Posts Tagged ‘Marlene Malan’

Marlene Malan. Avbob digkunsprojek

Wednesday, July 31st, 2019

Die Avbob digkunsprojek

In Suid-Afrika lééf die digkuns– en dit danksy die reuse-belegging wat een maatskappy in die poësie én in die bevordering van al elf amptelike landstale maak.

Avbob se aanlyn-poësiekompetisie, wat op 1 Augustus vir die derde agtereenvolgende jaar bekend gestel is, is die bewys hiervan, sê Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap Brand et al wat dié projek namens Avbob bestuur.

So lyk die statistiek ná die suksesvolle afhandeling van twee kompetisies waaraan gepubliseerde en ongepubliseerde digters deelgeneem het: 50 000 inskrywings is ontvang wat vier temas (geboorte, hoop, liefde en die dood) dek, 6 000 gekeurde gedigte is op die Avbob Poetry-webtuiste geplaas. Elf redakteurs (een vir elke amptelike taal) en een hoofredakteur doen die oorsig- en keurwerk, en twee bundels poësie (I wish I’d said I en II) is deur Naledi gepubliseer, met onderskeidelik 100 en 101 gedigte.

Vanjaar se wenners van die Afrikaanse afdeling is Tom Dreyer (1ste), Gaireyah Fredericks (2de), Hélen Möller (3de) en Maretha Maartens (4de).

“’n Mens kan jou maar net begin indink waar die statistiek aan die einde van jaar drie, dit is op 30 November, gaan staan,” sê Van der Westhuizen. Avbob maak ‘n aansienlike belegging in die digkuns met hierdie projek. “Wat die belangrikheid van die program en projek betref, meen ek dat Avbob nie naastenby die erkenning kry wat dit verdien nie. Geen ander korporatiewe instelling het al ooit so ’n belegging in die geskrewe woord – wat nog te sê die poësie – gemaak nie. Die projek bevorder die digkuns van alle inheemse tale, waarvan Afrikaans een is. Só iets bestaan gewoon nêrens elders nie.”

Die projek is al nasionaal en internasionaal bekroon: Pendoring, Assegai, PRISM en M&M Global Awards.

Jaarliks word die nuwe skryfkompetisie op twee maniere aangekondig: Die bekendstelling van ’n nuwe bloemlesing I wish I’d said, vanjaar met Johann de Lange en Mandla Maphumulo as redakteurs (verlede jaar De Lange en Mantoa Motinyane), asook die opname van ’n TV-gespreksprogram (Ek wou nog sê …). Vanjaar bevat dit onderhoude met twintig Afrikaanse digters en liriekskrywers wat later op VIA-TV uitgesaai gaan word. Daniel Hugo is die gespreksleier. In die TV-reeks gesels die genooide digters oor die belangrikheid – en genot – van hul skryfwerk in Afrikaans.

I wish I’d said II bestaan uit die verse van die wenners sowel as dié van opdragdigters – mét die Engelse vertalings van die gedigte uit die tien inheemse tale. Dit maak daarvan terselfdertyd een van die grootste literêre vertaalprojekte in die land.

Naledi kan nou met reg as Suid-Afrika se voorste uitgewer van die digkuns beskou word, sê Hugo. Nege bundels het sedert begin vanjaar by hulle verskyn.

 Volgens Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi, beleef Suid-Afrika beslis ’n poësie-oplewing in alle taalgemeenskappe, “maar in die besonder in Afrikaans. Dis belangrik vir die behoud en groei van ons letterkunde dat daar ’n professionele en inklusiewe platform sal wees wat digters aanmoedig en beloon en die digkuns bevorder. Digkompetisies soos hierdie, asook mediablootstelling soos die TV-program, is baie waardevol. Poësie is nie meer buite bereik van gewone mense nie. As uitgewer probeer ons meedoen hieraan en ’n meer verwelkomende atmosfeer vir opkomende en gevestigde digters skep.”

“Hoewel baie gevestigde digters aan die kompetisie deelgeneem het, is die vier wenners óf ongepubliseerde óf selfgepubliseerde digters,” vertel Hugo. “Nie een is as digter deel van die hoofstroomletterkunde nie. Die gehalte van hul werk was besonder goed. Die gesprekke tydens die opname was met ’n groot verskeidenheid digters, onder andere die vertaler De Waal Venter, die liriekskrywer Jak de Priester en die toonsetter van gedigte Leon Gropp.”

