Posts Tagged ‘Marlies Taljard resensies’

Resensie: Voor ek my kom kry (Pirow Bekker)

Monday, March 27th, 2017

VOOR EK MY KOM KRY – Pirow Bekker

(Protea Boekhuis, 2017,  R180.00 (BTW ingesluit). ISBN: 978-1-4853- 0648-1 (gedrukte boek), 978-1-4853-0743-3 (e-boek): 137 x 213 mm: Sagteband, pp 108)

Resensent: Marlies Taljard

Omslag

Verrassing, verwondering, verbasing, oorbluftheid … alles emosies wat opgeroep word deur die titel van Pirow Bekker se nuwe bundel Voor ek my kom kry … emosies wat hierdie leser eweneens ervaar het op een of ander tydstip in die lees van die bundel as geheel. Pirow Bekker se nuutste bundel is inderdaad vol verrassings, nuwe insigte, ou insigte nuut ingeklee en temas wat op verrassende wyse uit die verf gehaal word.
Die leser wat bekend is met Bekker se werk, sal nie verbaas wees dat die bundel open met ‘n gedig wat sterk mitologiese trekke vertoon nie – al bevat dit ook die sprokie se verwagting van ‘n gelukkige einde – in aansluiting by baie van sy vorige werk (dink byvoorbeeld aan sy vorige bundel, Atlas teen die Vergeetrivier. Dit is ‘n gedig wat herinner aan die groot skeppingsmites in alle kulture. In hierdie gedig, “Skeppingsprokie”, is die element van verrassing sterk teenwoordig. In die verhaal van die “witjasman” wat op die rioolplaas ‘n willekeurige keuse maak “van virusse rusteloos en viriel” en dit “met ‘n edel doel” soos in ‘n broeikas kweek, word die verwagting van ‘n “goeie einde” geskep deur die edele doel van die skepper. Die ontluistering van die verwagting en dekonstruksie van die sprokie se “happy ending” kom in die laaste reël as ‘n skok wanneer dit blyk dat die inherente kwaad van die rioolplaasvirus deur die eksperiment versterk is. Hierdie gedig is, veral wat betref die dekonstruksie van die verwagte en die ironiese teenstellings, tipies van gedigte in die onderhawige bundel, maar kenmerk ook die res van Bekker se werk met sy sterk kritiese en ironiese ingesteldheid. Dat die gedig buite die formele raamwerk van die bundel geplaas word, verleen daaraan ‘n besondere status en suggereer dat – soos in ‘n proloog – die basiese bestanddele en temas van die hoofteks reeds embrionies daarin aanwesig is, iets wat die oplettende leser wel sal agterkom.
Voor ek my kom kry is ‘n lywige bundel wat meer as 80 gedigte bevat en tematies in 8 afdelings ingedeel is. Die eerste afdeling, Aarde inbegrepe bevat gedigte oor die aard van lewe wat dikwels op die aard van menswees sinspeel. Wispelturigheid, bedrieglikheid en kompleksiteit as tema word vergestalt in gedigte soos “Wesp” en “Versoening ná die karsinoom”. In eersgenoemde gedig val die klem op die wesp se dubbele aard:
want sy lyf is wispelturig,
die sonnige sekel van die donkermaan.

In “Versoening ná die karsinoom” word die son as “tweegesig”, as “janus” en as “judasbok” – gewer van kanker én lewe – erken. In hierdie afdeling word dikwels argetipiese figure en simbole geaktiveer, soos in die besinnende gedig “Vervlaks aangedaan” waarin die nawerking van die ou gode in ‘n eietydse kulturele ruimte bepeins word:
Gode het gesterf en het herrys,
maar hoe volkome het hul heengegaan?
Ook oor die aard van die mens word filosofies besin: Die aard van die mens herinner aan dié van die donkie, aldus die gedig “Behoeftes onder Everest”:
Hulle ken die paaie
na die groen weivelde …
maar dwaal altyd weer terug
na die dorre streke[.]

In Afdeling II, Erd-af is daar in baie gedigte ‘n outobiografiese ek aan die woord wat deur verlies gevorm is en wat by nabetragting sin probeer maak van bepaalde momente in die geskiedenis of in die eie lewe. Een van die treffendste beelde in die bundel is dié van die bergskilpad in “Ommekeer” wat na ‘n storm deur ‘n rivier meegesleur is:
en ‘n bergskilpad
wat uit die see klim
en verdwaas tussen opdrifsels
na berge soek[.]

Hoe sterk resoneer hierdie beeld met die bundeltitel … en hoe kan die mens nie met dié arme skilpad identifiseer nie! Die lot van die mens, die dier en die natuur is by Bekker hier, soos immer, met mekaar verstrengel; die berg en die rivier is by hom ou-ou teenstellings van konkreetheid en vloei, van chaos en stabiliteit.
As antitese tot Leipoldt se ‘n Handvol gruis uit die Hantam staan die gedig “Erd-af mens”, waarin die mens wat “uitgetrek word voor jy gaan slaap” beskryf word. Sinies is die gesprek met die ouer digter en sy romantiese toe-eiening van ‘n bepaalde streek binne die politieke realiteite van ons land:
Jou handvol gruis uit die Hantam,
my liewe Leipoldt, is nie joune nie,
jou liewe, lekker Hantamwyk
het uit jou twee hande uit geglip –
skatryk was jy gister en nou brandarm.

In die afdeling Stormvorme oorheers temas van tydsverloop, afskeid en dood. Die konkrete ruimte van Boggomsbaai, sowel as ander see- en waterruimtes kom veral in die eerste deel van die afdeling voor. Ook in die bundel as geheel word verskeie ruimtes betrek wat outobiografies aan die konkrete outeur verbind kan word en verkry die bundel sodoende ‘n sterk outobiografiese betekenislaag. Een van die interessantste gedigte in die bundel kom in hierdie afdeling voor, naamlik “Uitnodiging tot die dans” wat sterk herinner aan Goethe se bekende ballade “Erlkönig”. Vergelyk byvoorbeeld die slotstrofe met die strofe waarin die Elwekoning die seun die eerste keer verlei:
Kom, moenie bang wees nie,
tree uit jou vestings uit, kyk,
ek het fosfor in my hare,
ek laat die maanlig daarop val
en my kleed dra die vuur
wat vir jou so onmoontlik lyk.

Teenoor:
“Du liebes Kind, komm, geh mit mir!
Gar schöne Spiele spiel’ ich mit dir;
Manch’ bunte Blumen sind an dem Strand,
Meine Mutter hat manch gülden Gewand.”

En die vertaling deur S.J. du Toit in Afrikaans:
“Kom, kindjielief, kom saam met my!
So heerlik speel hul waar ek bly;
Veelkleurige blomme groei op die strand,
Van goud gaan jou kleed wees uit moeder se hand.”

