Posts Tagged ‘Martjie Bosman’

Nuwe publikasie: Vloeibare middelpunt (Martjie Bosman)

Friday, June 3rd, 2016

Omslag

Vloeibare middelpunt

Martjie Bosman

Vloeibare middelpunt is Martjie Bosman se derde digbundel en volg op Toevallige tekens (2010) en Landelik (2003), waarvoor sy met die Ingrid Jonker-prys bekroon is.

 

Susan Smith skryf in haar keurverslag dat Vloeibare middelpunt handel oor ’n “gevoel van vervreemding en vreemdelingskap – nie net as reisende buite die grense van die bekende nie, maar selfs die bekende wat vervreemdend word.” Soos die bundeltitel voorspel, is daar sprake van ’n vloeibare in- en uitbeweeg na en van die veilige maar onvaste kern, en word verskillende bestaansmoontlikhede op verskillende plekke (hetsy fisiese of kopruimtes) verken. So handel heelparty gedigte oor woon in ’n stad (soos Pretoria, wat uitgebeeld word in Ryan Loubser se “Spookhuis in die reën” op die omslag) wat uitdagings aan die inwoners stel, maar ook ’n gevoel van behoort wek. Soos vroeër by die gedigreeks “Viervoud” uit Landelik, vind die Heideggeriaanse konsep van “woon” soos uiteengesit in sy referaat getiteld “Bauen wohnen denken”, sterk inslag, vandaar dat Bosman die Hölderlin-aanhaling as motto vir die bundel gebruik: “… dichterisch wohnet der Mensch auf dieser Erde”.

 

FOXTROT VAN DIE VLEISETERS

 

Satrae stop die BM’s en MB’s en 4-treks

voor die slaghuis, sein die T-hemde

die seisoene: ligblou, gestreep of groen en goud.

Daar binne gesorteer volgens die slagoffers

die tjops, die steaks, die sosaties, die worse

– Weens, Russies, Spaans, Duits, gerook, gekaas,

om nie te praat van die boeresoorte nie:

gawe, gemoedelike Grabouw, kameelhout,

rooikrans; skaap-, bees-, hoender-, lewer-,

en iewers ten duurste ook “oorspronklik”.

Agter loei die sae, spat die skaafsels,

genoeg om vegetariërs te laat verbleek.

Maar wat, ons koop ook die bykosse,

die braaipap, die dege uitgerys in hul plastieke,

die knoffelbrode en roosterkoeke in hul foelies,

die kase, die botters, die smere, gesofistikeerd

met pesto en soet sondroë tamaties, die wyne,

die olywe, die olies en balsamiese asyne,

die skyfies vir vooraf en die terte vir daarna.

Vanaand gaan die brikette brand, die rokies hang,

die biere skuim, die vroue vol belofte lag,

die kinders stry en op die sofas slaap.

Vanaand vergeet ons die verlede, die kwellings

van die week, die hoofpyn van die oordaad.

Vanaand dans ons die dans van die lewe.

 

OOR DIE OUTEUR

Martjie Bosman was van 2000 tot 2004 as Argivaris (Arikaanse radioprogramme) by die SAUK se Klankargief werksaam. In Augustus 2004 word sy as redakteur by Protea Boekhuis aangestel.Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik.

(Protea Boekhuis, 2016; R160.00 (BTW ingesluit), ISBN 978-1-4853-0584-2, E-boek: 978-1-4853-0585-9, ePub: 978-1-4853-0586-6; FORMAAT: 137 x 213 mm, Sagteband, BLADSYE: 80)

Martjie Bosman – vertaling in Engels

Friday, November 18th, 2011

Martjie Bosman – Vertaal deur/ translated by Tony & Gisela Ullyatt

 

Martjie Bosman

Martjie Bosman

Martjie Bosman was born in Groblersdal and matriculated at the Ben Viljoen High School. She studied at the University of Pretoria where she earned a Masters degree in Afrikaans literature in 1985. For two years, she taught Mathematics at the Warmbad High School. In 1981, she was appointed as a literary researcher at the Centre for South African Literary Research of the HSRC. Later she carried out research on social questions and rural development. In 2000 she became the archivist for Afrikaans radio programmes at the SABC. In 2004 she was appointed editor at Protea Book House. Her poems have appeared in literary journals since 1990 and her first volume of poems, Landelik, for which she received the Ingrid Jonker Prize, was published in 2003. Her second volume, entitled Toevallige tekens, appeared in 2010.

 

 

TREASON

 

We have even let down the aunts,

forlorn in little village houses with fern-clogged verandas,

in rooms in old-age homes with leftover wool.

They scowl at us beneath their bonnet brims

from old black-and-white snapshots –

like Aunt San, stout of body,

lifting her head after the cattle-slaughtering  

in the backyard where she stirs a pot of soap.

Later she would call the neighbour’s daughter

to the fence to pass over a bar of soap

with which Ma feels duty-bound to get the tea towels washed.

Before their staid eyes we hardly dare appear.

Better close the photo album instead.                  

 

(From:  Landelik, Protea Boekhuis, 2002)

(Tr. by Tony & Gisela Ullyatt)

 

 

THE GREEN FINGER OF GOD

 

the green finger of God moves

over the crust of Earth’s brown clod

cleaves a valley through shallow lakes rivers

draws a mountain range out of the clay

sketches fynbos rooistompie and heather delicately

the bright bee-eater against the new riverbank

the mighty old grey one  the daft baboon sketched well

and last but not least the upright one even better

the hand of God builds a wall

later a bridge too humans clamber over it

stamp the flower shoot the buck burn the tree

the finger of God writes upon the wall

 

(From:  Landelik, Protea Boekhuis, 2002)

(Tr. by Tony & Gisela Ullyatt)

 

 

OMNIA SOL TEMPERAT

 

This winter the city is lovely

and I know nothing of it.

Only on Sunday afternoon did the sun

fall golden on my windscreen,

the tarred street and the telephone wire.

The plane trees and jacarandas gold

the good sun falls profusely

through apartment windows.

The sparrows and bulbuls peck

at orange dates on the pavement

and the soft sunlight sifts over my city.

The pristine sky is winter-blue

and the sun shines down

glossy on a child’s head.

The sun brings life, the sun brings warmth.

The dear sun shines

upon my people and my land.

 

(From:  Landelik, Protea Boekhuis, 2002)

(Tr. by Tony & Gisela Ullyatt)

 

 

ONEDAYCLEAN

 

In remote small towns you can almost

predict the step-by-step decay:

You drive in streets of patchwork tar

past hawkers of tomatoes, onions, cabbage;

donkeys, goats and bare-necked chickens

graze among building rubble on open plots,

at incomplete houses corrugated iron sheets

rust against sagging fences

and youngsters lean lazily against car wrecks.

Then, suddenly round another corner,

you’re struck breathless

where a curtain of brilliant blue

trails lusciously into a shoddy garden

and like an accidental sign

alters the tone of the whole neighbourhood.

 

(From:  Toevallige tekens, Protea Boekhuis, 2010)

(Tr. by Tony & Gisela Ullyatt)

Martjie Bosman. “Drie keisersportrette” en die Romeinse geskiedenis

Thursday, August 25th, 2011

 

“Drie Keiserportrette” en die romeinse geskiedenis in Nuwe Verse van

N.P. van Wyk Louw

Bron van hierdie artikel, met vergunning van die Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans (TNA), 2009 nr 9 p 3-17

Summary

The sonnet series, “Drie keiserportrette” (Three imperial portraits), from N.P. van Wyk Louw’s fifth volume of poetry, Nuwe verse (1954), illustrates both his interest in Roman history and in eras of historical transition. This article focuses on the historical facts relevant to the third century Roman emperors Aurelian, Diocletian and Galerian that Louw provided in the explanatory notes accompanying the first publication of the three sonnets and the way the historical material is adapted in the poems. It is contended that the sombre, pessimistic view of the transition to Christianity ascribed to the Roman emperors reflects a particular notion of the decline and fall of the Roman Empire that was dominant at the time of first publication. Louw also reflects on other facets of the pre-Christian or the not yet Christian in Nuwe verse, but an unambiguous “development” or transition to Christianity cannot be deduced.  

 

Die leser en student van die gedigte van die groot Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw kom veral voor twee, miskien drie uitdagings te staan. Eerstens is daar die omvang van sy oeuvre: ses digbundels, twee versdramas, ses gepubliseerde hoorspele, ‘n radiofoniese opera en nege bundels letterkundige studies en opstelle. Tweedens kom ‘n mens ook te staan voor ‘n verbasend breë verwysingswêreld, veral in die laaste twee digbundels. En dan is daar nog die berugte “duisterheid” van Louw se gedigte waaroor veral sommige vroeë kritici nie te gelukkig was nie.

Een faset van Louw se breë verwysingsveld is sy kennis van die klassieke letterkunde en geskiedenis, wat sommige gedigte vir lesers met slegs ‘n lekekennis hiervan haas ontoeganklik maak.

 Louw het van jongs af ‘n belangstelling in die Romeinse geskiedenis gehad, soos blyk uit die outobiografiese slotgedig van Nuwe verse (1954), “Beeld van ‘n jeug: duif en perd”, waarin die jong seun vertel hoe hy in die agterplaas van hulle huis in die son in ‘n boek oor die Puniese oorloë sit en lees. Latyn was een van Louw se skoolvakke op Sutherland, sy geboortedorp in die Karoo, waarmee hy op hoërskool (SACS) voortgegaan het nadat die Louws na Kaapstad verhuis het. Latyn was ook een van Louw se hoofvakke vir die B.A.-graad wat hy in 1924 aan die Universiteit van Kaapstad behaal het en volgens sy biograaf kon hy skrywers soos Suetonius en Erasmus met gemak in Latyn lees (Steyn, 1998: 18).

Die belangstelling in die Romeinse geskiedenis sou ook in Louw se skryfwerk tot uiting kom. Die reeks “Gedagtes, liedere en gebede van ‘n soldaat” in Louw se tweede digbundel, Die halwe kring (1937), is deur die aanvanklike resepsie as nasionalistiese gedigte gesien (Mulder, 1947: 159 en Dekker, 1938: 177), maar die gedigte het waarskynlik net soveel met Romeinse soldate as met soldate uit enige ander tyd te make gehad. In die indrukwekkende vierde digbundel, Gestaltes en diere (1942), verwys ten minste een gedig, “Arend” uit die reeks “Drie diere”, na die Romeinse Ryk. In hierdie gedig word die arend, simbool van die Ryk, voorgestel as meedoënloos, kil en vreesaanjaend. Die reeks is tydens die Tweede Wêreldoorlog geskryf en word gewoonlik gelees as grimmige kommentaar op die vergrype van mag. Ook in Louw se laaste bundel, Tristia (1962), is ‘n aantal gedigte wat na die laat-Romeinse Ryk verwys en die titel self verwys na Ovidius se gedigte wat tydens sy ballingskap in Pontus geskryf is.

Louw se uitvoerigste verwerking van die Romeinse geskiedenis vind ons egter in die versdrama Germanicus. Hy het reeds teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog aan die drama begin werk, alhoewel dit eers in 1956 gepubliseer is en in 1957 die eerste maal deur die Nasionale Toneelorganisasie in Bellville opgevoer is.

In hierdie artikel wil ek aandag gee aan die sonnettereeks “Drie keiserportrette” uit Nuwe verse (1954) waarin die laat-Romeinse Ryk ook ter sprake kom. Hierdie verse is aanvanklik onder die titel “Drie laat-heidense keiserportrette” gepubliseer in die tydskrif Standpunte (2 (1), Februarie 1947) en dateer dus uit ongeveer dieselfde tyd as die ontstaan van Germanicus. Afgesien van kursoriese verwysings na die drie sonnette in die aanvanklike resensies van die bundel en later in die literatuurgeskiedenisse, is hierdie gedigte nog net onder die loep geneem deur Rob Antonissen (1979: 153-154), wat aan vormlike aspekte aandag gee, en Truida Lijphart (1985: 111-112), wat die wysigings aan die gedigte sedert die eerste plasing daarvan in Standpunte ondersoek. Die wyse waarop Louw aan die historiese gegewe gestalte gee en die plek van die drie sonnette in die bundelkonteks het nog nie vroeër aandag gekry nie.

 

Nuwe verse

 

Die “Drie keiserportrette” is in 1954 opgeneem in Louw se vyfde digbundel, Nuwe verse. Dié bundel bevat van Louw se bekendste en mees geliefde verse, waaronder “Ons klein en silwrige planet”, “Die beiteltjie”, “Ignatius bid vir sy orde”, “Suiwer wiskunde” en “Beeld van ‘n jeug: duif en perd”. Van hierdie gedigte sou later ruim net soveel aandag in die kritiek kry as van die bekendste gedigte uit die vorige bundels. Daarby het Nuwe verse die vernuwende eienskappe gehad wat deur die oënskynlik neutrale titel in die vooruitsig gestel word, waaronder die aardsheid van die “Twee elegiese verse” en die speelsheid van verse soos “Die beiteltjie” en “Ballade vir Jan se fees”, wat nogal verskil van die hoë erns van gedigte soos “Die hond van God” en “Die swart luiperd” in Gestaltes en diere. Die eietydse resepsie is ook effens onkant gevang deur die eksperimentele aard van “Klipwerk”, wat die onderwerp van ‘n hele aantal artikels sou word (onder andere van C.J.M. Nienaber en Merwe Scholtz).

En tog is Nuwe verse aanvanklik en ook later in die literatuurgeskiedenisse as ‘n bundel van “‘tussenstand’, van oorgang” getipeer (Antonissen, 1955: 278; Kannemeyer, 1978: 414; Olivier, 1998: 627-628). ‘n Mens kry die indruk dat die kritici van oordeel was dat die poëtiese styl nie dieselfde eenheid toon as die vorige en daaropvolgende bundels nie; dat sommige van die gestalteverse eintlik nog teruggryp na Gestaltes en diere, terwyl ander weer vooruitwys na Tristia (Kannemeyer, 1987: 425). A.P. Grové is krities oor die “dowwe kolle” in “Klipwerk”, die “losse bou en tam beweging” van die “Twee elegiese verse”, en die gemis aan die “hoogspanning” en “dramatiese kwaliteit” wat Gestaltes en diere gekenmerk het (1954: 289-291). J.C. Kannemeyer meen dat die weglaat van ontstaansdatums wel daartoe bydra dat die verbande tussen gedigte duideliker na vore kom, maar dat Nuwe verse glad nie die hegte konstruksie van D.J. Opperman se Blom en baaierd vertoon nie. Kortom, dit wil voorkom asof die titel van Antonissen se bespreking, “Tussenstand”, bly vassteek het en Nuwe verse gestempel het as redelik losse versameling verse wat te laat vir Gestaltes en diere en te vroeg vir Tristia was (1987: 425).

Die literatuurhistorikus G. Dekker meen ook dat daar nog gedigte in Nuwe verse is wat as na- of tussenspel beskou kan word (hy verwys slegs na “Die doper in die woestyn”). Vir hom lê die oorgangskarakter van die bundel egter nie soseer daarin dat dit tussen twee groot bundels lê nie (en dit is net met die wysheid van ‘n agternaperspektief dat Nuwe verse “tussen” bundels geplaas kan word), maar in die diep kulturele besinning en besef van kontinuïteit, in die gedigte waarin Louw “die innerlike worsteling verbeeld van groot oorgangstye”, naamlik dié oor Ignatius van Loyola, Thomas van Aquinas en die keiserportrette. Die besinning oor kulturele kontinuïteit, en die jukstaponering van kulture en godsdienste is ook te vinde in die “Twee elegiese verse” en “Beeld van ‘n jeug: duif en perd” (Dekker, 1980: 223-224). Hiermee sluit Dekker aan by Louw se eie slotopmerking in die aantekening wat saam met die verskyning van die keiserportrette in Standpunte gepubliseer is: “Só ingewikkeld is die tye van die groot oorgange, die tye waarin ‘die mensdom in ‘n nuwe sleutel begin droom.'”

Benewens die figure in Nuwe verse wat hulle op die oorgang van een era na ‘n ander bevind, het Louw se belangstelling in sulke figure reeds onder meer na vore gekom in die figure van Koki in die epiese gedig Raka (1941), Dias in die gelyknamige hoorspel (1952) en die Inkwisiteur in “Die hond van God” (Gestaltes en diere). Die sprekendste oorgangsfiguur vir die doeleindes van hierdie artikel is egter Germanicus, omdat Louw se versdrama oor dié figuur soos vroeër genoem, teen ongeveer dieselfde tyd ontstaan het en omdat sowel die drama as die drie sonnette met die oorgang van die heidense na die Christelike godsdiens binne die Romeinse Ryk te make het. Van Germanicus sê Antonissen dat hy “‘n groot en hoogstrewende mens tussen twee wêrelde” is, “in ‘n tydperk van beskawingswisseling, in die ‘Dämmerung’ van die paganistiese terwyl die humanisme wat Christendom heet, uit die agter- en ondergrond opdoem”, wat vergelyk kan word met die Doper- en Keisergedigte en “Beeld van ‘n jeug: duif en perd” in Nuwe verse (1958: 182). Hiermee sluit Antonissen aan by Dekker (1980: 224), wat praat van die “geestelike kentering” in Dias en “Beeld van ‘n jeug: duif en perd” wat “net duskant die Christendom bly aarsel”.

Benewens die gedigte oor oorgangstye binne en na die Christendom, is daar ook ander gedigte in Nuwe verse waarin die religieuse aangeraak word. Dit wil lyk of Louw in die bundel verskillende perspektiewe op die voor-Christelike, die nie-Christelike en die nog-nie-Christelike bied. Hierna sal later kortliks teruggekom word.

In dié verband neem die “Drie keiserportrette” ‘n sleutelposisie in. Nie verniet is die sonnette aanvanklik “laat-heidense keiserportrette” genoem nie: Die keisers Aurelianus, Diocletianus en Galerius het geleef en geheers in die tyd net voordat Konstantyn die Grote die Christelike godsdiens tot staatsgodsdiens verklaar het.

 

Die historiese gegewens

 

Soos P.G. du Plessis (1968: 9-25) aan die hand van Louw se gedig “Cervantes: Hommage à Eugène Marais” uit Tristia aantoon, word by sommige gedigte ‘n bepaalde voorkennis dikwels veronderstel voordat hulle op ‘n heel basiese vlak verstaanbaar is. In die geval van die “Drie keiserportrette” tree die drie eiename wat die gedigtitels vorm op as verwysings na drie historiese figure en na ‘n bepaalde era in die Romeinse geskiedenis waaroor die leser ‘n mate van kennis moet hê om die gedigte te verstaan. Hierdie agtergrondskennis kan redelik maklik nagegaan word, maar Louw het die lesers van Nuwe verse tegemoet gekom deur saam met die eerste verskyning van die gedigte in Standpunte ‘n kort artikel as “Aantekening by ‘Drie laat-heidense keiserportrette'” te plaas.[i] Die historiese verwysings in dié sonnette is dus van ‘n ander orde as die “duister” verwysings in sommige gedigte uit Tristia waar ‘n intertekstuele gesprek vermoed kan word en waar, soos Grové dit stel, “die gedig dus eintlik gesien moet word as ‘n soort, dikwels ietwat verhulde, kommentaar – krities, ironies, sinies – op ‘n bepaalde opgetekende gegewenheid” (1978: 78). In gedigte waarvan die “oerteks” opgespoor kon word, soos die sogenaamde Eusebiusgedigte (waaronder “Keiserlike reskrip”, “Dood van die Heilige Biblis” en “Die groot Tempel”) kon skrywers nagaan op watter wyse die gedig die oorspronklike teks ontgin en daarvan verskil.

Louw het egter nie aangedui wat die bronne vir die aantekeninge by die “Drie keiserportrette” of vir die gedigte self was nie en (tot dusver) is ‘n oerteks vir hierdie gedigte nie gevind nie. Dit is waarskynliker dat die digter van verskeie bronne gebruik gemaak het en omdat die gedigte, soos reeds genoem, ongeveer saam met Germanicus gekonsipieer is, mag dieselfde bronne dalk ter sake wees, alhoewel Germanicus byna drie eeue voor hierdie keisers geleef het. In ‘n brief aan die Nederlandse digter Jan Greshoff noem Louw dat hy vir sy werk aan Germanicus baie lees “in verband met die Rome van die Keisertyd: eers Mommsen, toe Gibbon en Burckhardt; gedurig tussenin Tacitus en Suetonius” (aangehaal in Steyn, 1998: 406). Aangesien Tacitus en Suetonius se geskiedenisse net tot die vroeë keisertyd strek en Mommsen se aantekeninge oor die latere keiserstyd eers in 1983 gepubliseer is, kon hulle nie as bronne vir die drie keiserportrette dien nie. Vermoedelik is Louw se sieninge dus veral beïnvloed deur die Engelse historikus Edward Gibbon wat die opkoms van die Christendom as ondermynend vir die etos van die Romeinse Ryk beskou het (Heather, 2006:14). Gibbon het hom dalk op die spoor gebring van die geskrifte van Eusebius, die hagiograaf van Konstantyn, wat die interteks was vir die gedigte in Tristia waarna vroeër verwys is.

Die ondergang van die Romeinse Ryk hou blykbaar ‘n durende fassinering vir die geskiedskrywing in. Historici het steeds hoë agting vir die geweldige hoeveelheid inligting wat in Gibbon se groot studie, The history of the decline and fall of the Roman Empire (1776), bymekaargebring is, maar dié feite word vandag anders geïnterpreteer. Party historici praat nie meer van ‘n ondergang nie, maar van ‘n oorgang en selfs ‘n voortgang. Veral die Oostenrykse kunshistorikus Alois Riegl het die term Spätantike aan die begin van die twintigste eeu gepopulariseer, terwyl die Britse historikus Peter Brown in sy werk The world of Late Antiquity (1971) aangetoon het dat die tydperk tussen die tweede en agste eeue nie so donker was as wat vroeër geglo is nie, maar groot vernuwing op kulturele gebied meegebring het. En alhoewel die stad Rome in 476 geval het, het die Oos-Romeinse Ryk nog vir ‘n duisend jaar tot en met die val van die stad Konstantinopel bly voortbestaan. Teen 1947, toe die “Drie keiserportrette” geskryf is, was Gibbon egter nog die gesaghebbendste skrywer oor die Romeinse Ryk.

Om terug te keer tot die aantekeninge by die sonnettereeks: Die feit dat die digter self aantekeninge by sy gedigte verskaf, beteken nie dat die leser dit sonder meer kan aanvaar nie. Eerstens kan gevra word of die digter die leser nie buite-om die gedigte wil beïnvloed om die drie keisers in ‘n goeie lig te sien nie. ‘n Bepaalde, goedkeurende houding teenoor die figure spreek naamlik uit die aantekeninge: Louw noem twee van hulle “van die beste en kragtigste manne wat die ou kultuur nog kon voortbring”; Aurelianus het volgens Louw “iets van die outydse opregtheid en stoer deugde van ‘n vroeëre tipe Romein” gehad en Diocletianus het “byna uit wanhoop” die Christene begin vervolg, al het hy “iets van die pragtige verdraagsaamheid en humaniteit van ‘n Antoninus Pius” gehad. Spreek die Gibbon-opvatting dat die Christendom die ou moraliteit van Rome verander het, hier mee?

Ook ter sake is wat uit die magdom beskikbare historiese gegewens vir hierdie aantekeninge (en natuurlik vir die gedigte self) gekies is en wat nie, en of die aantekeninge wel genoeg inligting aanbied vir die verstaan van die gedigte. Hier is byvoorbeeld geen verwysing na die aanslae van die Germaanse stamme op die grense van die Ryk in die tyd van hierdie keisers nie, ook nie na die inherente swakheid van ‘n Ryk wat so groot geword het dat dit kwalik meer beheer kon word nie. Daarenteen kom die woord “Christene” of “Christendom” nie minder nie as vyf maal in die kort aantekeninge voor. Die opkomende Christendom, wat reeds in die eerste sin van die aantekeninge ter sprake kom, kan dus beskou word as dié faktor in die “groot oorgange” waarop Louw hier wil fokus. Die aantekeninge bepaal in ‘n sekere sin die klimaat waarbinne die drie sonnette verstaan moet word.

‘n Derde belangrike saak is die wyse waarop Louw die portrette aanbied. In die aantekeninge is hy die kyker van buite na die keisers; in die gedigte is die keisers self aan die woord en gee hulle húl kyk op die tyd waarin hulle leef. Indien ons die term “portrette” aanvaar, bied Louw die gedigte dus eerder as “selfportrette” aan waarin die keisers in hulle blik op die wêreld onbedoeld iets van hulleself prysgee.

