Posts Tagged ‘Marcella de Boom’

Ilse van Staden. In memoriam Marcella

Thursday, August 27th, 2009

Joernalistieke protokol vereis seker dat ek na haar moet verwys as Marcella de Boom, maar te hel met protokol – sy was my ma! En nou is my moedertjie, my koelteboom, my Mamma Marcella skielik nie meer daar nie en “dit brand soos ’n pyl in my” soos Totius geweet het. Sy was nie net my ma nie, sy was my sielsgenoot.

   Die eerste boek wat ek raakvat op haar rak is ’n bloemlesing wat sy self in sierskrif geskryf het die Kersfees na my geboorte, as ’n geskenk vir haar eie ma – “omdat jy heel eerste gedigte vir my gelees het, hier is vir jou ’n bloemlesing van die gedigte wat vir my die heel mooiste is en wat ek die liefste het”. Sy het nog hieruit voorgelees op ons laaste Poetry Crawl. Blake se “The sick rose” en “Imitated from the Japanese” van Yeats. Die laaste gedig in die boekie is P.C. Boutens se “Goede Dood”:

 

Goede Dood wiens zuiver pijpen

    Door’t verstilde leven boort,

Die tot glimlach van begrijpen

   Alle jong en schoon bekoort,

 

Voor wien kinderen en wijzen

   Lachend laten boek en spel,

Voor wien maar verkleumde grijzen

   Huivren in hun kille cel, –

 

Mij is elk dag verloren,

   Die uw lokstem niet verneemt;

Want dit land van most en koren

   Is mij immer schoon en vreemd;

 

Want nooit beurde ik hier te drinken

   ‘t Water dat de ziel verjongt,

Of van dichtbij hief te klinken

   ‘t Verre wijsje dat gij zongt:

 

Alle schoon dat de aard kan geven

   Blijkt een pad dat tot u voert,

En alleen is leven leven

   Als het tot den dood ontroert.

 

   Sy ontroer my tot ver verby die dood. Sowat twee jaar gelede het sy begin met ’n reeks skilderye waarvan daar uiteindelik drie was – “Die dood is ’n mooi blou blom”. Dit was vir my so mooi, beide die titel en die skilderye. En ek het gedink ek is so slim om dit te kan ver-dig; ek dog ek weet. Nou lees ek weer die gedig (“mooi blou blom”) en nóú weet ek.

   In ’n versamelbundel van Van Wyk Louw wat ook eers aan my ouma behoort het en na haar dood na my gekom het, het my ma duidelik dikwels ook gelees. Dit is vol kantnotas en reëls wat in dik skewe potloodlyne onderstreep is (tipies die kunstenaar wat sy was en sekerlik met een van haar tekenpotlode!)of langs die kant met ’n duimnael gemerk. Onderaan die gedig “Nog in my laaste woorde” het sy geskryf “skryf dit asb eendag op my graf” en die laaste reël onderstreep:

 

mooi is die lewe en die dood is mooi.

 

   Op Poetry Crawls, soos op die meeste gesellighede, het sy dikwels vroeg al tot siens gesê, voordat sy kwansuis in ’n pampoen sou verander. Daarom dat ’n vriend nou opmerk dat hierdie dood in haar aard was, want “she always left the party early”.

   Ook mý eerste gedigte het ek van my ma gehoor en met die Kersfees na my graad een jaar het sy my ’n baie ambisieuse geskenk gegee – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers. Een van ons albei se geliefde gedigte was “Bome”, want

 

daar is geen soepel weerstand so volkome

soos die geduld en buigsaamheid van bome.

 

Dalk is dit omdat sy self ’n “boom” was.

   Vir Vrouedag het sy ’n uitstalling in haar galery gehang wat onder andere twaalf selfportrette ingesluit het, vanaf 1967 tot 2009. So ’n volmaakte getal, twaalf. Sy het dit genoem “one woman, one life” en dit met die hand op twee foliovelle uitgeskryf en teen die muur geplak. Hoe gepas. Toe ek vanoggend, drie dae na haar dood, weer daar kom, het die papier waarop daar “one woman” staan, op die grond gelê. Net nog “one life” was oor, soos ’n opstanding.