Twee digters wat aan die program deelgeneem en vanjaar by Naledi gepubliseer het, Willem van der Merwe (Nuwe vrese) en Hannes Visser (Die jaar toe pa …) sê die projek en die TV-program is goeie nuus vir die digkuns.

Hannes Visser en Daniel Hugo op die stel.

Volgens Visser “is daar ’n oplewing in die Suid-Afrikaanse digkuns. Dit het ’n voor- én nadeel. Die nadeel is dat gedigte teen die spoed van lig op Facebook uitgespoeg word sonder enige redaksionele versorging. Die Avbob-projek is ’n puik platform waar gedigte deur ’n keuringsproses gaan wat sorg dat dit wat op die web geplaas word, kwaliteit is. Ons almal lees poësie om persoonlike redes. Vir mý lê die waarde van digkuns daarin dat die leser met die minimum woorde ’n volledige prentjie kry – dit stimuleer die verbeelding en bied nie alles op ’n skinkbord nie. Om na ’n program soos Ek wou nog sê… te kyk, voeg ’n derde dimensie by die poësie – daar is die woorde op die blad, die klank in die ore en nou ook die visuele waar die kyker die digter kan sien.”

Van der Merwe sê “op die stel het Daniel my gerusgestel en ek het begin babbel oor inspirasie, belesenheid en hoekom ek so lank gewag het om my tweede bundel te publiseer. Ek het amper slim gevoel. En toe voel ek skielik ’n ongekende deernis oor hoe aktief en lewendig die digkuns nog in ons land is”.

Volgens Hugo het talle digters op Donderdagaand 25 Julie by die oorhandiging van die pryse gesê hulle is bekommerd oor die voortbestaan van hul moedertaal “en dat dié projek die enigste in die land is wat hul skryfwerk publiseer, op die webtuiste en in boekvorm. Jy hoop verniet die regering gaan iets doen om moedertale te bevorder. Dit móét met privaatgeld gedoen word.”

In I wish I’d said II skryf De Lange die Avbob-poësieprojek “het die reservoir vir elegiese digkuns geword”. Die gedigte kom uit “die hele spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing. Nie net gedigte oor die dood en verlies nie, maar ook gedigte oor die viering van die lewe, gedigte wat met die afwesiges én aanwesiges praat, wat ’n stem gee aan die stilte en die stilgemaaktes, wat praat oor woorde wat mense nagelaat het om te sê.”

Frik Rademan, uitvoerende hoof van Avbob, skryf in die inleiding tot die bloemlesing dat die kompetisie nie net ’n ruimte bied waar gewone Suid-Afrikaners oor hul hartseer en hoop kan praat nie, “maar dit is ook ’n plek waar ons mekaar kan ontmoet en gedagtes uitruil, waar ons ons gevoelens met mekaar kan deel, en waar ons sáám kan droom.”

Van der Westhuizen meen die belangrikheid van die projek lê daarin dat dit “véél eerder gaan oor hoop in ’n wanhopige land en tydsgewrig. Dit laat mense óór taal- en kultuurgroeperings van hul verskille vergeet. Die poësie bind hulle saam.”

  • Besoek avbobpoetry.co.za of Avbob Poetry se Facebook-blad om aan die kompetisie deel te neem.
  • I wish I’d said I en II: naledi.co.za; R200 en R220 onderskeidelik. Bestel by info@naledi.online of te koop by alle voorste boekwinkels.
  • Digters wat aan vanjaar se TV-program deelneem, is: Tom Dreyer, Gaireyah Fredericks, Hélen Möller, Hannes Visser, Emma Bekker, Fourie Botha, Clinton V du Plessis, Willem van der Merwe, Danie Marais, Eunice Basson, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Jannie Malan, Jolyn Phillips, Fanie Olivier, De Waal Venter, Pieter Hugo, Christo van der Westhuizen, asook Leon Gropp en Jak de Priester.
  • TV-uitsendings, VIA (Kanaal 147):

.

Hoofuitsendings:

S02E01: 16 Oktober @ 18:30

S02E02: 23 Oktober @ 18:30

S02E03: 30 Oktober @ 18:30

S02E04: 6 November @ 18:30

S02E05: 13 November @ 18:30

S02E06: 20 November @ 18:30

S02E07: 27 November @ 18:30

S02E08: 4 Desember @ 18:30

S02E09: 11 Desember @ 18:30

S02E10: 18 Desember @ 18:30

Herhalings:

S02E01: 27 Oktober @ 16:00

S02E02: 3 November @ 16:00

S02E03: 10 November @ 16:00

S02E04: 17 November @ 16:00

S02E05: 24 November @ 16:00

S02E06: 1 Desember @ 16:00

S02E07: 8 Desember @ 16:00

S02E08: 15 Desember @ 16:00

S02E09: 22 Desember @ 16:00

S02E10: 29 Desember @ 16:00

.