 

Die “Drie keiserportrette”

 

Die tydperk wat in hierdie gedigte ter sprake is, is 270 toe Aurelianus aan bewind gekom het, tot 311, toe Galerius oorlede is. Dit was ‘n era van relatiewe stabiliteit ná ‘n paar dekades van groot onrus teen die middel van die derde eeu, wat later as die Krisis van die Derde Eeu bekend geword het.

Hierdie krisis was deels die gevolg daarvan dat keiserlike opvolging nooit eenduidig vasgestel is nie en wanneer ‘n bepaalde keiser nie ‘n vanselfsprekende dinastieke opvolger gehad het nie, groot onsekerheid en soms selfs anargie na sy dood geheers het. Ná die moord op keiser Alexander Severus in 235 het so ‘n tyd van politieke onrus gevolg. Verskeie Romeinse generaals het probeer om beheer oor die Ryk te kry, wat teen 258 gelei het tot twee afsplinteringe van die sentrale Italiese deel, naamlik die westelike provinsies Brittanje, Gallië en Spanje wat die Galliese Ryk genoem is, en die provinsies Sirië, Palestina en Egipte wat die Palmireense Ryk gevorm het. Talle aanvalle deur Germaanse stamme oor die Ryn en die Donau en aanvalle vanuit die Sassaniese Ryk aan die oosgrens van die Romeinse Ryk het gevolg. Teen 268 is ‘n Gotiese aanval egter gestuit en onder Claudius II is die onrus tot ‘n mate besweer en onder Aurelianus het relatiewe bestendigheid weer na die verskillende provinsies teruggekeer. Ná hierdie krisis sou die westelike deel van die Ryk nog vir meer as ‘n eeu bly voortbestaan, terwyl die oostelike deel van die Ryk nog byna ‘n duisend jaar lank oorleef het.

Die onsekerheid waarna in die beginreëls van al drie die sonnette verwys word, moet dus op iets anders as die staatkundige bestel dui.

 

Aurelianus (270-275 n.C.)

 

Aurelianus was van Illiriese afkoms (soos sy voorganger Claudius II en ook Diocletianus na hom) en was ‘n doeltreffende heerser, besiel met ‘n diep gevoel van verantwoordelikheid (Delorme 1981: 221). Volgens Louw se verklarende aantekeninge het hy “iets van die outydse opregtheid en stoer deugde van ‘n vroeë tipe Romein” gehad.

Met “vroeë tipe Romein” verwys Louw waarskynlik na die tyd van die Romeinse Republiek, voor die imperiale era. Die deugde waarvan Louw praat (waarskynlik in aansluiting by Gibbon – vgl. Heather, 2005: 14), het nie verband gehou met enige godsdienstige oortuiging nie. Dit het dinge ingesluit soos “integrity, rectitude, honesty and purity of manners” (Heather, 2005: 17), deugde wat deur ‘n besondere soort opvoeding oorgedra is en wat kenmerkend van die patrisiërklas was.

Nóg Aurelianus nóg Diocletianus het egter uit die Romeinse patrisiërklas gestam en daar kan net bespiegel word of hulle werklik hierdie soort deugde besit het. Die feit dat hulle uit die boerestand gestam het, moet die hedendaagse leser egter nie laat dink dat hulle demokraties verkose leiers was nie. Hulle was soldate wat deur die range gevorder het en by die dood van hulle voorgangers deur aanhangers tot keiser uitgeroep is. Hulle het dus byna met militêre staatsgrepe aan bewind gekom en was outokratiese heersers: Die Romeinse senaat het in die imperiale era (27 v.C. tot met die val van Rome in 476) feitlik geen gesag meer gehad het nie en eintlik net ‘n simboliese rol gespeel.

Aurelianus het die militêre wêreld verstaan en dit gebruik. Nadat hy keiser geword het, het hy eers die onrus op die grense van die Ryk besweer deur die Germaanse stamme te onderwerp en terug te dryf, die Palmireense wegbreekryk en Gallië weer met die groter ryk te verenig en die Gote tot oor die Donau te dryf. Die voortslepende bedreiging van die Germaanse stamme het die stad Rome self kwesbaar gemaak en tydens Aurelianus se heerskappy is dus begin met die bou van ‘n muur om die stad. Benewens ekonomiese en administratiewe hervormings wou Aurelianus ook die eenheid van die Ryk wat in die derde eeu byna verbrokkel het, herstel. Hy het dus die Sol Invictus-kultus, die kultus van die Onoorwinlike Son, probeer verstewig. Die kultus kom oorspronklik uit die ooste en was veral onder die Romeinse soldate gewild. Hiermee wou Aurelianus ‘n eenvoudige, verenigende simbool daarstel vir alle inwoners van die Ryk, wat reeds ver buite die oorspronklike gebied uitgebrei het (Ferguson, 1987: 779). Deur een kultus bo ander te verhef, is reeds wegbeweeg van die tradisionele panteon in die rigting van ‘n monoteïsme. Aurelianus self was egter verdraagsaam teenoor ander godsdienste en het nie self aanspraak op goddelikheid gemaak soos ander keisers voor hom nie (Ferguson, 1987: 776).

In teenstelling met die sterk, besliste keiser wat uit die historiese feite blyk, word Aurelianus in die gelyknamige sonnet in die eerste reël voorgestel as iemand wat bewus is van ‘n allesoorheersende onsekerheid (“Dit wankel alles.”). Hy is egter ook bewus van sy verantwoordelikheid om die onsekerheid te probeer afweer, om die wankelende muur met sy eie hande te probeer stabiliseer – ‘n verwysing na die nuwe muur om Rome wat deur hom laat bou is. Dit is die enigste toespeling op fisiese bedreiging in die gedig en sou gelees kon word as verwysing na die Germaanse aanslae op die Ryk, alhoewel Louw in die aantekeninge geen melding hiervan maak nie. Die muur as metafoor vir die beskerming van die stad Rome is betekenisvol: Alhoewel Aurelianus die stad self nog wou beveilig, sou Rome ná sy bewind steeds minder belangrik word en het volgende keisers stede soos Antiochië, Nicomedia en uiteindelik Konstantinopel verkies as administratiewe sentrum van die Ryk.

“Hande” word in reël 5 herhaal en weer in die konteks van behou of keer; tog word deur “die lae tyd” gebyt aan die hande, word die pogings om in stand te hou dus ondermyn. In reël 6 kom die verval van die burgerlike deugde waaroor Gibbon dit gehad het ter sprake. Slegs enkeles (“eensames”) koester nog die deugde; adel en eer is nie noodwendig meer die eienskappe van die aristokrasie nie, maar van dié wat besef dat die tradisionele godsdiens verdwyn – die gode het vervreemd geraak en het nie meer betekenis vir al die onderdane van die Ryk gehad nie (r. 7-8). Woorde soos “wankel”, “waan”, “klaarverdrinktes”, “vervreemde gode” en “verdwyn” gee aan die oktaaf van die sonnet ‘n bykans wanhopige klank.

Daarenteen verleen woorde soos “helder”, “enkeld”, “sekerhede” en “eenvoud” ‘n ietwat positiewer toon aan die sekstet. Aurelianus spreek die voorneme uit om iets in die plek van die “vervreemde gode” te stel, om iets aan die “wilde Ryk” (wat moontlik as verwilderd gelees kan word) te gee. Dan volg die inspeling op Aurelianus se steun aan die kultus van die Son in die plek van die ou gode. Volgens Louw se aantekeninge het die Sol Invictus-kultus die stryd tussen die lig en die duisternis as sentrale oortuiging gehad (1947: 71). Hier word egter nie van stryd gepraat nie, maar van die herstel van die eenheid van “die geskeie twee”, ‘n gedagte wat versterk word deur die herhaling van konsepte wat op eenheid betrekking het: “enkelde woorde”, “eenselwig”, “eenvoudig”. Wat Aurelianus hom voorneem om aan die Ryk te bied, moet egter nie net konsepte wees nie, maar iets sigbaars en helders “in die oog van die soldaat”: “beelde van die son”, die sekerheid van die dagbreek.

In hierdie eerste sonnet van die reeks kom die idee van onsekerheid en verandering dus reeds sterk na vore, maar by hierdie keiser is daar tog nog steeds die wil om die veranderinge te stuur en om die onsekerhede teen te werk.

 

Diocletianus (284-305 n.C.)

 

In die aantekeninge noem Louw hierdie keiser een van die magtigste figure van die Oudheid (1947: 71). Hy is in Dalmasië gebore en was van nederige afkoms, maar verder is daar min oor die eerste 40 jaar van sy lewe bekend. Hy maak opgang as militêre leier en word na die dood van keiser Carus en sy seun Numerianus deur die soldate tot keiser uitgeroep.

Tydens sy heerskappy het Diocletianus verskeie hervormings op politieke, administratiewe en ekonomiese gebied deurgevoer. Hy het die uitgestrekte Ryk in militêre streke verdeel en hulle bevelvoerders in die beheer van die Ryk opgeneem. In 286 stel hy Maximianus as medekeiser oor die gebied Gallië aan, terwyl hy self die oostelike deel van die Ryk beheer (albei met die titel Augustus). In 293 word Constantius Chlorus as onderkeiser vir Maximianus en Galerius as Diocletianus se onderkeiser in die ooste aangestel (albei met die titel Caesar). So het die sogenaamde Tetrargie ontstaan, waardeur aansienlik beter beheer oor die verskillende dele van die Ryk uitgeoefen kon word..

Soos Aurelianus wou Diocletianus die morele eenheid van die Ryk herstel (Delorme, 1981: 221, 224). Hy self was ‘n getroue aanhanger van die Romeinse panteon. Dit het hom in botsing met ander godsdienste gebring, aanvanklik veral met die Manicheïsme, ‘n Persiese godsdiens wat die stryd tussen lig en duister as sentrale tese gehad het. In 302 vaardig Diocletianus die vervolging van die Manicheërs uit, en kort daarna sou hy die vervolging van die Christene instel.

Volgens Gibbon ([1793]1903, vol. 3: 66) was dit eintlik Maximianus en Galerius wat Diocletianus aangespoor het om ook die Christene te vervolg – vandaar Louw se opmerking dat Diocletianus byna onwillig was om die vervolging af te kondig. (Die Christene se gehoorsaamheid aan ‘n ander gesag as dié van die staat het vrese vir die ontwikkeling van ‘n staat binne ‘n staat laat ontstaan.) Ná insidente waar Christen-soldate die wapen neergelê het, vaardig Diocletianus sy “Edik teen die Christene” op 24 Februarie 303 uit. Kerke is vernietig, geskrifte verbrand en leiers tereggestel. Daar was egter wye teenkanting teen die vervolging selfs onder die heidene en die meeste Christene het ontkom aan die vervolging.

As gevolg van voortslepende siekte abdikeer Diocletianus in 305 en trek hom terug na sy paleis in Salona (die huidige Split) aan die Adriatiese See, waar hy hom aan groenteboerdery wy. Hy sterf op 3 Desember 313.

Die eerste tien reëls van Louw se sonnet oor Diocletianus word gewy aan die besinning van die keiser oor die tyd waarin hy leef (“my eeu”, r. 3) en wat hy as ‘n era van toenemende donkerheid ervaar. Dit begin, soos die voorafgaande sonnet, met ‘n stelling oor die omvattendheid van die verandering. Die somberheid van die keiser se siening in die gedig staan in ironiese kontras met die sukses wat hy op bykans alle terreine van sy heerskappy kon behaal. Sy pessimisme oor die ontwrigting van die eeu moet dus op ‘n ander terrein lê: Dit het te make met “toegesulte breine” (r. 4) wat ‘n keuse wil afdwing vir ‘n verhaal wat woorde gebruik wat vreemd op die oor val van ‘n magtige, trotse leier van ‘n groot ryk.

Die kontras tussen lig en donker kom reeds in die eerste reëls van die gedig aan die bod (“Alles wat donker is, het krag. Die lig / is heerlik”). Die lig, wat hier gelees kan word as die lig van die Romeinse beskawing en Diocletianus se eie opvattinge, is “stil” (r. 2) en nietig. Dit kan niks meer verander nie (“niks roer”, r. 3) en is so lig soos ‘n veer wat op water dryf (r. 14). Die donker het krag (r. 1), is magtig (r. 9) en is die omvattende medium (r. 14). Die donker word hier ondubbelsinnig met die ontwrigtende Christendom geassosieer deur verwysings na “die een, dun verhaal” en die “ander woorde: ootmoed, sonde, val -“. Teenoor die rykdom van die Romeinse panteon (“hierdie ryk heelal”, r. 5) staan die geslotenheid van die nuwe opvattings. Vir Diocletianus lê die sukses van die Christendom daarin dat hulle weet hoe om op die basiese, die lae ‘n beroep te doen: Hulle “ken die kuns om áf te reik”. Die elemente van die Christelike geloof wat hier genoem word, naamlik die bloed van Christus en sy sterwe wat deur die apostel Paulus vergelyk is met saad wat in die grond val, saam met die “lentenagte en grotte” het die krag van die primordiale.

Die wending in hierdie sonnet kom in die laaste vier reëls, waar Diocletianus dit oor sy eie lot het en dit betreur dat hy nie ‘n waardige oudag kan hê nie, maar moet boet daarvoor dat hy getrou gebly het aan die waardes van die lig, al moes hy leer hoe onbeduidend dit geword het. Die gedig eindig ook met die duister: Wat die ou keiser dink, word omsluit deur donkerte. Die eens magtige leier het in sy eie oë ‘n kneg geword.

 

Galerius (305-311 n.C.)

 

Louw noem Galerius “een van die aktiefste leiers van die verset teen die nuwe wêreldbeskouing”. Hy was ‘n Traciër, ook uit die boerestand, wat opgang as soldaat maak. Hy word in 293 deur sy skoonvader Diocletianus as lid van die Tetrargie aangestel met die verantwoordelikheid vir die Illiriese provinsies van die Romeinse Ryk.

Soos vroeër genoem, was dit Galerius wat die senior keiser Diocletianus aangemoedig het om die Christene te vervolg omdat hy verwag het om politieke voordeel daaruit te trek. Die gevolg was die edik van 24 Februarie 303 waarna reeds bo verwys is. Aan die einde van sy lewe moes Galerius egter toegee dat die vervolging nie daarin geslaag het om die Christene na die tradisionele geloof terug te bring nie en in 311, toe hy self senior keiser was, het hy die edik teruggetrek.        

Met die aanvangswoorde van Louw se sonnet oor Galerius, “Die kring het nie gebreek”, word dadelik verwys na die onsuksesvolle poging om die Christene terug te bring na die ou godsdiens (volgens Lijphart (1985: 112))verwys “kring” by Louw byna altyd na iets geslote). Daarna word die woord “breek” nog drie maal gebruik, en al drie kere in verband met die keiser self en sy besef dat dit hy is wat sal moet toegee, dat dit sý wil is wat gebreek gaan word. Die opposisie van die kring en die gevange keiser vorm die spil van die gedig waaromheen ‘n hele reeks ander opposisies aangetoon kan word: die vlugtige gebaar wat verstar het (r. 2-3); die sterwe wat “‘n stelsel” word in die Christendom (r. 7) teenoor die verwagting van sy eie sterwe (r. 9); die ryk van nederige dinge (r. 11) teenoor die ryk van trots (r. 13) en die “swart bronne” waaruit die nuwe ryk ontstaan het (r. 12) teenoor die glansende wit planeet (r. 3-4). Die Christendom, wat aanvanklik na iets nietigs (‘n gebaar) en van verbygaande aard (vlugtig) gelyk het, het ontwikkel tot ‘n hele stelsel. Waar die lig in die vorige sonnet aan die ou tradisies behoort het, het die nuwe, die verstarde gebaar, nou glansend geword, “‘n wit planeet” geword, al het dit uit die donker ontwikkel (r. 12). Met “áls wat nederig is” word waarskynlik gesinspeel op die feit dat die Christendom aanvanklik veral aanklank by die onderste lae van die samelewing gevind het.

Hierdie teenstellings betrek die leser by Galerius se worsteling om tot die besluit te kom wat hy kort voor sy dood geneem het. Hier word gesuggereer dat dit vrees vir die wraak van die nuwe God is wat hom teen sy eie dood laat stry (r. 7-9). In die sekstet verwoord Galerius dan wat vir hom die vernederende is: om magteloos toe te kyk hoe die Christendom wat hy wou teenstaan, “opstoot oor die wal van hierdie ryk van trots”. Al wat vir hom oorbly, is die haat.

Hierdie drie sonnette is inderdaad wat die hooftitel sê: Dit is portrette, momentopnames waarin iets wesenliks van die drie figure saamgevat word. Binne die kort bestek van die sonnet word die veranderinge uitgebeeld wat die drie keisers rondom hulle waarneem: die wankeling van die ou opvattinge (“Aurelianus”), die ontwrigting van die eeu (“Diocletianus”) en die opstoot van die nuwe (“Galerius”). Dit is asof die drie keisers in drie verskillende rigtings kyk: terug na wat was, na die hede en vorentoe, na die toekoms, en ‘n mens word herinner aan die beeldhouwerk van die Tetrargie wat Diocletianus ingestel het waarin die vier medekeisers na verskillende kante kyk.

Wanneer die drie sonnette naas mekaar geplaas word, word ‘n bepaalde progressie betreffende drie sake duidelik. Eerstens is daar die toenemende onmag van die drie keisers (Antonissen, 1979: 153), nie omdat hulle van hul politieke mag moes prysgee nie, maar omdat hulle al minder in staat was om die verandering van religie wat hulle sien kom het, te keer. By Aurelianus is daar nog die wil om iets te doen en ‘n alternatiewe godsdiens voor te staan, soos dit in die sekstet van die Petrarkaanse sonnet uitgedruk word: “Ek wil die wilde Ryk iets helders gee” (r. 9). By Diocletianus is daar reeds die idee van dwang, van die verlies van keusevryheid. In r. 4 is daar sprake van “die toegesulte breine wat vir ons dwing om … te kies” en in die laaste vier reëls het die ou keiser onmagtig geword: Hy “moet … boet” (r. 11), hy het ‘n kneg geword (r. 13) en moet in sy ouderdom nog leer sterf (r. 13). In “Galerius” kom die onmag reeds in die eerste reël ter sprake: “Ek sit gevang.” Uiteindelik word sy magteloosheid dan in soveel woorde in die laaste reël uitgesê.

Tweedens demonstreer Louw die groter wordende rol van die Christendom in die denkwêreld van die Romeinse Ryk. In “Aurelianus” kom nie eers ‘n enkele verwysing na die Christendom voor nie, slegs maar ‘n bewustheid van onsekerheid en miskien verval. In “Diocletianus”, daarenteen, is daar die duidelike inspelings op die verhaal van Christus se sterwe en opstanding. In die laaste sonnet neem Galerius se worsteling met die opvattings en opkoms van die Christendom byna die hele gedig in beslag en is daar feitlik geen gedagte meer aan die ou opvattings nie, behalwe die verwysing na die “ryk van trots” (r. 13). Die Christendom word oor die drie gedigte heen ‘n onstuitbare mag.

Derdens demonstreer die drie sonnette ‘n ommekeer in die opvatting van die lig. In “Aurelianus” behoort die lig aan die keiser: Hy het so ‘n mate van beheer daaroor dat hy “iets helders” wil teruggee aan die Ryk. Diocletianus, daarenteen, vrees dat die duister die lig, waarvan hy ‘n kneg is, gaan oorweldig. Die lig van die Romeinse beskawing word bedreig deur die donkerheid van die nuwe godsdiens. In die derde sonnet het die nuwe godsdiens self die lig, die wit planeet geword en is die gevreesde verandering voltrek.

Die sonnette word aangebied as die gedagtes van die keisers, en werk hoofsaaklik met konsepte soos verandering, verval, onsekerheid, donkerte en magteloosheid. Ander historiese feite rakende die keisers speel byna geen rol nie. Terugskouend is dit dan duidelik dat Louw met die aantekeninge die interpretasie van die sonnettereeks wel in ‘n bepaalde rigting stuur. Die klem wat in die aantekeninge op die opkoms van die Christendom gelê word, maak dit moeilik vir die leser om ‘n ander konteks vir die verset, die wanhoop en uiteindelik die magteloosheid van die laaste keiser in die reeks te oorweeg, al sou die aanslag van die Germane of die Manichese stryd tussen lig en duister dalk ook in elemente van die gedigte gelees kan word. Deur hierdie keisers se innerlike worsteling aan die leser voor te hou, personifiseer die digter die laaste gedagte in die verklarende aantekeninge oor die ingewikkeldheid van oorgangstye.

 

Die goddelike in Nuwe verse

 

Daar is reeds gewys op die ander gedigte oor oorgangsfigure in Nuwe verse: Ignatius van Loyola, Thomas van Aquinas, Johannes die Doper – almal figure wat met die Christendom verband hou. Maar is die handjie vol gedigte genoeg om die bundel as een van kulturele oorgange te bestempel? En is daar sprake van enige ander oorgange as na en binne die Christendom?

Dekker is waarskynlik reg wanneer hy die idee van historiese oorgange in die bundel in verband bring met die jukstaponering van kulture en godsdienste soos dit in “Twee elegiese verse” en “Beeld van ‘n jeug: duif en perd” verwoord word (1980: 223-224). Oorgange word nie net in enkele figure vergestalt nie, maar ook in die naas mekaar plaas van verskillende figure en konsepte, waarvan die religieuse opmerklik is. Uitgaande van die demonstrasie van die groeiende belangrikheid van die Christendom in die “Drie keiserportrette” kan ‘n mens tog die verkenning van verskillende maniere om oor die goddelike te besin, as één besondere lyn in Nuwe verse raaksien. Die digter stel as ‘t ware ook ‘n galery portrette van die goddelike ten toon, sonder om ‘n duidelike keuse uit te oefen.

Dit is asof Louw op verskillende terreine ‘n antwoord soek op die vraag “Maar watter van die gode sal ek prys” wat in die sonnet “Clifton” gestel word. Later in die gedig word geantwoord: “Ek weet dit nie; maar iets moet goddelik wees …” Soos reeds deur meer as een skrywers aangetoon is (o.a. Degenaar, 1962: 47 e.v., Jonker, 1995), word die begrip “God” by Louw in verskillende betekenisse gebruik en dit is hier ook so. In twee van die kort gedigte waarmee die bundel open, word selfs van “gode” gepraat, naamlik in “Ons klein en silwrige planeet” en “Die gode is groot en eensaam in die nag”. “Clifton” het eers die titel “Griekse digter” gehad, wat ‘n mens laat wonder of hier nie dalk op die Griekse en Romeinse panteon gesinspeel word nie. In die twee “ambag”-sonnette kom die begrip “God” weer nader aan ‘n filosofiese betekenis, soos dit ook in vroeër bundels te vinde is.

‘n Andersoortige voor-Christelike perspektief word daargestel deur die lang gedig oor Johannes die Doper, “Die doper in die woestyn”, wat die keiserportrette onmiddellik voorafgaan en wat myns insiens die belangrikste teenhanger van die keisers as oorgangsfigure na die Christelike verteenwoordig. Soos verwag kan word, staan die verwagtinge van die spreker, Johannes die Doper self, oor die koms van Christus in skerp teenstelling met die sombere visie op die koms van die Christendom in die keiserportrette. Waar die keiserportrette sterk op die konseptuele fokus, gee “Die doper in die woestyn” ‘n baie konkrete voorstelling van ‘n landskap deurstraal met die goddelike teenwoordigheid: “Iets het in hierdie aarde in / met vlam geslaan: die rots is wit, / die sand is wit verborge vuur / die watere is heiliger / en reik na ons op”.

Van die goddelike is daar egter byna geen sprake in die afdeling “Klipwerk” met sy kort, volkse verse nie. Dit is asof Louw hier ‘n Suid-Afrikaanse pre-Christelike wêreld aan die leser voorhou, soos hy self later in Rondom eie werk gesê het. In die “Twee elegiese verse “Arlésiennes” en “Meretrix Tarraconensis” word ‘n Europese kulturele wêreld geteken waarin die Christendom maar ‘n klein onderdeel is, “‘n episode en ‘n agonie.”

En dan, in die groot slotgedig van die bundel, “Beeld van ‘n jeug: duif en perd”, vergestalt die jong seun die moeilike keuse vir één manifestasie van die goddelike. Voor sy geestesoog speel beelde uit die geskiedenis van die Romeine, die Asteke en die Bybel af en word vervleg met die gebeure in die sondeurdrenkte agterplaas: duiwe wat vry rondvlieg en ‘n hings wat wil uitbreek. Die seun teken drie simbole in die gruis: Romeinse swaard, Asteke-pyl en Christelike kruis, maar aarsel om een van hulle te kies.

