Posts Tagged ‘Marlene van Niekerk’

Onderhoud: Marlene van Niekerk

Saturday, July 4th, 2009

Met buskruit en salpeter

Marlene van Niekerk in gesprek met Louis Esterhuizen

 

Marlene van Niekerk
Marlene van Niekerk

Marlene van Niekerk is die skrywer van twee digbundels Sprokkelster (1977) en Groenstaar (1983), een bundel kortverhale, Die vrou wat haar verkyker vergeet het (1992), en twee romans Triomf (1994) en Agaat (2004).

Sy is tans verantwoordelik vir die begeleiding van M.A.-studente in die skeppende skryfkunde. Sy vra haar af of die enigste subversiewe daad in ’n gebrutaliseerde samelewing nie dalk die skryf van klein gediggies is nie.

Van Niekerk het die volgende toekennings ontvang: 1978: Eugène Marais-prys en Ingrid Jonker-prys vir Sprokkelster en die Kanseliersprys van die Universiteit van Stellenbosch; 1995: M-Net-prys, CNA-prys en Noma-prys vir Triomf; 2005: UJ-prys vir skeppende skryfwerk vir Agaat.  Sy het ook in 2007 die Hertzogprys vir hierdie roman ontvang. Van Niekerk sal later vanjaar vir drie maande as gasdosent in skeppende skryfkunde in Leiden optree waar sy onder andere die Albert Verwey lesing sal gee.

 

 

Marlene, jy staan al sedert 2001 aan die hoof van die uiters suksesvolle Kreatiewe Skryfkursus by die Universiteit van Stellenbosch. Alhoewel baie belanghebbendes bra skepties staan teenoor sulke kursusse het julle al besonderse suksesse behaal; met Loftus Marais se debuut as ʼn meer onlangse voorbeeld hiervan … Hoe geskied die keuring vir so ʼn kursus?

 

Belanghebbendes het sekerlik reg om skepties te wees. Sogenaamde skeppende skryfdosente kan nie mense wat ʼn behoefte het om te skryf verander in goeie skrywers nie. Tussen die behóéfte om jou uit te druk en die aflewer van ʼn min of meer vlotte verhaal/gedig, laat staan nog maar eers ʼn komplekse literêre teks, val ʼn groot skaduwee, een wat dikwels lei tot frustrasie en teleurstelling in die hart van die behoeftige. Christopher Hope het ooit gesê hy weet nie wat hy moet doen met mense wat vir hom sê hulle wil skryf nie, hy mik vir die deur.

 

Die punt is: die “skryfbehoeftige” moet reeds redelik goed kan skryf, moet reeds oorspronklike idees hê, moes reeds heelwat gelees het, en moes reeds hard probeer het. Die meeste studente wat uit ons kursus kom met publikasies en prestasies, was reeds nuuskierig, kompetent en toegewyd voordat hulle by die kursus aangesluit het. Willem Anker, (nou saam met my dosent in die MA skryfkundekursus en wenner van die UJ Debuutprys vir prosa), Deon Meyer (ATKV-prys), Helena Gunter (Eugène Maraisprys), Loftus Marais (UJ Debuutprys), het hoogstens gebaat by die streng skryftempo wat ons vir ons studente voorskryf. Hoe meer bladsye die skrywer/digter genereer hoe groter die kans dat hy/sy goud raakspit. Verder vind Willem en ek wel dat voorgeskrewe leeswerk (fiksie, wetenskap, teorie) en meningswisseling in die klas, saam met ons terugvoer en noukeurige redaksie van tekste mense help en aanmoedig in hulle pogings. Reeds kompetente skrywers besluit in elk geval watter adviese hulle wil aanneem en watter menings hulle in die wind wil slaan. Soms vind kandidate wat reeds sukses behaal het en bevestig is in die openbare arena die kursus nogal konfronterend. Ons mening is dat die eise wat ons in die skryfklas aan skryfwerk stel altyd hoër moet wees as die eise wat die verbruikers van vermaak stel.