Die gedig “Fuik” is ook ‘n sterk gedig waarin die gedrongenheid van die taalgebruik die desperaatheid van die ystervark wat nie uit die fuik kan retireer nie, meesterlik uitbeeld. Die woordspeling “fuik”-“fnuik” is in hierdie gedig besonder geslaagd, in teenstelling met baie ander geleenthede waar woordspelings net té opsetlik en ooglopend voorkom. In “Die patetiek van ‘n blokhuis” word die beveiligingsdrang van die moderne Suid-Afrikaner vergelyk met die vink, “sy nes ’n toeknypnier wat hang / aan die laagste tak oor die rivier”. Dit is opvallend hoe dikwels in hierdie bundel op ooreenkoms tussen die mens en ander aardbewonders gefokus word, eerder as op verskille. Nog so ‘n gedig is byvoorbeeld “Die ou leeu en die karkas” met sy insig dat alle lewe deel is van ‘n groter opset:
Oor jou gekrom
voel ek hoe warm
val ’n lewe,
hoe in die asem oor jou tong
’n storm woed, hoe intiem
’n raasblaar raas,
’n bosveld kwyn,
maar verlaat sal ek jou nie –
jy kon my nie ontduik
en jou bloed is al wat ek ken:
Jy is ek,
ek is jy.

Die vierde afdeling, Ewe-eens, is duidelik outobiografies van aard. In die eerste gedig in dié afdeling word die digter by die naam genoem: “Bekker ingelyf” en word verwys na verskeie konkrete ruimtes wat vir die digter Pirow Bekker besondere betekenis het. Die duidelike mineur-toonaard van hierdie afdeling hang saam met temas van liggaamlike aftakeling en verval, die stryd om siel en liggaam aanmekaar te hou, veroudering, afskeid, bestekopname en die soeke na identiteit. Ook oor die dood word in die slotgedig van die afdeling bespiegel wanneer die digter (weer eens) in gesprek tree met die digter Eugène N. Marais, “Eugène Marais op Pelindaba”. Die slotstrofes van dié gedig tref deur die insig in die mens agter die mite en die onverwagte klem op detail wat getuig van identifikasie met die mens Eugène Marais, wat by herhaling in hierdie bundel opduik by wyse van direkte of intertekstuele verwysing:

Was sy aandag by die geweer: die patroon,
die kolf se bars met kouelym verseël,
die loop dalk aangepak en nie verblou?

Of was hy by Tebes waar van die kruin
die berghaan draaiend opwaarts spoed
óp voor die son met groot geroep?

‘n Tipiese Pirow Bekkergedig is “Teësinnig” waarin die filosofiese bepeinsing oor verganklikheid in die slot skielik onderbreek word met klem op die praktiese alledaagse:
Daar was niks hier
niks wat hulle hou nie.
Boonop het hulle agtergekom
daar is reën
in die ouwind se waai.

En die laaste wasgoed moet af.

Agterweë, die vyfde afdeling van die bundel, bestaan meestal uit gedigte oor die digambag. Die eerste Ars Poetica is die narratief van waar dit begin het (by die dood van die digter se vader) tot op hede waar hy soos Job op die ashoop homself met ‘n potskerf krap – die gedig spruit blykbaar dikwels uit die behoefte om pyn te transendeer. Opvallend is die groot aantal Bybelse verwysings wat juis in hierdie afdeling voorkom.
‘n Aantal liefdesgedigte is byeengebring in Afdeling VI, Kersgevoelig in die liefde. Ons het Bekker reeds in sy vorige werk leer ken as ‘n fyngevoelige skrywer van liefdesgedigte. Lesers kan hulleself gerus die guns doen om dié gedigte in sy vorige werk te gaan naspeur. Ook in hierdie bundel staan eerlike en deurleefde liefdespoësie. Ter illustrasie haal ek een van die treffendste kwatryne in die bundel aan:

Erwarming

Voorste bos, my hart, was lekkerbreek,
met ’n witkersnoors om dit brand te steek –
hul vlam, nou lankal asjaskoud,
flikker nog in hardekool se optelhout.

Wat my in hierdie afdeling egter gepla het, is die herhaling van woorde soos “my lief” en “liefde” – woorde wat enige digter behoort te vermy, omdat dit (soos hier) maklik gebruik word om oor die liefde te redeneer of om ‘n soetsappige emosionele lading tot gedigte te probeer toevoeg wat afbreuk doen aan die res van die gedig. Hoewel die digter se beelde oorspronklik is en die inhoud gevarieerd, sou ek reken dat hier enkele gedigte weggelaat kon wees.

Die voorlaaste afdeling, Mens ontpop bestaan uit ‘n aantal los saamgevoegde gedigte waarvan die tema in enkele gevalle vernietiging en oorlog is, ook vernietiging van die natuur, soos in die gedig “Opdrag vir ‘n vroeë herfs”, ‘n ironisering van Van Wyk Louw se “Vroegherfs”. Ook Toon van den Heever se bekende gedig “Ritrympie” word in hierdie afdeling ingespan om die teenstellende ingesteldhede ten opsigte van oorlogvoering van romantiese digters uit die vroeë Afrikaanse literêre era en die siniese post-Tweede Wêreldoorlogdigters te illustreer:
In jou allitererende “Ritrympie”, oom Toon,
gee hul die perde maar teuel en spoor
en word uit bewondering vir die Boer
“die lug met helmette geel” –

hier word die lug ook geel, grougeel
van ’n giftige boom, gekweek
uit ’n nietige mosterdsaadjie-atoom,
hier moet selfs digters, lyk dit tog, aanvaar
oorlog, oom Toon, het sy speelsheid verloor.

Die slotafdeling, Frontaal, is ‘n soort bestekopname voor die finale afskeid. Weer word ander skrywers intertekstueel bygehaal om ooreenkomste met die eie belewenis te lê, soos in die gedig “Lyf op die spel”. Bybelse verwysings kom dikwels voor, soos in “Lewe-lewe”:
Noudat ek weggaan,
sal die olyfboom traer vergroen,
die suikerkan verbitterd styf
droëkopspeel, die geelhout vraend
skelm uitloop op die grond,
die helejaarseptemberbosse hul blom
rooikappierig verloor, die wildevy
en melkhout mekaar se erbarming soek[.]

In “Hansie slim herbesin” word bestek opgeneem van die tyd wat die “weggaan” voorafgaan. Die slotgedig, “Toe ek my kom kry” met sy direkte inspeling op die titel, insinueer die skielikheid en onverwagsheid van “die oomblik van impak” – wat binne die konteks waarin dit staan, waarskynlik die dood mag beteken.
Globaal gesproke is Voor ek my kom kry ‘n redelike sterk bundel wat in tematiek en tegniek aansluit by die digter se voorafgaande werk. Sterker besinning oor eindes en die dood is redelik algemeen in die werk van ouer digters. Bekker se woordrykheid en sy opsetlike omseiling van eenvoudige woorde en begrippe in ‘n tegniek wat aan die raaisel herinner, doen ook in hierdie bundel (soos in voriges) soms afbreuk aan sy gedigte. So ook steur die gebrek aan duidelike denkspronge – soms is dit nie duidelik op welke wyse die uitgeborduurde beeld toeligtend ten opsigte van die stof staan nie. Ek dink hier onder andere aan die boom-beeld in die gedig “Voortrekker ken agterna”. Tom Gouws verwys in sy resensie van ‘n vorige bundel na hierdie tegnieke as “vernufpoësie”. Daar is sekerlik heelwat gedigte in die bundel wat die illusie van spontane ontstaan skep, maar daar is te veel gedigte waarin die digter nog te duidelik aan die dig is, onder andere by wyse van te veel onsubtiele woordspelings, los en vas gebruikte vaste uitrdukkings en verklarings.
Aan die positiewe kant van die balansstaat moet egter die digter se poëtiese bedrewenheid, sy fyn sin vir die ironie en die statire en sy kennis en ervaring van digterlike tegnieke genoem word. Bekker se kwatryne is steeds skerp soos ‘n tweesnydende swaard. Wat kontraswerking betref, is hy ‘n meester wat die leser soms koue rillings gee. Sy poësie word gekenmerk deur die saambestaan van teenstrydighede binne dieselfde gedig wat dui op ‘n insig in die meerduidigheid en gevarieerdheid van die lewe wat min ander digters in Afrikaans beskore is.