Anders as die “Drie keiserportrette” toon die volgorde waarin die gedigte waarin die goddelike ter sprake kom in die bundel geplaas is, nie ‘n duidelike ontwikkelingslyn nie, nóg in terme van die ontwikkeling van ‘n godsbegrip, nóg in historiese sin (die gedigte oor Ignatius van Loyola en Thomas van Aquinas, byvoorbeeld, is vóór die Romeinse keisers in die bundel geplaas). Soos die seun in die agterplaas die simbole van verskillende opvattinge naas mekaar plaas, so lê die gedigte waarin daar sprake is van die gode, God of Christus in jukstaposisie in die bundel. By elke herlees van een van dié gedigte spreek die ander mee, maar of die sprekers terugkyk, vorentoe kyk of opkyk, dit gee die bundel nie so maklik prys nie.

 

Bronne

Antonissen, Rob. 1955. Tussenstand. Standpunte, Februarie. Opgeneem in Nienaber, 1966: 269-279.

Antonissen, Rob. 1958. Drie dramas – drie wêrelde. Standpunte, Januarie-Februarie Opgeneem in Antonissen, 1963: 176-188.

Antonissen, Rob. 1963. Kern en tooi. Kaapstad: Nasou.

Antonissen, Rob. 1966. ‘n “Klinckert” af en toe. Standpunte, Junie. Opgeneem in Antonissen, 1979: 146-156.

Antonissen, Rob. 1979. Verkenning en kritiek. Kaapstad: HAUM.

Biezen, Jan (red.). 1985. Voortbestaan in gerechtigheid: dichten en denken van N.P. van Wyk Louw. Leiden: Dimensie.

Brown, Peter. 1978. The making of Late Antiquity. Massachusetts: Harvard University Press.

Degenaar, Johan. 1985. De betekenis van N.P. van Wyk Louw voor mijn eigen denken. In Biezen,1985: 68-80.

Delorme, Jean. 1981. The ancient world. In Dunan, 1981: 41-228.

Dekker, G. 1938. ‘n Belangrike nuwe digbundel. Die Huisgenoot, 11 Maart. Opgeneem in Nienaber, 1966: 168-178.

Dunan, Marcel (ed.). 1981. Larousse Encyclopedia of ancient and medieval history. London: Hamlyn.

Du Plessis, P.G. 1968. Die verwysing in die literatuur. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Ferguson, John. 1987. Ruler-worship. In Wacher, 1987: 766-784.

Gibbon, Edward. [1776] 1906. The history of the decline and fall of the Roman Empire, Edited by J.B. Bury with an introduction by W.E.H. Lecky. 1906. New York: Fred de Fau & Co.

Grové, A.P. 1954. Resensie van Nuwe verse. Opgeneem in Nienaber, 1966: 287-294.

Grové, A.P. 1975. Die dokument agter die gedig. Pretoria: Academica.

Grové, A.P. 1978. Twee walvisgedigte. In Grové, A.P. 1978. Dagsoom: Letterkundige opstelle uitgegee by geleentheid van die skrywer se sestigste verjaardag op 10 Junie 1978. Kaapstad: Tafelberg.

Heather, Peter. 2005. The fall of the Roman Empire: A new history. London: Pan Macmillan.

Jonker, W.D. 1991. “Onmiddellik voor God” Gedagtes van ‘n teoloog oor ‘n sentrale perspektief in die werk van N.P. van Wyk Louw. www.uj.ac.za/EN/Faculties/humanities/departments/afrikaans/NPvanWykLouw/Pages/vorigelesings.aspx. Besoek op 7/9/2010.

Kamm, Anthony. 1995. The Romans: An introduction. London: Routlegde.

Lijphart, Truida. 1985. In die werkswinkel. In Biezen, Jan (red.). 1985. Voortbestaan in gerechtigheid: Dichten en denken van N.P. van Wyk Louw. Leiden: Dimensie.

Louw, N.P. van Wyk. 1947. Aantekeninge by “Drie laat-heidense keiserportrette.” Standpunte 2(1), Januarie: 71.

Louw, N.P. van Wyk. 1979 (1954). Nuwe verse. Kaapstad: Tafelberg.

Mulder, H.A. 1937. Resensie van Die halwe kring. Die Suiderstem, 14 Desember. Opgeneem in Nienaber, 1966: 156-163.

Nienaber, P.J. (samest.). 1966. Beeld van ‘n digter. Aangebied aan N.P. van Wyk Louw by sy sestigste verjaardag deur Nasionale Boekhandel Beperk. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Olivier, Gerrit. 1998. N.P. van Wyk Louw. In Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis 1. Pretoria: J.L. van Schaik.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw. ‘n Lewensverhaal. Kaapstad: Tafelberg.

Wacher, John (ed.). 1987. The Roman World, Vol II. London: Routledge.   

 


[i] Die aantekeninge uit Standpunte 2(1): 71 word in die geheel hier onder aangehaal.

AANTEKENING BY “DRIE LAAT-HEIDENSE

KEISERPORTRETTE”

Ongelukkig kan ‘n mens nie meer aanneem dat die geskiedenis van die Oudheid en van die opkomende Christendom algemeen bekend is nie.

Aurelianus, Diocletianus en Galerius was drie Romeinse keisers uit die tyd onmiddellik voordat die Christendom onder Konstantyn die Grote en sy opvolgers die Ou Wêreld verower het. Die kultuur van die Oudheid was aan’t sterwe: maar vir baie mense het die Christendom – nie lank tevore nog ‘n obskuur Asiatiese godsdiens van slawe en van die proletariese massas van die stede – voorgekom as ‘n bedreiging van alles wat beskawing was.

Twee van hierdie keisers was van die beste en kragtigste manne wat die óú kultuur nog kon voortbring.

Aurelianus (keiser 270-275 n.Chr.) het uit die armste boerestand opgekom en iets van die outydse opregtheid en stoer deugde van ‘n vroeëre tipe Romein – ‘n Camillus of ‘n Fabricius – besit. Hy was waarskynlik aanhanger van die kultus van die Sol Invictus (die Onoorwinlike Son), die eenvoudige soldategodsdiens wat die stryd tussen die Lig en die Duisternis as sentrale oortuiging gehad het, en wat byna die godsdiens van Europa geword het.  Die sonnebeeld kom op die muntstukke van Aurelianus voor.

Diocletianus (keiser tussen 284 en 305, toe hy afgetree het en, stil of verbitterd, in sy groot paleis aan die Dalmatiese kus gaan woon het) is een van die magtigste figure in die Ou Geskiedenis. Hy was ook aanhanger van die Sol Invictus. Hoewel later – byna uit wanhoop – ‘n vervolger van die Christene, was hy tog in sy beste dae ‘n man wat iets van die pragtige verdraagsaamheid en humaniteit van ‘n Antoninus Pius in die keiserskap wou invoer.

Galerius was een van die aktiefste leiers van die verset teen die nuwe wêreldbeskouing en het as onder-keiser van Diocletianus heelwat met die vervolging van die Christene te doen gehad: maar voor sy dood is hy verplig om sy verset te staak en vrye loop aan die nuwe beweging te gee.

Só ingewikkeld is die tye van die groot oorgange, die tye waarin die “mensdom in ‘n nuwe sleutel begin droom.”

Amanda Lourens. Anderkant Neverland

Friday, June 3rd, 2011

Dit is met dieselfde gevoel as op skool toe jy jou projek ’n paar dae laat gaan inhandig het – beskaam en duik-duik net ingeval jy te veel aandag trek – dat ek vandag my virtuele paadjie stap om my erg agterstallige blog te kom aflewer.  Mei het gesorg dat ek stigtelik besig is met dinge soos vraestelle nasien, slypskole organiseer en kunswedstryde trotseer, met die gevolg dat ek smag na tyd om nuwe dinge te lees en te bedink. 

Uit die aard van die genre is poësie iets wat jy in klein dosisse kan geniet – wonderlik dus wanneer die tyd min is en die salige kry-jou-sit-met-’n-Winterbach-roman gewoon onmoontlik is. Ek het dus midde-in die dol tyd tog daarby uitgekom om Martjie Bosman se Toevallige tekens (lankal gekoop, maar voorlopig op die bedkassie geliasseer) behoorlik te lees.  En die lieflike mineurtoon van haar verse (haar eie beskrywing – vergelyk haar onderhoud met Lucie Möller) bly by my deur die dae vol lysies wat af- en weggewerk moet word.

Alhoewel die bundel as geheel sterk en deurgekomponeerd is met ’n eie stem wat onwillekeurig van die groot stemme in ons tradisie (Opperman, Jonker) oproep, het die eerste afdeling met die verse oor die misdeeldes op die Afrika-kontinent my aangegryp, ontstel, ontroer en net weer laat besef hoevéél ellende moontlik is. 

Ek deel graag die gedigte “Mosambiekse vlugteling I” en “Mosambiekse vlugteling III”- beide gedigte waarin twee vroue se lyding aan ons voorgehou word:

 

Mosambiekse vlugteling I

 

Die vrou met die mond

waarin die tande skeef skuil,

met hande groot soos dié van ’n man,

die vrou met die benerige lyf,

sy wat al haar tongval

laat vaar het vir ’n lap grond

en ’n dagloon by die kliniek,

sy praat vrymoedig oor skoolgeld,

die kinders se pa wat lankal weg is

en die mielies op haar werf.

Maar as ek vra na haar geboorteplek

draai haar oë weg en min woorde

gee sy vir die tolk: Almal dood.

Gevlug. Oorlog sleg.  Nooit weer terug.

 

Mosambiekse vlugteling II

 

Sophie Lubisi, donker en klein,

kom na die kliniek vir die Depo,

want na die tweede bevalling

weet sy alte goed hoe die pa’s

maklik van die toneel kan verdwyn.

Haar broer sorg op die suikerrietland

daagliks in die sweet van sy aanskyn

vir bietjie koffie en suiker en melk.

Die huishouding kan darem ook eet

van die mielies en marog wat hulle plant

op die stuk grond hier by Block B

wat hulle gekry het na wie weet hoe lank

in die byna vergete vlugtelingkamp.

Wanneer al die tale tussen ons faal,

sien ek in die oop hals van haar rok

die donker kneusings van ’n ander verhaal.

 

Natuurlik bring dit vir ’n kwelgees soos ek weer al die vrae oor die hoekoms, oor die sin of doel daarvan na vore, maar ek vermoed dit is nie wat die digter met haar verse beoog het nie.  

Wat sy dalk wel beoog het, is stellig nie vir ons as lesers om summier oor te besluit nie. Wat ek wel uit die gedigte gehaal het, was die gedagte van die ontoereikendheid van taal om lyding werklik te verwoord, en dat lyding dalk vra om op ’n heel ander manier begryp te word.  Swaarkry laat naamlik die taal verskraal tot slegs frases wat ’n roete van lyding en ontheemding in die eerste gedig karteer; taal word egter heeltemal afgebreek in die tweede gedig sodat slegs visuele spore van trauma met die spreker kommunikeer. ‘n Feministiese lesing sou kon behels dat die tekens van die vroulike liggaam hier kommunikasiemiddel word, maar dan glad nie in die sensuele sin van “writing the body” waaroor Cixous byvoorbeeld geskryf het nie – veel eerder word die getraumatiseerde liggaam die setel van betekenisse van pyn.  Tog bly dit ’n naamlose verhaal (“’n ander verhaal”), sodat dit lyk asof dit ook ’n onnoembare verhaal is; behorende tot die domein van die nie-noembare.  Hieruit mag ons dalk aflei dat geweld teen vroue steeds ’n “ander” bly, verswyg en naamloos, met die vrou dan as die volledig gemarginaliseerde. En dan verkry die gedig moontlik resonansies oor grense heen, sodat vroue in meer bevoorregte samelewings se persoonlike pyn ook tot die domein van die onnoembare “ander verhaal” gereken kan word?  Gewis die donker kant van die maan; die antipode van Neverland.

Alhoewel die digter nie oplossings gee nie en slegs die portrette van die twee vroue aan ons voorhou, talm die woorde van Willem die Swyger (aan die begin van die eerste afdeling) : “Moi Dieu, ayes pitié de moi et de ton pauvre peuple” [“My God, wees my en U arme mense genadig”]. Dalk, genade vir mekaar in ’n wêreld waar die sin ons so dikwels ontwyk?  Of selfs, waarin sin ontbreek en ons alleen maar ’n vertaling van sin moet vind in stukke medemenslikheid?

 

 

 

 

Joan Hambidge. Versindaba-kroniek 2010

Friday, December 31st, 2010

Die gedig as kleitablet, sakrament of sms                             

Joan Hambidge

 

Agtergrond:

 

Die jaar 2010 het ʼn hele gerf goeie bundels opgelewer en in hierdie oorsig fokus ek hoofsaaklik op solo-bundels. Daar is uiteraard die Nuwe stemme 4-reeks, wat uitvoerig bespreek is op die blad (1) en die Versindaba-bloemlesing. Lina Spies se keuse uit haar werk deur Johann de Lange, Die skyn van tuiskoms (Human & Rousseau) gee ʼn blik op ʼn besondere digterskap. Op die agterblad staan tereg: “Want vir Spies is taal ʼn landskap op sigself, ʼn tuiskoms”. De Lange se eie keuse, Judasoog, gee eweneens ʼn besonder indrukwekkende blik op die ontwikkeling in hierdie digterskap. Soos Henning Snyman dan tereg skryf op die agterblad: “Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”.

Die heruitgawe van Kahlil Gibran se Die profeet (vertaal deur Louis Fourie en uitgegee deur Adamastor) het sterk poëtiese reëls soos die volgende:

“Mense van Orphalese, julle kan die tamboer omfloers en die snare van die lier laat skiet, maar wie van julle kan die lewerkie beveel om nie te sing nie?” (52).

“En wat is die son vir hulle behalwe die bron van skaduwees?” (52).

“Net soos die pit van die vrug moet breek sodat sy hart in die son kan staan, so moet julle pyn ken”(60). Hierdie bundel beklemtoon dat daar verskillende digterlike tradisies bestaan. Hopelik sal hierdie uitgewershuis of Protea M.M. Walters se reeks Poësie uit die verre lande (met o.a. Spaanse vertalings van Uys Krige) weer uitgee?

Verder was daar die debat oor die aanvanklike nie-toekenning van die Ingrid Jonker-prys, maar danksy ʼn debat – aangevuur deur myself, Daniel Hugo, Johann de Lange en Johann Lodewyk Marais – is die prys toegeken aan Tania van Schalkwyk vir Hyphen, wat sy onder mentorskap van Stephen Watson voltooi het aan die UK. Daar was geen persoonlike belang hierby betrokke nie; net ʼn matelose ongeduld met die arrogansie van diegene wat ʼn prys met ʼn lang tradisie wou “herskryf”. Gelukkig het die polemiek ʼn gelukkige einde gehad, want die prys is toegeken, ironies genoeg presies op dieselfde wyse as in die verlede, met drie beoordelaars wat stem vir die beste. (3) Loftus Marais se artikels, dikwels oor fiktiewe letterkundige figure in BY, begin nou afgesaag raak, omdat die grap te veel kere herhaal word. Danie Marais het weer Peter Blum as ʼn soort buikspreker gebruik om sekere kwessies wat hom irriteer aan die kaak te stel. Die vraag is: sou Blum so gepraat het? Hy sou skerper gewees het. Die twee digters het onderskeidelik verlede aar en vanjaar die Sala-prys verower, terwyl Annelie Botes se prys terug getrek is na haar omstrede onderhoud in Rapport.

 

II

 

Die meeste bundels is deur my geresenseer vir LitNet, Die Volksblad en Die Burger. Van tyd tot tyd word daar ook besprekings gedoen vir FineMusicRadio, ʼn onafhanklike radiostasie in Kaapstad. Die oorspronklike besprekings word breedweg herhaal. Hier en daar het ek wel ʼn bespreking aangepas of verkort of ʼn mening hersien. Bundels word bespreek soos wat aangestuur is deur die jaar en nie in ʼn rangorde van gehalte nie.

Oor die stand van die digkuns is ek saam met Marthinus Beukes gevra om ʼn opinie te gee vir Rapport (4). Jo Prins het by Beeld ʼn rubriek Verslangs gelanseer waarin ʼn literator of digter se analise van ʼn gedig langs ʼn gewone leser s’n geplaas is. Met interessante reaksies waarin die verskillende strominge in die digkuns na vore gekom het soos die meer hermetiese vers versus die praatvers. (5) Verder was daar ʼn aangename verrassing met die verskyning van die Kanadese literatuurteoretikus Jonathan Locke Hart se debuut. (6)

T.T. Cloete se versamelbundel Uit die wit lig van my land gesny is gepubliseer deur Pooka en in hierdie bundel met verse wat handel oor sy afgestorwe vrou vind ons ʼn meester aan die woord.

 

Omslag

Omslag

Vroue van Vermeer

Dit is meestal ‘n mooi jong vrou.

Meestal is sy alleen binnenshuis,

dalk met ‘n wit veraf brief wat sy vashou,

naby, in ‘n gloeiende klein hand

voor ‘n kleiner of groter oop

venster.  Daar kom ‘n ligte geruis

van ‘n wêreld aan uit ‘n land-

of groter wêreldkaart

wat teen die muurvlak oorkant

hang, daar waar seestrome en wind loop

met haar land se ganse skeepvaart.

Sy staan, sy sit, sy buk oor kant,

sy droom of sluimer

in lig wat in vlokkies of korrels brand

of dof kaats in die ruimer

ruimte van ‘n skildery of spieël of in ‘n wynhouer

ivoor maak, of sy speel klavesimbaal

of sy loer oor haar skouer

en dra ‘n sonnende pêrel teen haar nek

se skadu.  En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

 

oogensiklopedie. gilbert gibson

oogensiklopedie. gilbert gibson

Gilbert Gibson se Oogensiklopedie (Tafelberg) het die ATKV-veertjie prys verower en hierdie deurgekomponeerde bundel werk op ʼn vernuftige wyse met die oog as simbool. Die gedig werk met verwysings na ander gedigte – dikwels met endnotas verklaar – maar hierdie sleutels kan ook lei tot interpretasiebreuke. Op sy beste vang hy dikwels ʼn moment buite woorde op, op sy swakste word die gedig iets van in die kamer was ʼn kas, in die kas was ʼn laai, in die laai was ʼn gedig waarop staan: kyk hoe slim is ek!

Gilbert Gibson het vanaf sy debuut met Boomplaats (2005) die aandag getrek as ʼn opwindende digter wat op ʼn slim wyse werk met intertekste. Toe kom die tweede bundel Kaplyn (2007) en hy maak van die intertekstuele spel iets verregaande en uitdagend. Hy verskaf vooraf woorde, nee eintlik spore, waarmee die leser die bundel moet benader. Daar is selfs ʼn woordelys agterin om vreemd-klinkende en mediese woorde te help verklaar in die leesaksie wat ʼn kaplyn is. (En ʼn kaplyn is ʼn boomgesleepte skoon stuk grond tussen twee vegtende lande, spesifiek met die intensie om spore wat op die kaplyn kruis op patrollie raak te sien.)

Die verduidelikings / endnote help dus die leser om die gedig oop te maak en as’t ware vanuit die digter se bedoeling te lees. Ons het dus die inhoudsopgawe – op die voorblad soos by Loftus Marais se Staan in die algemeen nader aan vensters – en dan die gedigte met die verklarings (aangegee as “woorde”). Gibson stel dus bepaalde eise aan die leser, omdat sy gedigte nie volgens konvensies werk nie. “another roadside attraction” aktiveer onder andere Tom Robbins se kultusroman uit 1971. Dit is ʼn roman bekend om die non-liniêre progressie en in die gedig word die leser gekonfronteer met ʼn bloedige einde: ʼn gesin word uitgewis en “ingelyf” by ʼn vervoerwa weens ʼn kind wat ʼn balletjie gooi. Die pa se aandag word afgetrek: hy het sy oë neergeslaan.

Al die geledinge rondom die oog word in hierdie bundel in ʼn komplekse simbool-struktuur geaktiveer: sikloop, katarak, sien / kyk, sluiter, versluier, blik, wenkbroue, wimpers, oogknip, oogvog, pupil, sig, blind (onder andere is daar ʼn gedig oor Borges). Dit is ʼn digterskap waarin daar dikwels besin word oor die rol van die digkuns. Die gedigte beweeg tussen hoogs emosionele verse en gedigte wat intellektueel in beheer is.

“Ek onthou jou dus behendig / gephotoshop teen die dood” (124) is van die ongelooflike beelde wat die digter gebruik. ʼn Baie sterk motief in hierdie bundel is die talle verwysings na die religieuse belewenis. In die slotgedig “wat die mens” (130) word daar duidelik ingespeel op die Bybelse gegewe, maar dit word hier verdraai na die moderne mens met al sy ellendes en angste. Dit is asof die digter in hierdie bundel besig is met ʼn bestekopname van sy jeug en sy lewensfilosofie van nou probeer bepaal teen dit waarmee hy groot geword het. “Sewe dubbelsinnighede” betrek weer Willliam Empson se bekende studie oor die digkuns. Dalk ʼn gevaarpunt vir die digterskap: die verduidelikings is myns insiens dikwels onnodig, omdat ingeligte lesers tog weet wat dit bedui. Of wil die digter ons juis bewus maak van sy notas en die prosesse róndom die skryf van ʼn gedig? Soos “kenosis” – letterlike leegmaking uiteraard weer Harold Bloom se sieninge oor die digterskap (A map of misreading,1975) aktiveer en sy sieninge oor die Kabbalisme in ʼn gedig indra. Vir Gibson behels dit die wegdoen of afstand doen van die eie ek by die skryf van ʼn gedig – die “ek” wat skuilhou tussen dit wat gelees en gesien is. Die sleutels gee sy unieke aard weer: hoe eiesinnig hy ʼn gedig skryf en konstrueer. Die leser word dus attent gemaak op hierdie proses waar die gedig dikwels hortend tot stilstand kom of reëls afgebreek word.  Dikwels is daar ʼn e.e. cummings-aanslag met doelbewuste dubbelsinnighede soos “nuttig” (72) waar die boor-metafoor gebruik word en Coleridge in die digter se geheue geaktiveer word. Die internet-gedig “://_ mezangelle” (64) illustreer dit by uitstek. Die taal van die hart (en hard) is so geheim(sinnig) soos superstringteorie.

Ander kere is die Auden-verwysing onnodig en amper ʼn onderskatting van die leser se kennis soos in “lafras cuyper kannonier”(57); ander kere help dit vir die ondersoek en uitpluis.

 

Apostroof, Fanie Olivier (Human & Rousseau, 2010, Isbn 978 0 7981 5168 9)

(Resensie: Joan Hambidge)

apostroof

apostroof

Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word. Ons vind hierdie aanspreekvorm – wat sterk verband hou met personifikasie – dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!). Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een, ensomeer.

Apostroof is ‘n bundel na ‘n lang publikasiestilte, weliswaar nie skryfstilte nie. Olivier het die afgelope jare per e-pos vanuit Pole lieflike gedigte vir vriende en kennisse aangestuur. Hy debuteer in 1971 met Gom uit die sipres (bekroon met die Reina Prinsen-Geerligs-prys). Om alleen te reis (1973), Paradysrigting van die wind (1976), Skimmellig (1978) en verklarings 1967 – 1987 (1988). Olivier se digkuns bevat sowel politieke verset as persoonlik en intiem-belydende verse.

Sy jongste bundel doen verslag van die kartering van ‘n spesifieke verlies: die verwerking van die dood van sy geliefde vrou, Rike. Terselfdertyd bevat dit verse ten tyde van haar lewe. Daar is liefdesgedigte en teer verse waarin die mooi geliefde waargeneem word deur die spreker. Die voorblad bevat ‘n skild uit die Middeleeue waarmee die aangesprokene se belangstelling in die Middeleeuse letterkunde geaktiveer word en as ‘n mens mooi kyk, is daar ‘n apostroof in die hoek – en daarbo koekeloer die dood.

Dit is ‘n besonder aangrypende bundel wat die verlies navigeer, onder andere deur Breytenbach, Ingrid Jonker en veral Uys Krige! Die beroemde “Tram-ode” met sy Aldarin word o.a. geaktiveer in die gedig “Tussenteks” (47). En wanneer ‘n mens weer na hierdie gedig kyk, is dit opvallend hoe die melancholie en die oproep van name in hierdie bundel van Olivier weerklank vind. Hy besê die lewe namens die afwesige geliefde: die opdrag lees immers (vir die sinne wat sy [ge-] maak [het]). Hy gebruik gewone parenteses en ander kere fonetiese hakies. Is dit ‘n soort spel soos by die gerekonstrueerde tekste van Sappho om te wys wat het verlore geraak, wat het behoue gebly? Die geliefde is immers oorlede aan ‘n slopende siekte waarin sy haar semantiese funksies verloor het. En hierdie skrynende proses beskryf die digter vir ons. Ons word meegevoer deur die slopingsproses tot met die dood. Ten slotte beleef ons ‘n goedkoop avbob-kissie waarin die as geberg word. Die digter laat dit te water en hoop dat ‘n Vlaamse seuntjie dit sal uitvis.