© Marlene Malan – 2019

Onderhoud met Alfred Schaffer

Friday, March 14th, 2014

 

 

Onderhoud: Marlene Malan gesels met Alfred Schaffer, wat onlangs sy jongste bundel  Mens dier ding gepubliseer het.

1) Waarom het jy besluit om weer in Suid-Afrika te kom woon na ’n tyd in Nederland waar jy as uitgewer gewerk het?

Ek en my vrou Karmen het mekaar ontmoet in 1996, in 2016 alweer 20 jaar gelede. Ek het ’n studie kom doen vir 3 maande by die Universiteit van Kaapstad, en was oorweldig deur die land, en die mense wat ek hier ontmoet het. ’n Verhouding wat ek nog in Nederland gehad het was gou ten einde en van toe af was Karmen en ek saam. Ek het begin om ʼn proefskrif te skyf onder begeleiding van prof. Henning Snyman, wat soos ʼn leermeester vir my geword het. Na my proefskrif en doktersgraad in 2000 het ek verder ondersoek begin doen op ʼn Fellowship, maar nie vir lank nie. Ek kom uit  ʼn klein familie. My ma was enigste kind, my pa was enigste kind. My pa was 15 jaar ouer as my ma gewees. Sy was van die Karibiese eiland Aruba en het na Nederland toe gekom in die jare 60 van die vorige eeu om ʼn internship as verpleegster te kom doen. Toe ontmoet sy my pa tydens Karnaval in Venlo, Limburg. My pa was 50 toe hulle eindelik hulle eerste kind kry, my suster Dahlia. Twee jaar later is ek gebore. My suster het toe verdrink, en toe was ek ook enigste kind. Later, toe ek 18 is, sterf my ma, na ʼn lang siekteproses. Toe was dit nog net ek en my liewe, 52 jaar ouer papa. Ons het ʼn baie goeie band gehad, ook al was die leeftydsverskil so groot. Hy was ʼn goeie man, maar hy word ook maar ouer, en sieker. Toe besluit ek en Karmen om na Nederland te verhuis, begin 2005 – Karmen kon eers ’n paar maande later kom deur die streng immigrasiewette. Ek wou nog  jare met my pa spandeer. My pa was toe al in ʼn ouetehuis, en alleen. Nooit, nooit het hy my weerhou om die wêreld en my eie lewe te verken nie, al was hy heeltemal alleen in die koue Nederland. Maar hy was tog wel gelukkig dat ek gekies het om weer terug te kom. Ek het toe al geskryf en sukses gehad in Nederland as digter, en op een van my besoeke in kontak gekom met die mense van uitgewery Cossee in Amsterdam (o.a. die uitgewer van Coetzee). Ek kon onmiddellik begin werk by hulle by my aankoms in Januarie 2005. In November het my pa gesterf, daarop het ons nie gereken nie. Vriende het gesê:  Jou pa was op, maar hy het gewag vir jou voor hy kon sterf. Toe sit ek en Karmen daar, alleen. Ek het na Cossee nog by De Bezige Bij gewerk, waar ook my eie werk uitgegee word, maar intussen word ons dogtertjie Maya toe gebore, en die heimwee na Suid-Afrika het begin groei, veral ook by Karmen – haar pa en ma is nog springlewendig en ook haar boetie, met sy eie seuntjie, Maya se nefie. Ek is baie bly Maya het hier so ʼn liewe oupa en ouma en skoonfamilie. Maart 2011 is ons terug in die Kaap, terwyl ek intussen aangeneem was om by die departement Afrikaans en Nederlands te werk. Toe my pa, my laatste familie, dood is, was daar nie ʼn rede om in Nederland te bly nie.

 

2) Is dit nie moeilik om jou Nederlands lewend te hou in ‘n omgewing (Stellenbosch en Kaapstad) waar jy dit selde hoor nie?