Myns insiens is Bekker se vermoë om steeds in nuwe en treffende beelde te dink een van sy sterkste eienskappe as digter. Weer en weer staan die leser verstom oor die trefkrag van sy metafore. Aan die wesp sê hy: “O brandepyn laat my staan!”; oor die Vredefortkoepel sê hy: “stof is hy, soos jy, / net in die vorm van ’n luit” …
Hoewel nie altyd ewe geslaagd nie, is die digter se intrek van die insigte van ander digters by wyse van intertekstuele verwysing ‘n wyse van kommunikasie met ander kunstenaars. In hierdie bundel bewerk die ongemaklike saambestaan van “ouer” digters se sieninge naas dié van sy eie ‘n spanning wat bydra tot konstante beweging in die bundel – sien in hierdie verband René Bohnen se onderhoud met die digter op Versindaba. Deur ander digters as’t ware uit te vra, kom ‘n kritiese gesprek in die bundel tot stand wat eie is aan die poësie van Pirow Bekker. Neem daarmee saam in aanmerking die digter se gawe om die konkrete uit die filosofiese te abstraheer en jy het ‘n unieke stem in Afrikaans – die stem van een van die min hedendaagse digters met deeglike kennis van klassieke tekste, ‘n denker en ‘n individualis.

Resensie: Meditasies (Joan Hambidge)

Wednesday, December 4th, 2013

Die bardo van meditasie as reis: Meditasies deur Joan Hambidge, Human & Rousseau, 2013.

Resensent: Marlies Taljard

 

Die term meditasie kan in wyd uiteenlopende betekenisonderskeidinge gebruik word. Meditasie kan die betekenis van nadenke of analise hê; of dit kan verwys na ‘n toestand van geestelike suiwering en bewuswording, van ontspanning of konsentrasie op ‘n bepaalde punt; dit kan dui op die opbou van ki, prana of interne energie; dit kan ook dui op die nastreef van innerlike harmonie en stilte om ‘n toestand van welgeluksaligheid te bereik. Al hierdie verskillende betekenisse van die woord meditasie word in mindere of meerdere mate ontgin in Joan Hambidge se nuwe bundel Meditasies.

Die bundel sluit, veral wat tematiese materiaal betref, aan by Hambidge se vorige werk. Die reis-motief, wat ‘n soort cantus firmus in hierdie bundel vorm, is ook ‘n belangrike motief in die meeste van haar ander werk. Hambidge sonder reise (innerlike én konkrete reise) is byna onvoorstelbaar: die reismotief is immers dié ordenende beginsel in haar poëtiese oeuvre. Sy keer in hierdie bundel weer (Freudiaans) by herhaling terug na die vaderfiguur én ander familiefigure. Aansluiting by en verpoëtisering van ander digters en kunstenaars bly ook nie uit nie. Soos te verwagte, kom daar weer eens ‘n handjievol gedigte oor silwerdoeksterre en ander beroemdes voor. Wat nuut is, is die deurgekomponeerde fokus op meditasie en besinning as (spirituele) praktyk wat gedeeltelik voorberei is deur vorige bundels, veral Lot se vrou. Enkele gedigte, soos Meditasie, onthou en Meditasie, illusies verwys spesifiek na die meditasiepraktyk, maar baie van die ander gedigte is doodgewoon meditasies.

Die bundel bestaan uit vier afdelings, Meditasies: Stede, Selfkonfrontasie, Beelde en ‘n slotafdeling met ‘n enkelgedig, Meditasie: Stad. Tegnies is die bundel afgerond, deeglik beplan en netjies uitgegee, danksy Human & Rousseau.

Die eerste gedig, “Tafereel”, bevat belangrike beginkodes wat die res van die bundel in perspektief plaas. Die term “meditasie” word in die bundel oorwegend gebruik as reis na en herbesoek van plekke, gebeure en toestande in ‘n poging om te herevalueer en sin te gee. Die begingedig besing die rustige bestaan van eenvoudige mense in Beijing:

 

TAFEREEL

 

‘n Diepgroen boom

lowerryk, vol voëls wat sing,

staan in die agtertuin van ‘n huisie beskeie

in Beijing. Die oompies speel mahjong,

die tantes spoel al skinderend die wasgoed,

mense fiets verby, dis skoolkomuit-tyd.

Oor hierdie klein tafereel van menslike bestaan

staan daar ‘n voël opgesluit in ‘n hok. Sy kraalogies

draai soos ‘n arend s’n reg om dié gedoente.

Hy droom van ‘n ander bestaan, ‘n beter wêreld,

verby inperkings, vérvandaan, oor groot mure

veel, veel langer as sesduisend kilometer klip.

‘n Toevallige besoeker sien dit alles, vou dit op

en knoop dit vas in haar geheue. Só vredig

om in hierdie oomblik te wees, so ongelooflik eenmalig,

in hierdie digterlike tuin.

 

Die “vredige” atmosfeer wat in die gedig opgeroep word, die eenvoud en beskeidenheid van die lewe, is voorvereistes vir meditasie. Die voël wat droom van vryheid simboliseer in hierdie gedig die siel wat na bevryding smag deur die praktyk van meditasie. Wanneer meditasie as spirituele praktyk gebruik word, is die doel om die siel los te maak van die liggaam sodat dit hoër dimensies van bestaan kan verken. Al die indrukke, wat vooruitwys na die reis wat in die bundel beskryf word, word deur die digter vasgeknoop in haar geheue vir latere gebruik. Die konkrete resultaat is dan die digbundel in die vorm waarin ons dit in die hand neem en lees.

In die eerste afdeling van die bundel – wat myns insiens die beste gedigte bevat – speel die verskillende gedaantes en fasette van stilte – soos in die bogesiteerde gedig – ‘n belangrike rol. In die tweede gedig, Tokio, ‘n meditasie, word die vraag gestel: “Het stilte ‘n struktuur?” Hierdie “onlogiese” vraag is inderdaad ‘n soort koan waardeur die gees stilgemaak word ten einde ‘n meditatiewe toestand binne te gaan. Die gedig eindig met die reëls: “Die gode hier, soos ek, swyg in alle teengestelde tale. / In ‘n onversende e-pos seng geluidloosheid stilweg.” In Washington D.C., ‘n meditasie word verskillende aspekte van stilte aan die orde gestel deur woorde soos “eensaamheid”, “alleen”, “solo”, “enkel” en “stilte”. Wat my opval, is dat, hoewel daar dwarsdeur die bundel op stilte gefokus word en stilte natuurlik een van die belangrikste voorvereistes vir meditasie is, die gedigte self die teendeel suggereer deurdat hulle swaar dra aan ‘n magdom inligting, verwysings, intertekste en beredenering.