Hierdie kissie is “veerlig, loodswaar, ‘n holte vir my voete later”. Op die agterblad verskyn ‘n lang gedig waarin die Advokaat Olivier met God in geding tree. Dit is ‘n “vituperation” en op ‘n skitterende manier word die nydigheid van die regswêreld ontmasker.

Dit het vir hierdie leser gevoel asof Olivier terugkeer na sy beginverse: verse wat dikwels sterk op die woordspel ingestel is. In ‘n vers soos “bliksem!” (48) word daar ‘n soort blokkiesraaisel opgebou; in “krematorium” (45) is alleen dit wat agterbly op papier, uiteindelik ter sprake.

 

Op sy beste, so weet ons, reduseer

‘n vers baie dinge, iets of iemand

tot essensie: wat word, was vroeër was.

 

Daar is verse wat die Poolse landskap skandeer en die ontreddering van die vreemdeling beskryf en die soeke na die regte woord om ‘n ervaring te beskryf. Die digter, ‘n samesteller van die mooiste liefdesverse in Afrikaans, wonder:”hoe sê ‘n mens dat ek // jou liefhet in ‘n vreemde tong…” (30). Daar is dan verse wat hier en daar in opposisie plaas soos “van podolany tot in rondebosch – geyk” (31). Deurgaans bly ‘n mens bewus van die digter se ontginning van woorde, sy spel met taal – of hy is bewus van sy gebrek aan ‘n woordeskat in ‘n vreemde landskap of die geliefde se soeke na woorde…

Dit is ‘n aangrypende bundel van ‘n digter wat sy regmatige plek weer kom opeis het. Dit is oop verse, geskryf uit die hart. Maar júis in hierdie direktheid lê die krag van Apostroof. Daar word inderdaad nou alleen gereis.

 

Notas uit die empire

Notas uit die empire

Notas uit die empire is Hans Pienaar se tweede digbundel gepubliseer deur Alto-Media. Hy is veral bekend as joernalis vir Business Day en die blog “Africa”. Die skrywer het Rapportprys vir Nie-fiksie verower vir sy Die derde oorlog teen Mapoch. In Nuwe stemme 2 (saamgestel deur Petra Müller en Nèlleke de Jager) vind is ʼn handvol verse wat die belangrikste temas in sy digkuns aandui: die wrang blik op die geskiedenis vanuit ʼn joernalistieke perspektief; die gebruik van die parlando; die vermoë om onthoubare reëls te skep soos “die stad slaap soos ʼn Buick onder ʼn bokseil”; die bykans surrealistiese taalgebruik; die gevoel van vervreemding, en dies meer. In Nuwe stemme 2 staan die volgende knap gedig:

 

Pelgrimsrus

 

O die dood kom ook

stadig soos die melktrein aan

by elke stasie moet die stoker stook

die trein vir elke melkkan staan (76)

 

Nuwe stemme is ʼn belangrike debuut-plek vir jong digters en veral Nuwe stemme 4 het my nogal opgewonde gemaak oor die veelheid van talent wat hier aanwesig is. Maar daar was slypskole waar die digters onder die leiding van die samestellers geleer is oor versvorme en procédé. Hans Pienaar het ʼn ónbetwiste digterlike talent, maar vir my gevoel is sy gedigte soms te woordryk en tuimel die gedig dikwels verby die suggestie of die natuurlike slot. Die eerste gedeelte in Notas uit die empire heet “Lank leef”, en dis dan vir my die sterkste afdeling. Waar die gedigte teen foto’s geplaas word, soos in die tweede afdeling “Tweeduisend-en-vier”, is dit egter minder oortuigend. (Hier is die verse meer gestroop.) Die beelddig, dit wil sê, die gedig wat inspeel op ʼn bekende foto of skildery het ʼn galery van groot figure in Afrikaans opgelewer met Johan van Wyk se Heldedade kom nie dikwels voor nie as ʼn kragtoer. Hierop volg daar ʼn reeks reaksies van digters op foto’s van Marilyn Monroe met T.T. Cloete as voorloper. Al die ander gedigte is palinodes of antwoorde op hierdie vers.

Die beelddig skep ʼn broeiende spanning tussen foto en gedig. Die een kan later nie meer onthou word sonder die ander een nie. Maar, die gedig moet steeds in eie reg sterk wees. Indien die foto langsaan pryk, word dit soos ʼn klankversterker. En die foto of skildery moet weer op sy beurt ʼn kunswerk in eie reg wees. Dit bewys Johann Johl se verse ook by uitstek. (Die promosie-pamflet skryf dat die plaas van foto’s en gedigte uniek is. Dit is al reeds gedoen. Uniek waarskynlik dat die digter self die foto’s geneem het.)

“Statig” (97), ʼn vers wat die sub-titel dra “Suid-Koreaanse parlement, Seoel”, klink so:

 

Vir ʼn wyle hier, voor die deure

van mag outomaties oopgaan,

kan jou herinneringe ʼn loop

neem oor lang dae toegesneeu,

en mymer oor komplotte. Hoe

hulle neig om te broei en voete

op matte laat aarsel terwyl in

agterplase bome statig vergaan.

 

Enkele van die gedigte wat inspeel op foto’s is wel knap, soos “Tier”, “Grond”, “Pilare”, “Papiervliegtuig”, “Dialoog” en “Kamele” met die rondeelagtige spel met rymwoorde. Die reisgedig stel die reisiger altyd bekend aan ʼn ander land, maar hierdie soort gedig word altyd ʼn ontdekkingsreis-na-die-self. Onvermydelik word die opposisies tussen hier en daar, toe en nou, kulturele bakens presies dit waarom hierdie soort gedig wentel. Die vraag is of hierdie reisgedigte die eiesoortige aard van ʼn stad opvang?

Die voorblad, deur die digter self, is treffend. Die parkeerterrein in Vrededorp wat ander “empires” oproep. Die titel is uiters ironies: die hawelose se “empire” (ʼn wasgoeddraad en vullis)  word teen die agtergrond van die Statue of Liberty en ʼn Hollandse windmeul geplaas. Sowel die Statue of Liberty as die meul is versier met ʼn Heineken-blik wat weer die kwessie van kolonisering oproep. ʼn Mens sien Staten Island

in die verbeelding…

Die bundel se sterkste vers is ongetwyfeld “Kraaie in die bome” in reaksie op 9.11 met sy sterk refrein en elegiese aanslag:

 

New York. New York.

Kraaie in die bome.

Harte treur oor New York.

 

Die taalspel op bladsy 32 is indrukwekkend en “Dit was toe nie” (37) getuig van vakmanskap.

Die gedig “Tromsolo” (120) uit ʼn reeks is eweneens sterk:

 

… Ek bly agter, soos ʼn wit jas

by die kroegdeur opgehang, uit gewoonte.

Ek dwaal deur leë strate, eindig waar ek was.

 

ʼn Dief in my eie middernag, op my eie pas.

 

ʼn Bundel dus met ʼn handvol goeie verse. ʼn Sterker redigeerder of keurder sou die bundel gesnoei het sodat net die béstes oorbly. Miskien moet ʼn volgende bundel aan Protea of Tafelberg voorgelê word vir die raadsamer keuringsproses. Die titel evokeer ook die komplekse kanoniseringsproses. Notas uit die kanon en oor die kanon. Dalk ook teen die kanon? Die programgedig is so gelees nie alleen ʼn komplekse siening van die geskiedenis nie, maar ʼn staning in eie reg. Die kolonie praat terug, besef ons.

Omslag

Omslag

In 2001 het Kobus Lombard gedebuteer met Geknipte naelstring en hierna het Tussen wysvinger en duim in 2005 gevolg. Die jongste bundel Vlerke vir my houteend het soos die vorige bundel eweneens by Protea Boekhuis verskyn. Die digter gebruik gestroopte, sober taal en veral die Namibiese landskap kom aan bod in hierdie digkuns. Gedigte oor die geloof is ʼn verdere tema en in die uitgewershuis se publikasieverslag word daar geskryf dat die digter in sy tweede bundel die liefde vir sy aanneemma verwoord en die moeder wat hy nooit geken het nie. Die derde bundel het hierdie leser begin lees sonder hierdie voorkennis en ek is van mening dat die leser nie nodig het om kennis te neem van hierdie outobiografiese gegewe nie.

Lombard skryf ʼn eenvoudige vers met min woorde, maar in die “eenvoud” is daar dikwels ʼn geladenheid opgesluit. Ek het die gewoonte om ʼn digbundel van agter na voor te lees en dan weer van voor na agter. Op hierdie manier kan jy dikwels die konstruksie van die bundel op sy kop draai of deur ónbedoelde motiewe of saamgroeperings breek. Die slotgedig in hierdie bundel is ʼn vers wat waarskynlik ʼn sleutel verskaf vir vele verse in die bundel. Dit heet “Ma se erflating” (78):

 

in jou vulpenadres

kan ek my ʼn kamer verbeel

in jou silwer poeierdosie

kan ek partikels

van jou lyf vermoed

selfs die brei in jou stem

is tegnologies bewaar

 

maar hoe streel ek

die swart van jou hare

agter die glans van ʼn foto (78)

 

En vele gedigte probeer hierdie toestand-van-die-onmoontlike besê. Die gedig bring dus ʼn soort versoening tussen die gevoel van verlies of nostalgie en die werklikheid. In die titelgedig word daar ʼn ars poëtika vir die leser gegee waar die idee van die houtkerwer se werk gelyk gestel word aan die digterlike proses (42). Vir my is die mooiste en aangrypendste verse in hierdie bundel gedigte wat handel oor die verhouding met die moeder, daardie primordiale relasie wat ons almal se identiteit bepaal. In die psigoanalise word daar ook gekyk na die verhouding tussen digterlike taal en die moederbuik; ʼn mens dink hier veral aan die teorieë van Julia Kristeva. Wat dus ʼn vers oor die moeder is, kan ook gelees word as ʼn gedig oor die skryfproses en die onvermoë (waarmee vele digters worstel) om dit wat buite woorde lê, onder woorde te bring.

Daar is ʼn handvol gedigte in die bundel wat onthoubaar is, soos “Eenrigtingkaartjie” (67):

 

met die vertrek van my reisgenote

staan ek telkens voor die eenrigtingglas

van dié eenmanvertreksaal

geen oproep om aan boord te gaan

geen digitale flikker

oor die beplande tyd van aankoms –

die bestemming, so sê die reisbrosjure,

het strate van goud, engelekore

en ʼn stadspoort van opaal

 

dog vir hierdie enkelreis

bly ek tot die dood toe bang

 

Die moontlikhede van die skryfproses word ontgin: so byvoorbeeld in die gedig as ʼn “briefwisseling” verander die letterlike brief verander na e-pos, maar lewer ook kommentaar op die intieme aard van die skryfproses.

Vanaf die debuut tot nou, is daar groter selfvertroue by die digter opmerklik. Dit is ʼn beskeie bundel, maar in die eenvoud en suiwerheid aangrypend en belangrik.

Omslag

Omslag

Tom Gouws se Ligloop het by Human & Rousseau verskyn en is ʼn besondere leeservaring. Die titel aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees en om versigtig om te gaan met die gegewe in hierdie bundel. Reeds in die programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop” (“he wishes for the clothes of heaven”, 11). Die motto uit Bakhtin (“We are the voices that inhabit us”)  aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ʼn gesprek met Akmatowa en Sergei Esenin wat ʼn gesprek met die Russiese letterkunde oopmaak. Yeats word herskryf – met sukses en ʼn gedig oor Johannes Kerkorrel tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger. Die Bybel, veral Elia, verskaf ʼn ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ʼn wrang distigon van Watermeyer beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73).  (Trouens, dit sou ʼn fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en verwysings te aktualiseer.) Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer” word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim aangespreek en in ʼn distigon, “elia en die ou boereplaas” (73) word die profeet Elia ʼn masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die siening van die plaas. In ʼn wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum: allesverloren. Daar is vele motto’s by gedigte en Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in hierdie bundel wat in sterk kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ʼn fyndraad (of lig?) deur die bundel skyn. En ook Eybers is hier in sowel ʼn vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat uit die self spruit. Gouws is bewus van die self as ʼn konstruksie en die spel met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In ʼn “wyding”, ʼn liefdesvers, word die geliefde ʼn vers gegee waaruit sy eendag moet put:

 

eendag as jy oud is en saggies met jouself praat, en bewe,

en die tou te kort word vir die skep uit putte van herinnering,

vat dié vers, geliefde, lees dit weer as onvoldoende wyding

van ʼn digter wat na woorde soek vir die diepgang van ʼn lewe.

 

Soms is die self  ʼn kleitablet, ander kere ʼn sakrament.

Titels van bundels en gedigtitels is in kleinletters en die verse getuig van ʼn streng tegniese beheer. Die beelddig is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), verrassend ontgin. Cloete se Marilyn Monroe-verse bly eweneens bakens hier. Dit is ʼn ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser. Woordspel, flink ryme, eksperimentering met vorme maak van hierdie bundel ʼn genoeglike leeservaring. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. Die bundel nooi ʼn psigoanalitiese lesing uit via Lacan veral met die verwysings na spieëls, die camera obscura, meniskus, en studies oor die betekenis van simbole (soos die leeu) in die skilder se werk. In ʼn gedig “advent” (44) word die self genadeloos bekyk. Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar afgespeel in ʼn gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ʼn klein juweel:”resep vir sinlike soesji”(53).

Ligloop is ʼn bundel oor die “verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in “die geograaf” (29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slot gedig wat ons as ʼn visioen kan lees.

Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.

In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.

Omslag

Omslag

Martjie Bosman se Toevallige tekens is gepubliseer deur Protea. In 2003 debuteer Martjie Bosman met die bundel Landelik waarvoor sy bekroon word met die Ingrid Jonker-prys. Soos die titel van die tweede bundel Toevallige tekens dan ook suggereer, moet die leser die tekens en spore in hierdie bundel met nougesette aandag volg. Die teken as teiken dus en ʼn mens word telkens bewus van ʼn volgehoue semiotiese spel met die leser.

Van Wyk Louw rig dan ook die bundel in ʼn motto:

 

 

… dié Woord

vol bybetekenisse en bowe-tone,

té vol vir bloot net beteken of betekenis.

 

Die digter aktiveer die Afrika-wêreld waar mense die “tekens van gemene besit / op allemansgrond, gebied onder koningsgesag” beleef (“Meent”, 15). Die bundel spreek ʼn Afrika-landskap aan en so tree die bundel in gesprek met Opperman-kodes. In die gedig “Grondeis” (35) spreek sy Opperman dan direk aan. Dirk-se-erf is nou ʼn beleërde plek waar die digter haarself moet verweer met guerillategnieke. Bosman aktiveer telkens op ʼn konkrete wyse ʼn sintuiglike dimensie wat sy plaas teenoor die “angs van binneruimtes”. Vigs (“groter siekte”) is ʼn harde werklikheid waaraan geloofsgenesing niks kan doen nie. Die Mosambiekse landskap word eweneens ontgin met Maputo as ʼn vervalle stad. Vir hierdie leser wat die landskap intens en gereeld besoek het, is die beskrywing van die menslike ellende en die hospitaal-dienste, helder weergegee. En Bosman skryf eweneens oor die nood van vrouwees in so ʼn bestaan waar verkragting en liggaamsgeweld ʼn harde werklikheid blyk te wees. Hierom is daar ʼn motto by “Mutilados” wat verwys na Dine van Zyl se Die verminktes. “Die kind van Kigali” (24) tree weer in gesprek met Ingrid Jonker se ikoniese gedig “Die kind”. Die Rwanda-werklikheid kom eweneens aan bod in hartgrypende verse oor die volksmoorde aldaar. Die digter hou die pynlike en transgressiewe gegewe in beheer met sterk metafore. In die hande van ʼn mindere digter sou hierdie gedigte skel kon oorkom. Maar dit is júis wat hierdie verse onderskei van ʼn berig in Time: sy gebruik herhalings wat ʼn soort pynlike inkantasie word van die koeëls wat “in sagte vlees wegsink”. Die iteratief-duratief (wegsink in plaas van die verlede tyd weggesink) aksentueer dat die pyn voortduur in die menslike gemoed. Die bundeltitel word verklaar in “Eendagskoon” (27) waar die verval in Afrika weergegee word. Hierdie gedig tree eweneens in gesprek met Ina Rousseau se voortreflike tuin/Eden-verse en kan gelees word as ʼn ars poetica. In “Soet seisoen” (80) soek sy na ʼn metafoor om die verval van ʼn stad te verbeeld, maar die gedig bly die aftakeling ontwyk. Juis deur ʼn gedig te skryf kan sy haar verweer teen die sloping wat sy meemaak en is die tekens van die gedig “‘n tuin van alle liefde”. In die personifikasie van ʼn skreeu (“Die skreeu”, 31) word die weerloosheid van mense binne ʼn geweldgeteisterde Afrika-werklikheid belig. Die slim toespelings op Toon van den Heever en Marais skep winste vir die gedigte, nie alleen in die vervloë wêreld wat dit oproep van ʼn verlore stam nie, maar ook ʼn bewusmaking vanwaar die Afrikaanse digkuns tans staan. Hierom is daar waarskynlik ʼn bestekopname van die digter se verlede met aangrypende en nostalgiese gedigte oor die jeug. Ons vind reeds in die herinneringsverse ʼn slim kind as waarnemer wat tekens probeer dekodeer en nou as volwassene terugkeer na die verbeelde wêreld wat sy beleef het. In “Kispak” (58) vind ons ʼn lykdig wat weer terugwaaier na T.T. Cloete se vers oor die verskillende rokke van sy vrou. Hier is dit die kispak:

 

Dan word die pak diep weggepak

tot dié dag wanneer die kis

die pak weer waardig is.

 

Martjie Bosman bewys met haar tweede bundel dat sy ʼn knap digter is wat aan elke beeld en woord aandag gee. Haar leser word bekoor deur die tekens wat jy moet snap: foto’s, musiek, mense, diere se geluide. Daar is verse oor bekendes (soos Wena Naudé) en gedigte oor die Spaanse landskap. Die gedigte lyk op die oog af sober en in beheer – onder is daar ʼn melancholie wat by elke herlees ʼn mens dieper tref. Dit is ʼn bundel oor “vae en ontwykende drome” wat helder en stip verwoord word. Alles is hier dringend in klein tekens op papier gemerk, om die digter aan te haal.

Diorama

Diorama

Sedert sy debuut, Die somer is ʼn dag oud, wat bekroon is met die Ingrid Jonker-prys, het die digter Johann Lodewyk Marais omgewingspoësie begin ontgin en ʼn bundel ter viering van Marais se “Winternag” gepubliseer: Honderd jaar later.

Hy skryf gereeld oor die figuur, Eugène Marais, veral op die Versindaba se webruimte. Hy het ʼn doktorale proefskrif voltooi oor Marais se wetenskaplike en natuurprosa. Daar was ook ʼn reisboek oor Mosambiek en versamelbundel oor ekologiese gedigte: Ons klein en silwerige planeet (saam met Ad Zuiderent).

Die jongste bundel heet Diorama en is ʼn voortsetting van die bundel Aves wat oor voëls gehandel het.

Die outydse voorblad is deur Thomas Baines (Herd of buffalo, opposite Garden Island, Victoria Falls, 1862).

Diorama dan in die sin van die skaalmodel van ʼn landskap of  historiese momente.  Die digter nooi dan ook die leser in die programgedig uit:

Ek wil in my gedig ʼn wildtuin skep // en jou uitnooi om ʼn besoek te kom bring (13)

En wat ʼn uitnodiging is dit nie! Die leser beleef ʼn springhaas, maar terselfdertyd word dit ʼn meditasie oor die skryf van ʼn gedig. In die vers oor “Streepmuis” (22) word die onmoontlikheid van die proses vergelyk met die vang van ʼn streepmuis en die bladsyverwysings na die boek waarin jy moet blaai, dui op die intertekstuele proses van sowel die skryf as die lees van ʼn gedig. (In “Rooiduiker”, 38 byt die gedig in die stof!) Soos dit ʼn goeie digter betaam, is die gebruik van ou patrone nie aan hom onbekend nie soos in die voortreflike, “Gevlekte hiëna” (23), ʼn soort villanelle, met sy herhaling van twee reëls en die gebruik van twee rymklanke. Heel vlot beweeg hy dan na die kwatryn met “Luiperd” (24). Later is daar ʼn handvol haikoes. Marais se digterlike handtekening is om met die gestroopte vers te eksperimenteer en “Wildehond” (27) bewys hoe goed hy dit kan doen. Die “fyn besonderhede” van die optekening is opvallend en die digter maak opwindende poësie oor wilde diere en plante. Daar is toespelings op bekende gedigte en ʼn in-grappie oor die “Okapi” (35) wat bloot as “Aha!” aangegee word. Met die konkrete voorstelling word ook geëksperimenteer in “Rietduiker” (45) waar die uitgespreide vlerke oor die bladspieël staan.

Marais het in sy debuut, Die somer is ʼn dag oud, aangrypende verse oor sy jeug geskryf. In hierdie bundel keer hy terug na die landskap van sy jeug: nou is daar plaasmoorde en aanvalle. Die tuin van Eden is aangetas. So beskou word die diaroma dan ʼn representasie van sy digkuns én persoonlike ontwikkeling. Die beeldgedigte is suiwer: ʼn mens kry ʼn portret van ʼn bekende soos Jan Smuts, Richard E. Leakey, Jane Goodall, e.a. Dit word egter nie dordroë navorsingsgedigte nie, maar verse wat ontroer en tref. Tobias maak ook ʼn draai hier en selfs Saartje Baartman is verïkoniseer. Daar is uitstekende verse in hierdie bundel soos “Die brein” (15)  En “Springhaas” (21). En die volgende juweel het onlangs op die Versindaba se webblad verskyn:

 

Diego Maradona

 

Die vlugvoetigste is Maradona

met ‘n durende veggees in sy bloed.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

Kleintyd het hy ‘n sokkerbal geja

en teenstanders gesystap met sy spoed.

Die vlugvoetigste is Maradona.

 

Gou het hy met sy flinke rabona

die klubs ‘n prys laat betaal vir sy voet.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

         

Oral in Napoli en Sevilla,

op én af van die veld, was hy verwoed.

Die vlugvoetigste is Maradona.

 

Sy aangee na Jorge Burruchaga

het die hele Buenos Aires laat toet.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

In ‘n stampvol en luide Azteca

erwe hy die Wêreldbeker se soet.

Die vlugvoetigste is Maradona.

Hy wat met grasie die nr. 10 dra.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw, soos die debuuttitel en die bundel oor die omgewingsgedigte suggereer, word voltrek in die gedig “Ex unguine leonem” (85). Daar is gestaltes en diere in hierdie voortreflike, netjies-afgewerkte bundel. Die spel tussen verhulling en onthulling word deurgaans goed hanteer.

Louis Esterhuizen se Wat die water onthou het eweneens by Protea verskyn:

wat die water onthou

wat die water onthou

dat die papier se grein vorm gee
aan die vloei van kleur: jy herken
‘n boom hier, ‘n sonvlek daar
voor jy selfs nog weet van berge

verder agtertoe: spatsels kleur

tussen die vloeiings tak en blaar,
die blomtapyt in die voorgrond
waarmee die papier verwater

tot dit is wat dit wel wil wees –
die gestolde vloeipatroon
van water wat verdamp het

en nou bewaar word
agter droë glas

Esterhuizen is nie alleen die onvermoeide skrywer van nuuswekkers vir die webblad van die Versindaba nie, maar hy is ʼn bestendige digter in ons digkuns wat veral imponeer met sy besonder intens  deurgekomponeerde bundels. Gedigte van ʼn bundel loop ook soms oor na ʼn volgende bundel. Op LitNet maak hy die volgende relevante stelling:

Poësie “is nie iets wat tydgebonde is nie. Dit is wat maak dat poësie altyd relevant is en sal bly. Dit is nie soos ‘n roman wat jy klaar lees en op jou boekrak wegpak en byna nooit weer sal lees omdat jy die storie daarvan ken nie, nee. ‘n Gedig se ‘storie’ is eintlik nooit klaar vertel nie, want elke keer dat jy hom lees, is dit ánder assosiasies, ánder inhoude wat in jou losgemaak word. Die poësie is immers die kunsvorm van die emosie, en ons emosionele landskap is nóóit staties nie.”

Vir my gevoel speel elke bundel van Esterhuizen terug op die vorige tekste, asof hy met ʼn emosionele skaakspel besig is. (Daar was dan ook ʼn bundel wat Patzers heet.) Kyk byvoorbeeld hoe word teruggepraat met ʼn vroeë gedig uit Op die oog af (1988):

 

Landskap

Die landskap afgebeeld

weier om gelees te word.

