Posts Tagged ‘Maurice Merleau-Ponty’

Andries Bezuidenhout. Die oorsprong van taal

Friday, April 5th, 2013

Die skets hier bo is deur John Walter Gregory – Berg Kenia, n.a.v. ʼn besoek aan Oos-Afrika in 1892 en die jaar daarna. Argeologiese gegewens dui daarop dat die eerste vorme van menslike lewe in die skeurvallei ontstaan het. Ek torring aan ou gedigte en krap op die web rond vir beelde. Daar is afbeeldings van die slawemonument in Zanzibar, asook ʼn klipkapelletjie naby Naivasha wat deur Italiaanse krygsgevangenes gebou is. Ek het beide ʼn paar jaar gelede besoek. Verder vind ek ʼn afbeelding deur ʼn naamlose skilder van vroeë vorme van menslike lewe in die streek:

Daar is ook ou kaarte van die Skeurvallei, een uit die argiewe van die VSA se Library of Congress:

Verder vind ek ʼn kaart uit ʼn ou boek, toe Brits Oos-Afrika en Duits Oos-Afrika nog bestaan het. “Malindi” is nog as “Melindi” gespel:

Gister sit Desmond Painter die volgende aanhaling van Maurice Merleau-Ponty op Facebook: “The initial form of language, therefore, would have been a kind of song. Men would have sung their feelings before communicating their thought. Just as writing was at first painting, language at first would have been song…” In kommentaar daarop skryf Desmond: “Ek dink juis gedigmaak is ʼn poging om iets van die visuele en sangerige aspek van taal terug te wen.”

Die gedig hier onder se titel is voorlopig “Soos die wind waai”. Dis ʼn paar jaar gelede geskryf na my eie besoek aan Berg Kenia en die Skeurvallei, maar ek is besig om dit te hersien.

Hier word skeurvalleiletsels deur mere gelaaf
en hier, waar tweelingbergkoppe wolke uitdaag,
is die eerste mens deur die aardsbekken gestoot.
Kom die gode dáárom hier bymekaar?
Eers daal Ngai van Berg Kenia neer
en dan word Enkai se kneukels op die Ngongheuwels verewig.
Later Allah se kinders, kaskazi dra dhows deur ʼn ewige baai,
verby Lamu, om speserye en lywe op te laai.
Eeue later Jahweh met ʼn Kaapse ompad,
kazi in karveelseil, om by Fort Jesus, Mombasa,
die buit te verdeel.
Hiér versamel die gode, in berge, moskeë en katedrale
maar sal mekaar nooit ontmoet nie.

Desmond Painter. Wanneer wêrelde resoneer

Friday, September 17th, 2010

Jean-Luc Nancy se boek Listening (2007, Fordham University Press) bied ‘n soort korrektief op die visueel-gesentreerdheid van die Westerse filosofie; op die privilegering van sig en sien; op ‘n langdurige romanse met die visuele. Selfs in Merleau-Ponty se groot, steeds belangrike Fenomenologie van die Persepsie is dit sig, en tot ‘n mindere mate dalk aanraking, wat instaan vir die sintuie (sin-tuie: mooi woord!) as sodanig. 

Nancy se werk behoort tot die fenomenologiese tradisie — soos ook die van Derrida en Deleuze. Sy Listening is ‘n fenomelogiese ondersoek wat vrae vra soos, wat is dit om te hoor? Wat is die verskil tussen hoor en luister? Wat gebeur as ons die oor, en nie die oog nie, as filosofiese uitgangspunt neem? Kan die filosofie dit hoegenaamd regkry? ‘Is listening something of which philosophy is capable?’ (Hier moet die verhouding tussen die filosofie en die psigoanalise ook weer ter sprake gebring word: is dit nie die psigoanalise wat luister by uitstek gerevolusioneer het nie?) 

Jean-Luc Nancy

Jean-Luc Nancy

Vanselfsprekend skryf Nancy ook oor musiek: ‘Prophecy in the instant and of the instant: announcement in that instant of its destination outside of time, in an eternity. At every instance music promises its development only in order the better to hold and open the instant — the note, the sustaining, the beat — outside of development, in a singular coincidence of movement and suspense. It is the question of a hope: not a hope that promises itself possible futures, but rather an expectation that, without expecting anything, lets a touch of eternity come and come again. […] 

‘Music is the art of the hope for resonance: a sense that does not make sense except because of its resounding in itself. It calls to itself and recalls itself, reminding itself and by itself, each time, of the birth of music, that is to say, the opening of a world in resonance, a world taken away from the arrangements of objects and subjects, brought back to its own amplitute and making sense or else having its truth only in the affirmation that modulates this amplitude.’