Nog een van die opvallende temas in die bundel Meditasies is die voorlopigheid, die verkeer in ‘n tussengebied, ‘n oorgangsone, ‘n bardo (soos in Tokio, ‘n meditasie). Die begrip bardo word in The Tibetan Book of Living & Dying (Sogyal Rinpoche) beskryf as “a ‘transition’ or gap between the completion of one situation and the onset of another.” In Meditasie, tussen stede word oor hierdie newelgebied gemediteer by wyse van die liefdesmetafore wat Hambidge se werk van die begin af kenmerk:

 

MEDITASIE TUSSEN STEDE

 

Die geykte uitdrukking

Eating one’s heart out doem

voor die geestesoog op

tussen twee stede: San Francisco

en Los Angeles. Heilige Franciskus?

Stad van Engele? Die tussenruimte:

beleef en onthou,

aankoms en vertrek

gister en nou

werklikheid en aanvoeling

(en al die ander opposisies)

laat my soek na die potustornnost

of die ander wêreld. Miskien

hét ek my hart in San Francisco

verloor of agtergelaat. In my dagboek genoteer:

“‘n Worstelbed van slapeloosheid,

‘n enkelkussing,

Time is on your side.

Dis eers by nabaat dat ek wis:

hierdie reis was ‘n vaarwel

aan jou, skimmige geliefde.

Nooit behoort aan my,

geliefde van die tussenstaat,

van jou vorige geringde staat

op pad na jou nuwe okkupasie:

hartelose liefhebber van die entre nous,

ek staan op die Divisadero.

 

Uit hierdie gedig blyk ook die noue verband tussen reis en die liminale toestand: die reisiger is immers die hele tyd tussen bestemmings, in allerhande tussensones, soos dit ook uit Meditasie, grense blyk: “die wegvlug na ‘n vreemde bestemming // word ‘n oorgang // of drempel na nuwe ontdekking …” Die reis is, soos gesê, dié belangrikste ordenende beginsel in die bundel. In die eerste afdeling bevat byna elke gedigtitel die naam van ‘n stad. Dit lyk asof hierdie gedigte redelik chronologies op mekaar volg, aangesien hulle onderling na mekaar verwys en dikwels vooruitwys na mekaar. Deur so ‘n narratiewe struktuur en onderlinge skakeling van gedigte met mekaar, verkry die bundel – maar veral die eerste afdeling – ‘n sterk koherente struktuur. Teen die einde van die gedig Tokio, ‘n meditasie staan die bespiegeling: “En jy? Jy is reeds in San Francisco lesend aan Borges, / met ‘n glas merlot van Francis Coppola, wagtend / op ‘n boodskap van my amper in die Pickwick Hotel.” Die volgende gedig heet San Francisco, ‘n meditasie en vertel hoe die spreker op soek is na ‘n hotel, wat later die Pickwick Hotel blyk te wees. Ook die verwysings na argitektuur en spesifiek na Mies van der Rohe in verskeie gedigte, het ‘n samebindende funksie. Oor die algemeen is die bundel buitengewoon kundig opgebou deur middel van ‘n gesofistikeerde netwerk van alle moontlike koherensieskakels.

Sulke skakels bestaan, soos in die verlede, meestal uit verwysings na die werk van ander digters en kunstenaars, na dié mense self (dikwels in opdragte by enkelgedigte), uit verwysings na literêre en ander teorieë, byvoorbeeld Freud, Lacan, Borges, Vladimir Propp, Schopenhauer en ander. Hambidge se fenomenale verwysingsraamwerk wat haar werk deur intertekstuele verwysings verryk, is een aspek wat bydra tot die gelaagdheid en diepgang in hierdie bundel. Die gedigte behoort veral te spreek tot akademici wat haar verwysings met redelike gemak kan volg, aangesien baie van haar insigte kom aan die hand van vakkundiges na wie sy verwys. Interessante “gesprekke” met sulke mense vind ons byvoorbeeld in gedigte soos Freud se sofa, My lyf, ‘n psigoanalitiese analise met verwysings na Lucian Freud en Lacan en Meditasie, tyd . Laasgenoemde gedig is besonder interessant omdat ‘n bepaalde lewensituasie hier beredeneer word aan die hand van Vladimir Propp se bekende werk Morphology of the Folktale waarin hy die basiese handelingspatrone in sprokies ontleed. Hierdie gedig lê eweneens klem op oorgange – hier verteenwoordig deur die Brooklyn-brug – asook op die problematiek van tyd en ruimte, soos dat die spreker ‘n sms van haar minnaar ontvang in ‘n ander tydsone as waarin dit gestuur is.

Tyd word ook in ander gedigte in die bundel geproblematiseer. Telkens besin die digter oor aspekte van tydsverloop, soos in San Francisco, ‘n meditasie: “O stad, ek soek na die mens / wat ek was …” Stad van Engele is ‘n gesprek met “die engele afgestaan aan die dood.” Ook verskeie ander gedigte verwys na mense wat aan die dood afgestaan is, onder andere Carl Mischke, Brief vir Chris Lombard, My pa, By ‘n foto van my ouma, Anne Sexton (1928-1974), Just Marilyn (1926-1962) en talle ander.

Gedigte oor die eie digkuns, die Ars Poëtica, kom veral voor in Afdeling II, Selfkonfrontasie. Hier vergelyk die digter haarself dikwels met ander digters soos Eybers, in Sel(f)portret op 55, ‘n meditasie of in Meditasie, jaloesie, ‘n gedig waarin na ‘n hele paar groot name in die Afrikaanse digkuns verwys word. Besinning oor die poësie en ander kunsvorme neem dikwels die vorm aan van ‘n soort gesprek met teoretici, soos in Meditasie, Agon waarin Harold Bloom, Emerson en Wallace Stevens se insigte “oor die veelvlakkigheid van die psige” aan die hand van hulle werk belig word. Vir wie skryf jy dan jou gedigte? is ‘n besinnende reis waarin die name van onlangs gepubliseerde digbundels in die gedig met mekaar verweef word:

 

Jonger digters dans ‘n pirouette, lig die lem

vir ‘n nadoodse ondersoek, ontwikkel foto’s

met byskrifte en onderskrifte in ‘n donkerkamer.

 

Die voorlaaste afdeling bevat ‘n aantal gedigte oor bekendes en beroemdes. Daar is verskeie elegieë, onder andere vir Wessel Pretorius, Adrienne Rich, Annake de Villiers, Chris Lombard, Carl Mischke, Donna Summer, Dietrich Fischer-Dieskau, Anne Sexton, Sylvia Plath en – soos reeds verskeie kere vantevore – Marilyn Monroe.

Meditasies se 60 besinnende gedigte bied veel stof tot nadenke. Interessante en veelseggende verbande word gelê, die verlede word op ‘n bevrydende wyse herbesoek om nuwe sin daaraan te gee. Hoewel die bundel hoofsaaklik gerig is op redelik gesofistikeerde poësielesers, sal diegene wat vir suiwer plesier lees, ook vreugde daaruit put. Ek volstaan met die aanhaal van ‘n gedig wat in die besonder tot my gespreek het, die voorlaaste gedig in die bundel, ‘n gedig waarin oor die digproses as lewenslange opdrag besin word en waarin die vernaamste kodes wat in die bundel aangeraak is, saamgebind word:

 

ARS POëTICA

 

Stilte, eensaamheid

dryf haar van geboorte af

van wieg tot kis:

soekend na ‘n ander

se aanraak of troos.

Op verskeie reise,

vlugtend van om verlaat-te-wees,

weg van pynlike ervarings,

terug tot in die andersoortige kissie:

hierdie klein brose ding,

genaamd ‘n gedig,

nes die amberkamer

in die Hermitage.