 

Toelating tot die MA-kursus sal strenger word volgende jaar wanneer die kursus ook aangebied sal word vir studente wat in Engels skryf. Studente, wat in ieder geval moet beskik oor ʼn Honneurs in Afrikaans/Engels, is tot dusver gevra om vir ons keuringsproses ʼn portefeulje voor te lê van veertig geskrewe bladsye prosa, of twintig gedigte, ʼn uitvoerige opsomming van die beoogde eindprojek (wat die formele en inhoudelike samehang en uitdagings daarvan moet verbesonder) en ʼn brief wat verduidelik en motiveer waarom hulle die kursus wil neem en wat hulle wil leer. Hieruit kan die keurkomitee baie vinnig agterkom wat die vlakke van (ook teoretiese) belesenheid, skrywerlike toewyding, vaardigheid en mate van intellektuele ontwikkeling by voornemende studente is.

 

Hierby ʼn opmerking: ons is van mening dat skryf nie in die eerste plek ʼn kuns is nie, maar ʼn tegniese kunne, ʼn vak waarin mens sekere ambagtelike grepe kan leer net soos wat mens kan leer klavierspeel. Of jy dan uiteindelik uitstekend kan klavierspeel en moeilike werke op uitdagende maniere kan interpreteer, is weer ʼn ander vraag. Dit hang af  of jy “aanleg” het soos die ou mense sê, en of jy onydel genoeg is om aanmekaar te luister na hoe die meesters moeilike werke interpreteer en speel. Met ander woorde, bo en behalwe die ambag is daar dan die sogenaamde “ kuns”  Ons bring die meeste van ons studente die ambagtelikhede by, sodat hulle ten minste ʼn vlot en onderhoudende storie sonder perspektieffoute, clichés of  chronologiese verwarrings kan skryf. Alleen as die vakkundige basis gelê is, kan mens verder gaan.

 

Hoe werk so ʼn kursus? Wat is julle werkwyse?

 

Ons skryf algemene en persoonlike leeswerk voor en ons hou elke maand ʼn uitvoerige werkswinkel/seminaarklas waarvoor alle lede mekaar se werk moet lees en terugvoer gee.

 

Vir hierdie seminaarklas vra ons dat studente wat prosa skryf elke maand dertig tot veertig bladsye nuwe werk inhandig. Dit beteken dat hulle voltyds moet skryf en tagtig bladsye per maand moet genereer. Dit kom neer op plus minus drie bladsye per dag, wat dan afgeredigeer moet word tot die dertig of veertig wat hulle inhandig. Ons kyk nie graag na heeltemal rowwe eerste weergawes nie, ons soek die bladsye wat reeds verminder en geredigeer is deur die student.

 

Ons redigeer voorts groot stukke van hierdie ingehandigde tekste, maak die sinne reg, maak die vertelperspektief reg, korrigeer die tydsverpakking van die verhaal, stel ontwikkeling van tonele voor, suggereer hoe die stemme geïndividualiseer moet word, skrap adjektiewe en bywoorde, skrap clichés, ensovoorts. Dis ʼn gehiert en ge-pffft en geskrop, dis soos die huisvriendelik maak van klein hondjies: hier hondjie, hier, op die koerantpapier, hier, nie daar op die tapyt nie. Oor en oor en oor doen ons dit soos vingerposisies en tydtel as mens leer klavierspeel, tot gewoon net die vertel van die storie min of meer vlot.

 

En dan pas begin die eintlike werk, d.w.s. as dit ʼn talentvolle skrywer is. Anders laat ons die teks gewoonlik by “goed vlot” en konsentreer op die teoretiese opstel waarmee die punte dan opgemaak moet word.(Die teoretiese opstel tel die helfte van die punte vir die MA-eindprojek, en dit moet handel oor ʼn onderwerp wat formeel of inhoudelik verband hou met die skrywer se skeppende werk. Hierdie opstel is egter nooit ʼn verslag van die skryfproses of ʼn beskouing oor eie werk soos wat mens dikwels vind in ander uitvoerende of beeldende kunstedepartemente ook by ons eie universiteit nie. Ons vind dat dit alte maklik uitloop op ʼn selfregverdiging of rasionalisering van skryfwerk wat nie heeltemal so besonders of goed is as wat die skrywer daarvan graag wil glo nie. Dis meestal erg verleentheidswekkend om hierdie selflowende geskrifte te lees. Skrywers dink ek behoort hulle te weerhou van interpretatiewe of waarderende kommentaar op hulle eie werk, dit kan lei tot die ongeluk van inhiberende selfinsig!

