Posts Tagged ‘marlise joubert’
Monday, November 2nd, 2009
Tags: Andries Bezuidenhout, Carina Stander, Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, digter-skilders, Heilna du Plooy, Ilse van Staden, kunsuitstalling Versindaba 2009, marlise joubert, Rosa Smit, Trienke Laurie Posted in Artikels, essays, e.a. | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Wednesday, October 7th, 2009
 Die program
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Tags: Andries Bezuidenhout, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, Danie Marais, Daniel Hugo, David Kramer, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Hilary Mantel, Ilse van Staden, Jasper van Zyl, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Laurinda Hofmeyr, Loftus Marais, Lucie Möller, Luna Paige, marlise joubert, Piet van Rooyen, Pirow Bekker, Program, Rosa Smit, Sheila Cussons, Versindaba 2009 Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Wednesday, September 23rd, 2009
 Demos Takoulas
Ai, mense, vanoggend trek my gemoed omtrent met ‘n punt noordwaarts, want vanaand om 19:30 vind daar iets besonders plaas in Wits se Downstairs Theatre: ‘n Bekgeveg / Poetry Slam wat ‘n mens omtrent laat watertand … Dié Bekgeveg, wat deur die Wits School of Literature and Language Studies en The Weekender aangebied word, is inderdaad volgens die óú, beproefde formaat van weleer: twee spanne van drie digters elk ding mee aan die hand van tema’s wat die gehoor gee; en dan word die individuele digters se pogings nog boonop bepunt óók.
Wat my hart egter so punt laat staan, is nie soseer die plesierigheid daarvan nie, maar die gepekelde name wat deel vorm van die program. So is daar die veteraan-skeidsregter sonder skaamte, Demos ‘die mal kafeegriek’ Takoulas, saam met die gemodereerde Leon de Kock in die mede-aanbieders stoel. (Wat de hel doen jy in daai stoel, Leon?!), plus die gekontroversialiseerde boeredigter des gronds, JC Van, alias Johannes van Jerusalem. Ander digters wat deelneem, is Veronique Tadjo (van Ivoorkus); Comrade Fatso (Zimbabwiese digter) Lesego Rampolokeng, Ike Mboneni Muila; en Gail Dendy.
Wat ‘n geleentheid, wat ‘n fees! Uiteraard gaan my geld hand-oor-mond na Johannes van Jerusalem vanweë sy welbekende en gedurfde improvisasie-vermoëns, maar ek het ook al vir Lesego Rampolokeng gesien (en hoor) optree; hier kom ‘n ding, mense …
En dis al wat ek bereid is om hieroor te sê, om nou vir Forrest Gump na te praat. Kaartjies kos R40 (vir studente) en R60 vir die res. Geniet, geniet. O, ja! Geniet … (En, Andries, probeer tog keer dat Demos nie weer van sy klere ontslae raak op die verhoog nie, hoor. Dis hoegenaamd nie meer snaaks nie.)
***
Op die webblad is daar vanoggend sommer ‘n hele aantal nuwe blog-inskrywings. So is daar ‘n wonderlike gesprek op die oomblik tussen Andries Bezuidenhout en Johann Lodewyk Marais op hul onderskeie blogs oor hul ervarings in, en indrukkke van, Oos-Afrika. Ook Ilse van Staden spreek in haar nuutste blog-inskrywing ‘n interessante aspek rondom veelsydigheid aan, terwyl Yves T’Sjoen se deeglike stuk oor M. Vasalis (een van Nederland se mees geliefde en gerespekteerde digters) en haar uitgewer, Geert van Oorschot, eweneens ‘n móét lees is. En onthou om dan sommer weer Hans Ester se artikel oor Elisabeth Eybers en háár verhouding met Van Oorschot te lees. (Laasgenoemde is al enkele maande gelede geplaas …) En in haar gedigtekamer antwoord Jelleke Wierenga die resensie oor haar bundel soos ‘n digter behóórt te antwoord: met ‘n gedig!