Johann Lodewyk Marais. Martin Heidegger sterf

Monday, July 27th, 2009

Iemand het gegiggel en die dosent het geskok verstyf. Geklee in sy universiteitsbaadjie het hy voor die groot eerstejaarsklas in die Aardrykskundesaal van die Universiteit van Pretoria gestaan. Dit was Vrydagmiddag, 28 Mei 1976.

 

“Waarom is dit snaaks?” het hy vererg gevra.

 

Kort tevore het hy die lesing waarmee hy pas begin het onderbreek en na die studente in die rye banke voor hom gekyk.

 

“Julle het seker gehoor dat Martin Heidegger eergister oorlede is?”

 

Vir baie van die studente het die naam “Martin Heidegger” duidelik niks beteken nie. Veral nie vir dié wat nie gereeld in die klas was nie.

 

Marinus Schoeman, die jong Wysbegeertedosent, het ’n “Sistematiese inleiding tot die Wysbegeerte” aangebied. Ek was pas uit die skool en dit was my eerste kennismaking met die vak. Aangesien teologiestudente daardie jare almal Wysbegeerte geneem het, het die klasse volgepak gesit.

 

Schoeman se “Inleiding” het talle verwysings na Sokrates, een van die groot figure van die vroeë Westerse denke, bevat, sowel as na kontinentale filosowe soos Edmund Husserl, Maurice Merleau-Ponty, Jean-Paul Sartre, Karl Jaspers en Gabriel Marcel. Die volgende woorde van Merleau-Ponty was soos musiek op my ore:

 

“Die mens is geen krag nie, maar ’n swakheid in die hart van die dingagtigheid van die natuur. Hy is geen kosmologiese faktor nie, maar die plek waar alle kosmologiese faktore van betekenis verander en geskiedenis word.”

 

Maar dit was veral die vraende Duitse filosoof Martin Heidegger se naam, eiesoortige wyse van formulering en radikale denke oor die allesomvattende Syn wat telkens opgeduik het. Na net meer as drie maande was ek ’n Heidegger-leser, wat ek nog steeds is. (Oor Heidegger se invloed op denke in Suid-Afrika moet ’n keer nog geskryf word.) Heidegger was immers die grootste filosoof van die twintigste eeu, en dit ten spyte van sy omstredenheid as gevolg van veral sy kortstondige aanhang van die Nasionaal-Sosialisme gedurende die 1930’s (waaroor hy nooit om verskoning gevra het nie). Oor hom het Hannah Arendt die volgende gesê:

 

“Die storm wat deur die denke van Heidegger trek, stam nie uit ons eeu nie, net so min as dié een wat ons na duisende jare nog uit die werk van Plato tegemoet waai. Hy kom uit die oeroue en wat hy agterlaat, is iets onoortroffe wat, soos alles wat onoortroffe is, in die oeroue terugval.”

 

In heelparty opmerkings het Schoeman ook Heidegger se waardering vir die poësie onder ons aandag gebring. In Heidegger se Holzwege (of “Woudpaaie”) van 1950 sou ek lees dat die poësie se openbarende werking selfs as ’t ware al die ander kunste voorafgaan. Volgens Heidegger is kuns “waarheid wat homself in werking stel”. Vir die werk van digters soos Friedrich Hölderlin, Rainer Maria Rilke en Paul Celan (en talle kunstenaars) het Heidegger groot waardering gehad.

 

Jare later het ek Heidegger se graf buite sy Suid-Duitse geboortestad Meβkirch besoek waar hy op die middag van 28 Mei 1976 begrawe is. Onder die kastaiingbome by die betreklik eenvoudige granietkopstuk met die eenvoudige ster op het ek die verrykende ervaring wat Heidegger se lewe en werk vir my sedert 1976 was, denkend en dankend intens belewe. In daardie najaar het daar iets baie radikaals met my gebeur.