 

Nog oor ons werkwyse: soms doen Willem en ek iets wat ons noem ʼn “cockpitsessie”. Dan sit die student voor die rekenaar met haar teks en ons sit weerskante langs haar en ons laat haar haar teks hardop voorlees, en dan laat ons haar sin vir sin skoonmaak en styftrek en skrap. Na so ʼn sessie ruik die kantoor meestal na buskruit en salpeter, maar dit is ʼn erg effektiewe oefening.

 

Redaksie is iets wat ek geleer het by my eie lewenslange redakteur Hettie Scholtz. Mens het ʼn begenadigde iemand soos sy nodig wat jou die ding van selfkorreksie leer, iemand wat jy absoluut moet vertrou, ʼn rol wat jy voorts moet internaliseer. Hettie het my byvoorbeeld ʼn pedagogiese truuk geleer wat ek met groot vrug toepas. By al die sinne wat reg was in my werk het sy regmerkies gemaak, en by die wat nie helder was nie of te lank, verkeerdmerkies. Met sulke redaksie voel mens ondersteun en hoopvol terwyl jy jou teks hersien. Slegs verkeerdmerkies sou baie erg gewees het.

 

Tot dusver het ek jou vraag beantwoord met verwysing na prosa. Maar ook digters moet hulle ambag leer. Nougesette komposisie van beeld en klank, ʼn helder inhoudelike fokus, verwikkeldheid van idees en verrassende assosiasies is nodig vir ʼn geslaagde gedig. Slap, flou prosareëls en modderige adjektiewe moet daarom geskrap word.(veral woorde wat oorgeëksploiteer is in Afrikaanse poësie soos digby, oker, silwer, plots en ruggelings!)  Ons laat graag gebonde verse skryf, sonnette, villanelles. Dan leer die aspirantdigter baie gouer om te skrap. ʼn Baie goeie oefening is om ʼn maklik memoriseerbare, (maar nie ʼn soetsappige) melodie, of lied te neem en die digters nuwe  woorde daarop te laat skryf. Die woorde moet perfek skandeer op die musiek (met die klem op die regte sillabes van die woord) en die teks moet in een enkele emosionele fokus bly met inagneming van die musikale wendinge en klimakse. Geen beter manier om uit te vind of jy twak geskryf het as om dan jou woorde op die voorgeskrewe melodie vir die klas te sing of te laat sing nie. ʼn Baie goeie oefening vir digters is om goeie Engelse gedigte in vaste vorm in Afrikaans te vertaal, met behoud van rym en metrum. Dis soos om perde met ʼn rek om die enkels te laat hardloop. As jy die rek afhaal tel hulle vanself hulle knieë mooi hoog op.

 

Daar is deesdae ʼn vadsige, ek wil amper sê verloederde mode van die oewerloos uitgesponne vrye of “praat”-vers in Afrikaans waarvan dikwels twee derdes geskrap kan word, die soort gedig waarvan die digter nie weet waaroor dit in essensie gaan nie en dit skynbaar ook nie wil weet nie. Dit lyk vir my dikwels in sommige verskynsels van hedendaagse Afrikaanse digkuns asof die idee van gedrongenheid en verwikkeldheid op klank- en betekenisvlak saam met die idee van inhoudelike gravitas of ʼn meer as anekdotiese betekenis volledig in die vergetelheid geraak het ten gunste van ʼn prosodies ongedissiplineerde selfkoesterende gewauwel. Keurders by die uitgewers sou hieroor aangespreek moet word. Dis sleg vir ons taal en sleg vir ons digkuns dat sulke poësie gepubliseer word en aangeprys word deur lui of lafhartige resensente. Dis onverantwoordelik. Ons sal gewoon kry wat ons verdien as dit so aangaan.

 

Uiteraard is die studente uitgelewer aan my en Willem se smaak en opvattinge, nie dat ons oor alles saamstem nie, ons vind dit heel belangrik dat studente sien hoe hulle dosente ook van mekaar kan verskil. Ons dwing nie ons idees af nie, maar ons eis wel dat studente soveel as moontlik lees. En dan by verre nie alleen fiksie of poësie nie. Dit kan ʼn skrywer en ʼn digter baie goed doen om ʼn slag ʼn boek oor dieregedrag of meteorologie of die fisiologie van die anus te lees, selfs meer as nog ʼn bundel gedigte of nog ʼn roman. Dit kom daarop neer dat ons studente wil leer om geykte taalgebruik en geykte persepsies te onderdruk en nuwe gewaarwordings oop te dek, deur die peilstif, die voelstaaf, die sonde van taal.(Soek dit op in die woordeboek, dis Afrikaanse woorde vir  “probe”) Dit gaan vir ons oor die kweek van insig in die materialiteit van taal en die moed om risiko’s te neem daarmee, ja, om die gewone funksionele mededelende en konvensionele taal plesiergewende (erotiese) geweld aan te doen. Dit gaan om die wildmaak van taal agter die tong aan by die mond uit, soos wolwe om Hans Andreus vry aan te haal.

