters wat hul eie verval met selfironie waargeneem het, soos byvoorbeeld Barend Toerien en D.J. Opperman.
Opperman het sy grootse parodie op Prediker 12 nooit kon voltooi nie, en streng gesproke mag ek nie daaruit aanhaal nie, maar aangesien dit so mooi aansluit by Lucas Malan se “Epitaphe pour lui - même”, gaan ek dit tog waag met die eerste twee strofes:
Prys jou Skepper
Prys jou Skepper in die dae van jou jeug
vóór dat jy uitroep: “Waar is my bril?”
vóór jy ‘n klankversterker aan jou een oor steek
en jou kunstande nie meer aan die tandvlees kleef.
Prys jou Skepper in die dae van jou jeug
vóór jou glas en lepe beef en stort
vóór jy teen die reuk van die dood
jou bepoeier en besprinkel en jy stuitig word.
Elders in dieselfde gedig, sê Opperman:
…daar is geen medisyne
Teen kaperjolle van die ouderdom…
Maar beide Malan en Opperman suggereer tog ‘n vorm van terapie: ironie; en op sy beste, selfironie. ‘n Ironie-Rus mag heling vir homself haal uit sy ironieë, maar wat van sy prooi? Selfironie is iets anders; dit slaan wyer uit as ‘n eng gebruiksgeval; dit sê iets van ons almal se lewens; dit relativeer; dit laat ons lag.
En só moet Lucas Malan se gedig “Bestek” gelees word, as ‘n gawe aan ons wat agterbly, en nog moet leer om met ons mankemente saam te leef.
Maar daar is ook sy groot, tasbare gawes aan sy vriende. Daar is die pragbundel wat Lucas Malan en Lina Spies vir my sewentigste verjaardag versorg het, teen groot opoffering in; daar was sy ontroerende stuk by my vyf-en-sewentigste verjaardag; en Lucas het gesorg dat daar ook ‘n feesbundel vir Abraham H. de Vries gekom het met sý sewentigste verjaardag. En net voor sy groot siekbed het hy met ‘n oorsigartikel oor die poësie van Lina Spies begin.
Lucas Malan het prakties omgegee vir mense. Hy het ‘n talent vir vriendskappe gehad. En dan was daar sy ander talent: sy digterskap.
Hy het nooit sy digterskap soos ‘n knopie in sy lapel gedra nie. Hy was doodgewoon ‘n oorwoë digter in alles wat hy gesê en gedoen het.
Hier, ter illustrasie, ‘n gedig wat ek in Die Burger van 15 April 2010 genoem het, “Seisoen in Auvers”; ‘n gedig oor Van Gogh waarin die skilder se naam nooit een maal genoem word nie, maar tog deurstraal, is van sy tyd in die Midi:
Seisoen in Auvers
Om die jare te versamel
in ‘n reënval boord:
twee en dertig bome
groen mos, geil grond, donker aarde
Die veranderde werklikheid groei
in die slaglig van die son;
die dag lig ‘n hangbrug op die horizon
vir bote onderweg na die see
- maar hier waai die geel wind
al dae lank oor die heide -
‘n Boer gryp die grond met saad;
swaar soos die klei aan sy voete
spring sy skaduwee hom voor -
groen mos, diep leem, donker bloed:
“Ons sal ons doel nooit bereik nie”
In Auvers staan ‘n kamer gereed
om die laaste gerwe lig te vang
Dié pragtige gedig laat die ou vraag onstaan: Kan skoonheid werklik troos? Akute skoonheid kan, ironies, ‘n nóg dieper behoefte aan troos skep. Kan tyd alle wonde heel? Nie werklik nie, soos enkele nugter digters tereg uitwys.
Emily Dickinson het byvoorbeeld gedig:
They say that “time assuages” -
Time never did assuage -
An actual suffering strengthens
As sinews do, with age -
Time is a Test of Trouble -
But not a Remedy -
If such it prove, it prove too
There was no Malady -
En Rainer Maria Rilke het in een van sy briewe geskryf:
“Even time does not ‘console’…it puts things in their place and creates order.”