Weet jy, dit is nogal partykeer. Die tale is so na aan mekaar! Ek merk dit in my skryfwerk, partykeer, dat daar Afrikaanse sinswendings is of Afrikaanse woorde in die Nederlands. Ek wil, soos ʼn hedendaagse John Berryman, nog wel ʼn keer speel met die twee tale, in die toekoms. Maar ja, dit verg nogal konsentrasie om suiwer Afrikaans te praat en dan nog sal Afrikaanse mense oorskakel na Engels as hulle my Afrikaans hoor praat. Ek praat Nederlands met Maya, maar Karmen en ek is eintlik van die begin af (en dit is dus al baie lank) gewoond om Afrikaans te praat. Ek luister dikwels Nederlandse radio om die taal te bly hoor, en ek lees natuurlik vir my werk as dosent Nederlandse letterkundige tekste, maar dit bly iets kunsmatigs. My familie en vriende in Suid-Afrika is Afrikaans (of Engels); Nederlandse vriende het ek nie in Kaapstad nie, net in Nederland.

 

3) Word jou Nederlands beïnvloed deur Afrikaans?

Die Nederlands word dus deels wel beïnvloed, en ook die Afrikaanse letterkunde het ʼn groot invloed. Ek skryf byvoorbeeld in ʼn gedig oor die “branders van de zee” en my redakteur vra: “Meen jy ‘brandweer’, dis nogal surrealisties?” – terwyl ek natuurlik “golwe” bedoel het. Dit was ook interessant om Ronelda Kamfer se twee bundels te vertaal en na ekwivalente te moet soek in jou eie taal  – dit laat ʼn mens skerper kyk. Met die vertaling van Antjie Krog se nuwe gedigte sal dit dieselfde wees: moeilik, maar ʼn leersame avontuur. Partykeer na ʼn dag is my bek letterlik moeg van Afrikaans praat, dit is inspannend omdat ek verstaanbaar wil wees en nie foute wil maak nie. Dis anders as Spaans en Engels, of Xhosa en Duits: Afrikaans en Nederlands raak partykeer heeltemal inwisselbaar in my kop.

 

4) Is dit vir jou belangrik dat ’n keuse uit jou gedigte deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is as Kom in, dit vries daar buite (Protea Boekhuis, 2013)? Hoe het die kritici gereageer op die vertaling?

Omdat my vrou Afrikaans is, en my skoonfamilie, en tog ook, ja, my dogtertjie, is dit vir my ʼn geskenk gewees. Ek het met Nuwe Stemme 3 en my rubrieke oor Nederlandse poësie in Beeld en Die Burger wel iets gesê oor poësie, maar nie my eie werk getoon nie. Uiteraard was ek baie verheug oor die reaksie op my gedigte, soos in die resensie van Joan Hambidge in die koerant en Phil van Schalkwyk in ʼn lang en pragtige essay op Litnet.

 

5) Pla dit jou as mense sê dat hulle nie jou gedigte verstaan nie? Hoor jy soms so ’n opmerking?

Die poësie-tradisie is anders hier as in Europa, met meer hermetiese digters soos die Nederlanders Lucebert of Faverey, of die Duitstalige Paul Celan. Natuurlik was daar lesers wat sê: “Sjoe, dis nie maklik nie.” Maar dit is geen probleem nie. Ek dink tog wel die gedigte in Kom in, dit vries daar buite is nie té moeilik nie, en het ʼn goeie bestaansreg – net die leesgewoonte of houding moet aangepas word, soos wanneer jy Michael Palmer lees ook, of Ashbery. Of Gilbert Gibson, of Breytenbach, toe hy begin skryf het. So iets kan ʼn aanvulling wees op ʼn literêre landskap, dalk, ʼn toevoeging. Dit is hoekom vertalings so belangrik is, soos die skitterende vertaling van Houellebecq se gedigte in Afrikaans weer bewys. En ook die poësievertalings in Nederlands van groot Afrikaanse digters bewys dit, soos van Krog, Breytenbach, Jonker. Dit is goed om met tekste kennis te maak wat anders is as waaraan jy gewoond is; dit is sonder meer verrykings. ʼn Mens leef om sy horison te verbreed, op alle vlakke, nie net in die kunste nie. Ek het Nederlandse vertalings van Borges tot Brodsky, van Pessoa tot Tranströmer, van Celan tot Herbert, van Juarroz tot Pound – hulle is vir my baie dierbaarder nog as die Nederlandse digbundels.

 

6) Jy het onlangs ’n bloemlesing saamgestel uit die gedigte van Elisabeth Eybers (My radarhart laat niks ontglip, Uitgeverij Van Oorschot, Amsterdam, 2013) Voel jy enige verwantskap met haar – Afrikaanse digter in Nederland; Nederlandse digter in Suid-Afrika?