 

 

Alhoewel jy as digter gedebuteer het met Sprokkelster (Tafelberg, 1977), het jy jou die afgelope dekade by uitstek gevestig as prosaskrywer. Tog het jy deurentyd voortgegaan met die skryf van gedigte; kom dié gelyktydige beoefening van twee uiteenlopende dissiplines maklik vir jou, of vind jy dat die een die ander inhibeer?

 

Ek vind dit deesdae veel plesieriger en hoopgewender om gedigte te skryf as prosa. Ek vlug uit die prosa in die gedigte om daar bietjie asem te kry. Ek voel veel vryer en gelukkiger as ek ʼn versie pleeg  as wanneer ek ʼn kortverhaal probeer skryf. Kortverhale is vir my die heel moeilikste vorm, ek beland deesdae binne drie sinne van die aanvang in ʼn vreeslike gestoei met vorm. In die romans neig ek natuurlik om te langdradig te wees. Wat ek wel merk, is dat ek steeds meer die eise van poësie aan my prosa oplê – ek soek steeds na ʼn hiper-integrasie op klank- en beeldvlak in die prosa. Die ritme van die sinne is vir my toenemend belangrik. Miskien is dit hoekom die prosa vir my so moeilik voel om te skryf, want ek wil eintlik poësie daarvan maak, maar mens kan dit nie doen oor die hele lengte van ʼn sewehonderd bladsye taamlik realistiese roman nie.

 

Uiteraard verskil die verse wat ʼn mens die afgelope tyd van jou te lese kry (of hoor), heelwat in aanslag van die verse in jou twee digbundels. Voel jy dat jou werk as prosaskrywer hiertoe bygedra het, of is dit gewoon vanweë ʼn natuurlike ontwikkelingsproses en/of veroudering?

 

Ek dink veroudering, van myself dus het alles te make met my hang na die poësie. Ek dink beweging is nodig vir die skryf van poësie, die halsreikende beweeglikheid van die prille jeug, die bewoënheid en verbystering van die ouerword. (nou rek jy jou nek na die plek waar jy moet oeit en jy wonder hoe op gods aarde jy dit moet doen) Die verliese wat jy ly as jy ouer is, is vreeslike droewige verliese, die winste wat daar nog is, voel almal soos groot geskenke, groot kanse. Die skryf van gedigte voel dan soos ʼn soort aandagoefening, ʼn soort gedenk-aktiwiteit: die duiwe help die eik verherfs, gedigte help my sterwe. (Nie ʼn reël wat moet bly staan nie!)

 

Marlene, daar word nogal dikwels gesels oor veral twee nuwe tendense wat teenswoordig in ons digkuns na vore kom: die sogenaamde anekdotiese (of vertelvers) en die ou strydpunt van filosofie en poësie. Hoe voel jy hieromtrent? Het ons hier met sop sonder sout te make, of is dit wesenlike groeipunte in ons digkuns?

 

Ek dink ons eietydse digkuns word veral bedreig deur slapheid en flouheid, deur ʼn gebrek aan inspanning en ambisie, deur halfsagtheid, deur of purperige of cool-erige muurpapiertaal, en dan ook nog bedreig deur verskillende soorte van ydelheid, vanaf hoogs postmodernisties geleerd tot religieus dweepsugtig tot jags selftentoonstellend tot gewoon rooibostee– en toasthuishoudelikselfvertroostend. (Gepraat van toast, Toast Coetzer is hierby ʼn uitsondering, ek dink hy maak wildewegholtekste in wildewegholkontekste van klank. Dis hoogs aansteeklik en verfrissend. Take it away Toast!)