Al is elke kontoer

uitgeskryf in die verweerde bolaag

van retina en senuwee

vir die lewenslange strompeltog –

halfblind, halfdol om klinker en konsonant,

wéét jy:

vanuit die oog rol beelde na die horison

waar die ligvlak ingenaat by strome

die geheue deurspoel.

Ook dié oog slyt mettertyd tot sand;

‘n uitgedroogde rivier wat terugkrimp

na sy bron –

  verborge sediment vir dooie grond.

 

Die spel met “dat” rig die verse: dit kan waarskynlik verwys na die digterlike proses tussen die belewenis en die onthou. Hoofsin en neweskikkende sin verbeeld die spel tussen belewenis en neerskryf wat dan in die gedig ʼn representasie word van die ervaring en dit uitwis of vervang. By Esterhuizen is die onthou selde ʼn nostalgiese verlange, eerder ʼn poging om deur middel van die digkuns die slopende en dus pynlike ervarings te herkonstrueer in die takelwerk van gedigte. Die digter het ʼn sterk intratekstuele bewussyn. Die aangehaalde vers kan ook as ars poëties gelees word:

en nou bewaar word
agter droë glas

Die simboliek van water (teenoor vuur) is volgens Cirlot gekoppel aan die onbewuste. Water word op verskillende simboliese maniere in die leser se gemoed gekoppel aan natuurverskynsels, aan die voorgeboortelike lewe, aan die oorgang tussen lewe en dood (die Styx). 

 

Toe dit nog vroeg was deur Mari Grobler. (Tafelberg 2010)

toe dit nog vroeg was

toe dit nog vroeg was

Hierdie bundel het bykans ongesiens verbygegaan. Dis ‘n baie mooi bundel waarin die digter veral die San-wêreld ontgin – met woordverklarings en voetnote. In “Winter”(35) word die liefdesvers nuut aangepak binne die wêreld van die San. Die gedigte klink outentiek op en getuig van deeglike navorsing. Maar die navorsing bedreig nie die gedig nie. Die primordiale bestaan van die San word beeldend vergstalt. “Jy’s mooi” (38) vang die inkantatiewe aard op van’n bestaan onder die gounja (maan).

Die afdeling “Storie” handel weer oor die intiem-persoonlike waar ‘n geliefde afgestaan is aan die dood. Die verbeelde, mitiese gegewe word dus hier deel van die digter se bestaan:

 

sy mag nie ‘n dooie volg

                  sy drome wakker maak nie

omdat afreis van spore glo

onsigbaar is (57)

 

Die een voetspoor op die bundel word dan ‘n klein ikoon binne-in die teks waar ons twee voetspore vind – met die leser as ‘n spoorsnyer.

Die bundel praat met die hele tradisie van die San, nie net met die Afrikaanse tekste nie, maar ook met Stephen Watson se Return of the moon. Veral Eugène Marais se boesmanverhale word hier geaktiveer en die herdigtings van Antjie Krog word ook opgeroep. Grobler gee egter haar eiesoortige interpretasie van die gegewe. Sy werk met min woorde, helder beelde en die verse het beslis ‘n sjamanistiese kwaliteit. Daar is enorme skoonheid in hierdie eenvoud opgesluit. In spaars woorde neem sy jou terug na al die debatte oor hierdie gedigte, onder andere die kwessie van besit/appropriasie. 

“naglig”(16) is onthoubaar mooi met die slot:

 

hy verstaan die taal wat kwartels

deurnag met wyfies

onder ‘n volmaan praat

 

Dis so jammer hierdie bundel het ongemerk verbygegaan, want dit verdien beslis meer aandag. Dis goed om binne die intellektuele tradisie ook hierdie soort gedig te lees.

Xô! Dis ‘n mooi bundel.

 

Tydelose gety

Tydelose gety

Die jongste bundel van Lina Spies heet Tydelose gety: die tydeloos aktiveer tydelik én tydloos, die hier én die ewige. Hierdie spanning vind ons regdeur die digter se oeuvre en veral in die bundel Hiermaals word die gesprek tussen die lewe op aarde en die Ewige bestaan ʼn digterlike onderwerp. Spies spreek in hierdie bundel die toestand of aard van die ouer persoon aan. Die vrou sonder masker en in hierdie opsig tree sy in gesprek met twee ander vrouedigters wat hierdie onderwerpe behandel: Elisabeth Eybers en Antjie Krog. By Eybers is daar die vormvastheid wat bekoor; by Krog die woede en kompromislose siening van die lyflike ontglansing. ʼn Vers soos “Vraag” (28) spreek Eybers se “Taalles” aan, terwyl die belewenis van die liggaam gelees kan word as ʼn implisiete antwoord op Krog se verse waar kragwoorde gedy. In “Leeftyd” (12) kom sy in opstand teen die siening dat liefdesverse nie behoort tot haar tyd nie. Sy verset haar teen die klaagliedere wat hierdie tydvak kenmerk. Die digter kies dan beelde waarin sy haar lewensvreugde weergee, en hierom haar oorgee aan die “eb en vloed” wat in elke gety stu. By Lina Spies is daar van meet af aan ʼn sinvolle gesprek met ander digters. ʼn Mens dink aan haar Emily Dickinson herdigtings (Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson (1995) en in hierdie bundel vind ons eweneens vertalings, herdigtings en indigtings van bekende gedigte: Paul Celan se “Todesfuge” (“Fuga van die dood”), Pavel Friedmann se “Die skoenlapper” waarin Spies haar liriese kwaliteite ten toon stel. Daar is beelddigte oor Nelson Mandela en Anne Frank. Hierdie bundel wil sig teen die stereotipiese en die geykte van die lewe stel soos die digter dan ook skryf in die programgedig “Lectori Salutem” (11). Die liefdesverse is onthoubaar soos die gesprekke met twee groot digters, Elisabeth Eybers en Vasalis in die aangrypende vers “By wyse van vergelyking” wat inspeel op die voorblad van die bundel (23):

 

Vasalis het haar geliefde

met ʼn landskap vergelyk

waarin sy haar neer kon lê

en uit kon strek

maar toe besluit hy lyk

nog meer na die lug daarbo

waar ruimte is vir wolke.

 

Ek sou jou kon benoem

met dieselfde metafore

maar ek het jou lief

met my eie hart

en ek sien jou met my eie oë

en vir my lyk jy

die meeste op ʼn kroonden

met sy hoë stam

en sondeurstraalde kruin:

ʼn boom waarna mens op moet kyk

en waarteen jy aan kan leun –

sonder vrae, sonder beloeftes, sonder vrees.

 

Die eiesoortige praatvers wat sy skryf, is in hierdie bundel nie altyd ewe suksesvol nie. Vir my gevoel is die verse dikwels spanningsloos en die opdrag en uitdaging aan die leser in die programvers word nie orals nagekom nie. ʼn Vers soos “Gewoon” (19) en sy inspelings op Eleanor Farjeon se geestelike lied, wat deur Cat Stevens gepopulariseer is, klink flets op. Daar is gesprekke met Emily Dickinson en Philip Larkin – selfs ʼn herdigting Maya Angelou. Die gevaar is immer dat die oervers kragtiger mag opklink vir sommige lesers. In ʼn gedig word die band met Afrikaans besing (“Moedertaal”, 54) en verse vir Degenaar en Elisabeth Eybers, twee duidelike mentors vir Lina Spies. Ook Audrey Blignault word vereer.

Tipies Spies is daar verse met ʼn religieuse strekking (soos “Kategismus”, 67) en natuurlik: Anne Frank.  Vir Lina Spies-bewonderaars is die bekende temas (liefde, godsdiens, vrouwees, ouerword, die dood) daar en getroue volgelinge sal steeds iets put uit hierdie bundel wat deur Protea uitgegee is. Hierdie bundel is nie Spies op haar beste nie; ons het haar bestes gesien in die keur van Johann de Lange.

 

IV Debute en nuwe stemme:

 

Omslag

Omslag

Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (Human & Rousseau) kan ek helaas nie bespreek nie, omdat hierdie werk voltooi is onder my leiding aan die UK in Kreatiewe Skryfkursus. Die bundel is goed ontvang en ten spyte van ʼn vermeende plagiaat-caskenade met ‘n resensie in Rapport het die bundel sy eie pad geloop. Dit is ‘n intelligente, gestroopte digterskap.

oewerbestaan

oewerbestaan

Oewerbestaan van Melt Myburgh het by Protea verskyn. ʼn Debuutbundel is ʼn besondere oomblik. Dit is wanneer die digter vir die eerste keer sy/haar verskyning maak en wys watter bydrae kan daar gemaak word binne ʼn kanon. Dikwels kan ʼn mens terugskouend al die temas terugvind in die debuut wanneer ʼn digter verder ontwikkel. Myburgh se Oewerbestaan is ʼn bundel wat die jeug in ʼn gerepresseerde en rassistiese bestaan sinkopeer met die leefwêreld van Lorca. Dit is uiteraard ʼn ambisieuse opset, juis omdat Lorca so ʼn groot digter is. Die besoek aan Lorca se leefwêreld in die Andalusiese dorp Fuente Vaqueros in Granada is die oerbron waaruit ander gedigte waaier. Lorca was ʼn komplekse figuur en hy is veral binne die gay-wêreld ʼn ikoniese figuur. Die digter is wel bewus van hierdie problematiek, want hy vra:

“hoe skryf ek, dierbare frederik, hiérdie landskap vir jou oop // sonder om reëlreg my eie graf in te loop?” (16)

Die digter aktiveer dus argetipes in ʼn Jungiaanse denke: lewe, dood, waansin, normaliteit, en dies meer. Die bundel betree die wêreld waaruit die digter kom (“karos”, met die onderskrif 40 km buite Upington, 16) en die landskap waarna verlang word, te wete die Spaanse wêreld van Lorca. Hierdie digter word dan ʼn simbool van die dood en die hele bundel kan gelees word as ʼn spanning tussen eros en thanathos (in Freud se terme). Die besef word uitgespeel in die vers oor die vader se selfmoord, “by my pa se dood” (67) in die afdeling “inkdood” waarin die seun desperaat die vader vra om sy “gedigpraat” aan te hoor. Dit sluit aan by die vers op bladsy 15 waarin die digter as’t ware sukkel “om ʼn john deere // te laat dreun op die onderpad van sy geheue”. Hiermee word ʼn psigoanalitiese lesing uitgenooi: die dood van die vader en die dood van Lorca word een in die onbewuste en hierdie spanning kan alleen in die ruimte van die gedig opgelos word.  Die films wat vasbrand in skoolsale, is die herinneringe wat vir die spreker oorweldigend en pynlik is (16).

Die lotgeval van die gay-man word dan op verwoord in verse soos “aan jeffrey dahmer”(68), tereg met erkenning aan Johann de Lange, wat dit uitmuntend gemetaforiseer het en in ʼn gedig oor Laurie Gaum wat heet “jesus in vlak water (na die foto van laurie gaum) (52) waar die problematiek van Gaum se Rapport-foto’s so verwoord word:

as jy op water kon loop,

sou die offer tussen jou hande

nie ʼn enkele koerant verkoop.

 Om Gaum se ontbloting aan Christus se lot gelyk te stel, vind hierdie leser gewoon problematies. Mag dit?, wonder ʼn mens. Is enige mens se leed vergelykbaar met Christus se simboliese offergawe? In “privaat skool” (53) word die draadwerk ʼn verwysing na onanisme, terwyl “playstation 2” (54) die tema aanspreek wat reeds deur Johann de Lange soveel sterker uitgewerk is. In die lykdig, “by my pa se dood” (67) word die selfmoord van die vader in ʼn pynlike bestekopname beskou:

 

intussen hou ek die spieël angstig dop

vir lyne wat jóú lees as voorsaat

 

Die gedigte tree in gesprek met De Lange se pa-gedigte wat regdeur sy oeuvre loop en die gedig as beswering van die konflik met die vader wat die kind versaak het. Die vaderfiguur waarmee Myburgh in gesprek tree, is Lorca. Die leser is hierom dan bewus van ʼn gevoel van uitsigloosheid en somberheid. Die beste verse is oor die wêreld wat die digter ken, soos “upington” (21) met die trae refleksies en die mirador van ʼn oewerbestaan. Nie al die verse is deurgekomponeer nie. Daar is gesogte beelde (hoe lui ʼn foon slank?, 17) Dikwels staan verse nog te na aan die ervaring, maar wanneer dit slaag, soos in ʼn handvol, is daar beslis bewys van talent. Daar is hiperbolies gedink, om die digter buite verband aan te haal, en die gesprek met Lorca bring winste. Ons ken almal die voortreflike vertalings van Uys Krige in Spaanse dans. Myburgh is oorweldig deur die betowering van Granada en die “heuwels staan knop soos boude” (32). Daar is suggesties en openlike verwysings na homo-erotiese aanrakings; iets wat moeiliker was in die ruimte waaruit hy kom. Heen en terug flits die gedigte na mekaar: die nou en die verlede toe die oksels nog vry was van skadu’s. Die liefdesverse is egter al beter deur Auden, et al. (en by ons De Lange) hanteer en waarskynlik is die landskap-van-die-jeug die beste verse: dit wat die digter werklik ken én verken het.

 

V Ten slotte:

 

Nuwe Stemme 4

Nuwe Stemme 4

Dit was ʼn goeie jaar vir die Afrikaanse digkuns. Twee sterk debute en ʼn handvol besonder knap verse in Nuwe stemme 4 het beslis die aandag getrek: Lewies Botha en Fourie Botha is name om dop te hou. Corné Coetzee dig ook met ʼn vaste hand, maar al die bydraes in hierdie versamelbundel is die moeite werd om te lees. Daar het ʼn paar bundels op my tafel geland wat in my strydvaardige jeug ʼn skerp reaksie sou ontlok en die digters na lug sou laat HAP het. Van die self-gepubliseerdes is net Hans Pienaar al daar. Vir die ander is dit nog ʼn “long long way to Carol OK”. Op LitNet verskyn daar ook van tyd tot tyd kopooprukkende soet, sentimentele vrot verse, hoewel ʼn bekende of wat darem glorie aan die ruimte verleen.

 

 

Reëls soos die volgende is beroerte-materiaal vir die leser:

in die middag jou liggaam
‘n rooi sjinese bruggie
gebuig oor my snikke

in die stille heilige nag
van kerse en vuurwerk
wat soos droewe vure op die water
na ons toe dryf

 

Wanneer laas het ons “droewe vure” beleef? Snikke? I ask you.

 

of:

 

Die wond se eerste sug is verlig,
verlange na lewe met sy onhebbelik-
hede wat mens hals en kop oorval.
Toegevou in doeke en met ‘n mond
wat gretig suig, blaas die mens
uit stikstofbewolkte longe asem.

 

of:

 

en mens murg stik en sy mond aan trane smeul,
pyn aan lewe se oorblyfsels wurg
en mens na die dood soos na lig smag.

 

Die redakteur behoort waaragtig nie sulke verse te plaas nie. Stuur dit terug en vra vrae oor die geykte, soet beelde. Dit is die verantwoordelikheid van ʼn redakteur om te keur! Die gedigtekamers op Versindaba handhaaf ʼn hoër peil en ʼn mens is Die Burger dankbaar vir die gedigte wat elke Maandag op die Boekeblad verskyn. Die belangrikste tendense in die digkuns is die gesprek met ander digters, soos by Gibson, De Lange, Spies, Johann Lodewyk Marais. Sowel die buitelandse digkuns as die Afrikaanse gekanoniseerdes word aangetref. In Nuwe stemme 4 vind ons die loslit-praat-vers, terwyl ʼn gevestigde digter soos Spies ook hierdie tegniek aanwend. Daar word met vorme geëksperimenteer, soos die villanelle, rondeel, ballade en by vele digters is daar ten slotte ʼn ars poëtiese bemoeienis, voortreflik hanteer deur o.a. Johann Lodewyk Marais. ʼn Digter soos Tom Gouws skryf in kleinletters; ander weer gebruik formele interpunksie. Die internet, sms-taal, Facebook, ensomeer het ook sy invloed laat geld op die digkuns en hopelik beskou digters ʼn publikasie op die internet as ʼn eerste vingeroefening en nie as die laaste woord nie. Ook slypskole en kreatiewe skryfkursusse se impak kan nou reeds afgelees word uit die debutante wat binnekort solo publiseer (Andries Samuel, Fourie Botha, Aniel Botha) of in Nuwe stemme 4 en die Versindaba se 2010 uitgawe gepubliseer het. Marlene van Niekerk het aan die US ʼn kollokwium-aand gereël rondom Allen Ginsberg se “America”. Min (dalk drie?) van hierdie verse het die paal gehaal, wat steeds Ginsberg se statuur as ʼn ongelooflike digterlike krag bevestig en in Afrikaans is sy “Howl” uitstekend deur Johann de Lange vertaal. Ginsberg kon politieke kommentaar met onsentimentele beelde dra sodat die vers bly staan al is die figure vergete. Gaan kyk gerus op You Tube hoe dra hy “America” voor! ʼn Politieke vers word baie maklik ʼn retoriese, afgesaagde, skellerige, beeldarmoedige eendagsvlieg. Marlene van Niekerk bewys wel dat sy oor die digterlike allure beskik om woede te koppel aan digterlike drif. “ek berei ʼn slaai voor die oë van my vader” (opgeneem in die Versindaba-uitgawe) voorspel ʼn welkome  terugkeer na die digkuns. Uiteindelik is die digkuns soos Louis Esterhuizen se “Weerkaatsings” dalk

 

‘n moeë spieël van mis

en verbeelde vloei.

 

Die digkuns is ʼn proses, dit is ʼn gesprek met ʼn tradisie, sowel binnelands as buitelands, met ʼn erkenning van verskillende tegnieke, digvorme, digterlike aanbiedinge hetsy die parlando of meer hermetiese gedig. Sommige digters hou van gedigte voordra, ander verkies die binnekamer. Sommige digters maak selfs gebruik van musiek en videogrepe om die gedig te dra; ander dra hul eie verse swak voor en goddank vir Margot Luyt, Nic de Jager en Antoinette Kellerman se radio-vertolkings.

 

Joan Hambidge

Kaapstad einde Desember 2010

 

 Endnote:

 

 1.

 Joan Hambidge. Nuwe Stemme 4 is ʼn 4×4

 

Nuwe stemme 4

Saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede

Tafelberg, 2010; Sagteband 140 bladsye

ʼn Bespreking deur Joan Hambidge

   

Nuwe stemme is al ʼn instelling binne die Afrikaanse digkuns, ʼn ruimte waar jong digters wat nog nie genoeg verse het vir ʼn solo-bundel ʼn bietjie kan kom uitstal en spog met hul, nuwe ware. Stiebeuel het Sheila Cussons opgelewer. Uiteraard is die begrip “nuut” in enige digkuns omstrede: wat ons dikwels as nuut/anders/baanbrekend ervaar, is al vantevore gedoen. Uys Krige het die praatvers puik hanteer en nou kom dit weer tot sy reg.

Nuwe Stemme 4

Die jongste bundel is saamgestel deur Danie Marais & Ronel de Goede (daardie Ronel Foster wie se bloemlesing van postmodernistiese gedigte, gedoen saam met Louise Viljoen op ons almal se boekrakke pryk). Daar word geen biografiese besonderhede van die digters gegee nie en die leser word verwys na LitNet vir die bio’s – wat van die leser wat nie internet-vaardig is nie? Verder staan daar op p. 62 Maggie Loubser in plaas van Maggie Laubser. Party van die digters praat op die Versindaba se webbladsy; ander kom weer na vore op LitNet. Sommige uitsprake oor die digkuns is naïef. Ander gesofistikeerd.

Dieselfde geld hierdie bundel waar daar sterk heuristiese verse staan, teenoor stroomop-eksperimente. Party digters het ek vir die eerste keer hier ontmoet, ander se werk ken ek uit ʼn LitNet-Skryfskool (soos Bibi Slippers) en drie is oud-studente, naamlik Fourie Botha en Lou-Anne Stone wat formeel onder my studeer het en Corné Coetzee was ʼn skryfskool-kandidaat aan die UP se Winterskool ʼn paar jaar gelede.

Hierdie bespreking wil eerder fokus op tendense as digters. Ons is terug by Neruda se siening dat daar geen digters is nie, alleen ʼn digkuns – ʼn stelling wat Sheila Cussons hier te lande oorgeneem het. Hierdie siening van gesprekke en transformasie vind ons ook in Harold Bloom se studie oor die digkuns: The anxiety of influence (Oxford University Press, 1973).

Die betekenis van ʼn gedig is immers ʼn ander gedig. ʼn Nuwe stem voeg iets by tot die kanon wat reeds bestaan, ontken of verminder/verbeter word. Bloom verwys na die klinamen (of digterlike “misprision”), die tessera ( waar die digter voltooi wat hy ervaar die ouer digter nie klaargemaak het nie), kenosis (oftewel herhaling of diskontinuïteit), demonisering (of die teen-sublieme, wat ʼn mens dikwels in die parodie vind), askesis (of suiwering / solipsisme waar die digter homself probeer wegtrek van enige invloed) en ten slotte die apophrades of terugkeer van die dooies…

 

II

 

Hierdie leser was aangenaam verras met die bundel en in die voorwoord beywer die samestellers hulle dan ook vir die rivier-delta eerder as die stroom of rivier. ʼn Baie relevante en belangrike stelling: die erkenning van die stilistiese en tematiese verskeidenheid as een van die vernaamste kenmerke van die kontemporêre Afrikaanse poësie.

Die samestellers besef gelukkig ook dat alles nie kan/mag nie. “Gelukkig heers daar steeds, soos enige poësieliefhebber weet, breë konsensus oor wat nie goeie poësie is nie” (6).

Trouens, Marais se satire op die Versindaba se webbladsy oor swak poësie lui as volg:

 

Wat swak gedigte weet
Poetry makes nothing happen – W.H. Auden

 

Hoekom depress vrot poësie my dan so mateloos?

 

Vroeër het ek gehoop
dis oor slegte gedigte leuens is
wat soos goue sandale
verlange obseen maak.

 

Ek het gedink dis die voorspelbare vertwyfeling
die Highveld Stereo-hartstog
die emosionele pornografie
die infantiele woordspel
die kreupel rymdwang en die paraplegiese paarrym
die zombie-hallelujas
die grillerige intimiteite en nat klapsoene
die ongesofistikeerde teleurstelling
die hangtiet-ontboesemings in wolke van opdringerige parfuum
die onafgewerkte noodkrete
die selfmoordbriefies vol spelfoute
die onbelese arrogansie
die onbeholpe pretensie
die selfbewuste eerlikheid
die vervelige nagmerries
die macho selfbejammering
die loopmagiese realisme
die voorstedelike surrealisme
die alewige gatkruip by die doofstom Muse
die arseen poeticas
die aansitterige besorgdheid oor die natuur
die kleingeestige politieke prekerigheid …

 

Maar dis alles bysaak –
dis die onmiskenbare waarheid in swak poësie
wat my moedeloos maak.

 

Die goeie gedig is die frats, die leuen,
want die wêreld ís van kak styl en hol retoriek gemaak –
die lewe is ‘n heruitsending van ‘n sepie
die dood bloot formaliteit.

Goeie gedigte is die kopligte
wat jou fataal verblind,
want dis ‘n moorddadig geykte uitdrukking
agter die stuur van dié twaalfton-cliché.
 

© Danie Marais. Feb. 2010

 

So alles kan nie. 

Wat is nuut? Wat beteken nuut? Beteken dit ʼn digter wat soos ʼn “new kid on the block” pas gedebuteer het of beteken nuut uiteindelik ook ʼn nuwe aanslag? En kan ʼn mens iets wat nuut is dadelik bepaal? Of eers by nabaat? Daar is dikwels digters wat in hul tyd oor die hoof gesien is en later ʼn beduidende invloed gehad het. Dan is daar weer digters wie se debute so “anders” en belangrik is dat dit ʼn hele nuwe manier van lees opeis: ek dink hier aan Breytenbach en Cloete, o.a. Beide digters het ʼn leestrategie behoef en beide het digters ná hulle beïnvloed. Ek dink in hierdie verband is Francis Galloway se opmerking oor Breytenbach uiters tersaaklik. 1. Hierdie belydenis van Galloway som presies op hoe nuut Breytenbach se aanslag ervaar was indertyd.