Ek het oor Eybers geskryf in my proefskrif, en die sublieme gedig “Jong seun” uitgesonder, waarin die Narcissus-argetipe die motor van die gedig is. Op die oog af sou ons niks in gemeen moet hê nie, maar ek het in haar werk die alledaagse taal herken en tegelykertyd die strengheid van formulering, en die voortdurende, onderhuidse weemoed. As jy eenmaal oor so ʼn afstand verhuis, bly jou siel iewers tussen die plekke sweef, en bly jy op ʼn manier altyd ʼn buitestaander. Ek het nie soveel affiniteit met haar religieuse verse nie, maar die ander verse spreek baie tot my, en sy het ’n lekker humorsin. Die bloemlesing, My radarhart laat niks ontglip, het in die groot koerant NRC Handelsblad die maksimum van 5 sterre ontvang. Die resensent het gesê: “Ik dacht dat ik haar poëzie wel zo’n beetje kende, maar dat bleek helemaal niet zo te zijn. Deze bloemlezing vol verrassingen leerde mij vooral dat het moeilijk is de poëzie van Eybers samen te vatten, of er greep op te krijgen.”

 

7) Jy het Ronelda Kamfer se gedigte in Nederlands vertaal. Hoe is dit in Nederland ontvang? Is dit moeilik om gedigte uit ’n dialek (Kaaps) te vertaal?

Die gedigte van Ronelda was heerlik, maar ook moeilik om te vertaal. Deur die gebruik van Kaaps nou en dan, maar veral deur die verwysingsraamwerk. Wat moet jy net vertaal, en wat moet jy dalk ook verduidelik, omdat ’n Nederlandse leser nie die konteks van die gedig ken nie? Dan is dit moeilik om ’n passende taalregister te kies in Nederlands. Dialekte in Nederland speel ’n heeltemal ander rol en het ’n ander geskiedenis as Kaaps binne Afrikaans, so jy kan nie sommer grond/Santekraam vertaal in Amsterdams of Limburgs nie – dit sou nie sin maak nie. Maar Standaardnederlands (“ABN”, Algemeen Beschaafd Nederlands) is ook weer te netjies. Dit was ’n lekker uitdaging, en dit is natuurlik uitstekende gedigte, wat baie goed gevaar het by die Nederlandse leser, veral haar tweede bundel, met die Nederlanse titel Santenkraam. Vertaal is ʼn moeilike maar dankbare en nederige werk, en vir ʼn digter ook weer baie leersaam.

 

8) Watter posisie beklee dialekdigters in Nederland?

Dialekdigters is daar nie eintlik soveel op die voorgrond nie, of dalk heeltemal nie. En omdat daar nie 11 tale is waarin die Nederlandse landskap verdeel is nie, is daar een groot oorheersende taal wat as ʼn instrument dien. Fries het wel ʼn sekere aansien, maar Fries is nie ʼn dialek nie, maar ʼn offisiële taal in eie reg – so dit is weer iets anders.

 

9) Wat is die belang van vertaling in ’n literêre sisteem? (In Nederland word dit natuurlik op ’n veel groter skaal gedoen as in Suid-Afrika.)

Eintlik alles word vertaal. Van Roth tot kookboeke, van tot Kafka tot Shakespeare, van Kundera tot Rushdie, van Bolaño tot Murakami, van Tolstoi tot Beaudelaire. Maar ongelukkig is daar relatief gesproke deesdae minder poësievertalings – in elk geval is daar minder van hulle op die mark as byvoorbeeld in die jare negentig van die vorige eeu. Maar dan is daar altyd klein onafhanklike uitgewers wat hulle wel daaraan waag. En ek nou onlangs die pragtige bloemlesing bemagtig van 500 paginas met die vertaalde poësie van die Australiër Les Murray, De planken kathedraal. Die oorspronklike taal is altyd my eerste keuse as ek dit kan lees (Frans, Engels, Duits), maar ek vind dit tog verrykend, vertaalde poësie. Ek het wel die gevoel dat jong Nederlandse digters minder verwys na poësie van vroeër tye, of poësie uit ander plekke as Nederland. Dit sou jammer wees, maar dalk is ek verkeerd.

 

10) Jy is verbonde aan die departement Afrikaans en Nederlands by die Universiteit van Stellenbosch. Wat doseer jy daar? Hoe reageer Afrikaanse studente op die Nederlandse letterkunde?