Te vertelle,

eenling is jy gebore,

en só sal jy die gom

van die bome sny.

 

                                       Resensie geborg deur

 

 

 

 

 

Resensie: Kry my by die gewone plek aguur (Loftus Marais)

Sunday, August 26th, 2012

Ek’s hier vir die wêreld soos dit is:  “Kry my by die gewone plek aguur” – Loftus Marais (Tafelberg, 2012: ISBN: 9780624056461; R130.00, Sagteband, 96pp)

 Resensie deur  Marlies Taljard

omslag

omslag

Soos met sy vorige bundel, “staan in die algemeen nader aan vensters”, bestaan die titel van Loftus Marais se nuutste bundel ook uit ‘n opdrag: “Kry my by die gewone plek aguur”. Hierdie tipies onpoëtiese titel verskaf een van die eerste sleutels tot die onpretensieuse tipe poësie wat Marais skryf. Waarskynlik daarom ook die eenvoudige voorblad en die feit dat die bundel op baie goedkoop papier gedruk is. Die titel Kry my by die gewone plek aguur bevat drie woorde wat die aard van die nuwe bundel tipeer. Eerstens handel die gedigte in dié bundel oor gewone, alledaagse temas. Tweedens is plek en ruimte – spesifiek Kaapstad – belangrik in terme van verwysings én konseptualisering, en derdens speel tyd ‘n belangrike rol in die ordening van die bundel. Uit gedigtitels wat verwysings bevat na spesifieke tye, lyk dit asof die bundel op ‘n eerste vlak van betekenis die relaas is van ‘n tipiese dag in Kaapstad, beginnend met die gedig “‘n Begin”, dan volg “Oggend en jou lyf (twee oomblikke)”, “Dit is 6:00 en ek probeer dink” en “Oggendhoorder”; op p. 46 van die bundel vind ons “Twaalfuurkanon”, nog later “17:15” en “Halflig”, dan “Nagvatter”, “1:58”, “Stadsnag” en ten slotte “Bronx en vroegoggend”.

Soos die gedigtitels ‘n reis deur ‘n tipiese dag in Kaapstad suggereer, blyk dit ook algaande dat die reismotief een van die belangrikste temas in die bundel vorm. Oorgange en grense is belangrike merkers. Die bundel begin trouens met ‘n gedig waarin eksplisiet na oorgange en grense verwys word:

hoe om vroegoggend oor

oorgange te skryf?

 

die grafieterige tydjie voor dagbreek

wat nie verhelder nie, maar ontbloot

            iets persoonliks in die voorlig se wye gebaar

die werklikheid wil-wil bieg

 

deurkosyne en stopstraatlyne

geboue se donker kante

granietbloksypaadjierande

selfs die blinkgeverfde hekkies van skakelhuistuine

‘n eindelose versameling alledaagse grense

 

Omdat die eerste gedig in ‘n bundel ‘n baie sterk gemerkte plek is en meestal belangrike kodes vir die ontsluiting van die bundel bevat, sou ‘n mens dus uit bostaande strofes kon aflei dat die oorskryding van grense wat verskillende buurtes en plekke in die stad merk, op metaforiese vlak ook vir die digter geld wat beoog om die werklikheid [te] wil-wil bieg – ‘n tipiese liminale aktiwiteit. Ook elders in die bundel word konkrete grenslyne met selfondersoek en (self)openbaring verbind, soos in die gedig “Hysbak” met sy sikliese begin en einde: kyk af: dié strokie afgrond, dis ‘n grenslyn – ‘n grenslyn vir die oorsteek na die eintlike stadsruimte / kamers persoonlik openbaar / die geblikte sanktums van ons torings.

Verwysings na lyne en vorms as visuele grense wat dikwels ook ‘n dieper, metaforiese laag suggereer wat betrekking het op die digter en sy bestaan binne ‘n konkrete en/of abstrakte ruimte, kom inderdaad in byna elke gedig voor, soos in “Werk”, waaruit ek enkele strofes ter illustrasie aanhaal:

‘n padkaart van die middestad

kan double as grafiekpapier

 

en ek hier, in ‘n cubicle

luister na die skreeu-arias

van ‘n faksmasjien

 

ek sien: venster-uitsig:

die ene abstrak-oppervlak

 

selfs die berg is meetkundig, plat, korrek (…)

 

Ewigheid en oneindigheid, soos vergestalt deur die oneindigheidsteken op die voorplat van die bundel, vorm ‘n boeiende jukstaposisie ten opsigte van die temas van grense, begrensing en grensoorskryding wat die bundel kenmerk. Die gedig “Op ‘n sypaadjie” verwys direk na dié teken wanneer ‘n jong seun beskryf word wat sy skoene vasmaak: die lusse ‘n oneindigheids- / teken tussen vingers. In die laaste gedig, “Bronx & vroegoggend”, kom dié teken weer eens voor wanneer dit, veral saamgelees met die res van die bundel, ʼn Ars Poetica-metafoor word wat dit duidelik stel dat dit in Marais se poësie nié gaan oor die prewel van mitiese verwysings nie, want ek’s hier vir die wêreld soos dit is. Uit “Bronx & vroegoggend” spreek ʼn amperse minagting vir die ewigheid/oneindigheid – by Groenpunt sien die digter iets blink op die vloer en tel dit op:

dis ʼn oorbelstopper, ʼn klein silwer knop

ʼn möbiusstrokie?   ʼn agt?   ʼn oneindigheidsteken

as geskenkie? (…)

                                                ek gooi die stopper

oor die afgrond

van vannag

 

ʼn Verdere opvallende kenmerk ten opsigte van tematiek, is die digter se fassinasie met die Kaapse argitektuur, wat in talle gedigte veral deur middel van lyne, kurwes en vorms beskryf word. In “Oggendhoorder” word die stad self as ‘n lewende stuk argitektuur beskryf:

ek lê en luister (nog effe lam ná slaap)

hoe die argitektuur van die kaap

homself stem, opwarm

‘n madame wat sê “ahem?”

 

Die gedig “Ter verdediging van ‘n hoë kantoorgebou”, myns insiens een van die mees geslaagde gedigte in die bundel, is ‘n voorbeeld van die ineenvloei van verskillende diskoerse soos die argitektuur, die estetika, die sielkunde en die politiek, wanneer die digter oor die hoë kantoorblok skryf:

ek dink nou daaraan as ‘n dag

vasgehou en ook vorm gegee

deur dwarslatte en lig, monument

vir allerhande reëlmate,

en die kritiek van argitekte,

werkers, jong neomarxiste

wat stry oor die “fordist city”

in koffiewinkels, ag dis als

misplaas: daar is niks onmensliks

of hokagtigs hier voor my nie,

ons maak patrone uit ons dae,

dis hoe dinge is, en die blok

kerf uit ruimte ‘n ritme, kyk,

dit neem ‘n edel stelling in,

‘n beginsel wat die lyne

en die eentonigheid laat vlot:

prisma vir die son se verloop,

stadige metronoom van lig,

en: geen fout met roetine nie,

beaam die branders, getye

van die nabye oseaan.