 

III

 

Die bloemlesing plaas die digters nie afsonderlik nie, maar eerder onder hofies soos “Hier en daar”, “Toe en nou”, “Oral en altyd” met woordverklarings ten slotte. Die digter se afsonderlike verse kan jy dan agterin vind met die bladsyverwysings. Die gesprek met Van Wyk Louw (Pieter Hugo, Lou-Ann Stone, Hunter Kennedy o.a.) is opvallend en die Facebook-fenomeen (Slippers) vind eweneens sy beslag in gedigte hier. Die vermenging van Afrikaans en Engels, d.w.s. spreektaal, is opvallend en die gedigte werk dikwels met ʼn gevoel van vervreemding: herinneringe aan hoe dit was/kon wees en die harde realiteite van nou. Die grensoorlog en die letsels van so ʼn sinnelose politieke oorlog word sterk verwoord (Lewies Botha). Genderpolitiek en seksuele ontwaking vind ons ook hier: Fourie Botha se gelade seksuele gedigte en Corné Coetzee se gedig oor bruide bevestig dit. Die rassekonflik is tematies aan te tref o.a. by Marius Swart en André Trantaal.  Maar dit gaan in die digkuns nie om die wát alleen nie, maar veral die hoé iets verwoord word. Die voorkeur vir die loslit-vers is oorweldigend en eksperimente soos Jan A. F. Du Plessis se “episte(mol)ogie”(128) waar die mol as’t ware tussen begrippe gaan of Hennie Meyer se konkrete gedigte soos “Vyf anders as om” (127) waar die leser ʼn gevoude vliegtuigie sien met woorde op. Jou kinderherinneringe word so geaktiveer met die verskillende betekenismoontlikhede wat die woorde inhou. Die leser se assosiasies word hier geaktiveer om die leë plekke in te vul (vol te maak?). Dieselfde geld Francilié Hoek se “mind the gap”(43) waar die leser tussen twee strofes beweeg (tussen platform en trein) om betekenis te skep.   Vir my was die lees van die gedigte rondom temas baie lonend. Die gedigte speel dus ook op mekaar in en kry as’t ware ʼn groter trefkrag. Die verskeidenheid van aanslag is treffend: Hunter Kennedy se lirieke en spel met betekenis (“oop vir misinterpretasie”, 118) neem my terug na Bloom se siening van “misreading” of “misprision” waar die digter vir hom/haarself ʼn eie plek binne die kanon moet vind deur die reeds genoemde tegnieke. Van Wyk Louw en gert vlok nel is duidelike invloede (en vele gedigte van gert vlok speel weer terug op Louw) sodat ons dikwels hier die beginsel van tessera of voltooiing vind. Hunter Kennedy in sy proses (met ʼn sagte blik op Koos Doep) weier om skuldgevoelens te ervaar wat die Afrikaanse gemeenskap tans kollektief versmoor.

 

ek herinner myself aan my pa

hulle moes grens toe gaan

dis nie my skuld nie

 

Groot verseboek is dus hier in ʼn antwoord dikwels, in parodie of teenstem. In hierdie gedig is daar ook ʼn verskuilde siening oor die praatvers en oor uitpraat. Stilbly is nie ʼn opsie nie. Pieter Hugo vereer gert vlok nel (met die i en al!) in sy pragtige “kom in gert kom in kom in”, 124) waar die digter oor ʼn walkie-talkie met gert praat oor sy “beautiful” woorde: die interteks en postmodernisme word deel van die gedig se weefwerk.

Die ander word aangespreek: die blik van buite op die self soos in Marike Groenewald se “voor die lig groen word”(129) waar die blik van die man op die plaastrok haar gyselaar hou in haar eie kar. Paranoia en geweld is immers ons uitvoerprodukte sedert Outspan-lemoene.

In Fourie Botha se “Erediens” (130) gaan dit nie net om kerksake nie, maar die seun se vrees dat sy pa ook sy nek sal knak soos die voëltjie wat deur die dakwaaier getref word. Hunter Kennedy is satiries oor die hemel: dis skynbaar die platteland (131). Sy parodie van Louw klink so op bladsy 134:

 

en ek was ʼn kind

en al die helder wete

van bloed en maagdelikheid

bly eenmaal in my oë

 

met verskillende weergawes in die gedig self. Die apophrades dus of die opstaan uit die dode!

Die Calvinisme agtervolg Lize Viljoen in haar gedig “Calvinis”(137) waar sy haar persoonlikheid beskryf as ʼn kerkbank wat “hard, ongemaklik” is met ʼn mond wat soos ʼn gesangeboek toeklap.

 

IV

 

Nie al die verse is hardegat of sinies nie. Lewies Botha se verruklike “My broer” (113) tref die leser in die maag. Dit openbaar daardie ondefinieerbare moment van ʼn pakkende gedig: die vermoë wat ʼn mens die tegelykertyd-aspek noem van die digkuns. Die digter beskryf eers die dood van die vader en hoe dit op hom en die broer ʼn effek gehad het. En hierna, in die tweede fase van die gedig, die begrafnis van die broer en hoe hy in sy moeder se drome aan haar verskyn.

 

My broer kom kuier gereeld vir my ma in ʼn droom

en vertel haar dit gaan goed.

Wat eet jy, my kind?

Ag Ma, baie lekker, een dag hier en ʼn anner dag daar.

 

ʼn Duif kom sit op my ma se hand

en eet mieliepitte van die oes. 

 

Ek het hierdie gedig voorgelees vir ʼn vriendin op ʼn Saterdagmiddag in die Waterfront, wat onmiddellik aangevoel het dat dit eintlik oor die broer se dood handel. Die kelnerin was ontsteld oor ons beide se emosionele reaksie op hierdie gedig wat ʼn mens kan uithaal en afstof vir lesers: só lyk ʼn vers wat handel oor verlies en pyn en die dood, sonder om sentimenteel te wees. Of melodramaties. Dieselfde geld “Likantropie” (115), neffens hierdie gedig, van Jannie Malan:

 

In die winter van jou kind se dood word jy weer wolf,

groei die skuldgevoel té groot

en drink jy bakhand water uit die wolf se spoor.

 

En ek dink onwillekeurig aan die Ierse digter, Paula Meehan se “Child burial” oor die dood van ʼn kind of aan Lina Spies se klassieke lykdig “Op die dood van Riëtte”.2. Die saamgroepering van die gedigte eerder as die digters bevestig dus my siening van die digkuns (in navolging van Bloom) dat die betekenis van ʼn gedig ʼn ander gedig is. Dat die gesprekke of die tapisserie wat so geskep het, belangrike verbintenisse tussen gedigte skep. Bykans soos ʼn magneetveld.

 

V

 

ʼn Bloemlesing van en in ons tyd sal uiteraard politieke en sosiale kommentaar lewer. En hiervan is daar baie te lese. Trouens, die bundel open met Annie Klopper se “hoe om ʼn dorp te verf” (11) wat in BY bespreek is in die rubriek Verslangs en vir die leser hier volledig opgeneem word. 3. Eskom word gekritiseer – in geen onduidelike taal nie – deur Niel van Deventer en by Marius Swart is daar ʼn bewuswees van ʼn klas- en rasverskil wat mense van mekaar skei. In ʼn satiriese gedig (“Kiepie se klaaglied”, 83) word al die oordele en vooroordele van ons samelewing uitgestal.

 

VI

 

Hoe kan ʼn mens jonk wees en nie oor die liefde dig nie? Ook hiér is die problematiek van die “already said” duidelik aanwesig en die digters stoei (om Bloom weer by te haal) om ʼn eie plekkie in die liefdesson te kry. Breytenbach word geparodieer deur Swart in ʼn “liefdes-e-pos” (93) en Pieter Hugo skryf oor die “Dear John”-brief wat ontvang word, maar wat hy eers later, nadat hy met die honde gaan stap het, oopmaak. Die uitstel van die inligting, maak die impak des te groter en die leser treur saam met die ontvanger van die boodskap (“Honde”, 107).  Ook die Facebook-fenomeen word deur Bibi Slippers ontgin:”OMW!” (88).

(Hugo skryf op sy blog oor hoe hy die vers teruggesnoei het tot sy essensie.)

 

VII

 

Aan die basis van die digkuns is daar ook repressie of verdringing, aldus Bloom. Lewies Botha verwoord dit met hierdie woorde:

 

… terwyl ek myself soek

en my gevoelens in ʼn army-balsak toerits (113)

 

Die geslaagde gedigte is dan, volgens hierdie leser, dáárdie vers wat die emosie terughou, terugsnoei – sodat die werklike impak jou eers veel later tref.

Daarom is ʼn beeld waar die wêreld “sag soos sneeu skuif” van Corné Coetzee onthoubaar (112).

ʼn Bespreking verraai altyd die leser se eie smake of voorkeure. Hoe dan anders. ʼn Mens lees mos vanuit jou eie verwagtingshorison en leeservaring. Hierdie bloemlesing getuig van kreatiewe impulse en ʼn mens voel die begeleidende hande van die redakteurs en ʼn kennisname van die reeds-geskryfde. Un coup de chapeau! Karlien van der Merwe skryf in “Plaasskoollewwie” (61) so:

en sonsyfer deur die groenroes van spykergate.

ʼn Gedig moet met beeldspraak toor, ja. Selfs A.P. Grové gooi hier ʼn draai in ʼn gedig (en luister, hy kón gedigte lees) en ja, tussen die vrye verse deur is daar ʼn distigon! Hiep-hiep hoera. Daar is verwysings na kundalini, lotus en Calvinisme. Hier en die buiteland. Lewe en dood.

 

VIII

 

Die bundel wys ook op kreatiewe angste. Dit is immers die lot van die jong digter wat sy of haar eie plek moet vind in Afrikaans. En Bloom bevestig dat dit is wat die digter dryf. Sleng, kru taal, Maleierafrikaans (Syda Essop) vind ons ook hier. Die ontginning van spreektaal is verruimend; Engelse woorde of begrippe – waaraan talle digters skuldig is – kan dikwels as ʼn maklike uitweg gesien word. Ander lesers sal weer meen dit is ʼn outentieke weergawe van ons dig-soos-ons-praat.

Wie ʼn solo-bundel uiteindelik sal lewer, dit sal die tyd alleen leer.  Selfs hiervoor sal die nederige nee-digters maar moet wag!

4. (Almal kon nie vermeld word nie, vergewe my. Onthou ek het eerder op tendense as digters-met-pense gelet.) Die buiteblad van Michiel Botha is treffend. Kyk ons het nie meer foto’s van die digters nie, omdat daar groter fokus op die gedigte is. Is dit ʼn oorskulp op die buiteblad? Dat ons moet luister na die jong digters se sieninge van die lewe en ontgogeling met politiek? Ook waarskynlik omdat vele gedigte klankmatig is of gewoon lirieke. ʼn Monoloog in stereo, dus. Of soos Camille Paglia meen ons moet luister na ʼn gedig en wat dit wil oordra. 3.

Daar is ʼn spanning tussen die idilliese plaaslewe en die harde werklikheid van Yskor. En Eskom-debakels. Daar is raspejoratiewe – met effek. Hoe dan anders?

Hierdie is nommer vier in die reeks en hopelik sal daar nog nommers wees vir jong digters om te “show case”.

Dis goed om na Karlien van der Merwe te luister en haar beeldspraak te beleef.

Die intertekste in hierdie versameling is goed verwerk en daar was slypskole wat waarskynlik vele van die vratte en moesies uitgewys het.

Hierdie bundel spreek van Kundalini, soos, ons iewers lees, en die inspeel van gedigte opmekaar, het beslis ʼn positiewe effek gehad.

Om poësie te skryf, is nie vir sissies nie.

Kom ons kyk wie publiseer binne die volgende jaar of wat ʼn solo-bundel!

 

Een van die Bothas?  Dalk Corné Coetzee?

 

Joan Hambidge

 

 

Bronne:

 

Bloom, Harold. 1973. The anxiety of influence. New York: Oxford University Press.

Paglia, Camille. 2005. Break, blow, burn. New York: Pantheon Books.

 

Endnote:

 

1. www.litnet.co.za (Besoek op 29 April 2010).

   Wat is jou gunsteling-boek en hoekom?

   Francis Galloway  [2010-04-08] LitNet

 

Francis Galloway oor die boek wat haar lewe verander het: Die jaar waarin Breyten Breytenbach debuteer, was vir my die Jaar van die Sneeu op ons plot in die Vrystaat. Ek onthou vaagweg dat my pa briewe uit Die Huisgenoot vir my ma voorlees waarin mense kla oor die snert wat die nuwe digter, met die naam wat soos ‘n rympie klink, skryf. Anders as Antjie Krog, behou ek nog ‘n wyle my onskuld oor hierdie digter wat die horison van die Afrikaanse poësielandskap radikaal verskuif. Dit verander oornag toe ‘n eksentrieke dosent in my eerste jaar op universiteit die ysterkoei moet sweet vir my leen. My lewe keer linksom.

Die boek met sy pampoengeel stofomslag en afsigtelike tekening maak ‘n totale aanslag op my gemoedelike plaaslike bestaan. Dit dop my bekende en veilige wêreld om en lê ‘n ander polsende werklikheid daaragter bloot. Dit ruk die mat van matriek-idees oor wat poësie is, onder my uit. Dit ondermyn my opvattings oor reg en verkeerd, mooi en lelik, werklikheid en verbeelding.

Die oneerbiedige, sluwe en bitter eende, die blomme met are soos voos rubberpype, die strotbytende en knabbelende karkasse wat hierdie rymlose verse sonder hoofletters en leestekens bevolk, sak snags in volkleurdrome op my toe en skiet my gode en sekerhede in die buik en boud. Terselfdertyd is ek verruk deur die ronde visse met rooi truie, die fontein van sêmaarso, die kopreis van vrees tot saad, die patatranke met die séér ore langs die spoorlyn, die klouter met lanterns soos draakoë op getande dakke om na die grommende maan te kyk. Dit was daar in oorvloed, boordensvol: die fantastiese, die sintuiglike, die sap van die lyf, die sáámbestaan van verskriklik en verruklik, dood en lewe, ontbinding en buitelende groei.

Sedertdien loop ek soos ‘n hans Grietjie op die spoor van die woordklippies wat hierdie digter-denker strooi. Die (ver-)dwaalpaaie lei my telkens na mirakelland, want ander wêrelde, ander moontlikhede bestaan mos. En al hou my gids nie by sy vae belofte van ek-hou-op-die-smal-paadjie-van-een-werklikheid-en-vermy-rondspringery nie, bly hy beweeg, vér anderkant bevryding, want niks is vir ewig gewen nie – of waarskynlik vir ewig verloor nie.

* Bydrae tot Theo Kemp se artikel “Pampoendag vir die maer man met die groen trui”, De Kat, Sept/Okt. 2009:31-32

 2.

 http://www.consolatio.com/2006/11/paula_meehan_ch.html (geraadpleeg 1 Mei 2010).

 

Child burial

Your coffin looked unreal, 

fancy as a wedding cake.

I chose your grave clothes with care,
your favourite stripey shirt,

your blue cotton trousers.
They smelt of woodsmoke, of October,

your own smell there too.
I chose a gansy of handspun wool,

warm and fleecy for you. It is
so cold down in the dark.

No light can reach you and teach you
the paths of wild birds,

the names of the flowers,
the fishes, the creatures.

Ignorant you must remain
of the sun and its work,

my lamb, my calf, my eaglet,

my cub, my kid, my nestling,

my suckling, my colt. I would spin
time back, take you again

within my womb, your amniotic lair,
and further spin you back

through nine waxing months
to the split seeding moment

you chose to be made flesh,
word within me.

I’d cancel the love feast
the hot night of your making.

I would travel alone
to a quiet mossy place,

you would spill from me into the earth
drop by bright red drop.

 

3. Hierdie rubriek is geskryf op versoek van Jo Prins vir BY (“Verslangs”) oor die gedig van Annie Klopper “Om ʼn dorp te verf”.  Dit verskyn 1 Mei 2010.

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

 

“Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf”

 

Skryf op snippertjies papier:

berg, bamboes en blom,

verder: boom en stroom en droom,

en skommel telkens om.

 

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar – sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang – selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005):”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig.

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.

“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns.

Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

 

Joan Hambidge

 

 

hoe om ‘n dorp te verf

 

          begin by die posbusse –

massiewe gholfballe, skoene, pampoene

geskakeer met fyn skadu’s van roes

verf dan die skoolbusse

skeur die banke en skryf op die dak

woorde wat rym met “oes” en “ak”

(onthou om spelfoute te maak)

skets die skoolmure na aan mekaar

om drome in te perk en daar te bewaar

teken dan ‘n tandlose vrou by die drankwinkel-till

‘n skoolrok by die kliniek in ‘n ry vir die pil

‘n beroofde bejaarde wat op ‘n sypaadjie bewe

‘n horlosie op ‘n kerktoring sonder ‘n sewe

‘n kind wat rook agter ‘n stegie se muur

en bergies wat baklei langs ‘n uitgebrande vuur

laat alles dan verbleik en verweer

spoeg op die sypaadjies

boor gate in die teer

en herhaal

‘n paar honderd maal

            Herhaal

 

Annie Klopper

 

4. www. Versindaba.co.za (Geraadpleeg 1 Mei 2010).

Hennie Meyer: ʼn nederige needig

Die poet met die pot as ʼn pet …

Tuesday, May 4th, 2010 | Nuut op Versindaba.co.za.

Trackback from your site.

 

2.

 

Johann de Lange:  Judasoog  Die Volksblad

ʼn Keur uit die gedigte van Johann de Lange

H&R  Isbn 978 0 7981 5149 8

144 bladsye

Resensent: Joan Hambidge

Akwarelle van die dors. Dit is nie alleen die titel van Johann de Lange se debuutbundel nie, maar dit is hoe ʼn mens hierdie ryk geskakeerde digkuns kan tipeer. Dit is ʼn digkuns van die paradoks, van onvervulling en juis hierom is daar ʼn intense belewing van die oomblik en die skoonheid in verval. ʼn Mens sou De Lange se poësie onder verskillende noemers kon plaas: die verhouding met die gestorwe vader wat soos ʼn herhalingsdrang deur die hele oeuvre beweeg (die digkuns en prosa), die gesprek met Ingrid Jonker, Sheila Cussons en N.P. van Wyk Louw. Die digter word (verkeerdelik) tipeer as gay-digter. Hy het van die sterkste verse oor hierdie tema in Afrikaans gelewer (veral in Nagsweet), maar De Lange het ʼn Januskant. Hy is sowel cruiser, gay-digter as besinger van die skoonheid. Hierom die gesprekke met en herdigtings van o.a. Dickinson, Baudelaire, Rilke, Auden, Edmund White; nader tuis, Opperman, T.T. Cloete, Ina Rousseau, Wilma Stockenström, o.a. Henning Snyman skryf op die agterblad tereg:”Binne die geestelike diepgang van sy verse kom die beeld ágter die beeld te voorskyn”. Dit is ʼn raak opsomming van die besondere beeldvermoë. Wat hierdie bundel uiters waardevol maak vir die waarderende leser, is die handvol nuwe verse wat ook opgeneem is in hierdie keur. Hier vind ons openlike gay-gedigte (die een is ʼn versweë antwoord aan ʼn ander digter) en ʼn lieflike vers oor Marilyn Monroe. Daar is ʼn vers oor Golgotha waarin die digter die moderne tegnologie aanwend soos google, sms, twitter, blog, ensomeer om te probeer bepaal hoé die moderne media-behepte mens sou reageer op die fenomeen Jesus Christus. Bekende digterlike temas tref ons hier aan: die liefde, dood, kortstondigheid van ons bestaan, die verhouding met die werklike en digterlike ouers, die “naakte algebra” van die gay-bestaan, gedigte oor dwelms en Vigs, verse oor ikone (soos Monroe, Kurt Cobain) ensomeer. ʼn Mens is opnuut onder die indruk van die digter se besondere vermoë om die gedig op ʼn sekure slot af te stuur:

 

Ek soek in die falende lig

na die slot van my gedig (126, “Slot”)

 

Hier gebruik die digter die wêreld-van-die-digkuns om die werklike lewe te beskryf, iets wat regdeur die oeuvre loop. Die intratekstuele en intertekstuele aanslag kom nou helder na vore en in ʼn keurbundel kry gedigte dikwels ʼn nuwe betekenis, omdat hulle nou langs ander verse lê. Die Judasoog van die bundel betrek nie alleen die eksplisiete seksuele verse soos “Loergat” (uit Nagsweet) nie, maar aktiveer die posisie van die leser as voyeur wat die private bestaan van die digter betree. Trouens, jonger navolgers van De Lange het beslis nie die vermoë om die eksplisiete en selfs transgressiewe beeldgebruik so oortuigend te gebruik nie. Die digter kan nooit van kitsch of grillerigheid beskuldig word nie, al dig hy oor reeksmoordenaars wat tot simbole verhef word. Selfs die gebruik van die plat woord (soos in “Tongnaai 2”) word metafories so in beheer gehou dat ʼn mens net jou hoed kan afhaal vir die digterlike energie. Wordende naak en Nagsweet, uit 1990 en 1991 onderskeidelik, bly my twee gunstelingbundels. In die middel van die oeuvre – en al die ander bundels voorspel en keer weer terug na hierdie twee suiwer bundels. Die Orpheus-mite is ʼn belangrike sleutel vir die begryp van hierdie digkuns met sy vele “correspondances” en “blomme van boosheid”.

Van die Tierra del Fuego tot aan die ysvlaktes van Groenland, van die Kaap tot Wladiwostok, vibreer hierdie gedigte met hul fyn toespelings op die Griekse mitologie en ou wyshede. “Daar is geen einde aan die skep van tekste nie,” lui die motto uit Prediker 12:12.

Johann de Lange is eweneens ʼn begenadigde vertaler (soos sy vertalings van Stockenström bewys het) en ʼn besóndere kortverhaalskrywer.

Maar dit is in sy digkuns waar ons onder die indruk kom van ʼn suiwerheid:

 

Die sagste wat ons het, die taal,

bestaan solank ons asemhaal. (“Taal”, 123)

 

Hierdie digkuns is bekroon met die Ingrid Jonker- en Rapportpryse.

Sy oeuvre word feitlik ʼn register van emosies, fel en diep, skryf Snyman. En dit is presies hoé dit is.

 

Beeld-kyk

 

Net die oog: ooglidloos

en ingedagte in marmer,

‘n gaatjie geboor

om ‘n soort pupil

– paradoksaal, want: pupil

is juis nie gaatjie nie,

maar: ‘n soort anemoon

met sluitspier kompleet –

te simuleer. En juis

die gaatjie: die gaatjie

gee jou daardie kyk,

daardie serene uitdrukking,

en is die verskil

tussen jou en my:

jy: soos klip,

ek: soos anemoon.

 

(uit: Akwarelle van die dors, 1982).

Die digter het self die verse gekies; ek sou waarskynlik nog bygesit het! Human & Rousseau se projek om keurbundels vir belangrike digters te gee, moet beslis aangeprys word – nes ʼn mens die wingerd prys.

 

Joan Hambidge

 

3. Joan Hambidge

Repliek in Rapport

 

In sy lang repliek op die kritiek van die nie-toekenning van die Ingrid Jonker-prys vir Engelse poësie, verwys Rustum Kozain na die kritiese vituperasies wat hy as ongelukkig en onverwags beskou.

Onverwags?

ʼn Mens kan miskien net aan Rustum Kozain uitwys: Afrikaanse letterkundiges is nie aan die slaap nie. Hierom die kritiek van my, Daniel Hugo en Johann de Lange op hierdie verbysterende oordeelsfout. Maar kom ons begin by die begin; ʼn goeie plek om te begin. Do-re-me!

Wie is Rustum Kozain om die appelkar om te smyt van ʼn gevestigde en prestigeryke-prys?

Sy hele skrywe (die volledige antwoord is te lese op www.Versindaba.co.za) sit vol vreemde beskouings. Soos dat die komitee uit vrywilligers bestaan. Presies hier begin sy hele argumentasie skeef te loop, want as hy nie wou deelneem nie, moes hy van die begin sy volunteer-skap opgehef het.

Dan wys hy daarop die beoordelaars geen vergoeding ontvang nie. So? Wat daarvan?

Hy verwys na die ondankbare werk wat Louis Esterhuizen al vermag het. Die woord ondankbaar is helaas maar part en deel van menige literator en skrywer se werk.

Maar waar hy veral begin kleitrap, is wanneer hy wys op dispute: soos ʼn digter wat reeds in een taal gepubliseer het en nou in ʼn ander taal debuteer. Hoe nou gemaak? Dit is duidelik dat die Ingrid Jonker-prys ʼn prys vir beginners is. Dus, Petra Müller kan nie bekroon word vir haar Engelse debuut nie, want sy is geen groentjie nie. Sy het reeds die Hertzogprys in Afrikaans verower – om ʼn voorbeeld uit my hoed te haal. Ek was nie op die komitee nie.

Die gees van die Ingrid Jonker-prys is tog glashelder, nie waar nie?

Dan praat hy van die teleurstellings en ontsteltenisse rondom die prys. Liewe vader, pryse is gelyk aan teleurstelling, omdat net één persoon kan wen. ʼn Ou grap van my: ek het die Ingrid Jonker-prys teen Donald W. Riekert verloor.