Maar nou is dit juis die literêre nalatenskap van ‘n Emily Dickinson, ‘n Rilke, ‘n Opperman wat ons help om ‘n nuwe orde en ruimte vir onsself te skep ná ‘n groot verlies.
Wat ons op hierdie droewige dag moet aavaar, is dat Lucas Malan deel van ‘n onaantasbare stoet geword het, maar ons nie reddeloos agtergelaat het nie. Ons het die gerwe uit sy goue erfprag.
Hennie Aucamp
17 April 2010
BEGRAFNISBRIEF


Thursday, April 15th, 2010
Ek het, benewens ‘n vlugtige interaksie op hierdie webblad, nooit enige kontak met Lucas Malan gehad nie. Ek het hom trouens nooit ontmoet of hom sy gedigte hoor voorlees nie. Ek het hom egter geag as digter, en sy Edenboom is steeds een van my gunsteling bundels in Afrikaans.
Dit was ook een van die eerste bundels wat ek ooit gekoop het: by ‘n CNA-uitverkoping, dieselfde dag wat ek, soos ek al vantervore vertel het, Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur aangeskaf het. Die oorspronklike prys voor in my kopie van Edenboom is doodgekrap: R16.95 — met die destydse AVB bygetel sou dit in totaal seker so ‘n raps meer as R18 gekos het. Die eerste afslagprys, sien ek, was R7.99, en is later weer ‘n keer verminder na 99c.
Ek voel eintlik sleg dat ek so ‘n mooi bundel vir 99c gekoop het, en ek skaam my ‘n bietjie dat Brackenfell se CNA ‘n boek, wat op daardie stadium maar twee jaar oud was, twee keer drasties moes ‘afmerk’ voordat dit verkoop is.
Gelukkig het dit ‘n gretige en bewonderende eienaar gekry. Ek het daardie relatief dun bundel voos gelees. Nou nog maak ek dit soms oop, lees ek ‘n paar gedigte, en ruik ek daaraan. Ek weet nie wat die uitgewers gedoen het nie, maar die boek het vandag, 23 jaar later, steeds ‘n skerp, onmiskenbare reuk van gom en papier. ‘n Reuk wat my altyd laat dink aan Sondagmiddae in Brackenfell in die winter.
Twee van my gunstelinggedigte in Edenboom het juis gehandel oor die dood:
Lugtig
Waar iemand doodgaan, skeur die lug,
snak die uur na asem en dit sug: ver-
by. ‘n Deur gaan oop, die mure skud
en iewers gaan ‘n voël neerstort –
Die dag ruim plek in, ongemerk,
en bome buig in nabetragting, vlug
hul aardsheid binne, word weer groen
‘n laning langs ‘n landery of straat.
Jy sou dit skaars aan lug of bome merk
as iemand doodgaan, stiptelik ‘n bed ont-
ruim, die voordag soos ‘n laken skeur –
maar luister hoe dit oral oor gebeur:
Kring
Onbeholpe en van stryk gebring hier saamgetrek
dié wat oorleef het die winters tot nou
toe, soos oorslag-lemoene behoue;
plek-plek ontbering se skaafmerke sigbaar,
nogtans uitgespaar. ‘n Paar met hul kinders,
onmondig, maar ‘n kworum desnieteenstaande.
Vandag weer versamel en plegtig geskaar
om te groet: naas mekaar, ook dié ene minder,
bestem vir die grond, die inskep met grawe
in wierook van stof – begin kyk hulle bedug
na die kring wat so kwyn en tog groei; kyk hulle
rond, na die niggies en ooms: onthou die ravot
somersaande op die kweek, ‘n dam en die kaalgatbaljaar –
so pas die ondraaglike las van soliede oorskot.
Thursday, April 15th, 2010
 Lucas Malan (1946 - 2010)
“Kyk mooi na jou werfgenoot, en let daarop
dat haar arms al hoe dringender boontoe reik,
hoe die voëls elders na skuiling soek -
en luister hoe dit smiddags ál stiller word
soos haar skaduwees diep in die grond in stort.”