 

Ook in ander gedigte word die ruimte van Kaapstad dikwels deur middel van geometriese vorme beskryf, soos in die ikoniese “Kloofstraat”. Die lyne en patrone van kragpale en oorhoofse elektriese kabels val in dié verband op – ek dink ook dat herhaalde verwysings daarna dui op energie, sowel in die sin van die geladenheid van die Kaapse ruimte wat in die bundel figureer, maar ook as verwysing na kreatiewe energie wat daaruit geput word, soos in die gedig “Kragpaaltoppe”.

 

Kreatiwiteit en die skryfambag is inderdaad die cantus firmus van die bundel – een van die sterkste bindingsmiddele wat in die bundel teenwoordig is. Soos reeds aangetoon, begin die bundel met ‘n gedig waarin die intensie van die skrywende ek uiteengesit word. Die digter wil-wil bieg, maar lê ook sy kaarte op die tafel deur sy bron van inspirasie te verklap: luister: harmoniseer die see, ‘n muezzin, die verkeer? // probeer nou oorgly in taal. Uiteenlopende impulse word in die bundel deurgaans in kontrapunt tot mekaar geplaas ten einde in die gedig en in taal sin en betekenis uit oënskynlike teenstrydighede te ontgin. Uit die eerste gedig spreek nog ‘n verdere intensie, naamlik om gedigte te skryf wat nie verhelder nie, maar ontbloot – ‘n voorneme wat dui op die onvermoë van taal enersyds, en andersyds impliseer dat die digter nie antwoorde wil gee nie, maar slegs bewus wil maak. By hierdie voorneme hou hy hom streng, want sien is in hierdie bundel baie meer prominent as besinning. ‘n Mens sou die bundel selfs met ‘n foto-verslag van Kaapstad kon vergelyk.

 

Een van die fassinerendste aspekte van die bundel is die Fabulisha de la Quellerie-figuur wat viermaal in die bundel opduik. As transvestiet is sy/hy ʼn ware drempelfiguur – ʼn liminale karakter. Haar naam, Fabulisha, kan verbind word met die fantastiese, die skeppende aspek van die kunstenaar wat eweneens dikwels as liminale handeling beskou word. Die van is waarskynlik geleen by Maria de la Quellerie, die vrou van Jan van Riebeeck. As karakter “uit die verlede” is “sy” dus ook liminaal van aard – ʼn tipe spook uit die verlede. Hierdie figuur verteenwoordig op die nie-konkrete vlak die vele grense en drumpels wat in die bundel as geheel figureer en lei die leser tot die lees van die bundel op ʼn dieper vlak van betekenis. Fabulisha se gedagtes vorm ʼn belangrike aspek van die bundel se diepgang. Dit fokus veral op tydsbelewenis (g’n tok van horlosies vir haar nie en: [sy] breek die minuutwyser af, gebruik dit / as haar cocktail / se mengstokkie), die ineenvloei van grense (buitekant wat skielik niks en alles is), die werklikheid as illusie/droom (ʼn gewel is nie ʼn gewel nie / nes meeste dinge / nie meeste dinge / is nie) en nie-kategoriese denke (nog altyd half mens, half droom / ʼn halfwegstasie (…) fort en tuin, top en bottom).

 

Wat in die bundel opval, is die digter se fyn waarnemings- en formuleringsvermoë. Metafore soos dan toet hy nog soos ‘n vals klarinetnoot (in “Oggendhoorder”) en die stad / is sag verpakte breekgoed (in “Stad in die mis”). Daar is egter ook ‘n hele aantal metafore wat myns insiens beter deurdag kon gewees het. [E]erste smeersels besoedeling / vibreer soos vermoedens is een so ‘n niksseggende frase, maar ook metafore soos ‘n bries soos ‘n rilling / deur my lyf is darem eens te voorspelbaar, terwyl sekere paaie, hulle’s anderste dinge alteveel na my eerstejaars se skryfwerk klink.

 

Ook wat poëtiese vormgewing betref, is daar dinge wat haper. Hoewel daar baie gedigte is wat getuig van sinvolle en poëties-verantwoorde vormgewing, lei die digter se verbete poging om poëtiese stylmiddele, taal en metaforiek te ondermyn soms tot ‘n baie onpoëtiese tipe vers. Die laagtepunt is “Die trekklavier”, wat inderdaad ‘n stuk prosa is wat deur verdeeltekens (/’e) in verse verdeel word. En hoewel ek begrip het vir die stelling wat die digter deur middel van sulke marginale poëtiese vorme wil maak, verloor die teks tog plek-plek sy inherent poëtiese aard. Ek illustreer dié bewering aan die hand van ‘n staaltjie wat oor die Russiese prima-ballerina, Anna Pavlova, vertel word. Een aand na ‘n besonder inspirerende vertoning sou iemand haar gevra het wat die dans nou eintlik beteken. Pavlova het geantwoord: “As ek dit in woorde kon sê, sou dit nie nodig gewees het om dit te dans nie.” Insgelyks: as ‘n gedig ewe goed in prosa sou werk – behoort ‘n mens ‘n gedig daaroor te skryf? Hiermee bepleit ek geensins die terugkeer na Middeleeuse poëtiese vorme nie, maar probeer ek eenvoudig sê dat die grense van ‘n genre net sóver verskuif kan word alvorens dit nie meer as, byvoorbeeld, poësie herken sal word en singewing nie meer kan geskied volgens die konvensies van die (poëtiese) genre waarbinne die kunstenaar dit aanbied nie.

 

Ten spyte hiervan is my belewenis van Loftus Marais se bundel “kry my by die gewone plek aguur” oorwegend positief. Hier is beslis ‘n digter aan die woord wat sy ambag ken en van wie ons in die toekoms nog veel behoort te hoor. Ek sluit my resensie af met die gedig “‘n Liefdesvers”, my gunsteling en beslis een van die beste gedigte in die bundel. Die gedig getuig van die digter se vaardigheid om verskillende balle gelyktydig in die lug te hou en ‘n afgeronde, bevredigende vers te skryf:

 

‘n Liefdesvers

uit net soveel bekommernis oor die wasmasjien

as uit nuuskierigheid én ‘n bietjie jaloesie

maak ek jou broeksakke leeg voor ek ingooi.

 

vergeet die dagboeke, briewe, notas (oor pruime

al dan nie). vergeet die handskrifte uitvoerig

soos frillerige ondergoed, outoritêre partiture

 

want liefde kom ook in sans serif

op vousels en strokies uit jou sakke.

‘n duideliker danigheid dié.

 

om te weet jy was op 06/05/2011 16:08

lus vir ‘n fanta. jou banksaldo is min of meer

wat ek verwag het. om te lees “your waiter on duty:

 

jo-anne” o, jo-anne! het jy ook gevrek

oor die grys kolle in sy kenstoppels?

hartstog in die detail: vat # 4820853876

 

jy vuis sommer munte so toe in kwitansies

en a, ek vou dit oop, blomknoppe!

beminde, ek sal duisende origami-duiwe

 

stryk uit gekreukelde papier, hulle loslaat

à la groot en kitsch troues, jirre, ek gaan tekere asof ek

die dooie see se rolle ontdek.

 

afsendings en bewyse van jou

in ‘n wêreld waar ek nie by jou is nie. jý maak selfs

“credit authorised” betekenisvol.