   Wanneer ek in die oggende soms te vroeg by haar aangekom het, het sy bo uit haar kamer geroep dat sy nog in die bed is “met God en Bach”.

   As sy self kon kies, is dit hoe sy sou wou gaan – skielik en maklik. Sy het Sondagmiddag soos haar gewoonte was ver in die koppie gaan stap met haar vier Africanis-honde, nadat sy tot naby gery het met haar bakkietjie. Dit was haar lewensbloed, die daaglikse stap in die veld, en sy het dit haar stiltetyd genoem. Met die terugkom het sy die honde weer ingelaai, die bakkie huiswaarts gekeer en seker twee honderd meter verder aan ’n hartaanval gesterf. Ek dink dit was van ekstase, asof haar ontmoeting met God dié keer te veel was vir ’n sterflike mens, soos Moses wat sy gesig moes wegkeer van die goddelike teenwoordigheid. Dié keer het sy nie weggedraai nie.

   Ek hoop sy verf die hemel rooi.

 

Wanneer ‘n skrywer hom vererg …

Tuesday, August 25th, 2009
Alain de Botton

Alain de Botton

Alain de Botton is natuurlik bekend vir vele boeke, waaronder die lieflike The Art of Travel (Penguin, 2003). En elkeen van hulle is heel uniek in opset. So het hy byvoorbeeld vroeër vanjaar vir ‘n ruk voltyds sy intrek by die Heathrow-lughawe buite London geneem ten einde ‘n boek, wat later vanjaar beskikbaar gaan wees, te skryf oor die wel en wee van aankoms en vertrek. Enkele maande gelede was De Botton egter nog in die nuus na ‘n negatiewe resensie van sy boek Pleasures and Sorrows of Work in die New York Times verskyn het. De Botton is van mening dat die resensent, Caleb Crain, sy boek in die VSA met dié resensie “vermoor” het en het soos volg op Crain se webblad gereageer: “So that’s two years of work down the drain in one miserable 900 word review … I will hate you till the day I die and wish you nothing but ill will in every career move you make“.

Volg gerus die skakel na Caleb Crain se webblad en lees die voledige kommentaar. (De Botton s’n is vierdie van bo af.) Lees sommer ook die ander lesers se reaksie. Fassinerend. Maar ai, hoeveel skrywers sal nie al hul ou penne verrruil vir ‘n resensie in die New York Times nie … Selfs ‘n negatiewe een as dit moet. Maar nou ja, ‘n toon wat seer is, is ‘n toon wat seer is.

Dan is dit tog ook vreemd hoe dikwels die soet en die suur van die lewe langsmekaar op dieselfde bord beland. Soos gister, byvoorbeeld. Die soet was beslis Lucie Möller se debuut, Watermerke, wat in die boekwinkels gearriveer het; ‘n besonder afgeronde debuut met kragtige, natuurgerigte verse. (Maak seker dat jy die onderhoud lees wat Marlise Joubert met dié nuwelingdigter gevoer het.) Aan die hartseerkant het ons gister verneem dat Ilse van Staden se ma, die bekende kunstenaar Marcella de Boom, Sondagaand onverwags oorlede is. Enigiemand wat Ilse ken, weet hoe na sy en haar ma aan mekaar was en hoe absoluut tragies hierdie verlies vir haar moet wees. Ons innige simpatie, Ilse; ons dink aan jou in hierdie hartseertye.

Ten slotte herinner ons graag aan Vers & Klank vanaand om 22:00 op RSG. Daniel Hugo gaan dan sy onlangse vertalings van Rutger Kopland se verse voorlees. Gewis iets om na uit te sien.

Mag die son sag op jou skyn vandag; waar jy jou ook al mag bevind.

Mooi bly.

LE