Vir jul verdere leesplesier volg hieronder ‘n vers van wyle Ronnie Belcher wat hy nog tydens ‘n Bekgeveg in Dorpstraatteater op Stellenbosch gepleeg het. Wat ‘n meesterlike Bekvegter was hy nie! En, as toegif, indien julle belangstel in ‘n eerstehandse verslag oor die vim, vicks en wol van ‘n Bekgeveg, kan julle Marlise Joubert se héérlike rubriek, wat sy na afloop van die Bekgevegte by die KKNK in 2001 vir ‘n koerant in Durban geskryf het, gaan lees. Dit is hier geplaas; kompleet met foto’s daarby.
Lekker lees en hê pret vandag.
Mooi bly.
LE
Poësie-aand
Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel ontbloot for everyone to see?
Hier tussen die geskinder en gepraat
my siel ophang soos aan ‘n doringdraad?
Met ander se geroggel en gerook
my sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier tussen al die waaiers en die fans
myself beskinder saam met also-rans?
Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak
soos ghoffels wat kafoefel op ‘n trein
and other dear souls crying in the rain.
Maar smokkel met my siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!
(c) Ronnie Belcher (uit: Van heidebos en klip, Suider-Kollege, 2000)
Thursday, August 20th, 2009
 Jan Hanlo se gedig
Die Bulgaarse hoofstad, Sofia, het met ‘n héél besonderse plan vorendag gekom om die internasionale aansien van die digkuns in hul stad te verhoog. Hulle het naamlik al die ambassades van die Europese Unie genader met die versoek dat elkeen ‘n gedig moet nomineer om teen die mure van bepaalde geboue in Sofia aangebring te word ten einde die stad te versier. “European poems on Sofia’s city walls send out a powerful message about Europe to Sofia’s citizens and visitors. The European Union’s strength is Unity in Diversity,” het Willem van Ee, die Belgiese ambassadeur in Bulgarye, gesê en bygevoeg: “Europe is about people, about citizens. And there are many differences between European member states and their citizens. Historical, cultural; our languages and alphabets. This makes the European project so exciting, colourful and dynamic.”
Nederland het naamlik ten gunste van ‘n gedig van Jan Hanlo besluit, terwyl die Belgiese ambassade twéé gedigte, naamlik ‘n franstalige gedig deur Odilon-Jean Périer en ‘n gedig deur Hugo Claus, Het weer, gekies het. Ander digters wat op dié manier vereer is, is onder andere Dante, Schiller, Eluard en Pessoa. Naas die teks in die oorspronklike taal, is daar ook vertalings in Engels en Bulgaars op die onderskeie mure aangebring. (Lees die volledige berig hier.)
Vir jou leesplesier plaas Nuuswekker vanoggend Hugo Claus se gedig hieronder.
Ten slotte - vandag is weer ‘n dag wat ons kan opstaan en hande klap: Carina Stander se langverwagte tweede bundel, “woud van nege en negentig vlerke” het gister by die winkels aangekom. En wat ‘n pragboek is dit nie! Haas jou dus na jou gunsteling boekwinkel en vra daarvoor; pleit selfs indien hulle dit nie het nie. Maar krý hom. Intussen kan jy jou verlekker aan die onderhoud wat Marlise Joubert met Carina gevoer het, asook die inligtingstuk hier by publikasies.
Lekker lees aan alles en mag jy vandag volledig vlerk wees …
Mooi bly.
LE
Het Weer
Hoe het weer was in het land zonder jou?
Eerst daalde er nevel
over de betonnen bergen.
Toen hing de zon als mist
over het paarlemoeren zand.
Toen bewoog de lucht
en werd klam als oksels.
En alom steeg de geur
van de grote dieren die niet bestaan,
tenzij in het geruis van je oor,
in het geritsel van je haar.
Zo was het weer daar zonder jou.
Je bent de luchtdruk en de dauw
en sneeuw in mijn schedel.