© Lucas Malan (”Kalender”)
Daar is darem sekerlik meer goeie mense op hierdie aarde as wat ons waarskynlik besef, of sou wou toegee. Lucas Malan was één so ‘n mens. ‘n Goeie mens. Iemand met onkreukbare integriteit, ongeveinsde lojaliteit en ‘n besonderse waardering vir eenvoudige menslike dinge soos beleefdheid en bedagsaamheid. Iemand van wie jy altyd ‘n telefoonoproep of e-pos ter bemoediging te wagte kon wees wanneer dinge aan jou kant van die draad oënskynlik nie na wense verloop nie. Inderdaad, ‘n sagte, bedagsame mens, deur en deur. Maar nou ja, ook iemand wat sterk standpunt kon inneem en daardeur mense van hom vervreem het. En, helaas, nie juis vergewensgesind wanneer hy gevoel het dat hy te na gekom was nie.
As akademikus was hy natuurlik bekend vir die skoolboeke wat hy saamgestel of geskryf het; ‘n aktiwiteit waarmee Lucas hom tot onlangs nog bemoei het. Maar dit is waarskynlik vir sy onverdrote ywer vir en betrokkenheid by die digkuns wat hy onthou sal word. Nie net vir die hoë gehalte van sy eie digwerk nie, maar ook vir die werk wat hy so dikwels agter die skerms gedoen het om ander (en veral ook jonger digters) se werk te promoveer. So was die laaste taak wat hy na alle waarskynlikheid wou vermag, die oorskouende artikel wat hy vir die Versindaba-webblad oor die digkuns van Lina Spies wou skryf. Maar helaas, toe sy gesondheid versleg en die dokter hom ingelig het dat hy gehospitaliseer sou moes word vir ‘n klepvervanging in sy aorta, moes hy dié voorneme laat vaar …
Op persoonlike vlak is daar sóveel wat ons gaan mis: die talle kuiertjies in die netjiese wit huis in Darling, die witwyn en sigarette, een besonderse middagete in Yzerfontein; die entoesiastiese, meelewende gesprekke oor ‘n verskeidenheid onderwerpe, maar meestal oor die digkuns en nuwe publikasies.
Ai, Lucas. Dankie vir mooi herinneringe. Dankie vir jou meelewende ondersteuning. En veral: dankie vir jou vriendelikheid. En jou menslikheid. Ook vir die ruimte wat jy aan ons gegun het om op ‘n beskaafde manier van jou te kon verskil. Soms.
As huldeblyk plaas ek een van Lucas se verse wat vir hom persoonlik baie beteken het; ‘n vers wat hy na die dood van sy vriend Barrie Hough geskryf het, en wat op ‘n ironiese manier ook vir hóm waar geword het.
LE
Deurnag
Barrie Hough (1953 - 2004)
Daar is net een lamp wat nog brand vannag
hier in die kamer van boeke wat deurnag praat,
wat aanspraak maak, vertel en vra; net een lamp
met die glans van ‘n sonsondergang in sy skerm
wat ‘n halwe maan óp laat staan teen die muur
waar die lamp in sy heuninglig staan. Net een
ligbron vannag wat nog skyn in die laatnaguur;
net een wat nog brand en soos ‘n mens bly kerm
dat dit tyd geword het om uit te doof, weg te gaan,
om ‘n einde te bring aan ‘n lamp se eenlingbestaan
onder die opslaanlig van ‘n verskeurde maan.
© Lucas Malan (uit: Vermaning, 2008: Protea Boekhuis)
Monday, November 16th, 2009
Lucas Malan – vertaal deur Charl J.F. Cilliers
Meditation
Lucas Malan
Pigeons have come to nest again. Untidily,
as they usually do. Peacefully here
on the stoep, in the latticework of a vine,
amongst leaves making themselves at home. Briefly.
They sleep now in pairs, as they should. Serenely.