Donald wie?

Die regulasies wat hy eis, is tog glashelder soos Daniel Hugo alreeds uitgewys het, net toe hierdie bom gebars het.

En hoe gemaak met ʼn debutant in ʼn ander land?

Ag kom nou. Isobel Dixon, om ʼn voorbeeld te neem,  kwalifiseer beslis; sy is Suid-Afrikaans gebore. En natuurlik mag ʼn self-gepubliseerde digter in aanmerking kom. Of ʼn rap-digter op ʼn CD of ʼn besoeker met ʼn visa (as hy/sy gelukkig is) hier publiseer.  DIT IS ‘N PRYS VIR ALLE DEBUTANTE.

Impasse?

Rustum Kozain noem hierdie non-toekenning ʼn impasse? Hy praat van die “excoriating” kritiek wat hy moes verduur. So is die so. Elke plig het ʼn

rekening.

As hy my sou vra, kan ek vir hom ʼn lys verskaf van die afgelope tyd se digters en uitgewers. Ek sou selfs vir hom die boeke kon leen.

Rustum Kozain se oor die tweeduisend woorde-verskoning maak alles net erger.

Pleks dat hierdie energie lank terug ingespan is om probleme uit te stryk, verduidelik hy waarom hy nie sy werk gedoen het nie. Dit wil my voorkom dat hy nie verwag het dat die laksheid van die komitee soveel reaksie sou ontlok nie.

Goddank, nie alle digters hier te lande word wol oor die oë getrek nie. En as hy werklik wil weet wat fel kritiek behels, word hy onverwyld verwys na die Engelse of Amerikaanse letterkunde.

Dáár sou alle hel losgebars het. Ek sien in my geestesoog hoe Carol Ann Duffy ʼn satire oor hom sou skryf en Camille Paglia van hom ʼn polemiese sosatie sou maak.

Hy weet nie wat fel kritiek behels nie.

Hy moes liewers hierdie Bisantynse verduideliking gelaat het en saam met die komitee sy werk gedoen het.

Die eerbare ding sou wees om die Ingrid Jonker-medalje terug te gee, aangesien hy geen respek vir hierdie prys en die tradisie van die Ingrid Jonker-nalatenskap openbaar (het) nie.

Aangesien geld vir hom belangriker is as ʼn simbool, daag ek hom uit om dit onverwyld te doen saam met die ander loodswaaiers. Dis nou as die medalje nie al verpand is vir ʼn drinkgeldjie nie. Of as ʼn deurstopper gebruik word nie.

 

Joan Hambidge

 

 

4. Die stand van ons poësie  Rapport

Joan Hambidge  

 

Die Afrikaanse digkuns word veral deur die Versindaba-webwerf lewend gehou. Die gedigte wat hier verskyn is van die bekendes soos Daniel Hugo, Johann Lodewyk Marais, Marlise Joubert en andere, terwyl digters ook hier blog. Dit gee dikwels aanleiding tot skermutselinge tussen digters. ʼn Mens sou breedweg die debatte kon tipeer as simpatisante van die praatvers versus die meer hermetiese gedig. Beide maniere van dig het ʼn reg op bestaan en die verskillende stemme en manier van doen (rym?), dui op ʼn lewenskragtige letterkunde.

Op LitNet verskyn daar ook gedigte, maar van ʼn mindere allooi. Dit is eerder die plek vir beginners, hoewel die Litnet-aanlyn-skryfskool ʼn uitstekende ruimte bied vir jong digters om onder ʼn jonger en meer ervare digter geslyp te word. Dus Roof Bezuidenhout en Lina Spies. Jo Prins en Joan Hambidge.

Nie alle digters is bereid om hierdie soort leiding te verskaf nie, omdat die “raad” veral gelees word deur mede-digters.

Hoe lyk ons poësie tans?

Wel, veral met Nuwe stemme 4 (behartig deur Ronel de Goede en Danie Marais) was hierdie leser onder die indruk van ʼn veelheid van nuwe stemme. Digters wat aktief nuwe tegnieke of temas aansny, selfs Facebook gebruik. Tog bly hierdie leser veral geïmponeer met nuwe stemme wat ou temas ondersoek en in hierdie verband is die digkuns van Lewies Botha en Fourie Botha vir my besonder sterk in die gevoelige wyse waarop daar oor die vader geskryf word.

Ons het onlangs ook die solo-debute beleef van Melt Myburgh se Oewerbestaan (Protea) wat sterk verse bevat oor sy jeug en Martina Klopper se Nadoodse ondersoek (H&R) waarin die leser ʼn soort forensiese patoloog word met die gedig as lyk. ʼn Bykans kliniese manier van dig wat sterk inspeel op Opperman se spaars woordgebruik en gedistansieerde aanbod.

Nou onlangs was Johann de Lange se Algebra van nood op die rakke, nes  sy simpatieke keur uit Lina Spies se gedigte en vertalings van Wilma Stockenström.

Johann Lodewyk Marais se bundel  Diaroma (Protea) met die volgehoue gesprek met N.P. van Wyk Louw is ʼn bestendiging van ʼn sterk stem.

Om my te weerhou van ʼn blote enumerasie van wie gepubliseer het die afgelope tyd (ʼn volledige lys is beskikbaar op die Versindaba se webruimte), is dit lonender om te kyk na tendense. In hierdie opsig is dit byvoorbeeld opmerklik dat die kanonisering van die Afrikaanse digkuns radikaal verander het weens die internet wat sieninge oor wat poësie is voortdurend verskuif en uitdaag. ʼn Mens dink hier o.a. ʼn wedstryde vir digters soos die Hipertekspoësie-kompetisie op Litnet. Hier klik jy op ʼn woord en ʼn ander wêreld maak agter die woord oop. René Bohnen het met haar gedig oor Toulouse Lautrec (1) gewen, maar daar was ook bydraes van Roof Bezuidenhout wat op sy beurt weer die konvensionele siening van wat ʼn vers is, uitdaag met sy begeleiding van ʼn gedig.

Waarskynlik het die Groot verseboek (in ʼn blik) ook bygedra tot ʼn verskuiwing in die algemene opvatting oor wat die digkuns behels deur André P. Brink se ruimer siening van die digkuns. Digters wat nog net in die Nuwe stemme-reeks gepubliseer het, is opgeneem sonder dat hulle verse in solo-bundels die “toets van die tyd” deurstaan het.

Vir vele lesers van die Afrikaanse digkuns verskyn daar, veral op webruimtes en in klein antologieë, gedigte wat volgens húl siening van die digkuns nie as gedigte per se kwalifiseer nie. Hierdie leser se persoonlike voorkeur is die digkuns wat getuig van ʼn tegniese kennis. Die lees van glossariums oor digterlike terme is ʼn beginpunt vir enige jong digter.

Maar gedigte moet telkens uitdaag, die vormlike en tegniese aspekte probeer verander en verruim. En die toets van die tyd sal uitwys of ʼn digter wel ʼn wesenlike verandering meegebring het of beskou kan word as ʼn “normdeurbrekende” digter.

 Dikwels word hierdie soort uitsprake gemaak, terwyl die ink nog nat is.

Daar het vele digters in Afrikaans gekom, maar veral verdwyn.

O, pazienza, pazienza che tanto sostieni, soos Dante opmerk. Dante via Leipoldt via ons webwerwe.

Joan Hambidge

Hipertekspoësie-kompetisie: Toulouse-Lautrec 

René Bohnen

Toulouse-Lautrec

Spatsels kleur wat ek sterrehoog lanseer
in ‘n reënboog van gebreke en gebede,
drup soos taai absint se wase neer
op can-can-poppe en Henri-hoepelbene.

My olieverf-oë vloei oor kaskades kant
waar mans na vinnige dye vlug.
In jolige kroeë lispel ek ʼn klam konsonant
terwyl ons verwarm in kwynende lig.

Pluiskeile kom hyg in donker silhoeët
by vrugte uitgestal op rooi fluweel.
Skaduwees sug bo die blitsduet
wat uitblom in vannag se dronk bordeel.

My kwas streel in leë lig op die moeë vloer
oor die sifilis en skoon hart van ‘n hoer. Rustum Kozain  Rapport  Pieter Malan

Joan Hambidge

Repliek 

 

5. Verslangs  Joan Hambidge  BY  Jo Prins

 

Die betekenis van ʼn gedig is nog ʼn gedig, het Harold Bloom op ʼn keer beweer. En hierdie dorp-gedig aktiveer bekende verse oor dorpe soos Peter Blum en T.T. Cloete se dorp-gedigte onder andere. Die spanning tussen stad/platteland gaan terug tot Trekkerswee. Dit is nie net ʼn gedig oor ʼn dorp nie, maar ʼn aanwysing hoe om ʼn dorp te verf, dit wil sê, verstaan (of dekodeer) en dan ʼn gedig daaroor te skryf. Eers die onskuldige dorp (met sy posbusse!) wat oorgaan met geweld in die idille. Opperman se beroemde vers uit Kuns-mis (1964) is dan by implikasie in die gedig “opgesluit” of lê dalk soos ʼn brief in daardie posbus:

 

“Hoe om ʼn bundel Chinese poësie te skryf”

 

Skryf op snippertjies papier:

berg, bamboes en blom,

verder: boom en stroom en droom,

en skommel telkens om.

 

Die gedig van Klopper lewer politieke kommentaar en is sydelings ironies oor die taal wat lesers as grensoorskrydend ervaar – sy versag dit dan vir die leser van die gholfbal-posbus tot “oes” en “ak”. (ʼn Mens dink hier aan lesers se verontwaardiging oor Antjie Krog se gebruik van die p-woord in ʼn gedig.) Verder is daar kritiese kommentaar op ons tydsgewrig waar woordeboeke nie meer geraadpleeg word nie en spelfoute op die internet gedy. Die moderne media het die skryfproses radikaal verander en skryf het ʼn vinnige, onmiddellike reaksie geword. Die gedig beskryf die agteruitgang in die sosiale orde: daar is graffiti op die mure en drank/dwelms verwoes menselewens. Selfs die jong skooldogter wag al in ʼn ry vir die pil by ʼn kliniek wat dit gratis uitdeel.

Hierom is die reël “om drome in te perk daar en te bewaar” erg ironies. Selfs die kerk kort  ʼn sewe (7 staan vir die ewigheidsgetal): die Orde van Geloof is aangetas in hierdie dorp. Die uiteindelike “skildery” van hierdie dorp (en dus ook die gedig) is uiters negatief: hierom woorde soos verbleik / verweer / spoeg / boor. Om hieroor te skryf, sal ʼn paar keer herhaal moet word wat dui op die sinneloosheid van die daad. Die gedig kan niks doen aan die orde wat aan die verval is nie. Op alle vlakke is die leser bewus van die “fyn skadu’s van roes” van agteruitgang – selfs die bejaardes word nie ontsien nie. Die gedig speel sterk in op die onbewuste van paranoïa wat die Suid-Afrikaanse landskap (die “political unconscious” in Fredric Jameson se woorde) kenmerk.

Alles roes in hierdie kleurlose gedig.

Camille Paglia skryf in Break, blow, burn (Pantheon, New York, 2005):”Every reading is partial, but that does not absolve us from the quest for meaning, which defines us as a species”. En wanneer sy oor ʼn gedig skryf, luister sy daarna en probeer ʼn taal en toonaard vind wat pas by die idioom van die gedig.

Ek hoop ek het reg geluister.

Want woord skep wederwoord. En “art generates art”, besluit Paglia.

“Poets must remember their calling and take stage again”. Nie net saam met Fokofpolisiekar nie, maar met die ware digkuns.

Die digkuns moet weer die dorp rooi verf.

 

6.

Jonathan Locke Hart   Die Burger

Dreamwork 

AU Press, Athabasca University

Isbn 1917 9405

98 bladsye  Sagteband

Resensent: Joan Hambidge

 

Jonathan Locke Hart is ʼn bekende Kanadese teoretikus en ʼn digter van format. Dreamwork is op die internet beskikbaar en vir die begeesterde leser is hierdie ʼn bundel

ʼn staning op die boekrak werd. Dis uiters delikate gedigte wat soos die Japannese tanka en haikoe met min woorde werk. Maar onder die subtiele, min woorde – Opperman sou praat van spaars – word die leser uitgelok om die leë plekke in te vul. Die gedig is die droom; en die droom word ʼn gedig.

Die titel aktiveer Freud se beroemde Interpretasie van drome (1900) en al die psigoanalitiese interpretasies róndom drome. Die bo- en onderbou van die droom. Dieselfde geld die gedigte wat die leser laat nadink oor die betekenis wat in die gedig skuilhou; bykans soos wanneer ʼn mens tob oor die droomwêreld wat jy sopas verlaat het en die implikasies wat dit mag inhou. ʼn Waarskuwing?

ʼn Boodskap?  Tog is die droom ook niks nie:

 

Dreams are unacknowledged

 

And, being nothing

Legislate nothing (5).

 

Digters is egter, soos Shelley geskryf het, “the unacknowledged legislators of the world”.

 

Die digter aktiveer al die moontlikhede van die droom. Die gedigte is genommer en gedig 23 begin so:

 

The distance from New Haven to Princeton

Is more than a metaphor. The scar

In Manhattan is hard to imagine

The people remarkably calm.

 

En dan vertel hy van die drome wat al deur New York beweeg het en die leser dink aan Delmore Schwartz se
“In dreams begin responsibilities” en skielik staan jy voor 9/11. Skielik draai hy die gegewe óm in die gedig. Nou beweeg ons van Princeton na New Haven, daar waar Wallace Stevens se groot gedig skuilhou en die gedig sluit:

 

The ghosts can do nothing to heal

The unsleeping horror of terror and violence.

 

In my eksemplaar het ek vele potloodmerke gemaak by gedigte waar die metaforiese lading tref. Tonnels, die “underground”, reise, die dood word behendig saamgebind:

 

92.

 

Another burial, never the last,

Takes away. The dun earth

 

Receives its guest: as the moon

 

Wanes, the dew melts.

 

Words come and are undone

But stay for now, this sturdy dream.

 

Die dood is ʼn ruimte waar mense veilig is: ʼn plek van geen bomme (93). Ook Vigs word in die verse aangespreek (“the place of poetry in a plague time”, 49), maar die digter probeer telkens wegbeweeg van die grusame werklikheid na die brose ruimte van die droom. Na die versugting van ʼn tyd voor metafore en treine, soos hy opmerk in gedig nommer 30.

Die onmag van die gedig om die werklikheid te verander, word verwoord in gedig 33:

 

Stanzas // Cannot hold the world, contain the day.

 

Die tegelykertydaspek van die gedigte is meesleurend. So dig hy in 52:

 

Something futile: crafting

A poem translating a dream

 

Into words. The possible world

Takes hold …

 

ʼn Verdere juweel staan op bladsy 58:

 

The prose of love

Will not live

 

Will stutter, words

Loose and absurd.

 

Daar was ʼn tyd voor treine en metafore, waarsku die digter. Boonop sukkel ons om by die werklikheid uit te kom. Daar is vele intertekste, verhuld, veral na die Ooskus-Amerikaanse digters. Dit is ʼn digkuns waarin die digter bewus is van die kortstondigheid van die lewe: daar is helaas te veel geskiedenis en te min tyd!

Wat ʼn lieflike bundel is dit nie! Cleanth Brooks se “the well wrought urn” is die beste beeld wat ʼn mens kan vind om hierdie pragbundel mee op te som wat die ware digter uitsonder van die babbelbek. Suggestie, min woorde, metaforiek, subtiliteit.

En, less is more.

 

Toevallige tekens

Thursday, November 18th, 2010

Toevallige tekens. Gedigte deur Martjie Bosman. Protea Boekhuis. ISBN 978-1-86919-400-0. Prys: R150. 80 bladsye. Sagteband.

Toevallige tekens
Toevallige tekens

Met verse in die tematiese bloemlesings Groen (1990) en Ons klein en silwerige planeet (1997), en met haar solodebuut, Landelik (2003), het Martjie Bosman die aandag getrek as ‘n digterstem met ‘n besondere ekologiese sensitiwiteit.

Dié sensitiwiteit betref die natuur in die breë, maar sluit spesifiek ook ‘n verbondenheids- en verantwoordelikheidsgevoel in jeens Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse platteland (waaronder ook die Afrikaanse erfenis),  én jeens Afrika.

As “groen” digter is die soms opstapelende benutting van eie- en soortname as ‘t ware ‘n konkrete manifestasie van Bosman se respek vir en sorg om die verskeidenheid en integriteit van identiteite te midde van bedreigende omstandighede. In Toevallige tekens is daar byvoorbeeld Kamante, “[d]ie seun met die sere aan die been”; of “dokter Clara Santos / met die oë vol van mededoë”; of Flora Mavundla, wie se man “maandeliks / van die myn af ‘n deel van sy loon [stuur] / sodat sy kan sorg van die kinders”; of Sophie Lubisi, “donker en klein”. Maar ook plekname soos “Shongwe Mission Hospital”, Beira, Kigale, Mbozini, Gstaad, Taag en Twickenhamlaan; en spesiename soos eendagskoon, laventel, katjiepiering, mikstert, diederik, witstinkhout, tipuana, swartwitpens…

In die gedig “Mutilados” word die verminkte vroue van die bevrydingstryd in ‘n voormalige Portugese kolonie gedenk aan die hand van hulle welluidende name alleen – en waaronder die naam “Maria” herhaaldelik opklink ter versterking van die indruk dat die noem van die name ‘n roubeklag met religieuse newetone word.

In ‘n paar gedigte in Landelik het Bosman reeds die onmag van taal en poësie bely om die verskynsels en ons belewenisse daartussen enigsins indringend of omvattend weer te gee. Hierdie tweede bundel van haar begin weer met so ‘n gedig:

 

Op die spoor

 

Wildernis is nie eenvoudig nie.

Sou dit maar iets aan ons wou wys,

iets wat soos ‘n helder fluit styg

uit swamme op ‘n verrotte stomp.

Sou ons ‘n duidelike woord kon vind

vir die kort lewe van termiete

en ‘n bruin arend behoedsaam op ‘n tak.

Wat is al gesê oor ‘n dooie buffelkalf,

die woekergroei van waterhiasint?

Swart miere streep oor ‘n pad.

‘n Kiewiet weerkaats in ‘n poel.

Bruin kewers in ‘n lae web gevang.

Sou ons maar ‘n metafoor kon vind.

‘n Patroon om af te lei.

‘n Verhaal om te vertel.

In die sand lê spore kruis en dwars

en droë blare val daaroor.

 

Die bundeltitel, die veelseggendheid daarvan betreffende die menslike seggingsonmag, weerklink in die slotgedig, met ‘n ewe veelseggende titel en ‘n treffende beeld as ruggraat:

 

Toevallige digter

 

Aan die kern sit kennelik

die werkwoord “val”,

aangelap met setsels:

in-, toe-, by- en voor-.

Soos ‘n meteoriet

breek iets skielik

deur bufferlae

om die afgeplatte bol,

ontbrand en pyl

met ‘n vuurpad

tot in ‘n nagtelike tuin

waar onder fosforglans

die swart swaan

‘n oomblik lank verskyn.

 

Ons staan, luidens die bundelmotto wat Bosman aan N.P. van Wyk Louw se werk ontleen het, met ons tekortkominge en met dié van die mensetaal voor “dié Woord

/ vol bybetekenisse en bowe-tone, / té vol vir bloot net beteken en betekenis”. Inderdaad: “Wildernis is nie eenvoudig nie.”

Tot die “bybetekenisse en bowe-tone” van die werklikheid behoort ook die onontkombare verganklikheid. (Vandaar die foto van ‘n versnipperde eendagskoon-kelk op die voorplat.) “Life is very unusual,” haal Bosman vir Nassim Nicholas Taleb aan as motto van die slotafdeling van haar bundel. Dit wil sê: Die lewe is nié die reël in die skepping nie, én dit is (daarom) wonderbaarlik, selfs paradyslik om te ervaar:

 

            Ek soek nog na ‘n metafoor

vir die vergaan van ‘n lyf,

tevergeefs in hierdie soet seisoen.

As die rose pieringgroot oopvou

[…]

bly die metafoor van aftakeling

my gelukkig nog ontwyk.

In hierdie soet seisoen

sal ek nog talm by dié tekens

in hierdie tuin van alle liefde.

(“Soet seisoen”)

 

Dieselfde geld tale en digkunste. Ek het ‘n knop in my keel betrap by die lees van die slotgedig van afdeling 2:

 

Vanishing voices

The extinction of the world’s languages

  • – Daniel Nettle & Suzanne Romaine

 

Hoe onvoorstelbaar eensaam moet die laastes wees

wat nog woorde van gewone dinge weet,

hoe onvoorstelbaar eensaam die ore wat nooit meer

die woorde hoor waarmee die dinge genoem is nie.

Hoe eensaam die stemme wat vergeefs die son besing,

hoe eensaam as die koue nou net joune is,

as die wind jou roep vergeefs oor die vallei wegdra.

Hoe onuitspreeklik eensaam dat niemand jou verstaan

as jy sou sê nie: “Ek vrees dat alles doodstil raak.”

Hoe onuitspreeklik eensaam die kennis

dat in jou mond die sinne stol, die woorde

waarmee jy behoort het aan ‘n verlore stam.

 

Dis juis afdelings 1 en 2 waarin verminking, lyding, misdaad, doodslag en die gepaardgaande vrese van die huidige Suid(er)-Afrika in die kollig staan, sodat ‘n “[h]esperiese neerslagtigheid” selfs dreig om die subjek in die gelyknamige gedig te oorval. Toespelings op bekende gedigte van Ingrid Jonker, D.J. Opperman, Van Wyk Louw en Toon van den Heever word effektief benut om (onder meer) verwilderende hede met identiteitsbevestigende verlede te kontrasteer. En klink iets van C. Louis Leipoldt se “‘n Handvol gruis uit die Hantam” nie ironieserwys deur as die “breek-en-gryp”-slagoffer haar besittings byeenraap in die volgende gedig nie?

 

            Handsak

 

By die plek van breek-en-grypslae

lê besittings argeloos uitgestrooi:

Uit al dié dinge van min waarde

sal ‘n mens dalk ‘n lewe kan herbou –

‘n gesig kyk uit ‘n natgereënde

paspoortblad bleek na boontoe;

‘n rybewys skuil half onder gras;

tussen bou-afval lê ‘n besmeerde

ID-boek ouderdom en blyplek bloot;

‘n verwese sakdoek verkondig

intieme nommers van bekendes,

die huisarts, die versekeraar;

lipstif, ‘n bril, ‘n hoofpynpil,

kaartjies vir die simfoniekonsert.

Ek raap dit alles blindelings bymekaar,

probeer onthou hoedat ek gister was.

 

Téén hierdie vernietiging in voel die digter “dat jy nou / alle vensters oop moet maak / om in die woonhuis van die sinne / die kortstondige geilte te behou” (“Bosveldvisvanger”); dat die verskynsels aangegryp beleef en byvoorbeeld onder woorde gebring moet word om miskien so iets daarvan te bestendig. Dít is die sentrale tematiek van afdelings 3 tot 5 in die bundel. Één voorbeeld van hoe Bosman sodanige intensies glansend in vervulling laat gaan:

 

Wolf op die tweesprong

Na ‘n foto van Jim Brandenburg

 

Hy het reeds sy staanplek

op die ysskots verlaat

en gespring.

Sy skraal skadu weerkaats

swart in die ysblou water:

onbeduidend onder die groot groot lug,

onbeduidend op die spieëlsee, diep en koud,

onbeduidend teen die dreiging van grys wolke.

Maar op hierdie oomblik, nou,

waag hy die sprong,

sweef hy vry in sy onveiligheid,

los en bly oor alles wat syne is:

hiérdie stuk dryfys, hiérdie see,

hiérdie uitgestrekte yl bestaan.

 

Myns insiens kry Bosman dit in hierdie bundelafdelings reg om plek-plek eggo’s van ander digters se werk – hoor ‘n mens nie byvoorbeeld Wilma Stockenström en T.T. Cloete fynweg deurklink in dele van bostaande vers nie? – in ‘n verdere intertekstuele funksie te benut: die aktivering, sodoende ook bewáring/wáármaking, van ‘n literêre tradisie.

Die belydenis aangaande die digterlike seggingsonmag vind myns insiens funksionele uiting ook op stilistiese en vormlike vlakke in Toevallige tekens. Pretensies dat ‘n omvattende of deurvorsende greep op die dinge moontlik is, word vermy. Vryeversvorme word hoofsaaklik ingespan, soms met vaster geneigdhede, soos eindrym wat meer “toevallig” as volgens vaste patrone opduik. Wanneer vaste vormgewing wel voorkom, soos in “Die kind van Kigali” (met sy eggo’s van een van Ingrid Jonker se beroemdste gedigte), voeg die dwangmatigheid daarvan op funksionele wyse ‘n element van “noodlottigheid” by tot die strekking van wat gesê word.