 

liefde op dun papier, selfs hier

by die wankelrige ritme van ‘n wasmasjien

 

 

 

Resensie: In die niks al om (René Bohnen)

Tuesday, February 21st, 2012

In die begin was die woord ‘n naam wat uit sy nate bars: in die niks al om – René Bohnen

 

Resensent: Marlies Taljard

omslag

omslag

René Bohnen se bundel in die niks al om kan maklik na die eerste lees te lig bevind word. Dit is ‘n bundel waarin die alledaagse en die metafisiese saam poësie word, ‘n bundel so deursigtig soos ‘n “bergkristalwaterval” (p.31) waarin diep die niet in gekyk word. Ten spyte van die eenvoud en oënskynlike deursigtigheid van die verse, is dit poësie wat met elke lees nuwe en diepliggende betekenis bykry. Hoewel die  meesleurende metafore reeds met die eerste lees bekoor, is dit verse wat hulle rykdom eers na deeglike lees en herlees prysgee.

Spiritualiteit is die oorkoepelende tema van die bundel – ‘n spiritualiteit wat in die Zen-Boeddhisme gewortel is, maar dogma oorskry deur ‘n kleurvolle hibridisering van die numineuse belewenis. Bohnen se gedigte illustreer die oeroue beginsel dat die groot geheel deur al die kleiner onderafdelings daarvan gerepresenteer word. Daarom is die geestelike ervaring vir haar nooit onafhanklik van die nietige alledaagse nie. Weerspieëling  in verskillende fasette kom dus by herhaling voor. Die beeld “waterlelies in die maankring” in die gedig kuswoudkus is byvoorbeeld ‘n variasie van die bekende Zen-simbool van die maan met sy weerkaatsing in die water wat illustreer hoe die groot maan in sy geheel in ‘n klein poeletjie water gereflekteer word – selfs in ‘n enkele druppel dou word die maan in sy geheel weerkaats.

In teenstelling tot die Westerse denke wat geskoei is op die konsep van teenstellings, lê die beginsel van nie-tweeledigheid aan die wortel van Zen-denke. Alle ander beginsels vloei daaruit voort of sluit daarby aan. Polariteit impliseer nie noodwendig konflik nie, maar eerder dat twee dinge in balans of in spanning met mekaar verkeer. Sienaert skryf in ‘n artikel oor die werk van Breyten Breytenbach: Hierdie relatiwiteit waardeur die heelal in balans gehou word is inherent harmonies en kreatief, omdat daar geen destruktiewe konflik kan wees tussen pole wat van mekaar afhanklik is vir hulle eie voortbestaan nie. Ook in Bohnen se gedigte speel balans, harmonie en ekwilibrium ‘n besondere rol, soos in die pragtige Nan Hua Bronkhorstspruit:

 

die oomblik is eenvoudig

sonder soeke

op die tempelbalkon

in die ooste rys die volmaan

wit tot blom

draakrooi in die weste sak die son

 

in die ekwilibrium van einde en begin

     op die stil punt tussen-in

 

bot

‘n huilboerboon

 

Hoewel die filosofie onderliggend aan in die niks al om basies dié van Zen-Boeddhisme is, vereenselwig die sprekende ek haar nie met ‘n bepaalde dogma nie: “ver van ons dogma is na aan ons waarde” skryf sy in dryfbedryf. Hierdie beginsel is natuurlik ook ‘n beginsel van Zen, wat oop is vir diversiteit. Hibriditeit loop soos ‘n goue draad dwarsdeur die bundel. In die derde gedig, vlamtong kom ‘n luisterryke vermenging van ritualistiese simboliek voor wanneer veral die Afrika-gelowe, die Rooms-Katolisisme en die Boeddhisme langs mekaar plek vind:

 

en toe hy die woord ukhalamba

spreek

was daar vuur in

sy mond

 

berg

het hy gesê en

om

het die pieke geantwoord om

eggo die amfiteater om

(…)

intaba yami, bid die paters

en die priesters in hul grotte, om

dans die bok-

beelde immer

om

 

In die gedig vanaf Mont aux Sources die Tugela vind ons dieselfde vermenging van heilige terme: “namaste corpus christi halala / in die berg van oorsprong”, soos ook in hibriede van die berge:

 

benedicte namaste ek is wie ek is

 

(…)

 

wierook en water die lama en die pater

 

(…)

 

lensies in my lotussop

sanctus shanti shanti

 

nkosi sikelela skree hadidas

om die boeddha se kop

 

Besonder betekenisvol is die gebruik van die term om in die bundel. Om verteenwoordig die vibrasie wat uiteindelik geluid geword het en waardeur die skepping in beweging gebring is. Dit kom ooreen met die Bybelse Woord/Logos wat aan die begin daar was (Johannes 1:1-4). In sommige Indiese dialekte word die woord naam gebruik vir die hoorbare vibrasie wat dwarsdeur die kosmos aanwesig is sedert die skepping – dus ‘n woord wat betekenisverwant is aan Om/Woord. Die alom-teenwoordigheid van Gees wat deur dié terme verteenwoordig word, word in die bundel ikonies geïllustreer deurdat sowel die eerste as die laaste gedig in die bundel met die woord “naam” afgesluit word:

 

donkermaan

van die agtste maand

die middellande is

wasig

soos my ma se wete

in haar keuse

van my

naam

(om in te kom)

 

en:

 

want alles was see

en alles was leeg

voor die sterre losgeskeur het

uit die niks alom

 

     in die begin

     was die woord

‘n naam wat uit sy nate bars

(ligspirale)

 

Albei dié gedigte handel oor ontstaan of begin: die eerste oor die geboorte van die sprekende ek en die laaste is ‘n soort Genesis-verhaal waarin teruggedelf word tot by die oorsprong van alle dinge. Let op die gebruik van al drie die terme wat min of meer dieselfde beteken as die Bybelse Heilige Gees (dié Gees wat aan die begin oor die water geswewe het, aldus Genesis 1:2), naamlik alom, woord en naam.

Gegewe die duidelike tekens van Zen-Boeddhistiese denke in die bundel, verbaas dit dan nie dat meditasie dikwels óf as tema in gedigte voorkom óf dat gedigte die meditasieproses ikonies vergestalt nie. Boeddhistiese meditasie is gemik op die verkryging van satori – ‘n toestand van verligting – deur die ontwikkeling van opmerksaamheid, konsentrasie, insig en ‘n kalm gemoed waarin die ego ten volle afwesig is en ‘n algehele stilpunt bereik word. Hierdie toestand word gekenmerk deur ‘n mistieke bo-verbale en bo-logiese ervaring van saambestaan van die mens en die wêreld. Deur opheffing van dualiteit word die Groot Niet betree, waar alles in omruilbare verhouding tot mekaar bestaan en niks duur nie – die een ding vloei uit die vorige voort en vervloei weer in die volgende. Verskeie gedigte in in die niks alom verwys implisiet of eksplisiet na die meditasiepraktyk. Ek dink hier aan gedigte soos Nan Hua Bronkhorstspruit, Nymphaea, mandala, oujaar in Aberdeen en Umzimkuku. Ek haal uit laasgenoemde aan:

 

nuut is ons

 

voor

die onvoorspelbaarheid

van vorm

die eenvoudige aksie

van hark

 

een naweek in retreat

waar ons sit soos klippe

en jy volledig

lig

word vir my

 

‘n Gedig soos die onderstaande illustreer ikonies die vrylaat en laat gaan wat noodsaaklik is in meditasie alvorens verligting bereik word:

 

sandskrif is ouer

as sanskrit

die bottel breek     kyk

‘n skuit

           vaar uit

tussen skerwe

kleurglas

in die son

 

Een van die onderskeidende kenmerke van die bundel as geheel is die gebruik van sterk argetipiese simbole soos tyd, water, vuur, die sirkel, mandala en spiraal, die maan en die maagd wat almal ook spirituele betekenis het.