Listen to the whole neighbourhood considering their fate,
our modest neighbours who can sleep safely tonight;
perhaps for the whole season, only just protected,
lightly held in half a calabash of sticks and grass.
(Who still remembers the four who were here last year?)
Here they sleep now, the soft blue-feathered ones,
able to drink all night from the wholesome Milky Way
in motionless dreams of their progeny unscathed,
whilst the Southern Cross unwaverlingly plummets.
(Vertaal deur Charl J. F. Cilliers)
Sunday, August 9th, 2009

‘N HONDELEWE
Gisteraand het ek gedroom Winnie is weer terug
Maar nou is dat al byna nege maande gelede dat ek en my vriend Peter vir ons geliefde swart Staffie in haar rooi kombersie toegevou het en in haar graffie neergelê het in die tuin waar twee van Nieu-Bethesda se sementmeerminne nou oor haar kan waghou.
In haar jong dae toe sy nog alles gekou het wat sy kon beetkry, het sy iets van die Afrikaanse letterkunde begin weet, maar nie eintlik te veel nie, want Karel Schoeman se Na die Geliefde Land het sy maar net so effens om die randjies gekou en net daar op die vloermat laat lê.
Digters in die verlede het wel hulle sê gesê oor honde. En die Amerikaner Ogden Nash was hier altyd op sy pittigste;
THE DOG
The truth I do not stretch or shove
When I state that the dog is full of love.
I’ve also found, by actual test,
A wet dog is the lovingest.
Van die min hondeversies wat ek ooit geskryf het, is hierdie een vir die heel kleintjies:
Almal wil ‘n hond hê,
‘n hond wat spring en rondê,
agterkant ‘n stert wat swaai
en voorkant net ‘n woef-lawaai.
Die volgende gedig van die vroeg-gestorwe Rupert Brooke het ‘n heerlike ligtheid tot daardie heel laaste reël.
THE LITTLE DOG’S DAY
All in the town were still asleep,
When the sun came up with a shout and a leap.
In the lonely streets unseen by man,
A little dog danced. And the day began.
All his life he’d been good, as far as he could,
And the poor little beast had done all that he should.
But this morning he swore, by Odin and Thor
And the Canine Valhalla—he’d stand it no more!
So his prayer he got granted—to do just what he wanted,
Prevented by none, for the space of one day.
“Jam incipiebo, sedere facebo,”
In dog-Latin he quoth, “Euge! sophos! hurray!”
He fought with the he-dogs, and winked at the she-dogs,
A thing that had never been heard of before.
“For the stigma of gluttony, I care not a button!” he
Cried, and ate all he could swallow—and more.
He took sinewy lumps from the shins of old frumps,
And mangled the errand-boys—when he could get ‘em.
He shammed furious rabies, and bit all the babies,
And followed the cats up the trees, and then ate ‘em!”
They thought ’twas the devil was holding a revel,
And sent for the parson to drive him away;
For the town never knew such a hullabaloo
As that little dog raised—till the end of that day.
When the blood-red sun had gone burning down,
And the lights were lit in the little town,
Outside, in the gloom of the twilight grey,
The little dog died when he’d had his day.
Maar geen ander digter het ‘n hond se laaste jare vir my met meer groter deernis as ons eie Lucas Malan in sy bundel Vermaning geskryf nie:
UITVAART
In die pylvak van haar kort dierlewe
kry sy tydelik hier onderdak. Sokkies,
bejaarde miniatuur van die Maltese slag;
stram van been en geneig tot ‘n skewe
gang, maar nog alte fluks by die bak
Kosmeties versorg met twee sierade
wat in klossies van haar ore af hang
is sy ‘n lieflike troetelding. Maar nou,
op die laaste trajek, lyk sy traag
om dit saans na die mandjie te waag.
Daar maak sy al die naggeluide
van die vermoeides, hulle wat weet
dat die einde kom. Orgaanversaking
bring die laaste ure aan. En so verdof
haar oë soos ‘n wintermaan.
Met die melk van bejaring óm die pupil,
pleit sy met hygende asem: Help my.