 

Dis gevaarlik om te lewe, dis gevaarlik om te dig.  Taal is ʼn gevaarlike en lewendige ding as jy hom wakkerkry uit sy ingeslaapte alledaagsheid. Ek voel nie daar is altyd genoeg bewustheid hiervan in ons jonger digkuns nie. Baie gedigte is nogal selftevrede en dof. Oulikheid en dekorasie is ʼn ander gevaar. Ek dink dit is omdat jong digters dikwels nie genoeg goeie of wilde poësie en wilde filosofie lees nie, en die keurders wat hulle moet krit ook nie. Ek dink die dumbing down van die samelewing het veel daarmee te make, die verdwyning van die openbare domein as een van betrokkenheid en debatvoering. Hierdie land vra om in sy skoonheid besing en in sy lyding gerou en in die enorme stupiditeit van sy leiers uitgeskel en wakkergeskud te word, maar die digters poer meestal net aan asof hulle magneetlettertjies rondskuif op ʼn yskas. Wat het geword van die himniese en elegiese digters? Waar is die digters wat “verby die moederspeen in die mond skel” om BB buite konteks aan te haal?

 

Die gedigte wat ekself die graagste sou wou skryf, so vertel ek myself in my een hart, moet iets algemeen probeer beweer. My voorbeeld hierby is die Poolse digter Wislawa Szymborska. Sy is filosofies geskool en wat my betref ʼn ware en voorbeeldige digter: sensitief vir aktuele en historiese gebeure en gegewens,  gewaarwordingsbereid tot en met, maar meestal met ʼn humoristiese of skeptiese wysgerige gevormde ondervraging van die gegewens, gebeure en gewaarwordings, sodat die gedig ʼn “algemeen menslike”  en “tydlose” waarde kry. Ek weet nie hoe die gedigte in Pools klink nie, wat verskriklik jammer is, ek stel my voor hulle klink ook nog erg mooi. In die Nederlandse en Engelse vertalings is wat my tref die ekonomie, die helderheid van die “argument”, die puntigheid, die oorspronklikheid, ʼn soort lugtige wysheid, maar met heel veel mededoë, anders as Larkin, die ou bitterbek, wat ʼn ander digter is wat ek graag wil naboots.

 

Maar in my ander hart is ek te jaloers op musiek om te veel te kommer oor (filosofiese) betekenis, ek neig steeds meer daarna om die klankeffek van die gedig aan te stel bo die betekenis daarvan. Ek dink soms: betekenis, ag, betekenisbespekenis, wat moet wat ookal nou eintlik be-teken? Die meeste ou betekenissies is puffel. Op warm dae is ek ʼn taalskeptisis, as die sneeu op die berge val nog meer. Teenoor “betekenis” staan die oorstelpende verbysterende onbenoembare so-heid van die dinge. ʼn Eerlike respons daarop sou ʼn woordelose kreet moes wees, ʼn kreun.  Dus, digter, roep na die maan, na die blare, na die bloed, antwoord op die varings by die wal. Slampamperpoësie verder ontwikkel dus? Maar nie soet nie. Dionusiese slampamper? Die gedig as eksklamasie, as beswering, as invokasie, as sjamanistiese intervensie? Teenoor die wysgerige dan miskien die Orfiese? Of anders nonsenspoësie?

 

Maar kyk om u heen beste leser: hoe lyk Orfeus op Stellenbosch? Hy is ʼn no nonsense fellow. Alles wat hy beweer dra by tot beter begrip. Jy sien hom by Java koffiedrink met sy Blackberry. Hy kyk nooit om na Ariadne nie. Hy is ʼn wellness expert.

 

Pallaksch, het Hölderlin gesê in sy toring, ja-nee.

 

Dankie vir hierdie heerlike gesprek, Marlene. Sal jy, ten slotte, dalk so vriendelik wees om een van jou (nuwer) verse hieronder oor te tik vir ons lesers se vaartbelynde leesplesier?

 

 

In die aand by die dam.

(By die Variasies en fuga op ‘n tema van Beethoven vir twee klaviere van Max Reger)

 

Dreun is wat die hiel doen van die wolk in die water,

‘n dreun wat veramber in die waag van die aand,

die berg met haar koning

‘n sitting van spilsiek reïterasie.