Water is een van die mees antieke simbole wat dikwels met die onbewuste in verband gebring word. Dit verteenwoordig in die onderhawige bundel soms kennis van diep, verskuilde dinge en die misterie van die onbekende. Een van die sterkste water-simbole kom uit die gedig kuswoudkus:

 

die bul en die maagd swem

tussen tsoenami’s

deur ‘n rooi poort onder die see

 

Die vis-simbool (soos afgebeeld op die voorblad) hou verband met die water-simbool, maar is in die Boeddhistiese tradisie ook simbolies van vreugde en vryheid. Koi-visse het die addisionele betekenis van juwele:

 

in fluisterstil ornamentele mere

glim die swemmende koi-juwele

 

‘n Verdere water-simbool wat by herhaling voorkom, is die waterlelie wat hier natuurlik heenwys na die heilige lotusblom van die Boeddhisme en wat eweneens op die voorblad uitgebeeld word.

Ook die maan as simbool word in verskeie verse aangetref. Een van die mooiste beelde in die bundel is:

 

die maan verf

akwarelle

in die tugela

 

Die maan bly deur die eeue steeds ‘n mistieke simbool en staan dikwels in verband met sikliese prosesse, soos beskryf in die gedig eenmot waarin die spreker beweer: “die waarheid is krom / tyd is rond”. Die maan as antieke simbool van vroulikheid sluit sterk aan by die digteres se bewustheid van haar vrou-wees, soos dit byvoorbeeld spreek uit die gedig La Loba waarin die bekende boek van Clarissa Pincola-Estes, Women who run with the Wolves, as interteks gebruik word. Die gedig begin met die reëls:

 

in die donker kloof was watsonias van bloed

tydens daardie dooiemaan

en wilde vroue het in ‘n kring om my kom staan …

 

Met sy meesleurende ritme en sterk inkanterende aard, is dit beslis een van die beste gedigte in die bundel. Die metafore wat in dié gedig vir die vrou gebruik word, soos waterorrelvrou, bamboesfluitspeler en glasharmonika is oorspronklik en treffend. Die slot illustreer verlies van identiteit deur terugkeer na ‘n priomordiale toestand: “wolvin, ek leef al dieper in my trop in”. Die individuasieproses wat deur die gedig La Loba gesuggereer word, deursuur die bundel – steeds is die skrywende ek aan die ligter word, aan die afgooi, soos in middelrus:

 

maar vanoggend het ‘n gedaante uitgestap

in die swye van sneeu tussen bloekombome

by kamberg en griffin’s hill

 

winter van warm ontwaking

‘n wolk in die lug

my asem

‘n geboortegedig

 

hoe grensloos is my lewe nou

so volkome sonder

 

Die sirkel, spiraal en mandala met hulle hoofsaaklik esoteriese simboliek vervul ‘n belangrike ordenende rol in die bundel. Die bekende Zen-sirkel wat in een enkele virtuose kwashaal gemaak word, simboliseer die heelal en die fokuspunt van diep meditasie. Ek haal aan uit sjamaangrot:

 

mierleeutjies onder warm sand

 

hoe flikker hulle

in my hande as ek in sirkels

binne sirkels binne sirkels

die oerpad vat

 

Die spiraal is seker dié mees bekende Keltiese simbool en representeer meestal holistiese groei, oorgawe, bevryding, bewuswees van die self as deel van ‘n groter geheel en ‘n verbinding met esoteriese, kosmiese energie en die goddelike, terwyl die mandala ‘n baie komplekse simbool is wat onder andere in meditasie gebruik word om die gedagtes leeg te maak. Teenwoordigheid van hierdie simbole en ander, soos die draak, die labirint, voëls en vuur in die vlegwerk van die bundel dra daartoe by dat die lees van die gedigte ‘n spirituele ervaring word. In wese is hierdie ‘n bundel wat primêr steun op argetipiese simbole om betekenis en diepgang te genereer, want die gedigte self is dikwels minimalisties en selfs gestroop.

Een van die besware wat ek teen die bundel het, is dat daar min werklik substansiële gedigte voorkom, maar, soos ek vroeër probeer aantoon het, lê dit in die aard van die filosofie wat die meeste gedigte onderlê om juis substansie te verloor ten einde ‘n toestand van verligting te bereik. Sommige gedigte is egter ten spyte daarvan eenvoudig te yl en soms kan formulering meer eksak wees. Die metafoor “‘n melkweg kantel” kan eenvoudig nie weer gebruik word nie en die woord “tsoenami” het sedert 26 Desember 2004 ‘n stopwoord geword wat epidemiese afmetings in die Afrikaanse letterkunde aangeneem het.

Wat vormgewing betref, het die digter besondere selfbeheersing aan die dag gelê. Hoewel daar selde van rymwoorde gebruik gemaak word in die tradisionele posisies, het die gedigte oor die algemeen ‘n baie bevredigende musikaliteit en vloeibaarheid. Ook die strofebou is met sorg gedoen. Daar is verskeie ikoniese gedigte, onder andere enkeles wat die sirkel ikonies daarstel, soos huisraad wat ‘n sikliese einde het, asook die baie interessante spieëlgedig, familiekring waarvan die eerste en laaste strofes só lyk:

 

sakaboelas flap

deur die amfiteater

fluister spoelklippe

 

(…)

 

spoelklippe fluister

in die amfiteater

flap sakaboelas

 

Die oorkoepelende struktuur van die bundel is eweneens poreus. Daar is geen formele indeling in afdelings nie, maar met die lees word dit duidelik dat gedigte tog min of meer volgens temas ingedeel is. Ten aanvang is daar ‘n geboortegedig wat in die slot geëggo word deur ‘n tipiese Genesis-gedig waarin van dieselfde metaforiese materiaal gebruik gemaak word. Dan is daar gedigte waarin argetipiese simbole en rituele handelinge opgeroep word, ‘n Ars Poetica – die pragtige walvisnota met die klankryke reël “daar skuil korale in die klank van troglodiet”, dan volg gedigte oor geliefdes, die spirituele praktyk, die dood van ‘n geliefde moeder, geweld, die aarde en bewaring, vroue en dan weer enkele spirituele gedigte. Dit is dus duidelik dat ook die bundelstruktuur hibridisering verteenwoordig deur ‘n baie losse ordening, grensoorskryding en die feit dat die organisasie nie formeel daargestel word nie en dat ook nie slaafs by die losse skema wat ek hierbo uiteengesit het, gehou word nie.

Ek het in die niks al om ‘n besonder verrykende leeservaring gevind. Dit is baie jammer dat so ‘n bundel so swak uitgegee word: reeds toe ek die boek oopmaak, het die buiteblad begin losskeur, en nadat ek dit ‘n paar keer deurgewerk het, kom die meeste bladsye reeds los. Ook die skriftipe wat uit klein kolletjies bestaan, was vir my baie moeilik om te lees. Ek voel LAPA kon beter gedoen het as dit!

Tog is die bundel as geheel die moeite werd om te lees, al lees mens net ter wille van die spontane metafore wat vloei asof dit die natuurlikste taal op aarde is.