 

            Die kind van Kigali

 

Dis die kind van Kigali wat moet loop

om vir die gesin ‘n brood te gaan koop.

 

Die kind kom gou terug met die brood

en vind om die huis die spoor van die dood.

 

Die aanval was oorwoë en subiet:

Met mortiere is alles platgeskiet.

 

Die kind swerf deur die land sonder ‘n pas,

op sy skouers lê oorlewing ‘n loodsware las.

 

Die styl is eerder aan die ingetoë kant; verstild eerder as flambojant. Deur benoeming en beskrywing – eerder as deur metaforiek, aandagvergende woord- en klankspel en direk verdiepende of verruimende suggestie – word die dinge toegelaat om as ‘t ware vir hulself te spreek. Waardeur “groen” bundels van Lucie Möller (Watermerke) en Johann Lodewyk Marais (Diorama) uit die afgelope sowat ‘n jaar sterk in die herinnering geroep word.

Op my maak Bosman se bundel, hoe persoonlik die verwoorde belewenisse en sieninge daarin ookal is, ‘n indruk van brandende aktualiteit, in die besonder wat die Afrika-mens (ook die Afrikaner) se verhouding met sy omgewing betref. Dit sluit aan by wat al ‘n sterk stroming in die Afrikaanse digkuns geword het. Naas die name van Möller en Marais, kom dié van onder meer Eugéne Marais, C. Louis Leipoldt, D.J. Opperman, Ina Rousseau, Trienke Laurie en Carina Stander dadelik by my op.

Met Toevallige tekens word Bosman s’n na my oordeel ‘n besonder verdienstelike stem in hierdie name-rei. 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

Andries Bezuidenhout. Toevallige tekens

Tuesday, November 9th, 2010

Ek lees op die oomblik met die uitsluitlike doel om te ontsnap; boeke deur die Italiaanse misdaadskrywer Andrea Camilleri, waaraan ʼn kollega my voorgestel het. Die hoofkarakter is Inspekteur Montalbano, wat moordsake in die fiktiewe Siciliaanse dorpie Vigàta moet oplos. Die inspekteur het ʼn gesonde aptyt en die disse waaraan hy weglê word in detail beskryf. Hy eet middagetes by ʼn plaaslike restaurant, gaan stap dan tot by die kaai, waarna hy op kantoor aan die slaap raak en glad nie skaam voel as kollegas hom moet wakkermaak waar hy agter sy lessenaar indut nie.

Hy werk aan een moordsaak op ʼn slag. Natuurlik los hy elkeen van sy sake op, meestal oor iets wat hy toevallig raaksien. Al is Sicilië die tuiste van die Mafia, word daar klaarblyklik minder mense as in Suid-Afrika vermoor.  Miskien sal dit help as misdaad in Suid-Afrika meer georganiseerd raak.

Gister sit ek die Camilleri neer en begin om Martjie Bosman se nuwe digbundel te lees. Lae bloedsuiker? Ek bars in trane uit, veral met die gedigte oor Angola, Mosambiek en Rwanda. Die een wat slegs bestaan uit vroue se name – Portugese Katolieke name, wat van betekenis verander en verdiep met die herhaling van “Maria”. En dat die inhoud van ʼn handsak soveel betekenis kan aanneem!

Ek dink daar is min Afrikaanse digters wat met soveel diepte en insig oor die kontinent duskant en anderkant die Limpopo skryf.

Camilleri se speurverhale laat my ontsnap. Martjie Bosman se gedigte pluk my weer terug realiteit toe. Ek voel skuldig omdat ek nie die woorde kan vind om haar bundel te beskryf nie. Die gedigte tref jou tussen die oë, maar “tref” beskryf dit nie. Ook nie “tussen die oë” nie. Dit roer ʼn mens eerder. Maar dis weer te lomp.

Camilleri beveel ek aan – om te ontsnap. Bosman beveel ek ten sterkste aan – om weer aan te kom.

Onderhoud met Martjie Bosman

Saturday, October 9th, 2010

Tekens wat die toonaard verander

 

Martjie Bosman in gesprek met Lucie Möller

 

 

Martjie Bosman

Martjie Bosman

 

Martjie Bosman is op Groblersdal gebore en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Sy publiseer sedert 1990 gereeld gedigte in literêre tydskrifte en debuteer in 2003 met die bundel Landelik, waarvoor sy die Ingrid Jonker-prys ontvang. ‘n Aantal artikels en ander publikasies oor sosiaal-wetenskaplike en literêre onderwerpe het ook van haar pen verskyn. Haar jongste digbundel Toevallige tekens het pas by Protea Boekhuis verskyn.

 

 

1. Toevallige tekens is jou tweede bundel en wat ‘n vreugde om weer ‘n uitstekende bundel van jou in die hand te hou! Dit is nou ongeveer 10 jaar na jou debuutbundel Landelik, wat met die Ingrid Jonker-prys bekroon is, verskyn het. Van jou nuwe gedigte het wel elders in versamelbundels en tydskrifte verskyn, maar wat het jou intussen so lank besig gehou?

Daar het darem net ‘n bietjie meer as sewe jaar verloop na die vorige bundel! Die gedigte in Landelik het ook oor ‘n lang tyd ontstaan. Toe Landelik verskyn het, was ek nog by die SAUK werksaam, maar sedert 2004 is ek redakteur by Protea Boekhuis en word ek behoorlik besig gehou deur al die digters wat die afgelope ses jaar hier gepubliseer is – ‘n voorreg, maar ook ‘n intense soort werk wat my eie kreatiwiteit seker maar ‘n bietjie aan bande lê. Al probeer ek om werk en privaat lewe te skei, geluk dit nie altyd nie, en soms droom ek selfs van die boeke waarmee ek besig is!

2. Die titel van jou bundel kom uit die laaste gedig in die eerste afdeling, “Eendagskoon”,  in die versreël: “waar ‘n gordyn van glorieryke blou / geil afrank in ‘n slordige tuin / en soos ‘n toevallige teken / die toonaard van die ganse buurt verstel.” Waarna verwys “toevallige tekens”?

Dis ‘n musiekterm. Die dominante toonsoort waarin ‘n komposisie geskryf is, word met die kruise of molle heel links, net na die sleutelteken, op elke notebalk aangedui. Dit bepaal of ‘n stuk byvoorbeeld in D majeur of A mineur of watter ander toonaard ook al geskryf is en dui vir die uitvoerende kunstenaar aan dat al die F’s en C’s byvoorbeeld as kruise gespeel moet word. Wanneer die komponis egter byvoorbeeld vir ‘n deel van die komposisie ook ander note as kruise gespeel wil hê, word ‘n toevallige teken direk voor daardie noot of note geskryf en dit verander dan die toonaard op daardie plek.

Toevallige tekens

Toevallige tekens

In dié bepaalde gedig word gepraat van ‘n vervalle buurt waar purperwinde of eendagskoon, soos die morning glory eintlik in Afrikaans heet, die hele omgewing ophelder. In die 1990’s was ek betrokke by sosiale navorsing by die RGN en moes ons dikwels vir ondersoeke lang tye in taamlik troostelose gebiede deurbring. Ek het myself geskool om op die uitkyk te wees vir iets moois, soos ‘n groot wildevyeboom langs die pad of ‘n helderkleurige doek om ‘n vrou se kop of, in die dorpies, die bloupers blomme van die geharde eendagskoon. Die eerste afdeling van die bundel is dalk ‘n bietjie mistroostig of selfs somber, en ek hoop hierdie gedig bring ‘n bietjie balans.    Die bundel self is dalk ook in ‘n mineurtoon, maar met verskillende tekens wat die toonaard plek-plek verander.

Maar ek het by die samestelling van die bundel ook bewus geword daarvan dat daar in ‘n hele klompie gedigte van tekens sprake is: die taal as tekensisteem, tekens van die seisoene, tekens van ‘n bepaalde landstreek, ensovoorts. Dit is ook vir my belangrik dat die “verskynsels” in die bundel as tekens en nie as simbole gelees word nie, dus nie as iets wat na ‘n ander, onsigbare werklikheid of werklikheid agter die werklikheid heenwys nie. Die verskynsels is as sodanig belangrik, die voorhande werklikheid is waaroor dit in eerste instansie gaan.

3. Hoekom het jy die woorde van N.P. van Wyk Louw as bundelmotto aangehaal?

Dis moeilik om te sê presies wat ‘n motto se funksie is – miskien is dit om ‘n klimaat te skep vir die bundel, of, soos Hans Ester by sy Akademielesing oor Elizabeth Eybers op 30 September 2010 gesê het, om ‘n tuiste vir die bundel te skep. Die keuse was eintlik iets heel intuïtief. Vir my eerste bundel het ek ook ‘n Van Wyk Louw-motto gekies (uit Die pluimsaad waai ver), maar met hierdie motto wou ek eerder aansluit by die teken-gesprek in Tristia, waarop Gerrit Olivier in ‘n artikel gewys het.[1]

4. Met die openingsreël van die eerste gedig “Op die spoor”, “Wildernis is nie eenvoudig nie”, stel jy die ervaring van sekere versluierde tekens en aspekte van “tekens lees” aan ons voor. Dat hierdie “wildernis” misleidend is, word gaandeweg al duideliker binne die gedig en plek-plek onheilspellend in die bundel as geheel. Wat bedoel jy daarmee?

Ek is ‘n bietjie huiwerig om my eie gedigte te interpreteer, maar ek verduidelik graag wat ek met wildernis bedoel en hoe die gedig ontstaan het.

In hierdie gedig moet wildernis in die eerste plek letterlik verstaan word. In die loop van die 20ste eeu het opvattings oor die natuur en oor wildernisgebiede verander. Wildernis is vroeër beskou as iets gevaarliks wat “getem” moet word,  of as onontginde natuur wat vir die mens ekonomiese of ander waarde inhou. Maar in ons tyd word die siening dat die mens die middelpunt van die skepping is en dat alles daar ter wille van dié een spesie is, toenemend bevraagteken. Daar het groter begrip vir die verwikkeldheid van ekosisteme gekom, ook vir die mens se verantwoordelikheid teenoor die res van die skepping. Denkers soos Aldo Leopold en Arne Naess het aangevoer dat die mens se morele verantwoordelikheid uitgebrei moet word om alle lewende wesens en selfs die nielewende natuur in te sluit. Vir hulle is wildernis (of “land”, soos Leopold dit noem) daardie deel van die natuur waar die mens net ‘n toeskouer en besoeker is, wat intrinsieke waarde het onafhanklik van wat dit vir die mens mag beteken en is dit die mens as die magtigste spesie se plig om sulke gebiede te beskerm. 

Met dit alles gesê, bly dit vir ons moeilik om wildernis as ‘t ware klein te kry, om dit te deurgrond en in ons begrip tuis te maak. Dis eintlik oor hierdie onvermoë om wildernis te verstaan wat die gedig na my mening gaan.

Die inval vir dié gedig het gekom toe ek en ‘n vriendin in die noordelike deel van die Krugerwildtuin op reis was tussen Shingwedzi en Punda Maria.  Dit was ‘n goeie reënjaar en daardie deel was besonder ruig met die bos omtrent ondeurdringbaar. Gevolglik het ons nie veel wild gesien nie en eintlik ook min voëls. Hier en daar het ‘n klein diertjie in die bospaadjies weggeskarrel en spoorloos verdwyn. Ek het bewus geword van hoe min ons verstaan van so ‘n stuk bos, hoe die mens eintlik daarvan uitgesluit is en dat ons gewone maniere van sin maak – met verhale, filosofering, wetenskaplike metodes en so meer – ons nie help om tot die essensie van wildernis deur te dring nie. Die verwondering daaroor kan ek darem probeer weergee in die gedig.

5. Die woorde van Willem die Swyger, wat as motto dien van die eerste afdeling, plaas jy in die oorspronklike Frans. Kan jy dit dalk vir ons vertaal en verduidelik hoekom jy juis hierdie heerser gekies het?

Terwyl ek besig was met die redigering van Karel Schoeman se Patrisiërs en prinse, wat oor die Europese agtergrond vir die totstandkoming van die verversingspos aan die Kaap handel, het ek so ‘n bietjie oor die Huis van Oranje en die Tagtigjarige Oorlog van Nederland teen Spanje gelees. Ek het vir die eerste keer in matriek met hierdie geskiedenis te doene gekry, toe Kenau van Theun de Vries vir ons voorgeskryf was.

Willem die Swyger was die leier van die Nederlande se opstand teen Spanje. Hy is in 1584 in sy huis in Delft in opdrag van die Spaanse koning Filips II deur Balthasar Gérard geskiet en het die woorde “Mon Dieu, ayez pitié de moi et de ton pauvre peuple” glo gesê net voor hy gesterf het.  Dit beteken “My God, wees my en u arme mense genadig.” Dit het my aangegryp dat die prins in hierdie omstandighede ook aan die mense van wie hy die leier was, kon dink. 

6. In die eerste afdeling van jou bundel gaan diep jy die lot van die gewone mens in sy bestaansnood in verskeie Afrikalande by die wortels op en ‘n mens word getref deur jou noue betrokkenheid by hierdie situasies. In hoe ‘n mate het jou vroeëre werksaamhede as agtergrond gedien vir gedigte soos die “Mosambiekse vlugteling”-reeks en “Die dokters van die WGO”? En het jy van hierdie gebeure eerstehands beleef?

Die meeste gedigte in die eerste afdeling handel oor die jare wat ek betrokke was by navorsing in landelike gebiede in wat vandag die Mpumalanga- en Limpopo-provinsies is. Die bewuswording van die lyding en moeilike omstandighede van so baie mense het my soms hewig ontstel. As navorser probeer ‘n mens op intellektuele vlak soek na oplossings, probeer jy verstaan, maar die intense emosies bly en het neerslag in hierdie gedigte gevind.  Vandag word ek steeds ontstel deur geweld, armoede en swaarkry. Afrika is ‘n genadelose kontinent. Die motto is maar ‘n versugting dat daar vir die arme en ellendige mense van hierdie kontinent ook ‘n bietjie genade sal kom.

Alles wat ek ervaar het, was egter nie neerdrukkend nie en die vreugde waarmee baie van die mense hul eenvoudige lewens voer, was werklik inspirerend.

7. Die funksionele aanwending van name in “Mutilados” gee op aangrypende wyse uiting aan gebeure wat in die oorloggeteisterde Angola afgespeel het en die verwysing na die boek van die joernalis Dine van Zyl, Die verminktes, is veelseggend hier. Wat was jou oorwegings om die vrouename in hierdie tipografiese patroon te plaas, veral met die naam “Maria” wat telkens inkanterend herhaal word en in begin en eindposisies figureer?

“Mutilados” is seker wat D.J. Opperman ‘n optelgedig sou noem. Die beskrywing van die lot van die vroue in Die verminktes het my aangegryp, veral omdat hulle so dikwels die naamloses en gesigloses bly. Van Zyl gee self ‘n lys name van verminkte, verkragte en getraumatiseerde vroue wat sy tydens haar besoek teëgekom het. Dis sulke pragtige, klinkende Portugese name: Severina, Paola, Gertrudes, Eduarda. Ek het die name net gerangskik volgens klankpatrone: rymende name, name met dieselfde ritme. Dit het my opgeval dat die naam Maria die meeste van alle name voorkom en ek het dit toe so in die gedig ingewerk. In Van Zyl se boek het dit ook so ‘n inkanterende effek. 

8. In afdeling 2 kom die motiewe van angs, bedreiging en woede na vore in gedigte soos “Handsak”, “Huis”, “Venster”, “Pendelaar, M1” (met sy kaatsende verwysing na die sens van die dood) en veral in “Die skreeu”. Was hierdie gedigte reaksies op persoonlike  belewenisse en wat was die eintlike agtergrond vir “Die skreeu”?

Daar is twee maal probeer om my handsak deur die voorruit van my motor te steel: Die eerste maal het ek verbete vasgeklou en my handsak behou, die tweede maal (‘n mens leer ook maar stadig!) is my handsak wel gesteel. Ek en ‘n vriendin het egter die volgende oggend op die stuk oop veld langs die verkeerslig waar die breekslag plaasgevind het, gaan kyk of ons nie iets kon terugvind nie en tot my verligting het ek alles behalwe die handsak self, my beursie, sonbril en selfoon teruggekry. Die dief het selfs die R50-noot laat val wat in die beursie was!

My eie onmiddellike reaksie op die gebeure het my verbaas. Ek het verskriklik geskreeu, hard en aanhoudend. Ek kon die man nog so ‘n ent sien weghardloop tot hy in die donker verdwyn het en ek dink ek wou hom laat hoor wat hy aan my doen. Ek het so hard geskreeu dat van die mense in die motors agter my dit kon hoor en hulp kom aanbied het. Agterna het ek my voorgestel hoe daardie lang, dun skreeu uit my mond die man soos ‘n slang agtervolg het en die assosiasie met Edvard Munch se 1893-skildery was byna outomaties. Al is ek nie beseer of fisies bedreig nie, was dit nogtans aaklige ervarings wat nog lank by my gespook het en my iets laat voel het van die trauma wat misdaad meebring.

In daardie tyd was daar ook ‘n erge misdaadaanslag op die buurt waarin ek woon en het die inwoners baie angs deurgemaak. In “Huis” en “Venster” het ek iets probeer weergee van die durende gevoel van onveiligheid in jou eie persoonlike ruimte wat ‘n mens in sulke omstandighede beleef, terwyl “Pendelaar, M1” geskryf is na aanleiding van die vier jaar wat ek daagliks deel was van die stroom pendelaars tussen Pretoria en Johannesburg.   

9. Jou gedigte tree dikwels in gesprek met digters, komponiste en ander kunstenaars deur intertekstuele verwysings waardeur aanknopings gevind met ‘n grondgedagte of stel motiewe wat hulle deel.  Die reëls: “Hul spore, ‘n honderd treë terug, / begin reeds wegvaag waar ‘n droë wind / sand oor die lieste van die sandlyf stoot” uit die gedig “Kameelkaravaan, Mauritanië” herinner byvoorbeeld in ‘n mate aan N.P. van Wyk Louw se siklus “Drie Diere”, die “Sfinks”-sonnet met die sandduin wat deur eeue oor die toonnael stoot. In “Wolf op die tweesprong”, die volgende gedig, word die prekêre bestaan van die dier uitgebeeld vanaf die vaste “staanplek op die ysskots” tot die onsekere oorkruising na die “uitgestrekte yl bestaan”. Wat het hierdie gedigte geïnspireer?

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Kameelkaravaan. Mauritanië.

Albei gedigte is geïnspireer deur twee National Geographic-foto’s wat ek as skermskut op my rekenaar afgelaai het toe ek nog by die SAUK in diens was. Die kantore – of liewer ateljees – van die klankargief was in ‘n kelderverdieping met geen vensters na buite nie en geen natuurlike lig nie. Om te oorleef in sulke omstandighede het ek talle foto’s van natuurtonele op my rekenaar afgelaai.  

Die kameelkaravaan-foto van George Steinmetz vat iets van die onmeetlikheid en tydloosheid van die Sahara vas: Die klein figuurtjies van die mense en kamele op reis deur die woestyn lyk soos hulle waarskynlik ‘n honderd jaar of selfs ‘n duisend jaar gelede kon lyk. Dit het my inderdaad laat dink aan “Sfinks”, alhoewel dit die sfinks in Louw se gedig is wat byna onaangeraak is deur die gang van die tyd.

In teenstelling tot die indruk van tydloosheid wat die woestynfoto nalaat, het die fotograaf Jom Brandenburg met die foto van die wolf by Ellesmere-eiland in die noordelike poolsirkel ‘n vervlietende moment vasgevang. Die kyker weet dat oomblikke nadat die foto geneem is, die toneel sou verander. Wat my aangegryp het, is dat die wolf die skuiwende ysskotse en die deining van die see kon “lees” om op presies die regte oomblik die sprong te  waag. 

Die gedigte staan in die vierde afdeling van die bundel saam met ander gedigte oor musiek, kunstenaars en kunswerke. Hulle is dus nie gegrond op my eie waarneming nie (ek het nog nooit ‘n regte wolf gesien nie), maar op die indirekte waarneming via die oog van die fotograaf as kunstenaar. Ek is dankbaar dat ek deur verskillende kunsvorme deel kan hê aan ervaringe wat my andersins nie beskore sou wees nie, maar ook vir die bewarende rol wat kuns kan speel, soos wat ek probeer suggereer in die twee gedigte oor Jan van der Merwe se installasies wat ook in hierdie afdeling is.

10. In ons gesprekke oor poësie het ons al dikwels gepraat oor skryf (en interpreteer) van die-ding-in-sigself (“das Ding an sich”). Dit val mens op dat jy dinge deurgaans werklikheidsgetrou beskryf, maar mens vermoed tog dat dit nie net oor “die wolf”, die “divisies miere”, die dreigende bye, die woedende tor en die giftige paddastoele wil gaan nie. Wou jy die leser attent maak op dit wat jy self verwoord as “die vermoede van rotte” en onsigbare verval?

Wanneer die gedig op papier staan en die wêreld ingestuur is, kan die digter nie meer beheer daaroor uitoefen nie. Ek kan nie vir lesers voorstel hoe hulle moet interpreteer nie, al het ek my eie vermoedens oor herhalende motiewe en patrone en so meer. Maar ek sou tog graag wou hê dat die lesers eerstens die woorde soos wat hulle daar geskryf staan, ernstig moet opneem. Lees maar, er staat wel wat er staat. Die gedig wil soms nie heenwys na iets anders as die voor die hand liggende betekenis van die woorde nie, maar juis die aandag vestig op ‘n bepaalde saak of gebeurtenis wat deur die taal benoem word, deur dit uit die normale konteks te haal en in die nuwe verband van ander gedigte in ‘n bundel of ‘n oeuvre en selfs ‘n hele literêre tradisie te plaas. Byna soos wat talle twintigste eeuse beeldende kunstenaars ná Marcel Duchamp se omstrede Fountain (1917) met gevinde objekte gedoen het. Miskien is gedigte ook sulke gevinde brokke taal. 

11. Jou gedigte is dus realisties, tog kompleks ook. Die beelde van voëls wat so in die binne-mik van jou gedigte sit, bring dikwels ‘n wending of keerpunt, soms net in stemtoon en atmosfeer. Het die baie voëls in jou gedigte ‘n bepaalde betekenis?

Vir my is voëls in die eerste plek voëls. Indien hulle iets meer moet beteken, dan hoogstens as toonbeelde van natura naturans, die natuur besig om die natuurlike ding te doen, soos wat sir Kenneth Clarke dit in die BBC-televisiereeks Civilization genoem het. In die gedig “Fantasie van die dame met die verkyker” uit Landelik het ek iets probeer ineenvleg van daardie merkwaardige Vlaamse tapisseriereeks uit die 15de eeu, Die dame en die eenhoring, waarna Clarke verwys, en die wêreld waar ek grootgeword het. Eers na die voltooiing van hierdie bundel het ek agtergekom hoe dikwels voëls in die gedigte opduik en ek dink dit spruit gewoon daaruit dat ek byna altyd bedag is op die geluide van voëls, van die eerste sang van die janfrederik voor sonsopkoms tot die spookagtige geroep van die dikkoppe wat soms teen sterk skemer letterlik in die straat voor my huis op hul lang bene rondloop. Dié bewustheid kom seker uit my lang verbintenis met Groblersdal, waar ek gebore is, en waar my ma nog tot 1995 bly woon het in ons dorpshuis tussen die baie bome wat my pa daar geplant het. In die somermaande wanneer die trekvoëls uit die noorde terugkeer, kon ons soms oor ‘n naweek tot 30 soorte net daar op die erf sien. Dit bly my verwonder dat voëls steeds die omgewing met die mens deel, al doen ons soveel skade aan hul oorspronklike habitatte.   

Baie dankie vir die geleentheid om met jou oor hierdie wonderlike bundel te kan gesels. Sal jy asb. een van jou gedigte hier gee sodat lesers kan deel aan die opwindende vooruitsig van jou nuwe bundel ?

SOMERAAND

Die ligte gordyne is oopgetrek

en die gaasraam laat sak.

Die ruik van Mylol styg van my hande

as ek môre se boeke begin pak.

‘n Vrugtevlermuis se sonar tink en tink

en ek weet die werf lê stil en ruig

onder trosse sterre en ‘n louwarm wind.

Pa skuif sy stoel, blaai in ‘n boek.

Ma tap water in die ketel. My sussie bad.

Om nege blaas die fluit. Dis tyd.

Die kussing onder my wang is koel.

Ek hoor vir laas ‘n naguil roep.

 


[1] Tristia in dialoog met N.P. van Wyk Louw se oeuvre, Tydskrif vir Literatuurwetenskap, Junie 2008.