 

Ek hurk daarby my palms in die modder

en wens ek was Max  Reger

wat die wildemakou met een akkoord kan inink in die glans,

en die otter met sy rimpelvermenigvuldigende snoet

kan uitstuur aan oewers van oorvloed,

en die landing van kolganse fugaal kan verskitter,

en die rietkraag kan naderbuig met klawers van winking,

en die maan kan aanslaan in die tabernakel van die oor,

en al die variasies van die val van die skemer kan hang

langs die skene van die reier wat staan in die kaatsing

van aankwinkelende transe.

 

En as hy uiteindelik sy drome betree

daardie tred kan vang in deursigtige

skandelose kadense.

 

 

 

Getatoeëerde poësie

Saturday, June 6th, 2009

 

Getatoeëerde poësie

 

Van groot digters met omvangryke oeuvres bly daar dikwels net ’n paar reëls staan. Johann Wolfgang Goethe (1749–1832) en Victor Hugo (1802–1885) was sulke reuse wat vandag skaars nog buite akademiese kringe gelees word. Van Goethe het daar egter agt en van Hugo vier klankryke reëls die tand van die tyd oorleef. Die Goethe-gedig gaan só:

 

Ein gleiches

 

Über allen Gipfeln

Ist Ruh,

In allen Wipfeln

Spürest du

Kaum einen Hauch;

Die Vögelein schweigen im Walde.

Warte nur, balde

Ruhest du auch.

 

Die Nederlandse poësievertaler Peter Verstegen beweer van hierdie reëls: “Waarschijnlijk wordt het door meer mensen uit het hoofd gekend dan enig ander gedicht uit de Westeuropese poëzie.”

Dit is al ’n volmaakte, liriese vers genoem en daarom eintlik onvertaalbaar. Een van die beste vertalings wat ek ken, is dié van Gunther Pakendorf in sy bloemlesing Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue:

                       

Op dieselfde noot

 

Oor alle berge

Is daar rus,

Oor alle bome

Is jy skaars bewus

Van die ligste bries;

Die voëltjies raak stil in die woud.

Wag maar net, nou-nou

Sal jy ook rus.

 

Met hierdie vertaling het Pakendorf nie net daarin geslaag om ‘n volwaardige, Afrikaanse gedig met ’n suiwer vorm te skep nie, maar ook om die vorm van die oorspronklike so na as moontlik in klank, ritme en rym te benader. En dit is nie ’n geringe prestasie nie.

 

Marlene van Niekerk het ook haar hand aan ’n vertaling gewaag. Dié vertaling staan in haar en Adriaan van Zyl se boek Memorandum: ’n verhaal met skilderye en wyk nie net vormlik nie, maar ook wat die lokalisering betref in ’n groot mate van die Duitse gedig af. Sy verplaas die natuurgegewe van Duitsland na die Wes-Kaap. Dit werk gelyktydig verrassend én sjarmerend. En dit getuig sekerlik nie van disrespek teenoor die oorspronklike nie.

 

Op alle hoogtes

heers rus,      

in die keurtjies

speur jy geen wind,

die suikervoëls swyg in die fynbos.

Stil maar,

straks rus jy ook, my kind.

 

 Victor Hugo se vier onsterflike reëls klink só:

                       

Soyez comme l’oiseau posé pour un instant

Sur des rameux trop frêles

Qui sent plier la branche, et qui chante pourtant

Sachant qu’il a des ailes …

 

In der waarheid het ek hierdie vier reëls vir die eerste keer in die onderstaande Engelse weergawe teëgekom. Dit kom uit Hugo’s Lyrical poems wat in 1887, dit wil sê twee jaar ná sy dood, in Londen uitgegee is:

 

A SIMILE

(”Soyez comme l’oiseau.”)

 

Thou art like the bird
That alights and sings
Though the frail spray bends—­
 For he knows he has wings.

 

FANNY KEMBLE (BUTLER)

 

Die openingswoorde in Frans bo-aan die vertaling het dit vir my maklik gemaak om die oorspronklike gedig via die internet op te spoor. Die volgende letterliker Engelse weergawe het ek ook op die internet gevind:

 

Be like the bird who

pausing in his flight, on a limb too slight

feels it give way beneath him,

yet sings

knowing he has wings.

 

Dié vertaling word verskaf deur ’n meisie wat die eerste drie woorde, Soyez comme l’oiseau (“Be like the bird”), op haar sy laat tatoeëer het.