Kry dit verby! Asof sy haar skaam
oor iets wat tot verleentheid kan lei.
Verlossing tree in. Die pelsie verstil.
Vir dié wat dit dalk wil lees, is daar op die internet ‘n skets wat ek oor Winnie geskryf het.
Tuesday, June 16th, 2009
Die bruikleen-fenomeen
- op- en aanmerkings oor Johann de Lange
se bundel Die algebra van nood,Human & Rousseau, 2008.
deur Lucas Malan
Reeds met sy debuutbundel, Akwarelle van die dors (1982, het Johann de Lange ‘n vars profiel in die Afrikaanse poësie met uitdagende temas en fyn versorgde verse verwerf. Vir sy debuut en ‘n latere bundel het hy dan ook gepaste pryse ontvang. Die sestal bundels wat op sy debuut gevolg het, is ook almal (met die uitsondering van een negatiewe resensie deur die gedugte Marlene van Niekerk) oorwegend gunstig ontvang.
In Deel 3 van H.P van Coller (red.) se Perspektief en Profiel (2006) skryf Marthinus Beukes (volgens die inhoudsopgawe met die medewerking van Andries Visagie) ook met begrip en waardering oor De Lange se verse waarin ‘n obsessie met die erotiese ervaring en die dood, die liggaam en die sterflikheid telkens as transformasie in hierdie digterskap gelees moet word. Beukes vermeld ook spesifiek De Lange se vakmanskap, hoe goed sy bundels as eenheid gekomponeer word, en – kritiekloos - hoe dikwels De Lange sy verse met intertekstuele knope vervleg en voed.
Kortom, Johann de Lange word as ‘n beduidende digter van die periode 1982 tot 1995 beskou. Maar ná sy laaste bundel van 1995 publiseer hy net kortverhale en in 2007 ook ‘n bundel vaardige Engelse vertalings van Wilma Stockenström se gedigte.
Eers vroeg in 2009 verskyn daar weer ‘n opvallend ruim digbundel van hom met die titel Die algebra van nood. Net voor die verskyning daarvan kry De Lange in Die Burger (27 Februarie 2009) ‘n volblad onderhoud met Murray La Vita waarin De Lange oor enkele persoonlike sake bely en die aroma van sy naskeermiddel ook aandag kry.
Toe kom die eerste resensie van die bundel deur Ampie Coetzee in Die Burger (20 April 2009). Coetzee vind weinig meriete in dié “onnoemenswaardige” bundel en plaas dit op ‘n skaal van vyf sterre op twee, wat sê “lees maar as dit moet”.
Eers tien dae later plaas Die Burger ‘n brief van prof. Henning Snyman, volgens De Lange se vermelde onderhoud sy studieleier en voorstander vir die publikasie van dié bundel. Snyman het besware oor Coetzee se oordele en skimp op sy onvermoë om die bundel in te skat vir wat Snyman self o.m. “opreg menslik en ontroerend in die genadelose blootlê van menslike passie, deernis en weerloosheid” noem. Snyman vermaan ook verbasend naïef dat De Lange se bundel “as ‘n eenheid gelees (moet) word.”
Voorts wys hy op swak formulering en ‘n feitefout in Coetzee se resensie wat hy afwysend as moontlike “verskrywings” beskou. (Wat feitefoute betref, wil ek Snyman tog daarop wys dat De Lange se gedig “Bloem in die Karoo” (p. 54) óók ‘n “verskrywing” is, want hy verwar die Nederlandse digters J.C. Bloem en A. Roland Holst se besoeke aan Suid-Afrika. Vgl. J.C Kannemeyer se kort herinneringstuk waar De Lange sy stof gaan leen en toe verwar het : “A. Roland Holst se Besoek aan Suid-Afrika” in Uit puur verstrooiing, Inset-Uitgewers, 2007, p.296.)