Ek doseer Nederlandse Taalverwering, en veral Nederlandse Letterkunde (prosa en poësie) vanaf die tweede jaar. Daar is altyd studente wat sit en staar na hulle selfoon, of dit net te moeilik vind, maar oor die algemeen is my indruk dat hulle dit tog wel interessant vind: die kennismaking met ʼn ander denkwyse, ʼn ander konteks, deur middel van letterkunde wat jy ook nog so ʼn bietjie kan verstaan, al klink dit dan snaaks, partykeer, daai “Hoog-Hollands”. Ek probeer studente se wêrelde ʼn klein bietjie groter maak hiermee – so ek hou dit oor die algemeen aangenaam en uitdagend. Daar was al verskeie studente wat byvoorbeeld baie gehou het van die roman Tirza van die bekende skrywer Arnon Grunberg, juis oor sy grimmige, nihilistiese en amper Kafkaëske wêreldbeeld. 

 

11) Waarom handel jou jongste digbundel Mens dier ding oor Sjaka? Stel Nederlandse lesers enigsins belang in Afrika en sy geskiedenis?

Ook Sjaka Zoeloe was ʼn klein onderdeel van my proefskrif, in die hoofstuk oor die Apollo-figuur as ʼn literêre argetipe. Ek begin toe lees Chaka van Thomas Mofolo, en lees die gedig van Opperman oor hom, en raak toe begeester deur hierdie historiese figuur. Waansin en magswellus het my nog altyd geïnteresseer, omdat ek dit nie verstaan nie – die woeste gebiede in die menslike onbewuste. En Sjaka was vir my ʼn pragtige mengsel van geskiedenis en mitologie, heel anders as Pol Pot, Stalin, Hitler. Ook die ambivalensie rondom hom – hy was ʼn tiran en ʼn despoot maar het sy volk ook ʼn sterk selfbewussyn gegee, en was nie die skoothondjie van die blanke koloniste nie – maak hom vir my interessant. Die ontvangs van die bundel in Nederland is eintlik tot nog toe nogal oorweldigend positief, wat seker maar bewys dat jy oor wat ook al kan skryf – lesers is in wese oop vir alles.

 

12) Adriaan Jaeggi het in Het Parool geskryf: “Schaffer is zeer gevoelig voor de absurde werkelijkheid waarin we leven, maar hij laat zich niet afbluffen.” Vind jy die werklikheid – wat dit ook al is – soms absurd? En vind so ’n absurditeit neerslag in jou digkuns?

Die dood is uiteraard nogal ʼn groot tema in my lewe en dus ook in my werk, en die dood gee die lewe ʼn sterk mate van absurditeit. Juis omdat ons aardse manewales so nietig en so relatief word in die lig van die dood. Ek is dan ook mal oor Monty Phyton of Little Britain, wat die lewe voor ʼn lagspieël plaas. Ook die lewe tussen wêrelde maak jou gedagtes gevoelig vir die absurde, amper sonder dat jy dit wil, omdat die Westerse en die (Suid-)Afrikaanse werklikhede so uiteenlopend is. Toe ek een keer in ʼn gedig in my tweede bundel (Dwaalgasten, 2002) ʼn beeld gebruik het oor manne wat oor die highway stap, het een resensent opgemerk dat dit ʼn mooi en hoogs surrealistiese beeld was. Maar dit is glad nie vreemd as jy met jou kar op die N2 ry nie!

 

13) Ek het iewers gelees jy was, toe jy aanvanklik na Suid-Afrika gekom het, ’n jazz-musikant. Speel jy steeds? Watter instrument?

Ek het wel in bands gespeel, en pop en jazz gespeel – en ek was selfs amper op die konservatorium in Den Haag, maar het toe tog maar op iets anders besluit (Nederlandse Letterkunde en Film- en Theaterwetenschappen). Maar ʼn regte jazz-musikant – ag, ek wéns ek was een! Wel het ek nog my piano, wat van my pa was, hier by die huis in Seepunt. Om musiek te speel is geweldig (soos sokker speel, wat ek ook nie meer doen nie, weens my rug), maar musiek speel in ʼn band is nog báie lekkerder. Ek speel nie meer eintlik so veel nie: Musiek wil ek met ander mense beoefen.

(’n Uiters verkorte en verwerkte weergawe van hierdie gesprek het in Rapport Boeke van Februarie 2014 verskyn.)