 

Dalk sê dit iets van die Duitse en Franse taalaard: die Duitse gedig word deur mense gememoriseer; die Franse reëls op die lyf getatoeëeer.

 

Daniel Hugo (onverwant aan Victor Hugo)

 

Bibliografie

 

Echtermeyer. 1982. Deutsche Gedichte – Von den Anfängen bis zur Gegenwart. Neugestalt von Benno von Wiese. Düsseldorf: Bagel.

 

Pakendorf, Gunther. 1990. Woorde soos pluimsaad – Duitse gedigte uit agt eeue, in die reeks Poësie uit verre lande onder redaksie van M.M. Walters. Johannesburg: Perskor.

 

Van Niekerk, Marlene & Van Zyl, Adriaan. 2006. Memorandum: ’n verhaal met skilderye. Pretoria: Human & Rousseau.

 

Verstegen, Peter. 1996 (tweede, herziene druk). Natuur zal kunst nooit blijvend evenaren – De Westeuropese poëzie in honderd gedichten. Amsterdam: Uitgeverij Ooievaar.

 

Williams, Henry Llewellyn. 1887. Hugo’s Lyrical Poems. Selections chiefly lyrical from the poetical works of Victor Hugo. Translated into English by various authors. Second edition, revised. London: George Bell and Sons.                   

Vrydag, 15 Mei 2009

Friday, May 15th, 2009
Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters

Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters

In die nuutste uitgawe van die Poeziekrant (Nommer 2, Maart-April, Jaargang 33) lees ek dat daar omtrent ‘n geskrop in die hoenderhok ontstaan het rondom die publikasie van Hotel New Flanders - 60 jaar Vlaamse poëzie: 1945 - 2005 (Poeziecentrum, Gent). Die samestellers van dié omvattende bloemlesing (752 bladsye, 672 gedigte, 266 digters), is Dirk van Bastelaere (digter), Erwin Jans (dramaturg) en Patrick Peeters (kritikus). Hulle word tans heftig gekritiseer oor die relatiewe prominensie wat hulle aan bepaalde digters gegee het volgens die aantal gedigte per digter wat opgeneem is. Sug. Is daar ooit iets nuuts onder die son?! Nietemin, hul werkwyse was heel eenvoudig (altans, só het hulle gedink …): Die digters is in vyf kategoerieë ingedeel, elk met ‘n stertoekenning.

Van vyfsterdigters is daar dan soveel as nege gedigte opgeneem. Verdermeer is daar ‘n bepaalde kriterium of riglyn gestel by elke kategorie; so moet die digter genoegsaam “vernuwend” wees ten einde vir vyfsterstatus te kwalifiseer. Die gevolg is dat daar in bepaalde gevalle meer gedigte van ‘n digter met enkele bundels op sy kerfstok opgeneem is, as van digters met ‘n veel meer uitgebreide oeuvre wat slegs vir vier of drie sterre kwalifiseer. Dit het uiteraard aanleiding gegee tot ‘n hele debat oor die kwessie van “vernuwing”. Kan ‘n digter met net een of twee bundels agter sy naam, byvoorbeeld, as “vernuwend” beskou word? Volgens die kritici van die bloemlesing is daar eers daadwerklik vernuwing ter sprake wanneer ’n mate van groepering, of navolging, rondom ‘n bepaalde digter se werk ontstaan het.

Nietemin, dié relletjie het my toe meteens laat besef hoevéél “vernuwende” stemme daar in Afrikaans is wie se totale statuur (tans) nog net op een of twee digbundels gebaseer is: Marlene van Niekerk, Gert Vlok Nel, HJ Pieterse, Gilbert Gibson, Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, en natuurlik die twee debutante Ronelda Kamfer en Loftus Marais. Indien ons dan spesifiek na ons eie geblikte Verseboek kyk, wil dit voorkom asof die samesteller tóg daarin kon slaag om meer van ‘n balans tussen produksie en vernuwing te vind; ten spyte van die kritiek wat uit bepaalde oorde geopper is. Maar hoe gemaak met een van ons ware vernuwers wat nie tot bundel wíl kom nie?! Kom aan, Toast, die volk vra na jou!

‘n Lekker naweek vir almal en onthou - Nuuswekker sal Maandag weer hervat.

Intussen kan jy gerus by Facebook of Twitter ‘n draai maak ten einde aan te sluit by ons woelinge dáár.

Mooi bly.

LE