Prof. Snyman sê ook vroeg in sy brief dat hy hom daaraan troos dat ‘n resensie “altyd maar die eerste indrukke van ‘n bepaalde leser (is).” Om dié cliché te beklink, wil ek sy lesing van die voorblad as selfgesprek” en “ontroerend” weerlê met mý persepsie daarvan as nóg ‘n “bepaalde leser”: Ek vind dit ‘n lig obsene eksemplaar van ekshibisionisme; in die trant van: Kyk, hier is ons eie Baudelaire, “die vervloekte digter”; ons eietydse Eugène Marais.
Verder probeer Snyman die uitputtende gebruik van die ampersand (&) as sinvolle “teken” in hierdie bundel verdedig, maar of dit nou met die algebra of die semantiek verband hou, vind ek dit oortollige “grimering” en ‘n irriterende affektasie wat die leser al gou vervreem. En dit het ons te danke aan De Lange se deurlopende en toenemend vervlakkende gebruik om ter wille van die allure by al die groot name stof te gaan leen en dit vernuftig te herwin. (Die ampersand-teken (&) kom bv. veral in William Blake (1757 – 1827) se tekste voor.)
Sedert prof. Ampie Coetzee se negatiewe resensie het daar van Marthinus Beukes (Beeld, 11 Mei 2009) ‘n teoreties gerigte resensie tot lof van De Lange se bundel verskyn. Ook ‘n lojale student aan die UK, Jaco Barnard-Naudé het saam met ‘n spook genaamd Crito op Litnet vir Coetzee en dr.Gerrit Brand, redakteur van Die Burger se boekeblad, geraps oor hul vermeende swak oordeel. Daar sal wel ook ander kommentare in die skemergange van kuberruimtes wees, maar genoeg. Ek wil nou die aandag vestig op ‘n enkele sin in Coetzee se resensie waar hy skryf oor dit wat ek in my opskrif die bruikleen-fenomeen noem. Hy skryf: “Dan ook nog motto’s, parodieë, opdragte en herinnerings aan ander digters, en verse op die wysie van ander digters se verse (ek kursiveer) – ook by die twintig”.
Oor die strategie / tegniek / term of stylgreep intertekstualiteit kan ek niemand iets leer nie en andersom. Laat ek lesers net daaraan herinner dat ons al in 1968 met P.G. du Plessis se uitstekende proefskrif Die verwysing in die literatuur en kort daarna met Pirow Bekker se proefskrif Die titel in die poësie (1970) deeglik ingelig is oor wat die aard, die funksie en effekte van dié gebruik in die literatuur behels. En vir dié wat vergeet het of nie weet nie, wys ek ook op ‘n uitspraak van Ernst van Heerden hieroor in sy bundel opstelle Digterlike diagnose (1977). Hy skryf :
Dit is begryplik (en vergeeflik, hoop ek) om in die werk van iemand wat hom sy
hele lewe met die literatuur besig gehou het, voorbeelde van verwysings na ander
literature te vind. Die gebruik van versluierde of indirekte aanhalings in die poësie
is soms ‘n soort intellektuele ekshibisionisme of erudiete vertoon, maar kan andersyds
ook met ‘n onthullende, aanvullende en verdiepende funksie waardevol wees . (p.10).
(Tydens ‘n openbare gesprek oor dié bundel, herinner ek my, het Van Heerden in ‘n guitige oomblik bygevoeg: “En de helft is u nog niet verteld”.) Ons aanvaar dus dat alle digters van formaat hulle soms laat voed deur die werk van voorgangers – veral die grotes. Maar wanneer dit in ‘n hele oeuvre die oorheersende element word en elke bundel iets van ‘n Groot Verseboek in die kleine word, moet daar iewers tog halt geroep word.
Hier volg ‘n ekskursie deur De Lange se oeuvre soos ek dit ken. Soms kan ek nie direkte bewysplase vermeld nie, want ek maak staat op my geheue en ou mededelings. Indien De Lange en sy ondersteuningspersoneel egter my bewerings kan weerlê, staan dit hulle vry.