© Hugo Claus
Friday, June 19th, 2009
 Marlise, Marjoleine, Ad Zuiderent & Tom van Deel
Op haar gereelde rubriek De Thuiskok in die NRC Handelsblad skryf Marjoleine de Vos onlangs oor die wenslikheid van ‘n resepteboek met gedigte daarby. “Een bloemlezing van gedichten met recepten erbij, zou dat nu niet eens iets leuks zijn?” vra sy en voeg dan by: “Maar dan moeten die dichters natuurlijk ook wel een beetje eten in de gedichten van ze, want anders ben je snel klaar met je recepten …” Nou is dit ook so dat ek en Marlise net die mooiste herinneringe het van Marjoleine en haar man, Tom van Deel, soos die foto hiernaas getuig. Nie net is hulle albei digters van vele bundels nie, maar Marjoleine is inderdaad ‘n voorslagkok. (Terloops, die foto hiernaas is geneem tydens ‘n ritueel toe elkeen teenwoordig ‘n heildronk moes instel op ‘n bepaalde wërelddigter. En glo my, die hele alfabet is deurgewerk van Yehuda Amichai tot by Adam Zagajewski. Kliek gerus op die foto indien jy dit wil vergroot.)
Nietemin, dié versugting deur Marjoleine het my onwillekeurig laat dink aan hoe bevoorreg ons is met twéé publikasies deur formidabele digterskokke: C. Louis Leipoldt (Polfyntjies vir die proe, Cerderberg Uitgewers, 2004) en George Weideman (Verskombuis, Protea Boekhuis, 2006). Voeg nog daarby Marlene van Niekerk se wonderlike kosrubrieke van enkele jare gelede - wat hopelik eendag nog uitgegee sal word! - plus DJ Opperman se bekende Grondstowwe by die siklus van seisoene, en ons besef dat eet en drink en poësie eintlik nog altyd stalmaats was in ons digkuns.
So, maak ‘n spesiale gereg hierdie naweek en geniet dit saam met jou gunstelingdigter … (Ter inspirasie, die slotreëls uit Marlise Joubert se gedig Ballade vir die minnaars hieronder.)
Lekker eet! Nuuswekker hervat weer Maandag.
LE
En sy sal die versugting van sy verse in die vlees toevou
En die mes en die vurk van jarelange saamwees
En hulle sal die woorde geniet wat brood geword het
Soos brood sal hulle mekaar bly eet en vermeerder
Want hy het besluit om sag te wees
(c) Marlise Joubert (passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007)
Monday, May 11th, 2009
Uiteindelik is ons nou ook op Facebook beskikbaar … So, gaan sluit gerus aan by ons Versindaba-groep as jy op Facebook ingeteken is, en bly op hoogte. Versprei sommer die woord verder! Hier is die skakel na die groep toe: http://www.facebook.com/group.php?gid=83124517273&ref=mf
Dan hoop ons dat alle moeders wat hier lees, gister ’n jubeldag beleef het en deeglik deur al hul geliefdes bederf is. Uiteraard dink ’n mens ook aan die vele moeders wat moedersdag sonder hul kinders moes deurbring, vir watter rede ook al. Spesiaal vir hulle vanoggend, die gedig hieronder deur Marlise Joubert (uit: Passies en passasies, Protea Boekhuis, 2007) wat myns insiens een van die heel mooiste verse in Afrikaans is oor moederskap en die verlange van ’n ma na haar kind.
’n Lekker dag vir jou en bly uit die pad van die bloute.
Mooi bly.
LE
middernag, ’n brief vir Marcelle
hoe anders dat my brief
geen brood sal wees nie
maar ’n dowwe kaart wat nooit
volmaak die beeld kan wys
nagte kan stukkend val soos glas jy weet
en die oond bly koud
dáár blink die maan teen ’n blokkie ruit
dáár sny die sterre ’n donker berg
en dáár borrel ’n voël onder sy vlerke uit
hoe anders kind as jy slaap
tussen klokke en oker klepels van lig
teen ou mure of sugtend tussen pilare
waar gargoyles van vermaarde
Oxford-kolleges oor jou waak
ek weet jou taal is brood
en kantel saam met die Cherwill-rivier
spaan tot diep in die maagwande
van amber kastele en kamers in klip
villages en grafstene
wat sedig in die eeue hurk
hoe anders dat my brief
eintlik nie eens ’n tekening sal wees nie
met al die kontoere en lyne afgerond
al die verslete holvoettrappies
wat ek wil klim
tot dáár
want hier
is dit middernag
hier krummel die klanke soos skilferdeeg
sag in my keel
hier het die klok gaan staan
omdat ek so verlang
|
|