Die bundeltitels
Met die (moontlike) uitsondering van Waterwoestyn (1984) en Vleiswond (1993), het De Lange al sy bundeltitels aan ander digters of publikasies te danke. Vergelyk: Akwarelle van die dors (1982) – Lucebert; Snel grys fantoom (1986) - uit ‘n artikel in die tydskrif Time oor James Dean se dood; Wordende naak (1990) – N.P. van Wyk Louw; Nagsweet (1991) – Thom Gunn (The man with night sweats); Wat sag is vergaan (1995) – Jeanne Goosen, ‘n verhaaltitel in haar bundel ‘n Kat in die sak (1986), deur my opgeneem in Hongergrond (1994), daarná deur De Lange as bundeltitel gebruik en sowaar nou weer as afdelingstitel in sy Die algebra van nood (2008), waarvan die titel volgens De Lange nogmaals geleen is by ene William Burroughs.
Voeg nou hierby die groot aantal motto’s en opdragte dwarsdeur die oeuvre waarop Ampie Coetzee in sy onlangse resensie ook moedeloos reageer, en ‘n mens begin wonder waarom De Lange sy onmiskenbare talent só gemaklik wil stoffeer of met ander kuipvogte wil versny.
Die jongste bundel
Dit kan ‘n moeisame onderneming word om elke eggo of geval van bruikleen in De Lange se jongste bundel met jota en tittel aan te toon, daarom het ek as ervare leser van die Afrikaanse poësie chronologies net die opvallendste grepe met die betrokke digters of gedigte wat dit oproep – ook waar dit openlik as direkte aanhaling fungeer – aangestip.
Dit lyk so:
Die eerste afdelingstitel, Hiermaals – Lina Spies; “Groen” (p.13) – Ina Rousseau; “Bolandse tafereel: laatmiddag” (p.17) – die frase “die eland met sy riffelkwakkie” – Wilma Stockenström; “Duimsketse” (deel 2, p.21) die woord “soef” – Wilma Stockenström (Uitdraai,?); “Sketsboek” (p.26) – Daniel Hugo, “Tafelbaai 1”, Skeurkalender (1998, p. 9); “Ostranenie” (p.32) die woord “smeuig” – Ina Rousseau; die woord “veelal” – Stephan Bouwer; “LSD, Seepunt” (p.33) - “tot in die fynste ontsteltenis” – Jeanne Goosen; “Betwixt” (p.36) – “verbeelde werklikhede” – Eleanor Baker; “Teen die berghang” (p.43) – Van Wyk Louw, wél ‘n bewuste en vernuftige verwerking; “Bloem in die Karoo”(p.54) – dit moet Roland Holst wees; “Miskien is dit nou die tyd” (p.60) – Van Wyk Louw; “Rembrandt” (p.67) – Hennie Aucamp se kwatryn “Uiteindelik”; “Daar is ‘n tyd wat sterre hou” (p.85) – Antjie Krog; “Dooiepunt” (p.91) en “Klein elegie” (p. 92) – Van Wyk Louw, Tristia; “Bloubaard” (p. 94), die woord “sweserik” – Ina Rousseau; “al my paadjies” (p.98) – Ingrid Jonker; “Ek min jou” (p.101) – J.C. Steyn; Afdeling VII; “Wat sag is…” – wéér Jeanne Goosen; “Ants Kirsipuu (1927 –2003)” (p. 117) – die woord “Nimmermeer” – Wilma Stockenström, wel geslaagd as konteksuele inbedding van haar gedig “Lêer van ‘n leeftyd”.
Dit dan die aantekeninge oor wat ek steurend vind. Tussendeur is daar hoogs geslaagde gedigte in hierdie bundel. ‘n Frase in die boek Physique: Classic Photographs of Naked Athletes (Red. Peter KÜhnst, Thames & Hudson, 2004) het onder my aandag gekom. Dit is die laaste afdeling se titel: “Postmodernism and Postmodern Mannerism”. Is dit nie waarmee ons hier te doen het nie – ‘n laaste kramp van die Postmodernisme wat nou as flou Maniërisme manifesteer?
|
|